SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

BASSON, Maylene  and  LE CORDEUR, Michael. Professionele ontwikkeling vir Afrikaans Huistaal-onderwysers ter bevordering van leesbegrip van niemoedertaalsprekers. Tydskr. geesteswet. [online]. 2017, vol.57, n.4, pp.1037-1056. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n4a11.

Hierdie studie ondersoek die professionele ontwikkelingsbehoeftes van onderwysers met betrekking tot die bevordering van die leesbegrip van niemoedertaalsprekers in Afrikaans-huistaalklasse. Gebaseer op die data wat gegenereer is, is 'n professionele ontwikkelingsprogram ontwerp en geomplementeer. Onderwysers het aangedui dat hulle oorweldig en gefrustreerd voel, omdat hulle nie oor die nodige kennis beskik om die niemoedertaalsprekers in hulle klasse in die Intermediêre fase te ondersteun nie en het behoefte gehad aan professionele ontwikkeling sodat hulle pedagogiese inhoudskennis in dié verband uitgebrei kan word. Hierdie studie het 'n gemengde navorsingsbenadering gevolg. Empiriese data is gegenereer op die volgende wyses: kwantitatiewe (vraelyste) en kwalitatiewe data (vraelyste, onderwysersjoernale, klaskamerwaarnemings en onderhoude met onderwysers). Aangesien hierdie studie die professionele ontwikkeling van onderwysers behels, is 'n teoretiese raamwerk, wat hulle voortgesette professionele ontwikkeling en groei in ag neem, oorweeg soos beskryf deur Shulman (1986) se teoretiese raamwerk. Gesprekke voor die aanvang van die studie dui daarop dat die meerderheid respondente geen professionele ontwikkeling ondergaan het aangaande die bevordering van lees- en leesbegripstrategieë van niemoedertaalsprekers in hulle Afrikaans Huistaal-klasse nie en die meerderheid respondente het aangedui dat hulle nie leesbegripstrategieë eksplisiet onderrig nie. Bevindinge van die studie dui daarop dat die professioneleontwikkelingsprogram 'n positiewe invloed op die pedagogiese inhoudskennis van die deelnemende onderwysers rakende leesmodelle en -strategieë sowel as leesbegripstrategieë gehad het. Eweneens het die professioneleontwikkelingsprogram gelei tot die verhoogde implementering van leesbegripstrategieë in hulle klasse. Voorts dui die resultate daarop dat aksienavorsing moontlik 'n bydrae kon lewer tot die effektiewe toepassing van lees- en leesbegripstrategieë in hulle klasse. Die studie, die bevindinge en aanbevelings kan as verwysing dien wanneer professionele ontwikkeling van onderwysers beplan word veral wat betref die bevordering van onderwysers se pedagogiese inhoudskennis aangaande lees- en leesbegripstrategieë van niemoedertaalsprekers.

Keywords : professionele ontwikkeling van onderwysers; pedagogiese inhoudskennis; niemoedertaalsprekers; leesbegripstrategieë; leesmodelle.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License