SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4The Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in AfrikaansThe source text for the 2020 Afrikaans translation of the New Testament author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a5 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Oorlog, geostrategiese spanning en nuwe wereldordes: Krygskundige navorsing in Suid-Afrika sedert 19941

     

    War, geostrategic tensions and new world orders: Military research in South Africa since 1994

     

     

    Abel Esterhuyse

    Departement Strategiese Studies, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: abel@sun.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Die artikel plaas die aard van krygskundige navorsing in Suid-Afrika sedert demokratisering in 1994 onder die soeklig. Dit word gedoen binne die breë konteks van die idee van veiligheid; insluitende sowel die internasionale as die Suid-Afrikaanse veiligheidsproblematiek. Die argument, vanuit 'n internasionale veiligheidsperspektief is dat die 1990's tiperend was van die aard van veiligheidsdenke in ná-oorlogsperiodes. Net soos in die 1920's en die laat 1940's was dit 'n periode van idealistiese denke oor veiligheid. Teen die laat 1990's was daar egter 'n terugkeer na groter realpolitik en 'n meer tradisionele benadering met die klem op die rol van die staat en die veiligheidsinstellings in die nastreef van veiligheid. In Suid-Afrika het die verklaarde klem op 'n algemene mensveiligheid egter voortgeduur; ook wat die fokus en aard van navorsing betref. Dit lei tot vrae oor die mate waartoe akademiese navorsing oor veiligheid belyn is met die veiligheidswerklikhede in Suid-Afrika. Wat krygskundige navorsing betref, was die periode ná 1994 vir die Fakulteit Krygskunde van die Universiteit van Stellenbosch 'n periode van groei en ontwikkeling. Die navorsing ontvou veral in die krygskuns eerder as in die krygswetenskaplike omgewing met 'n fokus op krygsgeskiedenis, strategiese studies en internasionale politiek.

    Trefwoorde: Veiligheid, militer, mensveiligheid, verdediging, weermag, veilig-heidsinstellings, navorsing, publikasies, krygskunde, konflik, oorlog, wereldorde


    ABSTRACT

    The article explores the nature and development of military research in South Africa since 1994. Military research always unfolds within the idea and the broader context of security. Similar to the end of the First and Second World Wars, the end of the Cold War introduced a period of relative peace that translated into a liberal outlook on peace and security in the 1990s. Internationally, the so-called Copenhagen school of security studies suggests a deepening and broadening of the debate on security. Increasingly, strategic studies were replaced by security studies; with the debate on security in the 1990s becoming progressively normative and utopian in nature. By the end of the 1990s, especially after the 9/11 attacks, it was quite clear, however, that security still requires a careful attention of conflict, violence, and war; and that the state and the security institutions remain at the core of the idea of security. At the same time, defining security too widely, and including potentially everything that might negatively affect human affairs, the idea of security runs the risk of being too broad to be of any practical value. By the early 2000s, on an international scale, the focus on military force returned to its rightful place in International Relations (IR) as an area of research and study.
    South Africa in the 1990s embraced the idea of the deepening and broadening of the debate on security; and the notion of human security, in particular. As was the case under the apartheid regime before 1994, the 1996 White Paper on Defence was used to translate the idea of human security into policy. Unlike the era before 1994, however, the policy directive on human security was never really operationalised by means of an explicit national security strategy document. At face value, there was a declaratory focus by government on human security; in reality, however, thefocus shifted to an emphasis on African security under President Thabo Mbeki, regime security under the Jacob Zuma Administration, and the reality of national security under President Cyril Ramaphosa respectively. In the scholarly domain, however, the focus in research and teaching remained almost exclusively on the non-military and non-state dimensions of the idea of human security. Given this state of affairs, questions ought to be asked about the alignment between research on security in South Africa and the realities of insecurity facing the society at large; as well as to what extent the academic fraternity in South Africa is addressing the nuances of the security realities facing society in their research.
    As far as military research is concerned, the period after 1994 can be viewed as a period of growth and development for the Faculty of Military Science of the University of Stellenbosch at the Military Academy, Saldanha Bay. Whereas prior to 1994 the Faculty was primarily responsible for the undergraduate teaching of military officers, the focus of the institution shifted towards post-graduate teaching and research in the post-1994 era. This was predominantly due to the process of democratisation and developments in the sphere of global communications. It allowed the Faculty of Military Science to escape from its geographical and institutional isolation and to become integrated into the broader academic fraternity both in South Africa and abroad. The Faculty's research unfolded predominantly in the domain of the art of war rather than military science; with an emphasis on military history, strategic studies and international relations (IR).

    Keywords: Security, military, human security, defence, defence force, security institutions, research, publications, military science, conflict, war, world-order


     

     

    1. Inleiding

    Die doel van die artikel is om krygskundige navorsing in Suid-Afrika onder die soeklig te plaas met verwysing na globale konflik, geostrategiese realiteite, en ontvouende wereldordes. Krygskundige navorsing in Suid-Afrika is primêr, maar nie uitsluitlik nie, die verantwoordelik-heid van die Fakulteit Krygskunde van die Universiteit Stellenbosch. Tot in 1994, was dit 'n verantwoordelikheid wat tot 'n groot mate na binne gerig was; en in isolasie ten opsigte van die breër akademiese samelewing in Suid-Afrika en die wêreld gestaan het. Uit die aard van Suid-Afrika se isolasie en binnelandse strategiese realiteite, het dit die geleentheid geskep vir universiteite in Suid-Afrika in die 1980's om die terrein van veiligheidsnavorsing te betree; dikwels vanuit 'n protes- en teen-regeringsperspektief. Globale konflik, geostrategiese realiteite en nuwe wereldordes, tesame met binnelandse politieke tendense, het egter nuwe en bevrydende geleenthede geskep vir krygskundige navorsing.

    Die vraag is hoe die aard van die navorsing en opvoeding wat onderneem word in die akademiese omgewing sedert 1994 belyn is met die veiligheidswerklikhede in Suid-Afrika. Krygskundige navorsing is nou verweef met die aard en konseptualisering van veiligheid; beide internasionaal en plaaslik. Die bespreking kontekstualiseer die vraag na krygskundige navorsing deur dit eerstens te belig met verwysing na die aard en wese van internasionale veiligheidsrealiteite en denke. Tweedens poog die bespreking om die aard van veiligheidsdenke en navorsing in Suid-Afrika onder die soeklig te plaas, met spesifieke verwysing na die wyse waarop mensveiligheid as konsep deur beide die regering en veiligheidsburokrasie, sowel as akademici en die akademiese wêreld, omarm is. Die bespreking plaas laastens die klem op die rol van die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit van Stellenbosch in opvoeding en navorsing van 'n krygskundige aard.

     

    2. Van ná-Koue Oorlog-veiligheid tot grootmoondheid-spanning en oorlog

    Die vraag na 'n sogenaamde nuwe wereldorde is gereeld aan die orde; meestal vanuit 'n eskatologiese perspektief en, waarna die Nederlanders verwys as 'n komplotteorie. Die waarheid is dat daar dikwels 'n nuwe geostrategiese dinamika ontvou in internasionale politiek en ekonomie wat as 'n nuwe wereldorde getipeer kan word (Brands & Edel, 2019). Sodanige nuwe wereldorde ontvou dikwels, volgens Colin S Gray (2007:9) aan die hand van sewe strategiese kontekste: politiek, ekonomies, sosiaal-kultureel, geografies, tegnologies, histories, en militer. Oorlog is daarom dikwels 'n belangrike kataliserende faktor en die deurslaggewende dinamika waarteen so 'n sogenaamde nuwe wereldorde ontvou.

