SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3Diamond jubilee of decimalisation: 60 years of South African rand and centAn assessment of perceptions concerning digital transformation at a South African commercial bank - a case of Anthropocene denial for the economy? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.3 Pretoria Sep. 2024

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n3a7 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    Pakhanate-state - 'n konseptualisering, konteks-tualisering en Suid-Afrikaanse toepassing

     

    Pakhanate states - a conceptualisation, contextualisation and South African application

     

     

    André Duvenhage

    Navorsingsgenoot, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika E-pos: andre.duvenhage@nwu.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Pakhanate-state of state waar pakhanate-tendense voorkom, is histories 'n bekende verskynsel. Klassieke voorbeelde van state waar pakhanate-tendense voorgekom het, was Rusland en Japan. Tans word talle state, waaronder Venezuela, Sirië, Montenegro en Mexiko as pakhanate geïdentifiseer, of prominente tendense word in hierdie verband daar waargeneem. Teen die agtergrond van uitgebreide endemiese korrupsie, staatskaping en gepaardgaande ondersoeke kan met reg gevra word of Suid-Afrika behoort tot die kategorie van state wat losweg as pakhanate beskryf kan word? Hierdie artikel konseptualiseer en kontekstualiseer die konsep en beoordeel die Suid-Afrikaanse konteks daarvan aan die hand van geïdentifiseerde kriteria.

    Trefwoorde: pakhanate, verswakte en korrupte state, georganiseerde misdaad, Suid- Afrika, endemiese korrupsie, staatskaping


    ABSTRACT

    Pakhanate states or states reflecting tendencies of pakhanate, are a historically well-known phenomenon. These states are also referred to as Mafia states. Classic examples of states where tendencies of pakhanate occurred, were Russia and Japan. Currently many states are identified as pakhanate states, examples of which are Venezuela, Columbia, Kosovo, Syria, Bulgaria, Montenegro, Myanmar, Transnistria and Mexico, as prominent pakhanate tendencies are being observed there. Pakhanate states (or related tendencies) can be identified because of a lack of clear differentiation between the political and criminal elite in a particular state and their related decisions. This, according to Naim (2012:1), is referred to as "a fusing of government and criminal groups" in a world that is experiencing "a revolution of crime".
    Pakhanate tendencies, although unique within their own context, are developing throughout the world against the backdrop of a combination offactors, including a history of crime and the existence of established criminal syndicates; states that experienced fundamental change and where low levels of political institutionalisation and power vacuums occur; existing historical trends of patrimonialism and neo-patrimonial tendencies within states; non-democratic tendencies in general, and sometimes an environment where neo-liberal values and a free trade environment provide the space for criminally orientated organisations to grow and establish their authority. Access to sophisticated technology, for example weapons, communication logistics and infrastructure, seems to be of critical importance in the development and growth of pakhanate tendencies.
    By making use of theoretical principles emphasising the Weberian "strong state" and "constitutional government" and related underlying principles and norms, this article critically assesses pakhanate states and related tendencies. Criteria related to the so-called Weberian strong state have been identified and qualified with normative criteria (democratic in nature), emphasising aspects such as constitutionalism, the public good, and the notion of responsible government and sound principles related to good governance. In a world that is currently experiencing fundamental change, weakening states, escalating conflicts and war, the prominence of non-state actors operating in an environment of freedom, and limited control, with access to modern and sophisticated technology, pakhanate tendencies seem to be on the increase.
    Against the background of extensive endemic corruption, state capture and concomitant investigations, it can be asked with good cause if South Africa belongs to this category of states. Several authors and writers such as Africa, Vegter and others have reflected on Mafia tendencies within the South African state and society. These perspectives are related to several recent works discussing endemic corruption and state capture within the South African context. This is related to the investigation of the Zondo Commission and its report linking influential politicians and the ruling ANC to endemic corruption and state capture. To support this perspective, the Global Organised Crime Index (2023) positions South Africa at number 7 within the category referred to as "mafia states". This is just below the Democratic Republic of the Congo (DRC) and Nigeria.
    This article conceptualises and contextualises the concept pakhanate state (or related tendencies) and evaluates the South African context with reference to theoretical criteria identified in the discussion. Focus points of the article include:
    characteristics and functions of the traditional nation state;
    normative criteria referring to the concept of a strong and constitutional state;
    a conceptualisation and operationalisation of the pakhanate phenomenon;
    the identification of the pakhanate phenomenon as a worldwide tendency;
    application and assessment of the application of the pakhanate phenomenon within the Sout African context; and
    concluding perspectives.
    From a methodological perspective, this study is qualitative and deductive in nature, with an application with reference to identified case studies - particularly South African. An assessment of the South African context will be made by using the criteria associated with pakhanate states and the related phenomena.

    Keywords: pakhanate, weakened and corrupt states, organised crime, South Africa, endemic corruption, state capture


     

     

    Inleiding

    Staatskaping, oftewel sistemiese korrupsie van endemiese aard waarin staatsinstellings gebruik en misbruik word om private belange te bevorder en te dien, het geen bekendstelling in Suid-Afrika nodig nie. Die koöptering van staatsinstellings vir private verryking het 'n gevestigde patroon in die Suid-Afrikaanse politiek geword waarby die ANC-geleide regering (Wes-Kaap grootliks uitgesluit) uitgebreid geïmpliseer word. Kort na die bewindsoorname van die ANC het die wapenskandaal Suid-Afrika geruk en senior politici, met inbegrip van Jacob Zuma, Joe Modise en Thabo Mbeki, is geïmpliseer. Verskeie ondersoekende joernaliste het die sistemiese en edemiese aard van korrupsie in Suid-Afrika blootgelê, met die uitspeel daarvan op alle vlakke van owerheid en regering en ook ten opsigte van semi-staatsinstellings waaronder ESKOM, die SABC, die Poskantoor, Landbank en SAL wat as voorbeelde uitgesonder kan word.1

    Tydens die Zuma-bewind is staatskaping tot 'n hoogtepunt gevoer, maar nieteenstaande verreikende bevindinge van onder meer die Zondo-kommissie (die beklemtoning van die rol van politici en staatsinstellings in staatskaping), het bloot enkele vervolgings sedertdien plaas-gevind. Weinig het ook tereggekom van enige kommissie van ondersoek, met inbegrip van die ondersoeke na die wapenskandaal, talle ondersoeke na korrupsie binne staatsdepartemente en verwante instellings, asook die Moerane-kommissie van ondersoek na georganiseerde politieke sluipmoorde in Suid-Afrika. Die omvang van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika sedert 1994 beklemtoon ook die misdadige aard van die staatkundige omgewing waarin burgers hul tans bevind en waarin die rol van sindikate met politieke/regime verbintenisse soms prominent is.2

    Pakhanate-state (ook na verwys as Mafiastate) word gekenmerk deur die onderlinge verhouding tussen georganiseerde misdaad en die politieke regime (lees hier: regering, asook staatsinstellings, politieke leiers en staatsamptenare) waarin die aard van samewerking die onderskeid tussen politieke handeling en kriminele optrede laat vervaag. Hierdie verskynsel word wêreldwyd aangetref en is nie beperk tot enkele en geïsoleerde voorbeelde nie. Naim (2012:1) skryf dat:

    ... unlike normal states, Mafia states do not just occasionally rely on criminal groups to advance particular foreign policy goals. In a Mafia state, high government officials actually become integral players in, if not the leaders of, criminal enterprises, and the defense and promotion of those enterprises' businesses become official priorities.

    State wat in hierdie verband geïdentifiseer kan word sluit in Bulgarye, Guinee-Bissau, Montenegro, Mianmar, Oekraïne en Venezuela (Naim, 2012). Ander state wat ook in hierdie verband beskou word, sluit in Transnistria, Rusland, Kosovo, Sirië en Mexiko.

    Die terme misdaadstaat, kriminele staat, mislukte staat of vervalle staat word dikwels gebruik om toestande in Suid-Afrika mee te beskryf. Onlangs het Sandy Africa (2023:1) gewys op die daadwerklike gevaar van die "link between crime and politics in South Africa [that] raises concerns about criminal gangs taking over", terwyl die redakteur van Biznews (2024:1) op sy beurt verwys na "SA's growing organized crime epidemic: is it becoming a 'Mafia state?'" Vegter (2023:1-5) haal Global Organised Crime Index (2023) aan waarin Suid-Afrika sewende geplaas word (net onder Nigerië en die DRK) in 'n kategorie wat as "Mafiastate" beskryf word.

    Die fokus van hierdie navorsing is om vas te stel of Suid-Afrika wel geklassifiseer kan word as 'n pakhanate-staat. Met die oog hierop sal daar gefokus word op die algemene begrip van 'n staat (kenmerke, funksies ens.), waarna die uitsonderlike of onderskeidende kenmerke en eienskappe van pakhanate-state geïdentifiseer en die term gekonseptualiseer sal word. Vanuit die konseptualiserings sal operasionele kriteria bepaal word, en dan baie oorsigtelik op enkele state wêreldwyd kontekstueel toegepas word. Die toepassing op die Suid-Afrikaanse konteks (hoewel ook oorsigtelik) sal dan in groter detail hanteer en beredeneer word in 'n poging om vas te stel of Suid-Afrika wel kwalifiseer om as sodanige staat geïdentifiseer te word. Die metodologie is kwalitatief van aard, met 'n verkennende benadering of oriëntasie.

    Die volgende sake word vir aandag uitgesonder:

    die Nasiestaat - kenmerke en funksies;

    normatiewe regstaatlikheid;

    pakhanate-state - konseptualisering en operasionalisering;

    pakhanate-state as 'n wêreldwye verskynsel; en

    'n Suid-Afrikaanse toepassing.

     

    Die nasiestaat - veronderstelde kenmerke, funksies en staatsverswakking

    Politieke instellings (waaronder die staat) onderskei hulself van samelewingsinstellings op grond van die aanwesigheid en aanwending van politieke mag ten einde 'n bepaalde belang of kompleks van belange te dien. Maclver (1966:4-5) tref hierdie onderskeid/samehang deur te stel dat "the state exists within society, but is not even a form of society". (Vergelyk ook Romano (1947:1-179) se konseptualisering van staat in hierdie verband.) Uitgaande van 'n Eastoniaanse stelselperspektief (1965), gekombineer met Huntington se perspektief (1968) van institusionalisering, word politiek gedefinieer as die vermoë om steun te mobiliseer en te organiseer binne 'n bepaalde samelewingsverband (of onderdeel daarvan), met as doel die verkryging en/of konsolidasie van 'n politieke magsbasis, meestal institusioneel gefundeer, waardeur bindende besluite (toedeling van waardes en skaars middele) met betrekking tot die samelewing of dele van die samelewing kan plaasvind, en wat mededingende en selfs vyandige magsbasisse vreedsaam of nievreedsaam kan inhibeer (en selfs verhoed) om hul besluite of waardes op die samelewing of onderdele daarvan af te dwing.3 Die kernbegrip is hier "politieke mag", wat beteken "the ability to influence the behaviour of others (within the context of a relationship) in a manner not of their choosing ... It is referred to in terms of having 'power over others' Dit beteken egter ook "... the ability to punish or reward, bringing it close to force or manipulation ..." (Heywood, 2002:7). In hedendaagse samelewings is die staat (ook na verwys as die nasiestaat) die instelling wat beskik oor die monopolie op die spreekwoordelike swaardmag. Toenemend is die staat (meer spesifiek die nasiestaat) besig om hierdie eksklusiewe monopolie van mag te verloor en ander politieke magte en kragte raak mededingend, konflikterend en in uitsonderlike gevalle (mislukte of erg verswakte state) selfs oorheersend binne die bepaalde staatsterritorium (Duvenhage, 1998:1-35). Die invloed van instellings met 'n kriminele of misdaadagtergrond of -verwysing kan 'n vastrapplek kry in verswakkende staatsomgewings en die terrein voorberei vir wat hier onder as pakhanate-state gekonseptuali-seer sal word.

    Die befaamde sosioloog Max Weber (1964:154,156) definieer 'n staat as

    ... an organisation, composed of numerous agencies led and coordinated by the state's leadership (executive authority) that has the ability to make and implement the binding rules for all the people as well as the parameters of rulemaking for other social organisations in a given territory, using force if necessary to have its way.

    Vergelykende studies sluit in Heywood (2002:87-88), Migdal (1988:19), Tilly (1985) en Greffrath (2015:19) wat soortgelyke konseptualiserings van die staat binne die Weberiaanse tradisie aanbied. Die vermoë om mag suksesvol en effektief aan te wend, dit wil sê die vermoë waaroor die betrokke staat beskik, kan nietemin wissel. Weber (1964) se veronderstelling van 'n sterk staat is nie altyd die empiriese werklikheid wanneer talle state in die teenswoordige wêreld beskou word nie. Verswakkende state, die antitese van die Weberiaanse beskouing, beteken 'n veronderstelde permanente gesagstruktuur met 'n beperkte tot selfs 'n onvermoë "... to make and implement rules for all the people as well as the parameters of rulemaking for other social organizations in a given territory, using force if necessary to have its way" (Weber,1964:154). Nasiestate word gekenmerk deur 'n vaste geografiese territorium; 'n burgery met regte, vryhede en verpligtinge ooreenkomstig die staatkundige orde en reëls; 'n permanente owerheid (administrasie en bestuur met leierskap wat regeerkundig van aard funksioneer), en wat bindende en afdwingbare besluite vir die samelewing kan neem; en as instelling op soewereiniteit kan aanspraak maak (Duvenhage, 2023c:8). Wanneer staatsverswakking ter sprake kom, word nie net die kenmerke van wat 'n nasiestaat behoort te wees ondermyn nie, maar ook die funksionering van instellings binne die raamwerk van die groter staat. Die volgende kenmerke word aangetref, wat soms sterk kontrasteer met die veronderstelde Weberiaanse sterk staatsbeskouing:

    1. Die aantasting van die soewereiniteitsbeginsel ten opsigte van 'n gegewe territorium. Migdal (1988:15-24) beskryf hierdie problematiek ingevolge "the drive towards state predominance", wat daarop dui dat staatsinstellings nie altyd oppermagtig is binne 'n gegewe territorium nie.

    2. In 'n verswakkende staatsomgewing word ruimte gelaat vir ander akteurs om in mededinging, konflik en selfs deur die gebruik van geweld teenoor bestaande staatsinstellings, waardes en skaars middele gesaghebbend toe te wys.4

    3. 'n Onvermoë tot die daarstelling en instandhouding van die nodige bekwaamhede binne institusionele raamwerke van die staat om kernfunksies soos die handhawing van orde, stabiliteit en sekerheid asook sake wat met dienslewering verband hou, te kan verseker.

    4. 'n Onvermoë tot die doelmatige aanwending en ontwikkeling van hulpbronne ter bevordering van die algemene belang van alle burgers.

