SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 número2Plume seed blown further: Reimagining Van Wyk Louw in a Catholic contextNP van Wyk Louw: To walk in the shoes of the great ... índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 no.2 Pretoria jun. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a14 

NAVORSINGSARTIKELS EN MENINGSTUKKE (2): AKTUEEL

 

(On)bevooroordeelde benaderings tot die bevin-dings van wetenskaplike ondersoek: 'n Reaksie op die geloof-wetenskap-diskoers

 

(Un)biased approaches to the results of scientific research: A reaction to the faith-science discourse

 

 

Henk Stoker

Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: henk.stoker@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Dit klink ongehoord om sensuur op artikels te wil toepas, wanneer dié artikels op grond van natuurwetenskaplike navorsing aandui dat die bevindinge in ooreenstemming is met dit wat 'n groot deel van die wereldbevolking glo. Tog is 'n onlangse voorbeeld hiervan die reaksie op vier artikels wat in 2023 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) gepubliseer is. In hierdie artikels is die resultaat van natuurwetenskaplike en kosmologiese navorsing wat op 'n hoogs intelligente en presiese ontwerp in beide makro- en mikrokosmos dui, bespreek. Die navorsingsresultate dui daarop dat daar 'n intelligente ontwerper van die kosmos moet wees.
In sy reaksie op die vier artikels, erken Spangenberg die geldigheid van die navorsings-resultate, maar hy voer aan dat dit nie met die eerste vyf boeke van die Bybel vergelyk kan word nie, aangesien laasgenoemde nie betroubaar is nie. Gegrond op sy ewolusionistiese siening van godsdiens, beweer hy dat die Pentateug as 'n bloot menslike samestelling van verskeie en teenstrydige dokumente ontstaan het. Resente Bybelwetenskaplike navorsing dui egter heelwat probleme met hierdie bronnehipotese aan, met die gevolg dat navorsers terugkeer na die siening dat die Pentateug grootliks deur een outeur saamgestel is, 'n geheel vorm en as sodanig betroubaar is.
Anders as wat Spangenberg met sy verwysing na Galileo beweer, staan die Christendom nie in die pad van goeie navorsing nie. Christen-denkers het deur die eeue heen kosbare wetenskaplike werk gedoen en boonop verskeie universiteite gestig en befonds. Wetenskaplike ondersoek vereis 'n onbevooroordeelde benadering, wat die geleentheid skep dat bevindinge eerlik geïnterpreteer kan word om tot die mees waarskynlike gevolgtrekkings te lei.
In 'n era waar rofweg 'n derde van die mensdom hulleself as Christene beskou (Dyvik, 2023), terwyl die persentasie mense wat ateïsties die idee van 'n goddelike wese verwerp wêreldwyd baie laag is, is dit opvallend dat voorstanders van laasgenoemde kategorie, navorsers en navorsing uit eersgenoemde groepering probeer stilmaak. 'n Resente voorbeeld hiervan is die reaksie op vier artikels wat in 2023 in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) verskyn het. In hierdie artikels (Dreyer, Van der Walt & Denton, 2023; Dreyer & Van der Walt, 2023a, 2023b, 2023c) bespreek die skrywers nuwere wetenskaplike ontdekkings en hoe die ontdek-kings aanduiding van hoogs-intelligente en presiese ontwerp gee.

Trefwoorde: geloof, wetenskap, bronnehipotese, Pentateug, Genesis, Intelligente Ontwerp, skepping


