SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue3"Will you accept him as he is?": Faan (Faan se trein) and Lambert (Triomf) as filmic déstabilisation of hegemonic Afrikaner masculinityEen frase, verskeie sake author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.60 n.3 Pretoria Sep. 2020

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n3a15 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Taboetaalgebruik as sleutel-element vir die kon-struksie van 'n manlike zefidentiteit

     

    Taboo language use as a key element in the construction of a zef identity

     

     

    Amanda van der WaltI; Bertus van RooyII

    ISedibeng Kollege & Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark, Suid-Afrika. E-pos: avdwalt.amanda@gmail.com
    IIUniversiteit van Amsterdam & Noordwes-Universiteit, Amsterdam, Nederland /, Vanderbijlpark, Suid-Afrika, E-pos: a.j.vanrooy@uva.nl

     

     


    OPSOMMING

    Die rol wat taal speel in die konstruksie van Afrikanermanlikheid en zefidentiteit is nog nie voorheen as selfstandige tema ondersoek nie. In hierdie artikel is die doel om te bepaal hoe manlikheid binne 'n zefidentiteit op die blog geskep en geprojekteer word, deur die gebruik van taboetaal. Zefidentiteit is 'n vorm van protesterende manlikheid wat sigself stel teenoor die hegemoniese Afrikanermanlikheid (Du Pisani 2001), wat deur puriteinse moraliteit en openbare en ekonomiese mag gekenmerk word.
    Die WKJ?-korpus is gebruik vir die analise. Die korpus bestaan uit ongeveer 1,4 miljoen woorde. Vir hierdie analise is die data van die eerste inskrywings in 2000 tot en met 2017 gebruik. 'n Totaal van 50 tekste (ongeveer 30 000 woorde) is met die hand geselekteer en geanaliseer om verdere moontlike taboedomeine te identifiseer. Buiten die drie hoofdomeine wat uit vorige navorsing geïdentifiseer is, is daar nog twee domeine uit die korpus onttrek, naamlik die weerdomein en plantdomein.
    Die analise het getoon dat WKJ?-lesers en -bydraers doelbewus taboetaal op die blog gebruik om preutse lesers te skok en aanvaarbare sosiale norme te oortree. Hierdeur word die protesterende manlikheid via 'n zefidentiteit voorgehou, om die puriteinse waardes van die hegemoniese Afrikanermanlikheid op ironiese, en dikwels dubbelsinnige, wyse te opponeer maar ook te ontmasker.

    Trefwoorde: zefidentiteit, manlikheid, zef, hegemoniese manlikheid, taalgebruik, leksikon, korpus, taboewoorde, taboedomeine, seksuele metafore, kru taal


    ABSTRACT

    Masculinity (Benwell 2004; Connell 2016; Connell & Messerschmidt 2005; Kiesling 1996; Messerschmidt 2019), including Afrikaner masculinity (Du Pisani 2001, 2004, 2013; Swart 1998) has been thoroughly researched across the social sciences. Male identity, as it manifests itself in the South African zef subculture, has also come under investigation (Du Preez 2011; Krueger 2012), however, the role of language use in the creation ofsuch a zef identity has not yet been researched. This article investigates how protest masculinity is projected and maintained on the WatKykJy?-blog, a satiric online environment, through language use, and more pointedly, the use of taboo words. This projected masculinity also relates closely to what is perceived as important in the identity of a zef male, which in itself is a reaction to traditional Afrikaner identity and the negative associations it acquired in the post-apartheid years.
    The WKJ?-corpus is used to conduct the analysis. The corpus consists of 1,4 million words and has been divided into one-year periods, starting at the year 2000 and ending in 2017. A total of 50 texts have been selected randomly and analysed by hand in order to find and expand the taboo domains set out by Stapleton (2010) and van Huyssteen (1996). Apart from the scatological, blasphemous and sexual domains identified in previous research, two more domains (weather and plant domains) have been identified from the corpus. The weather domain is mainly employed to refer to violent behaviour, although it is occasionally used to express surprise. The plant domain is more frequently associated with the use of sexual metaphors.
    The analysis indicates that WKJ?-readers and -authors frequently use taboo language on the blog. A total of 29 389 taboo words are identified, which translates into a relative frequency of 20 taboo words per 1 000 words. Individual lexical items with the highestfrequency are fok 'fuck' (1709) and its derived form fokken 'fucking' (5631), as well as kak 'shit' (3162), poes 'pussy'(1249) andmoerse 'huge'(literally 'mothers') (1128).
    The semantic domain that is the most productive taboo domain is the sexual domain, where taboo words with a strong sexual connotation are used quite liberally, alongside words that are metaphorically invoked to convey sexual meanings as well, such as names of animals, e.g. haas 'hare', teef 'bitch', kat 'cat', and goose for females and slang 'snake', bastard or voël 'bird'for males. Women and/or their genitals are also portrayed as edible objects, such as vy 'fig', cherry or koek 'cake', while men are represented as the active eaters thereof. Sexual acts are metaphorically represented as if they inflict pain on women, e.g. brand 'burn', or saag 'saw'.
    The second most frequent domain is the scatological, where euphemisms and dysphemisms are encountered, such as the euphemism modderotter uitrol (literally "rolling out the mud beaver") for bowel movement, and the dysphemism kakhuis (literally "shit house") for toilet.
    The third domain of taboo words draws on weather, especially stormy weather, and is often used to refer to people (die dom donner, "the stupid thunder") or to fighting (ek fokken bliksem julle almal "Ifucking thunder (verb) you all"). These words have moderate taboo value in Afrikaans, but form a template for extension to sexual terms with a meaning in the fighting domain, with much higher taboo value, such as voordat ek iemand gaan poes "before I go and pussy (verb) somebody".
    The fourth domain, the final one with non-negligible frequency, is the domain of blasphemous word use, including the plain forms Jesus and Here 'Lord', but also euphemistic spelling variants such as Jissis 'Jesus' and Jirre 'Lord', which are typically employed as interjections at clause boundaries.
    Taboo language is used purposefully and deliberately to undermine the puritan values that are part of the traditional hegemonic Afrikaner masculinity, and also expose the duplicity and contradictions thereof. The protest masculinity that is offered instead emphasises physicality, but shares the homophobic and hierarchical gender role components of hegemonic masculinity. The male participants on the website are constructing and projecting a zef identity, for the purpose of creating a post-apartheid identity that denounces any political alliances but rejects the hegemonic masculinity of the traditional Afrikaner male associated with the apartheid era. Yet, the persistent use of irony makes it ambiguous whether the alternative zef masculinity is really held up as new model.

    Keywords: zef identity, masculinity, zef, hegemonic masculinity, language use, lexicon, corpus, taboo words, taboo domains, sexual metaphors, vulgar language


     

     

    1. INLEIDING

    Die WatKykJy?'-blog (voortaan WKJ?) is 'n Afrikaanse humoristiese aanlyn omgewing, waarvan die inhoud ten dele in Zefrikaans geskryf word, 'n sosiolek van Afrikaans wat bewus taaleienskappe van die zefkultuur inkorporeer (Breed 2017; Lessing 2000). Die lesers en skrywers projekteer 'n zefidentiteit op dié blog en noem hulself watkykertjies, alhoewel dit nie noodwendig 'n uitbeelding is van hulle ware identiteit nie. Op 'n blog kan die deelnemers se voorkoms en lyftaal nie gesien word nie; dus is taalgebruik die vernaamste beskikbare manier om identiteit te projekteer.

    Deumert (2014:152-153) argumenteer dat sosialemediagebruikers "maskers" dra wanneer hulle aanlyn verkeer op hierdie sosialemediaplatform. Op die WKJ' -blog word boonop konsekwent van skuilname gebruik gemaak, wat aldus Deumert (2014:161) dit moontlik maak om 'n heel ander persona te skep wat nie gebind is aan alledaagse sosiale konvensies van ware identiteite nie. Danet (2001:8, 24) en Androutsopoulos (2006:426) sien die kuberruimte as 'n speelse, anargistiese en karnavaleske omgewing, waartoe taal bydra. Zefrikaans word gekarakteriseer deur speelse en dubbelsinnige taalgebruik en 'n beheptheid met alles wat as taboe gesien word in die Afrikaanse konteks. Die WKJ?-blog is ook ooglopend humoristies, waar daar benewens spesifieke grappe, oor die algemeen duidelike tekens van ironie, satire en soms sarkasme is. Die speelsheid van die zefidentiteit laat ook ruimte om die inhoud van die webwerf as dubbelsinnig te interpreteer.

    Manlikheid is 'n baie prominente tema binne die webwerf, en word ook in die taalgebruik gereflekteer. Manlike identiteit in die zefsubkultuur is ondersoek deur onder andere Du Preez (2011), en Krueger (2012). Meer algemeen is Afrikaanse/Afrikaner1-manlikheid (binne sy Suid-Afrikaanse konteks) 'n tema wat uit 'n verskeidenheid invalshoeke2 bestudeer is, hoewel die talige manifestasie in Afrikaanse data nog nie ondersoek is nie.

