Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.63 n.3 Pretoria Sep. 2023
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a11
HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES
Die opkoms van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as Suid-Afrika se 12de amptelike taal
The emergence of South African Sign Language as South Africa's 12th official language
Theo du Plessis
Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: dplesslt@ufs.ac.za
OPSOMMING
Op Woensdag, 19 Julie 2023 het die President van Suid-Afrika die 18de Grondwetlike Wysigingswetsontwerp bekragtig ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) as Suid-Afrika se 12de amptelike taal verklaar word. Suid-Afrika was die sesde land wat in 1996 reeds wetlike erkenning aan sy gebaretaal verleen het, slegs vier jaar na die Verenigde Nasies se 1992 Verklaring oor die Regte van Persone wat aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Linguistiese Minderhede behoort en drie jaar ná Suid-Afrika sy 1993-grondwet aanvaar het wat die politieke oorgangstydperk in Suid-Afrika ingelui het. Teenoor hierdie relatief "blitsige" erkenning staan die volle verampteliking van die taal in 2023 wat eers na verloop van 'n verdere 27 jaar (ná 1996) gerealiseer het. Dit laat onvermydelik die vraag ontstaan waarom laasgenoemde relatief langer geneem het en waarom die grondwetlike erkenning en verampteliking in die onderwys van 1996 relatief vinnig gebeur het. Hierdie vraag word ondersoek aan die hand van 'n vergelykende studie tussen die twee "eras van verampteliking" vanuit 'n taalbeleid- en -beplanningsraamwerk en teen die agtergrond van verwante internasionale gevallestudies. Die ondersoek bevind dat in beide gevalle DoweSA as gebaretaalkampvegter 'n sentrale rol gespeel het by die bereiking van die organisasie se oogmerke. Ook word bevind dat die relatiewe "spoed" van die eerste erkenning grootliks toegeskryf kan word aan die politieke tydsgees van die sogenaamde Mandela-era.
Trefwoorde: Suid-Afrikaanse Gebaretaal, nasionale gebaretale, amptelike/wetlike erkenning, ampstaalerkenning, wetgewende proses, taalwetgewing, taalbeleid en -beplanning, taalaktivisme, instrumente van taalaktivisme, gebaretaalkampvegters, taalstryd, taalbewegings
ABSTRACT
On Wednesday, 19 July 2023, the President of South Africa ratified the 18th Constitutional Amendment Bill in terms ofwhich South African Sign Language (SAGT) was declared as South Africa s 12th official language. South Africa was the sixth country to grant legal recognition to its sign language in 1996, only four years after the United Nations ' 1992 Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities and three years after South Africa had adopted its 1993 constitution which ushered in the political transition period in South Africa. Against this "lightning fast" recognition stands the full officialisation of the language in 2023, which was only realised after a further period of 27 years (after 1996). This inevitably raises the question of why the latter took relatively longer and why the initial constitutional recognition and officialisation in education in 1996 had happened relatively quickly. This question is investigated on the basis of a comparative study between the two "eras of officialisation" viewed in terms of a framework of language policy and language planning against the background of related international case studies. The investigation found that in both cases DeafSA as a sign language campaigner played a central role in achieving the organisation's aims. It was also found that the relative "speed" with which the first recognition had been achieved could largely be attributed to the political Zeitgeist of the so-called Mandela era.
Keywords: South African Sign Language, national sign languages, official/legal recognition, recognition of official language, legal process, language legislation, language policy and planning, language activism, instruments of language activism, advocates of sign language, language struggle, language movements
1. Inleiding
Die 18de grondwetlike wysigingswetsontwerp ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) as Suid-Afrika se 12de amptelike taal verklaar word (DJCS, 2022b), is op Woensdag, 19 Julie 2023 deur President Ramaphosa tydens 'n spesiale openbare ondertekeningseremonie bekragtig (Willemse, 2023). Hiermee word Suid-Afrika die eerste land ter wêreld wat sy nasionale gebaretaal in die land se grondwet as ampstaal erken, dit is indien 'n geverifieerde weergawe van die Wêreldfederasie van Dowes (WFD) se inligting oor die wetlike erkenning van gebaretale as vertrekpunt geneem word (Branson & Miller, 1997; WFD, 2022). Tegelyker-tyd word Suid-Afrika volgens Wikipedia se lys van amptelike tale per land en streek1 slegs die sesde land ter wêreld wat sy nasionale gebaretaal wetlik as amptelike landstaal erken. Die ander lande is Nieu Seeland (vanaf 2006), Pole (vanaf 2012), Papoea-Nieu-Guinee en Suid-Korea (beide vanaf 2015) en Malta (vanaf 2016) (Wikipedia, 2023). Vier van hierdie lande, Nieu-Seeland, Pole, Suid-Korea en Malta het die verampteliking van hulle nasionale gebaretale deur middel van 'n nasionale gebaretaalwet bewerkstellig. Papoea-Nieu-Guinee het dit deur middel van 'n dekreet van die land se Nasionale Uitvoerende Raad gedoen.
Buiten vir die feit dat mediadekking oor die betrokke geleentheid na aanleiding van WordAtlas (WorldAtlas, 2019) se misleidende inligting omtrent die verampteliking van gebaretale die indruk geskep het dat Suid-Afrika naas Uganda, Kenia en Zimbabwe die vierde Afrikaland is2 wat sodanige wetlike erkenning aan sy nasionale gebaretaal verleen, is ook klem gelê op die tydsduur om by hierdie punt uit te kom, soos onder meer tydens die onder-tekeningseremonie laat val is (SABCDigitalNews, 2023). Trouens, die President het selfs by hierdie geleentheid verskoning gemaak dat dit "so lank" geneem het om by die ondertekening uit te kom (Patrick & Bhengu, 2023).3
Wat egter uit die oog verloor word, is dat ons wat die wetlike erkenning van die land se nasionale gebaretaal betref met twee duidelik onderskeibare erkenningseras met opvallend verskillende tydsdure te make het. Die eerste erkenningstydperk van slegs drie jaar word sedert 1993 tot 1996 bereken; 1993 synde die jaar waarin Suid-Afrika 'n tussentydse grondwet met elf nasionale amptelike tale gefinaliseer het en waarin SAGT nog glad nie vermeld word nie en 1996 die jaar waarin SAGT in die Skolewet vir die doeleindes van onderrig en leer as amptelike taal in openbare skole en in die grondwet as een van die tale wat deel uitmaak van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) se taalmandaat erken word (RSA, 1993; RSA, 1996a; RSA 1996b). Die tweede erkenningstydperk van 27 jaar word sedert 1996 tot 2023 bereken; 1996 synde die jaar van eerste wetlike erkenning soos aangedui en 2023 die jaar van verampteliking.
Vergelykenderwys het die verampteliking van Suid-Afrika se Sintutale (Zulu, Sotho ensovoorts) 30 jaar geduur, vanaf hulle eerste verampteliking op streeksvlak in 1963 (RSA, 1963) tot by hulle nasionale verampteliking in terme van die tussentydse grondwet van 1993 (RSA, 1993). In vergelyking met die 16 jaar wat dit geneem het om Afrikaans te veramptelik, dit is sedert die Unie-wet van 1909 waarin Engels en Nederlands tot ampstale verklaar is (PUK, 1909) tot en met die taalwet van 1925 wat Afrikaans veramptelik het (UnSA, 1925), mag die 27 jaar van SAGT se verampteliking vir sommige dalk wel as lank voorkom.
Terwille van perspektief behoort 'n mens egter te kyk na tendense by die wetlike erkenning (en verampteliking) van die nasionale gebaretale van ander lande. Dit kan gedoen word deur die tydsduur te bereken vanaf belangrike mylpale in die geskiedenis van die wetlike erkenning van gebaretale. Een so 'n besonderse mylpaal is die Verenigde Nasies Verklaring oor die Regte van Persone wat aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Linguistiese Minderhede behoort (UN, 1992). Die doel van hierdie 1992-verklaring is die bevordering en beskerming van die regte van persone wat aan nasionale of etniese, godsdienstige en linguistiese minderhede behoort en om as sodanig by te dra tot die politieke en sosiale stabiliteit van state waarin hulle leef. Dit wil voorkom asof hierdie verklaring as belangrike stimulus gedien het om 'n wêreldwye tendens op gang te kry. Volgens die WFD-lys was Panama4 die eerste land om reeds in dieselfde jaar wetlike erkenning aan hulle gebaretaal te verleen, gevolg deur Finland, Litaue, Slowakye en Uganda drie jaar later in 1995, Portugal in 1997, die Tsjeggiese Republiek in 1998 en Venuezuela in 1999 ensovoorts. Sedertdien het nie 'n jaar verbygegaan waarin een of meer lande gevolg het nie. Tans staan die totaal op 76 lande wat een of ander vorm van wetlike erkenning aan hulle gebaretale verleen. Daarteenoor staan lande soos Nederland, Noorweë, die Verenigde Koninkryk en Wit-Rusland, wat eers in 2022 en dus 30 jaar later, wetlike erkenning aan hulle gebaretale verleen het en Argentinië wat eers 31 jaar later in 2023 aan boord gekom het (WFD, 2022). Suid-Afrika tel hiervolgens onder die groep lande wat relatief vinnig op die VN-verklaring gereageer het met ons wetlike erkenning tydens die eerste herkenningsera (1993-1996).
In vergelyking met hoe lank dit vyf van die WFD se 76 lande geneem het om hulle gebaretale te veramptelik, steek ons met ons 27 jaar egter ietwat af. Dit het Nieu-Seeland slegs 14 jaar geneem, vir Pole 20 jaar, vir Papoea-Nieu-Guinee en Suid-Korea 23 jaar en vir Malta 24 jaar.
Ofskoon 'n gekibbel oor die tydsduur betrokke by die wetlike erkenning van gebaretale (of selfs hulle verampteliking) dalk as van minder belang geag mag word, raak dit wel interessant wanneer dit aan gepaardgaande wetlike uitkomste gekoppel word. Van die vrae wat dan gestel kan word, is waarom dit sommige lande soveel langer neem om wetlike erkenning te bewerkstellig, hoe die beleidsprosesse tussen lande verskil ensovoorts. Alvorens 'n mens egter sulke vergelykende internasionale studies onderneem, behoort ten minste die Suid-Afrikaanse geval behoorlik gedokumenteer te word.
Wat die SAGT-geval boeiend maak, is hoe die eerste wetlike erkenning van die taal binne so 'n kort tydsbestek bereik kon word en waarom erkenning as ampstaal nege keer langer geduur het. 'n Vergelykende studie hieromtrent behoort insigte op te lewer oor die prosesse betrokke by die verampteliking van 'n gebaretaal as minderheidstaal.
Die oogmerk met hierdie bydrae is om die prosesse betrokke by die twee eras van die wetlike erkenning van SAGT in Suid-Afrika vanuit 'n taalbeleid- en beplanningsoogpunt te dokumenteer. Dit sal aan die hand van 'n tydlyn gedoen word wat saamgestel is op basis van gedokumenteerde wetlike mylpale by die proses van wetlike erkenning. As gevolg van 'n lengte-beperking word slegs kennis geneem van sentrale mylpale. Enkele kontekstuele toeligtings word egter waar noodsaaklik ook betrek.
2. Die wetlike erkenning en verampteliking van gebaretale
Die wetlike erkenning van 'n gebaretaal as amptelike taal moet onderskei word van die ampte-like of wetlike erkenning van so 'n taal soos De Meulder, Murray, & McKee (2019:5) pertinent uitwys. Ofskoon die twee begrippe as 'n toutologie mag voorkom, is hulle juridies gesproke onderskeibaar. 'n Instansie soos die vermelde WorldAtlas se inligting oor gebaretale wat "amptelike erkenning" (dit is wetlike erkenning) geniet, is misleidend juis omdat hulle nie die onderskeid met gebaretale wat wetlik as amptelike tale erken word, tref nie. Volgens WorldAtlas erken altesaam 41 lande hulle gebaretale as amptelike tale. Wikipedia se (ook vermelde en meer korrekte) inligting oor die amptelike tale van die wêreld bevestig die belangrike juridiese onderskeid tussen die twee begrippe. Hierdie bron teken aan dat agt lande hulle gebaretale as amptelike tale erken, te wete Malta, Nieu-Seeland, Papoea-Nieu-Guinee, Suid-Korea, Uruguay, Venezuela, Ysland en Zimbabwe. Dit blyk na die verifiëring van hierdie aanspraak dat selfs Wikipedia ook wat die laaste vier gemelde lande betref nie die betrokke onderskeid getref het nie en in ieder geval ook nie Poland se erkenning vermeld nie.