    5. Die nievoldoening aan kriteria afgelei vanuit praktyke wat met goeie regering en regeerkundige praktyke verband hou en wat dui op 'n onvermoë om staatkundig gesproke in die "algemene belang" ("common good") te kan regeer.5

    In 'n uiterste sin word staatsverswakking deur Zartman (1995:1) voorgehou as "... a situation where the structure, authority (legitimate power, law and political power have fallen apart and must be reconstituted in some form, old or new) ... For a period, the state itself, as a legitimate functioning order, is gone." Ten opsigte van staatsverswakking kan veral drie kategorieë state onderskei word, naamlik sagte state (korrupsie en swak grensbeheer); swak state (eienskappe van sagte state maar boonop beperkte soewereiniteit en 'n onvermoë tot die uitvoering van funksies wat met die "staatsopdrag" verband hou); mislukte state (bo alles ook 'n verlies aan beheer oor die staatsterritorium).6

    Staatsverswakking as politieke omgewingsfaktor is telkens 'n belangrike katalisator vir aktiwiteite wat met pakhanate-state geassosieer kan word. Ten einde die problematiek verbonde aan pakhanate-state beter te verstaan, moet die veronderstelde taak van die staat eers duideliker omlyn word. Hierdie aspek word vervolgens hanteer.

     

    Normatiewe regstaatlikheid

    Met die konseptualisering van politiek en die staat, in besonder die Weberiaanse sterk staat as een manifestasie van politiek, word daar nou verder gefokus op die veronderstelde sterk staat en die groter staatsbeskouing wat dit onderlê - veral die praktyk wat as 'n demokratiese staatsvorm voorgehou word. Die verduideliking hiervan is noodsaaklik omdat dit in belangrike opsigte die teenpool veronderstel van praktyke wat met pakhanate-state geassosieer kan word. Breedweg kan daar staatkundig gesproke onderskeid getref word tussen magstate (monargieë; totalitêre state; eenparty-dominante state; militêre regimes; skyn-demokrasieë ens.) en regstate ("constitutional states"). Die regstaat is 'n produk van die denke van Emmanuel Kant (17241804), wat 'n "republik" beklemtoon as 'n "union of men under law", en het sy oorsprong in die Griekse stadstate gehad. Prakties het dit as 'n indirekte demokrasie sy neerslag gevind in Wes-Europa, Skandinawië en die VSA - soms voorgehou as die eerste golf van demokratisering (Huntington, 1991:12-26). Demokratiese praktyke met verskillende en soms uiteenlopende inhoude het later wêreldwyd inslag gevind as gevolg van die tweede en derde golf van demokratisering (Huntington, 1991:19-28).

    Die idee van konstitusionalisme (dit wil sê, om te funksioneer binne die gees van die grondwet met inbegrip van 'n bepaalde stel waardes, norme en etiek) vorm 'n belangrike deel van die onderliggende regstaatbeskouing en die betrokke staatsfilosofiese raamwerk. Hiervolgens behels konstitusionalisme "the quest for a just polity" asook wat genoem word "the pursuit ofjustice". Uitgaande van bogenoemde normatiewe grondslag het konstitusionalisme ook 'n regstegniese kant, wat te make het met die strukturering van die groter staatkundige orde, met inbegrip van die toewysing, begrensing en afbakening van polities-staatkundige magsbasisse, grondwetlik vervat en herlei tot 'n afdwingbare regsraamwerk om die vooropgestelde regverdige samelewing ("just society") te bereik (Malan, 2019:7-13).

    Met die basisveronderstelling van 'n sterk staat wat reëls binne 'n bepaalde territorium kan afdwing en ander politieke akteurs of rolspelers verplig tot 'n stel politieke en ander spelreëls, voeg die idee van konstitusionalisme die volgende toe:

    Normatief: 'n Verbintenis tot reg en 'n regverdige samelewing.

    Fundamenteel: Die bestaan van 'n regeerkundige oorsigfunksie, ondersteun deur 'n oppermagtige grondwet met afdwingbare bevoegdheid.

    Kwalifiserend: Geen landswet kan die oppermagtigheid van die grondwet aantas nie en alle wette is ondergeskik aan, en verbind tot die uitbouing van die gestelde grondwetlike regsraamwerk.

    Breë konsensus en inkoop: Burgers, politieke rolspelers en ander akteurs is verbind tot en ondersteun die gestelde regsraamwerk en die afdwingbaarheid daarvan.

    Die volgende kan as kernkenmerke van die regstaatbeskouing geïdentifiseer word (sekere kenmerke bou bogenoemde kernaspekte, onderliggend aan die regstaatbeskouing, verder uit):

    1. 'n Staat wat oor 'n grondwet beskik, dit wil sê 'n kontrak tussen die owerheid en burgery waarin die regte, vryhede en verpligtinge (verantwoordelikhede) van beide partye uiteengesit word.

    2. Die bestaan van 'n selfstandige burgerlike samelewing; afsonderlik van, en in vennootskap met die staat.

    3. Die skeiding van staatsmagte (uitvoerend, regsprekend en wetgewend), ingevolge 'n stelsel van wigte en teenwigte wat die misbruik van politieke mag kan beperk of verhinder.

    4. Duidelike grondwetlike, juridiese en soms wetlike reëls en riglyne waarbinne staatsinstellings en ander samelewingsinstellings (onderskeidelik, maar ook in samehang) moet funksioneer en ordelik in stand gehou moet word.

    5. Deursigtigheid van besluitneming (asook optrede en handelinge), ingevolge 'n stel norme waarin verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid sentraal staan.

    6. 'n Onafhanklike regbank (ooreenkomstig die "rule-of-law"-beginsel) waarin die geregtelike hersiening van staatsoptrede, -handelinge en -besluite aan die orde is.

    7. Die oppergesag van die grondwet en dat alle wetgewing en toepassing daarvan in ooreenstemming moet wees met die letter van die wet (die grondwet) en die idee (konstitusionalisme) ter sprake.

    8. Betroubaarheid en integriteit ingevolge handelinge, besluite en optrede, met verrekening van konteks, tradisie en agtergrond.

    9. Proporsionaliteit van politieke en ander handelinge betreffende die aard en ernstigheid van die kwessie(s) ter sprake.

    10. Die aanwesigheid van 'n uitgebreide stel waardes en norme, onder meer integriteit, verantwoordbaarheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid, effektiwiteit, bevoegdheid, en 'n bydrae tot die spreekwoordelike "common good", oftewel gemeenskaplike welstand.

    Bogenoemde waardes en norme, asook ander aspekte wat met sosiale verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid verband hou, word nie altyd duidelik verwoord nie, maar tog veronderstel, en is daarom wesenlik belangrik vir die suksesvolle funksionering en uitlewing van die regstaat-idee.7 Bogenoemde staatsbeskouing word as gesaghebbende normatiewe raamwerk vir die huidige navorsing veronderstel en sal dien as grondslag vir die beoordeling van praktyke wat met pakhanate-state verbind kan word, en in besonder toegepas op die situasie wat tans in Suid-Afrika aan die orde is.

     

    Pakhanate: Konseptualisering en operasionalisering

    Die begrip "pakhanate" is etimologies ontleen aan die samevoeging van die Russies naxah (wat beteken "don, mob boss, kingpin, capo di tutti capi") en khanate (kaganat). Laasgenoemde verwys na 'n historiese gemeenskap (nomadies van aard) onder die leiding van 'n Khan en was veral geassosieer met Turkse, Mongoolse en Tartaarse gemeenskappe, georganiseer as feodale monargieë ("kinship-based chiefdoms"); (Merriam-Webster Dictionary, 2023; English-Old Turkish Dictionary, 2023). Laasgenoemde verwys na 'n leier en sy of haar lojale volgelinge wat volgens 'n eie stel reëls en verorderings 'n politieke verbond sluit om samelewingsreëls gesaghebbend toe te wys. In 'n hedendaagse wêreld is pakhanate-state die eerste keer deur Alexander Litvinenko gebruik en verwys dit na 'n staatkundige orde waarin die regering, insluitende bepaalde owerheidstrukture, sodanig geïntegreerd is met misdadige organisasies (en soms aktief deel vorm van 'n misdadige bedryf) dat die onderskeiding tussen misdadige en politieke optrede moeilik gehandhaaf kan word. Sullivan (2024:2) verwys na "... a government that (is in) itself ... a criminal enterprise". In die gesaghebbende artikel Mafia states, in aansluiting by die voorafgaande perspektief, beklemtoon Moisés Naim (2012:1) dat:

    ... top positions in some of the world's most profitable illicit enterprises are no longer filled only by professional criminals; they now include senior government officials, legislators, spy chiefs, heads of police departments, military officers, and, in some extreme cases, even heads of state or their family members.

    In die hedendaagse wêreld bevorder talle faktore die groei en ontwikkeling van pakhanate-state. Verswakkende state, soos vroeër beskryf, waar owerhede en regerings 'n onvermoë het om waardes, norme en hulpmiddels gesaghebbend te kan toewys, dit wil sê die spelreëls te kan definieer en suksesvol te kan afdwing, laat ruimte vir ander politieke rolspelers om te kan toetree en selfs parallelle strukture tot stand te bring. 'n Politieke omgewing waar strukture soms die algehele institusionele raamwerk verswak, in besonder waar die regstelsel in duie stort en waar burgers hulle tot ander strukture moet wend om orde, stabiliteit en sekuriteit te verkry, is bevorderlik vir die groei en ontwikkeling van 'n omgewing waarin Mafia-agtige strukture kan groei en ontwikkel. Kayser-Brill (2018:1-2) beklemtoon die voorafgaande deur te argumenteer dat ".. .institutional collapse, by removing the foundations supporting the rule of law as an efficient judiciary, opens the way for a new organisation of power".

    Neoliberalistiese denke en die verbandhoudende staatsbeskouing waarin die minimum staatsgedagte gekombineer word met maksimum individuele ekonomiese vryheid (vergelyk Heywood, 2002:427) skep 'n gunstige groeibodem vir instellings met 'n kriminele verwysing om hulself te aktiveer en tot strukture te ontwikkel wat waardes en skaars middele in eie reg kan afdwing. Voorbeelde in dié verband sluit in die VSA, Frankryk, Italië en selfs Japan. Die teenwoordigheid van omvangryke georganiseerde misdaadkartelle of Mafia's beteken nietemin nog nie dat hierdie state as pakhanate-state in die volledige sin van die woord voorgehou kan word nie.

    'n Gekompliseerde internasionale politieke stelsel met verskeie eiesoortige rolspelers en 'n kompleksiteit van akteurs, waaronder nasiestate, multinasionale maatskappye, terroristegroepe en verskeie vorms van verswakkende nasiestate, is 'n patroon wat oor die laaste dekades voorkom. Die krisis van die nasiestaat as dominante akteur wat waardes en skaars middele gesaghebbend toewys, word toenemend bedreig (Duvenhage, 1998:1-35). Hierdie toedrag van sake skep 'n asimmetriese verhoudingsituasie tussen diverse politieke akteurs onderling, waarin strukture en belange met misdaadoriëntasie strategiese en taktiese politieke posisies kan verwerf en konsolideer. Teen die agtergrond van grootskaalse politieke magsverskuiwings en die totstandkoming van 'n nuwe wereldorde bestaan geleenthede om magsbasisse te ontsluit en uit te bou tot op 'n vlak wat soms groter is as bestaande nasiestate. Die omvang van internasionale wapen- en dwelmhandel beklemtoon die rol van georganiseerde misdaad op 'n transnasionale vlak.8

    Neoliberalistiese denke en die uitspeel daarvan op internasionale handel, en die samehang daarvan met 'n gekompliseerde internasionale politieke stelsel, skep 'n gunstige groeibodem vir transnasionale misdaadorganisasies en hul samewerking met politieke akteurs. Naim (2012:1-2) beklemtoon hierdie samewerking soos volg:

    The global economic crisis has been a boon for transnational criminals. Thanks to the weak economy, cash-rich criminal organisations can acquire financially distressed but potentially valuable companies at bargain prices. Fiscal austerity is forcing governments everywhere to cut the budgets of law enforcement agencies and court systems ... International criminals could hardly ask for a more favourable business environment.

    In teenstelling met nasiestate, wat oor gekompliseerde administratiewe stelsels beskik, en wat tot internasionale ooreenkomste en protokolle verbind is, is misdaadorganisasies vaartbelyn, kan funksioneer buite wetlike omgewings, en beskik oor finansiële vermoëns om doelwitte relatief vinnig, maklik en bekostigbaar te kan bereik. Transnasionale misdaadorganisasies en kartelle het daarom in hierdie opsig 'n mededingende voordeel teenoor nasiestate, of ten minste sekere state. Wanneer die magsbasisse egter gekombineer word soos in die geval van pakhanate-state, is hier finansieel gesproke 'n wen-wen-situasie moontlik - 'n strategiese faktor wat die groei van pakhanate-state wêreldwyd bevorder. Daar word selfs akademiese argumente gevoer ten gunste van die bestaan en funksionering van Mafiastrukture as 'n alternatief vir staatsinstellings en hul veronderstelde funksies.9

    Die uitbreiding van ultramoderne tegnologie, met inbegrip van kommunikasie, vervoer, observasie en ook militêre en veiligheidstegnologie, is verantwoordelik daarvoor dat instellings anders as die staat hul magsposisie kan konsolideer en gee op 'n andersoortige wyse uitdrukking aan Tilly (1985:169-186) se vereistes vir staatstrukture, opgesom as:

    An organisation that controls the population occupying a given territory (in so far as it: differs from other organisations that operate on the same territory; is autonomous; is centralised; [and] each of its components' parts is formally coordinated with each other.

    Anders gestel, toegang tot moderne tegnologie bevorder nie net pakhanate-state nie, maar ook ander instellings waaronder terreurorganisasies wat, afhangende van die aard van bepaalde konfliksituasies, in samewerking of in konflik met bestaande staatstrukture verkeer. Toegang tot gesofistikeerde tegnologie en wapentuig is 'n bepalende faktor in die hedendaagse wêreld; 'n faktor wat politieke mag en die aanwending daarvan herdefinieer. Dit is 'n strategiese faktor wat deur misdaad- en terreurorganisasies gebruik en misbruik word om magsbasisse in samehang met of as teenvoeter vir bestaande staatstrukture te operasionaliseer. Die beperkinge van staatstrukture soos hier bo aangedui, laat state enersyds kwesbaar rakende gevare en uitdagings en noodsaak andersyds samewerking met sodanige instellings ter bereiking van gestelde politieke en staatkundige doelwitte.

