SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2NP van Wyk Louw's animals and figures: An ecocritical readingNP van Wyk Louw's Die pluimsaad waai ver, of Bitter begin revisited author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a13 

NAVORSINGSARTIKELS EN MENINGSTUKKE (2): AKTUEEL

 

Commentary on Spangenberg, I. 2023. Die Bybel, die Christelike geloof en die natuur-wetenskappe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 63(4), Desember 2023

 

 

Johan DreyerI; Kobus Van Der WaltII

IE-pos: johandreyer@truenw.co.za
IIE-pos: Kobus.vanderwalt@nwu.ac.za; 13 Mei 2024

 

 

Sakkie Spangenberg het in Jaargang 63 No. 4 van die TGW 'n kritiese artikel geplaas as reaksie op vier artikels deur Johan Dreyer en Kobus van der Walt oor geloof en wetenskap wat in Jaargang 63 No. 2 van die TGW verskyn het.

Ons (die outeurs, Johan Dreyer en Kobus van der Walt) spreek waardering uit teenoor Spangenberg vir die deeglikheid waarmee hy ons artikels gelees het en vir die gepaste wyse waarop hy geldige vrae aan ons rig. Ons reageer graag op sy belangrikste punte van kritiek:

1.1 Spangenberg(S) beweer dat Dreyer en Van der Walt (D&vdW) aanneem dat navorsing in die geestes- en sosiale wetenskappe verskil van natuurwetenskaplike navorsing, en dat geloofsoortuigings toegelaat word om 'n rol in die navorsingsproses van eersgenoemde dissiplines te speel. Hy stem nie saam met hierdie beweerde aanname nie en voer aan dat navorsing op alle terreine gebaseer moet word op kritiese denke en bewysgebaseerde redenasie.

Spangenberg se bewering dui daarop dat hy die strekking van die onderhawige artikelreeks (D&vdW) waarskynlik nie ten volle begryp nie. Daar word nêrens gestel dat navorsing in die natuurwetenskappe van dié van die geesteswetenskappe verskil nie - inteendeel. Die sentrale teoretiese argument wat in al 4 artikels gevind kan word, is dat daar veral in die Westerse wêreld in alle dissiplines deur talle navorsers 'n normatiewe materialistiese benadering - 'n voorwaardelike ateïstiese geloofsbena-dering - tot wetenskapsbeoefening as geheel voorgeskryf word. Enige teorie wat empiriese waarnemings probeer verklaar wat selfs net die moontlikheid van 'n bona-tuurlike Skepper-God insluit, word by voorbaat afgewys. Dreyer en vd Walt verskil fundamenteel van hierdie benadering en het etlike natuurwetenskaplike voorbeelde weergegee om hul mening te substansieer. Hul slotsom is dat alle wetenskaplikes uit alle dissiplines onbevange, onbevooroordeeld en met 'n oop gemoed hul empiriese data moet interpreteer tot by die mees waarskynlike verklaring/teorie. Om by voorbaat te besluit dat 'n verklaring wat oorweldigend aan alle wetenskaplike navorsingsver-eistes voldoen nie waar kan wees nie bloot omdat 'n individu dit nie GLO nie, verteenwoordig nie geldige wetenskapsbeoefening nie.

1.2 Spangenberg stel dat Dreyer en vd Walt onbewus is van onlangse navorsingsbevin-dinge, aangesien hulle na Moses verwys as die skrywer van Genesis. Hy (S) voer aan dat navorsing in alle velde op bygewerkte inligting gebaseer moet wees en oop moet wees vir bevraagtekening en hersiening.

Ons (D&vdW) stem uit die aard van die saak ten volle saam met die standpunt dat navorsing in alle velde op bygewerkte inligting gebaseer moet wees en oop moet wees vir bevraagtekening en hersiening.

Spangenberg verwys egter in sy kritiek na die Dokumentêre Hipotese - die oorsprong van die histories-kritiese metode as moderne navorsing. In die afgelope twintig jaar of wat het daar egter 'n toenemende aantal werke verskyn wat Alter en Kermode (1990:2) die "nuwe literêre kritiek op die Bybel" noem. Kenmerke van die nuwe literêre kritiek op die Bybel is:

(i) noukeurigheid en respek vir die styl en redaksionele rangskikking van die Hebreeuse Bybel;

(ii) erkenning van die histories-kritiese metode se pogings om die literêre komplek-siteit van die Bybel te probeer aanspreek;

(iii) bewus wees van die onvermoë van die histories-kritiese metode om vrae te beantwoord wat spruit uit die Bybel se multidimensionele werklikheid;

(iv) die lees van die Bybel as harmoniese eenheid, nieteenstaande die omvang van diversiteit van literêre genres binne die een kanonieke eenheid;

(v) bestudering van Genesis as 'n eenheid, nieteenstaande 'n veelheid van literêre genres van verskillende omvang en inhoud wat verduidelikings noodsaak; en

(vi) bestudering van Genesis as 'n selfstandige eenheid as deel van die groter werklikheid van die Torah.

In die lig van bogenoemde noem Baruch J. Schwartz (2021:165) die Dokumentêre Hipotese "a relic of the past, and those who insist on bringing it up are simply ignoring the consensus of cutting-edge scholarship". Die outeurs van die 4-tal artikels (D&vdW) het daarom, omdat daar op verskeie plekke in die Bybel na "Moses" verwys word as outeur van Genesis, besluit om die Bybelse verwysing onveranderd te gebruik in hul artikels.

