Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Verbum et Ecclesia
On-line version ISSN 2074-7705Print version ISSN 1609-9982
Verbum Eccles. (Online) vol.46 n.2 Pretoria Feb. 2025
https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3311
ORIGINAL RESEARCH
Herbesoek en herontwikkeling van leermateriaal en kurrikulum vir geloofsvorming
Revisiting and redeveloping learning materials and curriculum for faith formation
Jacques W. Beukes
Department of Christian Spirituality, School of Humanities, College of Human Sciences, University of South Africa, Pretoria, South Africa
ABSTRACT
Amidst the bustling activity of various congregations and denominations, the junior and senior catechism curriculum often proceeds without deliberate design. As a result, insufficient attention is given to the structure and potential shortcomings of programmes aimed at fostering faith formation among young individuals. This oversight can lead to young people disengaging from the church - a phenomenon often referred to as 'dropout' [uitval]. This issue presents a significant challenge and source of frustration for many denominations, particularly those within the Reformed family of churches. In the context of this study, 'dropout' describes the cessation of participation in congregational activities typically following the completion of the catechisation process. Empirical research conducted to explore this issue, underscores the crucial role of well-designed educational resources in supporting faith formation to address or gain a deeper understanding of young people and addressing premature church disengagement. Using questionnaires, pastors, catechists, and adolescents shared their perspectives, unanimously emphasising the importance of effective study materials in nurturing faith and shaping disciples.
INTRADISCIPLINARY/INTERDISCIPLINARY IMPLICATIONS: This article seeks to highlight the significance of a carefully designed and developed educational resource or syllabus in promoting faith formation among young people.
Keywords: Dropout; uitval; youth; adolescence; children; catechism; learning material; curriculum; faith formation; spiritual route markers; reformed churches; congregations.
Inleiding1
Te midde van die dinamiese aktiwiteite van verskeie kerke (denominasies en gemeentes) vind die ontwikkeling van die kurrikulum dikwels spontaan en sonder doelbewuste beplanning plaas. Kinders en adolessente2 neem aktief deel aan sekere aspekte van gemeente-aktiwiteite, en daar word verwag dat hulle betrokkenheid positiewe uitkomste sal hê. Programleiers (kategete of instrukteurs) kies kurrikulêre hulpbronne volgens hulle eie voorkeur, met die hoop dat hierdie bronne genotvol of betekenisvol ervaar sal word. Sommige kategete verkies egter om hulle eie programme te ontwikkel, wat op die lang duur uitdagings skep in die keuse van relevante inhoud en die ontwerp van waardevolle leeroefeninge vir spesifieke ouderdomsgroepe. Onvoldoende aandag word dikwels geskenk aan die integrasie en moontlike tekortkomings in programme wat vir jongmense ontwerp is, wat bydra tot die sogenaamde 'uitval'-uitdaging waar adolessente die gemeente verlaat.
Vir baie gereformeerde kerke is die 'uitval'-uitdaging 'n groot bekommernis. In die konteks van hierdie studie verwys 'uitval', soos beskryf deur respondente in hierdie empiriese navorsingsprojek, na die punt waar adolessente ophou om aktief deel van die gemeente te wees ná die voltooiing van die katkisasieproses en hulle bevestiging as nuwe lidmate. Kategete het ook genoem dat 'uitval' dikwels voorkom wanneer adolessente nie meer eredienste bywoon of aan gemeentelike aktiwiteite deelneem nie. In sommige gevalle beskou hulle 'uitval' as 'n natuurlike proses wat plaasvind wanneer jongmense universiteit toe gaan of uit hulle tuisgemeentes verhuis.
Die belangrikheid van toepaslike leermateriaal in die geloofsvormingsproses is bevestig deur die empiriese navorsing wat uitgevoer is om die 'uitval'-uitdaging te ondersoek. Vrae is aan leraars, kategete en adolessente gestel, en elke groep het bevestig dat leermateriaal 'n kernbehoefte is in die geloofsvorming en dissipelmakingsproses onder adolessente.
Die navorsingsvraag wat in hierdie spesifieke artikel in hierdie reeks ondersoek word, is die volgende: Hoe kan 'n herontwikkelde, holistiese kurrikulum gereformeerde gemeentes help om die 'uitval'-uitdaging te hanteer? Hierdie navorsing beklemtoon dus die noodsaaklikheid van noukeurig beplande en ontwikkelde leermateriaal of kurrikulums vir die bevordering van geloofsvorming onder kinders en adolessente.
Sondagskool- of katkisasie leermateriaal: Waarom is dit belangrik?
Die Suid-Afrikaanse kinderteoloog, Jan Grobbelaar,3 stel 'n fundamentele en diepgaande vraag: Hoe beskou of definieer ons kinders? En, nog belangriker, bevestig ons siening van kinders hulle godgegewe waardigheid? Beskou wetgewers, beleidmakers, die kerk (denominasies en gemeentes) en verskillende instansies wat kinders bedien, akademici wat navorsing doen, en die samelewings waarin hulle leef, kinders as waardige mense wat deur God geskep is? Alhoewel Grobbelaar sy kritiese beoordeling hoofsaaklik op kinders rig, geld hierdie vraag ook vir adolessente. In die konteks van hierdie artikel word daarom op kinders sowel as adolessente gefokus.
Nader aan onsself moet ons dus vra: Bevestig die manier waarop ons as Christene adolessente en kinders in ons daaglikse lewe sien hulle godgegewe waardigheid? Die rede vir hierdie vraag is dat ons siening van adolessente en kinders direk bepaal hoe ons hulle hanteer. Die implikasie is dat al ons praktyke rakende adolessente en kinders altyd gevorm word deur die manier waarop ons oor hulle dink. Wanneer volwassenes nie adolessente en kinders as menswaardig beskou nie, loop laasgenoemde die risiko om uitgebuit en verneder te word.4
Hierdie besinning lei tot 'n verdere vraag: Wat sê ons leermateriaal oor die menswaardigheid van adolessente en kinders? Hoe dra kategese as roetemerker op hierdie pad van geloofsvorming by tot die menswaardigheid van kinders en adolessente?