    'n Maatskaplike faktor wat pakhanate-state se bestaan bevorder en/of versterk is die aanwesigheid van patrimoniale en neopatrimoniale tendense in samelewings. Patrimoniale gesag beklemtoon dat leiers en individue oor eiesoortige magsbasisse beskik wat onafhanklik en soms in mededinging/konflik en selfs geweld kan verkeer met rasioneel-wetlike gesag (á la Max Weber), soos beliggaam in veral nasiestate. Hierdie mag word ontleen aan bepaalde sosiale strukture met 'n tradisionele, etniese, religieuse of rasgebaseerde grondslag onder die beheer van 'n koning, strongman (leiersfiguur), hoofman, spirituele leier, supremo patrones (beskermheer), ensovoorts. In hierdie verband word die leier die simbool van politieke mag en besluitneming en is verhewe bo regsprosesse van die staat of ander politieke instellings. Met ander woorde "the king can do no wrong". Hiervolgens en in aansluiting by die voorafgaande definisie van politiek word waardes en skaars middele gesaghebbend deur patrimoniale strukture toegewys aan 'n bepaalde kliëntekorps. Laasgenoemde verskaf op sy beurt die politieke ondersteuning soos benodig deur die betrokke patrimoniale leierskap. Bratton en Van der Walle (1997:61) wys daarop dat hierdie praktyke prominent is in minstens 40 Afrikastate, met praktyke waar "(t)he ruler ensures the political survival by providing a zone of security in an uncertain environment and by selectively distributing favours and material benefits to the loyal followers who are not citizens of the polity so much as the ruler's clients".

    Hierdie praktyk, ook kenmerkend van talle verswakkende state, skep 'n vrugbare grondslag en groeibodem vir pakhanate-state, veral waar stelsels neopatrimoniale kenmerke reflekteer. Dit maak talle Afrikastate baie kwesbaar in hierdie verband.

    Neopatrimonialisme verwys na 'n hibriede stelsel waar patrimoniale praktyke in samehang (soms konflik) staan met rasioneel-wetlike praktyke geassosieer met die moderne staat, burokrasieë, parlemente en ander owerheidstrukture. Binne 'n neopatrimoniale stelsel is laasgenoemde telkens ondergeskik aan eersgenoemde.10 Hier gaan dit oor persoonlike magsbasisse (leier met lojale kliënte of volgelinge) wat in konflik tree met formele staatsinstellings (veral instellings gemoeid met die handhawing van die reg, asook veiligheid en sekuriteit) en waarin eersgenoemde (veral binne 'n Afrika-konteks) oorheersend en bepalend is ten opsigte van die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele. Twee uitkomste is hier belangrik (dit raak die totstandkoming en ontwikkeling van pakhanate-state direk), naamlik die gebruik en misbruik van staatsinstellings ter bevoordeling van 'n bepaalde leier, leierskorps en kliëntekorps - die volgroeide pakhanate. Tweedens kan parallelle strukture (samewerkend of konflikterend) 'n uitkoms hiervan wees en sodoende word die weg gebaan vir 'n mededingende en/of samewerkende magsbasis. Hier is eerder sprake van 'n substaat-konteks waar waardes en skaars middele net gedeeltelik toegewys word. 'n Pakhanate-vennootskap waar kriminele elemente saamwerk met politieke elite en waar meestal moeilik onderskeid getref kan word tussen politieke besluite in algemene belang en besluite wat eksklusiewe belang bevorder (soms met 'n kriminele grondslag) is kenmerkend van hierdie staatsvorm. Prakties kan die mate van vervlegting nietemin wissel van gevallestudie tot gevallestudie, soos hier onder aangedui sal word.

    Naim (2012:1) is korrek as hy argumenteer dat "(M)afia states defy easy categorisation, blurring the conceptual line between state and non-state actors. As a result, their behaviour is difficult to predict, making them particularly dangerous actors in the international environment". Pakhanate-state word gekenmerk deur die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele of substate (die gedeeltelike gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele) deur 'n polities-kriminele (Mafia)-elite tot stand gebring, en funksionerend in 'n omgewing gekenmerk deur:

    Staatsverswakking, in besonder die verval van demokratiese praktyke en die openbare regsorde (die vervolgingsgesag, polisie, die regstelsel en korrektiewe dienste).

    Die vermenging van politieke en Mafia-agtige elites tot 'n enkele groepering met beheer oor staatsmag (die pakhanate-staat) of tot 'n strategiese ooreenkoms (de facto of de jure) waarvolgens waardes en skaars middele gesamentlik en/of afsonderlik per geskrewe of ongeskrewe ooreenkoms gesaghebbend toegewys word.

    Die bestaan van politieke, ekonomiese en burgerregtelike vryhede nasionaal (liberalisering, demokratisering) en/of internasionaal (vrye internasionale handel) afkomstig van 'n neoliberale beskouing of verwysingsraamwerk wat wetlik of institusioneel bestaan.

    Vorme van neopatrimonialisme as 'n maatskaplike onderbou in bepaalde omgewings wat aan vorme van moderne neofeodale strukture beslag gee en die samewerkings-grondslag tussen politieke (lees "legitieme mag") en Mafiastrukture fasiliteer.

    'n Gekompliseerde internasionale orde met diverse akteurs, konflikterende en asimmetriese belangestrukture wat ruimte skep vir andersoortigheid om te gedy en ruimte laat vir strategiese ooreenkomste en samewerking met ander politieke akteurs.

    Toegang tot en bekostigbaarheid van gevorderde tegnologie (kommunikasie, inligting, bankstelsels, militêre vermoëns, en vervoer) ter vestiging of uitbouing van magsbasisse mededingend of konflikterend met state of ander politieke akteurs.

    Die tipering van bostaande staatstipe verskil ingrypend van die normatiewe grondslag soos vroeër voorgestel vir state, wat verwys na die Weberiaanse sterk staat (oppermagtig, beklee met die swaardmag met genoegsame owerheidskapasiteit), met 'n demokratiese owerheidsvorm waarin die handhawing van openbare regsorde in die algemene belang deur die gebruikmaking van demokratiese meganismes (konstitusionalisme, die oppergesag van die reg, beperkte en verantwoordelike regering, en die erkenning en handhawing van burgerlike vryhede) vooropgestel word.11 Pakhanate-state is problematies aangesien die groter openbare regsorde meestal wanfunksioneel of aan die verval is; die vermoë om in algemene belang te handel nie bestaan nie of verhoed word deur ander politieke akteurs; private belange ("private good") triomfeer bo die algemene belang ("common good"); en die normatief-etiese grondslag van hierdie state konflikterend is met dít wat vroeër as norm voorgehou is. Die navorsing in die artikel fokus voorts op voorbeelde van pakhanate-state. Daar sal vanuit die vorige teoretiese begronding bepaalde toepassings gemaak word.

     

    Pakhanate-state - 'n kontekstualisering

    Pakhanate-state veronderstel volgens Naim (2012:1) dat:

    This fusing of government and criminal groups is distinct from the more limited ways in which the two have collaborated in the past ... In a Mafia state, high government officials actually become integral players in, if not the leaders of, criminal enterprises, and the defense and promotion of these enterprises' businesses become official priorities.

    Verskillende en soms uiteenlopende toepassings van hierdie pakhanate-praktyk is te wyte aan eiesoortige konteksfaktore soos hier bo aangedui. Patrick (2012:1-8) se perspektief ten opsigte van die operasionalisering van die konsep is geldig as hy beklemtoon dat "the term 'Mafia state' oversimplifies a broad spectrum of criminal-state relationships". Voorbeelde wat hier behandel word, moet daarom as sodanig en binne hul eiesoortige kontekste beoordeel word. In 'n omgewing wat Naim (2012:2-6) beskryf as "a revolution in crime" kan talle state waaronder Rusland, Colombië, Braine, Bulgarye, Venezuela, Mianmar, Sirië, Kosovo, Montenegro en Transnistria met pakhanate-praktyke geassosieer word. Hulle sal as voorbeelde in die hiervolgende kontekstualisering gebruik word.12

    Staatsverswakking en/of niedemokratiese tendense is prominent by alle volgroeide pakhanate-state en slegs gedeeltelik aanwesig waar pakhanate-vennootskappe (formeel of informeel) bestaan. Bogenoemde state word sonder uitsondering gekenmerk deur patrone van staatsverswakking (dit kan verskeie vorme aanneem) terwyl niedemokratiese tendense telkens prominent is en/of soms reeds as 'n gevestigde praktyk bestaan. Periodes van groot verandering wat saamhang met staatsverswakking en selfs die disintegrasie van state, asook patrone van regimeverandering, kan die terrein voorberei vir pakhanate-tendense.

    Klassieke voorbeelde: Italië en Japan

    Beide Italië en Japan het lang verbintenisse met Mafiastrukture wat binne die onderskeie state histories gesproke tot stand gekom het. Beide hierdie strukture het noue verhoudings met die regerings van die dag gehad, maar het nooit die politiek van die onderskeie state gedomineer nie. Praktyke soos omkopery, korrupsie, prostitusie, sluipmoorde en die ondermyning van regs- en vervolgingsinstellings was wel aan die orde van die dag. Dit het nietemin selde die punt bereik waar politieke leiers en misdaadleiers nie onderskeibaar was nie. Samewerking en vennootskappe tussen misdaad- en politieke leiers was wel aan die orde.13

    Die Japannese Yakuza, 'n georganiseerde misdaadgroep soortgelyk aan die Italiaanse Mafia, se herkoms kan teruggevoer word tot 1612. Yakuza ("gangster" of "good for nothing") is afkomstig vanuit die feodale tydperk en is gekenmerk deur Samurai-rituele en tatoeëermerke, met as kernbesigheid smokkelhandel, prostitusie, dobbel, die uitleen van geld en ander vorme van georganiseerde misdaad (Encyclopedia Britannica, 2024). Tydens die sestigerjare van die vorige eeu het die Yakuza tot 184 000 lede gehad, maar die getal het verminder na bykans 100 000 in die 21ste eeu. Soos die Italiaanse Mafia (selfs tot 'n groter mate) was die onderskeid tussen politici en funksionarisse binne die groter politieke stelsel en die vorm van georganiseerde misdaad baie duidelik, en kan Japan bepaald nie as 'n volgroeide pakhanate beskryf word nie. Trouens, die perspektief van Peter Andreas (2012) in reaksie op die artikel van Moisés Naim (2012) dat bogenoemde voorbeelde bewys lewer dat Mafiabedrywighede nie 'n werklike bedreiging vir die staat is nie (en nog minder 'n staatsvorm in eie reg - aldus Alfonso, 2015), het myns insiens meriete ten opsigte van bogenoemde twee voorbeelde. Beide Japan en Italië kan nogtans as sterker state (in die Weberiaanse tradisie) beskryf word. Ander voorbeelde waar staatsverswakking en/of regimeverandering meer prominent voorgekom het, bring nietemin ander perspektiewe ten opsigte van die ontstaan en ontwikkeling van pakhanate na vore. Rusland verdien binne hierdie konteks vermelding.

    Rusland

    Die Russiese Mafia ("Bratva/Brotherhood") se herkoms kan teruggevoer word na die Tsaristiese tyd (om en by 1720), wat begin het as kleiner misdaad (diefstal, rooftogte ens.) volgens 'n Robin Hood-tradisie - dit wil sê misdadigheid ter wille van die armes, na verwys as "thieves world" (Bratva: the emergence and growth of the Russian Mafia: 2022). Ná die 1917-revolusie, ten tyde van die straf-/arbeidskamp in die voormalige Sowjetunie, het die vory v zakone ("thieves in law") as leiers in die strukture gefunksioneer met 'n misdaad-etiese kode (BBC-Special Report, 1998). In 'n omgewing van ekonomiese stagnasie in die ou Sowjetunie is 'n omgewing geskep waarbinne georganiseerde misdaad kon gedy, veral binne die sogenaamde swart markte. Die bestaande grondslag vir "thieves in law" het onder die Sowjet-regime ondergronds beweeg, maar is tot nuwe hoogtes geneem deur verslegtende ekonomiese omstandighede. Georganiseerde misdaad het verder gegroei en is gekonsolideer tot 'n politieke magsbasis waarmee daar rekening gehou moes word (BBC-Special Report, 1998).

    Die val van die Sowjetunie en die balkanisering hiervan in verskeie state ná afloop van die 1991-gebeure het 'n magsvakuum geskep ('n uitkoms van staatsverswakking) wat ruimte gelaat het vir kriminele organisasies om vastrapplek te kry en hulself as politieke rolspelers te vestig. In 1994 het die Russiese Minister van Binnelandse sake, Mikhail Yegorov, beklemtoon dat die getal georganiseerde kriminele groepe in die Gorbatsjof-tydperk (die era van Glasnost en Perestroika) van 785 tot 5 691 toegeneem het. In 1996 is die getal misdaadgroepe op meer as 8 000 beraam en het die Russiese Mafia 40% van alle private besighede en 60% van staatsbeheerde maatskappye in hul hande gehad (BBC-Special Report, 1998). In die woorde van Mustaffa (2024:3): "The collapse of the Soviet Union had created the conditions for the rise of organised criminal networks", en verder: "Power within the Kremlin features the enigmatic fusion of formal governance and clandestine networks.14 Internasionale ondersteuning via die Wagner-groep binne verswakkende staatsomgewings in veral Afrika, en die ondersteuning van "sterk manne of krygshere" (lees patrimoniale en neopatrimoniale tendense) is algemeen, met "proxy-state" en groepe om destabilisasie en terreur soms wêreldwyd te bevorder. In die geval van Rusland kan die optrede van Rusland as staat geensins onderskei word van Mafiaverhoudings binne die betrokke staat en na buite, oftewel internasionaal nie - telkens met baie groot risiko's.15 (BBC-Special Report, 1998). Mustaffa (2023:4) beklemtoon dat:

    Allegiance to the Kremlin serves as the ultimate criterion for survival, and those designated as traitors by Putin are not safe, not even abroad. Russia will continue to project an image of resolute leadership to its people, with Putin remaining an indomitable figure, and those considered disloyal will be methodically neutralised.

    Georganiseerde misdaad en raakpunte met politieke regimes, is histories gesproke 'n bekende fenomeen in Rusland en die latere Sowjetunie, maar het sedert die val van laasgenoemde tot nuwe hoogtes gegroei. Met Rusland se profiel as 'n supermoondheid verkry die tentakels van 'n pakhanate-staat wêreldwye invloed in 'n omgewing van toenemende internasionalisering. Hoewel uniek, vertoon die huidige Russiese staat talle kenmerke van 'n pakhanate-staat soos hier bo aangetoon.

