SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue4-1Language change in the Afrikaans translations of the Gospel of MarkProblems with and after the direct translation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.60 n.4-1 Pretoria Dec. 2020

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a13 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Gesag en solidariteit: Aanspreekvorme en pronominale persoonsverwysings in die Afrikaanse Bybelvertaling van 2020

     

    Authority and solidarity: Forms of address and pronominal personal references in the Afrikaans Bible translation of 2020

     

     

    Ernst F Kützé

    Nelson Mandela-Universiteit, Port Elizabeth, Suid-Afrika. E-pos: ernst.somerstrand@gmail.com

     

     


    OPSOMMING

    Die Bybelvertaling van 2020 neem kennis van die funksionalistiese vertaalmodel van Christiane Nord (1997, 2001) as beoordelingsraamwerk wat die funksie(s) wat dit bedoel is om te vervul, vooropstel. Hierdie funksie, soos verwoord in die vertaalopdrag (skopos) van die opdraggewer, hou in dat die vertaalde teks sowel bronkultuur-georiënteerd as eietyds qua taalgebruik moet wees. 'n Belangrike riglyn is die nosie van 'n "direkte" vertaling, waarvolgens die bronteks nie deur die vertaler geïnterpreteer moet word nie, maar die leser direk aanspreek, as sou die skrywer die teks in die ontvangertaal geskryf het.
    Een terrein wat egter wel 'n mate van interpretasie noodsaak, is die gebruik van tweedepersoonsvoornaamwoorde as aanspreekvorm. Die keuse van so 'n voornaamwoord word dikwels bepaal deur die verhouding tussen die spreker en die aangesprokene, wat in Afrikaans uitgedruk word deur die keuse tussen 'n formele vorm (u) en 'n informele vorm (jy/jou/julle), 'n onderskeid wat nie in die brontale gemaak word nie (vgl. Unseth 2020). In die literatuur word daar na sulke vorme in verskillende tale verwys met behulp van die afkortings V (van die Latyn vos - 'u') en T (Latyn tu - 'jy'). Hierdie artikel fokus dan spesifiek op die keuses wat in Afrikaans gemaak word tussen V en T. Dit is egter nie slegs faktore soos formaliteit of sosiale asimmetrie tussen die spreker en aangesprokene nie, maar ook houdings en emosies wat deur die keuse tussen V en T weerspieël kan word.
    Volgens 'n artikel van Brown en Gilman (2003) dui die aanspreekvariante (V en T) onderskeidelik 'n dinamika van gesag of mag (V) en 'n dinamika van solidariteit (T) aan. Hierdie onderskeid in die vertaling noodsaak 'n transposisie van die historiese werklikheid in die Bybelse brontekste na 'n Afrikaanstalige perspektief. Die artikel illustreer dit aan die hand van bepaalde tekste, bring dit in verband met die wyse waarop tale soos Nederlands, Engels, Duits en Noors dié verhoudings weergee, en tref 'n vergelyking, vanuit taalhistoriese perspektief, tussen die wyse waarop opeenvolgende Afrikaanse Bybelvertalings deur die Bybelgenootskap sulke verwysings hanteer in die Evangelie van Matteus.

    Trefwoorde: aanspreekvorm, Afrikaans, asimmetriese gespreksituasie, Bybelver-taling, dinamiek van mag, direkte vertaling, eerbied, funksionalistiese vertaling, gesag, houding, Nederlands, pragmatiek, solidariteit, T/V-vorme, taalhandeling, voornaamwoord


    ABSTRACT

    THEORETICAL CONTEXT: The Afrikaans Bible translation of 2020 took cognisance of Christiane Nord 's (1997, 2001) functionalistic model of translation, in conjunction with Reiss and Vermeer's (1984) skopos theory. A function of this translation, in addition to the aim of providing an authoritative basis for the faith of its readership, was to ensure that the source text is presented as an authentic representation of the culture(s) in which it originated, as well as being understood clearly by the target readers of today, in due regard of the text genre of the relevant source text (such as narrative, poetry, prophetic enunciations, wisdom literature, genealogical register). This is articulated in the skopos, or translation mandate by the initiator, it is the Bible Society of South Africa.
    This mandate was further informed by Gutt's (1991) notion of a "direct" translation, in that the source text is not interpreted and indirectly reported by the translator as narrator, but addresses the reader directly, as though the author had written the text in the receiving language. The intended function would then be to empower the translated text with the same status and authority as the source text.
    ADDRESS FORMS: One aspect of the translation process does, however, require a degree of interpretation on the linguistic level, namely the use of second person pronouns as a form of address in Afrikaans. The choice of an appropriate pronoun is often determined or influenced by the relation between the speaker and the addressee (which may vary through time), such as the relative social position of the interlocutors, and the style of the dialogue, and can be generalised to a binary distinction between a formal (u) and an informal address form (jy). This choice does not, however, reflect only factors such as formality or social asymmetry between speaker and addressee, as mentioned above, but also attitudes and emotions, such as respect, solidarity or disdain, or even strategies to achieve a particular speech act objective (illocution).
    In the literature (Brown & Gilman 2003), the abbreviations V (from the Latin vos) and T (from tu) have been introduced to refer to such forms in various languages, and are indicative of a dynamic of power (or authority) and a dynamic of solidarity, respectively. The article traces the origin of this distinction from the era of the Holy Roman Empire to the emergence of this phenomenon in the European languages, inluding English and Dutch.
    INITIAL CAPITALS: A further complication is that the Afrikaans translation, following the tradition of the seventeenth-century Dutch Statenvertaling, also utilises an orthographical marker, namely an (intrasentential) initial capital to indicate respect toward the Divinity in appellations of God, as well as in pronouns referring to God as subject or object of a sentence. The source texts do not contain any overt (orthographical) features indicating such reverence, since capitals are not distinguished in Hebrew, and in Greek, only proper nouns are capitalised as a rule. This then amounts to another level of distinction, in particular in relation to addressing Jesus as human being, but at the same time recognising his divine nature.
    APPLICATION: In this article, the application of these criteria is illustrated with reference to a number of selected verses in both the Old and New Testaments in Afrikaans. Secondly, since Afrikaans and Dutch share a history of applying pragmatic criteria in order to indicate such distinctions, a comparison is made between recent translations of relevant verses to determine the similarities and/or differences in address forms. Finally, with reference to the Gospel of Matthew, consecutive translations in Afrikaans from 1895 to 2020 are compared to determine how address forms in this language evolved over time, something which also reflects in a limited way a change in societal traditions.

    Keywords: Afrikaans, asymmetric dyad, attitude, authority, Bible translation, diachronie comparison, direct translation, Dutch, dynamics of power, form of address, functionalistic translation, pragmatics, pronoun, respect, skopos, solidarity, speech act, T/V forms


     

     

    1. INLEIDING

    'n Sentrale probleem waarmee Bybelvertalers oor die wêreld heen te kampe het, is die oorbrugging van verskille tussen die brontale en -kultuur enersyds (dus antieke Hebreeus, Aramees, Grieks) en die doeltaal en doeltaalkultuur van die teikenlesers andersyds. Hierdie verskille is van velerlei aard, en kan onder andere op die volgende vlakke voorkom: bete-kenismatig, woordekwivalensie, grammaties, sosiokultureel, en op die vlak van taalhandelinge. Wanneer die onderskeie bestaande Bybelvertalings in Afrikaans met mekaar vergelyk word, sinchronies (dus gedurende dieselfde tydsgewrig) sowel as diachronies (uit verskillende tydperke), kan verskille ten opsigte van (a) hoe die brontaalteks verstaan word, maar veral ook (b) hoe dieselfde begrip in Afrikaans self vertaal is, op sommige van hierdie vlakke (veral leksikaal) aangetoon word.

    Vanuit 'n vertaalkundige oogpunt kan die aard van die vertaling op grond van ekwivalensie op semanties-leksikale en grammatiese vlak, sonder inagneming van die funksie van die betrokke teks, beskryf word volgens 'n skaal wat strek van 'n sogenaamde interlineêre vertaling tot 'n doeltaalgerigte vertaling. In die geval van 'n konkordante (of interlineêre) vertaling word elke woord of struktuur telkens met dieselfde vertaalekwivalent vertaal, waardeur die semantiese inhoud van elke brontaalitem woord vir woord letterlik in die doeltaal weergegee word. In die geval van 'n doeltaalgerigte vertaling word die bronteks vertaal op grond van 'n "moderne" interpretasie van die bronteks - kortom, deur gebruikmaking van begrippe en leksikale items wat optimaal kennis neem van die leefwereld van die teikenleser. Tussen hierdie twee uiterstes kan verskillende soorte vertalings aangetref word wat verband hou met faktore soos (a) die keuse van die mees betroubare bronteks (aangesien 'n oorspronklike oerteks nie meer bestaan nie), (b) die interpretasie van die teks, dogmaties, semanties of sosiokultureel, en (c) die formulering van die vertaling met inagneming van die teikenlesers in die ontvangertaal.

