SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Verbum et Ecclesia

    On-line version ISSN 2074-7705Print version ISSN 1609-9982

    Verbum Eccles. (Online) vol.46 n.2 Pretoria Feb. 2025

    https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3309 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Toerusting van begeleiers op die geloofsreis

     

    Equipping companions on the journey of faith

     

     

    Lyzette Hoffman

    Office of the Dean, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

    Correspondence

     

     


    ABSTRACT

    Faith formation is a multifaceted process involving various role players. Parents, pastors, mentors, catechists, youth leaders, and church board members all play a significant role in a congregation's faith formation. This article examines the need to equip individuals engaged in this process. The specific roles they undertake will determine the type of training required. Using didache as a foundation, the focus will be on mentoring and serving as role models. Encouraging adults to participate in training presents its own challenges, which can be addressed through a variety of approaches. The research identified key training needs, including the faith development of catechists, an understanding of the lifeworld of children and adolescents (their developmental stages), and the skills required to convey content effectively. Another crucial area of training is koinonia - the building of relationships.
    INTRADISCIPLINARY AND/OR INTERDISCIPLINARY IMPLICATIONS: Transformative leadership is essential to inspire those involved in faith formation to commit to becoming equipped to achieve excellence in their roles.

    Keywords: faith formation; didache; equipping; mentor; role model; motivation; development; relationship building; transformative leadership; training leaders.


     

     

    Inleiding1

    Geloofsvorming is 'n komplekse proses met verskeie rolspelers. Een groep van hierdie rolspelers is die begeleiers binne die proses in gemeentes. Hierdie begeleiers sluit onder andere predikante, mentors, kategete, jeugleiers en kerkraadslede in, wat almal in direkte samewerking met die ouers is. Dit is egter noodsaaklik dat persone wat by hierdie proses betrokke is, behoorlik toegerus word vir hulle taak. Die volgende vraag ontstaan: Watter behoeftes moet in die toerustingsprogramme in oënskou geneem word, en hoe kan persone gemotiveer word om daarby in te skakel?

    Empiriese navorsing toon duidelik dat die toerusting van almal wat betrokke is by die geloofsvorming van kinders en adolessente uiters dringend is. Die navorsingsprobleem kan soos volg geformuleer word: daar is 'n opvallende tekort aan toerusting vir ouers en ander begeleiers binne die geloofsvormingbediening en -programme. Hierdie tekort lei tot die volgende navorsingsvraag: Watter spesifieke behoeftes rakende toerusting het persone wat by geloofsvorming betrokke is, en hoe kan hulle gemotiveer word om toerustingprogramme by te woon?2

    Voordat die toerusting van begeleiers volledig beskryf kan word, is dit nodig om eerstens 'n beter begrip van hulle rol in geloofsvorming te ontwikkel.

    Rol van ander begeleiers in geloofsvorming

    Daar is 'n vennootskap tussen die gesin en die gemeente ten opsigte van die geloofsvorming van kinders en tieners. Schoeman3 beskryf dit as 'n dans waar elke danser die beste in mekaar na vore wil bring - die sterk punte van beide dansers word beklemtoon. In 'n vorige artikel (van Robinson) is die toerusting van ouers bespreek. In hierdie artikel word op die toerusting van ander begeleiers - die 'ander danser' gefokus. Die kwaliteit van die dans hang af van die vaardighede van die verskillende dansers; toerusting vir die een kan nie plaasvind sonder om ook die ander party toe te rus nie. Die toerusting van ouers vir die geloofsvorming van hulle kinders vereis daarom ook die toerusting van begeleiers uit die gemeente. Jeugleiers en begeleiers speel 'n sleutelrol in die geloofsvorming van kinders en jongmense. Terselfdertyd word hulle eie lewens ook deur die proses gevorm en beïnvloed.4

    Begeleiers vervul verskillende rolle in die geloofsvormingsproses. Hierdie rolle word bepaal deur die ouderdom van die kinders of adolessente, die begeleier se eie gawes, en die gemeente se visie op geloofsvorming. Terme wat gebruik word om hierdie rolle te beskryf, sluit in afrigter,5 gids, kurator,6 fasiliteerder,7 mentor,8 onderwyser9 en rolmodel.10 Die spesifieke rol van 'n begeleier sal die aard van die toerusting bepaal wat benodig word in die uitvoer van sy of haar rol.

    Nel11 beskryf didache onder andere as 'n inisiasieproses gerig op dissipelskap. Dit beklemtoon dat die persoon wat by geloofsvorming betrokke is, dit ook moet uitleef. Vanuit die oogpunt van didache word begeleiers dikwels gesien as mentors en rolmodelle wat sentraal in die proses staan.

    Mentors

    Adolessente benodig kontak met volwassenes met wie hulle betekenisvolle gesprekke kan voer, wat in hulle belangstel, en wat hulle in tye van nood kan ondersteun. Volwassenes moet aangemoedig word om doelbewus beskikbaar te wees vir sulke kontak.12 Volgens Vygotsky13 se teorie van sosiale konstruktivisme speel die 'ander met meer kennis' (AMK) 'n belangrike rol in die ontwikkeling van kinders deur leiding te bied. Leer vind plaas deur sosiale mediasie,14 en kennis word gevorm in samewerking met ander. Die AMK, soos Vygotsky dit stel, speel 'n groot rol in die ontwikkeling en begeleiding van jongmense.