    Du Pisani (2001, 2004) ondersoek die verandering in die hegemoniese manlikheidsbeeld van die Afrikaner, en wys daarop dat daar eiesoortige nuanses is wat nie altyd dieselfde pro-minensie in ander kulture het nie. Dit sluit in die romantiese idealisering van die hardwerkende, puriteins-gelowige boerepatriarg in die eerste helfte van die twintigste eeu (Du Pisani 2004), dermate dat hierdie heldfiguur as dryfveer agter die rebellie van 1914 geïdentifiseer word deur Swart (1998). Die geloofsdimensie - die Christelike, wit, Afrikaanse man, wat onderskei word van die heiden, tipies swart - is 'n deurlopende motief in die manlikheidsbeelde van die Afrikaner van die 18e eeu af (Du Pisani 2004:81). Tydens die jare van die Nasionale Partybewind vanaf die middel van die 20e eeu, ontwikkel die dominante beeld van Afrikaner-manlikheid weg van die armer landelike boer na die meer welvarende stedeling (of ten minste dorpeling) in 'n openbare of besigheidsgesagsrol - mag wat aksiomaties was tydens die apartheidsjare (Swart 2001:76-77). Die konserwatiewe, puriteinse elemente bly egter behoue in die tweede helfte van die 20e eeu (Du Pisani 2001).

    Nader aan die einde van die 20e eeu kan 'n groter verskeidenheid van manlikheidsbeelde opgemerk word, en kom teenstrydighede na vore, soos byvoorbeeld die alternatiewe, ruwe manlikheid wat ontwikkel tydens militêre diensplig, kompleet met die kru taal van die onderoffisiere, maar staan teenoor die sanksionering van militêre diensplig as dure plig deur die kerke, openbare owerhede en ander instansies wat met hegemoniese manlikheid geassosieer word (Du Pisani 2001:165). Selfs in sy ruimste hedendaagse verskeidenheid bly daar egter beperkings op hoeveel afwyking van die norm geduld word, soos Pretorius (2013) in haar studie van manlikheid in die visuele uitbeelding van musiekmakers in Afrikaanse tydskrifte aantoon.

    Met die einde van apartheid kom die manlikheidsbeeld van die Afrikaner te staan voor 'n bestaanskrisis deurdat die politieke mag van hierdie tipe man wegval (Swart 2001), en moet daar na nuwe vorme van manwees gesoek word. Die nuwe manlikheidsbeelde (Du Pisani 2001) sluit 'n ruimer verskeidenheid heldfigure in - verromantiseerde boere, sporthelde, ekonomiese reuse - maar ook kampvegters vir Afrikaans en Afrikaners (en minderheidstale en -regte), laertrekkers soos die AWB van ouds (Swart 2001), en les bes dwarstrekkers: verskeie vorme van verset, wat wissel van Chris Louw (2000) se Boetmanbrief tot Fokofpolisiekar en Die Antwoord se musikale subversiwiteit (Bekker & Levon 2020; Bezuidenhout 2007). Du Pisani (2013) wys ook op die deurlopende tema van patriargale geslagsrolle wat behoue bly, selfs in die sogenaamde sagter gesig van die patriargie en die gepaardgaande herlewing van geloofswaardes wat met die Mighty Men-beweging van Angus Buchan geassosieer word.

    WKJ' kan as deel van die verset beskou word; nie soseer verset teen die apartheidsbeleid of die huidige regering nie, maar verset teen die geïdealiseerde verlede se beklemmende klimaat van konformiteit, puriteinse moraliteit en die streng hiërargie waarin elkeen sy3 plek moes ken. Die skrywers en tematiek op WKJ' is hoofsaaklik manlik. Daar is ook vroueskrywers, wat die subversiewe tema byvoorbeeld uitwerk met satiriese sketse van Jong Dames Dinamiek-byeen-komste deur 'n watkykertjie genaamd "Sarie" in voorbeeld (1), of die "Befokte Wetenskap-juffrou" in voorbeeld (2) wat skoolseuns met ooglopende sarkasme vermaan oor hoe hulle hul onderwyseresse teister:

    (1) En toe is dit gisteraand weer sulke tyd. Jy weet mos - daai pynlike ding wat elke maand met vrouens gebeur. Nee, sies man, nie dít nie. Ek bedoel die Jong Dames Dinamiek-vergadering. (2005 Hoofteks)4

    (2) Moenie die etter wees wat sy broeksakke sny en daardeur sit en tos terwyl ek praat oor hoe awesome Tesla was en Faraday se wet van elektromagnetiese induksie aan jou probeer verduidelik nie. Almal kan sien jy is 'n doos wat geen beheer oor jouself het nie, want ons is nie fokken blind nie. (2015 Hoofteks)

    Perspektiewe deur die oë van vroue, of dit nou werklike vroue is of mans wat agter vrouemaskers skuil, is 'n minderheidstema. Daarom val die fokus in hierdie ondersoek op die manlike tematiek, en spesifiek die soort manlikheidsbeelde wat voorgehou word.

    In hierdie artikel word daar gekonsentreer op taalgebruik as wyse van uitdrukking van die subversiewe zefidentiteit, in samehang met die uitdrukking van manlikheid. Daar word eers teoreties besin oor manlikheid, voordat daar nader ingegaan word op manlikheidsbeelde in die Afrikanergemeenskap, om uiteindelik die subversiewe waarde van 'n zefidentiteit te kontekstualiseer. Daarna word die navorsingsmetode uiteengesit, voor die bevindinge van die korpusondersoek gerapporteer word.

     

    2. MANLIKHEID EN ZEFIDENTITEIT

    Die studie van manlikheid het sedert die 1980s ontwikkel vanuit die sentraliteit van die idee van hegemoniese manlikheid (Messerschmidt 2019:85), daardie vorm van manlikheid wat in 'n gegewe samelewing aanvaar word as die mees eerbare en navolgenswaardige model van manwees (Connell & Messerschmidt 2005:832). Die twee belangrikste komponente van hegemoniese manlikheid is relasionaliteit en legitimiteit (Messerschmidt 2019:86). Hegemo-niese manlikheid bestaan gelyktydig in 'n hiërargiese relasie met vroulikheid (patriargie), en met ander vorme van manlikheid. Die hegemoniese kwaliteit het te make daarmee dat hierdie vorm van manlikheid as legitiem aanvaar word, en deur instemming en selfs medepligtigheid tot stand kom, eerder as dwang (Connell 2016:303).

    Nie-hegemoniese vorme van manlikheid sluit in medepligtige, ondergeskikte, gemarginaliseerde en protesterende manlikheid (Connell & Messerschmidt 2005:847-849; Messerschmidt 2019:86-87). Dit is veral protesterende manlikheid wat in hierdie artikel van belang is, 'n vorm van manlikheid wat in werkersklas- of ander gemarginaliseerde kontekste ontstaan, en gekenmerk word deur hipermanlikheid, die macho man, waar die oordrewe projeksie van manlikheid opmaak vir die gebrek aan ekonomiese of politieke mag. Protesterende manlikheid is gerig teen die hegemoniese manlikheidsbeeld deur klem te lê op daardie vorme en aktiwiteite van manwees waarin die hegemoniese man oortref kan word.

    Die zef subkultuur vertoon histories en sosiaal gesproke ooreenkomste met die Ducktails. Die Ducktails was 'n protesterende manlikheid wat in die middel van die twintigste eeu onder wit werkersklasmans in Suid-Afrika ontwikkel het, en rolmodelle gevind het in rebelse filmhelde en die (in die konteks van die tyd) hoogs subversiewe rock-en-rollmusiek (Mooney 1998:759). Geweld, vinnige motors of motorfietse, hedonisme en 'n minagting van die wette was kenmerkend van die Ducktail subkultuur (Mooney 1998). Die zef subkultuur was meer spesifiek tot die Afrikanergemeenskap beperk, en is ook met armoede geassosieer (Krueger 2012; Smit 2012). (Die term zef word herlei van die Ford Zephyr af, wat baie populêr was onder hierdie werkersklas-Afrikaners van die 1950's en 1960's (du Preez 2011:106)). Dit het verwys na mense wat as minder opgevoed en kommin beskou is, en weens hulle ekonomiese status nie die hegemoniese manlikheidsbeeld sou kon haal nie. Mense wat as zef beskou is, is uitgesluit en as bedreiging vir die hegemoniese manlikheidsbeeld (soos beskryf deur Du Pisani 2001:167) gesien, omdat hulle juis afgewyk het van die ideaal van die puriteinse, hardwerkende Afrikanerman.

