SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2Creolisation and healing in van Wyk Louw's Nuwe verse (New poems) and Tristia"The pot boils all over": NP van Wyk Louw, Johannes Degenaar and Afrikaans decolonisation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2024

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a5 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    Die ora se eerste 20 jaar

     

    The ora's first 20 years

     

     

    Jannie Rossouw

    Besoekende professor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: jannie.rossouw@wits.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Hierdie artikel fokus op die geskiedenis van die ora (Φ3) sedert die eerste vrystelling daarvan 20 jaar gelede in 2004. Die ora is onlosmaaklik verweef met Orania, 'n Afrikaanse dorp in die Noord-Kaap. Die ora is op 'n een-tot-een-grondslag gekoppel aan die Suid-Afrikaanse rand. Die ora sirkuleer as 'n wettige betaalmiddel vir gebruik in kontanttransaksies in Orania. Die bestaan en sirkulasie van die ora is een van die unieke eienskappe van Orania.
    'n Verdere unieke eienskap van Orania is die uitsluitlike gebruik van Afrikaans in die dorp. Alle bedrywighede (godsdiensbeoefening, kultuuraktiwiteite, onderrig en saketransak-sies) geskied uitsluitlik in Afrikaans. Voorts het Orania net wit inwoners. Die dorp word dus as 'n wit Afrikaner enklawe beskou.
    Daarbenewens is die oogmerk van Orania selfbeskikking wat die dorp se toekoms betref. Dit bring Orania in lyn met die voortsetting van die Verwoerdiaanse ideaal van afsonderlike ontwikkeling tot selfbeskikking. Hierdie ideaal word in Orania ondersteun deur "selfwerk-saamheid", met ander woorde 'n beleid dat voorkeur gegee word aan indiensneming van die inwoners van Orania.
    Die inwoners van Orania verkies om bedrae in ora te noem en nie in rand nie. Gevolglik word daardie praktyk in hierdie artikel gebruik.
    Gebaseer op die 2021/22-sensusopname in Orania, is totale persoonlike jaarlikse inkomste op
    Φ295 672 222 beraam. Per capita persoonlike jaarlikse inkomste vir die 2 377 inwoners is dus op Φ124 389 beraam. Hierteenoor is die jaarlikse inkomste van huishoudings in Orania in 2021 op Φ190 331 179 beraam. Hierdie verskil in ramings kan nie met behulp van die bestaande sensusopnamedata verklaar word nie en is tevore aangestip as 'n gebied vir verdere navorsing.
    Die 2021-besigheidsopname van Orania rapporteer data oor sake-ondernemings in die dorp. Op grond van hierdie opnamedata is die jaarlikse omset van sakeondernemings in Orania in 2021 op
    Φ281 950 000 beraam.
    Meer navorsing is nodig om te bepaal of die groei in ora-koepons wat uitgereik word, hoegenaamd korreleer met die groei in ekonomiese bedrywighede in Orania. Die groeikoers van ora-koepons kan nie met groei in ekonomiese bedrywighede vergelyk word nie omdat laasgenoemde nie voorheen op 'n vergelykbare basis bereken is nie. Onlangse navorsing is die eerste inisiatief om 'n basis te skep vir die bepaling van Orania se toekomstige ekonomiese groei. Indien hierdie korrelasie deur toekomstige navorsing bepaal kan word, sal dit 'n nuttige en maklike aanwyser van ekonomiese bedrywighede op die dorp wees.
    Die navorsing toon ook dat die ora tot gemeenskapsbewussyn bydra, byvoorbeeld omdat die inwoners bedrae in ora uitdruk, eerder as in rand. Die ora verminder ook kontantrisiko in Orania, omdat die ora nie buite die dorp gebruik kan word nie. Die ora het egter ook sekere nadele vir inwoners van Orania. Houers van ora-koepons en dOra moet dit in Orania vir rand inwissel vir kontanttransaksies buite die dorp. Enige afslag wat sake-ondernemings op ora-transaksies toestaan, verminder hul omset en bruto wins. Die feit dat ora-koepons nie masjienleesbaar is nie, verhoog die administrasiekoste van die koepons.
    Die ora en Orania is onlosmaaklik met mekaar verweef. Die dorp kan egter sonder die ora bestaan, terwyl die ora nie sonder Orania kan bestaan nie.

    Trefwoorde: Afrikaans; ekonomiese bedrywigheid; geldeenheid; gemeenskaps-ontwikkeling; koepon; ora (Φ); Orania


    ABSTRACT

    The history of the ora (with the symbol Φ) as a trade instrument is inextricably linked to the history of Orania, a village on the southern bank of the Orange River in the Northern Cape Province of South Africa. The closest town to Orania is Hopetown (43 kilometres to the northwest). Orania is about 160 kilometres south of Kimberley, the biggest city in the Northern Cape.
    Orania has a number of unique features. Firstly, all inhabitants are white and speak Afrikaans, with the implication that this is the language used for all activities (business, education, religion and social interaction). It is therefore viewed as a white Afrikaner cultural enclave.
    Secondly, the aim of Orania is self-determination as far as its future is concerned. In this context it has been described as a continuation of the Verwoerdian ideal of the 1960s. This aim is supported by "selfwerksaamheid" (loosely meaning "to work with our own for our own"), that is, a policy in terms of which preference is given to the employment of people from Orania.
    Thirdly, Orania has its own trade instrument, the ora, the symbol for which is
    Φ.2 The ora is described as a coupon used in settlement of cash transactions. Calling the ora currency would be a contravention of the South African Reserve Bank Act, 1989. The Orania Sakekamer [chamber of commerce] issues the ora. It is linked on a one-to-one basis to the South African rand, that is, at a rate of Φ 1,00 = R1,00. The inhabitants of Orania prefer to use ora when referring to amounts and this paper follows the same convention.
    Literature on Orania refers to the ora and its use in trade, but there is no research focusing on the development of the ora since it wasfirst launched in 2004. This paper seeks to contribute to filling this gap in the existing literature.
    The ora serves the needs of the inhabitants of Orania. A population census undertaken in Orania in December 2021 and early in 2022 reported the town'spopulation as 2 377 people, of whom 1 635 were 20 years and older. The same census also showed that Orania comprised 649 households and 220 businesses.
    Based on the 2021/22 census, the total personal annual income of the residents of Orania in 2021 was estimated at
    Φ295 672 222. Per capita personal annual income of the 2 377 inhabitants was therefore estimated at Φ124 389. Based on the same census data, the annual household income in Orania was estimated at Φ190 331179. The difference in estimates cannot be explained in terms of the 2021/2022 census data and was previously highlighted as an area for further research.
    These estimates show some correlation with the survey data obtained from the 2021 business survey conducted in Orania. Business turnover in 2021 was estimated at
    Φ281 950 000.
    More research is necessary to ascertain whether the increase in the value of ora issued correlates at all with the growth rate of economic activity in Orania. If this correlation can be determined, ora in circulation will be a useful indicator of the growth of economic activities in Orania. The growth rate of ora coupons cannot be compared with growth in economic activity because the latter has not previously been calculated on a comparable basis. Recently research was published that will contribute to a basis for determining future economic growth.
    This research shows that the ora contributes to "community building" (a sense that the residents are building their own future) in Orania and limits cash risks in the town. However, the ora also has certain disadvantages for residents of Orania. Holders of ora coupons and dOra must exchange them for rand in Orania for cash transactions outside the town. Any discount that businesses grant on ora transactions reduces their turnover and gross profit. The fact that ora coupons are not machine-readable increases the administration costs of the coupons.
    The final conclusion is that the ora is inextricably linked to Orania. The town can exist without the ora, but the ora cannot exist without Orania.

    Key words: Afrikaans; community development; coupon; currency; economic activity; ora (Φ); Orania


     

     

    1. Inleiding4

    Orania is 'n dorp op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaap provinsie van Suid-Afrika. Die naaste dorp is Hopetown (43 kilometer in 'n noordwestelike rigting), terwyl Kimberley, die grootste stad in die Noord-Kaap, sowat 160 kilometer noord van Orania is.

    Orania is sowat 60 jaar gelede deur die destydse Departement van Waterwese aangelê as huisvesting vir personeel wat op die Oranjerivier-waterskema gewerk het en hulle gesinne. Ná afhandeling van die projek het die dorp ontvolk, totdat dit aangekoop is met die versugting om uiteindelik 'n Afrikaner-volkstaat daar te vestig. Al Orania se inwoners is wit en Afrikaans-sprekend, wat tot gevolg het dat alle godsdiensbeoefening, onderwys, sakebedrywighede en sosiale interaksie uitsluitlik in Afrikaans geskied. Orania word gevolglik as 'n wit Afrikaner kulturele enklawe beskryf. Wirz (2008:i) beskryf die dorp as 'n "(s)elfstandige Afrikaner Gemeenskap in die Noord Kaap" [sic].