    'n Mentor is 'n volwassene met meer kennis en meer lewenservaring wat bereid is om hierdie wysheid in diens van geloofsvorming met 'n kind of adolessent te deel.

    Begeleiers is dus meer as net klasaanbieders by die gemeente; hulle stap saam met kinders en jongmense op die geloofsreis. Dit is 'n volwassene wat lei en help, aanmoedig en raad gee - 'n mentor. Soos Vygotsky daarna verwys - die volwassene (AMK) help kinders en jongmense om inligting te kry, hoe om daaroor te dink, asook hoe om dit binne hulle kultuur te interpreteer en daarvolgens teenoor die wêreld te reageer.15 Mentors help jongmense om sin te maak van die wêreld en om hoërorde denke te ontwikkel. Kortom, die begeleier is 'n mentor wat geloofvorming op 'n betekenisvolle manier integreer.

    Rolmodelle

    Die uitdrukking 'Faith is caught not taught'16 is van toepassing in hierdie konteks. Iemand wat geloof op 'n besonder inspirerende manier uitleef, speel 'n vormende rol. Hoewel iemand nie 'geleer' kan word om te glo nie, kan vertroue uitgeleef word; vorms van geloof kan geleer en prakties toegepas word. In hierdie komplekse proses kan rolmodelle 'n oriënterende en vormende rol speel.17 As iemand met spesiale kenmerke en navolgenswaardige gedrag kan 'n rolmodel 'n positiewe invloed uitoefen wat 'n stimulerende ervaring kan wees, maar dit bring ook verantwoordelikheid en soms spanning mee, volgens Baumann en Dreyer.18

    Gegewe die hoë persentasie gebroke gesinne en ander sosiale uitdagings in Suid-Afrika, het kinders en adolessente positiewe rolmodelle nodig. Gemeentelike begeleiers is ideaal om die rol te vervul. Vir sommige kinders is die rolmodel se betrokkenheid by die gemeente, of die manier waarop hulle bid, inspirerend. Vir ander kan dit die manier wees waarop hulle hul gesinslewe bestuur, die gesonde leefstyl wat hulle handhaaf of iemand wat hom of haar uiterlike mooi versorg. Positiewe rolmodelle kan kinders en jongmense ook aanmoedig om betrokke te raak by die bedienings in die gemeente.19 Hulle impak kan 'n blywende indruk maak en ander inspireer om self goeie rolmodelle te word.

     

    Toerusting van begeleiers

    Motivering

    Motivering speel 'n kernrol in die aanmoediging van volwassenes om by toerustingsgeleenthede in te skakel. Volgens Deci en Flaste20 is dit belangrik om te vra, 'Hoe kan ek die regte omstandighede skep sodat mense hulleself motiveer?' Mense is meer geneig om deel te neem indien die geleentheid 'n behoefte aanroer, daar 'n 'groeiklimaat' in die gemeente bestaan, die ervaring hulle geloof verdiep, en indien hulle voel dit is die tyd en moeite werd.21

    Voordat volwassenes geleenthede bywoon, oorweeg hulle vrae soos:22

    • Is dit relevant?

    • Sal die inhoud te ingewikkeld of te eenvoudig wees?

    • Sal die program sy beloftes nakom?

    • Gee die aanbieder regtig om vir my?

    • Is die aanbieder 'n geloofsrolmodel?

    • Is dit my tyd werd?

    Persone betrokke by die geloofsvorming van kinders en adolessente moet gemotiveer word om hierdie toerustingsgeleenthede by te woon. Mense wat deelname as 'n verpligtend sien, vind minder waarde in die geleentheid as diegene wat intrinsiek gemotiveerd is. Volgens Schaeffler23 kan toerustingsgeleenthede só ontwerp word dat begeleiers dit graag wil bywoon en sodoende hulle betrokkenheid by die kinders of adolessente verhoog.

    Bevindings van navorsing

    Die navorsingsprojek het die volgende toerustingsbehoeftes vir kategete geïdentifiseer:

    • Betreffende die kategeet self: Die kategeet se eie geloofsontwikkeling is noodsaaklik om hulle toe te rus vir die begeleiding van kinders.

    • Betreffende die kinders: Kennis oor ontwikkelingsfases en die leefwêreld van die kind of adolessent is belangrik. Dit help kategete om relevant en aktueel in hulle aanbieding te wees.

    Betreffende metodiek: Vaardighede soos hoe om lesse aan te bied, die Bybel te interpreteer, moeilike vrae te beantwoord, en hoe om teoretiese kennis prakties te maak sodat dit makliker geïntegreer kan word in hulle alledaagse lewe, is nodig.24

    Hierdie drie hooftemas is belangrik vir toerustingsprogramme in die gemeente. Die eerste tema fokus op kategete wat by die kategese van die adolessente in die gemeentes waar die navorsing gedoen is, betrokke is. Dit verwys dus meer pertinent na die kategeet as begeleier, maar hierdie toerustingsbehoeftes is ook relevant vir ander begeleiers soos jeugleiers en mentors. Hierdie begeleiers se eie geloofsontwikkeling is ook van belang vir effektiewe begeleiding.

