SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4Another translation of the Bible in Afrikaans: What makes it different?The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issues author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.62 n.4 Pretoria Dec. 2022

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a4 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Die invloed van denklyne van die Duitse universiteitsmodel op hedendaagse kwessies binne die universiteitswese

     

    The influence of lines of thought in the German university model on current university issues

     

     

    Morné Diedericks

    AROS: Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: Morne.Diedericks@aros.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Teen die einde van die 18de eeu was die universiteitsmodel van Europa grootliks geskoei op dié van die laat Middeleeue (die 15de eeu), hoewel die Franse Rewolusie en die uitvloeisel daarvan tydens die bewind van Napoleon wel 'n noemenswaardige effek op die universiteitswese gehad het. Daar het egter in die 19de eeu 'n ommekeer plaasgevind. Teen die 1850's was daar 98 universiteite in Europa, en net voor die begin van die Tweede Wereldoorlog was daar ongeveer 200 universiteite. Gesien in die lig van die Middeleeue se ryk universiteitswesegeskiedenis, was die 19de eeu 'n tyd waarin groot omwenteling met betrekking tot universiteite plaasgevind het. Die Duitse universiteitsmodel het grootliks tot die ommekeer van universiteite se groei bygedra.
    Die Duitse universiteitsmodel het egter nie net 'n omwenteling veroorsaak in studentegetalle nie, maar ook sommige denklyne binne die universiteitsontwikkeling oopgemaak wat vandag steeds net so relevant is binne die gesprek oor die universiteitswese. Vryheid was die onderliggende konsep van die Duitse universiteitsmodel. Tog was dit die belangrikheid wat die universiteit aan navorsing geheg het wat 'n blywende invloed op die universiteitswese gehad het. Hierdie studie verskaf filosofiese en historiese agtergrond tot huidige besprekings oor aspekte soos die universiteit-staat-verhouding, die rol van professore, eise aan studente en die fragmentering van die kurrikulum deur na die ontwikkeling van die klassieke Duitse universiteitsmodel te kyk.

    Trefwoorde: Bildung; Duitse universiteitsmodel; Franse universiteitsmodel; Friedrich Schleiermacher; navorsingsuniversiteit; en Wilhelm von Humboldt


    ABSTRACT

    By the end of the 18th century, the university model of Europe was largely that of the late Middle Ages (the 15th century), although the French Revolution and its overflow into Napoleon's reign had a significant effect on the universities of Europe. In 1789, Europe had 143 universities, but in 1815 only 83 universities remained; thus, a loss of 60 universities occurred during this time. However, in the 19th century, a turnaround took place. By the 1850s, Europe had 98 universities, and just before the start of World War II, there were approximately 200 universities. Viewed against the university's rich history from the Middle Ages, the 19th century was characterised by a time of great upheaval in universities. The German university model contributed significantly to the reversal of university growth in the 19th century.
    The new societal structures brought about by the French Revolution with its Enlightenment ideologies required new university models. The first model that was developed was the French university model. The French university model was a highly regulated model. The state prescribed to universities exactly which university should teach what content, as well as which function each university should fulfil. The university was in the service of the state and had to assist the state in training citizens for the performance of their task. The French university model had four aims in the sense that this model intended to: secure and maintain post-revolutionary status, bring education in line with state policy, prevent a new professional class from emerging and, lastly, establish restrictions on free thought in order to prevent the development of any ideas contrary to the stronghold of the state.
    This study shows that the notable reversal of the 19th-century university system came about as a result of the implementation of the German university's model. Core German intellectuals such as Johann Gottlieb Fichte, Friedrich Schleiermacher and Wilhelm von Humboldt devised a new German education system, independent from that of French oppression. These intellectuals developed numerous fruitful concepts such as Bildung, Wissenschaft, Lehrfreiheit, and Lernfreiheit. These concepts and other concepts made it possible for the new German university model to be devised and implemented.
    The German university model did not only have a great influence on the growth of student numbers, but it also opened up some lines of thought regarding the idea of the university, which are still relevant today. Some of the core issues still featuring on the agendas of present discussions regarding universities include the state-university relationship, where public universities are considered by some to be the property of the state. Issues regarding lecturers include, among others, the task of lecturers. The Medieval university concept of the lecturer as a master teacher is rarely found within the contemporary university - instead, teaching students is regarded as a lower order task compared to that of the lecturer's responsibility towards research. Today, lecturers 'performance is measured by their research output (within the publish or perish culture) rather than their ability to teach students. An additional issue concerns the idea that higher education is currently perceived to be a human right and that students are therefore entitled to a free education (part of the Fees Must Fall campaign). Finally, the fragmentation of the curriculum within the modern university, resulting in the loss of the ideal of a universal education, is of concern - the latter having been a characteristic that was part of the idea of the university.
    This paper, by revisiting the classical German university model, provides a philosophical and historical background to current discussions regarding aspects such as the university-state relationship, the role of professors, demands on students and the fragmentation of the curriculum.

    Keywords: Bildung; German university model; French university model; Friedrich Schleiermacher; research university; and Wilhelm von Humboldt


     

     

    1. Inleiding

    Teen die einde van die 18de eeu was die universiteitsmodel van Europa grootliks geskoei op dié van die laat Middeleeue (die 15de eeu), hoewel die Franse Rewolusie en die uitvloeisel daarvan tydens die bewind van Napoleon wel 'n noemenswaardige effek op die universiteitswese gehad het. In 1789 was daar 143 universiteite in Europa gewees, maar in 1815 was daar slegs 83 universiteite oor; dus het 60 universiteite gedurende hierdie tyd in die slag gebly. Daar het egter in die 19de eeu 'n ommekeer plaasgevind. Teen die 1850's was daar 98 universiteite in Europa, en net voor die begin van die Tweede Wereldoorlog was daar ongeveer 200 universiteite (Rüegg, 2004b:3). Gesien in die lig van die Middeleeue se ryk universiteitswesegeskiedenis, was die 19de eeu 'n tyd waarin groot omwenteling met betrekking tot universiteite plaasgevind het. Die Duitse universiteitsmodel het grootliks tot die ommekeer van universiteite se groei bygedra.

