Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.64 n.3 Pretoria Sep. 2024
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n3a2
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
' n Sosiale ontologie van sorg: Orania as 'n nie-tipiese Suid-Afrikaanse geval van plaaslike regering
A social ontology of care: Orania as a non-typical South African case of local government
J S Wessels
Departement Publieke Administrasie en Bestuur Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria Suid-Afrika E-pos: wessejs@icloud.com Orchid ID: http://orcid.org/0000-0002-5472-7921
OPSOMMING
Heelwat navorsing is al gedoen in 'n poging om 'n greep op aspekte van goeie en slegte plaaslike regering te kry. 'n Kernvraag wat steeds onbeantwoord bly is die volgende: Wat is "plaaslike regering", en hoe kan die werklikheid waarna die begrip verwys, verstaan en herken word? 'n Begripsraamwerk van "plaaslike regering" is onlangs ontwikkel bestaande uit die herkenbare eienskappe van die begrip om dit te identifiseer. Gepaardgaande daarmee is 'n sosiale ontologie van sorg vir "plaaslike regering" ontwikkel. Die veronderstelling is dat plaaslike regerings in Suid-Afrika en ander lande aan die hand van daardie eienskappe herken sal word. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is daar egter 'n moontlike nietipiese voorbeeld van plaaslike regering, naamlik Orania, 'n bestaande dorp binne die geografiese gebied van die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit in die Noord-Kaapprovinsie. Orania is nie 'n muni-sipaliteit ingevolge die Suid-Afrikaanse grondwet en wetlike raamwerk nie. Die vraag is gevolglik of Orania wel as 'n "plaaslike regering" beskou kan word. In antwoord op die vraag gee hierdie artikel 'n ontiese1 beskrywing van Orania aan die hand van die gekose begripsraamwerk en sosiale ontologie van sorg. Dit blyk uit die beskrywing en ontleding daarvan dat Orania wel aan die institusionele, funksionele en territoriale eienskappe van die begrip "plaaslike regering" voldoen en op 'n outentieke wyse as plaaslike regering funksioneer. Die gevallestudie wys dat 'n outentieke plaaslike regering een is wat 'n integrerende deel uitmaak van sy plaaslike gemeenskap en omsluitende wêrelde, wat voortdurende ongemak met die hede beleef en met sorg, besorgdheid en sorgsaamheid daarop reageer.
Trefwoorde: Orania; sosiale ontologie; sorg; plaaslike regering; munisipaliteit; begripsontleding
ABSTRACT
Much research has been conducted to grasp aspects of good and bad local governance. A central question that remains unanswered is: What constitutes "local government" and how can the reality to which this concept refers be understood and recognised? Recently, a conceptual framework was developed by identifying recognisable characteristics of this concept's reference. The assumption is that local governments in South Africa and other countries will be recognised based on these characteristics. Alongside this, a social ontology of care for "local government" was established. However, within the South African context, a potentially atypical example of local government is found, namely Orania, an existing town situated within the geographical area of the Thembelihle Local Municipality in the Northern Cape province. Orania is not a municipality in terms of the South African constitution and legal framework. The question thus arises whether Orania can indeed be considered a "local government". In response to this query, this article provides a description of Orania using the chosen conceptual framework and social ontology of care as part of a case study design.
The analysis and ontological description ofOrania, by means of the conceptual framework, reveal that the phenomenon of Orania does indeed possess a territorial jurisdictional sphere (the Orania Overlay Zone), a democratically elected representative council (the OVR), and a Town Council and its administration that performs a range of local functions and responsibilities. While the territory of a municipality is generally determined by authorising measures or decisions by other jurisdictions (such as province, state, and national government), the territorial area known as the Orania Overlay Zone results from the purchase and cultivation of land by members of a homogeneous cultural community. Therefore, the territory is not only a demarcation of jurisdiction, but the place to which this community is connected. The institutional aspect of local government is likely a universal feature. The nature and scope of the institutional structure of local governments are often also the result of standardised external authorising measures or decisions by other jurisdictions. Consequently, the structures may not necessarily resonate with the needs and resources of the sometimes diverse society that constitutes the inhabitants of such an area. In the case of Orania, the institutional structure of local government (the OVR and the Town Council) is directly determined by the community, as represented by various land entities, based on the community's specific needs and available resources. The performance of a limited range of local functions can also be considered a universal feature of local government. In this particular case, the functions of the relevant local government are determined by its decision-making bodies, such as the Town Council, in consultation with the community as represented by the various land entities. Consequently, typical local government functions are performed according to the community's needs and available resources. Non-typical local government functions, such as residence rights, are performed within the general scope of the 1996 Constitution of the Republic of South Africa and other national legislation. The analysis confirmed that Orania meets the characteristics consistent with the concept of "local government" as outlined in the conceptual framework. Additionally, viewing Orania through the theoretical lens of social ontology of care highlights that it is a human construct, making objective observation and description challenging. Orania is a network of interconnected individuals and social institutions situated within overlapping human, spiritual, natural, territorial, and political worlds. The authenticity of this existence lies in its concern for the affairs of the world in which it is situated and the conscientiousness with which it carries out its functions in conjunction with others. The case study shows that an authentic local government is one that forms an integral part of its local community and surrounding worlds, continually experiencing discomfort (anxiety) with the present, and responding to that anxiety with care, concern, and nurturing for society and its things.
Keywords: Orania; social ontology; care; local government; municipality; concept analysis
1. Inleiding
Die daaglikse lewensgehalte van mense word wêreldwyd in wisselende mate deur plaaslike regerings bepaal. Die rede daarvoor is dat dit die regeringsvlak die naaste aan plaaslike gemeenskappe is en gevolglik hul funksies ooreenkomstig die spesifieke behoeftes van daardie gemeenskap kan uitvoer. Dit is egter geen geheim dat plaaslike regerings dikwels nie daarin slaag om in die spesifieke behoeftes van hul inwoners te voorsien nie. Vakkundiges in die vakgebied Publieke Administrasie het met verloop van tyd 'n greep probeer kry op die kenmerke van goeie en slegte plaaslike regering. Verskeie navorsingspublikasies oor, onder meer, besluite, strategies en intervensies om goeie plaaslike regering te bevorder, het gevolglik die lig gesien (Biljohn & Lues, 2020; Khambule, 2021; Tempelhoff, 2011).
Ten spyte van die betekenisvolheid van hierdie nuwe kennis en insigte, bly 'n kernvraag steeds onbeantwoord, naamlik: Wat is "plaaslike regering", en hoe kan die werklikheid waarna die begrip verwys, verstaan en herken word? Die antwoorde op hierdie vrae is nie so voor die hand liggend as wat dit mag klink nie, soos verskillende studies oor die wese van plaaslike regering bevestig.
In 'n onlangse studie is die begrip "plaaslike regering" ontleed, 'n begripsraamwerk met herkenbare eienskappe daarvan opgestel, en 'n sosiale ontologie van sorg vir die begrip en sy verskynsels ontwikkel (Wessels, 2023). Die veronderstelling is dat hierdie herkenbare eienskappe dit moontlik maak om die verskynsel waarna "plaaslike regering" verwys, binne verskillende kontekste, te herken en te beskryf. So kan verwag word dat die Plaaslike Munisipaliteit van Polokwane in die Limpopo provinsie, die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in die Gauteng provinsie, en die Stad Guelph in die Ontario provinsie van Kanada, almal aan die hand van dieselfde eienskappe as plaaslike regerings herken sal word.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks is daar egter 'n moontlike nietipiese voorbeeld van plaaslike regering, naamlik Orania. Orania is 'n bestaande dorp binne die geografiese gebied van die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit, wat op sy beurt deel uitmaak van die Pixley ka Seme Distrik in die Noord-Kaapprovinsie. Hoewel Urania nie as 'n plaaslike of distriks-munisipaliteit erken word nie, voldoen die dorp oënskynlik aan die herkenbare eienskappe van "plaaslike regering". Die vraag is gevolglik of Orania wel as 'n "plaaslike regering" beskou kan word.
Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om Orania se eienskappe met die eienskappe van die begrip "plaaslike regering" te vergelyk. Dié vergelyking word gedoen deur die lens van 'n sosiale ontologie van sorg. Die navorsingsvraag word gevolglik beantwoord met 'n ontiese (soos gedefinieer in Voetnoot 1 hier bo) beskrywing van Orania aan die hand van die gekose begripsraamwerk en sosiale ontologie van sorg. Ek begin met 'n ontleding van die begrip "plaaslike regering" en sy sosiale ontologie van sorg, gevolg deur 'n verduideliking van waarom 'n gevallestudie 'n toepaslike navorsingsontwerp vir die beantwoording van die navorsingsvraag is. Daarna word die kenmerkende eienskappe van plaaslike regering van Orania aan die hand van die gevallestudie beskryf.