    Die Koue Oorlog het as nuwe wereldorde ontvou in die nasleep van die Tweede Wereldoorlog en daar was weereens 'n nuwe wereldorde ná afloop en aan die einde van die Koue Oorlog. Elkeen van hierdie nuwe tydsraamwerke bring 'n unieke dinamika na vore in soverre dit die aard van vrede en veiligheid behels; met daarby inbegrepe ook die bestudering van vrede en veiligheid. Prof. Colin S. Gray (2007: 240) ontleed byvoorbeeld in sy boek, War, Peace and International Relations -An Introduction to Strategie History, op interessante wyse die sogenaamde groot strategiese narratief, naamlik dat die 1990's, net soos die 1920's en die laat 1940's, 'n periode was waarin daar oorweldigend idealisties of utopies oor vrede en veiligheid gedink is. Tewens, in 1992 is die Amerikaanse politieke wetenskaplike Francis Fukuyama (1992) se boek, The End of History and the Last Man, met wye steun in die akademiese wêreld begroet. Die kern van Fukuyama se argument was dat die toekoms van die wêreld deur demokrasie en die vrye mark gevorm gaan word; en dat die wêreld die vlak van ontwikkeling bereik het waar oorlog om geskille tussen strategiese entiteite te beslis, oorbodig geraak het.

    Uit 'n akademiese perspektief is die fokus in die bestudering van vrede en veiligheid ná die Koue Oorlog verskuif vanaf verdedigings- en strategiese studies na 'n verbredende beskouing van die dissipline onder die hoër orde van veiligheidstudies. Strategiese studies is tradisioneel 'n interdissiplinêre vakgebied2 wat fokus op die wyse waarop die militêre en ander magsinstrumente van die staat gebruik kan word om politieke doelwitte te bereik deur middel van 'n dinamiese interaksie tussen strategiese akteurs in die politieke domein (Duyvesteyn & Worrall, 2017: 347). Die idee van die veiligheid van individue en groepe is uiteraard so oud soos die mensdom self. Maar, as 'n onderwerp van professionele akademiese ondersoek, is die idee van veiligheidstudies 'n relatief onlangse en grotendeels Europees-Amerikaanse konsep wat vanuit die Tweede Wêreldoorlog na aanleiding van die idees van groot of nasionale strategie ("grand or national strategy"), beslag gekry het. Vanuit hierdie perspektief word veiligheidstudies verstaan as synde van 'n hoër orde te wees as strategiese studies; en daar-benewens ook 'n belangrike komponent van politieke wetenskap in die bestudering van internasionale verhoudinge uit te maak. Ook het dit grotendeels gelei tot die uitsluiting van sommige sleutelareas van studie, veral binnelandse polisiëring en kwessies met betrekking tot die welsyn van bevolkings (Williams & McDonald, 1998:3).

    In die meer tegniese taal van sosiale wetenskap is veiligheid, volgens Williams en McDonald (1998:1), egter ietwat van 'n omstrede konsep aangesien daar geen konsensus oor die betekenis van die idee van veiligheid is nie. Veiligheid het verskillende betekenisse vir verskillende mense. Op 'n abstrakte of teoretiese vlak werk die vakkundiges binne internasionale verhoudinge gewoonlik met 'n definisie van veiligheid wat fokus op die beskerming van sleutelwaardes teen eksterne bedreigings (Williams & McDonald, 1998:1); alhoewel Buzan (1983:37) dit ook koppel aan die idee van interne kwesbaarhede. Veiligheid, en die bestudering daarvan, is daarom, per definisie polities van aard. Die politieke aard spruit voort uit vrae rakende wie se veiligheid en hulpbronne ter sprake is; hoe veiligheid bereik moet word; en wat die impak, geografies en andersins, daarvan gaan wees.

    Benewens die ineenstorting van die Sowjet-ryk, het globalisering in sy vele manifestasies mense se aandag weggedraai van staatsveiligheid en van militêre bedreigings en verdediging, na 'n meer kosmopolitiese mensgesentreerde perspektief, gerugsteun deur die VN. Dit het gevolg op 'n soeke in die laat tagtigs in die onverbonde lande van Europa na alternatiewe om die Koue Oorlog-spanning in Europa te ontlont (Lautensach & Lautensach, 2023:1.1.1). Die publikasie van die hersiene uitgawe van Barry Buzan se boek, People, States & Fear: The National Security Problem in International Relations (1982), het die grondslag gevorm van denke oor vrede en veiligheid in die 1990's. Die kern van die Copenhagen Peace Research Institute se argument oor vrede en veiligheid, byvoorbeeld, was dat daar verbredend omgegaan moes word met die idee van veiligheid en dat dit ook 'n politieke, ekonomiese, sosiale-kulturele en omgewingsdimensie het wat ontgin moes word. Insgelyks het die verdieping van vrede en veiligheid beteken dat die staat nie die alleeneienaar van veiligheid is nie; maar dat dit ook die verantwoordelikheid van internasionale en sub-staatlike entiteite en strukture is.

    Die debat oor die verbreding en verdieping van veiligheid het hernude stukrag en legitimiteit gekry met die VN se 1994-verslag oor menslike ontwikkeling (UNDP,1994) wat die idee of konsep van mensveiligheid gepropageer het en wat veiligheid gedefinieer het as 'n mens-gedrewe eerder as 'n geografies-gedrewe konsep. Die idee van mensveiligheid is binne die konteks van ontwikkeling gekonseptualiseer; eerder as 'n politieke of strategiese fenomeen. Mensveiligheid word daarom deur twee denkrigtings onderlê: vryheid van gebrek en vryheid van vrees.3 Vryheid van vrees poog om menslike veiligheid te beperk tot die beskerming van die individu teen geweld, terwyl erken word dat geweld sterk geassosieer word met armoede en swak state (Lautensach & Lautensach, 2023:5.1.1). Veiligheid was daarom deel van 'n nuwe paradigma van volhoubare menslike ontwikkeling. As sodanig het dit gepoog om die potensiële Koue Oorlog-vredesdividend te kanaliseer na 'n nuwe vorm van ontwikkelingsamewerking en die herstrukturering van globale instellings.

    Uit 'n filosofiese oogpunt het die verskuiwing vanaf verdedigings- en strategiese studies na veiligheidstudies en mensveiligheid die fokus in die bestudering van konflik, geweld, en oorlog verskuif vanaf 'n klem op realisme na meer idealistiese raamwerke. In die proses is toenemend klem geplaas op utopiese idees met betrekking tot ontwapening en samewerkende vrede en veiligheid. Die tradisionele klem op die militêre en staatsgedrewe benaderings tot veiligheid is bevraagteken, gepaardgaande met 'n groeiende idealistiese klem op internasionale politieke samewerking, wat politieke, ekonomiese, maatskaplike en omgewingsaspekte van veiligheid geprioritiseer het. Uit 'n navorsingsoogpunt was daar 'n sterk normatiewe fokus op 'n utopiese omskrywing van die aard van veiligheid en hoe dit op individuele, samelewings-en globale vlakke nagestreef moet word. Veiligheid is ook toenemend vanuit 'n wyer reeks teoretiese perspektiewe benader, met post-positivistiese tendense en feminisme wat sterk na vore gekom het (Williams & McDonald, 1998:2-3).

    Internasionaal was dit reeds voor die 9/11-aanvalle in Amerika duidelik dat daar waarskynlik meer waarheid was in Samuel P Huntington se 1996-boek, The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order as wat sy kritici hom voor erkenning wou gee. Huntington argumenteer in hierdie boek dat konflik in die 21ste eeu tussen kulture, in plaas van ideologieë, sal ontvou en dat oorlog te wagte kan wees in die fout- of breeklyne tussen kulture. Dit was veral godsdiens as kulturele realiteit, wat toenemend na vore gekom het, in die VSA en elders, as instrument van mobilisering. Hierdie sogenaamde eskatologiese verstaan van konflik, geweld, en oorlog het sterk as oorsaaklike realiteit in die 9/11-aanvalle en die daaropvolgende sogenaamde Globale Oorlog teen Terreur gefigureer.