Taalverampteliking kan verstaan word as 'n wetgewende proses wat gewoonlik uitloop op die wetlike erkenning van 'n aangewese taal in die vorm van 'n amptelikheidsverklaring, hetsy in 'n land se grondwet of in ander wetgewing, soos ons ter inleiding gesien het. 'n Amptelike taal word in amptelike taaldomeine aangewend, dit wil sê wetgewend (geassosieer met wetgewers), geregtelik (geassosieer met die regbank), opvoedkundig (geassosieer met onderwys) en administratief (geassosieer met openbare administrasie) (Turi, 1994).
Hetsy die wetlike (of amptelike erkenning) van 'n taal of die erkenning van 'n taal as amptelike taal, die wetlike uitkomste by beide word aan wetgewende prosesse verbind, 'n studiegebied insigself (Zander, 2015). Die huidige studie word allermins vanuit so 'n raamwerk aangepak en sluit eerder aan by bestaande studies oor die wetlike erkenning van gebaretale soos 'n mens onder meer aantref in die werk van Krausneker (2008), Reagan (2010), Wheatly, Mark en Pabsch (2012), De Meulder (2015), Timmermans (2005) en De Meulder, Murray en McKee (2019). Veral laasgenoemde, tot hiertoe die volledigste versameling studies oor die onderwerp, dien as vertrekpunt by hierdie studie. Die betrokke outeurs skenk oor die algemeen meestal aandag aan die dokumentering van die prosesse wat tot bepaalde wetlike uitkomste gelei het, sommige daarvan inderdaad wetgewende prosesse. Sodanige dokumentering is egter meestal beskrywend van aard en word grootliks vanuit die konteks van 'n taalbeleid- en beplanningsraamwerk aangepak.
Spesifiek vier van die bydraes in bogemelde bundel het betrekking. Die betrokke hoofstukke handel oor die wetlike erkenning van die gebaretale van onderskeidelik Ierland, Suid-Korea, Malta en Skotland (Conama, 2019; Sung-Eun, Hyunhwa, Mi-Hye, & Seung-Il, 2019; Azzopardi-Alexander, et al, 2019; Lawson, McLean, O'Neill, & Wilks, 2019). Elk van hierdie studies dokumenteer oorsigtelik die prosesse wat tot die wetlike erkenning van hulle onderskeie gebaretale aanleiding gegee het en beskryf en beoordeel die uiteindelike wetlike uitkomste daarvan.
Opvallend omtrent die bevindinge van hierdie studies is die kernrol wat "gebaretaal-kampvegters" (Dowe-verenigings en verwante rolspelers) gespeel het by die realisering van sodanige uitkomste. Ook bevind hulle dat hierdie kampvegters meestal verskillende instrumente van aktivisme in hulle veldtogte aangewend het, onder meer optogte, betogings, petisies en so meer. Trouens, dit is 'n tema wat ook in die ander bydraes van die betrokke bundel voorkom. De Meulder, Murray en McKee (2019:5) benadruk ook hierdie aspek maar voeg by dat die rol van internasionale netwerke ook erken behoort te word. Die WFD, 'n organisasie wat reeds in 1951 op die been gebring is (WFD, 2016a), speel in hierdie opsig 'n sentrale rol.
'n Goue lyn wat deur die vermelde gebaretaalstudies loop, is die sentrale rol wat gebaretaal kampvegters of taalaktiviste speel by die wetlike erkenning van gebaretale (De Meulder, Murray, & McKee, 2019:6). Hieromtrent is die boodskap duidelik: in geen van suksesvolle gevalle is die uitkomste sonder moeite bewerkstellig nie (Sung-Eun, et al., 2019: 64).
Combs en Penfield (2012) stem saam dat taalaktivisme beslis 'n rol speel by die bereik van resultate in veral die wetlike arena maar dat dit nogtans 'n nie-erkende of waarskynlik onderskatte element van die beleidmakende of selfs wetgewende proses is. Volgens hierdie outeurs word taalaktivisme spesifiek gerig op die beïnvloeding van of verandering aan bestaande beleid (Combs & Penfield, 2012:462). Hierdie definisie sluit natuurlik aan by Martel (1999:49) se vroeëre definisie met die verskil dat laasgenoemde die klem laat val op taalregteaktivisme. Op basis van haar onderskeiding van ses instrumente van taalregteaktivisme - wat uiteraard ook op taalaktivisme betrekking het - het Du Plessis (2006:77) 'n tipologie van taalaktivisme ontwikkel soos weergegee in Tabel 1. Taalklagtelegging is as 'n sewende instrument toegevoeg.
Die linkerkolom dui 'n glyskaal aan van aksies wat wissel van besonder matig tot uiters konfronterend. Volgens Martel (1999:63) is litigasie waarskynlik die suksesvolste van al die instrumente maar uit haar oorsig van taalaktivisme in Kanada blyk dat 'n kombinasie van instrumente ook die gewenste resultate kan oplewer (Martel, 1999:77). Die verskeidenheid instrumente veronderstel natuurlik die betrokkenheid van verskillende rolspelers by die beïnvloeding van taalbeleidsvorming.
Binne 'n taalbeleid- en beplanningsraamwerk kan die rolspelers wat by die wetlike erkenning van gebaretale betrokke is, ook as taalbeplanningsagentskappe (TBA's) beskou word. Op basis van die werk van Das Gupta en Ferguson (1977:5 e.v.), Kaplan en Baldauf (1997:5), Kaplan en Baldauf (2003:202) en Haarmann (1990:120-121) het Du Plessis (2020) 'n tipologie van TBA's ontwikkel wat voorsiening maak vir rolspelers na gelang van hulle taalbeplanningsfunksies, te wete regulatiewe, produktiewe en promoverende TBA's. Die regulatiewe funksie in taalbeplanning hou verband met gesaghebbende optrede wat deur middel van openbare maatreëls geneem word en wat deur sanksies om die gebruik van geselekteerde tale in geselekteerde domeine aan te moedig, ondersteun word. Die produktiewe funksie hou verband met die ontwikkeling van die kapasiteit van die aangewese taal om die eise vir die gebruik van die taal in hoë funksies die hoof te bied. Die promoverende funksie hou grootliks verband met taalbevorderingsaksies. Tabel 2 bied 'n opsomming van al hierdie insigte in die vorm van 'n Tipologie van LPA's.
Deur die werk van TBA's in terme van hierdie tipologie te bestudeer, kan 'n mens insig verkry in die rol wat hulle in 'n taalbeplanningsprogram oor die algemeen speel. Ook kan insig verkry word in die verband tussen rolspeler en uitkoms.
Die dokumentering van die geskiedenis van die wetlike erkenning van gebaretale behoort teen hierdie agtergrond op 'n beskrywing van ten minste drie aspekte te konsentreer, te wete die wetgewende proses, taalaktivisme en die rol van verskillende TBA's.
3. Metodologie
Die klem in hierdie ondersoek val op die wetgewende proses van die verampteliking van SAGT, in navolging van die hier bo gemelde outeurs se beskrywings oor hoe by die wetlike erkenning van verskillende nasionale gebaretale uitgekom is. Van belang is die rol van die kampvegter(s), die rol van die wetgewer en die interaksie tussen hierdie rolspelers in soverre inligting hieromtrent in die openbare ruimte beskikbaar is. Weens die feit dat die soort veldtog wat hier ter sprake kom, sigself grootliks in die openbare ruimte afspeel en voldoende bronne hieromtrent beskikbaar is, was dit nie vir hierdie spesifieke ondersoek nodig om bykomende inligting uit moontlike argivale bronne van onder meer die betrokke kampvegter(s) te bekom of om onderhoude met betrokkenes te voer nie.
Vir die doeleindes van 'n inhoudsontleding ten einde die wetgewende proses te kon rekonstrueer, is inligting uit hoofsaaklik vier openbare dokumentêre bronne versamel.
Die verrigtinge van parlementêre komitees en parlementêre huise wat deur die Parliamentary Monitoring Group (PMG) gedokumenteer is, is as primêre bron benut. Die PMG is 'n Nieregeringsorganisasie (NGO) wat in 1998 tot stand gekom het in reaksie op die totale gebrek aan 'n amptelike openbare rekord oor komitee- en ander verrigtinge van die Suid-Afrikaanse Parlement en met die oogmerk om hierdie tipe inligting aan 'n breër publiek beskikbaar te stel (https://pmg.org.za/page/what-is-pmg). Hulle databasis bevat die getrans-kribeerde weergawe van die verbatim verloop van vergaderings asook 'n rekord van relevante dokumentasie wat by vergaderings ingedien is. Altesaam 119 relevante dokumente kon vanaf PMG se databasis vir ontleding bekom word. Wel moet 'n mens daarvan kennis neem dat hierdie argief nie 'n amptelike weergawe van verrigtinge is nie en dat die groep nie op absolute korrektheid aanspraak maak nie (https://pmg.org.za/page/disclaimer-copyright). Tot en met die formulering van 'n aanbeveling oor SAGT aan die Parlement het die Grondwetlike Hersieningskomitee (GHK) die kwessie hanteer, waarna die huise en verdere komitees betrokke geraak het.
'n Tweede primêre bron is die gedokumenteerde werksaamhede van betrokke staatsin-stansies, onder meer die kabinet en twee staatsdepartemente, die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (vroeër ook onder ander name bekend) en die Departement Justisie en Korrektiewe Dienste (ook vroeër onder ander name bekend).
'n Derde primêre bron is die werksaamhede van Pansat, die statutêre liggaam verant-woordelik vir die ontwikkeling en bevordering van SAGT.
Die vierde en sekondêre bron wat betrek is, is relevante gedrukte mediarekords wat op Sabinet se SA Media databasis (https://discover-sabinet-co-za.ufs.idm.oclc.org/search7Search=&ProductType=allsamedianewsclippings) beskikbaar is. SA Media is 'n databasis wat nuusknipsels uit hoofsaaklik Suid-Afrikaanse hoofstroomkoerante vanaf 1900 tot tans bevat (Sabinet Discover (oclc.org)). Vir die doeleindes van hierdie ondersoek is 'n korpus van relevante knipsels vir die tydperk 1993-2022 saamgestel. Hierdie knipsels is deur middel van 'n kombinasie trefwoorde (onder meer beide die Afrikaanse en Engelse weergawes van dowe/ dowes, gebaretaal, DoweSA ensovoorts) uit die beskikbare trefwoorde van die betrokke databasis geselekteer. Ongelukkig is die trefwoordopsies daarom beperk. Nietemin kon 'n korpus bestaande uit 1608 relevante knipsels vir ontleding saamgestel word.
Dit is opvallend dat SAGT as een van die land se minderheidstale disproporsioneel tot die grootte van sy gebruikersgemeenskap relatief meer dekking in die openbare media geniet as die ander minderheidstale. Volgens die 2011-sensus verteenwoordig eerstetaal gebaretaalgebruikers 0,5% van die Suid-Afrikaanse bevolking (SSA, 2012). 'n Breë soektog op SA Media na nuusknipsels vir die tydperk 1 Januarie 1994 tot 31 Desember 2022 lewer 34 233 knipsels oor die land se minderheidstale op. Die aantal knipsels wat oor gebaretaal handel, plaas die taal vierde in die rangorde van mediadekking oor Suid-Afrika se ampstale en in dieselfde geselskap as Zulu, Suid-Afrika se grootste taal, soos in Tabel 3 opgesom.
Die stelsel laat nie 'n berekening van meer as 10 000 knipsels toe nie, vandaar dat die syfers vir knipsels oor Afrikaans en Engels buite rekening gelaat moes word, buiten om tot die slotsom te kom dat die betrokke twee tale deurgaans aansienlike mediadekking geniet. Ook kon gegewens oor die ander ampstale tale nie in so 'n breë soektog bekom word nie.