    Die tweede behoefte beklemtoon dat verskillende generasies verskillende ervarings van adolessensie het. Dus, die leefwêreld van hedendaagse tieners verskil aansienlik van dié van die kategeet toe hy of sy 'n adolessent was.25

    Die derde behoefte handel oor die ontwikkeling van vaardighede en kennis. Om adolessente by geloofsgesprekke te betrek, die Skrif te interpreteer en betekenisvol oor te dra verg vaardigheid en kennis. Toerustingskursusse moet sorgvuldig gekies word om by die gemeente se geloofstradisie aan te sluit.

    Temas van toerusting

    Aangesien die navorsing onder kategete gedoen is, sal die term 'kategeet' hoofsaaklik gebruik word, hoewel dit ook ander begeleiers insluit. Gemeentes behoort in die lig van die navorsingsbevindings 'n reeks toerustingsprogramme aan te bied wat die volgende drie temas in oënskou neem:

    • die kategeet

    • die kind of adolessent

    • metodiek.

    Hierdie temas kan in opeenvolgende siklusse aangebied word, byvoorbeeld die eerste siklus dek elk van die drie temas, waarna 'n tweede siklus volg om die temas verder uit te brei. Toerusting kan op verskillende maniere aangebied word.

    Geloofsontwikkeling van die kategeet

    Dit is belangrik dat kategete in hulle geloof opgebou word. 'n Dieper verstaan van wie die kategeet is en wie God is,26 lei tot persoonlike transformasie, wat op sy beurt die vermoë skep om ander te beïnvloed en te verander. Persone betrokke by geloofsvorming kan dikwels voel dat hulle voortdurend moet gee sonder of self te ontvang. Toerustingsgeleenthede behoort juis die geleentheid te skep om te ontvang en om geestelik opgebou te word. Adolessente het geloofsrolmodelle nodig - iets wat nie uit 'n boek geleer kan word nie, maar uit die lewensvoorbeeld van 'n toegewyde Christen. 'n Toerustingsgeleentheid wat fokus op geloofsontwikkeling moet meer bied as net 'n lesing; dit moet gebed, gemeenskapsbou, leer, kritiese analise, refleksie en gesprek27 insluit.

    Die toerustingsgeleentheid behoort met genoeg tyd vir gebed te begin - vir mekaar as kategete en vir die kinders of adolessente wat betrek word. Kategete word aangemoedig om gebedsmaats te hê en gereeld vir die kinders of adolessente in hulle klas te bid. Deur mekaar beter te leer ken, ontwikkel vertroue en 'n ruimte waarin geloofsake vryelik met mekaar gedeel word. Gesamentlike aktiwiteite, of dit nou kreatief of sportief is, help om gemeenskap met mekaar te bou. Gereelde informele byeenkomste, soos kwartaallikse koffiedrink-sessies, kan ook 'n gevoel van 'behoort aan 'n groep' [belonging] bevorder. Tydens toerustingsessies wat fokus op die tema 'geloofsontwikkeling van die kategeet', kan praktiese aktiwiteite, soos die versiering van die lokale, ensovoorts, gebruik word om gemeenskap te versterk.

    Gedurende die toerustingsessie moet nuwe kennis oor byvoorbeeld Bybelstudiemetodes, of verskillende aspekte van gebed, of joernaalskryf gedeel word. Dit kan ook die bywoning van 'n retraite insluit. Volgens Schaeffer28 is 'n belangrike aspek van effektiewe geloofsvormingsgeleenthede dat hierdie inligting krities geanaliseer word, eerder as om bloot as inligting oor te dra. Aan die einde van die toerustingsessie reflekteer die deelnemers oor dit wat hulle geleer het en hoe dit hulle eie geloof kan verryk. Hierdie refleksie behoort ook tuis voort te gaan, sodat die nuwe kennis in hulle geloofspraktyke geïntegreer word.

    Gesprekke oor teologie en geloof is noodsaaklik vir groei en geestelike bloei. Gemeenskap [koinonia], waar hierdie dialoog plaasvind, is van kritieke belang vir die geloofsvorming van kategete.29

    Ontwikkelingsfases van kinders of adolessente30

    Die kategeet moet begrip hê vir die ontwikkelingsfase van die kind of adolessent waarmee hulle werk. Deur bewus te wees van die digitale wêreld waarin kinders en adolessente funksioneer, kan groter insig en begrip vir verskillende ouderdomme gekweek word. Toerustingsessies kan aangebied word om kategete oor hierdie ouderdomsgroepe in te lig met die doel om die geleenthede en uitdagings van elke fase te verstaan. Hierdie groepe sluit voorskools, Graad 1-3, 4-7, 8-10, en 11-12 in. Inligting oor die fisiese, sosiale, emosionele en intellektuele vermoëns van elke groep31 is nuttig en kan deur spesialiste soos onderwysers, arbeidsterapeute of sielkundiges aangebied word. Hieronder volg 'n kort oorsig van die geleenthede en uitdagings per ouderdomsgroep waarop daar in 'n toerustingsessie uitgebrei kan word:

     

    Voorskools (4-6 jaar)

    Geleenthede: Kinders in hierdie ouderdomsgroep is kognitief op 'n pre-operasionele fase, psigososiaal in die 'inisiatief vs. skuldgevoel'-fase, en in die intuïtief-projektiewe geloofsfase. Hulle is fisies baie aktief, ontwikkel fyn motoriese vaardighede, is verbeeldingryk en kreatief, en hulle taalgebruik verbeter. Stories en geloofsrolmodelle speel 'n kragtige vormende rol.

