SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue4The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issuesWhat does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament poses author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

BASSON, Earl  and  BURGER, Bibi. (Self)portrette in Uit die kroes deur Lynthia Julius: 'n Kultuurhandhawende pedagogiese benadering tot Afrikaanse literatuuronderrig. Tydskr. geesteswet. [online]. 2023, vol.63, n.4, pp.860-877. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a6.

Histories is die onderrig van Afrikaanse literatuur op skoolvlak Afrikanergesentreerd. Alhoewel daar sedert die politieke omwenteling in 1994 in Suid-Afrika pogings aangewend is om 'n inklusiewer letterkunde voor te skryf, oefen die voormelde geskiedenis steeds 'n invloed uit op hoe Afrikaans op skoolvlak onderrig word. Ondanks die skoolkurrikulum se transformatiewe beginsels en verbintenis tot sosiale regstelling, word min tekste voorgeskryf wat nie in 'n standaardvariëteit geskryf is nie. Voorts maak die pedagogiese benadering tot letterkundeonder-rig wat taalonderwysers volg min ruimte vir uiteenlopende interpretasies van literêre tekste. Gevolglik skep dit 'n gaping tussen die beginsels van die skoolkurrikulum en dit wat in die letterkundeklaskamer gebeur. Paris en Alim (2017) se "kultuurhandhawende pedagogie" (KHP) is 'n onderrigbenadering wat die onderhou en ontwikkeling van leerders se kulture sien as sentraal tot pedagogiek. Ons voer aan dat 'n KHP-benadering gepas is vir die onderrig van Afrikaanse literatuur, aangesien dit sal behels dat leerders se variëteite en kultuurpraktyke nie gesien word as buite of slegs aanvullend tot die pedagogiese projek nie, maar eerder sentraal daartoe staan. In hierdie artikel fokus ons op hoe twee gedigte ("Ouma Xhau" en "Ontheemding") in Lynthia Julius se bundel Uit die kroes (2020) op 'n KHP-wyse onderrig kan word op 'n manier wat leerders in staat stel om Oranjerivierafrikaans, die invloed van Nama op Afrikaans, orale literêre tradisies en kulturele ontheemding te verken. Ons analise sluit praktiese raad in oor hoe hierdie twee gedigte onderskeidelik benader kan word as 'n tipe portret en selfportret om sodoende die Europese portretkunstradisie en die uitdaag daarvan in die klaskamer te verken.

Keywords : Afrikaansonderrig; Kultuurhandhawende pedagogie; Letterkunde-onderrig; Lynthia Julius; Nama-Afrikaans; Oranjerivierafrikaans; Poësie; Variasietaalkunde.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License