SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Verbum et Ecclesia

    On-line version ISSN 2074-7705Print version ISSN 1609-9982

    Verbum Eccles. (Online) vol.46 n.2 Pretoria Feb. 2025

    https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3280 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Die erediens as hart van missionale gemeentewees: Kinders en adolessente

     

    Worship as the heart of missional congregationalism: Children and adolescents

     

     

    Annelie Botha; Yolanda Dreyer

    Department of Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

    Correspondence

     

     


    ABSTRACT

    This article examines the role of worship services and liturgy in the faith formation of children and adolescents. The first section explores how young children's experience of God can be nurtured within a worship-like environment, as opposed to the 'teaching-and-learning' structure typically associated with 'Sunday school'. The Godly Play approach is considered as a viable and creative option. The second section addresses the faith formation of adolescents, emphasising the need for open communication between Scripture, the faith community, culture, and youth culture. This open dialogue is essential for adolescents to perceive worship services and liturgy as engaging and safe spaces that support the development and maturation of their faith. Effective communication involves both listening and speaking. Adolescents should not be confined to a passive listening role within the faith community. Their voices, language, and the way in which they experience perspectives on faith and the world can enrich the spiritual growth of all worshippers and contribute to the missional identity of the faith community as a whole.
    INTRADISCIPLINARY AND/OR INTERDISCIPLINARY IMPLICATIONS: In this way, all worshippers, regardless of age, can be inspired to become the best person they can be and contribute to making the world a better place. A life of worship need not be limited to the church building. Young people, who have a vested interest in the future of the planet and humanity, can express their faith through acts of service and social justice; thus bridging the gap between worship and discipleship.

    Keywords: worship; liturgy; children; Godly Play; adolescents; faith formation; faith community; youth culture.


     

     

    Inleiding1

    Hierdie navorsingsprojek het data ingesamel oor die geloofsontwikkeling van kinders en adolessente. Onderhoude is gevoer met leraars, kategete en adolessente. Die data wat in hierdie hoofstuk bespreek word, fokus op die bydrae van die erediens en liturgie tot kinders en adolessente se geloofsvorming.

    Die vraag aan die leraars en kategete was die volgende: 'Wat doen die gemeente om seker te maak dat kinders en adolessente ervaar dat hulle 'n wesenlike deel van die gemeente is en geleenthede het om by bediening in te skakel?' Reaksies het temas ingesluit soos die nagmaal, musiek en die opneem van offergawes. Aan adolessente is gevra: 'In watter mate het jy as kind en later as tiener geleenthede gehad om saam met ouer lidmate aan die gemeente se bedienings deel te neem?' Antwoorde het temas soos die gemeente se basaar, geleenthede om saam te eet, die insameling van offergawes en die nagmaal ingesluit.

    Een van die patrone wat uit die data na vore gekom het, is dat adolessente eers werklik hulle geloofsontwikkelingsreis as sinvol begin ervaar het in hulle sogenaamde belydenisjaar. 'n Rede vir die gebrek aan entoesiasme in die voorafgaande tydperk was dat hulle deur ouers gedwing en verplig is om die kategese by te woon. Ná belydenisaflegging het sommiges steeds by 'n gemeente betrokke gebly wanneer hulle die geleentheid gehad het om aktief aan die gemeente se bedienings te kon deelneem.

    Die groter navorsingsprobleem is dat die erediens nie prominent en positief uitstaan in die algehele geloofsontwikkeling van kinders en adolessente nie. Die erediens word dikwels nie so aangebied dat dit ervaar, geniet en benut word as 'n ruimte waar kinders en adolessente, as deel van 'n inklusiewe missionale geloofsgemeenskap, kan aanbid en leer dien nie; in so 'n mate dat hulle minder geneig is om deel van hierdie gemeenskap te wil bly.

    Een vraag aan die adolessente het spesifiek op hulle ervaring van geloofsvorming in die kinderjare gefokus. Daar is verskillende benaderings tot die geloofsontwikkeling van kinders in die vroeë kinderjare (ouderdom 2-6 jaar). In die eerste deel van hierdie artikel val die klem op klein kinders2 se ervaring van God, wat as alternatief kan dien vir die gedwonge en plig-gedrewe kategese. Die Godly Play-benadering word geïdentifiseer en bespreek as 'n effektiewe manier om klein kinders in hulle geloofsontwikkeling te begelei.3 Die tweede deel van die artikel fokus op adolessente en hulle geloofsvorming.4

     

    Geloofsontwikkeling en klein kinders

    Piaget5 en Kolhlberg6 se teorieë fokus grotendeels op kinders se kognitiewe ontwikkeling7 wat daartoe gelei het dat Christelike opvoeding (kategese) ook hoofsaaklik die kognitiewe leerervaring beklemtoon het eerder as om 'n holistiese benadering, wat die spiritualiteit van kinders in ag neem, te volg.8 Sommige opvoedkundige en ontwikkelingsielkunde-spesialiste, soos Ronald Goldman,9 het selfs aangevoer dat spiritualiteit geen rol in die lewe van (klein) kinders speel nie. Hoewel daar kritiek op hierdie uitgangspunt was,10 het dit steeds die manier waarop oor kinders se spiritualiteit gedink is, beïnvloed.