    By die vertaling van die Bybel 2020 (voortaan DB2020) is daar kennis geneem van die funksionalistiese vertaalmodel van Christiane Nord (1997, 2001), waarvolgens die waarde van elke vertaling van die Bybel beoordeel word in terme van die funksie wat dit bedoel is om te vervul. Hierdie funksie word dan eksplisiet verwoord in die vertaalopdrag deur die inisieerder of opdraggewer, wat saamgevat kan word in die sogenaamde "skopos", dit wil sê die beoogde doel en funksie van die vertaling (Reiss & Vermeer 1984). Volgens die vertaalopdrag van die Bybelgenootskap moet die vertaalde teks enersyds bronkultuur-georiënteerd wees, maar andersyds ook verwoord word in eietydse taal, met inagneming van die teksgenre van die bronteks (onder meer as narratief, poësie, profetiese uitsprake, wysheidsliteratuur, of genealogiese register). In aansluiting hierby is die nosie van 'n "direkte" vertaling van Ernst-August Gutt (1991) as riglyn aanvaar, deurdat die bronteks nie deur die vertaler geïnterpreteer en onregstreeks, as verteller, weergegee word nie, maar (in vertaalde vorm) die leser direk aanspreek, as sou die skrywer die teks in die ontvangertaal geskryf het.1

    Dit beteken dus dat, hoewel die "funksie" van verskillende dele van die Bybel ten opsigte van die individuele teikenleser kan varieer, die vertaalde teks dieselfde status as die bronteks behoort te hê. 'n Meer omvattende funksie, wat die gebruik van die Bybel as grondslag van die geloof van die lesers vooropstel, het betrekking op die praktiese benutting van die vertaalde teks in die liturgie of vir die individuele bestudering daarvan.

    Maar ten slotte handel die vertaling, watter benadering ook al gevolg word, oor die totstandbrenging van 'n ekwivalente teks, en is die verwagting dat daar, hoewel met inagneming van Nord en Gutt se riglyne, wat 'n funksionalistiese vertaling vooropstel, gebly sal word by 'n spieëlbeeld van die bronteks, al is dit in 'n ander taal, wat enige interpretasie deur die vertaler sover moontlik vermy. Waar dit gaan om kwessies soos dubbelsinnigheid of idiomatiese uitdrukkings, of bepaalde sosiokulturele inligting wat 'n duidelike begrip van die bronteks bemoeilik, maak die gebruik van uitvoerige voetnote dit moontlik om die teks toeganklik te maak en "raaisels" in die spieëlbeeld te verklaar.

    Daar is egter een terrein, op taalkundige vlak, wat 'n mate van interpretasie noodsaak, naamlik die gebruik van tweedepersoonsvoornaamwoorde (d.w.s. jy/jou/julle/u) as aanspreekvorm in die sintaktiese posisies van onderwerp, besitsvorm en voorwerp (direk of indirek). Die gebruik van die direkte rede, dit wil sê gesproke kommunikasie teenoor 'n aangesprokene, is iets wat 'n belangrike deel vorm van veral narratiewe tekste en profetiese uitsprake, briewe en ander geskrewe kommunikasie met rolspelers of veronderstelde lesers. Dit impliseer die gebruik van deiktiese voornaamwoorde, dit wil sê voornaamwoorde wat verwys na 'n referent vanuit die oogpunt of posisie van die spreker, ook anafore, wat na voorheen genoemde persoonsantesedente verwys, of soms ook katafore, wat vooruit verwys na postsedente. Die keuse van 'n spesifieke voornaamwoord word dikwels bepaal of beïnvloed deur die verhouding tussen die spreker en die aangesprokene. Omdat sommige tale en kulture hierdie verhouding verwoord (of grammatikaliseer), maar ander weer nie, is dit 'n oorbruggingsprobleem waarmee vertalers uit die brontale van die Bybel te kampe het, en ook in Afrikaans.

     

    2. AANSPREEKVORME

    Terwyl die brontale naamwoorde wat as aanspreekvorm gebruik word, óf as vokatief grammatikaliseer (soos die ε-uitgang in Grieks, bv. in Johannes. 21:16: Ναί, κύριε, σύ οίδας δτι φιλώ σε "Ja, Here, U weet dat ek U liefhet"), óf (in Hebreeus meestal) kontekstueel impliseer (bv. in 2 Konings 2:23: IMAGEMAQUI"Gaan op, kaalkop!" - vergelyk ook Miller 2010), word dit in Afrikaans slegs in sommige gevalle weergegee met behulp van 'n voorafgaande uitroepwoord en 'n uitroepteken, soos in O mens! (Romeine 2:3). Die verhouding tussen die rolspelers by wyse van 'n tweedepersoonsvoornaamwoord word in Afrikaans egter, soos in die meeste ander Germaanse tale, en ook Romaanse en Slawiese tale, uitgedruk deur die keuse tussen 'n formele vorm (u) en 'n informele vorm (jy/jou/julle). In die meeste gevalle word hierdie voornaamwoord as onderwerp, besitsvorm (genitief) of voorwerp gebruik, maar daar is wel etlike voorbeelde in die bronteks waar die voornaamwoord ook as vokatief gebruik word, en wel in Afrikaans so ingespan word, sowel in die enkelvoud as in die meervoud. Twee voorbeelde is "En jy, kom hier, volg my!" (Lukas 18:22 ).2 Die keuse tussen u en jy word bepaal deur verskeie faktore, soos die styl (formeel of informeel) van die dialoog en die relatiewe sosiale posisie van die betrokkenes in die gespreksituasie. In die literatuur word daar onderskeidelik na sulke vorme in verskillende tale verwys met behulp van die afkortings V (van die Latyn vos en Frans vous - 'u') en T (Latyn tu, soos in Frans - 'jy').3 Hierdie artikel fokus dan spesifiek op die keuses wat in Afrikaans gemaak word tussen V en T. Dit is egter nie slegs faktore soos formaliteit of sosiale asimmetrie tussen die spreker en aangesprokene nie, maar ook houdings en emosies, soos eerbied, solidariteit of minagting, of strategieë om 'n taalhandeling (bv. oorreding) te laat slaag, wat deur die keuse tussen V en T weerspieël kan word. (In paragraaf 6 word hierdie onderskeid verder toegelig.)

    In die brontale van die Bybel word so 'n onderskeid nie deur die keuse van 'n voornaamwoord uitgedruk nie,4 en daar moet dus in Afrikaans telkens tussen dié vorme gekies word met inagneming van die pragmatiese implikasies van die keuse. Die verhouding tussen die rolspelers word wel soms in die brontale weergegee by wyse van 'n sydelingse, of derdepersoonsverwysing in 'n naamwoordstuk, soos "u slavin", of "die koning", waardeur daar na die aangesprokene (en ook na die spreker) verwys word, en in sulke gevalle word dit dan ook in die Afrikaans as sodanig vertaal. Trouens, Afrikaans ken ook, veral om familieverband en intimiteit of eerbied uit te druk, die gebruik van verwantskapsbenamings soos "pa", "oom" en "tannie" in die plek van 'n tweedepersoonsvoornaamwoord,5 byvoorbeeld as onderwerp of voorwerp van die werkwoord, asook formele titels soos "meneer" of "mevrou" as teken van formaliteit of eerbied. By die besluit om 'n T-vorm of 'n V-vorm te gebruik, moet die vertaler hom/haar laat lei deur 'n oorweging van 'n aantal veranderlikes (vergelyk tabel 1) wat die betrokke taalhandeling determineer.

     

     

    Die Afrikaanse vertaling maak verder, in navolging van die Nederlandse Statenvertaling, van 'n ortografiese merker gebruik om eerbied teenoor die Godheid te toon, naamlik aanvangshoofletters by benamings van God, sowel as by voornaamwoorde wat na God as onderwerp of voorwerp van 'n sin verwys, onderskeidelik Gij, U, Zich en Uzelven (en ook as besitsvorm Uw). Voorbeelde van sulke voornaamwoorde in Afrikaans is U, Uself, Hy, Hom en Homself, en Ek, My, Myself'wanneer God, ook in die persoon van Jesus, self aan die woord is,6 en selfs in die meervoud (Ons), wanneer daar sprake is daarvan dat God met Homself in gesprek tree, soos in Genesis 1:26; 3:22 en 11:7, asook Jesaja 6:8 en 41:22. In hierdie artikel beperk ek my tot menslike interaksie onderling, asook die wederkerige aanspreek van God en mens. Daar bestaan naamlik beduidende verskille tussen die brontale en Afrikaans wat betref taalkundige meganismes om interpersoonlike verhoudings op hierdie vlak te weerspieël, soos uit die voorafgaande bespreking blyk.