ABSTRACT

In a time where approximately one-third of the world Spopulation identify as Christian, while the percentage of individuals rejecting the idea of a divine being remains relatively low, it is striking that proponents of the latter category attempt to silence research and findings from the former group. A recent example of this is the reaction to four articles published in 2023 in the Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Journal of Humanities). These articles discuss recent scientific research, indicating highly intelligent and precise design in both macrocosm and microcosm, leading researchers to logically conclude that there must be a designer who cannot be a part of the cosmos itself. This conclusion causes significant discomfort among atheistically inclined thinkers, as evidenced by the fierce response to these articles. It appears that there is even pressure on academic journals to employ censorship and refrain from publishing such research. This article is a reaction to such criticism.
Spangenberg (2023) takes issue with the assumption of the researchers of the four articles that humans are rational beings, by emphasising the irrationality of certain human behaviour. He has a significant problem with the researchers' suggestion that the order found in nature and humans' rational thinking abilities cannot be seen as coincidental but are ordained by God. He also attempts to create a contradiction between a merciful God and a God who punishes sin. But all these arguments can be dismissed based on basic logic.
Spangenberg accuses the authors of misinformation when discussing Genesis. Referring to Genesis 1:26, he asserts that when God says, "let us make man," it implies multiple gods. Spangenberg's idea of polytheism in Genesis is further emphasised by his reference to the garden in Genesis 2 as the garden of gods, because it was located in the east. According to him, that would have referred to the place where heaven and earth meet, allowing gods residing in heaven to enter the earth. This conclusion based on the garden's eastern location resembles a slippery slope form of reasoning. Even when considering only the Pentateuch, the introduction of the so-called assembly of gods and garden of gods in Genesis 1 and 2 by Spangenberg cannot be considered a plausible interpretation. The focus in the Pentateuch, as in the rest of the Bible, is on the fact that God must be known and acknowledged as the only God, contrary to the pagan nations' concept of multiple gods.
Spangenberg based his ideas on the documentary hypothesis - a theory that claims that the first five books of the Bible emerged over a long period of time and that they are a compilation of various and contradictory documents. He uses this to discredit the research in the four articles, despite the fact that even supporters of the documentary hypothesis admit to problems in this hypothesis. Contemporary research suggests that it is crucial to consider the truth claims of the Pentateuch itself and move away from hypothetical source documents. Arguments by people such as Spangenberg, that authors who do not accept this document hypothesis or give reference to it should be censured, cannot bear any weight. In fact, recent research returns to the idea that the Pentateuch is a single work, written according to a plan and largely composed by one author. By accepting its unity and inspiration, as millions of Christians do, valuable insights can be gained, for instance by considering why specific names for God are used in particular contexts. Conversely, viewing it as merely different sources does not yield fruitful research.
In a further attempt to discredit the four scientific articles in the TGW, Spangenberg points to the negative way in which the church had supposedly dealt with Galileo Galilei's heliocentric research some centuries ago. Contrary to Spangenberg's assertion, the reality is that Galileo's affair did not start as a conflict between science and the church. The church had initially encouraged Galileo to continue his work. It was particularly natural scientists who, partly justifiable and partly not, raised issues concerning the results of his research. As evidenced by the authors of the four articles mentioned above, it was especially Christian thinkers who had developed scientific knowledge throughout many centuries; moreover, they had established and funded several universities where research could be done.
Upon examining the four articles opposed by Spangenberg and others, it becomes clear how crucial it is that science and its results should not be suppressed. The articles discuss research in natural sciences and cosmology that delves into the cause and fine-tuning of the universe, as well as the precision of cosmic constants that make life possible. Additionally, they explore the origins of encoded information within DNA, and its role in life itself. It is unacceptable to reject experimental observations and derived theories based on a negative view of Christian beliefs beforehand. Scientific inquiry necessitates an unbiased and open-minded approach, demonstrating the courage to interpret data honestly, in order to reach the most probable conclusion.

Keywords: faith, science, documentary hypothesis, Pentateuch, Genesis, Intelligent Design, creation


 

 

1. Wetenskaplik of onwetenskaplik?

Wanneer beide die makrokosmos en die mikrokosmos duidelik toon dat dit briljant en deeglik ontwerp is, bring dit navorsers by die logiese gevolgtrekking dat daar 'n ontwerper hiervan moet wees - 'n ontwerper van die kosmos wat self nie deel daarvan kan wees nie. Dit is hierdie gevolgtrekking wat in 'n ateïstiese wêreld groot ongemak meebring, soos gesien kan word uit die felle reaksie op die bogenoemde artikels. Dit blyk dat daar selfs druk op akademiese tydskrifte geplaas word om sensuur toe te pas en nie navorsing hieroor te plaas nie, soos gesien kan word in die vraag wat Claassen (2024:10) stel: "Wat het die redakteurs van TGW besiel om hoegenaamd hierdie artikels vir publikasie te oorweeg, praat nie eers van te aanvaar nie?" Dit word ook gesien in die opmerking van Spangenberg (2024:12) dat die "navorsing gediskwalifiseer behoort te word".