Die vraag oor ons siening van kinders is nie slegs akademies nie; dit raak elke aspek van die daaglikse lewe. Ons beskouing van kinders beïnvloed hoe ons teenoor hulle optree. Daarom behoort elkeen hom- of haarself te vra: Bevestig die manier waarop ek oor kinders en adolessente dink, met hulle praat, teenoor hulle optree, wat ek van hulle verwag, en hoe ek hulle lei, hulle godgegewe waardigheid? Onder die invloed van sielkundige en opvoedkundige ontwikkelingsteorieë neig baie volwassenes daarna om kinders (en soms adolessente) as onvolledige, minder ontwikkelde persone te beskou wat eers in die toekoms volwaardige mense sal word.5 Hierdie persepsie ontken die huidige potensiaal van kinders en adolessente. Wanneer jongmense slegs waardeer word vir hulle moontlike toekomstige bydrae, word hulle huidige waarde as lede van die geloofsgemeenskap misken.6
Dit onderstreep die noodsaaklikheid van gepaste 'n kurrikulum en leermateriaal, wat nie net tot hulle geloofsvorming bydra nie, maar ook hulle menswaardigheid en godgegewe waardigheid bevestig.
Sondagskool en katkisasiemodel
Ward7 bied 'n waardevolle vertrekpunt vir die oorweging van geloofsvorming onder kinders en adolessente. Hy meen dat ware Christelike jeugbediening die kern van die evangelieverhaal moet weerspieël. Ons is geroep om die evangelie in woorde en dade te verkondig op maniere wat vir die jeug verstaanbaar is. Die evangelieverhaal is gegrond op God, wat gister, vandag en vir altyd dieselfde bly. Tog moet hierdie onveranderlike boodskap in elke geslag opnuut verkondig word. Ons taak is om binne die unieke ingesteldheid en subkultuur van spesifieke groepe kinders en adolessente 'n plek te vind waar hierdie verhaal lewe kan kry. Die evangelie moet dus geïnkarneer word in die taal, lewenstyl en uitdrukkings van kinders en adolessente, sodat dit hulle lewens en gemeenskappe kan seën, transformeer en verlos. Vir sommige kinders en adolessente begin die soeke na God by die sorg en liefde wat hulle van mense in jeugbediening en die geloofsgemeenskap ervaar.
Ons word geroep om die verhaal van God te vertel - 'n God wat verhoudings soek, wat kinders en adolessente uitnooi tot aanbidding en diens in sy naam. Vir sekere groepe kinders en adolessente begin jeugbediening met die vertel van hierdie verhaal. Hierdie narratief word egter versterk deur die getroue voorbeeld van persone in die jeugbediening, wat as mentors en rolmodelle optree op die pad van dissipelskap. Jeugbediening word gevorm deur ons eie ervaring van God wat ons tot sending roep. Ons doel as Christene is om die evangelieverhaal oor te dra.8 Die vraag bly egter: Vanuit watter perspektief vertel ons die storie? En watter hulpbronne of boeke gebruik ons om hierdie storie te deel?
Kurrikulum: 'n Kort historiese ekspedisie9
Die term 'kurrikulum' is afgelei van die Latynse woord currere, wat ''n kursus wat gevolg moet word' beteken. 'n Kurrikulum kan dus gesien word as 'n reis wat saam onderneem word.10 Harris11 beskou kurrikulum binne 'n kerklike konteks as die hele verloop van die gemeente se lewe. Net so beweer Carr12 dat Christene deur die alledaagse lewe van die gemeente gevorm word, met die gemeente se lewe as sy kurrikulum. Ward,13 daarenteen, definieer kurrikulum as iets wat tussen mense gebeur binne die leeromgewing. Dit is duidelik dat 'kurrikulum' 'n verskeidenheid interpretasies het. Volgens Harris14 en Carr15 beklemtoon kurrikulum die ervarings in die geloofsgemeenskap. Kurrikulum kan ook verwys na aktiwiteite wat doelbewus ontwerp is om die geloof van kinders en adolessente te koester, terwyl Ward se visie ervaringsleer insluit en ook die belangrikheid van beplande sowel as onbeplande interaksies in ag neem.16
Kort ná die stigting van Sondagskool17 in 1780 het dit duidelik geword dat onderwysers ondersteuning nodig het.18 In 1803 is die Sondagskoolunie in Londen gestig, en teen 1805 het dit begin om kurrikulumhulpbronne te publiseer, insluitend onderwysersgidse, 'n katkisasie in Bybeltekste, 'n lys Bybelverse, 'n leesboek, liedboeke, en in 1813, die tydskrif vir Sondagskoolonderwysers. Dit gee 'n blik op die belangrikheid en motiverings wat tot kurrikulumontwikkeling vir Christelike Onderwys gelei het. In Amerika het Sondagskole teen 1785 vinnig posgevat. Van 1790 tot 1815 was die kategese die primêre hulpbron vir godsdiensonderrig. Dit was 'n stel vrae en antwoorde om kinders, adolessente en nuwe Christene die basiese beginsels van die Christelike geloof te leer. Destyds was Bybels nie wyd beskikbaar nie, aangesien die Amerikaanse Bybelgenootskap eers in 1816 gestig is. Daar was egter steeds geen stelsel vir Bybelstudie in die Sondagskool nie. Sondagskoolleiers het besef dat onderwysers 'n kurrikulumplan nodig het.19 In 1872 is 'n komitee saamgestel om lesplanne te ontwikkel waarmee die hele Bybel binne sewe jaar bestudeer kon word.20 Die eerste kurrikulum het eenvormige lesse ingesluit, waardeur jongmense van alle ouderdomme elke week dieselfde Skrifgedeelte behandel het. Hierdie lesse is binne drie jaar deur twee miljoen mense in 19 lande gebruik, en teen 1895 het die getal tot 17 miljoen gestyg. Uiteraard het die leiding wat deur hierdie kurrikulumbronne aangebied is, groot sukses behaal. Dit het egter duidelik geword dat kinders en adolessente dikwels nie optimaal deur 'n eenvormige kurrikulumbenadering gedien is nie. Dit het gelei tot die ontwikkeling van gegradeerde Sondagskoolkurrikulums, wat die unieke vermoëns en ervarings van verskillende ouderdomsgroepe in ag geneem het.
Hierdie gegradeerde kurrikulums het in die vroeë jare van die vorige eeu ontstaan en het vinnig in verskillende denominasies versprei.21 Dean en Foster22 het hierdie beweging beskryf as 'n mede-opvoedkundige, interkerklike, veelrassige en internasionale Christelike 'jeugklub'-model wat deur hoofstroomdenominasies nagevolg is. Hierdie beweging was gerig op die beskerming van landelike en kleindorpse jeug teen stedelike invloede. Dit het jongmense aangemoedig om die Christelike gedrag te beoefen en hulle voorberei om volwaardige lidmate van die kerk te word.23
Tog het sommige gemeentes, wat die liberale teologie van daardie tyd verwerp het, ook hierdie gegradeerde hulpbronne afgewys weens hulle teologiese inhoud. Vir hierdie gemeentes het die teologiese korrektheid van kurrikulums voorrang geniet. Sedertdien het nuwe kurrikulumontwikkeling dikwels as reaksie op spesifieke behoeftes ontstaan.24
Met hierdie geskiedkundige agtergrond in gedagte, is verdere navorsing nodig oor die kurrikula en leermateriaal van gereformeerde denominasies in Suid-Afrika. Hoewel hierdie projek nie die volle omvang van kurrikulumontwikkeling oor die jare kan dek nie, het dit deur empiriese navorsing, wat leraars, kategete en adolessente insluit, probeer om insigte oor hierdie belangrike aspek van geloofsvorming te verkry.