    Zef het egter ná die apartheidsera 'n ironiese reappropriasie ondergaan, as deel van die reaksie teenoor die nalatenskap van die verlede (Marx & Milton 2011; Grobler 2012). Dit moet gesien word in die konteks van die verlies van politieke mag deur die Afrikaner, veral die Afrikanerman, en die gepaardgaande delegitimering van die Afrikaner se rol in apartheid (Vestergaard 2001; Visser 2007). Verskeie moontlike reaksies kan volg. Afsondering en 'n wegkeer van die geïntegreerde samelewing is een opsie - in sy mees eksplisiete vorm vergestalt deur die Oraniabeweging, maar in verbloemde vorme ook in die terugtrek in die eie gemeenskap en afsydigheid teenoor groter samelewingskwessies (Visser 2007:6-7). Verset, of geromantiseerde pogings tot verset, lok 'n ander hipermanlike protesterende teenreaksie uit, soos vergestalt deur die paramilitêre regse bewegings wat gewapend en met perde- of ouerige Mercedeskommando's stakings of politieke omwentelings in die destydse Bophuthatswana probeer verhinder (Swart 2001:81). Hiermee saam, of hiernaas, is 'n reaksie van romantisering van die verlede moontlik, met historiese boerefigure of moderne boere. Selfs 'n oorgawe aan sport as laaste bastion van mag vir die Afrikanerman kan geïdentifiseer word (Du Pisani 2001; Vestergaard 2001; Pretorius 2013). 'n Baie duidelike vergestalting van hierdie tendens kan in die populariteit van Bok van Blerk se treffersnit "De la Rey" gesien word, waar die heldhaftige boereheld uit die geskiedenis herrys. Bezuidenhout (2007:15) wys daarop dat die lirieke self ironiese elemente bevat, veral in die refrein waar gesing word "soos een man sal ons om jou val", om juis die onwaarskynlikheid van sukses op die heldhaftige verset uit te lig. Die lied is nogtans, en ten spyte van die ironie, as temalied toegeëien deur verskeie groepe en organisasies wat etniese mobilisering voorstaan, wat die ironiese potensiaal volgens Bezuidenhout (2007) wegkalwe.

    Die teenoorgestelde reaksie is om in opstand teen die verlede te kom. Hierdie opstand is nie nuut nie, maar kan reeds in die betrokke prosa van Afrikaanse skrywers sedert die 1970's gesien word. Dit verkry egter nuwe impetus met die Voëlvrybeweging van die laat 1980s. Na 1994 verkry die opstand groter interne diversiteit, toe die verenigende effek van die stryd teen apartheid weggeval het. Daar is by enkeles die volgehoue bewustheid van bevoorregting en 'n etiese stem wat roep om versoening maar ook verootmoediging en skulderkenning, byvoorbeeld vergestalt in Antjie Krog se nie-fiksie en openbare meningstukke (Krog 2020). 'n Meer verbitterde opstand teen die sondes van die vaders, wat byna Bybels besoek word aan die kinders en die derde en vierde geslag, word verteenwoordig deur die reaksie van Chris Louw (2000), alias Boetman, wat die bliksem in geword het vir dr. Willem de Klerk se meer-derwaardige houding teenoor die geslagte Afrikaners na hom, en sy oneerlike uitbeelding van die geskiedenis. Louw spreek hom uit oor die stryd van die middeljarige Afrikanerman van sy generasie wat weens historiese verandering nooit weer sou lyk soos die hegemoniese man van die hoogapartheidsjare nie, en met moeite moet inpas in 'n nuwe Suid-Afrika waar hy die blaam vir die sondes van die vaders moet dra. In die musikale protes na 1994 kan ook tekens van opstand en weerstand gemerk word, maar Bezuidenhout (2007) maan teen oordrewe optimisme oor die substansie van die opstand. Hy toon aan dat dit veel meer 'n interne opstand teen gesag en tradisie in die beslote kring van Afrikaners is, en dat dit nie uitreik na die res van die land nie.

    Zef kan gelees word as opstand teen die geïdealiseerde (maar dus onderliggend vals) beeld van die konserwatiewe puriteinse leiersfiguur uit die verlede wat neergekyk het op sy mindere (Krueger 2012:402). Die assosiasie met armoede en swak smaak word ironies omarm om geherinterpreteer te word as cool, 'n identiteit wat aangeneem en projekteer kan word deur individue wat nie in werklikheid arm is nie (Grobler 2012; Smit 2012). In 'n onderhoud met Culhane (2009) beskryf Ninja van die groep Die Antwoord zef as "our flavour, our style. It means fucking cool. But even more cool than fucking cool. Zef's the ultimate style basically".

    Om 'n zefidentiteit aan te neem, word gesien as 'n weiering om aan sosiale norme van tipiese Afrikanermanlikheid te konformeer en 'n algemene neiging om jouself te distansieer van eng Afrikanernasionalisme (Krueger 2012). Mense wat met zef assosieer, beskou hulself as apaties teenoor politiek, maar vereenselwig hulle ook nie met die apartheidsregime nie.5

    Marx en Milton (2014) skets die zef persona as 'n masker wat stereotipiese wit Suid-Afrikaanse beelde van voor 1994 satiriseer. Armoede en swak smaak word opgehef tot statussimbole (Smit 2012), soos in voorbeeld (3) geïllustreer.

    (3) Jy maak seker uit van daai grease monkeys wat met 'n spanner en blikkie spraypaint jou faktap Fiat soos 'n Ferrari kan laat sing? (2015 Hoofteks)

    Oordrewe macho manlikheid is 'n aspek van die zefidentiteit wat voorgehou word, 'n karikatuur van hoe mans stereotipies veronderstel is om op te tree. Kompeterende gedrag, insluitende aggressie en geweld (voorbeeld (4)), of vinnige motors en motorfietse tot die punt van riskante gedrag word met hierdie vorm van protesterende manlikheid geassosieer, asook die geveg om die vrou te verower (voorbeeld (7)), sowel as sterk homofobiese neigings (voorbeeld (4) tot (6)), soortgelyk aan Mooney (1998) se beskrywing van Ducktails. Disfemistiese beskrywings van homoseksuele mans, soos geïllustreer deur voorbeeld (6), beeld die openlike afkeer uit teenoor gay mans se seksuele oriëntasie. Oor die algemeen word vroue ook dikwels geob-jektiveer, soos in voorbeeld (7) geïllustreer. Die homofobiese en seksistiese uitbeelding van zef manlikheid is egter steeds versoenbaar met die hegemoniese Afrikanerman, soos aangetoon deur Du Pisani (2001).

    (4) Don't make me moer you moffie boy. (2004 Hoofteks)

    (5) Hulle is so aantreklik soos 'n gatgabba in 'n stywe broekie. (2006 Hoofteks)

    (6) Ek dink ek sal die een kies wat die meeste na 'n holnaaier lyk. (2008 Kommentaar)

    (7) Die omie het drie witwarm girlies by hom. Ons spekuleer of dit sy dogters of sy chicks is. "Jirre meisie maar jy ruik fokken lekker" sê ek, en dan met 'n moerse skaap smile aan die omie: "Jy sal nie omgee as ek hulle al drie brand nie nê?" (2005 Hoofteks)

    Terselfdertyd is die neerhalende selfspot net so 'n prominente tema, soos voorbeeld (8) demonstreer. In die kombinasie van selfspot en spot met ander ontkom niemand die skerp tong van die watkykertjies nie, en is dit duidelik dat die woorde nie al te letterlik opgeneem moet word nie.

    (8) Ons boere is darm poes kommin. En fokken trots daarop. Tjek my kunstefees, teen daai tyd gooi ek 'n mullet en poeslang saaidies. Sal jags lyk saam die cortina. (2011 Kommentaar)

    Breed (2017) dui oorsigtelik aan dat die oordadige gebruik van taboewoorde, sleng en uitdrukkings wat as aanstootlik beskou kan word as kenmerkende eienskappe van Zefrikaans op WKJ? beskou kan word. Sleng is karakteriserend van bepaalde sosiale groepe, en word beskou as in-groep-taal. Taboewoorde kan ook gesien word as 'n teken van manlikheid en dit bevorder die manlike beeld wat geprojekteer word (Holmes 2001). Die oordrewe manlikheid, soos die res van die zefidentiteit, is 'n bewuste keuse, wat nie noodwendig strook met die privaat oortuigings of persoonlike gedrag van die deelnemers nie. Die internet as ruimte leen sigself by uitstek tot die speelse gebruik van taal en die skepping van verbeelde identiteite (sien Androutsopoulos 2006:426; Danet 2001:8,24; Deumert 2014:152-153).

    Buiten die virtuele ruimte is humor, veral ironie, ook tiperend van manstydskrifte. Benwell (2004) bevind dat manstydskrifte gedy op ironie, omdat dit teenstrydighede bymekaarbring. Hoewel hierdie tydskrifte dikwels hegemoniese manlikheid of meer rebelse werkersklasmanlik-heid uitdra, probeer hulle terselfdertyd skoonheidsprodukte en mode aan mans adverteer -produkte wat eintlik tipies van vrouetydskrifte is wat aan die "nuwe man" verkoop moet word. Daarom is ironie nodig om met die dubbelsinnigheid om te gaan. Die probleem wat ironie egter kan meebring, is geleë in die dubbelsinnigheid dat enige stelling wat gemaak word, ontken kan word, of afgemaak kan word as "net 'n grap". Dit kan daarom ook 'n masker word waaragter seksistiese of homofobiese ingesteldhede tog juis gekommunikeer word onder die dekmantel van humor, wat die letterlike betekenis van die woorde nie ongedaan maak nie (Benwell 2004:13).