    Die Duitse universiteitsmodel het egter nie net 'n omwenteling veroorsaak in studente-getalle nie, maar ook sommige denklyne binne die universiteitsontwikkeling oopgemaak wat vandag steeds net so relevant is binne die gesprek oor die universiteitswese. Van hierdie kernkwessies wat vandag steeds op die agenda van die gesprekke aangaande die universiteitswese is, sluit in die staat-universiteits-verhouding, waar openbare universiteite deur sommiges as die eiendom van die staat beskou word (Wachelder, 2012:126). Kwessies aangaande dosente sluit onder andere die taak van dosente in. Die leermeestergedagte van die Middeleeuse universiteit word selde gevind binne die hedendaagse universiteit en die onderrig van studente word eerder beskou as sleurwerk wat van laer orde geag word as die navorsingstaak van die dosent. Dosente se prestasie-evaluering word so ook vandag eerder gemeet aan hulle navorsingsuitsette (binne die "publish or perish"-kultuur) as hulle vermoë om studente te onderrig (Mannoia, 2015:90). Verdere kwessies is die gedagte dat hoëronderwys vandag 'n menslike reg is wat daarom ook gratis behoort te wees (deel van die Fees Must Fall-veldtog) (Hodes, 2017:141). Asook die fragmentering van die kurrikulum waar die geheelbeeld van kennis binne universiteite verlore geraak het.

    Die doel van die studie is om 'n filosofiese en historiese agtergrond te verskaf vir huidige besprekings oor aspekte soos die universiteit-staat-verhouding, die rol van professore, eise aan studente en die fragmentering van die kurrikulum deur na die ontwikkeling van die klassieke Duitse universiteitsmodel te kyk. In hierdie studie gaan 'n oorsig gebied word van die Franse universiteitsmodel as voorloper van die Duitse universiteitsmodel. Voorts gaan daar ook 'n bespreking volg van die rolspelers wat by die totstandkoming van die Duitse universiteitsmodel betrokke was. Laastens gaan daar gefokus word op sommige van die invloede wat die Duitse universiteitsmodel op die universiteitswese gehad het.

     

    2. Die Franse universiteitsmodel van die 1800's as voorloper van die Duitse universiteitsmodel

    Verligtingsdenkers het 'n geruime tyd gepoog om universiteite te transformeer sodat dit tot beter diens sou wees vir die breë samelewing, maar die universiteit was steeds teen die einde van die 18de eeu grootliks 'n Middeleeuse instelling. Hier en daar het veranderinge in sekere streke ingetree, maar met verloop van tyd het die universiteit op sy Middeleeuse grondslae teruggeval (Rüegg, 2004a:16). Toe die Franse Rewolusie (5 Mei 1789 - 9 November 1799) aangebreek het en Napoleon Bonaparte (1769-1821) aan bewind gekom het, het 'n daadwerk-like verandering binne die universiteitswese ingetree. Die Franse Rewolusie en Napoleon se regering het beide 'n beduidende invloed gehad op die samelewingstrukture van Europa. Een van die Franse Rewolusie se grootste invloede kan gevind word in die wyse waarop die universiteit beïnvloed is. Die universiteit van vandag berus grootliks op uitgebreide modelle van die twee groot 19de-eeuse universiteitsmodelle, naamlik die Franse en Duitse universiteitsmodelle.

    Voor die Franse Rewolusie was universiteite grootliks beperk tot die adelstand en welgesteldes. Die opstand van die proletariaat teen die adelstand se feodale stelsel het meegebring dat talle universiteite in die spervuur beland het. Die Franse Rewolusie het daartoe gelei dat die Franse universiteitsmodel, te midde van die herstrukturering van universiteite, 'n tabula rara-metode gevolg het; dus het die Franse regering grootliks die ou universiteitstrukture afgebreek en 'n heeltemal nuwe struktuur geïmplementeer. In Duitsland was daar byvoorbeeld voor die Franse Rewolusie in 1789 35 universiteite. Teen die einde van die Rewolusie was daar slegs 16 universiteite oor (Charle, 2004:34).

    Die nuwe samelewingstrukture wat die Franse Rewolusie met sy Verligtingsideologieë meegebring het, het nuwe universiteitsmodelle vereis. Die eerste model wat ontwikkel is, was die Franse universiteitsmodel. Eie aan die regeringswerkswyse van Frankryk in die tyd van Napoleon se regering was die Franse universiteitsmodel 'n hoogs gereguleerde model. Die staat het aan universiteite voorgeskryf presies watter universiteit watter inhoud moet onderrig, asook watter funksie elke universiteit moet vervul (Charle, 2004:44). Die universiteit was in diens van die staat en moes die staat gedurende die opleiding van landsburgers vir die uitvoering van hul taak bystaan. Tegnikons het 'n belangrike funksie in die Franse universiteitsmodel vervul omdat die tegnikons daarvoor verantwoordelik was om tegniese vaardighede te onderrig. Hierdie vaardighede was nodig met die oog op die uitbreiding van die land se kapasiteit ten opsigte van die weermag, asook infrastruktuur.