Origens is bykomende sekondêre bronne aangewend om relevante inligting in te win, onder meer dokumentasie deur relevante rolspelers en studies oor die hele proses. Grondwetlike mylpale wat betref die ontwikkeling van die eerste Suid-Afrikaanse grondwet van 1996 is grootliks bekom van die Grondwethof se historiese oorsig daaromtrent (CCSA, 2023), aangevul deur verdere bronne.
Drie beskikbare tydlyne het as vertrekpunt gedien vir die ondersoek, te wete dié van Druchen (2014:75-8), Reagan, Penn en Ogilvy (2006) en Druchen (2023), ofskoon kripties van aard en nie noodwendig vanuit 'n taalbeplanningsoogpunt ontwerp nie.
Die rekonstruksie van die veramptelikingsproses word in navolging van hierdie tradisie ook in die vorm van 'n basiese historiese tydlyn aangebied, ondersteun deur 'n saaklike toeligting. Een van die voordele van so 'n tydlyn is dat dit 'n oorsigtelike perspektief in tabelformaat bied op die mylpale van die veramptelikingsproses. Ook help dit met die meer effektiewe organisering van die data, gegewe die uitdaging van beperkte ruimte.
Uiteindelik val die klem van die hierna aangebode tydlyn op drie stelle inligting, te wete inligting met betrekking tot relevante grondwetlike en verwante wetlike ontwikkelinge, inligting met betrekking tot die parlementêre wetgewende proses en inligting met betrekking tot die aksies van Dowe-organisasies en ander rolspelers.
4. Die verampteliking van gebaretale
In die geskiedenis van spesifiek die verampteliking van nasionale gebaretale speel die WFD ongetwyfeld 'n besonder promintente rol. Dit blyk uit die toeligting van die organisasie by sy lys van lande wat hulle gebaretale wetlik erken, waar spesifiek artikel 21(e) van die VN se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede (KRPG) (UN, 2006) aangehaal word. Hierdie artikel verwag van lidstate om die nodige stappe te neem om te verseker dat gebaretale erken en hulle gebruik bevorder sal word. Let op dat nie pertinent na wetlike erkenning verwys word nie. Uit die WFD se handves oor gebaretaalregte vir almal (WFD, 2016b) van tien jaar later blyk dat die organisasie nietemin die betrokke verwysing interpreteer as verwysende na wetlike erkenning. Die organisasie benadruk in die betrokke handves die feit dat die erkenning van die VN se verklaring oor 23 September as Internasionale Gebaretaaldag (UN, 2017) (by implikasie) die wetlike erkenning van nasionale gebaretale as amptelike tale bevorder.
'n Mens merk die resultaat van hierdie interpretasie van die WFD van die KRPG-bepaling in sy gepubliseerde lys van lande wat konstant sedert 1992 inderdaad wetlike erkenning aan hulle gebaretale begin verleen het, teen 14 Desember 2022 reeds 64% (76/119) van VN-lidstate (WFD, 2022). Figuur 1 toon die verspreiding van lidlande se toetrede tot die erkenning van hulle lande se gebaretale.
Die grafiek toon dat 30% van lidstate reeds voor die aanvaarding van die KRPG in 2006 wetlike erkenning aan hulle gebaretale verleen het. Quer en Müller de Quadros (2015) sonder hieromtrent die rol van die VN se Verklaring oor die Regte van Persone wat aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Taalminderhede behoort (UN, 1992) uit. Artikel 2.1 van laasgenoemde verklaring maak daarvoor voorsiening dat persone wat aan nasionale of etniese, religieuse en taalminderhede behoort die reg het om hul eie kultuur te geniet, om hul eie religie te bely en te beoefen, en om hul eie taal te gebruik, hetsy privaat of in die openbaar, vrylik en sonder inmenging of enige vorm van diskriminasie. Dit is opvallend dat lande juis vanaf 1992 tot die wetlike erkenning van hulle gebaretale oorgegaan het. Timmermans (2005:69, 113) noem wel dat die VN se Verklaring oor die Regte van Gestremde Persone van 1975 (UN, 1975) sekerlik ook nie onderskat moet word nie, ofskoon dit geen direkte verwysings na gebaretale of hulle behandeling deur lande bevat nie - artikel 2 van hierdie verklaring vereis gelyke regte vir persone met gestremdhede en non-diskriminasie op basis van taal.
Dat die KRPG uiteindelik meer beslis tot die wetlike erkenningsbeweging bydra, blyk uit die feit dat 70% van die lande ná 2006 hulle voorgangers se voorbeeld begin volg het. 'n Mens moet nietemin in gedagte hou dat die betrokke konvensie eers vanaf 2008 van krag geword het.
Opvallend omtrent die WFD-lys is dat dit ongelukkig geen dokumentêre bewyse vir die organisasie se aansprake oor wetlike erkenning bevat nie, wat dit nie moontlik maak om sonder met aansienlike moeite die egtheid daarvan te kan bevestig nie. Ook dui die lys nie die kategorie van erkenning aan nie - slegs die land en jaartal. Wel stel die WFD naas sy lys op basis van De Meulder (2015) se skema inligting oor die kategorie van erkenning infografies beskikbaar (WFD, 2022). 'n Afdruk hiervan volg.
Uit hierdie voorstelling blyk dat die WFD se aangebode inligting gerasionaliseer kan word tot vier basiese kategorieë van wetlike erkenning, te wete grondwetlike erkenning, erkenning deur middel van 'n gebaretaalwet, erkenning deur middel van ander wetgewing (gestremdheidswetgewing, onderwyswetgewing ensovoorts) en ander vorme van erkenning, byvoorbeeld deur 'n taalraad. Figuur 2 bevat 'n opsomming van die WFD se verwerkte en geverifieerde data oor die wetlike erkenning van 76 lidlande van die VN.
Die opsomming toon dat die meerderheid lande (27/76) op die WFD-lys hulle nasionale gebaretale deur middel van verskeie tipes wetgewing erken, 15 lande deur algemene wetgewing (Bangladesj, Bolivia, Colombia, El Salvador, Estland, Griekeland, Guatemala, Letland, Maleisië, Oekraïne, Papoea-Nieu-Guinee, Peru, Spanje en Swede), 10 lande deur gestremd-heidswetgewing (Albanië, Duitsland, Indonesië, Kanada, Maleisië, Oesbekistan, Roemenië, Russiese Federasie, Turkye en Uruguay), een deur 'n nasionale taalwet (Noorweë) en een deur munisipale verordeninge (Japan). Altesame 23 lande erken hulle gebaretale deur middel van 'n gebaretaalwet (België, Brasilië, Bulgarye, Ciprus, Costa Rica, Filippyne, Hongarye, Ierland, Italië, Kroasië, Luxemburg, Malta, Nederland, Nieu-Seeland, Noord-Masedonië, Pole, Serwië, Slowakye, Slowenië, Suid-Korea, Tsjeggiese Republiek, Verenigde Koninkryk en Ysland). Slegs 11 lande verleen wetlike erkenning deur hulle grondwet (Ecuador, Fidji, Finland, Kenia, Nepal, Oostenryk, Portugal, Suid-Afrika, Uganda, Venezuela en Zimbabwe) en een land deur 'n nasionale taalraad (Denemarke). Oor die WFD se aanspraak oor die erkenning deur 14 lande bestaan daar onsekerheid (Angola, Argentinië, Bosnië-Herzegowina, Chili, Honduras, Indië, Litaue, Marshall-eilande, Mongolië, Namibië, Nicaragua, Panama, Paraguay en Wit-Rusland) oor die geldigheid van hulle aanspraak. Geen ondersteunende dokumentasie kon omtrent die erkenning van die gebaretale van hierdie lande gevind word nie.
WorldAtlas se aanspraak daarop dat 41 lande hulle gebaretale as amptelike tale erken (WorldAtlas, 2019) bevat ook geen bronverwysings nie wat verifiëring natuurlik ook bemoeilik. Ironies genoeg skyn dit dat die WorldAtlas sy lys van die WFD bekom het, dít terwyl die WFD soos reeds aangedui in sy infografiese voorstelling nie 'n kategorie erkenning van gebaretale as amptelike tale het nie.
In haar verslag oor 'n behoefteontleding onder lidstate van die Raad van Europa oor die beskerming en bevordering van gebaretale en die regte van die taalgebruikers sluit Krausneker (2008:11) aan by veral die Europese diskoers oor die wetlike erkenning van gebaretale wat sedert 1992 na aanleiding van die Raad van Europa se Europese handves vir streeks- of minder-heidstale (EC, 1992) en 'n 2003-aanbeveling deur die dieselfde raad omtrent die beskerming van gebaretale (Wheatly & Pabsch, 2012:37) ontstaan het. Krausneker (2008:28) wys egter pertinent daarop dat die blote wetlike erkenning van gebaretale beslis nie alle probleme opeens gaan oplos nie maar dat dit wel ruimte skep vir die betrokke gemeenskap om op ander kwessies te kan konsentreer. Vandaar dat sy uiteindelik tog aanbeveel dat alle lande streef na die wetlike erkenning van hul nasionale tale in hul nasionale wette en/of hul grondwet. Dit moet waar moontlik erkenning van gebaretale as minderheidstale insluit. Volgens haar behoort die oogmerk en effek van hierdie wette konkrete taalregte vir Dowes in alle lewensdomeine te bewerkstellig.
Wheatly en Pabsch (2012:39 e.v.) gee 'n oorsig van die stand van wetlike erkenning van die Europese gebaretale. Hulle merk op dat ten minste wat die Europese toneel betref, die prestasie wat met die wetlike erkenning van Europese gebaretale bereik is hoofsaaklik aan die deurlopende pogings van Dowe-oganisasies en individue toegeskryf kan word. Die outeurs se behandeling van hoe wetlike erkenning in spesifieke Europese lande bereik word, bevestig die sentrale rol wat hierdie instansies in verskillende lande speel. Ook belangrik vir die huidige studie is die beeld wat hulle oorsig werp op die rol van verskeie instrumente van taalaktivisme en die interaksie tussen gebaretaalkampvegters en die wetgewende prosesse van elke land.
5. Die gerekonstrueerde proses
Terwille van die politieke konteks word die hoofmomente van die tydlyn ingedeel in terme van mylpale wat binne die termyne van verskillende parlemente val. Weens beperkte ruimte word, ofskoon uiters belangrik, nie in die tydlyn aandag gegee aan gebeure gedurende die sogenaamde oorgangstydperk tydens die termyn van die 21ste Parlement (1989-1994) nie. In ieder geval kon nie enige dokumentêre getuienis gevind word dat daar gedurende hierdie tydperk oor die verampteliking van SAGT gesprek gevoer is nie.
Sover moontlik word spesifieke datums aan hierdie mylpale gekoppel. Soms bevat die bronne op basis waarvan die inhoudsontleding gedoen is nie altyd spesifeke datums nie, vandaar dat slegs die maand of selfs geen datum aangedui word nie. Aangesien verskillende termyne van die parlement betrokke is, word aangedui watter parlement se GHK betrokke is, byvoorbeeld GHKIII verwys na die komitee van die derde post-1994-Parlement.
Tabel 4 bevat 'n drasties verkorte tydlyn van die proses van die verampteliking van SAGT wat vir die doeleindes van hierdie artikel saamgestel is. Ook die bespreking van die inligting vervat in die tydlyn word weens beperkte ruimte ingekort en sal breedweg op gebeure rondom vier kritieke mylpale konsentreer, te wete die grondwetlike erkenning van SAGT in 1996, sy deelse verampteliking in die onderwys, ook in 1996, die amperse verampteliking van die taal in die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (WGAT) in 2012 (RSA, 2012) en die volledige verampteliking van die taal in 2023.
Suid-Afrika se sogenaamde tussentydse grondwet wat op 18 November 1993 deur die VPOF aanvaar is en op 27 April 1994 in werking getree het (RSA, 1993), het voorsiening gemaak vir statusverheffing van die nege Sintu-tale (Zulu, Sotho ensovoorts) - wat sedert 1963 slegs op streeksvlak amptelike status geniet het (RSA, 1963) - tot gelykwaardige amptelike tale naas Engels en Afrikaans. SAGT word hoegenaamd nie in die teks van hierdie grondwet vermeld nie. Op 9 Mei 1994 word die Grondwetlike Vergadering (GV) opgerig met die opdrag om 'n eerste grondwet vir 'n verenigde demokratiese Suid-Afrika saam te stel (CCSA, 2023), soms na verwys as die "tussentydse" grondwet.