    Die oogmerk van die inwoners van Orania is selfbeskikking wat die dorp se toekoms betref. Dit bring Orania in lyn met 'n voortsetting van die Verwoerdiaanse ideaal van afsonderlike ontwikkeling tot selfbeskikking, wat in die 1950's en 1960's onder leiding van dr. HF Verwoerd as eerste minister van Suid-Afrika gestalte gekry het. Die oordeel oor Verwoerdiaanse idealisme en selfbeskikking het met verloop van tyd verander. Mnr. Carel Boshoff IV5 wys daarop dat Verwoerd se " ... voorkeur vir sentrale beplanning van hom 'n eg moderne 'sosiale ingenieur' gemaak ... [het]" (Boshoff, 2022:110). Boshoff voeg by dat dit, veral by terugskoue, " ... maklik gekritiseer word, maar dit neem nie weg dat Verwoerd tydgenootlik as 'n goeie en sterk leier gereken is ... (nie)" (Boshoff, 2022:110).

    Hierdie ideaal van selfbeskikking word in Orania ondersteun deur "selfwerksaamheid" en eie arbeid. In die praktyk is dit 'n beleid waarvolgens voorkeur gegee word aan indiens-neming van die inwoners van Orania.

    Orania het 'n eie struktuur van openbare vakansiedae en volg nie Suid-Afrika se nasionale kalender vir vakansiedae nie. Die dorp se godsdienstige vakansiedae (byvoorbeeld Kersdag) stem wel met dié van Suid-Afrika ooreen. Ander vakansiedae wat geld, is Majubadag (27 Februarie), Stigtingsdag (6 April), Bittereinderdag (31 Mei), Taaldag (14 Augustus) en Heldedag (10 Oktober) (Boshoff, 2020:192-201). Vir die vakansiedag van 16 Desember gebruik Orania die benaming Geloftedag en nie Versoeningsdag soos in die res van Suid-Afrika nie (Boshoff, 2020:201).

    Een verdere unieke aspek is die ora (Φ6), 'n koepon, koopbewys of ruilmiddel wat sedert 2004 in Orania sirkuleer. Die ora mag ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank, No. 90 van 1989 nie 'n "geldeenheid" genoem word nie en staan gevolglik bekend as 'n "koepon" of "koopbewys" (Wirz, 2008:8) of "ruilmiddel" (Orania Sakekamer, s.j.). Enige verwysing na die ora as 'n "geldeenheid" sal dus 'n oortreding van daardie Wet wees. Die Wet bepaal in artikel 14(1) dat "[d]ie Bank die alleenreg [besit] om in die Republiek banknote en munte uit te reik of te laat uitreik".

    Die geskiedenis en gebruik van die ora is die fokus van hierdie artikel. In hierdie artikel word deurlopend na die ora as 'n koepon7 verwys, ten einde binne die bepalings van die Wet op die SA Reserwebank te bly. Die ontwikkelingsgeskiedenis van die ora is van belang omdat dit die enigste "privaatgeldeenheid" is wat in Suid-Afrika in omloop is. Ander gemeenskappe wat "privaatgeldeenhede" oorweeg, kan leer uit die ontwikkelingsgeskiedenis van ora-koepons sedert 2004 en die dOra in die onlangse verlede.

    Die struktuur van die res van die artikel is soos volg: Afdeling 2 oorweeg bestaande literatuur oor Orania en die ora. Afdeling 3 bied 'n oorsig van die ora sedert die eerste uitreiking daarvan in 2004. In Afdeling 4 word in die ekonomiese konteks van Orania getoets of die ora voldoen aan die voordele wat daarvoor in die vooruitsig gestel is. Die gevolgtrekkings volg in Afdeling 5.

     

    2. Literatuuroorsig

    Hoewel betreklik beperk in totale omvang, bestaan daar uiteenlopende literatuurbronne oor die geskiedenis van Orania en die ontwikkeling van die dorp as uitlewing van 'n volkstaats-gedagte vir Afrikaners. Prof. Carel Boshoff bespreek die aankoop en vestiging van Orania binne die konteks van die gedagte van 'n volkstaat in sy outobiografie (2012:384-389). Boshoff was getroud met 'n dogter van dr. HF Verwoerd.

    Boshoff het 'n leidende rol gespeel in die aankoop en ontwikkeling van Orania sedert 1991 (2012:384-389). Sy outobiografie bespreek nie die ora as Orania se geldeenheid in enige besonderhede nie, maar verwys sydelings daarna (2012:424). Volgens Boshoff was die oogmerke van 'n eie geldstelsel vir Orania die volgende: (a) kontant in sirkulasie word deur koepons vervang; (b) die rand waarteen dit uitgereik is, word vir rente-opbrengs belê; (c) koopkrag word in Orania behou, want die ora kan nie buite die dorp bestee word nie; (d) ora-koepons is versamelaarsitems; en (e) die ora " ... skep 'n gevoel van gedeelde identiteit en ekonomiese onafhanklikheid" (2012:424). Boshoff (2012) identifiseer nie enige nadele van die ora nie. Die positiewe aspekte wat Boshoff (2012:424) toelig, word in die artikel bespreek.

    Me. Annatjie Boshoff, die suster van prof. Carel Boshoff, beskryf haarself as die sesde intrekker in Orania nadat eiendomme in die dorp in 1991 weer vir bewoning beskikbaar gestel is (Boshoff, 2020:iv). Sy fokus in haar outobiografie op onder meer die ontwikkeling van Orania sedert 1991 (Boshoff, 2020). Sy beskryf egter nie die ora in enige besonderhede nie.

    Senekal (2021) bespreek die ontstaansgeskiedenis van Orania sedert die dorp se vestiging deur die Departement van Waterwese. Senekal (2021) maak melding van die ora en som die voordele (sonder enige verwysing na moontlike nadele) soos volg op: (a) kontant in omloop word deur ora-koepons verteenwoordig en nie deur die rand nie; (b) die rand wat vir die ora-koepons betaal is, verdien rente; (c) koopkrag word binne Orania gehou, want die ora-koepons sirkuleer slegs in die dorp; (d) die ora ondersteun die plaaslike lewering van dienste; en (e) oras kan net in Orania bestee word en is daarom veiliger as randnote (Senekal, 2021:536 en 537). Senekal (2021) bespreek nie enige nadele of beperkings van die ora nie. Die positiewe aspekte wat Senekal (2021) toelig, word in hierdie artikel ontleed.

    Senekal (2019) rapporteer die resultaat van navorsing oor 'n netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania. Senekal (2019) bespreek nie in sy artikel die ora nie.

    De Klerk (2014) belig Orania se ekonomiese en bevolkingsgroei sedert 1991 en bespreek die visie om die dorp tot 10 000 of meer inwoners te ontwikkel. Hy bespreek egter nie die ora in enige besonderhede nie.

    Joubert et al. (2022) bespreek die OSK Ko-operatiewe Bank binne die konteks van Orania. Volgens Joubert et al. (2022) het die OSK Ko-operatiewe Bank 'n beduidende uitwerking op ekonomiese ontwikkeling en spesifiek op eiendomsontwikkeling in Orania. In 2019 was daar volgens Joubert et al. (2022:825) " ... ongeveer 550 geregistreerde eiendomme in Orania, terwyl die OSK Ko-operatiewe Bank 306 eiendomslenings op sy boeke gehad het (dus sowat 55 persent)." Voorts verklaar Joubert et al. (2022:827) dat verdere navorsing nodig is oor " ... die grootte van die Orania-ekonomie self [...], byvoorbeeld om die bruto geografiese produk en die verandering daarvan oor tyd te bereken. Laasgenoemde kan dien as 'n belangrike verwysingspunt (delertal) wanneer veranderlikes oor tyd ontleed word." Joubert et al. (2022:824) bespreek sekere fisiese eienskappe van die ora, wat in 'n volgende afdeling van hierdie artikel bespreek word, maar fokus nie op enige voor- of nadele van die ora nie.

    Rossouw (2023) fokus op die ekonomie van Orania. Rossouw (2023) beraam die jaarlikse persoonlike en huishoudelike inkomste, verbruiksbesteding en sake-omset in Orania teen 2021. Rossouw (2023) bespreek die ora, maar ontleed nie enige voor- of nadele van die stelsel nie.

    Volgens Wirz (2008:5) word ontwikkelingsbesluite in Orania en die uitvoering daarvan beoordeel op grond van eerstens die bevordering van ekologiese volhoubaarheid en tweedens die gemeenskap se strewe na ekonomiese selfstandigheid. Wirz (2008:5) bespreek in omvattende besonderhede die aanvanklike uitreiking van oras en die ontwikkeling daarvan tot 2008. Volgens Wirz (2008:6) is die voordele van ora-koepons dat (a) kontant in omloop vervang word deur koepons en die betrokke kontant vir rente-opbrengs belê word, (b) koopkrag binne die gemeenskap behou word, (c) plaaslike besighede ondersteun word; (d) ora-koepons wat as kontant sirkuleer, veiliger is as rande wat sirkuleer; (e) ora-koepons versamelaarswaarde het; en (f) 'n eie geldeenheid eie identiteit en selfstandigheid bevorder. Wirz (2008) fokus nie op enige nadele van die sirkulasie van die ora nie, maar die ontleding van die voordele van die ora wat uitgelig word, is versoenbaar met ekonomiese selfstandigheid as oogmerk. Die aspekte wat Wirz (2008) toelig, word in hierdie artikel bespreek.