     

    3. NAVORSINGSMETODE

    Uit die WKJ? -blog kan 'n dinamiese korpus onttrek word, wat voortdurend bly groei namate nuwe bydraes toegevoeg word tot die webwerf. Vir hierdie analise is die data van die eerste inskrywings in 2000 tot en met die laaste inskrywings van 2017 gebruik, wat in totaal 1,4 miljoen woorde bevat het. Die WKJ?-blog se taaldata is deur CText onttrek en verpak6 in jaarperiodes vanaf 2000 tot en met 2017 en aan die navorsers beskikbaar gestel. Soos reeds genoem, is die korpus nie verteenwoordigend van alle Zefrikaans nie; dit verteenwoordig net Zefrikaans op dié bepaalde blog.

    Vorige navorsing oor taboedomeine (sien afdeling 4 hier onder) lewer reeds 'n aantal leksikale items op, wat as soekterme vir die korpusanalise gebruik kan word. Ons antisipeer egter dat daar vernuwende taalgebruik op WKJ? voorkom, en het daarom die aanvanklike moontlike soekterme verder uitgebrei deur 'n handmatige analise van 50 ewekansig-geselekteerde tekste van die WKJ?-webwerf te onderneem (in totaal ongeveer 30 000 woorde). Die doel van hierdie analise was om nuwe taboewoorde te vind wat nog nie in die soeklyste opgeneem is nie, maar tog in die data voorkom. Verder is die WKJ?-leksikon (http://www.watkykjy.co.za/zef-slang/) ook gebruik om die soeklyste aan te vul. Hierdie leksikon bevat nie noodwendig 'n leksikografies-akkurate beeld van die taalgebruik op die WKJ?-blog nie, omdat dit op sigself 'n vorm van satire op die konvensies van leksikografie en die standaardtaal vergestalt, maar dit bied nietemin nog bruikbare inligting om die volledigheid van die data-analise te verhoog.

    Taboewoorde en seksuele metafore is uit die korpus onttrek en hul frekwensies bepaal met behulp van die woordelysfunksie van die korpussagtewarepakket WordSmith7 (Scott 2016). Die konkordansiefunksie is gebruik om die woorde in konteks te ontleed, om seker te maak dat dit wel as taboewoorde gebruik word. In hierdie artikel word rou frekwensies van woorde gerapporteer, eerder as genormaliseerde waardes, omdat dit in die eerste plek oor die aard en omvang van die verskynsel handel, en in die tweede plek voldoende is om die relatiewe voorkoms van taboedomeine te bepaal as die totale frekwensies met mekaar vergelyk word.

     

    4. TABOEDOMEINE

    Die gebruik van vloekwoorde hou sterk verband met genderrolle en die verwagtings wat die gemeenskap het in terme van lidmaatskap en deel word van die in-groep (Thelwall 2008). Verskille in geslagsrolstereotipes word ook uitgebeeld in die verhouding tussen taal en kultuur, en kom veral na vore in die taalgebruik van spesifieke subkultuurgroepe (van Huyssteen 1998). Identiteit berus op sosiale interaksies en die taalgebruik tydens hierdie interaksies dien as middel vir die konstruksie van 'n sosiale identiteit.

    Taboewoorde is 'n aspek van taal wat nie formeel onderrig word nie (Thelwall 2008) en faktore soos ouderdom, geslag en sosiale klas speel 'n belangrike rol in mense se geneigdheid om te vloek (McEnery 2004). Taboewoorde kan ook as sosiale merker van groepsidentiteit en solidariteit dien (de Klerk 1991:157; Holmes 2013).

    Taboewoorde kan volgens bepaalde domeine geklassifiseer word, en Stapleton (2010) het drie semantiese domeine geïdentifiseer waar taboewoorde dikwels voorkom:

    skatologiese en liggaamsdele,

    seksuele, en

    godslasterlike domeine.

    Die skatologiese domein hou verband met liggaamsfunksies en die liggaamsdele wat met daardie funksies verband hou, en word in die WKJ?-data vergestalt deur woorde soos kak, kots en hol. Die seksuele domein vind uitdrukking in woorde wat verwys na geslagsdele en seksuele dade soos doos, kont, piel en naai. Godslasterlike woorde word dikwels gesien as uiters taboe en verwys na die ydellike gebruik van God se naam, soos Jissis, Jirre (en spel-variante daarvan).

    Wat die seksuele domein betref, het Van Huyssteen (1996) verskeie metafore geïdentifiseer wat gebruik word om die seksuele taboedomein in terme van 'n nie-taboedomein te beskryf, waaronder voorbeelde soos die volgende:

    eetbare objekte: vrouens se geslagsdele veral word met vrugte en ander vorme van kos vergelyk, e.g. guava, baardpie.

    Meestal word vrouens as die passiewe voedselitem gesien, bv. vy, cherry, koek, pastei, of mossel terwyl mans as die aktiewe eters beskou word. Vrouens en/of hulle geslagsdele word ook met eetbare objekte vergelyk, soos geïllustreer deur voorbeeld (9) en (10).

    (9) Holden het blykbaar op die grond gelê terwyl Rowan haar koek gelek het. Meer as veertig tieners het die hele affêre met hul selfone afgeneem, seker met die plan om dit later by die huis te gaan oefen met spanspekke. (2013 Hoofteks)

    (10) Nou Sannie kry vir arme Rooi Piet jammer. Hy't lekker koejawel gekry maar sy't hom eintlik vir 'n doos gedrop (Dewald nou). (2010 Hoofteks)

    diere: sekere eienskappe van diere word aan die vrou en/of haar geslagsdele gelykgestel, soos 'n kat (met lang naels) of die meer gebruiklike poes, snoek, bosmossel;

    voertuie: vrouens word dikwels gesien as voertuie wat deur mans gery kan word, e.g. wolskoeter;

    werksgereedskap en gepaardgaande handelinge: hier word die man gesien as 'n aktiewe stuk gereedskap wat 'n handeling uitvoer op 'n passiewe stuk toerusting of oppervlak (vrou), e.g. saag, spyker.

    Die projeksies vir die taboedomein word dikwels met sensoriese waarnemings geassosieer. Die teikendomein lyk/ruik/voel/proe/ klink dieselfde as die leksikale item in die brondomein. Daar is dus sekere aspekte wat ooreenstem tussen die brondomein en die teikendomein (Van Huyssteen 1996).

    Uit die voorlopige analise van die 50 tekste, blyk dat daar nog verdere domeine in WKJ? geïdentifiseer kan word, wat nie soveel prominensie in vorige navorsing geniet het nie. Die vernaamste addisionele domein wat uit die handanalise na vore getree het, is die domein van weerverskynsels, met leksikale items soos bliksem en donder wat vryelik op die webwerf gebruik word, dikwels in verband met gevegte en ander vorme van geweld, hoewel dit ook soms as uitroepe van verbasing of selfs goedkeuring gebruik word. Daar is enkele gevalle van diername wat gebruik word buite die seksuele domein om na mense te verwys, byvoorbeeld die gebruik van bitch of teef om neerhalend na 'n vrou te verwys.

     

    5. BEVINDINGE

    Die WKJ? -korpus lewer 'n totaal van 29 389 taboewoorde op, wat beteken dat hulle voorkom met 'n relatiewe frekwensie van 20 taboewoorde per 1 000 woorde, oftewel 1 uit elke 50 woorde. Die individuele item met die hoogste frekwensie is fok en afleidings of variante daarvan: fokken (5 631), fok (1 709), fokol (471), befok (394), befokte (386), fuck (269), fokkit (205), enfokkol (200). Dit word gevolg deur kak (3 162), en enkele afgeleide vorme, waaronder kakhuis (139), kakbaie (71), kakste (62), kakker (48) en gekak (47), terwyl die Engelse variant shit (406) ook gereeld voorkom. Die ander vorme wat meer as 'n duisend keer in die data voorkom, is poes (1 249) en moerse (1 128), met moer self wat 366 keer voorkom. Verder kom enkele ander vorme nog meer as 300 keer in die data voor, te wete jirre (602), doos (471) en naai (345).

    Die data in WKJ? laat blyk dat die taboedomeine van die seksuele en skatologiese die dominante domeine is waarvan die deelnemers gebruikmaak. Daar is ook gevalle van lasterlike en skeltaalgebruik, en woorde uit die weerdomein, hoewel aansienlik minder, en selfs nog minder van die eetbare en dieredomeine, buiten hulle gebruik as metafore binne die seksuele domein. Figuur 1 gee die oorhoofse frekwensieverspreiding oor die hele WKJ? -korpus vanaf 2000-2017.

     

     

    Die seksuele domein behels woorde en uitdrukkings wat verwys na seksuele handelinge of genitalieë (Stapleton 2010) en word meestal as obsene woorde geklassifiseer volgens die leksikografiese etikettering in die HAT (Odendal & Gouws 2000). Hierdie woorde het die hoogste taboewaarde in sosiale interaksies en word gewoonlik in sogenaamde "beskaafde" gesprekke vermy. Die omvangryke gebruik van die seksuele leksikon sluit aan by die protesterende manlikheidsbeeld van mans wat konstant aan seks dink. Dit funksioneer as manier om mag oor vroue te vertoon, veral in samehang met metafore wat verwys na pyniging en aan mans die aktiewe rol verleen in vergelyking met die passiewe rol wat aan vroue toegeken word. Tipiese voorbeelde word in (11) en (12) gegee, met die taboewoorde in vetdruk vir maklike identifikasie (vetdruk word nie in die oorspronklike teks gebruik nie). Terselfdertyd is die ironiese spot met mans se grootheidswaan ook vervat in die karakterisering van "fake" in voorbeeld (12).