5.1 'n Eerste poging tot verampteliking, 1994-1996
Die eerste gedokumenteerde verwysing na die wetlike erkenning van SAGT - weliswaar by implikasie - was op 27 Mei 1994 by die "Onderweg na 'n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad"-kongres tydens vraetyd. In reaksie op 'n aanbieding oor die nuwe grondwet deur Albie Sachs (Sachs, 1994), een van die regters van die eerste grondwethof, het Kas Landman, een van die deelnemers en vroeë outeur oor gebaretaal (Landman, 1990), daarop gewys dat die taalklousule van die betrokke grondwet "... net voorsiening maak vir die taal van die horende gemeenskap" (Beukes & Barnard, 1994:20). Sy intensie dat hieraan aandag gee behoort te word, word ondersteun deur 'n volgende spreker wat meen iets moet omtrent die saak gedoen word.
Twee maande later gedurende Julie 1994 reik die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Dowes (SANRD) 'n verklaring uit waarin die organisasie noem dat alles in die stryd gewerp word om amptelike erkenning vir SAGT te beding en dat hulle reeds in gesprek hieroor met die destydse Regering van Nasionale Eenheid gewikkel was (Liebenberg, 1994). Hierdie verklaring verteenwoordig die vroegste openbaar gedokumenteerde oproep tot die erkenning van SAGT as amptelike taal. Een van die belangrikste oorwegings waarom die Raad sodanige erkenning verlang het, was om voorsiening te maak vir die instelling van SAGT as voertaal in skole. Die SANRD is op 6 April 1929 opgerig met die doel om "... al die dienste sowel as organisies wat op die gebied van doofheid betrokke is, te koördineeer" (SANRD, 1979).
Gedurende Augustus 1994 word berig dat die SANRD ook met die Grondwetlike Vergadering oor die aangeleentheid in gesprek getree het. Weer eens het die onderwyskwessie voorop gestaan: die SANRD het aangevoer dat omdat SAGT nie in die 1993-grondwet as amptelike taal erken is nie dit derhalwe nie as onderrigmedium op skool aangewend kan word nie (Daily News Reporter, 1994).
Gedurende 1995 breek 'n nuwe era vir Dowes in Suid-Afrika aan toe die SANRD ontbind en tot die huidige, "meer demokratiese" Dowe Federasie van Suid-Afrika (later DoweSA) "getransformeer" het, soos Druchen (2010:496) die omskakeling beskryf. Die simboliese belang van die naamsverandering is dat dit nou 'n organisasie van en nie vir Dowes is nie. Die funksionele belang is dat Dowes voortaan in beheer van die nuwe organisasie is. Ongelukkig word die datum van hierdie gebeurtenis in geen beskikbare bronne vermeld nie maar ons kan met 'n redelike mate van sekerheid aanneem dat dit voor die jaarlikse Dowebewustheidsweek van vroeg September gebeur het. Mthembu (1995) berig op 7 Augustus dat die eerste voorsitter van die nuut gestigte federasie, Nico Beaurain, vroeg in Augustus nogeens 'n oproep gedoen het dat die regering gebaretaal as 12de amptelike taal moet erken. Dit sou volgens hom help om Dowe-leerders ten volle aan die taal blootgestel te kry en daartoe bydra dat die taal as die primêre taal van Dowes erken kan word. 'n Paar dae later plaas die sekretaresse van die federasie se Wes-Kaapse kantoor 'n ope brief waarin op die erkenning van SAGT as amptelike taal aangedring word (Heyns, 1995).
Nog in aanloop tot Dowebewustheidsweek 1995, met die gepaste jaartema "Menseregte vir dowe mense" (Witness Reporter, 1995), maak die ANC op 28 Augustus bekend dat die beweging aan die GV se Temakomitee 1: Die karakter van die Nuwe Demokratiese Staat, voorgestel het dat gebaretaal in die finale grondwet as amptelike taal erken word (Sapa, 1995a; 1995c). Van die tegniese adviseurs van die betrokke temakomitee het onderneem om vas te stel of gehoorgestremde persone ook aanspraak kan maak op gelyke behandeling in terme van bepalings van die beoogde Handves van Menseregte. Die betrokke voorstel is aan die konstitusionele komitee van die GV vir oorweging deurgestuur (Sapa, 1995b).
Op 1 September het die Konstitusionele Komitee van die GV besluit om die kwessie na sy subkomitee oor onderhandeling vir advies te verwys. Laasgenoemde sou spesialisgetuienis oor sowel die aangeleentheid as die status van gebaretaal as taal inwin (Grondwetlike Beriggewer, 1995; Sapa, 1995d). Sodanige getuienis is ingesluit by die omvangryke terugvoer wat oor die grondliggende bepalings van die grondwet (die huidige Hoofstuk 1) ontvang is - insluitende voorleggings oor gebaretaal - wat die Konstitusionele Komitee 'n week of wat later begin oorweeg het (CT, 1995a).
Op 19 September word die voorgestelde konsepteks van die eerste grondwet gefinaliseer. Die taalklousule kom neer op 'n vereenvoudiging van die bewoording van die 1993-grondwet se ampstaalbepalings, met die een verskil dat Pedi nou Noord-Sotho vervang, 'n kwessie waaroor 'n kontroversie ontstaan het (CRC, 2009). Dit is opvallend dat die konsep geen vermelding van SAGT bevat nie (CT, 1995b).
'n Maand later gedurende Oktober word 'n verdere konsepweergawe bekendgemaak. Hierdie keer word "gebaretaal" (let wel nie SAGT nie) wel vermeld. Die teks maak voorsiening dat hierdie taal ingesluit word by die groep tale wat deel uitmaak van Pansat se taalmandaat (Rapport, 1995). Pansat se taalmandaat was nog nie by die vorige konsepteks ingesluit nie, waarskynlik omdat die Pansat-wet eers gedurende September 1995 deur die parlement aanvaar is (Heugh, 1995). Die wet is op 4 Oktober bekragtig (RSA, 1995).
Ná verdere onderhandelinge word die teks van die 1996-grondwet op 8 Mei 1996 bekragtig. Daarna sou sertifisering deur die Grondwetlike Hof op 10 Desember, die finale presidensiële bekragtiging op 10 Desember 1996 en inwerkingtreding op 4 Februarie 1997 volg (CRC, 2009).
Wat opval, is dat die Dowe-gemeenskap in werklikheid daarin geslaag het om binne die bestek van slegs twee jaar SAGT grondwetlik erken te kry, al was dit nou nie as amptelike taal soos gehoop is nie. Die kampvegters het hulle stryd voortgesit.
5.2 Die deelse verampteliking in die onderwys, 1996
Ná die eerste bekragtiging van die grondwet op 8 Mei en waarskynlik aangespoor deur die momentum rondom die veldtog oor die wetlike erkenning van die taal het DoweSA hierna Pansat met 'n amptelike versoek om SAGT as amptelike taal te erken, genader. Hierdie inligting kom verbasend genoeg eers in 2009 tydens 'n debat op Vrouedag na vore (JCNANCOP, 2009). Uiteraard kon Pansat vanweë sy beperkte taalmandaat met betrekking tot taalontwikkeling en -bevordering nie aan hierdie versoek voldoen nie. Buitendien het Pansat ook die standpunt gehuldig dat omdat SAGT nie gestandaardiseer is nie dit voortydig is om oor die verampteliking van die taal te praat (Streek, 1999; NCOP, 2007:3).
Op 29 Junie 1996 word die sogenaamde Langtag-verslag tydens 'n nasionale kongres by die WNNR se konferensiesentrum bespreek. Een van die verrassende elemente van hierdie kongres is die skielike prominensie wat SAGT by die geleentheid geniet. Reagan en Penn (1997:2) skryf dat DoweSA hierdie prominensie as "a major breakthrough" vir die erkenning van die taal beskou. Nie net het die taal as onderwerp by die besprekings van die verslae van subkomitees aandag geniet nie, dit was ook 'n pertinente tema in die openingstoespraak terwyl al die verrigtinge deurgaans na en van SAGT getolk is. Weens hulle unieke plasing by sulke geleenthede (heel voor, naby aan die verhoog) en visuele asook ouditiewe optrede (wanneer hulle byvoorbeeld vir 'n Dowe-spreker na Engels tolk met behulp van 'n mikrofoon en klankversterking) is hierdie tolke uiteraard besonder prominent. Volgens die betrokke outeurs staan hierdie geleentheid uit as "...the beginning of a new era for the recognition of this language and of deaf culture [sic] in this country. In a short period of time, Sign Language [sic] had moved from a position of relative obscurity and oppression to one with status and recognition".
Gegewe hierdie konteks is die deelse verampteliking van SAGT op 6 November in terme van die Suid-Afrikaanse Skolewet (RSA, 1996a) eintlik nie heeltemal verbasend nie. Hierdie wet erken 'n "... recognised Sign Language [sic] ..." vir die doeleindes van leer aan openbare skole waarmee SAGT dieselfde status geniet as enige ander amptelike taal. Hierdie beperkte verampteliking is van groot belang aangesien dit meebring dat die taal naas erkenning as amptelike voertaal ook nou as Huistaal onderrig kan word en in beginsel ook as Addisionele Taal, die gepaste konvensie vir tale met amptelike status. Nie-amptelike tale mag volgens die Suid-Afrikaanse kurrikulum (wat weliswaar later aanvaar is) slegs as Tweede Addisionele Tale onderrig word (DBE, 2021).
Hierdie deelse verampteliking van SAGT as onderwystaal is kennelik een van die besonderse mylpale van die hele eerste poging tot die verampteliking van SAGT en is beslis 'n veertjie in die hoed van die betrokke veldtogvoerders. Uiteindelik het die volgehoue druk op die owerhede en besluitnemers nie op niks uitgeloop nie.
5.3 Die amperse verampteliking van die taal in die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (WGAT) van 2012
Ofskoon 'n gebeurtenis wat gedurende die voortgesette poging tot verampteliking vanaf 2007 voorgekom het, is die bekragtiging van die WGAT op 2 Oktober 2012 nog 'n besonderse mylpaal vir SAGT. Vreemd genoeg, is die implikasies van die WGAT se insluiting van SAGT by sy bepalings oor staatsentiteite se taalbeleide, nie op komiteevlak bespreek nie.
Een van die hoofoogmerke met die WGAT is om staatsentiteite (nasionale departemente, nasionale openbare entiteite en nasionale openbare ondernemings) in staat te stel om die grondwetlike bepaling oor die regulering en monitering van hulle gebruik van amptelike tale na te kom. 'n Kernelement hiervan is die aanvaarding van 'n taalbeleid wat onder meer daarvoor moet sorg dat effektief met die publiek gekommunikeer moet word, onder meer deur middel van amptelike kennisgewings en regeringspublikasies soos vervat in Artikel 4(2)(c). Artikel 4(2)(b) vereis dat ten minste drie amptelike tale hiervoor aangewend moet word. Opmerklik bevat die wet dan 'n artikel wat handel oor wat om met nie-amptelike tale en SAGT te maak. Artikel 4(4)(d) van die WGAT vereis van staatsentiteite ook maatreëls omtrent effektiewe kommunikasie met lede van die publiek wie se voorkeurtaal 'n nie-amptelike taal of SAGT is (RSA, 2012). Gebruikers van amptelike tale geniet nie dieselfde vryheid van taalkeuse nie en moet maar inval by die reëling omtrent die gebruik van (ten minste) drie amptelike tale wat 'n betrokke staatsentiteit terwille van "effektiewe" kommunikasie as voorkeurtale verkies. Tegnies gesproke kom die vergunning van artikel 4(4)(d) van die WGAT neer op 'n vorm van verampteliking van SAGT in die domein van publieke administrasie, vandaar die verwysing in die opskrif van hierdie afdeling na die "amperse verampteliking" van SAGT.
