SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2NP van Wyk Louw's Die pluimsaad waai ver, of Bitter begin revisitedThe theme of love in Tristia by NP van Wyk Louw and his "Groot ode" as a love elegy author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a15 

TAALRUBRIEK

 

Weer 'n slag die AWS (2)

 

 

In my vorige rubriek het ek 'n paar van die belangrikste "gewone" gebruike van koppeltekens genoem, naamlik dat 'n koppelteken woorddele wat bepaalde kenmerke het en bymekaar hoort, aan mekaar koppel, maar ook dat dit ook sekere letterkombinasies as 't ware al koppelende skei, soos in byvoorbeeld asma-aanval of Cross-straat.

Hierdie keer noem ek twee spesiale gebruike van dié horisontale strepie wat gewoonlik 'n koppelteken genoem word.

1) Die eerste van dié twee spesiale koppeltekens word 'n weglaatteken genoem. Dit illustreer terselfdertyd twee belangrike idiomatiese verskille tussen Afrikaans en Engels.

Die eerste van dié verskille is dat samestellings in Afrikaans feitlik konsekwent vas geskryf word, terwyl dit in Engels nie naastenby so streng geskied nie. Engels skryf byvoorbeeld polyvinyl chloride (PVC) en dus polyvinyl chloride pipes (of waarskynliker PVC pipes), en ook concrete pipes. Afrikaans, daarenteen, skryf vas polivinielchloried, polivinielchloriedpype (PVC-pype) en betonpype.

Insgelyks is dit byvoorbeeld Vaal Dam, Gariep Dam en Steenbras Dam in Engels, maar tradisioneel Vaaldam, Gariepdam en Steenbrasdam in Afrikaans (die kwessie van eienaamverbindings eers buite rekening gelaat).

As 'n mens nou 'n reeks van twee of meer sulke sake benoem, is dit meestal onnodig om die laaste element te herhaal, en vir die leser is 'n herhaling trouens dikwels steurend. Daarom word dit dikwels weggelaat, byvoorbeeld:

They used polyvinyl chloride and concrete pipes.

The minister visited the Vaal, Gariep and Steenbras Dams.

Die tweede idiomatiese verskil is dat Engels die meervoud Dams in die laaste voorbeeld gebruik.

Omdat Afrikaans polivinielchloriedpype (PVC-pype) en betonpype (vas) moet skryf, sal iets soos *"polivinielchloried en betonpype" betekenisgewys baie verwarrend wees. Daarom voeg Afrikaans die weglaatteken by om aan te dui dat dit nie net polivinielchloried is wat ter sake is nie, maar wel polivinielchloriedpype: "polivinielchloried- en betonpype". Die koppelteken, ofte wel die weglaatteken, dui dus aan dat pype weggelaat is; dit verteenwoordig dus pype.

Nog 'n voorbeeld is iets soos bo-, onder- en byskrifte, waarin die weglaatteken aandui dat -skrifte telkens weggelaat is.

In die voorbeeld van die damname is die saak miskien meer gekompliseerd, want 'n mens sê nie altyd "-dam" saam met die naam nie (byvoorbeeld "Die Gariep is in 1971 in gebruik geneem"), maar dit nou eers daar gelaat.

Die element wat in hierdie geval weggelaat word, is -dam, nie -damme- nie; daarom lyk die reeks in Afrikaans so: die Vaal-, Gariep- en Steenbrasdam.

Hier sien 'n mens dikwels die idiomatiese fout in Afrikaans, naamlik dat agter die Engels aan die slotelement in die meervoud staan wanneer dit eintlik in die enkelvoud moet wees: *die Vaal-, Gariep- en Steenbrasdamme of gereeld by straatname: op die hoek van *Kerk- en Pleinstrate, want uitgeskryf is dit tog nie *die Vaaldamme, Gariepdamme en Steenbrasdamme of op die hoek van *Kerkstrate en Pleinstrate nie ('n mens sou natuurlik wel kon sê: "Daar is talle Kerk- en Voortrekkerstrate in Suid-Afrika."). In die ander voorbeeld is dit egter wel polivinielchloriedpype (PVC-pype) en betonpype. 'n Mens moet dus bepaal of 'n lid van so 'n reeksie op sy eie enkelvoud of meervoud is.