    Die Franse universiteitsmodel het volgens Charle (2004:45) vier oogmerke gehad in die sin dat hierdie model

    postrewolusiestatus wou verseker en handhaaf;

    opvoeding in lyn wou bring met staatsbeleid;

    voorkom dat 'n nuwe professionele klas ontstaan; en

    beperking van vrye denke wou daarstel ten einde te verhoed dat enige idees teen die staat ontwikkel.

     

    3. Rolspelers wat betrokke was by die totstandkoming van die Duitse universiteitsmodel van die 1800's

    'n Kernbeweging wat bygedra het tot die ontwikkeling van die Duitse universiteitsmodel was die filosofiese Idealismebeweging, soos ontwikkel deur Kant en Literêre Romantiek. Hierdeur is 'n liefde vir nasionale gevoel gekweek. In 1806 het Napoleon die state van Pruise ingeval en oortuigend oorwin. Napoleon se oorrompeling van die Pruise het die Duitse kultuur in 'n krisis gedompel, met die gevolg dat daar oor die Duitse identiteit herbesin is. In die proses om 'n nuwe Duitse identiteit te vorm waarin die Duitse nasie opgebou word, sou opvoeding en onderrig 'n belangrike rol speel. Hierdie vernedering wat Pruise beleef het, het 'n krisis in die Duitse gemeenskap geskep, en ook gelei tot 'n soeke na 'n vereniging van die Duitse state. Die vernedering wat Napoleon se oorwinning meegebring het, het daartoe aanleiding gegee dat Duitse denkers begin skryf het oor hoe Duitsland as 'n nasie opgebou kon word. Hierdie skrywers wou beklemtoon dat Duitsland weer 'n rol kon speel in die magspolitiek van Europa.

    Een van die denkers was Johann Gottlieb Fichte (1762-1814). In 1808 lewer Fichte (1808) sy bekende Reden an die Deutsche Nation (Rede aan die Duitse Nasie). Hierin poog Fichte om die Duitsers te definieer en hulle te begelei om 'n opstandsbeweging teen die Napoleonregering van stapel te stuur. Fichte het onder andere in sy skryfwerk ook op die onderwysstelsel van Duitsland gefokus en hoe die opstelling daarvan behoort te geskied ten einde in diens van die Duitse nasie te wees.

    'n Ander individu wat 'n rol gespeel het in die vorming van denke rondom die onderwysstelsel van Duitsland was die filosoof en teoloog Friedrich Schleiermacher (17681834). In reaksie op Fichte skryf Schleiermacher in 1808 sy Gelegentliche Gedanken über Universitáten im deutschen Sinn (Occasional Thoughts on Universities in the German Sense). Hierdie teks sou as 't ware 'n basisdokument vir die Duitse universiteitsmodel word. Fichte en Schleiermacher het beide geglo dat die universiteit, anders as die Franse universiteite, 'n unieke instelling moes wees wat nie onder die gesag van die staat val nie. Die Verligtingsdenke se druk op praktiese kennis het volgens Schleiermacher gelei tot die fragmentering van kennis (Schleiermacher, 1808:44). Binne die Franse model is die universiteit 'n instrument van die staat. Die staat gebruik hierdie instrument om sy burgers vir spesifieke beroepe op te lei. Schleiermacher se liberale benadering was sterk gekant teen die gedagte van staatsabsolutisme. Vir Schleiermacher het die staat die funksie gehad om die universiteit se vryheid te beskerm. State wat egter inmeng in die doen en late van universiteite verwoes die wese van die universiteit. Die wese van die universiteit was volgens Schleiermacher die vryheid om 'n navorsingsgees by jongmense te ontwikkel (Schleiermacher, 1808:64).

    'n Funksie van die universiteit was die teenwerking van gefragmenteerde kennis. Die naam "universiteit" dui volgens Schleiermacher juis op die geheel en verbondenheid van kennis.

    The name 'university' itself suggests this, for here it is not a question of collecting several kinds of knowledge, however diverse and worthwhile, but rather presenting the totality of knowledge in such a way that the principles and blueprint of all knowledge are brought to light. (Schleiermacher, 1808:60)

    Om die eenheid van kennis te behou, is die filosofiefakulteit verhef tot die moeder van alle wetenskappe. Om isolasie van kennis teen te werk, is die belangrikheid van filosofiese onderrig beklemtoon. Filosofiese onderrig verskaf volgens Schleiermacher (1808:61) belangrike energie vir die verdere ontwikkeling van kennis.

    Om die wesensfunksie van die universiteit te verstaan, moet die posisie van die universiteit in die Duitse onderwysstelsel begryp word. Die Duitse onderwysstelsel is verdeel in drie dele:

    die skool, wat verantwoordelik is vir die kind se inleiding tot die geheel van kennis;

    die universiteit, wat verantwoordelik is vir die kultivering van studente se navorsingsgees, asook hulle sistematiese en filosofiese gees; en

    die akademie, wat verantwoordelik is vir die bevordering van kennis.

    Volgens Schleiermacher (1808:59) moet die universiteit hom daarop toespits om 'n navorsingsgees by studente te kweek. Om 'n navorsingsgees te kweek, neem nie baie tyd in beslag nie, daarom studeer studente slegs vir 'n kort tydperk aan die universiteit. Studente moet eerder geleer word hoe om te self te leer in stede daarvan dat hulle verdere feitekennis onderrig word. Die Duitse navorsingsgees wat by studente gekweek word, moet daartoe lei dat studente alles vanuit 'n wetenskaplike oogpunt benader. Dit impliseer dat studente geleer moet word dat elke individuele aspek nie in isolasie gesien word nie, maar eerder in die lig van sy diverse, wetenskaplike verbindinge. Die universiteit moet dus by studente die vermoë ontwikkel om voortdurend die eenheid en verskeidenheid van kennis te verbind, navorsing te kan doen en nuwe ontdekkings te kan maak.