    Montessori, aan die ander kant, beskou spiritualiteit as 'n aangebore aspek van menswees.11 Daarom behoort die spirituele ontwikkeling van kinders in elke fase van hulle lewe die nodige aandag te geniet. Later het Fowler in sy werk oor die fases van geloofsontwikkeling by kinders en hoe dit hulle ervaring raak, verder gebou op hierdie perspektief.12 Hoewel daar sedertdien heelwat navorsing gedoen is oor kinders se spiritualiteit, bly dit, volgens Adams et. al., steeds onvoldoende.13 Die groot verskeidenheid sienings oor wat onder 'spiritualiteit' verstaan word, kompliseer die saak oor die spiritualiteit van kinders verder.14

    Spiritualiteit word hier verstaan as 'die geestelike lewe van die mens in verhouding met God'.15 In hulle werk, The spirit of the child,16 beskryf Hay en Nye dit as 'relational conciousness'.17 Rebecca Nye18 beskryf dit soos volg:

    It must be emphasized that superficial readings of the terms 'consciousness' or 'relationship' do not apply here. 'Consciousness' refers here to something more than being alert and mentally attentive Very often, the quality described here suggests a distinctively reflective consciousness This entailed some degree of awareness on the part of the child of the remarkable nature of his or her own mental activity in certain contexts.

    'Relational' was not applied in a narrow sense either. Its reference was not limited to family, friends or foes. In a broad section of the data the dual patterning included not only 'I-Others' but also 'I-Self', 'I-World' and 'I-God'.

    Volgens Hyde19 bevat spiritualiteit ook die dimensie van 'verbondenheid' [connectedness] met die self, die ander, die wêreld, en met God. Cavalletti20 voer aan dat kinders oor 'n 'spontaneous religiousness' beskik. In haar boek, Spontaneous activity in education, beskryf Montessori21 haar ervaring dat selfs kinders wat nie in godsdienstige huise grootgeword het en geen godsdiensonderrig ontvang het nie, steeds 'n bewussyn van en 'n bepaalde verhouding met God kan hê. Cavalletti22 beskryf 'n voorbeeld van 'n driejarige meisie wat sonder enige godsdienstige invloed grootgeword het. Dit illustreer iets van 'n aangebore spiritualiteit by kinders:

    One day she questioned her father about the origin of the world: 'Where does the world come from?' Her father replied, in a manner consistent with his ideas, with a discourse that was materialistic in nature; then he added: 'However, there are those who say that all this comes from a very powerful being, and they call him God.' At this point, the little girl began to run like a whirlwind around the room in a burst of joy and exclaimed: 'I knew what you told me wasn't true; it is Him, it is Him!'

    Volgens Cavalletti23 is dit tekenend van 'n diep verhouding met God wat nie van godsdiensonderrig afhanklik is nie. Die vroeë kinderjare is dus die tyd wanneer ontmoeting met God heeltemal spontaan kan gebeur. Kerke en geloofsgemeenskappe behoort dus ruimte te maak in die hulle programme, wat op die geloofsontwikkeling van kinders fokus, vir klein kinders se inherente liefde vir God en alles moontlik doen om hulle tuis te laat voel in die geloofsgemeenskap.24 Volgens Cavalletti vorm die ervarings in 'n kind se vroeë jare hulle lewe en geloof.25 Die Godly Play-benadering is een van die programme wat ruimte skep vir kinders se spontane spirituele geloofsontwikkeling, en verwondering oor God se teenwoordigheid by kinders aanmoedig.

    Godly Play

    In die trajek van Montessori en Sofia Cavalletti26 se benadering tot godsdienspedagogiek, het Jerome Berryman die Godly Play-benadering tot die spirituele begeleiding van jong kinders verder ontwikkel.27 Berryman beskryf Godly Play soos volg:

    Godly Play is the playing of a game that can awaken us to new ways of seeing ourselves as human beings. It is a way to discover our deep identity as Godly creatures, created in the image of God. Godly Play is a way to know God.28

    In Godly Play word Bybelverhale op 'n spesifieke manier aangebied met die oog daarop om die spiritualiteit van klein kinders te stimuleer. Die kinders word ingenooi in 'n spesiaal voorbereide vertrek waar 'n sleutelfiguur, die Storyteller, die verhaal vertel waarna die kinders luister.29 In hulle werk, Young children and God, beklemtoon Sonja Stewart en Jerome Berryman die doel hiervan, naamlik om 'n omgewing te skep waarin jong kinders God kan ontmoet en aanbid.30 Hulle beskryf dit as:

    [A] way that the children can grow in love for God and for one another. It uses a sensorimotor style of storytelling as a primary means of encountering God, so God is experienced, not just learned about.31

    Stewart en Berryman wys daarop dat 'n erediensruimte wat dikwels meer fokus op die kognitiewe aspek as op die ervaring van God se teenwoordigheid, minder bevorderlik is vir die geloofsvorming en spirituele ontwikkeling van kinders in die vroeë kinderjare.32 In die Godly Play-benadering word 'n aparte kamer ingerig, wat die ruimte word wat spesifiek vir die doel gebruik word. In die Goldly Play-sessie gaan dit oor meer as 'n spesifieke moment in die erediens waar kinders byvoorbeeld vorentoe geroep word om daar 'n kort boodskap te hoor.