Die doel van hierdie artikel is om Spangenberg (2023) se reaksie-artikel op die vier artikels in die TGW te evalueer, om duidelikheid te kry of en in watter mate die felle kritiek werklik wetenskaplike gronde het. Bewerings wat Claassen (2024:10-11) oor veral die natuurweten-skaplikheid van die vier artikels in sy kort artikel in Rapport maak, is reeds netjies en punt vir punt in 'n kort artikel in die daaropvolgende uitgawe van Rapport deur twee natuur-wetenskaplikes (Lemmer & Lemmer, 2024:5) beantwoord. Hulle wys onder andere daarop dat Claassen se onderskrywing van Popper se stelling dat "as iets nie getoets kan word om dit vals te bewys nie, is dit nie wetenskap nie", bevraagteken is deur "vooraanstaande denkers oor wetenskap soos Thomas Kuhn en Paul Feyerabend" en dat die standpunt selfs "die werk van die fisikus Stephen Hawking diskwalifiseer". Dit blyk boonop dat Popper se eie stelling nie aan sy kriteria vir wetenskaplikheid kan voldoen nie.

In sy artikel "Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe" kom Spangenberg (2023:967) tot die gevolgtrekking dat "navorsing" "bewys" het dat nie die Bybel of die Christelike geloof, "noodwendig in harmonie met die moderne natuurwetenskaplike teorieë" is nie. Sy slotwoorde is dat Christene hiermee moet vrede maak. Met hierdie woorde laat Spangenberg dit klink of hy die laaste woord oor hierdie eeueoue gesprek gespreek het. Dit maak dit ook duidelik waarom hy hom so sterk uitgespreek het teen die vier artikels van Dreyer et al. wat in 'n vorige uitgawe van TGW verskyn het, aangesien hierdie artikels juis navorsing bevat oor die harmonie tussen moderne natuurwetenskaplike bevindinge en die Bybel.

Wat opval in Spangenberg se sterk kritiese afwys van die vier artikels, is dat hy nie die argumente wat gevoer word ten opsigte van die harmonie tussen moderne natuurwetenskaplike bevindinge en die Bybel inhoudelik bespreek nie. Hy is ook nie krities oor die moderne natuurwetenskaplike teorieë wat in die artikels gebruik word nie (Spangenberg, 2023:950), of daaroor dat dit ooreenstem met dit wat Christen-gelowiges in die Bybel sou lees en glo nie. Om die waarheid te sê, gaan hy nie in op die materie van die saak soos dit bespreek word nie.

Die kern van Spangenberg se kritiek op die vier artikels is dat die skrywers daarvan, soos meeste Christene, die Bybel en spesifiek die Pentateug as gesaghebbend aanvaar. Sy ewolusionistiese paradigma (sien Spangenberg, 2023: 952, 956, 957, 966, 967) het tot gevolg dat hy die intelligente ontwerp van die heelal wat in die artikels aangetoon word, asook die ooreenstemming daarvan met dit wat die Bybel leer, by voorbaat verwerp.

Sy siening dat die idee van God 'n skepping van die mens is en dat die Bybel dus 'n blote menslike geskrif is, maak dat Spangenberg (2023:967) resente navorsing oor die merkwaardige ooreenstemming tussen dit wat in die Bybel staan, byvoorbeeld oor die ontstaan van alles, in vergelyking met moderne wetenskaplike bevindinge, nie as navorsingswaardig kan ag nie. Hy motiveer sy siening op sy voorveronderstelling van hoe die Bybel saamgestel sou wees, hoe geloof en wetenskap in die verlede in botsing sou wees, asook op logiese denkfoute wat gemaak sou word wanneer daar van die teendeel uitgegaan word. Hierdie bewerings van Spangenberg word vervolgens bespreek.

