SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue2NP van Wyk Louw's ideal of justiceRelativisation in the poetry of NP van Wyk Louw author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

RABIE, Delia. Die arm Afrikaner in die Knysnabos: Witwees in Dalene Matthee se Moerbeibos (1987)*. Tydskr. geesteswet. [online]. 2022, vol.62, n.2, pp.392-410. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a7.

Dalene Matthee se bosromans is gekenmerk deur wat Wylie (2018:96) 'n "uneasy but deeply respectful symbiosis" tussen die bosgemeenskap en die Knysnabos noem. Hoewel die veelvlakkige verbintenis tussen die bosgemeenskap en die Knysnabos in Moerbeibos op die agtergrond afspeel, is hierdie verbintenis desnieteenstaande teenwoordig. In Moerbeibos, soos ook deurgaans in Matthee se ander bosromans, is die klem egter alleenlik op spesifiek arm, wit Afrikaners se verbintenis met die Afrikalandskap. Sodoende is die bosromans gekenmerk deur die afwesigheid van die eerste nasie(s) van die Knysnabos. Die uitbeelding van die verbintenis tussen die mens en die Afrikalandskap, en spesifiek die wit Afrikaner se aanspraak op Afrikagrond, is in konteks van die breër Afrikaanse literêre tradisie 'n verskynsel wat reeds voorkom in die eerste plaasromans (Meyer, 2016). Die plaasromans, soos Matthee se bos-romans, fokus op die (arm) wit Afrikaner se verbintenis met die Afrikalandskap. Volgens Van Coller (2006:96) is die Afrikanerruimtes wat in die eerste golf plaasromans uitgebeeld word, singewend, idillies, feodaal, mities, onvervreembaar, patriargaal, histories, en religieus. Soortgelyk aan die eerste golf plaasromans voel die hoofkarakter in Moerbeibos, Silas, tuis in die bos, ten spyte van die patriargale en byna feodale stelsels wat die houtkap-pergemeenskap verarm. Die bos word uitgebeeld as 'n idilliese ruimte waarin wette en mitiese verbintenisse tussen die mens en die niemenslike heers, terwyl dit ook 'n ruimte is waarin die bosgemeenskap in al Matthee se bosromans skynbaar deur beide die niemenslike en die regerende Britse moondheid verwerp word. Tiffany Willoughby-Herard (2007; 2015) voer aan dat die klem in die Afrikaanse letterkunde op die verbintenis tussen juis die sogenaamde armblanke en Afrikagrond deel uitmaak van die Afrikanernasionalistiese narratiewe waarin Afrikaneridentiteit, sowel as die Afrikaner se aanspraak op Afrika, bevorder word. In hierdie artikel word Dalene Matthee se tweede laaste bosroman, Moerbeibos (1987), vanuit Willoughby-Herard (2007; 2015) se werk in kritiese witweesstudies geanaliseer. Deur te steun op Van Coller (2003; 2006) se omskrywing van die Afrikalandskap soos uitgebeeld word in die plaasromans, sowel as die temas teenwoordig in die plaasromans, word die uitbeelding van 'n Afrikanergemeenskap se aanspraak op die Knysnabos en ook die afwesigheid van die Outeniqua-stam in Moerbeibos geanaliseer. Die analise van Moerbeibos in hierdie artikel fokus op die vraag oor hoe die arm, wit Afrikanergemeenskap in Moerbeibos as verstrengel met die niemenslike natuur uitgebeeld word, en of hierdie uitbeelding 'n Afrikanernasionalistiese narratief bevorder. Om hierdie vraag te beantwoord, sal daar eerstens 'n kort oorsig van die postkoloniale ekokritiek en witweesstudies uiteengesit word waarvolgens Moerbeibos se temas in verband gebring sal word met dié van die plaasromantradisie, soos deur Van Coller (2006) bespreek word.

Keywords : Moerbeibos; witweesstudies; Dalene Matthee; Afrikalandskap; wit armoede; Afrikanernasionalisme; Knysnabos; armblankevraagstuk; mens-niemenslike-verbintenis; bosroman; postkolonialisme; Self/ Ander; postkoloniale ekokritiek.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License