Navorsingsprobleem en navorsingsbevindings25
Die navorsingsprojek, -probleem, -doel en -bevindings word breedvoerig in artikel 1 van hierdie bundel verduidelik. Hoewel hierdie artikel deel vorm van die groter navorsingsprojek, fokus dit op die volgende navorsingsvraag: Hoe kan 'n herontwikkelde holistiese kurrikulum vir gereformeerde gemeentes help om, onder andere, die 'uitval'-uitdaging te hanteer? Hierdie navorsing poog om die belangrikheid van noukeurig beplande en ontwikkelde leermateriaal of kurrikulums vir die bevordering van geloofsvorming onder kinders en adolessente te ondersoek.
Vanuit die empiriese ondersoek is verskeie temas geïdentifiseer, insluitend ouerskap (ouer-kind verhoudings), leerstof, toerusting vir onderrig of opleiding, die belewenis van deel wees van 'n gemeente, die verstaan van die ontvanger en dissipelskap. Vir hierdie artikel is die fokus spesifiek op leerstof en toerusting vir onderrig of opleiding as voorbeelde van hoe herontwikkeling van leermateriaal en kurrikulums noodsaaklik is.26
Ouers
Een van die vrae (Vraag 10) aan leraars was: 'As jy drie dinge kan uitsonder wat na jou mening die geloofsontwikkeling of kategese van kinders en adolessente kan verbeter, wat sou dit wees?' Die meeste leraars was dit eens dat wanneer dit by ouertoerusting of -kommunikasie kom, ouers meer by die kategeseproses betrek moet word. Daar is ook voorgestel dat ouers beter toegerus moet word om die geloofsreis saam met hulle kinders te onderneem. Kategete het bygevoeg dat ouerbetrokkenheid in die gemeente 'n sterk korrelasie toon met die volgehoue betrokkenheid van adolessente ná belydenis van geloof. Hulle het verder gevoel dat ouers die rol en doel van kategese beter moet verstaan.27
Leerstof
Leraars het ook aangedui, in antwoord op vraag 10, dat kategesemateriaal dikwels verouderd en nie meer relevant vir die huidige konteks is nie. Hulle het beklemtoon dat daar 'n behoefte is aan meer aktuele en toepaslike leermateriaal.
Op die vraag (Vraag 3) aan kategete, naamlik 'In watter mate dink jy dat die geloofsontwikkelingsbediening (kategese) in die gemeente waar jy is lidmate help om dissipels van Christus te wees?', was die gevoel ook dat goeie, hoë kwaliteit kategesemateriaal lidmate (kinders en adolessente in hierdie geval) kan help om dissipels van Christus te wees.
Hierdie sentiment is ook deur adolessente ondersteun. In een van die vrae (Vraag 7) is die volgende aan hulle gevra: 'Wat dink jy kan die gemeente en die kerk doen om die geloofsontwikkeling of kategese van die kinders en adolessente nog beter te maak?' Hierop was die antwoord dat kategesemateriaal meer aktueel moet wees. Adolessente het gevoel die kategesemateriaal nie relevant genoeg is vir die hedendaagse uitdagings nie. 'n Opvolgvraag (Vraag 8) aan adolessente het spesifiek gefokus op watter veranderings hulle graag in die leerstof sou wou sien. Die meeste respondente het aangedui dat die inhoud praktiese raad moet bied en hulle beter moet voorberei vir die uitdagings buite die gemeente. Dus was die gevoel dat materiaal in die eerste plek raadgewend moet wees met meer fokus op die toepassing van wat geleer word en hoe dit in die alledaagse lewe uitgeleef kan word.
Toerusting vir onderrig en opleiding28
Die volgende vraag (Vraag 2) aan leraars was, 'Wat verstaan jy onder die 'geloofsontwikkeling' van kinders en adolessente?' Antwoorde het 'n praktiese en teoretiese dimensie ingesluit. Praktiese geloofsontwikkeling verwys na die uitleef van geloof, terwyl die teoretiese komponent op Bybelkennis en teologiese insig fokus. Nog 'n vraag (Vraag 5) het ondersoek ingestel na wat belangrik is in die toerusting van ander persone (behalwe ouers) wat by die geloofsontwikkeling van kinders en adolessente betrokke is. Leraars het benadruk dat die verstaan van die leefwêreld van kinders en adolessente noodsaaklik is, sodat die onderrig en opleiding meer relevant kan wees. Kategete het weer beklemtoon dat beter toerusting nodig is om kinders en adolessente in verskillende ontwikkelingsfases effektief te hanteer en te onderrig. Kategete het verder aangedui dat daar meer aandag aan Skrifinterpretasie gegee moet word wat met die tradisies van die kerkverband belyn is.
Onder hierdie subtema van toerusting, onderrig en opleiding het vraag 10 interessante verdere insigte gebied ('As jy drie dinge kan uitsonder wat na jou mening kan help om die geloofsontwikkeling of kategese van kinders en adolessente te verbeter, wat sou dit wees?'). Sommige leraars sowel as kategete het gevoel dat die huidige benadering tot kategese nie toepaslik is nie. Hulle het ook gevoel dat meer gedoen kan word om ouers by die kategeseproses te betrek en om hulle toe te rus om die geloofsontwikkelingsreis saam met hulle kind te stap; dus moet ouers die rol van kategese beter verstaan. Kategete het ook gevoel dat kategesemateriaal in baie gevalle verouderd is en nie aktueel genoeg is nie. Sommiges het gevoel dat die materiaal te kompleks is. Daar is ook voorgestel dat daar meer geleenthede geskep moet word buite die tradisionele Sondagprogram soos kampe, jeugaksies en spesifieke aktiwiteite gebaseer op gedeelde belangstellings soos sport, speletjies, ensovoorts.
