SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issuesWhat does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament poses author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a6 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Goed en kwaad en die bestiering van God met verwysing na Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden

     

    Good and evil and God's rule with reference to Die wêreld van Charlie Oeng (The world of Charlie Oeng) by Etienne van Heerden

     

     

    Pieter Verster

    Navorsingsgenoot, Departement Praktiese en Missionale Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: Versterp@ufs.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    In Etienne van Heerden se roman Die wêreld van Charlie Oeng (2017) beeld die outeur verskillende karakters se worsteling met God asook met goed en kwaad uit. Met behulp van Van Heerden se karakterisering van byvoorbeeld Charlie Oeng, die moordpligtige Sjinese man, en die blinde vrou, Ouma Ogies, asook ander karakters, word die vraag na menslike verantwoordelikheid en God se bestiering in die goeie en die kwade op die voorgrond gestel. Hierdie vraagstuk word in dié artikel vanuit 'n teologiese beoordeling benader omdat religieuse elemente en die vraag na goed en kwaad 'n beslissende rol in Van Heerden se roman speel. Die metodologie wat gevolg word is om bepaalde aspekte te oorweeg en met aspekte van goed en kwaad asook God se bestiering in dié roman in gesprek te tree. As 'n magies-realistiese roman, eie aan Van Heerden se oeuvre, word die grense tussen realiteit en die eteriese in hierdie verhaal dikwels vaag; soos in sy ander werke bied Van Heerden die geleentheid om die diep psigologiese aspekte van geweld te herbesoek. Om só 'n roman te analiseer lê nie slegs algemene persepsies rakende goed en kwaad bloot nie, maar stel 'n mens ook in staat om die interaksie/kruising tussen literatuur en teologie, en die belang daarvan, te ondersoek. Alhoewel die roman nie 'n klinkklare oplossing bied nie is die vraagstukke rakende die mens se worsteling met God, met goed en kwaad, met hul eie verantwoordelikheid, en die rol van God se bestiering, altyd relevant.

    Trefwoorde: goed, kwaad, verkiesing, moord, teologiese tradisie, God se bestiering, die kruis, Jesus Christus, literatuur, literêre evaluering, teologiese evaluering, karakters, misleiding


    ABSTRACT

    The question of good and evil and human responsibility is a central theme in the novel Die wêreld van Charlie Oeng (The World of Charlie Oeng) by Etienne van Heerden (2017). The eponymous protagonist in the novel commits various murders, ostensibly due to his circumstances. The author confronts the reader with the question: could Charlie Oeng have done anything to avoid his crimes? To address this question, I firstly engage the genre of the novel itself. The novel is regarded as a magical-realistic novel, a genre within which the line between reality and the magical is often blurred. Many challenging aspects of life in this magical reality are discussed in this novel. Charlie Oeng remains a challenging character who embodies evil. He can be described as a human being who struggles to come to grips with his humanity and is often misled to commit murders. As Charlie Oeng is increasingly led astray and drawn into a life of evil, the theme of being misled becomes more prevalent. As such, the author's question becomes more urgent: could Oeng have rejected this life of his own accord or was he preconditioned to accept it? Are his deeds a result of the eternal struggle between good and evil or his own (lack of) responsibility? Linked to the theme of being misled and choice vs. predestination is the character of Ouma Ogies, the blind woman, who enters into dialogue with God. Due to her unfortunate fate and God's rule, she challenges God during this dialogue and also wants to challenge God in court because of her unfortunate circumstances. She was also, in her opinion, misled by God. Various challenging questions are raised by this character as well as several other characters. The novel recounts the overarching question of God's rule and how humans react to it by investigating the issue through the experiences and narrations of various characters. Tian, the character through whose eyes the story is told, grapples with understanding how evil is possible when his parents are murdered. Cor van Gogh, who carries with him a painting of Vincent van Gogh, is a red headed Dutchman ill-suited to life in South Africa. His anger leads to murder. This novel speaks to commonalities in Van Heerden's oeuvre and his earlier works. Aspects of good and evil and the rule of God play an important role in, for example, his novels Toorberg (1986), Die swye van Mario Salviati (2000), 30 nagte in Amsterdam (2008), and the recent Gebeente (2023). The author also engages Etienne Leroux 's novels, such as Sewe dae by die Silbersteins (1964). In this regard, the deep psychological aspects of violence are revisited. An analysis of novels such as these allows one access to general views on good and evil while also enabling an investigation of the significance of the interaction/intersection between theology and literature. Such interactions/intersections are often significant and can lead to deeper insights into literature and theology. The question of good and evil in reality has been discussed in theology and philosophy. Augustine, Calvin, Paul, and other theologians and philosophers such as Aristotle, Derrida, Hegel, and Kant have written extensively on this matter. The classical Christian view is that God's creation of the world was good, but that human beings fell into sin and needed redemption through Christ. Evil is then the result of sin and human beings should be held accountable in this regard. There are, however, many other views, such as that evil is part of this reality and that it was part and parcel of evolutionary development. The question of human responsibility is crucial and it is clear that the different characters in this particular novel by Etienne van Heerden under consideration struggle with the question of good and evil and human responsibility. Ultimately, this narrative also symbolises a struggle with God. The novel leaves one with many questions regarding good and evil and human responsibility, as well as the theological implications thereof. Although no clear solution is given at the end of the novel, the questions posed by the author remain salient.

    Keywords: good, evil, election, murder, theological tradition, God's rule, the cross, Jesus Christ, literature, literary evaluations, theological evaluation, characters, deception


     

     

    1. Inleiding

    Die vraag na goed en kwaad en God se rol daarin word duidelik vooropgestel in Etienne van Heerden se roman Die wêreld van Charlie Oeng (2017). Van Heerden skep karakters wat deurgaans met dié vrae worstel. Die wyse waarop hy hierdie interne struweling voorstel, bied stof tot nadenke rakende goed en kwaad en die bestiering van God, juis omdat die skrywer dit as wesenlike deel van die mens se bestaan voordra. Veral die karakters Charlie Oeng en Ouma Ogies plaas die vraag na goed en kwaad in die middelpunt; Charlie Oeng deur die onafwendbare moorde wat hy pleeg en Ouma Ogies deurdat sy God bevraagteken weens die onreg wat haar aangedoen is. Die leser word gekonfronteer met vrae wat interaksie met teologiese en filosofiese implikasies oproep. Dit is dus moontlik dat daar ook teologiese en filosofiese antwoorde daarop moet wees. Verskeie teoloë, soos Paulus (Romeine 9), Augustinus (2021:108 e.v), en later Calvyn (sj Inst 2, 1, 4-10) en Barth (1961:116-118, 1972:348-361-), het inderdaad hierdie sake bespreek. Die vraag wat teologies aan die orde gestel word is of daar enige ander teologiese antwoord op die probleem van goed en kwaad en die bestiering van God kan wees as om dit in die lig van die dood aan die kruis van Jesus Christus te sien. Die teologiese interaksie met die karakters se vrae in die roman word uitgelig, maar dit is duidelik dat die skrywer en die karakters wat hy geskep het unieke, eie interpretasies oor die vraagstuk moontlik maak.

     

    2. Sinopsis

    Om die analise van Die wêreld van Charlie Oeng beter te verstaan, is dit nodig om eerstens 'n bondige oorsig van hierdie narratief te voorsien. Die storie word vertel deur Tian Kilian wie se ouers in 1964 vermoor word tydens 'n vuurwerkvertoning op hul plaas. Hierdie vertoning is deur die Sjinese man, Charlie Oeng (Ng), aangebied. Tian dra ná afloop van dié gebeure die skuld van sy ouers se dood met hom saam omdat hy die vertoning aangevra het. Die storie volg die lewensloop van Tian, Charlie Oeng en verskeie ander karakters, soos Ouma Ogies en Cor van Gogh. Charlie Oeng se lewe word tragies uitgebeeld met verwysing na die verskeie moorde wat hy noodgedwonge moet pleeg. Die storie neem die leser na verskeie plekke plaaslik maar ook oorsee en stede soos Amsterdam en Hong Kong. Die skrywer beskryf ook die plaaslike lewe op die karoodorp en omgewing met die lewe van Ouma Ogies as sleutel tot die verwildering wat daar voorkom. Op verrassende wyse ontknoop die storie met die aanduiding dat Cor van Gogh, en nie Charlie Oeng nie, die moord op Tian se ouers gepleeg het.

    Voorts word die metodologiese onderbou verduidelik asook die teoretiese raamwerke wat die analise van hierdie teks gerig het.