Dat hierdie implikasies nie begryp word nie, blyk uit 'n debat tydens 'n vergadering van die Portefeuljekomitee vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede waar die implikasies van die verampteliking van SAGT ter sprake gekom het. 'n Direkteur van die verantwoordelike departement het daarop gewys dat mense op verampteliking by klinieke en so meer sou kon aandring om in "gebaretaal" aangespreek te word. Die betrokkene is duidelik nie op hoogte met die WGAT-bepaling wat presies soiets toestaan nie! Ironies genoeg het die persoon ook uitgewys dat alvorens 'n grondwetwysiging oorweeg word daar eers na die WGAT gekyk moet word (PCWYPD, 2021).
5.4 Die volledige verampteliking van SAGTin 2023
Die proses wat uiteindelik uitloop op die volledige verampteliking van SAGT skop amptelik op 6 Februarie 2007 af toe DoweSA 'n voorlegging omtrent die erkenning van die taal as 12de amptelike taal by 'n vergadering van GHKIII gemaak het (Druchen, 2007). Volgens die aanbieder, Bruno Druchen, verteenwoordig sy voorlegging die eerste stap in 'n erkennings-proses wat regters van die Grondwetlike Hof aanbeveel het. Hulle is skynbaar gedurende 2000 informeel hieromtrent genader (CRC, 2007a:1). Ná verdere vergaderings oor hierdie versoek asook beraadslaging van belanghebbende departemente asook Pansat het GHKIII reeds by sy vergadering van 25 Mei 2007 'n aanbeveling goedgekeur (CRC, 2007b) wat in sy verslag van 13 September aan die Parlement vervat is (Druchen, 2010:498).
Op 12 November 2009 het DoweSA ook voor GHKIII verskyn soos blyk uit die verslag oor hierdie vergadering (CRC, 2009), tegnies dus hulle tweede aanbieding maar daar was geen kworum nie. By hierdie geleentheid is onder meer oor die implikasies van die verampteliking van SAGT gepraat, veral wat betref die SAUK en die onderwys. By hierdie geleentheid word die komitee daarop gewys dat niks gekom het van die besluit by die vergadering van 25 Mei 2007 oor 'n taakspan om die saak verder te voer nie. Ook word die komitee daaraan herinner dat die derde post-1994-Parlement die komitee se 2007-verslag (van 13 September 2007) goedgekeur het, waarin besluit is dat SAGT as 'n amptelike taal erken moet word. Ongelukkig was daar nie by hierdie vergadering 'n kworum teenwoordig nie en kon geen verdere besluite geneem word nie (CRC, 2010). Die kwessie is dus aan GHKIV oorgedra.
Dit blyk uit die verslag van 'n latere vergadering van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) se Komitee vir Vroue, Kinders en Persone met Gestremdhede gedurende 2011 dat DoweSA die kwessie van die 13 September 2007-besluit in 'n brief aan die Kantoor van die Speaker gedurende 2011 opgevolg het. Teen die einde van 2012 verklaar President Zuma tydens 'n besoek aan Bergvlam Primêre Skool in Nelspruit, Mpumalanga as deel van die Siyahlola ("ons kontroleer") Presidensiële Moniteringsprogram in reaksie op verskeie oproepe omtrent die verampteliking van SAGT dat die wetmaker tot aksie moet oorgaan en die proses voltrek (Khumalo, 2012). Die Suid-Afrikaanse Nasionale Dowe Vereniging (SANDV) interpreteer sy uitspraak as dat dit 'n Presidensiële Proklamasie sou wees (Bangani, 2020).
Origens het daar teen 2013 steeds niks gekom van GHKIII se September-2007-aanbeveling aan die Parlement nie. Om een of ander rede moes DoweSA sy 2007-voorlegging gedurende 2013 by GHKIV herhaal, tegnies die derde voorlegging maar volgens DoweSA die tweede (Druchen, 2023). Ook hierdie komitee dra die kwessie oor na sy opvolger, GHKV en DoweSA herhaal volgens die PMG-rekords (vir 'n vierde keer) weer sy 2007-voorlegging (CRC, 2015). Die parlementêre regsadviseur teenwoordig het in 'n latere verslag hieroor droogweg opgemerk, "... DeafSA has previously made this submission to the Committee on a couple of occasions" (CRC, 2016).
Steeds ná nege jaar onverrigter sake - en vanweë beperkte ruimte word die deurlopende ophaal van die hele kwessie by verskeie parlementêre komiteevergaderings nie vermeld nie - het DoweSA gedurende 2016 besluit om 'n petisie oor verampteliking by die Parlement in te dien. Hierdie inligting kom na vore in antwoord op 'n vraag van die EFF aan die Minister van Sport, Kuns en Kultuur op 18 April 2023 oor die gesloer met die veramptelikingsproses (MSAC, 2023). Ons verneem uit die minister se antwoord dat daar (uiteindelik) gedurende April van dieselfde jaar openbare verhore oor DoweSA se 2007-voorlegging gehou is. Interessant genoeg meld sy dat uit die 67 voorleggings wat ontvang is, slegs twee verampteliking ondersteun het.
GHKV gaan oor tot aksie deur op 25 November 2016 'n eerste aanbeveling oor verampteliking aan die Parlement voor te lê (CRC, 2016). Vreemd genoeg verneem 'n mens niks verder van hierdie aanbeveling nie en herbespreek GKHV sonder enige verwysing na sodanige aanbeveling op drie verdere vergaderings gedurende 2017 weer die kwessie van verampteliking waarna die komitee uiteindelik op 21 Junie 2017 nogeens 'n aanbeveling (tegnies gesproke die derde) aan die Parlement voorlê wat soos volg lui:
Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies behoort 'n wysiging van die Grondwet te fasiliteer om SAGT as een van Suid-Afrika se amptelike tale in te sluit (CRC, 2017b).
Dit is trouens die eerste van die drie aanbevelings van die GHK wat in die openbaar bekendgemaak is. Die NV aanvaar die aanbeveling op 23 November 2017 (Hansards, 2017). Afgesien van verdere navrae omtrent die proses in onder meer die NVRP op 5 Junie 2018 (Hansards, 2018), kom die kwessie eers weer amptelik tydens die presidensiële staatsrede van 13 Februarie 2020 ter sprake toe aangekondig word dat die GHK se aanbeveling en die Parlement se goedkeuring nou geïmplementeer sou word (Joint NA + NCOP, 2020).
Twee jaar later op 26 Mei 2022 maak die Kabinet bekend dat op sy vergadering van die vorige dag besluit is om die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste opdrag te gee om kennis te gee van die voorgestelde grondwetlike wysiging (Cabinet Statements, 2022). Laasge-noemde het op 19 Julie vir openbare kommentaar verskyn as die 18de Grondwetlike Wysigings-wetsontwerp (DJCS, 2022b).
Hierna is die wetsontwerp terugverwys na die Parlement waarna die Portefeuljekomitee Justisie en Korrektiewe Dienste (PKJKD) op 23 Januarie 2023 die publiek nogeens uitgenooi het om teen 25 Februarie kommentaar daarop te lewer (PCJCS, 2023). Ná nog 'n rondte van openbare verhore op 7 Maart het die komitee op 14 Maart sy reaksie op hierdie verhore deur middel van 'n finale verslag voorgele. Hierin word genoem dat altesaam 58 voorleggings ontvang is waarvan die "meerderheid" hierdie keer ten gunste van verampteliking was (PCJCS, 2020). Op 2 Mei het die NV die wysiging goedgekeur (NA, 2023) en op 19 Julie het die President die wysiging as wet bekragtig (PA, 2023).
Met hierdie bekragtiging word die tweede veramptelikingspoging wat amptelik op 6 Februarie 2007 geïnisieer is, (tegnies dus na slegs 16 jaar) voltrek en word SAGT nou as volwaardige ampstaal erken; die eerste land wat sodanige erkenning in sy grondwet opneem.
6. Bespreking
Die beperkte oorsig oor die proses van die verampteliking van SAGT dek twee onderskeibare eras wat die wetlike erkenning van die taal betref, 'n kort, eerste era wat saamval met die termyn van die eerste (post-1994)-parlement en 'n tweede, langer era wat saamval met die termyne van vyf parlemente, die tweede tot sesde parlemente. Ofskoon 'n vergelyking tussen die twee eras vanweë ongelykheid in tydsduur - twee jaar (1994-1996) vir die eerste era teenoor 27 jaar (1996-2023) vir die tweede era - ietwat problematies is, kan nietemin enkele ooreenkomste en verskille tussen die twee tydperke aangeteken word wat perspektief gee op die wetgewende prosesse.
• Die eerste ooreenkoms tussen die twee eras is dat beide konkrete wetlike uitkomste vir SAGT opgelewer het.
In die geval van die eerste era word twee betekenisvolle wetlike uitkomste gerealiseer, te wete grondwetlike erkenning vir SAGT (weliswaar toe nog "gebaretaal") as een van die groep tale wat deur Pansat ontwikkel en bevorder moet word asook die verampteliking van die taal in die onderwys. Soos eerder aangedui, het Suid-Afrika met hierdie twee stappe die sesde5 land ter wêreld geword wat wetlike erkenning aan sy nasionale gebaretaal verleen het in reaksie op die VN se 1992-verklaring oor minderhede. Tydens die tweede era word hierdie wetlike erkenning in bykomende wetgewing soos die WGAT uitgebrei maar neem die land die besondere stap in 2023 om deur middel van 'n grondwetlike wysiging SAGT as 12de amptelike taal te erken, die sesde land ter wêreld wat sy nasionale gebaretaal as amptelike taal erken en die eerste wat dit deur middel van die land se grondwet doen.
• 'n Tweede ooreenkoms is dat hierdie wetlike uitkomste die resultaat is van 'n dinamiese interaksie tussen die wetgewer en die kampvegter, in hierdie geval DoweSA, wat 'n konstruktiewe uitwerking gehad het op die wetgewende proses.
Ons merk tydens die eerste era dat die SANRD, die voorganger van DoweSA, direk in gesprek tree met die Regering van Nasionale Eenheid en later die Grondwetlike Vergadering se betrokke werkgroep met 'n versoek oor die verampteliking van SAGT. Alhoewel dit DoweSA tydens die tweede era 11 jaar geneem het om te begryp dat die speelveld verander het en dat interaksie met die GHK die eerste stap is tot wat uiteindelik op 'n grondwetwysiging moet uitloop, het die organisasie hierna ten minste vier keer sy versoek oor verampteliking aan hierdie komitee voorgelê. Daar bestaan verdere getuienis dat oor die tydperk heen op gereelde basis ook met ander parlementêre komitees beraadslaag is. Hiermee het DoweSA verseker dat die veramptelikingskwessie aktueel gebly het.
• 'n Derde ooreenkoms is dat dieselfde kampvegter die veldtog om verampteliking in beide tydperke gelei het.
DoweSA, wat uit die SANRD ontstaan het, was die kampvegter wat die veldtog in beide eras gelei het. Ander Dowe-organisasies soos SANDV het ondersteunende bydraes gelewer. Weens beperkte ruimte is hulle aandeel nie behandel nie.
• 'n Vierde ooreenkoms is die kampvegter se taalaktivistiese rol deur sy aanwending van 'n verskeidenheid aktivisme-instrumente om sy doel te bereik.
Tydens beide eras is drukgroepvorming deurlopend as aktivistiese instrument aangewend. Drukgroepvorming word meestal op besluitnemers gerig, in hierdie geval die wetgewer en politieke maghouer. Die ANC se voorstel in 1995 aan die Grondwetlike Vergadering tydens die eerste era kan duidelik as 'n resultaat van drukgroepvorming beskou word asook DoweSA se interaksie met Pansat. Tydens die tweede era is die aanwending van hierdie instrument sigbaar in die gereelde interaksie met die GHK en ander parlementêre komitees maar ook volgehoue interaksie met Pansat.
Mobilisering is 'n tweede instrument wat in beide eras aangewend is, tydens die eerste era in die vorm van openbare briefskrywing en tydens die tweede era briefskrywing binne die parlementêre opset. Bykomend hiertoe het DoweSA tydens die tweede era optogte en betogings aangewend (Druchen, 2010) asook 'n petisie, soos behandel is. Alhoewel deur slegs 23 000 persone onderteken, wil dit na aanleiding van die prominensie wat die Minister van Basiese Onderwys in haar antwoord op 'n vraag van die EFF daaraan verleen het, voorkom asof hierdie petisie 'n deurslaggewende rol in die hele proses van verampteliking gespeel het.
