SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4Another translation of the Bible in Afrikaans: What makes it different?The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issues author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a4 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    'n Koorspenlesing1 van onsekere tye: Informele dagarbeiders in Johannesburg se subjektiewe welstand tydens COVID-19

     

    A thermometer reading of uncertain times: Informal day labourers' subjective wellbeing amid COVID-19

     

     

    Derick BlaauwI; Marinda PretoriusII; Rinie SchenckIII; Danie MeyerIV

    ISkool vir Ekonomiese Wetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Derick.Blaauw@nwu.ac.za
    IISkool vir Ekonomie, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: marindap@uj.ac.za
    IIIDWI/NNS/WNNR - Leerstoel: Afval en Samelewing, Universiteit van Wes-Kaapland, Suid-Afrika. E-pos: cschenck@uwc.ac.za
    IVSkool vir Openbare Bestuur, Regeerkunde en Openbare Beleid, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: dfmeyer@uj.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    In Suid-Afrika het deurlopende uitdagings met werkloosheid daartoe gelei dat baie individue geleenthede in die informele sektor soek in 'n poging om 'n bestaan te maak. Die aanvang van die COVID-19-pandemie het regeringsinperkingsmaatreëls tot gevolg gehad, wat kwesbare werkers in hierdie sektor wesenlik beïnvloed het. Hierdie studie het die subjektiewe welstand van informele dagarbeiders tydens die pandemie ondersoek, met 'n spesifieke fokus op dagarbeiders in Johannesburg. Deur 'n steekproef wat uit 230 individue bestaan het, te ontleed, het ons die wisselwerking tussen indiensneming, inkomste en welstand ondersoek, met inag-neming van hul strukturele kwesbaarheid vir eksterne skokke. Hierdie navorsing vul veral 'n kritieke leemte, aangesien geen vorige studies die welstand van arbeiders in die informele sektor in die Suid-Afrikaanse konteks te midde van die pandemie ondersoek het nie. Die studie het alternatiewe inkomstemoontlikhede ondersoek, en die doeltreffendheid van die regering se maatskaplike bystandprogramme en die toereikendheid van ondersteuning wat aan kwalifiserende ontvangers daarvan verskaf word, geëvalueer. Dit verskaf dus 'n omvattende profiel van dagarbeiders wat daarop gemik is om beleidsinisiatiewe in te lig om sosiale en ekonomiese ondersteuning vir werkers in die informele sektor regoor Suid-Afrika te versterk.

    Trefwoorde: Subjektiewe welstand; informele ekonomie; COVID-19-pandemie; Johannesburg; Suid-Afrika; dagloners, werkloosheid, strukturele kwesbaarheid


    ABSTRACT

    In South Africa, persistent challenges with unemployment have led many individuals to seek opportunities in the informal sector. The onset of the COVID-19 pandemic prompted governmental lockdown measures, significantly impacting vulnerable workers within this sector. A classic example of an informal wage employment activity is the presence of tens of thousands of men and women who congregate on South Africa's street corners, next to traffic lights, other work-related businesses and in front of hardware stores - hoping to find temporary employment for a day or days from passing motorists or customers frequenting the shops mentioned above.
    According to the literature, day labourers in South Africa are among the most marginalised and vulnerable groups in the broader informal economy. This study delved into the subjective wellbeing (SWB) of informal wage labourers during the pandemic, with a specific focus on day labourers in Johannesburg. By analysing a sample comprising 230 individuals, we examined the interplay between employment, income, and SWB, considering their susceptibility to external shocks with specific reference to the COVID-19 pandemic. Notably, this research fills a critical gap, as no prior studies have explored the wellbeing of informal sector labourers in the South African context amid the pandemic.
    Following the approach employed by previous international and South African studies, a mainly quantitative design with a survey-based instrument was used. The day labour research population was defined as people congregating at informal hiring sites such as street corners, next to traffic lights, or in front of job-related businesses such as hardware stores in Johannesburg, hoping to find temporary employment for the day or several days. Fieldworkers for the study were recruited from students who had completed their studies in Johannesburg and did not yet have permanent employment at the time of the research. Given the COVID-19 limitations that were in place, training for the fieldwork was carried out during Zoom meetings. The fieldwork to collect the data was carried out over a period of two weeks at the end of October 2021.
    The analysis encompassed descriptive statistics and an ordered probit model to explore the determinants of SWB within the sample. In the context of South Africa, the literature on SWB underscores the statistically significant associations between SWB and variables such as gender, education, children, marital status, employment, and income. The empirical model used in this study utilised the above factors for day labourers in Johannesburg. The ordered probit model also considered the ordered nature of the dependent variable.
    In terms of the demographic results, all participants were male and the majority of day labourers interviewed (over 41%) fell within the 31-40 age bracket. Regarding relationship status, 59.2% of respondents were involved in some form of partnership (married or cohabiting). The average number of dependents relying on respondents' incomes was four, ranging from zero to 15, inclusive of spouses, children, and parents. On average, respondents had two children, with the number of dependent children ranging from zero to eight.
    The regression results show that the SWB of day labourers was influenced by various demographic, employment, and employment-seeking history variables that are also significant in other studies in the field of SWB. The vulnerability of these labourers was emphasised through the model's confirmation that several income variables significantly influenced their SWB.
    Day labourers are structurally vulnerable, with nothing to fall back on during exogenous shocks like the COVID-19 pandemic. Although the South African government tried to assist vulnerable parties by providing a COVID-19 grant, the results showed that many did not apply because they were not South African citizens, had already received another social grant, or did not possess the necessary documents to apply for it. Some respondents did not apply because they felt it was not worthwhile for such a minimal amount of money.
    It was also shown that the effects of the pandemic are continuing. The majority of day labourers in the sample earned less at the time of data collection (October 2021) than in pre-COVID-19 times. No less than 95% of respondents now earned less than before the pandemic, while only 1% reported earning more than pre-pandemic levels. This underscores the disproportionate and enduring impact of exogenous shocks like the COVID-19 pandemic on vulnerable labour force segments. The findings represent a call to policy makers to prioritise the mitigation of the impact that future exogenous shocks may have on vulnerable groupings such as day labourers.

    Keywords: Subjective wellbeing; informal economy; COVID-19 pandemic; Johannesburg; South Africa; day labourers, unemployment, structural vulnerability


     

     

    Inleiding en doel van die studie

    Op 7 Junie 2022 het Statistieke Suid-Afrika aangekondig dat die Suid-Afrikaanse bruto binne-landse produk (BBP) in die eerste kwartaal van 2022 met 1.9% gestyg het, wat 'n tweede opeenvolgende kwartaal van positiewe groei verteenwoordig (Statistieke Suid-Afrika, 2022:1). Hierdie aankondiging het geïmpliseer dat die grootte van die land se ekonomie weer op pre-pandemie-vlakke was, met reële BBP effens hoër as wat dit voor die COVID-19-pandemie was (Statistieke Suid-Afrika, 2022:1). Deurlopende hoë vlakke van werkloosheid bly egter 'n beduidende kwessie in Suid-Afrika - met ernstige sosio-ekonomiese gevolge.

    Die aanhoudende aard van Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem dwing baie persone wat nie werk in die formele sektor kan kry nie om by informele sektoraktiwiteite betrokke te raak (Theodore et al., 2015: 811). 'n Klassieke voorbeeld van 'n informele loonverdienste-aktiwiteit is die teenwoordigheid van tienduisende mans en vroue wat op Suid-Afrika se straathoeke en voor hardewarewinkels saamdrom - in die hoop om vir 'n dag (of miskien langer) tydelike werk te kry by verbygaande motoriste of kliënte wat dié winkels gereeld besoek (Blaauw et al., 2006:1). Die term wat die meeste gebruik word vir hierdie informele werksoekstrategie in die globale noorde en suide is dagarbeid of "day labouring" in Engels (Valenzuela et al., 2006; Theodore et al., 2017; 2018).

    Volgens die literatuur is dagarbeiders in Suid-Afrika van die mees gemarginaliseerde en kwesbare groepe in die breër informele ekonomie (Smith, 2020; Magidi, 2022). Dagarbeiders het geen waarborg dat hulle op enige van die ses tot sewe dae per week wat hulle op straathoeke saamdrom, werk sal kry nie. Onlangse studies skat dat baie weke sonder werksgeleenthede verbygaan (Theodore et al., 2017; 2018). Die gevolglike lae en onsekere vlakke van inkomste laat die meerderheid dagarbeiders in 'n staat van armoede en selfs ontbering (Smith, 2020; Magidi, 2022). Dagarbeiders word dus as struktureel kwesbaar beskou, met niks om op terug te val in die geval van eksogene skokke nie (Blaauw et al., 2021:55).

    Die wêreldwye COVID-19-pandemie was beslis een van die dekade se belangrikste ekonomiese en sosiale skokke. Die pandemie het die samelewing in sy totaliteit geraak, insluitende individue se subjektiewe welstand (Schmid et al., 2024: 445). Die koms van die COVID-19-pandemie in 2020 het die dikwels uitdagende toestande wat in Suid-Afrika se informele sektor geheers het, vererger (Rakabe, 2020:1; Ranchhod & Daniels, 2021:44). Tydens die pandemie het die Suid-Afrikaanse regering verskeie stadiums van inperking geïmplementeer om die verspreiding van die virus te beperk. Hierdie inperkings het nie net ernstige gevolge vir algemene vlakke van welstand gehad nie (Greyling et al., 2021:1), maar dit het reeds kwesbare persone wat in die informele sektor werk buitengewoon nadelig beïnvloed (Rakabe, 2020:1; Ranchhod & Daniels, 2021:44).

    Die informele sektor het byna tot stilstand gekom tydens verskeie van die inperkingsfases van die pandemie. Gevolglik moes persone wat in die informele sektor werk soek, staatmaak op die klein COVID-19 (Social Relief of Distress grant (SRD)) toelae vir maatskaplike noodverligting en inkomste - indien hulle wel daarvoor in aanmerking kon kom en toegang daartoe kon kry (Venter et al., 2024:1049).