 

2. Logiese denkfoute: Argumente wat na twee kante toe sny

2.1 Redenasies moet logies en geldig wees

2.1.1 Irrelevante gevolgtrekking1

Dat daar van wetenskaplike artikels verwag word om op 'n logiese en geldige manier te argumenteer, is 'n gegewe. Spangenberg (2023:952) wys met reg op die belangrikheid hiervan en beskuldig dan die skrywers van die vier artikels dat hulle nie hieraan voldoen nie. Hy verwys spesifiek na die eerste artikel van Dreyer, Van der Walt en Denton (2023:196-197) waar hulle stel dat hulle orde in die natuur vind en dit empiries wil bestudeer. Daarby stel hulle dat hulle van die standpunt af uitgaan dat die mens 'n rasionele denkvermoë het om dit te kan doen.

Spangenberg (2023:952-953) reageer egter op hierdie basiese vertrekpunte in die wetenskap dat hy 'n probleem daarmee het dat die navorsers daarvan uitgaan "dat mense rasionele wesens is ... Om na mense te verwys as 'irrasionele wesens' blyk ewe korrek te wees." Spangenberg gee 'n rasionele argument, wat hy duidelik self as "logies en geldig" sien, om die standpunt van die skrywers oor die "rasionele denkvermoë van die mens", wat homself dus insluit, af te wys. Dit is op sigself 'n logiese denkfout - 'n argument wat homself weerspreek. Daarby argumenteer hy teen die skrywers se vertrekpunt dat mense logies kan dink met die argument dat mense nie altyd logies dink nie. Dat 'n mens nie altyd logies dink nie, beteken egter nie dat hy nooit logies dink, of nie die vermoë het om logies te kan dink nie. Hierdie is tipies die logiese denkfout wat in Afrikaans "irrelevante gevolgtrekking" genoem word, waar die gevolgtrekking nie (noodwendig) uit die argument vloei nie (Moreland & Matlock, 2005:94).

2.1.2 Sirkelredenasie2

Geen mens kan hom in sy navorsing van sy voorveronderstellings losmaak nie. Dit sluit die twee sake wat Dreyer, Van der Walt en Denton (2023:196-197) noem, naamlik dat die wêreld empiries bestudeerbaar is, asook dat dit met die mens se rasionele vermoë bestudeer kan word, in. Wat wel belangrik is, is dat navorsers bewus moet wees van hulle voorveronderstellings en van die rol wat dit in die oorweging van die navorsingsresultate kan speel.3

Omdat die skrywers van die vier artikels se fokus daarop geplaas is om te ondersoek hoe bevindinge in die natuurwetenskappe met dit wat in die Bybel staan vergelyk, stel hulle dit van die begin af duidelik dat hulle beide bronne gebruik soos die bronne hulleself aanbied. Dit is dus 'n empiriese benadering waarvan die resultate dan rasioneel beoordeel word. Spangenberg (2023:952) het egter 'n wesentlike probleem daarmee dat die navorsers stel dat die orde wat hulle in die natuur vind, asook die rasionele denkvermoë van die mens wat daarmee kan handel, nie as toevallig gesien word nie (sy standpunt), maar as deur God beskik. Hy beweer dat dit die navorsers by sirkelredenasies uitbring, aangesien dit reeds die gevolgtrekking van die navorsing sou veronderstel.

Die argument van 'n sirkelredenasie gaan egter nie op as die skrywers, juis omdat hulle gelowiges is, eerlik na hulle eie voorveronderstellings kyk en dit deur die navorsing toets nie. Dit sou byvoorbeeld baie moeilik wees om beide die kosmos en die Bybel as gesaghebbend te sien4 as die bronne mekaar wesentlik weerspreek. Dat hulle in hulle navorsing 'n merkwaardige ooreenkoms tussen bevindinge van die moderne natuurwetenskappe en dit wat in die Bybel staan uitwys, kan nou deur lesers en ander navorsers verder inhoudelik beoordeel word.