2. Die begrip "plaaslike regering" en sy sosiale ontologie van sorg
Om die navorsingsvraag te beantwoord oor of Orania wel as 'n plaaslike regering beskou kan word, is dit sekerlik nodig om eers klarigheid te kry oor die begrip "plaaslike regering" en die verskynsel in die werklikheid waarna dit verwys. Ek het dié begrip aan die hand van Walker en Avant (2014) se metode van begripsontleding ontleed en daaroor verslag gedoen in die artikel "Local government: a social ontology of care" (Wessels, 2023). Omdat die begripsraamwerk die grondslag vorm van die empiriese gedeelte van hierdie studie, word die proses en resultaat van die begripsontleding asook die sosiale ontologie van sorg hier opgesom.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks is die maklikste manier om klarigheid oor die begrip te verkry sekerlik om 'n ontleding van die Grondwet en verbandhoudende wette te doen. Indien hierdie pad gevolg word, kan 'n akkurate en geldige definisie vir die Suid-Afrikaanse konteks gekry word. So 'n definisie sal heel waarskynlik nie geldig wees vir ander kontekste, soos Kanada, Groot Brittanje en die Verenigde State van Amerika nie. Die doel van hierdie oefening is dus om 'n teoretiese definisie vir die begrip "plaaslike regering" te vind wat moontlik in meer as een konteks geldig kan wees.
Die begrip "plaaslike regering"2 (local government) en die verskynsels waarna dit verwys, is geensins nuut nie. Spore hiervan kan gevind word so ver terug as in die Romeinse Ryk (AD 110-112) met spesifieke klem op die "plaaslike" dimensie van die ekonomie, realiteite, probleme en gemeenskappe (kyk na Bispham, Harrison & Sparkes, 2006). In die meer onlangse Britse geskiedenis verwys Kolonel Robert Torrens in die Britse Laerhuis na plaaslike regering as "the perfection of all government" met bevoegdhede "as little infringed upon as possible" (House of Commons, 1834:1340). Die begrip "plaaslike regering" word algemeen in die literatuur gebruik om te verwys na daardie openbare instellings die naaste aan inwoners met die bevoegdheid om bepaalde wetgewende en uitvoerende owerheidsfunksies uit te voer in 'n afgebakende gebied binne groter en selfs soewereine jurisdiksiesfere (Acharya & Scott, 2022:64; Scruton, 2007:402; Villa, 2004:1261).
"Plaaslike regering" verwys dus na 'n verteenwoordigende en administratiewe owerheids-instelling, gemagtig om 'n beperkte reeks plaaslike wetgewende en uitvoerende staatsfunksies in 'n plaaslike gebied binne 'n groter jurisdiksie uit te voer. Uit die ontleding van die begrip het drie sleuteleienskappe van "plaaslike regering" na vore gekom, te wete institusioneel, handelend en territoriaal (Figuur 1). Wat egter belangrik is om in ag te neem, is dat die mens, die individu, die wese van plaaslike regering uitmaak. Dit kom duidelik na vore uit die samestelling van die verteenwoordigende raad en professionele administrasie as institusionele kenmerk van plaaslike regering. Beide kategorieë instellings bestaan uit mense. Hierdie mense is, gedagtig aan Heidegger (1962:225-229) se werk Sein und Zeit (Being and Time), nie net gesitueerd in die wêreld van plaaslike regering nie, maar ook deel van 'n uitgebreide netwerk van verhoudinge met ander mense. Vandaar sy begrip Dasein:3 om daar te wees, in die wêreld en tussen ander. Die Suid-Afrikaanse filosoof CS (Fanie) de Beer wys treffend daarop dat hoewel die vermoë van individue om op hul eie veranderinge te bewerkstellig redelik beperk is, kan hulle binne institusionele konteks 'n deurslaggewende rol speel in die "beraming van planne, die formulering van doelwitte en missies ... en die bevordering van belange" (De Beer, 1991:76-77). Hy wys voorts daarop dat instellings binne die samelewing nie slegs onvermydelik is nie, maar 'n belangrike rol speel om "orde, harmonie en rigting te bring" (De Beer, 1991:77). Die implikasie van hierdie stelling is dus dat instellings - en vir die doel van hierdie studie, ook plaaslike regering - bestaansredes het. Die raamwerk in Figuur 1 maak hiervoor voorsiening in die sorgsame aard van die handelinge asook die gevolge van plaaslike regering. Waarskynlik die mees voor die hand liggende institusionele kenmerk van plaaslike regering is sy verteen-woordigende raad.
'n Verteenwoordigende raad van 'n plaaslike regering bestaan uit individue wat deur die inwoners van die betrokke gebied verkies word om hul belange op die hart te dra. Gevolglik kan van so 'n raad verwag word om gemeenskapsbelange binne hul beperkte verantwoorde-likheidsfeer te artikuleer en te bevorder. Plaaslike regering as synde verteenwoordigende regering die naaste aan die inwoners van 'n plaaslike gebied, is geanker in 'n ontwikkelings-geskiedenis wat oor eeue strek (Acharya & Scott, 2022:64; Scruton, 2007:402; Villa, 2004:1261). Gedagtig aan Heidegger (1962) se Dasein-begrip is só 'n verteenwoordigende instelling 'n integrerende deel van die plaaslike gemeenskap en deel van die wêreld waarin die plaaslike gemeenskap hul bevind. Gevolglik kan daar van só 'n instelling en sy samestellende lede verwag word om kollektief "eintlik" te wees, dit wil sê, om as raad beangs (ongemak met die hede) en besorg te wees oor sy leefwereld en die mense wat deel daarvan uitmaak (De Beer, 1975:185-245).
Dieselfde verwagting geld vir die administratiewe instelling wat bestaan uit professionele amptenare wat deur die verteenwoordigende raad aangestel is om uitvoering te gee aan die raad se besluite. Die vermoë van 'n plaaslike regering om sy bestaansredes gestand te doen, hang dus af van die mate waarin die individue binne die administratiewe uitvoerende instellings omgee - kyk in dié verband na Heidegger (1962) se onderskeid tussen outentieke/eintlike (diegene wat omgee) en nie-outentieke/nie-eintlike (diegene wat nie omgee nie). Stiegler (2013:133) verwys na hierdie twee kategorieë as geaffekteerde en dis-geaffekteerde individue. Dit spreek byna vanself dat die mate van geaffekteerdheid van administratiewe instellings en hul samestellende lede, deurslaggewend is vir die verwesenliking van die bestaansredes (kyk in hierdie verband na die kolom "gevolge" in Figuur 1) van 'n plaaslike regering, naamlik omgee en sorg vir die dinge en mense.
Die tweede sleuteleienskap van plaaslike regering is sy handelinge, naamlik die uitoefening van sy wetgewende en uitvoerende bevoegdhede rakende 'n beperkte reeks plaaslike ower-heidsfunksies (kyk na Figuur 1). Die handelinge van 'n plaaslike regering geskied beide kollektief - in die vorm van gesamentlike besluite - en individueel. Sowel die kollektiewe as individuele handelinge kan binne Heidegger se filosofie van die Dasein vertolk word as dade van omgee vir die wêreld en die andere waarbinne individue en kollektiewes hulself bevind (kyk na Heidegger, 1962:227). Die gespesifiseerde aard van hul handelinge dien verder ter onderskeiding van die rol van 'n plaaslike regering teenoor dié van provinsiale en nasionale regerings. 'n Mens kan aanvaar dat die grondliggende kriterium vir die aard van hierdie funksies bepaal word deur die subsidiariteitsbeginsel, naamlik dat daar geen geldige rede is vir 'n hoër instelling om 'n funksie te lewer wat bevredigend deur kleiner of laer instellings gelewer kan word nie (Loxton, 1994:80).
Die derde sleuteleienskap van plaaslike regering is sy territoriale dimensie (kyk na Figuur 1), naamlik 'n plaaslik afgebakende geografiese gebied of plek binne groter en/of soewereine gebiede soos 'n staat of provinsie (Wessels, 2023:48). Hierdie territoriale eienskap van plaaslike regering het uiteenlopende vergestaltings en name, soos stad, dorp, streek, distrik, beboude gebied, landelike gebied en munisipaliteit.4 Die grootte van so 'n gebied het ook die ander eienskappe van "plaaslike regering" soos die getal raadslede en amptenare asook die funksies wat verrig word (Wessels, 2023:49). Gevolglik verander die geografiese grense van só 'n gebied dikwels na gelang van spesifieke omstandighede.
