Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2024
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a9
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Leo Tolstoi en Afrikaners: Hulle sieninge van mekaar
Leo Tolstoy and Afrikaners: Their views of each other
Boris Gorelik
Senior Research Fellow: Centre for Southern Africa Studies Institute for African Studies, Russian Academy of Sciences Moscow, Russia. E-pos: boris.gorelik@inafr.ru
OPSOMMING
Tolstoi was die enigste skrywer in Imperiale Rusland wat oor dekades briewe en gaste uit Suid-Afrika ontvang het. Sy stellings oor die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 het internasionaal aandag getrek op 'n wyse wat geeneen van sy Russiese kollegas kon ewenaar nie. Tolstoi het oor Suid-Afrika geskryf, waar sy werk wyd gelees is. Tolstoi se invloed op Suid-Afrikaanse realistiese1 letterkunde is deur die hele twintigste eeu merkbaar. Hierdie studie van Tolstoi en Suid-Afrikaanse skrywers se sieninge van mekaar fokus op Afrikaners, want Tolstoi het in die laaste tien jaar van sy lewe dikwels oor hulle geskryf en gepraat.
Afgesien van regstreekse kontak, soos besoeke en briewe aan die Russiese skrywer, het Afrikaner-kultuurfigure sy werk bevorder, sy fiksie in Afrikaans vertaal en hul vertalings in feitlik elke dekade tot die 1990's gepubliseer. Tolstoi, soos ook ander vooraanstaande romansiers in laat Imperiale Rusland, is deur Afrikaanse skrywers beskou as 'n toonbeeld van 'n realistiese skrywer wat standaarde gestel het waarna hulle gestreef het maar wat hulle dikwels ook as onhaalbaar beskou het. Tolstoi se werk het in Suid-Afrikaanse literêre debatte oor weerstand teen onregmatige staatsgesag en sensuur gefigureer. Sy fiksie het Suid-Afrikaners herinner aan die humanistiese ideale wat as rigsnoere moes dien vir diegene wat positiewe verandering in 'n onregverdige en diep verdeelde samelewing teweeg wou bring. Tolstoi se werk het introspeksie en nadenke oor literêre uitnemendheid, die etiese standaarde van 'n skrywer en 'n mens se lewensdoel gestimuleer.
Trefwoorde: Leo Tolstoi, Suid-Afrikaanse Oorlog, Tweede Anglo-Boereoorlog, pro-Boerebewegings, interkulturele wisselwerking, Rusland en Suid-Afrika, Russiese invloed op Suid-Afrikaanse letterkunde
ABSTRACT
Tolstoy'sfiction is part of the cultural background of the South African intelligentsia. Moreover, generations of South Africans have been introduced to Tolstoy through screen adaptations of hisfiction, including Hollywood blockbusters and acclaimed TV series such as Anna Karenina (1935, 1948 and 2012) and War and Peace (1956 and 2016). Such exposure may well be the reason why, in the late 1990s, a survey among South African students of their perceptions of Russia showed that Tolstoy was the best-known Russian writer.
During his lifetime, Tolstoy's work and personality were discussed extensively in Russia and abroad, including South Africa. He was one of the most influential and authoritative writers in the world and remained the best-known Russian author in South Africa. Tolstoy was the only writer of Imperial Russia who, for decades, received letters and guests from South Africa. His statements on the Anglo-Boer War of1899-1902 (also known as the South African War) attracted international attention which none of his Russian colleagues could match. Tolstoy wrote on South Africa, and his work was widely read there. Thanks to his erudition, ability to discern global trends, and interest in world culture and philosophy, Tolstoy had a profound understanding of political events in countries that he never visited and inspired leaders of liberation movements that he never met. His influence on South African realist literature can be traced throughout the twentieth century.
This study of Tolstoy's and South Africans' views of each other focuses on Afrikaners, because in the last ten years of his life the Russian author often wrote and spoke about them, as is evident from his published works, correspondence and the archival material in the Tolstoy museums in Moscow and Yasnaya Polyana in Russia that were used for this paper. Furthermore, Afrikaner authors seem to have referred to Tolstoy's work remarkably often. By exploring these references, one can ascertain why Tolstoy's writing remained relevant to Afrikaners and other South Africans for more than a century. In the 1890s and 1900s, Tolstoy continued to develop his doctrine of not resisting evil with violence. He used information on the Anglo-Boer War to test his radical pacifist ideas. His protest against British imperialism in Africa echoed that of other world-famous humanist writers, such as Bjornstjerne Bjornson, Theodore Dreiser, Anatole France, Romain Rolland, Bernard Shaw, Bertha von Suttner and Mark Twain. But, unlike most of them, Tolstoy refused to support the Boers unconditionally. He sympathised with the defenders of the Boer republics, but as a principled opponent ofviolence he condemned those Christian people for engaging in armed struggle and killing, which he regarded as a mortal sin.
During the transitional and guerrilla phases of the war, Tolstoy came to regard the continued Boer resistance to British invasion as a triumph of moral strength over immorality. He viewed the South African military conflict in a global context, as a typical war of a new era. Reflecting on the news from South Africa, he concluded that such wars were characterised by immoral goals and methods of warfare, and by non-participation in hostilities by those who directly benefitted from the hostilities (big entrepreneurs manipulating the government). Tolstoy argued that European governments were not interested in eradicating militarism, but nonviolent protest by ordinary people could well put an end to war. However, Tolstoy believed Russians, unlike participants in mass pro-Boer campaigns, were not to concern themselves with such protest because instead their main tasks were moral self-improvement and tackling injustice in their homeland.
His concern with affairs in South Africa was limited to the Anglo-Boer War and the Indian civil rights campaign of the 1900s led by Gandhi, whose doctrine of satyagraha was partly based on Tolstoy's ethical teachings. Still, Tolstoy's influence on Afrikaner culture has been evident for over a century. Apartfrom direct contact, such as visits and letters to the Russian writer, Afrikaner cultural figures promoted his work, translated his fiction into Afrikaans and published their translations in almost every decade up to the 1990s.
Along with other distinguished novelists of the late Imperial Russia, Tolstoy was viewed by Afrikaans authors as an exemplary realist writer who set standards that they aspired to but often regarded as unattainable. It only applied to his fiction, because Tolstoy's confessional writings and philosophical treatises did not seem to be recognised by Afrikaans authors, especially not after the Second World War. For these authors, Tolstoy was primarily a fiction writer. Tolstoy's work featured in South African literary debates with regard to resistance to abusive state authority and grappled with censorship. His fiction reminded South Africans of the humanist ideals that were meant to guide those who wanted to bring about positive change in an unjust, deeply divided society. Tolstoy's work stimulated introspection and reflection on literary mastery, the ethical standards of a writer and one's purpose in life.
Keywords: Leo Tolstoy, South African War, Second Anglo-Boer War, pro-Boer movements, cross-cultural interactions, Russia and South Africa, Russian influence on South African literature
1. Inleiding
Wat moet 'n mens daarvan verstaan dat minstens drie strate in Suid-Afrika na Leo Tolstoi vernoem is, almal geleë in oorwegend Afrikaanssprekende gebiede?2 Dat die Russiese skrywer op hierdie wyse gedenk word, dui daarop dat die skrywer om die een of ander rede vir die sprekers van daardie taal belangrik was, veral vir Afrikaners.
Alex la Guma het in 'n brief aan die Tolstoi-museum in Moskou opgemerk dat Oorlog en Vrede (1869) en Anna Karenina (1878) deel van die kultuuragtergrond van die Suid-Afrikaanse intelligentsia is (Shifman, 1971:471). Geslagte Suid-Afrikaners is aan Leo Tolstoi (1828-1910) bekendgestel deur verfilmings van sy fiksie, met inbegrip van Hollywood-lokettreffers en hoog aangeskrewe TV-reekse (Anna Karenina [1935, 1948 en 2012], War and Peace [1956 en 2016]). Tolstoi het, waarskynlik vanweë die aansienlike blootstelling, in 'n opname deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) van studente se persepsies van Rusland geblyk die bekendste Russiese skrywer te wees (Garmashova, 2001:90).
Heelwat vroeër - reeds sedert die laat neëntiende eeu - is Tolstoi se werk en persoonlikheid uitvoerig bespreek in Rusland en in die buiteland, insluitende Suid-Afrika (sien byvoorbeeld 'n verslag oor 'n praatjie wat tydens die Anglo-Boereoorlog in Kaapstad gelewer is: Cape Times, 1901, Lecture on Tolstoi). Tydgenote het hom as een van die voorste skrywers en denkers ter wêreld beskou. Volgens JM Coetzee is Tolstoi deur sy tydgenote bestempel "as an authority on life, a wise man, a sage" (Coetzee, 2008:151). Nie net sy fiksie nie, maar ook sy konfessionele en filosofiese skryfwerk kon sterk emosies by Suid-Afrikaners ontlok. In die laat 1880's het Olive Schreiner gesê hoewel sy volledig met Tolstoi se etiese leer saamgestem het, is daar "no man in Europe I hate so much". Sy het Tolstoi se siening verwerp dat die hoogste waarheid in die leringe van Christus aangetref word (Cronwright-Schreiner, 1924:129, 149, 152).