     

    3. WERKSWYSE

    Die volgende werkswyse word hier onder gevolg: Aan die hand van bepaalde tekste word die wyse waarop Afrikaans interpersoonlike verhoudings deur middel van tweedepersoons-voornaamwoorde uitdruk, geïllustreer. Vervolgens word dit in verband gebring met die wyse waarop sommige genealogies verwante tale soos Nederlands, Engels, Duits en Noors dié verhoudings weergee. Laastens word daar vanuit taalhistoriese perspektief 'n vergelyking getref tussen die wyse waarop opeenvolgende Afrikaanse Bybelvertalings sulke verwysings hanteer, met spesifieke verwysing na die Evangelie van Matteus.

    'n Ondersoek na aanspreekvorme, en spesifiek pronominale persoonsverwysings, lê op die kruispunt van verskillende benaderings tot taalstudie:

    (a) Diskoersanalise, deurdat die kommunikatiewe raamwerk van 'n bepaalde uiting kontekstueel aangedui word;

    (b) Taalhandelingsteorie, of pragmatiek, deurdat die kommunikatiewe funksie van die betrokke taalitem in ag geneem word;

    (c) Morfo-semantiek, deurdat die grammatikale betekenis van 'n voornaamwoord (en in die brontale ook die ooreenstemmende werkwoordsuitgang) byvoorbeeld in verband gebring word met die taalhandeling waarvan dit deel vorm;

    (d) Vertaalkunde, deurdat die skopos van die teks waarvan die uitdrukking deel vorm, in ag geneem word; en

    (e) Sosiolinguistiek, deurdat die sosiale konteks waarbinne die betrokke taalvorm gebruik word, 'n belangrike faktor is om die aard van die taalhandeling te verstaan.

     

    4. ONTLEDINGSRAAMWERK

    Nord (2001) se funksionalistiese model stel as vertrekpunt die vraag: "Watter inligting oor die betrokke bronteks is relevant ten opsigte van die vertaling van so 'n teks?" Sy identifiseer dan verskeie tekstuele en buitetekstuele faktore wat sowel betrekking het (a) op die bronteks en die kommunikatiewe konteks waarbinne dit ontstaan het as (b) op die beoogde doelteks en doeltekssituasie (idem: 36). Dit kan weergegee word in die vorm van 'n stel vrae (Walker et al. 1995:109, vergelyk Tabel 1 hier onder) wat op sulke faktore afgestem is. Die vertrekpunt van die vertaalopdrag in die geval van die Bybelvertaling is, soos hier bo aangedui, die weergawe van die leefwereld van die Bybelse wêreld op so 'n wyse dat dit die werklikhede van die tyd waarin dit geskryf is, so outentiek moontlik weergee. In die inleiding tot die betrokke Bybelboek word 'n hele paar van die vrae in die tabel hier onder met betrekking tot die inhoud van die boek in wisselende mate beantwoord, en die inleiding dien dus as bron van inligting hieroor. Die teksaard van die betrokke boek is in baie gevalle ook medebepalend van watter inligting relevant is om die teks funksioneel te vertaal.

    By die vertaling van die Bybelse bronteks is daar, binne die konteks van die geskrif, in die eerste plek 'n outeur (dikwels onbekend) wat vir 'n bepaalde leser of lesersgroep die betrokke teksinhoud op skrif stel, hoewel sommige tekste oor 'n langer tydperk aangevul en moontlik deur verskillende latere outeurs gewysig is. Wat die Ou Testament betref, wat ook deel vorm van die Joodse liturgie, is die doel van die teks om, onder andere, inhoud te gee aan die oorgelewerde tradisies van God se verhouding met die Judese volk, en is die teks afgestem op dit wat deur die skrywer as belangrik beskou is om aan die lesers weer te gee. Vanuit 'n moderne oogpunt is daar, in die lig van die geskiedenis van Israel, en die Nuwe Testamentiese vervulling van profesieë wat uit die Ou Testamentiese voorgeskiedenis dagteken, ook vir elke taal 'n interpreterende lesersgroep, wat op grond van 'n bepaalde eksegese, die inhoud ook as komende van 'n Meesterouteur ervaar. Hierdie lesersgroep, wat nie vanuit die perspektief van die oorspronklike werklike outeurs as teikengroep beskou is nie, sal dan die inhoud in verband bring met die lig wat dit vir die (moderne) leser werp op die vele fasette van die verhouding tussen God en die mens oor al die verskillende teksgenres in die Bybelteks.

    In hierdie artikel val die fokus egter nie op die geestelik-religieuse dimensie van die vertaalde teks nie, maar op bepaalde taalkundige aspekte wat die interpersoonlike verhouding weerspieël, dit wil sê deikties ten opsigte van die kommunikasie tussen spreker/skrywer en hoorder/leser.

     

    5. HOOFLETTERS

    In Afrikaans speel die gebruik van 'n hoofletter by verwysings na persone (behalwe om die begin van 'n sin aan te dui) 'n duidelik onderskeidende rol. Dit dien as merker in die geval van voornaamwoorde en naamwoordelike benamings om erkenning te gee aan die Godheid, ook van Jesus, die Gees van God, en God wat Homself7 in die gedaante van 'n engel aan die mens openbaar (dus "die Engel van die Here").8 In die geval van narratiewe, laat die gebruik van hoofletters by voornaamwoorde in hierdie vertaling ook blyk dat daar uit die vertellersperspektief kennis geneem word van die onderskeid tussen God en die mens. Uit dialoë in die Nuwe Testamentiese teks blyk dit verder duidelik of die goddelikheid en gesag van Jesus as Seun van die Mens erken word. (Hoewel hoofletters in sulke gevalle nie in die Griekse bronteks voorkom nie (vergelyk "die Seun van die Mens" τον υίον του άνθρωπου in Matteus 16:28, en ό υίος του άνθρωπου in Matteus 17:12, asookΛάβετε πνευμα άγιον, 'Ontvang die Heilige Gees', Johannes 20:22), word daar in die vertaling wel by sulke benamings 'n hoofletter gebruik. Uiteraard word sulke hoofletters nie "gehoor" wanneer die betrokke teks slegs mondeling aan hoorders oorgedra word nie.

     

    6. T- EN V-VORME

    Brown en Gilman publiseer in 1960 'n belangwekkende artikel genaamd "Pronouns of Power and Solidarity", waarin hulle die twee vorme by die gebruik van die tweedepersoonsvoornaam-woord (in Engels slegs "you") identifiseer, soos in paragraaf 2 hier bo bespreek: een om 'n dinamika van gesag of mag aan te dui (V), en die ander 'n dinamika van solidariteit (T). Taalgemeenskappe oor die wêreld heen hanteer sosiale en ook situasionele verskille deur middel van sulke vorme op verskillende wyses.9 Die onderskeidelike gebruik van T en V hou verband met verskillende verhoudings tussen gespreksgenote wat gebaseer is op faktore soos ouderdom, sosiale klas, eendersheid/gelykheid, gemeensaamheid, afstandigheid, formaliteit, agting en die uitdrukking van gemoedstemming. Die kompleksiteit van so 'n sisteem is gedemonstreer deur Ervin-Tripp (1986), wat vloeidiagramme opgestel het om die (onbewuste) besluitnemingsproses grafies voor te stel wanneer 'n spreker 'n gespreksgenoot aanspreek in Amerikaanse Engels. Daar is ook reeds vir sinchroniese aanspreeksisteme in Afrikaans sulke diagramme opgestel (vergelyk Odendal 1976 en Kotzé 1981, 1989, 1992), maar die gesprek-situasies wat in die Bybelse brontekste vertaal is, vereis 'n transposisie van die historiese werklikheid na 'n Afrikaanstalige perspektief. Dit beteken dat elke situasie pragmaties vanuit die hedendaagse Afrikaanse gebruik van voornaamwoorde geïnterpreteer moes word.

     

    7. AGTERGROND

    Die oorsprong van die meervoudige voornaamwoord om 'n enkele persoon aan te spreek, word deur Brown & Gilman (1960:254) teruggevoer na Latyn (vgl. ook Katrynski 2020). Hulle beweer naamlik dat die gebruik van vos om die keiser aan te spreek, gespruit het uit die politieke feit dat daar twee keisers gelyktydig aan bewind was, iets wat deur die meervoudsvorm uitgedruk is. Nadat Konstantyn die Grote (die eerste Christelike keiser) 'n tweede hoofstad gevestig het in Bisantium, wat hy herdoop het tot Konstantinopel, was daar vir die grootste deel van die tydperk 286 tot 480 meer as een senior keiser, veral ná die dood van Theodosius I in 395 (vgl. Ohnsorge 1947). Geografies is daar onderskei tussen die Oostelike en Westelike Romeinse Keiserryk, met 'n keiser in elk van die twee hoofstede, hoewel die keiserryk 'n enkele politieke entiteit gebly het. (Vanaf 409-411 was daar selfs twee medekeisers in Rome, naamlik Konstantyn III en Konstans II, terwyl Theodosius II keiser was in Konstantinopel).