    Verwante literatuur verskaf belangrike bewyse van die nadelige sosiale gevolge van uitgerekte tydperke van individuele werkloosheid en geen inkomste nie op mense se subjektiewe welstand (Diener & Chan, 2011). Verskeie internasionale studies het bevind dat kwesbare en veral armer gemeenskappe hierdie daling in hul subjektiewe welstand akuut ervaar het tydens die pandemie. Sien byvoorbeeld die studie van Shams en Kadow (2023) in Pakistan as 'n voorbeeld in hierdie verband. Daar word dus veronderstel dat dit die geval kan wees vir dagloners en dat die COVID-19-pandemie hierdie impak kan vererger. Alhoewel daar 'n oplewing was in literatuur wat die ekonomiese impak van COVID-19-ondersoek, veral op makrovlak, bly omvattende navorsing oor subjektiewe welstand in die ontwikkelende wêreld, veral onder verarmde bevolkings, beperk (Cox, 2012:103). Hierdie artikel vul sommige van hierdie leemtes.

    Ons navorsing het die subjektiewe welstand van informele loonarbeiders tydens die COVID-19-pandemie in die informele sektor ondersoek, met 'n fokus op dagarbeiders in Johannesburg, Suid-Afrika. Sover ons kennis strek, het geen vorige studie die subjektiewe welstand van arbeiders in die informele sektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie tydens die COVID-19-pandemie ondersoek nie.2 Die daaropvolgende afdelings van die manuskrip is soos volg georganiseer: Die volgende afdeling tref onderskeid tussen subjektiewe- en objektiewe welstand en werp lig op die onderliggende verband tussen die twee begrippe. Dit word gevolg deur die relevante teoretiese raamwerk en hersien dan relevante literatuur oor subjektiewe welstand, met die klem spesifiek op die informele ekonomie en dagarbeiders. Dit word gevolg deur 'n verduideliking van die metodologie wat in ons studie gebruik is en, vervolgens, die aanbieding van resultate, bespreking en gevolgtrekkings.

     

    Subjektiewe welstand, objektiewe welstand en die verband tussen die twee

    Subjektiewe welstand

    Diener et al. (2003:404) beskou subjektiewe welstand as 'n wetenskaplike ontleding van hoe mense hul lewens evalueer - beide vir die huidige en vir 'n langer periode soos 'n jaar. Hierdie evaluerings sluit mense se emosionele reaksies m.b.t. gebeure, hul gemoedstoestand, die gevolgtrekkings wat individue maak oor vlakke van hul eie lewensbevrediging ("life satisfaction"), vervulling en bevrediging m.b.t. aspekte soos werk en die huwelik in (Diener et al., 2003:404). Kortliks gestel het die studieveld van subjektiewe welstand te doen met wat mense geluk ("happiness") of bevrediging ("satisfaction") sou noem (Diener et al., 2003:404). Subjektiewe welstand is dus 'n komplekse multi-dimensionele konsep wat verweef is met verskeie sosiale, ekonomiese en kulturele kenmerke op individuele en nasionale vlakke (Diener et al., 2009; Posel & Casale, 2011). Uitgebreide oorsigte en opsommings deur Diener et al. (1999), Frey en Stutzer (2002), en Dolan et al. (2008) ondersoek die magdom faktore wat subjektiewe welstand beïnvloed.

    Proctor (2014) verduidelik dat subjektiewe welstand gemeet kan word deur van selfrapportering gebruik te maak. Dit impliseer dat deelnemers hul subjektiewe siening sal gee rakende hoe gelukkig hulle is met hul huidige lewensituasie. Hierdie breë definisie word dus dikwels in 'n selfrapporterende vraag geoperasionaliseer (Proctor, 2014; Veenhoven, 2023:1). Die vraag word dan in die vorm van 'n 10-punt Likert-skaal aan deelnemers gevra, wat soos volg geformuleer word: "Op 'n skaal van 1 tot 10 (met 10 = baie gelukkig en 1 = baie ongelukkig), hoe gelukkig is jy met jou lewe op hierdie oomblik?" Dit stem ook ooreen met hoe hierdie vraag in die Nasionale Inkomstedinamika-studie (NIDS)3 in Suid-Afrika gevra word. Hierdie longitudinale paneelopname volg die lewens van individue en huishoudings in Suid-Afrika met verloop van tyd.

    Volgens Rojas (2013) is daar besliste meriete daarin om op die subjektiewe aspek van die welstand van deelnemers aan die informele ekonomie te fokus, aangesien die meeste van die studies wat op informele indiensneming fokus, hoofsaaklik van objektiewe aanwysers van algemene welstand gebruik maak (Rojas, 2013).

    Objektiewe welstand

    Om objektiewe welstand in 'n standaarddefinisie te vervat word steeds as 'n uiters uitdagende taak beskou (Voukelatou et al., 2021: 279). Die gevolg is dat die literatuur en die navorsers wat daarvoor verantwoordelik is, dikwels hul fokus op die verskillende dimensies van die konsep plaas - in plaas daarvan om 'n eenvormige definisie daar te stel (Akire, 2002:181; Voukelatou et al., 2021:279). Vanweë die objektiewe aard van Bruto Binnelande Produk (BBP), sou mens kon argumenteer dat BBP objektiewe welstand suksesvol sou kon meet (Voukelatou et al., 2021:279). Dit is egter gebiedend noodsaaklik dat objektiewe welstand beide mense se materiële lewensomstandighede en die kwaliteit van hul lewens in ag moet neem (Voukelatou et al., 2021: 279).

    Met dit in ag genome, het die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD), die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP), sowel as die Italiaanse Buro vir Statistieke (ISTAT) ses hoofdoelwitte en waarneembare dimensies vir die meting van objektiewe welstand geïdentifiseer. Hierdie elemente is: gesondheid, werksgeleenthede, sosio-ekonomiese ontwikkeling, omgewing, veiligheid en politiek (Voukelatou et al., 2021:279). 'n Samevoeging van al hierdie dimensies verskaf 'n breë aanduiding van die konsep van objektiewe welstand. Dit word beoordeel deur die mate waartoe hierdie "behoeftes" bevredig word (Voukelatou et al., 2021:280). Die objektiewe benadering tot welstand ondersoek dus die objektiewe dimensies van 'n goeie lewe. Die subjektiewe benadering tot welstand, aan die ander kant, ondersoek mense se subjektiewe evaluasies van hul eie lewens (Diener et al., 2003: 404; Voukelatou et al., 2021: 280).

    Onderlinge verband tussen objektiewe en subjektiewe welstand

    Die verskillende dimensies van die twee konsepte impliseer nie dat objektiewe aanwysers soos inkomste nie 'n noodsaaklike verband met subjektiewe welstand het nie; om die waarheid te sê, is die teenoorgestelde waar.

    Sommige outeurs beskou die positiewe verband tussen absolute en relatiewe inkomste-vlakke en subjektiewe welstand as een van die aanvaarde beginsels in die literatuur (Posel & Casale, 2011; Ebrahim et al., 2013). Daar is nie net goeie teoretiese gronde om te postuleer dat inkomste met subjektiewe welstand geassosieer sal word nie, maar dit kan veral waar wees in die geval van armer mense (Diener et al., 2009). Nielsen et al. (2010) het ook bevestig dat persoonlike inkomste van beduidende belang is met betrekking tot die subjektiewe welstand van arm mense. Die evaluering van hierdie en ander moontlike faktore wat die subjektiewe welstand van dagarbeiders kan beïnvloed, geskied teen die agtergrond van die volgende teoretiese raamwerk.

     

    Teoretiese raamwerk vir die studie

    Vanuit die breë konseptualisering van subjektiewe welstand identifiseer die literatuur vier groepe teorieë, naamlik vervulling-("iulfilment")-en-betrokkenheids("engagement")-teorieë; persoonlike oriëntasieteorieë, evaluatiewe teorieë en emosionele teorieë (Das et al., 2020). In hierdie studie het ons gebruik gemaak van die bydrae van Amartya Sen, die bekende ekonoom en filosoof, as teoretiese raamwerk in die konteks van 'n vervulling-en-betrokkenheidsteorie (Sen, 1999). Hierdie kategorie van teorieë fokus op die verduideliking van die invloed van behoeftes, doel en aktiwiteite van die betrokke individu (Sen, 1999). Sen se werk is gepas in hierdie studie omdat hy veral 'n bydrae gemaak het om welstand te begryp in die konteks van armoede en ontwikkeling. Sy werk fokus op die belangrikheid en noodsaaklikheid om vermoëns ("capabilities") te ontwikklel. Vermoëns verwys na wat die individu kan doen en wees om die tipe lewe te lei wat vir hom hom/haar belangrik of van waarde is (Sen, 1999).

    Volgens Sen kan welstand nie net verbeter of gemeet word in objektiewe ekonomiese terme soos BBP nie (Sen, 1999). Die mens moet as 'n holistiese wese gesien word. Toegang tot beter vaardighede, kennis, gesondheid, werk, vriendskappe en verbeterde verhoudings speel alles 'n rol in die persoon se welstand (Sen, 1999). Marta Nussbaum, 'n medewerker van Sen, het in opvolgwerk tien aspekte geïdentifiseer wat 'n rol speel in die subjektiewe welstand van die individu. Dit sluit aspekte in soos gesondheid, emosies, die vaardigheid om te kan dink en redeneer, die integriteit van jou liggaam, en die moontlikheid om sinvolle verhoudings te geniet (Nussbaum, 2011).

