SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4The third Afrikaans church Bible: Processes and practices of a direct translationLanguage change in the Afrikaans translations of the Gospel of Mark author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.62 n.4 Pretoria Dec. 2022

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a11 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    'n Perspektief op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk

     

    A perspective on Orania's OSC Co-operative Bank Limited

     

     

    Fame JoubertI; André LaäsII; Anna Maria LaäsIII; Jannie RossouwIV; Cobus VermeulenV

    IDepartement Ekonomie, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. E-pos: sjjoube@unisa.ac.za
    IIDirekteur, Beneficio Finansieringskorporasie, Pretoria. Suid-Afrika
    IIIDirekteur, Laäs Döman Ingelyf Prokureurs, Waterkloof, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: laas-am@law.co.za
    IVBesoekende Professor, Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand. Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: Jannie.rossouw@wits.ac.za
    VDepartement Ekonomie, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: vermejc@unisa.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Banke, as mobiliseerders van spaargeld, speel 'n belangrike rol in die kanalisering van beleggings, maar ook in die verbetering van die lewenstandaard van die bevolking of gemeenskappe waarbinne hulle funksioneer. Die omskakeling van besparings na beleggings stimuleer die beleggingsvermenigvuldiger, wat weer toon dat 'n toename in investeringsbesteding die totale ekonomie ondersteun. 'n Analise van die leningsbedrywighede van banke wys dat hierdie instellings beide likiditeits- en solvensieprobleme in die gesig staar. Om hierdie risiko's te vermy, is dit belangrik dat banke die korrekte rentekoers hef wat die risiko verbonde aan die lening en die koste van kapitaal om die lening te befonds, weerspieël.
    Hierdie artikel ontleed spesifiek die rol wat koöperatiewe banke en koöperatiewe finansiële instellings in die Suid-Afrikaanse ekonomie vervul, deur te fokus op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk (OSK), die grootste koöperatiewe bank in Suid-Afrika. Die navorsing bestudeer die ontstaan en ontwikkeling van die OSK se uitleenaktiwiteite om belegging aan te moedig in die omgewing wat deur die bank bedien word.
    Die gevolgtrekking is onder meer dat die instelling 'n beduidende positiewe invloed op Orania se ekonomiese ontwikkeling gehad het. Die aanbeveling uit hierdie navorsing is dat die OSK as voorbeeld vir ander koöperatiewe banke en koöperatiewe finansiële instellings kan dien, om soortgelyke praktyke in werking te stel en sodoende die direkte omgewing waarbinne hulle werksaam is, te ondersteun.

    Trefwoorde: banke, finansiële tussengangers, koöperatiewe banke, geldvoorraad, kredietverlening, Orania, OSK Koöperatiewe Bank Beperk (OSK), ora


    ABSTRACT

    In the mobilisation of savings, banks play an important role in channelling investments, but also in improving the standard of living of the population or communities served by these institutions. The channelling of savings to investment stimulates the investment multiplier, which shows the total impact on the economy as a result of increased investment. An analysis of the lending activities of banks shows that these institutions face both liquidity and solvency risks. To avoid these risks, it is important for banks to lend funds to borrowers at appropriate rates that correctly reflect the riskiness of lending activities.
    Against this background, this article draws specific attention to the role that co-operative banks and co-operative financial institutions play in the South African economy, by focusing on Orania's OSC Co-operative Bank Limited (OSC), the largest co-operative bank in South Africa. The paper considers the origin and expansion of the OSC's lending practices and its role in encouraging investment in the community served by the bank.
    The main research finding is that the OSC has had a significant positive influence on Orania's economic development. The recommendation from this research is that the OSC can serve as an example for other co-operative banks and co-operative financial institutions to implement similar practices in order to support the communities in which they operate.

    Keywords: banks, financial intermediaries, co-operative banks, money supply, credit extension, Orania, OSC Co-operative Bank Limited (OSC), ora


     

     

    1. Inleiding

    Kredietverlening stimuleer beleggingsbedrywighede in die ekonomie, wat weer deur middel van die beleggingsvermenigvuldiger ekonomiese groei bevorder (Mishkin, 2010). Kredietverlening is dus 'n noodsaaklike funksie in die strewe na die verbetering van die lewenstandaard van die bevolking, wat van ekonomiese groei afhanklik is. Banke, as mobiliseerders van spaargeld, speel 'n belangrike rol in die kanalisering van beleggings.

    Wanneer daar na geregistreerde finansiële instellings binne die bankomgewing in Suid-Afrika verwys word, onderskei die SA Reserwebank tussen vier breë kategorieë, naamlik: banke en verteenwoordigende kantore; gelisensieerde versekeraars; koöperatiewe banke; en koöperatiewe finansiële instellings (SA Reserwebank, 2021a). Laasgenoemde twee kategorieë word dikwels onder dieselfde vaandel beskou, gegewe die natuurlike progressie van koöperatiewe finansiële instellings na koöperatiewe banke. Hierdie oorskakeling kan wetlik plaasvind sodra die instelling meer as 200 lede, of deposito's van R1 miljoen, het (SA Reserwebank 2014:6).

    Navorsing toon dat koöperatiewe finansiële instellings (KFI's) (co-operative financial institutions, CFIs) internasionaal 'n beduidende rol speel sover dit toegang tot basiese bankdienste en krediet betref. Mushonga et al. (2018) verwys na die rol wat hierdie instellings speel om veral "finansieel uitgeslote gemeenskappe" asook "persone met laer inkomste" toegang tot finansiering te bied, wat dan ook finansiële dienste insluit. In teenstelling met die verwagting, was die bevinding egter dat daar tussen 2011 en 2017 'n wesenlike daling in die aantal KFI's in Suid-Afrika was, en dat Suid-Afrika een van die laagste KFI-penetrasiekoerse ter wêreld het (Mushonga et al., 2018:2).

    Volgens die SA Reserwebank (2021) is die OSK Koöperatiewe Bank Beperk (OSK) tans die grootste koöperatiewe bank in Suid-Afrika sover dit die waarde van deposito's betref. Teen die agtergrond van die dalende neiging in KFI's in Suid-Afrika, staan die OSK se beduidende vooruitgang gedurende die laaste paar jaar in skrille kontras.

    Boshoff (2012) en Senekal (2021) bespreek die ontstaan en ontwikkelingsgeskiedenis van Orania. Senekal (2021) verwys ook na "'n eie bank" vir Orania as 'n "kerninstelling vir ekonomiese groei". Verder meld hy dat die OSK as "grootste gemeenskapsbank in Suid-Afrika ... verdere studie verdien" (Senekal, 2021:536 & 545). Hierdie artikel fokus dus op die navorsingsbehoefte wat Senekal (2021) geïdentifiseer het, deur die agtergrond, rol en invloed van die OSK op die ekonomie van Orania binne die konteks van die bankwese te ondersoek. Dit word benader vanuit die perspektief van die tradisionele rol van banke in die ekonomie, maar met 'n sterk klem op spesifiek koöperatiewe banke in Suid-Afrika.

    Die res van hierdie artikel is soos volg gestruktureer: Afdeling 2 oorweeg die teorie en literatuur oor banke en koöperatiewe banke. In Afdeling 3 word verder hierop uitgebrei deur te fokus op die verskillende kategorieë en bedrywighede van geregistreerde banke en die koöperatiewe banklandskap in Suid-Afrika. Afdeling 4 gee agtergrond oor die Orania-ekonomie, asook die ontstaan en rol van die OSK binne dié mikro-ekonomiese kosmos. Afdeling 5 bied 'n blik op die OSK se leningsbedrywighede en die impak daarvan op Orania se eiendomsmark en breër ekonomie. Gevolgtrekkings volg in Afdeling 6.

     

    2. Literatuuroorsig

    Kredietverlening aan die privaat sektor stimuleer beleggings in die ekonomie, veral sover dit die finansiering van produksie, verbruiksbesteding en kapitaalvorming ondersteun (Mohr, 2016:175). Dit is egter nie die enigste faktor wat tot ekonomiese groei bydra nie. Ander faktore, wat ook die beleggingsvermenigvuldiger ondersteun, sluit natuurlike hulpbronne, menslike hulpbronne, tegnologiese ontwikkeling, produktiwiteit en entrepreneurskap in. Ekonomiese groei word ook ondersteun deur politieke stabiliteit en beleidsekerheid, wat gesonde monetêre en fiskale beleid insluit (sien byvoorbeeld Fedderke & Luiz, 2015, of Radu, 2015).