    Die Duitse universiteitsmodel staan ook bekend as die Navorsingsuniversiteitsmodel of as die Humboldt-universiteitsmodel, wat na twee broers vernoem is, naamlik Wilhelm (1767-1835) en Alexander von Humboldt (1769-1859). Die ouer broer, Wilhelm, is in 1809-1810 aangestel as die minister van interne sake. Wilhelm is die taak opgelê om die Nasionale Opvoedkundige Beleid te ontwikkel en 'n nuwe universiteit in Berlyn tot stand te bring. Vanuit 'n staatsoogpunt was die idee met die aantreklike universiteitsmodel bloot om die Franse universiteitsmodel te kopieer. Wilhelm het egter 'n heeltemal ander rigting ingeslaan. Onder die invloed van denkers soos Fichte en Schleiermacher het Wilhelm die koning oortuig om eerder 'n ander universiteitsmodel te volg. Die grondslag van die universiteitsmodel wat Wilhelm voorgestel het, was die Verligting se konsep van vryheid.

    Die Franse universiteitsmodel het 'n groot impak gehad op die verandering en vernuwing van die universiteitstelsel, veral ten opsigte van tegniese opleiding en die toerusting van studente vir die werksplek. Franse akademici het egter erken dat die Duitse universiteitsmodel die beste model was wat wêreldwyd 'n groter invloed uitgeoefen het (Rüegg, 2004:11).

    Die implementering van die universiteitsmodel wat Wilhelm von Humboldt voorgestel het, het nie van die begin af verloop soos wat hy dit in beleide voorgestel het nie. Die belang van Humboldt se bydrae was egter daarin geleë dat hy 'n konsepraamwerk geskep het wat gebruik kon word om 'n universiteitsmodel te bedink. In 1810 skryf Wilhelm von Humboldt sy bekende en invloedryke "On the Internal and External Organization of the Higher Scientific Institutions in Berlin". Twee kernbeginsels het Humboldt se gedagtes rakende universiteitsopleiding gevorm, naamlik die verhouding tussen die universiteit en die staat en die humanistiese ideale van vryheid.

    Die begrip "vryheid" was die belangrikste konsep binne Humboldt se universiteitsmodel. Die opbou van die Duitse nasietrots was belangrik in die geskrifte van die tyd, veral ná afloop van die bewind van Napoleon se regering. Humboldt (1810:2) skryf dat die Germane 'n ingeboude sin vir navorsing en wetenskapsbeoefening (Wissenschaft) het en dat dit nie onderdruk moet word nie. Eerder moet die vryheid van die professor (Lehrfreiheit) asook die vryheid van die student (Lernfreiheit) behou en gekoester word. Hierdie akademiese vryheid moet ten alle koste in die universiteit beskerm word. Die skool moet die kind voorberei om gereed te wees vir wetenskap, en dan moet die student toegelaat word om hierdie vryheid te beleef. Die vryheid was egter nie net gesetel in die vryheid om te onderrig wat dosente wou onderrig of in vryheid navorsing te doen nie, maar ook vryheid van die universiteit teen die staat en die kerk (Bara, 2015:1). Humboldt (1810:4) het geglo dat dit alleenlik die taak van die staat was om die finansiële versorging van die universiteit te verseker. Die finansiële versorging van die universiteit moes geskied deur die voorsiening en versorging van personeel en dosente, en ten tweede moes hulle vryheid verseker word sodat hulle hul werk kon uitvoer.

    'n Ander invloedryke konsep wat deur Humboldt uitgewerk is, was Bildung. Humboldt (1810:8) het die gedagte van Bildung ontwikkel vanuit sy leeswerk van antieke Griekse tekste. Bildung as konsep het te doen met leergierigheid en die opbou van idees en konsepte tot vorming van die student as kritiese burger en selfs akademikus. Voorts is Bildung ook die proses en uitkoms van intellektuele ontwikkeling. Dit is anders as die blote opbouing van studente; dit sluit die fokus van die studente se opleiding ten opsigte van die student se vorming as akademikus in. Die kombinasie van filosofiese kennis en navorsingsvaardighede wat by 'n student gekultiveer word, vorm deel van Bildung. Bildung het ten doel om 'n student sover te kry om self verantwoordelikheid vir sy/haar eie leer te neem (Grafton, 1981:374).

    Onderliggend aan al hierdie konsepte was 'n sterk nasionalistiese idee van die Duitse navorsingsgees. Die Duitse navorsingsgees is voorgehou as iets wat uniek tot die Duitser se wese was. Hierdie navorsingsgees simboliseer iets van 'n deeglikheid en afgerondheid ten opsigte van navorsing. 'n Navorsingsgees as deel van die Duitser se wese moes op skoolvlak gekweek word. Die Duitse navorsingsgees verteenwoordig 'n gesindheid van groei in wetenskaplike kennis, asook wetenskaplike verantwoordelikheid. Die sukses van die Duitse universiteitsmodel het vinnig begin versprei dermate dat selfs die Franse die Duitse universiteitsmodel nagestreef het. Amerika en Engeland het hulle studente gestuur om eerder in Duitsland verder te gaan studeer. Die waarde van 'n kwalifikasie wat by 'n Duitse universiteit verwerf is, is beskou as van hoër waarde as enige ander verwerfde kwalifikasie by nie-Duitse universiteite (Axtell, 2016:25).