    'n Godly Play-sessie verloop soos volg: Kinders word voorberei om vanuit die wêreld daarbuite oor die drumpel van die Godly Play-kamer te tree. Hulle word ingenooi deur nog 'n sleutelpersoon, die Doorperson [Deurwagter], wat vra: 'Is julle gereed?' Diegene wat gereed voel, tree oor die drumpel, terwyl diegene wat nog te bedrywig is met al die dinge daar buite, eers rustig moet raak voordat hulle kan binnegaan. Hierdie oorgang oor die drumpel is 'n liturgiese moment. Dit moet goed bestuur word, want 'om gereed te wees', is 'n belangrike aspek van die ontwikkeling van kinders se spiritualiteit.33

    In die Godly Play-kamer sit die kinders in 'n kring en die storieverteller bied die dag se les aan wat dikwels Ou-Testamentiese geloofsverhale is wat die identiteit van God se volk gevorm het, óf dit kan 'n gelykenis wees - verhale wat Jesus vertel het om 'n wêreldbeskouing van sy tyd uit te daag. Dit kan ook 'n liturgiese handeling wees wat op 'n liturgiese element soos die doop, of op iets wat deel uitmaak van die liturgiese jaar, soos byvoorbeeld Advent, gebaseer is. Die storieverteller gebruik visuele materiaal soos prentjies, figure wat op vilt of sand uitgepak word, asook simboliese objekte soos byvoorbeeld kerse.

    Ná die storie, volg 'n group wondering [groepverwondering]-sessie waarin die storieverteller die kinders nooi om saam te wonder oor die les. Daar is geen vooraf uitgewerkte of verwagte antwoorde nie. Dit is nie 'n 'vraag-en-antwoord'-sessie nie, maar 'n geleentheid vir die kinders en die storieverteller om spelenderwys by die inhoud van die les betrokke te raak. Waaroor die kinders wonder, hou verband met hulle eie lewenservaring, hulle verhouding met God en hulle belewenis van die les. Die storieverteller reageer nie op die spesifieke inhoud van die kinders se antwoorde nie, maar bevorder eerder die proses van verwondering.

    Hierna het die kinders die opsie om met 'n speletjie van hulle keuse voort te gaan. Dit word 'diep speel-werk' genoem.34 Hierdie keuse kan in reaksie op die les wees, of dit kan verband hou met ander gebeure in hulle lewe. Indien hulle verder gaan met die storie van die dag, kan hulle dit uitbeeld deur te teken, met klei, of met enige materiaal wat in die kamer beskikbaar is. Alternatiewelik kan hulle kies om met 'n storie wat hulle vantevore gehoor het se materiaal te speel. Die materiaal van vorige stories is in die vertrek verpak en volledig tot die kinders se beskikking.

    Na die 'diep speel-werk', neem hulle aan die fest [fees] deel waar iets te ete en te drinke aangebied word en wat dien as die afsluiting van die sessie. Die fees simboliseer die nagmaal en die gemeenskap van gelowiges wat die lewe van geloof vier deur saam aan te sit by die feesmaal van die lewe. Net soos die ander elemente van die proses, weerspieël dit iets van die patroon van die Christelike aanbidding en liturgie. Aan die einde van die fees berei die Doorperson [deurwagter] hulle weer voor om die Godly Play-vertrek te verlaat as simboliese wegsending en seën - 'n handeling wat die afsluiting van die Christelike liturgie weerspieël.

    Die Godly Play-benadering is ontwerp om kinders te help om die stories van die Bybel te benader as aktiewe soekers eerder as passiewe ontvangers.35 Volgens Stonehouse stimuleer Godly Play die soekende gees van kinders.36 Die benadering gaan van die standpunt uit dat kinders nie leë houers is wat met bybelse feite en teologiese konsepte gevul moet word nie, maar dat hulle reeds in die vroeë kinderjare besig is om hulle begrip van God se storie met hulle en ander te ontplooi en dit te integreer met hulle verstaan van die wêreld en wat hulle leer. Hulle gee self vorm aan hulle verstaan van God. Kinders is spirituele wesens wat uitreik na God en in staat is om te reageer op God se liefde vir hulle.

     

    Geloofsontwikkeling en adolessente

    Twee van die mees interessante en verrykende eredienste wat ek as volwassene meegemaak het, is beplan, voorberei en uitgevoer deur adolessente.

    Die eerste was 'n oggenderediens in 'n groot Presbiteriaanse gemeente in Princeton, Verenigde State van Amerika (VSA), naby die universiteit en die teologiese seminarie. Adolessente het die hele liturgie en die preek alleen behartig. Dit was 'n netjiese en kreatiewe liturgie. Die preek was uitstekend - met diepgang en relevante toepassing op die lewens van mense wat daagliks met allerlei vrae gekonfronteer word.

    Die tweede was 'n Bar Mitzvah in Johannesburg, Suid-Afrika. Die liturgie is deur 'n 16-jarige en twee volwassenes behartig. Die fokus was veral op die Hebreeuse Skriflesing wat hy self gedoen het, en op sy preek. Die preek het getuig van goeie eksegese met 'n relevante boodskap vir mense (en adolessente) vandag.

    By albei geleenthede het die volgende vrae by my opgekom: Indien dít is waartoe adolessente in staat is, waarom hoor ons so min van hulle in die erediens en liturgie? Indien hulle soveel het om by te dra, waarom kry hulle nie meer geleenthede nie? En indien hulle so konstruktief sou kon bydra tot God se werk in die wêreld - insluitend eredienste en liturgie - sou dit dan nie ook vir húlle meer beteken nie? Mense draai nie maklik die rug op iets wat vir hulle sinvol en van betekenis is nie.