    Hoewel die ora die enigste "privaatgeldeenheid" in Suid-Afrika is, is daar internasionale voorbeelde van soortgelyke stelsels. Volgens Chasin et al. (2020:4122) was daar teen 2019 internasionaal sowat tien "privaatgeldeenhede". Vier van hierdie "geldeenhede" is geïdentifiseer vir bespreking weens hul eienskappe wat vir die ora van belang is. Dobrowolski (2023) en Witt (2023) bespreek die berkshares, wat in September 2006 as koepons en as 'n digitale "geldeenheid" deur BerkShares Inc in die Berkshires-gebied van Massachusetts in die Verenigde State van Amerika (VSA) vrygestel is. Die berkshare is teen 'n koers van 1:1 teen die VSA-dollar gekoppel, hoewel daar 'n diskonto van 5 persent toegestaan word wanneer 100 berkshares aangekoop word. Tans ondersoek BerkShares Inc die moontlikheid om die geldeenheid se waarde teen 'n mandjie plaaslike goedere te koppel as beskerming teen wisselvalligheid en inflasie. As BerkShares Inc hierdie oogmerk bereik, kan dieselfde benadering vir die ora ondersoek word.

    In Findhorn in Skotland reik 'n ontwikkelingsagentskap, Ekopia Social Investment Ltd (Ekopia), sedert Mei 2002 die eko as "plaaslike geldeenheid" op 'n 1:1-basis teen die Britse pond uit (Ekopia s.j.). Die eko se gebruik word beperk in die mate dat slegs sake-ondernemings (nie individue nie) eko-koepons by Ekopia vir nuwe eko-koepons of vir Britse pondnote kan inwissel. Dit beperk die gebruik van die koepons en die ooglopende voordeel dat sake-ondernemings en individue ora-koepons vir rand kan inwissel, moet behou word.

    Goncalves (2021) bespreek die chiemgauer, wat sedert 2003 op 'n beperkte grondslag as "plaaslike geldeenheid" in Prien am Chiemsee in Duitsland sirkuleer. Dit word teen 'n koers van 1:1 teenoor die euro uitgereik en is vir drie maande geldig. Die gebruik van die koepons is beperk omdat dit deur 'n akademiese departement by die plaaslike universiteit geadministreer word. Dit bevestig die belangrike rol van die geloofwaardigheid van die uitreiker van die "plaaslike geldeenheid."

    McBurnie (2012) bespreek die Salt Spring dollar ($$D), wat sedert 2001 in Salt Springeiland in Kanada in omloop is. Dit word teen 'n koers van 1:1 teen die Kanadese dollar uitgereik. Die $$D sirkuleer kragtens wetgewing as 'n geskenkbewys. Die $$D het voorheen 'n vervaldatum gehad, maar tans verbied Kanadese wetgewing vervaldatums op geskenkbe-wyse. Uitreikers van "plaaslike geldeenhede"/koepons/geskenkbewyse moet dus met wetlike veranderings tred hou.

    Hierdie literatuuroorsig toon dat daar met die uitreiking van die ora verskeie voordele in die vooruitsig gestel is, maar dat geen nadele geïdentifiseer is nie. Hierdie navorsing toets onder meer die ora aan die hand van hierdie vermeende voordele, naamlik:

    (i) kontant in sirkulasie word deur koepons vervang (Boshoff, 2012; Senekal, 2021; Wirz, 2008);

    (ii) die rand waarteen oras uitgereik is, word vir rente-opbrengs belê (Boshoff, 2012; Senekal, 2021; Wirz, 2008);

    (iii) koopkrag word in Orania behou, want oras kan nie buite die dorp bestee word nie (Boshoff, 2012; Senekal, 2021; Wirz, 2008);

    (iv) ora-koepons is versamelaarsitems (Boshoff, 2012; Wirz, 2008);

    (v) die ora ondersteun die identiteit en ekonomiese selfstandigheid van Orania (Boshoff, 2012; Wirz, 2008);

    (vi) die ora ondersteun die plaaslike lewering van dienste (Senekal, 2021; Wirz, 2008); en

    (vii) oras as kontant in omloop is veiliger as randnote in omloop (Senekal 2021; Wirz 2008).

    Hoewel die literatuurstudie nie enige nadele van die uitreiking van ora-koepons uitlig nie, oorweeg hierdie navorsing die voor- en nadele van die stelsel.

     

    3. Die ora (Φ)

    Volgens Senekal (2021:536) is die idee van 'n eie "geldeenheid" (in die vorm van 'n koepon) vir Orania vir die eerste keer in 2002 geopper. Wirz (2008:8) verklaar dat die gedagte aan 'n eie handelskoepon vir Orania geopper is " ... deur prof. Johan van Zyl, 'n konsultant in ekonomiese ontwikkeling, tydens 'n konferensie van die Orania Beweging in 2002 in Orania." Die Orania Sakekamer se ongedateerde inligtingstuk (Orania Sakekamer, s.j.) bevestig hierdie stelling.

    Volgens die Sakekamer (Orania Sakekamer, s.j.) het die idee wat Van Zyl geopper het, "... verder momentum gekry met 'n besoek van die omgewingskundige dr. Colin Hudson van Barbados, wat baie prakties die voordele van 'n eie geldstelsel uitgestippel het". Hierdie gedagte is verder ontwikkel op 'n konferensie van die Orania Beweging (ook in 2002), " ... wat spesifiek gehandel het oor 'n eie geldstelsel vir Orania. Tydens hierdie geleentheid het die ekonoom dr. Norman Reynolds as gespreksleier opgetree" (Orania Sakekamer, s.j.). Ná die konferensie is die saak na 'n komitee van die Orania Ontwikkelingsforum verwys, wat tot die slotsom gekom het dat 'n eie "geldstelsel" baie voordele vir Orania inhou en dat daar die nodige kundigheid op die dorp was om só 'n stelsel suksesvol van stapel te stuur (Orania Sakekamer, s.j.).

    Die eerste gebruik van die woord "ora" as geldeenheid binne 'n monetêre konteks strek sowat 1 000 jaar terug. Die ora is destyds deur die Dene as 'n waardebepaler (money of account) vir rekeningkundige doeleindes in Anglo-Saksiese Engeland ingestel (Nightingale, 1983:248; O'gorman, 2015:77). Die keuse van "ora" as 'n naam vir die koepon wat in Orania in omloop is, is egter nie van hierdie gebruik van die begrip ora afgelei nie.

    Die Orania Sakekamer het voordat die eerste koepons uitgereik is, op 24 Februarie 2004 'n kompetisie uitgeskryf om voorstelle vir 'n naam vir die koepons te kry. Daar is dertig voorstelle8 vir 'n naam ingedien, waaruit die sakekamerbestuur vyf gekies het. Hierdie vyf name (sien Tabel 1 met 'n motivering vir elke voorstel) is op 12 Maart 2004 aan die inwoners van Orania voorgelê. Die inwoners het ora by wyse van stemming as naam gekies. Ora as naam is deur mev. Frieda Taljaard voorgestel. Daar is dus geen verband met die historiese gebruik van die naam nie (sien onder meer News24, 2004).

     

     

    Die simbool vir die ora, naamlik Φ, was 'n praktiese keuse. Die simbool herinner aan 'n "O" vir ora met 'n vertikale streep soos in die dollarteken ("$"), wat die keuse beïnvloed het. Die simbool is egter ook geredelik op rekenaars beskikbaar.

    Die ora is vir die eerste keer op 29 April 2004 uitgereik en in omloop geplaas (Wirz, 2008:8). Daar is besluit om opvolgende uitreikings alfabeties te nommer, met die "A"-reeks as die eerste uitreiking. Op hierdie wyse is onder meer voorsiening gemaak vir die feit dat ora-koepons 'n vervaldatum het, waarna dit waardeloos is. Sedert die uitreiking van die eerste reeks, is nog sewe reekse uitgereik, met die "H"-reeks wat tans in omloop is. Die totale waarde van koepons wat vir elke reeks gedruk is, word in Tabel 2 aangedui.