    Sen het verder ook baie klem gelê op die vryheid van keuse en die vermoë ("agency") om keuses te kan uitoefen (Sen, 1999). Hy beklemtoon die belangrikheid van die rol van eienaarskap en beheer wat die persoon moet kan neem om sy omstandighede te verbeter (Sen, 1999). Vir die dagloner sou dit dus byvoorbeeld belangrik wees om die keuse te kon hê in die tipe werk wat hy doen en die omstandighede waaronder hy werk asook om deel te kon wees van gepaste ontwikkelingsprogramme. In die konteks van Sen (1999) se teorie m.b.t. gemarginaliseerde groepe soos dagloners, beïnvloed die ongelykheid ("inequalities") en onregverdigheid ("injustices") ook die subjektiewe welstandservaring van die betrokke individu.

    Met hierdie teoretiese raamwerk as agtergrond kan die klem nou verskuif na die gepaste Suid-Afrikaanse literatuur m.b.t. die subjektiewe welstand, informele sektor en dagloners.

     

    Die Suid-Afrikaanse literatuurkonteks betreffende subjektiewe welstand, die informele sektor en dagloners

    In die Suid-Afrikaanse konteks beklemtoon die literatuur oor subjektiewe welstand die belangrikheid en onderlinge verwantskappe van hierdie elemente en faktore - soos hier bo bespreek. Talle studies binne Suid-Afrika het statisties beduidende verbande tussen subjektiewe welstand en veranderlikes soos geslag, opleiding en onderwys, aantal kinders, huwelikstatus, indiensneming en inkomste geïdentifiseer (Blaauw & Pretorius, 2012; Mahadea & Ramroop, 2015). Botha en Booysen (2013) het bevind dat getroude individue in Suid-Afrika aansienlik hoër vlakke van algehele lewenstevredenheid toon as hul ongetroude eweknieë. Verder is bevind dat godsdiens en provinsiale ligging sterk met subjektiewe welstand in Suid-Afrika verband hou (Blaauw & Pretorius, 2012; Botha & Booysen, 2013).

    Spesifieke literatuur oor die impak van COVID-inperkings op subjektiewe welstand is besig om te ontwikkel. In een van die min studies tussen lande, het Greyling et al. (2020) die effek van inperkings op persone se persepsies van geluk in Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië ondersoek. Hulle het 'n konsekwente negatiewe impak van inperkings op mense se vlakke van subjektiewe welstand gevind, ondanks die verskillende sosio-ekonomiese kenmerke van die lande, die tydsduur, en die tipe inperkingsregulasies (Greyling et al., 2020:1). Verder het Suid-Afrika, met die strengste inperkingsregulasies, die belangrikste negatiewe verandering in vlakke van subjektiewe welstand getoon (Greyling et al., 2020:1). Dit bied 'n bykomende aansporing om aandag te vestig op informele loonarbeiders, vir wie hierdie effek baie groter kan wees weens die strukturele kwesbaarheid vir eksogene skokke van diegene wat by hierdie aktiwiteit betrokke is.

    Cramm et al. (2010) het reeds meer as 'n dekade gelede genoem dat subjektiewe welstand binne gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika se informele sektor min aandag in die literatuur geniet en nie goed verstaan word nie. Hierdie leemte in die literatuur is onder meer die resultaat van moeilik bereikbare informele arbeidsmarkaktiwiteite soos dagarbeid en informele herwinning wat navorsing bemoeilik. Byvoorbeeld, informele straatherwinnaars beweeg voortdurend rond in 'n poging om soveel moontlik herwinbare items in te samel. Hulle kan nie bekostig om te stop en tyd af te staan om deel te wees van 'n navorsingsteekproef nie. Daar was egter wel enkele Suid-Afrikaanse studies wat gedurende die afgelope tien jaar op hierdie aspek van die informele ekonomie gefokus het.

    Dié betrokke studies fokus op drie groepe informele sektordeelnemers, naamlik dagarbeiders, informele herwinnaars op stortingsterreine, en motorwagte. Die dagarbeidstudies het óf 'n landswye benadering gebruik (bv. Blaauw et al., 2018) óf op 'n vergelyking tussen stede gefokus (bv. Van Wyk et al., 2020). Deur 'n landswye steekproef van meer as 3 000 dagarbeiders te gebruik, het Blaauw et al. (2018) die belangrikheid bevestig van indiensneming en inkomste vir die subjektiewe welstand van diegene wat leef in toestande wat aan erge armoede grens.

    Van Wyk et al. (2020) het die subjektiewe welstand van dagloners in Pretoria (Suid-Afrika) en Windhoek (Namibië) vergelyk. In Windhoek was 'n persoon se status as buitelander 'n statisties beduidende faktor wat verband hou met die subjektiewe welstand van dagloners (Van Wyk et al., 2020:1). Die hipotese word gestel dat die kwessie van migrasie ook ter sprake kan wees in die subjektiewe welstand van die dagarbeiders wat in hierdie studie ondersoek is. Ander faktore wat 'n rol in die Windhoek-steekproef gespeel het, was onderwysvlakke, totale dae sonder kos, en of die dagloners by hul gesinne gewoon het. In Pretoria was die aantal afhanklikes, lewensomstandighede en of hulle voorheen 'n voltydse werk gehad het, alles betekenisvol om die subjektiewe welstand van die dagarbeiders in daardie steekproef te verklaar (Van Wyk et al., 2020:1).

    Blaauw et al. (2020) het bewyse gevind van verbasende hoë vlakke van subjektiewe welstand onder die informele herwinnaars op drie stortingsterreine in die Vrystaat. Die idee van aanpasbare verwagtinge en die informele herwinnaars wat die verwagte uitkomste van hul informele werk aanpas, bied nog 'n moontlike verklaring en is 'n noodsaaklike gebied vir verdere navorsing.

    Die onlangse studie van Blaauw en Pretorius (2022), wat die sosio-ekonomiese toestande en subjektiewe welstand van buitelandse motorwagte in Johannesburg se Wes-Rand ondersoek het, het getoon dat motorwagte geheel en al staatmaak op die motoriste se gewilligheid om geld (in die vorm van 'n fooitjie) aan hulle te gee. Gevolglik het hulle geen endogene beheer oor hierdie proses nie. Hierdie onsekerheid weeg swaar op die motorwagte se onbewustelike gevoel van verantwoordelikheid om in hul gesinne se behoeftes te voorsien, soos weerspieël in hul lae vlakke van subjektiewe welstand (Blaauw & Pretorius, 2022:133).

    Die intemasionale en nasionale literatuur oor die algemene faktore wat subjektiewe welstand beïnvloed en die besondere determinante wat in die literatuur oor die subjektiewe welstand in die informele ekonomie geïdentifiseer is, het die grondslag gevorm van die ondersoek na die subjektiewe welstand van dagloners in Johannesburg binne die konteks van die COVID-19-pandemie. Die veranderlikes wat gebruik word, soos in die literatuur voorgestel, word in detail bespreek as deel van die empiriese benadering van hierdie studie ná die bespreking van die navorsingsmetodologie in die volgende afdeling.

     

    Navorsingsmetodologie

    Na aanleiding van die benadering wat deur vorige internasionale en Suid-Afrikaanse studies gebruik is oor die informele aktiwiteit van dagarbeid (Valenzuela et al., 2006; Theodore et al., 2017; 2018), is 'n opname-gebaseerde instrument gebruik om die kwantitatiewe data wat nodig is, in te samel. In ooreenstemming met die studies hier bo genoem, het die instrument benewens die kwantitatiewe items, ook enkele oop kwalitatiewe vrae bevat om 'n meer diepgaande begrip van sommige sleutelelemente te fasiliteer - om spesifiek te fokus op die impak van COVID-19 op die lewens en subjektiewe welstand van die dagloners. Byvoorbeeld, 'n vraag is ingesluit waar dagloners gevra is om aan te dui hoe hulle finansieel oorleef het in die tyd wat hulle nie kon werk nie; asook 'n vraag waar dagloners hul mening gee oor hoe die werkgewers hulle behandel.

    In hierdie studie is 'n soortgelyke definisie van dagarbeiders vir die navorsingspopulasie gebruik as in die studies deur Valenzuela et al. (2006), Blaauw et al. (2006), Blaauw (2010), en Theodore et al. (2017; 2018). Die dagarbeid-navorsingspopulasie is dienooreenkomstig gedefinieer as mense wat by informele bymekaarkomplekke soos straathoeke, langs verkeersligte of voor werkverwante sakeondernemings soos hardewarewinkels in Johannesburg bymekaarkom, in die hoop om tydelike werk vir die dag of aantal dae te kry. Hierdie definisie het dan ook die basis van die insluitingskriteria vir die steekproef gevorm. So byvoorbeeld het mense wat bloot op 'n taxi langs 'n straathoek gewag het nie deel van die moontlike steekproef gevorm nie. Die keuse van Johannesburg was gebaseer op die uitgangspunt dat, aangesien Johannesburg die finansiële en ekonomiese hart van die land is, die impak op dagloners hier skerp gevoel sal word.

    Al die bymekaarkomplekke wat as deel van die landwye studie van Blaauw (2010) aange-teken is, is in 'n verkenningsfase besoek om te verseker dat hulle steeds bestaan. Daarbenewens is nuwe bymekaarkomplekke geïdentifiseer. Die doel was om 'n onderhoud met 'n minimum van 10% van die dagloners by elke bymekaarkomplek te voer, volgens dieselfde steekproefprotokolle as dié van Blaauw (2010) in Suid-Afrika.4

    Veldwerkers vir die studie is gewerf uit studente wat hul studies in Johannesburg voltooi het en tydens die navorsing nog nie voltydse werk gehad het nie. Gegewe die COVID-19-beperkings wat gegeld het, is opleiding vir die veldwerk tydens Zoom-vergaderings uitgevoer.

    Die veldwerk om die data in te samel, is aan die einde van Oktober 20215 oor 'n tydperk van twee weke gedoen. Die veldwerkers het die antwoorde en kommentaar van die deelnemers volledig opgeskryf soos die onderhoud gevorder het. 'n Projekkoördineerder was deurgaans teenwoordig en was op bystand om hulp te verleen met enige probleme wat die veldwerkers teëgekom het. Dit het die gehalte van die veldwerk verbeter.