     

    3. Metodologie: 'n narratiewe ondersoek

    Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden is 'n indrukwekkende roman (Van Coller, 2017; Botha, 2017). Nie net stel hierdie roman die leser aan verskeie karakters bloot nie, maar raak dit ook verskeie aspekte van die lewe ten diepste aan. Dit stel ernstige vrae, nie alleen oor die bestaan van die mens nie, maar ook oor teologiese en religieuse kwessies. Die roman spreek tot die mens in sy volle bestaan op aarde. Om al hierdie aspekte en die breedte van die mens se bestaan soos dit in dié roman uitgebeeld word te verstaan, maak ek in hierdie artikel van 'n narratiewe ondersoek-metodologie gebruik.

    Narratiewe ondersoeke word gebruik om unieke ervarings en begrippe rakende spesifieke situasies onder 'n klein groep karakters te verstaan, skryf Chung en Clandinin (2023). Die teksontleder maak dus die bewuste keuse om met die karakters in dialoog te tree en om, in 'n verhoudingsruimte, hul lewe in tandem met die karakters s'n te leef. In hierdie verhoudingsruimte, skryf Clandinin (2013:45), vind 'n mens "possible starting points for narrative inquiry; listening to individuals tell their stories [or] living alongside participants as they live and tell their stories". Clandinin en Rosiek (2007:235) voer verder aan dat 'n narratiewe ondersoek die teksontleder in staat stel om die "borders and borderlands" binne die werk wat ontleed word te ondersoek sodat die beliggaming van die persoon wat in die wêreld van die werk leef erken en ondersoek kan word. Dus word nie slegs die individu se ervaringe nie, maar ook hoe hul ervaringe uitgevoer, uitgeleef, saamgestel, en gevorm word binne 'n groter korpus van institusionele narratiewe ondersoek. In die geval van Van Heerden se roman verwys so 'n korpus na sy oeuvre, die werke van Etienne Leroux, en ook filosofiese en teologiese werke wat handel oor goed en die kwaad en die bestiering van God. 'n Tekstuele analise en interpretasie van die karakter se ervarings - verdiep in beide die belewenis en vertelling daarvan - word dus deur 'n narratiewe ondersoek bemoontlik (Clandinin & Rosiek, 2007:235).

     

    4. Teoretiese raamwerke

    4.1 Goed en kwaad en die bestiering van God: teologiese, filosofiese en literêre lense

    Die vraag unde malum? - vanwaar die kwaad? - is steeds relevant. Teologies bied die Bybelse verhaal wat aandui dat Eva deur die slang verlei is om van die verbode vrug te eet en dat Adam daarná ook eet van die verbode vrug 'n verduideliking van hoe die sonde en die kwaad in die wêreld gekom het. Verskeie en verskillende teologiese interpretasies daarvan bestaan, maar ook dit word bevraagteken. God se eie wese kom ter sprake.

    Die vraag is dus of God self goed kan wees as daar soveel kwaad in die wêreld is en Hy Adam en Eva voor sodanige toets gestel het. Is God dan per definisie self boos, of bestaan daar 'n bose god naas God? Is die Satan dan so 'n god? Daar is ook die gedagte dat daar 'n bose demiurg (skyngod en skepper naas God) bestaan wat vir die kwaad verantwoordelik is.

    Teologies word in navolging van gereformeerde teologie dikwels soos volg geredeneer. As voorbeeld hiervan kan na Heyns (1988:172-189; 249-259) verwys word.

    God is die Skepper, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, wat goed skep en ná die skepping verklaar dat alles goed is.

    Mense is nie as robotte geskape nie en het daarom die vryheid om vir of teen God te kies.

    Dit was die enigste moontlikheid om vrye mense te skep.

    Die mens kies teen God en verloor sy/haar vrye keuse.

    Die diepte van die sonde is allerverskrikliks en lei tot absolute ellende.

    God stuur Christus, sy Seun wat aan die kruis sterf, om die mens van die sonde en kwaad te bevry. Die dood word oorwin in die opstanding van die Seun. In die eskatologiese voleinding word die kwaad vir goed vernietig.

    Vrae word steeds hieroor gevra. Tomberlin (1977:455) bevraagteken daarnaas of daar wel 'n vrye wil by die mens is. Hy verwys na twee uitgangspunte, naamlik

    dat God bestaan en almagtig, alwetend en volkome goed is; en

    dat dit wel logies aangedui kan word dat daar morele kwaad in die bestaande wêreld voorkom.

    Die vrye mens misbruik egter sy/haar vryheid. Die vraag is egter of God nie self ook die kwaad beskik nie omdat God dit sou kon keer. Die etiese vraag na menslike verantwoordelikheid kom ook na vore.

    By Aristoteles was die vraag na die goeie burger en mens oorwegend. Irrera (2012:127) skryf daarom:

    Nevertheless, to speak of the good citizen might not be equivalent to speaking of the good man. Evidence of this can be found in the third Book of the Politics, where Aristotle draws a significant distinction between the two notions. Unlike the good citizen (ho spoudaios polîtes), whose excellence consists in an unquestioning allegiance to the prescriptions issued by the rulers (even when such prescriptions fail to achieve the common good of the polis), the good man (ho agathos ancr) distinguishes himself as an individual in possession of practical wisdom (phronêsis), i.e. an intellectual excellence employed by ethically virtuous people in their deliberative activity.

    Dit is veral Kant wat die vraag na goed en kwaad en moraliteit vra. Insole (2023:5) skryf:

    Kant finds that we can, indeed, must rationally believe that the entire and whole world is undergirded by freedom, and not mechanism, and so, that it is a world with value. Kant's 'transcendental idealism' arises from Kant's ability to affirm such a world undergirded by freedom. Putting it briskly, the idea is this: if space and time are features of the world in itself, and directly created by God, they go 'all the way down' into reality, and we are contained within them.

    Maar steeds bly die vraag of die bestaan van die goeie God met die voorkoms van die kwaad vereenselwig kan word. Beaty (2023:16) meen dit is nie 'n onlogiese veronderstelling nie. God bly goed ten spyte van die kwaad. Miller (2021:448) wys op die voorstel van "maltheism" as oplossing van die probleem deurdat beweer word dat die kwaad vanuit 'n bose god na vore kom. Miller (2021:463) skryf egter dat teïsme daarop 'n voldoende antwoord bied: "the mixture of positive and negative properties that an evil-god would have to have, the various problems of practical irrationality that evil-god would have, and the fact that theism fits better with our basic intuitions and evidence of God through revealed theology".

    Die vraag na God se goeie natuur word deur verskeie ander navorsers aangespreek. Rhoda (2022:1) toon aan dat God deurgaans by die skepping betrokke is en dat God nie afwesig is nie. Reichenbach (2022:1) stel dan die vraag hoe God kwaad en lyding oorkom as God nie logies konsekwent optree nie, maar Schneider (2020:135) wys daarop dat die mens self teenpole ontwikkel: "Deprived of their transcendent telos, human desire and imagination cannot but generate counterfeit doubles of God." Noble en Fischer (2020:4) antwoord dat die keuse tussen goed en kwaad by Ricoeur tot selfkennis lei en 'n belangrike rol speel wat weer tot verdere keuses lei, "regarding what leads to life and what leads to death, between God and the nothingness of idols". Voortdurend moet die keuse gemaak word. Die oortuiging van erfsonde wat bepalend inwerk, lei volgens Maes (2020:164) by Ricoeur tot intense nadenke. Dat God die kwaad aanwend om tot die groter heil te laat lei, word deur Mooney (2019:215) afgewys.

    In die benadering van 'n literêre teks vanuit 'n teologiese en filosofiese hoek is dit belangrik om nie oortuigings op die teks af te druk nie. Die teks self kan egter juis sake aan die orde stel wat teologiese en filosofiese implikasies het. Daarom moet hierdie sake aan die orde gestel, ontleed en hanteer word. In die onderhawige roman van Van Heerden word besliste teologiese en filosofiese sake ten opsigte van goed en kwaad en God se bestier aan die orde gestel. Daar is inderdaad 'n bepaalde verhouding tussen letterkunde en die teologie. Hart (2024) lewer 'n belangrike bydrae in hierdie verband.