    2.1 Die beleggingsvermenigvuldiger

    Die basis vir ekonomiese groei word geïllustreer deur die berekening van die bruto binnelandse produk (BBP, ekwivalent aan inkome, Y) - sien byvoorbeeld Mohr et al. (2008):

    waar C verbruiksbesteding deur huishoudings, I investeringsbesteding deur firmas, G owerheidsbesteding, X uitvoer en Z invoer voorstel. Groei in inkome (Y) kan dus volg op toenames in verbruikersbesteding (C), investeringsbesteding (I), owerheidsbesteding (G) en/ of uitvoer (X), of 'n afname in invoer (Z).

    Ten einde te voorspel wat met ekonomiese groei sal gebeur indien die vlak van investering verander, kan die beleggingsvermenigvuldiger (b) gebruik word. Die beleggingsvermenigvuldiger word wiskundig voorgestel as:

    waar g die grensverbruiksgeneigdheid (marginal propensity to consume) van verbruikers verteenwoordig. Die verandering in ekonomiese groei (DY ), binne hierdie doelbewus beperkte teoretiese raamwerk kan dan wiskundig voorgestel word (Snowdon & Vane, 2005) as:

    Die vermenigvuldiger bereken die verhouding tussen die uiteindelike verandering in die land se inkome (BBP) en die aanvanklike verandering in investering. Die omvang van besteding word bepaal deur elke individu se grensverbruiksgeneigdheid (g), naamlik daardie gedeelte van bykomende inkome wat vir verbruiksbesteding aangewend word. In vergelyking 3 hierbo, word die nasionale grensverbruiksgeneigdheid gebruik.

    Weens belegging in die ekonomie verhoog die besteding, byvoorbeeld weens 'n toename in indiensneming. Die kleinhandelaars waar geld gevolglik bestee word, se eienaars en werkers sal op hul beurt weer 'n gedeelte van die inkomste wat hulle ontvang, herbestee. Die grootte van die vermenigvuldiger "b" hang dus af van die grootte van die deel van die addisionele inkomste (grensverbruiksbesteding) wat in elke rondte gegenereer en in die volgende rondte spandeer word, met laasgenoemde wat bekend staan as die grensverbruiksgeneigdheid (Mohr et al., 2008:443). Die aanvanklike toename in investering kring dan uit deur die ekonomie, lewer positiewe eksternaliteite op, en stimuleer verdere produksie en ekonomiese bedrywigheid.

    Banke is 'n belangrike bron van finansiering vir besighede en individue se bedrywighede, investeringsbedrywighede en verbruikersbesteding. Banke speel 'n prominente rol in die nasionale betalingstelsel, wat - deur duisende daaglikse transaksies - doeltreffende handel bewerkstellig. Banke kan ook staatsbesteding ondersteun deur fiskale tekorte te finansier (Van der Merwe et al., 2014:42). 'n Verdere unieke funksie van banke is dat hulle "geld kan skep" deur nuwe lenings uit te reik. Hierdie aspek word verder in Afdeling 3 verduidelik.

    2.2 Koöperatiewe banke

    Die Internasionale Koöperatiewe Alliansie (IKA) is 'n nie-regeringsorganisasie wat reeds in 1895 gestig is met die doel om koöperatiewe bewegings wêreldwyd te ondersteun. Die organisasie omskryf 'n koöperatiewe beweging as 'n selfstandige organisasie of persone wat vrywillig saamwerk om gesamentlike ekonomiese, sosiale of kulturele behoeftes te vervul, deur gesamentlike eienaarskap en demokratiese beheer. Die waardes wat die organisasie nastreef, sluit selfhelp, eie verantwoordelikheid, gelykheid en solidariteit in (IKA, 2022).

    Die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO, 2020:5) sluit hierby aan deur te noem dat koöperatiewe besighede sekere eienskappe van "tradisionele" besighede deel, byvoorbeeld om markaktiwiteite op 'n kommersiële grondslag te bedryf, maar dat hulle "spesiale strategiese" eienskappe het wat voorkeur geniet bo en behalwe die doelwit om winste te genereer. Voorbeelde hiervan sluit in om dienste teen kosprys aan lede te verskaf, om insette teen billike waarde vanaf produserende lede aan te koop, en om werk te skep en aangename werksom-standighede aan lede-werkers te bied.

    Hierdie kwasi-besigheidseienskappe van koöperatiewes skep uitdagings in soverre dit op klassieke ekonomiese teorie betrekking het. Royer (2014:2) verduidelik dat die meeste teorieë van firmas begin met die aanname van winsmaksimering. Dit word egter as onvanpas beskou binne die koöperatiewe teorie, wat eerder fokus op ander doelwitte van koöperatiewe besighede, om byvoorbeeld lede se opbrengste of terugbetalings aan lede te maksimeer, of om kostes te beperk (te minimaliseer). Royer (2014) ontwikkel dan ook die Neo-klassieke teorie van koöperatiewes waarin sommige van die doelwitte in verdere besonderhede bespreek word.

    Met betrekking tot die impak van koöperatiewe besighede op die ekonomie, toon die IAO (2020:5) dat dié besighede kan bydra tot markstabiliteit deur, onder andere, markfoute reg te stel, konsentrasie in markte te beperk en asimmetriese inligting (m.a.w. inligting wat nie aan alle partye beskikbaar is nie) te verminder. Daar is ook bewyse dat koöperatiewe banke beter vaar tydens finansiële krisisse. Chiaramonte, Poli en Oriani (2015) het 'n steekproef van Europese koöperatiewe, spaar- en kommersiële banke sowel voor as ná die 2008 Globale Finansiële Krisis ondersoek, en onder andere bevind dat koöperatiewe banke beter gevaar het relatief tot die ander banksoorte. Hulle skryf dit toe aan hul kenmerkende besigheidsmodel en toesighoudingstrukture, wat beteken het dat hulle minder blootgestel was aan slegte ("toksiese") bates, hul besigheid meer gefokus het op plaaslike bedrywighede, en daar 'n sterk klem op die belang van lede was (Chiaramonte et al, 2015:492). Hulle voeg egter by dat die prestasie korreleer met verskillende ekonomiese en finansiële toestande, en dat die meeste banksoorte tydens tye van 'n opwaartse sakesiklus (s.g. "boom'") stabiel presteer (Chiaramonte et al., 2015:519).

    Catturani, Kalmi en Stefani (2016) ontleed aspekte van sosiale kapitaal van Italiaanse koöperatiewe banke, en beklemtoon dat hierdie banke gekenmerk word deur hul fokus op plaaslike verwantskappe, wat hulle in 'n posisie stel om meer persoonlike ("sagte'") inligting van individue te bekom. Gevolglik word kostes verwant aan morele risiko's (moral hazards) en seleksieprobleme (adverse selection) beperk. Dié bron beklemtoon dat koöperatiewe banke, veral in Italië, getrou bly aan hul oorsprong en herkoms en meestal in landelike gebiede werksaam is. Die gevolg is dat dit finansiële insluiting aanmoedig, veral vir groepe wat moontlik andersins aan diskriminasie in finansiële markte blootgestel sal wees (Catturani et al., 2016:2056). Nóg 'n bevinding is dat koöperatiewe banke beter presteer waar wedersydse kennis en vertroue teenwoordig is. Die verwantskap is sterker waar lenings ook aan kleinsakeonder-nemings toegestaan word (Catturani et al., 2016:218-9).