Tolstoi het kuns geloof as iets wat oor lande en kulture heen kan reik en "feelings accessible alike to a Russian peasant, a Chinese, an African" kan oordra (Tolstoy, 1930:244). Baie van sy werk was van dié aard, te oordeel na die terugvoering van lesers van oor die hele wêreld. "His vision was anthropological, describing an underlying human nature of passions and sensations, needs and desires", sê 'n Suid-Afrikaanse navorser (Coovadia, 2020:19; sien ook Foster, 2013:172-173). Danksy sy geleerdheid, sy bereidheid om globale prosesse te onderskei, en sy belangstelling in wêreldkultuur en -filosofie het Tolstoi 'n diepgaande begrip gehad van politieke gebeure in lande wat hy nooit besoek het nie en kon hy leiers van vryheidsbewegings wat hy nooit ontmoet het nie, inspireer. Daarbenewens is hy beskou as 'n stem uit Rusland, wat wel met ander koloniale ryke meegeding het maar nooit regstreeks deelgeneem het aan die Wedloop om Afrika nie.
Die werk van Tolstoi en ander Russiese skrywers van die neëntiende en vroeë twintigste eeu het gefigureer in Suid-Afrikaanse debatte oor die letterkunde, die rol daarvan in 'n veranderende samelewing en die maatskaplike verantwoordelikheid van skrywers (Jackson, 2015:10). Monica Popescu voer aan dat die Russiese invloed een was van "a formative role in contemporary South African literature, inspiring writers to imagine new themes and narrative strategies or to reflect anew on the relationship between literature and society" (Popescu, 2010).
Daar is al gesê dat die Suid-Afrikaanse realisme ontwikkel het deurdat kwessies aangepak is wat soortgelyk was aan dié wat Russiese skrywers in die halfeeu voor die Oktoberrevolusie van 1917 probeer beantwoord het (Jackson, 2015:10). Intellektuele uit die apartheidsera het voor sosiopolitieke keuses te staan gekom wat presedente in Imperiale Rusland gehad het, soos deur Rian Malan geskets in My Traitor's Heart (1990). Hy het die hoofstuk "What Then shall We Do?" só genoem na aanleiding van 'n essay wat Tolstoi 'n eeu vroeër geskryf het en gehandel het oor die kritieke probleme van die samelewing in Tsaristiese Rusland (Malan, 1990:131-133).
Ondersoeke na Tolstoi se houding oor die Anglo-Boereoorlog is in Suid-Afrika en die Sowjetunie gedoen (Nowak, 1986; Shifman, 1969; Shifman, 1971:428-459). Meer onlangs, nadat JM Coetzee die Nobelprys gewen het, het navorsers in Rusland en Suid-Afrika Coetzee se beskouinge van Tolstoi se fiksie bestudeer (Coovadia, 2020:193-214; Kurbak, 2015:138155). Tolstoi en Suid-Afrikaners se beskouinge van mekaar is egter nog nie deeglik ondersoek nie.
Die verbintenis tussen Tolstoi en Suid-Afrikaners verdien nietemin aandag, want gedurende die Anglo-Boereoorlog en daarna was hy een van die mees invloedryke en gesaghebbende skrywers ter wêreld en in die res van die eeu het hy in Suid-Afrika die bekendste Russiese skrywer gebly. Tolstoi was die enigste skrywer in laat Imperiale Rusland wat briewe en gaste uit Suid-Afrika ontvang het. Sy standpunte oor die Anglo-Boereoorlog het internasionaal aandag getrek in 'n mate wat geen van sy Russiese kollegas kon ewenaar nie. Hy het oor Suid-Afrika geskryf en, soos later sal blyk, is sy werk hier wyd gelees.
Hierdie studie is die eerste poging om die verbintenis tussen Tolstoi en Suid-Afrikaners van verskillende etniese agtergronde na te speur. Dit fokus op Afrikaners, want die Russiese skrywer het in die laaste tien jaar van sy lewe dikwels oor hulle geskryf en gepraat; dit blyk uit sy gepubliseerde werk en uit korrespondensie en argiefmateriaal in die Tolstoi-museums in Moskou en Jasnaja Poljana in Rusland wat in hierdie artikel gebruik is. Deur dié verwysings te bestudeer kan 'n mens miskien uitvind hoekom Tolstoi se skryfwerk vir Afrikaners en ander Suid-Afrikaners meer as 'n eeu lank relevant gebly het.
2. Tolstoi oor die Anglo-Boereoorlog
2.1 Pogings tot onpartydigheid
Tolstoi het skynbaar net wat aktuele gebeure betref, in Suid-Afrika belanggestel. Feitlik al die publikasies oor Suid-Afrika in sy biblioteek te Jasnaja Poljana het met die Anglo-Boereoorlog te doen. In die pro-Boer-brosjure deur prins Grigory Volkonsky het Tolstoi nie die bladsye oopgemaak wat die skrywer se relaas van sy verblyf in die Oranje-Vrystaat bevat nie (Volkonsky, 1900).3
Tolstoi het die onderwerp van oorlog deur sy hele skryfloopbaan aangepak. Sy afsku van geweld het van hom 'n radikale pasifis gemaak. Hy het beswaar gemaak teen gewapende weerstand teen invallers, om nie eens te praat van die vyand om die lewe bring nie (Brief aan MA Engelgardt, 20 Januarie [1 Februarie] 1883, in Tolstoy, 1978:362). Die bose kan slegs deur die goeie en deur waarheid vernietig word, dit wil sê deur die leringe van Christus te gehoorsaam. In Tolstoi se eksemplaar van The Story of an African Farm deur Olive Schreiner is die volgende woorde gemerk: ".... whoso revenges, strikes with a sword that has two edges - one for his adversary, one for himself' (Iron, 1893:103; hier aangehaal uit 'n Engelse uitgawe: Schreiner, 1998:136).
Hy het die militêre veldtogte in Suid-Afrika noukeurig gevolg en nagedink oor die etiese probleme wat dit opgelewer het. Tolstoi het nie net op persberigte staatgemaak soos die meeste van sy landgenote nie, maar ook op briewe uit Suid-Afrika (Orlitsky, 1900). Voorts is dosyne Europese boeke en pamflette by hom in Rusland afgelewer; dit word in sy gedenkmuseum op Jasnaja Poljana bewaar (sien byvoorbeeld South Africa Conciliation Committee, 1899-1902).
Sy eerste en mees gedetailleerde verklaring oor die oorlog was 'n ope brief aan prins Grigoriy Volkonsky in Desember 1899. Die jong Russiese aristokraat het sy artikels oor die gewapende stryd aan Tolstoi voorgele vir beoordeling. Volkonsky het tienjaar voor die oorlog 'n maand in Bloemfontein deurgebring en, gedagtig aan die gasvryheid van die Boere, het hy die saak van die Republieke vurig in die Europese pers bepleit (Gorelik, 2016:36-38).
Tolstoi het met Volkonsky saamgestem dat die oorlog deur Britse politici aangestig is, maar hy het die grondoorsaak van kontemporêre gewapende konflikte gesien as die gebrekkige kapitalistiese stelsel wat militarisme voorgestaan het (Tolstoy, 1978:584). Hy was voorts van mening dat albei partye in die Suid-Afrikaanse konflik daaraan skuldig was dat hulle na geweld gegryp het om hulle konflik te besleg. "If two men get drunk in an inn and fight over cards, I wouldn't venture to condemn only one of them," het hy opgemerk (Tolstoy, 1978:584).
Die brief aan Volkonsky is breedvoerig in Russiese en internasionale tydskrifte aangehaal en by 'n Britse versameling van Tolstoi se antioorlogsgeskrifte ingesluit (The Clarion, 1900:78; Tolstoi, 1900, L'Aurore, 1900:864:1; Reynold's News, 1900:1). Sy boodskap het diegene teleurgestel wat met grootskaalse pro-Boerbewegings gesimpatiseer het. Selfs sommige van Tolstoi se kennisse en familielede het gemeen dat hy onbillik en onopreg was deur die Boere afkeurend op dieselfde vlak as die Britte te plaas (Kuzina, 1961:169).
Die Russiese skrywer het enige poging afgekeur om militêre mag te gebruik om Brittanje te dwing om die oorlog te beëindig. Hy wou nie 'n afvaardiging van die Boererepublieke na die VSA ondersteun wat laasgenoemde aangemoedig het om met ander groot moondhede saam te werk om die bloedvergieting in Suid-Afrika te beëindig nie. Miskien was Tolstoi nie bewus daarvan dat die afvaardiging nie militêre hulp wou bekom nie, maar slegs tussenkoms op vreedsame wyse gevra het, soos bemiddeling deur Frankryk, Duitsland, Rusland of die Verenigde State, of deur arbitrasie deur die tribunaal in Den Haag, om die oorlog te beëindig en die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek die Oranje-Vrystaat te herstel (Leyds, 1931:ix-xi). Hoe dit ook al sy, Tolstoi was van mening dat slegs geweld 'n imperialistiese staat van sy verowering kon laat afsien, ("Letter on the Peace Conference [1899]", in Tolstoy, 1967:150-151). "I think that armaments and menaces of war are as bad as war itself," het hy verduidelik in die konsep van sy telegram waarin hy steun vir die optrede van die Boere in die VSA geweier het (Tolstoy, 1928-1958, vol. 72:347-348; telegram aan American Cable News, 16 (28) April 1900, en die konsep daarvan;).