    Onvolledige of onleesbare vraelyste is uitgelaat om die akkuraatheid en integriteit van die data te handhaaf, wat gelei het tot 'n totaal van 230 voltooide opnames, wat die finale steekproef vir ontleding uitgemaak het. Die Statistiese Konsultasiediens aan die Noordwes-Universiteit het die data in Excel ingevoer, gevolg deur empiriese ontleding, in die vorm van 'n ekonometriese model, wat deur die outeurs met EViews uitgevoer is. Die ontleding het beskrywende statistiek en 'n geordende probit-model ingesluit om die moontlike determinante van subjektiewe welstand binne die steekproef te verken. Die geordende waarskynlikheids-model het die geordende aard van die afhanklike veranderlike in ag geneem.

    Die studie het dwarsdeur die uitvoering daarvan streng by gevestigde etiese beginsels en protokolle gehou. Die oorspronklike vraelys en enige daaropvolgende wysigings het goedkeuring van die relevante etiekkomitee aan die Universiteit van Wes-Kaapland ontvang. Moontlike deelnemers wat aan die insluitingskriteria voldoen, is genader en die veldwerkers het hulself bekend gestel en verneem of die dagloner bereid is om aan die navorsing deel te neem. Indien die dagloner bereidwillig was, is daar volledig aan hom verduidelik dat alle inligting streng anoniem en vertroulik hanteer word; geen name of ander persoonlike inligting gevra word nie en dat die onderhoud enige tyd gestaak kon word. Dit is ook duidelik gemaak dat deelname absoluut vrywillig is en geen vorm van vergoeding ter sprake was nie. Eers dan is die dagloner se ingeligte toestemming bevestig en het die onderhoud 'n aanvang geneem. Die volgende afdeling van hierdie artikel bied die bevindinge en bespreking wat uit die studie voortspruit.

     

    Navorsingsbevindinge en bespreking

    Ons begin deur 'n oorsig te verskaf van die demografiese kenmerke en lewensomstandighede van die 230 deelnemers in Johannesburg te midde van die COVID-19-pandemie. Vervolgens word 'n empiriese model wat die moontlike determinante van subjektiewe welstand onder dagloners in Johannesburg gedurende hierdie tydperk ondersoek het, voorgele.

    Demografiese profiel van dagarbeiders

    Tabel 1 skets die standaard- demografiese kenmerke van die 230 deelnemers. Dit is opmerklik dat alle deelnemers manlik was. Die ouderdomsverspreiding toon dat die meerderheid dagloners met wie onderhoude gevoer is (meer as 41%) binne die ouderdomsgroep 31 tot 40 geval het, wat hul ouderdom in die optimale produktiewe fase van hul werkslewe aandui. Dis voorts opmerklik dat 'n groot persentasie van die steekproef uit Zimbabwiërs bestaan. Die waarneming stem ooreen met die gewaarwording in ander studies rakende dagloners in Gauteng. Theodore et al. (2017; 2018) het bevind dat die persentasie buitelanders, wat as dagloners probeer om tydelike werk in Pretoria te kry, meer as verdubbel het tussen 2004 en 2015. Die moontlikheid bestaan dat baie van hierdie persone ongedokumenteerd is, en daarom geen ander keuse het as om in die informele arbeidsmark 'n heenkome te soek nie. Dit mag ook beteken dat hulle vlakke van subjektiewe welstand selfs laer as die van hulle Suid-Afrikaanse eweknieë kan wees. Dit is uiteraard ook 'n belangrike onderwerp vir verdere sosio-demografiese studies rondom dagloners in Suid-Afrika.

     

     

    Hoewel die studie in Johannesburg onderneem is, het geblyk dat 'n minderheid van die deelnemers in Gauteng gebore is. Hierdie waarneming stem ooreen met Blaauw (2010) se bevindinge in sy landwye studie in 2008 onder meer as 3 000 dagloners in Suid-Afrika. Die migrasie na provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap was toe reeds opmerklik. Hierdie migrasie kan uiteraard toegeskryf word aan die geweldige hoë vlakke van werkloosheid in Suid-Afrika - veral in meer plattelandse gebiede (Blaauw, 2010). Stede soos Johannesburg en Kaapstad dien as 'n trekpleister vir mense in die hoop om 'n informele werk te vind in 'n poging om hulle gesinne en families te versorg. Die daglonermark in die stede word dus gekenmerk deur geweldige mededinging as gevolg van beide binnelandse en buitelandse migrasie.

    Wat verhoudingstatus betref, was 59.2% van die deelnemers betrokke by die een of ander tipe verhouding (getroud of saamwoon). Hierdie aspek hou potensiële implikasies in vir subjektiewe welstand, aangesien vorige navorsing in Suid-Afrika daarop dui dat getroude individue oor die algemeen hoër vlakke van subjektiewe welstand rapporteer in vergelyking met hul ongetroude eweknieë (Botha & Booysen, 2013). Daar moet egter ook in gedagte gehou word dat verhoudings moontlik ook groter finansiële verantwoordelikhede tot gevolg kan hê vanweë bykomende afhanklikes wat dikwels daarmee gepaard gaan. In hierdie studie was die gemiddelde aantal afhanklikes wat op deelnemers se inkomste staatmaak vier, wat wissel van nul tot 15 - gades, kinders en ouers ingesluit. Deelnemers het gemiddeld twee kinders gehad, met die aantal afhanklike kinders binne die steekproef wat wissel van nul tot agt.

    Tabel 2 bied die onderrig- en opleidingsprofiel van die dagarbeidersteekproef aan. Onder die deelnemers het vyf persone (2.2%) aangedui dat hulle naskoolse kwalifikasies behaal het, wat diplomas en ingenieurskwalifikasies insluit. Dit is opvallend dat ongeveer 40% van die deelnemers aangedui het dat hulle formele of informele beroepsopleiding ontvang het, dikwels deur ervaring by die werk. Die spektrum van beroepsopleiding het gewissel, met 'n beduidende aantal deelnemers wat vaardigheid in verf (27 persone), messelwerk (23 persone) en teëlwerk (17 persone) gerapporteer het. Daarbenewens het van die deelnemers vroeër opleiding in loodgieterswerk (13 persone), elektriese werk, skrynwerk, sweiswerk en sekuriteit ondergaan.

     

     

    Die daaropvolgende afdeling bespreek die lewensomstandighede van dagarbeiders te midde van die COVID-19-pandemie, met 'n spesifieke fokus op hul indiensnemingstatus en gepaardgaande inkomste.

    Lewensomstandighede te midde van die COVID-19-pandemie

    Indiensneming as 'n dagarbeider tydens die hoogtepunt van die pandemie

    Tabel 3 verskaf insigte vanuit die kwantitatiewe data ten opsigte van die lewensomstandighede van dagarbeiders te midde van die COVID-19-pandemie. Slegs 29% van die deelnemers het aangedui dat hulle tydens die hoogtepunt van die pandemie as dagloners kon werk, met ander woorde, van April tot Junie 2020, toe Suid-Afrika streng grendelmaatreëls ingestel het. Gevolglik is baie gedwing om alternatiewe maniere te ondersoek om 'n inkomste te verseker en in hul basiese behoeftes te voorsien. Die kwantitatiewe data vanuit die voltooide vraelyste toon dat die meerderheid deelnemers (74) hulp van familielede, voormalige werkgewers, vriende, en bure ontvang het, hoofsaaklik in die vorm van kos. Boonop het 19 arbeiders kospakkies van nieregeringsorganisasies, kerke, of ander liefdadigheidsinstansies ontvang. Dit is opmerklik dat 15 deelnemers spaargeld gehad het waarop hulle kon staatmaak tydens hierdie uitdagende tydperk. Deelnemers het soms ander oorlewingstrategieë aangewend, byvoorbeeld om kos uit vullisdromme te eet, betrokke te raak by alternatiewe pogings om te werk soos tuinmaak, goedere verkoop, afval optel (vir herwinning), by verkeersligte te bedel, en lenings aan te gaan. Tydens die onderhoudproses om die kwantitatiewe data in te samel het baie deelnemers hierdie tydperk as uiters moeilik beskryf, met opmerkings soos: "Dit was moeilik. Ek het geen manier gehad om te oorleef nie," terwyl 'n ander dit uitgedruk het as om "van hand tot mond" op 'n daaglikse basis te leef.

     

     

    Tabel 3 beklemtoon ook dat die gemiddelde tydsduur wat 'n dagarbeider gewag het voordat hy oorweeg het om terug te keer huis toe weens 'n gebrek aan werksgeleenthede op 'n gegewe dag, nie minder as 9.5 uur was nie. Verder was die gemiddelde pendeltyd na die bymekaar-komplekke in die steekproef een uur. Soos blyk uit Schenck et al. (2019), het vorige navorsing die hipotese gestel dat verlengde ure wat betrokke is by aktiwiteite in die informele sektor dikwels gesins- en sosiale tyd aantas, wat moontlik bydra tot verminderde subjektiewe welstand onder individue. Dit beklemtoon die belangrikheid van sulke faktore wat die subjektiewe welstand binne hierdie populasie negatief kan beïnvloed.

    Inkomste gedurende COVID-19

    Ter ondersteuning van Suid-Afrikaners wat tydens die COVID-19-pandemie verminderde of geen inkomstegeleenthede gehad het nie, het die regering die spesiale COVID-19-toelae vir maatskaplike noodverligting, oftewel SRD, geïmplementeer, wat 'n maandelikse betaling van R350 gebied het (Atkins, 2021). Om in aanmerking te kom vir hierdie toelae moes mense aan verskeie voorvereistes voldoen, insluitende Suid-Afrikaanse burgerskap, permanente verblyf, of registrasie as 'n vlugteling by die Departement van Binnelandse Sake. Daarbenewens moes aansoekers werkloos wees en geen ander inkomste, maatskaplike toelae of werkloosheids-versekeringsvoordele ontvang het nie (Suid-Afrikaanse Regering, 2020).