    Missionale gemeentewees en die jeug

    Die taak van die geloofsgemeenskap is om dissipels te wees en dissipels te vorm. Dissipels is mense wat deel het aan die transformerende werk van God se Gees. Volgens Niemandt is dissipelskap in wese transformerend. Dit verander mense om die beste mens en Jesus-volgeling te wees wat hulle kan. Dit motiveer mense om met Godgegewe gawes, talente en vermoëns hulle deel te doen om die wêreld die beste plek te maak wat dit kan wees.37

    Kinders en adolessente het 'n bepaalde aandeel hierin. Hulle is ingelig oor wêreldgebeure en is bewus van bedreigings wat huidige tendense dwarsoor die wêreld vir hulle eie toekoms inhou. Vir Pillay gaan dit nie soseer oor wat die kerk vandag glo nie, maar oor wat die kerk doen om die samelewing en die wêreld sodanig te vorm dat daar geregtigheid en vrede heers.38 In teologiese taal gaan dit om die koninkryk van God te laat kom in die alledaagse lewe en wat die lewe in volheid moontlik maak sodat mense kan floreer.

    'n Goeie lewe en toekoms is ook kinders en adolessente se droom. Dit is dus 'n uitdaging vir die geloofsgemeenskap om, onder andere, te verseker dat kinders en adolessente ervaar (psigies-emosioneel-spiritueel) en insien (kognitief begryp) hoe die erediens en liturgie kan bydra om hierdie droom van en vir hulle te verwesenlik.

    Om hulle lewensdrome te verwesenlik, identifiseer kinders en adolessente dikwels met rolmodelle wat vir hulle as voorbeeld kan dien. Ritueel en geloofspraktyke kan daartoe bydra om hulle te oriënteer en rigting te gee aan hulle lewe.39 In die erediens en liturgie ontmoet hulle God en ervaar God se teenwoordigheid. Deur die ontmoeting kan hulle begin om die groter prentjie raak te sien. Hulle kan leer om verder te kyk as die tasbare werklikhede rondom hulle: die eindelose najaag van produksie en prestasie, die druk wat dit op mense plaas, die stres wat dit veroorsaak, die skade van oormatige stres, en hoe dit alles bydra tot die vernietiging van die omgewing wat kinders en adolessente se toekoms is. Die prediking het die doel dat mense,

    in die lig van God se wêreld (koninkryk) sal sien, en dat die gemeente ook in hierdie visie, hierdie uitsig op God se wêreld sal deel. Dis om jou wêreld nuut te sien, omdat God se nuwe wêreld in ons (ou) wêreld aangebreek het.40

    In sy 2019-boek, The millennial narrative: Sharing a good life with the next generation, beskryf die Suid-Afrikaans gebore praktiese teoloog, Jaco Hamman wat in die VSA woon en werk, kinders en adolessente se getuienis oor die lewe soos volg: Hulle leer ons dat verlies en trauma nie net ontken of geïgnoreer kan word nie; dat eensaamheid ondraaglik is; dat die vryheid om gemeensaamheid te ervaar in 'n veilige ruimte waar 'n mens dit kan waag om weerloos te wees, noodsaaklik is; dat 'n mens se spirituele lewe gekoester en uitgebou moet word; dat mense mede-verantwoordelikheid aanvaar vir en meewerk aan sosiale geregtigheid; dat kinders en adolessente 'n verskil wil maak in hierdie wêreld.41

    Erediens, liturgie en vorming: Identiteit en wêreldbeeld

    In die ontwikkelingsfase van adolessensie is adolessente in die proses om hulle identiteit en wêreldbeeld te vorm. 'n Groot verskeidenheid invloede dra hiertoe by. Die ontwikkelingstaak van individuasie of individuering - om as 'n eiesoortige mens wat verskil van ander, te ontwikkel - beteken egter nie 'isolasie' van ander nie. Inteendeel, individuasie vind in 'n meerdere of mindere mate in gemeenskap plaas.42 Die gemeenskap kan positief of negatief tot die proses van identiteitsvorming bydra.

    Binne die geloofsgemeenskap kan die erediens en liturgie 'n beduidende positiewe invloed wees. Die erediens geskied binne 'n gestruktureerde ruimte waar God ontmoet word, geloofsvorming plaasvind en die persoon tuis en veilig kan voel in 'n bepaalde gemeenskap.43 In die ontmoeting met God gaan dit nie net oor ontvang nie. Wanneer 'n gelowige se beker oorloop, vloei dit verder na missionale betrokkenheid en aksie.44

    Die rituele en tradisies wat tot uitdrukking kom in die liturgie, is 'n tasbare manier om die geloofsverhaal en die betekenis daarvan vir die mens se lewe holisties te ervaar. Die empiriese resultate van die ondersoek het getoon dat daar in die huidige Suid-Afrikaanse konteks besondere klem geplaas word op die kategese - onderrig en leer. Adolessente ervaar dan die aflê van geloofsbelydenis as 'n soort mylpaal wat bereik word, 'n taak wat afgehandel is. In die Afrikaanse kultuur is in die verlede daarna verwys as 'boerematriek'. Daarmee is die 'leerwerk' afgehandel, die dwang van die ouers se kant af verby, en is adolessente vry om hulle eie keuses te maak.

    Vandag is 'matriek' egter lankal nie meer dié mylpaal om te bereik om volwasse vryheid te bekom nie. Daar is verdere doelwitte en mylpale verdere studie, om hulle te bekwaam vir 'n beroep wat hulle lewe sinvol sal laat ontplooi, vir hulle 'n goeie lewenstandaard sal verseker en hulle in staat sal stel om werkgeleentheid te vind. Hulle bly dan in die gekose beroep groei en ontwikkel. Óf hulle ontdek dat die gekose beroep nie bevredigend is nie en verander van rigting. So 'n verandering verg opnuut weer opleiding, groei en ontwikkeling.45 Die lewenslange proses van groei en ontwikkeling, van tool and re-tool soos Engels dit bondig uitdruk, word aanvaar op alle terreine. Dit is so in die werkplek. Dit is so in die huwelik en gesinslewe. 'n 'Goeie lewe' gebeur nie net vanself nie.