Hierdie eienskap het spesifieke implikasies vir verteenwoordigende raadslede en amptenare omdat dit die plek van sorgsaamheid en besorgdheid van hul in-die-wêreld-heid en in-samesyn-met-ander-heid (kyk na Heidegger, 1962) geografies afbaken. Waarna verwys die woord "plek"? Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) onderskei ten minste sewe verskillende gebruike van hierdie woord. Vir die doel van hierdie artikel volstaan ek met die volgende: 'n spesifieke deel van die ruimte waarin iemand of iets is; 'n spesifieke geografiese lokaliteit soos 'n stad, dorp of streek; 'n ruimte wat beskikbaar of nodig is vir iets of waarin iets 'n bestaansreg, rol of funksie het (WAT, n.d.: plek). Voorts wys grondwetkenner Koos Malan op die rykheid van betekenis van die begrip "plek" asook op die relatief statiese en langdurige aard van die verskynsel waarna die begrip verwys (Malan, 2022:63). Danie Goosen onderskei in sy boek Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae tussen die verbandhoudende begrippe "plek" en "ruimte" verwysende na enersyds 'n plek vir selfstandige handelinge van gemeenskappe en andersyds universele ruimtes van standaardisering. Vir hom gebeur egte woning eerder "in hierdie of daardie begrensde plek of plekke" en "in die besonder in die tuiskoms daarbinne" (Goosen, 2015:413).
Dit blyk uit die voorgaande bespreking dat 'n plaaslike regering van ander regeringsvlakke onderskei kan word op grond van gelyktydige teenwoordigheid van ten minste drie eienskappe, naamlik sy institusionele eienskap, die plaaslike aard van sy owerheidsfunksies, en die territoriale afbakening van sy jurisdiksiesfeer. Die vraag wat hierdie artikel probeer beantwoord is of Orania aan hierdie eienskappe voldoen. 'n Spesifieke navorsingsontwerp is hiervoor nodig en word vervolgens bespreek.
3. Navorsingsontwerp
Die geldigheid van 'n begrip kan getoets word deur vas te stel of werklike gevalle waarna die begrip verwys, wel die kenmerkende eienskappe van die begrip het. Soos reeds aangetoon, kan verwag word dat hierdie kenmerkende eienskappe dit moontlik kan maak om die verskynsel waarna "plaaslike regering" verwys, te herken en te beskryf. Dit blyk egter dat dit nie altyd so maklik is nie aangesien die verskynsels waarna "plaaslike owerheid" binne verskillende kontekste verwys, moontlik in mindere of meerdere mate van mekaar verskil met die gevolg dat daar soms tipiese en nietipiese gevalle kan voorkom. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is Orania 'n voorbeeld van so 'n nietipiese geval. Orania is 'n bestaande dorp binne die geo-grafiese gebied van die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit, wat op sy beurt deel uitmaak van die Pixley ka Seme Distrik in die Noord-Kaapprovinsie. Hoewel Orania nie as 'n plaaslike of distriksmunisipaliteit deur die wetlike raamwerk erken word nie, voldoen die dorp oënskynlik aan die herkenbare eienskappe van "plaaslike regering". Die vraag is gevolglik of Orania werklik as 'n "plaaslike regering" beskou kan word.
Die navorsingsontwerp vir hierdie studie word vervolgens uiteengesit aan die hand van die navorsingsdoelstelling, die strategie om die toepaslike geval te kies, die spesifieke ontwerp van die studie, en die keuse van die toepaslikste metodes om data (inligting) te bekom en te ontleed.
3.1Navorsingsdoelstelling
Die doel van hierdie studie was eerstens om 'n sosio-ontologiese beskrywing van Orania as 'n nietipiese geval van plaaslike regering te gee sodat vasgestel kan word of Orania voldoen aan die eienskappe van 'n plaaslike regering soos uiteengesit in Figuur 1 hier bo. 'n Tweede oogmerk is om te besin oor wat uit hierdie geval geleer kan word oor die funksionering van plaaslike regering binne die Suid-Afrikaanse konteks. Afgelei uit hierdie navorsingsdoelstelling, blyk die aangewese navorsingsontwerp dié van 'n gevallestudie te wees.
Gevallestudies word algemeen in Publieke Administrasie en ander geesteswetenskappe gebruik (Ebneyamini & Moghadam, 2018; Wessels, Potgieter & Naidoo, 2021; Yin, 2018; Zongozzi & Wessels, 2017). Die doel van 'n gevallestudie is gewoonlik om 'n spesifieke verskynsel (in hierdie geval "plaaslike regering") grondig te verstaan deur 'n individuele geval daarvan deeglik te bestudeer en te beskryf, sonder om die bevindinge te veralgemeen na die populasie of universum van die verskynsel (Yin, 2018). Die veralgemening is eerder teoreties van aard. Hierdie studie sal opgevolg word met soortgelyke gevallestudies van plaaslike regerings in Suid-Afrika en in die buiteland om nie slegs die begripsraamwerk (Figuur 1) empiries te valideer nie, maar om ook die sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) uit te bou as 'n moontlike instrument om die betrokke verskynsel en sy patologieë, soos dit in uiteenlopende kontekste voorkom, grondig te verstaan.
3.2Orania as 'n nietipiese geval van 'n Suid-Afrikaanse plaaslike regering
Dit blyk uit die literatuur oor die navorsingsontwerp van gevallestudies dat verskeie strategieë gevolg kan word om 'n geval of gevalle van 'n verskynsel vir die doel van die studie te kies. So identifiseer Seawright en Gerring (2008:297) onder meer tipiese, diverse, ekstreme, afwykende, en invloedryke seleksiestrategieë. Die algemeenste seleksiestrategie is na alle waarskynlikheid die tipiese of verteenwoordigende strategie omdat dit die geval kies wat ooglopend aan al die kenmerke van die verskynsel voldoen (Zongozzi & Wessels, 2017:266) en gevolglik as verteenwoordigend van die verskynsel beskou kan word (Seawright & Gerring, 2008:299). Ek het egter nie hierdie strategie gevolg nie, maar wel die ekstreme of afwykende seleksiestrategie deur 'n geval te kies wat nie volledig aan die kenmerke van die verskynsel voldoen nie.
Die rede vir die nietipiese tipering is dat Orania nie aan die konteks-spesifieke tegniese eienskappe van 'n plaaslike regering, soos bepaal deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Republiek van Suid-Afrika, 1996) en ander onderliggende wette, voldoen nie. Die vermoede is egter dat dit wel oor al die eienskappe van die begrip "plaaslike regering" beskik soos geïdentifiseer deur die begripsontleding (Figuur 1 hier bo). Die ekstreme of afwykende seleksiestrategie word doelbewus gekies om 'n moontlike teoretiese of begripsanomalie te ondersoek (Seawright & Gerring, 2008:302).
3.3Die toepaslikheid van 'n enkel-gevallestudieontwerp
Die literatuur oor gevallestudies (Rule & John, 2015:4-9; Yin, 2018:51-54; Zongozzi & Wessels, 2017:266-267) maak voorsiening vir hoofsaaklik twee tipes gevallestudies, naamlik 'n enkel-gevallestudie en 'n veelvuldige gevallestudie. Gedagtig aan die keuse van Orania as 'n afwykende geval, is die toepaslike navorsingsontwerp vir hierdie studie dié van 'n enkel-gevallestudie. Dié ontwerp maak dit moontlik om die kenmerke van die geval te begrond, met behulp van die begripsraamwerk (Figuur 1) te ontleed, en aan die hand van die sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) te beoordeel. So 'n beskrywing en ontleding kan slegs geskied aan die hand van toepaslike data oor die geval.
3.4Die toepaslike data en die ontleding daarvan
Die toetssteen vir toepaslike data is sekerlik of dit voldoende is om die navorsingsdoelstelling te bereik, naamlik om die ontledingseenheid (Orania) aan die hand van die gekose begripsraamwerk (Figuur 1) en die sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) te beskryf. Gegewe dat 'n plaaslike regering 'n sosiale of menslike konstruk is, het dit sin dat betroubare empiriese databronne oor die territoriale jurisdiksiesfeer, die spektrum van staatsfunksies asook die verteenwoordigende en administratiewe instellings van 'n tekstuele aard is. Met betrekking tot Orania is sommige bronne in die openbare domein beskikbaar terwyl ander deur die Uitvoerende Hoof van die Orania Dorpsraad aan my verskaf is.