    Ontleding van die opnamedata het aangetoon dat slegs 36% van die steekproef om die SRD-toekenning aansoek gedoen het. Onder diegene wat aansoek gedoen het, was slegs 57% suksesvol om die toelae te ontvang, wat 20% van die totale steekproef uitmaak. By navraag oor redes waarom hulle nie vir die toelae aansoek gedoen het nie, het die meerderheid hul nie-Suid-Afrikaanse burgerskapstatus genoem (sien statistiek in Tabel 1). Daarbenewens het baie deelnemers gerapporteer dat hulle nie die nodige dokumentasie het nie of nie aan die geskiktheidskriteria voldoen nie. Dit is opmerklik dat 48% van die steekproef reeds ander maatskaplike toelaes van die regering ontvang het, soos die kinderondersteuningstoelae, gestremdheid- of ouderdomstoelaes.

    Verdere ondersoek na die inkomste-dinamika van dagloners voor en na COVID-19 het onthul dat die pandemie nie net die deelnemers se inkomste nadelig beïnvloed het nie, maar dit het ook aan die lig gekom dat dit nie vir hulle moontlik was om terug te keer na voor-pandemiese inkomstevlakke nie. Daar moet in gedagte gehou word dat Suid-Afrika nog nie heeltemal in Oktober 2021 (ten tyde van die navorsing) na normaal teruggekeer het nie. Sekere inperkings (Vlak-1) was nog in werking. Dit is dus nie noodwendig 'n verrassing dat die dagloners se inkomste nog nie na vorige vlakke herstel het nie. Tabel 3 illustreer byvoorbeeld dat 95% van die deelnemers ten tyde van die navorsing minder verdien het as voor die pandemie, terwyl slegs 1% gerapporteer het dat hulle meer as die voor-pandemie-vlakke verdien ten tyde van die navorsing. Dit beklemtoon die omvangryke en blywende impak van eksogene skokke soos die COVID-19-pandemie op kwesbare segmente binne die arbeidsmag - soos wat Rakabe (2020:1) en Ranchhod en Daniels (2021:44) dit ook duidelik stel. Voorts ontstaan die vraag uiteraard wat intussen in die daglonermark gebeur het ná die opheffing van alle beperkinge? Dit is dus belangrik dat die studie herhaal moet word ten einde te bepaal tot watter mate dagloners se situasie verbeter het (of nie) drie jaar ná die bevindinge in hierdie studie.

    Die vraelys het inligting oor daaglikse verdienste oor die voorafgaande 12 maande (September 2020 tot Oktober 2021) ingesamel. Deelnemers is uitdruklik gevra oor die laagste en hoogste lone wat gedurende hierdie tydperk per dag verdien is en die minimum loon wat hulle tans bereid was om as dagloners te aanvaar. Die opgesomde resultate word in Tabel 4 aangebied.

     

     

    Tabel 4 toon beduidende loonvariasies wat dagloners gedurende die gespesifiseerde tydperk verdien het. Die gemiddelde laagste loon wat verdien is, was R194, met die mediaan en modus op R150, wat aandui dat 'n aansienlike deel van die deelnemers lone rondom hierdie waarde verdien het. Daarteenoor is die gemiddelde hoogste loon wat verdien is aansienlik hoër, naamlik R583, wat 'n wyer verspreiding van verdienste onder deelnemers veronderstel, met sommige wat aansienlik meer as ander verdien het. Die mediaan en modus vir die hoogste loon verdien is R400, wat weereens aandui dat 'n aansienlike aantal deelnemers lone rondom hierdie waarde verdien het.

    Verder toon die data dat deelnemers bereid was om 'n gemiddelde minimum loon van R287 te aanvaar, met 'n mediaan van R200 en 'n modus van R100. Dit dui daarop dat hoewel daar 'n mate van variasie was in die minimum loon wat deelnemers bereid was om te aanvaar, 'n beduidende deel bereid was om teen relatief lae lone te werk.

    Oor die algemeen beklemtoon die data die ekonomiese uitdagings waarmee dagarbeiders tydens die pandemie te kampe gehad het, met 'n groot verskil in verdienste en 'n gewilligheid om lae lone te aanvaar. Die einde van die pandemie het nie 'n einde aan hierdie inkomste-onsekerheid teweeggebring nie.

    Subjektiewe welstand van dagloners tydens COVID-19

    Soos vroeër genoem, is 'n Likert-skaal in die vraelys gebruik om 'n aanduiding van die subjektiewe welstand van dagloners tydens die onderhoud (Oktober 2021) te verkry. Subjektiewe welstand dien as die afhanklike veranderlike in die regressiemodel, wat insig verskaf oor die emosionele toestande van dagarbeiders te midde van die uitdagings wat die COVID-19-pandemie aan hulle gestel het. Figuur 1 som die subjektiewe welstandsverspreiding onder dagarbeiders in Oktober 2021 op. Die modale klas vir die subjektiewe welstandsverspreiding is 5, wat 'n vlak van subjektiewe welstand aandui wat geleë is tussen gevoelens van uiterste geluk en ongelukkigheid.

     

     

    Die ondersoek na die faktore wat deelnemers se subjektiewe welstand tydens die pandemie beïnvloed het, kan moontlik die regering help om sy sosiale en ander vorme van toekomstige ondersteuning vir individue wat in die informele sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie werk, te verbeter. Die veranderlikes wat in die model ingesluit is, is verkry vanuit vorige navorsing oor die onderwerp en die vrae wat in die vraelys gestel is. 'n Opsomming van die veranderlikes wat oorweeg is, word in Tabel 5 verskaf.

     

     

    'n Geordende waarskynlikheidsmodel is gebruik om moontlike betekenisvolle faktore wat die subjektiewe welstand van dagloners kan beïnvloed, te identifiseer. Veelvuldige model-spesifikasies is geëvalueer. Slegs die finale model, wat as die beste bepaal is nadat beide die statistiese en die ekonomiese betekenisvolheid van veranderlikes in ag geneem is, word egter in Tabel 6 vertoon.

     

     

    Die aanvanklike ontleding fokus op demografiese en ander veranderlikes. As gevolg van die homogene aard van die steekproef, is verskeie demografiese (kontrole-)veranderlikes uit die finale model uitgesluit. Die model het veral die potensiële kwadratiese effek van ouderdom op die afhanklike veranderlike ondersoek, wat beide die ouderdomsveranderlike en die kwadratiese waarde daarvan insluit. Ouderdom is statisties beduidend gevind met 'n negatiewe koëffisiënt, terwyl die kwadraatwaarde van die veranderlike statisties onbeduidend was. Hierdie negatiewe verhouding sonder 'n keerpunt is verstaanbaar, gegewe dat ouer dagarbeiders dikwels probleme ondervind om werk te kry in 'n arbeidsmark waar dit hoofsaaklik fisieke arbeid is wat in aanvraag is. Ouderdom dien as aanduiding van verminderde geleenthede soos wat 'n dagloner ouer word, wat gevolglik tot laer inkomste lei. Alhoewel ouderdom alleen nie betekenisvol is nie, dien dit as 'n kanaal wat die dinamika van hierdie spesifieke informele arbeidsmarkaktiwiteit weerspieël.

    Twee veranderlikes wat deelnemers se verhoudingstatus verteenwoordig, is in die finale model ingesluit. Die fop-veranderlike vir enkellopendheid is betekenisvol teen die 10%-betekenisvlak. Die model toon 'n positiewe verband tussen enkellopend wees en subjektiewe welstand. Terselfdertyd toon die model egter ook 'n positiewe verhouding tussen getroud wees en die subjektiewe welstand van dagloners, wat na 'n teenstrydigheid lyk. Botha en Booysen (2013) het aangetoon dat die subjektiewe welstand van getroudes in Suid-Afrika hoër is as diegene wat nie getroud is nie. Ons resultate toon dat die verband tussen subjektiewe welstand en verhoudingstatus binne die konteks van COVID-19 meer ingewikkeld kan wees as voor die pandemie. 'n Enkellopende respondent sou dalk minder afhanklikes gehad het om voor te sorg, wat sy subjektiewe welstand teoreties positief sou beïnvloed het - gegewe die druk wat dagloners ervaar in hulle verantwoordelikheidsbesef dat hulle vir hulle afhanklikes moet sorg (Magidi, 2022). Volgens Mahadea en Ramroop (2015) het te veel afhanklikes 'n negatiewe uitwerking op subjektiewe welstand.

    Die enigste statisties beduidende onderrigdeterminant was die fop-veranderlike wat deelnemers verteenwoordig wat 'n mate van sekondêre skoolopleiding voltooi het. Die voltooiing van sekere sekondêre onderwys word geassosieer met 'n verhoogde vlak van subjektiewe welstand, maar is slegs betekenisvol teen 10%.

    Die ontleding het ook ondersoek ingestel na veranderlikes met betrekking tot deelnemers se geskiedenis en ervaring in die arbeidsmag - byvoorbeeld hulle indiensneming- en werksoek-geskiedenis. Vir diegene wat tydens die pandemie se hoogtepunt kon werk, het indiensneming en daaropvolgende inkomste subjektiewe welstand positief beïnvloed. Hierdie bevinding is in ooreenstemming met vorige literatuur (Blaauw et al., 2018).