Kurrikulum: Roete en roetemerkers29 vir geloofsvorming
Wat is die elemente waaruit 'n gemeente se kategese-kurrikulum vir kinders en adolessente bestaan? Om die verskillende vorms van gemeente- en kerklike kurrikulum te bespreek, gebruik May30 en sy mede-outeurs die bybelse teksverduideliking van Handelinge 2:32, 42-47 soos deur Harris31 uiteengesit:
God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. […] Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal, … elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
In hierdie verse het die eerste Christelike gemeenskap die noodsaaklike aktiwiteite van die kerk beoefen, wat as klassieke elemente van die gemeente se kurrikulum geïdentifiseer word: kerygma [die verkondiging van Jesus se opstanding], didache [onderrig], leitourgia [gemeenskaplike gebed en om Jesus weer in die breking van die brood voor te stel], koinonia [gemeenskap], en diakonia [omgee vir diegene in nood].32
Net soos in die vroeë kerk, geld hierdie beginsels ook vandag. Kinders, adolessente en volwassenes word deur 'n kurrikulum gevoed wat aan hulle geleenthede bied om geloofsgemeenskap, aanbidding en gebed te ervaar, die Woord van God te hoor en dit uit te leef. Hulle groei deur deelname met diens aan ander, sowel as deur onderrig en leer. Dit is die essensiële elemente van 'n geloofskoesterende kurrikulum. Kurrikulum kan ook gesien word as die dinamiese interaksie tussen ses elemente: doel, leerder, inhoud, onderwyser of herder, omgewing en evaluering.
Kurrikulumbeplanning begin met antwoorde op kernvrae: Waarom bied ons 'n kurrikulum vir kinders en adolessente aan? Watter uitkomste hoop ons om te sien in die klasse, groepe, kore of intergenerasionele byeenkomste?33 Watter leergeleenthede is die geskikste vir spesifieke ouderdomsgroepe en omgewings?
Sonder duidelike doelwitte is 'n kurrikulum rigtingloos, en die impak daarvan kan gering of selfs negatief wees.34 Wanneer diegene wat met die jeug werk die doelwitte van die gemeente se bediening verstaan, kan hulle bewustelik daarna streef om hierdie doelwitte in al hulle aktiwiteite te bereik. Gemeentes maak dikwels gebruik van kurrikulumhulpbronne om hierdie doelwitte en vakinhoud te bepaal. Dit is egter noodsaaklik om te oorweeg watter rigting God wil hê die kinders en adolessente moet inslaan. Hierdie doelwitte moet die basis vorm van alle kurrikulumbeplanning en -evaluering, insluitend kurrikulumhulpbronne.
'n Effektiewe kurrikulum hou rekening met die leerders, en poog om met hulle en die realiteit van hulle lewens te kommunikeer. Elkeen het hulle eie unieke vrae, ervarings en lewensrealiteit, en dit beïnvloed wat hulle hoor en leer. Kinders en adolessente is nie net ontvangers nie, maar dra ook by tot die kurrikulum deur hulle interaksies en verhoudings met ander kinders en adolessente.35
Wanneer kurrikulumhulpbronne gekies of ontwikkel word, is die eerste vrae dikwels: Wat moet ons onderrig? Wat moet die inhoud wees? Watter Bybelverhale moet ons kies om te vertel? Sal ons lewenservarings ondersoek? Indien wel, watter? Die inhoud strek verder as bloot vakmateriaal of feite; dit sluit ook in wat kinders en adolessente in die geloofsgemeenskap ervaar en leer deur hulle verhoudings met volwassenes wat hulle leer ken het, liefhet en waarneem.36 Die wyse waarop onderrig geskied, beïnvloed ook wat geleer word en is deel van die inhoud. Inhoud is baie belangrik in die onderrig en koestering van kinders en adolessente. Hulle moet die verhale van God en die mense van God leer ken en liefkry. Die wyse waarop hulle geleer word, behoort hulle in bybelse waarhede in te lei om God daar te ontmoet en oor die lewe te besin. Hulle het 'n kurrikulum nodig wat ryk aan ervarings en interaksies met ander is, wat betekenis gee aan die geloofswoorde en wat geleenthede bied om vrae te vra en insigte te deel.
Die omgewing is die konteks van die kurrikulum. Die verwelkoming, of gebrek daaraan, wat kinders en adolessente in die gemeente ervaar, kan die effek daarvan in ouderdomsgegradeerde byeenkomste versterk of ondermyn. Binne 'n klas-, groep-, klub- of aanbiddingsopset dra die fisiese omgewing sowel as die verhoudingsomgewing by tot of doen afbreuk aan leer en koestering. Sonder sterk, aanvaardende en ondersteunende verhoudings, bly leer oppervlakkig, en37 'n gebrek aan inklusiwiteit kan lei tot segregasie binne die gemeente.38
Evaluering is 'n aspek waaraan die meeste gemeentes min tyd en aandag bestee. Dit begin egter met die vasstelling van duidelike doelwitte vir die kinders, adolessente en bedienings van die gemeentes. Sonder hierdie riglyne is dit onmoontlik om te bepaal hoe doeltreffend die kurrikulum is of kan wees.39
'n Belangrike element van 'n lewensveranderende kurrikulum ontbreek egter nog in hierdie bespreking: net God kan lewens verander. Sonder die werk van God se Gees deur ons, ons studente en alles wat ons doen, is die kurrikulum oneffektief. Sonder God kan ons netsowel 'n ander akademiese vak, soos sosiale studies of antieke geskiedenis, onderrig. Jesus het egter belowe om die Heilige Gees te stuur om ons by te staan, sodat ons nooit alleen hoef te werk nie.40
Verskeie konsepte help ons om die dinamika van 'n kurrikulum beter te verstaan. Harris41 bespreek byvoorbeeld die eksplisiete, implisiete en nietige (nul) kurrikula, asook die beoogde, vasgestelde of uitgevoerde en ervaringsleer-kurrikula. Die eksplisiete kurrikulum behels dit wat doelbewus in onderrig oorgedra word, byvoorbeeld, kinders leer die Onse Vader-gebed om dit saam met ander kinders, adolessente en volwassenes in verskeie kontekste, soos die erediens, te kan opsê. Die gemeente kies ook mans sowel as vroue as herders of kategete om klein groepies kinders en adolessente te lei en so aan te toon dat die Christelike geloof vir beide geslagte belangrik is.