    Benewens die feit dat hierdie V-aanspreekvorm aanvanklik geassosieer is met 'n magheb-ber (dus iemand met 'n hoër gesag), en bekend geraak het as die sogenaamde pluralis reverentiae, het dié gesagsfigure ook die meervoud as eerstepersoonsvoornaamwoord gebruik (nos), en sodoende die sogenaamde pluralis maiestatis gevestig (Freedman 2007:2). Volgens Finkenstaedt (1963:25) was daar al egter voor die verdeling in die Romeinse Ryk koninklikes wat nos (die meervoudsvorm) gebruik het om na hulleself as individue te verwys, wat die V-vorm (dus vos) deur die ondergeskiktes teenoor die koninklike tot gevolg gehad het. Mettertyd het hierdie gebruik ook in ander Europese tale posgevat, selfs lank ná die ineenstorting van die Romeinse Ryk, en met name ook in Frankryk.

    Ná die Normandiese inval in Engeland het dit ook in Engels gebruiklik geraak, en teen die 13 de eeu is die vorme you (asook die objeksvorm ye) teenoor individue gebruik om hoflikheid en formaliteit weer te gee (vgl. Hedvall 2008). Op hierdie stadium was thou en you gelykwaardig aan die Franse tu en vous. Die gemeensame vorm thou (asook die objeks- en besitsvorme thee, thyself, thy, thine) is gebruik om sosiale minderes aan te spreek, of om vriendskap en saamhorigheid uit te druk. In Shakespeariaanse Engels is die wisseling tussen hierdie twee vorme dikwels ingespan om sosiale verskille te beklemtoon. Aan die ander kant het sprekers God ook aangespreek as Thou (ortografies dus met behulp van die hoofletter onderskei), as teken van 'n spirituele innigheid tussen die gelowige en die Godheid. Mettertyd, met die oorgang na Moderne Engels, het die gebruik van you ook tussen sosiaal gelykwaardiges posgevat (aanvanklik eers tussen lede van die hoër klasse), iets wat waarskynlik deur die verdwyning van die feodale stelsel mettertyd verhaas is. Die King James-vertaling van die Bybel (1611) gebruik thou en you as enkelvouds- en meervoudsvoornaamwoorde, wat die oorspronklike funksies van die twee vorme weerspieël, sonder om die betekenisnuanses wat in vroeë Moderne Engels gegeld het, in ag te meen. Dit sou dus reeds vir baie lesers in die 17de eeu 'n argaïese indruk gemaak het (hoewel dit nog voorkom in Britse dialekte, bv. by Yorkshire in Noord-Engeland, asook Skots), en in hedendaagse vertalings word daar vir die pronominale tweede persoon geen onderskeid gemaak tussen enkelvoud en meervoud, of tussen T en V nie.

    In Duits, soos in Noord-Germaanse tale (bv. Noors), asook in die Romaanse tale, soos Spaans en Italiaans, word die persone van die Drie-Eenheid (en ook die heiliges) aangespreek met T, in ooreenstemming met die gebruik in die brontale, en word as sodanig ook in die Bybelvertalings weergegee. Die pragmatiese waarde van T hang in dié tale af van die gebruikskonteks, sodat T in die religieuse konteks nie as oneerbiedig ervaar word nie.

    In Nederlands het die tweedepersoonsaanspreekvorme in opeenvolgende vertalings 'n veranderingsproses ondergaan. Terwyl die Statenvertaling slegs tussen enkelvoud en meervoud onderskei (gij teenoor gijlieden), en ook 'n hoofletter gebruik by goddelike aanspreekvorme, het die onderskeid tussen enkelvoud en meervoud in die nuwe Nederlandse vertaling van 1951 (NBG1951)10 verval (gij/u vir beide jy/jou en julle), en Gij/U van die Statenvertaling word deur Uas sowel onderwerp én voorwerp vervang. Die Nieuwe Bijbelvertaling van 2004 (NBV) stem in meer opsigte ooreen met die jongste Afrikaanse vertaling as enige van die vooraf-gaandes, soos uit die tabel hier onder blyk, behalwe dat geen hoofletters in die 2004-vertaling gebruik word nie:

     

     

    8. TOEPASSING OP AFRIKAANS: T/V-KONTEKSTE IN DIE BYBEL

    Enkele voorbeelde van verskillende gesprekskontekste waar 'n keuse tussen T en V in DB2020 gemaak word, illustreer die onderliggende motivering vir die gebruik vanjy, u en U (vergelyk Van der Spuy 2010:162):

    Wanneer God die mens in die Tuin van Eden aanspreek, en omgekeerd, toon die voornaamwoorde 'n asimmetriese verhouding, waarin God die mens as sy skepsel aanspreek, en laasgenoemde die gesag van God erken - in die teks ook deur die gebruik van 'n hoofletter.

    Genesis 3:9 Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: "Waar is jy?" 10 Hy het geantwoord: "Ek het U in die tuin hoor beweeg..."

    In Rut kom 'n gesprek voor wat vergelykbaar is met 'n hedendaagse situasie, maar 'n ander asimmetriese verhouding behels as dié in Genesis 3. Dit handel hier naamlik om die verhouding tussen 'n werkgewer (Boas) en sy werknemers (die snyers op die land), en word insgelyks weerspieël in die T-V-afwisseling:

    Rut 2:4 Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. "Die Here is met julle!" groet hy toe die snyers. "Die Here seën u," antwoord hulle hom.

    In die Nuwe Testament is dit veral gespreksituasies waarin Jesus betrokke is wat V-gebruik in Afrikaans meebring. Wanneer 'n groep volgelinge Hom in die openbaar as "Rabbi" aanspreek (d.w.s. 'n leermeester van die Skrif), word hulle respekbetoning en erkenning van sy goddelikheid deur die vertaling van Johannes 1: 38 weerspieël:

    Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: "Wat wil julle hê?" En hulle het Hom geantwoord: "Rabbi" - wat, as dit vertaal word, beteken, 'Meester' - "waar bly U?

    In Johannes 3:2 en 10 spreek Nikodemus, 'n wetsgeleerde en vooraanstaande lid van die Sanhedrin, Jesus ook met respek aan, in die privaat, hoewel daar uit die gebruik van die kleinletter (u) veronderstel word dat hy nog onbewus is van die goddelikheid van hierdie rabbi:

    Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: "Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie."

    Hierdie agting blyk ook uit die wyse waarop Pilatus, die prokurator, Jesus aanspreek tydens die hofsaak voor hom. Hoewel die aanklag van heiligskennis vry ernstig is, het hy Jesus nie as misdadiger aangespreek nie (soos dit later blyk uit sy beoordeling van die getuienis in Matteus 27:18, en moontlik na aanleiding van sy vrou se boodskap oor Jesus in v. 19), terwyl Jesus die prokurator uit agting vir sy amp ook met V aanspreek:

    Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: "Is u die koning van die Jode?" Jesus sê toe: "U sê dit."

    In die intieme groep van Jesus se dissipels bly die aanspreekvorm teenoor hom V, soos blyk uit die vertaling van Johannes 13: 26:

    Simon Petrus vra Hom toe: "Here, waarheen gaan U?" Jesus het hom geantwoord: "Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy volg."

    Ook 'n Romeinse offisier erken die bonatuurlike mag van Jesus deur Hom nederig as "Here" aan te spreek, en om die genesing van sy slaaf te vra in Matteus 8:8:

    Die centurio het geantwoord: "Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word."

    Hierdie voorbeelde illustreer net enkele moontlike kontekste, en die spektrum van inter-persoonlike kommunikasie is uiteraard veel komplekser wanneer die Bybel as geheel oorskou word. In die volgende paragraaf word 'n meer verteenwoordigende seleksie van tekste gebruik om aan te toon hoe T-V-gebruik in Afrikaans vergelyk kan word met dié van verskillende vertalings in Nederlands. 'n Vergelyking met resente vertalings van dié tekste in Engels, Duits en Noors laat blyk dat daar geen T-V-onderskeid in Engels geld nie (soos vroeër gemeld), terwyl Duits (Luther-Bybel 1984) ook deurgaans die T-paradigma (du) gebruik, sonder eerbiedshoofletter ten opsigte van die Godheid (Matteus 8:8):

    Der Hauptmann antwortete und sprach: Herr, ich bin nicht wert, dass du unter mein Dach gehst.

    Dit geld ook die jongste Noorse Bokmäl-vertaling (2011):

    Offiseren svarte: "Herre, jeg er ikke verdig til at du kommer inn under mitt tak."

     

    9. VERGELYKING VAN BEPAALDE TEKSTE

    Die tekste wat hier onder bespreek word, kom uit die mees resente vertalings (ten tye van hierdie publikasie) in onderskeidelik Nederlands en Afrikaans, naamlik die Nieuwe Bijbelvertaling (NBV) en die 2020-vertaling van die Bybel (DB2020).