    Uitdagings: Kinders in hierdie fase is geneig tot egosentrisme en vind dit moeilik om by situasies aan te sluit wat hulle nie direk raak nie. Weens die 'inisiatief vs skuldgevoel'-fase is hulle ook onseker as gevolg van skuldgevoelens, wat tot oorafhanklikheid van ouers lei.

     

    Vroeë laerskool (7-9 jaar)

    Geleenthede: Hierdie kinders is kognitief in die konkreet-operasionele fase, psigo-sosiaal in die 'produktiwiteit vs. minderwaardigheid'-stadium en in die mities-letterlike geloofsfase. Hierdie kinders begin meer bewus raak van die wêreld rondom hulle, selfdissipline neem toe, en Bybelstories en ander praktyke in die geloofsgemeenskap laat die kinders al meer besef dat hulle aan 'n sekere 'groep mense' (wat dieselfde waardes deel) behoort. Kinders leer effektief deur sosiale interaksie.

    Uitdagings: Seuns en dogters van hierdie ouderdomsgroep wil nie altyd graag saamwerk nie. Hulle sukkel soms om gemaklik te voel met hulle eie vermoëns en dit beïnvloed hulle bereidwilligheid om nuwe dinge aan te pak omdat hulle waarskynlik sal voel dat hulle pogings nie goed genoeg sal wees nie. Hierdie kinders verstaan nog nie abstrakte konsepte soos beeldspraak nie.

     

    Laat laerskool (10-12 jaar)

    Geleenthede: Kinders in hierdie fase is steeds in die 'produktiwiteit vs. minderwaardigheid'-fase en kognitief is hulle op die konkreet-operasionele fase (verstaan die wêreld deur logiese denke en kategorisering), maar beweeg geleidelik oor na formeel-operasionele hipotetiese denke. Hulle begin logies dink en morele reëls vanuit die Bybel toepas. Hulle bly in die mities-letterlike geloofsfase.

    Uitdagings: Fisiese veranderings wat met puberteit verband hou, begin voorkom en dit het onder meer 'n invloed op hulle vrymoedigheid. Kinders sukkel nog met abstrakte en hipotetiese denke, hoewel dit by sommige reeds op 12-jarige ouderdom begin ontwikkel.

     

    Vroeë hoërskool (13-15 jaar)32

    Geleenthede: Adolessente in hierdie fase bereik die formeel-operasionele stadium, waar hulle oor die wêreld kan redeneer en hipotetiese situasies begin bespreek. Sosiale verhoudings is belangrike ervarings wat hulle help om agter te kom wie hulle is en watter mikpunte hulle vir hulleself stel. Hulle betree die sinteties-konvensionele geloofsfase en begin die Bybel as 'n groter geheel sien en nie net 'n klomp losstaande verhale nie.

    Uitdagings: Weens die kognitiewe fase waarin adolessente is, is hulle baie krities oor wat hulle hoor, en aanvaar nie maklik alles wat aan hulle vertel word nie. Dit bied egter juis die geleentheid om dit vir hulleself uit te redeneer en toe te eien. Psigososiaal is hulle in die 'identiteit vs. verwarring'-fase, eksperimenteer dikwels met verskillende rolle en probeer so uitvind wie hulle is - wat tot onsekerheid kan lei. Aanvaarding deur hulle portuurgroep is 'n belangrike uitdaging.

     

    Laat hoërskool (16-18 jaar oud)

    Geleenthede: Baie mense bly in die sinteties-konvensionele fase van geloof vandat hulle ongeveer 13 jaar oud is. Adolessente begin geloof as hulle eie ervaar en nie net as 'n nalatenskap van hulle ouers nie. Hulle raak meer bewus van ander se opinies oor hulle geloof en hulleself. Die begeleiding van adolessente om hulle eie identiteit te ontdek, bied 'n spesiale geleentheid aan kategete. Interaksie help om kennis en vaardighede asook hoër-orde denke te ontwikkel.

    Uitdagings: Hierdie ouderdomsgroep is nog steeds besig om hulle identiteit en rolle in die gemeenskap te definieer. Een van die uitdagings is om getrou te wees aan wie jy is te midde van sosiale eise. 'n Swak selfbeeld, 'n gebrek aan selfvertroue en probleme om hulleself te 'commit', kan hindernisse skep. Om innerlik gemotiveerd te wees, speel 'n groot rol in die blywende betekenis van kategese of geloofsvorming.