    Sanders (1998:204) hanteer die vraag of dekonstruksie geheel verwerp word deur Christenteoloë en of daar wel ruimte is vir 'n verhouding tussen dekonstruksie en sogenaamde negatiewe teologie. Volgens Sanders (1998:204) beskou Hart dekonstruksie nie as 'n vorm van negatiewe teologie nie, maar wel negatiewe teologie as 'n vorm van dekonstruksie. In hierdie proses word die begrip van negatiewe teologie gemunt. Negatiewe teologie wil aandui wat God nie is nie, in stede daarvan om aan te dui wat God wel is. Positiewe teologie praat van God as Goed en Liefde en die Skepper, terwyl negatiewe teologie van God praat as nie-boos nie, nie-haat nie, en nie-geskape nie. Hart (1989:104) wys ook daarop dat negatiewe teologie die dekonstruksie van positiewe teologie is.

    Gleeson (1992:65) identifiseer twee soorte negtiewe teologie, naamlik "restricted" en "general" negatiewe teologie. Deur na Hart se werk te verwys voer Gleeson (1992:60) aan dat die Westerse teologie metafisies is en dat onto-teologie God as hoogste grond beskou. Daarteenoor staan "restricted" negatiewe teologie in verhouding tot positiewe teologie as 'n reaksie op laasgenoemde, maar reageer dit as byvoegings om die teologie reeds te bevestig. Hier koppel Gleeson (1992:65) negatiewe teologie aan dekonstruksie deur weer eens na Derrida te verwys wanneer hy skryf: "Derrida believes all negative theologies are of this restricted type: their negative cautions are (merely) supplements, which are always overcome by the claims of positive theology". Hart (2017:134) self dui die verband met die teologiese soos volg aan:

    When phenomenology turns to examine the Christian faith, it fastens as much on what I call the supernatural attitude as it does on the natural attitude. The supernatural attitude is the thetic position that the divine has the same or similar modes of being as things in the mundane world.

    Hart (2016:373) is verder van mening dat die koninkryk wat Jesus verkondig het juis meer as 'n filosofiese idee was. Hy stel die Vader, wat geken kan word en wat Liefde is, bekend. Daar is gronde om God ook lief te hê:

    Jesus tells us that God is like a father to us, which implies that he is also unlike any earthly father we might have had. It is in this back and forth of 'like' and 'unlike' that God comes into focus for us, not in terms of being but by way of a relationship that can be pursued.

    Die uitgangspunt is dus om die vrae oor goed en kwaad en God se bestiering wat in Die wêreld van Charlie Oeng voorkom, te benader in die teologiese en filosofiese hantering van die vrae oor goed en kwaad en God se bestiering. Daar is twee aspekte wat na vore kom. Die eerste is die wyse waarop die karakters in die roman hierdie saak na vore bring. Ten tweede is die kwessie van hoe elemente van die magiese realisme aangewend word om die vraag na God se bestier en goed en kwaad aan die orde te stel belangrik. Magiese realisme beteken dat daar bande is met 'n bosinlike bestaan (Van der Elst, 1992:282). Plato se ideëleer is ook van belang sowel as die Jungiaanse begrip van die persoonlike en die kollektiewe onbewuste. Erkenning van hierdie sake oorskry tyd en ruimte (Van der Elst, 1992:282). Van Heerden druk dit uit deur verskeie karakters in die verhaal na goed en kwaad te laat verwys. God se bestier en goed en kwaad is daarmee ook binne die bosinlike raam aangedui. Van Heerden dui dit in verskeie tonele aan.

    4.2 Die invloed van Etienne Leroux

    Die teologiese en religieuse speel 'n beslissende rol in hierdie verhaal deur Van Heerden; hierdeur word 'n duidelike skakel met vroeëre werke deur Etienne Leroux bewerkstellig. Malan (1977; 1978) verduidelik dat Leroux in sý literêre werke diepgaande religieuse vrae stel. Van Jaarsveld (2023:215) toon aan dat verskeie van Van Heerden se vroeëre romans deur Leroux beïnvloed is. Van Coller (2023:32) verwys op sy beurt na Leroux se drang na die mitologiese en soeke na die plaasvervanger. Leroux stel ook die vraag na goed en kwaad aan die orde in Sewe dae by die Silbersteins (1962). By Leroux word dit die oervraag na mens voor God in die sewe dae van die skepping en dan die kwaad wat dit besmet.

    Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux raak ook die saak van goed en kwaad en God se bestiering aan. Die religieuse element speel 'n belangrike rol: dié roman konfronteer die leser met die vraag of die mens 'n vrye wil het en of die mens eers die kwaad ook in God moet leer ken om die goeie te vind. Van Coller (2023:39) is van mening dat verskeie religieuse kwelvrae soos die "dualiteit van die godshoof', vrye wil en gesigsloosheid van die syn voorkom. Etlike besware teen Leroux se hantering van goed en kwaad het ingesluit dat daar nie 'n duidelike verskil tussen die twee aangedui word nie en dat die goeie nie die kwade duidelik oorwin nie (Botha, 2008:587). Botha (2008:588) antwoord dat ondersteuners van Leroux aandui dat die samehangende lees van die roman die moralisties-didaktiese lees daarvan moontlik maak, ook deur die ironie raak te lees. Botha skryf (2008:593) dat, in aansluiting by die plaasroman, maar ook geheel anders, die boereparadys geteken word as vervalle in 'n tuin van bose luste. Ten spyte van die feit dat die roman geen moralistiese roman is nie, ontbloot Leroux wel die onsekere morele keuses. Van Coller (1980:39) wys daarop dat verskeie literatore in die debat oor Sewe dae die morele strekking van die roman bevestig het, soms té oordadig. Malan (1978:60-61) toon aan dat die diepgaande religieuse ondertone wel in Sewe dae voorkom. Die hoofkarakter, Henry, word 'n Adam-figuur wat ingelyf moet word tot volledige menswees. In aansluiting by die misterie-simboliek is daar egter "ambivalensie, parodie en selfs travestie". Malan (65) skryf:

    Telkens verbrokkel die patroon en degenereer die misteriewerksaamheid tot sekulêre absurditeit. Op voortreflike wyse word die geheimenisse van die wynmakersbedryf byvoorbeeld benut om die én godsdiensontluistering én die reste van misterie in die moderne wêreld te benut.

    Daar is dus 'n besliste religieuse substratum by Leroux. Op die sewende dag triomfeer die goeie egter wel (Botha, 2008:594). By Henry is daar dus groei tot geloof. Dit word egter in Leroux se roman Een vir Azazel (1964) bevraagteken. Van Coller (1980:146) toon aan dat die bose steeds as teenpool van die goeie in die slot van Sewe dae figureer. Hy skryf (1980:146): "[d]ie slot van Sewe dae dui slegs 'n manier aan om oor die bose te seëvier; 'n opdrag word verwoord wat eers in vervulling moet tree voordat die goeie finaal kan oorwin". Hierdie hantering van goed en kwaad en die religieuse implikasies daarvan lê die grondslag vir Van Heerden wat met die magiese realisme en die karakterisering in Die wêreld van Charlie Oeng die vraag na goed en kwaad en God se bestier daarvan die vraagstuk aan die orde stel. Erasmus (2006:688) wys ook daarop dat Van Heerden (soos Leroux) reeds in Toorberg die mites van die land konfronteer, omkeer en ook daaroor vrae stel wat steeds ontwykend is.

    Dit is duidelik dat die debat oor goed en kwaad en God se rol daarin beide in die literatuur en die teologie na vore kom. Daar bestaan verskeie moontlikhede. Die skuld vir die kwaad kan voor die deur van God gelê word. Volgens daardie beskouing het God dit in die werklikheid ingegiet (Heyns, 1978:152). Daarteenoor kan die skuld by die mens gevind word (Heyns, 1988:177). Die mens het God verwerp en so die kwaad in die werklikheid ingebring. Evolusionêre beskouings beteken dat die kwaad 'n noodwendige ontwikkeling in die werklikheid is. In die literatuur, soos in Van Heerden se roman, word die vraag na goed en kwaad en hoe God daaroor oordeel ook gestel. Die verskillende karakters se reaksie op daardie vrae kan beoordeel word. Dié vrae word deur Van Heerden in Die wêreld van Charlie Oeng na vore gebring.

    4.3 Postmodernisme en magiese realisme

    Van Coller (2017) meen dat Van Heerden se roman 'n grootse postmoderne verhaal is wat magies-realistiese elemente bevat waarbinne die vraag na goed en kwaad belangrik is. Dit is daarom dat hierdie roman nie net fundamentele aspekte van 'n narratief problematiseer nie, maar ook boordens toe vol is van uitsprake van ontologiese én epistemologiese kwessies. Oorspronge is immers nie agterhaalbaar nie - ook nie dié van mense nie. Lewens is moeilik herkonstrueerbaar, die waarheid is onvindbaar en skuld onbepaalbaar. Hierdie opvattings, saam met bepaalde narratiewe tegnieke soos deurstreping, vermenging van die fantastiese en realistiese (die drakies wat vuur spoeg!), waarheid en verdigsel, wetenskap en mite laat duidelik blyk dat hierdie roman postmodernisties is tot en met, hoewel die aanslag wegskram van teoretiese vernaamdoenery.