     

     

    In reaksie op 'n navraag oor die wisselende groeikoers in die aantal ora-koepons wat per denominasie gedruk is, het mnr. T Correia, die voorsitter van die Orania Sakekamer, verduidelik dat die bestuur van die Orania Sakekamer en die bestuur van die OSK Ko-operatiewe Bank in konsultasie gesamentlik oor die drukoplaag van elke reeks ora-koepons besluit. In antwoord op 'n navraag oor die afname in drukoplaag van die "G"-reeks, het Correia verduidelik dat die oplaag van die "F"-reeks ora-koepons as 'n uitskieter beskou moet word. Tydens die beplanning van die uitreiking van die "F"-reeks is die vraag na ora-koepons oorskat en té veel is gedruk. Gevolglik het die bestuur van die Orania Sakekamer en die bestuur van die OSK Ko-operatiewe Bank in konsultasie gesamentlik besluit om minder ora-koepons vir die "G"-reeks te druk.

    Die waarde van ora-koepons wat per reeks gedruk word, moet nie beskou word as die waarde van koepons in omloop nie. Ora-koepons word daagliks op aanvraag deur die OSK Ko-operatiewe Bank uitgereik of by wyse van deponering by die bank uit omloop onttrek. Die waarde van ora-koepons in omloop wissel dus daagliks, soos ook met banknote die geval is.

    Geen berekening van 'n korrelasie tussen ora-koepons wat vir elke reeks gedruk word of wat op enige gegewe tydstip uitgereik is en Orania se huishoudelike of persoonlike inkomste, of die dorp se bruto geografiese produk (BGP) is moontlik nie. Orania se huishoudelike en persoonlike inkomste teen Desember 2021 is vir die eerste keer deur Rossouw (2023) bereken. Berekenings van hierdie aard is nie tevore gedoen nie. Voorts is Orania se BGP tot op datum nie bereken nie. Rossouw (2023) beveel sodanige berekening aan as 'n volgende stap in 'n proses om Orania se ekonomie beter te beskryf en te verstaan.

    Die "A"-reeks oras is uitgereik in denominasies van Φ10, Φ20, Φ50 en Φ100 (Wirz, 2008:8). Anders as Suid-Afrikaanse banknote was die aanvanklike ora-koepons van alle denominasies ewe groot; ongeveer so groot as die Suid-Afrikaanse R50-noot (Wirz, 2008).

    Daar is nie 'n Φ200-koepon uitgereik nie, want die R200-noot was omstreeks 2004 nie baie gewild nie en daar was betreklik min van daardie note in Suid-Afrika in omloop. Die eerste reeks (A-reeks) ora-koepons en elke reeks daarna tot die sesde reeks (F-reeks) is deur mnr. Christiaan van Zyl, 'n argitek wat op Orania woon, ontwerp

    Koepons is individueel op die agterkant deur bestuurslede van die Orania Sakekamer met die hand geteken (twee bestuurslede per denominasie), soortgelyk aan die (gedrukte) handtekening van die President van die SA Reserwebank wat op Suid-Afrikaanse banknote voorkom. Die vervaldatum van die koepons was prakties twee jaar ná uitreiking, naamlik 1 Mei 2006. Daarna het 1 Mei die tradisionele vervaldatum van elke reeks ora-koepons geword, maar met een praktiese uitsondering weens Covid-19, soos hier onder verduidelik word. Dit is 'n groot verskil tussen Suid-Afrikaanse banknote en die ora: Suid-Afrikaanse banknote (pondnote voor 1961 en randnote sedert 1961) het geen vervaldatum nie.

    Die eerste reeks oras en elke reeks daarna is op 'n basis van een tot een in verhouding met die Suid-Afrikaanse rand uitgereik. Die randbedrae wat deur die verkope van ora-koepons ingevorder word, word in reserwe gehou as dekking vir die oras in omloop. Die rente-opbrengs op die rand-deposito's wat oras in omloop dek, herinner aan muntloon (seigniorage)9 wat sentrale banke verdien op banknote en munte (betaalmiddele, currency in Engels) in omloop. In die geval van die ora is die berekening van muntloon betreklik eenvoudig (rente op rand-deposito's ingevorder ten opsigte van ora in besit van die publiek en sakeondernemings). As die rande wat ingevorder word wanneer ora-koepons uitgereik word, egter as note in 'n kluis bewaar sou word, is geen muntloon ter sprake nie.

    Die berekening van muntloon wat sentrale banke verdien, is egter nie eenvoudig nie. Mnr. Mogam Pillay, Groephoof vir die Betaalmiddelegroep van die SA Reserwebank (2023:114), het verklaar dat muntloon nie eenvormig deur internasionale sentrale banke gedefinieer word nie.

    Die ora word deur die Orania Sakekamer gedruk en in omloop geplaas. Die OSK Ko-operatiewe Bank administreer die uitreiking en die onttrekking daarvan uit omloop (Joubert et al., 2022:824) of die kansellasie daarvan, na gelang van die geval. Geen bankkoste word gehef op ora-koepons wat as kontant by die OSK Ko-operatiewe Bank onttrek word nie, maar kontantonttrekkingsfooi word wel op randonttrekkings gehef. Die hantering van ora-koepons behels egter ekstra arbeid, want dit kan nie met kontantmasjiene getel word soos in die geval van banknote nie.

    Enige rente wat verdien word op rande wat vir ora-koepons ingewissel is, val die OSK Ko-operatiewe Bank toe. Aanvanklik het die rente op randdeposito's die Orania Sakekamer toegeval, maar hierdie praktyk is hersien en rente is op 28 Februarie 2007 vanaf die Sakekamer na die OSK Ko-operatiewe Bank teruggeskryf. Die praktyk is om verskeie redes verander:

    Eerstens vergemaklik dit die administrasie van die uitgereikte ora-koepons;

    tweedens dek die rente die OSK Ko-operatiewe Bank se hanteringskoste vir die uitreiking van ora-koepons; en

    derdens dra die rente by tot 'n buffer wat dien as dekking vir die OSK Ko-operatiewe Bank se risiko dat vervalsings of ora-koepons ná die vervaldatum deur die bank aanvaar word.

    Ora-koepons wat nie teen die vervaldatum by die OSK Ko-operatiewe Bank ingewissel is nie, is waardeloos en word gekanselleer, hoewel die Orania Sakekamer 'n aanpasbare en menslike benadering volg. Uitsonderings vir inwisseling word tot twee maande ná die vervaldatum gemaak, na gelang van die omstandighede, onder meer om inwoners, sake-ondernemings, kerkgenootskappe en so meer tegemoet te kom. In een geval, soos hier onder bespreek word, is die vervaldatum van 'n koeponreeks ook uitgestel weens die Covid-19-pandemie.

    Op die rugkant van die koepon word die koeponvoorwaardes soos volg uiteengesit (Ora-koepon, s.j.):

    (a) Die koepon is vrylik verhandelbaar by alle ondernemings wat lidmaatskap van die Orania Sakekamer het.10

    (b) Die Orania Sakekamer is nie verantwoordelik vir substandaard goedere of dienste gelewer of vir enige tekorte in ruil vir ora-koepons nie.

    (c) Die Orania Sakekamer kan 'n kommissie van hoogstens 5% hef wanneer koepons op versoek van die houer omgeruil word.11

    (d) Namaaksels van die koepon of beskadigde koepons waarvan die waarde nie bepaal kan word nie, is nie verhandelbaar of inruilbaar nie.

    (e) Koepons dien nie as kwitansie of skuldbewys vir doeleindes van die Bankwet nie.

    Joubert et al. (2022:824) lig sekere fisiese aspekte van die ora-koepons toe. Op die rugkant van die koepons word advertensieruimte verkoop, wat die drukkoste dek (Joubert et al., 2022:824). Drukkoste en die koste van advertensies word hier onder bespreek.

    Voorts het die koepons sekerheidseienskappe om vervalsing aan bande te lê, onder meer fluoresserende eienskappe wat slegs onder 'n UV-lig sigbaar is (Joubert et al., 2022:824). Soos by banknote is daar egter ook bykomende sekerheidseienskappe wat nie aan die publiek bekendgemaak word nie. Elke koepon het ook 'n unieke nommer, wat onder meer die reeks toon waarvan die besondere ora-koepon deel vorm. Die vervaldatum van die koepon verskyn ook op die agterkant.

    Daar is geen outeursreg op die ontwerpe op die ora nie, terwyl die naam ook nie as 'n handelsmerk geregistreer is nie. Beide kwessies kan risiko's wees. Die naam "ora" is blootgestel vir misbruik deur ander uitreikers binne en buite Orania. Voorts kan vervalsings van ora-koepons in omloop geplaas word omdat ontwerpe nie geregistreer is nie.

    In Orania word bedrae in boekinskrywings, dokumentasie, navorsingsverslae, rekords en transaksies in ora aangedui, eerder as in rand. In die algemene spreektaal word ora, eerder as rand, ook gebruik om geldbedrae uit te druk.

    Drie maande voor die vervaldatum van die eerste ora-reeks in 2006 het die Sakekamer die sukses daarvan in die eerste twee jaar ná uitreiking so " ... goed as moontlik ... evalueer" (sic) (Orania Sakekamer, s.j.). Die gevolgtrekking (wat in meer besonderhede in die volgende afdeling bespreek word) was dat die uitreiking van die ora verskeie voordele het en dat voortgegaan moet word met die uitreiking daarvan.

