Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.58 n.1 Pretoria 2021
http://dx.doi.org/10.17159/tl.v58i1.9164
BOOK REVIEWS
Lynthia Julius. Kaapstad: Kwela Boeke 2020. 112 pp. ISBN: 978-0-7957-0953-1.
Lynthia Julius se debuutdigbundel Uit die kroes, open met 'n aanhaling uit Karel Schoeman se Kinders van die Kompanjie (2006): "'n Jong verwesterse Khoi-vrou met die naam Sara wat lank reeds onder die blankes geleef het, [is] opgehang gevind aan die dak van 'n skaapstal." Deur hierdie aanhaling posisioneerJulius haarself vanuit die staanspoor, en maak sy dit duidelik aan presies watter kant van die geskiedenis sy staan. Sy stel die slawe, Sara, Frederik die Hottentot, Halfnaatjie, Amria van Bengale aan ons voor, nog voor sy haarself voorstel. Julius se gedig, "Sara" herinner aan Diana Ferrus se Sara Baartman-verse uit Ons komvandaan (2006) maar Julius se Sara is nie net uit die verlede nie, sy bestaan nou ook, en die tragedie wat afspeel in die vers is broos en astrant. Julius stel ons voor aan die voorouers, sy neem hulle stories terug uit die geskiedenisboeke en navorsingsopstelle van wit akademici en herplant hulle binne haar eie lewe:
haar gees die nag in gesoen
my liggaam galg toe gevat
sodat die stilte kon kom
sodat ek die stilte kon word (7)
Deur Julius se woorde word Sara 'n eie vrou, nie net nog 'n tragiese slavin wie se noodlot voorafbepaal was nie. Hierdie tipe verteller is sterk teenwoordig in Julius se werk. In 'n Facebook Live-onderhoud (2020) beskryf Julius haarself as 'n bevryde vrou: "Ek behoort nie aan my pa of ma nie, ek behoort heeltemal aan myself." 'n Getrouheid aan haarself en die vasbeslotenheid van agency is 'n sterk kenmerk van Julius se narratief in Uit die kroes. Uit die kroes verken 'n wye reeks temas, wat strek van colourism, texturism, agency, vrouheid, verlies en familie. Al hierdie temas stik Julius bymekaar soos 'n groot lappieskombers, met haar unieke idiolek, haar Nama-herkoms en haar identiteit as 'n jong swart vrou in die wêreld.
Zora Neale Hurston (29), skryf in haar outo-biografie Dust Tracks on a Road (2006), "If it was so honorable and glorious to be black, why was it the yellow-skinned people among us had so much prestige?". In haar gedig "Kroes" (82) omskryf Julius dié gedagte:
Mamma sê ek moet my kop nasien
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar's genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans
Professor in Sosiologie, Meghan Burke (19), aangehaal in Color Matters: Skin Tone Bias and the Myth of a Postracial America (2013) sê, "Colorism is the allocation of privilege and disadvantage according to the lightness or darkness of one's skin". Hierdie tema wat Julius aanraak het baie in gemeen met die swart Amerikaanse narratiewe van skrywers soos Toni Morrison en Zora Neale Hurston. Hierdie skrywers vang al vir jare dié kompleksiteit vas in Amerikaanse letterkunde. Dit is ook 'n tema wat, soos die nagevolge van slawerny, dwarsdeur die hele diaspora reis, soos 'n slaafskip vol gemartelde slawe. Wat dit anders maak in die konteks van Uit die kroes is dat bruin Suid-Afrikaners dalk selfs 'n meer komplekse verhouding het met colourism en texturism as gevolg van die geskiedenis en die narratief rondom bruin herkoms. Vir dekades word bruin kultuur en herkoms in die geskiedenisboeke beperk tot stories oor Jan van Riebeeck, die Strandlopers, slawe uit Indonesië en Java of die onderdrukking van die inwoners van Distrik Ses. Julius skryf oor hierdie geskiedenis vanuit 'n ander perspektief,
Jy is nie soos jou ma nie;
jy rook nie rooi Pall Mall voor die kas
met die microwave op nie
jy glo nie in kerk of gaan bad voor jy slaap nie
jy relax nie jou kop nie
jy aanbid nie jou pa nie
jy offer nie op en loop met eeltvoete rond nie
Jy is nie soos jou ma nie;
jy rook Marlboro op die stoep
jy glo, maar jy weet nog nie in wat nie
dra jou kroes hare so laat mense kan sien
glad alleen beteken nie mooi nie (44)
Om bruin te wees en 'n ligte vel te hê is nie genoeg vir jou om in die samelewing en binne jou eie gemeenskap voordeel te trek nie. As jy lig van kleur is met meer inheemse Khoi of swart gelaatstrekke is jy steeds te ver van die Westerse skoonheidsideaal. Die maatstaaf vir skoonheid is nie net wit Europese gelaatstrekke nie, maar ook 'eksotiese' Asiatiese gelaatstrekke. 'Mooi' is om te lyk soos die Europeër, die Indiër, die Maleier, die Javanese in die bloedlyn. Dit is hoekom selfs die kleinste indikasie van self-aanvaarding en verwerping van hierdie tipe mikro-onderdrukking binne die gemeenskap en teenstand teen die norme en standaarde van die samelewing rewolusionêr is. Die obsessie met wat mooi is, is nie net oppervlakkig nie, hierdie tipe merkers word op mense geplaas van baie jongs af.
Na slawerny het dit geëvoleer tot 'n diep sielkundige toestand wat regdeur die diaspora voorkom en ook prevalant is in lande soos Indië, Sjina en in die Wes-Indiese eilande. Julius se verse in Uit die kroes is meer as net terugskryf aan die wat voor haar gekom het, sy laat haarself weerloos deur oor diep verliese te skryf met dieselfde deurdagtheid van haar meer tegniese verse. Uit die kroes begin in die verlede en breek die hede soos 'n brander teen 'n rots, sodat dit oral val en daar iets is vir almal om aan te raak. Die boek is opgedra aan Ryan wat ons as lesers deur die loop van die bundel ontmoet en verloor:
Dit was ou ses se down
Carl het hom neergesit
ek moes klop
Sisca het van haar Hansa gesluk
Mammie het kom sê man-man moet vir homself opskep
Sisca moes vir Cairo keer wat weer uit die jaart wou hardloop
ek het Carl se glas om laat val
Die Jirre, die Jirre het vir ou blank gedown
soos afsak in die grond
ons het stil gaan raak
en Ryan, Ryan het sonner ophou geklop (56)
Uit die kroes is 'n sensitiewe debuut vol gedigte wat
Julius se wêreld raam.
Ronelda Sonnet Kamfer
Rhodes Universiteit
Makhanda, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-3774-9050
Geraadpleegde bronne
Hurston, Zora Neale. Dust Tracks on a Road: A Memoir. Amistad, 2006. [ Links ]
Norwood, Kimberly Jade. Color Matters: Skin Tone Bias and the Myth of a Postracial America. Routledge, 2013. [ Links ]
Schoeman, Karel. Kinders van die Kompanjie: Kaapse lewens uit die sewentiende eeu. Protea, 2006. [ Links ]
"Uit die kroes: Ronelda S. Kamfer gesels met Lynthia Julius". Facebook. 27 Aug. 2020. https://www.facebook.com/NBPublishers/videos/795082364567399/. [ Links ]