• 'n Vyfde ooreenkoms het te make met die rol van die internasionale wêreld. Hierdie kwessie het nie so direk na vore gekom in die oorsig nie maar moet volledigheidshalwe wel aangestip word.
In die geval van die eerste era is na die rol van die VN se 1992-verklaring oor minderhede verwys en na die feit dat uit die WFD se opgaaf van lande wat hulle gebaretale wetlik erken hierdie verklaring duidelik as aansporing gedien het. Wat nie genoem is nie, is dat nog 'n VN-intervensie gedurende 2018 ook 'n rol gespeel het by die verhasing van die verampteliking van SAGT. Druchen (2023) het hierdie kwessie tydens PKDJKD se openbare verhoor van 7 Maart 2023 te berde gebring. Dit gaan hier oor die VN se Komitee oor die Regte van Persone met Gestremdhede (VNKRPG) se slotopmerkings ná hulle beoordeling van Suid-Afrika se 2015-verslag oor die land se nakoming van die VN se konvensie oor die regte van persone met gestremdhede. Hierin spreek die komitee sy besorgdheid uit oor die slakkepas met die verampteliking van SAGT en beveel dan die bespoediging van die grondwetwysiging hieromtrent aan (UNCRPD, 2018).
• 'n Sesde ooreenkoms het te make met die rol van die regerende party waardeur 'n gunstige klimaat vir verampteliking geskep is.
Hierdie rol is tydens die eerste era sigbaar in die reeds genoemde 1995-voorstel van die ANC oor verampteliking. Tydens die tweede era merk ons dit onder meer in President Zuma se sogenaamde "proklamasie" oor verampteliking in 2012. Daar bestaan verdere ondersteunende getuienis hieromtrent wat weens beperkte ruimte nie in hierdie oorsig ter sprake gekom het nie.
Dit is egter veral die verskille tussen die twee eras wat opval.
• 'n Eerste ooglopende verskil het uiteraard te make met die tydsduur van verwetliking.
Hierdie verskil en die implikasies daarvan vir die vergelyking wat hier gepoog word, is reeds uitgewys.
• Die tweede verskil het te make met die onderskeie politieke eras, 'n kwessie wat nie deur die tydsduur van verwetliking beïnvloed word nie.
Op eerste sig het die wetgewende proses tydens die eerste era onder relatief gunstiger ("wittebrood"-)omstandighede plaasgevind terwyl die proses van die tweede veel meer roetinematig was. Kortom, tydens die sogenaamde "wittebrood"- of sogenaamde Mandela-era was die wetgewende proses afgestem op die skryf van 'n nuwe grondwet terwyl die tweede, sogenaamde "post-Mandela"-era afgestem was op 'n (roetinematige) wysiging aan die grondwet. Baines (2007) koppel die wittebrood-fase aan die Mandela-era, toe nasionale versoening nog hoog op die agenda was en die retoriek van "reënboogisme" ("rainbowism" - verwysende na Biskop Desmond Tutu se beroemde uitlating oor Suid-Afrika as "reënboognasie") -alomteenwoordig was.
Tydens die eerste era het die wetgewende proses relatief vlot verloop vanaf die stadium dat oor wetlike erkenning begin praat is. Tydens die tweede proses het ons te make met 'n uitgerekte proses wat gekenmerk word deur vertragings, herhaalde aanbiedings deur DoweSA, herhaalde verslae deur verskillende GHK's en 'n skynbare onsekerheid oor watter parlementêre instansie uiteindelik vir die formulering van die wetswysiging verantwoordelikheid moet neem. Oppervlakkig beskou, wil dit voorkom asof die betrokkenes tydens die tweede era nie deur dieselfde mate van entoesiasme omtrent verampteliking aangevuur was nie.
• 'n Derde verskil het te make met die rol van die internasionale wêreld.
Ofskoon die rol van die internasionale wêreld ook as deel van ooreenkomste behandel is, is dit nietemin belangrik om ook op die verskil in hierdie rolle te wys. Dit is so dat die verwetliking van gebaretale tydens die eerste era eintlik pas op gang gekom het. Tydens die tweede era het tussen 1996 en 2023 altesaam 70 (gemiddeld van bykans drie per jaar) lande ook tot sulke stappe oorgegaan. Trouens, DoweSA het reeds vanaf hulle heel eerste aanbieding in 2007, ofskoon ietwat misleidende gegewens hieromtrent verskaf is, hierdie tendens beklemtoon. Verder het die VN se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede eers ná 2006 in werking getree en was lande se aanvanklike verslae omtrent hulle nakoming van die Konvensie eers vanaf 2009 verwag - Suid-Afrika s'n is op 26 November 2014 ingedien (UNCRPD, 2018), die stadium waarin die hele proses gesloer het terwyl GHKIII reeds teen die einde van 2007 'n verslag by die Parlement ingedien het om met die proses op gang te kom. Hierdie interaksie met die betrokke moniterende internasionale liggaam was nie aanwesig tydens die eerste era nie.
Ten spyte van die ongelyke tydperke met betrekking tot die wetlike erkenning van SAGT lewer die vergelykings wat hier oor ooreenkomste en verskille tussen die twee eras gedoen is wel 'n aantal insigte op omtrent die wetgewende proses, die rol van (die) kampvegter(s) en die interaksie tussen die twee elemente betrokke by die verampteliking van SAGT.
Die beskrywing van die proses wat tot die verampteliking van SAGT gelei het, toon in vele opsigte ooreenkomste met die soort bewegings wat in ander lande voorkom, soos onder meer gedokumenteer in die bundel wat De Meulder en haar kollegas saamgestel het waarna dikwels hier bo verwys is. Hulle wys daarop dat hierdie veldtogte om gebaretale wetlik erken te kry veral vanaf die 1990's deur Dowe organisasies aangevuur word (De Meulder, Murray & McKee, 2019:5), met ander woorde 'n tipiese geval van taalbeleid- en taalbeplanning van benede (Alexander, 1992). Die klem by die Dowe organisasies val interessant genoeg nie op die verampteliking van hulle gebaretale nie. Dit verduidelik waarskynlik deels waarom net ses van die hier bo gemelde 76 lande tot hiertoe hulle gebaretale as amptelike tale van die land erken het. Vandaar dat die SAGT-geval (die sesde) as uitsonderlik beskou kan word.
Aan die ander kant kan die inskiklikheid van die Suid-Afrikaanse wetgewer om 'n 12de amptelike taal toe te voeg waarskynlik toegeskryf word aan 'n egalitaristiese benadering tot taalbestuur (Schiffman, 1996:29) wat teruggaan na 1993 toe besluit is om die Sintutale wat sedert 1963 as amptelike tale op regionale vlak gefunksioneer het, gelyk te stel aan Engels en Afrikaans, waarskynlik deels die resultaat van 'n kompromie om te verhoed dat slegs Engels die de jure amptelike taal sou word. Teen hierdie tyd is dit algemene kennis dat die taal wel de facto die amptelike taal van die land is. 'n Mens sou kon redeneer dat 'n egalitaristiese taalbeleid meer regverdig is as 'n beperkende taalbeleid, volgens Schiffman die teenpool daarvan. Pool (1991) wys daarop dat regerings wêreldwyd met hierdie spanning tussen 'n beperkende maar doeltreffende en 'n regverdige maar ondoeltreffende beleid te kampe het. Volgens hom is die oplossing nie om meer tale toe te voeg nie maar eerder om minder tale amptelik te verklaar - drie amptelike tale is na sy mening eintlik die keerpunt tussen 'n werkbare en onwerkbare taalbestel. Dit laat die vraag ontstaan oor die werkbaarheid van 12 amptelike tale indien 11 al agt meer as drie is, maar dit is 'n kwessie vir verdere ondersoek.
7. Slotsom
Die oogmerk van hierdie studie was om 'n vergelyking te maak van die twee eras van die verampteliking van SAGT op basis van 'n (beknopte) beskrywing van die wetgewende prosesse betrokke vanuit 'n taalbeleid- en taalbeplanningsraamerk en teen die agtergrond van internasionale tendense op die gebied van die wetlike erkenning van gebaretale. Die ondersoek is onderneem aan die hand van 'n inhoud-analise van gedokumenteerde verrigtinge van die portefeuljekomitees en huise van die Suid-Afrikaanse parlement en staats- en statutêre instellings, relevante nuusknipsels en diverse sekondêre bronne, onder meer artikels injoernale, dokumente asook relevante bronne beskikbaar op die internet. Die analise het rekening gehou met tendense wat na vore kom uit studies oor die prestasies wat in ander lande met betrekking tot die wetlike erkenning van hulle gebaretale behaal is. Hierdie studies dui daarop dat meestal drie elemente ter sprake kom, te wete die wetgewende proses, taalaktivisme en kampvegters en rolspelers. Die sukses wat met die wetgewende proses behaal word, blyk grootliks af te hang van die interaksie tussen hierdie elemente.
Wat onder meer uit die ondersoek blyk, is dat die relatiewe ophef wat oor die tydsduur verbonde aan die verampteliking van SAGT gemaak word eintlik irrelevant is gegewe die feit dat voor 19 Julie 2023 daar slegs vyf lande ter wêreld was wat hulle nasionale gebaretale as amptelike tale erken het terwyl 71 ander lande wel teen daardie tyd amptelike (wetlike) erkenning aan hulle gebaretale verleen het. 'n Oorbeklemtoning van die sogenaamde "lang stryd" om SAGT veramptelik te kry, oorskadu in werklikheid die besonderse prestasies wat in 1996 met die amptelike erkenning van die taal behaal is, gesien die feit dat ons slegs die sesde land was wat ná 1992 sodanige erkenning verleen het. Dit het die Suid-Afrikaanse wetgewer tweeledig bewerkstellig deur die taal in te sluit by Pansat se grondwetlike taalmandaat omtrent taalontwikkeling en -bevordering en deur 'n skolewet wat die taal in die onderwys-domein veramptelik het.
Wat die ondersoek verder uitwys, is die sentrale rol wat Suid-Afrika se kampvegter vir SAGT en veral sy eerstetaalgebruikers, DoweSA, by beide die 1996-mylpale en die uiteindelike volle verampteliking 27 jaar later gespeel het. Veral wat laasgenoemde betref, dui die gegewens van hierdie studie daarop dat die volgehoue aktivistiese rol van hierdie kampverger deurslag-gewend was vir die bereiking van die besonderse 19 Julie 2023-mylpaal. In kontras hiertoe getuig die gegewens op 'n deurlopende lomp en onbeholpe hantering deur die wetgewer van DoweSA se 2007-versoek. Trouens, wat nie hier bo genoem is nie, is dat dieselfde gesê kan word van die wetgewer se hantering van die 2000-klagte oor die uitskryf van Noord-Sotho ("Sesotho sa Leboa") uit die 1993-grondwet en die vervanging van hierdie taal deur een van sy dialekte, Pedi ("Sepedi"), as een van die 11 amptelike tale, in die 1996-grondwet (CRC, 2017a).
Laastens is ook bevind dat ofskoon tydsduur as 'n faktor by die wetlike erkenning van 'n gebaretaal nie werklik van belang is nie, dit wel in die geval van die huidige studie lig werp op die vraag waarom die wetgewende proses van die eerste era soveel vinniger verloop het as die tweede en dat dit grootliks te make het met die sogenaamde wittebroodgees wat tydens die Mandela-era geheers het.
Die studie bevestig uiteindelik die belang van die interaksie tussen wetgewer en kampvegter vir die wetgewende proses en die realisering van die gewenste wetlike uitkomste. Hierdie bevinding kom ooreen met soortgelyke gevallestudies in ander lande waar 'n stryd om die wetlike erkenning van hulle nasionale gebaretale gevoer word en waarna vroeër verwys is. Een groot verskil met die Suid-Afrikaanse geval is dat die stryd in die meerderheid van hierdie lande konsentreer op die amptelike erkenning van gebaretale en nie op die erkenning van gebaretale as amptelike tale nie. Soos aangevoor, kan ons hierdie verskil toeskryf aan die Suid-Afrika se egalitaristiese benadering tot taalbestuur maar dat dit 'n kwessie is wat dieper ondersoek behoort te word.