Hierdie en ander bronne is ontleed met behulp van hoofsaaklik die reproduktiewe - 'n soeke na betekenisvolle kennis met 'n klem op eenduidige en kontroleerbare betekenis van 'n teks - en die hermeneutiese leeshandelinge (De Beer, 2014:208-210; Pauw, 2015:618; Wessels, 2023:980-983). Die lees van tekste vorm die ruggraat vir my beskrywing van die territoriale, handelende en institusionele plaaslike regeringskenmerke van Orania.
4. 'n Ontiese beskrywing van Orania as plaaslike regering aan die hand van die gekose begripsraamwerk en 'n sosiale ontologie van sorg
Die ontstaansgeskiedenis asook ander aspekte van Orania is reeds omvattend gedokumenteer deur, onder meer, Senekal (2021; 2019), Rossouw (2023), en Joubert en andere (2022), en word nie in hierdie artikel herhaal nie. Wat wel vir die doel van hierdie studie belangrik is, is dat die dorp Orania in 1991 deur sy stigters met 'n bepaalde doel gekoop is, naamlik om te dien as vestigingspunt vir Afrikanerselfbeskikking en te dien as Afrikanerbemagtigingsprojek. Hierdie doel vind gevolglik neerslag in "eie arbeid, eie instellings en eie grond" (Orania Dorpsraad, 2022d:A). Orania het sedertdien ontwikkel vanuit 'n dorp met 'n oorgangsraad in 'n de facto plaaslike regering (kyk hier na afdeling 4.2.1 hier onder). Dit is hierdie de facto plaaslike regering wat as geval vir hierdie studie dien en wat vervolgens ontleed, beskryf en beoordeel word.
Die begripsraamwerk (Figuur 1) en sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) dien as gelyk-lopende teoretiese lense vir die ontiese beskrywing en ontologiese beoordeling van Orania as 'n plaaslike regering. Die beskrywing fokus op die drie tipiese kenmerke van 'n plaaslike regering soos waargeneem in Orania, naamlik die territoriale gebied (die Orania Oorlegsone), die verteenwoordigende (die Orania Verteenwoordigende Raad) en administratiewe (die Orania Dorpsraad) owerheidsinstellings van Orania, en die beperkte reeks wetgewende en uitvoerende staatsfunksies wat die betrokke instellings verrig.
4.1 Territoriale jurisdiksiesfeer
Ingevolge die vierde aanname van die voorgestelde sosiale ontologie van sorg, impliseer die territoriale eienskap van plaaslike regering 'n geografiese afbakening vir inwoners en hulle instellings terwyl hulle in-die-wêreld en in-samesyn-met-ander is. Ons het dus hier te doen met die territoriale begrensing van die jurisdiksie van Orania se verteenwoordigende en administratiewe instellings om owerheidsfunksies uit te voer. Meer nog, is dit ook die plek waar die Orania-gemeenskap 'n samesyn van tuiswees en sorgsaamheid ervaar (sien Orania Dorpsraad, 2022c:7-26). Die doel van hierdie afdeling is meer as 'n blote beskrywing van die grense en oppervlakte van die territoriale gebied wat as Orania bekendstaan, maar eerder 'n omvattende optekening van die kenmerkende hoedanighede van die begrensde plek Orania as ruimte "waarin iets 'n bestaansreg of 'n behoorlike rol of funksie het" (WAT, n.d.: plek) waarbinne inwoners tuis kan wees.
Orania is geleë aan die oewer van die Oranjerivier, binne die grense van die Noord-Kaapprovinsie, die Pixley Ka Seme Distrik Munisipaliteit en die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit. Die grondgebied van Orania maak deel uit van die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit5 se grondgebruikskema wat op 29 Junie 2022 deur die Thembelihle munisipale raad goedgekeur is en op 25 Julie 2022 in die Provinsiale Koerant gepubliseer is (Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit, 2022). Die grondgebied word in die grondgebruikskema benoem as die "Orania Overlay Zone" (Tembelihle Local Municipality, 2022:81-82) wat vertaal kan word as die Orania Oorlegsone (kyk na Kaart 1). Dié gebied van nagenoeg 8,95 vierkante kilometer (De Beer, 2006:108; Statistics South Africa, n.d.) bestaande uit 96 afsonderlike geregistreerde titelaktes, word beskryf in vier aanhangsels tot die grondgebruikskema (Thembelihle Local Municipality, 2022:81) asook in 'n brief deur die Munisipale Bestuurder van die Tembelihle Plaaslike Munisipaliteit (Thembelihle Municipal Manager, 2022a).
Hierdie gebied bestaan uit die Orania Dorpsgebied en landbougrond (Orania Dorpsraad, 2022a:13). Volgens 'n opname wat in 2021 gedoen is en in 2022 gepubliseer is, bly sowat 84% van Orania se ongeveer 649 huishoudings in die Dorpsgebied terwyl die res op die landbougrond woon (Orania Dorpsraad, 2022c:3-5). Op sy beurt bestaan die Orania Dorps-gebied weer uit ses sub-gebiede, naamlik Orania-Oos, Orania-Wes, Orania Plato, Kleingeluk, Nywerheidsgebied en die dorpshoewes (Orania Dorpsraad, 2022a:2 & 13). Die jurisdiksie van die Dorpsraad wat hierna bespreek word, is beperk tot die Orania Dorpsgebied (Snyman, 2024) terwyl die jurisdiksie van die OVR die hele Orania Oorlegsone insluit.
Binne die Orania Oorlegsone is daar verskeie geleenthede vir onderrig wat insluit 'n dagsorgsentrum vir voorskoolse kinders, die Volkskool Orania, die Orania CVO Skool en die Bo-Karoo Opleiding, 'n tegniese opleidingskollege (Orania Beweging, 2024c). Benewens die opleidingsgeleenthede is daar vir inwoners geleentheid vir deelname aan verskeie sportsoorte, soos rugby, netbal, pluimbal, jukskei, krieket, skaak, ballet en visvang (Orania Beweging, 2024c). Voorts is daar aanbiddingsgeleenthede vir inwoners van verskeie denominasies.
Die Orania Oorlegsone is dus veel meer as net 'n afgebakende grondgebied. Dit is die plek waar die lede van ongeveer 649 huishoudings 'n geleentheid gebied word om binne 'n gemeenskap 'n samesyn van tuiswees en sorg te ervaar. Hierdie samesyn en sorg omvat ook die ekonomiese aktiwiteite van die inwoners, in onder meer die volgende sektore: dienslewering (34,5%), handel (21,7%), konstruksie (14,2%) en gasvryheid (10,9%), vervaardiging (10,1%), opleiding (6,7%), gesondheid (0,4%), kuns en media (0,7%) en sport en fiksheid (0,7%) (Orania Dorpsraad, 2022a:3). Hoewel Orania 'n begrensde geografiese gebied is, is daar voldoende getuienis dat die grense nie die gemeenskap van die buitewêreld afsny nie. Sowat 49% van die kliënte van die ondernemings kom van buite die territoriale gebied van Orania.
Binne die grense van die Orania Oorlegsone, soos aangedui deur die donker lyn op Kaart 1, is die Orania Verteenwoordigende Raad verantwoordelik vir sy eie fiskale basis, grondbe-stuurskema en munisipale dienslewering (Thembelihle Municipal Manager, 2022b). Dit blyk uit voorgaande dat Orania wel aan die territoriale kenmerke van 'n tipiese plaaslike regering voldoen. Die territoriale gebied begrens die jurisdiksie van verteenwoordigende en administra-tiewe instellings wat vervolgens beskryf word.
4.2 Institusionele eienskappe
Benewens sy territoriale kenmerk, word 'n tipiese plaaslike regering ook herken aan sy verteenwoordigende en administratiewe instellings. Ingevolge die begripsraamwerk (Figuur 1) verwys die institusionele eienskap van 'n plaaslike regering na die verteenwoordigende en administratiewe instellings daarvan. Voorts impliseer die sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) dat die verteenwoordigende instelling ooreenkomstig die waardes en belange van die gemeenskap sorgsaam rigting aan die administratiewe instellings gee (Aanname 2 in Tabel 1; Boshoff, 2024), terwyl die administratiewe instellings kollektief bevoeg is om plaaslike regeringsfunksies dienooreenkomstig met sorg uit te voer (Aanname 3 in Tabel 1). Hierdie onderskeid tussen die twee tipes instellings dui op die onderskeibare rolle van die onderskeie instellings en die betrokke individue. Malan (2022:63) wys daarop dat 'n rol goed of sleg vertolk kan word, na gelang van "natuurlike talent oftewel gawes, ywer en wysheid". Deur 'n spesifieke rol kan 'n instelling of individu uitdrukking gee aan sy of haar plek of plekke in die samelewing by wyse van sorgsame besorgdheid vir die gemeenskap en die dinge van die gemeenskap. Die implikasie is dus "eintlike Daseins" wat omgee vir die dinge en die mense van hul instellings en gemeenskappe (Kyk na Heidegger, 1962).