    9.1 Aanspreekvorme in familieverband

    Op familiale vlak is die hiërargiese ordening ten opsigte van senioriteit of ouderdomsverskille deurslaggewend vir die keuse tussen T en V. Die Moabitiese skoondogter van Naomi spreek haar met respek aan in hierdie poëtiese passasie (Rut 1:16):

     

     

    'n Alternatiewe wyse om respek te betoon in gesinsverband is die sydelingse aanspreekvorm, waar Afrikaans duidelik van (moderne) Nederlands verskil. In die gelykenis van die verlore seun verwyt die oudste seun sy vader wel in Lukas 15:29, maar betoon respek deur die vervanging van die tweedepersoonsvoornaamwoord deur "pa":

     

     

    Ook in die Deuterokanonieke boeke, in die boek Tobit (5:1), kom hierdie aanspreekvorm na vore wanneer Tobit sy seun Tobias opdrag gee om na Medië te vertrek, en Tobias hom soos volg antwoord:

     

     

    In die Nuwe Testament, wanneer Jesus deur Johannes gedoop word, word die stem van God die Vader gehoor. Hy spreek sy Seun Jesus met T aan, maar in die Afrikaans (Markus 1:11) word sy goddelikheid erken deur die gebruik van die eerbiedshoofletter in die aanspreekvorm:

     

     

    9.2 Aanspreekvorme tussen rolspelers in die gemeenskap

    In paragraaf 8 hier bo is die asimmetriese verhouding tussen Boas en sy werknemers geïllustreer met verwysing na Rut 2:4. Hieruit blyk ook die houding teenoor die aangesprokene(s) in die vorm van die tweedepersoonsvoornaamwoord, enersyds gemoedelikheid (T), en andersyds eerbied (V). Dit word in hierdie teks ook in die Nederlands so geïnterpreteer:

     

     

    Wanneer die hartseer Hanna na die tempel opgaan om te bid om 'n seun, en die priester Eli haar lang gebed as die gebrabbel van 'n dronk vrou misverstaan, antwoord sy met eerbied, terwyl Eli haar (in die Afrikaans) met T aanspreek, maar ook met begrip (1 Samuel 1:16):

     

     

    9.3 Beklemtoning van magsoorwig

    In die geval van 'n asimmetriese magsverhouding (waar 'n mindere in gesprek is met 'n meerdere) kan dit gebeur dat hierdie verskil beklemtoon word deur die gebruik van onderskeidelik V en T. In 2 Konings 18:26-27 verwoord die rabsakee (die woordvoerder van die Assiriese koning) die eis tot oorgawe teenoor lede van koning Hiskia se hofhouding, ten aanhore van Judese soldate op die stadsmuur, terwyl die Assiriese soldate stelling ingeneem het buite Jerusalem. Wanneer die amptenare van Hiskia hom versoek om liewer Aramees te praat, sodat die Judese soldate die gesprek nie kan verstaan nie, beklemtoon die rabsakee sy magsoorwig deur die amptenare met T aan te spreek, terwyl Eljakim en sy kollegas met V reageer. Hierdie onderskeid word nie in die Nederlands weerspieël nie.

     

     

    9.4 Verandering in magsverhouding

    In etlike gevalle vind daar in die narratiewe van gebeure 'n magsverskuiwing plaas. In 1 Konings 20:3 behoort die oormag oor Agab, koning van Israel, aan Ben-Hadad, koning van Aram. Wanneer Ben-Hadad sy eise aan Agab stel, kruip Agab voor hom, en beantwoord T met V:

     

     

    Ná die slag van Afek is die bordjies egter verhang, en het Agab die oorhand gekry. Deur 'n slinkse maneuver slaag Ben-Hadad daarin om met sy lewe daarvan af te kom, en beïnvloed Agab om met hom 'n ooreenkoms aan te gaan. In 1 Konings 20:34 word hierdie magsverskui-wing ook (in die Afrikaans) weerspieël deur die gebruik van 'n wederkerige T teenoor Ben-Hadad:

     

     

    9.5 Houdings teenoor Jesus

    In die Nuwe Testament word die houding van individue wie se paaie met dié van Jesus kruis, ook in die Afrikaanse keuse van aanspreekvorme weergegee. Wanneer die versoeker (Satan) Jesus in Lukas 4:3 aanspreek, word dit vertaal met V, maar nie met 'n eerbiedshoofletter nie.

     

     

    Daarenteen word die erkenning van die goddelikheid van Jesus deur Bartimeus, die blinde, in die aanspreekvorm as V met eerbiedshoofletter in Markus 10:47 vertaal:

     

     

    Waar Jesus in die sinagoge op Kapernaum deur die demoonbesetene aangespreek word (Lukas 4:34), word hierdie erkenning wel in die Afrikaanse keuse van voornaamwoorde weerspieël, maar nie in die Nederlands nie. Dit dui op 'n verskil in die interpretasie van die houding van die demoon teenoor Jesus, al is daar sprake van erkenning as "de heilige van God":

     

     

    In Markus 12:14 gee die Fariseërs wel erkenning aan Jesus as rabbi, maar in die vertaling word geen eerbiedshoofletter gebruik nie:

     

     

    Nadat die houding van die skrifkenners (in geselskap van die leierpriesters en familiehoofde) teenoor Jesus versuur het, verander die aanspreekvorm in Afrikaans egter na T (Markus 11:27):

     

     

    Hierdie aanspreekvorm word deur die godsdienstige leierskap, in die persoon van die hoëpriester Kajafas, voortgesit wanneer Jesus voor die Sanhedrin verskyn om op die aanklagte teen Hom tereg te staan (Markus 14:60):

     

     

    Omdat die Jode nie die wetlike mag gehad het om 'n vonnis oor Jesus uit te spreek nie, word Hy na Pilatus, die prokurator, geneem (Markus 15:2). Sy houding teenoor die gevangene is anders as dié van die hoëpriester, en hy spreek Hom formeel aan met V:

     

     

    Wanneer die soldate en die skare die veroordeelde Jesus treiter (Lukas 23:39), gebruik hulle 'n gemaak-eerbiedige aanspreekvorm om met sy aanspraak op koningskap die draak te steek:

     

     

    Aan die kruis spreek die eerste misdadiger Hom met T aan (Lukas 23:39), met 'n wrang sarkasme:

     

     

    Die tweede misdadiger verootmoedig hom egter, en erken die koningskap van Jesus (Lukas 23:42). In die Afrikaans sinjaleer die eerbiedshoofletter ook erkenning van sy Godheid:

     

     

    Uit 'n vergelyking tussen die twee vertalings is daar aanduidings dat die tweedepersoonsvorme in beide tale in mindere of meerdere mate die interpersoonlike verhoudings tussen die twee partye weerspieël. In DB2020 word sulke verhoudings egter meer genuanseerd gereflekteer, byvoorbeeld met inagneming van die spesifieke taalhandeling wat plaasvind, en ook (vanuit die vertalersperspektief) die erkenning of nie van die Godheid van Christus.

     

    10. TAALHISTORIESE VERGELYKING TEN OPSIGTE VAN TEKSTE IN MATTEUS

    Reeds vanaf die vroegste vertalings was dit duidelik dat die vertalers bewus was van pragmatiese verskille in die Afrikaanse aanspreekvorm wat op die enkele tweedepersoonsvorm in die Grieks (in die geval van Matteus) gebaseer moes word. Voinov 2002:211 merk hieroor op:

    It must, however, be admitted that social distinctions are not overtly marked in the Greek text everywhere. Because of this, the interpretative decision is more difficult in some cases than in others.

    In hierdie afdeling word daar aan die hand van vyf opeenvolgende vertalings uit Matteus (die tekste in aanhegsel A) 'n vergelyking getref van die keuses wat uitgeoefen is in die geval van tien gekose tekste (vgl. ook Conradie 2020 in hierdie bundel). Die vertalings is die volgende:

    Die SJ du Toit-vertaling van 1895

    Die proefvertaling van 1922

    Die vertaling van 1933 (wat tot 1953 heruitgegee is)

    Die 1983-vertaling

    Die 2020-vertaling

    Die tekste wat gekies is, verteenwoordig gespreksituasies waarby Jesus betrokke is - behalwe die enkele mens-tot-mens-interaksie uit die gelykenis oor vergifnis, waar die slaaf in gesprek is met sy eienaar, en weer met 'n medeslaaf. In elke geval is daar deur verskillende vertalers 'n ekwivalent gebruik wat ooreenstem met die interpretasie van die verhouding tussen die sprekers en aangesprokenes.

    10.1 Menslike gespreksgenote

    'n Slaaf in die gelykenis, wie se skuld deur sy eienaar afgeskryf is (18:26), spreek die eienaar in die eerste vertaling aan metjy, maar in die daaropvolgende vertalings is u die keuse.

     

     

    Wanneer die slaaf sy medeslaaf, wat hom 100 denarius geskuld het, aan die keel gryp en dreig (18:28-29), word die wederkerige T (jy/jou) deurgaans in al die vertalings gebruik.