Weens beperkte ruimte is die aangebode oorsig kripties van aard en word hoogs selektief met beskikbare gegewens oor die onderwerp omgegaan. Dit bly 'n ietwat onbevredigende oefening maar lewer nietemin op die ou end tog enkele insigte op waaroor nagedink en wat verder en beslis diepgrondiger ondersoek behoort te word.
In Suid-Afrika is nog relatief min ondersoek oor die onderwerp van taalbeleid- en beplanning vir SAGT gedoen, spesifiek oor SAGT as minderheidstaal. Ook is nog net enkele studies oor die wetgewende prosesse betrokke by die statusverhoging van SAGT onderneem (Holness, 2016; Reagan, 2020; Du Plessis, 2022). Opvolgondersoeke kan in hierdie opsig 'n bydrae lewer maar uiteindelik ook help om wetenskaplike belangstelling in taalbeleid en -beplanning vir die minderheidstale van Suid-Afrika aan te wakker.
BIBLIOGRAFIE
Alexander, N. 1992. Language planning from below. In Herbert, R. (Ed.). Language and society in Africa: the theory and practice of sociolinguistics. Johannesburg: Witwatersrand University Press, pp. 56-68. [ Links ]
Azzopardi-Alexander, M, Borg, K, Callus, D, Callus, K, Mulvaney, S, Vere, A, Xuereb, LR. 2019. The road to Maltese Sign Language recognition. In De Meulder, M, Murray, JJ & McKee, RL. (Eds). The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. Bristol & Blue Ridge Summit: Multilingual Matters, pp. 52-66. [ Links ]
Baines, G. 2007. The politics of public history in post-apartheid South Africa. In Stolten, H. (Ed.). History making and present day politics. Uppsala: Nordiska Afrikaninstitutet, pp. 167-182. [ Links ]
Bangani, Z. 2020. Will sign language become SA's 12th official language? New Frame, 12 October. https://www.newframe.com/will-sign-language-become-sas-12th-official-language/ [17 November 2022] [ Links ]
Beukes, A.-M & Barnard, M. 1994. Verrigtinge van die Tale vir almal-konferensie: Op weg na 'n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 27-28 Mei 1994, WNNR Konferensiesentrum, Pretoria. [ Links ]
Branson, J & D Miller. 1997. National sign language and language policies. In Wodak, R & Corson, D. (Eds). Encyclopedia of language and education: language policy and political issues in education (Vol. 1). Dordrecht: Kluwer Academic Publishers, pp. 89-98. [ Links ]
Cabinet Statements. 2022, May 26. Statement on the virtual Cabinet Meeting of 25 May 2022. https://www.gov.za/speeches/statement-virtual-cabinet-meeting-25-may-2022-26-may-2022-0000 [29 November 2022] [ Links ]
CCSA (Constitutional Court of South Africa). 2023. The history of the constitution. https://www.concourt.org.za/index.php/constitution/history [31 Julie 2023] [ Links ]
Combs, Mary & Susan D Penfield. 2012. Language activism and language policy. In Spolsky, B. (Ed.) The Cambridge handbook of language policy. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 461474. [ Links ]
Conama, JB. 2019. 'Ah, that's not necessary, you can read English instead?' An analysis of state language policy concerning Irish Sign Language and its effects. In De Meulder, M, Murray, JJ & McKee, RL. (Eds). The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. Bristol & Blue Ridge Summit: Multilingual Matters, pp. 19-35. [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2007a. Recognition of South African Sign Language as official language: briefing by Deaf Federation of South Africa, Joint Constitutional Review Committee, South African Parliament, 16 February 2007. Meeting report. https://pmg.org.za/committee-meeting/7724/ [11 Mei 2021] [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2007b. DEAFSA submission: resolution; Committee Annual Report 2006. Meeting report, 25May 2007. https://pmg.org.za/committee-meeting/8091/ [26 Mei 2022. [ Links ]]
CRC (Constitutional Review Committee). 2009. Language issues: Proposed recognition of South African Sign Language as official language, Sepedi/ Sesotho sa Leboa issues: Briefings by Deaf SA, CRL Commission, Pan South African Language Board. Meeting report, 12 November 2009. https://pmg.org.za/committee-meeting/11097/ [12 November 2022] [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2010, Augustus 26. Outline of 2010 public submissions & adoption of draft 2009 Committee Report. https://pmg.org.za/committee-meeting/11929/ [24 November 2022] [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2015. Processing ofLegacy Submissions. November 29, 2022 van Parliamentary Monitoring Group: https://pmg.org.za/committee-meeting/21459/[22 November 2022] [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2016, November 25. Parliamentary Legal Advisors on 2015 public submissions. https://pmg.org.za/committee-meeting/23740/ [24 November 2022] [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2017a. Status of Sepedi, Sesotho sa Leboa, Khelovhedu & Sign Language of South Africa & Khoi, Nama & San Languages: Pansalb, DAC & CRL Rights Commission, Constitutional Review Committee, South African Parliament, 3 February 2017. Meeting report. https://pmg.org.za/committee-meeting/23912/ [6 Maart 2019] [ Links ]
CRC (Constitutional Review Committee). 2017b. ATC170621: Report of the Constitutional Review Committee on 2015 Public Submissions, dated 21 June 2017. https://pmg.org.za/tabled-committee-report/3065/ [3 Junie 2019] [ Links ]
CT (Constitutional Talk). 1995a, September 8-21. Debate on national symbols, language starts. Constitutional Talk: 12. [ Links ]
CT (Constitutional Talk). 1995b, September 21. Proposed draft text. Constitutional Talk: 3. [ Links ]
Daily News Reporter. 1994. Lobby wants sign language to be officially recognised. The Daily News, August 30:3. [ Links ]
Das Gupta, J & Ferguson, CA. 1977. Problems of language planning. In Rubin, J, Jernudd, B, Das Gupta, J, Fishman, J & Ferguson, C. (Eds). Language planning processes. The Hague & Paris & New York: Mouton Publishers, pp. 3-8) [ Links ]
DBE (Department of Basic Education). 2021. Implementation ofKiswahili as Second Additional Language in SA schools. https://www.education.gov.za/ArchivedDocuments/ArchivedArticles/Kiswahili-SAL-implementation.aspx [8 November 2022] [ Links ]
De Meulder, M. 2015. The legal recognition of sign languages. Sign Language Studies, 15(4):498-506. [ Links ]
De Meulder, M, Murray, JJ, & McKee, RL. (Eds). 2019. The legal recognition of sign languages. Advocacy and outcomes around the world. Clevedon & Buffalo & Toronto: Channel View Publications. [ Links ]
De Meulder, M, Murray, JJ & McKee, Rachel L. 2019. Introduction: the legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. In De Meulder, M, Murray, JJ & McKee, RL. (Eds). The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. Bristol & Blue Ridge Summit: Multilingual Matters, pp. 1-15. [ Links ]
DJCS (Department of Justice and Correctional Services). 2022b. Part B: Republic of South Africa Constitution Eighteenth Amendment Bill, 2022, Notice 1156 of2022. Government Gazette(47049), pp. 5-7. [ Links ]
Druchen, B. 2007, DeafSA Memorandum towards recognition of South African Sign Language as the 12th official language. Meeting report: Joint Constitutional Review Committee, 16 February 2007. February 4, 2020 van PMG Parliamentary Monitoring Group: https://pmg.org.za/committee-meeting/8091/ [11 Mei 2021] [ Links ]
Druchen, B. 2010. Challenges and resolutions for the Deaf Education Sector in South Africa. American Annals of the Deaf, 155(4):496-498. [ Links ]
Druchen, B. 2014. The legacy of Deaf President Now in South Africa. Sign Language Studies: 30(2): 74-86. [ Links ]
Druchen, B. 2023. SASL 12: Journey. Public hearings on the Constitution Eighteenth Amendment Bill [B1 - 2023], 7 March 2023, Parliament of the Republic of South Africa. [ Links ]
Du Plessis, L. 2006. Language activism in South Africa. In G. Sica. Open Problems in Linguistics and Lexicography. Milano: Polimetrica, pp. 73-96. [ Links ]
Du Plessis, T. 2020. The role of Language Planning Agencies in higher education in South Africa - comparing two cases. In Darqueness, J, Du Plessis, T & Soler, J. (Eds). Language diversity management in higher education. Sociolinguistics 34, International Yearbook of European Sociolinguistics. Berlin & Boston: De Gruyter, pp. 173-193. [ Links ]
Du Plessis, T. 2022. The officialisation of South African Sign Language - what is there to gain? Language Matters, 53(3):47-71. [ Links ]
EC (European Council). s.j.. European Charter for Regional or Minority Languages. Strasbourg, 5. XI.1992. https://rm.coe.int/1680695175 [27 Julie 2023] [ Links ]
Grondwetlike Beriggewer. 1995. Komitee sal kompromis oor taalplan probeer kry. Die Burger, September 2:9. [ Links ]
Haarmann, H. 1990. Language planning in the light of a general theory of language: a methodological framework. International Journal of the Sociology of Language, 86: 103-126. [ Links ]
Hansards. 2017. Hansard: NA: Unrevised Hansard, National Assembly, 23 Nov 2017. https://pmg.org.za/hansard/25658/ [29 November 2022] [ Links ]
Hansards. 2018. Hansard: NCOP: Unrevised Hansard, National Council of Provinces, 5 June 2018. https://pmg.org.za/hansard/26736/ [30 November 2022] [ Links ]
Heugh, K. 1995. A whole new board game. Democracy in Action, 15 Desember:20. [ Links ]
Heyns, A. 1995. Erken dowes se gebaretaal as amptelike taal. Die Burger, 9 Augustus:8. [ Links ]
Holness, W. 2016. The development and use of sign language in South African schools: the denial of inclusive education. In Ngwena, C, Grobbelaar-du Plessis, I, Combrinck, H & Kamg, SD. (Eds). African Disability Rights Yearbook 2016 (Vol. 4). Pretoria: Pretoria University Law Press (PULP), pp. 141-190. [ Links ]
JCNANCOP (Joint Committee National Assembly and National Council of Provinces). 2009. Hansard: Together Empowering Women for Gender Development and Equality: (Debate on National Women's Day), 29 August 2009. Mei 24, 2022. Parliamentary Monitoring Group: https://pmg.org.za/hansard/18063/] [ Links ]
JCNANCOP (Joint Committee National Assembly and National Council of Provinces). 2020. Hansard: JS: Unrevisedhansard (State of the nation adress. https://pmg.org.za/hansard/29844/ [29 November 2022] [ Links ]
Kaplan, RB & Baldauf, RB. Jr. 1997. Languageplanningfrompractice to theory. Clevedon: Multilingual Matters. [ Links ]
Kaplan, RB & Baldauf, RB. Jr. 2003. Language and language-in-education planning in the Pacific Basin. Dordrecht & Boston & London: Kluwer Academic Publishers. [ Links ]
Khumalo, G. 2012. Calls to make sign language official. SAnews. https://www.sanews.gov.za/south-africa/calls-make-sign-language-official [17 November 2022] [ Links ]
Krausneker, V. 2008. The protection and promotion of sign languages and the rights of their users in Council of Europe member states: needs analysis. Council of Europe: Strasbourg. [ Links ]
Landman, K. 1990. Taalonderwys en die dowe kind. Tydskrif vir taalonderrig, 24(2):42-53. [ Links ]
Lawson, L, McLean, F, O'Neill, R & Wilks, R. 2019. Recognising British Sign Language in Scotland. In De Meulder, M, Murray, JJ & RL McKee. The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. Bristol & Blue Rdige Summit: Multilingual Matters, pp. 67-81. [ Links ]
Liebenberg, M. 1994. Gebaretaal 'moet SA se 12de amptelike taal word'. Beeld, 27 Julie:3. [ Links ]
Martel, A. 1999. Heroes, rebels, communities and states in language rights activism and litigation. In Kontra, M. P.-K. (Eds). Language: A right and a resource. Approaching linguistic human rights. Budapest: Central European University Press, pp. 47-80. [ Links ]
MSAC (Minister of Sport, Arts and Culture). 2023. Question NW992 to the Minister of Sport, Arts and Culture, 18April 2023. https://pmg.org.za/committee-question/21870/ [5 Mei 2023] [ Links ]
Mthembu, M. 1995. Recognise sign language. The Star, 7 Augustus:9. [ Links ]
Murray, JJ. 2015. Language planning and sign language rights. Sign Language Studies, 15(4): 375-378. [ Links ]