     

    3. Geregistreerde banke en koöperatiewe banke in Suid-Afrika

    Van Wyk et al. (2019:33) groepeer die ekonomiese bydrae van banke soos volg:

    1. Die aanvaarding van deposito's en die voorsiening van lenings;

    2. Die voorsiening van betalings-, klarings- en skikkingsdienste;

    3. Die lewering van verwante dienste, bv. risikobestuur, beleggings- en adviesdienste.

    Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat daar talle verskillende tipes ''banke'' (banke is 'n onderafdeling van finansiële instellings, wat byvoorbeeld ook versekeraars insluit) bestaan, elk met spesifieke mandate en fokus van bedrywighede. Volgens die SA Reserwebank se Omsigtigheidsreguleerder (Prudential Regulator) word geregistreerde finansiële instellings in Suid-Afrika in vier kategorieë ingedeel, naamlik:

    geregistreerde banke en verteenwoordigende kantore;

    gelisensieerde versekeraars;

    geregistreerde koöperatiewe banke; en

    geregistreerde koöperatiewe finansiële instellings.

    (SA Reserwebank 2021a)

    Weens die belangrike rol wat banke in die ekonomie speel, is die banksektor een van die mees gereguleerde industrieë. Finansiële regulering het ten doel om die voorsiening van inligting aan beleggers te verseker (en sodoende beleggers en verbruikers te beskerm) en ook om die gesondheid van die finansiële stelsel te verseker (Mishkin, 2010).

    Die Financial Services Laws General Amendment Act, 2013 (Wet No. 45 van 2013) (FSLGAA) is op 12 November 2013 deur die Parlement gepromulgeer. Hierdie wet het sekere veranderings aan die Wet op Koöperatiewe Banke, 2007 (Wet No. 40 van 2007) goedgekeur. Die belangrikste verandering was dat toesig oor alle koöperatiewe banke vanaf 28 Februarie 2014 onder die beheer van die SA Reserwebank gesentraliseer is (SA Reserwebank, 2014).

    Wetlik in Suid-Afrika kan banke kragtens een van drie wette geregistreer word: Die Bankwet van 1990, soos gewysig, die Onderlinge Bankwet van 1993, soos gewysig, en die Koöperatiewe Bankwet van 2007, soos gewysig (Republiek van Suid-Afrika, 1990, 1993 & 2007; SA Reserwebank, 2018a). Teen die einde van 2017 was 25 banke kragtens hierdie drie wette geregistreer, maar wat aantal (19) en bates (meer as 90%) betref, was die oorgrote meerderheid banke wat kragtens die Bankwet van 1990 geregistreer is (SA Reserwebank, 2018a). In 2017 was slegs drie banke kragtens elk van die ander twee wette geregistreer. Vir doeleindes van die ontleding wat in hierdie artikel volg, is banke wat kragtens die Koöperatiewe Bankwet van 2007, soos gewysig, geregistreer is, van besondere belang.

    Die handelsbevoegdheid van koöperatiewe banke is beperk in vergelyking met dié van banke wat kragtens die Bankwet van 1990 geregistreer is. Die vernaamste verskil tussen koöperatiewe banke en handelsbanke is dat 'n koöperatiewe bank deur sy lede besit word - en nie deur aandeelhouers in 'n publieke maatskappy soos in die geval van 'n handelsbank nie. Dit beteken dus dat 'n lid beide 'n kliënt en die mede-eienaar van die koöperatiewe bank is (SA Reserwebank, 2018b). Die doel van 'n koöperatiewe bank is daarom nie om winste te maksimeer nie, maar eerder om die beste moontlike produkte en dienste aan sy lede te bied (Van Wyk et al., 2019:57). Koöperatiewe banke is ook diep gewortel in hul plaaslike gemeenskappe, en dra sterk by tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling, veral in gebiede waar ander banke afwesig is.

    3.1 Grensvoorwaardes vir die suksesvolle bestuur van 'n bank

    Die bestuur van 'n bank kan aan die hand van die volgende vier grensvoorwaardes beoordeel word:

    1. effektiewe bestuur van die bank se likiditeit en solvensie;

    2. die befondsing van lenings deur kapitaal en deposito's;

    3. rentekoerse wat op lenings gehef word moet die risiko van die lenings, skaarsheid en die koste van kapitaal korrek weerspieël;

    4. fooie vir dienste gelewer moet korrek bereken word om kostes te dek.

    3.1.1 Likiditeit en solvensie

    Die Lombaard Bank wat in Maart 1793 in Kaapstad gevestig is, was Suid-Afrika se eerste bank (Arndt, 1928), maar moes in 1842 weens finansiële probleme sluit (Rossouw, 1983). Trouens, die voortbestaan van geen bank is gewaarborg nie. Die bankwese is 'n riskante bedryf, met verskeie Suid-Afrikaanse banke wat vanweë finansiële probleme moes sluit. Bekende voorbeelde is Saambou Bank (sien byvoorbeeld Mittner, 2003) of (meer onlangs) VBS Bank (Mantshantsha, 2018).

    Die feit dat regerings somtyds hulp aan banke moet verleen, toon dat 'n bank wat 'n likiditeits- of solvensieprobleem in die gesig staar, nie sodanige probleme te bowe kan kom deur bloot meer lenings toe te staan nie. Trouens, as dit die wyse was om sodanige probleme die hoof te bied, sal geen bank ooit weens 'n likiditeits- of solvensieprobleem hoef te sluit nie; hulle kan bloot net aanhou krediet verleen. Dit stel die eerste grensvoorwaarde vir die OSK: die bestuur van die bank moet die instelling se likiditeit en solvensie bestuur. Daar moet egter in gedagte gehou word dat koöperatiewe banke slegs lenings teen sy deposito's kan skep. Dit is in teenstelling met 'n kommersiële bank, wat geld kan skep deur lenings toe te staan wat nie deur deposito's gerugsteun word nie. Koöperatiewe banke is dus van nature beter beskermd teen likiditeits- en solvensieprobleme.

    3.1.2 Befondsing van lenings

    Die basiese benadering in die literatuur wat oor bankwese en kredietverlening handel, is gebaseer op die teorie van die depositovermenigvuldiger. Kragtens hierdie teorie sal oorskotreserwes weens 'n toename in deposito's van banke tot groei in hul bates (die uitleenbedrywighede) lei, wat tot 'n volgende rondte van deposito's aanleiding gee (sien byvoorbeeld Van der Merwe et al., 2014). Hierkragtens word die vermoë van banke om hul bates uit te brei, bepaal deur die formule waar AD die verandering in deposito's by banke is, voorgestel as (sien byvoorbeeld Mishkin, 2010):

    met ΔR die verandering in reserwes en r die vereiste reserweverhouding soos voorgeskryf deur die sentrale bank.

    Die tweede grensvoorwaarde is dus dat die OSK se lenings deur deposito's befonds moet word.

    3.1.3 Rentekoerse

    Die vlak van uitleenrentekoerse van Suid-Afrikaanse banke word van die SA Reserwebank se repokoers afgelei. Volgens die BusinessDictionary (S.a.) is hierdie diskontokoers die koers waarteen sekuriteite deur die sentrale bank vanaf kommersiële banke teruggekoop word. Om die geldvoorraad tydelik te verhoog, verlaag die sentrale bank die repokoers. Om die geldvoorraad te verlaag, word die repokoers verhoog.

    Die Monetêre Beleidskomitee van die SA Reserwebank stel die repokoers vas. Aangesien Suid-Afrika se monetêre beleid in 'n inflasieteiken geanker is, bepaal die verwagte toekomstige verloop van die inflasiekoers die vlak van die repokoers, omdat daar 'n direkte verband tussen inflasie en rentekoerse bestaan (Mankiw, 2020).

    Suid-Afrikaanse banke gebruik die repokoers as die basis vir die bepaling van die prima-koers op lenings. Tans (2022) is die prima-uitleenkoers teen 'n verhouding van 3,5 persen-tasiepunte bó die repokoers vasgepen. Die prima-uitleenkoers is slegs 'n "verwysingskoers" - die werklike rentekoers wat kliënte op lenings betaal, word relatief tot hierdie verwysingskoers bepaal. Vanuit die bank se oogpunt is die korrekte "prys" (naamlik die rentekoers wat gehef word) van belang, want hierdie "prys" weerspieël die risiko verbonde aan die lening en die koste van kapitaal om die lening te befonds.

    Die derde grensvoorwaarde vir die OSK is die korrekte vlak van rentekoerse op lenings, om sodoende risiko korrek te weerspieël.