2.2 Simpatie met die verdedigers van die Republieke
Tolstoi die denker het 'n onpartydige standpunt ingeneem en dus die gebeure van die Anglo-Boereoorlog beskou as nog 'n voorbeeld van sinlose, kriminele geweld. Onder sy gesinslede en vriende het hy egter sy simpatie laat blyk met die verdedigers van die Boererepublieke, wat teen een van die sterkste leërs ter wêreld te staan gekom het (Biryukov, 1923:4; Tolstaya, 2001:276). Selfironiserend het hy erken dat hy, ondanks sy oortuigings, tydens sy ernstige siekte vroeg in 1900 nie kon help om die Boere entoesiasties te ondersteun nie (Posse, 1929:183). "Elke keer as ek soggens 'n koerant oopmaak, het ek gretig gelees dat die Boere die Engelse goed op hulle baadjie gegee het," het hy aan 'n verslaggewer gesê (Orlitsky, 1900).
Dié erkenning is wyd in Europese koerante aangehaal (sien byvoorbeeld The Globe, 1900:5; The Sphere, 1900:45) en op dié wyse het dit ook die pers in Suid-Afrika bereik (Ons Land, 1900:6). Mense in lande waarin daar 'n sterk pro-Boergesindheid was, het so 'n stelling deur die vermaarde skrywer verwag. Tolstoi se spontane opmerking het beter bekend geword as die versigtig bewoorde verklaring in sy brief aan Volkonsky. Hy het die misverstand probeer opklaar. In 'n brief aan sy Britse vertaler, Aylmer Maude, herhaal Tolstoi dat hy nie simpatiseer "with any military achievements, not even with a David opposed to ten Goliaths" nie (Maude, 1901:145).
Toe die oorgangsfase van die Anglo-Boereoorlog in Maart 1900 begin het - die Britte het groot versterkings gekry en die Boere het toenemend guerrillataktiek begin gebruik - het Tolstoi se gesindheid teenoor die oorlogvoerende partye verander. Hy het die Boere primêr as verdedigers van hulle tuisland en slagoffers van imperialisme gesien. Tolstoi, wat gereeld van die republieke se nederlae maar ook verbete weerstand gelees het, het toe nie meer sy partydigheid vir hulle saak probeer verberg nie. Hy het hulle stryd 'n "defensive and national" oorlog genoem (Tolstoy, 1900:110).
Hy het daarop gewys dat imperialiste nie persoonlik aan die vyandelikhede deelgeneem het nie, maar hulle landgenote om die bos gelei het om te begin veg. In teenstelling met groot beleggers en politieke leiers het soldate geen regstreekse voordeel uit die verowerings getrek nie. Tolstoi het 'n beroep op die Britte gedoen om nie by die leër aan te sluit en by die "terrible bloodshed" in Suid-Afrika betrokke te raak nie (Tolstoy, 1903:249, 255).
Die onvermoë van die wêreld se grootste ryk om die weerstand van 'n klein volk te breek het vir hom "the insignificance of the power of money when pitted against moral force" bevestig (Kuzina, 1961:163, 169, 171). Dit het hom verheug dat genl. Koos de la Rey lt.genl. lord Methuen, wat in Maart 1902 in 'n veldslag gewond is, vrygelaat en vir behandeling na 'n Britse hospitaal geneem het. Sulke groothartigheid was na Tolstoi se mening 'n bewys van die Boere se krag (Kuzina, 1961:169, 171).
Hoewel Tolstoi nie oor internasionale pro-Boerveldtogte kommentaar gelewer het nie, was hy waarskynlik skepties daaroor. Hy het gemeen 'n mens moet, eerder as om ander te probeer verander, "acknowledge oneself guilty all round and strive for spiritual growth" (Tolstoy, 1934:309). In die brief aan Volkonsky het Tolstoi dus aangevoer dat elkeen kan help om wêreldvrede teweeg te bring deur aan die beginsels van Christelike moraliteit getrou te bly (Tolstoy, 1978:585):
To help to share our property equally in brotherly fashion, and to enjoy as little as possible the advantages which have fallen to one's lot; not to be party to war in any aspect and to destroy the hypnosis by means of which people transform themselves into hired murderers and think they are doing a good deed by doing military service; and above all to profess a reasonable Christian doctrine, trying with all one's powers to destroy the cruel deceit of false Christianity on which young generations are forcibly brought up - this threefold activity, I think, constitutes the duty of any man wishing to serve good and rightly disturbed by the terrible war which has disturbed you too.
2.3 Kommunikasie met oorlogsveterane
Tolstoi het inligting regstreeks van veterane en getuies van die Anglo-Boereoorlog gekry. Tussen sy korrespondensie in die Nasionale Tolstoi-museum in Moskou is briewe van jong Britte en Nederlanders wie se wedervaringe in Suid-Afrika hulle beweeg het om hulle by pasifistiese bewegings aan te sluit (Shifman, 1971:463-464).
Sy landgoed Jasnaja Poljana en sy huis in Moskou het bestemmings vir internasionale pelgrimstogte geword. Bewonderaars van Tolstoi se literêre talent en aanhangers van sy godsdienstige en etiese leringe het daarheen gestroom. Volgens Thomas Mann was dit "South Africans, Americans, Japanese, Australians, natives of the Malay Peninsula, Siberian refugees and Indian Brahmins, representatives of all the European nations" (Mann, 1957:92).
Deesdae is dit nie vreemd vir Suid-Afrikaners om na Rusland te reis en plekke te besoek wat met Tolstoi geassosieer word nie. In 2013 het die miljardêr Koos Bekker Jasnaja Poljana besoek (Strydom, 2022). Bekker, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse mediagroep Naspers, wat verskeie gewilde webtuistes in Rusland besit, het 'n graad in letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en kon hom nie die vreugde ontsê om die beroemde skrywer se landgoed te besoek nie.
Vroeg in die twintigste eeu was die Russiese Ryk se politieke, ekonomiese en kulturele bande met Suid-Afrika egter swak. Tog was daar minstens twee Suid-Afrikaners onder Tolstoi se gaste in Moskou en selfs op Jasnaja Poljana. Hulle was moontlik die enigste mense wat in Afrika gebore is wat die Russiese skrywer ontmoet het. In 1900 het hy Edward Molteno, 'n seun van die Eerste Minister van die Kaapkolonie, ontvang. Molteno en sy sibbe was aktiviste van die South Africa Conciliation Committee, 'n Britse pasifistiese organisasie (Brooke Simons, 1999:49; Tolstaya, 1978:460, 465; Gorelik, 2023:252-257). Ná die Anglo-Boereoorlog het Tolstoi in 1906 besoek ontvang van Heinrich Sebastian du Toit, wat in die Boeremagte gedien het.
Soos Tolstoi was Du Toit 'n artillerieoffisier. Hy het deur die hele Anglo-Boereoorlog vir die republikeinse saak geveg en is ernstig gewond. Du Toit was onwillig om te aanvaar dat Transvaal 'n Britse kolonie geword het en het dus na Europa en die Verenigde State vertrek om gevorderde boerderymetodes en landboumasjinerie te bestudeer (Beinart, 2003:238). Hy het waarskynlik na Rusland gereis vanweë sy belangstelling in die verbouing van graangewasse in ariede streke (aan die skrywer meegedeel deur W Beinart en C du Toit, April-Mei 2023). By sy terugkeer na Suid-Afrika later het Du Toit hom in 1908 by die Departement van Landbou aangesluit. Hy was 'n talentvolle administrator, kon wetenskaplike inhoud goed kommunikeer, en het volhoubare tegnieke vir gewasverbouing in gebiede met ontoereikende reënval bevorder (Beinart, 2003:236-237, 240, 260, 264-275).
Du Toit se gesprek met Tolstoi is nie goed gedokumenteer nie. Die Suid-Afrikaner het onthou dat sy gasheer die weerstand deur die Boere met die brandende doringbos vergelyk het. Telkens as dit lyk asof dit uitgebrand is, vlam dit weer met nuwe krag op (Joubert, 2018:66). Na berig word, het Tolstoi aan sy gas gesê: "Moenie wanhoop nie, ek sien nog 'n groot toekoms vir die Boere; hulle sal 'n groot volk word" (Beinart, 2003:239-240).