    (11) Hier is vir jou nuus, poppie - jy doen seks fokken verkeerd: die piel, hy moet gaan daar by die poes. (2013 Hoofteks)

    (12) So as jy wil weet wat regtig fake is, luister volgende keer baie fyn as jy jou cherrie spyker en sy so begin skree oor hoe groot jou piel is en hoe lekker jy haar brand. (2010 Hoofteks)

    Die seksuele taboedomein kan ook metafories gekonseptualiseer word in terme van 'n nie-taboedomein, byvoorbeeld voedsel of diere (Van Huyssteen 1996), soos geïllustreer in voorbeeld (13) en (14). Dit verleen 'n eufemistiese effek aan die taalgebruik, veral op 'n publieke platform. Dierename en -eienskappe word aan mans en vrouens, of hulle genitalieë, toegeken, byvoorbeeld haas, teef, bitch, kat, goose, snoek, stinkgogga vir vroue, en slang, adder, bastard, voël vir mans. Soos daar egter in figuur 1 gesien kan word, is die frekwensie van hierdie woorde betreklik laag.

    (13) Daai tipe wat jou gatsiggie mooi sag maak as jy jouself so nou en dan vir 'n happie bosmossel wil treat down under. (2009 Hoofteks)

    (14) Nou Dewald weet sy snoek-versoek later die aand gaan gekanselleer word as hy nie nou die groot man speel nie. (2010 Hoofteks)

    Daar is slegs enkele gevalle waar manlike geslagsdele ook met voedselitems vergelyk word, bv. piesang, eiers, of wors, wat dan omgekeerde rolle tot gevolg het. Die vrou word dan die aktiewe eter terwyl die man passief toekyk (Brandt & Carstens 2005; Van Huyssteen 1996), hoewel die voorbeelde ook nie ongekwalifiseerd afstand doen van die man se inisiatief nie.

    (15) Net nie piesang nie. Net hoere eet piesangs. (2010 Hoofteks)

    (16) "Is jy dors, kom suig my wors" - hehe, fokken classic. (2010 Kommentaar)

    Seksuele handelinge word dikwels in terme van pynlike handelinge (vir die vrou) beskryf. Vrouens is aan die ontvangkant van hierdie handelinge, bv. brand, saag, spyker, steek, naai, of looi (Van Huyssteen 1996). Voorbeeld (17) tot (19) illustreer van die werkwoorde en naamwoorde waarin pyn aandoen, prominent is.

    (17) Terwyl almal lekker suip, saag en wheelie het ek gesien hoe hierdie doos 'n ander kar blatantly vasparkeer en verdwyn in die crowd, min gefokkenspin. (2014 Hoofteks)

    (18) Ons is nymphos ons hou van sex, maar ons gaan nie net almal spyker nie. (2017 Hoofteks)

    (19) Die van julle wat uitmaak vat Twitter sou hierdie warm, Vegas bokkie al gesien het, maar ek looi haar sommer weer. (2013 Hoofteks)

    Op WKJ? is daar boonop 'n rubriek getiteld Skêre met skietgoed. Eerstens word vrouens (op neerhalende wyse) met skêre vergelyk: funksioneel net om hulle bene oop te maak vir mans. Hulle word ook in onderklere, bostukloos of nakend uitgebeeld vir visuele stimulasie vir die manlike kyker/leser. Vrouens word uitgebeeld as blote seksobjekte. Tweedens word vrouens met tipies manlike parafernalia afgeneem; dinge wat mans interesseer soos vuurwapens van wisselende grootte, of drank (cf. Brandt & Carstens 2005).

    Die uitgebreide resep in voorbeeld (20) beeld die objektivering van die vrou en die prominensie van seks as lyflike daad uit. Die vrou is steeds slegs toerusting waarmee daar gewerk word, en geen handelinge word van haar verwag om 'n aktiewe deelnemer in die proses te wees nie. Dit handel volledig oor die man se plesier, maar terselfdertyd kan die speelse gebruik van die registerkonvensies en selfs woordeskat van 'n resep nie misgekyk word nie, en word die leser weer herinner dat die inhoud ironies gelees kan word.

    (20) Resep vir naai

    Aanwysings

    1. Kyk die in laggende oë

    2. Sprei 2 welgeskape bene wat soos Charlize Theron s'n lyk wyd oop

    3. Druk en masseer melk kanne sagkuns.

    4. Vou piesang in die mengbak in, werk hom in en uit tot daar genoeg room is. Hou aan om melk kanne te knie vir beste resultate.

    5. Soos wat hardklop versnel, druk piesang dieper in mengbak en maak toe met neute. Laat hom so bietjie soak. Wees versigtig om nie oornag te los of neute te kraak nie.

    6. Die baksel is reg as die piesang pap is. As piesang nie pap word nie, herhaal stappe 3 tot 5. As piesang steeds nie pap word nie, kry nuwe mengbak.

    Let wel:

    1. As jy in 'n vreemde kombuis is, was alle skottelgoed behoorlik voor en na die tyd.

    2. Dra 'n SABS-goedgekeurde voorskoot

    3. Moenie mengbak uitlek na gebruik nie

    4. As die baksel rys, get the fuck out of Vereeniging. (2008 Hoofteks)

    Die uitbeelding van seks is dus konsekwent met die hiërargiese posisie van man ten opsigte van vrou, en sterk op die lyflikheid afgestem. Die protesterende manlikheid word hierdeur benadruk, in samehang met die verwerping van die preutse, puriteinse beeld van die hegemoniese Afrikanerman van die verlede.

    Die omvangryke gebruik van die skatologiese domein versterk die verwerping van die puriteinse, betaamlike, hegemoniese Afrikanerman. Hierdie funksies word soms eufemisties beskryf om die taboewaarde te verlig, soos in voorbeeld (21) en (22), maar dit word meer dikwels disfemisties beskryf om die leser te skok, soos in voorbeeld (23) tot (25), waar die skatologiese woorde juis as metafore van toepassing gemaak word op ander domeine, tipies emosies.

    (21) Jou iPad is ook 'n goeie kakhuis companion. Jy kan iets soos Stanza gebruik om boeke te lees terwyl jy 'n modderotteruitrol, News24 lees as jy regtig depressed wil raak of solank jou volgende kak beplan in die vorm van 'n resep virjou volgende meal. (2013 Hoofteks)

    (22) Sommer so van die kakhuis af terwyl jy met die bruinbeerworstel by die werk. (2012 Hoofteks)

    (23) En daar bekak ek myself amper. (2015 Hoofteks)

    (24) Moet ek nou bekak en bepis word net om jou insecurities te justify? (2004 Hoofteks)

    (25) As die cast van CSi Miami op hierdie scene afgekom het, sou hulle hulself sekerlik bekots het. (2012 Hoofteks)

    Woorde wat met stormweerstoestande verband hou word dikwels gebruik as selfstandige naamwoorde om na ander mense te verwys (die dom donner), maar dit word veral ook as werkwoorde gebruik om na fisiese geweld te verwys, soos voorbeeld (26) tot (28) illustreer. Hierdie woorde versterk die macho-beeld wat die mans uitdra na die publiek, en spesifiek die geveg onder mans om beheer oor ander mans te kry. Die gebruik van veral bliksem en donner (ook in hierdie spelling, eerder as donder) is al goed geyk in Afrikaans, hoewel dit nie ontdaan is van taboewaarde nie.

    (26) Toe die china kak maak met die ore, toe bliksem die ore hom. Toe moer hy terug. (2005 Hoofteks)

    (27) Ek fokken bliksem julle almal! Hou my terug! Wie se konte moet ek dik skop? (2009 Hoofteks)

    (28) Toe donner ek hom daar oor die drumkit, vat my bass klim in my kar en fokkof terug Wolmer toe. (2002 Hoofteks)

    'n Uitbreiding op die woorde van weerstoestande wat as werkwoord vir geweldpleging gebruik word, is die werkwoordelike gebruik van poes in voorbeeld (29). Hierdie werkwoord word gebruik na analogie van die pyn-konstruering van seks (voorbeeld (17) tot (19)), saam met die analogie na die weerstoestandwerkwoorde vir geweldpleging (voorbeeld (26) tot (28)).

    (29) En jy kan jou neus net soveel keer insteek voordat iemand jou gaan poes. Glo my, as Suid-Afrikaanse man ken ek hierdie fokken wet maar tog te goed. (2001 Hoofteks)

    Die gebruik van lasterlike en skeltaal is 'n sterk taboe vanuit die puriteinse Afrikanergemeen-skap beoordeel. Een van die mees gebruiklike skelwoorde moerse, word in verskeie kontekste as versterking aangebied, soos reeds in voorbeeld (7) geïllustreer. Die werkwoordgebruik van moet in voorbeeld (4) en (26) hier bo dui op geweld, en is 'n sinoniem met bliksem en donder, hoewel dit soms veel neutraler as sinoniem vir gooi gebruik word. 'n Aantal bekende vaste uitdrukkings, veral die moer in en jou moer strip word ook by herhaling gebruik.