    Viljoen (2017) wys op die belang van die magies-realistiese elemente. Burger (2017) verwys na die raaisel van die moorde in Van Heerden se roman wat uiteengesit word in terme van hoe, hoekom en deur wie die moorde gepleeg is. Die roman is vol dwaalspore, elemente van misleiding en verskillende verhaallyne. Verder kom die kwessie van skuld ook sterk na vore, soos die geval is in Van Heerden se vroeëre werke soos Toorberg (1986). Botha (2017) beklemtoon ook die magiese wat, soos in ander romans deur Van Heerden, 'n groot rol speel. Hy noem drie aspekte, naamlik ouma Ogies se droombeelde met haar waarneming van die "Skreeu", die drakies wat in die skuur voorkom, en die toorwiel van Charlie Oeng. Die terapie vir die verskrikking van bestaan lê in die skryf van die roman en dit word die wyse waarop na die waarheid gestreef word.

    Van Coller (2017) beskryf die magiese realisme soos volg:

    Tipies van Van Heerden se oeuvre is ook die vermenging van realistiese en fantastiese elemente, sy eie inkleding van die magiese realisme. Dit is weer eens ruimskoots aanwesig, veral in die figuur Ouma Ogies, die blinde siener, sy wat nie spore laat nie en dit wat gaan gebeur reeds vooraf sien. Maar ook die uitbeelding van Charlie Oeng, wat boer met drakies wat vuur spoeg, en tekeninge maak wat lewe kry, streef die realisme verby.

    4.4 Migranteliteratuur

    'n Ander perspektief waaruit Die wêreld van Charlie Oeng benader word is dié van migranteliteratuur (Lambrechts, 2019:103 e.v.), wat inderdaad as 'n belangrike aspek in die roman voorkom. Sy gaan daartoe oor om die verskillende probleme wat met migrante-literatuur saamhang te hanteer, soos byvoorbeeld aspekte van kollektiewe identiteit en die wyse waarop hierdie identiteit in sekere kontekste hanteer word, asook persoonlike identiteit en die wyse waarop dit na vore kom. Migranteliteratuur handel dan oor hierdie verskille (Lambrechts, 2019:105-8). Die temas in migranteliteratuur (Lambrechts, 2019:103 e.v.) en die toepassing daarvan in Van Heerden se roman is van belang, soos byvoorbeeld die reis- en verlies-temas. Sake soos die optekening van die geskiedenis, die liefde asook aspekte van magiese realisme en drome kom ook in migranteliteratuur voor.

    Verder wys Lambrechts (2017) daarop dat, in dié roman, vernaam die verskillende vlakke van skuld uiters belangrik is. Die vraag na die skuld van God self is dus van belang, maar so ook die vraag of aandadigheid aan skuld ontken kan word. Lambrechts (2017 s.p.) skryf: "Teen hierdie warboel van reg en geregtigheid, kennis en onkunde, oorsaak en gevolg, skuld en aanspreeklikheid, neem die religieuse weliswaar 'n onderbeklemtoonde, maar daarom nie 'n minder belangrike posisie in die verhaal in nie." Vir hierdie ondersoek is dit van belang om te vra hoe daar oor goed en kwaad gedink word en hoe die teologiese en religieuse aspekte na vore kom en hanteer word. Hierdie aspekte van migranteliteratuur moet egter nie oorbeklemtoon word nie.

     

    5. 'n Ondersoek na Die Wêreld van Charlie Oeng

    Die wêreld van Charlie Oeng kan teen die agtergrond van Van Heerden se oeuvre geplaas word omdat dié outeur reeds in sy vroeë werke bepaalde sake wat die religieuse, teologiese en etiese raak na vore bring. Só kan 'n mens byvoorbeeld noem dat die vraag van skuld en, daarmee saam die vraag na goed en kwaad, reeds sterk vooropgestel word in Toorberg (Van Heerden, 1986), temas wat ook in die Die Swye van Mario Salviati (Van Heerden, 2000) hanteer word. Die roman 30 nagte in Amsterdam (Van Heerden, 2008) dui op die aspek van die hantering van eie en kollektiewe skuld. Ook in die onlangse Gebeente (Van Heerden, 2023) word koloniale skuld as die kern van die verhaal gestel.

    Die karakterisering en die betekenis van goed en kwaad word op doeltreffende manier in Van Heerden se roman ontgin. Die vraag is egter of hierdie groot vraagstuk van goed en kwaad, soos wat dit na vore kom in die unde malum-vraag (vanwaar die kwaad), in die vraag na menslike verantwoordelikheid en in die vraag oor die bestiering van God, uiteindelik ten diepste genoegsaam ontwikkel word.

    Die vraag na goed en kwaad en die bestiering van God in die roman, soos die karakters daarop reageer, is dus van belang.

    Hierdie aspek word met verwysing na verskillende karakters hanteer. Alhoewel die verhaal primêr afspeel soos deur Tian se oë gesien, is daar verskeie ander karakters wat ook hiermee worstel. Juis deur dié worsteling vanuit verskillende karakters se oogpunte te beskou word die vraag na goed en kwaad uitgebou. Tian self ontkom nooit aan die swaelreuk wat aan hom kleef nie omdat hy self ook skuld aanvoel. So word die skuld verplaas. Alhoewel hy nie self aandadig aan die moord op sy ouers is nie, voel hy tog verantwoordelik vir die wyse waarop die gebeure plaasgevind het. Omdat Tian die las van sy ouers se dood op sy skouers neem, word die skuldlas van die moordenaar na Tian verplaas. Charlie Oeng dien as karakter wat toenemend die skuldvraag na vore bring. Die interessante wyse waarop Jenny May en Sy as vroulike karakters weer die vraag van goed en kwaad realiseer, is van belang.

    Brink (1987:70) skryf oor die betekenis van die opbou van 'n karakter wat ook hier van belang is:

    "Eienskappe", "kenmerke": dié twee benaminge moet so letterlik as moontlik gelees word: eien-skappe, ken-merke. Hulle dui op dit wat 'n karakter individualiseer, wat hom/ haar anders maak as ander (die teenoorgestelde proses, dus, as dié waarvolgens Greimas wil bepaal waar die gemene delers lê); die attribute wat "eie" is aan hom/haar (eie aan sy/haar "landskap" of "binneskap"); dit gaan om die merke of tekens waaraan 'n karakter geken kan word. En "ken" is 'n aksie wat direk op die leser betrekking het.

    Verder skryf Abbott (2002:130) oor karakterisering wat die optrede van die karakters in Die wêreld van Charlie Oeng ook kan aandui soos volg:

    It may be that characterization and thinking in types are part of our mental equipment, and it may also be that the rich complexity and constantly changing nature of human beings can never be adequately captured by this narrative equipment. But this is not the same thing as saying that character is inevitably deceptive and that narrative can only deal in illusions because of this. It is true that character in purportedly non-fiction narrative can be false, misleading, unfair and slanderous. But is it invariably false, misleading, unfair and slanderous? Are there not degrees of accuracy and inaccuracy in characterization?

    Juis daarom moet die verskillende karakters se interaksie met die vraag na goed en kwaad en God se bestier in die roman geëvalueer word.

    5.1 Charlie Oeng

    Die eerste belangrike karakter is Charlie Ng (Oeng) self. Vanuit 'n migranteliteratuurbenadering is dit duidelik dat hy die tipiese buitestander-figuur is. Verder word hy uitgebeeld as 'n swerwer wat nêrens tuis voel nie. Nóg belangriker is sy tipering as wrede moordenaar, alhoewel hy deur omstandighede in daardie rol ingesuig word. In dié roman dien die moorde wat gepleeg word as simbool vir die verskrikking van die mens se bestaan. Dit skep 'n bepaalde deurlopende tema waar Charlie Oeng, as Sjinees, by verskeie moorde betrek word en aan die einde ook by die dood van Tian se ouers geïmpliseer word. Reeds aan die begin van die verhaal sê Oeng dan ook dat die vuurwerk die bose sal wegjaag, dat daar deur die vuurwerk vir Charlie Oeng bevryding sal kom. Siende dat die vuurwerkvertoning juis dié gebeurtenis is wat hom by die moord van Tian se ouers impliseer, word dit duidelik dat misleiding reeds van vroeg in die teks 'n belangrike rol speel. Oeng se lewe word ook deur hierdie misleiding gekenmerk.