Spangenberg se beskuldiging van sirkelredenasies sou goedskiks op sy eie redenasie toegepas kon word. Hy gee toe dat navorsers hulle veronderstellings wel kan verklaar, maar stel dan dat hulle dit vir die duur van die navorsing opsy moet skuif, of krities moet ondersoek. Die doel van die skrywers van die vier artikels was juis 'n kritiese vergelyking van die twee wyses waarop hulle glo God Hom openbaar. Dit blyk dat Spangenberg vanuit sy eie ewolusionistiese benadering5 (sien Spangenberg, 2023:952, 956, 957, 966, 967) egter nie self aan sy gestelde vereiste voldoen nie. Sy artikel laat byvoorbeeld blyk dat hy sy voorveronderstelling dat God fiksie is en dat die Bybel daarom onbetroubaar moet wees as basis vir sy argumentasie gebruik, in plaas daarvan dat hy dit, in sy eie woorde, vir die duur van sy navorsing opsy skuif en op die materie van die argumente van die skrywers van die vier artikels ingaan. Sy gevolgtrekking dat gelowiges daarmee moet vrede maak dat die Bybel en die natuurwetenskappe nie in harmonie met mekaar kan wees nie (Spangenberg, 2023:967), word reeds in sy argumentasie aan die begin van sy artikel dat hierdie "Reformatoriese verstaan van die werklikheid (Dreyer, Van der Walt & Denton, 2023:196) ... 'n uitgediende paradigma" is (Spangenberg, 2023:951) gevind.

Spangenberg (2023:952) noem dit 'n sirkelredenasie as die skrywers van die vier artikels op die wonder wys dat die mens rasioneel is en dat sy brein so gemaak is dat dit dinge in die skepping kan ontdek, deurdink, verstaan en verwerk. Selfs 'n kragtige ontploffing soos die oerknal, bied geen sinvolle verduideliking hiervoor volgens Dreyer en Van der Walt (2023b:238-240) nie. Dit is vir hulle 'n verdere argument vir 'n intelligente ontwerper van wie die mens se rasionaliteit afkomstig is. In plaas van 'n sirkelredenasie, werk die skrywers met die vraag of die oorsprong van menslike funksionaliteit en die orde wat so ontdek word vanself kon ontwikkel, en of dit eerder daarop dui dat dit fyn beplan en briljant ontwerp is. Dat hulle logiese bevindinge hulle geloofs-apriori ondersteun (en nie dié van Spangenberg nie) is duidelik.

2.1.3 Syspoor-denkfout 6

In 'n logiese diskoers moet die argument en die stellings daarin vervat, verband hou met die saak onder bespreking. 'n Mens kan byvoorbeeld nie 'n woord in 'n sin misbruik om van die punt af te wyk en oor 'n saak wat nie direk relevant is redeneer nie. Wanneer die skrywers van die vier artikels op grond van moderne wetenskaplike navorsing bevind dat die heelal en die mens so fyn en briljant beplan en saamgestel is dat hulle nie tot 'n ander gevolgtrekking kan kom as dat dit deur 'n intelligente ontwerper daargestel is nie - een wat vir hulle aan die term "God" voldoen - is dit die onderwerp wat bespreek word. Om dan, soos Spangenberg (2023:952), te vra watter God hulle bedoel, is om die gesprek op 'n syspoor te neem na 'n saak wat nie direk onder bespreking is nie.