    10.2 Jesus as spreker en/of aangesprokene

    10.2.1 Johannes die Doper

    In 3:14 spreek Johannes die Doper, wat bewus is van wie Jesus is, Hom aan met U wanneer Jesus na hom kom om gedoop te word. Dit is een situasie wat in alle vertalings onproblematies is, en waarin die hoofletter-U deurgaans gebruik word.

    10.2.2 Satan

    In 4:3 spreek die versoeker (Satan) Jesus aan tydens die versoeking in die woestyn. Die keuse van aanspreekvorm wissel van jy tot U tot u, soos aangedui in die tabel hiernaas. Uit hierdie wisseling blyk dit duidelik dat die houding van Satan teenoor die Seun van die Mens moeilik te interpreteer is, en dat daar in die jongste vertaling 'n middeweg gekies is tussen erkenning van die Godheid en die menslikheid van Jesus.

     

     

    10.2.3 Skrifkenners en Fariseërs

    Wanneer die skrifkenners en Fariseërs Jesus aanspreek (12:38), is die keuse telkens V, maar word die eerbiedshoofletter afwisselend gebruik. In die 2020-vertaling word daar byvoorbeeld daarvan uitgegaan dat hulle nie die goddelikheid van Jesus erken nie, en word die kleinletter-u gebruik. (Die oorwegings wat gegeld het by die ander vertalings is uiteraard nie agterhaalbaar nie.)

     

     

    10.2.4 Moeder van Jakobus en Johannes

    In hoofstuk 20:21 is Jesus in gesprek met die moeder van Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Wanneer sy Hom nader, spreek Hy haar aan met T (maar die 1983-vertaling kies V, waarskynlik as hoflikheidsvorm); en sy antwoord dan met V as eerbiedsvorm. In die eerste twee vertalings word die besitlike voornaamwoord in haar versoek aan Hom nog met 'n hoofletter geskryf, naamlik Uw (1895) en U (1922), in navolging van die Statenvertaling, maar daarna word die tradisie gevestig om die kleinletterweergawe (u) vir die besitlike voornaamwoord te gebruik. In die 1983-vertaling word die persoonlike voornaamwoord U egter gebruik.

     

     

    Wanneer Jesus voor die Sanhedrin verskyn, waar die skrifkenners en familiehoofde byeengekom het (26:62), spreek Kajafas Hom aan met T in die eerste vertaling. In die daaropvolgende twee vertalings is daar egter besluit op V, met die eerbiedshoofletter, waarna die jongste twee vertalings terugkeer na jy/jou. Dit dui daarop dat die onderlinge verhouding tussen die kerkowerheid en 'n eerbiedwaardige aangeklaagde verskillend geïnterpreteer kan word en is.

     

     

    Jesus reageer op Kajafas se eis om 'n antwoord, en spreek dan die lede van die Sanhedrin toe (26:64). Terwyl die 1895-vertaling in beide gevalle die T-vorm kies, en die 1953-vertaling weer V (teenoor die Sanhedrin die meervoudsvorm u almal), onderskei die 1922-, 1983- en 2020-vertalings tussen die aanspreekvorm teenoor Kajafas (V) en die Sanhedrin (T):

     

     

    10.2.6 Skrifkenners en familiehoofde

    Volgens 26:67 word Jesus ná die verskyning voor Kajafas deur die lede van die Sanhedrin aangerand en word daar met Hom die spot gedryf. Taalpragmaties word die situasie gekompliseer deurdat hulle enersyds geen eerbied teenoor Hom openbaar nie, maar Hom andersyds met geveinsde agting as profeet aanspreek. Hierdie skynbare teenstrydigheid word weerspieël deur die verskillende vertalings van die aanspreekvorm: Terwyl die 1895- en 1983-vertalings T kies, word V deur die 1922- en 1953-vertalings gebruik (met eerbieds-hoofletter). Die 2020-vertaling gebruik wel V, maar sonder hoofletter, en druk daarmee die gemaakte agting teenoor 'n profeet uit (vergelyk ook 9.5 hier bo):

     

     

    10.2.7 Pontius Pilatus

    Die verskyning van Jesus voor die prokurator (27:11) word ook gekenmerk deur verskillende interpretasies van die wedersydse aanspreekvorme. Die 1895-vertaling gebruik 'n wederkerige T,12 terwyl die volgende twee vertalings 'n wederkerige V verkies (met die onderskeid dat die vertalers deur middel van die eerbiedshoofletter die V-vorm teenoor Jesus markeer). Die 1983-vertaling verskil van die 2020-vertaling daarin dat die aanspreekvorme in eersgenoemde niewederkerig is - Pilatus spreek Jesus aan met jy, en Jesus spreek hom formeel aan met u - terwyl die gespreksgenote in die 2020-vertaling mekaar op dieselfde vlak aanspreek.

     

     

    10.2.8 Verbygangers

    Wanneer die verbygangers by die kruis Jesus aanspreek (27:39), word die houding teenoor Hom, dié van minagting en hoon, aangedui deur die T-aanspreekvorm in al die vertalings behalwe dié van 1953, wat vanuit die vertalersperspektief ten opsigte van die betrokke teks, V wel met hoofletter gebruik. Wat ook opval, is dat die 1922-vertaling, waarskynlik as 'n kompromie tussen die houding van die verbygangers en die perspektief van die vertaler, die T-vorme met 'n hoofletter skryf.13

     

     

    11. GEVOLGTREKKINGS

    In 'n direkte vertaling van die brontekste word die inhoud van dié tekste, volgens die vertaalopdrag van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, sonder aanpassing by moderne fisiese en sosiale kontekste weergegee. Hoewel die sosiale werklikhede van Bybelse tye vir moderne lesers grotendeels verstaanbaar is, blyk dit dat die sosiolinguistiese verskille wat betref interpersoonlike kommunikasie, in Afrikaans meer genuanseerd as in die brontale verwoord word, spesifiek wat betref pronominale vorme tussen spreker en hoorder. Dit het meegebring dat sulke interpersoonlike taalhandelinge wel talig geïnterpreteer en by moderne Afrikaanse gebruike aangepas word.

    Voornaamwoorde wat die dinamika van gesag en solidariteit uitdruk (V en T), kom in talle doeltale voor waarin die Bybel vertaal word, en Afrikaans is geen uitsondering nie. Die wyse waarop dit neerslag vind in die pronominale sisteem, verskil nie slegs tussen brontaal en doeltaal nie, maar ook tussen doeltale onderling. Hierdie artikel doen verslag van 'n ondersoek na die wyse waarop (a) die Afrikaanse sisteem funksioneer en van genealogies verwante tale verskil, en (b) die vertaling van aanspreekvorme oor die verloop van 'n eeu en 'n kwart verander het.

    In verwante tale soos Duits en Noors (asook in die Romaanse tale) word die T-vorm wedersyds as verstekvorm gekies, ook in asimmetriese gespreksituasies, byvoorbeeld tussen God en mens. In Afrikaans en Nederlands, egter, word daar onderskei tussen die omstandighede waarin V en T onderskeidelik gebruik word: In asimmetriese situasies word die meerdere met V aangespreek, en die mindere met T. In beide tale het daar met verloop vanjare (en uitgawes) variante van beide vorme voorgekom, maar in die jongste vertalings korreleer die gesprekskonteks grotendeels met die gekose vorm, hoewel faktore soos eerbied en formaliteit soms verskillend geïnterpreteer word (vergelyk Markus 11:27 en Lukas 4:34). Afrikaans het egter een historiese eienskap van die Statenvertaling behou, naamlik die gebruik van die eerbiedshoofletter (U), terwyl dit in Nederlands verval het. Daarby is 'n faktor soos die erkenning van die goddelikheid van Jesus ook (volgens die interpretasie van die vertaler) in bepaalde kontekste in Afrikaans, anders as in Nederlands, verdiskonteer deur die gebruik van die hoofletter (Lukas 23:42).

    'n Vergelyking van die Afrikaanse vertalings vanaf 1895 tot 2020 toon laastens dat daar aansienlike wisseling was tussen sowel V en T en die gebruik of nie van die eerbiedshoofletter, en dat die invloed van die Statenvertaling op verskillende stadia sterker was as aanvanklik.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Vertalings

    Afrikaans

    1895. Di Evangeli vollensMattéus. S.J. du Toit. Paarl: DF du Toit.

    1922. Die Vier Evangelie en die Psalme. Kaapstad: Brits en Buitenlands Bybelgenootskap.

    1933-53. Die Bybel. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.