3. Suid-Afrikaners ontdek Tolstoi
3.1 Briewe van Suid-Afrikaanse lesers
Suid-Afrikaners is in die laaste dekades van die neëntiende eeu aan Tolstoi se fiksie bekendgestel. Tolstoi se oeuvre was in Suid-Afrikaanse boekwinkels en biblioteke te kry, veral Britse of Amerikaanse uitgawes. Daarby het die pers in Suid-Afrika uit Tolstoi se werk oor etiek en die politiek aangehaal. Die vraag na Tolstoi het Suid-Afrikaanse redakteurs beweeg om sy werke in hulle tydskrifte op te neem. Die eerste sosialistiese koerant in Suid-Afrika, die Johannesburg Witness, het Resurrection begin publiseer kort nadat die roman in 1899 as 'n vervolgverhaal in Europese en Amerikaanse blaaie en tydskrifte gepubliseer is (Hyslop, 2004:128). Gedurende die Anglo-Boereoorlog kon Boereguerrillas onder genl. Christiaan de Wet en pres. MT Steyn die tyd in die laer verwyl deur War and Peace en Anna Karenina te lees (Kestell, 1903:214).
In die laaste dekades van sy lewe het Tolstoi meer briewe en telegramme ontvang as wat hy kon beantwoord, en bykans een uit elke vyf het uit die buiteland gekom (Babayev, 1965:530). Talle van sy korrespondente het hom as 'n morele gesaghebbende beskou. Een van die vroegste Suid-Afrikaanse briewe aan Tolstoi het in 1891 gekom van Simon Ludwig Kling van Potchefstroom. Nadat hy Tolstoi se novelle The Kreutzer Sonata gelees het, wou Kling die skrywer se sieninge oor die liefde, die huwelik en morele verbetering verneem.4
Tolstoi het, afgesien van navrae in verband met etiek en godsdiens, bewonderaarspos ontvang. John Percy Hess van Port Elizabeth (tans Gqeberha), wat die eerste motor na Suid-Afrika ingevoer het, het in 1901 aan die Russiese romansier geskryf. Hy het Tolstoi geloof vir sy "dapper standpunt" teen dwepery en het sy boeke 'n "source of great pleasure and enlightenment" genoem. Die doel van die brief was egter net om Tolstoi se handtekening te kry.5
'n Soortgelyke versoek het in Junie 1897 van Daniël Cornelis Boonzaier gekom, wat later 'n toonaangewende Suid-Afrikaanse politieke spotprenttekenaar geword het. Hierdie outodidak het toe nog 'n bestaan as 'n staatsamptenaar in Kaapstad gemaak. Toe hy handtekeninge begin versamel het, het hy ook waterverftekeninge van beroemdes gemaak, hetsy van die persoon self of van 'n foto, en dan die subjek gevra om sy of haar handtekening by die tekening aan te bring. Met verloop van tyd het Boonzaier 'n versameling van 173 sulke portrette gehad, almal met die handtekening van die betrokke plaaslike of buitelandse beroemde persoon op, met inbegrip van sy Europese gunstelingskrywers. Boonzaier was ook 'n ywerige leser van Russiese literatuur (Scholtz, 1976:95; Westra, 1994:4).
In sy Engelstalige boodskap aan Tolstoi het Boonzaier hom "the most distinguished of Russian writers" genoem.6 Die kunstenaar het sy portret van Tolstoi aangeheg en gehoop dat die skrywer sy handtekening daarop sou aanbring. Toe Boonzaier 'n halfjaar later nog geen antwoord uit Rusland ontvang het nie, het hy in Maart 1898 weer aan Tolstoi geskryf, dié keer in Frans, en die skrywer aan sy brief herinner. Indien daar nie aan sy versoek voldoen kon word nie, het Boonzaier gevra dat Tolstoi sy portret terugstuur Kaapstad toe en asseblief sy voorbarigheid vergewe.7
Dié keer het Tolstoi op Boonzaier se versoek gereageer. Op die koevert het hy geskryf: "Find the portrait."8 In Junie 1898 het Boonzaier hom laat weet dat die tekening met die handtekening op veilig aangekom het. "It may interest you to know," het Boonzaier (in Engels) geskryf, "that your work finds thousands of admirers even in this far off land and the little painting will therefore be regarded as one of the most interesting in my collection."9
In 1915 het Boonzaier 'n personeellid geword by die pas gestigte Nasionale Party-lyfblad De Burger, en vir die volgende 25 jaar het hy politieke spotprente vir die koerant geteken. Tolstoi het hom bly fassineer en dit het daartoe gelei dat hy kontak gemaak het met Alexandra Tolstoi, die skrywer se jongste dogter en sekretaresse. Sy het Rusland verlaat en haar in die Verenigde State gevestig. Boonzaier het in Mei 1935 aan haar geskryf en sy het agt maande later geantwoord: "I am happy you loved my father," het sy (in Engels) geskryf. "The more I live (I am 51) the more I understand his ideas and believe in the teaching of Christ."10
Nog 'n Afrikaanssprekende korrespondent van Tolstoi was Gustav Preller, 'n bekende joernalis en 'n vurige voorstander van die erkenning van Afrikaans as 'n amptelike taal; hy was ook later die medestigter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In September 1908, toe hy aan Tolstoi geskryf het, was hy 'n subredakteur van De Volkstem, lyfblad van Het Volk, Louis Botha se pro-Afrikaner-party in Transvaal. Preller het 'n kortverhaal van Tolstoi in Afrikaans vertaal. Die verhaal het, tesame met 'n kort biografiese skets van Tolstoi, op laasgenoemde se verjaardag in De Volkstem verskyn.
Preller het die uitgawe aan Tolstoi gestuur en in 'n begeleidende brief verduidelik dat dit 'n huldeblyk aan die skrywer se bydraes tot internasionale humanisme was. Met verwysing na die Russiese skrywer se anti-imperialistiese standpunt het Preller (in Engels) daarop gewys dat die lesers van De Volkstem "having so lately experienced the crying wrongs against which you inveigh, appreciate the principles of nasionality [sic] which you preach".11 Dit is te betwyfel of Tolstoi dié opmerking sou waardeer het, want hy het nie net nasionalisme verwerp nie, maar selfs ook patriotisme. Daar is geen aanduiding dat hy Preller geantwoord het nie.
Een van die redes waarom Tolstoi se werk in die laat neëntiende en vroeë twintigste eeu tot Afrikanernasionaliste gespreek het, kan wees dat hulle die Russiese skrywer beskou het as iemand wat alles wat Engels was, gehaat het. Sy Amerikaanse vertaler, IF Hapgood, wat hom in 1889 op Jasnaja Poljana besoek het, het vertel dat Tolstoi die Britte beskou het as "the most brutal nation on earth". Volgens haar het Tolstoi hulle beskuldig van wreedheid, swak maniere en die verering van kru mag en geweld (Hapgood, 1895:183). Dit was egter glad nie die waarheid nie. Tolstoi het wel die militarisme en beskawende pretensies van liberale imperialisme verafsku, maar hy het 'n deeglike kennis van die Britse geskiedenis en literatuur gehad. Hy het Charles Dickens hoog aangeskryf. Tog het die pers in die Britse Ryk die kritiese opmerkings wat Hapgood aan Tolstoi toegeskryf het, so dikwels aangehaal dat hy mettertyd as 'n Anglofoob bestempel is ("The news of the world" in The Sphere,1900). Preller het skynbaar ook dié idee gehad. In sy voorwoord by 'n versameling van Tolstoi se kortverhale het hy gekonsentreer op die Russiese skrywer se vermeende anti-Engelse vooroordeel, sy veroordeling van Britse parlementêre instellings en sy hekel aan Shakespeare (Tolstoi, 1925). Daar moet egter nog vasgestel word of die Afrikanernasionaliste besef het dat Tolstoi hom doelbewus afsydig van die pro-Boereveldtog gehou het en dit selfs teen die inwoners van Transvaal en die Oranje-Vrystaat gehou het dat hulle die wapen opgeneem het om hulle republieke te verdedig.
3.2 Afrikaanse vertalings
Mohandas Gandhi was moontlik die eerste vertaler van Tolstoi in Suid-Afrika. Sy koerant, Indian Opinion, het sy liberale weergawes van die Russiese skrywer se didaktiese stories gepubliseer in Gujarati, 'n taal wat deur Indiese immigrante gepraat is. Die eerste daarvan -"God Sees the Truth but Waits", 'n gelykenis van vergiffenis wat uit Engels vertaal is - het in 1905 in die Indian Opinion verskyn (Gandhi, M. 1968-1994, Vol 5:167. "Wonderful is the way of God"). Dit is gevolg deur Gandhi se gunstelingverhaal deur Tolstoi: 'n toeganklike illustrasie van niegewelddadige verset genaamd "The Tale of Ivan the Fool" (Gandhi, M. 1968-1994, Vol 11:164-165, "The fool and his brothers").
Hoewel geen vertalings in sogenaamde Afrikatale (Ntu-tale) verskyn het nie, is Tolstoi se kortverhale en novelles in Afrikaans gepubliseer. Tolstoi was die eerste Russiese skrywer wie se werk in Afrikaans gepubliseer is. Hier bo is genoem dat 'n vertaling deur Gustav Preller van 'n Tolstoi-kortverhaal in 1908 in De Volkstem verskyn het; dit is sover bekend die vroegste Afrikaanse vertaling van een van Tolstoi se literêre werke.