    Vanuit 'n holistiese perspektief, word die welsyn van die totale mens beïnvloed deur die gehalte van ál die dele van menswees. Dit is dus onlogies om te dink dat één faset van menswees, die spirituele, 'klaar' gegroei en ontwikkel kan wees op 16 en verder 'vanself' sal kom. Die spirituele aspek is juis daardie faset van menswees wat 'n soort sambreel vorm oor alles: om die totaliteit van die lewenservaring holisties te integreer; om te help om sin en betekenis te vind in die lewe en die dinge van die lewe; om vanuit geesteskrag te kan funksioneer, ook wanneer dit nie altyd voorspoedig gaan nie.

    Rituele en tradisies wat tot uitdrukking kom in die liturgie kan 'n sleutelrol speel in hierdie sambreel-aspek van menswees. Dit gaan oor méér as studie, leer-en-onderrig, kennis van die verstand. Die titel van James Smith se bydrae in die tydskrif, Christianity Today, wat in 1956 gevestig is deur die bekende Billy Graham, sê dit onomwonde: 'You can't think your way to God.'46 Die liturgie in die erediens is dan 'n tasbare en beliggaamde manier om die geloofsverhaal en die betekenis daarvan vir 'n mens se lewe holisties te ervaar. Niemandt beklemtoon: deur nie net met die verstand daarvan te leer nie, maar ook met die liggaam deel te neem, kan kinders en adolessente die kernwaardes van die geloofsverhaal nie net met die verstand begryp nie, maar diep in hulle menswees internaliseer.47

    'Ervaring' is hier 'n kernbegrip. Die hele mens is betrokke by ervaring. Vir kinders en adolessente is dit van groot belang om deel te neem aan die erediens en die liturgie te ervaar. Wat deelname betref, was die empiriese resultate van die ondersoek grootliks beperk tot 'kollekte opneem' en 'nagmaal'. Deelname kan egter heelwat verder gevoer word. Dit kan onder andere kontemporêre musiek en interaktiewe elemente in die erediens insluit. Op verskeie maniere, ook deur middel van prediking en liturgie, kan hulle gestimuleer word om betrokke te raak by eietydse kwessies waarmee hulle kan identifiseer.48

    Erediens, liturgie en identiteitsvorming: Gemeenskap

    Gemeensaamheid en om te behoort tot 'n gemeenskap waar hulle liefde, respek, aanvaarding en 'n veilige ruimte ervaar, bied die mees konstruktiewe omgewing om 'n stewig geankerde identiteit te vorm.49 Families en gesinne, portuurgroepe op skool of mede-studente bied nie noodwendig altyd 'n veilige ruimte vir kinders en adolessente nie. Niemandt beklemtoon dat die geloofsgemeenskap en in die besonder die liturgiese ruimte, kinders en adolessente 'n gevoel van geborgenheid kan laat ervaar - om diepgaande te weet en te voel dat hulle êrens behoort.50 Hamman verwys na die betekenis van die Nederlandse woord 'verbond' - letterlik 'lewegewende gemeenskap'.51 Gelowiges word geroep tot hierdie soort gemeenskap met God en mekaar. In ontmoeting met God in die erediens word die band versterk en die lewegewende energie ontvang.

    Missionale identiteit

    Missionale teologie omskryf gelowiges se roeping en deelname aan God se betrokkenheid in die wêreldgeskiedenis.52 Dit is 'n ryk en veelkantige roeping. Flemming beklemtoon dat dit nie soseer gaan oor wat mense doen nie, maar oor wie hulle is - hulle missionale identiteit.53 Dit gaan oor hoe hulle die missie van God in hierdie wêreld beliggaam - hoe hulle die goeie nuus van die evangelie prakties uitleef. Volgens Wright is die doel nie om mense te 'oortuig' nie, maar om 'n leefstyl te skep wat ander na God aantrek. Dit is 'n leefwyse wat geregtigheid bevorder, opstaan teen onderdrukking en bydra tot die welsyn van mens en skepping.54

    Liefde vir God is die motivering vir 'n lewe en optrede wat goeie vrugte dra vir die self en ander. Êrens moet die saadjie geplant en met sorg gekweek word. Die goeie nuus van die evangelieboodskap moet grondvat in hulle konteks en mense se harte raak. Mense leef in gemeenskappe, met 'n gemeenskaplike taal en gemeenskaplike maniere om hulle ekonomiese en sosiale lewe in te rig. Gemeenskappe het 'n gedeelde siening oor hoe om sin te maak van die wêreld en dinge van die lewe. 'n Gedeelde taal en verwysingsraamwerk is nodig vir hulle om te kan kommunikeer. In kommunikasie speel gedeelde simbole en simboliese betekenisse 'n rol. Volgens Newbigin kan net wat in taal gekommunikeer word en wat beliggaam word in mense se konkrete bestaan in hulle spesifieke konteks, werklik 'n invloed hê op hulle menswees.55 Die geloofservaring van ontmoeting met God deur die simboliese betekenisse wat beliggaam word in die liturgie, kan daartoe bydra om mense toe te rus om te kan onderskei wat in hulle kultuur goed en lewegewend is en wat nie.56 Dit kan hulle inspireer om die negatiewe kragte in die kultuur, soos onreg, geweld en onderdrukking, aktief teen te werk.