    Reeds in die 1990's was dit egter duidelik dat die wêreld nog nie die einde van oorlog aanskou het nie; en dat die normatiewe en utopiese idees rakende veiligheid deur bepaalde tekortkominge onderlê word. Eerstens, en aan die positiewe kant, is die nutswaarde van veiligheid opgesluit in die konseptualisering van vrede en veiligheid in die samelewing en wêreld. Die vraag wat nie sterk figureer in veiligheidstudies nie, is hoe sodanige veiligheids-ideale bereik moet word. Anders gestel: wat sou die strategie wees wat gevolg moet word om die gekonseptualiseerde en dikwels idealistiese idees van veiligheid in 'n werklikheid te om-skep. Veiligheidstudies is daarom waardevol as instrument van konseptualisering, maar ontbreek dikwels rakende die implementering daarvan.

    Tweedens, ongeag hoe utopies en idealisties daar met veiligheid omgegaan word, bly die rol van die staat en die weermag die absolute kern van die idee van veiligheid. Indien die veiligheidsinstellings van die staat, spesifiek die weermagte, faal in hul taak om die geografiese gebied van die staat te beskerm, verloor alle ander vorme van veiligheid hul waarde (Betts, 1997:9). In die ontwikkelde wêreld is die rol van die polisie en binnelandse veiligheidsdienste ook van kritieke belang om die veiligheid van die staat en sy inwoners te verseker. In aansluiting hierby, indien die staat se veiligheidsinstellings sodanig uitgehol word dat die staat sy monopolie oor die aanwending van mag verloor, is die veiligheid en voortbestaan van die staat as strategiese akteur ook in gedrang.

    Derdens, indien die idee van veiligheid te breed en idealisties gedefinieer word, ontwikkel die debat oor veiligheid in 'n gesprek oor die welstand van die staat en verloor die idee van veiligheid sy konseptuele waarde. Dit sou moontlik wees om te redeneer dat die argumente oor die verbreding van veiligheid die konsep tot 'n mate uitrafel en dat dit absoluut ontheem is van enige grense (Betts, 1997:9). In 'n grenslose debat oor veiligheid verloor die konsep sy waarde en raak dit bloot 'n goed-voel-gesprek oor die aard van die samelewing.

    In retrospeksie, en in oorweging van hierdie realiteite, het die debat oor die verdieping van veiligheid en vrae rakende die verantwoordelike agentskap van veiligheid anders as die staat, die veiligheidsinstellings van die staat in die 1990's tot 'n groot mate ontneem van hul rol as primêre akteurs in die daarstelling van veiligheid. Anders gestel: die idealisme wat die veiligheidsdebat en die daarstelling van veiligheid in die onmiddellike ná-Koue Oorlog-era onderlê het, het die rol van die veiligheidsinstellings van die staat na die periferie verskuif. Die veiligheidsinstellings is gemarginaliseer, in baie gevalle selfs uitgesluit uit die debat oor veiligheid en die daarstelling van veiligheid in die 1990's. Op 'n metateoretiese vlak, argumenteer Craig A Snyder in sy boek getitel Contemporary Security and Strategy (1999) ook dat veiligheidstudies en die idee van veiligheid politieke legitimiteit aan die gesprek oor vrede en veiligheid verleen het; die debat oor die verbreding en verdieping van veiligheid geniet beide politieke en samelewingsaanvaarbaarheid en legitimiteit. In die proses het dit egter die intellektuele samehang wat die studieveld van strategiese studies geniet het op die altaar van politieke legitimiteit geoffer. Veiligheidstudies het die intellektuele koherensie van strategiese studies, met die gepaardgaande fokus op die staat en sy veiligheidsinstellings, nodig om idees koherent te konkretiseer en tot uitvoer te bring (Snyder, 1999:3). Dusdanig histories beskou, het die tragiese ontvouing van wêreldgebeure grootliks die optimisme van die post-1990 era weerlê.

    Die onlangse en voortslepende oorloë in die Oekraïne, Gaza, die Soedan en elders, het die realiteit dat militêre mag 'n beduidende kenmerk van wereldpolitiek is, beklemtoon. In die proses het dit ook die kritieke waarde en historiese belang van strategiese studies as vakgebied bevestig om die verdediging van die staat en die rol van militêre mag in die interaksie en verhoudinge tussen state onder die akademiese soeklig te plaas. Strategiese studies as vak is veral in vredestyd van kritieke belang; nie net om militêre en strategiese kennis te bewaar vir wanneer dit nodig mag wees nie, maar veral om vredestydse debatte oor verdediging en die rol van weermagte in vredestyd in strategiese konteks te plaas. In vredestyd is strategiese kennis fundamenteel vir gesprekke oor burgerlik-militêre verhoudings binne state en vir die legitimisering van die verdedigingsbegroting. Dit is 'n kritieke realiteit, ook vir Suid-Afrika (Betts, 1999:7-8).

     

    3. Van totale aanslag en totale strategie tot mensveiligheid en irrelevansie in Suid-Afrika

    Apartheid-veiligheidsdenke is grootliks gevorm en geskoei op André Beaufre (1965) se idees van totale aanslag as bedreiging en totale strategie in reaksie op sodanige bedreiging. Suid-Afrika se strategiese denke in die 1970's en 1980's was daarom verrassend omvattend en verbredend van aard. Uiteraard het dit die staat en die veiligheidsinstellings sentraal geplaas in die konkretisering van daardie veiligheidsideaal en bygedra tot die militarisering van die totale samelewing. Ná 1994 het Suid-Afrika, onder die leiding van Nelson Mandela, die idee van vrede voorop gestel; en die idees oor die verbreding en verdieping van veiligheid het in Suid-Afrika op vrugbare grond geval, samelopend met die proses van demokratisering. Dit was veral die VN se 1994 Menslike Ontwikkelingsverslag wat regeringsdenke oor veiligheid in Suid-Afrika fundamenteel omvorm het. Artikel 198(a) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996) beklemtoon: "Nasionale veiligheid moet die vasberadenheid weerspieël van Suid-Afrikaners, as individue en as nasie, om as gelykes te leef, in vrede en harmonie te leef, vry te wees van vrees en gebrek, en 'n beter bestaan na te streef." Net soos in die geval met die verdedigingswitskrifte voor 1994, was die 1996 Nasionale Witskrif op Verdediging die voertuig waarmee mensveiligheid as regeringsbeleid omskryf en aanvaar is; ironies genoeg, sonder dat die woord mensveiligheid ooit in die dokument genoem word. Die Witskrif is egter eksplisiet daaroor dat nasionale veiligheid nie meer as 'n oorwegend militêre en polisieprobleem beskou word nie; en dat politieke, ekonomiese, sosiale, omgewingsake en 'n uiterste besorgdheid oor die veiligheid van mense" ingesluit word in die konseptualisering van nasionale veiligheid (National Defence White Paper 1996: Chapter 2, Paragraph 1).

    Dit het Suid-Afrika se regeringsbeleid belyn met die heersende akademiese denke oor veiligheid waarin die fokus in die bestudering van vrede en veiligheid verskuif is vanaf die Koue Oorlog-klem op verdedigings- en strategiese aangeleenthede na die idee van veiligheidstudies. Alhoewel mensveiligheid daarom beslag gekry het as beleid in Suid-Afrika, is dit nooit deur middel van 'n nasionale of veiligheidstrategie gevoer tot op die vlak waar daar 'n duidelike uiteensetting was in terme van hoe die idee in die praktyk beslag moes kry nie (Paris, 2001). Dit was veral die veiligheidsinstellings van die staat wat in gebreke gebly het in terme van hoe mensveiligheid geoperasionaliseer moes word. Die brug is nooit gebou tussen mensveiligheid as konsep en die uitvoering daarvan deur middel van 'n bekostigbare strategie en strukture binne beide die staat en die privaat sektor in Suid-Afrika nie. As verklaarde regeringsbeleid was mensveiligheid van groot waarde om regeringsbeleid te konseptualiseer en legitimiseer. Die probleem was die konkretisering en uitvoering daarvan (Jordaan, 2023: 214).