Spangenberg (2023:952) noem die name van verskillende gode wat die intelligente ontwerper kan wees. Dat daar volgens hom verskillende gode aan die beskrywing van 'n intelligente ontwerper voldoen, maak nie die argument vir so 'n ontwerper ongeldig nie. Inteendeel. Dit trek ook nie 'n streep daardeur dat dit die God van die Bybel kan wees nie. 'n Wyse waarop sekere gode "uitgeskakel" kon word as moontlike ontwerper, sou wees om die verskillende geskrifte wat mense glo daardie gode openbaar teen dit wat natuurwetenskaplik bevind word te weeg - iets wat die skrywers van die vier artikels juis ten opsigte van die God van die Bybel doen.

Spangenberg (2023:952) beweeg verder op 'n syspoor deur sy aanval op die Christelike belydenis van God as drie-enig. Hy argumenteer dat die leerstuk van die Drie-eenheid 'n produk van die vierde en vyfde eeu n.C. is en nie in die Bybel geleer word nie. Wanneer daar egter na dit wat die Bybel oor God openbaar gekyk word, is dit duidelik dat die Bybel herhaaldelik daarop wys dat daar net een God is. Logies maak dit sin, want daar kan nie meer as een Wese wees wat almagtig vrylik oor alles kan beskik nie. Terselfdertyd noem die Bybel drie verskillende Persone God - die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die Drie-eenheid word van die begin af in die Skrif verduidelik, sonder dat die term gebruik word.7 Dit is logies om te sê dat as daar net een Goddelike wese is en drie Persone, wat duidelik met mekaar in verhouding staan, as God bekendgestel word, daardie drie Persone een Goddelike wese is. Wetenskaplik gesien, behoort daar waardering te wees as dit wat bevind word oor God in die Woord in 'n enkele woord soos Drie-eenheid saamgevat kan word.

2.1.4 Ad Hominem - Raak persoonlik8

In sy artikel raak Spangenberg baie persoonlik met sy opmerkings oor die skrywers van die artikels waarteen hy dit het. So verwys hy na die skrywers se siening van die Drie-eenheid as "verbysterende insig" - iets wat moeilik as iets anders as 'n snedige opmerking gelees kan word. In die logika word sulke persoonlike aanvalle wat nie die saak dien nie, 'n Ad Hominem-9denkfout of drogredenasie genoem.

2.1.5 Beroep op gesaghebbendes (Argumentum ad verecun)10

'n Logiese denkfout wat dikwels voorkom - ook by Spangenberg - is argumentum ad verecun (beroep op 'n gesaghebbende). Die valstrik van hierdie dwaling is dat mense gesag misbruik in 'n poging om hulle argument te laat geld (Ferrer, 2019:7). 'n Voorbeeld hiervan is waar Spangenberg (2023:950) as argument aanvoer dat sy siening aanvaar moet word, omdat geleerdes meer weet as hulle studente. Hoewel dit in sekere gevalle waar kan wees, is dit beslis nie in al die gevalle waar nie. Dit word byvoorbeeld verwag dat PhD-studente in hulle navorsing by bevindinge wat selfs hulle studieleiers nie van bewus was nie, kan uitkom. Die argument hou verder nie rekening daarmee dat almal foute maak en dat selfs kenners op 'n gebied grondig met mekaar kan verskil nie.

2.1.6 Algemeen aanvaarde11

Spangenberg (2023:966-967) beweer dat iemand wat nie sy siening deel nie, nie met dit wat algemeen onder Bybelwetenskaplikes sedert die einde van die 19de eeu aanvaar word, saam-stem nie. Daar is egter genoeg bronne wat aandui dat baie Bybelwetenskaplikes nie met dit wat hy sê, saamstem nie. Buitendien bepaal wat die meerderheid glo nie die waarheid van 'n argument nie. Al wat hy eintlik bewys, is dat hy 'n ander paradigma as die skrywers van die vier artikels het.