    Die evangelie kan op verskillende maniere in verskillende kultuurkontekste uitgeleef word.57 Ninian Smart gebruik die beeld van 'n kaleidoskoop: 'Christianity is not a single thing, but a kaleidoscope of different lived interpretations of faith'.58 In die Christelike tradisie is daar 'n verskeidenheid maniere van doen as dit kom by die erediens en liturgie. Selfs binne dieselfde gemeentekonteks in dieselfde gelooftradisie sal mense van mekaar verskil oor bepaalde maniere van dink en doen. Wat dan eerstens belangrik is, is dat die manier waarop mense met hierdie verskille omgaan, nie teenstrydig met die gees van die evangelie sal wees nie.59 Anders word die geloofsgemeenskap en alles waarvoor hulle staan, ongeloofwaardig en kan dit vir niemand 'n veilige ruimte bied nie. Met betrekking tot verskille, behoort soepelheid en ruimhartigheid kenmerkend te wees van 'n geloofsgemeenskap wat die gees van die evangelie uitleef. 'n Rigiede houding van mense met die mag om besluite te neem en wat sorg dat hulle in alles hulle sin kry, tas eweneens die geloofwaardigheid van die geloofsgemeenskap aan.

    Adolessente vorm 'n soort subkultuur binne die geloofsgemeenskap. Omdat hulle hulle in die lewensfase van leer, vorming, groei en ontwikkeling bevind, is hulle in 'n sekere opsig die 'ontvanger-kultuur'. Vanuit 'n missionale perspektief, vra die voorleef en uitleef van die evangelie met die doel om mense aan te trek tot die boodskap en leefwyse, 'n besondere sensitiwiteit vir die ontvanger-kultuur.60 Hulle reaksies en response verskaf insig oor hulle denke en gevoel. Voortgesette oop kommunikasie tussen die Skrif, die geloofsgemeenskap en die jeugkultuur is nodig om 'n veilige ruimte vir geloofsgroei en -ontwikkeling in die gemeenskap, erediens en liturgie vir die jeug te bied.

    Die dominante kultuur kan ook by so 'n benadering baat. Newbigin beklemtoon dat die geloofsgemeenskap se kultuur-gekondisioneerde interpretasies van dinge soos die Skrif, liturgie, erediens en maniere van doen in die kerk, net uitgedaag en krities geëvalueer word indien daar 'n bereidheid is om na ánder stemme te luister.61 Dan word 'n gebalanseerde benadering en praktyk moontlik. Die eie kultuur kan getrou bewaar word en kan terselfdertyd krities ondersoek en geëvalueer word.

    Indien die erediens die hart wil wees van missionale kerkwees en kinders en adolessente volledig wil insluit, kan dit nie gaan oor die terugkeer na ou maniere van doen aan die een kant, óf aan die ander kant om eietydse praktyke gewoon onkrities te aanvaar en te inkorporeer nie. Om die evangelie op 'n relevante manier te kommunikeer en voor te leef, is dit nodig om die jeugkultuur te verstaan en effektief in die 'taal' van daardie kultuur te kommunikeer. Kommunikasie dui op beide funksies: luister én praat. Die taal van kinders en adolessente is vandag in 'n groot mate die taal van die populêre kultuur. Die gedeelde ervaring van 'n generasie dra aktief by tot hulle vorming en hoe hulle betekenis toeken aan wat hulle ervaar.62

    Die ideaal is dan dat die erediensvorm getrou sal wees aan die evangelieboodskap, verryk deur die geskiedenis van die geloofstradisie en tot die geestelike vorming en verryking van ál die erediensgangers sal bydra. So kan die geloofsgemeenskap se missionale identiteit verwesenlik word. So word ander geïnspireer om die beste mense te wees wat hulle kan en by te dra om die wêreld die beste plek te maak wat dit kan wees.

    Ruth Meyers meen dat aanbidding en liturgie nie tot die kerkgebou beperk hoef te bly nie. Kinders en adolessente wat hulle plek in die wêreld soek met 'n visie vir hulle eie toekoms en dié van die planeet, kan hulle geloof uitdruk en uitleef deur deel te neem aan diensprojekte en sosiale geregtigheidsinisiatiewe. So word 'n brug gebou tussen God aanbid (erediens en liturgie) en God se gestuurdes wees in die wêreld (missionale dissipelskap).63

     

    Erkennings

    Mededingende belange

    Die outeurs verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op 'n onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

    Outeursbydrae

    Beide outeurs, A.B. en Y.D., het in gelyke mate bygedra tot hierdie navorsingsartikel.

    Etiese oorwegings

    Etiese goedkeuring vir die uitvoering van die studie is verkry van die Navorsingskantoor, Fakulteit Teologie en Godsdiens, Universiteit Pretoria. Die etiese goedkeuringsnommer is T111/22.

    Befondsingsinligting

    Die outeurs bevestig dat geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang is nie.

    Databeskikbaarheidsverklaring

    Die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, is openlik beskikbaar in Universiteit van Pretoria navorsingsdata by https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1.

