SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2Relativisation in the poetry of NP van Wyk LouwPresentation and positioning in Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal ("Van Wyk Louw: A life story") by JC Steyn author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a10 

NAVORSINGSARTIKELS EN MENINGSTUKKE (2): AKTUEEL

 

Redakteursnota

 

 

Theo du Plessis verwys met waardering na Anel Becker en Ernest van Eyck (Desember 2023:737-755) se vergelykende lees van opvattings oor "die ander" in sowel die Evangelie van Lukas as die leerstellinge van die Joodse filosoof Emmanuel Lévinas. As non-teoloog vind Du Plessis dit interessant dat sowel Jesus (Yeshua) as Lévinas geskoold was in die Tora en die Talmoed. Hulle ooreenstemming in opvattings oor en optrede teenoor "die ander" spruit vir hom uit die "vertolking van die geskrewe Tora (van liefde en bevryding) teenoor die Fariseërs se vertolking van die mondelinge Tora van reëls en voorskrifte" (p. 341).

Die ander bydraes het almal betrekking op die diskoers oor geloof en wetenskap en verwys in besonder na Sakkie Spangenberg se artikel in die Desember 2023-nommer, maar bring ook die viertal artikels van Johan Dreyer en Kobus van der Walt wat in die Junie 2023-nommer geplaas is in berekening; dit neem verder ook kennis van enkele reaksies in die openbare pers.

As "filosofiese kommentator met 'n agtergrond as skrywer van fiksie" (p. 344) meen Charl Pierre Naudé dat 'n derde blik op die vermeende, en volgens hom oorvereenvoudigde, botsing tussen natuurwetenskaplike beskoulikheid en die Skeppingsverhaal oorweeg moet word. Naas die wetenskaplike en teologiese is daar ook kennisvelde soos die filosofiese en die estetiese wat 'n kardinale rol speel in die mens se onregstreekse waarneming van die werklikheid deur 'n bewus wees van die metaforologiese aard van alle kennis. Hy meen dat "as beide gelowige/ teoloog sowel as wetenskaplike die metafoor-aard van hul ondersoeke verreken, ... dit 'n ander soort sekerheid [kan] bring as wat vasstaande 'waarhede' beloof' (p. 348).

Johan Dreyer en Kobus van der Walt reageer meer spesifiek op Sakkie Spangenberg se Desember 2023-artikel. Ná 'n puntsgewyse behandeling van 'n aantal "geldige vrae" beklemtoon die outeurs onder meer dat hulle nie voorstanders is van 'n "fundamentalistiese, letterlike lees en verstaan van die skeppingsverhaal in Genesis" nie; dat dit nodig is om die skeppingsverhaal te herinterpreteer deur van resente natuurwetenskaplike data gebruik te maak en dat sodanige herinterpretasie dit moontlik maak "om die Bybelse skeppingsverhaal tot 'n groot mate met resente natuurwetenskaplike teorieë te versoen". Weens die betreklikheid van alle kennis en die voortdurende ontwikkeling van navorsing meen hulle dat dit nodig is "... om 'n respekvolle debat te bly voer wat beide wetenskaplike waarhede en individuele oortuigings eerbiedig" (p. 356).

In sý artikel oor die geloof-wetenskap-diskoers neem Henk Stoker standpunt in teen die afwysing van navorsing (selfs pogings tot onderdrukking of sensuur daarvan soos geblyk het uit menings in die pers) wat oënskynlik verband hou met kritici se persoonlike oortuigings. Hy meen dat wetenskaplike ondersoek gekenmerk behoort te word deur "'n onbevooroordeelde benadering, wat die geleentheid skep dat bevindinge eerlik geïnterpreteer kan word om tot die mees waarskynlike gevolgtrekkings te lei" (p. 359). Die vier artikels waarteen Spangenberg reageer, is "navorsing wat natuurwetenskaplik en kosmologies op die oorsaak en die fyn-ingesteldheid van die heelal ingaan, asook op die presisie van kosmiese konstante wat alles, ook lewe, moontlik maak, sowel as op die oorsprong van die gekodeerde inligting in die DNS van lewende selle" (p. 373).

Hy bespreek Spangenberg se hoofpunt van kritiek, naamlik dat die outeurs se aanvaarding van die Mosaïese outeurskap van die Pentateug nie rekening hou met resente Bybelwetenskap-like navorsing nie. Spangenberg se onderskrywing van die sogenaamde bronnehipotese, naamlik dat die Pentateug 'n menslike samevoeging van verskeie (teenstrydige) dokumente sou wees, word vergelyk met resente navorsing, waar navorsers, op grond van problematiese aspekte van die bronnehipotese, "terugkeer na die siening dat die Pentateug grootliks deur een outeur saamgestel is, 'n geheel vorm en as sodanig betroubaar is" (p. 359). Bowendien meen Stoker dat die bronne/dokumente-teorie "... hoogstens 'n hipotese [is], maar 'n feit of 'n voorwaarde vir Bybelwetenskap is dit beslis nie" (p. 371).

Spangenberg se bevraagtekening van die outentisiteit van die Skeppingsverhaal in Genesis, lei daartoe "dat [hy] ... resente navorsing oor die merkwaardige ooreenstemming tussen dit wat in die Bybel staan, byvoorbeeld oor die ontstaan van alles, in vergelyking met moderne wetenskaplike bevindinge, nie as navorsingswaardig kan ag nie" (p. 361).

Dit is duidelik dat die geloof-wetenskap-diskoers baie belangstelling uitgelok het en dat dat daar ongetwyfeld nog ruimte is vir indringende bespreking van verskeie aspekte. Die redaksie nooi lesers hiermee weereens uit om te reageer op die debat en die tersaaklike kontensieuse kwessies wat daardeur te berde gebring word. Reaksies kan wissel vanaf 'n (kort) meningstuk tot 'n volwaardige navorsingsartikel. Ons beklemtoon weereens dat debat en diskoers oor enige en alle belangwekkende vraagstukke vanuit verskillende uitgangspunte verwelkom word.

Ina Wolfaardt-Gräbe

Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe

E-posadres: publikasies@akademie.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License