    Ook in die akademiese omgewing in Suid-Afrika het die idee van veiligheid, en mensveiligheid in die besonder, 'n vrugbare teelaarde gevind. In 1996 is die Instituut van Verdedigingsbeleid ("Annual Review") omvorm tot die Instituut vir Veiligheidstudies, met 'n baie duidelike fokus om mensveiligheid op die kontinent te bevorder. Waar konflik, vrede en veiligheid by Suid-Afrikaanse Universiteite binne die dampkring van strategiese studies bestudeer is, het die fokus mettertyd verskuif na internasionale politiek in die algemeen en veiligheidstudies in die besonder. Prof. Mike Hough se Instituut van Strategiese Studies by die Universiteit van Pretoria is omvorm tot die Instituut vir Strategiese en Politieke Aange-leenthede met 'n eksplisiete fokus op kritiese strategiese studies" (Universiteit van Pretoria), binnelandse politiek en samelewing, en Afrika-ontwikkeling en globale aangeleenthede. Alhoewel daar 'n eksplisiete fokus is op internasionale veiligheid, is daar geen vermeldings van konflik, geweld of oorlog; of van die veiligheidsagentskappe van die staat op die webblad van die Instituut nie. Akademici by die Universiteit van Pretoria het in die era ná 1994 egter waardevolle bydraes gelewer tot denke rakende veiligheid in Suid-Afrika en Afrika, terwyl strategiese en veiligheidstudies in kurrikulums op voor- en nagraadse vlak geïnkorporeer is.

    Ook die Departement Strategiese Studies by die Universiteit van Suid-Afrika, waar Prof. Deon Fourie baanbrekerswerk gedoen het in die ontwikkeling van strategiese studies as vakgebied, is geïntegreer of geamalgameer met die Departement van Politieke Wetenskappe. Studente kan, as deel van die honneursgrade in politieke wetenskap en internasionale politiek 'n module kies genaamd Konflik, Vrede, en Veiligheidstudies (University of South Africa). Die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Regeerkunde bied 'n nagraadse bestuursdiploma aan in veiligheid wat ten doel het om die kennis en vaardighede van sekuriteitsektoradministrateurs en praktisyns te verbeter (Wits School of Governance). By die Universiteit van Kaapstad, 'n universiteit waar tradisioneel 'n meer liberale uitkyk op internasionale en plaaslike veiligheid aan die orde was, word twee nagraadse modules aangebied wat direk betrekking het op geweld, konflik en oorlog; naamlik, vredesoperasies in wereldpolitiek en konflik in Afrika (University of Cape Town).

    Die idee van veiligheid of veiligheidsverwante navorsing blyk ook nie aan die orde te wees by die Mapungubwe Instituut vir Strategiese Besinning (Mapungubwe Institute for Strategic Reflection, MISTRA) wat in 2010 tot stand gekom het nie. MISTRA fokus op navorsing, beleidsdebatte, sameroepingsmag en kundigheid oor scenario-beplanning om blywende en doeltreffende oplossings te vind vir die uitdagings wat die land in die gesig staar. Die fokus blyk eksplisiet te wees op sosio-ekonomiese kwessies wat beide 'n plaaslike impak en 'n globale resonansie het. MISTRA stel dit ten doel om Suid-Afrika se ontwikkeling te bevorder deur die komplekse uitdagings aan te pak wat kwessies van nasievorming, ekonomiese groei, maatskaplike gelykheid, wetenskap en tegnologie, en die land se posisionering in 'n geglobaliseerde wêreld omvat.

    Die Oppenheimer befondsde Brenthurst Stigting blyk die uitsondering op die reël te wees wat die aard en fokus van hul navorsing betref. Aan die een kant poog die Brenthurst Stigting om deur nuwe idees en innoverende aksies Afrika se ekonomiese prestasie te versterk deur die klem te plaas op drie fokusareas: die aanmoediging van sleutelbesluitnemers en kundiges om ervarings en insigte by private vergaderings en seminare te deel; die lewering van relevante en praktiese beleidsadvies aan regerings; en die generering van nuwe denke en denkleierskap om Afrika se ontwikkelingsuitdagings die hoof te bied. Aan die ander kant blyk die navorsing van die Brenthurst Stigting om ook internasionaal relevant te wees met 'n duidelike navorsingsfokus op konflik, geweld en oorlog; veral wat probleemareas van internasionale konflik betref in gebiede soos Irak, Afghanistan, Oekraïne, en Gaza (The Brenthurst Foundation). Die publikasies van die Brenthurst Stigting oor konflik, geweld, en oorlog blyk nie net internasionaal gefokus te wees nie; dit is ook baie duidelik gegrond in die realisme en steun vir Westerse beleidsrigtings in die algemeen. Perspektiewe oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag blyk ook baie sterk te steun op Britse uitgangspunte oor die aard en wese van militêre mag. David Kilcullen en Greg Mills (2024) se boek The art of peace and war -Understanding our choices in a world at war wat vroeër vanjaar verskyn het, is 'n voorbeeld van die uitstekende navorsing en werk wat deur die Brenthurst Stigting gedoen word.

    Die Universiteit van die Vrystaat het sterk na vore getree in hul fokus op veiligheid en krygskunde-verwante navorsing in beide die Departement Geskiedenis en Politieke Studie en Regeerkunde. In die Geskiedenis Departement was daar tradisioneel 'n sterk fokus op die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. 'n Akademikus soos prof. André Wessels het egter ook verskeie artikels met 'n fokus op kontemporêre geskiedenis die lig laat sien; veral met betrekking tot die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Vloot. Prof. Theo Neethling, wat voorheen verbonde was aan die Fakulteit Krygskunde en lank as voorsitter van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde by die Universiteit van die Vrystaat gedien het, het ook 'n baie duidelike fokus op veiligheid en dit wat krygskundig in Suid-Afrika aan die orde is. Prof. Hussein Solomon is waarskynlik die voorste kenner van terreur in Afrika, terwyl doktors Eben Coetzee en Alta Grobbelaar ook navorsing oor kernwapens, terreur en veiligheid onderneem het (E-pos, Neethling).

    'n Oorsig van die aard en inhoud van akademiese joernale reflekteer die verskuiwende klem rondom mensveiligheid sedert 1994. Die joernaal van die Instituut vir Veiligheidstudies is omvorm vanaf The South African Defence Review na die African Security Review ("About the Journal"). Die joernaal van die Instituut van Strategiese Studies, Strategiese Oorsig van Suider Afrika ("Strategic Review for Southern Africa"), was vir baie jare 'n belangrike instrument vir die debattering van militêre en strategiese aangeleenthede. Op die webblad van die joernaal word dit eksplisiet aangedui dat die joernaal se fokus binne die konteks van die groot maatskaplike en politieke veranderinge in Suider-Afrika, die breër kontinent van Afrika en die wêreld" aangepas word in terme van beide inhoud en formaat". Terselfdertyd sal dit voortgaan om betrokke te raak by strategiese en politieke ontleding van sosio-politieke ontwikkelings wat Suider-Afrika beïnvloed" ("About the Journal"). Die Joernaal vir Eietydse Geskiedenis by die Universiteit van die Vrystaat het oor jare ook 'n belangrike bydrae gelewer tot die publikasie van krygskundige navorsing. Die verandering van die naam van die joernaal na Southern Journal of Contemporary History het egter ook gepaard gegaan met 'n fokusverandering in die aard van publikasies in die joernaal. In die geheel beskou sal dit nie verkeerd wees om te argumenteer dat daar 'n duidelike klem is op die niemilitêre dimensies van veiligheid; die sosio-ekonomiese realiteite van veiligheid; en Afrika-veiligheid. Wat die publikasie van boeke betref, was daar 'n toenemende fokus op die niemilitêre dimensies en sosio-ekonomiese realiteite van Afrika. Terselfdertyd was daar 'n geweldige groei en toename in krygshistoriese literatuur, sowel as in algemene militêre gewildheidsliteratuur (E-pos, Olivier).