    Tabel 6 toon dat beide Saterdag- en Sondagstaanveranderlikes statisties beduidend was, alhoewel met verskillende verwantskappe met subjektiewe welstand. Deelnemers wat op Saterdae vir werk gestaan en wag het, het subjektiewe welstand positief beïnvloed, terwyl die verhouding negatief was vir deelnemers wat beskikbaar was om op 'n Sondag te werk. In 'n Duitse studie het Akay en Martinsson (2009) 'n sistematiese afname in subjektiewe welstand oor naweke getoon na aanleiding daarvan of 'n persoon voltyds werk, deeltyds werk, of werkloos is. Die skrywers het ook bevestig dat "Sondae as die blouste dag ervaar word [vertaal uit die oorspronklike Engels]" (Akay & Martinsson, 2009:22). Ook het 130 van die 135 deelnemers wat aangedui het dat hulle op 'n Sondag vir werk staan, getoon dat hulle sewe dae per week werk. Die negatiewe verhouding met subjektiewe welstand kan die sielkundige prys van absoluut geen tyd vir familie, kerk, gemeenskap of sport weerspieël. Dit is 'n geloofwaardige verduideliking, aangesien Schenck et al. (2020:142) bevind het dat dagloners in Mbombela en Emalahleni ook baie min, indien enige, vrye tyd gehad het - met die implikasie dat daardie element van Max-Neef (1991) se fundamentele menslike behoeftes7 glad nie bevredig is nie.

    Die effek van verskillende werktipes op subjektiewe welstand is ook getoets. 'n Negatiewe verwantskap met subjektiewe welstand is gevind vir deelnemers wat die maand voor die onderhoud met grawe en pikke gewerk het. Dit kan dui op 'n moontlike verband met swaar hande-arbeid wat meer uitputtend is.

    Die laaste veranderlike ten opsigte van werk- en werksoek-geskiedenis wat statisties beduidend was, was die wagtydveranderlike. Die verwantskap van hierdie veranderlike met subjektiewe welstand is ietwat verwarrend. Die model toon dat 'n verhoogde wagtyd met hoër subjektiewe welstand geassosieer word. Een moontlike faktor in die verduideliking van hierdie resultaat kan die onverwagse positiewe eksternaliteit van samesyn wees wat voortspruit uit langer wag vir moontlike werk - amper vanweë die feit dat jy nie alleen in hierdie haglike situasie is nie en weet dat jy so lank as moontlik bly in die hoop om werk te kry, wat jou toewyding tot die rol van broodwinner en voorsiener vir jou gesin wys, soos gepostuleer deur Malinga (2015). Biswas-Diener en Diener (2001) verleen verdere geloofwaardigheid aan hierdie moontlike verduideliking. Hulle het onverwagte hoë vlakke van selfgerapporteerde welstand gevind in die krotbuurte van Kalkutta, Indië, en die samehorigheid van die mense met gedeelde omstandighede het 'n noodsaaklike rol as 'n verklarende veranderlike gespeel (Biswas-Diener & Diener, 2001). Die positiewe rol van sosiale samehorigheid is ook duidelik in Biswas-Diener et al. (2005) se studie van die Masai etniese groep in Kenia en Tanzanie. Hierdie groepe het getuig van relatief hoë subjektiewe welstandsvlakke al het hulle in kleihuise sonder elektrisiteit of lopende water gewoon (Biswas-Diener et al., 2005). 'n Relatief onlangse Suid-Afrikaanse studie deur Mahadea en Ramroop (2015) onder Gauteng se stedelike bevolking het ook voorgestel dat mense met hoër vlakke van sosiale verbondenheid minder geïsoleerd voel, beter ondersteuning geniet, en dus meer gebonde voel as mense wat minder sosiale verbintenisse ervaar. Dit is duidelik nog 'n onderwerp vir verdere navorsing in die dag-arbeidsmark en breër informele sektor in Suid-Afrika.

    By die oorweging van die betekenisvolle inkomsteveranderlikes in die finale model, is bevind dat vyf inkomsteverwante veranderlikes statisties beduidend is, wat 'n positiewe verband met subjektiewe welstand toon. Eerstens was die hoogste (beste) loon wat dagloners gedurende September 2020 tot Oktober 2021 ontvang het, statisties beduidend. Daarbenewens was die laagste loon waarvoor deelnemers ten tyde van die onderhoud bereid was om per dag te werk ook statisties beduidend. Dagloners ervaar tipies hoë inkomste-variasie, so albei kante van die inkomstespektrum kan 'n diepgaande impak hê op hul algehele welstand. Die verwagting van wisselende daaglikse verdienste, wat wissel van baie laag tot (weliswaar in uitsonderlike gevalle) hoë bedrae, kan tot hierdie betekenisvolheid bydra. Hierdie bevinding onderskryf voorts die bevindinge deur Blaauw et al. (2018), wat die belangrikheid van inkomste op die subjektiewe welstand van dagloners beklemtoon het weens hul strukturele kwesbaarheid vir eksogene skokke (soos die COVID-19-pandemie).

    Die belangrikheid van die fop-veranderlike wat aandui dat deelnemers se lone teruggekeer het tot pre-COVID-19-vlakke, is baie interessant. Die grootte van hierdie koëffisiënt is ook relatief groot in vergelyking met die koëffisiënte van die ander inkomsteverwante veranderlikes. Dit toon weereens die belangrikheid van inkome in die subjektiewe welstand van dagloners, maar veral ook hoe belangrik dit was vir die deelnemers wie se inkome wel 'n terugkeer kon maak na pre-COVID-19-vlakke - iets wat vir die meerderheid nie beskore was nie.

    Laastens is bevind dat die ontvang van COVID-19 en ander maatskaplike toelaes positief geassosieer word met die subjektiewe welstand van dagloners in Johannesburg. Dagarbeiders word beskou as een van die mees kwesbare en gemarginaliseerde groepe in die informele sektor in Suid-Afrika (Theodore et al., 2015). Hierdie arbeiders is blootgestel aan lae en onsekere inkomstevlakke (Smith, 2020). Daarom kan dit moontlik wees dat enige tipe inkomste hul subjektiewe welstand positief beïnvloed. Mens moet egter altyd in gedagte hou dat, in die lig van die feit dat subjektiewe welstand 'n multidimensionele konsep is wat deur verskeie faktore beïnvloed kan word, talle ander faktore benewens "enige tipe inkomste" ook 'n rol kan speel.

     

    Gevolgtrekking

    Die COVID-19-pandemie word as een van die wêreld se ernstigste gesondheids- en ekonomiese skokke van die afgelope dekades beskou. Alhoewel sommige van die onlangse makro-ekonomiese statistieke wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, 'n prentjie skets van gedeeltelike herstel, word die gevolge vir die informele sektor steeds daagliks gevoel deur diegene wat in hierdie arena werk - soos getoon deur die bevindinge van hierdie navorsing. Hierdie studie het bevind dat deelnemers in die informele sektor (in hierdie geval dagloners in Johannesburg) buite verhouding deur die COVID-19-pandemie en die gevolglike inperkings geraak is. Hulle was veral kwesbaar vir hierdie tipe eksogene skokke. Vir die werkloses wat geen ander toelaes ontvang het nie, was die COVID-19 SRD-toelae dikwels die enigste amptelike bystand wat in hierdie moeilike tye ontvang is. Die impak van die pandemie op die subjektiewe welstand van die informele loonarbeiders is dus van kritieke belang vir ons begrip van die voetsoolimpak van hierdie ongekende gebeurtenis. Literatuur oor hierdie kwessie bly skaars aangesien dit vir navorsers van die uitdagendste aktiwiteite is om persone in die informele sektor deur middel van navorsingspogings te bereik.

    Hierdie studie het dus wesenlik bygedra tot die beperkte literatuur deur die ondersoek na die subjektiewe welstand van 230 informele dagarbeiders tydens die COVID-19-pandemie in Johannesburg, Suid-Afrika. Die bevindinge toon dat die subjektiewe welstand van dagloners beïnvloed is deur verskeie demografiese, indiensnemings- en werksoekgeskiedenisverander-likes. Hierdie veranderlikes was ook betekenisvol in ander studies in die studieveld van subjektiewe welstand. Die kwesbaarheid van hierdie dagarbeiders is beklemtoon deur die ekonometriese model se bevestiging dat verskeie inkomsteveranderlikes hul subjektiewe welstand wesenlik beïnvloed het. Enige inkomste het as 'n reddingsboei vir die arbeiders gedien en dit is weerspieël in die positiewe korrelasie met hul vlakke van subjektiewe welstand.

    Dagarbeiders is struktureel kwesbaar, met niks om op terug te val tydens eksogene skokke soos die COVID-19-pandemie nie. Sen (1999) het 'n baie sterk standpunt ingeneem dat maatskaplike beleid daar gestel moet word met die nodige veiligheidsnette ("safety nets") vir werkloses en ander kwesbare mense. Werkloses en mense in armoede moet byvoorbeeld altyd in staat wees om 'n basiese inkome te hê om hulle dringendste bestaansbehoeftes te bevredig (Sen, 1999). Alhoewel die Suid-Afrikaanse regering probeer het om kwesbare dele van die bevolking by te staan deur 'n COVID-19-toelae te verskaf, het die resultate getoon dat baie dagarbeiders nie aansoek gedoen het nie omdat hulle nie Suid-Afrikaanse burgers was nie, reeds 'n ander maatskaplike toelae ontvang het, of nie die nodige dokumente besit het om aansoek te doen nie.