    Ander voorbeelde

    Talle state wêreldwyd verteenwoordig in 'n mindere of meerdere mate kenmerke van pakhanate, soos hier bo beredeneer. Die afwesigheid van demokratiese aspekte, soos aangetoon ten opsigte van normatiewe regstaatlikheid, veral die oppergesag van die reg en regshandhawing in algemene belang; verswakte of verswakkende staatstendense en die ondermyning van die soewereiniteitsbeginsel geassosieer met state; geleenthede ten opsigte van 'n wêreldwye vrye handelsomgewing; politieke en misdaad elite-vermenging; asook familie en uitgebreide familienetwerke (oftewel patrimonialisme of neopatrimonialisme) kom voor by talle state wêreldwyd, hoewel die graad hiervan kan verskil. Enkele voorbeelde wat aandag trek, word kortliks na verwys:

    Venezuela: Die oorname van die staat deur instellings met 'n kriminele oriëntasie is wyd gedokumenteer in die literatuur en die staat word in die algemeen as 'n pakhanate geïdentifiseer. 'n Venezuela Investigative Unit (2018) het sewe redes geïdentifiseer as motivering vir eersgenoemde se status as 'n pakhanate, naamlik: die inmenging van kriminele leiers in die aktiwiteite van staatsinstellings; bewese eienskappe van 'n kleptokrasie; die toekenning van staatsmagte en vermoëns aan nielegitieme (lees kriminele) akteurs; die eksponensiële groei in georganiseerde misdaad; hoë vlakke van geweld deur beide staats- en niestaatsakteurs; die uitvoer (internasionalisering) van kriminaliteit, en die internasionale veroordeling van kriminele aktiwiteite. Verskeie amptenare, waaronder senior politieke ampsbekleërs van die bewind van Nicolas Maduro word geïmpliseer in kriminele aktiwiteite wat insluit dwelmhandel, die smokkelhandel van brandstof, en swartmarkaktiwiteite ten opsigte van die verkope van voedsel en medisyne (Sullivan, 2021; Naim, 2012). Venezuela as 'n pakhanate word ook gekenmerk deur die optrede van gewapende militias (dikwels ondersteun deur die staat), die uitwissing van opponente ("extra-judicial killings"), politieke sluipmoorde en die plundering van die staatskas vir persoonlike, elite- en familiebevoordeling. Hoewel in 'n eiesoortige historiese konteks, is hier bepaald groot raakpunte met die Russiese gevallestudie.

    Sirië: Die Assad-dinastie wat Sirië vir die laaste vyf dekades beheer, vertoon talle kenmerke van 'n pakhanate-staat. Die Assad-familie onder leiding van Bashar-al-Assad word beskryf as "a crime syndicate simply designed to enrich himself and his family" (Chulov, 2021:1-5). 'n Voormalige CIA-lid het hom beskryf as "Assad is the Tony Soprano of the Middle East - at bare bones, a mob boss with omnipresent family crises and rivalries" (Chulov, 2021:1-5). Geweld word gebruik en misbruik deur georganiseerde groepe (nasionaal en internasionaal) om die patrimoniale en neopatrimoniale belange van die Assad-familie en verwante belangegroepe te beskerm.16 Sirië is 'n klassieke voorbeeld van 'n gevalle staat (sonder beheer oor die staatsterritorium, en 'n aktiewe burgeroorlog gevoer en ondersteun deur internasionale magte); besighede Niqabeh (sindikaat) onder die beheer van die president se vrou Asma, en waarin die politieke en misdaad-elite nie onderskeibaar is nie. Geen demokratiese praktyke bestaan nie (hoogstens skyn-demokrasie) en aspekte soos verantwoordbare regering en die oppergesag van die reg is heeltemal afwesig.

    Montenegro: Hierdie staat is 'n deelstaat wat vanuit die Sosialistiese Federale Republiek van Joegoslawië tot stand gekom het teen die agtergrond van die val van die Sowjetunie en die Bosniese en Kroatiese oorloë wat daarop gevolg het. Serwië en Montenegro het as deelstate beslag gekry en in 'n referendum op 21 Mei 2006 onafhanklikheid verwerf, en het op 28 Junie 2006 die 192ste lid van die Verenigde Nasies en later ook die Europese Unie geword. Milo Djukanovic, 'n viermalige eerste minister en tweemalige president, het 'n outoritêre bewind met kliëntgeoriënteerde bevoordeling van familie en elites tot stand gebring, met noue verhoudings met georganiseerde misdaad. Korrupsie en onwettige handel in die algemeen en die tabakbedryf in die besonder was fokuspunte van aktiwiteite. In die noue verhouding tussen Djukanovic en sy broer (wat noue bande met georganiseerde misdaad gehad het) was die spilpunt die vermenging van politieke en kriminele elites (Sullivan, 2021). Onder meer is 'n private bank gestig, wat groot somme geld as lenings aan die president, sy elite, vriende en georganiseerde misdaad toegeken het. Toe die bank in finansiële moeilikheid beland, is dit met belastinggeld reggestel (Sullivan, 2021). Montenegro word beskryf as 'n klassieke voorbeeld van 'n pakhanate-staat. Ander voorbeelde van pakhanate sluit in Noord-Korea, Hongarye, Oekraïne en Meksiko. So byvoorbeeld verwys Edgardo Buscaglia na die politieke stelsel in Meksiko as 'n "Mafiacracy" (Die Zeit-Online, 2011).

    Bogenoemde state voldoen in 'n meerdere of mindere mate aan die kriteria wat vroeër vir pakhanate-state gestel is, naamlik staatsverswakking/-verandering; kriminele en politieke elite-vermenging, of die bestaan van bepaalde ooreenkomste op elite-vlak; die geleenthede wat bestaan binne 'n omgewing van vryhandel en internasionalisering; die aanwesigheid van patrimoniale en neopatrimoniale netwerke; en 'n komplekse internasionale orde waar kleiner vaartbelynde instellings en besluitneming meganismes word vir die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele (politiek). Waar staan Suid-Afrika in hierdie verband?

     

    Suid-Afrika as 'n pakhanate-staat?

    Navorsing ten opsigte van die stand van die Suid-Afrikaanse demokrasie beklemtoon talle uitdagings wat in hierdie verband bestaan. Die Suid-Afrikaanse demokrasie voldoen nie in alle opsigte aan die vereistes soos hier bo uiteengesit ingevolge normatiewe regstaatlikheid nie. Benewens patrone van 'n verswakkende staat is daar ook duidelike tekortkominge ten opsigte van demokratiese kriteria, met inbegrip van konstitusionalisme, beperkte regering, die oppergesag van die reg en verantwoordbare regering.17 In wese kom bogenoemde daarop neer dat die Suid-Afrikaanse staat 'n onvermoë openbaar om 'n openbare regsorde in die belang van alle burgers te kan handhaaf. Hierdie toedrag van sake is nie net 'n uitkoms van die swakstaatverskynsel en niegevestigde demokratiese praktyke nie, maar ook die prominensie van pakhanate-tendense soos hier bo beskryf, waarop daar vervolgens gekonsentreer gaan word. Kriteria, soos vroeër geïdentifiseer, sal op 'n sistematiese wyse op die Suid-Afrikaanse konteks van toepassing gemaak word. 'n Profielskets van die regerende ANC as politieke instelling is nietemin nodig voordat die toepassing gemaak kan word.

     

    Pakhanate-tendense - histories en kontemporêr-kontekstueel

    Strafkampe en menseregte-oortredings

    Die periode voor 1994 is dikwels gekenmerk (ten regte ook) deur die misbruik van politieke mag en die miskenning van menseregte en wanpraktyke deur die destydse veiligheidsomgewing binne Suid-Afrika. Amnestie Internasionaal (1992:1-24) wys ook op die wanpraktyke waarvoor die ANC in hierdie tydperk verantwoordelik was en beskryf dit soos volg: "It shows too that this pattern of gross abuse was allowed to go unchecked for many years, not only by the ANC's leadership in exile but also by the governments of the African front-line states who allowed the ANC to set up bases and prisoners on their territory." Sake waarna verwys word sluit in ongekontroleerde gevangenisstraf, mishandeling, marteling en selfs teregstellings. Hoewel nie uitsluitlik nie, het hierdie misdade oorwegend in Angolese kampe soos Quatro, Viana en Pango voorgekom, waar die Veiligheidsdepartement (veral ná opstande in kampe) talle muiters voor 'n vuurpeloton tereggestel of doodgemartel het. Hierna is verwys as Mkatashinga}18Amnestie Internasionaal het optrede in hierdie verband teen die ANC en die verantwoordelikes versoek. Uiteindelik, ná die inwerkingstelling van die 1994/6-grondwet, het dit nooit plaasgevind nie en het die Waarheids- en Versoeningskommissie ook nie opgetree nie. Anders as wat soms voorgestel word, het die ANC allermins 'n skoon menseregterekord gehad en wanoptrede was wyd aan die orde. 'n Grondslag vir pakhanate-tendense is reeds in hierdie tyd gelê.

    Die wapenskandaal

    Kort ná die oorname van die ANC-regering in 1994 is daar besluit om die weermag te moderniseer en aan te pas by 'n veranderende vredesrol na aanleiding van 'n verdedigingsher-sieningsverslag. Die besluit om op te gradeer is in 1998 deur die kabinet en die parlement goedgekeur, en die aankoop van toerusting vir 'n geraamde R30 miljard, toegespits op die lugmag en vloot, is goedgekeur.19 In die woorde van Sylvester en Seegers (2006:52): "... the strategic Arms Package (SAP) has been the largest public controversy of the post-Apartheid era" tot en met daardie tydstip, met senior ANC-leiers waaronder Zuma, Mbeki en Modise wat daarvan beskuldig is dat hulle persoonlike voordeel uit die kontrakte getrek het. Korrupsie en wanpraktyke het aan die lig gekom met die sogenaamde "De Lille-dossier", met aantygings teen onder meer Tony Yengeni, Schabir Shaik, Thabo Mbeki en Jacob Zuma (Anon, 2003). Teen die agtergrond van opbouende kritiek teen die hantering van die wapentransaksie en aantygings van korrupsie het die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal tot stand gekom.

    Op inisiatief van die aktivis Terry Crawford Brown (in 'n petisie na die konstitusionele hof) word President Jacob Zuma gedwing om 'n kommissie van ondersoek na die wapenskan-daal te inisieer. Die mandaat van die kommissie was om die motivering vir die aanvanklike wapenaankope te ondersoek; óf dit wat aangekoop is, behoorlik aangewend word; óf die beloofde werksgeleenthede hieruit gematerialiseer het soos vroeër in die vooruitsig gestel; óf politici hul posisies misbruik het en/of onregmatig uit die transaksie bevoordeel is, en óf bepaalde kontrakte opgeskort/gekanselleer moet word teen die agtergrond van korrupsie en wanpraktyke (South African History Online, 2014:1-2). In 2011 is regter Seriti van die hooggeregshof aangestel om die kommissie te lei, ondersteun deur regters Legodi en Van der Merwe. Beide laasgenoemde lede het bedank voordat ondervragings begin het as gevolg van onregmatige politieke inmenging en druk en die nienavolging van prosesse en protokolle. Kort ná die aanvang van werksaamhede is die sekretaris van die kommissie, Mvuseni Ngubane, onder vreemde omstandighede oorlede. (Vuilspel is vermoed rakende wat as 'n "selfmoord" aangedui is.) Verdere bedankings het ook gevolg, geen kruisondervragings het plaasgevind nie, verrigtinge is telkens vertraag as gevolg van die een of ander oponthoud (die siekte van regter Seriti, infrastrukturele probleme, ens.), asook die ontydige terminering van kontrakte van personeel verbonde aan die kommissie (South African History Online, 2014:2-12). Talle rolspelers asook navorsers het ook gewys op die bestaan van 'n "tweede agenda" om die werksaamhede van die kommissie te ondermyn (Hlongwane, 2013). Bogenoemde toedrag van sake het die kommissie dus wanfunksioneel en tandeloos gelaat. Die bevindinge van die kommissie was dat niemand verantwoordbaar en/of aanspreeklik was vir enige van die genoemde aantygings nie en dat daar geen onbehoorlike inmenging, beïnvloeding, korrupsie of onregmatige bevoordeling ter sprake was nie (vergelyk Seriti, 2015).20

    Verskeie instellings, waaronder Right2Know en Corruption Watch, het ernstig kapsie gemaak teen die besluit van die kommissie en 'n hofsaak teen die bevindinge van die Seriti-kommissie het gelei tot die bevinding van regter Dunstan Mlambo (van die Gautengse Afdeling van die hooggeregshof) om alle bevindinge van die Seriti-kommissie ter syde te stel. Sowat R140 miljoen later is geen van die groot rolspelers/begunstigdes verantwoordelik of aanspreeklik gehou nie. Talle vingers het gewys na die leierskap van die ANC en/of die bevoordeling van die organisasie self. Die skuldigbevindings van beide Schabir Shaik (tot 15 jaar gevonnis maar ontvang presidensiële kwytskelding) en Tony Yengeni (tot 5 jaar gevonnis maar ontvang ook presidensiële kwytskelding) was letterlik net die punt van die spreek-woordelike ysberg. Boonop is geen vonnis volledig uitgedien nie. Geen verdere optrede is geneem nie, en die saak het verdwyn in die moeras van staatskaping. Die Zondo-kommissie van ondersoek is van stapel gestuur.

    Staatskaping en die Zondo-kommissie

    Staatskaping is 'n vorm van sistemiese korrupsie, endemies van aard, funksionerend binne staats- of semi-staatsinstellings waarin private en persoonlike belange (soms patrimoniaal of neopatrimoniaal van aard) onregmatige bevoordeling van private belange in die hand werk en waarin nasionale (algemene) belang nie vooropgestel word nie. Met transformasie as makro-beleidsuitgangspunt, verteenwoordigendheid as kernnorm, swart bemagtiging as uitgangspunt en kaderontplooiing as meganisme, is die politieke grondslag vir staatskaping gelê, soos bestuur deur die voorhoede-party (lees ANC) onder die leiding van Jacob Zuma.21Die uitkoms hiervan was sistemiese en endemiese korrupsie in staats- en semi-staatsinstellings wat daartoe gelei het dat talle politici en amptenare binne staatsverwante instellings van korrupsie beskuldig is. Dit het ingesluit die president van die land, kabinetslui, politici en amptenare. Doelbewuste staatsgefinansierde en/of -ondersteunde inisiatiewe van die Zuma-administrasie, soos die ontplooiing van kaders binne die nasionale vervolgingsgesag, Justisie, Polisie, Intelligensie en Korrektiewe Dienste, het begunstigdes en veral ANC-politici gevrywaar van vervolging.22 Ná afloop van klagtes van Stanslaus Muyebe (Dominikaanse Orde van Suid-Afrika) en opposisieleier Mmusi Maimane het die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, in 2016 'n ondersoek na staatskaping van stapel gestuur. Madonsela se kernaanbeveling was die aanstelling van 'n kommissie van ondersoek. Die Madonsela-verslag het Zuma, ander politici en staatsamptenare geïmpliseer in staatskaping wat volgens haar oordeel verder ondersoek moes word. Pogings van Zuma om die bevindings van die verslag om te keer in die hooggeregshof het misluk en hy was verplig om wel 'n kommissie van ondersoek aan te stel. Sodoende het die Zondo-kommissie tydens 2018 tot stand gekom. Intussen is Zuma as president deur Cyril Ramaphosa vervang en het die kommissie politieke steun gehad om dit die grootste ondersoek na korrupsie in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te maak.23 Die mandaat van die kommissie was "(to) investigate matters of public and national interest concerning allegations of state capture, corruption and fraud" (PARI, 2022:1). Tydens die ondersoek het uitgebreide korrupsie en wanpraktyke aan die lig gekom by instellings soos Transnet; ESKOM; Denel; SABC; SAA; SAPS; Misdaadintelligensie; NPA; BOSASA; TESOURIE; PRASA; die Suid-Afrikaanse Inkomstediens; SSA; die metropole Johannesburg en Ekurhuleni; die president (Jacob Zuma); parlement; kaderontplooiings; die Estina-projek in die Vrystaat, en Optimum Steenkool (Zondo Commission, 2023 Final Reports; statecapture.org.za/site/information/ reports.)24 Daily Maverick het die waarde van die korrupsie soos verbandhoudend met staatskapingspraktyke op tussen R500 miljard en R1,5 triljoen gestel. Die kommissie self het die bedrag op R58 miljard gestel (PARI, 2022:5-6).25 Die ondersoek het ook individue soos die Gupta-familie, vooraanstaande politici en sakemanne ingesluit. Dit was egter veral die bevindinge ten opsigte van die Staatsveiligheidsagentskap wat die diepte van staatsverrotting en -kaping blootgelê het.