    Die taboewaarde van moer is vir baie Afrikaanse taalgebruikers nie so hoog nie, en in elk geval veel laer as lasterlike taal. Dit was juis die vermeende laster en die disrespek vir gesagstrukture wat tot gevolg gehad het dat die Voëlvrykonserte van 1989 van sommige universiteitskampusse verbied is, 'n stap wat onder meer deur die Kerkbode aangeprys is (Hagen 1999:33-35). Ook Max du Preez (2005:28) verwys na die stywe Calvinistiese boude van Afrikaans wat die Voëlvrytoer nodig gehad het. Eggo's van Kerkorrel se uitroep "O my God wat het ons hier" in sy bekende "Sit dit af' word gereeld op WKJ? gevind in die gebruik van uitroepe soos Jissis en Jirre (heel dikwels in die verboë spelling om die taboewaarde effens te versag). Die gebruik van lasterlike woorde in die korpus word hoofsaaklik as tussenwerpsels aangebied. Dit beklemtoon die skrywer se ontsteltenis in voorbeeld (30) en (31), maar kan ook blydskap uitdruk, soos in voorbeeld (32). Die skokwaarde, waarvan die hiperboliese in voorbeeld (31) onmiskenbaar is, verwoord die opstand teen die godsdienstige preutsheid van die tradisionele Afrikanergemeenskap. Dit wil natuurlik nie sê dat die Afrikaanse omgangstaal nie sy eie dosis lasterlike taal en eufemistiese variante het nie; wat WKJ? doen, is om dit op skrif te stel as aanklag teen die preutse "goeie smaak" van die dominante Afrikanersedes.

    (30) VIR DIE FOKKEN 110ste KEER - EK HET NIE FOKKEN SKAPE NIE, JISSIS ! (2015 Hoofteks)

    (31) Maats, daai kak het godsdienste waarvan ek nog nie eers bewus was nie uit my gebrand: "Godjissisfokofjoupoeswaddefokfokjoujoukonteinajissisgodfokof!!!" kry ek in een asem uit. (2011 Hoofteks)

    (32) Jirre god, hierdie is 'n lekker stuk song! (2013 Kommentaar)

    Die sosiale kommentaar wat deur laster uitgedruk word, strek verder as manlikheidsbeelde. Selfs die lesersbydrae van "Saartjie" oor haar deelname aan 'n byeenkoms van Jong Dames Dinamiek bied 'n satiriese beeld van die byeenkoms, en probeer die skynheiligheid ontmasker deur nabootsing van die taal van die byeenkoms. Die teks begin soos volg:

    (33) Liewe Jiesis, toe woon ek mos gisteraand 'n vergadering van Jong Dames Dinamiek by. Wat 'n belewenis. Kyk eers 'n bietjie na 'n uitstalling van costume jewellery by die ingang en teug aan 'n glasie dooswyn. Ag jirre tannie, kyk die ou kraletjies. Te fokken fraai. Dan koop jy 'n kaartjie vir die "Waag-en-wen" (dis NIE 'n lotery NIE, want Christen-dames dobbel mos nie). (2005 Hoofteks)

    Die WatKykJy?'-lesers en -bydraers maak kwistig van taboetaal gebruik. Dit word strategies aangewend om sogenaamde "beskaafde" mense te skok, soos die stelling in voorbeeld (34) duidelik maak.

    (34) Vloekwoorde, reg gebruik, is baie snaaks. En mens kan skynheiliges se "beskaafde waardes" lekker skud en skok daarmee. (2001 Hoofteks)

    Dit vorm deel van die reaksie teen die tradisionele puriteinse Afrikanerkultuur wat met apartheid en die negatiewe nalatenskap van Afrikanerskap geassosieer word (Grobler 2012; Krueger 2012). Die "beskaafdes" word inderdaad geskok, soos voorbeeld (35) en (36) duidelik maak, maar terselfdertyd is die kombinasie van hoë kultuur en lae kultuur in dieselfde sinne sprekend van die burleske, as een van die vorme van humor waarvan WKJ? wemel.

    (35) Dan kom hulle op Watkykjy se websait af en is so bly om Afrikaans te lees, maar dan lees hulle verder en dan kan kry ons weer briewe oor hoe ons die taal verloën en woorde soos "kak" en "poes" gebruik. (2004 Hoofteks)

    (36) Soos julle seker bewus is, kry ons heelwat kritiek hier by Watkykjy, veral vanaf taalstryders wat reken ons fok die dierbare taal six love in sy poes in op. Dit het egter als gister verander toe Watkykjy in 'n grootse gebaar daadwerklik bygedra het tot die vaslegging van Afrikaans, deur die woorde 'naai' en 'poes' te borg in die WAT. (2011 Hoofteks)

    Die Watkykertjies beeld hulleself dikwels as dronk uit, en in daardie toestande van dronken-skap gee hulle voor om hulleself aan sosiaal-onaanvaarbare gedrag van 'n ekstreme graad skuldig te maak. Dit dien as bevestiging van hulle protesterende manlikheid, soos blyk uit voorbeeld (37) tot (40).

    (37) Soos hulle maar altyd doen, kuier die manne by die huis oor 'n bottel brannies en los baie van die wereld se probleme op. (2001 Hoofteks)

    (38) Die parties sal sommer double as watkykjy parties en almal kan doosdronk word. (2009 Hoofteks)

    (39) So ruk terug (nog voor die USA trip) het Audi vir my 'n A6 gegee vir 'n naweek. Ek en Chopper het hom sommer na ons reünie toe gery (ons wil nie oor die reünie praat nie - dit was zef verby gewees en ons het goeters gesteel en so aan). (2013 Hoofteks)

    (40) Kyk, as ons in die Moot wil zef wees doen ons dit goed. En wat is nou meer zef as om met jou dronk gat jou 20 jaar oue wiele teen hoë spoed te gebruik om ander mense se eiendom te modify? (2014 Hoofteks)

    WatKykJ?-deelnemers is kokkellolle of gomgatte, wat volgens die WatKykJ?-zefslenglys na 'n arm of laeklas persoon verwys. Watkykers word ook beskou as sif en dus vuil en stink met onder andere grillerige naels, as duidelike tekens van die ironiese aanvaarding van 'n onhigiëniese mens, in reaksie teen die skynheiligheid van die moderne hegemoniese man, soos blyk uit voorbeeld (41) tot (43).

    (41) Trek hulle uit sodra die eerste ete geserve word. Al julle watkykertjies is in elk geval sif, so jou voete behoort 'n kakshot te pong. (2001 Hoofteks)

    (42) Fokken briljant julle sif etters, tune daai tjor met n daspoort drukvlerk en meer furrrrrrrr. (2010 Kommentaar)

    (43) Sodra die botteltjies vol is, maal ons dit fyn en pos dit Ooste toe sodat daai konte ons sif toonnaels kan opsnuif en met boners kan rondloop. (2015 Hoofteks)

    Die ironiese bewustheid van hulle verhouding met die Afrikaner, en hulle karakterisering van die volk in sy geheel as hoofsaaklik kommin kan gesien word in stellings soos (44) tot (46). Hier word die suggestie uitgedruk dat nie net met die watkykertjies self sosiaal-afkeurbare optrede vertoon nie, maar die skynheiligheid van die groep as geheel word geïmpliseer.

    (44) "Ek weet nie of die meeste Afrikaners kommen is nie, maar ek weet baie van hulle is. En as dit so is, hoekom dit wegsteek en nie daarin revel nie," vra hy. (2000 Hoofteks)

    (45) Anyway, ek het altyd gedink dis net ek wat verbaas is oor hoe common my eie mense (lees: volk) is. (2002 Hoofteks)

    (46) Al waaroor ek bly is, is die feit dat KykNet nie verplig word om subtitles op hulle shit te sit nie - so kan net onse mense sien hoe kak common ons actually is. (2013 Hoofteks)

    Die sosiale kritiek wat hierdeur uitgespreek word, is egter skerp. Enersyds, soos voorbeeld (47) duidelik maak, is dit normaal om vuil te word, en om dit weg te steek, sou skynheilig wees, soos wat die hegemoniese man by implikasie is. Sterker nog, alle mans word gekarakteriseer as wesenlik varklik, wat agteraf seksisties is, maar in bepaalde kontekste probeer voorgee om betaamlik te wees, soos blyk uit voorbeeld (48). Die hiperboliese segswyse herinner die leser weer dat die bedoeling van die teks net moontlik mag verskil van wat die woorde sê.

    (47) Soos Springsteen, maak hulle musiek vir die "working class". Mense wat sweet by die werk en terug huistoe gaan met grease onder hulle vingernaels. (2012 Hoofteks)

    (48) Almal weet dat mans diep in hul harte varke is. Op vleisiebraai en ander gesellige geleenthede kom die vuilste grappe uit en almal lag ewe hard om die vuur. Agter girls se rugte is ons wilde diere, maar voor hulle sit ons die beste nommer nege met toejam en bunions neer. Hoekom verder voorgee? (2000 Hoofteks)

    Die Watkykertjies, as die generasie na apartheid, vereenselwig hulle nie met politiek nie en wil niks daarvan af weet nie, soos uitgebreid beargumenteer in voorbeeld (49), maar terselfdertyd, soos voorbeeld (50) aantoon, wil hulle nie langer aan apartheid herinner word nie.