Die implisiete kurrikulum sluit in die patrone, organisasie of prosedure wat die eksplisiete kurrikulum omraam. Die gesindheid en persoonlikheid van die kategeet of instrukteur, die toestand van die lokaal (of dit rommelagtig of uitnodigend is), en wie voorkeurbehandeling ontvang, vorm alles deel van die implisiete kurrikulum. Die nietige (nul) kurrikulum, daarenteen, is wat weggelaat of geïgnoreer word. In sommige gemeentes word groot dele van die Bybel geïgnoreer, nie omdat dit onbelangrik is nie, maar omdat slegs beperkte gedeeltes ondersoek word. Gemeenskap en samewerking word byvoorbeeld nul wanneer mededinging as die hoofmotivering vir bedienings aan kinders voorgehou word. Ook die waarde van alle kinders word ondermyn wanneer sekere groepe voorkeurbehandeling ontvang en die fokus van alle illustrasies en toepassings is.
Die beoogde kurrikulum verwys na die voorafopgestelde plan, terwyl die vasgestelde of uitgevoerde kurrikulum die werklike leer- en onderriggebeure weerspieël. Die ervaringsleer-kurrikulum dui op die praktiese leer wat kinders in staat stel om deur hulle ervarings insigte te verkry. Om die kwaliteit van die kurrikulum vir kinders en adolessente te evalueer, moet gemeentes al hierdie kurrikulum-uitdrukkings oorweeg.42
Een van die struikelblokke is dat daar nie altyd besef word dat kategese deel is van geloofsvorming nie. Kategese is 'n afdeling van die totale geloofsvorming van kinders en adolessente. Hoewel gefokus op onderrig of kennisoordrag [didache] en administrasie [kubernesis], omvat kategese meer as dit. Dit sluit aanbidding [kerygma en leitourgia], verhoudingsbou [koinonia], die oorgaan tot aksie (diakonia [diens] en paraklesis [pastorale sorg]) in.43 Geloofsvorming is 'n omvattende proses van integrasie, ondersteuning en leiding van verbondsindividue op hulle geloofsreis. Dit bevorder 'n verbondsverhouding en fasiliteer die groei van goddelik-verleende geloofsinsigte, sodat mense hulle Godgeordende identiteit in Christus Jesus44 in ooreenstemming met sy beeld kan uitleef. Volgens Osmer45 behoort gemeentes elke geleentheid te gebruik om jongmense te mentor. Hy identifiseer drie oorkoepelende opvoedkundige uitkomste: 'Creed to believe' (watter belydenis rig my geloof?),46 'Code for the road' (watter gedragskodes en waardes help my om keuses te maak en my lewe te rig?),47 en 'A dream to esteem' (watter roeping of strewe bring die Here in my hart?).48 Hierdie beginsels dien as roetemerkers wat 'n fundamentele rol in geloofsvorming en geloofsgroei speel.49
'n Kurrikulum met die jeug50 deur die jeug en vir die jeug as medetwyfelaars
Om die uitdaging van ons huidige modelle van Sondagskool, katkisasie en geloofsvorming verder te kompliseer, is die huidige siening van die kategeet as 'n 'alleswetende', 'meerwetende' of 'beterwetende' figuur dalk nie die mees geskikte benadering nie.51 Dikwels sien ons die kategete as die persone wat verantwoordelik is om kinders en adolessente die tradisionele gebruike te leer sodat hulle dit kan toepas. Wat as die rol van die kategeet dié van 'n vennoot en medereisiger in twyfel sou wees eerder as om bloot iets oor te dra? In plaas daarvan om staat te maak op voorafopgestelde lesse wat by uitgewershuise te koop is, kan ons ons eie twyfel, worstelings en vrae as die kern van die kurrikulum gebruik om geloof oor te dra.
Anders gestel: Wat as die doeltreffendste manier om geloof te bevorder nie sekerheid en kennis behels nie, maar eerder 'n ruimte skep waarin twyfel en vrae ondersoek word? Wat as die kategeet nie as oortuiger optree nie, maar as medesoeker wat saam met adolessente deur die kompleksiteite van geloof en twyfel werk? Wat as bevestiging van nuwe lidmate nie oor die aanvaarding van 'n tradisie gaan nie, maar oor die eerlike ondersoek van twyfel, dit in die ope bring en worstelend daardeur werk?
Die verantwoordelikheid van kategete is om nie die tradisie op 'n foutlose manier oor te dra nie - iets waartoe min tot geen vrywilligers in staat is - maar om oop genoeg te wees om saam met kinders en adolessente hulle eie twyfel te verken. Dan sal hulle in staat wees om die kinders en adolessente se leefwêreld te betree en te leer ken. Hoe ander sou klein groepies funksioneer as hulle aktief probeer om hulle twyfel en ongeloof eerlik uit te druk, daarmee te worstel en dit in gemeenskap met mekaar en God te deel? In so 'n scenario word die kategeet nie meer as 'n alwetende onderwyser of bekwame apologeet gesien wat antwoorde op al die vrae het nie, maar eerder 'n fasiliteerder en metgesel wat saam met ander twyfelaars of gelowiges vrae verken.
Die bevestigingsgeleentheid (voorstel van nuwe lidmate in sommige denominasies) sal dan die tyd wees vir jong mense om hulle ontstellendste vrae oor God, oor hulleself en die wêreld te vra en daardie vrae deel te maak van die groep se kurrikulum.
Root52 se redenasie dat kategete eerder met vertwyfeling en worsteling moet werk en dat dit ook deel van die kurrikulum moet vorm, kan ongemaklik en selfs ontstellend wees, omdat dit afwyk van hoe ons tradisioneel oor kategese en geloofsvorming dink. Christene beskou twyfel dikwels as 'n beduidende vyand wat riskant, gevaarlik en vernietigend vir die geloof kan wees.53 Twyfel is egter nie teenstrydig met geloof nie; dit is eerder 'n vyand van valse oortuigings.54 Daarom redeneer Root55 dat ons foutiewelik glo dat twyfel 'n Trojaanse perd is wat, indien dit toegelaat word om die vesting van ons persoon binne te dring, 'n leër sal vrystel wat ons geloof sal ondermyn en ons verder van God sal verdryf. Hoewel ons dit dalk nie erken nie, vrees ons dat, indien ons kinders en adolessente toelaat om te twyfel (selfs meer as ons dit aanmoedig!), hulle sal ontdek dat ons geloof slegs 'n kaartehuis is wat nie die wind van hulle inkwisisie kan weerstaan nie. Root56 beweer dat ons verkeerdelik aanvaar dat geloof slegs opreg is wanneer dit van twyfel vrygestel is. Tog is twyfel nie teenstrydig met geloof nie; dit is eerder die oorsprong van geloof. Nel is ook van mening dat ons, as volgelinge van Christus, met geloof sowel as met twyfel, met hoop maar ook met mislukking lewe.57 Twyfel is dus nie ons vyand nie, maar 'n vriend wat ons help om opnuut na God te soek. Kom ons maak bevestiging van lidmate (soos sommige denominasies dit nog noem) die plek van gedeelde twyfel. Dit is juis deur twyfel dat ons werklik kan voortgaan as geloofsoekers.58
Volgens Root is dit dus nie belangrik dat die kategeet of instrukteur al die antwoorde het nie.59 Volgens Nel60 is dit belangriker dat die dissipelmaker (in hierdie geval die kategeet of instrukteur) leer om die lewe in Christus te leef en deur hulle eie twyfel dissipelskap voort te sit. Hulle moet net gewillig wees om God deur twyfel heen te soek. Hierdie benadering verg moed van die leier of kategeet - baie meer as om net voorafopgestelde lesse te volg. Wanneer die groep rondom gedeelde twyfel gebou word, word dit rondom die kern van gedeelde menslikheid gebou. Deur twyfel word die kategeet beweeg om nie net kennis of volwasse wysheid met 'n adolessent te deel nie, maar ook sy of haar persoon, lyding en verlange.61 Die bevestigingsgroep, wat gebou of gevorm word met hierdie gedeelde twyfel, omhels die wedersydse openheid van die verhouding.