In 1925 het Preller en sy medewerkers die vroegste Afrikaanse versameling van vyf van Tolstoi se verhale gepubliseer; dit is oorgesit uit Nederlandse en Engelse vertalings (Tolstoi, 1925; sien ook 'n kritiese resensie deur "X" in die Rand Daily Mail, 1925). Die volgende versameling, vertaal deur Ida Theron, het twee jaar later verskyn (Tolstoi, 1927). Nog Afrikaanse vertalings het tussen 1933 en 1960 verskyn. Dit het die novelle Die dood van Iwan Iljitsj ingesluit wat deur die akteur, aanbieder en linguis Alewyn Lee vir die radio verwerk is; Lee het ook bekroonde produksies van Tsjechov-dramas geregisseer (Tolstoi, 1933; Tolstoi, 1950; Tolstoi, 1960). Geeneen van die Afrikaanse vertalings van Tolstoi is skynbaar regstreeks uit Russies gedoen nie; die brontaal was in die meeste gevalle Engels, hoewel die novelle Die Kosakke uit Spaans vertaal is (Tolstoy, 1980).
4. Suid-Afrikaanse skrywers oor Tolstoi
4.1 Net fiksie
In die vyftigerjare van die vorige eeu het die Nasionale Party-regering beheer oor die invoer en produksie van publikasies verskerp, en Tolstoi se romans en werke deur ander Russiese skrywers het onder die aandag van die sensors gekom. Daar is vermoed dat dié soort leesstof idees en boodskappe bevat het wat die politieke regime as ongewens beskou het. Toe strenger sensuurregulasies van krag geword het, is verskeie klassieke werke in die Russiese literatuur verbied, uit openbare biblioteke onttrek en verbrand of verpulp (Dick, 2012:94-95; Hughes, 1961:185).
In die laat 1950's het die doeane na berig word tydelik op Tolstoi se boeke beslag gelê, hoewel dit nie onder die duisende titels verskyn het wat deur die Suid-Afrikaanse sensors verbied is nie (Hughes, 1961:185). In 1979 het die Suid-Afrikaanse doeane 'n verbod op die invoer van Anna Karenina geplaas. Die verbod is opgehef nadat die sensor wat die saak ondersoek het, verklaar het dat die neëntiende-eeuse roman nie sosialistiese ideologie bevorder het of kommentaar bevat het wat as kritiek op die politieke situasie in Suid-Afrika gebruik kon word nie (Lyster, 2018:100, 105-106). Desondanks het Tolstoi se werke selfs tydens die beheptheid met die "Rooi Gevaar" in Engelse en Afrikaanse vertalings in boekwinkels beskikbaar gebly.
Suid-Afrikaanse skrywers van verskillende etniese en rasseagtergronde, met inbegrip van die Nobelpryswenners Nadine Gordimer en JM Coetzee, wat Russiese literatuur as 'n alternatief vir die Westerse kanon beskou het, het by Anton Tsjechof, Fjodor Dostojefski, Leo Tolstoi en Iwan Toergenef geleer. Hulle ontsag vir en bewondering van groot Russiese romans is skynbaar nie verminder deur die feit dat hulle die werke as vertalings, dus in middellike vorm, gelees het nie. In 'n onderhoud met 'n Russiese vaktydskrif het André P Brink gesê dat sy nastrewing van die meesterskap van Tolstoi en Dostojefski van hom die skrywer gemaak het wat hy was (Korochantsev, 1992:28). JM Coetzee het genoem hoeveel hy verskuldig was aan die neëntiende-eeuse Russiese realistiese prosa omdat dit die onbereikbare standaarde gestel het wat 'n romansier moet streef om te bereik: "the standard of the master Tolstoy on the one hand and of the master Dostoevsky on the other" (Coetzee, 2008:227).
Suid-Afrikaanse skrywers is skynbaar nie deur Tolstoi se niefiksie begeester nie. 'n Mens tref selde 'n vermelding van Tolstoi se filosofiese geskrifte in hulle werk aan. Dit was nie altyd die geval nie, soos ek reeds aangetoon het. 'n Belangrike voorbeeld van waardering vir Tolstoi se filosofie in Suid-Afrika is Mohandas Ghandi se aanvaarding van sy etiese beginsels in Natal en Transvaal. Gandhi was van mening dat van al die Europese denkers Tolstoi die grootste invloed op hom gehad het (Gandhi, 1968-1994, vol. 37:261 - toespraak by geleentheid van die herdenking van die honderdste jaardag van Tolstoi se geboorte, 10 September 1928). In Suid-Afrika het Ghandi sy leer van lydelike verset (satyagraha), waarby Tolstoi se idees ingesluit is, ontwikkel. Die landbougemeenskap in Transvaal wat deur Ghandi en sy vriend en medewerker Hermann Kallenbach vir satyagraha-kampvegters en hulle gesinne op die been gebring is, is die Tolstoi-plaas genoem. Gandhi het Tolstoi, met wie hy in 1909 en 1910 gekor-respondeer het, as 'n antimodernistiese filosoof, moralis en geestelike leier beskou (Hunt, 1996:263). Na Ghandi se mening het die Russiese denker fiksie hoofsaaklik gebruik om sy idees oor morele verbetering makliker verstaanbaar te maak (Gandhi, 1968-1994, vol 11:176 - "The late lamented Tolstoy the Great").
Selfs in die vroeë twintigste eeu is Tolstoi se etiese leer egter nog dikwels as utopies bestempel en verwerp (sien bv. The Sphere, 1900, "The news of the world",). Roy Campbell het aangevoer dat die kritici Tolstoi se humanistiese prestasie misgekyk het: "the superb courage of his gestures, in their ineffectuality". Volgens Campbell was dit die Indiërs onder leiding van Ghandi wat Tolstoi se leringe werklik gewaardeer en toegepas het (Hughes, 1926:46). Desondanks het die ontsag vir Tolstoi as denker en die waardering vir sy niefiksie afgeneem.
JM Coetzee se alter ego in Diary of a Bad Year sê dat dié wat hulle vir (spirituele) verligting tot Tolstoi en Walt Whitman gewend het, mislei is, want nie een van dié twee groot literêre figure nie "had much wisdom to offer: wisdom was not what they dealt in". Hulle leringe was gebrekkig en onoorspronklik, en dit is die rede waarom hulle volgelinge "look sadly foolish in retrospect" (Coetzee, 2008:151).
Deur hulle daarenteen tot Tolstoi en ander Russiese fiksie van die laat imperiale tydperk te wend, het Suid-Afrikaners egter uit 'n veelsydige literêre tradisie sonder ideologiese steurings geput. Die bekendste voorbeeld is die Tsjechof-dramas met hulle bewustheid van die naderende einde van 'n era. Sy boodskap van "julle kan nie so bly lewe nie" het by Suid-Afrikaanse gehore aanklank gevind (Botha, 1989:170-173).
Bowendien het Russiese literatuur voorbeelde gebied van deurlopende verset teen magsmisbruik deur die staat. Van besondere belang vir Suid-Afrikaners in die apartheidstyd was die maniere waarop Russiese skrywers ideologiese hindernisse te bowe gekom en sensuurbeperkings omseil het om te verseker dat hulle werk wyd versprei word. Dit is bekend dat Tolstoi met sensuur geworstel het. Sowel die staat as die Russies-Ortodokse Kerk het sy leringe as 'n bedreiging beskou. Tolstoiisme, 'n Christelike beweging wat op sy leringe berus het, het nie net onder intellektuele posgevat nie, maar ook onder gewone plattelanders en kerklikes (Belyaeva, 2021:19, 34-35, 58-59). In 1901 is die skrywer geëkskommunikeer en talle van sy ondersteuners het in die gevangenis beland of is verban omdat hulle sy verbode werke versprei het (Basinsky, 2017:214-216).
In 1982 het Jack Cope die onvermoë van Afrikaanse skrywers om maatskaplike verandering in hulle land teweeg te bring betreur en voorgestel dat hulle metodes bedink om die sensors om die bos te lei, en hy het verwys na die neëntiende-eeuse Russiese skrywers, met inbegrip van Tolstoi (Cope, 1982:140, 196). In sy resensie van Cope se boek het JM Coetzee teruggekap dat Tolstoi se invloed baie meer was as dié van enige prominente Suid-Afrikaanse skrywer. In die 1890's en 1900's "there were two Tsars in Russia, and Tolstoy was one of them. What he could not publish at home was published at once in London and Paris and read by millions. What can the Afrikaans writer learn from such an example?" (Coetzee, 1983:88).
André Brink het aan die hand gedoen dat Suid-Afrikaanse skrywers steeds teen die verbod op 'n boek kon appelleer en hulle lesers binnelands kon bereik deur in die buiteland te publiseer. Terselfdertyd moes Suid-Afrikaners tydens apartheid leer om 'n subteks te volg in fiksie wat deur die sensors goedgekeur is en om verbode boeke ondergronds te laat sirkuleer soos wat Russiese en Sowjetlesers moes doen onder hul eie outoritêre regimes (English in Africa, "South African writers talking", 1979:6(2)1-23).