    Digitale wêreld

    Die digitale omgewing het 'n groter impak op mense as vroeëre uitvindsels, aangesien dit die mens op 'n baie persoonlike vlak raak: kommunikasie, verhoudings en kennis.33 Die digitale wêreld is nie net 'n stuk gereedskap nie, maar 'n omgewing.34 Waar vorige generasies immigrante is, voel adolessente tuis in die digitale wêreld.35 Dit het 'n invloed op hulle siening van gesag en sosiale verbintenisse. Gesag word nie meer aan 'n titel (bv. kategeet of dominee) gekoppel nie, maar aan egtheid.36 Hierdie generasie het ook 'n behoefte aan egte (outentieke) sosiale verbintenisse.37 Kategete moet bewus wees van hierdie digitale realiteite en hoe dit adolessente se leefwêreld vorm en hulle beïnvloed. Dit sal die kategeet help om hulle beter te verstaan en moontlik aanpassings te maak waar nodig.

    Vaardighede

    Die eerste twee temas van toerusting fokus op spesifieke kennis wat kategete kan help. Hierdie laaste tema plaas die klem op vaardighede wat geloofsvorming vir die kategeet sowel as die kind of adolessent meer betekenisvol kan maak. Uit die navorsing het die volgende spesifieke behoeftes na vore gekom38:

    • Hulp word verlang om teoretiese kennis meer prakties te maak, sodat adolessente dit makliker in hulle daaglikse lewens kan integreer. Nou verwant hieraan is die behoefte aan toerusting oor hoe om 'n klas effektief aan te bied.

    • Ondersteuning om moeilike vrae te hanteer en sinvol te beantwoord.

    • Skrifinterpretasie - kategete het aangedui dat hulle meer opleiding nodig het in Skrifinterpretasie wat ooreenstem met die denominasie se tradisie.

    Toerustingsgeleenthede wat vaardighede beklemtoon, kan praktiese aktiwiteite insluit, soos wenke uitruil tussen kategete of maandelikse 'meesterklasse' waarin saam beplan word hoe om inhoud prakties en relevant oor te dra. Spesifieke temas kan ook in oënskou geneem word, soos hoe om groepe te bestuur, deelname te bevorder, konflik te hanteer, en moeilike vrae te beantwoord.

    Vervolgens is 'n oorsig van die kernonderwerpe wat uit die navorsing na vore gekom het en hoe dit in toerustingsessies aangepak kan word.

    Kennis na praktyk: Die kategeet moet bewus wees van die begrip- en ervaringsvlak van die kinders en adolessente in hulle klas. Hiervolgens moet die les dan aangebied word met praktiese voorbeelde wat toepaslik is vir die leefwêreld van die kinders of adolessente. Vygotksy39 beklemtoon dat onderwysers en leerders beurte moet neem om leiding te gee deur besprekings wat opsommings en verduidelikings behels - iets wat in geloofsvormingsessies toegepas kan word.

    Navorsing toon dat gehegtheidsteorie 'n belangrike rol in geloofsvorming speel.40 Counted41 het bevind dat geloofsvorming wat as 'n 'omgee-ervaring' beleef word 'n groter impak op adolessente het en hulle 'gehegtheidsgedrag' teenoor God positief beïnvloed.42 Dit wys dat kennis wat binne die konteks van 'n positiewe verhouding oorgedra word, baie betekenisvoller vir die adolessent is.

    Beantwoording van moeilike vrae: Kinders en adolessente behoort altyd te beleef dat daar met respek en belangstelling na hulle geluister word. Moeilike vrae is nie noodwendig 'n teken van rebellie of geloofstwyfel nie, maar kan eerder dui op 'n gesonde soeke na begrip, veral vanaf die formeel-operasionele kognitiewe fase. Indien die kategeet nie self die vrae kan of wil antwoord nie, kan kundiges genooi word om op spesifieke 'vraedae' antwoorde te gee. Dit is belangrik om vas te stel waarom spesifieke vrae gevra word - of dit uit blote nuuskierigheid, persoonlike omstandighede of uit onlangse gebeure voortspruit, en dit behoort opgevolg te word indien moontlik.43

    Skrifinterpretasie: Die materiaal wat vir geloofsvorming gebruik word, behoort by die denominasie se tradisie van Skrifinterpretasie aan te sluit.44 Toerustingsessies oor Skrifinterpretasie kan riglyne verskaf oor die konteks van 'n teksgedeelte, verskillende literatuursoorte in die Bybel, die sosiale omstandighede van die eerste hoorders van die teks, en hoe hierdie faktore tot die verstaan en interpretasie van die Skrif bydra.

    Koinonia - Verhoudingsbou

    'n Vierde belangrike tema vir die toerusting van begeleiers is die benadering tot onderrig as 'n koinoniale gebeurtenis - dit wil sê verhoudingsbou. Hierdie benadering sluit aan by Vygotsky45 se siening dat kennis deur sosiale interaksie verkry word. Die waarheid dat God mense deur ander mense benader, impliseer ook dat God diegene wat met die jeug werk, deur die jeug nader.46 Daarom is dit noodsaaklik dat hierdie tema in toerustingsessies aandag geniet. Kinders en adolessente moet koinonia met mekaar en met die kategeet beleef as deel van hulle geloofsvorming. Donlan, McDermott en Zaff47 het elemente geïdentifiseer wat noodsaaklik is vir die bou van goeie verhoudings. Die volgende aspekte behoort tydens toerusting oor hierdie tema48 beklemtoon te word:

    Regte persoon: Dit is noodsaaklik om die regte persoon met die regte kinders of adolessente te verbind. 'n Persoon wat gemeenskaplike ervarings met die kinders of adolessente deel, oop is vir ontmoetings, bereid is om van hulleself te gee, energie kry uit die jeug, en positiewe verwagtings van die jeug koester49 is in staat om sterk verhoudings met hulle te bou.