    (49) Na 1994 was die meerderheid swart Suid-Afrikaners redelik happy (as much as poverty would allow them to be) en die meerderheid wit Suid-Afrikaners maar net te bly hulle het so lig van Apartheid afgekom. Ons Gen X kids wou fokol van politiek af weet. HeyBatong, white guilt, nê? Social media was nog nie mainstream nie so dié wat gripes gehad het met die regering het maar net tussen hulle eie gesinne en vriendekringe gebitch en gemoan. Ek weet, dis baie vereenvoudig, but bare with me. Dit was inevitable dat truly political SAmusiek uncool sou raak. Die Fokofpolisiekar-generasie (alhoewel hulle lyrics socio-economic en political commentary gehad het) was 'n apatiese generasie. Baie dieselfde as ons Nirvana generasie. (2016 Hoofteks)

    (50) So die election is op ons. Ek sien hulle roep hom "The 5th democratic post-apartheid elections". Waddefok!? Hoekom word daai apartheidskaart nog gespeel? (2014 Hoofteks)

    In hierdie opstand teen die skynheiligheid van die volk, en die hegemoniese Afrikanerman-likheid, is taal die wapen. Die gebruik van taboewoorde speel 'n sentrale rol in die projeksie van 'n bepaalde sosiale identiteit, in die WKJ?-blog 'n zefidentiteit, en die sosiale mag waarmee dit moontlik kan gepaardgaan. Die mag kan verskillende vorme aanneem. Dit sluit geweld in, wat 'n aanduiding is van die fisiese mag wat mans oor mekaar uitoefen, sowel as seksuele mag wat oor vrouens uitgeoefen word. In sekere opsigte word daar dus teruggegryp ook na die ruwe beeld van die onderoffisier in die weermag, wat binne die afgeseëlde konteks van militêre diensplig, sterk magsbeheer oor die dienspligtiges kon uitoefen (Du Pisani 2001:165).

     

    6. GEVOLGTREKKING

    Die vernaamste domeine waaruit taboewoorde en -uitdrukkings kom, is die seksuele domein en die skatologiese domein. Hierdie domeine verwoord die deelnemers se bemoeienis met seks en die onhigiëniese. Die seksuele uitdrukkings maak verder duidelik dat deelnemers oorwegend 'n baie tradisionele en hiërargiese konsep van seksuele verhoudings uitbeeld, waarin aktiewe manlike deelnemers saam met passiewe vroulike deelnemers gegroepeer word, en dit veral die man se seksuele bevrediging is wat voorop staan. Die hipermanlikheid van die werkersklasman, wat protesteer teen die sogenaamde verfyndheid van die hegemoniese middelklasman word hierdeur na vore gebring.

    Die weerdomein word grootliks gebruik om uitdrukking te gee aan geweld, veral fisieke gevegte, maar soms ook gebruik om meer metafories goedkeuring of afkeuring te verleen. Skel en laster word hoofsaaklik gebruik om evaluerende opmerkings te maak, en veral verbasing, maar ook andersins goedkeuring of afkeuring uit te druk. Dit dien ook strategies om bewustelik die vermeende "beskaafdes" se skynheiligheid te kritiseer.

    Ander domeine het baie beperkte gebruik, en word dikwels eerder net as onderdeel van die seksuele domein ingespan, as deel van metaforiese taal waarin diere, plante, voertuie of instrumente gebruik word om oor genitalieë en seksdade te praat.

    Die protesterende manlikheid is egter steeds onbeskaamd seksisties en homofobies, net soos die hegemoniese Afrikanerman. Die protesterende manlikheid bevraagteken nie soseer die relasionele aspek van die hegemoniese manlikheid nie; WKJ? bevraagteken veel eerder die legitimering van die hegemonie met die gebruik van taboetaal, deur op die "skurwe" "onderrok" van almal, dus ook die skynheiliges, te hamer.

    Of die skrywers hulleself met die protesterende manlikheid vereenselwig, is egter 'n ander vraag. Die protesterende hipermanlikheid van die verregse beweging van die 1990s het hulleself ernstig opgeneem, maar volgens Swart (2001:84) in parodie geëindig, ten spyte van hulleself. Milton en Marx (2014), in hulle analise van die herappropriasie van zef, kom tot die gevolgtrekking dat die normatiwiteit van die middelklas juis deur die speelse aanneming van werkersklaspersonas bevestig word deur die parodie van armblankes in Afrikaanse musiek. Bekker en Levon (2020) bevind weer dat daar groter destabilisering van vaste identiteite plaasvind in hulle analise van die parodie van Die Antwoord. Hiperbole ten spyt, is WKJ? veel minder opvallend 'n parodie van die werkersklasidentiteit, en terselfdertyd ligjare verwyder van die hipermanlikheid van die verregses. Die kritiese fokus val meer op die goeie sedes van die volk en die puriteinse, hegemoniese manlikheid. Die fokus op manlikheid, veral deur manlike skrywers, maak kritiek teenoor die geloofwaardigheid van nabootsing van 'n ander identiteit minder lastig as wat die geval is met die werkersklasproblematiek wat deur Milton en Marx (2014) of Bekker en Levon (2020) behartig word. WKJ? is lighartiger en minder polities gerig, hoewel die leser soms nie seker is of die skrywers nie dalk juis skryf wat hulle bedoel, soos Benwell (2004) van manstydskrifte vermoed nie. Maar, om te seker te wees van die antwoord, of van die vraag, mag dalk neerkom op 'n misinterpretasie van WKJ?.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Androutsopoulos, J. 2006. Introduction: Sociolinguistics and computer-mediated communication. Journal of Sociolinguistics, 10(4):419-438.         [ Links ]

    Barnard, D. 2012. Giftige Misfits: a semiotic investigation into whiteness as represented in I Fink U Freeky. Unpublished honours dissertation, University of Pretoria.         [ Links ]

    Bekker, I. & Levon, E. 2020. Parodies of whiteness: Die Antwoord and the politics of race, gender, and class in South Africa. Language in Society, 49(1):115-147.         [ Links ]

    Benwell, B. 2004. Ironic discourse: Evasive masculinity in men's lifestyle magazines. Men and Masculinities, 7(1):3-21.         [ Links ]

    Bezuidenhout, A. 2007. From Voëlvry to De la Rey: Popular music, Afrikaner nationalism and lost irony. Unpublished seminar presentation, Stellenbosch University, 5 September 2007. (16p.         [ Links ])

    Brandt, M. & Carstens, A. 2005. The Discourse of the Male Gaze: A Critical Analysis of the Feature Section 'The Beauty of Sport' in SA Sports Illustrated. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 23(3):233-243.         [ Links ]

    Breed, A. 2017. The subjective use of postural verbs in Afrikaans (II): a corpus analysis of CPV in Zefrikaans. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 52(1):23-43.         [ Links ]

    Connel, R. 2016. Masculinities in global perspective: hegemony, contestation, and changing structures of power. Theory and Society, 45:303-318.         [ Links ]

    Connell, R.W. & Messerschmidt, J.W. 2005. Hegemonic Masculinity: Rethinking the Concept. Gender & Society, 19(6):829-859.         [ Links ]

    Culhane, D. 2009. Die Antwoord: Zef so fresh. Vice Magazine, September. https://web.archive.org/web/20110813131343/http://www.viceland.com/int/v16n9/htdocs/die-antwoord-154.php [2 January 2018].         [ Links ]

    Danet, B. 2001. Cyberpl@y: Communicating Online. Oxford & New York: Berg.         [ Links ]

    De Klerk, V. 1991. Expletives: men only? Communications Monographs, 58(2):156-169.         [ Links ]

    Deumert, A. 2014. Sociolinguistics and Mobile Communication. Edinburgh University Press.         [ Links ]

    Du Pisani, K. 2001. Puritanism transformed: Afrikaner masculinities in the apartheid and post-apartheid period. In Morrell, R. (ed.). Changing men in Southern Africa. Pietermaritzburg: University of Natal Books, pp. 157-176.         [ Links ]

    Du Pisani, K. 2004. 'Ek hou van 'n man wat sy man kan staan': puriteinse manlikheidsbeelde in die Afrikaanse kultuur tot 1935. Suid-Afrikaanse Tydskrif virKultuurgeskiedenis, 18(1):80-93.         [ Links ]

    Du Pisani, K. 2013. Verteerbare patriargie: Angus Buchan, die Mighty Men en manlikheid. Litnet Akademies, 10(2):685-722.         [ Links ]

    Du Preez, A. 2011. Die Antwoord gooi zef liminality: Of monsters, carnivals and affects. Image & Text: A Journal for Design, 2011(17):102-118.         [ Links ]

    Du Preez, M. 2005. Oranje Blanje Blues 'n nostalgiese trip: Vrye Weekblad 88-94. Kaapstad: Zebra.         [ Links ]

    Grobler, R. 2012. You lookin'at me. The Media Online. https://themediaonline.co.za/2012/06/you-lookin-at-me/ [1 June 2020].         [ Links ]

