Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.56 n.3 Pretoria Sep. 2016
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n3a10
AKTUEEL: DEBAT
In die Junie 2016-nommer van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe het Andries Raath (2016:573-591) in die volgende artikel 'n gesprek oor politokratiese kommunitarisme begin:
Politieke en regsfilosofiese perspektiewe op politokratiese kommunitarisme: 'n diskoers met Danie Goosen en Koos Malan
Die fokus val op politieke kommunitarisme wat, anders as die wye ondersteuning wat Ubuntu-kommunitarisme in die regsliteratuur geniet, volgens Raath beperk gebly het tot die Afrikaanse literatuur. Soos aangedui in die subtitel word meer spesifiek, in 'n diskoers met Danie Goosen en Koos Malan, gekyk na die politieke en regsfilosofiese implikasies van politieke kommunitarisme. Volgens Raath (2016:574) het "die filosofiese hiate in die staats- en regsdenke van politokratiese kommunitarisme belangrike implikasies", omdat kommunitariese politokrate nie daarin slaag om "die statisme van die liberale individualisme te oorkom en ʼn normatiewe alternatief vir statisme, politieke universalisme en die absolutistiese staat te stel nie" (ibid.).
In hierdie rubriek tree Danie Strauss toe tot die "Debat oor die moderne staat" deur aan te voer dat die tekortkominge van sowel individualistiese (atomistiese) as universalistiese (holistiese) benaderings ondervang kan word "indien erns gemaak word met die ontiese beginsels van soewereiniteit-in-eie-kring en universaliteit-in-eie-kring".
Sowel Danie Goosen as Koos Malan is van plan om repliek te lewer en hul toetrede tot die gesprek sal hopelik in die Desemberuitgawe geplaas word. Alle lesers van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe word hartlik uitgenooi om deel te neem aan die debat. Beperk u debatsbydraes tot hoogstens 2 000 woorde. Indien u sou verkies om liewer uitvoeriger by wyse van 'n navorsingsartikel te reageer sal dergelike bydraes aan die gewone prosedure van keuring onderhewig wees.
Ina Wolfaardt-Gräbe
Augustus 2016