1.3 Spangenberg voer aan dat die skrywers (D&vdW) die Bybel streng vanuit hul eie geloofsoortuigings interpreteer en aanneem dat hul geloofsoortuigings gedeel word deur alle mense wat in die ou Nabye Oosterse wêreld woon. Hy (S) voer aan dat navorsing op alle terreine gebaseer moet word op 'n begrip van die historiese en kulturele konteks waarin die navorsing gedoen word.

Die outeurs van die artikelreeks (D&vdW) erken dat Spangenberg heeltemal korrek is in sy stelling, maar dat hy weereens die sentrale teoretiese lyn van die artikelreeks misgekyk het. Hulle bely ten aanvang van hul artikelreeks openlik dat hulle vanuit 'n Christelik-reformatoriese paradigma redeneer en skryf. Hulle verduidelik egter dat alhoewel hulle die Bybel as die gesagvolle, geïnspireerde Woord van God beskou, hul paradigma die herinterpretasie en alternatiewe verstaan van die Bybel toelaat en aanmoedig.

Neurologies is die mens se bewussyn ongekend kompleks. Om 'n akkurate persepsie van die werklikheid te hê, is nie een van die brein se sterk punte nie want dit lyk asof die menslike brein sukkel om tussen fantasieë en feite te onderskei. Ons "sien" of "hoor" soms dinge wat nie daar is nie, en soms "sien" of "hoof ons dinge wat wel daar is. Gevolglik kan die afleiding gemaak word dat die brein nie funksioneel probeer om 'n volledige gedetailleerde kaart van die eksterne wêreld in die mens se bewussyn op te bou nie. Die brein neem 'n paar feite en vul die gapings daartussen met afleidings, wense en oortuigings. Hierdie neurologiese vaagheid vorm die basis van vordering, gedryf deur ons verbeelding, drome en visies eerder as wat dit 'n struikelblok tot doeltreffende funksionering is.

Wat vir ons vier artikels van belang was, is die besef dat 'n mens neurologies nooit van jou emosies, ervarings en oortuigings - hetsy bewustelik of onbewustelik - kan wegkom nie. Geen mens kan werklik objektief wees nie, want alles wat jy sien en hoor word neurologies onlosmaaklik verbind aan wie jy is. Daarom het ons dit nodig gevind om ten aanvang van die reeks artikels openlik te verklaar dat vanuit 'n Christelik-reformatoriese paradigma geredeneer en geskryf word sodat die leser weet waarmee hy/sy te doen het.

Ons (D&vdW) spreek ons in die artikelreeks teen 'n fundamentalistiese, letterlike lees en verstaan van die skeppingsverhaal in Genesis uit. Ons beklemtoon dat dit nodig is om die skeppingsverhaal te herinterpreteer deur van resente natuurweten-skaplike data gebruik te maak. Hierdie herinterpretasie maak dit moontlik om die Bybelse skeppingsverhaal tot 'n groot mate met resente natuurwetenskaplike teorieë te versoen - iets wat uniek is as alle gelowe op aarde se ontologiese skeppingsoor-tuigings ondersoek word. Ons (D&vdW) interpreteer hierdie fenomeen as bevestiging van die Goddelik-geïnspireerde aard van Genesis en moedig lesers aan om juis dit te doen waarvan Spangenberg ons beskuldig, naamlik om navorsing op alle terreine te baseer op 'n noodsaaklike begrip van die kultuur-historiese konteks waarin dit gedoen word.

 

Ten slotte

Die doel van die artikelreeks was om die mees resente (natuur-)wetenskaplike gegewens oor 'n wye spektrum weer te gee en onbevooroordeeld te kyk tot watter gevolgtrekkings die data ons lei met betrekking tot die eeueoue debat oor wetenskap en geloof. Ons is dankbaar vir sinvolle, wetenskaplike, kritiese opmerkings waarin daar met integriteit en eerlikheid geargumenteer word, want dit is hoe die wetenskap ontwikkel.

Nuwe empiriese waarnemings wat nie deur huidige teorieë verklaar kan word nie, herinner ons almal daaraan dat ons begrip van die oorsprong van lewe en die heelal voortdurend in ontwikkeling is. Dit is nodig om 'n respekvolle debat te bly voer wat beide wetenskaplike waarhede en individuele oortuigings eerbiedig.

Ons moderne samelewing word gekonfronteer met 'n komplekse landskap van snelle wetenskaplike ontwikkeling, 'n wye verskeidenheid van filosofiese strominge en godsdiens-kwessies wat ongelukkig baie maklik ontaard in radikalisme en fundamentalisme. Die onderhawige artikelreeks is teen hierdie agtergrond maar net een van vele pogings om teorieë op die tafel te plaas waarmee die moderne mens poog om sin te maak van die werklikheid.

 

VERWYSINGS

Alter, R & Kermode, F. eds. 1990. The literary guide to the Bible. Harvard University Press.         [ Links ]

Schwartz, BJ. 2021. The Documentary Hypothesis. The Oxford Handbook of the Pentateuch. Oxford university press.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License