    Daar is ook getoon dat die uitwerking van die pandemie voortduur. Die meerderheid dagloners in hierdie studie, het in Oktober 2021 (m.a.w. tydens die afloopfase van die pandemie) steeds minder verdien as in voor-COVID-19-tye. Selfs op 'n suiwer objektiewe vlak is daar dus steeds elemente van sistemiese ongelykheid, soos Sen (1999) dit geïdentifiseer het, aanwesig wat dagloners verhoed om hul vryheid van keuses te verbreed m.b.t. wat vir die mense van waarde is. Hierdie is kritieke aspekte in dagloners se subjektiewe welstandervaring. Om dit aan te spreek, is van kritieke belang. Voortgesette navorsing is uiteraard gebiedend noodsaaklik om die langtermyneffek van hierdie aspekte op dagarbeiders en ander aktiwiteite binne die informele sektor te monitor en ons begrip van die kwesbares in ons samelewing verder te verdiep.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Akay, A & Martinsson, P. 2009. Sundays are blue: Aren't they? The day-of-the-week effect on subjective well-being and socio-economic status. IZA Discussion paper no. 4563. https://docs.iza.org/dp4563.pdf. [12 Ootober 2022].         [ Links ]

    Alkire, S. 2002. Dimensions of human development. World Development, 30(2):181-205.         [ Links ]

    Atkins, H. 2021. Covid-19 social relief of distress grants: The case of South Africa. https://socialprotection.org/discover/blog/covid-19-social-relief-distress-grants-case-south-africa [3 Oktober 2022].         [ Links ]

    Biswas-Diener, R & Diener, E. 2001. Making the best of a bad situation: satisfaction in the slums of Calcutta. Social Indications Research, 55:329-352.         [ Links ]

    Biswas-Diener, R, Vittersø, J & Diener, E. 2005. Most people are pretty happy, but there is cultural variation: the Inughuit, the Amish, and the Maasai. Journal of Happiness Studies, 6(3):205-226.         [ Links ]

    Blaauw, PF. 2010. The socio-economic aspects of day labouring in South Africa, Unpublished Doctoral thesis, University of Johannesburg, South Africa.         [ Links ]

    Blaauw, PF, Louw, H & Schenck, CJ. 2006. The employment history of day labourers in South Africa and the income they earn - A case study of day labourers in Pretoria. South African Journal of Economics and Management Sciences, 9(4):1-14. https://doi.org/10.4102/sajems.v9i4.1034.         [ Links ]

    Blaauw, PF & Pretorius, AM. 2012. The determinants of subjective well-being in South Africa - An exploratory enquiry. Journal of Economic and Financial Sciences, 6(1):179-194. https://doi.org/10.4102/jef.v6i1.283.         [ Links ]

    Blaauw, PF, Botha, I & Schenck, C. 2018. The subjective well-being of day labourers in South Africa: The role of income and geographical location. South African Journal of Economic and Management Sciences, 21(1):a2087. https://doi.org/10.4102/sajems.v21i1.2087.         [ Links ]

    Blaauw, PF, Pretorius, AM, Viljoen, K & Schenck, CJ. 2020. Adaptive expectations and subjective well-being of landfill waste pickers in South Africa's Free State province. Urban Forum, 31(1):135-155. https://doi.org/10.1007/s12132-019-09381-5.         [ Links ]

    Blaauw, D, Yu, D & Schenck, R. 2021. Inequality among the informally wage-employed in South Africa - implications for the impact of exogenous shocks on lives and livelihoods. Journal of Social Development in Africa, 36(1):55-92.         [ Links ]

    Blaauw, PF & Pretorius, M. 2022. "I am 30 and I have nothing": the context of reception and the lived experiences of foreign migrants working as car guards in Johannesburg's West Rand. GeoJournal, 88(1):121-135. https://doi.org/10.1007/s10708-022-10594-8.         [ Links ]

    Botha, F & Booysen, F. 2013. The gold of one's ring is not far more precious than the gold of one's heart: reported life satisfaction among married and cohabitating South African adults. Journal of Happiness Studies, 14(2):433-456.         [ Links ]

    Cox, K. 2012. Happiness and unhappiness in the developing world: life satisfaction among sex workers, dump-dwellers, urban poor, and rural peasants in Nicaragua. Journal ofHappiness Studies, 13:103128.         [ Links ]

    Cramm, JM, M0ller, V & Nieboer, AP. 2010. Improving subjective well-being of the poor in the Eastern Cape. Journal ofHealth Psychology, 15(9):1012-1019. https://doi.org/10.1177/1359105310367833.         [ Links ]

    Das, KV, Jones-Harrell, C, Fan, Y, Ramaswami, A, Orlove, B & Botchwey, N. 2020. Understanding subjective well-being: perspectives from psychology and public health. Public Health Reviews, 41, a25 (2020). https://doi.org/10.1186/s40985-020-00142-5.         [ Links ]

    Diener, E & Chan, MY. 2011. Happy people live longer: Subjective well-being contributes to health and longevity. Applied Psychology: Health and Well-being, 3(1):1-43. https://doi.org/10.1111/j.1758-0854.2010.01045.         [ Links ]

    Diener, E, Diener, M & Diener, C. 2009. Factors predicting subjective well-being of Nations. Social Indicators Research Series, 38:43-70.         [ Links ]

    Diener, E, Suh, EM, Lucas, RE & Smith, HL. 1999. Subjective well-being: Three decades of progress. Psychological Bulletin, 125:276-302.         [ Links ]

    Diener, E, Oishi, S & Lucas, RE. 2003. Personality, culture, and subjective well-being: Emotional and cognitive evaluations of life. Annual Review of Psychology, 54(1):403-425. https://doi.org/10.1146/annurev.psych.54.101601.145056.         [ Links ]

    Diener, E, Diener, M & Diener, C. 2009. Factors predicting subjective well-being of Nations. Social Indicators Research Series, 38:43-70.         [ Links ]

    Dolan, P, Peasgood, T & White, M. 2008. Do we really know what makes us happy? A review of the economic literature on the factors associated with subjective well-being. Journal of Economic Psychology, 29:94-122.         [ Links ]

    Ebrahim, A, Botha, F & Snowball, J. 2013. Determinants of life satisfaction among race groups in South Africa. Development Southern Africa, 30(2):168-185. https://doi.org/10.1080/0376835X.2013.797227.         [ Links ]

    Frey, B & Stutzer, A. 2002. What can economists learn from happiness research? Journal of Economic Literature, 40:402-435.         [ Links ]

    Greyling, T, Rossouw, S & Adhikari, T. 2020. A tale of three countries: How did Covid-19 lockdown impact happiness? GLO Discussion Paper; 2020.         [ Links ]

    Greyling, T, Rossouw, S & Adhikari, T. 2021. The good, the bad and the ugly of lockdowns during Covid-19. PLoS One, 16(1):e0245546.         [ Links ]

    Gujarati, DN & Porter, DC. 2009. Basic Econometrics. New York: McGraw Hill Education.         [ Links ]

    Magidi, MD. 2022. The family life and well-being of migrant day labourers in Cape Town. Unpublished doctoral thesis, University of the Western Cape, South Africa.         [ Links ]

    Mahadea, D & Ramroop, S. 2015. Influences on happiness and subjective well-being of entrepreneurs and labour: KwaZulu-Natal case study. South African Journal of Economic and Management Sciences, 18(2):245-259.         [ Links ]

    Malinga, MV. 2015. Precarious employment and fathering practices among African men. Unpublsihed doctoral thesis, University of South Africa, South Africa.         [ Links ]

    Max-Neef, MA. 1991. Human Scale Development: Conception, application and further reflections. New York & London: The Apex Press.         [ Links ]

    Mulcahy, K & Kollamparambil, U. 2016. The impact of rural-urban migration on subjective well-being in South Africa, The Journal of Development Studies, 52(9):1357-1371.         [ Links ]

    Nielsen, I, Paritski, O & Smyth, R. 2010. Subjective well-being of Beijing taxi drivers. Journal of Happiness Studies, 11:721-733.         [ Links ]

    Nussbaum, M. 2011. Creating Capabilities: The Human Development Approach. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.         [ Links ]

    Posel, D & Casale, D. 2011. Relative standing and subjective well-being in South Africa: The role of perceptions expectations and income mobility. Social Indicators Research, 104:195-223.         [ Links ]

    Proctor, CL. 2014. Subjective well-being, in Michalos (ed.). Encyclopedia of quality of life and well-being research. Amsterdam: Springer, pp. 6437-6441.         [ Links ]

    Rakabe, E. 2020. Eddie Rakabe: Informal business relief isn't hitting the mark. https://www.fin24.com/Opinion/eddie-rakabe-informal-business-relief-isnt-hitting-the-mark-20200416-2 [20 April 2020].         [ Links ]

    Ranchhod, V & Daniels, RC. 2021. Labour market dynamics in South Africa at the onset of the COVID-19 pandemic. South African Journal of Economics, 89(1): 44-62. https://doi.org/10.1111/saje.12283.         [ Links ]

    Rojas, M. 2013. The subjective well-being of people in informal employment: Empirical evidence from Mexico. Evidence-based HRM: A global forum for empirical scholarship, 1(2):169-186. https://doi.org/10.1108/EBHRM-04-2013-0006.         [ Links ]

    Schenck, R, Blaauw, D & Matthee, M. 2020. Max-Neef en die strukturele kwesbaarheid van dagloners in Mbombela en Emalahleni, Suid-Afrika. TydskrifvirGeesteswetenskappe, 60(1):142-163. https://doi.10.17159/2224-7912/2020/v60n1a11.         [ Links ]

    Schenck, CJ, Blaauw, PF, Swart, EC, Viljoen, JMM & Mudavanhu, N. 2019. The management of South Africa's landfills and waste pickers on them: Impacting lives and livelihoods. Development Southern Africa, 36(1):80-98. https://DOI:10.1080/0376835X.2018.1483822.         [ Links ]

    Schmid, L, Christmann, P, Oehrlein, AS, Stein, A & Thönnissen, C. 2024. Life Satisfaction during the Second Lockdown of the COVID-19 Pandemic in Germany: The Effects of Local Restrictions and Respondents' Perceptions about the Pandemic. Applied Research in Quality of Life, 19:445-467. https://doi.org/10.1007/s11482-023-10249-x.         [ Links ]

    Sen, A . 1999. Development as Freedom. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

    Shams, K & Kadow, A. 2023. COVID-19 and Subjective well-being in Urban Pakistan in the Beginning of the Pandemic: A Socio-Economic Analysis. Applied Research in Quality of Life, 18:93-113. https://doi.org/10.1007/s11482-022-10114-3.         [ Links ]

    Smith, ME. 2020. Social justice vulnerabilities and marginalised communities: A case study of day labourers In Mbekweni. Unpublished Masters dissertation, University of the Western Cape, South Africa.         [ Links ]