    In die geheel beskou, sal dit nie verkeerd wees om te argumenteer dat die meer idealistiese idees oor veiligheid, en veral mensveiligheid, deur Suid-Afrikaanse akademiese instellings sedert die middel en laat 1990's omarm is nie. Strategiese studies is toenemend vervang met 'n verbredende en verdiepende fokus op veiligheid in beide navorsing en akademiese programme. Die woord "oorlog" is ingevee onder die dekmantel konflik en het in onbruik verval. Navorsing oor konflik word meestal onderneem met 'n klem op vrede, vredeskepping en vredesoperasies; asook sogenaamde veiligheidsektorhervorming (United Nations, SSR).

    Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se Verdedigingskollege is in baie opsigte 'n teksboekvoorbeeld van die impak van 'n fokus op veiligheid in die bestudering van konflik, geweld en oorlog. Sedert die vroeë 1970's was die program van die verdedigingskollege spesifiek daarop ingestel om die strategiese verstaan van konflik, geweld, en oorlog binne 'n breër samelewing te bevorder onder senior offisiere van die weermag wat oorweeg is vir bevordering na generaal. Voor hul toelating tot die sogenaamde senior stafkursus by die verdedigingskollege was offisiere se loopbane en opleiding gefokus op oorlogvoering. Die program van die Verdedigingskollege was spesifiek daarop ingestel om offisiere 'n holistiese begrip te gee van oorlog as fenomeen; en die manifestering daarvan in gereelde en ongereelde vorm binne 'n samelewing. Oorlog is daarom bestudeer binne historíese, sosiale, ekonomiese, politieke, en tegnologiese konteks. Die kursus by die verdedigingskollege het altyd lede van al die veiligheidsagentskappe en die verdedigingsindustrie ingesluit.

    In die 2000's is die gesamentlike stafkursus by die verdedigingskollege vervang met die sogenaamde Uitvoerende Nasionale Veiligheidsprogram (Executive National Security Programme, oftewel ENSP). Alhoewel die program dit ten doel gestel het om veiligheid op die nasionaal strategiese vlak aan te spreek, was die fokus van die program primêr op die idee van mensveiligheid. Baie tyd is afgestaan om offisiere van die weermag en ander veilig-heidsinstellings te skool in die verstaan van veiligheid in die algemeen en in die oorweging van die idees van die verbreding en verdieping van veiligheid en mensveiligheid in die besonder. Die finale oefening van die verdedigingskollege was spesifiek daarop ingestel om aan die bevelskader van die weermag die tekortkominge aan mensveiligheid in Suid-Afrika bekend te stel en idealisties uit te wys hoe dit daar behoort uit te sien. Nêrens en op geen stadium is noodwendig oorweging geskenk aan wat die rol van die weermag behoort te wees in die daarstelling van mensveiligheid nie. Die strategie van die weermag om mensveiligheid daar te stel, is nie in oorweging gebring nie; alternatiewelik is die aard van die weermag as doel van mensveiligheid nooit belig nie. Tot op hede is daar daarom geen duidelikheid of die weermag as instelling mensveiligheid moet reflekteer en die idee van mensveiligheid 'n inset vir die institusionele aard van die weermag moet wees nie; en of mensveiligheid 'n uitset en daarom 'n instrument van mensveiligheid behoort te wees in die uitvoer van operasies nie. Die ENSP is aan die einde van 2014 beëindig en vervang met die Program in Veligheid en Verdedigingstudies (Security and Defence Studies Programme, oftewel SDSP) wat deur die Fakulteit Krygskunde van die Universiteit Stellenbosch aangebied word ten einde hierdie leemtes aan te spreek. (Esterhuyse & Mokoena, 2018:1-17).

    Die ironie is dat daar 'n duidelike onderskeid in die regering se konseptualisering van veiligheid was sedert die 1990's; ten spyte van die onwrikbare, verklaarde, en bykans ideologiese vashou aan die idee van mensveiligheid. Ook is dit belangrik om daarop te let dat Suid-Afrika, en die regering in die 1990's in die besonder, die vryheid gehad het tydens die presidentskap van Nelson Mandela om hul benadering tot veiligheid vanuit 'n posisie van handelingsvryheid en keuse te kon benader. Tydens die presidentskap van Thabo Mbeki is die regering se veiligheidsuitkyk tot 'n groot mate gevorm deur 'n klem op Afrikaveiligheid. Dit is gedoen deur konsepte soos NEPAD (New Partnership for Africa) en Africa Renaissance. Onderliggend was daar druk dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aktief betrokke moes raak in die bevordering van veiligheid in Afrika; wat gelei het tot die betrokkenheid van die weermag by vredesoperasies in Afrika. Met verloop van tyd het die Suid-Afrikaanse betrokkenheid by vredesmissies in Afrika groot druk op die kapasiteit van die weermag geplaas (Esterhuyse, 2022).

    Tydens die presidentskap van Jacob Zuma was dit duidelik dat die weermag toenemend met kapasiteitsprobleme gekonfronteer is. Die Zuma-administrasie se konseptualisering van veiligheid het ook grootliks gesentreer rondom die idee van regeringsveiligheid en die politieke oorlewing van die ANC/Zuma-bewind. Die onlustesituasie in KwaZulu-Natal in 2021 het nie net die idee van nasionale veiligheid weer afgestof nie; dit het toenemend vrae laat ontstaan oor die kapasiteit van die regering en sy veiligheidsagentskappe - die weermag, polisie, en inligtingsdienste - om die veiligheid van gemeenskappe op voetsoolvlak in Suid-Afrika te verseker. Die verslag van die kundigheidspaneel wat deur die president aangestel is om die onlustesituasie in KwaZulu-Natal te ondersoek, het dit baie duidelik uitgespel dat die regering met tekorte gekonfronteer word betreffende toegang tot inligting, die kapasiteit van die veiligheidinstellings van die staat, en die wyse waarop die Suid-Afrikaanse bevolking toenemend eienaarskap neem van hul eie veiligheid op gemeenskapsvlak (The Presidency, Report of the Expert Panel). In die proses, en in skrille kontras met die Mandela-era, het die regering sy handelingsvryheid versaak in die keuse van die konseptualisering en handeling in soverre dit veiligheid betref.

    Die vraag is toenemend wat gedoen moet word om die polisie, weermag en inligtings-dienste in ere te herstel en hul kapasiteit te verbeter ten einde nasionale veiligheid te verseker. In samehang met hierdie vraag is die uitdaging aan die akademiese wêreld en die mate waartoe dit die uitdaging gaan aanvaar in die soeke na 'n werkswyse om die veiligheidsinstellings te bemagtig om hul regmatige plek en rol in die samelewing in te neem in die daarstelling van veiligheid. Soos in die 1990's, sal dit vereis dat fundamentele aanpassings gemaak sal moet word in die skuif vanaf 'n klem op veiligheid as doel tot strategie as middel om die doel te bereik; vanaf veiligheidstudies na strategiese studies. Dit is 'n realiteit wat reeds in die res van die wêreld aan die orde is sedert die 9/11-aanvalle, die Globale Konflik teen Terreur en die groeiende interstaatlike konflikte waarmee die wêreld tans gekonfronteer word.