    Vanuit getuienis van die waarnemende Direkteur-Generaal, Loyiso Jafta, het dit na vore gekom dat sowat R8 miljard van die vaste beleggings van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA/SAA) sonder verrekening verlore gegaan het, terwyl daar ook R125 miljard van die 2017/18-begroting verdwyn het. Verder het dit ook geblyk dat die SVA media-instellings misbruik het om die negatiewe beeld van Jacob Zuma teen te werk; die belange van die ANC as party te bevorder en opponerende faksies binne die ANC te ondermyn. Daar is miljoene rande in die persoonlike rekening van Jacob Zuma inbetaal; verkiesingsveldtogte van die ANC is gefinansier; opponerende burgerregtegroepe is ondermyn en daar is op hulle gespioeneer (Duvenhage, 2023a:116-148; Zondo Commission, 2022; PARI, 2022:1-6).

    Die bevindinge van die kommissie was verreikend en was dat staatskaping wel op 'n uitgebreide skaal in SA voorgekom het. Hierdie toedrag van sake is beskou as 'n bedreiging vir die grondwet en die demokratiese bestel en word soos volg bewoord:

    State capture in the South African context evolved as a project by which a relatively small group of actors, together with their networks of collaborators inside and outside of the state, conspired systematically (criminally and in defiance of the constitution) to redirect sources from the state for their own gain ... (PARI, 2022:3).

    Daar is verder bevind dat staatsinstellings en openbare entiteite doelbewus verswak is en/of "heraangewend" is om ander doeleindes (meestal private of persoonlike belange) te dien. Demokratiese prosesse en oorsigfunksies is ondermyn en kaderontplooiing was instrumenteel in hierdie verband. Hiervolgens word vermeld dat "to a large extent this occurred through strategic appointments and dismissals at public entities and a reorganization of procurement processes" (PARI, 2022:3-4). Korrupte leiers het veral 'n groot invloed op aanstellings (lees kaderontplooiings) gehad. Leiers wat direk met staatskaping verbind word en teen wie regsvervolging aanbeveel is, het ingesluit Dudu Myeni, Brian Molefe, Salim Essa, Eric Wood, Anoj Singh, Siyabonga Gama, Matshela Koko, Lucky Montana, Arthur Fraser, Jacob Zuma en Duduzane Zuma (PARI, 2022:6).

    Chancellor House

    Vernoem na die regsfirma waarvan Mandela en Tambo tydens die vyftigerjare vennote was, is die instelling in 2003 gestig met die doel om as die ANC se befondsingsarm te funksioneer. Die opkoop van aandele en/of oorname van maatskappye (Hitachi - Japan, Pfister - Switser-land) het plaasgevind en staatskontrakte is aan firmas waarby Chancellor House 'n belang gehad het, toegeken. Sodoende het geld die weg na ANC-koffers asook ANC/regeringselites gevind (Vergelyk Castingssa, 2008:1-9; De Wet & Mataboge, 2015:1-3). Bogenoemde het in werklikheid beteken dat die regering as beide speler en skeidsregter opgetree het in die toekenning van kontrakte tot die voordeel van die regerende ANC as party. Met die bekendmaking deur die koerant Mail & Guardian (in 2006) ten opsigte van die rol wat Chancellor House in regeringsgeorkestreerde korrupsie gespeel het, is skokgolwe deur die politieke landskap gestuur. Met die toekenning van 'n Wêreldbank-lening van $3,75 miljard in April 2008 (vir die stabilisering van elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika, met inbegrip van die bou van die kragsentrales Medupi en Kusile) was die ANC gereed om finansiële voordeel vir die organisasie hieruit te kon beding (Jolobe, 2010:210-217; De Wet & Mataboge, 2015:1-3). Chancellor House is onder meer geïmpliseer in die R20 miljard Hitachi-transaksie vir die aankoop van ses stoomketels vir ESKOM, met gunslone vir die ANC asook kontrakte vir swartbemagtigings-instellings, met inbegrip van die verryking van kaders. Hierdie korrupsie waarmee Chancellor House verbind is, het ook internasionale bande met internasionale maatskappye, en selfs die staat Rusland word hier geïmpliseer (Jolobe, 2010:201-217; Donnelly, 2014:1-5; De Wet & Mataboge, 2015:1-3). Hierdie onthulling in 2006 en die verdere ontbloting van wandade het tot groot omstredenheid en kontroversie gelei. 'n Samehang/-werking tussen politieke en kriminele elites, 'n duidelike kenmerk van 'n pakhanate-staat, was hier aan die orde.

    In reaksie op bogenoemde het die ANC-regering egter enige verband met Chancellor House heftig ontken en ook enige ondersoeke in hierdie verband geweier of geblokkeer. Gedurende 2015 het die Amerikaanse regstelsel nietemin vir Hitachi (waarin Chancellor House aandele gehad het) skuldig bevind aan korrupsie binne Suid-Afrika, en die maatskappy het 'n boete van $19 miljoen as skulderkenning betaal. In hierdie verband het Zweli Mkize (destyds die tesourier-generaal van die ANC) soos volg gereageer:

    [I] categorically state that the organization was not involved, implicated or approached to answer anything relating to the charges brought against Hitachi. The ANC was further not involved in the transaction between Hitachi and Chancellor House, nor do we have any information on any impropriety relating to the award of the Medupi or Kusile [power station] contracts to Hitachi ... . (De Wet & Mataboge, 2015:2-3)

    Geen verdere ondersoeke het hierop gevolg nie (Mail & Guardian, 2008:1-5). Later is die regerende party geforseer om wetgewing oor partybefondsing te aanvaar waarvolgens partye hul bron van inkomste moes verklaar onder die toesigrol van die Onafhanklike Verkiesingskommissie en die parlement (Jolobe, 2010:201-217; Donnelly, 2014:1-5).

    Sluipmoorde en die "kommersialisering van misdaad"

    Bruce (2013) het bevind dat daar tussen 1994 en 2013 sowat 450 sluipmoorde in KZN alleen uitgevoer is. Suttner (2013:1-2) verwys na die feit dat "assassinations have become a regularised way of deciding on leadership and access to wealth within the ANC and its allies". Die episentrum van die sluipmoorde is KZN, gevolg deur Mpumalanga, en minder so in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat. Shaw en Thomas (2016) verwys byvoorbeeld na sowat eenduisend sluipmoorde (of gepoogde sluipmoorde) wat tussen 2000 en 2015 uitgevoer is. Heelwat van diegene wat gedood is, was politici, raadslede of personeel met besluitnemingsmagte oor die toekenning van tenders. Kommerwekkend is dat die tendens van sluipmoorde aan die toeneem is, met 54 raadslede en 104 munisipale werkers wat tussen 2000 en 2024 op hierdie wyse gedood is (Mwareya, 2023:1-3). SALGA het boonop bevind dat 58% van raadslede wat gesterf het, die oortreders persoonlik geken het (Mwareya, 2023:2-3).

    Die kommersialisering van politieke sluipmoorde is 'n algemene en uiters kommerwek-kende verskynsel binne die Suid-Afrikaanse politieke konteks. 'n Verslag van Global Initiative Against Transnational Crime (2021) het vasgestel dat die betaling vir die uitvoering van 'n politieke sluipmoord enigiets tussen R 2 600-00 en R156 000 is, afhangende van die status en profiel van die persoon en die risiko's daaraan verbonde (Mwarya, 2023:3-4). Oorsake vir sluipmoorde sluit in faksiegevegte binne partye, konflik binne 'n party, toekenning van tenders, fluitjieblasers teen korrupsie en finansiële voordeel in die een of ander opsig (Commins, 2024:1-2).

    'n Kenmerkende patroon is dat die getal sluipmoorde in die algemeen geëskaleer het en besonder hoog is in die aanloop tot verkiesings. Die 131 sluipmoorde tydens 2023 word in verband gebring met onder meer georganiseerde misdaad, die taxibedryf, asook politieke en persoonlike redes - met laasgenoemde dikwels vir finansiële gewin. In die eerste vier maande in die aanloop tot die 2024-verkiesing is 35 sluipmoorde aangeteken, waarvan tien as polities gemotiveerd geklassifiseer kan word (Commins, 2024:1).

    Teen die agtergrond van eskalerende sluipmoorde in KZN is die Moerane-kommissie in die lewe geroep, na aanleiding waarvan 'n dokument van 423 bladsye in September 2018 aan die KZN-wetgewer deur premier Willies Mchunu voorgelê is. Uit die verslag het die tekort-kominge van die misdaadvervolgingstelsel aan die lig gekom, asook die oneffektiwiteit van die intelligensie- en ander veiligheidsomgewings (Singh, 2018:1-8).'n Belangrike bevinding was: "the recruitment of criminal elements by politicians to achieve political ends, resulting in a complex matrix of criminal and political association, [that] inevitably contributes to political murders" (Singh, 2018:4). Laasgenoemde, 'n tipiese eienskap van pakhanate-state, is op talle vlakke kenmerkend van die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing. Nodeloos om daarop te wys dat die bevindinge van die Moerane-kommissie, soos die Seriti-kommissie, op weinig uitgeloop het betreffende suksesvolle implementering.

    Georganiseerde misdaad

    Georganiseerde misdaad is op sigself genome nie 'n eksklusiewe kenmerk van pakhanate-state nie. Wanneer georganiseerde misdaad egter die politieke omgewing impliseer (en die onderskeid tussen politieke en kriminele elite vervaag) tree die pakhanate-verskynsel wel na vore. Die verswakkende staattendens in Suid-Afrika, die prominensie van politieke rolspelers in misdaad en misdaadkartelle is nie onbekend nie en het sedert die demokratiese oorgang selfs meer prominent geraak (Motibi, Roelofse & Maluleke, 2015:1-8). In 'n navorsingsdokument van Global Initiative getiteld Strategic organized crime risk assessment (2022:1-216) word na die omvang, diepte en implikasies van verskeie vorme van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika verwys as "... a dark web: criminal ecosystem". Wat misdaad betref, val Suid-Afrika in die kategorie van state soos Italië, Meksiko, Somalië en Libië (Haffajee, 2022:1-3). Al hierdie state het duidelike pakhanate-kenmerke. Die genoemde verslag met betrekking tot Suid-Afrika beklemtoon dat:

    Organised crime is an existential threat to South Africa's democratic institutions, economy and people ... The recent mass shootings in taverns across the country or the horrific gang rapes in an illegal mining community on the West Rand; continual outbreaks of violence at taxi ranks; shop owners threatened at gunpoint; the assassination of whistle-blowers; ... are not as random as they may first appear ... . (Haffajee, 2022:1)

    Ooreenkomstig hierdie verslag word misdaadtendense toegeskryf aan die samehang van drie sake, naamlik die groei in georganiseerde misdaad; elite-korrupsie (lees staatskaping); en die verbrokkeling van staatstrukture (die verswakkende staat). Interessant is dat daar nie 'n enkele misdaad bepaald uitgesonder kan word nie, maar dat misdadigheid uitgebreid manifesteer en ook eskaleer (Haffajee, 2022c:10).26 Korrupsie en staatskaping word as afsonderlike misdaad in die dokument hanteer. Dit is teen hierdie agtergrond dat Suid-Afrika as 'n kriminele (misdaad-)staat beskou word (Duvenhage, 2023:1-32). Onlangs is daar ook bekend gemaak dat verskeie misdaadsindikate binne ESKOM werksaam is en ook in TRANSNET prominent is. Hierdie tendens hang nou saam met wat hier bo as neopatrimoniale tendense beskryf is en waar daar onder die leiding van politieke leiers op kriminele en Mafia-agtige wyses opgetree word.27

    Georganiseerde misdaad en die eskalasie daarvan hang dikwels saam met die dis-funksionele, korrupte en selfs ingeplofte strafregstelsels en politieke prosesse wat die opper-gesag van die reg ondermyn. Hierdie is 'n tipiese eienskap van pakhanate en is ook prominent in Suid-Afrika. Die regskenner Lewellyn Curlewis (2022:12) verklaar in hierdie verband: "Over the last ten years or more the NPA has become better known for its failure to successfully prosecute than for doing its core job, particularly regarding high-profile criminal cases of corruption involving corporations, state officials and politicians". Die gebruik van die sogenaamde Stalingrad-strategie deur toonaangewende politici, waaronder Jacob Zuma en Ace Magashule, asook die onvermoë van staatsinstellings om bevindings van kommissies van ondersoek te implementeer, dui op die direkte ondermyning van regsprosesse en die demo-kratiese waarde van die oppergesag van die reg. Net een polisiebeampte vir elke 450 000 mense; 'n gekaapte Nasionale Vervolgingsgesag; 'n intelligensie-omgewing wat soms as die instrument vir persoonlike/partybelang aangewend word; en 'n soms polities bevooroordeelde regbank is belangrike kenmerke van pakhanate en is ook prominent binne die Suid-Afrikaanse konteks.28

     

    Is Suid-Afrika 'n pakhanate-staat? - Evaluerende en samevattende perspektiewe

    Uitgaande van die perspektief dat daar geen enkele prototipe vir 'n pakhanate-staat is nie (vergelyk Africa, 2023), moet laasgenoemde liefs ingevolge 'n spektrum van sterker/swakker en/of meer of minder pakhanate-tendense (Patrick, 2012) voorgehou word. Hierdie perspektief staan sentraal ten opsigte van die kategorisering van sodanige state, daarom word die kontekstualisering van state as uitgangspunt vir hierdie ontleding aanvaar. Suid-Afrika sal gevolglik beoordeel word op grond van die kriteria soos hier bo geïdentifiseer. Bepaalde gevolgtrekkings moet daarom ook kontekstueel verdiskonteer word. Op 'n beperkte wyse sal daar ook vergelykend na ander gevallestudies verwys word. Die verandering/hervorming van pakhanate-tendense binne die Suid-Afrikaanse staat sal ten slotte aan die orde kom.

