Servicios Personalizados
Articulo
Indicadores
Links relacionados
- Citado por Google
- Similares en Google
Compartir
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.60 no.2 Pretoria jun. 2020
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a15
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
NP van Wyk Louw: Om te loop in die skoene van die grotes ...
NP van Wyk Louw: To walk in the shoes of the great ...
Joan Hambidge
Hofmeyr-leerstoel, Skool vir Tale, Universiteit van Kaapstad, Suid-Afrika. E-pos: Joan.Hambidge@uct.ac.za
DRIE VERSE VIR NP VAN WYK LOUW:
'n palinode, parodie en pastiche
IGNATIUS BID VIR SY ORDE
- 'n palinode1
Dat pyn bestaan, wás nodig, Wyk,
om my te puur van spotspraak:
om so mý deurdink en inpraat
die vloei van invloed te ontwyk.
Wit wolwe van 'n rooflied,
laat ons in die looggat inkyk:
dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
om woorde op te vang in mý lied.
Om my te puur van grootpraat,
of in jou woorde gewoon net na te praat.
Dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
vir dieper priem én fyner kyk.
Dat pyn bestaan, dat pyn bestaan ...
VROEGHERFS
- 'n parodie2
Die jaar word ryp in wrede ontnugtering,
in woede wat verkil, en bitter idees
wat daglank deur nuwe selfvermindering
uitgespoel word; alle idees word reëls,
tot selfs die sluustes; en die eerste beelde val
so stilweg in my donker depressiewe drome uit
sodat die troebel drome, nee nagmerries,
teen elke ligte môre ópspruit.
O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan:
laat alles val wat poësie of stilte verbreek
of geykte beeld is, en vér was van die pyn;
laat ryp word, muses, laat jul woede nimmer taan,
vir ewig, tot al my palinodes afgebreek
word in relevante, tydgebonde skyn.
ARS POETICA
- 'n pastiche3
Uit die gevormde literatuur
is daar wél poësie te maak:
só konstateer ons op hierdie klein
en silwrige planeet, waar ons
selde ons harte van gode rein
of skoon kan hou. Variasies, besuinigings,
en vele palinodes bestaan oor jou werk,
veral deur "dwase" en glo "na-praters"
in 'n taal geminag, veral deur haar sprekers.
Hoeveel verstaan en begryp nog
die suiwer syfer van jou odes?
Van ander name wat mag sluimer
onder die skriklikheid
van jou klein klipwerke?
Hierom dan 'n eulogie:
in sinsverrukking bepaald,
het jy soveel beelde boetseer,
eers in liriese uitstulpings
tot later in geboende ínstulpings
vir stiplees, terug-lees,
vanuit 'n verre land versend
in jou liefde én tyding
verlaat. En hier herdig
ek by herhaling dan.
Joan Hambidge Julie 2018 − September 2019
DIE KRUIWAWIEL SE SKREEUGELUID4
Elke stem waarop ek wag,
telefonies, per sms of e-pos,
keer terug na daardie eerste stem
van afwysing of verswyging.
Is dit alweer 'n digter wat huil?
Jou stilgeworde boodskappe
eens soos 'n poelpetater
met kolle om te dekodeer
in netjiese e-posse uitgewis.
Is dit alweer 'n digter wat kla?
Jou stilte verpak in 'n Sjinese boks
saam met ander vroue met maskers,
versinsels en wrede verdigsels
soos jammer-ek-het-jou-gemis.
Is dit alweer 'n digter wat kerm?
O koelemetat, poelmetaan, poelpetaan:
ek dans nou met die tannie-in-die-rou-bestaat
en hou my lyf soos 'n póél-pe-táát
soos in 'n Van Wyk Louw-dansliedjie.
Is dit alweer 'n digter wat treur?
Is dit alweer 'n digter wat treur?
TOTIUS: DIE TARENTAAL
Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.
Hy soek - en dit is ook al laat -
vir hom 'n kameraad,
om in 'n boom die eensaamheid
en nag te slyt.