     

    4. 'n Bloeitydperk vir krygskundige navorsing in Suid-Afrika

    In teenstelling met die klem op mensveiligheid en veiligheidstudies in die algemeen by universiteite in Suid-Afrika in die era ná demokratisering in 1994, was die klem in die navorsing en dosering binne die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit van Stellenbosch by die Militêre Akademie in Saldanha feitlik uitsluitlik op militêre wetenskap en krygskunde gerig. Die Militêre Akademie het in die vroeë 1950's beslag gekry; aanvanklik by die Leërkollege in Pretoria onder voogdyskap van die Universiteit van Pretoria. In die laat 1950's het dit egter verhuis na die Universiteit Stellenbosch, waar die Fakulteit Krygskunde tot stand gekom het, en 'n nuwe kampus in Saldanha opgerig is. Die redes vir die verskuiwing na Stellenbosch en die plasing in Saldanha het tot groot spekulasie aanleiding gegee. Was dit, byvoorbeeld, blote toeval dat Saldanha binne die kiesafdeling van die Minister van Verdediging, mnr. FC Erasmus, geval het? Tog het die Militêre Akademie, en by implikasie die Fakulteit Krygskunde, nooit werklik tot akademiese wasdom gegroei as leier op die terrein van krygskundige navorsing in die bykans eerste dertig jaar van sy bestaan nie. Dit was ten beste 'n Kollege-agtige instelling met voorgraadse opleiding as primêre oogmerk. Die Fakulteit Krygskunde was geografies geïsoleer, met baie min nagraadse studente, en feitlik geen navorsing nie. Die dosentekorps was ook nie geïntegreer en in voeling met die breër akademiese gemeenskap in Suid-Afrika en die res van die wêreld nie. Sedert die middel van die 1990's het die aard van die instelling egter radikaal verander tot 'n volwaardige akademiese instelling waar navorsing geprioritiseer en nagraadse studente, beide militêr en burgerlik, Suid-Afrikaans en buitelands, 'n strategiese ontwikkelingsfokus is. Wat het die fundamentele verandering in die aard van die instelling tot gevolg gehad? (Visser, 2000).

    Die eerste belangrike stap in die ontwikkeling van 'n baie duidelike krygskundige fokus in onderrig en navorsing het waarskynlik gespruit uit Genl. Jannie Geldenhuys, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, se aandrang in die laat 1980's dat Strategiese Studies as vakrigting by die Militêre Akademie beslag moet kry. Geldenhuys het na aanleiding van die weermag se ervaring in die oorloë in Namibië en Angola die gebrek aan krygskundige kennis binne die weermag geïdentifiseer (Visser, 2000). Tot in die laat 1980's is Krygsgeskie-denis primêr gebruik as voertuig om krygskunde aan die Militêre Akademie te doseer met 'n klem wat primêr gefokus was op 'n breë liberale opvoeding (Seegers, 1996:141). Strategiese studies is in 1991 as verpligte vak vir studente in die Fakulteit Krygskunde ingestel. Dit sou later beslag kry as die Departement Strategiese Studies en saam met die Departemente van Krygsgeskiedenis en Politieke Wetenskap omvorm word in die Skool vir Veiligheid en Afrika Studies. Van der Waag wys in haar analise van navorsing in die Fakulteit Krygskunde daarop dat hierdie drie departemente as die Skool van Veiligheid en Afrika Studie teen 2010 vir die grootste deel van navorsing binne die Fakulteit Krygskunde verantwoordelik was (Van der Waag, 2013:96).

    Uiteraard het die proses van demokratisering, en die vryheid van uitdrukking en spraak in die nuwe Grondwet, 'n belangrike bydrae gemaak om die sekerheidshouvas van die weermag op krygskundige navorsing aan die Fakulteit Krygskunde te temper. Akademici kon hul ná 1994 op die Grondwet beroep in die publikasie van navorsing waarin daar geen ooglopende aangeleenthede van 'n direkte operasionele belang vir die weermag is nie. Toenemend het akademici net geweier om hul publikasies aan die weermag voor te lê vir goedkeuring vir publikasie. Die proses van demokratisering het ook die weg gebaan vir internasionalisering. Die proses van internasionalisering was wederkerig tot die mate dat buitelandse krygskundige instellings ná 1994 geïnteresseerd was in wat krygskundig in Suid-Afrika sedert die 1960's aan die orde was. Daarteenoor het die akademici van die Fakulteit Krygskunde groot belangstelling getoon in die kurrikulums en pedagogie van buitelandse instellings (Van der Waag, 2013:96).

    Die tegnologiese ontwikkelings van die 1990's, die koms van die internet, en die globalisering van kommunikasie het geweldig bygedra tot die integrasie van die Fakulteit Krygskunde by die groter akademiese gemeenskap in Suid-Afrika en elders. Nie net het dit interaksie moontlik gemaak nie, maar dit het ook groter bewuswording geskep in terme van wat in die breë krygskundige navorsingsterrein aan die orde is; veral wat navorsing en internasionale akademiese joernale en konferensies betref. In die laat 1990's het die Fakulteit eienaarskap geneem van Scientia Militaría, Die Suid-Afrikaanse Joernaal van Militêre Studies, wat sedert die laat 1960's as akademiese platform vir artikels van 'n militêre en akademiese aard deur die Militêre Argief in Pretoria bestuur is. Binne vyfjaar kon die Fakulteit Krygskunde die akademiese aard van die joernaal omvorm tot die mate dat dit as geakkrediteerde akademiese vakjoernaal 'n saakmakende bydrae kon lewer tot die aard van krygskundige navorsing in Suid-Afrika. Vandag is dit 'n joernaal wat nie net internasionaal geakkrediteer is nie, maar wat 'n gesaghebbende bydrae maak tot die krygskundige kennisliggaam in Suid-Afrika en Afrika; met bydraes van gerekende internasionale akademici (Visser, 2012: 61).

    Die groei en ontwikkeling van die akademiese gravitas van die Fakulteit Krygskunde het egter ook 'n institusionele en burokratiese dimensie. Die kwyning van die verdedigingsbe-groting, tésame met die institusionele transformasie van die weermag, het 'n kwynende effek op die weermag se burokratiese dominering en bestuur van die Militêre Akademie tot gevolg gehad. Die kwyning van die weermag se burokratiese voetspoor het egter 'n geleentheid geskep vir akademici van die Fakulteit Krygskunde om deur middel van die burokratiese prosesse van die Universiteit geleenthede vir befondsing van navorsing, nasionaal en internasionaal, te ontgin. Die gevolg was dat die burokratiese voetspoor van die Universiteit by die Saldanha-kampus eksponensieel gegroei en uitgebrei het. Uiteraard het die toenemende burokratisering van universiteite ook 'n belangrike rol in dié verband gespeel. Waar die Universiteit van Stellenbosch teen die laat 1980's egter net in naam teenwoordig was by die Militêre Akademie, is die voetspoor van die Universiteit se Fakulteit Krygskunde nou 'n duidelike en waarneembare werklikheid vir iemand wat die instelling sou besoek. Dit word veral weerspieël in die teen-woordigheid en rol van die fakulteitsbestuurder en sy personeel op die Saldanha-kampus en die mate waartoe die Fakulteit Krygskunde deel uitmaak van en toegang het tot die Universiteit se elektroniese platforms soos SUNfin, SUNlearn, SUN-e-HR, en SUNstudent (E-pos, Fokkens).

    Die universalisering van die Fakulteit Krygskunde by die Militêre Akademie het egter ook 'n positiewe militarisering en professionaliseringseffek gehad op die militêre opleidings-komponent van die Militêre Akademie. Dit sal, tewens, moontlik wees om te argumenteer dat beide die militêre en die akademiese komponente van die "militêre akademie" vir die eerste keer sedert die totstandkoming van die instelling in die 1950's, toegelaat is om volgens hul aard op te tree; met die Afdeling Militêre Opleiding wat gemilitariseer is en die Fakulteit Krygskunde wat ge-universaliseer is. Dit het 'n samehang van wedersydse respek en professionalisering tot gevolg gehad wat kenmerkend is van soortgelyke instellings in die wêreld; tot voorbeeld, vorming en bekwaamheid van die studentekorps in sy geheel. Die gegradueerde produkte van die Militêre Akademie is in baie opsigte daarom beter toegerus vir hul militêre loopbane as die graduandi van dertig jaar gelede (E-pos, Booyjens).