    Staatsverswakking en ondermyning van demokratiese waardes

    Patrone van staatsverswakking (Eunomix, 2020; Duvenhage, 2023c:1-32) tesame met die verswakking van demokratiese kenmerke (Duvenhage, 2023a:116-148) is 'n duidelik waarneembare patroon in die Suid-Afrikaanse politieke/staatkundige konteks. 'n Duidelike ondermyning van die regstaatidee en konstitusionalisme (vroeër voorgehou as normatiewe regstaatlikheid) is hier aan die orde. Hierdie is ook 'n patroon wat aanwesig is by die meeste gevallestudies waar staatsverswakking en/of de-demokratisering aan die orde is.29 In hierdie opsig is die ondermyning van die oppergesag van die reg enersyds, en 'n oneffektiewe, niedoel- matige regstelsel andersyds, 'n prominente verskynsel in Suid-Afrika - veral gedurende staatskaping. Hierdie toedrag van sake in Suid-Afrika stem ooreen met Kayser-Brill (2018:2) se perspektief dat pakhanate-state gekenmerk word deur "... institutional collapse, by removing the foundations supporting the rule of law as an efficient judiciary In aansluiting hierby beklemtoon The Organized Crime Index (2023) dat Suid-Afrika sewende in die wêreld gelys is as een van die top Mafiastate - net onder Nigerië, Paraguay, Colombië, Mianmar en die Demokratiese Republiek van die Kongo (Vegter, 2023:1). Volgens hierdie verslag het die fase van staatskaping bygedra tot wat beskryf word as "pervasive criminal networks ... highly interconnected" (Vegter, 2023:4). In die woorde van Africa: "There is no doubt that there is a growing ecosystem of organized crime overwhelming the state and public life in the country". Suid-Afrika voldoen dus in hierdie opsig aan die vereiste vir 'n pakhanate-staat, met die kwalifikasie dat aspekte van die demokrasie en die strafregstelsel steeds effektief is (soms selektief effektief) en dat daar pogings is om hierdie stelsels te herbou. Laasgenoemde kan stukrag verwerf met die uitslag van die 2024- nasionale verkiesing as gevolg waarvan koalisiepolitiek ANC-eenpartydominansie vervang het en die heropbou van instellings nou 'n skynbaar belangrike prioriteit is.

    Die samehang/-werking tussen kriminele en politieke elites

    Sullivan (2024:1-2) se verwysing na pakhanate-state as 'n "criminal enterprise"; Naim (2012:1) se beklemtoning van pakhanate-state waar "... government officials become integral players, if not the leaders of criminal enterprises, and the defense and promotion of those enterprises" as politieke prioriteit; en Africa (2023) en Vegter (2023) se toepassing hiervan op die Suid-Afrikaanse konteks, beklemtoon die geldigheid van hierdie aspek ten opsigte van laasgenoemde. Trouens, oorweldigende getuienis beklemtoon die geldigheid van bogenoemde as toepassing op die Suid-Afrikaanse konteks. Pakhanate-tendense is duidelik aangetoon in die kommissies van ondersoek se verslae (Seriti; Moerane); pogings om die werksaamhede van die kommissies op talle wyses te ondermyn of in die wiele te ry; asook die wyse waarop Chancellor House as frontmaatskappy van die ANC opgetree het. Dit was nietemin die bevindinge van die Zondo-kommissie na staatskaping wat die korrektheid hiervan bo alle redelike twyfel bevestig het. Nie net is politieke leierskap verbind aan kriminele individue nie, maar die institusionele samewerking (nasionaal en soms ook internasionaal) soos blootgelê deur ondersoeke, in besonder die Zondo-kommissie, beklemtoon hierdie aspek. Staatskaping, waarvan die momentum onder meer vanuit die Staatsveiligheidsagentskap gespruit het, bevestig ook hierdie patroon. Die samehang/-werking tussen politieke en kriminele elites binne 'n Suid-Afrikaanse konteks was 'n bewese feit, en sterk aanduidings bestaan dat dit vandag steeds voortduur. In hierdie opsig toon Suid-Afrika 'n duidelike en onbetwisbare eienskap van dít wat redelik algemeen by pakhanate-state aangetref word.

    Ekonomiese en handelsomstandighede

    Wanneer 'n vryemark-handelsomgewing enersyds en eskalerende kriminaliteit andersyds saam bestaan, bepaal hierdie samehang 'n stel omstandighede wat pakhanate-tendense bevorder. Suid-Afrika se historiese posisie as 'n handelsekonomie afhanklik van buitelandse investering enersyds, internasionale vryemark-omstandighede en verswakkende staattendense ('n onvermoë om spelreëls gesaghebbend toe te wys) andersyds, ondersteun die pakhanate-fenomeen. In hierdie verband verwys Africa (2023:4) na die bestaan van 'n "political economy of crime", waar daar benewens die formele en informele ekonomiese orde ook 'n derde ekonomie, naamlik 'n misdaadgedrewe ekonomie bestaan. Die aard hiervan word soos volg beskryf:

    Even big, multinational companies may also covertly engage in illicit operations in spite of appearances. On the other hand, criminals often exploit vulnerable people where the state has failed to meet basic needs: they offer jobs, opportunities and income, a phenomenon seen not only in South Africa, but across the African continent. (Africa, 2023:4)

    Die samehang en saambestaan hiervan met die aanwesigheid van polities-kriminele elites is 'n werklikheid wat nie ontken kan word nie. Verskeie verslae waaronder The Organized Crime Index; Strategic Organized Crime Risk Assessment, asook talle interne ondersoeke beklemtoon hierdie aspek. Ook in hierdie opsig kwalifiseer Suid-Afrika derhalwe ten opsigte van hierdie kriterium, soos dit verband hou met die vroeëre konseptualisering van 'n pakhanate-staat.

    Neopatrimoniale tendense

    Die aanwesigheid van sosiale strukture met magsbasisse onderskeidend van en soms konflikterend met dié van die staat is 'n faktor wat pakhanate-tendense bevorder. Neopatrimo-niale tendense is prominent aanwesig binne die Suid-Afrikaanse politiek (vergelyk Duvenhage, 2007; 2023; Strydom, 2020), en ook ondermynend ten opsigte van demokratiese staatstrukture as gevolg hiervan. Die samegroeiing van tradisionele magsbasisse (patrimoniaal van aard) en rasioneel-wetlike instellings (lees gevestigde staatsinstellings) is prominent en stel 'n grondslag daar vir die misbruik van staatsinstellings vir politieke gewin. Laasgenoemde was prominent tydens veral die Zuma-era, maar ook daarna, soos bevind deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Verskeie instellings op verskeie vlakke is geïmpliseer, met inbegrip van die SVA, die Nasionale Vervolgingsgesag, provinsiale leierskap, ensovoorts. Die aanwesigheid van parallelle strukture (soms regime-ondersteunend of -ondermynend) is ook duidelik waarneembaar binne die Suid-Afrikaanse konteks.30

    Tot die mate wat neopatrimoniale tendense 'n grondslag daarstel vir pakhanate-tendense, kwalifiseer Suid-Afrika om as pakhanate-staat geïdentifiseer te word. Die inhegtenisname van Jacob Zuma in 2021 weens korrupsie en regsverydeling, die geweld wat hierop gevolg het waarin meer as 300 mense gedood is; ekonomiese sabotasie ter waarde van R50 miljard; met veiligheidsmagte waaronder die SVA en polisiedienste wat Zuma openlik ondersteun het, is 'n uiterste voorbeeld waarin neopatrimoniale tendense pakhanate-tendense bevorder het.31Ook ten opsigte van hierdie aspek val Suid-Afrika binne die breër kategorie van kriteria wat met pakhanate-state verbind word.

    Veranderende internasionale konteks

    Met die kompleksiteit en diversiteit van internasionale akteurs en die aanwesigheid van bepaalde konflikte kan ooreenkomste en vennootskappe met akteurs pakhanate-patrone bevorder en/of handhaaf. Dit hang saam met misdaadsindikate wat internasionaal optree, sowel as state wat hul skuldig maak aan menseregte-oortredings en/of misdade teen die mensdom. Misdaadverslae waarna vroeër verwys is, impliseer Suid-Afrika in hierdie verband, asook verhoudinge met state wat internasionale terreur bevorder. In Maart 2023 het die Financial Action Task Force (FATF) 'n internasionale finansiële waghondinstelling, Suid-Afrika op die sogenaamde gryslys geplaas weens onder meer geldwassery en die finansiering van terroristeinstellings. 'n Verslag getiteld South African National Terrorism Financing Risk Assessment (2024:1-8) bevestig 'n verband tussen internasionale misdaadsindikate en die finansiering van terroristeorganisasies met 'n hoë risikogradering in hierdie verband.32 'n Groot aantal kwessies moet aangepak word voordat Suid-Afrika van die lys verwyder sal word. Net beperkte vordering is tot dusver hiermee bereik (vergelyk Scott & South, 2024:1-12). Hoewel bogenoemde nie uitsluitlik Suid-Afrika in die kategorie van 'n pakhanate-staat plaas nie, is hierdie tendens, soos gelees in samehang met ander faktore, beslis kommerwekkend en ondersteunend tot die aanwesigheid van reeds geïdentifiseerde pakhanate, soos reeds aangedui. Samewerking met state soos China, Iran, Noord-Korea en Rusland en insidente soos byvoorbeeld die Lady R-episode, bevorder 'n negatiewe beeld van Suid-Afrika - veral ten opsigte van menseregte-kwessies en daarmee die land se beeld internasionaal.

    Toegang tot tegnologie

    As 'n toonaangewende tegnologiese omgewing in Suidelike Afrika (staatlik en niestaatlik), gekombineer met 'n verswakkende staat (beperkte tot swak kontrole), skep Suid-Afrika 'n ideale groeibodem vir pakhanate. Trouens, as 'n staat wat oor 'n kernvermoë beskik het, die vermoë gehad het om uraan te verryk, oor 'n gesofistikeerde militêre bedryf beskik het, 'n uiters gesofistikeerde bankstelsel het; en vrye toegang tot nuwe kommunikasietegnieke, is Suid-Afrika gesog vir misdaadsindikate en selfs terreurgroepe.33 Gelees in samehang met bogenoemde faktore, skep dit weereens 'n gunstige groeibodem vir pakhanate-tendense, veral gelees in samehang met verswakkende staattendense en in besonder die inploffing van die strafregstelsel, asook Suid-Afrika se verbintenis tot terreurgroepe, met inbegrip van Hamas en Hezbollah.

     

    Gevolgtrekking

    Suid-Afrika soos gemeet aan bostaande kriteria, kwalifiseer ongetwyfeld daarvoor om binne die breër raamwerk van die konsep as 'n pakhanate-staat voorgehou te word. Daar is nietemin ook faktore wat op die teendeel dui. Hiervan is 'n demokratiese grondwet (soms met beperkte toepassing); die heropbou van die strafregstelsel of pogings in hierdie verband; optredes of gepoogde optredes teen korrupsie; asook pogings om van die gryslys verwyder te word, ondersteunende getuienis. Wat nietemin duidelik is, is dat daar nog 'n pad van politieke, ekonomiese en maatskaplike hervorming geloop moet word om te voldoen aan die uitgespelde eis van normatiewe staatsregtelikheid en wat van 'n staat verwag moet word in hierdie verband.

    Die verkiesing van 2024 en die totstandkoming van 'n Regering van Nasionale Eenheid met 'n verbintenis tot die oppergesag van die grondwet; die heropbou van veral die strafregstelsel; en 'n skynbare verbintenis om die bevindinge van die Zondo-kommissie te implementeer, is stappe in die regte rigting. Die konsolidasie van demokratiese waardes (soos beliggaam in die kriteria onderliggend aan normatiewe staatsregtelikheid) en die effektiewe funksionering van staatsinstellings is noodsaaklik vir die uitwissing van die pakhanate-fenomeen binne die Suid-Afrikaanse konteks.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Africa, S. 2023. Link between crime and politics in South Africa raises concerns about criminal gangs taking over. https://www.biznews.com/thought-leaders/2023/02/07/sa-Mafia-state.         [ Links ]

    Afriforum. 2023. Rural Injustice: The low prosecution rates for farm attacks and murders. https://afriforum.b-cdn.net/wp-content/uploads/2023/Rural-injustice-The-low-procecution-rates-for-farm-attacks-and-murders-September-2023.pdf (27 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Ake, C. 1975. A definition of political stability. Comparative Politics, 7(2):271-83.         [ Links ]

    Alfano, V. 2015. State and Mafia, differences and similarities. Studia Humana, 4(1):1-12.         [ Links ]

    Amnesty International. 1992. South Africa - Torture, ill-treatment and executions in African National Congress camps. Amnesty International 2 December 1992. Al Index 53/27/92.         [ Links ]

    ANC. 2017. ANC National Policy Conference: Strategy and tactics of the African National Congress. Discussion document. https://www.anc1912.org.za/50th-national-conference-strategy-and-tactics-of-the-african-national-congress (1 November geraadpleeg).         [ Links ]

    Andreas, P. 2012. Measuring the Mafia-state Menace: Are Government-backed Gangs a Grave New Threat? http://foreignaffairs.com/articles/137692/peter-andreas-moises-naim/measuring-the-Mafia-state-menace Foreign Affairs (July/August 2021) (25 Mei 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Anon. 2003. "Probe Mbeki's Role in Arms Deal - De Lille. http://www.armsdeal-deal-vpo.co.za/articles04/probe_mbeki.html Cape Times. 3 September 2003 (21 Desember 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

    Anoniem. 2019. South Africa is one of the least safe countries in the world. Businesstech, 24 November. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of-the-least-safe-countries-in-the-world (30 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Baxter, J. 2020. Latest crime statistics for South Africa - increases in murder rate. SA People News, 31 Julie. https://www.sapeople.com/eish-south-african-stuff/latest-crime-statistics-for-south-africa-increase-in-murder-rate (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    BBC-Special Report. 1998. http://news.bbc.co.uk/2/hi/special_report/1998/03/98/russian_Mafia/therise-and-rise-of-the-russian-Mafia/ (13 Junie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Biznews-editor. 2024. SA's growing organized crime epidemic: is it becoming a "Mafia State"? https://www.biznews.com/thought-leaders/2023/02/07/sa-Mafia-state (23 April 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Bloomberg. 2020. Advisory group puts a date to South Africa's collapse. Businesstech, 10 September. https://businesstech.co.za/news/business/432504/advisory-group-puts-a-date-to-south-africas-collapse (20 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

    Bratton, M & N van de Walle. 1998. Democratic experiments in Africa: Regime transformations in comparative perspective. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Bratva: The Emergence and Growth of the Russian Mafia. 2022. http://brewminate.com/bratva-the-emergence-and-growth-of-the-russian-Mafia/ (25 September 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

    Beresford, A. 2015. Power, patronage, and gatekeeper politics in South Africa. African Affairs, 114(455):226-48. https://doi.org/10.1093/afraf/adu083 (30 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Bruce, D. 2013. A provincial concern? Political killings in South Africa. SA Crime Quarterly. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC142347 (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Burger, P. 2023. South Africa has been greylisted for not stopping money laundering and terrorism funding. What it means. The Conversation, 26 Februarie. https://theconversation.com/south-africa-has-been-grey-listed-for-not-stopping-money-laundering-and-terrorism-funding-what-it-means-200696 (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    BusinessLIVE. 2021. State Security Agency was politicised, Zondo commission told. BusinessDay, 26 Januarie. https://businesslive.co.za/bd/national/state-security-agency-was-politicised-zondo-commission-told (28 Januarie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