     

    4. Die invloed van die Duitse universiteitsmodel op verdere ontwikkeling binne universiteitswese

    A. Universiteit-en-staat-verhouding

    Die Verligtingsideale het teen die einde van die 18de eeu begin deursyfer. Dit het tot gevolg gehad dat die nasiestate gesekulariseer het, waar die Teologiefakulteite na teologiese skole - los van die universiteit - geskuif het. Die belang van nasionale opvoedkundige beleid het toegeneem, waar die universiteit in diens van die staat gestaan het (Rüegg, 2004b:3). Die gedagte onderliggend aan die Duitse universiteitsmodel was dat die staat die vryheid van die universiteit moet verseker. Die staat mag egter nie ingemeng het in die dinge wat in die universiteite onderrig word nie. Hierdie was die gedagte agter die vrye universiteitsidee wat Abraham Kuyper gepoog het om te implementeer toe hy die Vrye Universiteit van Amsterdam gestig het.

    Die samewerking tussen universiteit en staat binne die Duitse universiteitsmodel was egter bloot 'n skynvryheid in die opsig dat die staat nie verplig was om wel die universiteit vir die uitvoering van sy agenda te gebruik nie. Staatsbefondsing van universiteitsprojekte betreffende navorsing het universiteite egter spoedig so afhanklik van die staat gemaak dat universiteite mettertyd staatseiendom geword het. Universiteite het dus vir 'n beperkte tyd skynvryheid beleef tot die uitbreek van die Eerste en Tweede Wereldoorlog, waarna dit duidelik geword het dat die universiteit eintlik die eiendom van die staat is (Kwiek, 2006:13).

    Die Verligting se strukturering van die staat- en universiteitverhouding wat in beide die Franse en Duitse universiteitsmodelle sigbaar geword het, het volgens Glanzer et al. (2017:106) uiteindelik bygedra tot die verlies aan identiteit, sin en doel van die universiteit in die 20ste eeu. Die feit dat die staat verantwoordelik gemaak is vir die beskerming van die universiteit binne die Duitse universiteitsmodel het meegebring dat die staat die universiteit as sy eiendom beskou het. Die sterk beheer van die staat oor die universiteit het gemaak dat die universiteit deel van sy wensensfunksie verloor het, omdat dit 'n deel van sy akademiese vryheid prysgegee het. Die universiteit het slegs 'n instrument van die staat geword, wat slegs die instruksies van die staat uitvoer en nie waag om krities teenoor die staat te staan nie, omdat hulle hul staatsubsidie kan verloor.

    B. Die rol van dosente

    Die Duitse universiteitsmodel se groot klem op vryheid het die rol van die dosent wesentlik verander. Die groei van studentegetalle tesame met staatsbefondsing het gelei tot die professionele professor wat sy lewe aan navorsing kon wy. Hierdie vryheid wat die professionele professors geniet het, het ook meegebring dat kreatiwiteit bevorder is, wat as 't ware omgewings geskep het waar die "Albert Einsteins" (1879-1955) hul teorieë kon ontwikkel. Nie alle studente het egter waardering gehad vir die dosente wat almal hulle stokperdjies binne hul akademiese vryheid gevolg het nie.

    Teen die einde van die 19de eeu het dit begin duidelik word dat die Duitse universiteitsmodel eerder vir die adelstand as vir die massas ontwikkel is (Watts, 2018:565). Die groei van studentegetalle het tot die toename van swakker opgeleide dosente gelei, en hulle moes 'n "diens" aan die groot studentegetalle verrig. Hierdie diens is verrig deur Privatdozentin (Charle, 2004:59). Hierdie dosente was die groep waaruit die professore gekies is. Die heersende vryheidsgees binne die Duitse universiteitsmodel het ook gelei tot groeiende kompetisie tussen die verskillende state om studente te werf. Om hulle aansien te versterk en hulle "mark" te verbreed, het individuele state die geleentheid gehad om bekende professore by hul universiteite aan te stel. Studente het dus agter dosente aangetrek.

    Die groei in studentegetalle het verder meegebring dat dosente nog beter vergoed kon word. Sodoende het hulle nie meer nodig gehad om ander werk vir addisionele inkomste te doen nie. Dit het daartoe gelei dat hulle meer op navorsing en navorsingsuitsette kon fokus. Heyns (2013:7) verwys na hierdie belangrike toevoeging van navorsing tot die onderrigfunksie as "the first major paradigm change since the creation of the university as institution took place". Die Duitse universiteitsmodel het dit vir state moontlik gemaak om die ekonomiese waarde van universiteite vir navorsing raak te sien. Kerr (2001:32) toon aan op watter wyse die Duitse universiteitsmodel binne die sogenaamde multiversiteit (die universiteit van die 21ste eeu) sy hoogtepunt gevind het. Die ekonomiese navorsingswaarde van die dosent is besef en die dosent is nie meer primêr beskou as 'n persoon wat ander onderrig nie. Inteendeel "the higher a man's standing, the less he has to do with students."

    Die Duitse universiteitsmodel se klem op vryheid binne navorsing het verder 'n tipe "onsigbare universiteit" geskep. Dosente het die vryheid gebruik om oor nasionale grense heen hulle navorsing te deel. Konferensies en internasionale akademiese organisasies het algemeen geraak. Die uniekheid van die Duitse wetenskaplike navorsingsgees is teen die einde van die 19de eeu na ander groot universiteite in die wêreld oorgedra. Dit het tot gevolg gehad dat navorsing deel gevorm het van die universiteit se taak, waar die dosente se taakooreenkomste voortaan navorsingsuitsette vereis het.