2.1.7 Valse dilemma-denkfout12

Om sy bronneteorie te probeer bewys, wys Spangenberg (2023:955) op sogenaamde verskillende perspektiewe op Jahweh in die Bybel, byvoorbeeld dat Hy genadig en liefdevol sou wees, en daarteenoor dat God se geregtigheid straf vereis. Hy probeer 'n teenstrydige teenstelling maak tussen 'n genadige God en 'n straffende God - een wat verlos en een wat oordeel. Spangenberg maak hom hier skuldig aan die valse dilemma-denkfout, waar 'n keuse tussen twee sake vereis word, terwyl albei saam geldig kan wees (Ferrer, 2019:2), of waar daar meer moontlikhede is (Moreland & Matlock, 2005:90). In Christelike teologie staan God se regverdigheid en sy genade nie teenoor mekaar nie. Dit is juis aanvullend.

2.1.8 Die oorsprong-denkfout13

Die oorsprong-denkfout verwerp 'n argument op grond van die oorsprong daarvan (Ferrer, 2019:7). Spangenberg (2023:953) verwys byvoorbeeld na die gereformeerde leer as basis van 'n argument, en gee dit aan as rede waarom dit nie geldig is nie. Dit word gedoen in plaas daarvan om na die argument self te kyk en sou ewe maklik met sy voorveronderstellings gedoen kon word.

2.2 Inlegkunde of uitlegkunde - 'n wesentlike vraag

Deel van eerlike navorsing is om die bronne wat gebruik word, soos wat hulle hulself voorhou, uit te lê en te beoordeel. Dit word uitlegkunde genoem. Wanneer iets in 'n bron ingelees word wat nie daar staan of bedoel word nie, dan vind inlegkunde plaas - 'n oneerlike omgang met die bron.

2.2.1 Laat ons mense maak

Spangenberg (2023:962) beskuldig die skrywers van die vier artikels van inlegkunde oor hulle siening van Genesis 1:26. In Genesis 1:26 sê God: "Laat ons mense maak na ons beeld". In Genesis 1:27 staan daar "Hy het die mens gemaak na sy beeld". Dit is opvallend dat die een vers meervoud en die volgende vers enkelvoud vir God gebruik wanneer Hy die mens maak. Duidelik het die skrywer van Genesis 1 dit nie as 'n weerspreking gesien nie. Boonop is die woord wat vir God as Skepper al in die eerste vers van Genesis gebruik word, Elohim, in die meervoud, terwyl die werkwoord "Hy het geskep" in die enkelvoud is. Dit kom dus ooreen met die Godsopenbaring in die res van die Bybel waar dit beklemtoon word dat daar net een God is, maar dat drie Persone God genoem word en deel is van hierdie een goddelike Wese.

Die Godsopenbaring in Genesis 1:26 sou dus op 'n logiese wyse deur die skrywers van die artikels met dit wat in die res van die Bybel staan, vergelyk kon word, en tot die gevolgtrekking gekom word dat dit God-Drie-enig is na wie daar in Genesis 1 verwys word as die een wat alles skep. Ons sien dan ook in die res van die Skrif dat God sê dat Hy alles gemaak het (vgl. Jes. 45), asook dat nie net die Vader Skepper is nie, maar ook die Seun (vgl. Joh. 1:3). Genesis 1:2 verwys na die Gees van God wat oor die waters gesweef het. Dit alles toon dat die Drie-eenheid tydens die skepping aanwesig was.

Terwyl die drie skrywers van die vier artikels dus nie van inlegkunde beskuldig kan word nie, is dit eerder Spangenberg self wat inlegkunde pleeg wanneer hy Genesis bespreek. Met verwysing na Genesis 1:26 stel hy (2023:962) dat wanneer God sê "laat ons mense maak" dit 'n voorstel aan ander gode is. Hy stel dit nie as 'n moontlikheid nie, maar as 'n feit: "Hierdie teks veronderstel duidelik meer as een god". Hierdie bewering maak hy sonder dat die Bybel hom daartoe lei. Om die waarheid te sê, staan dit direk teenoor wat die Ou Testament (vgl. Jes.43:10, 44:6, 45:5, 18, 21, 22) en die Bybel as geheel leer.14