    Statistieke Suid-Afrika. 2022. After two years, GDP returns to pre-pandemic levels. https://www.statssa.gov.za/?p=15440 [28 Oktober 2022].         [ Links ]

    Suid-Afrikaanse Regering. 2020. Social grants - Coronavirus COVID-19. https://www.gov.za/covid-19/individuals-and-households/social-grants-coronavirus-covid-19#:~:text=Social%20Relief%20of%20Distress%20(SRD)%20grants&text=The%20Special%20COVID%2D19%20Social%20Relief%20of%20Distress%20amount%20is,there%20will%20be%20no%20backpay [3 Oktober 2022].         [ Links ]

    Theodore, N, Blaauw, D, Schenck, C, Valenzuela Jr, A, Schoeman, C & Meléndez, E. 2015. Day labor, informality and vulnerability in South Africa and the United States. International Journal of Manpower, 36(6):807-823.         [ Links ]

    Theodore, N, Blaauw, D, Pretorius, A & Schenck, C. 2017. The socio-economic incorporation of immigrant and native-born day labourers in Tshwane, South Africa. International Migration, 55(1):142-156. https://doi.org/10.1111/imig.12311.         [ Links ]

    Theodore, N, Pretorius, A, Blaauw, D & Schenck, C. 2018. Informality and the context of reception in South Africa's new immigrant destinations. Population, Space and Place, 24(3):e2119. https://doi.org/10.1002/psp.2119.         [ Links ]

    Valenzuela Jr. A, Theodore, N, Meléndez, E & Gonzalez, AL. 2006. On the corner: Day labor in the United States. UCLA, Los Angeles, CA.         [ Links ]

    Van Wyk, AM, Blaauw, PF, Pretorius, A, Schenck, R & Freeman, R. 2020. Investigating the subjective well-being of the informally employed: A case study of day labourers in Windhoek and Pretoria. Acta Commercii, 20(1):a825. https://doi.org/10.4102/ac.v20i1.825.         [ Links ]

    Veenhoven, R. 2023. Happiness Research: Past and Future. Voordrag gelewer by die 21ste jaarlikse konferensie van die International Society for Quality-of-Life Studies (ISQOLS), Rotterdam, Nederland, 21-25 Augustus 2023.         [ Links ]

    Venter, L, Blaauw, D & Claassen, C. 2024. "It was Better Before COVID": The Impact of the Social Relief of Distress Grant on the Lives and Livelihoods of South African Day Labourers in Tshwane. International Social Science Journal, 74:1049-68. https://doi.org/10.1111/issj.12497.         [ Links ]

    Voukelatou, V, Gabrielli, L, Miliou, I, Cresci, S, Sharma, R, Tesconi, M & Pappalardo, L. 2021. Measuring objective and subjective well-being: dimensions and data sources. International Journal of Data Science and Analytics, 11:279-309. https://doi.org/10.1007/s41060-020-00224-2.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2024-05-01
    Goedgekeur: 2024-09-16
    Gepubliseer: Desember 2024

     

     

     

    Derick Blaauw is 'n professor in die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus). Voor sy huidige pos het hy ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) gedoseer asook aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en die Soweto- en Bloemfontein-kampusse van Vista Universiteit. Professor Blaauw se navorsing is hoofsaaklik op arbeids- en ontwikkelingseko-nomie gerig. Sy huidige werk is toegespits op die sosio-ekonomiese dinamika van kwesbare groepe in die informele ekonomie, insluitende motor-wagte, dagloners en vullisherwinners. Professor Blaauw het reeds wyd in geakkrediteerde plaaslike en internasionale joernale gepubliseer.
    Derick Blaauw is a professor in the School of Economic Sciences at the North-West University (Potchefstroom campus). Prior to taking up this position, he lectured economics at the University of Johannesburg (UJ), Rand Afrikaans University (RAU) and at the Soweto and Bloemfontein Campuses of Vista University. Professor Blaauw's research interests are mainly in the field of labour and development economics. His current work focusses on the socio-economic dynamics of vulnerable groups in the informal economy, such as car guards, day labourers and waste pickers. Professor Blaauw has an extensive list of publications in accredited national and international journals.

     

     

    Marinda Pretorius is 'n mede-professor in die Skool vir Ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Haar navorsing fokus op verskeie ekonomiese velde en sluit onder meer subjektiewe welstand, soewereine kredietgraderings en voor-uitskattingstegnieke van makroekonomiese veranderlikes in. Haar huidige navorsing is gerig op subjektiewe welstandkwessies van onder andere studente en motorwagte. Sy het reeds in verskeie nasionale en internasionale joernale gepubliseer.
    Marinda Pretorius is an associate professor in the School of Economics at the University of Johannesburg. Dr Pretorius focuses in her research on various economic fields including, for example, subjective well-being, sovereign credit ratings and forecasting methods of macro-economic variables. Her current research is centered on subjective well-being issues of, inter alia, students and car guards. She has published in various national and international journals.

     

     

    Rinie Schenck is tans professor en gegradeerde navorser in die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK). Voordat sy by UWK begin werk het, was sy 25 jaar aan Unisa en 6 jaar aan die Universiteit van Pretoria (UP) verbonde. Haar navorsing is gerig op armoede, werkloosheid en in besonder op die persone wat 'n bestaan probeer maak in die informele ekonomie. Professor Schenck en haar navorsingspan gee veral aandag aan die dagloners en vullisherwinners. Sy het reeds wyd in nasionale en internasionale tydskrifte gepubliseer.
    Rinie Schenck is professor and rated researcher in the Department of Social Work at the University of the Western Cape (UWC). Prior to UWC she lectured at Unisa for 25 years and 6 years at the University of Pretoria (UP). Her research focus is on poverty, unemployment and in particular on people who are making a living in the informal economy, including day labourers and waste pickers. She has published extensively in national and international journals.

     

     

    Df (Daniel) Meyer is 'n professor in Ontwikkel ingsekonomie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) en 'n NNS-gegradeerde navorser. Sy navorsing fokus op ontwikke-linsekonomie en die formulering van indekse en meetinstrumente vir ontwikkeling. Hy is outeur en mede-outeur van meer as 200 portuur-beoordeelde publikasies, asook verskeie ander bydraes en verslae.
    Df (Daniel) Meyer is a professor of Development Economics at the University of Johannesburg (UJ) and an NRF-rated researcher. His research focuses on Development Economics and formulating indexes and tools to measure development. He has authored and co-authored more than 200 peer-reviewed publications and several other contributions and reports.
    1 Die term word in die artikel gebruik as 'n metafoor in die konteks van COVID-19 en meet spesifiek die omstandighede van dagloners midde in die pandemie - as 'n gevallestudie van kwesbare groepe in die informele ekonomie se ervaring van die pandemie se gevolge.
    2 Een van die keurders het aangedui dat: "...manuskrip ontbreek 'n sterk regverdiging waarom die resultate drie jaar na die opname aangebied word." Die data is steeds uiters relevant gegewe die feit dat daar nog geen ander studie oor hierdie aspek gedoen is nie. Verder toon literatuur oor dagloners dat hierdie individue hierdie werksoekaktiwiteit oor 'n lang termyn beoefen en hulle omstandighede nie oornag verander nie (Blaauw, 2010). Ons sien hierdie dus as die eerste rondte navorsing as deel van 'n langtermynstudie.
    3 Ons erken soos Mulcahy en Kollamparambil (2016) dat die enkelvraagbenadering nie sonder voorbehoude is nie. As oorsaaklikheid afgelei moet word, moet individuele effekte oorweeg word, aangesien nie almal lewenstevredenheid op dieselfde skaal rapporteer nie: bv. respondent A se vlak 3 kan die ekwivalent wees van respondent B se vlak 5. Een manier om dit te omseil of te beheer, is deur 'n verskil-in-verskille-tegniek te gebruik. Ons kruissnit-datastel het egter nie daarvoor voorsiening gemaak nie. Oorsaaklikheid word dus nie in die resultate van ons ondersoek beweer nie, maar ons identifiseer moontlike faktore wat verband hou met dagarbeiders se subjektiewe welstand tydens die pandemie - wat die grondslag lê vir verdere longitudinale navorsing.
    4 Die ideaal is uiteraard om eers 'n volledige beeld van die grootte van die navorsingspopulasie te kry deur middel van 'n sensus en daarvolgens 'n ewekansige steekproef te neem. Die wisselende aard van die getal dagloners wat daagliks by elke "hiring site" bymekaarkom, bemoeilik ongelukkig die benadering. Gevolglik is die protokol van studies soos Blaauw (2010) gevolg, wat dit dan ook moontlik maak om sekere vergelykings te tref. Derhalwe is 'n teiken van 10% gestel - in ooreenstemming met Blaauw (2010).
    5 Suid-Afrika se COVID-19-beperkings tydens die studie was as volg: Aangepaste waarskuwingsvlak 1 was vanaf 1 Oktober 2021 in plek. Dit het die veldwerkers in staat gestel om te kon beweeg om die veldwerk te doen. Vanaf 13 September 2021 tot 1 Oktober 2021 was die land op aangepaste waarskuwingsvlak 2. Daarom was 'n opleidingsessie m.b.v. Zoom-tegnologie die beste opsie vir opleiding.
    6 'n Fop-veranderlike is 'n binêre veranderlike wat in statistiese modelle gebruik word om kategoriese data met twee moontlike uitkomste voor te stel, tipies gekodeer as 0 of 1. Dit maak dit moontlik om kwalitatiewe faktore in regressiemodelle in te sluit deur dit in numeriese vorm om te skakel (Gujarati & Porter, 2009:277). Dit is daarom 'n nuttige strategie in die datastel waarmee ons werk.
    7 'n Taksonomie van fundamentele menslike behoeftes en die maniere waarop hierdie behoeftes bevredig kan word, is deur Manfred Max-Neef ontwikkel. Sien Max-Neef (1991) vir 'n volledige beskrywing.