    Vrywaring

    Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeurs is alleen verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

     

    References

    Adams, K., Bull, R. & Maynes, M., 2016, 'Early childhood spirituality in education: Towards an understanding of the distinctive features of young children's spirituality', European Early Childhood Education Research Journal 24(5), 760-774. https://doi.org/10.1080/1350293X.2014.996425        [ Links ]

    Beaudoin, T., 1998, Virtual faith: The irreverend spiritual quest of Generation X, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

    Berryman, J.W., 1991, Godly Play: A way of religious education, HarperSanFrancisco, San Francisco, CA.         [ Links ]

    Berryman, J.W., 2002, The complete guide to Godly Play, vol. 1, Living the Good News, Denver, CO.         [ Links ]

    Bunge, M.J. (red.), 2001, The child in Christian thought, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Burns, S., 2015, Pastoral theology for public ministry, Seabury, New York, NY.         [ Links ]

    Cavalletti, S., [1983] 2020, The religious potential of the child: Experiencing scripture and liturgy with young children, Catechesis of the Good Shepherd Publications, Scottsdale, AZ.         [ Links ]

    Cilliers, J., 1998, Die uitwysing van God op die kansel: Inspirerende perspektiewe op die prediking - om God te sien en ander te láát sien, Lux Verbi, Kaapstad.         [ Links ]

    Dakin, T., 2008, 'Discipleship: Marked for mission', in A. Walls & C. Ross (reds.), Mission in the twenty-first century: Exploring the five marks of global mission, pp. 175-191, Orbis, Maryknoll, NY.         [ Links ]

    Dreyer, T.F.J., 1998, 'Spiritualiteit, identiteit en die etos van die Nederduitsch Hervormde Kerk', HTS Theological Studies 54(1&2), 289-314. https://doi.org/10.4102/hts.v54i1/2.1409        [ Links ]

    Egli, R.J. & Myers, J., 2021, 'Playfully forming disciples', in C. Seibel (ed.), Engage all generations. A strategic toolkit for creating intergenerational faith communities, pp. 91-100, Abilene Christian University Press, Abilene, TX.         [ Links ]

    Flemming, D.E., 2013, Recovering the full mission of God: A Biblical perspective on being, doing, and telling, IVP Academic, Downers Grove, IL.         [ Links ]

    Fowler, J.W., 1981, Stages of faith: The psychology of human development and the quest for meaning, Harper & Row, San Francisco, CA.         [ Links ]

    Giesenberg, A., 2000, 'Spiritual development and young children', European Early Childhood Education Research Journal 8(2), 23-37. https://doi.org/10.1080/13502930085208551        [ Links ]

    Goldman, R., 1964, Religious thinking form childhood to adolescence, Routledge & Kegan Paul, London.         [ Links ]

    Hamman, J.J., 2019, The millennial narrative: Sharing a good life with the next generation, Abingdon, Nashville, TN.         [ Links ]

    Hay, D. & Nye, R., 1998, The spirit of the child, Fount, London.         [ Links ]

    Hyde, B., 2010, 'Godly Play nourishing children's spirituality: A case study', Religious Education 105(5), 504-518. https://doi.org/10.1080/00344087.2010.516215        [ Links ]

    Hyde, K., 1968, 'The critique of Goldman's research', Religious Education 63, 429-435. https://doi.org/10.1080/0034408680630604        [ Links ]

    Jacober, A.E., 2011, The adolescent journey: An interdisciplinary approach to practical youth ministry, IVP Books, Downers Grove, IL.         [ Links ]

    Kohlberg, L., 1966, 'A cognitive-development analysis of children's sex-role concepts and attitudes', in E.E. Maccoby (red.), The development of sex differences, pp. 82-173, Stanford University Press, Stanford, CA.         [ Links ]

    Kreider, A., 2016, The patient ferment of the Early Church: The improbable rise of Christianity in the Roman Empire, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Langdon, A.A., 1969, 'A critical examination of Dr Goldman's research study on religious thinking form childhood to adolescence', Journal of Christian Education 12, 37-63. https://doi.org/10.1177/002196576901200104        [ Links ]

    Louw, D. & Louw, A., 2022, Child and adolescent development, ABC Press, Cape Town.         [ Links ]

    Matthee, N., 2023, UP Navorsingsprojek: Geloofsontwikkeling (Kategetiek) Data, Ongepubliseerde verslag, https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1        [ Links ]

    Meyers, R.A., 2014, Missional worship, worshipful mission: Gathering as God's people, going out in God's name, Eerdmans, Grand Rapids, MI. (The Calvin Institute of Christian Worship Liturgical Studies.         [ Links ])

    Montessori, M., 1949, The absorbent mind, Clio Press, Oxford.         [ Links ]

    Montessori, M., 1970, Spontaneous activity in education, transl. F. Simmonds, Schocken Books, New York, NY.         [ Links ]

    Nel, M., 2018, Youth ministry. An inclusive missional approach, Aosis, Durbanville, SA.         [ Links ]

    Newbigin, L., 1989, The gospel in a pluralist society, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Niemandt, N., 2019, Missional leadership, AOSIS, Cape Town. (HTS Religion and Society Series, Vol 7.         [ Links ])

    Piaget, J., 1952, The origins of intelligence in children, International University Press, New York, NY.         [ Links ]

    Pillay, J., 2017, 'The church as a transformation and change agent', HTS Theological Studies 73(3), 4352. https://doi.org/10.4102/hts.v73i3.4352        [ Links ]

    Roberts, J., 2021, 'Godly Play in intergenerational ministry', in C. Seibel (ed.), Engage all generations. A strategic toolkit for creating intergenerational faith communities, pp. 75-82, Abilene Christian University Press, Abilene, TX.         [ Links ]

    Root, A., 2007, Revisiting relational youth ministry: From a strategy of influence to a theology of incarnation, IVP Books, Downers Grove, IL.         [ Links ]

    Root, A., 2013, The relational pastor: Sharing in Christ by sharing ourselves, InterVarsity Press, Westmont, IL.         [ Links ]

    Root, A., 2020, The end of youth ministry, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Schoon, C.J., 2018, Cultivating an evangelistic character: Integrating worship and discipleship in the Missional Church Movement, Wipf & Stock, Eugene, OR.         [ Links ]