    Respek: Die begeleier moet respek teenoor die kind of adolessent toon deur opreg en eg te wees en die kind of adolessent te ontmoet waar hulle tans is.50 Egtheid en eerlikheid is van kardinale belang in die bou van respek in 'n verhouding. Elke kind of adolessent moet as 'n individu hanteer word, aangesien hulle akademiese, sosiale en sportlewe verskillend is.

    Inligting insamel: Om 'n verhouding te bou, moet die begeleier moeite doen om die kind of adolessent beter te leer ken. Algemene inligting oor die kind se familie-agtergrond, verjaarsdae, belangstellings en ideale is waardevol om hulle beter te verstaan. Hierdie inligting kan verkry word deur gesprekke met die kind of adolessent self, hulle familie, of ander betrokkenes in hulle lewe, sowel as deur informele geleenthede buite kerkverband.51

    Konsekwentheid: Kinders en adolessente beleef konsekwentheid wanneer die begeleier gereeld by geloofsvormingsgeleenthede teenwoordig is, asook in ander situasies buite die gemeente52 beskikbaar is.

    Ondersteuning: Dit is baie goed vir die wedersydse verhouding indien die begeleier die kind of adolessent op verskeie maniere ondersteun. Donlan53 identifiseer vier tipes ondersteuning:

    • Instrumentele ondersteuning: verskaffing van hulpmiddels.

    • Emosionele ondersteuning: 'n bron van empatie en begrip.

    • Inligting: deel van relevante inligting soos oor kampe of ander geleenthede.

    • Terugvoer: erkenning van prestasies.

    Wanneer kinders en adolessente beleef dat die begeleier hulle ondersteun, versterk dit die wedersydse verhouding en daar ontstaan 'n vertrouensverhouding. Hierdie vertroue skep meer en beter geleenthede vir die kind of adolessent om binne 'n koinoniale konteks te leer en te groei.

     

    Samevatting

    Hierdie artikel het die volgende vrae ondersoek: Watter behoeftes rakende toerusting het persone wat by geloofsvorming betrokke is? Op welke wyse kan persone gemotiveer word om toerusting by te woon? Geloofsvorming sluit verskeie begeleiers van kinders en adolessente in. Die verskillende rolle wat hierdie begeleiers kan vervul, soos mentor, kurator, afrigter, onderwyser of rolmodel, is bespreek. Toerusting van hierdie begeleiers is noodsaaklik om geloofsvormingsgeleenthede sinvol en effektief te maak. Die navorsing het drie breë temas vir toerusting geïdentifiseer: die geloofsgroei van die kategeet; kennis van die leefwêreld van die kind of adolessent; en vaardighede om die inhoud op so 'n manier oor te dra dat dit geïntegreer kan word in die kind of adolessent se lewe. 'n Vierde tema, naamlik verhoudingsbou, is ook uitgelig in die lig van die koinoniale aard van onderrig in die didache.

    Navorsing deur Rop, Ngige en Kiambi54 toon dat die vaardighede van die persoon wat by geloofsvorming betrokke is, 'n sleutelrol speel in die suksesvolle oordra van geloof. Dit is daarom belangrik om die ontwikkeling van hierdie vaardighede prioriteit te gee. Indien 'n geloofsgemeenskap ernstig is oor die geloofsvorming van kinders en adolessente, behoort die toerusting van begeleiers hoog op die agenda te wees. Persone wat nie bereid is om aan toerustingsgeleenthede deel te neem nie, is moontlik nie die geskikste om by die gemeente se geloofsvorming betrokke te wees nie. Soos ander gemeentelike aktiwiteite deeglik beplan word, moet toerustingsgeleenthede as 'n normale deel van die gemeente se aksies geïntegreer word.

    Transformerende leierskap is noodsaaklik om begeleiers te motiveer en toe te rus. Hierdie tipe leierskap help om identiteit, missie, kultuur en funksionering fundamenteel te verander.55 Begeleiers moet betrek word by die beplanning en bepaling van behoeftes vir toerustingsgeleenthede. Sulke geleenthede moet sinvol en die moeite werd wees om by te woon. Ons streef daarna om ons beste te lewer in diens van ons Groot Leermeester!

     

    Erkennings

    Mededingende belange

    Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

    Outeursbydrae

    L.H. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

    Befondsingsinligting

    Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

    Etiese oorwegings

    'n Aansoek om volle etiese goedkeuring is by die Navorsings Etiese Komittee, Universiteit Pretoria ingedien en etiese toestemming is op 1 Desember 2022 ontvang. Die etiese goedkeuringsnommer is T111/22.

    Databeskikbaarheidsverklaring

    Die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, is openlik beskikbaar in Universiteit van Pretoria navorsingsdata by https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1.