    Axtell (2016) toon aan hoe die oorspoel van die Duitse universiteitsmodel na Amerikaanse universiteite meegebring dat daar 'n groot toename en belangstelling in die navorsing van dosente ontwikkel het. Hierdie toename en belangstelling in die navorsing van dosente het die bekende "publish or perish"-kultuur wat binne hedendaagse universiteite heers, meegebring. "Since published research and scholarship was increasingly the currency of academe, American universities and elite colleges could establish or ratchet up policies of 'publish or perish' for promotion and, eventually, tenure" (2016:272-273).

    C. Eise aan studente

    Namate samelewingsnood verander het en die behoefte aan spesifieke beroepe vir die samelewing ontwikkel het, is die universiteite ingerig om in daardie behoefte te voorsien. Die Duitse universiteitsmodel wat groot klem op vryheid geplaas het, het ook die gedagte ingesluit dat die universiteit tot die beskikking van enigiemand behoort te wees. Bara (2015:2) toon aan dat die Duitse universiteitsmodel die weg gebaan het vir die ontwikkeling van Hoëronder-wys as 'n menslike reg en dat universiteite nie net vir die elite is nie.

    Tesame met die industrialisasie van die 18de en 19de eeu - wat gevoed is deur die vooruitgang in wetenskaplike ontwikkeling - het die universiteite geweldige groei in studentegetalle beleef. Die Duitse universiteitsmodel het grootliks bygedra tot die ommekeer van universiteite se groei. Meer nog het hierdie model egter ook bygedra tot die besef van universiteite se noemenswaardige waarde tot die opheffing en ontwikkeling van die samelewing.

    Die Duitse universiteitsmodel het wel aan die einde van die 19de eeu voor bepaalde krisisse te staan gekom. Hierdie universiteitsmodel was geneig om 'n onderrighiërargie te skep. Dit het aanleiding gegee tot 'n eie burokrasie, wat tot 'n afname in kreatiwiteit, innovasie en inkorporering van nuwe tegnologie in universiteitsnavorsing gelei het.

    Die dryf na die styging in studentegetalle het daartoe gelei dat die studentegetalle van die universiteite in Duitsland in 1914 vier maal groter as in 1865 was. Die groot groei in studentegetalle het meegebring dat die universiteite al hoe meer Brotstudenten gehad het. Brotstudenten was studente uit die middelklas van die samelewing. Hierdie studente wat op die broodlyn geleef het, was ver verwyder van die gedagte van 'n navorsingsgees. Hulle het eerder 'n oorlewingsgees gehad, en gevolglik was universiteitsopleiding 'n middel tot 'n doel en nie 'n doel op sigself nie. Die middelklas-universiteitstudente wou studeer en klaar studeer (Charle, 2004:59). Om deur te kom en hulle studie teen die minimale koste so spoedig moontlik te voltooi, was hulle enigste opsie.

    Dit was teen hierdie agtergrond wat die Duitse universiteitsmodel se gedagte van vryheid teen homself begin werk het en tot die teenwerking van die navorsingsgees binne die universiteit gelei het. Voorts het die liberale houding van die Duitse universiteitsmodel ook daartoe gelei dat die universiteit nóg moeilikheid vir homself op die hals gehaal het. Dit word gesê in die lig daarvan dat die universiteit te veel studente gehad het in 'n tyd waarin die land in groot nood verkeer het. Dit het tot gevolg gehad dat 'n vlaag van werklose afgestudeerde studente ontstaan het. Hierdie verskynsel was 'n voorsmakie van die moderne multiversiteite van die 20ste eeu.

    Kerr (2001:31-32) beskryf op watter wyse die Duitse universiteitsmodel se gedagte van Lernfreiheit eers werklik in die multiversiteite tot 'n hoogtepunt gekom het asook die talle uitdagings wat dit vir studente in die multiversiteit te weeg gebring het. Volgens Kerr is die multiversiteit 'n verwarrende plek vir die student. Hy het probleme om sy identiteit en gevoel van veiligheid daarbinne te vestig. Maar dit bied hom 'n reeks keuses, genoeg om letterlik die gedagtes in mekaar te laat tuimel. In hierdie reeks keuses kom hy die dilemmas van vryheid teë. Die Duitse universiteitsmodel se gedagte van Lernfreiheit - vryheid van die student om te kies en te keur, om te bly of om aan te beweeg, is triomfantlik binne die multiversiteit.

    D. Kurrikulumherstrukturering

    Binne die Duitse universiteitsmodel is teologie as die moeder van alle wetenskappe vervang met filosofie. Om te voorkom dat die vryheid van dosente se navorsing nie tot gefragmenteerde kennis sou lei nie, is filosofie as die samebindende faktor tussen die verskillende vakweten-skappe beskou. Daar is van studente verwag om in filosofie geskool te wees en dan veral in die filosofiese idees van die Idealisme en die Romantiek. Deel van die Duitse universiteitsmodel was dat die filosofie nie bloot voorbereidend moes wees tot ander vakwetenskappe nie, maar dat dit die belangrikste vakwetenskap van al die vakwetenskappe moes wees. Die geheelbeeld word deur 'n sterk sin vir filosofie behou en daarom ook die belangrikheid van filosofie. Met betrekking hiertoe vind ons steeds op eietydse doktorsgraadsertifikate die letters "PhD", wat staan vir Philosophiae Doctor. Hiermee word aangedui dat die persoon die basiese filosofiese beginsels van sy vakgebied beheers en daarbinne verdere navorsing kan doen. Die doel van alle onderrig was nié die oordrag van 'n massa feite nie, maar eerder die ontwikkeling van die student se intellek (Grafton, 1981:378).