    Gevolglik is die tweede reeks oras (die "B"-reeks) " ... op Donderdag 13 April 2006 met die viering van Orania se vyftiende verjaardag amptelik geloods" (Orania Sakekamer, s.j.). Die lewensduur van die "B"-reeks was ook sowat twee jaar, met 1 Mei 2008 as die vervaldatum van die koepons.

    Hoewel die ontwerpuitleg van die "A"- en die "B"-reeks oras op die oog af dieselfde lyk, is daar enkele klein verskille. Die beginsel van ontwerpverskille is op elke opeenvolgende reeks ora-koepons toegepas. Hierdie verskille maak dit makliker om tussen die verskillende reekse te onderskei, onder meer om die risiko te verminder dat oras van vorige reekse wat reeds verval het, vir betaling of inruiling aanvaar word.

    Eerstens is daar kleurverskille in die embleme van die Orania Dorpsraad en die Orania Beweging wat op die koepons gebruik word. Tweedens is daar verskillende sakeondernemings wat op die "A"-reeks en die "B"-reeks adverteer. Derdens is die afkorting vir nommer ("No") by die nommers van die "B"-reeks weggelaat. Dunner papier is ook vir die "B"-reeks gebruik (Orania Sakekamer, s.j.; sien ook Wirz, 2008).

    Die "C"-reeks (derde reeks) is op Saterdag 12 April 2008 bekendgestel en die geleentheid het saamgeval met die bekendstelling van Radio Orania. Die vervaldatum van hierdie reeks was 1 Mei 2011 (Orania Sakekamer, s.j.). Terwyl die "A"-reeks en die "B"-reeks twee jaar lank in omloop gehou is, is daar besluit om van die "C"-reeks af die omlooptyd tot drie jaar te verleng. Dit was 'n praktiese besluit wat koste en omruiladministrasie beperk.

    Dieselfde ontwerp is weer gebruik, maar die ontwerp verskil van dié van die "B"-reeks in soverre die denominasie-aanduiding op koepons in 'n ander kleur gedruk is. Voorts is die name en vanne van die Sakekamerbestuurslede wat die koepons onderteken het, by hul handtekeninge aangebring. Laastens was daar 'n verandering in adverteerders (Orania Sakekamer, s.j.).

    Die bekendstelling van die vierde reeks ora-koepons ("D"-reeks) was op 6 April 2011 tydens Orania se twintigste bestaansjaarvieringe. Die vervaldatum van die "D"-reeks was 1 Mei 2014.

    Soos tevore, was daar ook verskille tussen die "D"-reeks en die "C"-reeks. Eerstens is die logo van Orania se twintigste bestaansjaarvieringe as Afrikaanse enklawe op die voorkant van die koepons afgebeeld. Tweedens het die name en handtekeninge op die koepons verander. In die derde plek het die adverteerders weer verander, terwyl die advertensies vir die eerste keer in kleur op die koepons verskyn het. Vierdens het die gebruik van kleur en van die kleurskakerings van die denominasies in die reeks verander. Laastens het die posisie van die aanduiding van die denominasie in woorde verskuif (Orania Sakekamer, s.j.).

    Die "E"-reeks ora-koepons (vyfde reeks) is op 11 April 2014 uitgereik, met 1 Mei 2017 as die vervaldatum. Die belangrikste opsig waarin die "E"-reeks van vorige reekse verskil het, was die eerste uitreiking van 'n Φ200-koepon. Voorheen was die Φ100-denominasie die koepon met die grootste sigwaarde. Die vervaldatum van die "E"-reeks was 1 Mei 2017. Soos in vorige reekse het die name en handtekeninge op die koepons verander om veranderings in die bestuur van die Sakekamer te weerspieël. Voorts is die logo van die herdenking van Orania se twintigjarige bestaan as Afrikaanse enklawe nie op die "E"-reeks gebruik nie. Laastens het die adverteerders op die "E"-reeks koepons verskil van adverteerders op die voorafgaande "D"-reeks.

    Die sesde reeks ora-koepons ("F"-reeks) is op 10 April 2017 uitgereik met 'n vervaldatum van 1 Mei 2020. Weens die aankondiging van die Covid-19-beheermaatreëls deur die Suid-Afrikaanse regering is die leeftyd van hierdie reeks egter verleng tot 31 Oktober 2020.

    In die beplanning van hierdie reeks is besluit om die koepons van die verskillende denominasies in groottes met verskillende afmetings uit te reik ten einde onderskeiding makliker te maak. Dit was 'n groot afwyking van die benadering wat met vorige reekse ora-koepons gevolg is. Hierdie benadering help ook gesiggestremde persone om tussen die denominasies te onderskei.

    Die sewende reeks ora-koepons ("G"-reeks) is op 19 September 2020 in omloop geplaas en het op 31 Mei 2023 verval. Vir hierdie reeks is besluit om 'n nuwe ontwerpbenadering te volg, vergeleke met die vorige reekse, wat evolusionêr dieselfde ontwerptema gebruik het. Ontwerpe van me. Cornelia Holm is vir die "G"-reeks gebruik.

    Die jongste reeks ora-koepons ("H"-reeks) is op 21 April 2023 in omloop geplaas. Die vervaldatum van hierdie reeks is 1 Mei 2026. Die H-reeks is die eerste ora-koepons waarop gedrukte handtekeninge verskyn, want om elke ora-koepon individueel met die hand te teken het eenvoudig administratief te veeleisend geword.

    Die "H"-reeks is opnuut ontwerp en verskil van die "G"-reeks. Die koepons is deur me. Petra Langner ontwerp en is grafies deur me. Karin Janse van Rensburg versorg.

    'n Verdere belangrike verskil is dat die "H"-reeks ora-koepons op 'n ander tipe papier as die "B"- tot "G"-reeks gedruk is. Terwyl banknote soos die Suid-Afrikaanse rand op 'n katoen-en-linne-substraatbasis (cotton-linen substrate) gedruk word, word ora-koepons op papier gedruk. Die gehalte van die papier waarop die jongste "H"-reeks gedruk is, is van 'n laer kwaliteit as die vorige reekse. Gevolglik skeur die koepons maklik in normale hantering, wat tot weerstand teen die gebruik van die ora onder Oraniërs kan lei. Verslete of geskeurde ora-koepons in die "H"-reeks word deur die OSK Ko-operatiewe Bank as "nie-heruitreikbaar" geklassifiseer, op dieselfde grondslag as die klassifikasie van banknote as "nie-heruitreikbaar" deur sentrale banke. Die totale koste van drukwerk en die uitreiking van die "H"-reeks het Φ145 000 beloop. Die druk- en uitreikingskoste van die ora-koepons word onder meer gedek deur advertensieruimte wat agterop die koepons verkoop word. Voorts word 'n veiling van ora-koepons met lae denominasies gehou tydens elke nuwe uitreiking, wat as versamelaarsitems verkoop word. Die lae-nommer ora-koepons in elke reeks word saam met 'n sertifikaat geraam en die verkoopprys van hierdie lae-nommer koepons is hoër as die sigwaarde daarvan. Hierdie koepons met sertifikate word deur versamelaars aangekoop, behou en verhandel, selfs ná die koepons hul vervaldatum bereik het.

    Hierdie verkope dra ook by om die koste van die ora-koepons te dek. Op die "H"-reeks verskyn advertensies van 15 verskillende adverteerders (ondernemings op Orania), wat elkeen Φ4 000 vir die advertensieruimte betaal het. Advertensies ter waarde van Φ60 000 verskyn dus op hierdie reeks. Volle stelle gedenkkoepons (al vyf denominasies) met lae nommers (nommers H1 tot H20) ter waarde van Φ60 900 is voor uitreiking uit die "H"-reeks verkoop.

    Voorts word ora-koepons ná vervaldatum op elektroniese platforms soos ebay (https://www.ebay.com/itm/182509292400) as versamelaarsitems te koop aangebied. Op 25 Maart 2023 is vier ora-koepons (Φ10, Φ20, Φ50 en Φ100), elk genommer B-94, ter waarde van Φ180 uit die "B"-reeks vir VS$399,00 (sowat Φ7 600,00) te koop aangebied.

    'n Verdere ontwikkeling is die uitreiking van die "dOra" (digitale ora; ook geskryf as d'Ora) deur die Orania Sakekamer. Voor die uitreiking van die dOra, het die OSK Ko-operatiewe Bank die bekendstelling van 'n eOra ondersoek. Hierdie projek is laat vaar nadat die SA Reserwebank die OSK Ko-operatiewe Bank daarop gewys het dat hul betrokkenheid by 'n eOra nie versoenbaar is met die lisensievoorwaardes van 'n ko-operatiewe bank nie. Weens die reaksie van die SA Reserwebank op die ondersoek na die eOra, is die OSK Ko-operatiewe Bank nie betrokke by die uitreiking van die dOra nie.