    Smart, N., 1969, The religious experience of mankind, Charles Scribner's Sons, New York, NY.         [ Links ]

    Smith, J.K.A., 2009, Desiring the kingdom: Worship, worldview, and cultural formation, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Cultural Liturgies.         [ Links ])

    Smith, J.K.A., 2013a, Imagining the kingdom: How worship works, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Cultural Liturgies.         [ Links ])

    Smith, J.K.A., 2013b, 'You can't think your way to God', Christianity Today, viewed 24 July 2024, from http://www.christianitytoday.com/ct/2013/may/you-cant-think-your-way-togod.html.         [ Links ]

    Smith, J.K.A., 2017, Awaiting the King: Reforming public theology, Baker Academic, Grand Rapids, MI. (Cultural Liturgies.         [ Links ])

    Stewart, S.M. & Berryman, J.W., 1989, Young children and worship, Westminster/John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

    Stonehouse, C., 2001, 'Knowing God in childhood: A study of Godly Play and the spirituality of children', Christian Education Journal 5, 27-45.         [ Links ]

    Wright, C.J.H., 2010, The mission of God's people: A Biblical theology of the church's mission, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

     

     

    Correspondence:
    Yolanda Dreyer
    yolanda.dreyer@up.ac.za

    Received: 19 Aug. 2024
    Accepted: 03 Oct. 2024
    Published: 27 Feb. 2025

     

     

    Note: Special Collection: The manuscript is a contribution to the themed collection titled 'Geloofsreis. Inwyding, Begeleiding en Onderskeiding nuut ontdek' under the expert guidance of guest editor Prof. Malan Nel.
    1. Hierdie artikel is die sesde in 'n reeks van 10 in hierdie Supplementum. Soos die ander, is ook hierdie artikel 'n teologiese refleksie op 'n konsep wat uit die analise van 123 kwalitatiewe onderhoude kom. Die onderhoude was deel van 'n empiriese navorsingsprojek oor geloofsontwikkeling of kategese waaraan vier Afrikaanssprekende denominasies binne die Reformatoriese tradisie deelgeneem het.
    2. Dr Annelie Botha, Praktiese Teoloog met kinderpastoraat as een van haar spesialiteitsrigtings, is verantwoordelik vir die eerste deel van die artikel wat fokus op klein kinders, ouderdom van 2-6 jaar, wat bekend staan as die 'vroeë kinderjare' (kyk Louw & Louw 2022:207).
    3. Kyk Cavalletti ([1983] 2020); Berryman (1991).
    4. Prof. Yolanda Dreyer, Praktiese Teoloog met pastoraat as spesialiteitsrigting, is verantwoordelik vir die tweede deel van die artikel wat op adolessente fokus.
    5. Piaget (1952).
    6. Kohlberg (1966).
    7. Louw en Louw (2022:155, 190).
    8. Stonehouse (2001:28).
    9. Kyk Goldman (1964).
    10. Kyk Hyde (1968:429-435); Langdon (1969:37-63).
    11. Montessori (1949).
    12. Fowler (1981).
    13. Adams, Bull en Maynes (2016:761).
    14. Kyk Giesenberg (2000:24-25); Adams et al. (2016:761-763).
    15. Dreyer (1998:293).
    16. Hay en Nye (1998).
    17. Hay en Nye (1998:113).
    18. Hay en Nye (1998:113-114).
    19. Kyk Hyde (2010:506).
    20. Cavalletti (2020:40).
    21. Montessori (1970:351-352).
    22. Cavalletti (2020:41-42).
    23. Cavalletti (2020:42).
    24. Vergelyk Bunge (2001:4); vgl. ook Nel (2018:65-73, 293-305); Root (2007).
    25. Cavalletti (2020:33).
    26. Cavalletti, (2020).
    27. Berryman (1991:vii).
    28. Berryman (1991:7; vgl. ook Roberts 2021:75-82).
    29. Berryman (1991).
    30. Stewart en Berryman (1989:14).
    31. Stewart en Berryman (1989:14).
    32. Stewart en Berryman (1989:15).
    33. Kyk Berryman (2002).
    34. Berryman (2002:56).
    35. Stonehouse (2001:39).
    36. Stonehouse (2001:41).
    37. Niemandt (2019:45; vgl. ook Nel 2018:22-40, 329-332 vir 'n trinitariese motivering vir 'n inklusiewe missionale benadering, dissipelskap en dissipelering).
    38. Pillay (2017).
    39. Niemandt (2019:52).
    40. Cilliers (1998:17 [kursief in die oorspronklike]; kyk Smith 2009; 2013a; 2017).
    41. Hamman (2019:ix).
    42. Jacober (2011:152).
    43. Burns (2015).
    44. Meyers (2014).
    45. Vergelyk Artikel 2 in hierdie bundel vir die verstaan van 'roetemerkers' op die lewenslange reis.
    46. Smith (2013b).
    47. Niemandt (2019; vgl. ook die verstaan van die wese van die didache in artikel 1 van hierdie bundel).
    48. Schoon (2018).
    49. Root (2013; 2020).
    50. Niemandt (2019).
    51. Hamman (2019:65).
    52. Wright (2010:23).
    53. Flemming (2013:14-15).
    54. Wright (2010:129).
    55. Newbigin (1989:145).
    56. Kreider (2016:97).
    57. Dakin (2008:177).
    58. Smart (1969).
    59. Newbigin (1989:148).
    60. Kreider (2016:98; vgl. ook Nel 2018:121-154).
    61. Newbigin (1989:197).
    62. Beaudoin (1998).
    63. Meyers (2014; vgl. ook Egli & Myers 2021:91-100).