    Intussen speel die verhaal af rondom die kwaad en die bose wat in Charlie Oeng se lewe voorkom. Sy lewe in Amsterdam beeld reeds die bose kant uit. Daar is die verskrikking van Charlie Oeng se optrede waar daar sprake is van die wyse waarop hy diere doodmaak en hoe varke geslag word (116). Charlie Oeng is instrumenteel in die dood van Lize, 'n Nederlandse vrou met wie hy 'n bepaalde verhouding het (124). In Hong Kong word hy by die moord op 'n man in 'n steeg betrek, op bevel van die Triade (167): "Hy wou dit nie doen nie, hy wou nie. Hy kon dit nie doen nie, hy hét. Hy het."

    Die vraag na Oeng se skuld word duidelik deur Van Heerden aangetoon. Die verhaal neem 'n nuwe wending met die ontrouheid van die vrou wat slegs as "Sy" (234) aangedui word. Die oënskynlike rus en vrede wat Charlie Oeng by hierdie vrou, vir wie hy baie lief was, ervaar het is nie blywend nie, omdat sy hom later verlaat. Hierdie verlating lei uiteindelik tot die wrede moord op die winkelier wat haar weggeneem het. Die winkelier en sy vrou word saam met Witkant, 'n medeloper, wreed vermoor (472-3). Charlie Oeng neem ook wraak met die moord op George Dunn wat hom weer by die kwaad betrek (265). Saam met die kwessie van Oeng se skuld verwys Van Heerden dus ook na die aspek van wraak.

    'n Verdere aspek wat in die karakterisering van Charlie Oeng na vore kom, is dat dié karakter dikwels 'n wiel rondom hom trek en daarbinne gaan sit. Dít word die versinnebeelding van sy ongelooflike bestaan op soek na die rus wat hy nie kan vind nie. Omdat vals inligting versprei word, naamlik dat Tian se pa, Kilian, die prokureur, met Sy 'n verhouding gehad het, besluit Charlie om ook vir Kilian te vermoor. Hy werk 'n plan uit om vuurwerke op laas-genoemde se plaas af te skiet en dan die moord te pleeg. In 'n verrassende wending is dit egter Cor van Gogh wat hulle vermoor omdat hy Tian se ma verdink van die diefstal van die Vincent van Gogh-skildery wat in Cor se besit was.

    Daar is ook elders in die roman sprake van die betekenis van die dood, en Koekepan of Charlie Oeng, vra wat van 'n mens word wanneer hy sterf (380). Die vraag word dan verder uitgebou deur die aspekte wat na vore gebring word wanneer hy en ouma Ogies hierdie sake met mekaar bespreek. Dit is 'n belangrike gedeelte waar die gedagte van die dood beklemtoon word:

    Waarheen gaan jy as jy sterf, vra hy weer.

    Jy word die stringe eier van die padda, jy word die windjie wat die skrif in die sand saggies platwaai, jy word die naald in die hooimied.

    Waarheen gaan jy as jy doodgaan? Jy gaan verby die vraagteken. Hopelik gaan jy regop en met asem in jou maag. Jy gaan sonder 'n laaste dankie op jou lippe. En jou tong, jou tong raak dik in jou mond. En jou oog, jou oog raak soos die kil maan.

    Die laaste stuiptrekking bloed in jou is sterk soos 'n rooi slang wat deur jou lyf kronkel. Dis jou groot aar daai, hy's nou dik, gestol, hy's nou niks, so moet jy laat gaan, jy moet uit en gedaan. Jy moet weggee. Behalwe die bloed, ook die lewe. (380)

    Deur die loop van sy lewe word Charlie Oeng by verskeie moorde betrek. As tiener pleeg hy sy eerste moord weens 'n ongeluk wat gebeur. Hy pleeg die moord in Hong Kong omdat hy die matriarg, ouma Voetjies, moet beskerm, maar later word die moorde deel van sy lewe en wil hy uit woede moord pleeg (475). Hierdie progressie dui op die ontwikkeling van Oeng se karakter as slagoffer wat moord pleeg uit noodsaaklikheid na wraaksugtige wat moor uit eie keuse. Die hoeveelheid moorde waarby Oeng betrokke was, is dan wat hierdie tema - die betekenis van die dood - so relevant maak. Die dood is alomteenwoordig en die vraag na goed en kwaad in sy lewe is meteens uiters relevant.

    Opnuut ontstaan daar dus 'n verantwoordelikheid waaraan ons nie kan ontkom nie. Die karakter van Charlie Oeng is in baie opsigte 'n karakter wat relevant is. Sy karakter word uitgebeeld aan die hand van wat in sy vroeëre lewe met hom gebeur het. Wat uiters belangrik in hierdie verhaal is, is die gewelddadigheid wat deel word van die immigrant Charlie Oeng se aard wanneer hy orals verneder word en dan uiteindelik daartoe oorgaan om wrede moorde te pleeg. Hy word as't ware ingesuig in die moordwêreld van die eerste insident wanneer Sy die Nederlandse vriendin vermoor, later wanneer hy in Hong Kong opdrag kry om iemand te vermoor, wanneer hy en Witkant die winkelier vermoor en dan uiteindelik tydens die vraag na wie verantwoordelik vir die moord op Tian se ouers is. Is Charlie Oeng dan tog verant-woordelik vir sy eie optrede, alhoewel hy volgens die getuienis wat gelewer word nie self die moord gepleeg het nie, maar Cor van Gogh?

    Rondom die vraag van goed en kwaad is Charlie Oeng die voorbeeld van die een wat deel word van die kwaad, dikwels sonder dat hy self daarvoor verantwoordelik wil wees. Hy word betrek by 'n wêreld van kwaad omdat hy óók in 'n sekere sin reg aan andere wil doen; daardie kwaad word egter oorheersend en die karakter Charlie Oeng uiteindelik 'n karakter van gruwel. Daar is geen twyfel daaraan dat Van Heerden hier 'n besondere karakter geskep het nie. Hierdie karakter beeld inderdaad die probleem van die ontstrengeling van goed en kwaad uit.

    5.2 Ouma Ogies

    Ouma Ogies, die blinde vrou, sien baie, alhoewel sy blind is (104). Ouma Ogies is die belang-rikste karakter ten opsigte van die religieuse element of motief in die roman. Deur haar karakter te skets word 'n diepgaande aspek van die bestaan van die mens na vore gebring. Ouma Ogies het 'n tragiese lewe deurloop wat uiteindelik daartoe lei dat sy geweldige angs en nood ervaar. Sy was onbewus van die wyse waarop sy deur ander in haar bestaan mislei is. Haar ellende word uitgedruk in die feit dat haar kind tragies sterf by geboorte, wat haar diep raak, selfs al is sy onseker wie die kind se vader was (74). Wanneer sy daarvan bewus word dat sy as blinde mislei is by die verwekking van die kind gaan sy na die landdros om 'n klag teen God self by hom te lê (76). Sy verwys dan ook daarna dat God sy eie Seun se dood bestier het (77). Sy wil God aankla weens dít wat met haar gebeur het en omdat Hy, volgens haar, wreed is.

    Elemente van magiese realisme kan in Ouma Ogies se narratief waargeneem word. Wat reeds aan die begin na vore kom, is die verwysing na die sogenaamde "Skreeu". Dit lyk of hy woon in die sloot naby die plaas en daar is onsekerheid hoe om teen daardie "Skreeu" op te tree en hoe om dit of hom te verstaan.

    Ouma Ogies maak die vere van voëls bymekaar. Die swart veer wat sy uiteindelik by Bobby Greenblat in sy papegaaihokke gaan haal het, wys eintlik heel aan die begin bloedstollend vooruit na die dood van Tian se ouers.

    Magiese realisme word verder gevoer deur die magiese aspekte van twee sake: ouma Ogies wat nie op die skaal weeg nie (253) en die drakies van die Chinees (254). Verder word dit duidelik dat die "Skreeu" hom nie laat vang nie.