    3.1.4 Fooie

    Fooie, soos byvoorbeeld bankkostes en kommissie op transaksies, is ander belangrike bronne van inkomste vir banke. Dit is die vierde grensvoorwaarde vir die OSK: Fooie vir dienste gelewer moet korrek bereken word om kostes te dek.

    3.2 Die huidige koöperatiewe banklandskap

    Die jongste beskikbare data (dit is vir die einde van 2019/2020) rapporteer op daardie tydstip vyf geregistreerde koöperatiewe banke in Suid-Afrika. Die ledetal van hierdie banke wissel

    tussen 604 vir die Koöperatiewe Bank Beperk (KSK) en 1 523 vir die OSK. Deposito's by hierdie banke wissel van R1,9 miljoen (Webbers Employees Savings and Credit Co-operative Bank) tot R160 miljoen (OSK) (sien Tabel 1). Die KSK Koöperatiewe Bank Beperk is die ''jongste'' instelling en is effektief op 1 Oktober 2020 as 'n koöperatiewe bank geregistreer (Republiek van Suid-Afrika, 2020). Al vyf die instellings is ook by die Omsigtigheidsregu-leerder geregistreer.

     

     

    Soos blyk uit die name van die instellings, is hul primêre fokus dié van depositoneming en die toestaan van lenings en/of krediet. Trouens, die gekonsolideerde balansstate van koöperatiewe banke1 vir die jaar tot 28 Februarie 2018 toon dat (SA Reserwebank, 2018b) die koöperatiewe banksektor se totale bates 26,6% jaar-op-jaar gegroei het, vanaf R121,2 miljoen tot R153,5 miljoen. Dit is gedryf deur groei in lenings. Toenames in laste was hoofsaaklik te wyte aan deposito's, wat sowat 98% van die totale laste uitmaak.

    Sodra 'n koöperatiewe bank 200 of meer lede het, of sy deposito's die waarde van R1 miljoen oorskry, moet daar aan die Wet op Koöperatiewe Banke van 2007 voldoen word. Voor hierdie mylpaal bereik word, staan sodanige instellings as koöperatiewe finansiële instellings (KFI's) bekend. Soos reeds gemeld in die inleiding, bestaan daar 'n natuurlike progressie vanaf 'n KFI na 'n koöperatiewe bank. Die Ontwikkelingsagentskap vir Koöperatiewe Banke (Co-operative Banks Development Agency, CBDA) verduidelik dat (CBDA, 2018:21) potensiële KFI's voldoen aan die Koöperatiewe Bankwet se vereistes van meer as 200 lede en R1 miljoen deposito's - maar nog nie aan al die omsigtigheidsvereistes (prudential requirements) van die SA Reserwebank nie. Die instellings funksioneer dus onder die CBDA se regulasies.

    Betreffende die koöperatiewe banksektor (d.i. KFI's en koöperatiewe banke) se bates was dit in 2018 bykans om die helfte verdeel, met 51% by KFI's teenoor 49% by koöperatiewe banke. In terme van ledetal was KFI's baie groter, met 24 066 lede in 2018 (CBDA, 2018:21). Die jongste beskikbare data (dit is vir Februarie 2021) toon dat daar op daardie tydstip 23 geregistreerde KFI's in Suid-Afrika was. Wat lede betref, was Motswedi Financial Services Co-operative Ltd die grootste (2 261), terwyl Oranjekas Savings and Credit Co-operative (SACCO) met sowat R40 miljoen die grootste bedrag in deposito's gehad het (SA Reserwebank, 2021a).

    Belangrik sover dit hierdie navorsing aangaan, is dat daar 'n groot aantal KFI's bestaan wat moontlik in die toekoms ook as volwaardige koöperatiewe banke sal kan registreer. Aansporings vir verdere groei is onder meer die Nasionale Tesourie se Financial Co-operative retail bond wat in Oktober 2011 vrygestel is en wat 'n "veilige spaarinstrument" daarstel waarin KFI's en koöperatiewe banke kan belê (CBDA, 2018:27).

     

    4. Die ontwikkeling van die OSK Koöperatiewe Bank Beperk (OSK) en die ora

    Boshoff (2012) en Senekal (2021) gee 'n omvattende oorsig van Orania se ontwikkeling. Hierdie artikel sluit hierby aan deur die fokus te verskuif na die unieke ontwikkeling van finansiële dienste in dié dorp. In die vroeë 1990's was dit 'n uitdaging vir inwoners van Orania om bankdienste te bekom. Werkers wat per tjek betaal is, moes na Hopetown (sowat 43 km van Orania) reis om tjeks te wissel en om hul inkomste te bestee. Betaling per tjek is teen die einde van 2020 in Suid-Afrika uitgefaseer.

    Lukas Taljaard,2 'n sakeman in Orania wat die plaaslike vulstasie bedryf het, het 'n gaping in die mark gesien en begin om werkers se tjeks te endosseer vir kontant. Koste is verhaal teen 'n fooi van sowat R5 per tjek. Dit was in werklikheid die eenvoudige ontstaan van wat vandag as die OSK Koöperatiewe Bank Beperk bekend staan.

    Die tjekwisselings was meerdoelig:

    i. 'n diens aan werkers wat kontant nodig gehad het en nie na Hopetown kon reis nie;

    ii. om besteding van werkerslone op Orania, eerder as Hopetown, aan te moedig; en

    iii. om kontanthantering by die vulstasie te verminder.

    Die probleem was egter dat dié informele reëling nie aan die vereistes van die Bankwet (van 1990) voldoen het nie, omdat dit aspekte van depositoneming omvat het. Omstreeks 2001 het Ters Schuman (afgetrede ouditeur) besef dat iets reëlmatig op die been gebring moes word. Daar is besluit om 'n spaar- en kredietkoöperatief te stig wat deel was van die South African Credit Co-operative League (SACCOL). Die Orania Spaar- en Kredietkoöperatief Beperk is gevolglik op 18 Maart 2002 gestig. Die instelling het dus op 18 Maart 2022 sy 20ste bestaansjaar gevier.

    Die SA Reserwebank erken SACCOL as die verteenwoordigers van spaar- en krediet-koöperatiewe (asook "Krediet Unies" - Credit Unions), soos uiteengesit in die Staatskoerant Vol. 29412 (1176), Desember 2006 (SACCOL, 2019). Dit beteken dat hierdie instansies vrygestel is/word van die Bankwet van 1990. Ook noemenswaardig is dat die instelling wat tans as die OSK bekend staan, een van die eerste spaar- en kredietkoöperatiewe binne Suid-Afrika was wat as sodanig geregistreer is. Dit het tot gevolg gehad dat die owerhede, veral die SA Reserwebank, groot belangstelling getoon het in die ontstaan en ontwikkeling van die instelling, en dit in talle opsigte as 'n gevallestudie vir ander moontlike soortgelyke instellings beskou word.

    Ongeveer die begin van die 2000's is die instelling só bestuur dat dit steeds geen wins getoon het nie. Die instelling het egter gegroei en werknemers is aangestel. Taljaard was steeds in beheer, maar het geen salaris verdien nie. Dit bevestig die oorhoofse motief van die bank, naamlik om die gemeenskap te dien - iets wat vandag nog baie prominent blyk uit die manier hoe die bank besigheid doen.

    Een van die eerste uitdagings was om 'n bankrekening vir die OSK self te open by 'n bank wat kragtens die Bankwet van 1990 geregistreer is. Die naaste dorp was Hopetown, waar verskillende bankgroepe takkantore gehad het. In 2002 het die OSK 'n bankrekening by Standard Bank oopgemaak. In praktyk kan die OSK dus nou aan die nasionale betaalstelsel deelneem via die Standard Bank-bankrekening. Kliënte kan 'n betaling in die OSK se rekening by Standard Bank maak, waarna dit op grond van 'n kliëntenommer aan die individu se rekening by die OSK toegedeel word. Dit beteken dat daar 'n "substel van rekeninge" bestaan wat bedryf word soortgelyk aan 'n prokureur se trustrekening.