4.2.1 Verteenwoordigende Raad
Orania as plaaslike regering het 'n eiesoortige institusionele struktuur bestaande uit die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) en die Direksie van die Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. Die voorganger van die OVR, die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad, was die eerste applikant in die saak wat gelei het tot die 2000-lasgewing in die Hooggeregshof van Suid-Afrika (Noord-Kaapse Afdeling) (Waarnemende Regter-President Buys, 2000). Die oorgangsraad het die belange van die plaaslike gemeenskap wat binne die afgebakende grondgebied gewoon het, verteenwoordig. Gevolglik het Orania van meet af aan 'n plaaslike karakter gehad. Hoewel die wetgewing ingevolge waarvan die oorgangsraad tot stand gekom het nie meer bestaan nie, het die "oorgangs-"etiket mettertyd verval terwyl die raad (dus die OVR) voortbestaan as "die verkose raad wat as sambreelorganisasie al die Orania verwante leierskap- en grondeienaarsinstellings verteenwoordig" (Orania Beweging, 2024b; Van Zyl, 2024). Die OVR geniet spesifieke amptelike erkenning in die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit se goedgekeurde grondgebruikskema (Thembelihle Local Municipality, 2022) om grondgebruiksbestuursfunksies ingevolge die Ruimtelike Beplanning en Grondgebruik Bestuurswet van 2013 uit te voer (Republiek van Suid-Afrika, 2013).
Die OVR word elke vyf jaar op dieselfde tyd as die landswye munisipale verkiesing verkies (Orania Beweging, 2024d). Alle inwoners van Orania, 18 jaar en ouer en wat reeds ten tyde van die verkiesing vir 'n tydperk van drie maande oor verblyfreg beskik, het stemreg (Orania Beweging, 2024d; Van Zyl, 2024). Die OVR bestaan uit 12 lede, met 'n voorsitter, ondervoorsitter en 'n dagbestuur van vier persone. In 'n ontleding van Orania se instellings- netwerk wys Senekal (2019:15) daarop dat die OVR "in die kern van die Orania instellingsnetwerk funksioneer en die beste geposisioneer is om inligting vanuit die hele netwerk te ontvang en te versprei". Die OVR funksioneer as die Orania Oorlegsone se munisipale raad, in wese 'n praathuis wat breë rigting gee, met 'n beperkte vermoë om besluite af te dwing (Boshoff, 2024). Die Direksie van die Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk. (hierna: OAB) is as Dorpsraad vir die dag-tot-dag uitvoerende munisipale handelinge en besluite in die Orania Dorpsgebied verantwoordelik (Orania Beweging, 2024b; Orania Beweging, 2024d). Die Direksie word demokraties deur die aandeelhouers van die OAB verkies en dien ook as die de facto Dorpsraad van Orania (Orania Beweging, 2024b).
4.2.2 Dorpsadministrasie
Die uitvoerende hoof van die Dorpsraad en sy administratiewe bestuur word deur die Direksie van die OAB (wat handel as Dorpsraad van Orania) aangestel (Snyman, 2024). Soos vroeër aangedui, is die jurisdiksie van die Dorpsraad beperk tot die Orania Dorpsgebied hoewel die Dorpsraad wel ingevolge spesifieke diensooreenkomste met ander grondentiteite binne die Orania Oorlegsone, dienste aan hulle lewer (Snyman, 2024). Die uitvoerende hoof word bygestaan deur 'n span afdelingshoofde verantwoordelik vir die uitvoering van die funksies wat deur die Dorpsraad aan hulle toegewys is (Orania Dorpsraad, 2022b). Die administratiewe struktuur van die Orania Dorpsraad bestaan uit tien afdelings (kyk na Tabel 2), elk verantwoordelik vir 'n spesifieke owerheidsfunksie. Hierdie afdelings omvat die kern van permanente amptenare wat in wisselende mate deur vrywillige inwoners bygestaan word. In ooreenstemming met die sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) kan aanvaar word6 dat die administrasie en sy amptenare bevoeg is om hul toegewese funksies sorgsaam uit te voer.
4.3 Die spektrum van funksies wat verrig word
Ingevolge die sosiale ontologie van sorg (Tabel 1) kan verwag word dat die plaaslike regeringsfunksies wat die Dorpsraad van Orania uitvoer aan die verwagtinge van die inwoners van die betrokke gebied voldoen. Wat Orania betref, is hierdie funksies nie toegewys deur grondwetlike en statutêre maatreëls nie, maar is dit die resultaat van inkrementele individuele en kollektiewe begeertes van die betrokke gemeenskap (kyk na Stiegler, 2013:132) en kan die uitvoering daarvan beskou word as die verantwoordelikheid van besorgde en sorgsame individue en instellings. So verwys Malan (2022:63) na "verantwoordelikhede" waardeur mense (individueel en kollektief) "ware uitdrukking aan sy/haar plek/ke in die samelewing gee".
Dit blyk dat die Dorpsraad twee kategorieë funksies verrig, naamlik enersyds die instaatstellings- en fasiliteringsfunksies, en andersyds daardie funksies wat die beskerming en bevordering van die gemeenskap ten doel het. Binne die sosiale ontologie van sorg kan geargumenteer word dat hierdie funksies gemik is op 'n samesyn van tuiswees en sorg vir die Orania gemeenskap.
4.3.1 Instaatstellings- en fasiliteringsfunksies
Die instaatstellings- en fasiliteringsfunksies verwys na die in-huis administratiewe, bestuurs-en ondersteunende funksies wat nodig is vir 'n instelling om sy lynfunksies soos beskerming en bevordering te kan uitvoer (Loxton, 1994:102). Wat die Orania dorpsadministrasie betref, sluit dit breedweg die funksies van die uitvoerende hoof, maatskappysekretaris, korporatiewe dienste en bedryfstelsels en outomatisering in en is dit daarop gemik om die doeltreffendheid van die dorpsadministrasie te bevorder.
Die funksies van die Uitvoerende Hoof word nie soos dié van die Munisipale Bestuurder van 'n plaaslike munisipaliteit deur die Munisipale Stelselswet (Republiek van Suid-Afrika, 2000) bepaal nie, maar deur die Direksie van die OAB. Soos in die geval van 'n munisipale bestuurder, is die Uitvoerende Hoof oorhoofs verantwoordelik vir die funksionering van die dorpsadministrasie en vir hoëvlakskakeling met die OVR. Die verantwoordelikhede sluit in die strategiese beplanning en bestuur van die dorpsadministrasie, beleidsformulering en statutêre ontwikkeling, die oorhoofse bestuur van personeel en hul prestasie, asook openbare skakeling en kliëntediens.
Die Maatskappysekretaris se verantwoordelikhede word hoofsaaklik deur die Maatskappy-wet 71 van 2008 (Republiek van Suid-Afrika, 2008) bepaal. Buiten die wetlike voldoenings-verantwoordelikheid, is die Maatskappysekretaris ook verantwoordelik vir die sekretariaat van die maatskappy, aandeelhouersvergaderings en aandeleregister van die OAB. Voorts dien die persoon ook as sekretaris van die Dorpsraad, verskaf administratiewe ondersteuning aan die Uitvoerende Hoof, en is verantwoordelik vir koopooreenkomste en regsdienste (Orania Dorpsraad, 2022b).
Die afdeling vir korporatiewe dienste is verantwoordelik vir die finansiële bestuur, begrotingsbeheer, inligting en stelselbeheer, die voorraadpakhuis, korporatiewe ondersteunings-dienste en projekbestuur. Laastens is die afdeling vir bedryfstelsels en outomatisering verantwoordelik vir inligtingstegnologie, slimtegnologie, kantoorbedryfstelsels, gedesentrali-seerde databasisse, interdepartementele stelsels, kameranetwerkbeplanning en veselnetwerk-beplanning. Die instaatstellings- en fasiliteringsfunksies is dus gesamentlik daarop gemik om die Orania Dorpsraad en administrasie in staat te stel om die Orania-gemeenskap te beskerm en te bevorder.