    Vrywaring

    Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

     

    References

    Aldred, P., Fusco, D., Edards, K. & Cullen, F., 2018, The SAGE handbook of youth work practice, Sage Publications, Los Angeles, CA.         [ Links ]

    Baumann, M. & Dreyer, J.S., 2024, 'Why I like to be a role model of faith and yet am afraid of it. An empirical study among protestant youth leaders in Germany', Journal of Youth and Theology 23(31), 70-101. https://doi.org/10.1163/24055093-bja10043        [ Links ]

    Bybelkor, 1985, Bekwaam om te leer. 'n Kursus vir die toerusting van kategete in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Bybelkor, Kaapstad.         [ Links ]

    Caskey, M. & Anfara, V.A., 2014, Developmental characteristics of young adolescents, viewed 14 November 2024, from https://www.researchgate.net/profile/Micki-Caskey/publication/341552860_Developmental_Characteristics_of_Young_Adolescents_Research_Summary/links/5ec6c159458515626cbf1eb7/Developmental-Characteristics-of-Young-Adolescents-Research-Summary.pdf.         [ Links ]

    Cherry, K., 2024, Erikson's stages of development. A closer look at the eight psychosocial stages, viewed 06 September 2024, from https://www.verywellmind.com/erik-eriksons-stages-of-psychosocial-development-2795740.         [ Links ]

    Conn, J.W. (ed.), 1986, 'Fowler's stage of faith development', in Women's spirituality: Resources for Christian development, pp. 226-232, Paulist Press, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Counted, V., 2016, 'The psychology of youth faith formation: A care-giving faith?', Journal of Youth and Theology 15(2), 146-172. https://doi.org/10.1163/24055093-01502004        [ Links ]

    Da Silva, A.A., 2019, 'Catechesis in the digital age: From transmission to sharing', Communication Research Trends 38(4-5), 11-20.         [ Links ]

    Deci, E. & Flaste, R., 1996, Why we do what we do: Understanding self-motivation, Penguin Books, London.         [ Links ]

    Donlan, A.E., McDermott, E.R. & Zaff, J.F., 2017, 'Building relationships between mentors and youth: Development of the TRICS model', Children and Youth Services Review 79, 385-398. https://doi.org/10.1016/j.childyouth.2017.06.044        [ Links ]

    Encyclopedia Britannica, 2024, Jean Piaget, Swiss Psychologit, viewed 07 September 2024, from https://www.britannica.com/science/child-development-process.         [ Links ]

    Groome, T., 1980, Christian religious education. Sharing our story and vision, Josey Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

    Kristeno, M.R. & Tarihon, E., 2023, 'Children's faith development through faith formation activities', Mysterium Fidei: Journal of Asian Empirical Theology 1(3), 146-151.         [ Links ]

    Matthee, N., 2023, UP Navorsingsprojek: Geloofsontwikkeling (Kategetiek) data, Ongepubliseerde verslag, https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1        [ Links ]

    McLeod, S., 2024, Kohlberg's dtages of moral development, viewed 07 September 2024, from https://www.simplypsychology.org/kohlberg.html.         [ Links ]

    Moltmann, J., 1981, The trinity and the Kingdom of God: The Doctrine of God, transl. M. Kohl, Harper and Row, San Francisco, CA.         [ Links ]

    Munthe, B., Surait, T., Bangun, B. & Sihombing, S., 2023, 'The role of the teacher in implementing Christian religion education in growing Christian faith for early age children', Jurnal Obsesi: Jurnal Pendidikan Anak Usia Dini 7(3), 2641-2649. https://doi.org/10.31004/obsesi.v7i3.4484        [ Links ]

    Nel, M., 2015, 'Imaginemaking disciples in youth ministry ... that will make disciples', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), Art. #2940, 1-11. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.2940        [ Links ]

    Nel, M., 2018, Youth ministry. An inclusive missional approach, vol. 1, HTS Religion and Society Series, Cape Town.         [ Links ]

    Osmer, R.R., 2008, Practical theology. An introduction, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Richards, L.O., 1983, A theology of children's ministry, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Roberto, J., 2015, Reimagining faith formation for the 21st century: Engaging all ages & generations, Lifelong Faith Publications, Naugatuck.         [ Links ]

    Rop, C., Ngige, J. & Kiambi, J.K., 2021, 'Influence of teachers' comptetence on success of sunday school as a missionfield at African inland church, Bondeni local church, Kenya', International Journal of Research 9(9), 192-202. https://doi.org/10.29121/granthaalayah.v9.i9.2021.4226        [ Links ]

    Schaeffler, J., 2015, 'Motivation for adult faith formation', Lifelong Faith: The Theory and Practice of Lifelong Faith Formation 8(2), 34-39.         [ Links ]

    Schoeman, S.J., 2017, 'The formation of lived faith in children: A partnership between congregation and home', PhD thesis, Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

    Scholtz, J.W., Nel, M. & Beukes, J., 2024, 'Die bediening aan enkelouergesinne met adolessente: 'n inklusiewe en intergenerasionele uitdaging', In die Skriflig 58(1), a3033. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3033        [ Links ]