    Van Heerden vertel verder hoe ouma Ogies begin lont ruik vanweë die leuen wat oor Tian se pa (Kilian) versprei word. Sy sien alreeds vooruit wat gaan gebeur (342). Dit speel 'n be-langrike rol wanneer Tian en ouma Ogies in 'n bepaalde verhouding tot mekaar te staan kom (392). Daar is 'n geheim wat ouma Ogies dan aan hom deurgee ten opsigte van wat gebeur het en die feit dat sy met Koekepan (of Charlie dan) ook in 'n bepaalde verhouding tree. Die intensiewe vraag na die betekenis van die een ter wille van die ander, soos Jesus wat sy lewe gee vir andere, word gevra (399). Ouma Ogies is daar weer aan die woord en beleef dat die duiwel teen haar aandruk, waarop sy vra dat sy behoed mag word en Jesus se bloed haar mag bewaar, maar dat sy nie ten volle verstaan waaroor dit gaan nie (407). Ouma Ogies wil vir Kilian gaan waarsku dat daar 'n valse berig oor hom versprei word (408). Dit het gebeur dat die veiligheidstak vir Witkant opstook om 'n valse berig te versprei dat Sy, die vrou wat saam met Charlie Oeng gekom het, en Kilian 'n verhouding aangeknoop het. Ouma Ogies besef dat dit 'n valse bespreking is, en sy wil daarom hierdie leuen aan die kaak stel.

    'n Belangrike vraag kom aan die orde wanneer ouma Ogies vir God wil dagvaar. Hierdie belangrike narratiewe gebeurtenis behels 'n gesprek met 'n prokureur waarin sy hom vertel dat sy God wil dagvaar vanweë die leuen wat haar raak (407). Misleiding is dus onaanvaarbaar en moet deur haar openbaar word. Sy kom by die prokureur, Tian se pa, Kilian, en sê dat sy daardie saak verder wil voer. Dit word 'n gesprek tussen Kilian en ouma Ogies wat 'n saak wil maak en daardie saak wil voer oor die swaarkry en die ellende. Sy wil dan 'n verslag skryf oor hoe sy as ouma Ogies in angs en nood geleef het en hoe sy verraai is.

    Ouma Ogies vra dan of God nie al hierdie dinge bestier het nie. Daarom moet daar 'n saak gemaak geword teen God wat hierdie dinge bestier het (414). Sy skryf (414): "Dit is ek, Maria Ogies, se kontensie dat God die groot bestierder is. Ek het deur God se oë gekyk en my tweede betoogshoof is dat God wreed bestier, ek kla God se planmatigheid en sy raadsplan aan, ek kla dit aan...". Haar kontensie is dat God nie liefde is nie, maar toorn, weens die feit dat die prokureur beskuldig word van ontrou met Sy. Daarom wil sy ook hê dat die prokureur, wat onskuldig is, moet weet van die onreg wat beplan word.

    Die Bybel kom ter sprake wanneer sy 'n swart veer, wat sy tussen haar borste uithaal, op die preekstoel gaan neersit terwyl die gemeente die lof van God besing. Die Mtuzes, wie se seun vir onrusstokery gevange geneem is, help haar wanneer sy in die kerk flou word en sy nie meer die verantwoordelikheid vir haar drome kan dra nie (428). Ouma Ogies is altyd in staat om die onsienlike te sien. Sy kan die ongelooflikste dinge beleef en uiteindelik wil sy die geding wat sy met God het tot die uiterste voer (447). Sy sê dat daar nou nie meer 'n saak teen God is nie, maar dat dit teen die "Skreeu" is, en dat God sy eie Seun veroordeel het (448). Dit word alles tot 'n punt gebring wanneer die "Skreeu" nie gevang kan word nie. Weer word die vraag gestel: is dit nie God wat die sake bestier nie? "Het God nie, man soos wat Hy is, sy eie Seun geslag nie?" vra ouma Ogies (448).

    Ouma Ogies is 'n karakter wat sterk na vore tree. Van Heerden slaag daarin om die blinde vrou die fokuspunt te maak van die vraag na goed en kwaad, en daarmee saam God se bestiering van die wêreld. Die tema van misleiding speel deurgaans 'n belangrike rol. Hoe het ouma Ogies opgetree? Wat doen sy? Hoe beleef sy die wêreld? Dit alles is vrae wat beoordeel kan word. Ouma Ogies is 'n interessante karakter wat besondere betekenis aan die verhaal gee.

    5.3 Tian

    Tian is self die verteller en word as't ware 'n speurder op die spoor van Charlie Oeng. Hy beleef die gebeure van sy vader en moeder se dood intens. Hy voel hy dra skuld vir hulle dood omdat hy die vuurwerkvertoning aangevra het wat op die aand van hul dood plaasgevind het. Die karakter Tian speel dus 'n noodsaaklike rol in die verhaal. Vanuit sy perspektief word al die vrae na vore gebring. Daar kleef 'n reuk van swael aan hom wat hy aan Jenny May, die vriendin met wie hy 'n verhouding aanknoop, probeer verduidelik. Sy help hom om die lewe van die Sjinese in Amsterdam te verstaan, terwyl hy die soektog na die lewe van Charlie Oeng voortsit. Die vraag na goed en kwaad en skuld is dus belangrik in die hantering van hierdie soektog. Tian vat sy skryfproses soos volg saam:

    Ek moet dink aan die ses-en-dertig krygstaktieke en hoedat mens ook in die skryf van jou verhaal 'n geraas maak in die ooste maar aanval uit die weste. Hoedat jy tekstueel tweedrag saai en jou leser die dak op neem en dan die leer verwyder. Miskien is dit die grootste les van my lewe (542).

    Tian se ontwikkeling is ook van belang. Dit is asof Tian self nie met die goed en kwaad van die wêreld raad het nie. Hy worstel deurgaans met sy eie skuld. Wanneer hy ook Charlie Oeng se verhaal vertel, is daar steeds by hom die vraag na sy eie skuld. Antwoorde ontglip hom. Aan die einde kan hy as karakter nie voluit daarop reageer nie. Dit is dus in meer as een opsig belangrik om aan te dui dat die karakters Tian en Charlie Oeng in Die wêreld van Charlie Oeng die aspek van goed en kwaad na vore bring.

    5.4 Cor van Gogh

    Cor van Gogh word beskryf as 'n rooikop-Hollander wat sukkel om aan te pas by Suid-Afrika se uiterste weersomstandighede. Hy word gekenmerk deur die feit dat hy pal 'n Vincent van Gogh-skildery, wat hy besit, met hom saamdra. Dit is die diefstal van hierdie skildery en Cor se woede daaroor wat uiteindelik lei tot die moord op Tian se ouers, omdat Cor glo dat Tian se ma by die diefstal van die skildery betrokke was. Die deurlopende tema van misleiding in dié roman kom ook by Cor van Gogh voor. Die skildery word 'n aspek van verwerping. Die agtergrond van Vincent van Gogh wat tragies aan sy eie hand gesterf het, word opgeroep. Die verband met Vincent se broer Cor wat in Suid-Afrika gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) gesterf het, is voor die hand liggend, naamlik dat 'n Van Gogh met dieselfde naam wel in Suid-Afrika opgetree het en ook tragies gesterf het. Dit roep onmiddellik die hele wêreld van die kunstenaar op. Cor, die karakter in die roman, word dan die een wat die werklikheid van skuld volledig openbaar in die moord wat hy pleeg.

    5.5 Samevattend

    Van Heerden slaag daarin om besondere karakters in sy roman te teken. Hulle is buitengewone persone. Die leser word op verskeie vlakke deur hulle gekonfronteer. Die groot vraagstuk is dus hoe hulle reageer op die teenwoordigheid van goed en kwaad in die werklikheid. Elke karakter het 'n eie blik daarop. Die leser word gedwing om self te antwoord op die vraag na goed en kwaad. Sentraal is ook die saak hoe God self teenoor goed en kwaad staan. Verskeie gebeure, van ouma Ogies se eie weerstand teen God se optrede tot Charlie Oeng en Tian se hantering van goed en kwaad en skuld, konfronteer die leser deurgaans met diepgaande vrae.

     

    6. Slotevaluering

    Teologies is dit van groot belang om die vraag na goed en kwaad te vra. Menslike verant-woordelikheid moet oorweeg word. Terwyl daar dikwels beweer word dat God deterministies optree, is tog aangetoon dat die genade van God beslissend is in Sy optrede. Alhoewel Hy die mens radikaal verantwoordelik hou vir hul lewe in al die verbande neem God wel die inisiatief om die verlossing te bewerkstellig. Goed en kwaad is dus nooit bloot 'n spel nie en God se hantering daarvan is nie lukraak nie. Hierdie bevinding moet in ag geneem word by die beoordeling van die roman.