4.3.2Beskermingsfunksies
Die beskermingsfunksies verwys na 'n owerheid se plig om 'n veilige, vredige en ordelike omgewing te skep waarbinne sy mense (individue, gemeenskap en samelewing) hul behoeftes en strewes kan verwesenlik (Loxton, 1994:97). Binne die verband van Orania behels dit die volgende: bevel en beheer; brandweer- en nooddienste; padreëls; openbare orde; veiligheid; en ondersoeke (Orania Dorpsraad, 2022b). Die beskermingsdienste word gelewer deur Orania Veiligheidsdienste (Edms.) Bpk. 'n wettige, professionele en kommersiële veiligheidsmaat-skappy en filiaal van die OAB, bygestaan deur vrywillige inwoners as lede van die Orania Weerbaarheidsvereniging (Orania Beweging, 2024a; Snyman, 2024). Hierdie funksies is dus gemik op 'n volhoubare, veilige tuiste vir die gemeenskap.
4.3.3Bevorderingsfunksies
Die bevorderingsfunksies van 'n owerheid is daarop gemik om die mees gunstige omgewing te skep waarbinne 'n gemeenskap geluk en vervulling kan beleef (Loxton, 1994:98). Binne Orania omvat dit die funksies van beplanning en grondgebruik, regspleging en administrasie van die verblyfregproses, gemeenskapsdienste, ingenieursdienste asook inligting en skakeling. Die beplannings- en grondgebruiksfunksie sluit onder meer die volgende in: geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning; grondgebruik- en uitbreidingsbeplanning; die instandhouding van die grondgebruiksbestuurskema; die instandhouding van die geïntegreerde inligtingstelsel (GIS); en die uitvoering van bouinspeksies.
Hoewel die regspleging- en verblyfregsfunksies gesamentlik gekategoriseer is, is dit ooglopend twee afsonderlike funksies en word gevolglik so bespreek. Die verblyfregfunksie is nie 'n tipiese plaaslike owerheidsfunksie nie, maar kan vergelyk word met die sentrale staatsfunksies wat deur die Departement van Binnelandse Sake uitgevoer word. Binne Orania behels hierdie funksies die formulering en toepassing van verblyfregsbeleid, die ontvangs en oorweging van verblyfregsaansoeke, die voer van verblyfregonderhoude en die oriëntering van nuwe inwoners. Waar regspleging nie 'n tipiese plaaslike owerheidsfunksie is nie, val dit gewoonlik buite die wetgewende en uitvoerende gesag van die staat as deel van die regsprekende gesag. Die regsplegingsfunksies van Orania kan egter vergelyk word met tipiese admini-stratiefregfunksies wat binne die uitvoerende gesag van 'n staat voorkom. In hierdie geval sluit dit in: mediasies, arbitrasies, dissiplinêre verhore, en reëlformulering.
Die afdeling vir gemeenskapsdienste is verantwoordelik vir tipiese diensleweringsfunksies soos gesondheidsdienste, maatskaplike dienste, biblioteek- en museumdienste, parke en ontspanning, skoonmaakdienste, instandhouding van openbare geboue, arbeidsontwikkeling en -opleiding, estetika van dorp en voorkoms en dierebeskerming. Die funksies van die afdeling ingenieursdienste sluit onder meer die volgende in: elektrisiteit- en watervoorsiening, sanitasie, paaie, stormwater, instandhouding van geboue, instandhouding van voertuie en toerusting, en afvalbestuur en herwinning. Die inligting- en skakelingsfunksie van Orania behels onder meer algemene kommunikasie, radioprogramme, elektroniese kennisgewings, inligtingsvergade-rings, en openbare deelnameprosesse.
Die voorgaande bevorderingsfunksies wat deur die Orania Dorpsraad verrig word, skep dus 'n omgewing vir private inisiatief om in kapitaal-intensiewe ontwikkelingsprojekte te belê. So het die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), 'n maatskappy sonder winsbejag, die ontwikkeling van Bo-Karoo Opleiding geïnisieer terwyl Orania Groeikrag op volhoubare en doeltreffende eiendomsontwikkeling fokus (Orania Beweging, 2024a). ORASOL (Edms.) Bpk., met Orania Infrastruktuur (Edms.) Bpk., 'n filiaal van OAB, en die Vluytjeskraal 272 Eienaarsvereniging ('n vereniging van voltitellandbouhoewes) as aandeelhouers, voorsien saam met privaat inwoners in naastenby 30% van Orania se energiebehoeftes (Orania Beweging, 2024e). Voorts is Orania Infrastruktuur (Edms.) Bpk. onder meer verantwoordelik vir die installering en vestiging van infrastruktuur vir munisipale dienslewering (Orania Beweging, 2024a).
4.4 Orania as 'n plaaslike regering: 'n Samevattende beskouing
Dit blyk uit die voorgaande beskrywing dat Orania wel aan die drie kenmerke van "plaaslike regering" voldoen. Eerstens het Orania 'n territoriale jurisdiksiesfeer: 'n begrensde plek waarbinne die inwoners of gemeenskap 'n bestaansreg of funksie het en tuis kan wees. Dit is ook 'n plek met 'n owerheid (instellings) bestaande uit 'n verteenwoordigende raad en admini-strasie wat ten doel het om 'n tuiste vir die plaaslike gemeenskap te skep. Die owerheid skep daardie tuiste deur die uitvoering van bepaalde owerheidsfunksies wat gemik is op 'n veilige omgewing en 'n volhoubare gemeenskap.
5. Gevolgtrekking
Hoewel die Orania Dorpsraad tipiese plaaslike regeringsfunksies verrig, is dit nóg 'n plaaslike, 'n distriks- óf 'n metropolitaanse munisipaliteit. Gevolglik bly die vraag wat hierdie studie tot gevolg gehad het: Is Orania 'n plaaslike regering? Om hierdie vraag te beantwoord, moes ons 'n paar treë terug tree om te vra: Wat is "plaaslike regering", en hoe kan die werklikheid waarna die begrip verwys, verstaan en herken word?
Hierdie artikel vertrek gevolglik van 'n begripsraamwerk (kyk weer na Figuur 1) van "plaaslike regering" waarvolgens dit van ander regeringsvlakke onderskei kan word op grond van sy institusionele eienskappe, die plaaslike aard van sy owerheidsfunksies en die plaaslike territoriale afbakening van sy jurisdiksiesfeer. Aanvullend tot die begripsraamwerk is 'n sosiale ontologie van sorg (kyk weer na Tabel 1) as teoretiese lens gebruik om Orania as 'n geval van plaaslike regering te ontleed, beskryf en verstaan.
Die ontleding en ontiese beskrywing van Orania aan die hand van die begripsraamwerk wys dat die verskynsel Orania wel beskik oor 'n territoriale jurisdiksiesfeer (die Orania Oorleg-sone), 'n demokraties verkose verteenwoordigende raad (die OVR) en 'n dorpsadministrasie (die Dorpsraad) wat 'n reeks funksies en verantwoordelikhede van 'n plaaslike aard verrig (kyk weer na Tabel 2). Hoewel Orania nie binne die Suid-Afrikaanse konteks 'n munisipaliteit is nie, voldoen dit wel aan die kenmerke van die begrip "plaaslike regering" soos aangetoon in die begripsraamwerk.
Die bykomende teoretiese lens van die sosiale ontologie van sorg wys vir ons dat Orania as plaaslike regering 'n menslike konstruk is wat dit moeilik maak om objektief waar te neem en te beskryf. Voorts bestaan dit as synde (Dasein) uit onderling verbonde individue en sosiale instellings gesitueerd binne oorvleuelende menslike, spirituele, natuurlike, territoriale en staatkundige wêrelde. Die eintlikheid of outentiekheid van hierdie Dasein is gesetel in sy besorgdheid oor die dinge van die wêreld waarin hy gesitueerd is en die sorgsaamheid waarmee hy in-samesyn-met-ander sy funksies verrig. 'n Plaaslike regering wat nie omgee vir sy wêreld en mense nie is by implikasie oneintlik en in wese nie 'n plaaslike regering nie. 'n Opvolgstudie is nodig om die eienskappe van 'n "eintlike" plaaslike regering te beskryf.