NA (National Assembly). 2023. Hansard: NA: Unrevised Hansard, National Assemblyl, 2 May 2023. https://pmg.org.za/hansard/36795/ [6 Augustus 2023] [ Links ]
NCOP (Education and Technology, Sports, Arts and Culture). 2007. Pan SA Language Board's language promotion: strategic plan briefing, 1 August 2007. https://pmg.org.za/committee-meeting/10374/ [26 Mei 2022] [ Links ]
PA (People's Assembly). 2023. PA's blog: From the Government Gazette and Media Statements (24 July 2023). https://pmg.org.za/blog/From%20the%20Government%20Gazette%20and%20Media%20Statements%20(24%20July%202023) [6 Augustus 2023] [ Links ]
Patrick, Alex & Bhengu, Cebelihle. 2023. Sign language officially becomes SA's 12th official language. news24. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/sign-language-officially-becomes-sas-12th-official-language-20230719 [23 Julie 2023] [ Links ]
PCJCS (Portfolio Committee: Justice and Correctional Services). 2020. ATC200605: Report of the Portfolio Committee on Justice and Correctional Services on the respective Strategic Plans and Annual Performance Plans 2020/21 of the Department of Justice and Constitutional Development et al. https://pmg.org.za/tabled-committee-report/4167/ [30 November 2022] [ Links ]
PCJCS (Portfolio Committee: Justice and Correctional Services). 2023. Constitution Eighteenth Amendment Bill (SA Sign language). Calls for comments opened 23 January 2023. https://pmg.org.za/call-for-comment/1242/ [7 Augustus 2023] [ Links ]
PCWYPD (Portfolio Committee: Women, Youth and Persons with Disabilities). 2021. Disabilities Rights Framework & Disability Bill: SALRC & Department briefing. https://pmg.org.za/committee-meeting/31932/ [1 Desember 2022] [ Links ]
Pool, J. 1991. The official language problem. The American Political Science Review, 55(2):495-514. [ Links ]
PUK (Parliament of the United Kingdom). 1909. South Africa Act, 9 Edward VII, c. 9. http://www.portcullis.parliament.uk/dserve/dserve.exe?dsqIni=Dserve.ini&dsqApp=Archive&dsqCmd=Show.tcl&dsqDb=Catalog&dsqPos=0&dsqSearch=%28%28%28text%29%3D%27south%20africa%20act%27%29AND%28Date%3D%271909%27%29AND%28MgtGroup%3D%27Acts%20of%20Parliament%2F [15 Maart 2012] [ Links ]
Quer, Joseph & Ronice Müller de Quadros. 2015. Language policy and planning in Deaf communities. In Schembri, A & Lucas, X. (Eds). Sociolinguistics and Deaf communities. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 120-145. [ Links ]
Rapport. 1995. Chapter 1 Founding Provisions. Rapport, 11 November: 3. [ Links ]
Reagan, T. 2010. Language policy and planning for sign languages. Washington: Gallaudet University Press. [ Links ]
Reagan, T. 2020. A twelfth official language? The constitutional future of South African Sign Language. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 38(1):73-85. [ Links ]
Reagan, T & Penn, C. 1997. Language policy, South African Sign Language, and the Deaf: social and educational Implications. Southern African Journal of Applied Language Studies, 5(1):1-13. [ Links ]
Reagan, T, Penn, C & Ogilvy, D. 2006. From policy to practice: sign language developments in postapartheid South Africa. Language Policy, 2006(5):187-208. [ Links ]
RSA (Republic of South Africa). 1993. Constitution of the Republic of South Africa, 1993 (Prior to repeal by Act 108 of1996). Act 200 of1993. Pretoria: Government Printer. [ Links ]
RSA (Republic of South Africa). 2012. Use ofOfficial LanguagesAct, 2012. Act No. 12 of2012. Pretoria: Government Printer. [ Links ]
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1963. Grondwetlike Wysigingswet, 1963. Wet Nr 9 van 1963. Buitengewone Staatskoerant Nr 453, 8 Maart 1963. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1993. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993. Wet no. 200, 1993. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1995. Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 1995. Wet 59 van 1995. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1996a. Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996. Wet 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
RSA (Republiek van Suid-Afrika). 1996b. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Wet No. 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
SABCDigitalNews. 2023. Video | Signing ceremony of the South African Sign Language Bill. Video. https://www.sabcnews.com/sabcnews/live-signing-ceremony-of-the-south-african-sign-language-bill/ [19 Julie 2023] [ Links ]
Sabinet. 2023. All SA Media (News Clippings). Sabinet: https://discover-sabinet-co-za.ufs.idm.oclc.org/search [9 Mei 2023] [ Links ]
Sachs, A. 1994. The new language dispensation: the constitutional framework and the goals. In Beukes, A.-M & Barnard, M. Verrigtinge van die Tale vir almal-konferensie: Op weg na 'n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 27-28 Mei 1994, WNNR Konferensiesentrum, Pretoria, pp. 7-15. [ Links ]
SANRD (Suid-Afrikaanse Raad vir Dowes). 1979. Doelstellings en werksaamhede van die S.A. Nasionale Raad vir Dowes. Jubileum 50 jaar. Hercules: N.H.W.-Pers. [ Links ]
Sapa. 1995a. Amptelike status gevra vir gebaretaal. Die Burger, 28 Augustus: 13. [ Links ]
Sapa. 1995b. ANC proposes sign language be made official. The Citizen, 29 August: 8. [ Links ]
Sapa. 1995c. Make sign language official - proposal. The Star, 29 August: 6. [ Links ]
Sapa. 1995d. Signing to be probed as 12th language. The Citizen, 2 September: 8. [ Links ]
Schiffman, H. 1996. Linguistic culture and language policy. Paperback edition. London: Routledge. [ Links ]
SSA (Statistics South Africa). 2012. Census 2011. Census in brief. Report No. 03-01-41. Pretoria: Statistics South Africa. [ Links ]
Streek, B. 1999. A sign of SA's 12th official language. Mail & Guardian, 30 September:14. [ Links ]
Sung-Eun, H, Hyunhwa, L, Mi-Hye, L, & Seung-Il, B. 2019. The Korean Sign Language Act. In De Meulder, M, Murray, JJ & McKee, RL. (Eds). The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. Bristol & Blue Ridge Summit: Multilingual Matters, pp. 36-51. [ Links ]
Timmermans, N. 2005. The status of sign languages in Europe. Strasbourg: Council ofEurope Publishing. [ Links ]
Turi, J.-G. 1994. Typology of language legislation. In Skutnabb-Kangas, T, Phillipson, R, Rannut, M & Phillipson, TS-K. (Eds). Linguistic human rights. Overcoming linguistic discrimination. Berlin & New York: Mouton de Gruyter, pp. 111-120. [ Links ]
UN (United Nations). 1975. Declaration on the Rights of Disabled Persons adopted 9 December 1975 by General Assembly resolution 3447 (XXX). https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/declaration-rights-disabled-persons [17 Julie 2023] [ Links ]
UN (United Nations). 1992. Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities, General Assembly resolution 47/135, 18 December 1992. https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/declaration-rights-persons-belonging-national-or-ethnic [26 Julie 2023] [ Links ]
UN (United Nations). 2006. Convention on the Rights of Persons with Disabilities adopted 13 December 2006 by Sixty-first session of the General Assembly by resolution A/RES/51/106. https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/convention-rights-persons-disabilities [10 April 2023] [ Links ]
UN (United Nations). 2017. International Day of Sign Languages, Resolution adopted by the General Assembly on 19December 2017A/RES/72/161. https://undocs.org/Home/Mobile?FinalSymbol=A%2FRES%2F72%2F161&Language=E&DeviceType=Desktop&LangRequested=False [17 Julie 2023] [ Links ]
UNCRPD (United Nations Committee on the Rights of Persons with Disabilities). 2018. Concluding observations on the initial report of South Africa, 23 October 2018, G1832308. New York: United Nations. file:///C:/Users/dplesslt/Downloads/G1832308.pdf [9 Augustus 2023] [ Links ]
UnSA (Union of SouthAfrica). 1925. The Official Languages ofthe Union Act, No. 8 of1925. Government Gazette Extraordinary No. 1477. Pretoria: Government Printer. [ Links ]
WFD (World Federation of the Deaf). 2016a. Our story. World Federation of the Deaf: http://wfdeaf.org/who-we-are/our-story/ [25 Julie 2023] [ Links ]
WFD (World Federation of the Deaf). 2016b. WFD Charter on Sign Language Rights for All. http://wfdeaf.org/news/resources/wfd-charter-on-sign-language-rights-for-all/ [23 Julie 2023] [ Links ]
WFD (World Federation of the Deaf). 2022. The legal recognition of national sign languages (Update: 14 December 2022). https://wfdeaf.org/news/the-legal-recognition-of-national-sign-languages/ [8 November 2022] [ Links ]
Wheatly, Mark & Annika Pabsch. 2012. Sign Language Legislation in the European Union. Edition II. Brussel: European Union of the Deaf. [ Links ]
Wikipedia. 2023, Mei 20. List of official languages by country and territory. https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_official_languages_by_country_and_territory [24 Mei 2023] [ Links ]
Willemse, R. 2023. Gebaretaal nou SA se 12de amptelike taal. Netwerk24, 19 Julie. https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/gebaretaal-nou-sa-se-12de-amptelike-taal-20230719 [23 Julie 2023] [ Links ]
Witness Reporter. 1995. Focus on rights of deaf people. The Natal Witness, 29 August 29:4. [ Links ]
WorldAtlas. 2019, Mei 31. Which countries recognize sign language as an official language? https://www.worldatlas.com/articles/which-countries-recognize-sign-language-as-an-official-language.html [9 Mei 2023] [ Links ]
Zander, M. 2015. The law-making process. Oxford: Oxford & Portland. [ Links ]
Ontvang: 2023-08-11
Goedgekeur: 2023-08-16
Gepubliseer: September 2023
Theo du Plessis is professor in Taalbestuur en emeritus professor in die Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. Hy is mederedakteur van die Unisa/ Routledge ISI-tydskrif Language Matters. Studies in the Languages of Southern Africa en dien op die Redaksies van die ISI-tydskrifte Language Policy en Nomina. Hy is ook hoof-redakteur van die Van Schaik-uitgewersreeks, Language policy Studies in South Africa en die SUNPReSS-reeks, South African Language Rights Monitor. Hy is 'n voormalige lid van die eerste Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en het op Langtag (Language Plan Task Group) gedien. Prof. Du Plessis is 'n jarelange lid van die académie internationale de droit linguistique [Internasionale Akademie vir Taalwetgewing] en lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Theo du Plessis is Professor in Language Management and Professor Emeritus in the Department of South African Sign Language & Deaf Studies at the University of the Free State, Bloemfontein, South Africa. He is Associate Editor of the Unisa/Routledge ISI journal Language Matters. Studies in the languages of Southern Africa and serves on the Editorial Boards of the ISI journals Language Policy and Nomina. He is also Editor-in-Chief of the Van Schaik Publisher series, Language Policy Studies in South Africa and the SUNPReSS series, South African Language Rights Monitor. He is a former member of the first Pan South African Language Board and served on Langtag (Language Plan Task Group). Prof Du Plessis is a long-standing member of the académie internationale de droit linguistique [International Academy of Linguistic Law] and member of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns [South African Academy of Science and Art].
1 Deur die outeur vir geldigheid geverifieer.
2 'n Internetsoektog vir die tydperk 19 Julie - 23 Julie 2023 ná mediadekking van die ondertekeningseremonie bevestig hierdie tendens.
3 Die kwessie is ook tydens drie onderhoude van die outeur met oudiovisuele mediahuise opgehaal, onderskeidelik op 4 Junie 2023 met SAFM en op 19 Julie met RSG en eNCA.
4 Geen ondersteunende getuienis kon vir hierdie aanspraak van die WFD gevind word nie, maar vir die ander gemelde lande wel.
5 Met dien verstande dat die WFD se aanspraak oor Panama korrek is, soos vroeër behandel.