    Goed en kwaad word egter sterk uitgebeeld deur Charlie Oeng se optrede. Charlie Oeng word ingesuig in die geweld en tree al hoe meer gewelddadig op. Sy moorddadigheid kenmerk uiteindelik die verhaal as 'n gru-verhaal vanweë die grusame moorde wat plaasvind. Charlie Oeng se lewe word dan teenoor Tian s'n uitgespeel. Tian beleef dit wat die aand by sy vader en moeder se moord gebeur het as 'n swaelreuk wat aan hom kleef. 'n Belangrike vraag is hoe Van Heerden goed en kwaad deur middel van die karakters aanbied. Natuurlik mag daar nie aan die skrywer voorgeskryf word hoe hy die groot vraagstuk van goed en kwaad mag hanteer nie, maar die vraag is tóg of goed en kwaad soms gelyk gestel kan word. Verder noop dit ons om te vra of die hantering van dié dilemma toelaat dat die grense tussen goed en kwaad oorskry word, sodat goed uiteindelik kwaad word en kwaad, goed. Tian word die voorbeeld van die persoon wat self die kwaad moet aantoon en wat die moordenaar moet openbaar, maar deur die aankleef van die swaelreuk aan hom gekenmerk word. Van Heerden slaag daarin om met die verhaal aan te dui dat die onderskeid tussen goed en kwaad nie altyd so maklik getref kan word nie. Alhoewel hierdie bevinding belangrik is, word daar tóg groter nuansering in die kragveld van die aanbied van goed en kwaad en die vrae aan die teologie verwag.

    Sou 'n mens dan teologies en nie literêr-krities na pertinent ouma Ogies se beswaar gaan kyk, veral na die aanklag teen God en dat sy bestiering onregverdig is, kan dit alleen in die kruis van Jesus opgevang word. Aan die kruis in Jesus openbaar God sy liefde vir die mens en word die verlossing dan ook volledig beklemtoon (Romeine 3:23-26 en 2 Korintiërs 5:11-21). Dit is veral die teoloog Abraham van de Beek (2018) wat aantoon dat die vraag na God se bestiering van goed en kwaad in die openbaring van Jesus aan die kruis verstaan kan word. Aan die kruis neem God die ellende van die mens op Hom. Daarmee saam hang die trou van Jesus wat verlossing en heil moontlik maak. Van de Beek toon aan dat Jesus die skuld van die wêreld aan die kruis dra (2018:17). Die opstanding bring egter die heil van die oorwinning oor die dood na vore. In dialoog met Van Heerden se karakters kan die elemente waarna hy verwys teologies oorweeg word sonder om 'n waarde-oordeel oor sy roman uit te spreek. Karakters se standpunte is ook nie noodwendig die standpunt van die skrywer nie, maar die saak word wel deur die outeur aan die orde gestel. Ouma Ogies se vrae is dus relevant en die skrywer kan nie gekritiseer word omdat hy dit stel nie. Die vraag is egter hoeveel skuld ouma Ogies self kan hê aan dit wat haar oorgekom het. Die mens se eie optrede is meteens ook ter sake. Kan dit egter die onreg wat Ouma Ogies beleef enigsins teologies verklaar? Die wyse waarop Ouma Ogies mislei is, beklemtoon dat misleiding 'n tema in die roman is.

    Van Heerden maak ook van magiese realisme gebruik om die religieuse uit te druk. Die aangrypende verwysing na die dood word dus 'n spesifieke tema in die verhaal. Goed en kwaad kry religieuse betekenis deurdat die karakters in diepte daarop reageer deur na God te verwys.

    Ouma Ogies se optrede moet dus in die lig hiervan gesien word. Die problematiek van goed en kwaad en die wyse waarop God se bestiering daarvan verstaan moet word, behoort veel meer kompleks as wat in die roman voorgestel word, aangetoon te word. Daarmee word nie bedoel dat Van Heerden die bepaalde beskouing wat aangetoon is, moet navolg nie. Daar is immers in die teologie verskeie en verskillende beskouings: in die Middeleeue reeds het Anselmus aangevoer dat die oordeel van God op Christus as die Een in die plek van die ander voor God neerkom, en Abelardus het die navolging van Christus verwoord. Daar is egter betekenis in die feit dat die roman wel aandui dat die karakter Charlie Oeng nie net boos is nie, maar ingetrek is in die boosheid van moord. Die wyse waarop hierdie aspek van boosheid deur die skrywer Dostojefski in Die Kamarazof-broers hanteer word, is 'n aanduiding van hoe dit literêr op hoë vlak deurgegee kan word, omdat God daar self tot getuie geroep word. Leroux se vraagstelling in Sewe dae by die Silbersteins verskaf eweneens 'n beter aanduiding van die vraagstuk van goed en kwaad voor God, omdat die hoofkarakter self in sy inisiasie deur die Bose gekonfronteer word.

    Die verhaal loop snel, en dit neem die leser op 'n tog rondom die vraag na goed en kwaad. Van Heerden slaag dus wel daarin om die leser gevange te hou in die wêreld van goed en kwaad en die problematiek daarvan. Die volle konteks van die lewe van Tian, Charlie Oeng, Ouma Ogies, Cor van Gogh en die ouers van Tian word egter nie genoegsaam uitgebeeld nie. Die spanningsvolle problematiek van die mens in daardie Oos-Kaapse situasie met die "Skreeu" wat so negatief beklemtoon word, kom egter sterk na vore.

    Die roman laat die leser met diepe nadenke oor die mens in sy/haar bestaan wat inderdaad essensiële vrae oproep. Dit is juis die wonder van die teologie dat sodanige vrae soos in die roman gestel juis ook nuwe teologiese insigte na vore laat kom. Die roman se gehalte word dus nie misken omdat sekere vrae gestel word nie. Die vrae lok juis gesprek en dialoog in die oorweging van die literatuur uit.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Abbott, HP. 2002. The Cambridge Introduction to Narrative. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Almond, I. 2003. Derrida and the secret of the non-secret: on respiritualising the profane. Literature and Theology, 17(4):457-471. https://doi.org/10.1093/litthe/17.4.457 [16 September 2024].         [ Links ]

    Aristoteles. 2012. The Art of Rhetoric. Collins Classics. London: Collins.         [ Links ]

    Augustinus. 2021. Confessions. Collins Classics. London: Collins.         [ Links ]

    Barth, K. 1972. The Epistle to the Romans. Translated by EC Hoskyns. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

    Barth, K. 1961. Church Dogmatics Volume IV: The Doctrine of Reconciliation Part One. Edinburgh: T&T Clark.         [ Links ]

    Beaty, MD. 2023. A compensatory response to the problem of evil: revisited. Religions, 14(1):1-17. https://www.mdpi.eom/2077-1444/14/1/35 [2 January 2024].         [ Links ]

    Botha, E. 2008. Etienne Leroux (1922-1989). In Van Coller (red.). Perspektief en Profiel: 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik, pp. 586-603.         [ Links ]

    Botha, FJ. 2017. In stories lê groot deel van waarheid. Rapport, 9 Julie. https://www.netwerk24.com/Netwerk24/in-stories-le-groot-deel-van-waarheid-20170708 [Januarie 2024].         [ Links ]

    Brink, AP. 1987. Vertelkunde: 'n Inleiding tot die Lees van Verhalende Tekste. Pretoria: Academica.         [ Links ]

    Burbidge, JW. 2018. Absolute evil: Reflections on Hegel's philosophy. Science et Esprit, 70(3):317-324. https://udominicaine.ca/wp-content/uploads/2021/04/SE-70-3-corr.pdf [16 September 2024].         [ Links ]

    Burger, W. 2017. Van Heerden se verset teen die finale woord. Netwerk24, 10 Julie. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/van-heerden-se-verset-teen-die-finale-woord-20170710 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Calvyn, J. s.j. Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst. Deel 1. Vertaal deur A. Sizoo. 3de druk. Delft: WD Meinema.         [ Links ]

    Calvyn, J. s.j. Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst. Deel 2. Vertaal deur A. Sizoo. 3de druk. Delft: WD Meinema.         [ Links ]

    Chung, S & Clandinin, DJ. 2023. S.v. "Narrative inquiry". International Encyclopedia of Education. 4de druk. Amsterdam: Elsevier.         [ Links ]

    Clandinin, DJ. 2013. Engaging in narrative inquiry. California: Left Coast Press.         [ Links ]

    Clandinin, DJ & Rosiek, J. 2007. Mapping a landscape of narrative inquiry: borderland spaces and tensions. In Clandinin (ed.). Handbook of Narrative Inquiry: Mapping a Methodology. California: Sage, pp. 35-75.         [ Links ]

