SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2Creolisation and healing in van Wyk Louw's Nuwe verse (New poems) and Tristia author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

DU PLESSIS, Grizelda  and  MENTZ, Kobus. Die voorbereiding van departementshoofde in sekondêre skole vir hulle taak as effektiewe onder-rigleiers. Tydskr. geesteswet. [online]. 2024, vol.64, n.2, pp.178-197. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a3.

Alle bestaande stelsels, waaronder onderwysstelsels, verander voortdurend. Die onderwys-stelsel is een van die stelsels in Suid-Afrika wat as 'n uitdaging gesien word, omdat dit die gehalte van onderrig beïnvloed. Die ernstige aard van disfunksionaliteit kan toegeskryf word aan die gebrek aan bevoegde leierskap in skole. Leerders se opvoeding en eksamenuitslae word benadeel deur swak onderrig, disfunksionele skoolbestuur, ondoeltreffende prosedures en swak hulpbronne, wat lae onderwysstandaarde tot gevolg het. Leierskapspraktyke lewer 'n groot bydrae tot die gewenste uitkomste van 'n skool. Departementshoofde is verantwoordelik vir onderrigleierskap, maar aangesien hulle selde leierskapsopleiding ontvang, is dit vir hulle onmoontlik om kennis en vaardighede op te doen om hulle voor te berei vir hulle taak as onderrigleiers. Daar is 'n ernstige behoefte aan onderrigleiers wat 'n skool professioneel kan bestuur. Die skoolhoof en personeel moet professionele leiers en bestuurders wees, sodat 'n kultuur van leer en effektiwiteit geskep kan word. Die doel van hierdie ondersoek was om te bepaal of departementshoofde oor die nodige kennis en vaardighede beskik om die leierskap- en bestuursrol in 'n sekondêre skool te vervul, hoe departementshoofde hulle bevoegdheid in hierdie verband sien, wat die leemtes ten opsigte van die voorbereiding van departementshoofde vir hulle taak/rol as effektiewe onderrigleiers is, en om voorstelle ter verbetering van die voorbereiding van departementshoofde vir hul leierskapsrol te maak. Die navorsingsmetodologie is gebaseer op kwantitatiewe navorsingstrategieë waarvolgens die navorsingsvraag beantwoord kon word deur middel van 'n eenmalige dwarsdeursnitopname wat verkry is met behulp van ewekansige trossteekproefneming by sekondêre skole in 'n distrik in die Vrystaat. Daar is gebruik gemaak van selfontwerpte vraelyste wat deur al die departementshoofde van die betrokke skole voltooi moes word. 'n Totaal van 186 departements-hoofde het aan die ondersoek deelgeneem. Etiese goedkeuring om die studie te onderneem is van die Noordwes-Universiteit verkry. Beskrywende statistiek (frekwensies, persentasies, gemiddeldes en standaardafwykings) en eksploratiewe faktorontleding is gebruik om onderliggende latente veranderlikes te identifiseer. Cronbach se alfa-koëffisiënt is gebruik om die betroubaarheid van betrokke veranderlikes te bepaal. Hiërargiese lineêre modelle is gebruik om verbande met biografiese en demografiese veranderlikes te bepaal. In hierdie studie is bevind dat daar 'n duidelike verband tussen onderrig en leierskap is en dat die meeste van die departementshoofde kwaliteitonderrig belangrik ag en as 'n prioriteit in hul departemente sien. Die departementshoofde in hierdie studie is ook van mening dat die leiding van skoolbestuurspanne die kwaliteit van onderrig in die departement beïnvloed. Departementshoofde vir wie onderrig, leierskap en leerderprestasie belangrik is, heg ook hoë waarde aan opleiding en voorbereiding. In hierdie studie is ook bevind dat departementshoofde oor die algemeen nie bestuursopleiding ontvang het voor hul aanstelling in dié posisie nie. Sommige van die departementshoofde kon staatmaak op die kennis wat hulle opgedoen het tydens hul kollege- of universiteitsopleiding, wat hulle voorberei het vir hulle taak. 'n Klein aantal van die departementshoofde was oortuig dat hul voordiensopleiding nie van waarde was nie en dat hulle nie voorbereid was vir hul rol as beginnerdepartementshoofde nie.

Keywords : Leierskap; bestuur; onderrigleierskap; voorbereiding; departements-hoofde (middelvlakbestuurders); opleiding; ontwikkeling; leerder-prestasie; effektiwiteit.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License