    'n Beter arbeidsbedeling vir akademici van die Fakulteit Krygskunde het dit ook moontlik gemaak om die kwaliteit van aanstellings by die fakulteit oor 'n periode van tyd te verbeter. Waar die meeste dosente dertig jaar gelede dikwels net oor 'n MA-graad beskik het, is die aanstelling van vakkundiges by die Fakulteit nou gekoppel aan 'n PhD+; met dit wat saam met die PhD as 'n "plus" aangebied word, met inbegrip van 'n bewese rekord van navorsing en publikasie, wat dikwels as deurslaggewende faktor dien. Die omvorming van die programme van die Fakulteit Krygskunde in die vroeë 2000's het ook 'n organisatoriese verandering in die Fakulteit tot gevolg gehad deurdat die verskillende akademiese departemente in skole saamgevoeg is. So is die Departemente Politieke Wetenskap, Strategiese Studies, en Krygs-geskiedenis saamgevoeg in 'n Skool vir Veiligheid en Afrikastudies. 'n Departement van Inligtingstudies is as vierde departement in die Skool vir Veiligheid en Afrikastudies in wording. Veral in die geval van die Skool vir Veiligheid en Afrikastudies het dit 'n nuwe dinamika van kollegialiteit, interaksie en samewerking, en dikwels ook 'n bietjie kompetisie en jaloesie, daargestel wat positief op die navorsingsuitsette van die Skool en Fakulteit ingespeel het. Die Skool kon 'n unieke gaping in die breë samelewing rondom krygsgeskiedenis en krygskunde ontgin wat in baie opsigte braak gelê het; ook in die sosiale domein deur middel van mediare-fleksie oor wat in die militêre en krygskundige omgewing aan die orde is in die wêreld in sy geheel.

     

    5. Samevatting

    Die era in die naloop van die Koue Oorlog het, net soos in die geval van die eras na die Eerste en Tweede Wereldoorlog, gelei tot 'n soeke na blywende vrede en veiligheid. Die klem in die bestudering van konflik, geweld en oorlog het verskuif na 'n vraag oor hoe veiligheid daargestel en bereik kan word, sonder die rol van die staat en die magsinstrumente van die staat. In die algemeen het dit neergekom op 'n verbreding en 'n verdieping van die akademiese debat oor veiligheid. Die verdieping het die rol van die staat in die daarstelling van veiligheid bevraagteken en ander agente as die staat bepleit; beide sub-staatlik en internasionaal. Die verbreding het die daarstelling van veiligheid buite die dampkring van die veiligheidsinstru-mente van die staat en die weermag bepleit met 'n klem op politieke, ekonomiese, sosiaal-kulturele, en omgewingsveiligheid. Teen die middel van die 1990's was die hoofstroom van denke oor veiligheid gewortel in die meer narratief-gedrewe en idealistiese omskrywing van wat veiligheid behoort te wees; eerder as hoe dit bereik moet word. Ook op akademiese terrein, internasionaal, is die meer utopiese fokus op veiligheidstudies eerder as strategiese studies omarm, met die Kopenhagen-denkskool wat as basis vir die liberalisering van veiligheidsdenke gedien het. Teen die 2000's, en spesifiek met die aanvalle van 9/11 en daaropvolgende soge-naamde Globale Oorlog teen Terreur, was dit duidelik dat die baie idealistiese benadering en klem op veiligheidstudies internasionaal as uitgedien beskou is; en dat die staat en die weermag hul tradisionele posisie as primêre agente vir veiligheid weer volwaardig ingeneem het. Hierdie benadering is toenemend bevestig met wat op die terrein van konflik en oorlog ontvou het in die laaste aantal jare; veral die meer onlangse oorloë in die Oekraïne, Gaza en die Soedan.

    Suid-Afrika was 'n goeie teelaarde vir die idees rakende veiligheid en mensveiligheid wat internasionaal aan die orde was in die vroeë 1990's. Aan die een kant is mensveiligheid as konsep deur die regerende party en veiligheidsburokrasie omarm deur die aanvaarding daarvan as beleid in die 1996 Witskrif op Verdediging. Tog het dit nooit beslag gekry as 'n uitvoerbare nasionale strategie nie en mensveiligheid is nooit werklik op doelbewuste wyse geoperasionaliseer nie. Die gevolg was dat die veiligheidstrukture in Suid-Afrika, die weermag in die besonder, die idee van mensveiligheid op 'n amper ideologiese wyse abstrak aangehang het. Daar was egter geen diepgaande omgang met mensveiligheid op die verdedigings- en militêr-strategiese vlak waar dit geoperasionaliseer, gekonkretiseer en tot uitvoering gebring moes word nie. Tot op hede weet die weermag steeds nie of dit 'n insetkonsep is wat die aard van die weermag as organisasie moet vorm; en of dit 'n uitvoeringskonsep is wat die aard van militêre operasies moet bepaal nie. Wat wel waar is, is dat die idee van mensveiligheid die veiligheidsinstellings gemarginaliseer het; beide in terme van hul rol en funksie in die samelewing en in terme van die begroting en spandering deur die regering. Die gevolg is dat die veiligheidsfunksies en strukture in Suid-Afrika uitgehol is en tot 'n groot mate van hul kapasiteit ontneem is.

    Aan die ander kant het beide die akademiese instellings sowel as die akademici die idee van mensveiligheid struktureel en konseptueel ontgin. Die waarde van die idees van veiligheid en mensveiligheid is die konseptuele reikwydte in diepte, wydte en konteks. Vanuit daardie perspektief is mensveiligheid 'n baie waardevolle en legitieme konsep. Die probleem met mensveiligheid, wat inderdaad binne akademiese kringe in Suid-Afrika ontvou het, is dat die idee van veiligheid in wese onbegrens is en daarom van koherensie ontneem word. Die koherensie van die idee van veiligheid berus op die koppeling daarvan met die staat as die primêre akteur van veiligheid; en die veiligheidsinstellings as die primêre agente van veiligheid. Die gevolg was dat die idealistiese en soms utopiese akademiese omgang met die idee van mensveiligheid toenemend verwyderd staan van die werklikhede van veiligheid in Suid-Afrika.

    Die vraag is hoe die akademiese gemeenskap in Suid-Afrika hul weer gaan belyn met die veiligheidswerklikhede en uitdagings wat die Suid-Afrikaanse samelewing in die gesig staar. Dit is 'n groeiende gaping wat tot 'n groot mate slegs deur strategiese studies as vakgebied oorbrug kan word; 'n vakgebied wat tot 'n groot mate sedert 1994 deur universiteite in Suid-Afrika gemarginaliseer is. Strategiese studies, krygskunde as vakgebied en krygskundige navorsing was sedert die middel van die 1990's van groot waarde vir die Fakulteit Krygskunde se legitimiteit en rol binne die samelewing. Op 'n belangrike en strategiese wyse is die Fakulteit Krygskunde goed geposisioneer om deur navorsing en onderrig van groot waarde te wees.

     

    BIBLIOGRAFIE

    African Security Review. About this Journal. https://www.tandfonline.com/joumals/rasr20 [27 Augustus 2024].         [ Links ]

    Beaufre, A. 1965. Introduction to Strategy. New York: Praeger.         [ Links ]

    Betts, RK. 1997. Should Strategic Studies Survive? World Politics, 50(1):7-33.         [ Links ]

    Brands, H & Edel, C. 2019. The Lessons of Tragedy: Statecraft and World Order. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

    Buzan, B. 1983. People, States, and Fear: The National Security Problem in International Relations. London: Wheatsheaf.         [ Links ]

    Duyvesteyn, I & Worrall, JE. Global strategic studies: a manifesto. Journal of Strategic Studies, 40(3):347-357.         [ Links ]

    E-pos-korrespondensie: Annie Olivier. Publikasiedirekteur. Jonathan Ball Publishers. 6 Augustus 2024.         [ Links ]

    E-pos-korrespondensie: Lt Kol Morné Booyjens. Hoofinstrukteur. Afdeling Militêre Opleiding. Militêre Akademie. 16 September 2024.         [ Links ]

    E-pos-korrespondensie: Mnr. Andries Fokkens. Fakulteitsbestuurder. Fakulteit Krygskunde. Universiteit van Stellenbosch. 19 Sep 2024.         [ Links ]

    E-pos-korrespondensie: Prof. Theo Neethling. Universiteit van die Vrystaat. 16 September 2023.         [ Links ]

    Esterhuyse, A & Mokoena, B. 2018. The Need for Progress in an Era of Transformation: South African Professional Military Education and Military Effectiveness. Stability: International Journal of Security & Development, 7(1):1-17. https://stabilityjournal.org/articles/10.5334/sta.610 [16 September 2024].         [ Links ]