    Castingssa. 2008. ANC's Chancellor House fingered in secret R170 million deal. https://castingssa.com/ancs-chancellor-house-fingered-in-secret-r170-million-deal/ (3 Julie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Chipkin, I & M Swilling. 2018. Shadow state: The politics of state capture. Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.         [ Links ]

    Chulov, M. 2021. "'Mob boss' Assad's dynasty tightens grip over husk of Syria" https://www.theguardian.com/world/2021/may/26/bashar-al-assad-dynasty-tightens-grip-over-husk-of-syria | (19 Junie 2024geraadpleeg).         [ Links ]

    Commins, L. 2024. Surge in political assassinations sparks concern ahead of South Africa's May elections. https://mg.co.za/politics/2024-05-21-surge-in-political-assassinations-sparks-concern-ahead-of-south-africa-may-elections/ (9 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Cotterill, J. 2021. South Africa counts the cost of its worst unrest since apartheid. https://www.ft.com/content/1b0badcd-2f81-42c8-ae09-796475540ccc (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Crouse, G. 2023. Disturbing details behind "job bloodbath" data. Daily Friend, 28 Julie. https://dailyfriend.co.za/2023/07/08disturbing-details-behind-jobs-bloodbath-data (3 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Curlewis, L. 2022. The South African criminal justice system: under siege. Referaat gelewer by die Universiteit van Pretoria ter afskeid van prof Koos Malan op 19 Augustus. Ongepubliseer.         [ Links ]

    Daily Investor. 2022. South Africa on the verge of collapse - economist. https://dailyinvestor.com/south-africa/5825/south-africa-on-the-verge-of-collapse-economist (6 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Democratic Alliance. 2023. Track the consequences of Zondo's State Capture reports. https://www.da.org.za/statecaptureconsequences (17 Januarie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    De Ruyter, A. 2023. Truth to power: My three years inside Eskom. Johannesburg: Penguin Books.         [ Links ]

    De Wet, P. 2016. SA justice system is battling. Mail & Guardian, 16 September. https://mg.co.za/article/2016-09-16-00-sas-justice-system-is-battling (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    De Wet, P. & Mataboge, M. 2015: Chancellor House: R266m for nine years of lies by ANC partner. https://mg.co.za/article/2015-09-29-chancellor-house-r266-million-for-lies-by-anc-partner/ (7 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Die Zeit_online: Interview with Edgardo Buscaglia.2011. http://www.zeit.de/wirtschaft/2011-03/drogenstraat-mexiko-korruption Die Zeit_online: Interview with Edgardo Buscaglia.2011. http://www.zeit.de/wirtschaft/2011-03/drogenstraat-mexiko-korruption.         [ Links ]

    Donnelly, L. 2014. ANC: Banning party investment arms not the answer. https://mg.co.za/article/2014-03-27-anc-banning-party-investment-arms-not-the answer/ (7 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Drug trafficking Statistics Worldwide. 2024. Drug trafficking statistics worldwide. https://www.wellbrookrecovery.com/post/drug-trafficking-statistics (15 Mei 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Duane, EC. 2017. Corruption and state capture under two regimes in Guyana. ResearchGate. https://www.researchgate.net/publication/316608300_Corruption_and_State_Capture_under _two_Regimes_in_Guyana/link/59076cbc4585152d2e9c42ea/download (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Du Toit, A. 2023. Russia could cost South Africa's car industry R435 billion and 112 000 jobs this week. TopAuto. https://topauto.co.za/news/81461/russia-could-cost-south-africas-car-industry-r435-billion-and-112000-jobs-this-week (26 Julie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Duvenhage, A. 1998. Die krisis van die nasiestaat. Acta Academica,,31(3):1-35.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2005a. Politieke transformasie - 'n konseptuele oriëntasie en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(2):1-40.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2005b. The dynamism of political transformation in South Africa - a general assessment. Communitas, 10:1-19.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2007a. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: 'n strategiese ontleding en scenario- analise. Professorale intreerede. NWU (Potchefstroom).         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2007b. Politieke transformasie as 'n ideologiese raamwerk - 'n beleidsanalise en perspektief. Koers, 72(3):19-41.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2007c. Die Suid-Afrikaanse politiek: 'n neo-patrimoniale logika? Woord en Daad. Herfs uitgawe: 17-22.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2020a. Suid-Afrika by 'n kantelpunt: 'n slegte-saak-scenario? LitNet Akademies, 17(3):241-68. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/12/LitNet_Akademies_17-3_Duvenhage_241-268.pdf.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2020b. Suid-Afrika in 'n smeltkroes van verandering: eietydse en toekomsperspektiewe. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 56(3/4):137-62.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2021. Politieke transformasie in Suid-Afrika: implikasies vir die staat, die ekonomie en samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(3):713-37.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2022. The role of political parties in coalition building at the local government level. In Reddy e.a. (eds), 2022:187-214.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2023a. Sal die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef? LitNet Akademies, 20(1):116-48. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2023/05/LitNet_Akademies_j20n1b5_Duvenhage.pdf.         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2023b. Die 2024-verkiesing: is 'n Suid-Afrikaanse Lente op pad? LitNet: Seminare & Essays, 25 Oktober. https://www.litnet.co.za/die-2024-verkiesing-is-'n-suid-afrikaanse-lente-op-pad (24 Januarie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Duvenhage, A. 2023c. Patrone van onstabiliteit in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing - 'n tendens- ekstrapolasie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):1-32.         [ Links ]

    Easton, D. 1965. A systems analysis of political life. New York: John Wiley & Sons.         [ Links ]

    English-Old Turkish Dictionary. 2023. "khagan in Old Turkish - English-Old Turkish Dictionary/Glosbe" https://glosbe.com/en/otk/khagan) (21 April 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Encyclopedia Britannica. 2024.Yakuza. https://www.britannica.com/topic/yakuza (Geraadpleeg 15 Augustus 2024).         [ Links ]

    Erasmus, D & L Hlangu. 2021. Phoenix massacre: What really happened in the deadly collision of brutalized communities. Daily Maverick, 28 Julie. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-07-28-phoenix-massacre-what-really-happened-in-the-deadly-collision-of-brutalised-communities (30 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Eunomix. 2020. South Africa heading towards becoming a failed state. Al Jazeera, 10 September. https://www.aljazeera.com/economy/2020/9/10/south-africa-heading-towards-becoming-a-failed-state-report (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Geldenhuys, D. 1999. Staatsverval. Politeia, 18(2):37-56.         [ Links ]

    Global Initiative Against Transnational Organized Crime. 2022. Strategic organized crime risk assessment South Africa. https://www.scribd.com/document/595885595/GI-TOC-Strategic-Organized-Crime-Risk-Assessment-South-Africa (30 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Greffrath, WN. 2015. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

    Gumede, W. 2021. We are going down, the Mexican way. Sunday Times, 21 Februarie, p. 2.         [ Links ]

    Gumede, W. 2022. South Africa's organized crime climbs to Italy's level, racing past Mexico, Somali and Libya. Daily Maverick, 21 September. https://dailymaverick.co.za/article/2022-09-21-south-africas-organised-crime-climbs-to-italys-levels-racing-past-mexico-somalia-and-libya (2 November 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

    Harding, A. 2021. South Africa riots: The inside story of Durban's week of anarchy. BBC News. https://www.bbc.com/news/world-africa-57996373 (4 April 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Heywood, A. 2002. Politics. 2de uitgawe. New York: Palgrave Foundations.         [ Links ]

    Hlongwane, S. 2013. Amid accusations of a double agenda, Arms Deal Commission loses senior investigator. https://www.dailymaverick.co.za/article/2013-01-18-amid-accusations-of-a-double-agenda-arms-deal-commision-loses-senior-investigator/ (27 Junie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Horne, W. 2022. Staal jou: Begroting wys "moeilike tye kom". Beeld, 27 Oktober, p. 2.         [ Links ]

    Huntington, SP. 1968. Political order in changing societies. London: Yale University Press.         [ Links ]

    Huntington, SP. 1991. The third wave: Democratization in the late 20th century. Oklahoma: University of Oklahoma Press.         [ Links ]

    Jackson, R. 1993. Quasi-states: Sovereignty, international relations and the Third World. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Johnson, RW. 2015. How long will South Africa survive? - the looming crisis. Cape Town: Jonathan Ball.         [ Links ]

    Jolobe, Z. 2010. Financing the ANC: Chancellors House, ESKOM and the dilemmas of party finance reform. In Butler, A. (ed.). Political funding and political change in South Africa and the global South. Johannesburg: Jacana, pp.201-217.         [ Links ]

    Kayser-Bril, N. 2018. The emergence of the Mafia state. https://blog.nkb.fr/Mafia-state/ (23 April 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Kinnaird, BA. 2018. The criminal justice system is broken and can't be fixed. Psychology Today, 2 Desember. https://www.psychologytoday.com/za/blog/the-hero-in-you/201812/the-criminal-justice-system-is-broken-and-cant-be-fixed (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Letizia, P. 2016. Oxford handbook of Italian Politics. Oxford University Press, pp. 670-671.         [ Links ]

    Logan, C & S Nkomo. 2021. South Africa's turmoil is about more than Jacob Zuma. The Washington Post, 23 Julie. https://www.washingtonpost.com/politics/2021/07/23/south-africas-turmoil-is-about-more-than-jacob-zuma (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    MacIver, RM. 1966. The modern state. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

    Majozi, P. 2023. SA's problem of lawlessness and disorder. Politicsweb, 10 Julie. https://www.politicsweb.co.za/opinion/south-africas-problem-of-lawlessness-and-disorder (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Mail & Guardian. 2008. ANC 'not investigating' Chancellors House. https://mg.co.za/article/2008-02-25-anc-not-investigating-chancellor-house/ (7Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Malala, J. 2021. Justice Malala: Actually South Africa has a KZN problem. BusinessLIVE, 29 Julie. https://www.businesslive.co.za/fm/opinion/home-and-abroad/2021-07-29-justice-malala-actually-sa-has-a-kzn-problem (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Malan, K. 2019. There is no supreme constitution - a critique of statist-individualist constitutionalism. Pretoria: African Sun Press.         [ Links ]

    Malan, K. 2023. The disintegration of the South African order. Politicsweb, 7 Januarie. https://www.politicsweb.co.za/opinion/the-disintegration-of-the-south-african-order (27 Julie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Matamba, R. 2023. The business of killing - Assassinations in South Africa. https://globalinitiative.net/analysis/assassinations-targeted-killings-south-africa (1 Desember 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Matthee, H. 2019. South Africa's multipolar future and the ANC's hybrid regime (oorspronklike weergawe van navorser ontvang en in my besit).         [ Links ]

    May, C. 2017. Transnational Crime and the developing world. Global financial Integrity, pp.xi.         [ Links ]

    Mazrui, A. 1995. The blood of experience: the failed state and political collapse in Africa. World Policy Journal, 12(1):28-34.         [ Links ]

    Merriam-Webster dictionary. 2023. Definition of KHANATE. https://www.merriam-webster.com/dictionary/khanate www.merriam-webster.com. (21 April 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Merten, M. 2019. State capture wipes out third of SA's R4,9 trillion GDP - never mind lost trust, confidence, opportunity. Daily Maverick, 1 Maart 2021. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-03-01-state-capture-wipes-out-third-of-sas-r4-9-trillion-gdp-never-mind-lost-trust-confidence-opportunity (18 Maart 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

    Migdal, JS. 1988. Strong societies and weak states: State-society relations and state capabilities in the third world. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

    Mothibi, KA, C Roelofse & AH Maluleke. 2015. Organized crime in South Africa since transition to democracy. Sociology and Anthropology, 3(12):1-8.         [ Links ]

    Mustaffa, M. 2023. Russia: The Mafia as the state.https://lowyinstitute.org/the-interpreter/russia-Mafia-state (24 Mei 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Mwareya, R. 2023. South Africa: Councillors' political murders at crisis level as 2024 looms. https://www.theafrica.com/327261/south-africa-councillors'-political-murders-at-crisis-level-as-2024-looms/ (7 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Myburg, P-L. 2019. Gangster state - Unravelling Ace Magashule's web of capture. Cape Town: Penguin.         [ Links ]

    Naim, M. 2012. Mafia states. https://carnegieendowment.org/2012/04/25Mafia-states-pub-4795 (22 September 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Odendaal, N. 2017. South Africa continues on the path of deindustrialization. Engineering News,5 Oktober. https://www.engineeringnews.co.za/article/south-africa-continues-on-path-of-deindustrialisation-2017-10-05 (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Patrick, SM. 2012. Illicit networks and the rise of "Mafia States". https://www.cfr.org/blog/illicit-networks-and-rise-Mafia-states (23 April 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Pauw, J. 2017. The President's keepers: Those keeping Zuma in power and out of prison. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Public Affairs Research Institute (PARI). 2022. The Zondo Commission: a bite-sized summary. https://pari.org.za/zondo pp. 1-6 (2 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Romano, S. 1947. The legal order. Abingdon: Routledge.         [ Links ]

    Rotberg, R. 2002. The new state of nation-state failure. The Washington Quarterly, 25(3):85-96.         [ Links ]

    Scott, N, & South, K. 2024. South Africa's Greylisting: Regulatory authorities make progress on the Financial Action Task Force recommendations. https://www.werkmans.com/legal-updates-and-opinions/south-africa's-greylisting-regulatory-authorities-make-progress-on-the-finacial-action-task-force-recommendations/ (17 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Seriti. W. 2015. Report of the Commission of inquiry into Allegations of Fraud, Corruption, Impropriety or Irregularity in the Strategic Defence Procurement Package. (https://www.gov.za/documents/arms-procurement-commission-report-21-april-0000). South African Government. (27Junie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Shaw, M & K. Thomas. 2016. The commercialization of assassination: "Hits" and contract killing in SouthAfrica, 2000-2015. African Affairs, 116(465):597-620. https://doi.org/10.1093/afraf/adw050.         [ Links ]

    Singh, K. 2018. KZN Premier releases Moerane Commission report into political killings. https://www.news24.com/news24/kzn-premier-releases-moerane-report-into-political-killings/ (8 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Stern, K. 1984. Das Staatsrecht der Bundesrepublik Deutschland. Munchen. ISBN 3-46-09372-.         [ Links ]

    Solomon, H. 2013. Jihad: A South African perspective. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

    South African National Terrorism Financing Risk Assessment. 2024.https://www.fic.gov.za/wp-content/uploads/2024/06/National-risk-assessment-terrorist-finacing-national-risk-assessment-2024.pdf (31 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Strategy and tactics. 2012. Strategy and tactics of the ANC. https://www.anc1912.org.za/50th-national-conference-strategy-and-tactics-of-the-african-national-congress (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Strydom, H. 2020. The rise of the neopatrimonial state in South Africa. Johannesburg: Nomos.         [ Links ]

