SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.45 issue1The / r / in Afrikaans: Phonetic and phonological featuresEerbetoon aan Pieter Fourie author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Literator (Potchefstroom. Online)

    On-line version ISSN 2219-8237
    Print version ISSN 0258-2279

    Literator vol.45 n.1 Mafikeng  2024

    http://dx.doi.org/10.4102/lit.v45i1.2065 

    BOOK REVIEW

     

    Die noodsaaklike belang van die wisselwerking tussen mites en rede / The vital importance of the interplay between myth and reason

     

     

    Anné H. Verhoef

    Department of Philosophy, Faculty of Humanities, North-West University, Potchefstroom, South Africa

    Correspondence

     

     

     

    Book Title: In die rede geval. Waarom die mens mites maak
    Author: Charl-Pierre Naudé
    ISBN: 978-1-77617-297-9
    Publisher: De Kelders, 2023, R 320.00*
    *Book price at time of review

    Met 'n navorsingsbesoek in 2014 aan die Katolieke Universiteit van Leuven, België, het ek vir 'n paar maande ingeskakel by 'n akademiese leesgroep wat uit filosowe van drie Belgiese universiteite, naamlik die Universiteite van Gent, Antwerpen en Leuven bestaan het. Die boek wat saam gelees en bespreek is deur die leesgroep, was Arbeit am Mythos (1979) van die Duitse filosoof Hans Blumenberg (1922-1996). Die keuse van hierdie boek deur hierdie groep is veelseggend, aangesien dit die belang en invloed van Blumenberg raak. Met Charl-Pierre Naudé se boek, In die rede geval (2023), kry Blumenberg 'n vars, unieke interpretasie en broodnodige bekendstelling in Afrikaans. Naudé vergroot nie net hiermee Blumenberg se invloed in die Afrikaanse wêreld nie, maar vestig homself hiermee as filosoof en as kreatiewe en kritiese denker.

    In die voorwoord van die boek verduidelik Naudé dat dit hier om die verhouding tussen mite en rede gaan, en dat die verheldering van hierdie verhouding aan die hand van Blumenberg se boek, lig kan werp op die onsekerheid en problematiek van die moderne mens rakende hul oriëntasie in ons kontemporêre wêreld. Die deurslaggewende vertrekpunt van Blumenberg wat Naudé omhels, is die feit dat mites nie net as soort versiersel in menslike denke funksioneer nie, maar dat dit saam met die rede 'n 'basiese rooster' (p. 17) vorm wat alle denke ondervang. Die invloed van Immanuel Kant is vanuit die staanspoor hier duidelik, en Naudé beklemtoon deurgaans dat mitiese denke vir die mens 'basies en onmisbaar' (p. 17) is. Denke bestaan breedweg in twee vorms, naamlik mitewerkend of redewerkend, en dit hang bloot van die behoefte van die mens af watter een na vore tree. Mites verleen aan die mens 'n gevoel van verborgenheid, terwyl die rede die mens se realiteit probeer verklaar en verstaan. Hierdie twee denkmodusse se vervlegting vind plaas as gevolg van die mens se behoefte aan oorlewing en daarom bly dit vir die mens van die een-en-twintigste eeu relevant. Die noodsaak om mites te waardeer, is veral nodig sedert die Verligting wat mites gereduseer het tot bloot 'estetiese verbeelding' (p. 29) sonder enige praktiese lewenswaarde vir die mens.

    Om die belang en waarde van die fundamentele wisselwerking tussen mite en rede vir ons as moderne mens aan te toon, struktureer Naudé sy boek in nege hoofstukke wat logies op mekaar volg. Die inleiding is hoofstuk 1. Die tweede hoofstuk voer aan dat die 'skrik skatte baar' en daarmee bedoel Naudé bloot dat die mens uit die angstige selfontdekking en selfbewussyn wat as skok gevolg het op die ontwikkeling as mens, sekere mites as skatte begin skep het. Die mites in reaksie op hierdie primordiale angs was waardevol in die skep van sekuriteit en uiteindelik oorlewing vir die mens. Soos Naudé dit stel:

    Die vroeë mense se eerste aanraking met die absolutisme van die realiteit in sy [sic] voorverlede [Vorvergangenheit] bring 'n toestand van intense onrustigheid mee. Die onrustigheid is aanvanklik as 'n vormlose angs ervaar. Dit was 'n ervaring van ongespesifiseerde beroering. (p. 65)

    Die mens se aanvanklike behoefte was blote beskerming teen die skrik en daarom het verskillende mites met wisselende waardes, waarvan godsdiens ook deel gevorm het, 'n verskyning begin maak. Hierdie soort mites word uiteindelik as rede voorgehou soos wat in die 'Christelike dogma' (p. 70) gesien kan word, maar dit kan ook andersom gebeur: die rede gebruik mites om verder te kan redeneer soos wat Nietzsche dit uitstekend gedoen het. Uiteindelik leef ons met 'n vervlegting van mite en rede wat die ganse geskiedenis van 'n mens deurkruis.