4.2 Tolstoi se prosa as 'n stimulus vir selfondersoek
Tolstoi en Dostojefski kan volgens Coetzee 'n skrywer help om 'n eties beter kunstenaar te word: "They annihilate one's impurer pretensions; they clear one's eyesight; they fortify one's arm" (Coetzee, 2008:227). Insgelyks het Brink gemeen dat Tolstoi se hartstogtelike strewe na vrede, vryheid en geregtigheid 'n model vir sy kollegas in Suid-Afrika behoort te wees. Deur daardie ideale soos die Russiese denker en skrywer na te streef kan Suid-Afrikaners hulle land se probleme oplos (Korochantsev, 1992:28).
Die ideaal van geregtigheid gaan hand aan hand met die vraag van individuele verantwoordelikheid vir 'n onregverdige politieke stelsel, wat vir sowel Coetzee as Tolstoi van belang was. In sy roman Age of Iron ondersoek Coetzee aanspreeklikheid vir 'n misdaad wat deur 'n mens se voorgeslagte gepleeg is en tot oorgeërfde onbillike bevoorregting gelei het. Coetzee is geïnspireer deur Tolstoi se kortverhaal "What Men Live by?", wat in die roman genoem word (Coovadia, 2020:193, 195). Die slot van Tolstoi se gelykenis is optimisties omdat dit die bevrydende krag van liefde bevestig, maar Age of Iron bied geen oplossing vir die kwessie van oorgeërfde aandadigheid nie.
Die literatuur van die laat Imperiale Rusland het Suid-Afrikaanse skrywers se siening van Rusland in aansienlike mate gevorm. Die Suid-Afrikaners was bewus daarvan dat fiksie nie noodwendig die materiële werklikheid verteenwoordig nie en dat hulle beeld van Rusland, wat op Russiese romans berus het, sterk beïnvloed is deur hul eie persepsies en vertolkings. Tog het Suid-Afrikaanse skrywers op reise na Rusland na daardie beelde gesoek. Elsa Joubert het vertel dat toe sy voor die beroemde Kerk van die Verlosser op die Gestorte Bloed gestaan en die elegante geboue langs die kanaal aanskou het, sy haar in haar verbeelding die bals voorgestel het wat in die tyd van Oorlog en Vrede en "Prinses Bolkonski - die mooiste vrou in St. Petersburg op die groot trap" daar gehou is (Joubert, 1999:46-47). Op die Transsiberiese sneltrein het Laurens van der Post besef hoekom Tolstoi in fyn besonderhede in Anna Karenina beskryf het hoe 'n trein by 'n stasie inkom. Die masjien wat die onmeetlik uitgestrekte grondgebied van daardie land oorgesteek het, was steeds "a thing of wonder in the popular imagination" (Van der Post, 1964:197).
Beelde en motiewe uit Tolstoi se fiksie is ook aanwesig in outobiografiese fiksie en selfs in private korrespondensie deur gesiene Suid-Afrikaanse skrywers. Die titels van twee dele van Coetzee se gefiksionaliseerde memoires, Scenes from Provincial Life, is ontleen aan Tolstoi se pseudo-outobiografiese romans (Boyhood [Kindertyd] en Youth [Jeugjare]). Vir die John Coetzee van Youth het die herinneringe aan sy intieme verhouding of sy vrees vir 'n kernoorlog tonele uit Oorlog en Vrede opgeroep waarin Tolstoi se karakters skynbaar gevoel het soos Coetzee in die 1960's in Kaapstad en Londen gevoel het (Coetzee, 2002:11, 85). Ingrid Jonker het Tolstoi aangehaal in haar liefdesbrief aan André Brink twee jaar voordat sy haar eie lewe geneem het (Galloway, 2015: Letter of 31 August 1963). Die roman Anna Karenina het haar met 'n donker voorgevoel gevul. In 'n brief aan Jack Cope noem Jonker die toneel waarin Karenina haar eie lewe neem en bely [in Engels]: "Only scared I'd get like that myself!" (Metelerkamp, 2018:183).
Tolstoi se styl en skryfloopbaan was 'n onderwerp van introspeksie by Suid-Afrikaanse skrywers. In 1971 het die 36-jarige André Brink uitgevind dat Tolstoi op dieselfde ouderdom reeds aan die skryf was aan sy meesterwerk, Oorlog en Vrede. Dit was onder meer hierdie besef wat Brink aangespoor het om komplekse romans met 'n onderliggende filosofiese grondslag te begin skryf (De Kock, 2019).
JM Coetzee is dronkgeslaan deur die Russiese skrywer se vaardige vermoë om lesers se aandag te hou en van die eerste sinne van sy vertelling af hulle vertroue te wen. "No one is better at building up authority than Tolstoy," merk Coetzee met bewondering op, en dalk selfs met 'n bietjie jaloesie (Coetzee, 2008:149). In die eerste konsepte van sy Diary of a Bad Year teken Coetzee aan dat hy belangstelling verloor het in noukeurige, langsame uitbeelding van die werklikheid en sien 'n parallel in Tolstoi se evolusie as 'n realistiese skrywer (Attwell, 2015:212). Tolstoi se styl het in die laaste dekades van sy lewe droër geword en sy behandeling van karakters beknop. Tolstoi het waarskynlik egter gemeen dat "he was ridding himself of the shackles that had enslaved him to appearances" sodat hy onverwyld die vraagstukke wat hom besig gehou het, kon aanpak (Coetzee, 2008:193).
Coetzee se alter ego in Diary of a Bad Year gee toe dat hy Tolstoi lees "with an uneasy, even shamefaced absorption", "with guilty fascination" (Coetzee, 2008:150). Na Coetzee se mening ontwrig Tolstoi se Christelike humanisme 'n postmoderne skeptisisme oor waarheid en die waarde van realistiese fiksie. Die sekulêre belydenis in werke deur Dostojefski en vroeë Tolstoi, wat die religieuse tradisie van selfondersoek gehandhaaf het, toon 'n groter potensiaal om die waarheid oorjouself te vind as sekulêre psigoanalise ("Interview", in Coetzee, 1992:158, 244, 249). Dit is die rede waarom Coetzee teleurgesteld is oor Tolstoi se besluit "to set down the truth" in Die Kreuzersonate eerder as om die belydende bewussyn van die hoofkarakter te ondersoek ten einde te midde van selfmisleiding en selftwyfel vlugge blikke te kry op wat eintlik gebeur het ("Confession and Double Thoughts: Tolstoy, Rousseau, Dostoevsky" in Coetzee, 1992:293).
5. Gevolgtrekkings
Dit wil voorkom of Tolstoi se gewildheid onder Suid-Afrikaners baie dieselfde is as dié in Europese lande en die Verenigde State. Sy werke, veral die fiksie, was wyd verkrygbaar - ook vertalings in Afrikaans en Gujarati (een van die tale wat Indiërs in Suid-Afrika praat). Sy filosofie en religieuse en politieke sieninge is deur Suid-Afrikaanse kultuurleiers en politieke aktiviste bespreek en bevorder. In Transvaal was daar selfs 'n gemeenskap wat aan die Tolstoiaanse beginsels toegewy was (Gandhi se Tolstoi-plaas), wat in sommige opsigte vergelykbaar was met die Tolstoiaanse kommunes in Wes-Europa.
In die tydperk 1890-1900 het Tolstoi voortgegaan om sy leer van "geen verset teen boosheid deur geweld nie" te ontwikkel. Hy het inligting oor die Anglo-Boereoorlog gebruik om sy pasifistiese idees te toets. Sy protes teen Britse imperialisme in Afrika het aangesluit by dié van ander wêreldberoemde humanistiese skrywers, soos Bjornstjerne Bjornson, Theodore Dreiser, Anatole France, Romain Rolland, Bernard Shaw, Bertha von Suttner en Mark Twain. In teenstelling met die meeste van hulle het Tolstoi egter geweier om die Boere onvoorwaardelik te steun. Hy het simpatie met die verdedigers van die Suider-Afrikaanse republieke gehad, maar as 'n beginselvaste teenstander van geweld het hy dié verdedigers veroordeel omdat hulle hulle tot 'n gewapende stryd gewend en so die doodsonde van doodslag gepleeg het.
Gedurende die oorgangs- en guerrillafase van die oorlog het Tolstoi mettertyd die voort-gesette verset deur die Boere teen die Britse inval as 'n triomf van morele krag oor immoraliteit begin beskou. Hy het die Suid-Afrikaanse militêre konflik in 'n wêreldkonteks gesien, as 'n tipiese oorlog van 'n nuwe era. In sy besinning oor die nuus uit Suid-Afrika het hy tot die gevolgtrekking gekom dat sulke oorloë deur immorele doelwitte en wyses van oorlogvoering gekenmerk word, asook deur niedeelname aan vyandelikhede deur diegene wat regstreeks by die vyandelikhede baat vind (groot entrepreneurs wat die regering manipuleer).
Volgens Tolstoi het Europese regerings nie daarin belanggestel om militarisme uit te roei nie; niegewelddadige protes deur gewone mense kon egter 'n einde aan oorlog bring. In teenstelling met diegene wat deelgeneem het aan Boergesinde veldtogte, het Tolstoi gemeen dat sodanige protes nie sy landgenote se saak was nie, want hulle hooftaak moes morele selfverbetering en die bestryding van ongeregtigheid in hul eie land wees.