    Hagen, L. 1999. Kulturele identiteit: Die "Alternatiewe Afrikaanse Beweging" van die tagtigerjare. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

    Holmes, J. 2001. An introduction to sociolinguistics: Harlow, Eng.; New York: Longman, 2001. 2nd ed.         [ Links ]

    Holmes, J. 2013. Doing discourse analysis in Sociolinguistics. Research methods in Sociolinguistics: A practical guide. Chichester: Wiley Blackwell, pp. 177-193.         [ Links ]

    Kiesling, S.F. 1996. Men's identities and patterns of variation. University of Pennsylvania Working Papers in Linguistics, 3(1):171-196.         [ Links ]

    Krog, Antjie. 2020. "FW de Klerk never had any moral intention, and he left us behind as white kansvatters." News24, 21 February 2020. https://m.news24.com/Analysis/antjie-krog-fw-de-klerk-never-had-any-moral-intention-and-he-left-us-behind-as-kansvatters-20200220 [21 February 2020].         [ Links ]

    Krueger, A. 2012. Part II: Zef/poor white kitsch chique: Die Antwoord's comedy of degradation. Safundi, 13(3-4):399-408.         [ Links ]

    Lessing, C. 2000. Afrikaners: kommen 'degenerates' - die ou van Beeld het gesien, geluister en geskryf. www.watkykjy.co.za/2000/08/afrikaners-kommen-degenerates-die-ou-van-die-beeld-het-gesien-geluister-geskryf/ [3 Augustus 2018].         [ Links ]

    Louw, Chris. 2000. Boetman is die bliksem in. Beeld, 5 Mei, p. 13.         [ Links ]

    Marx, H. & Milton, V.C. 2011. Bastardised whiteness: 'Zef'-culture, Die Antwoord and the reconfiguration of contemporary Afrikaans identities. Social Identities, 17(6):723-745.         [ Links ]

    McEnery, T. 2004. Swearing in English: Bad language, purity and power from 1586 to the present. London:Routledge.         [ Links ]

    Messerschmidt, J.W. 2019. The salience of "hegemonic masculinity".Men and Masculinities, 22(1):85-91.         [ Links ]

    Milton, V.C. & Marx, H. 2014. Musical parody, "zef" and the politics of belonging: "Dankie vir die antwoord maar wat was die vraag?" Muziki, 11(2):19-37.         [ Links ]

    Mooney, K. 1998. 'Ducktails, flick-knives and pugnacity': Subcultural and hegemonic masculinities in South Africa, 1948-1960. Journal of Southern African Studies, 24(4):753-774.         [ Links ]

    Odendal, F.F. & Gouws, R.H. 2000. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 4de uitg. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

    Pretorius, D. 2013. The visual representation of masculinities in Huisgenoot Tempo magazine. Communicatio, 39(2):210-232.         [ Links ]

    Scott, M. 2016. WordSmith Tools version 7. Stroud: Lexical Analysis Software.         [ Links ]

    Smit, S. 2012. De-Reifying Representations of White Male Identity in Post-Apartheid Popular Performance Practices: Jack Parow. In: Falkof, N. & Cashman-Brown, O. (eds). On Whiteness. Leiden: Brill, pp. 229-239.         [ Links ]

    Ströh, F.A.J. 2017. Destabilisering van hegemoniese Afrikanermanlikheid deur middel van die randfiguur in drie onlangse Afrikaanse films. (Ongepubliseerde M.A. Verhandeling, Noordwes-Universiteit).         [ Links ]

    Stapleton, K. 2010. Swearing. In Locher, M.A., Graham, S.L. (eds). Interpersonal Pragmatics. Berlin; New York: De Gruyter Mouton, pp. 289-305.         [ Links ]

    Swart, S. 1998. 'A Boer and his gun and his wife are three things always together': Republican masculinity and the 1914 Rebellion. Journal of Southern African Studies, 24(4):737-751.         [ Links ]

    Swart, S. 2001. 'Man, gun and horse': Hard-right Afrikaner masculine identity in post-apartheid South Africa. In Morrell, R. (ed.). Changing men in Southern Africa. Pietermaritzburg: University of Natal Books, pp. 75-89.         [ Links ]

    Thelwall, M. 2008. Fk yea I swear: cursing and gender in Myspace. Corpora, 3(1):83-107.         [ Links ]

    Van Huyssteen, G.B. 1996. The sexist nature of sexual expressions in Afrikaans. Literator, 17(3):119-135.         [ Links ]

    Van Huyssteen, G.B. 1998. Leksikografiese hantering van seksuele uitdrukkings in Afrikaans. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 16(2):63-71.         [ Links ]

    Vestergaard, M. 2001. 'Who's got the map? The negotiation of Afrikaner identities in Post-Apartheid South Africa'. Daedalus, 130(1):19-31.         [ Links ]

    Visagie, A. 2000. Manlikheid en magsverlies in die Afrikaanse jagliteratuur sedert 1994: Die Olifantjagters van Piet van Rooyen en Groot Vyf van Johann Botha. Stilet, 12(2):27-41.         [ Links ]

    Visagie, A. 2002. White masculinity and the African Other: 'Die werfbobbejaan' by Alexander Strachan. Alternation, 9(1):131-141.         [ Links ]

    Visser, W. 2007. Afrikaner responses to post-apartheid South Africa: Diaspora and the re-negotiation of cultural identity. New Contree, 54:1-30.         [ Links ]

    Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2016. Korpusportaal. https://viva-afrikaans.org [11 Mei. 2017].         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2019-11-30
    Goedgekeur: 2020-06-01
    Gepubliseer: September 2020

     

     

     

    Amanda van der Walt het haar tersiêre studie in 2000 aan die Vaaldriehoekkampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, begin. Haar hoofvakke het Afrikaans en Vertaalpraktyk tot op B.A.-Honneursvlak ingesluit. Sy het ook 'n Nagraadse Onderwys-sertifikaat by dié universiteit verwerf in 2005. In 2019 voltooi sy haar M.A.-graad rondom die konvensionalisering van linguistiese eienskappe binne 'n bepaalde aanlyn omgewing aan die Noordwes-Universiteit. Sy is tans 'n lektor by Sedi-beng Kollege in Vanderbijlpark waar sy Kom-munikasie aanbied vir post-matriek studente.
    Amanda van der Walt started her tertiary studies in the year 2000, at the Vaal Triangle Campus of the Potchefstroom University for Christian Higher Education. Her subjects included Afrikaans and Translation Studies on B.A. Honours level. She also completed a Post Graduate Certificate in Education in 2005. In 2019 she completed her M.A. degree investigating the conventionalising of linguistic aspects in a particular online environment at the North-West University. She is currently a lecturer at Sedibeng College in Vanderbijlpark, where she teaches Communication to post-matric students.

     

     

    Bertus van Rooy is professor in Engelse Taalkunde aan die Universiteit van Amsterdam, en buitengewone professor by die Noordwes-Universiteit. Hy spesialiseer in die variëteite van Engels wêreldwyd met besondere aandag aan die ontstaan en ontwikkeling van nuwe grammatikale konstruksies. Verder ondersoek hy die historiese ontwikkeling van Engels en Afrikaans in kontak met mekaar in Suid-Afrika, en was hy een van die skrywers aan die Afrikaanse grammatika op Taalportaal.
    Bertus van Rooy is professor of English Linguistics at the University of Amsterdam and extraordinary professor at the North-West University. He specialises in varieties of English across the world, and in particular focuses on the origin and development of new grammatical constructions. He also investigates the historical development of English and Afrikaans in contact with each other in South Africa, and was one of the authors of the Afrikaans grammar on Taalportaal.
    1 Die term "Afrikaner" word gebruik, sonder om enige waardeoordeel of politieke standpuntinname te impliseer, as duidende op die witAfrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Dit is die tipiese historiese verwysing van die term, en word daarom so gebruik. Om die rassestratifikasie van die Suid-Afrikaanse samelewing te ignoreer sou 'n blindekol in die interpretasie van die data meebring.
    2 Musiek (Marx & Milton 2011; Milton & Marx 2014), letterkunde en film (Visagie 2000, 2002, Ströh 2017), tydskrifte (Brandt & Carstens 2005; Pretorius 2013).
    3 Die gebruik van die "generiese" manlike voornaamwoord is 'n bewuste keuse in hierdie artikel, die dubbelsinnigheid van die vorm word geredelik erken.
    4 Alle genommerde voorbeelde kom uit die WatKykJy? webwerf, en word aangedui deur jaartal en of dit in die hoofteks of leserskommentaar verskyn het.
    5 'n Analise van die data toon ook dat rassistiese terme en selfs rassestereotipering sorgvuldig vermy word deur die skrywers.
    6 Ons erken met dank die bydrae van dr. Roald Eiselen van CTexT, wat die data verpak en die korpus saamgestel het. Die korpus is ook op die VivA-korpusportaal (VivA 2016) beskikbaar, onder die eksklusiewe korpus. Die data is egter nie in jaarperiodes verpak op die VivA-webwerf nie, en daarom is die korpus vir die doel van hierdie studie hersaamgestel.