    Shabani, K., 2016, 'Applications of Vygotsky's sociocultural approach for teachers' professional development', Cogent Education 3(1), 252177. https://doi.org/10.1080/2331186X.2016.1252177        [ Links ]

    Spicer, S., 2017, 'Adolescence in the church: Perspectives from college students and adults on mentorship and Christian formation', in Proceedings of the National Conference On Undergraduate Research (NCUR) 2017, Memphis, TN, April 06-08, University of Memphis, pp. 1087-1093.         [ Links ]

    Vygotsky, L.S., 1981, 'The development of higher forms of attention in childhood', in J.V. Wertsch (ed.), The concept of activity in soviet psychology, pp. 189-240, Sharpe, Armonk, NY.         [ Links ]

    Wes-Kaap Sinode, 2017, Jeug strategie gesprekshandleiding. Jeug- en Familiebediening, Wes-Kaap Sinode, viewed 14 Junie 2024, from https://dinkjeug.co.za/geloofsvorming-hulpmiddel/.         [ Links ]

    Zatwardnicki, S., 2023, 'The rule of faith, the scripture and tradition: A voice in the discussion on the doctrine of the holy scripture', Collectanea Theologica 93(3), 51-87. http://doi.org/10.21697/ct.2023.93.3.03        [ Links ]

     

     

    Correspondence:
    Lyzette Hoffman
    hoffmanl@ufs.ac.za

    Received: 12 Sept. 2024
    Accepted: 14 Nov. 2024
    Published: 27 Feb. 2025

     

     

    Note: Special Collection: The manuscript is a contribution to the themed collection titled 'Geloofsreis. Inwyding, Begeleiding en Onderskeiding nuut ontdek' under the expert guidance of guest editor Prof. Malan Nel.
    1. Hierdie artikel is die negende in 'n reeks van 10 in hierdie Supplementum. Soos die ander is ook hierdie artikel 'n teologiese refleksie op 'n konsep wat uit die analise van 123 kwalitatiewe onderhoude kom. Die onderhoude was deel van 'n empiriese navorsingsprojek oor geloofsontwikkeling/kategese waaraan vier Afrikaanssprekende denominasies binne die Reformatoriese tradisie deelgeneem het.
    2. 'n Ander artikel (nommer 8) fokus op die toerusting van ouers.
    3. Schoeman (2017:v).
    4. Nel (2018:277; vgl. ook artikel 1 in hierdie bundel).
    5. Kristeno en Tarihon (2023:146).
    6. Roberto (2015:79).
    7. Wes-Kaap Sinode (2017:n.p.).
    8. Spicer (2017:1087).
    9. Munthe et al. (2023:2641).
    10. Baumann en Dreyer (2024:70).
    11. Nel (2018:36).
    12. Schoeman (2017:108).
    13. Vygotsky (1981:144).
    14. Shabani (2016:1).
    15. Vergelyk Shabani (2016).
    16. Groome (1980:68).
    17. Baumann en Dreyer (2024:74).
    18. Baumann en Dreyer (2024:85).
    19. Scholtz, Nel en Beukes (2024:4).
    20. Deci and Flaste (1996:10).
    21. Schaeffler (2015:36).
    22. Schaeffler (2015:38).
    23. Schaeffler (2015:37).
    24. Vergelyk Matthee (2023).
    25. Vergelyk Artikel 2 in hierdie bundel.
    26. Nel (2015:7).
    27. Schaeffler (2015:37).
    28. Schaeffler (2015:37).
    29. Vergelyk Moltmann (1981:xii-xiii).
    30. Bybelkor (1985:70-122); Caskey en Anfara (2014).
    31. Vergelyk vir Jean Piaget oor kognitiewe ontwikkeling, Encyclopedia Britannica (2024); Vygotsky (1981) oor kognitiewe ontwikkeling en sosiale faktore; Kohlberg (McLeod 2024) oor morele ontwikkeling; Erikson (Cherry 2024) oor psigo-sosiale ontwikkeling; Fowler (Conn 1986) oor geloofsontwikkeling. Vir 'n sinvolle gesinchroniseerde weergawe, vergelyk Richards (1983:149-165).
    32. Vergelyk weer artikel 2 in hierdie bundel.
    33. Da Silva (2019:11).
    34. Da Silva (2019:12).
    35. Da Silva (2019:14).
    36. Da Silva (2019:14).
    37. Da Silva (2019:14).
    38. Vergelyk weer Matthee (2023).
    39. Vygotsky (1981:189).
    40. Counted (2016:146).
    41. Counted (2016:146).
    42. Counted (2016:170).
    43. Vergelyk Aldred et al. (2018).
    44. Zatwardnicki (2023:51).
    45. Vygotsky (1981:240).
    46. Nel (2018:298).
    47. Donlan, McDermott en Zaff (2017).
    48. Vergelyk veral ook artikel 3 in hierdie bundel.
    49. Donlan et al. (2017:390).
    50. Donlan et al. (2017:391).
    51. Vergelyk Donlan et al. (2017:391).
    52. Donlan et al. (2017:392).
    53. Donlan et al. (2017:393).
    54. Rop, Ngige en Kiambi (2021:192).
    55. Osmer (2008:177).