    1983. Die Bybel. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

    2020. Die Bybel. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

    Duits

    2017. Lutherbibel. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.

    Engels

    2011. New International Version. London: Stodder & Houghton.

    Nederlands

    1951. Bijbel in de Nieuwe vertaling. Haarlem: Nederlands Bijbelgenootschap.

    2004. Nieuwe vertaling. Haarlem: Nederlands Bijbelgenootschap.

    Noors

    2011. Bibelen.Oslo: Det Norsk Bibelselskap

    VERWYSINGS

    Bratt Paulston, Christina & G Richard Tucker (eds). 2003. Sociolinguistics: The essential readings. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

    Brown, Roger & Albert Gilman. 1960. The Pronouns of Power and Solidarity, in Sebeok (ed.), pp. 253276.         [ Links ]

    Brown, Roger & Albert Gilman. 2003. Pronouns of power and solidarity. In Bratt Paulston & Tucker (eds), pp. 156-76.         [ Links ]

    Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 2010. Vertaalopdrag - Afrikaanse Bybelvertaling.         [ Links ]

    Conradie, C. Jac. 2020. Taalverandering in die Afrikaanse vertalings van die Evangelie van Markus.. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 60(4-1):1047-1065.         [ Links ]

    De Klerk, G.A. & F.A. Ponelis (reds.). 1976. Gedenkbundel HJJM van derMerwe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Ervin-Tripp, Susan. 1986. On Sociolinguistic Rules: Alternation and Co-occurrence. In: Gumperz, John & Dell Hymes (eds.), pp. 213-250.         [ Links ]

    Finkenstaedt, Thomas. 1963. You und Thou. Studien zur Anrede im Englischen (mit einem Exkurs über die Anrede im Deutschen). Berlyn: Walter de Gruyter.         [ Links ]

    Freedman, Penelope. 2007. Power and Passion in Shakespeare 's Pronouns. Interrogating "you" and "thou". Cornwall: Ashgate.         [ Links ]

    Gumperz, John & Dell Hymes (eds). 1986. Directions in Sociolinguistics - The Ethnography of Communication. New York: Blackwell.         [ Links ]

    Gutt, Ernst-August. 1991. Translation and relevance. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

    Hedvall, Eila. 2008. Thou, Thee, Thy, Thine, ye, you, your, yours: second person pronouns in two Bible translations (C-essay). Jonköping Universiteit, http://www.diva-portal.org/smash/get/diva2:3508/FULLTEXT01.pdf        [ Links ]

    Katrynski, Olaf. T-V distinction, 25/06/2020: https://sites.google.com/site/tvdistinction/        [ Links ]

    Kotzé, Ernst F. 1989. Address rituals as heuristics of social structure, PerLinguam 5(2):73-82.         [ Links ]

    Kotzé, Ernst F. 1981. 'n Aanspreeksisteem vir Maleier-Afrikaans, Taalfasette: Nuwe Reeks 1(1):17-25.         [ Links ]

    Kotzé, Ernst F. 1992. Les rites du premier contact comme heuristique de la structure sociale: le cas du maléo-afrikaans, Etudes Creoles XV(1):171-178.         [ Links ]

    Miller, Cynthia L. 2010. Definiteness and the vocative in Hebrew. Journal of Northwest Semitic Languages 36(1) (2010):43-64.         [ Links ]

    Nida, Eugene. 2000. Principles of correspondence. In Venuti & Baker, pp. 136-341.         [ Links ]

    Nord, Christiane. 1991. Text analysis in translation. Theory, method, and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. Translated from the German by Christiane Nord and Penelope Sparrow. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

    Nord, Christiane. 1997. Translating as a Purposeful Activity: Functionalist Approaches Explained. Manchester: St Jerome Publishing.         [ Links ]

    Nord, Christiane. 2001. 'Loyalty revisited: Bible translation as a case in point'. The Translator, 7(2):185-202.         [ Links ]

    Odendal, F.F. 1976. Oor die aanspreekvorme in Afrikaans. In De Klerk & Ponelis, pp. 105-113.         [ Links ]

    Ohnsorge, Werner. 1947. Das Zweikaiserproblem im früheren Mittelalter. Die Bedeutung des byzantinischen Reiches für die Entwicklung der Staatsidee in Europa. Hildesheim: A Lax.         [ Links ]

    Reiss, Katharina & Hans Vermeer. 1984. Grundlegung einer allgemeinen Translationstheorie. Tübingen: Niemeyer.         [ Links ]

    Sebeok, T.A. (ed.). 1960. Style in Language, Boston: MIT Press.         [ Links ]

    Unseth, Peter. A False Claim of Translation Quality: Deliberately Omitting Polite Morphology, 25/06/2020: https://www.diu.edu/documents/gialens/Vol5-2/Unseth_politeness.pdf        [ Links ]

    Van der Spuy, R. 2010. "Showing respect" in Bible Translation. Acta Theologica, 30:158-73.         [ Links ]

    Venuti, Lawrence (ed.). & Mona Baker (adv. ed.). 2000. The Translation Studies Reader. London: Routledge.         [ Links ]

    Vermeer, Hans J. 2000. Skopos and commission in translational action. In Venuti & Baker (2000:227238).         [ Links ]

    Voinov, Vitaly. 2002. Pronominal theology in translating the Gospels. The Bible Translator, 53:210-18.         [ Links ]

    Walker, A.K., A. Kruger and I.C. Andrews. 1995. Translation as transformation: a process of linguistic and cultural adaptation. South African Journal of Linguistics, Supplement 26:99-116.         [ Links ]

    BYLAE TEKSTE UIT MATTEUS

    Legende: SJdT - SJ du Toit 1895

    PV22 - Proefvertaling 1922

    AFR53 - Afrikaanse vertaling 1933/53

    AFR83 - Afrikaanse vertaling 1983/92

    AFR2020 - Afrikaanse vertaling 2020

    Vers(e) Vert Teks

    3:14 SJdT Mar Johannes hou hom teen, en sê: "Ek het nodig om van U gedoop te worde en kom U na my toe?"

    PV22 dog Johannes weier Hem sterk en sê: dit is vir my nodig om deur U gedoop te word en kom U na my toe?

    AFR53 Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?

    AFR83 Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: "Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?"

    DB2020 Maar Johannes het Hom probeer teengaan met die woorde: "Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?"

    4:3 SJdT En di Versoeker kom na Hom toe, en sê: "As jy die Seun van God is, sê dan, dat di klippe moet brode worde."

    PV22 En die versoeker kom na Hem toe en sê: As U Gods Soon is, sê dat hierdie klippe brode word!

    AFR53 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.

    AFR83 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word."

    DB2020 Toe het die versoeker nader gekom en vir Hom gesê: "As u die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word."

    12:38 SJdT Toen gé enige van di Skrifgeleerde en Fariseers ver Hom antwoord en sê: "Meester! ons wil graag van U 'n téken siin."

    PV22 Toe antwoord sommige van die Skrifgeleerdes en Fariseë en sê: Meester! ons wil van u graag 'n teken sien!

    AFR53 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag 'n teken van U sien.

    AFR83 Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: "Meneer, ons wil n wonderteken van u sien."

    DB2020 Toe het sommige van die skrifkenners en Fariseërs gereageer en gesê: "Meester, ons wil graag n teken van u sien."

    18:28-29 SJdT Mar toen di slaaf weggegaan was, kry hy een van syn méde-slawe, wat ver hom 100 skuld, en hy gryp hom an di keel en sê: 'Betaal wat jy ver my skuld!' - En syn méde-slaaf val neer en smeek ver hom, en sê: 'Wees tog lankmoedig met my, en ek sal ver jou betaal!'

    PV22 Maar dieselfde dienskneg gaan uit en vind een van sy medediensknegte, wat hom honderd penninge skuldig was, en hy vat hom beet, gryp hom by die keel en sê: Betaal my, wat jy skuldig is! - Sy mededienskneg val toe neer aan sy voete bid hom en sê: Wees lankmoedig oor my en ek sal u alles betaal!

    AFR53 Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal.

    Vers(e) Vert Teks

    AFR83 "Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: 'Betaal wat jy skuld!' Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: 'Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.'

    DB2020 Maar toe daardie slaaf uitgaan, het hy een van sy medeslawe gekry wat hom honderd denarius geskuld het. Hy het hom aan die keel gegryp, gewurg en gesê, 'Betaal terug watjy skuld!' 29 Sy medeslaaf val toe neer en smeek hom, 'Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal.'

    20:21 SJdT En Hy sê ver haar: 'Wat begeer jy?' - Sy sê ver Hom: "Sê dat di 2 seuns van my in Uw Koninkryk sal sit, di een an Uw regtersy, en di ander an Uw linkersy."

    PV22 En Hy sê vir haar: Wat wil u hê? Sy sê vir Hem: Sê, dat hierdie twee seuns van my mag sit, die een an U regter- en die ander aan U linkerhand in U koninkryk.

    AFR53 En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.

    AFR83 "Wat kan Ek vir u doen?" vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: "Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand."

    DB2020 Hy het vir haar gevra: "Wat wil jy dan hê?" Sy antwoord Hom: "Beveel dat in u koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit."

    26:62 SJdT Toen staan di hogepriister op, en sê ver Hom: "Antwoord jy niks ni? Wat getuig hulle teen jou?"