    Een belangrike kenmerk van die dOra is dat daar geen vervaldatum aan gekoppel is nie. Die enigste beperking is dat slegs gebruikers wat die nodige toepassing op hul selfone het, met die dOra sake kan doen. Die dOra se groeiende populariteit blyk uit die sirkulasiesyfers in Tabel 3.

     

     

    Die dOra is toeganklik vir gebruik nadat die betrokke toepassing op 'n selfoon geïnstalleer is. Ora word op die toepassing gelaai, wat gebruik kan word om direkte, elektroniese betalings aan Orania-ondernemings en ander Oraniërs te maak wat ook toegang tot die toepassing het, deur die elektroniese oorplasing van ora-waardes sonder enige bankkoste (WereldNuus.com, 2023). Kliënte wat die toepassing op hul selfone gebruik, kan dit ook koppel aan hul bankrekeninge by die OSK Ko-operatiewe Bank (WereldNuus.com, 2023).

    Weens koste-oorwegings word geen ora-munte uitgereik nie. Suid-Afrikaanse munte sirkuleer in Orania en vervul die behoefte aan kleingeld. In 2004 is daar wel eenmalig 25 goue en 100 silwer ora-gedenkpennings in 'n vorm soortgelyk aan versamelmunte uitgereik.

    Ten spyte van die beperking wat die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank stel, voldoen die ora de facto aan die definisie van geld. In die streng tegniese sin van die woord is die ora dus 'n "geldeenheid". Ten einde as 'n geldeenheid te "kwalifiseer", moet daar aan drie vereistes voldoen word (Van der Merwe et al, 2014:7 tot 9). Die eerste vereistes is dat dit 'n handelsmiddel (medium of exchange) moet wees, iets wat in algemene handelstransaksies in ruil vir goedere en dienste aanvaar word. Tweedens moet dit die rol van 'n waarde-instrument (store of value) vervul, naamlik dat dit opgepot moet kan word om in 'n later stadium gebruik te word. Die laaste vereiste is dié van 'n rekeneenheid (unit of account); pryse moet daarin aangedui word (Van der Merwe et al, 2014:7 tot 9). Binne die konteks van Orania voldoen die ora aan hierdie drie vereistes.

     

    4. Beoordeling van die ora binne Orania se ekonomiese konteks

    4.1 Beraming van ekonomiese bedrywigheid in Orania

    Die ora sirkuleer in Orania, wat impliseer dat die vraag na ora-koepons en dOra deur die omvang van ekonomiese bedrywighede (en spesifiek kontanttransaksies) in die dorp bepaal word. Die navorsing van Rossouw (2023) is 'n eerste poging om Orania se jaarlikse persoonlike inkomste, jaarlikse huishoudelike inkomste, verbruiksbesteding en die omset van sake-ondernemings te bepaal.

    Rossouw (2023) het van sensusbronne gebruik gemaak wat inkomste, verbruiksbesteding en omset rapporteer. Die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) verskaf omvattende inligting oor verskeie maatskaplike, ekonomiese en finansiële aspekte van die inwoners van Orania. Die opname is deur Urban Econ ontwikkelingsekonome in opdrag van die Orania Dorpsraad gedoen. Die opname is in 2022 gepubliseer, maar berus op onderhoude wat hoofsaaklik in November en Desember 2021 gevoer is, terwyl 'n klein restant in Januarie 2022 afgehandel is (e-poskorrespondensie met mnr. G Snyman). Die opname rapporteer dus data van 2021.

    Volgens die opnamedata het Orania 2 377 inwoners gehad wat oor 649 huishoudings (waarvan sommige huishoudings slegs uit een persoon bestaan het) versprei was. Toe die opname gedoen is, was 1 635 inwoners van Orania 20 jaar oud en ouer.

    Rossouw (2023) het sekere datafoute ten opsigte van verskille tussen persoonlike en huishoudelike inkomste vir dieselfde huishoudings in die onderliggende opnamestof geïdentifiseer en aanpassings gemaak om dit uit te skakel. Ná hierdie aanpassings is die persoonlike jaarlikse inkomste van die inwoners van Orania vir 2021 op Φ295 672 222 beraam. Dit impliseer 'n beraamde persoonlike jaarlikse inkomste per capita van Φ124 389.

    Hierteenoor is die jaarlikse huishoudelike inkomste op Φ190 331 179 beraam. Hierdie syfer korreleer swak met die berekende persoonlike inkomste. Rossouw (2023) se gevolgtrekking is dat huishoudelike inkomste in die opname ondergerapporteer is. Nietemin toon die navorsing deur Rossouw (2023) dat huishoudelike inkomste in Orania teen 2021 iewers tussen Φ200 miljoen en Φ300 miljoen was. Dit is 'n eerste poging om ekonomiese bedrywigheid op Orania te beraam en dien as grondslag vir verdere navorsing oor en verfyning van beramings van inkomevlakke in die dorp.

    Ten einde die inkomesyfers verder toe te lig, het Rossouw (2023) ook verbruiksbesteding in Orania beraam. Vir hierdie doel is die Orania Besigheidsopname (2022) gebruik. Die opname is deur Urban Econ ontwikkelingsekonome in opdrag van die Orania Dorpsraad gedoen. Hierdie opname is in 2022 voltooi en rapporteer die omset van ondernemings in Orania in daardie jaar. Die opname rapporteer ook besteding deur inwoners van Orania by sakeondernemings op die dorp, teenoor besteding deur persone van buite die dorp.

    Die Orania Besigheidsopname (2022) rapporteer data oor sakeomstandighede en -omset asook die aard van kliënte; die data is verkry deur middel van 220 vraelyste wat deur sake-eienaars12 op die dorp ingevul is.

    Op grond van data in die Orania Besigheidsopname (2022) beraam Rossouw (2023) die omset van sakeondernemings in Orania op sowat Φ281,9 miljoen (Φ281 950 000). Besteding by plaaslike sakeondernemings deur die inwoners is dus op sowat Φ140,95 miljoen beraam. Dit stel die beraamde jaarlikse huishoudelike inkomste van Φ200 miljoen in perspektief en dit bevestig gevolglik die beraming dat Orania se huishoudelike en persoonlike inkomste op 'n jaargrondslag sowat Φ200 miljoen tot Φ300 miljoen teen 2021 beloop het.

    4.2 Beoordeling van die ora

    Die literatuuroorsig toon dat daar met die uitreiking van die ora verskeie voordele in die vooruitsig gestel is. Hierdie navorsing toets onder meer die ora aan hierdie verwagte voordele, naamlik:

    (i) kontant in sirkulasie word deur koepons vervang;

    (ii) die rand waarteen oras uitgereik is, word vir rente-opbrengs belê;

    (iii) koopkrag word in Orania behou, want oras kan nie buite die dorp bestee word nie;

    (iv) ora-koepons is versamelaarsitems;

    (v) die ora ondersteun die identiteit en ekonomiese selfstandigheid van Orania;

    (vi) die ora ondersteun die plaaslike lewering van dienste; en

    (vii)ora-koepons is veiliger as Suid-Afrikaanse banknote.

    Hoewel die literatuurstudie nie enige nadele verbonde aan die uitreiking van ora-koepons uitlig nie, oorweeg hierdie navorsing egter ook moontlike nadele van die stelsel.

    As uitreiker van die ora-koepons het die Orania Sakekamer in 2006 die sukses en wenslikheid van die ora oorweeg. Die Sakekamer se dokumentasie toon dat daar in Januarie 2006 (byna twee jaar nadat ora-koepons vir die eerste keer op 29 April 2004 uitgereik is) besluit is " ... om die sukses van die Ora-projek oor die eerste twee jaar so goed as moontlik te evalueer" (Orania Sakekamer, s.j.).

    Die positiewe aspekte van die ora-stelsel wat die Sakekamer destyds geïdentifiseer het (Orania Sakekamer, s.j.), is dat (a) oras in omloop geplaas is en 'n gelyke bedrag in waarde (Φ240 000 vir die "A"-reeks en Φ412 000 vir die "B"-reeks) vir ontwikkeling in Orania beskikbaar gestel is; (b) verskeie ondernemings in Orania korting gee vir kontanttransaksies wanneer met ora-koepons betaal word; (c) geen bankkoste gehef word op tjeks wat in ora uitbetaal word nie; (d) die kontantrisiko in Orania verminder; (e) die ora versamelaarswaarde het en in sommige gevalle gehou word tot ná die vervaldatum van die koepons; (f) die ora tot Orania se identiteit bydra; en (g) die ora-koepons Orania se model van ekonomiese self-standigheid ondersteun. Soos uit die literatuurstudie geblyk het, rapporteer die Sakekamer ook geen negatiewe aspekte van die ora-koepons nie.