    In die derde hoofstuk vra Naudé na aanleiding van die vervlegting van mites en rede, waarop die mens dan werklik kan hoop. Is mites nader aan die waarheid, of die rede? Is sekularisasie (wegdoen van mites) of reokkupasie (herwaardering en inhoudgewing van mites) die antwoord op die moderne mens se soeke na sin in hierdie lewe? Naudé wys daarop dat mites nooit op volledige waarheid aanspraak gemaak het nie en dat rede sowel as mite saam die mens se 'basiese eksistensiële dilemmas' (p. 78) in oënskou neem. Die goeie voorbeeld van Dorian Gray-sindroom word dan deur Naudé bespreek wat dit duidelik maak dat, selfs in ons moderne tyd, daar 'n noodsaak is aan die vervlegting van mite en rede om nader aan die waarheid te beweeg. Die waarheid is in hierdie opsig ook nie meer afhanklik van 'n transendente gegewe (byvoorbeeld God) nie. Met ander woorde, die vraag waarop mens kan hoop, is in die Middeleeue as 'God se genade' (p. 101) beantwoord, maar na die Verligting is die antwoord met kennis vervang om 'meer oor die skepping te wete te kom' (p. 102).

    Mites val egter nie net weg in hierdie skuif na kennis ná die Verligting nie. Die proses behels nie net bloot sekularisering nie, maar dit is eerder 'n geval dat die mites deurlopende betekenisskuiwe maak deur reokkupasie waar betekenisonderbrekings voorkom. Die skets op bladsy 125 is in hierdie opsig verhelderend en Naudé noem as voorbeeld hoe 'die wetenskap en kosmologie die begin van 'n nuwe tyd stadig begin inlui het' (p. 124) deur die reokkupasie van die teologie.

    Hoofstuk 4 neem die gedagte verder dat mites die 'oudste betekenismodus [is] wat sin gee aan die bestaan as 'n projek van hoop' (p. 129). Waar die oudste mites vandaan kom en wat presies dit is, bly 'n onmoontlike vraag om te antwoord, en Naudé bespreek verskeie historiese moontlikhede in hierdie verband. Die estetiese, rituele, narratiewe, tragedies, en die verstaan van tyd (en die tydlose) is alles saam in van die oudste mites vervleg. Die behoefte aan 'n totale mite, 'wat lyk of dit alle belewenis kan en moet verklaar' (p. 159), is nog altyd 'n behoefte, en Freud se tese van die mens se doodsinstink kom, volgens Blumenberg, baie naby aan so totale mite. Naudé maak hieroor die belangrike opmerking rakende die wisselwerking van mite en rede:

    ['n] mitiese patroon bring by Freud 'n wetenskaplike teorie voort. 'n Mens kan vra: is dit geldig om wetenskaplike verklarings te maak aan die hand van patrone gevind in stukke 'fiksie'? Dit is egter 'n ingeligte aanname om te maak dat die mens se mitiese motiewe geskryf het aan die mens se lewenswêreld, en dit is die lewenswêreld wat die wetenskap voortbring. (p. 162)

    'n Belangrike menslike behoefte wat hierin na vore kom, is die 'allerbelangrike behoefte na sinrykheid' (p. 165) - die soort mites wat alle tyd en ruimte kan omvat. Naudé bespreek in hierdie opsig weer die rol van Christelike dogma en wys ook op die moontlike gevare daarvan. Die volgende hoofstuk fokus dan logieserwys op die 'behoefte aan 'n ander god' (p. 185).

    Hoofstuk 5 analiseer die patroon in mitewerking waarin daar telkens 'n behoefte is aan 'n ander god. Dit gaan hier om die behoefte van die mens om 'n psigiese tuiste te vind 'in beskerming teen die afgrondelike primordiale angs, wat teweeggebring is deur die absolutisme van die realiteit' (p. 187). Mens wil nie hierdie beskerming verloor nie, maar die mites oor die gode wys dat die gode 'teenstrydige karaktereienskappe [toon] wat verraai dat hulle oor lang tye gevorm is' (p. 192). Daar is lae van ontwikkeling wat hierdie mites betref en dit duur steeds voort. Naudé toon aan in hierdie hoofstuk hoe dit juis in ons verhale - die letterkunde - is wat mens hierdie gode se ontwikkeling ontbloot sien.