Sy belangstelling in die gebeure in Suid-Afrika was beperk tot die Anglo-Boereoorlog en die Indiërs se burgerregteveldtog van die vroeë 1900's onder leiding van Ghandi, wie se leer van satyagraha deels op Tolstoi se etiese leringe berus het. Nietemin, Tolstoi se invloed op Afrikanerkultuur was vir meer as 'n eeu merkbaar. Afgesien van regstreekse kontak, soos besoeke en briewe aan hom, het Afrikanerkultuurfigure sy werk bevorder, sy fiksie in Afrikaans vertaal en vertalings het in bykans elke dekade tot die 1990's verskyn. Hoewel die apartheidsregime soms die invoer van sy romans opgeskort het, is dit nooit formeel verbied nie.
Soos ander van die voorste romansiers van die laat Imperiale Rusland is Tolstoi deur Afrikaanse skrywers beskou as 'n navolgenswaardige realistiese skrywer wat standaarde gestel het waarna hulle gestreef het maar dikwels ook as onbereikbaar beskou het. Dit het egter slegs sy fiksie gegeld, want sy konfessionele en filosofiese geskrifte is skynbaar nie deur Afrikaanse skrywers erken nie, veral nie ná die Tweede Wêreldoorlog nie. Vir dié skrywers was Tolstoi hoofsaaklik 'n skrywer van fiksie. Sy werk het gefigureer in Suid-Afrikaanse literêre debatte oor verset teen magsmisbruikende owerhede en sensuur. Sy fiksie het Suid-Afrikaners herinner aan die humanistiese ideale wat die riglyne moes wees vir diegene wat positiewe verandering in 'n onregverdige, diep verdeelde samelewing teweeg wou bring. Tolstoi se werk het intro-speksie gestimuleer, maar ook besinning oor literêre meesterskap, die etiese standaarde van 'n skrywer en 'n mens se lewensdoel.
Erkennings
Die skrywer betuig sy dank vir die gulhartige hulp van prof. William Beinart, St Anthony's College and African Studies Centre, Universiteit van Oxford; prof. Catherine du Toit, Voorsitter: Departement Moderne Vreemde Tale, Universiteit Stellenbosch; Olga Gladun, Kurator: Gedenkbiblioteek by die Leo Tolstoy-Huis, en die personeel van die Jasnaja Poljana Nasionale Museum en Natuurreservaat, Rusland; Jennifer Kimble, Hoofbibliotekaris: Manuskripversameling, Brenthurst-biblioteek, Johannesburg; Svetlana Novikova, Hoof: Manuskripdepartement, en die personeel van die Leo Tolstoi Nasionale Museum, Moskou; en Anri van der Westhuizen, Bestuurder: Biblioteek- en Inligtingsdiens, Unisa-argief, Pretoria.
BIBLIOGRAFIE
Attwell, D. 2015. JM Coetzee and the life of writing: Face-to-face with time. New York: Viking. [ Links ]
Babayev, EG. 1965. Inostrannaya pochta Tolstogo. In Literaturnoye nasledstvo. Volume 75(1). Moscow: Nauka. [ Links ]
Basinsky, P. 2017. Lev Tolstoy. Svobodny chelovek. Moscow: Molodaya Gvardiya. [ Links ]
Beinart, W. 2003. The rise of conservation in South Africa: Settlers, livestock, and the environment 1770-1950. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Belyaeva, UP. 2021. Tolstovstvo kak religiozno-etichesky fenomen otechestvennoy kultury: teoriya i praktika. Lipetsk: PP Semyonov-Tyan-Shansky Lipetsk State Pedagogical University. [ Links ]
Biryukov, PI. 1923. Biografiya Lva Nikolayevicha Tolstogo. Volume 4. Moscow; Petrograd: Gosudarstvennoye Izdatelstvo. [ Links ]
Botha, E. 1989. Anton Chekhov: Reception of a Russian dramatist in South Africa. In Mondry, H (ed.). The waking sphinx: South African essays on Russian culture. Johannesburg: The Library, University of the Witwatersrand. [ Links ]
Brooke Simons, P. 1999. Apples of the sun being an account of the lives, vision and achievements of the Molteno brothers, Edward Bartle Frere and Henry Anderson. Vlaeberg: Fernwood Press. [ Links ]
Cape Times. 1901. Lecture on Tolstoi, 17 July, p. 11. [ Links ]
Coetzee, JM. 1983. [An untitled review of Jack Cope. The Adversary Within: Dissident Writers in Afrikaans (1982)]. English in Africa, 10(1):85-89. [ Links ]
Coetzee, JM. 1992. Doubling the point: Essays and interviews. Cambridge, Mass. & London: Harvard University Press. [ Links ]
Coetzee, JM. 2008. Diary of a Bad Year. London: Vintage. [ Links ]
Coovadia, I. 2020. Revolution and non-violence in Tolstoy, Gandhi, and Mandela. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Cope, J. 1982. The adversary within: Dissident writers in Afrikaans. Cape Town: David Philip; Atlantic Highlands, New Jersey: Humanities Press; London: Rex Collings. [ Links ]
Cronwright-Schreiner, SC (ed.). 1924. The letters of Olive Schreiner 1876-1920. London: Unwin. [ Links ]
De Kock, L. 2019. The love song of Andre PBrink: A biography [Johannesburg & Cape Town: Jonathan Ball Publishers. [Electronic version with unnumbered pages. [ Links ]]
Dick, AL. 2012. The hidden history of South Africa's book and reading cultures. Toronto; Buffalo; London: University of Toronto Press. [ Links ]
Scholtz, JduP. 1976. Boonzaier, Daniël Cornelis. In De Kock, WD (ed.). Dictionary of South African biography. Volume 1. Pretoria: The Human Sciences Research Council, pp 93-96. [ Links ]
English in Africa. 1979. South African writers talking: Nadine Gordimer, Es'kia Mphahlele, André Brink, 6(2):1-23. [ Links ]
Foster, J. 2013. Transnational Tolstoy: Between the West and the world. London: Bloomsbury Academic. [ Links ]
Galloway, F. (ed.). 2015. Flame in the snow: The love letters of André Brink & Ingrid Jonke. Cape Town: Umuzi. [Electronic version with unnumbered pages. [ Links ]]
Gandhi, M. 1968-1994. The collected works of Mahatma Gandhi. New Delhi: Government of India. [ Links ]
Garmashova, I. 2001. South African perceptions of Russians: A personified portrait. Language Matters, 32(1):79-95. [ Links ]
Gorelik, B. 2016. A Russian prince in a Boer republic: A memoir of Bloemfontein by Grigory Volkonsky. Bulletin of the National Library of South Africa, 70(1):36-38. [ Links ]
Gorelik, BM. 2023. Yuzhnoafrikanskie posetiteli Tolstogo. In Gladkova, V. (ed.), Materialy nauchnykh sessiy 2022 goda v Gosudarstvennom muzee LN Tolstogo. Moscow: RG-Press. [ Links ]
Hapgood, IF. 1895. Russian rambles. Boston & New York: Houghton, Mifflin & Company; Cambridge: The Riverside Press. [ Links ]
Hughes, J. 1961. The new face of Africa south of the Sahara. London: Longmans, Green & Co. [ Links ]
Hughes, MA [Campbell, R]. 1926. Tolstoy and Dostoevsky. Voorslag, 1(1):46-52. [ Links ]
Hunt, JD. 1996. Gandhi, Tolstoy, and the Tolstoyans. In Dyck, HL (ed.). The pacifist impulse in historical perspective. Toronto: Buffalo; London: University of Toronto Press, pp 260-277. [ Links ]
Hyslop, J. 2004. The notorious syndicalist: JT Bain: A Scottish rebel in colonial South Africa. Johannesburg: Jacana Media. [ Links ]
Iron, R [Schreiner, O]. 1893. Afrikanskaya ferma. Vestnik inostrannoi literatury, 10:63-136. LN Tolstoy National Museum and Nature Reserve Yasnaya Polyana, KP-1816/915. [ Links ]
Jackson, J-M. 2015. South African literature's Russian soul: Narrative forms of global isolation. London & New York: Bloomsbury Academic. [ Links ]
Joubert, D. 2018. My oupa besoek Leo Tolstoi. De Kat, Lente:64-66. [ Links ]
Joubert, E. 1999. Van paleise, kerke en riviere. Insig, 5(140):46-47. [ Links ]
Kestell, JD. 1903. Through shot and flame. London: Methuen & Co. [ Links ]
Korochantsev, A. 1992. André Brink o literature i yazyke. Asia and Africa Today, 10:25-28. [ Links ]
Kurbak, M. 2015. John Maxwell Coetzee. Myslipostoronnego. Moskva: Politicheskaya entsiklopediya. [ Links ]
Kuzina, LN (ed.). 1961. Tolstoy v posledneye desyatiletiye svoyey zhizni. Po zapisyam v dnevnike M S Sukhotina. In Literaturnoye nasledstvo. Volume 69(2). Moscow: USSR Academy of Sciences. [ Links ]
L 'Aurore. 1900. Tolstoï et la guerre du Transvaal, 864:1. [ Links ]