Die bevestigingsgeleentheid (bevestiging van nuwe lidmate) is dus nie die einde van die pad of 'n eindeksamen nie, maar die welkome en volgehoue aanmoediging om God te soek.62 Op hierdie manier kan so 'n kurrikulum waar kinders en adolessente as medetwyfelaars deelneem ons miskien help om die 'uitval'-konsep anders te verstaan, want na die bevestigingsgeleentheid gaan adolessente voort om God te soek en te ervaar in verskeie lewensfases. Dit laat die volgende vraag ontstaan: Het hierdie kinders en adolessente wat 'uitgeval' het, werklik die pad byster geraak en God verlaat? Of is hulle steeds op hulle geloofsreis na die volgende roetemerker (dalk buite die gemeente), omdat verhoudings met God wat binne die gemeente gesaai, geplant en benat word (gekweek), dalk buite die kerk be-proef, be-wind en be-son (versterk) word?
So waarheen van hier af? 'n Kort riglyn om gemeentes en denominasies te help met die ontwerp van 'n toekomstige kurrikulum
Voordat 'n kurrikulumkursus ontwerp word, moet ons weet waarheen ons op pad is en wat noodsaaklik is vir 'n sinvolle reis. Die eerste stap in die beplanning is dus om die doelstellings of kernwaardes van die kerk se kurrikulum en die gewenste riglyne vir voortdurende geloofsvorming te verwoord. Hierdie proses kan begin word deur oor die volgende vrae na te dink:
Wat glo ons wil God in die lewens van die kinders en adolessente in ons gemeente bereik?
Wat leer die Skrif oor God se begeertes - kernwaardes - vir kinders en adolessente?
Watter ervarings is belangrik vir geestelike groei tydens die kinderjare?
Wat weet ons van kinderontwikkeling en hoe hulle leer, wat as riglyne vir die kurrikulum kan dien?63
Op grond van hierdie vrae moet die volgende stap wees om te verstaan vir wie die kurrikulum ontwerp word. Ongegronde aannames oor kinders en adolessente mag alle aspekte van onderrig en geloofsvorming beïnvloed, maar dit is nie voldoende nie. Effektiewe kurrikulumbeplanning begin met 'n doelbewuste fokus op die kinders en adolessente self. Hulle bring 'n verskeidenheid kenmerke en unieke gawes, belangstellings en uitdagings na die tafel. Om hulle algemene kenmerke langs hulle ontwikkelingsreis te verstaan, help kurrikulumbeplanners om materiaal en leeraktiwiteite en ervarings te kies wat betekenisvol is.64 Hoe waardevol sou dit nie wees om kinders en adolessente by hierdie beplanning te betrek nie,65 veral nadat 'n algemene begrip van hulle behoeftes en belange gevorm is?
Deur op die kinders en adolessente wat bedien word te fokus, kan bedieningspanne betekenisvolle vrae bespreek - moontlik in samewerking met die kinders self:66
Wie is die kinders en adolessente wat ons bedien?
Watter gawes bring hulle na hulle geestelike reis?
Wat het hulle die nodigste om van God te ontvang?
Watter belangstellings en leerstyle het hulle?
Watter uitdagings staar hulle in die gesig?
Hoe lyk hulle sosio-ekonomiese en kulturele realiteite?
Watter ondersteuning bied hulle gesinne aan hulle geestelike versorging?
Watter uitdagings staar hul gesinne in die gesig?
Wie is die kinders en adolessente wat ons behoort te bedien, maar wat nie tans in die kerk teenwoordig is nie?
Waarmee worstel hulle of waaroor twyfel hulle?
Watter hulpbronne kan ons gebruik om kinders en adolessente van ons kerk en gemeenskap beter te verstaan en effektief te dien (boeke, videos, professionele hulpbronne)?
Om kinders en adolessente effektief te dien, moet die kurrikulum nie net kennis oordra nie, maar ook hulle gawes ontwikkel en hulle uitdagings ondersoek. Gebaseer op daardie kennis, moet daar ook elemente in die kurrikulum ingebou word om hulle gawes te ontwikkel en uitdagings te hanteer. Dit moet hulle help om, soos omgee-volwassenes, God se hulpbronne te ontdek om hulle op hierdie pad te ondersteun.67
Daar is beslis 'n plek vir kreatiewe aktiwiteite soos poppespel en video's in die onderrig van bybelse gebeure, maar dit moet nie die enigste blootstelling aan die Skrif wees nie. Kinders moet die kans kry om eerstehands met die Bybelverhale in aanraking te kom, om daaroor te wonder en hulle vrae te verken.68
'n Betekenisvolle kurrikulum moet by die werklikhede van kinders en adolessente se lewens aansluit. Hoewel kategete poog om kinders en adolessente te help om bybelse lesse in hulle lewens toe te pas, kan midweek-klubprogramme kinders en adolessente selfs meer effektief lei om God se lewensplan te ontdek.69 Deur 'n verskeidenheid aktiwiteite leer hulle hoe om konstruktiewe verhoudings te bou, God se skepping te waardeer en uitdagings in 'n nie-Christelike samelewing die hoof te bied. Baie kinders in ons gemeentes moet trauma verwerk - soos ouers se egskeiding, langdurige siekte, die verlies van 'n geliefde of mishandeling.70 Indien dit die konteks is waarin kinders en adolessente hulle bevind, soos in die studie van Scholtz et al.71 verwoord, ontstaan die volgende vraag: Waar in die kurrikulum van ons gereformeerde kerke kan kinders en adolessente ondersteuning en genesing vir hulle pyn vind?