    Die Bybel. 2 Korintiërs 5:11-21. Nuwe Afrikaanse Vertaling. 2020. Roggebaai: Die Suid-Afrikanse Bybelgenootskap.         [ Links ]

    Die Bybel. Romeine 3:23-26. Nuwe Afrikaanse Vertaling. 2020. Roggebaai: Die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap.         [ Links ]

    Die Bybel. Romeine 9. Nuwe Afrikaanse Vertaling. 2020. Roggebaai: Die Suid-Afrikaanse Bybel-genootskap.         [ Links ]

    Erasmus, M. 2006. Etienne van Heerden (1954- ). In Van Coller (red.). Perspektief en Profiel: 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis Deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik, pp. 679-699.         [ Links ]

    Gleeson, GP. 1992. Deconstructing the concept of God. Pacifica, 5(1):59-66. https://doi.org/10.1177/1030570X9200500106 [16 September 2024].         [ Links ]

    Hanson, JM. 2012. A neo-ontological solution to the problem of evil. Theology Today, 68(4):478-489. https://doi.org/10.1177/0040573611424644 [16 September 2024].         [ Links ]

    Hart, K. 1989. The Trespass of the Sign: Deconstruction, Theology and Philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Hart, K. 2017. How the sacred appears: poetry and the dark one. Literature and Theology, 31(2):130-148. https://doi.org/10.1093/litthe/frx010 [16 September 2024].         [ Links ]

    Hart, K. 2024. Theology and literature. In Muers, Cocksworth & Ford (eds). Ford's The Modern Theologians: An introduction to Christian Theology Since 1918. 4th impression. Hoboken, New Jersey: Wiley Blackwell, pp. 464-475.         [ Links ]

    Heyns, JA. 1978. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

    Heyns, JA. 1988. Inleiding tot die Dogmatiek. Halfway House: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

    Insole, CJ. 2023. A Kantian response to the problem of evil: living in the moral world. Religions, 14(2):1-15. https://doi.org/10.3390/rel14020227 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Irrera, E. 2012. Can a good citizen be a good ruler? An answer from Aristotle's Politics. Acta Philosophica, 21(1):127-148. https://www.actaphilosophica.it/article/view/3890 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Lambrechts, M. 2017. Kunstenaar van die lem: Etienne van Heerden se Die wêreld van Charlie Oeng. LitNet, 31 Julie. https://www.litnet.co.za/kunstenaar-van-die-lem-etienne-vanheerden-se-die-wereld-van-charlie-oeng/ [9 September 2020].         [ Links ]

    Lambrechts, M. 2019. Migranteliteratuurtemas in Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden. LitNet Akademies, 16(1). https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Lambrechts_103-144.pdf [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Leroux, E. 1962. Sewe dae by die Silbersteins. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Maes, M. 2020. Paul Ricoeur: Symbols of good and evil in history, the Bible and in our time. European Journal for Philosophy of Religion, 12(4):161-174. https://doi.org/10.24204/ejpr.v12i4.3522 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Malan, CW. 1977. Die numineuse in die moderne prosa, met besondere aandag aan die oeuvre van Etienne Leroux. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif: UOVS.         [ Links ]

    Malan, CW. 1978. Misterie van die Alchemis: 'n Inleiding tot Etienne Leroux se Negedelige Romansiklus. Pretoria: Academica.         [ Links ]

    Miller, C. 2021. Why God is probably good: A response to the evil-god challenge. Religious Studies, 57(3):448-465. https://doi.org/10.1017/S0034412519000465 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Mooney, J. 2019. Divine intentions and the problem of evil. Religious Studies, 55(2):215-234. https://doi.org/10.1017/S0034412518000550 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Noble, I & Fischer, O. 2020. How discernment between good and evil shapes the dynamics of the human journey. European Journal for Philosophy of Religion, 12(4):1-7. https://doi.org/10.24204/ejpr.v12i4.3516 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Rakocy, W. 2010. "Election" as a salvific category according to Romans 9: study of a biblical concept. Roczniki Biblijne, 2:27-46. http://www.waldemarrakocy.pl/pdf/election%20pdf.pdf [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Reichenbach, BR. 2022. God, evil, and meticulous providence. Religions, 13(10):1-13. https://doi.org/10.3390/rel13100899 [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Rhoda, AR. 2022. Divine providence and the problem of evil. Encounter, 82(2):1-37. https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=lsdar& AN=ATLAiACO231103000185&site=ehost-live&scope=site [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Sanders, T. 1998. Remarking the silence: prayer after the death of God. Horizons, 25(2): 203-216. https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=lsdar&AN=ATLA0001260103&site=ehost-live&scope=site [16 September 2024].         [ Links ]

    Schneider, C. 2020. Discernment of good and evil in Dostoevsky's novels: the madman and the saint. European Journal for Philosophy of Religion, 12(4):117-137. https://doi.org/10.24204/ejpr.v12i4.3519.         [ Links ]

    Tomberlin, JE. 1977. Good, evil, and the free will defence. Religious Studies, 13(4):455-475. https://search-ebscohost-com.ufs.idm.oclc.org/login.aspx?direct=true&db=lsdar&AN=ATLA0000763277&site=ehost-live&scope=site [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Van Coller, HP. 1980. Etienne Leroux as Siklusbouer. [D Litt et Phil]. Johannesburg: RAU.         [ Links ]

    Van Coller, HP. 2017. Die wêreld van Charlie Oeng: 'n Resensie. Litnet, 18 Julie. https://www.litnet.co.za/die-wereld-van-charlie-oeng-n-resensie/ [2 Januarie 2024].         [ Links ]

    Van Coller, HP. 2024. Leroux herbekyk. In Van Coller (red.). 'n Huldiging: Etienne Leroux, die Rumoerige Swart Nar. Pretoria: SAAWK/Naledi, pp. 21-54.         [ Links ]

    Van de Beek, A. 2018. Altijd dat kruis. Utrecht: Kok Boekencentrum.         [ Links ]

    Van der Elst, J. 1992. Magiese realisme. In Cloete (red.). Literêre Terme en Teorieë. Pretoria: Haum-literêr, p. 282.         [ Links ]

    Van Heerden, E. 1986. Toorberg. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Van Heerden, E. 2000. Die swye van Mario Salviati. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Van Heerden, E. 2008. 30 nagte in Amsterdam. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Van Heerden, E. 2017. Die wêreld van Charlie Oeng. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Van Heerden, E. 2023. Gebeente. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Van Jaarsveld, A. 2023. Intermedialiteit: Sewe dae by die Silbersteins, deur Etienne Leroux - enkele mediasies. In Van Coller (red.). 'n Huldiging: Etienne Leroux, die Rumoerige Swart Nar. Pretoria: SAAWK/Naledi, pp. 213-274.         [ Links ]

    Van Luxemburg, J, Bal, M & Weststeijn, WG. 2002. Over literatuur. Bussum: Coutinho.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2024-04-23
    Goedgekeur: 2024-08-20
    Gepubliseer: Desember 2024

     

     

     

    Pieter Verster studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria, waar hy BA (cl UV. 1975), BA Honn Grieks (cl UP. 1978) BD (cl UP. 1978), MA-Grieks (UV. 1999), en MA- kreatiewe skryfwerk in Afrikaans (UV. 2022), DD (Sending- en Godsdienskunde UP. 1984) en DD (Dogmatiek en Etiek (UP. 1989) behaal. Verder is hy lidmaat en geordende leraar van die NG Kerk. As leraar bedien hy die NG Gemeente Bloemfontein-Noord van 1983 tot 1991. Hy is tans afgetrede professor in Sending-wetenskap van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat en Navor-singsgenoot aan die UV. Hy beskik oor 'n C2-gradering by die NNS (NRF).
    Pieter Verster studied at the University of the Free State and the University of Pretoria. He obtained BA (cl UFS. 1975), BA Honn Greek (cl UP. 1978) BD (cl UP. 1978), MA-Greek (UFS. 1999), and MA creative writing Afrikaans (UFS. 2022), DD (Missiology and Science of Religion UP. 1984) and DD (Dogmatics and Ethics (UP. 1989). He is a member and ordained minister of the Dutch Reformed Church. As minister of religion, he served in the Bloemfontein North Dutch Reformed Church from 1983 to 1991. At present he is a retired professor of Missiology and also Research Associate in the Faculty of Theology and Religion at the University of the Free State. He received a C2-grading from the NRF.