    Die groot invloed wat die Duitse universiteitsmodel op die kurrikulum uitgeoefen het, was die verandering wat deur Charles Eliot teweeggebring is. In 1869 is Eliot aangestel as president van Harvard. Eliot was verantwoordelik vir die dramatiese transformasie van Harvard tot 'n groot universiteit. Hy het teen die einde van die 19de eeu bekendheid verwerf vir die samestelling van die elektiewe kurrikulumstelsel. Eliot het weggedoen met al die vrye kunste ("liberal arts"), met die uitsondering van een retoriekmodule op eerstejaarsvlak (Adriaan, 2003:22). Eliot het die elektiewe kurrikulum ontwikkel vanuit die Duitse universiteitsmodel se begrip van Lehrfreiheit en Lernfreiheit. By laasgenoemde was die fokus gerig op die student se vryheid, wat die klem geplaas het op die student se vryheid om sy eie kurrikulum saam te stel. Die klassieke Christelike universiteitskurrikulum van die vrye kunste is in die 19de eeu deur die elektiewe stelsel vervang. 'n Streng fokus op die wetenskaplike metode en die nuwe elektiewe kurrikulumstelsel, soos geïmplementeer deur Harvard, het die klassieke vrye kunste asook godsdiens in die universiteit onder groot druk geplaas. Dit het tot gevolg gehad dat sekularisering binne universiteite spoedig versprei het.

    Daar is nie duidelike bewyse dat Eliot anti-Christelik was nie. Hewige debatte het wel ontstaan oor die effek wat die elektiewe kurrikulumstelsel op Christelike universiteite sou hê. In hierdie opsig het die president van Princeton, James McCosh, in 1885 sy vrees uitgespreek dat 'n elektiewe stelsel 'n skeiding tussen Christelike universiteite sou meebring. In 1896 het Woodrow Wilson (1896), die destydse president van Princeton, soortgelyke bedenkinge uitgespreek in sy toespraak, Princeton in the Nation's Service. Hoewel hy versigtig was om wetenskaplikes te kritiseer, het hy gevoel dat die wetenskap 'n gees van eksperimentering en minagting vir die verlede gekweek het. Verder het hy ook klem gelê daarop dat mense begin veronderstel dat die wêreld wat onsigbaar is (die transendente wêreld), onwerklik is. Wilson het ook in sy toespraak uitgelig dat die ergste van alles was dat mense meer in die hede en toekoms as in die verlede begin glo het. Ten spyte van kommer wat deur sommige leiers in hoër onderwys uitgespreek is, het Harvard die patroon vir die meeste universiteite in die 20ste eeu daargestel (Hofstadter, 1961:726).

    Volgens Glanzer et al. (2017:139) was Eliot se elektiewe kurrikulum wat vanuit die Duitse universiteitsmodel se begrip van Lehrfreiheit en Lernfreiheit ontwikkel het, die begin van die fragmentering in die universiteite se kurrikulum. Hierdie fragmentering in die kurrikulum het meegebring dat silo's van verskillende vakwetenskappe in universiteite ontwikkel het, en die geheel van kennis binne universiteite verlore geraak het. Soos reeds aangetoon, was 'n funksie van die universiteit volgens die stigters van die Duitse universiteitsmodel juis die teenwerking van gefragmenteerde kennis. Tog het Eliot se oorbeklemtoning van Lehrfreiheit en Lernfreiheit meegebring dat 'n wesensverandering in universiteite ingetree het waar die fragmentering van kennis nie teengewerk word nie, maar inteendeel verder bevorder word.

     

    5. Gevolgtrekking

    In hierdie studie is 'n oorsig gebied van die Franse universiteitsmodel as voorloper van die Duitse universiteitsmodel. Verder is die rolspelers wat betrokke was by die totstandkoming van die Duitse universiteitsmodel bespreek. Laastens is daar ook 'n bespreking gewy aan hoe die Duitse universiteitsmodel die universiteitswese op bepaalde maniere beïnvloed het. Vanuit die studie is aangetoon dat die Franse Rewolusie en die uitvloeisel daarvan tydens die bewind van Napoleon 'n noemenswaardige effek op die universiteitswese gehad het. Die studie toon aan dat die groot ommekeer van die 19de-eeuse universiteitswese egter deur die implementering van die Duitse universiteitsmodel geskied het.

    Vryheid was die onderliggende konsep waarmee die Duitse universiteitsmodel geassosieer is. Tog was dit die sentrale belang van navorsing in die Duitse universiteitsmodel wat 'n blywende invloed op die universiteitswese sou laat. Die studie het aangetoon hoe die navorsingsgerigtheid van die Duitse universiteitsmodel 'n blywende invloed gehad het op kontemporêre kwessies binne universiteite vandag. Ten opsigte van die universiteits-staat-verhouding is die staat verantwoordelik gemaak vir die beskerming van die universiteit binne die Duitse universiteitsmodel. Dit het meegebring dat die staat die universiteit as sy eiendom beskou het. Die sterk beheer van die staat oor die universiteit het gemaak dat die universiteit deel van sy wensensfunksie verloor het, omdat dit 'n deel van sy akademiese vryheid verloor, 'n kwessie wat vandag steeds binne universiteitswese heers.