Slot
Hierdie artikel ondersoek die moontlikheid van 'n holistiese kurrikulum vir gereformeerde kerke om die uitdaging van 'uitval' in oënskou te neem. Dit is duidelik dat 'n kategeseprogram van 30 minute tot een uur per week onvoldoende is om kinders en adolessente van al die aspekte wat in hierdie artikel bespreek is, te voorsien. Baie gemeentes bied egter verskeie geleenthede aan, soos Sondagoggend- of -aandleerure, eredienste, jeugklubs, byeenkomste en kore. Hierdie aktiwiteite kan almal as deel van die kurrikulum dien, veral wanneer 'n doelgerigte geloofsvormingsreis vir kinders en adolessente uitgestippel word.
'n Geloofsreis hoef nie tot stilstand te kom nie; dit kan in verskillende rigtings vloei en soms na ompaaie lei, wat uiteindelik weer met die oorspronklike pad verbind. Daarom ontstaan die volgende vraag: Kan kinders en adolessente werklik as 'n 'uitval' beskou word wanneer hulle later, as jong volwassenes of getroude persone, terugkeer kerk toe? Of moet ons erken dat die aanvanklike kerklike paaie nie voldoende voorsiening gemaak het vir hulle geloofsreis na 'bevestiging as lidmaat' en matriek nie, veral wanneer hulle elders gaan studeer of werk? Miskien het hierdie jongmense hulle geloofsreis eenvoudig op ander roetes voortgesit, terwyl hulle God op hulle eie unieke manier gesoek het.
Dit beklemtoon die noodsaaklikheid dat jeugbediening, met alle fassette en subdissiplines (soos kinderkerk, jeugkerk, junior- en senior-kategese, en jongvolwassene-bediening), 'n prioriteit moet wees vir gemeentes wat werklik die 'uitval'-probleem wil hanteer. Wanneer die hele lewe van die kerk as 'n kurrikulum beplan word en kinders en adolessente aktief in hierdie proses betrek word, bied dit veel meer geleenthede vir geloofsgroei. Om saam met hulle te soek en soms saam te twyfel, skep 'n ruimte waarin hulle hierdie noodsaaklikhede op 'n betekenisvolle manier kan verken.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel onvanpas kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
J.W.B. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Etiese oorwegings
Aansoek vir volle etiese goedkeuring is is ingedien by die Fakulteit Teologie en Geloof en etiese toestemming is ontvang op 01 Desember 2022. Die etiese goedkeuringsnommer is T111/22.
Databeskikbaarheidsverklaring
Die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, is openlik beskikbaar in Universiteit van Pretoria navorsingsdata by https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur alleen is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
References
Avenant, J.C., Nel, M. & Jordaan, J.C., 2021, 'Die rol van die ouerhuis in die intergenerasionele geloofsvorming van die jeug in belang van 'n geïntegreerde jeugbediening', Verbum et Ecclesia 42(1), a2250. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2250 [ Links ]
Aziz, G., 2020, 'Age does not determine influence: A consideration for children in ministerial service', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(2), a5848. https://doi.org/10.4102/hts.v76i2.5848 [ Links ]
Beukes, J.W., 2022, 'Not the future leaders of tomorrow! Youth, missio Dei and the missiological research agenda in (South) Africa', in J. Knoetze (ed.), J. Mission the 'labour room' of theology, pp. 193-208, CLF Publishers, Bloemfontein. [ Links ]
Beukes, J.W., Thyssen, A.A. & Jacobs, D., 2022, '"Here am I, send me!" The youth as co-participants and agents of change', in B. Du Toit (ed.), Faith, race and inequality among young adults in South Africa: Contested and contesting discourses for a better future, 1st edn., pp. 149-163, Sun Media Press, Stellenbosch. [ Links ]
Borgman, D., 1987, 'A history of American youth ministry', in W.S. Benson & M.H. Senter, III (eds.), The complete book of youth ministry, pp. 61-74, Moody, Chicago, IL. [ Links ]
Carr, J.L., 1989, 'Needed: A pastoral curriculum for the congregation', in R. Browning (ed.), The pastor as religious educator, pp. 35-50, Religious Education Press, Birmingham. [ Links ]
Cloete, A., 2012, 'Spiritual formation as focus of youth ministry', NGTT 53(3 & 4), 70-77. https://doi.org/10.5952/53-3-4-250 [ Links ]
De Beer, S. & Weber, S., 2016, 'Doing theology with children in a South African context: Children as collaborators in intergenerational ministry', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(1), a3572. https://doi.org/10.4102/hts.v72i1.3572 [ Links ]
Dean, K.C. & Foster, R., 1998, The godbearing life: The art of soul tending for youth ministry, Upper Room Books, Nashville, TN. [ Links ]
Firet, J., 1986, Dynamics in pastoring, Eerdmans, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Grobbelaar, J., 2022, 'Global critical issue: Getting to the root of the problem', in R. Tan, A. Patellar & L.A. Hefford (eds.), God's heart for children: Practical theology from global perspectives, pp. 3-12, Langham Publishing, Carlisle. [ Links ]
Harris, M., 1989, Fashion me a people: Curriculum in the church, Westminster John Knox, Louisville, KY. [ Links ]
Matthee, N., 2023, UP Navorsingsprojek: Geloofsontwikkeling (Kategetiek) Data, Ongepubliseerde verslag. https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1 [ Links ]
May, S., Posterski, B., Stonehouse, C. & Cannell, L., 2005, Children matter: Celebrating their place in the church, family and community, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Migliore, D.L., 2023, Faith seeking understanding, an introduction to Christian theology, 4th edn., Eerdmans, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Nel, M., 2000, Youth ministry: An inclusive congregational approach, Kitskopie, Pretoria. [ Links ]
Nel, M., 2008, 'An inclusive congregational approach to youth ministry', in M.H. Senter, III (ed.), Four views of youth ministry and the church, pp. 1-22, 2nd print, Zondervan, Grand Rapids, MI. [ Links ]
