SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2Creolisation and healing in van Wyk Louw's Nuwe verse (New poems) and Tristia"The pot boils all over": NP van Wyk Louw, Johannes Degenaar and Afrikaans decolonisation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

ROSSOUW, Jannie. Die ora se eerste 20 jaar. Tydskr. geesteswet. [online]. 2024, vol.64, n.2, pp.219-239. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a5.

Hierdie artikel fokus op die geskiedenis van die ora (Φ3) sedert die eerste vrystelling daarvan 20 jaar gelede in 2004. Die ora is onlosmaaklik verweef met Orania, 'n Afrikaanse dorp in die Noord-Kaap. Die ora is op 'n een-tot-een-grondslag gekoppel aan die Suid-Afrikaanse rand. Die ora sirkuleer as 'n wettige betaalmiddel vir gebruik in kontanttransaksies in Orania. Die bestaan en sirkulasie van die ora is een van die unieke eienskappe van Orania. 'n Verdere unieke eienskap van Orania is die uitsluitlike gebruik van Afrikaans in die dorp. Alle bedrywighede (godsdiensbeoefening, kultuuraktiwiteite, onderrig en saketransak-sies) geskied uitsluitlik in Afrikaans. Voorts het Orania net wit inwoners. Die dorp word dus as 'n wit Afrikaner enklawe beskou. Daarbenewens is die oogmerk van Orania selfbeskikking wat die dorp se toekoms betref. Dit bring Orania in lyn met die voortsetting van die Verwoerdiaanse ideaal van afsonderlike ontwikkeling tot selfbeskikking. Hierdie ideaal word in Orania ondersteun deur "selfwerk-saamheid", met ander woorde 'n beleid dat voorkeur gegee word aan indiensneming van die inwoners van Orania. Die inwoners van Orania verkies om bedrae in ora te noem en nie in rand nie. Gevolglik word daardie praktyk in hierdie artikel gebruik. Gebaseer op die 2021/22-sensusopname in Orania, is totale persoonlike jaarlikse inkomste op Φ295 672 222 beraam. Per capita persoonlike jaarlikse inkomste vir die 2 377 inwoners is dus op Φ124 389 beraam. Hierteenoor is die jaarlikse inkomste van huishoudings in Orania in 2021 op Φ190 331 179 beraam. Hierdie verskil in ramings kan nie met behulp van die bestaande sensusopnamedata verklaar word nie en is tevore aangestip as 'n gebied vir verdere navorsing. Die 2021-besigheidsopname van Orania rapporteer data oor sake-ondernemings in die dorp. Op grond van hierdie opnamedata is die jaarlikse omset van sakeondernemings in Orania in 2021 op Φ281 950 000 beraam. Meer navorsing is nodig om te bepaal of die groei in ora-koepons wat uitgereik word, hoegenaamd korreleer met die groei in ekonomiese bedrywighede in Orania. Die groeikoers van ora-koepons kan nie met groei in ekonomiese bedrywighede vergelyk word nie omdat laasgenoemde nie voorheen op 'n vergelykbare basis bereken is nie. Onlangse navorsing is die eerste inisiatief om 'n basis te skep vir die bepaling van Orania se toekomstige ekonomiese groei. Indien hierdie korrelasie deur toekomstige navorsing bepaal kan word, sal dit 'n nuttige en maklike aanwyser van ekonomiese bedrywighede op die dorp wees. Die navorsing toon ook dat die ora tot gemeenskapsbewussyn bydra, byvoorbeeld omdat die inwoners bedrae in ora uitdruk, eerder as in rand. Die ora verminder ook kontantrisiko in Orania, omdat die ora nie buite die dorp gebruik kan word nie. Die ora het egter ook sekere nadele vir inwoners van Orania. Houers van ora-koepons en dOra moet dit in Orania vir rand inwissel vir kontanttransaksies buite die dorp. Enige afslag wat sake-ondernemings op ora-transaksies toestaan, verminder hul omset en bruto wins. Die feit dat ora-koepons nie masjienleesbaar is nie, verhoog die administrasiekoste van die koepons. Die ora en Orania is onlosmaaklik met mekaar verweef. Die dorp kan egter sonder die ora bestaan, terwyl die ora nie sonder Orania kan bestaan nie.

Keywords : Afrikaans; ekonomiese bedrywigheid; geldeenheid; gemeenskaps-ontwikkeling; koepon; ora (Φ); Orania.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License