    Die Duitse universiteitsmodel se klem op navorsing het 'n groot paradigmaskuif binne universiteite meegebring. Dit het onder andere daartoe gelei dat die taak van die dosent verskuif het vanaf die onderrig van die student na navorsing en ook die "publish or perish"-kultuur te weeg gebring. Die Duitse universiteitsmodel se gedagte van Lehrfreiheit en Lernfreiheit het eers werklik in die multiversiteite tot 'n hoogtepunt gekom en talle veranderinge vir studente en kurrikuleerders veroorsaak. Vir studente het 'n ongekende vryheidsgees ontwikkel waar die student in die reeks keuses die dilemmas van vryheid teëgekom het. Vir die kurrikuleerders het die oorbeklemtoning van Lehrfreiheit en Lernfreiheit meegebring dat 'n wesensverandering in universiteite ingetree het, waar die fragmentering van kennis bevorder is.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Adrian, W. 2003. Christian Universities in Historical Perspective. Christian Higher Education, 2(1):15-33.         [ Links ]

    Axtell, J. 2016. Wisdom's Workshop: The Rise of the Modern University. New York: Princeton University Press.         [ Links ]

    Bara, FE. 2015. Wilhelm von Humboldt, Cardinal John Henry Newman, and José Ortega y Gasset: Some Thoughts on Character Education for Today's University. Journal of Character Education, 11(1):1-13.         [ Links ]

    Böckh, A. 1877. Encyklopadie und Methodologie der Philologischen Wissenschaften. Leipzig: B.G. Teubner.         [ Links ]

    Charle, C. 2004. Patterns. In: Rüegg, W (ed.). A History of the University. Volume III, Universities in the Nineteenth and Early Twentieth Centuries (1800-1945). Cambridge: Cambridge University Press, pp. 33-80.         [ Links ]

    Fichte, JG. 1808. Reden an die Deutsche Nation, (Vol. 588). Hamburg: Felix Meiner Verlag.         [ Links ]

    Glanzer, PL, Alleman, NF & Ream, TC. 2017. Restoring the soul of the university: Unifying Christian higher education in a fragmented age. Downers Grove: InterVarsity Press.         [ Links ]

    Grafton, A. 1981. Wilhelm von Humboldt. The American Scholar, 371-381.         [ Links ]

    Heyns, M. 2013. The economistic university: a brave new paradigm?. Phronimon, 14(2):1-24.         [ Links ]

    Hodes, R. 2017. Questioning 'fees must fall'. African Affairs, 116(462):140-150.         [ Links ]

    Hofstadter, R & Smith, W. 1961. A Documentary History of American Higher Education. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

    Kerr, C. 2001. The uses of the university. Harvard University Press.         [ Links ]

    Kwiek, M. 2006. The classical German idea of the university revisited, or on the nationalization of the modern institution. Poznan: Center for Public Policy Studies.         [ Links ]

    Mannoia, VJ. 2015. Christian higher education: an education that liberates. Christian High Education, 14(1/2):89-107.         [ Links ]

    Rüegg, W. 2004a. Themes. In: De Ridder-Symoens, H (ed.). A History of the University: Universities in Early Modern Europe (1500-1800). Cambridge: Cambridge University Press, pp. 3-42.         [ Links ]

    Rüegg, W. 2004b. Themes. In: Rüegg, W (ed.). A History of the University, Volume III: Universities in the Nineteenth and Early Twentieth Centuries (1800-1945). Cambridge: Cambridge University Press, pp. 3-31.         [ Links ]

    Rüegg, W. 2004c. Themes. In Rüegg, W (ed.). A History of the University in Europe. Volume IV. Universities since 1945. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 3-30.         [ Links ]

    Schleiermacher, F. 1808. Occasional Thoughts on German Universities in the German Sense. In: Menand, L, Reitter, P & Wellmon, C (eds). 2017. The Rise of the Research University: A Sourcebook. Chicago: University of Chicago Press, pp. 29-44.         [ Links ]

    von Humboldt, W. 1810. On the internal and external organization of the higher scientific institutions in Berlin. In: Dunlap, T. 1995. From Absolutism to Napoleon, 1648-1815. Volume 2. Berlin: German History in Documents and Images, pp. 1-6.         [ Links ]

    Wachelder, J. 2012. De universiteit en de stad, 1800-2000: Nabeschouwing. GEWINA/TGGNWT, 24(2):126-137.         [ Links ]

    Watts, R. 2018. Book Review: Berlin: The Mother of all Research Universities 1860-1918, by Charles E. McClelland; Nottingham: A History of Britain's Global University, by John Beckett. https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/0046760X.2017.1406154?journalCode=thed20 [Date of access: 7 June 2022].         [ Links ]

    Wilson, W. 1896. Princeton in the Nation's Service. Science, 4(103):908-910.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2022-06-18
    Goedgekeur: 2022-09-17
    Gepubliseer: Desember 2022

     

     

     

    Morné Diedericks verwerf die graad B-Th-(tale) by die Noordwes-Universiteit, sy honneurs in Kerk- en Dogmageskiedenis by die Calvyn Instituut van die Universiteit van die Vrystaat en sy Meestersgraad in Dogmatiek by die Noord-wes-Universiteit. In 2015 verwerf hy sy PhD in die Filosofie van die Opvoedkunde by die Noordwes- Universiteit. Hy is 'n dosent by Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) en doseer Filosofie van die Opvoedkunde en Godsdiensopvoeding.
    Morné Diedericks obtained the degree B-Th(languages) at the North-West University, his honours in Church and Dogmatic History at the Calvin Institute of the University of the Free State and his Master's Degree in Systematic Theology at the North-West University. In 2015 he obtained his PhD in the Philosophy of Education at the North-West University. Currently, he is a lecturer at Aros and is involved in teaching the modules Philosophy of Education and Religious Education.