    In hoofstuk 6 bespreek Naudé die ander gode se 'verdere gedaantes' meer in diepte (p. 239). Hy voer aan: 'Mitewerkende patrone kan as diepliggende narratiewe "gleuwe" in die psige van die mens beskryf word waaruit individue put soos wat hulle hul lewens skryf' (p. 243). Dit gaan toenemend oor wat binne mens se beheer is. Die hoofstuk toon dan aan hoe geskiedkundige figure soos Napoleon en Mandela 'die andergod-soeke in hul tydsgewrigte wakker gemaak en bewustelik of onbewustelik daarop staatgemaak het om hulself tot vergestalting te bring' (p. 308). Naudé noem dan hierdie andergod-soeke ook in kuns en kultuur (in kunsprodukte maar ook in die kunstenaars se beeldskepping van hulself) voorkom, maar dat dit 'n vergeefse projek bly. Dit is dan ook die titel van hoofstuk 7 wat die vergeefse strewe na 'n laaste mite ontbloot en afwys.

    In hoofstuk 7 word die verskil tussen grondmites ('n mite van die kollektiewe gees soos die Prometheus-tipe en dié van die sondeval) en kunsmites (vernuwende of afwykende verskrywings van grondmites vir 'n bepaalde doel) aangetoon. Filosofie sowel as die wetenskap lê, volgens Naudé, die moontlikheid van die 'verkryging van 'n finale antwoord' (p. 314) van 'n finale mite af. Dit is 'n vergeefse strewe, maar ook 'n gevaarlike en somtyds vernietigende een. Naudé stel dit soos volg:

    Mitewerking - waarvan die oogmerk geborgenheid is - kan nooit sy groot versugting, om homself af te lê met 'n laaste waarheid, en sodoende die finale geborgenheid te bereik, bevredig nie. Hierdie mitiese strewe is tot ver binne redewerkings van die moderne tyd ook sigbaar, meestal onbewustelik, maar veral in die kunste, waar dit meer opsetlik nagestrewe word. (p. 385)

    As alternatief tot hierdie vergeefse strewe, fokus hoofstuk 8 op eietydse vorms van mitewerking in die geskiedskrywing, die politiek en die kuns. Uiteindelik waarsku Naudé weer in hierdie hoofstuk dat daar nie 'n 'uiteindelike antwoord' (p. 427) is nie en dat eietydse mites ook 'n vergeefse strewe na die finale uitkoms is. Dit bly tevergeefs, want die mens se 'behoefte aan geborgenheid [sal] nooit finaal bevredig kan word nie' (p. 427). Na die terugkyk oor mitewerking en hedendaagse vorming daarvan, sluit Naudé sy boek af deur op sekere toekomsprojeksies te let.

    Hoofstuk 9 lewer kritiek op Blumenberg se antropologiese model maar wys ook op kernwaardes van sy filosofie wat ons kan help om toekomsprojeksies te kan maak. Laasgenoemde is vir my die meer interessante en Naudé noem byvoorbeeld dat mitewerking die ooraanbod van politieke opsies van die laatmoderne vereenvoudig, maar dat dit ook gevaarlik kan wees, want 'mitewerking wat 'n verhouding met redewerking afwys, kan lei tot konflik' (p. 460). Aan die ander kant kry 'n mens in ideologie 'mitewerking wat met 'n rasioneel van die dogma-soort vermeng' en in politieke ideologie is dit 'wesenlik aggressief en tree dit meer met opset vreemdmakend op teenoor die "ander"' (p. 461). Mitewerking bied in hierdie opsig die waardevolle moontlikheid om ander gode te soek, maar ideologie 'se enigste god is binne homself en dié god eis onderdanigheid en volledige gehoorsaamheid' (p. 463).

    Die belang van mites word ook ten slotte uitgelig teen die agtergrond van die moderne mens se verlies aan oriëntasie en betekenisgewing binne ons tegnologies-gebaseerde verbruikerskultuur. Naudé sê die laatmoderne mens se gevoel in hierdie kultuur is dat hulle relevansie as mense ontneem is en dat hulle 'n 'ervaring van relatiewe magteloosheid' (p. 471) het. Die mens het toenemend 'n belewenis van hulself as blote statistiek in hierdie kultuur van tegnologie, en betekenisgewing word al meer dringend. Dit word deur nabootsing en vervalsing van kunswerke vererger. Naudé kan hierby die uitdaging van kunsmatige intelligensie voeg wat al meer die mens se eiewaarde en bydrae ontneem. Hoe mites en die rede in die toekoms in wisselwerking gaan tree om vir die mens uitkoms te gee wat hierdie uitdagings betref, is onseker, maar dat dit wel so in vervlegting moet gebeur, is iets wat Naudé oortuigend in hierdie boek uitwys.

     

     

    Correspondence:
    Anné Verhoef
    anne.verhoef@nwu.ac.za