    Die omgewing waarbinne die instelling werksaam was, het ook groei getoon en gevolglik was daar veral 'n toename in die aanvraag na lenings - spesifiek huislenings. Teen 2007 het die instelling 'n batewaarde van meer as R18 miljoen gehad. Dit het beteken dat die bank kragtens die Wet op Koöperatiewe Banke van 2007 moes funksioneer.

    In 2011 is die OSK as volwaardige koöperatiewe bank geregistreer. Tydens die registrasie moes daar besluit word op 'n naam vir die bank, en voorstelle wat oorweeg is, sluit die "Orania Koöperatiewe Bank Beperk" en "OSK Koöperatiewe Bank Beperk" in. Gegewe dat die afkorting "OSK" reeds so gevestig was in die volksmond, is daar besluit om die afkorting alleen te gebruik as nuwe naam. Die naam is dus sedert Junie 2011 nie meer "Orania Spaar en Krediet" nie, maar slegs "OSK Koöperatiewe Bank Beperk". Dit is ook die rede waarom die "Orania Spaar en Krediet"-gedeelte nie meer deel is van die naam nie.

    Vanuit die bank se oogpunt blyk dit egter dat die feit dat die OSK nie direkte toegang tot die nasionale betaalstelsel het nie, wel 'n administratiewe las op die instelling plaas. Om buite die stelsel te bly, is egter tans steeds meer koste-effektief, gegewe die "klein" ledetal. Die OSK hou byvoorbeeld 'n geskrewe verwerkingstelsel, byvoorbeeld waar debietorders onder andere bygevoeg kan word; dit word dan as 'n enkele ''staat'' na Standard Bank gestuur vir elektroniese verwerking (EFT). Alhoewel daar nie elektroniese EFT-fasiliteite (EFTs) by die OSK is nie, sal die bestuur van die OSK in sekere gevalle transaksies goedkeur (en uitvoer) wat op skrif (byvoorbeeld epos-opdragte) aan die instelling gerig word. Dit is 'n voordeel van 'n "klein" instelling waar die bestuur van die bank die meeste van hul kliënte en hul finansiële posisies persoonlik ken. Alhoewel die handgeskrewe stelsel verouderd is, is daar talle funksionele bankopsies beskikbaar, insluitende inbetalings (ora-"geldeenheid"/rand/tjeks), onttrekkings (ora/rand), oorbetalings per internet na ander banke, oorplasings na OSK-kaartrekeninge, of ander transaksies (bankstate, ens.).

    In praktyk beteken dit dat die OSK slegs toegang tot die betaalstelsel het deur een van die geregistreerde banke. Enige reserwefondse moet ook noodgedwonge by 'n geregistreerde bank geplaas word. Dit is ook vanweë hierdie rede dat lede nie 'n individuele rekeningnommer, soortgelyk aan die groter banke se kliënterekeningnommers, kan bekom nie. By navraag het die bestuurder van die OSK bevestig dat die aanvraag hierna buitendien baie min is.

    Die OSK is kreatief in die manier waarop mense aangemoedig word om geld by die instelling te belê, asook om spesifiek die plaaslike geldeenheid (ora) te gebruik. Oor die algemeen hef die OSK geen maandelikse fooie nie en is slegs transaksiekostes van toepassing. Laasgenoemde kostes word ook geskrap wanneer transaksies in oras plaasvind. Dit impliseer dat die OSK een van die grensvoorwaardes (fooie) vir suksesvolle bankwese baie noukeurig moet bestuur.

    Soortgelyk as wat daar in die literatuur uitgelig is, dui die bestuurder van die OSK aan dat die bank 'n sterk fokus het op finansiële insluiting (financial inclusion); oftewel, om by die sogenaamde "unbankables" uit te kom. 'n Ander beduidende voordeel van die OSK is dat dit eiendom binne Orania as sekuriteit teen lenings aanvaar. Eiendom binne Orania word byvoorbeeld nie deur die groot vyf banke as sekuriteit aanvaar nie omdat dit nie op voltitel of deeltitel gebaseer is nie, maar eerder ingevolge die Wet op die Beheer van Aandeelblokke (Republiek van Suid-Afrika, 1980).

    In 2019 het die OSK se batewaarde bykans R200 miljoen beloop, en het dit 'n ledetal van ongeveer 1 400 gehad. Dit gee 'n aanduiding van die beduidende invloed wat die OSK in sy omliggende omgewing het, veral as 'n mens in gedagte hou dat daar toe maar sowat 1 700 inwoners in Orania was. Ook noemenswaardig is dat daar sowat 108 000 transaksies gedurende die 2018/19-boekjaar geboekstaaf is, wat direkte inbetalings in die OSK se rekening by Standard Bank insluit.

    Die OSK het sterk groei getoon gedurende die laaste paar jaar en die batewaarde het in Maart 2022 reeds op R327 miljoen gestaan (dit sluit lenings van R195 miljoen in). Hierdie syfers is in teenstelling met verwagtings dat die grendelstaat 'n negatiewe impak op bedrywighede sou hê. Die deposito's van die bank het in 2020 met 38,0 persent gestyg. In 2021 ontvang die instelling die prys as beste koöperatiewe bank in Suid-Afrika van die Reserwebank se Omsigtigheidstoesighouer (Prudential Authority). In afdeling 5 word die instelling se groei en impak verder ontleed deur spesifiek te kyk na die leningsbedrywighede.

    Nog 'n unieke eienskap van Orania se finansiële stelsel is die plaaslike "geldeenheid", of ora. Dit word deur die sakekamer van Orania uitgereik en deur die OSK geadministreer. Dit word met die simbool $ geïdentifiseer. Die fisiese druk van die note geskied in Kimberley. Alhoewel daar na die ora as 'n "geldeenheid" verwys word, is dit in werklikheid geregistreer as 'n koepon of koopbewys. Dit dien dus as 'n ruilmiddel en die Orania Sakekamer en die OSK mag ook geen ander "geld" (byvoorbeeld rande) uitreik nie.

    Die uitleg van die "noot" het 'n sterk kulturele uitbeelding, byvoorbeeld die skets van "Rachel de Beer" op die $ 10-noot. Agterop die "note" is daar advertensieruimte waar plaaslike besighede hul goedere of dienste kan adverteer, wat weer op sy beurt help om van die drukkerskoste van die "note" te dek. Die "note" het veiligheidseienskappe, byvoorbeeld 'n watermerk en fluoresserende eienskappe (wat slegs onder UV-ligte gesien kan word). Gedurende 2019 was daar na raming ora ten bedrae van sowat R1,5 miljoen in omloop.

    Die ora word teen 'n ruilwaarde (wisselkoers) van een-tot-een (1:1) teenoor die Suid-Afrikaanse rand uitgereik. Dit is ook vrylik verwisselbaar vir randnote of randdeposito's by die OSK. Omdat die sakekamer Suid-Afrikaanse rande in reserwe moet hou gelykstaande aan die oras wat uitgereik word, dra ora-uitreiking nie tot geldskepping in Suid-Afrika by nie. Bevestiging kon egter nie verkry word of daar kopiereg op die koepons bestaan nie.

     

    5. Die OSK se leningsbedrywighede

    Die vereistes waaraan OSK-lenings moet voldoen, stem in 'n groot mate ooreen met wetlike voorskrifte waaraan banke in die algemeen moet voldoen, en sluit onder andere die volgende in:

    Bewys van inkomste en uitgawes

    Verklaring van bates en laste

    Bewys van terugbetaalvermoë, bv. betaalstaat of pensioenstaat

    Lenings word beperk tot 80% van die eiendomswaardasie in die geval van eiendoms-lenings, wat impliseer dat die OSK vrywillig aan 'n reserwevereiste van 20% voldoen. Dit is hoër as die wetlike vereiste en verseker dat die OSK aan 'n verdere grens-voorwaarde (likiditeit en solvensie) voldoen.

    Leningsaansoeke moet inpas by dorp of Dorpsraad se reëls.

    Hierbenewens word lenings deur 'n kredietkomitee van die bank ondersoek vir moontlike goedkeuring. Geen lenings3 mag groter wees as 25% van die totale reserwekapitaal, of 2,5% van die totale batewaarde in die balansstaat nie, watter een ook al die kleinste is.