Leyds, WJ. 1931. Derde verzameling (Correspondentie 1900). Deel 1. Dordrecht: Geuze. [ Links ]
Lyster, RS. 2018. A history of apartheid censorship through the archive. Unpublished doctoral thesis. Cape Town: University of Cape Town. [ Links ]
Malan, R. 1990. My traitor's heart. New York: The Atlantic Monthly Press. [ Links ]
Mann, T. 1957. Essays. New York: Vintage Books. [ Links ]
Maude, A. 1901. Tolstoy and his problems. London: Grant Richards. [ Links ]
Metelerkamp, P. 2018. Ingrid Jonker: 'n Biografie. Kaapstad: Penguin Random House South Africa. [ Links ]
Nowak, H. 1986. Leo Tolstoy on the Anglo-Boer War. Africana Notes and News, 27(4):149-154. [ Links ]
Ons Land. 1900. Graaf Tolstoi over den oorlog, 15 Maart, p. 6. [ Links ]
Orlitsky, S. 1900. U grafa N Tolstogo. Russkii listok, 8:1. [ Links ]
Popescu, M. 2010. South African literature beyond the Cold War: Eastern Europe in the South African cultural imaginary. New York: Palgrave Macmillan. [Electronic version with unnumbered pages. [ Links ]]
Posse, VA. 1929. Moy zhiznennyput. Moskva: Zemlya i Fabrika. [ Links ]
Reynold's News. 1900. Tolstoy on the war, 14 January, p 1. [ Links ]
Schreiner, O. 1998. The story of an African farm. Oxford & New York: Oxford University Press. [ Links ]
Shifman, AI. 1969. Lev Tolstoy i anglo-burskaya voyna, Narody Azii i Afriki, 1:76-86. [ Links ]
Shifman, AI. 1971. Lev Tolstoy i Vostok. Moscow: Nauka. [ Links ]
South Africa Conciliation Committee. 1899-1902. Leaflets & pamphlets issued by the South Africa Conciliation Committee. Pamphlet volume produced by the publisher. LN Tolstoy National Museum and Nature Reserve Yasnaya Polyana, KP-1805/223. [ Links ]
Strydom, TJ. 2022. Koos Bekker's billions. Cape Town: Penguin Random House. [Electronic version with unnumbered pages. [ Links ]]
The Clarion. 1900. Socialist views on war and imperialism. 10 March, p. 78. [ Links ]
The Globe. 1900. Count Tolstoi and the Boers, 26 January, p. 5. [ Links ]
The Sphere. 1900.The news of the world, 3 February, p 45. [ Links ]
Tolstaya, A. 2001. Otets. Zhizn Lva Tolstogo. Volume 2. Moskva: SPARRK. [ Links ]
Tolstaya, SA. 1978. Dnevniki. Volume 1. Moskva: Khudozhestvennaya Literatura. [ Links ]
Tolstoi, L. 1925. Baas en kneg, en ander verhale van Liof Tolstoi. Vertaal deur GS Preller. Kaapstad: Nasionale Pers. [ Links ]
Tolstoi, L. 1927. Vreemde goud: Verhale en sketse uit Tolstoi se werke. Vertaal deur I Theron. Kaapstad: Nasionale Pers. [ Links ]
Tolstoi, L. 1933. Russiese volksvertellinge: Verhale. Vertaal deur AE Carinus. Pretoria: Van Schalk. [ Links ]
Tolstoi, L. 1950. Elf verhale. Vertaal deur F Jordaan. Kaapstad: Afrikaanse Kulturele Leserskring. [ Links ]
Tolstoi, L. 1960. Die dood van Iwan Iljitsj. Vertaal deur A Lee. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. [ Links ]
Tolstoi, LN. 1900. Während des Transvaalkrieges. Die Zukunft, 30:374-375. [ Links ]
Tolstoy, L. 1900. The slavery of our times. Translated by A Maude. Maldon, Essex: The Free Age Press. [ Links ]
Tolstoy, L. 1903. Essays and letters. Translated by A Maude. London: Grant Richards. [ Links ]
Tolstoy, L. 1930. What is art and other essays on art. Translated by A Maude. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Tolstoy, L. 1934. What then must we do? Translated by A Maude. Oxford: Tolstoy Society; Oxford University Press. [ Links ]
Tolstoy, L. 1967. Tolstoy's writings on civil disobedience and non-violence. New York: Bergman Publishers. [ Links ]
Tolstoy, L. 1978. Tolstoy's letters. Selected, edited and translated by RF Christian. Volume 2. London: The Athlone Press, University of London. [ Links ]
Tolstoy, L. 1980. Die kosakke. Roodepoort: Newman Art. [ Links ]
Tolstoy, LN. 1928-1958. Polnoye sobraniye sochineniy. Moskva: GIZ/GIKhl. [ Links ]
Van der Post, L. 1964. Journey into Russia. London: The Hogarth Press. [ Links ]
Volkonsky, G. 1900. Pour les Boers contre l'impérialisme. Preface du Comte L Tolstoï, Genève. LN Tolstoy National Museum and Nature Reserve Yasnaya Polyana, KP-1805/243. [ Links ]
Westra, PE. 1994. DC Boonzaier en die kunslewe aan die Kaap. Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, 45(2):4-10. [ Links ]
X (pseud.). 1925. Tolstoi in Afrikaans. Rand Daily Mail, 26 September, p. 6. [ Links ]
Ontvang: 2023-11-08
Goedgekeur: 2024-03-18
Gepubliseer: Junie 2024
Boris Gorelik woon in Moskou en spesialiseer in die geskiedenis van interkulturele ontmoetinge en wisselwerking tussen Rusland en Suid-Afrika. Onder sy ander kundigheidsterreine tel trans-nasionale geskiedenis en die geskiedenis van Russiestalige gemeenskappe in Suid-Afrika. Tans konsentreer hy op die mate waarin Suid-Afrika in die Russiese historiese bewussyn figureer. Hy het 'n doktorsgraad (Kandidaat van die Weten-skappe [kandidat naoek]). Sy boeke, wat in Rusland, Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk gepubliseer is, sluit in Past and Current Russian Immigration to South Africa (2007) en, onder sy redakteurskap, 'An Entirely Different World': Russian Visitors to the Cape 1797-1870 (2015). Sy jongste boek, A Russian on Commando: The Boer War Experiences of Yevgeny Avgustus, is in 2022 deur Jonathan Ball Publishers in Johannesburg en Londen uitgegee.
Boris Gorelik lives in Moscow and specialises in the history of cross-cultural encounters and interactions between Russia and South Africa. Among his other areas of expertise are transnational history and the history of Russophone communities in South Africa. His current focus is on the presence of South Africa in the Russian historical consciousness. Gorelik holds a doctoral degree (Candidate of Sciences [kandydat nauk]). His books, published in Russia, South Africa and the United Kingdom, include Past and Current Russian Immigration to South Africa (2007) and, under his editorship, 'An Entirely Different World': Russian Visitors to the Cape 1797-1870 (2015). His latest book, A Russian on Commando: The Boer War Experiences of Yevgeny Avgustus, was published by Jonathan Ball Publishers in Johannesburg and London in 2022.
1 In hierdie artikel slaan "realisties(e)" op die realisme as stylrigting.
2 Pretoria (Waterkloof Glen), Hartbeespoort (Schoemansville) en Vanderbijlpark. Die een in Hartbeespoort het reeds in die 1920's op kaarte verskyn. Johan Hendrik Schoeman, stigter van Schoemansville en seun van veggeneraal HJ Schoeman, was 'n bewonderaar van sowel Tolstoi as Ghandi, en het selfs sy seun na die skrywer vernoem: Johan Hendrik Tolstoi Schoeman. Gandhistraat het in die 1950's Strydomstraat geword, maar Tolstoistraat bestaan nog steeds.
3 'n Mens moes die toe rande van die bladsye met 'n briewemes oopsny.
4 SL Kling se brief aan L Tolstoi, 21 Februarie 1891. Manuskripdepartement, Nasionale Museum Leo Tolstoy, Moskou (LTNM), dokumentversameling 1, verwysing 224/13, pp. 1-8.
5 JP Hess se brief aan Tolstoi, 3 Junie 1901. LTNM, dokumentversameling 1, verwysing 220/43, pp. 1-2 rev.
6 DC Boonzaier se brief aan Tolstoi, 29 Junie 1897. LTNM, dokumentversameling 1, verwysing 207/58 (1), pp. 1-2.
7 DC Boonzaier se brief aan Tolstoi, 30 Maart 1898. LTNM, dokumentversameling 1, verwysing 207/58 (2), pp. 1-2.
8 DC Boonzaier se brief aan Tolstoi, 30 Maart 1898. LTNM, dokumentversameling 1, verwysing 207/58 (2), p. 3.
9 DC Boonzaier se brief aan Tolstoi, 29 Junie 1898. LTNM, dokumentversameling 1, verwysing 207/58 (3), pp. 1-1 hersien.
10 A Tolstoy se brief aan DC Boonzaier, 22 Januarie 1936. Argief van die Universiteit van Suid-Afrika, Wagener Spesiale Versameling, WAGE4730, p 2.
11 G S Preller's letter to L Tolstoy, September 1908. LTNM, fonds 1, reference 2419, p 2.