    Sullivan, D. 2021. Mafia States and Kleptocracies. https://gijn.org/resource/organized-crime-chapter-9-Mafia-states-and-kleptocracies/ (10 Junie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Suttner, R. 2013. Government and tripartite alliance 'no pitch' at Marikana memorial. https://raymondsuttner.com/2013/08/18/raymond-suttner-government-and-tripartite-alliance-no-pitch-at-marikana-memorial/ (Geraadpleeg 3 September 2024)        [ Links ]

    Sylvester, J & Seegers, A. 2008. South Africa's strategic arms package: a critical analysis. African Journal of military studies, 36(1): 52-77. https://scientiamilitaria.journals.ac.za/pub/article/view/45 (28 Junie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Thamm, M. 2021. Days of Zondo: Secret billions poured into State Security Agency to sustain and protect "Zuma regime", claims acting DG Loyiso Jafta. Daily Maverick, 26 Januarie. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-01-26-secret-billions-poured-into-state-security-agency-to-sustain-and-protect-zuma-regime-claims-acting-dg-loyiso-jafta (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Tilly, C. 1985. War Making and State Making as organized crime (In: Evans, P. et.al.. Bringing the State Back. Cambridge: Cambridge University Press, pp.169-186.         [ Links ]

    Versluis, J-M & J de Lange. 2019. How law enforcement in SA has all but collapsed. News24, 21 Oktober. https://www.news24.com/citypress/news/rising-crime-low-prosecution-rates-how-law-enforcement-in-sa-has-all-but-collapsed-20191021 (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    UNODC. 2024. United Nations Office on Drugs and Crime. http://www.unodc.org/drug (26 Junie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Vegter, I. 2023. South Africa's alarming rise among top Mafia States: A looming threat to stability. https://www.biznews.com/rational-perspective/2023/10/03/south-africa's-alarming-rise-among-top-Mafia-states-a-looming-threat-to-stability (7 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

    Vhumbunu, CH. 2021. The July 2021 protests and socio-political unrest in South Africa. Accord, 10 Desember. https://www.accord.org.za/conflict-trends/the-july-2021-protests-and-socio-political-unrest-in-south-africa (1 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

    Weber, M. 1964. The theory of social and economic organization. New York: Free Press.         [ Links ]

    Zartman, W (ed.). 1995. Collapsed states: The disintegration and restoration of legitimate authority. Boulder: Lynne Reiner Publishers.         [ Links ]

    Zondo Commission. 2022. Final Reports. https://www.statecapture.org.za/site/information/reports (27 Julie 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2024-08-20
    Goedgekeur: 2024-09-02
    Gepubliseer: September 2024

     

     

     

    André Duvenhage is 'n Navorsingsprofessor aan die Noordwes-Universiteit; 'n politieke wetenskaplike, en hy spesialiseer in die veld van politieke verandering met as toepassing die Suid-Afrikaanse verband. Hy is 'n bekende in media-en joernalistieke kringe en word dikwels as politieke kommentator gehoor. Hy is reeds meer as 40 jaar verbonde aan akademiese instellings soos die Universiteit van die Vrystaat en die Noordwes-Universiteit. Sy groot belangstelling is die toekoms en hy werk ook in die veld van scenario-ontledings.
    André Duvenhage is a Research Professor at the North West University; a political scientist, and he specialises in the field of political change as applied to the South African context. He is well-known in media and journalistic circles, and is often requested to comment on political affairs. He has been attached for more than 40 years to academic institutions such as the University of the Free State and the North West University. His major interest is the future and he also works in the field of scenario analysis.
    1 Vergelyk die publikasies van onder meer Johnson (2015); Pauw (2017); Chipkin & Swilling (2018) Myburg (2019) en De Ruyter (2023) vir die omvang en vlak van korrupsie binne die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel en verwante instellings.
    2 Hierdie aspekte word later breedvoerig hanteer met gepaste verwysings.
    3 Vergelyk Duvenhage (1998:2-3) vir 'n volledige konseptualisering van politiek.
    4 Vergelyk die voorafgaande konseptualisering van politiek en hoe dit in hierdie opsig verskil van veral die Weberiaanse staatsbeskouing.
    5 Hierdie aspek word meer volledig hanteer wanneer die taak van die staat aan die orde kom; spesifiek ten opsigte van normatiewe regstaatlikheid in die volgende afdeling.
    6 Soortgelyke studies in hierdie verband sluit in Zartman ed.(1995), Geldenhuys (1999); Rotberg (2002:85-96); Migdal (1988); Duvenhage (2007) en Greffrath (2015) wat verdere besonderhede oor die aard en kenmerke van staatsverswakking verskaf.
    7 Vergelyk Stern (1984) vir sy uitgebreide ontleding van die toepaslike kenmerke van die regstaat en die toepassing daarvan.
    8 In die wêreld van georganiseerde misdaad is betroubare en geldige data, inligting en syfers moeilik bekombaar en selde baie akkuraat en volledig. Verskeie verslae van onder meer die VN en Interpol wys egter nie net op die omvangryke aard van georganiseerde misdaad wêreldwyd nie, maar ook die noue samewerking wat bestaan tussen magtige dwelmsindikate en state, waaronder Bulgarye, Oekraïne, Guinee Bissau, Montenegro, Mianmar, Venezuela, Meksiko, Sirië, Colombië, Iran en Afghanistan (Naim, 2012:1; UNODC: http://www.unodc.org/drug). Volgens berekening beloop globale dwelmhandel tussen $435 miljard en $652 miljard per jaar, met 'n winsmarge van $322 miljard (Drug Trafficking Statistics Worldwide, 2024:1-5). Die waarde van onwettige wapenhandel is tydens 2014 bereken op $1735 miljard (May, 2017: xi). Die magsbasisse van dwelmkartelle in state soos Colombië, Venezuela en Sirië (om enkele gevalle te beklemtoon) is óf 'n direkte bedreiging vir staatsgesag óf is reeds wat vroeër na verwys is pakhanate-state.
    9 Alfano (2015) analiseer die rol en funksie van Mafiastrukture en argumenteer dat hierdie soort instellings 'n mededingende staatsalternatief verskaf vir die burgery aangesien sodanige strukture dieselfde en soms beter dienste (lees veral veiligheid en sekuriteit) kan verskaf. Alfano (2015:9) argumenteer ter verdediging van Mafiastrukture dat "If it is not possible, without the use of personal (and therefore by definition controversial and questionable) ethical principles, to distinguish between the state and the mafia, what makes state taxes less odious and unwanted than the pizzo protection"?
    10 Vergelyk Duvenhage (2007c:17-22) se konseptualisering van patrimonialisme, die konflik met rasioneel-wetlike instellings en die samehang hiervan in wat voorgehou word as neopatrimonia-lisme. Die toepassing hiervan op die Suid-Afrikaanse konteks word ook hier hanteer.
    11 Vergelyk Duvenhage (2023a:116-148) vir 'n volledige konseptualisering van hierdie normatiewe grondslag, soos ook vroeër in hierdie artikel na verwys word.
    12 Daar word bloot oorsigtelik verwys na gepaste voorbeelde soos afgelei vanuit die voorafgaande teoretiese raamwerk.
    13 In Italië was daar drie Mafia-instellings wat sedert die 19de eeu tot stand gekom het. Die Cosa Nostra het in Sicilië ontstaan, die Camorra in Campania en die Ndrangheta in die Calabria (Letizia, 2016:670-671). Hoewel talle politici en amptenare histories aan mafia-instellings in Italië verbind is (Giulio Andreotti, 'n Italiaanse premier, is 'n onlangse prominente voorbeeld), is die onafhanklikheid van die politieke stelsel en funksionarisse enersyds en georganiseerde misdaad (lees Mafia-instellings) andersyds grootliks gehandhaaf. Dit maak Italië nie 'n klassieke volgroeide pakhanate nie, ten spyte van die aanwesigheid van histories gevestigde Mafia-instellings.
    14 Tydens die 1990's, toe Putin onderburgermeester in St. Petersburg was (nadat hy die KGB verlaat het), het hy sterk bande gebou met die Tambovskaya-Malyshevskaya kriminele sindikaat bekend vir sy dobbelbedrywe en geldwassery - bedrywe wat later na Spanje uitgebrei is. Dit is hier waar Putin vir Prigozhin ontmoet het, wat na bewering onlangs deur eersgenoemde se toedoen gesterf het (Mustaffa, 2024: 3-4).
    15 In 1995 het Louis Freeh van die Amerikaanse FBI die gevaar van die Russiese Mafia internasionaal soos volg beskryf: "If Russian organized crime could help foreign crime networks to gain access to nuclear material or other missile weapons then the scenario becomes truly frightening" (BBCSpecial report, 1998).
    16 Sirië is tans in 'n aktiewe burgeroorlog teen ISIS gewikkel en word ondersteun deur Rusland en Iran.
    17 Die artikel, "Sal die Suid-Afrikaanse demokrasie die huidige krisis wat die bestel in die gesig staar oorleef?" (Duvenhage, 2023a:116-148) hanteer die krisis en uitdagings van die Suid-Afrikaanse demokrasie volledig met verwysing na bogenoemde komponente. Vir volledige besonderhede ten opsigte van hierdie perspektief word lesers na die betrokke artikel verwys.
    18 Mkatashinga is 'n Kibundu-woord wat verwys het na die optrede deur MK-soldate teen opstandelinge. Die opstande het as oorsaak gehad die algemene lewenstoestande in die kampe. In Pango, noord van Luanda, is opstandelinge aan bome vasgemaak, aangerand en doodgemaak. James Nkabinde, Ronald Msomi, Umbumbulu, Thembile, Hobo, Maheroo, Wandile Andale en Stopper Nyembezi is ter dood veroordeel en tereggestel (Amnesty International, 1992:6-7).
    19 Die syfer is waarskynlik heelwat hoër as gevolg van onder meer 'n veranderende wisselkoers maar ook onvoldoende verslagdoening!
    20 Tony Yengeni en Schabir Shaik is wel skuldig bevind en vir kleiner oortredings gevonnis waarna later verwys sal word.
    21 Vergelyk Duvenhage (2021:713-737) en Duane (2017) se interpretasie van staatskaping.
    22 Verskeie publikasies met die tema van staatskaping het in hierdie tyd verskyn, waaronder Johnson (2015), Pauw (2017), Chipkin en Swilling (2018), en Myburg (2019). Hierdie navorsing kan geraadpleeg word ten einde die omvang, diepte en implikasies van staatskaping te bepaal.
    23 Bykans vier jaar later, ná verskeie herskedulerings, is die verslag van die Zondo-kommissie (in vier dele) tussen Januarie en Junie 2022 aan president Ramaphosa oorhandig. Sowat 3 171 dagvaardings is beteken, 300 getuienisse aangehoor en 1,7 miljoen bladsye dokumentasie en getuienis is hanteer. (Public Affairs Research Institute (PARI), 2022:1-2).
    24 Die Zondo-kommissie se verslae het die volgende as fokus gehad: Volume 2: (Transnet; Denel); volume 3 (Bosasa); volume 4: (Tesourie; Eskom; Vrystaat- en Noordwesregerings; Alexcor); Volume 5: (SSA; Misdaadintelligensie; SABC: Waterkloof; PRASA); volume 6: (Estina-projek; president Zuma; kaderontplooiing; die vloei van geld; Optimum Steenkool; bevindinge en aanbevelings.) (Zondo Commission. 2023. FinalReports.statecapture.org.za/site/information/ reports).
    25 Die bedrae wat bestee is aan kontrakte vir die genoemde instellings ooreenkomstig die bevindinge van die kommissie het ingesluit: TRANSNET (R41,18 miljard); ESKOM (R14,83 miljard); Ekurhuleni (R95,7 miljoen); Johannesburg (R74,8 miljoen); Tshwane (R59,26 miljoen); IDC (R250 miljoen); Vrystaat-regering (R441,04 miljoen); Noordwes-regering (R39,3 miljoen);
    Mpumalanga-regering (R6,5 miljoen); Denel (R256,37 miljoen); SABC (R62,73 miljoen); SAA & SA Express (R26,4 miljoen); SAFCOL (R6,62 miljoen); Dept. Water en Sanitasie (R5,92 miljoen); andere (R1,32 biljoen) (PARI, 2022:5-6).
    26 Die genoemde verslag (2022:1-210) beklemtoon misdaad ten opsigte van dwelmhandel; onwettige handel in wapens; omgewingsverwante misdade; georganiseerde roof en geweld; kubermisdaad; afpersing; mensehandel; ekonomiese en finansiële misdaad; ontvoerings, en onwettige mynbedrywighede, om die belangrikstes te noem.
    27 Die verslag van die Zondo-kommissie waarna verwys is, en talle akademiese publikasies met inbegrip van die werk van Andre de Ruyter (2023), wat fokus op staatskaping en endemiese korrupsie beklemtoon hierdie punt en is reeds vroeër beredeneer.
    28 'n Misdaadverslag van die burgerregtegroep Afriforum het bevind dat van die 1 402 plaasaan-valle tussen 2019 en 2022 daar slegs 66 skuldigbevindings was, en dat 95% van sake nooit opgelos is nie en dikwels glad nie eens aandag ontvang nie (Afriforum, 2023). Hierdie syfers is nie uniek aan net hierdie vorm van misdaad nie, maar manifesteer op die meeste ander terreine van misdaad. Dit blyk hieruit duidelik dat die strafregstelsel ernstige gebreke het en in sekere opsigte besig is om in duie te stort (sien ook Kinnaird, 2018; Versluis & De Lange, 2019; Malan, 2019). Wanoptrede en gebrekkige professionaliteit van die SAPD (soos aangedui in die 2022/3 jaarverslag) beklemtoon dat R108 miljard se siviele eise tans hangende is teen eersgenoemde. Dit is meer as die jaarlikse begroting van die SAPD (Strydom, 2023).
    29 Italië en Japan is moontlike uitsonderings hier, met Rusland wat die kenmerke van 'n sterk staat vertoon maar duidelik nie demokraties funksioneer nie.
    30 Vergelyk Duvenhage (2024) se identifisering van parallelle strukture; Matthee (2019) se ANC se hibriede regime; en Malan (2020) se onderskeid tussen "Konstitusie" en "konstitusie" om hierdie punt te motiveer.
    31 Vergelyk Vhumbunu (2021:1-10); Cotterill (2021); Thamm (2021) en Harding (2021) vir besonderhede oor die aard, omvang en faktore wat tot die geweld in KZN aanleiding gegee het.
    32 Solomon, in sy werk Jihad: A South African perspective (2013), wys daarop dat talle terroristeorganisasies reeds dekades lank vanuit Suid-Afrika gefinansier word. Dit bied sterk getuienis in hierdie verband.
    33 ISIS se teenwoordigheid in Suid-Afrika is reeds deur veiligheidsinstellings ondersoek en daar is in die media hieroor gerapporteer.