    Daar was in 2019 ongeveer 550 geregistreerde eiendomme in Orania, terwyl die OSK 306 eiendomslenings op sy boeke gehad het (ongeveer 55% van die eiendomme). Dit skets die omvang van die OSK in die plaaslike eiendomsmark. Uitstaande lenings teen eiendom het sowat R140 miljoen van die OSK se bates uitgemaak. Ander bates van die bank sluit 'n klein portefeulje persoonlike lenings (ongeveer R121 000) in, terwyl oortrokke fasiliteite by geleentheid toegestaan word, maar uitsluitlik vir besigheidsrekeninge.

    Die bestuurder van die OSK het bevestig dat nie-presterende lenings (non-performing loans) baie selde voorkom en dat daar gemiddeld slegs sowat vyf tot tien sulke gevalle jaarliks is, met ander woorde slegs sowat een persent van die totale lenings. Die bestuur van die OSK het ook bevestig dat daar 'n gevestigde eerlikheidskultuur tussen die mense op die dorp is, en ook tussen die bank en sy kliënte. Dit beteken dat persone die vrymoedigheid het om moontlike geldelike probleme met die bank, of sy bestuur, te bespreek, eerder as om bloot agterstallig te raak.

    Volgens die OSK was daar 'n merkbare toename in die aanvraag na - en die toestaan van - nuwe lenings, veral sedert 2008/09. Gebeure of omstandighede wat tot die verskynsel kon bydra, sluit in:

    die uitleg van talle nuwe erwe;

    geen kompetisie (monopolie) nie; en

    addisionele likiditeit (laste tot bates) weens 'n toename in deposito's by die OSK, wat tot die befondsing van meer lenings gelei het.

    Tydens 2018 tot 2019 het lenings op die OSK se boeke veral vinnig toegeneem, terwyl die bank se bates teen 'n meer gematigde tempo gegroei het. Dit het veroorsaak dat die toegestane lenings van sowat 72% van laste ("balansstaat") gestyg het tot meer as 80% - dus bo die bank se eie maksimum perk. In sulke gevalle beteken dit dat die bank genoodsaak word om eers te wag vir nuwe deposito's voordat addisionele lenings toegestaan kan word. Alternatiewelik beteken dit dat lenings slegs gedeeltelik toegestaan word. Die bank bestuur dus die grensvoorwaarde vir die befondsing van lenings.

    Gedurende die laaste paarjaar (2020 tot 2022) het deposito's egter weer sterk gestyg. Die gevolg was dat die lenings-tot-batewaarde-verhouding gedaal het tot onder die 60%-vlak, wat dus beteken dat addisionele lenings wel weer toegestaan kon word - binne die bank se kriteria.

    Die OSK meld dat aansoekers meer fokus op die nominale bedrag van hul rente en terugbetalings (paaiemente) op lenings, met ander woorde, maandelikse bekostigbaarheid, as op die rentekoers wat aan die lenings gekoppel is. Dit beteken dat die OSK die grensvoorwaarde met betrekking tot rentekoerse en die koste van kapitaal bestuur.

    Data van die Orania Dorpsraad bevestig die toename in ekonomiese bedrywighede binne die dorp. Bouaansoeke het toegeneem vanaf 37 in 2016 tot 85 in 2020, met 'n geskatte waarde van ¢68,7 miljoen teen 2020.

    Eiendomsverwante transaksies gee 'n verdere aanduiding van 'n gesonde eindomsmark binne Orania. Indien daar na vaste-eiendomtransaksies gekyk word, was daar in 2020 ongeveer 40 transaksies, met 'n totale waarde van φ47,3miljoen. Die verhandeling van erwe toon ook groei en in 2020 is 55 erwe van die hand gesit, teen 'n gesamentlike waarde van φ17,7 miljoen.

    Finansiële ontwikkeling het ook 'n positiewe impak op ekonomiese groei (Levine, 2005). Garcia & Liu (1999:35) is van mening dat "finansiële ontwikkeling van kritieke belang [is] vir ekonomiese groei." Daarom kan verwag word dat Orania se finansiële ontwikkeling - by wyse van die vooruitgang van die OSK - 'n positiewe invloed op die breër Orania-ekonomie, buiten slegs die eiendomsmark, sal hê.

    Volgens Orania se 2020-sensus (Orania Dorpsraad, 2021) het kapitaalvorming tussen 2016 en 2020 met gemiddeld 41,7% per jaar gegroei. Die OSK se kapitaalvorming het selfs meer as verdubbel sedert 2016, en byna tweederdes van Orania se totale kapitaalvorming in 2020 kan aan die OSK toegeskryf word. Die kapitaalvorming van die OSK alleen is meer as genoeg om die totale begroting van R183,3 miljoen vir Orania se 2016-2020 Ekonomiese Ontwikkelingsplan (EOP) te finansier. Kapitaalvorming kan gelykgestel word aan investering; uit vergelyking (1) hier bo is dit duidelik dat sodanige gesonde groei in investeringsbesteding (I) ekonomiese groei (Y) sou bevorder. Terselfdertyd is werk geskep, met permanente indiens-name wat teen gemiddeld sowat 3% per jaar gegroei het,4 en die aantal geregistreerde besighede binne Orania wat byna verdubbel het sedert 2016 (Orania Dorpsraad, 2021).

    Hierdie ontleding toon aan dat groei in ekonomiese bedrywighede inderdaad deur die OSK ondersteun word. Dit bevestig dat 'n suksesvolle koöperatiewe bank voordelig kan wees vir 'n plaaslike gemeenskap soos Orania.

    Die OSK funksioneer binne die grensvoorwaardes wat hier bo uiteengesit is. Die OSK se likiditeit en solvensie word noukeurig bestuur. Tweedens word lenings deur kapitaal en deposito's befonds. Derdens word rentekoerse op lenings gehef wat die risiko van die lenings, skaarsheid en die koste van kapitaal korrek weerspieël. Laastens dek die fooie wat gehef word die kostes.

     

    6. Gevolgtrekkings

    Hierdie artikel is toegespits op die rol wat koöperatiewe banke en koöperatiewe finansiële instellings in die ekonomie vervul. As praktiese voorbeeld is daar in diepte gekyk na die agtergrond van die OSK Koöperatiewe Bank Beperk en die rol en impak daarvan op die Orania-ekonomie.

    Die literatuur bevestig die belangrike rol van banke, as mobiliseerders van spaargeld, in die kanalisering van beleggings. Die minimum grensvoorwaardes waaraan 'n bank soos die OSK moet voldoen, is geïdentifiseer. Binne die konteks van banke toon hierdie navorsing dat daar verskeie instellings is wat op die gebied van koöperatiewe bankwese werksaam is, waarvan die OSK as die grootste van hierdie instellings geïdentifiseer is. Sedert 2017/18 het daar 'n mate van oplewing in hierdie sektor plaasgevind.

    Sover dit die koöperatiewe banksektor (d.i. KFI's en koöperatiewe banke) se bates aangaan, was dit teen 2018 bykans om die helfte verdeel, met koöperatiewe finansiële instellings (KFI's) wat 51% opgemaak het teenoor 49% deur koöperatiewe banke. Talle van die KFI's het ook reeds gemaklik die vereistes van 200 of meer lede en deposito's van R1 miljoen oorskry, en moet dus slegs nog aan 'n paar omsigtigheidsvereistes voldoen voordat hulle ook in aanmerking kom om as koöperatiewe banke te registreer. Die gevolgtrekking is dat verdere toekomstige groei binne die sektor verwag moet word.

    Die navorsing bevestig dat die OSK tans die grootste koöperatiewe bank in Suid-Afrika is. Gevolglik dien die OSK as rolmodel vir koöperatiewe finansiële instellings. Verder vind ons dat daar sterk groei in die onderneming was - gemeet aan sy bates (lenings) sowel as sy laste (deposito's).

    Die likiditeitsposisie van die instelling blyk gesond te wees en in 2022 het die OSK se batewaarde ongeveer R327 miljoen beloop. Voorts beloop deposito's R301 miljoen. Limiete op lenings en beleggings per kliënt (insluitend verwante persone) word streng volgens beperkings op reserwekapitaal- en batewaardeverhoudings bestuur.