Nel, M., 2018, Youth ministry: An inclusive missional approach, HTS Religion & Society Series, vol. 1, pp. xviii-xx, AOSIS, Cape Town. [ Links ]
Osmer, R., 2001, 'A checklist for the journey: Biblical foundations of ministry with youth', in Lectures on Youth, Church and Culture, Proclaiming the Gospel in a Wired World. The Institute for Youth Ministry, Princeton Theological Seminary, pp. 75-110. [ Links ]
Puffer, K.A., Pence, K.G., Graverson, T.M., Wolfe, M., Pate, E. & Clegg, S., 2008, 'Religious doubt and identity formation: Salient predictors of adolescent religious doubt', Journal of Psychology and Theology 36(4), 270-284. https://doi.org/10.1177/009164710803600403 [ Links ]
Root, A., 2007, Revisiting relational youth ministry: From a strategy of influence to a theology of incarnation, IVP Books, Downers Grove, IL. [ Links ]
Root, A., 2011, 'Doubt and confirmation - The mentor as co-doubter', in A. Root & K.C. Dean (eds.), The theological turn in youth Ministry, IVP Books, InterVarsity Press, Downers Grove, IL. [ Links ]
Scholtz, J.W., Nel, M. & Beukes, J., 2024, 'Die bediening aan enkelouergesinne met adolessente: 'n inklusiewe en intergenerasionele uitdaging', In die Skriflig 58(1), a3033. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3033 [ Links ]
Sholund, M., 1968, 'A historical survey of youth work', in R.G. Irving & R.B. Zuck (eds.), Youth and the church, pp. 61-71, Moody, Chicago, IL. [ Links ]
Ward, T., 1974, Notes taken in a class taught, Michigan State University, East Lansing, MI. [ Links ]
Ward, W., 1997, Youth, work and the mission of God. Frameworks for relational outreach, The Cromwell Press, Melksham. [ Links ]
Weber, S., 2015, 'A (South) African voice on youth ministry research: Powerful or powerless?', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(2), Art. #2973, 1-6. https://doi.org/10.4102/hts.v71i2.2973 [ Links ]
Correspondence:
Jacques Beukes
beukejw@unisa.ac.za
Received: 14 Sept. 2024
Accepted: 08 Nov. 2024
Published: 27 Feb. 2025
Note: Special Collection: The manuscript is a contribution to the themed collection titled 'Geloofsreis. Inwyding, Begeleiding en Onderskeiding nuut ontdek' under the expert guidance of guest editor Prof. Malan Nel.
1. Hierdie artikel is die sewende in 'n reeks van 10 in hierdie Supplementum. Soos die ander is ook hierdie artikel 'n teologiese refleksie op 'n konsep wat uit die analise van 123 kwalitatiewe onderhoude kom. Die onderhoude was deel van 'n empiriese navorsingsprojek oor geloofsontwikkeling of kategese waaraan vier Afrikaanssprekende denominasies binne die Gereformeerde tradisie deelgeneem het.
2. In hierdie artikel word deurgaans gebruik gemaak van kinders en adolessente wanneer na jongmense verwys word. Kyk Nel (2018) vir 'n breedvoerige verduideliking van die terme: kinders, adolessente, jongmense en jeug. Kyk ook Aziz (2020).
3. Grobbelaar (2022:3).
4. Grobbelaar (2022:3; vgl. ook artikel 1 van hierdie bundel vir die beklemtoning van kinders en adolessente as 'evenmens'); Firet (1986:160 e.v.); Nel (2018:278 e.v.).
5. Grobbelaar (2022:5).
6. Beukes (2022:194; vgl ook Beukes, Thyssen en Jacobs 2022:154).
7. Ward (1997:26-27).
8. Vergelyk Ward (1997:26-27).
9. Vanweë die beperking op die aantal woorde van hierdie artikel, gee hierdie afdeling slegs aandag aan die vroeë ontwikkeling as kort historiese oorsig. Vir 'n meer indiepte-geskiedenis wat mees onlangse verwikkelings insluit, kan Nel (2018) geraadpleeg word.
10. May et al. (2005:191).
11. Harris (1989).
12. Carr (1989).
13. Ward (1974).
14. Harris (1989).
15. Carr (1989).
16. May et al. (2005:191-192).
17. Sien ook Nel (2018:178-193).
18. Root (2007:30).
19. Kyk ook Sholund (1968:59-71) en Borgman (1987:61-74).
20. Kyk Root (2007:30-32) en May et al. (2005:192-193).
21. Root (2007:38).
22. Dean en Foster (1998:213).
23. Dean en Foster (1998:213).
24. May et al. (2005:193).
25. Vir 'n breedvoerige verduideliking van die navorsingsprojek, -probleem, doel en bevinding, kan artikel 1 van hierdie bundel geraadpleeg word.
26. Vergelyk Matthee (2023).
27. Vergelyk ook die navorsing van Avenant, Nel en Jordaan (2021) in hierdie verband.
28. Vergelyk veral ook artikels 8 en 9 in hierdie bundel.
29. Vergelyk artikel 2 in hierdie bundel vir 'n breedvoeriger refleksie op roetemerkers.
30. May et al. (2005).
31. Harris (1989).
32. Sien veral Nel (2018:217-244) vir 'n breedvoerige verduideliking oor hoe dit in jeugbediening vergestalt word.
33. May et al. (2005:195).
34. May et al. (2005:196).
35. May et al. (2005:196).
36. Kyk Nel (2018:64).
37. May et al. (2005:197).
38. Kyk Nel (2018:64, 214-215, 228-231).
39. May et al. (2005:197).
40. May et al. (2005:198).
41. Harris (1989:68-69); kyk ook May et al. (2005:198).
42. May et al. (2005:198).
43. Kyk ook Nel (2018:217-244).
44. Kyk ook Nel (2000; 2008:147; 2018); Cloete (2012:74); Weber (2015:4).
45. Osmer (2001).
46. Kyk ook Osmer (2001:96-101).
47. Kyk ook Osmer (2001:101-106).
48. Kyk ook Osmer (2001:106-110).
49. Vergelyk weer artikel 2 in hierdie bundel.
50. Hierdie terme verwys na kinders sowel as adolessente.
51. Kyk veral Root (2011:193-194).
52. Root (2011:194).
53. Puffer et al. (2008:270).
54. Puffer et al. (2008:270).
55. Root (2011:194).
56. Root (2011:194).
57. Nel (2018:33).
58. Vergelyk Migliore (2023, 4th ed.) vir 'n breedvoerige beskrywing van Anselmus se uitspraak.
59. Root (2011:196).
60. Nel (2018:51).
61. Root (2011:196).
62. Vergelyk weer vir 'n nuwe benadering artikel 2 van hierdie bundel.
63. May et al. (2005:199).
64. May et al. (2005:203).
65. Kyk ook De Beer en Weber (2016).
66. Kyk ook Nel (2018).
67. May et al. (2005:204).
68. May et al. (2005:204).
69. May et al. (2005:205).
70. Kyk veral ook Scholtz, Nel en Beukes 2024.
71. Scholtz et al. (2024).