Wat leer hierdie gevallestudie ons oor die verskynsel plaaslike regering? Eerstens bevestig dit dat die begripsraamwerk en sosiale ontologie van sorg wel 'n werkbare manier is om die werklikheid van plaaslike regering te beskryf en te verstaan. Hoewel die territoriale begrensing 'n noodsaaklike afbakening van die jurisdiksie van 'n plaaslike regering is, is die gebied se betekenis as plek vir sy gemeenskap heel waarskynlik nie vir alle gevalle van plaaslike regering dieselfde nie. Die rede hiervoor kan in die antesedente (kyk na Figuur 1) daarvan gevind word. Die afgebakende plek is vry algemeen die resultaat van eksterne magtigende maatreëls of besluite deur ander jurisdiksies (soos provinsie, (deel-)staat en nasionale staat) wat nie noodwendig 'n besondere band tussen gemeenskap en plek moontlik maak nie. Wat hierdie spesifieke geval betref, is die territoriale gebied die resultaat van die aankoop en bewerking van grond deur lede van 'n homogene gemeenskap. Die gebied is dus die plek waartoe hierdie gemeenskap hul verbind.
So is die institusionele aspek van plaaslike regering waarskynlik ook wêreldwyd 'n kenmerk van plaaslike regering. Die aard en omvang van die institusionele struktuur is dikwels ook die resultaat van gestandaardiseerde eksterne magtigende maatreëls of besluite deur ander jurisdiksies. Die moontlikheid bestaan dus dat die strukture nie noodwendig met die behoeftes en hulpbronne van die soms diverse samelewing wat die inwoners van so 'n gebied uitmaak, resoneer nie. In die geval wat hierdie studie bestudeer, blyk die institusionele struktuur van die plaaslike regering direk deur die gemeenskap, soos verteenwoordig deur 'n verskeidenheid grondentiteite, bepaal te word aan die hand van die betrokke gemeenskap se behoeftes en beskikbare hulpbronne.
Die verrigting van 'n beperkte reeks plaaslike funksies kan ook as 'n universele kenmerk van plaaslike regering beskou word. Die aard en omvang van daardie funksies mag verskil. In hierdie geval word die funksies van die betrokke plaaslike regering deur sy besluitnemende instellings soos die Dorpsraad in oorleg met die gemeenskap soos verteenwoordig deur die onderskeie grondentiteite bepaal. Gevolglik word tipiese plaaslike regeringsfunksies volgens die behoeftes en beskikbare hulpbronne van die gemeenskap verrig. Nietipiese plaaslike owerheidsfunksies, soos die verblyfregsfunksie, word binne die raamwerk van die 1996 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en ander nasionale wetgewing verrig.
'n Eintlike plaaslike regering is dus een wat 'n integrerende deel van sy plaaslike gemeen-skap en omsluitende wêrelde is, voortdurende ongemak met die hede beleef en sy rol as plaaslike regering binne sy gemeenskap en oorvleuelende leefwêrelde met sorg, besorgdheid en sorgsaam vervul.
Die daaglikse lewensgehalte van mense word inderdaad wêreldwyd in wisselende mate deur plaaslike regerings bepaal; daardie regeringsvlak die naaste aan plaaslike gemeenskappe. So is dit geen geheim nie dat plaaslike regerings dikwels nie daarin slaag om in die spesifieke behoeftes van hul inwoners te voorsien nie. Ingevolge die sosiale ontologie van sorg is daardie plaaslike regerings moontlik nie-outentieke of on-eintlike plaaslike regerings. 'n Eintlike plaaslike regering is een wat 'n integrerende deel van sy plaaslike gemeenskap en omsluitende wêrelde uitmaak, wat gevolglik voortdurende ongemak met die hede beleef en wat sy rol as plaaslike regering binne sy gemeenskap en oorvleuelende leefwêrelde met sorg, besorgdheid en sorgsaamheid vervul. Wat is dus nodig vir 'n plaaslike regering om outentiek te wees, en hoe weet ons dat 'n plaaslike regering wel outentiek is?
Hierdie vrae het te make met die antesedente en gevolge van die begrip "plaaslike regering". Die begrip "antesedent" verwys na daardie handelinge, gebeure of oorsake wat in plek moet wees vir 'n begrip en sy verskynsel om te bestaan terwyl die gevolge van 'n begrip verwys na die gebeure of ervarings wat die gevolg is van die bestaan van die begrip en sy verskynsel. Die onbeantwoorde vrae is gevolglik: Wat is die antesedente wat die ontstaan en bestaan van Orania as plaaslike regering moontlik maak, en watter gevolge spruit voort uit die bestaan van Orania as plaaslike regering? Hierdie twee vrae word in 'n volgende artikel beantwoord.
BIBLIOGRAFIE
Acharya, KK & Scott, J. 2022. A study of the capabilities and limitations of local governments in providing community services in Nepal. Public Administration and Policy, 25(1):64-77. doi: 10.1108/PAP-01-2022-0006. Beskikbaar by: https://search.proquest.com/docview/2660952415. [ Links ]
Biljohn, MIM & Lues, L. 2020. Citizen Participation, Social Innovation, and the Governance of Local Government Service Delivery: Findings from South Africa. International Journal of Public Administration, 43(3):229-241. https://doi.org/10.1080/01900692.2019.1628052. [ Links ]
Bispham, E, Harrison, T & Sparkes, BA. 2006. The Edinburgh companion to ancient Greece and Rome. Edinburgh: Edinburg University Press. [ Links ]
Boshoff, C. 2024. E-pos-kommunikasie (21 April 2024). [ Links ]
De Beer, CS. 1975. Die metafisika van Martin Heidegger. Doktorale studie, Universiteit van Pretoria. [ Links ]
De Beer, CS. 1991. Kan instellinge ooit oor voldoende rede beskik? SAIPA - Tydskri f Vir Publieke Administrasie, 26(2):75-93. [ Links ]
De Beer, CS. 2014. Reading: The understanding and invention of meaning. In Wessels, JS, Pauw, JC & Thani, XC. (Eds). Reflective Public Administration: Context, knowledge and methods. Pretoria: Unisa Press, pp. 207-223. [ Links ]
De Beer, FC. 2006. Exercise in futility or dawn of Afrikaner self-determination: An exploratory ethno-historical investigation of Orania. Anthropology Southern Africa, 29(3-4):105-114. doi: 10.1080/23323256.2006.11499936. Beskikbaar by: https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/23323256.2006.11499936. [ Links ]
Ebneyamini, S & Moghadam, MRS. 2018. Toward developing a Framework for conducting case study research. International Journal of Qualitative Methods, 17(1): 160940691881795. doi: 10.1177/1609406918817954. Beskikbaar by: http://journals.sagepub.com/doi/10.1177/1609406918817954. [ Links ]
Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae. Pretoria: FAK. [ Links ]
Heidegger, M. 1962. Being and Time (translated by John Macquarrie and Edward Robinson). Oxford: Blackwell. [ Links ]
House of Commons. 1834. Commons Chamber: Debated on Monday 26 May 1834. 23. London. Beskikbaar by: https://hansard.parliament.uk/Commons/1834-05-26/debates/ed59e361-9518-41ce-8efb-45168e96ed55/CommonsChamber . [ Links ]
Joubert, F, Laäs, A, Laäs, AM, Rossouw, J & Vermeulen, C. 2022. 'n Perspektief op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk. TydskrifVir Geesteswetenskappe, 62(4):812-829. doi: 10.17159/2224-7912/2022/v62n4a11. [ Links ]
Khambule, I. 2021. The District Development Model: Towards a Capable Local Developmental State in South Africa. Journal of Public Administration, 56(3):507-523. [ Links ]
Loxton, A. 1994. Public functions and public institutions: A criteriological approach to the functional structure of central government administration in a liberal democracy, with particular reference to South Africa. Journal of Public Administration, 29(2):87-147. [ Links ]
Malan, K. 2022. Wat van plekke, rolle en ampte? Want die reg gaan oor meer as individuele regte. TydskrifVir Geesteswetenskappe, 62(1):40-71. doi: 10.17159/2224-7912/2022/v62n1a3. [ Links ]
Municipalities South Africa. n.d. Thembelihle Local Municipality (NC076). Beskikbaar by: https://municipalities.co.za/overview/1178/thembelihle-local-municipality [Afgelaai: Januarie 19, 2024]. [ Links ]
Orania Beweging. 2024a. Aktiwiteite. Beskikbaar by: https://orania.co.za/filiale-dorpsraad/ [Afgelaai: 15 Maart 2024]. [ Links ]
Orania Beweging. 2024b. Leierskap van Orania Aandeleblok (RF) (EDMS.) BPK. Beskikbaar by: https://orania.co.za/leierskap-2/ [Afgelaai: 11 Januarie 2024]. [ Links ]