Sáám sal hul in 'n blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.
*
Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!
NP VAN WYK LOUW
06 JANUARIE 2014
Jy't weggegaan en jy bewoon
'n silwer herberg in die sneeu
jou vensters kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein
die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind
HIERDIE IS NIE 'N LIEFDESVERS NIE5
'n Soort palinode ...
Hierdie is geen liefdesvers nie,
dis 'n gedig oor 'n X
wat geen silwer herberg bewoon
in die sneeu nie, maar ewigdurend
sous rature bly in die aanwesigheid,
my deurkruising ten spyt.
En ja, spyt kom altyd te vroeg
met die eerste voëlgekletter,
die Katolieke kerk se klokkespel,
'n muezzin se roep na Mekka
en my oggendgebed vergeef-my-
sondes-en-almal-wat-gesterf het.
Hierdie is nie 'n vers vir Fanie Olivier
se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Dit behoef 'n dubbel-negatief, 'n minaret
waarop ek staan-waar-ek-staan
roepend na jou, my gedig nommer X,
my afskryfvers: onoorspronklik, 'n spel.
CARTESIAAN
Ek is net lyf en gees, niks tussenin:
niks van die kerk se "siel", die leë droom.
Net boom en grond. Die dryfsand se sin
is iewers wel slinks en slu bedroom
deur Freud en Lacan - die gode van drieë.
Hulle dink aan skakels: aan oorgange
soos ego, id, superego, nes bedrieë:
verbeelde, simboliese, Rëele vir dié drange.
Lyf: sy! die eerste wat ek ken!
vol van groot hobbels, eis haar weg
na die eis van volmaaktheid as volheid.
Gees: die knope van die onbewuste ren
aan my in drome vreemd, só verontreg
'n inbeweeg tot hierdie parodie: 'n kilheid.
Ontvang: 2019-12-15
Goedgekeur: 2019-12-29
Gepubliseer: Junie 2020
JOAN HAMBIDGE is 'n Afrikaanse digter, romanskrywer en kritikus wat tans verbonde is aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy die Hofmeyr-leerstoel in die Skool vir Tale beklee. Vertalings van ʼn keur van haar gedigte het verskyn as The Coroner's Wife. Sy debuteer in 1985 met Hartskrif, die begin van 'n uitgebreide en steeds voortgesette digterskap; 'n nuwe digbundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, verskyn later in 2020. Sy is bekroon met die Eugène Marais- en die ATKV-prys vir haar digkuns en behartig 'n blog onder die titel Woorde wat weeg.
JOAN HAMBIDGE is an Afrikaans poet, novelist and critic who currently occupies the Hofmeyr Chair in the School of Languages at the University of Cape Town. A selection of her poems has been translated and published as The Coroner's Wife. Her first volume of poems, Hartskrif ("Heart's writing"), appeared in 1985, signalling the beginning of an extensive and still ongoing poetic output; a volume of poetry titled Konfessies, kaarte en konterfeitsels ("Confessions, cards and fabrications") is to be published in the course of 2020. She has been awarded the Eugène Marais and ATKV prizes for poetry, and runs a blog entitled Woorde wat weeg ("Weighing words").
Joan Hambidge
1 Die palinode is 'n gesang en terugroep van 'n vorige uiting.
2 Die parodie is 'n skerper opstuur van 'n bekende gedig soos Anthony Hecht se "Dover Bitch: A Criticism of Life" wat die spot dryf met Mathew Arnold se "Dover Beach".
3 Die pastiche is 'n stilistiese imitasie wat nie altyd suksesvol is nie en te swaar leun op die oorspronklike model.
4 In Rondom eie werk, skryf Louw (1970:40) oor die dansliedjie. "Die kruiwawiel se skreeugeluid" aktiveer Totius se "Die tarentaal".
5 My gedig is kontra-stelling teen VW Louw se beroemde gedig nommer X in Tristia (1962). Die X = 10, maar ook die eks-lover: Derrida se sous rature.