    Die bevinding van die Sakekamer dat die ora-koepons in omloop 'n gelyke bedrag in waarde vir ontwikkeling op Orania beskikbaar stel, is van twyfelagtige waarde. Die randbedrag wat ingevorder word vir oras wat uitgereik word, is 'n voorwaardelike aanspreeklikheid en opeisbaar wanneer oras vir rand teruggeruil word. Dit moet gevolglik in reserwe gehou word en verdien rente, maar kan nie op enige ander wyse aangewend word voordat die oras daarteen in omloop verval het nie.

    Teen hierdie agtergrond, word die ora, die uitreiking van ora-koepons en die dOra in Tabel 4 beoordeel om die voor- en nadele van die ora te bepaal.

    Die ontleding in Tabel 4 toon dat ora-koepons en die dOra voldoen aan die meeste van die verwagtings wat vir Orania se eie "geldeenheid" gestel is. Die ooglopende nadele is dat houers van ora-koepons en dOra dit op Orania vir rand moet inwissel voordat hulle kontant-transaksies buite die dorp kan doen. Voorts verminder enige afslag wat sakeondernemings op ora-transaksies toestaan, hul omset en bruto wins. Ora-koepons is nie masjienleesbaar nie en word met die hand getel, wat administrasiekoste verhoog. Die verbranding van ora-koepons ná sirkulasie het ook 'n nadelige uitwerking op die omgewing. Voorts is dit 'n risiko dat die naam van die ora en die ontwerpe wat op die koepons gebruik word, nie geregistreer is nie.

    Meer navorsing is nodig om te bepaal of die groei in ora-koepons wat uitgereik word, hoegenaamd korreleer met die groei in ekonomiese bedrywighede in Orania. Die groeikoers van ora-koepons kan nie met groei in ekonomiese bedrywighede vergelyk word nie omdat laasgenoemde nie voorheen op 'n vergelykbare basis bereken is nie. Die navorsing van Rossouw (2023) is die eerste inisiatief om 'n basis te skep vir die bepaling van toekomstige ekonomiese groei. Indien hierdie korrelasie deur toekomstige navorsing bepaal kan word, sal dit 'n nuttige en maklike aanwyser van groei in ekonomiese bedrywighede op die dorp wees.

    Die ora is aan die Suid-Afrikaanse rand gekoppel en bied dus geen verskansing teen inflasie nie. Die koppeling aan die rand impliseer ook dat die ora aan dieselfde wissel-koersonstabiliteit as die rand blootgestel is. Die enigste wyse waarop hierdie twee probleme te bowe gekom kan word, is deur die ora se waarde te koppel aan 'n stabiele buitelandse geldeenheid. Dit is egter kragtens Suid-Afrika se valutabeheerregulasies nie toelaatbaar nie.

    Sekere sake wat as voordele van die ora voorgehou is, kan nie beoordeel word nie. Die ora sirkuleer suksesvol in Orania weens die homogene aard van die dorp en sy inwoners en hulle gedeelde gemeenskaplike oogmerke.

    4.3 Inkoop en uitwinkel ("inshopping" en "outshopping")

    In die opnamedata wat in hierdie navorsing gebruik is, het eienaars van sake-ondernemings in Orania gerapporteer dat 51 persent van hul omset van inwoners van Orania afkomstig was, met die balans van persone buite Orania. Dit lei tot vrae oor inkoop en uitwinkel ("inshopping" en "outshopping") deur inwoners van die dorp, soos wat Strydom (2014) ten opsige van die gedrag deur inwoners van Soweto ontleed het.

    In enige ontleding van inkoop- en uitwinkel-gedrag, val dit egter op dat die beskikbare data en die bestedingsverhouding van 51:49 geen inligting verskaf oor die bestedingsgedrag van inwoners van Orania buite die dorp nie, soos deur Strydom (2014) ten opsigte van Soweto verduidelik word. Ora-koepons wat vir elke reeks gedruk is, kan nie gebruik word vir berekenings van hierdie aard nie. 'n Ooglopende voorbeeld van "uitwinkel" deur inwoners van Orania is persoonlike inkomstebelasting en belasting op toegevoegde waarde, wat uit die dorp na die sentrale regering van Suid-Afrika vloei, ten opsigte waarvan baie min waarde in Orania terugontvang word. Voorts rapporteer die data ook nie indirekte of direkte uitwinkelbesteding van Orania se inwoners nie, waar indirekte besteding op dienste soos verseke-ringspremies of motorlisensies is, terwyl direkte besteding goedere is wat aangekoop word.

     

    5. Gevolgtrekkings

    Hierdie artikel ontleed die rol van die ora as unieke "geldstelsel" binne die konteks en ekonomie van Orania. Die ora is nie 'n "geldeenheid" of "geldstelsel" kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing nie, want die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank, 1989, verbied sodanige benaming. Nietemin geniet die ora, wat as koepons bekend is om die bepalings van die wetgewing te omseil, wye aanvaarding en aanwending binne Orania. Op hierdie basis word bevind dat die algemene gebruik van die ora, ten spyte van wetlike beperkings, binne Orania voldoen aan die vereistes vir 'n geldeenheid.

    Ora-koepons en die dOra voldoen aan die verwagtings wat vir Orania se eie "geldeenheid" gestel is. Die sirkulasie van die ora het sekere voordele, terwyl die nadele beperk is.

    Die ooglopende nadele is dat houers van ora-koepons en dOra dit op Orania vir rand moet inwissel voordat hulle kontanttransaksies buite die dorp kan doen of vir bestellings buite die dorp kan betaal. Voorts verminder enige afslag wat sakeondernemings op ora-transaksies toestaan, hul omset en bruto wins. Ora-koepons is nie masjienleesbaar nie en word met die hand getel, wat administrasiekoste verhoog.

    Die ora is aan die Suid-Afrikaanse rand gekoppel en bied daarom geen verskansing teen inflasie of wisselkoerswisselvalligheid nie. Om hierdie twee probleme op te los, sal die ora aan 'n ander waardedraer of geldeenheid gekoppel moet word. Laasgenoemde is egter problematies weens Suid-Afrika se stelsel van valutabeheer.

    Die verbranding van ora-koepons ná sirkulasie is nadelig vir die omgewing. Tans versnipper sentrale banke verslete note, eerder as om dit verbrand, omdat die katoen-en-linne-substraatbasis daarvan nie hersirkuleerbaar is nie. Die Orania Sakekamer kan as alternatief vir die verbranding van ora-koepons ná sirkulasie ondersoek instel na die moontlikheid om ora-koepons deur 'n herwinningsproses te vernietig. Dit sal die skadelike omgewingsuitwerking verminder.

    Die vraag na ora-koepons en grootliks ook dOra is beperk binne die ekonomiese konteks van Orania. Die gebruik van ora vir kontantbetalings het met verloop van tyd toegeneem, soos te wagte is in 'n ekonomie wat groei. Verdere navorsing is egter nodig om vas te stel of ora in omloop gebruik kan word om Orania se ekonomiese bedrywighede en groei te beraam.

    Die Orania Sakekamer moet oorweeg om outeursreg op die ontwerpe van die ora wat in omloop is, te registreer. Aandag moet ook gegee word aan die registrasie van die naam ora as 'n handelsmerk.

    Hierdie navorsing bevind dat die ora onder meer bydra tot "gemeenskapsbou" in Orania en kontantrisiko's in die dorp beperk. Die finale gevolgtrekking is egter dat die ora onlosmaaklik met Orania verbind is: Die dorp kan bestaan sonder die ora, maar die ora kan nie bestaan sonder Orania nie.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Sekundere bronne:

    Bain, K & Howells, P. 2003. Monetary economics: Policy and its theoretical basis. Hampshire & New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

    Boshoff, A. 2020. Van ossewa tot in Orania: Een lewe - en meer. Orania: Die Vryheidstigting.         [ Links ]

    Boshoff, CWH (Carel). 2012. Dis nou ek: 'n Outobiografie. Pretoria: Lapa Uitgewers.         [ Links ]

    Boshoff CWH (Carel IV). 2022. Tuiskoms: Waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan. Orania: Die Vryheidstigting.         [ Links ]

    Chasin, F, Schmolke, F & Becker, J. 2020. Design Principles for Digital Community Currencies. Proceedings of the 53rd Hawaii International Conference on System Sciences, pp.4122-4131. https://scholarspace.manoa.hawaii.edu/server/api/core/bitstreams/ce57a5cf-3772-42a4-bd8e-482bcd602539/content [9 April 2024].         [ Links ]

    De Klerk, F. 2014. Orania - Van dorp tot stad: 'n Nuwe strategie. Orania: Orania Beweging.         [ Links ]

    Dobrowolski, T. 2023. Here is how the berkshares local currency made its long-awaited leap to digital payments. The Berkshire Eagle. 8 Augustus. https://www.berkshireeagle.com/business/values-driven-currency-berkshares-enters-the-digital-marketplace-but-on-its-own-terms/article_24ee0bac-0122-11ed-a245-e716ff946a09.html [9 April 2024].         [ Links ]