    Esterhuyse, AJ. 10 March 2022. Overview: Security Situation in Africa and South Africa. Briefing to a visiting group of students from the the US Air War College. Saldanha: Military Academy.         [ Links ]

    Fukuyama, F. 1992. The End ofHistory and the Last Man. New York: Free Press.         [ Links ]

    Gray, CS. 2007. War, Peace and International Relations - An Introduction to Strategic History. London: Routledge.         [ Links ]

    Huntington, SP. 1996. The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order. New York: Simon & Schuster.         [ Links ]

    Institute for Security Studies, Annual Review, https://issafrica.org/about-us/annual-review [27 Aug 2024].         [ Links ]

    Jordaan, E. 2023. South African Defence Policy-Making, 1994-2015. PhD Dissertation. Stellenbosch University. https://scholar.sun.ac.za/items/522b46ee-9e46-45a1-ba58-aad88f2eb995 [28 Augustus 2024].         [ Links ]

    Kilculle, D & Mills, G. 2024. The Art of Peace and War - Understanding our Choices in a World at War. Johannesburg: Penguin Books.         [ Links ]

    Lautensach, A & Lautensach, S. 2023. Human Security in World Affairs: Problems and Opportunities. Online: LibreTexts.         [ Links ]

    Mapungubwe Institute for Strategic Reflection. About Us. https://mistra.org.za/about-us/ [27 Aug 2024].         [ Links ]

    Paris, R. 2001. Human Security: Paradigm Shift or Hot Air? International Security, 26(2):87-102.         [ Links ]

    Seegers, A. 1996. The Military in the Making of South Africa. London: Tauris.         [ Links ]

    Snyder, CA. 1999. Contemporary Security and Strategy. London: MacMillan.         [ Links ]

    South African Government. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. https://www.concourt.org.za/images/GRONDWET_VAN_DIE_REPUBLIEK_VAN_SUID-AFRIKA_1996.pdf        [ Links ]

    South African Government. 1996. National Defence White Paper. https://www.gov.za/documents/white-papers/national-defence-white-paper-01-may-1996 [27 Aug 2024].         [ Links ]

    Strategic Review for South Africa. About the Journal. https://upjoumals.up.ac.za/index.php/strategic_review/about [16 Sep 2024].         [ Links ]

    The Brenthurst Foundation, About Us. https://www.thebrenthurstfoundation.org/about/ [27 Aug 2024].         [ Links ]

    The Presidency. 29 November 2024. Report of the Expert Panel into the July 2021 Civil Unrest. https://www.thepresidency.gov.za/sites/default/files/2022-05/Report%20of%20the%20Expert%20Panel%20into%20the%20July%202021%20Civil%20Unrest.pdf [16 Sep 2024].         [ Links ]

    UNDP (United Nations Development Programme). 1994. Human Development Report 1994: New Dimensions of Human Security, New York. https://hdr.undp.org/content/human-development-report-1994.         [ Links ]

    United Nations. Security Sector Reform. What is Security Sector Reform, Security Sector Reform (SSR) at the United Nations. https://www.un.org/ssr/en#:~:text=Security%20sector%20reform%20is%20the,lives%20and%20livelihoods%20for%20all [27August 2024].         [ Links ]

    Universiteit van Pretoria. Instituut vir Politieke en Strategiese Aangeleenthede. https://www.up.ac.za/institute-for-strategic-and-political-affairs [27 Aug 2024]. University of Cape Town. Faculty of Humanities. Political Studies.         [ Links ]

    International Relations Postgraduate Studies. https://humanities.uct.ac.za/department-politics/postgraduate-coursework-degrees/international-relations-postgraduate-studies [27 Aug 2024].         [ Links ]

    University of South Africa. 2024. Undergraduate & honours qualifications. https://www.unisa.ac.za/sites/corporate/default/Register-to-study-through-Unisa/Undergraduate-&-honours-qualifications/Find-your-qualification-&-choose-your-modules/All-qualifications?cw_college=HUMAN%20SCIENCES [16 September 2024].         [ Links ]

    Van der Waag-Cowling, N. 2023. A Study of Research in the Faculty of Military Science, Stellenbosch University 1990-2009. MA Thesis. https://scholar.sun.ac.za/server/api/core/bitstreams/db8b19d9-446b-48db-aac1-50e749c3d8f7/content [16 September 2024].         [ Links ]

    Visser, D. 2012. The South African Military Academy's Educational Offerings and the National Threat Perception. Scientia Militaria - South African Journal of Military Studies, 32(2): 61-88. https://scientiamilitaria.joumals.ac.za/?joumal=pub&page=article&op=view&path%5B%5D=128&path%5B%5D=162 [16 September 2024].         [ Links ]

    Visser, G. 2000. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie, 1950-1990. Supplementa adScientia Militaria I. https://scientiamilitaria.joumals.ac.za/?joumal=pub&page=article&op=view&path%5B%5D=143&path%5B%5D=186 [16 September 2024].         [ Links ]

    Williams, PD & McDonald, M. 1998. In Williams, PD & McDonald, M, (eds). Security Studies: An Introduction. London: Routledge, pp. 1-14.

    Wits School of Governance. University of the Witwatersrand. Johannesburg. Postgraduate Diploma in Management (Security). https://www.wsg.ac.za/academic-programmes/postgraduate-diploma/postgraduate-diploma-management-security [16 September 2024].

     

     

    Ontvang: 2024-09-27
    Goedgekeur: 2024-10-28
    Gepubliseer: Desember 2024

     

     

     

    Abel Esterhuyse is verbonde aan die Departement Strategiese Studies in die Fakulteit Krygs-kunde, Universiteit Stellenbosch, by die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie te Saldanha. Afgesien van 'n PhD van die Universiteit van Stellenbosch, is hy ook 'n gegradueerde van die leierskapsprogram van die Amerikaanse Sentrum vir Strategiese Studies in Washington DC; die somerprogram in Krygs-geskiedenis van die Amerikaanse Militêre Akade-mie, 'West Point"; en die program oor die analise van Militêre Operasies en Strategie (SWAMOS) van die Colombia Universiteit se Saltzman Instituut vir Oorlogs- en Vredestudies in New York. Voordat hy die akademiese wêreld betree het, het hy as offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien. As 'n gegradeerde wetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting, spesialiseer hy in Suid-Afrikaanse veiligheid en verdediging, militêre en strategiese teorie en konlemporêre konflik. Sy mees onlangse publikasie is 'n boekhoofstuk getiteld The Evolution of South African Operational Art: From an African Way of War to Doctrine.
    Abel Esterhuyse lectures in the Department of Strategic Studies, Faculty of Military Science, University of Stellenbosch, at the South-African Military Academy, Saldanha Bay. In addtion to a PhD obtained from the University of Stel -lenbosch, prof. Esterhuyse is also a graduate of the programme in leadership from the American Centre of Strategic Studies in Washington DC; the summer programme in History of Military Science of the American Military Academy at "West Point"; and the programme on the analysis of Military Operations and Strategy (SWAMOS) of the Colombia University's Saltzman Institute of War and Peace Studies in New York. Before joining the world of academia, he was an officer in the South African Army. A graded scientist of the South African Research Foundation, he specialises in South-African security and defence, military and strategic theory and contemporary conflict. His most recent publication is a chapter on The Evolution of South African Operational Art: From an African Way of War to Doctrine.
    1 Referaat wat gelewer is by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se jaarlikse algemene simposium, Van isolasie na internasionalisering: Tendense in Suid-Afrikaanse navorsing die afgelope 30 jaar, Pretoria, 19 September 2024.
    2 Strategiese insig vereis 'n kundige oorweging van die sewe strategiese kontekste waarna Colin S. Gray verwys: politiek, sosio-kultureel, ekonomies, geografies, tegnologies, histories en militêr.
    3 "Freedom from fear and freedom from want".