    PV22 En die Hoëpriester staan op en sê vir Hem: Antwoord U niks nie! Wat getuig hulle teen u?

    AFR53 Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?

    AFR83 Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: "Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?"

    DB2020 Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: "Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?"

    26:67 SJdT Toen spuug hulle Hom in di angesig, en slaan Hom met di vuis; en andere slaan Hom op di kinnebak, en sê: "Profeteer ver ons, Messias! wi is dit wat ver jou geslaan het?"

    PV22 Toe spu hulle in Sy gesig en slaan Hem met vuiste; en ander gee Hem kinnebakslae en sê: Profeteer ons, Christus, wie is dit, wat U geslaan het!

    AFR53 Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?

    AFR83 Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap en gesê: "Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?"

    DB2020 Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: "Profeteer vir ons, o Christus - wie is dit wat u geslaan het?"

    27:11 SJdT En Jesus staan voor di Gouwerneur, en di Gouwerneur vra ver Hom, en sê: "'Is jy di koning van di Jode?" En Jesus sê ver hom: "Jy sê dit."

    PV22 En Jesus staan voor die stadhouer, en die stadhouer vra Hem en sê: Is U die Koning van die Jode? en Jesus sê vir hom: U sê dit.

    AFR53 En Jesus het voor die goewerneur gestaan, en die goewerneur het Hom die vraag gestel en gesê: Is U die Koning van die Jode? En Jesus antwoord hom: U sê dit.

    AFR83 Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: "Is jy die koning van die Jode?" Jesus antwoord: "Dit is soos u sê."

    Vers(e) Vert Teks

    DB2020 Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: "Is u die koning van die Jode?" Jesus sê toe: "U sê dit."

    27:39 SJdT En di wat daar verby loop belaster ver Hom, en skud hulle koppe, en sê: "A! jy wat di tempel afbreek, en in 3 dage opbou, verlos nou ver jou self! As jy Gods Seun is, kom af van di kruis af!"

    PV22 En die wat verbygaan, belaster Hem en skud hulle hoofde, en sê: Jy, wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Verlos Jouself. As Jy die Soon van God is, kom af van die kruis.

    AFR53 En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!

    AFR83 Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: "Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!"

    DB2020 Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud en sê: "Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou - as jy die Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!"

     

     

    Ontvang: 2020-07-19
    Goedgekeur: 2020-09-22
    Gepubliseer: Desember 2020

     

     

     

    Ernst Kützé is emeritus professor in Afrikaanse taalkunde en toegepaste taalstudies van die Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth, voorheen ook navorsingsvennoot en dosent in forensiese linguistiek aan die Noordwes-Uni-versiteit in Potchefstroom. Hy het gestudeer aan die Universiteit van Kaapstad (BA en BA (Hons)) en die Universiteit van die Witwatersrand (MA en PhD). Navorsingsgebiede sluit in linguistiek en Afrikaanse taalkunde, sosiolinguistiek, leksikografie, taalbeplanning en -beleid, histo-riese taalkunde, vertaalkunde en forensiese linguistiek. As ontvanger van die Alexander von Humboldt-stipendium het hy postdoktorale navorsing gedoen in Duitsland, akademiese poste beklee by verskeie universiteite in Suid-Afrika, en as besoekende professor onderrig gegee in België en Japan. Kotzé is 'n NSS-geëvalueerde navorser, en het verskeie beurse en toekennings ontvang, onder andere die SA Akademie se CJ Langenhoven-toekenning vir Taalwetenskap in 2003 (Leksikografie), en die CL Engelbrecht-prestasieprys (Taalkundige Navorsing), die Marnixring Internationale Toekenning (Belgies) vir die internasionale bydrae tot die ontwikkeling van Nederlands (en Afrikaans), en 'n besondere erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Hy het in totaal 44 boeke, 56 vaktydskrifartikels en 41 bydraes in kongresver-handelinge oor sy navorsgebiede in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Japannees gepubliseer.
    Ernst Kützé is emeritus professor in Afrikaans linguistics and applied language studies at Nelson Mandela University in Port Elizabeth, formerly a research partner and lecturer in forensic linguistics at the North-West University in Potchefstroom. He studied at the University of Cape Town (BA and BA (Hons)) and the University of the Witwatersrand (MA and PhD). Research areas include linguistics and Afrikaans linguistics, sociolinguistics, lexicography, language planning and policy, historical linguistics, translation and forensic linguistics. As recipient of the Alexander von Humboldt Scholarship, he did postdoctoral research in Germany, held academic positions at various universities in South Africa, and taught at various universities in Belgium and Japan as a visiting professor. Kotzé is an NRF-rated researcher, and has received several scholarships and awards, including the SA Academy's CJ Langenhoven Award for Linguistics in 2003 (Lexicography), and the CL Engelbrecht Achievement Award (Linguistic Research), the Marnixring International Award (Belgian) for the international contribution to the development of Dutch (and Afrikaans), and a special honorary award from the SA Academy of Science and Arts for service to Afrikaans as a scholarly and standard language. He has published a total of 44 books, 56 journal articles and 41 contributions in congress papers on his research areas in Afrikaans, English, German, French and Japanese.
    1 Nida (2000:341) verwys na Venuti se poststrukturalistiese siening van die aard van vertaling gedurende die 1990's, wat afgestem is op "the illusion of transparency, enabling a translated text to pass for the original and thereby rendering the translator invisible". Vir die Bybelleser is hierdie illusie 'n bewustelike opheffing van die verskille tussen die bron- en doeltaal-weergawes van die inhoud, omdat die sosiokulturele werklikhede van die brontaalkonteks juis eksoties van aard is. Nida skryf ook dat die brontaalkultuur (en die interpretasie daarvan) eerder tot sy reg kom "by 'foreignizing' translation that registers the irreducible differences of the foreign text". Dit word in hierdie Bybelvertaling bewerkstellig deur sogenaamde eksotiserende vertaalekwivalente.
    2 Nog voorbeelde is Eksodus14:16, Esegiël 2:8 en 21:14, Matteus 6:6, Romeine 2:3 en 14:10.
    3 Verskillende taalgemeenskappe koppel uiteenlopende sosiale waardes aan die T- en V-vorme - In Duits bv. impliseer "Du" persoonlike nabyheid en spontaneïteit, en "Sie" afstandelikheid en formaliteit, terwyl "jy" in Afrikaans 'n aanduiding is van gemeensaamheid en informaliteit, en "u" van hoflikheid, eerbied en formaliteit. Hieroor later meer.
    4 Hebreeus onderskei wel tussen 'n manlike (
    η Κ [at]) en 'n vroulike (nnK [ata]) vorm, wat in Afrikaans uiteraard geïgnoreer word, terwyl Grieks slegs 'n T-vorm ken.
    5 In DB2020 kom voorbeelde van die "sydelingse" voornaamwoord voor in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:29), asook in Tobit 5:1.
    6 Die gebruik van hoofletters by voorname wat na God verwys, is ortografies gesproke nie 'n vertaalkwessie nie, aangesien (a) daar geen verskil tussen hoofletters en kleinletters in Hebreeus en Aramees is nie en (b) die eerste Griekse tekste volledig in hoofletters geskryf is, terwyl hoofletters in die latere weergawes, behalwe aan die begin van 'n sin, slegs by eiename gebruik is, insluitende sommige metaforiese verwysings na die Godheid, soos "die Alfa en die Omega" (Openbaring 22:13
    τό Άλφα και τό Ώ). Hooflettergebruik in sulke gevalle in die Afrikaans lê eerder op die vlak van kulturele en pragmatiese ekwivalensie, en is die gevolg van interpretasie, eerder as vertaling van skriftelike gegewens in die teks.
    7 In die geval van wederkerende werkwoorde word hoofsaaklik Hom gebruik, bv. "so ontferm die Here Hom" (Psalm 103:13).
    8 Vergelyk Genesis 16:11 "Die Engel van die Here" (IMAGEMAQUI).
    9 Brown & Gilman se uitgebreide navorsing oor hierdie verskynsel het onder andere ooreenkomste tussen Afrikaans, Hindi en Gujerati uitgewys (1960: 268-269) - iets wat dui op die idiosinkratiese aard daarvan.
    10 Hierdie tussenkerklike vertaling het nog in baie opsigte na aan die Statenvertaling gestaan, en word beskou as 'n kompromievertaling.
    11 Kursivering van aanspreekvorme deurgaans van my - EFK.
    12 Vergelyk hiermee die wyse waarop Martin Luther Karel V, Keiser van die Heilige Romeinse Ryk, en die versameling edelliede by sy verskyning voor die Ryksdag in Worms (1521) aanspreek: "Allergnädigster Herr und Kaiser! Durchlauchtigste Fürsten! Gnädigste Herrn!"
    13 Vergelyk ook die wyse waarop die stem uit die hemel Jesus aanspreek wanneer Hy deur Johannes gedoop is (paragraaf 9.1).