    In soverre dit die impak van die OSK op sy direkte omgewing betref, vind ons beduidende positiewe tekens. In 2019 was daar ongeveer 550 geregistreerde eiendomme in Orania, terwyl die OSK 306 van hierdie eiendomslenings op sy boeke gehad het (dus sowat 55 persent). Verder blyk dit dat ekonomiese bedrywigheid in die omgewing waarbinne die OSK werksaam is, naamlik die groter Orania, tussen 2016 en 2020 'n wesenlike oplewing beleef het. Bewyse hiervan is te vinde uit syfers wat toon dat bouaansoeke - en die waarde daarvan - sterk aan die toeneem is. Die eiendomsmark toon gesonde groei met betrekking tot die verhandeling van vaste eiendom en erwe. Investering groei ook sterk, en ekonomiese aktiwiteit, gemeet aan werkskepping en die vestiging van nuwe ondernemings, is gesond. Gevolglik kan daar uit bogenoemde bevindings afgelei word dat die OSK wel 'n beduidende positiewe invloed op Orania se ekonomiese ontwikkeling het.

    Desnieteenstaande is daar steeds heelwat ruimte vir verdere akademiese navorsing - onder andere oor die invloed wat die OSK op ander sektore binne Orania se ekonomie het. Daar kan ook na die grootte van die Orania-ekonomie self gekyk word, byvoorbeeld om die bruto geografiese produk en die verandering daarvan oor tyd te bereken. Laasgenoemde kan dien as 'n belangrike verwysingspunt (delertal) wanneer veranderlikes oor tyd ontleed word.

     

    ERKENNING

    Die outeurs bedank die bestuur van die OSK (by name mnr Hanri Maritz, Bestuurder) vir hul waardevolle inligting en bydrae tot hierdie navorsing. Die outeurs is egter verantwoordelik vir al die interpretasies. Ons bedank ook die drie anonieme keurders vir hul waardevolle kommentaar en voorstelle. Die menings in hierdie artikel moet nie aan enige universiteit of ander instelling toegeskryf word nie.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Afrikaanse Nuus. 2014. Eiendomsreg in Orania. Afrikaanse Nuus. 26 April 2014. Aanlyn: http://bmarksa.org/nuus/eiendomsreg-in-orania/.         [ Links ]

    Arndt, EHD. 1928. Banking and currency development in South Africa, 1652 to 1927. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

    Boshoff, CWH. 2012. Dis nou ek. Pretoria: Lapa Uitgewers.         [ Links ]

    BusinessDictionary. (S.a.). Aanlyn by http://www.businessdictionary.com/definition/repo-rate.html. [Internettoegang op 15 Mei 2019].         [ Links ]

    BusinessTech. 2019. Battle of the banks: South Africa's big 5 banks compared. Aanlyn by https://businesstech.co.za/news/banking/339319/battle-of-the-banks-south-africas-big-5-banks-compared/ [Internettoegang op 7 Oktober 2019].         [ Links ]

    Catturani, I, Kalmi, P & Stefani, M. 2016. Social Capital and Credit Cooperative Banks. Economic Notes by Banca Monte dei Paschi di Siena, 45(2):205-234.         [ Links ]

    Chiaramonte, L, Poli, F & Oriani, M. 2015. Are Cooperative Banks a Lever for Promoting Bank Stability? Evidence from the Recent Financial Crisis in OECD Countries. European Financial Management, 21(3):91-523.         [ Links ]

    Co-operative Banks Development Agency (CBDA). 2018. Co-operative Banks Development Agency Annual Report 2017-2018. Pretoria. Aanlyn by http://www.treasury.gov.za/coopbank/publications/Co-operative%20Banks%20Development%20Agency%20Annual%20Report%202017-18.pdf [Internettoegang op verskeie datums].         [ Links ]

    Duca, J. (S.a.). Subprime Mortgage Crisis 2007-2010. Federal Reserve History. Dallas. Aanlyn by https://www.federalreservehistory.org/essays/subprime_mortgage_crisis. [Internettoegang op 17 Mei 2019].         [ Links ]

    Fedderke, J & Luiz, J. 2015. The Political Economy of Institutions, Stability and Investment: a simultaneous equation approach in an emerging economy - the case of South Africa. Working Paper Number 15. Universiteit van Kaapstad. Aanlyn by [Internettoegang op 25 Augustus 2022].         [ Links ]

    Fiorillo, S. 2018. What Was the Subprime Mortgage Crisis and How Did it Happen? The Street. Aanlyn by https://www.thestreet.com/personal-finance/mortgages/subprime-mortgage-crisis-14704400. [Internettoegang op 17 Mei 2019].         [ Links ]

    Garcia, VF & Liu, L. 1999. Macroeconomic determinants of stock market development. Journal of Applied Economics, 2(1):29-59.         [ Links ]

    Hausmann, R. 2008. Final recommendations of the International Panel on ASGISA. Harvard University Centre for International Development (CID). CID Working Paper No. 161. Harvard University.         [ Links ]

    Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO). 2020. Statistics on Cooperatives: Concepts, classification, work and economic contribution measurement. Geneva.         [ Links ]

    Internasionale Koöperatiewe Alliansie (IKA). 2022. Aanlyn by https://www.ica.coop/en/cooperatives/cooperative-identity. [Internettoegang op 30 Augustus 2022].         [ Links ]

    Levine, R. 2005. Finance and Growth: Theory and Evidence. In Handbook of Economic Growth (hoof-stuk 12). Amsterdam: Elsevier.         [ Links ]

    Mantshantsha, S. 2018. Scandal of the year: VBS - a most unsophisticated bank heist. Financial Mail. Aanlyn by https://www.businesslive.co.za/fm/features/cover-story/2018-12-21-scandal-of-the-year-vbs--a-most-unsophisticated-bank-heist/. [Internettoegang op 14 Mei 2019].         [ Links ]

    Mishkin, FS. 2010. The Economics of Money, Banking and Financial Markets (9 ed.). Pearson Education Inc.         [ Links ]

    Mittner, M. 2003. What happened at Saambou? Fin24. Aanlyn by https://www.fin24.com/Companies/What-happened-at-Saambou-20030728. [Internettoegang op 14 Mei 2019].         [ Links ]

    Mohr, P. 2016. Economic indicators. 5th edition. Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

    Mohr, P, Fourie, L et al. 2008. Ekonomie vir Suid-Afrikaanse studente. Vierde uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Mushonga, M, Arun, T & Marwa, N. 2018. Drivers, inhibitors and the future of co-operative financial institutions: A Delphi study on South African perspective. Technological Forecasting & Social Change. Volume 133:254-262. Aanlyn by https://doi.org/10.1016/j.techfore.2018.04.028 [Internetoegang op verkeie datums].         [ Links ]

    Nasionale Tesourie. 2013. South Africa's largest co-operative bank. The Connection. Februarie. Aanlyn: http://www.treasury.gov.za/coopbank/newsletter/TheConnection-Issue4.pdf. [Internettoegang op verskeie datums].         [ Links ]

    Orania Dorpsraad. 2021. Orania Sensus (verskeie jare). Orania: Orania Dorpsraad.         [ Links ]

    Die Presidensie. 2006. Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa (ASGISA). Annual Report, South African government.         [ Links ]

    Radu, M. 2015. Political Stability - A Condition for Sustainable Growth in Romania? Procedia Economics and Finance. Jaargang 30:751-757.         [ Links ]

    Republiek van Suid-Afrika. 1980. Wet op die Beheer van Aandeelblokke, No 59 van 1980, soos gewysig.         [ Links ]

    Republiek van Suid-Afrika. 1990. Bankwet, No 94 van 1990, soos gewysig.         [ Links ]

    Republiek van Suid-Afrika. 1993. Wet op Onderlinge Bank, No 124 van 1993, soos gewysig.         [ Links ]

    Republiek van Suid-Afrika. 2007. Koöperatiewe Bankwet, No 40 van 2007, soos gewysig.         [ Links ]

    Republiek van Suid-Afrika. 2013. Financial Services Laws General Amendment Act, No. 45 of 2013.         [ Links ]

    Republiek van Suid-Afrika. 2020. Registration of co-operative bank - KSK Koöperatiewe Bank Beperk.         [ Links ]