Orania Beweging. 2024c. Ontdek Orania. Beskikbaar by: https://orania.co.za/ [Afgelaai: 19 Januarie 2024]. [ Links ]
Orania Beweging. 2024d. Orania Verteenwoordigende Raad (OVR). Beskikbaar by: https://orania.co.za/ovr/ [Afgelaai: 11 Januarie 2024]. [ Links ]
Orania Beweging. 2024e. ORASOL: Orania se eie sonplaas en die eerste stap na energie-onafhanklikheid. Beskikbaar by: https://orania.co.za/kyk-video-orasol-orania-se-eie-sonplaas-en-die-eerste-stap-na-energie-onafhanklikheid/ [Afgelaai: 27 Maart 2024]. [ Links ]
Orania Dorpsraad. 2022a. Orania besigheidsopname. Orania: Orania Dorpsraad. [ Links ]
Orania Dorpsraad. 2022b. Orania Dorpsraad bedryfstruktuur en verantwoordelikhede Januarie 2022. Orania: Orania Dorpsraad. [ Links ]
Orania Dorpsraad. 2022c. Orania sosio-ekonomiese opname 2022. Orania: Orania Dorpsraad. [ Links ]
Orania Dorpsraad. 2022d. Orania Verblyfregbeleid. Orania: Dorpsraad. [ Links ]
Pauw, JC. 2015. Oplettende na die letter ... Oftewel: Die vermoë om aan 'n stuk papier gehoorsaam te wees. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(4):618-631. doi: 10.17159/2224-7912/2015/v55n4a8. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 2008. Maatskappywet 71 van 2008. Staatskoerant Nr 32121 (2009-04-09), Beskikbaar by: https://www.auditpartners.co.za/docs/Maatskappywet%2071%20van%202008.pdf [Afgelaai: 29 Maart 2024]. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 2013. Ruimtelike Beplanning en Grondgebruik Bestuurswet, Wet 16 van 2013. Staatskoerant Nr 38828. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 2000. Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, Wet 32 van 2000. Staatskoerant No 21776. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika 1996. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, soos gewysig tot en met 2012. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Rossouw, J. 2023. 'n Beraming van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021 (An estimate of the annual personal income and annual household income of Orania in 2021). TydskrifVir Geesteswetenskappe, 63(4):903-320. doi: 10.17159/2224-7912/2023/ v63n4a8. [ Links ]
Rule, P & John, VM. 2015. A necessary dialogue: Theory in case study research. International Journal of Qualitative Methods, 14(4) doi: 10.1177/1609406915611575. [ Links ]
Scruton, R. 2007. The Palgrave Macmillan Dictionary of Political Thought. 3de uitgawe. London: Palgrave Macmillan. [ Links ]
Seawright, J & Gerring, J. 2008. Case selection techniques in case study research: A menu of qualitative and quantitative options. PoliticalResearch Quarterly, 61(2):294-308. doi: 10.1177/1065912907313077. [ Links ]
Senekal, BA. 2019. 'n Netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania. Litnet Akademies, 16(3):1-24. Beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/12/LitNet_Akademies_16-3_Senekal_1-24.pdf. [ Links ]
Senekal, B. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrif Vir Geesteswetenskappe, 61(2):526-550. doi: 10.17159/2224-7912/2021/v61n2a8. [ Links ]
Snyman, G. 2024. E-pos-kommunikasie (8 April 2024). [ Links ]
Statistics South Africa. n.d. Census 2011. Beskikbaar by: https://census2011.adrianfrith.com/place/374003. [ Links ]
Stiegler, B. 2013. Uncontrollable societies of disaffected individuals. Nordic Journal of Aesthetics, 23(44-45):129-134. [ Links ]
Tempelhoff, J. 2011. Local Service Delivery Problems and Trends in South Africa's Water Governance (1994-2010). Journal for Contemporary History, 36(3):81-100. [ Links ]
Thembelihle Local Municipality. 2022. Thembelihle Local Municipality Land Use Scheme 2022. Thembelihle Local Municipality. [ Links ]
Thembelihle Municipal Manager. 2022a. Orania Overlay Zone: Land portions within the delineated area of Orania Verteenwoordigende Raad. [ Links ]
Thembelihle Municipal Manager. 2022b. The relationship of mutual understanding, acknowledgement and cooperation between Thembelihle Local Municipality and Orania Verteenwoordigende Raad. [ Links ]
Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit. 2022. Voorbereiding van 'n allesomvattende grondbestuurskema vir Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit. Noord-KaapProvinsiale Koerant, 29(25-24): -07-25: 11. [ Links ]
Van Zyl, J. 2024. Orania: Verblyfreg: E-pos kommunikasie (24 Maart 2024). [ Links ]
Villa, L. 2004. Public service, private entity: Should the nature of the service or entity be controlling on issues of sovereign immunity? St. John's Law Review, 78(4) Beskikbaar by: https://search.proquest.com/docview/216773988. [ Links ]
Waarnemende Regter-President Buys 2000. In die saakvan Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad, Orania Inwonersvereniging en die President van die Regering van die RSA in die Hooggeregshof van Suid-Afrika - Noord-Kaapse afdeling (Saak no. 1148/00). [ Links ]
Walker, LO & Avant, KC. 2014. Strategies for theory construction in nursing. Harlow: Pearson. [ Links ]
WAT. n.d. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. [Geraadpleeg: 19 Januarie, 2024]. [ Links ]
Wessels, JS, Potgieter, T & Naidoo, T. 2021. Researched cases: Authentic scenarios as a way of learning for public administrators. In Wessels, JS, Potgieter, T & Naidoo, T. (Eds). Public Administration Challenges: Cases from Africa. Cape Town: Juta, pp. 353-368. [ Links ]
Wessels, JS. 2023a. Local government: A social ontology of care. Public Governance, Administration and Finances Law Review, 8(2):41-72. doi: 10.53116/pgaflr.7061. [ Links ]
Wessels, JS. 2023b. Etiek van leeshandelinge: 'n Suid-Afrikaanse geval (The ethics of reading: A South African case). Tydskrif Vir Geesteswetenskappe, 63(4):971-995. doi:10.17159/2224-7912/2023/v63n4a12. [ Links ]
Yin, RK. 2018. Case study research and applications: Design and methods. 6th edition. Los Angeles: SAGE. [ Links ]
Zongozzi, JN & Wessels, JS. 2017. Case studies in South African Public Administration: A review of master's dissertations from 2005 to 2012. Journal of Public Administration, 52(1):260-274. [ Links ]
Ontvang: 2024-04-04
Goedgekeur: 2024-08-15
Gepubliseer: September 2024
JS (Kobus) Wessels is 'n professor in Publieke Administrasie aan Unisa en 'n NRF-gegradeerde navorser. Sy navorsing fokus op betekenisvolle kennis oor publieke administrasie. Hy is mede-redakteur van en bydraer tot verskeie vakkundige boeke, outeur en mede-outeur van ongeveer 60 portuurbeoordeelde publikasies, asook verskeie ander bydraes en verslae.
JS (Kobus) Wessels is a professor of Public Administration at Unisa and a NRF rated researcher. His research focuses on meaningful knowledge about public administration. He is co-editor of and contributor to several scholarly books, and has authored and co-authored about 60 peer-reviewed publications as well as several other contributions and reports.
1 Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf die begrip soos volg: "onties b.nw., ontiese. (filosofie) van, m.b.t. of wat te make het met die aard v.d. bestaan, of wat betrekking het op werklike bestaan of wat werklike bestaan het." Binne hierdie teks verwys "ontologies" na 'n bemoeienis met 'n verskynsel (soos plaaslike regering) terwyl "onties" na die entiteite en feite daarvan verwys (Heidegger, 1962:31-32)
2 Die Engelse literatuur gebruik oorwegend die frase "local government". In Afrikaans is daar naas "plaaslike regering" die frase "plaaslike owerheid". Hoewel ek laasgenoemde verkies, het ek besluit om "plaaslike regering" te gebruik in navolging van die Afrikaanse weergawe van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Vir die doel van hierdie artikel word "plaaslike regering" en "munisipaliteit" as sinonieme gebruik.
3 "Dasein" is 'n synsbegrip van Heidegger wat die mens as "synde tussen ander syndes" karakteriseer. Die letterlike betekenis van Dasein is "om daar te wees" (De Beer, 1975: 185)
4 Kyk gerus na die gebruik van "munisipaliteit" in die 1996 Grondwet van die Republiek van Suid Afrika.
5 'n Gebied van 8 023 vierkante kilometer (Municipalities South Africa, n.d.)
6 Hierdie studie het dit egter nie empiries bevestig nie.