    Ebay. S.J. https://www.ebay.com/itm/182509292400 [25 Maart 2024].         [ Links ]

    Ekopia S.J. https://www.ekopia.org.uk/ [11 April 2024].         [ Links ]

    Gonjalves, A. 2021. What Are Local Currencies? Examples of How to Redesign the Economy. Youmatter. 18 April. https://youmatter.world/en/what-are-local-currencies-examples/ [12 April 2024].         [ Links ]

    Joubert, F, Laäs, A, Laäs, A, Rossouw, J & Vermeulen, C. 2022. 'n Perspektief op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(4):812-829.         [ Links ]

    McBurnie, J. 2012. Investigating the Role ofMoney: The Case of Salt Spring Dollars. A thesis submitted in partial fulfillment of the requirements for the Honours Degree of Bachelor of Art in the Department of Economics. University of Victoria. https://www.uvic.ca/socialsciences/economics/assets/docs/honours/McBurnie.pdf [12 April 2024].         [ Links ]

    Mohr, PJ. 1998. Economic indicators. 4e uitgawe. Pretoria: Unisa Press.         [ Links ]

    Mohr, PJ, Van der Merwe, C, Botha, Z C & Inggs, J. 1988. Die praktiese gids tot Suid-Afrikaanse ekonomiese aanwysers. Johannesburg: Lexicon Uitgewers.         [ Links ]

    News24. 2004. Orania cashes in on the 'ora'. 29 April. https://www.news24.com/News24/Orania-cashes-in-on-the-ora-20040429 [10 August 2023].         [ Links ]

    Nightingale, P. 1983. The ora, the mark, and the mancus: Weight-standards and the coinage in eleventh-century England (part 1). The Numismatic Chronicle. 143:248-257.         [ Links ]

    O'gorman, DM. 2015. Unius regulae ac unius patriae: A standardizing process in Anglo-Saxon England. Verhandeling vir PhD-graad. Chigaco: Loyola University. https://ecommons.luc.edu/cgi/viewcontent.cgi?article=2484&context=luc_diss [17 September 2023].         [ Links ]

    Ora-koepons. s.j. Koepons uitgereik deur die Orania Sakekamer (verskeie reekse).         [ Links ]

    Orania Besigheidsopname. 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

    Orania Sakekamer. s.j. Die ora: Orania se eie ruilmiddel. Inligtingspamflet beskikbaar by die Orania Sakekamer (sakekamer@oranet.co.za).         [ Links ]

    Orania Sosio-Ekonomiese Opname, 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by die Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

    Pillay, M. 2023. Annual Report 2022/2023. SA Reserve Bank: Pretoria        [ Links ]

    Rossouw, J. 2023. 'n Beraming van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):903-920.         [ Links ]

    Senekal. B. 2019. 'n Netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania. LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) 10 Oktober. https://www.litnet.co.za/n-netwerkontleding-van-die-instellingsnetwerk-op-orania/ [1 Oktober 2023].         [ Links ]

    Senekal, B. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(2):526-551.         [ Links ]

    Strydom, JW. 2014. The relationship between key demographic profile descriptors and the propensity for inshopping and outshopping by Sowetan residents. Southern African Business Review, 18(1):122-142.         [ Links ]

    Van der Merwe, EJ, Mollentze, S, Leshoro, TLA, Rossouw, J & Vermeulen, C. 2014. Monetary Economics. 2nd edition. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

    Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank. 1989 (Wet No. 90 van 1989), soos gewysig.         [ Links ]

    WêreldNuus.com. 2023. Orania se digitale geldeenheid, d'Ora bekendgestel deur die Orania Sakekamer! 16 Junie. https://wereldnuus.com/orania-se-digitale-geldeenheid-dora-bekendgestel-deur-die-orania-sakekamer/ [9 Augustus 2023].         [ Links ]

    Witt, S. 2023. Community issued currency: A tool for relocalizing economies. Presented to the roundtable on credit design and community development at Harvard Law School's Money as a Democratic Medium 2.0 Conference. 15 tot 17 Junie. https://centerforneweconomics.org/publications/community-issued-currency-a-tool-for-relocalizing-economies/ [9 April 2024].         [ Links ]

    Wirz, H. 2008. Dr Heinz Wirz met die Ora Geldstelsel van Orania. Privaatpublikasie deur Heinz Wirz. Edenvale.         [ Links ]

    Persoonlike onderhoude, persoonlike dokumentasie en ander persoonlike bronne:

    E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. F. de Klerk, besturende direkteur van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

    E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. G. Snyman, dorpsbestuurder van Orania.

    E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. T. Correia, voorsitter van die Orania Sakekamer.

    Persoonlike besoeke aan Orania.

    Persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. H. Maritz, bestuurder van die OSK Ko-operatiewe Bank.

    Persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. J. Kemp, 'n joernalis by Pretoria FM wat in Orania woonagtig is.

    Persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. L. Taljaard, eienaar van 'n sakeonderneming op Orania. Vergadering met verteenwoordigers van Orania Sakekamer.

     

     

    Ontvang: 2023-10-23
    Goedgekeur: 2024-04-22
    Gepubliseer: Junie 2024

     

     

     

    Jannie Rossouw is'n besoekende professor by die Wits Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy het aan die einde van 2020 uitgetree as tussentydse hoof van die Wits Besigheidskool en was voorheen by die SA Reser-webank en by Unisa werksaam. Hy dien as lid van die Oudit- en Risikokomitee van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. Hy was ook 'n raadslid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die ondervoorsitter van die Akademie se Oudit- en Risikokomitee.
    Jannie Rossouw is a visiting professor at the Wits Business School of the University of the Witwatersrand. At the end of 2020, he stepped down as interim head of the Wits Business School. He was previously employed at the SA Reserve Bank and at Unisa. He serves as a member of the Audit and Risk Committee of the Afrikaans Language Museum and Monument in Paarl. In addition, he was a board member of the SA Academy of Science and Arts and the vice-chairman of its Audit and Risk Committee.
    1 Die outeur bedank die Orania Dorpsraad, die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, die Orania Sakekamer en die OSK Ko-operatiewe Bank vir data en vir hulp met hierdie navorsing. Die outeur bedank ook anonieme keurders vir hul kommentaar en voorstelle ter verbetering van die teks. Enige foute of weglatings bly egter die outeur se verantwoordelikheid.
    2
    Φ is the letter phi in the Greek alphabet. The symbol for latitude is also the Greek letter phi.
    3
    Φ is die letter phi in die Griekse alfabet. Die Griekse letter phi is ook die simbool vir breedtegraad.
    4 Die artikel weerspieël die persoonlike siening en mening van die outeur en moet nie aan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Universiteit van die Witwatersrand of aan enige organisasies in Orania toegeskryf word nie.
    5 Mnr. Carel Boshoff IV is 'n seun van prof. Carel Boshoff, wat Orania in sy huidige formaat tot stand gebring het, en 'n kleinseun van dr. HF Verwoerd.
    6
    Φ wat as afkorting vir die ora gebruik word, is die letter phi in die Griekse alfabet. Die Griekse letter phi is ook die simbool vir breedtegraad.
    7 Die keuse van "koepon", eerder as "koopbewys" of "ruilmiddel" om die ora te beskryf, berus op die feit dat dit op die rugkant van oras in omloop koepons genoem word (Ora-koepons, s.j.).
    8 Die voorstelle vir 'n naam was (in alfabetiese volgorde): aar, adel, afrik, appeltjies, betsie, blaar/ blare, bok, burgerpond, carea, dawer, duwweltjie, hartland, juk, knewel, kruger, meetsnoer, naro, neo, neut/neute, oge, ora, orandia, orania-rand, oranje, pionier, rin, saffier, sikkel, strop en talent.
    9 Volgens Bain en Howells (2003:21) is die woord seigniorage afgelei van die Franse woord seigneur, waarvan die betekenis op 'n feodale heerser dui.
    10 Hierdie beginsel word nie streng toegepas nie en ondernemings wat nie lidmaatskap van die Orania Sakekamer het nie, aanvaar ook ora-koepons. In enkele uitsonderlike gevalle aanvaar ondernemings in Orania se buurdorpe ook ora-koepons in kontanttransaksies.
    11 In hierdie geval is die presiese woorde "Indien Orania Sakekamer in sy uitsluitlike oordeel die koepon op aanvraag van die houer hiervan ruil vir kontant of kleingeld kan 'n kommissie wat nie 5% van die koepon se ruilwaarde te bowe gaan nie, gehef word" (Ora-koepon, s.j.). Dit is 'n bemagtigende klousule wat die heffing van kommissie van tot 5% moontlik maak, maar dit word nie in die praktyk toegepas nie.
    12 Boshoff (2020:360-361) rapporteer die bestaan van 63 sakeondernemings in Orania teen 2003.