    Staatskoerant. 6 November. Notice 629 of2020. Aanlyn by https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202011/43872gen629.pdf [Internettoegang op verskeie datums].         [ Links ]

    Roodt, D. 2017. Dawie maak digitale geld vir Orania. Die Burger. 4 Julie 2017.         [ Links ]

    Rossouw, J. 1983. 'n Beskouing van die institusionele ontwikkeling van kredietbronne en enkele finansieringsvraagstukke binne die Suid-Afrikaanse landbousektor. Ongepubliseerde MCom-verhandeling, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

    Royer, FS. 2014. The Neoclassical Theory of Cooperatives: Part I. Journal of Cooperatives, 28:1-19.         [ Links ]

    SACCOL. 2019. Savings and Credit Co-operative League of SouthAfrica Limited. Cape Town. SACCOL. http://pmg-assets.s3-website-eu-west-1.amazonaws.com/docs/2007/070828saccolsub.pdf [Internettoegang op 16 Augustus 2022].         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2014. Combined Annual Report of the Supervisors of the Co-operative Banks Development Agency and the South African Reserve Bank 2013/14. Pretoria: SARB. http://www.reservebank.co.za and http://www.treasury.gov.za/coopbank/.         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2018a. Bank Supervision Department Annual Report 2017. Pretoria: SARB.         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2018b. Cooperative Banks Annual Report 2017/18. Pretoria: SARB.         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2018c. Register of Co-operative Banks. Suid-Afrikaanse Reserwebank Koöperatiewe Bankregister. Pretoria: SARB. https://www.resbank.co.za/PrudentialAuthority/Deposit-takers/Co-operativeBanks/Pages/Licensing.aspx. [Internettoegang op verskeie datums].         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2021a. SA Registered Financial Institutions. Pretoria: SARB. https://www.resbank.co.za/en/home/what-we-do/Prudentialregulation/SA_registered_financial_institutions [Internettoegang op verskeie datums, 2022].         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2021b. Quarterly Bulletin. September 2021. Pretoria: SARB. https://www.resbank.co.za/content/dam/sarb/publications/quarterly-bulletins/quarterly-bulletin-publications/2021/backup-september/01Full%20Quarterly%20Bulletin.pdf [Internettoegang op 2 Februarie 2022].         [ Links ]

    Senekal, B. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(2):526-550.         [ Links ]

    Snowdon, B & Vane, H. 2005. Modern Macroeconomics: Its Origins, Development and Current State. Northampton, Massachusetts: Edward Elgar.         [ Links ]

    Statistieke Suid-Afrika. (S.a.). Quarterly Labour Force Survey (verskeie uitgawes).         [ Links ]

    Van der Merwe, E, Mollentze, S, Leshoro, T, Rossouw, J & Vermeulen, C. 2014. Monetary Economics. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

    Van Wyk, K, Botha, Z & Goodspeed, I. (eds). 2019. Understanding South African Financial Markets. Pretoria. Van Schaik.         [ Links ]

    Werner, RA. 2016. A lost century in economics: three theories of banking and the conclusive evidence. International Review of Financial Analysis, 46:361-379.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2022-03-11
    Goedgekeur: 2022-10-07
    Gepubliseer: Desember 2022

     

     

     

    Fanie Joubert is 'n senior lektor in die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy begin sy loopbaan in 2005 as junior dosent by die Universiteit van Pretoria en betree daarna die privaat sektor waar hy nader kennis gemaak het met finansiële markte as ekonoom van die Efficient Group. In sy navorsing fokus hy op verskeie ekonomiese velde insluitende inflasie, huishoudelike finansies, volhoubare ontwikkeling en finansiële markte.
    Fanie Joubert is a senior lecturer in the Department of Economics at the University of South Africa (Unisa). His career started in 2005 as junior lecturer at the University of Pretoria and this was followed by a stint in the private sector where he made closer contact with financial markets as economist at the Efficient Group. His research focuses on various economic fields including inflation, household finances, sustainable development and financial markets.

     

     

    André Laäs is 'n gekwalifiseerde aandele-makelaar en lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Aandelemakelaars. Hy is tans 'n aandele-makelaar in eie diens, sowel as besturende direkteur van verskeie finansiële instansies wat fokus op bategerugsteunde korttermynfinan-siering. Hy is ook 'n eiendomswaardeerder, geregistreer by die Suid-Afrikaanse Raad vir Eiendomswaardeerders. Sy loopbaan sluit onder meer 'n dienstydperk as Senior Dosent in Sake-bestuur by Unisa in, waar hy later 'n Dcom-graad behaal.
    André Laäs is a certified stockbroker and member of the South African Institute of Stockbrokers. He is currently a self-employed stockbroker and managing director of various financial companies that focus on asset-backed short-term finance. He is also a property valuer, registered with the South African Council for the Property Valuers Profession. His employment history inter alia includes being a Senior Lecturer in Business Management at Unisa, where he later obtained a DCom degree.

     

     

    Anna Maria Laäs studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1978 die graad BA (Regte) behaal en in 1980 haar LLB. Ná 'n kort tydjie as staatsaanklaer en staatsadvokaat, kwalifiseer sy as prokureur en word toegelaat in 1983. Sy skryf daarna die eksamens vir toelating as aktebesorger en daarna as notaris, en word onderskeidelik in 1984 en 1987 daartoe toegelaat. In 1995 is sy een van die eerste prokureurs wat verskyningsbevoegdheid in die Hooggeregshof kry. Sy praktiseer tans as direkteur van Laas Döman Ingelyf in Pretoria, waar sy haar veral toespits op eiendomsverwante sake en algemene kommersiële aangeleenthede.
    Anna Maria Laäs studied at the University of Pretoria, where she obtained her BA (Law) degree in 1978 and her LLB in 1980. After short stints as public prosecutor and state advocate, she qualified as an attorney and was admitted as such in 1983. Thereafter she passed the examinations and was admitted as conveyancer and then notary, respectively in 1984 and 1987. In 1995 she was one of the first attorneys achieving the right of appearance in the High Court. She currently practises as director of Laas Döman Inc in Pretoria, focusing mainly on property-related and general commercial matters.

     

     

    Jannie Rossouw is besoekende professor by Wits Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand. Gedurende sy professionele loopbaan was hy onder meer 'n Senior Adjunk-hoofbestuurder van die SA Reserwebank. Sy navorsing fokus op sentrale banke, inflasie en fiskale volhoubaarheid.
    Jannie Rossouw is visiting professor at Wits Business School at the University of the Wit-watersrand. During his professional career he served, inter alia, as a Senior Deputy General Manager of the SA Reserve Bank. His research focuses on central banks, inflation and fiscal sustainability.

     

     

    Cobus Vermeulen is 'n senior dosent verbon-de aan Unisa se Departement Ekonomie, asook 'n navorsingsgenoot by die SA Reserwebank. Hy is 'n aktiewe navorser in die breë veld van monetêre ekonomie, en het artikels gepubliseer oor onderwerpe soos sentralebank- eienaarskap en -onafhanklikheid, monetêre beleidsinstru-mente, die verwantskap tussen inflasie en werkloosheid, die sakesiklus, en empiriese modellering. Hy het 'n doktorsgraad in Ekonomie aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
    Cobus Vermeulen is senior lecturer in the Department of Economics at Unisa, and a research fellow at the SA Reserve Bank. He is an active researcher in the broader field of monetary economics and has published articles on topics including central bank ownership and independence, monetary policy instruments, the relationship between inflation and unemployment, the business cycle and empirical modelling. He obtained his doctoral degree in Economics from the University of Pretoria.
    1 Op daardie datum was slegs vier koöperatiewe banke geregistreer, en sluit dus KSK uit wat eers in 2020 bygekom het.
    2 Mnr Taljaard was ook steeds die besturende direkteur van die OSK, ten tyde van die skrywe van hierdie artikel.
    3 Die beperking is ook van toepassing op beleggings.
    4 Oor dieselfde tydperk (2016-2019) het totale nasionale formele indiensneming maar met gemiddeld 0.54% per jaar gegroei (Statistieke Suid-Afrika, S.a.).