As 'n mens egter dink waarvoor die weglaatteken staan of wat hy verteenwoordig, word dié fout maklik vermy.

Dit is belangrik om te onthou dat die weglaatteken slegs gebruik word in die geval van samestellings wat vas geskryf moet word en nie as die betrokke kombinasies in elk geval los geskryf word nie. Daarom is dit slegs rooi, geel en groen appels en nie *rooi -, geel - en groen appels nie. As die reeks vas en los geskrewe elemente bevat, lyk dit byvoorbeeld so: staats- en private skole maar private en staatskole. Kyk AWS, reël 12.37, veral opmerking (a).

Hierdie weglaatteken word soms verkeerdelik 'n afstandskoppelteken genoem.

2) Die tweede spesiale koppelteken is juis die afstandskoppelteken.

Ons weet dat samestellings in Afrikaans vas geskryf word, en vir die doel van hierdie bespreking beperk ek my tot tweeledige samestellings. In verreweg die meeste samestellings (twee- of meerledig) sê die laaste lid wat die woord eintlik benoem: 'n waterglas is wesenlik 'n glas en 'n kleurfoto is wesenlik 'n foto. Dié laaste lid wat die hoofbetekenis dra, word die kern genoem, terwyl die voorafgaande deel die bepaler is wat die kern presiseer.

Soos reeds gesê, geld dit samestellings waarin al die lede vas geskryf word. Soms is dit egter nodig om die kern verder te presiseer deur 'n byvoeglike naamwoord wat nie een van die vas geskrewe lede van die samestelling is nie. Die AWS gee in reël 12.24 'n klompie voorbeelde, soos die volgende:

adjunkdirekteur maar adjunk- besturende direkteur

hoofbeampte maar hoof- uitvoerende beampte

toppresteerder maar top- akademiese presteerder

hoëvlakpersoneel maar hoëvlak- tegniese personeel

langtermynbeplanning maar langtermyn- tegniese personeel

'n Mens kan op twee maniere na hierdie soort samestelling kyk (hulle word afstandsamestellings genoem), naamlik óf dat die afstandkoppelteken die eerste lid oor 'n afstand as't ware bo-oor die middelste invoeging aan die laaste lid koppel (want hulle sou sonder die tussenvoeging in elk geval vas geskryf moes word), óf dat die invoegsel plus die laaste lid 'n soort meerledige kern vorm en die afstandskoppelteken die twee los geskrewe woorde gesamentlik aan die eerste lid koppel: sê maar

adjunk + (besturende direkteur) = adjunk- besturende direkteur

Twee sake moet hier genoem word:

(i) In die drie AWS'e wat die huidige (2017-) uitgawe voorafgegaan het, was hierdie afstandskoppelteken opsioneel, behalwe as die eerste lid 'n verbindingsklank geneem het, bv. stads- finansiële hoof. Die 2017-AWS maak die afstandskoppelteken, m.i. tereg, weer verpligtend, soos die reël oorspronklik vereis het.

(ii) Dit is belangrik om te onthou dat daar 'n spasie ná 'n afstandskoppelteken moet volg, want daarsonder sal die betekenis van die geheel verwarrend wees. Iets soos

*adjunkbesturende direkteur of *hoëvlaktegniese personeel sal verwarrend of onverstaanbaar wees. Dié noodsaaklike spasie ná die afstandskoppelteken kan egter in druk- of skryfwerk maklik wegval, en dit is miskien die rede waarom sommige uitgewers van dagblaaie en tydskrifte afstandsamestellings vermy deur die ingevoegde bepaling voorop te plaas. Ek twyfel egter of iets soos uitvoerende hoofbeampte, besturende adjunkdirekteur of tegniese langtermynpersoneel altyd die betekeniswaarde van die afstandsamestellings presies weergee.

Dit lyk miskien ingewikkeld, maar as 'n mens die name van die twee strepies reg verstaan en onthou, is dit eintlik heel eenvoudig. Hopelik het die verduideliking hier bo 'n bietjie gehelp.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License