SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número3Michel Serres, die ondeunde denker - 'n huldeblykDie trekos en trektoerusting in Suid-Afrika: 'n historiese perspektief índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Revista

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    versión On-line ISSN 2224-7912versión impresa ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.60 no.3 Pretoria sep. 2020

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n3a18 

    GEDIGTE

     

     

    HERFSLEWE

    Vanoggend kom die son tog weer op en ek eet lang tand my bordjie sop; witstinkhout blare val op my kop en hart totdat alles een winternag stop.

    BY DIE DOOD VAN 'N MOEDER

    Familielede is draers van die kis langs mekaar, maar hulle is almal lankal kwaad uitmekaar, met verversings sit hulle om tafels en stryk verskille uit; daar eenkant staan 'n soutpilaar, bot en onversoenbaar.

    GESELLIGHEID

    Heel gesellig eet ons klomp by ou perskebome saam aan ons laaste suur laatvruggies, wie weet, ons laaste maal; ons is vrolik as ons lag oor die jare in 'n knipoog vergaan, dan lui daar 'n foon: ou Japie is dood - stil heengegaan.

    OUETEHUIS?

    Ek sien dit in een kind se oë: wat van 'n ouetehuis, dan kom nog twee en bespreek ons toekoms as ons rolbos word, erken dat ons onsself tog nog versorg en die bad ruil vir stort; die land kantel na afvat, maar ons is nog steeds in ons eie huis.

    Hoop op 80

    Met ouer word besef jy dat die einde wag, bome van vriende wat val, is 'n terugslag, maar die harde werklikheid van hierdie toestand word versag deur die troos van 'n nageslag.

    jonkheid van die ouderdom

    herinneringe

    Gebeure in bokse oor sewentig jaar opgetel verpak in my herinnering, oor familie asook oor Gog-Magog in ons eie tyd, kan ek nou aan my kleinkind met blink oë en oop ore oorvertel.

    oorlogsug

    Mense is inherent goed, boos, wars van mekaar, 'n vuurspuwende berg; insig in oorlogsug oor jare verwerf: Vesuvius sal nou erger uitbars.

    WYSHEID

    Hulle loop wankelrig, sien sleg en is half-doof, met vervreemding in 'n nuwe wêreld belas, maar hulle lewenservaring is in 'n maalstroom gewas; nou kan wyse oë die wesenskern oopkloof.

    COVID-19

    SWART MANEL

    Lank gelede sweef daar in ons stamlande die Swart Dood Desiderius Erasmus vlug met boekkis in nood;

    wie het ooit gedink dat Swart Manel wéér in ons tyd van kis tot kis sou sweef 'n gestorm vir kos terwyl die doodsklok lui laat my tuis met 'n stukkie brood; nou keer mense weer na mekaar - dit lig ons op in hoop.

    HENNIE PlETERSE

    E-pos: pieterhjc@absamail.co.za

     

    1. REËNBOOG

    Seeruisings oor deinings;

    en die groen see kaats 'n rooi son.

    'n Reënboog draai sy kaleidoskoop oor die aarde,

    laat val fyn skitterings van lig

    wat deur die prisma van die firmament

    in die tyd inwig.

    Die reënboog is soos geloof wat ons klee in hoop, met die smeking dat God sin sal bring en ons doop in die bestaan waar ons verbly in vreugdekleure loop.

     

    2. MÓRESON

    Wie het die son so skraal in gloed sien opkom oor die oerslik as die eerste skynsel oor ons bestaan?

    God het self die klein atoom met 'n enkele woord

    so ligweg uitgeskiet in die uitspansel en elke moontlike soort

    soos rooigrassprietjies laat uitloop

    en boslelies laat blom

    om ons in die planeet aan Hom te laat behoort.

    O Heer, as ons maar U lof kon uitsing, en jubbelend U genade kon ná-woord!

     

    3. LEWE

    'n Meeu swenk soos 'n vlieër se lint

    voortgedryf deur 'n nuwe wind,

    na die wit van die eerste skittering van die stil lig.

    Ek kniel soos 'n kind

    by vissies in 'n poel waar die lewe begin wink

    met krappies en seewier wat vrolik rinkink,

    steek my vingers in

    die roersels wat uitkring,

    soek en soek na lewensin

    in die oervloeistof

    en dan die meeu

    lewend

    in die kring ná kring

    sodat ek later

    dankbaar bid tot God die Vader

     

    4. BLYDSKAP

    Het almal saamgesing in die vreugde van die eerste lewe?

    Loeries koketterig geklee in somerskleur bewe van blydskap oor die uitgelate ligstrale wat oor al wat boom en blaar is swewe.

    Sandtrapsuutjies kreun van lekkerte

    en steun teen die duin waar hulle goggas kry,

    terwyl die insekte hulle verras probeer vermy.

    Olifante juig slurpe omhoog

    en die miertjies

    wriemel ywerig verby.

    Die sjimpanjees snoep

    en smoesel tevrede,

    terwyl ietermagogs

    skubbe ratel van plesier.

    En ek verwonder my

    oor die vreugde

    wat so kortstondig bly.

    PLETER VERSTER

    E-pos: versterp@ufs.ac.za