Hoewel daar destyds (soos vandag) 'n geloof in 'n veelheid van gode onder aanhangers van natuurgodsdienste bestaan het (soos o.a. gesien kan word in die godsdienste van die Egiptenare en die Kanaäniete), is dit duidelik dat hierdie godsbeskouings in die Pentateug afgewys word. Selfs as net van die Pentateug uitgegaan word, kan die inbring van 'n sogenaamde "godeveigadering" en "godetuin" in Genesis 1 en 2 nie as 'n moontlike verklaring van Genesis 1:26 oorweeg word nie en kom dit gevolglik neer op inlegkunde. Deurgaans val die klem juis daarop dat, teenoor die heidense volkere se idee van veelgodedom, God as die enigste God geken en bely moet word. Dit dien as basiese uitgangspunt van Israel se godsdiens. Wette en maatreëls word in plek gestel dat die kinders van Israel dit moet onthou - soos duidelik gesien kan word in die eerste gebod (Ex. 20 & Deut. 5),15 asook besonderlik in die opdragte t.o.v. die kinders van Israel in Deuteronomium 6. Terwyl Spangenberg sy idee van 'n veelgodedom in die teks indra, projekteer hy terselfdertyd sy werkswyse op die skrywers van die vier artikels, deur hulle van inlegkunde te beskuldig.

2.2.2 Die tweede skeppingsverhaal

Volgens Spangenberg (2023:967) is alle godsdienste, ook die Christelike, deur mense geskep: "Godsdienste (en dit sluit die Christelike godsdiens in) het in die tyd ontstaan en het oor tyd geëvolueer". Vir hom is die Christelike godsdiensparadigma uitgedien weens natuurwetenskap-like en Bybelwetenskaplike navorsing. Die teendeel word egter in die vier artikels bewys, waar beide die Bybel en die skepping ernstig opgeneem word, wanneer daar na die openbaring van elkeen geluister word en beide oorweeg word. Dit blyk egter nie uit sy artikel dat Spangenberg werklik ingegaan het op die materie van dit wat die skrywers stel nie.

Dit is belangrik dat 'n navorser nie sy paradigma op sy bron probeer afdruk nie, maar eerlik sal luister na wat sy bronne deurgee. Deurdat Spangenberg (2023:963) sy idee van 'n veelgodedom in Genesis wil indra, noem hy die tuin in Genesis 2 'n godetuin. Hy gee as motivering dat daar staan dat die tuin in die ooste was. Die ooste is waar die son opkom. Volgens hom is dit ook waar die hemel en aarde mekaar ontmoet en waar gode wat in die hemel woon die aarde kon betree. Om dit alles af te lei daarvan dat die tuin in die ooste geleë was, klink al te veel na 'n "slippery slope-"vorm van inlegkunde.

Sy verdere "bewys" dat die eet van sekere bome se vrugte verbode was omdat dit net vir God bedoel was (Spangenberg, 2023:963), is ook 'n inlees in die teks wat nie daar staan of geïmpliseer word nie. Tog word die stelling as feit gestel. Gesonde navorsing moet eerder op wat die teks self sê, fokus en dit interpreteer soos dit bedoel is om verstaan te word.

Wanneer uitleg van 'n historiese teks gedoen word, word daar onder andere na die agtergrond en omstandighede van iets wat verhaal word gekyk, om te verstaan wat dit vir destydse hoorders of lesers sou kon inhou. Dit mag egter nie so gebeur dat dit die fokus van wat eintlik daar staan wegtrek na dit wat die navorser vandag daaroor dink nie. Deur die betekenis van wat in 'n Skrifgedeelte staan te verander, is dit nie uitlegkunde nie, maar inlegkunde, en dus onjuis.

2.2.3 Adam en Eva

Vir Spangenberg is Adam en Eva fiktiewe karakters, alhoewel hulle in Genesis as histories beskryf word en in die res van die Bybel ook so gesien word. Om dit op feit-stellende, ongemotiveerde wyse as argument teen die skrywers van die vier artikels te gebruik, terwyl hulle verstaan daarvan juis met die Bybel waarmee hulle die natuurwetenskaplike bevindinge vergelyk klop, is nogeens 'n vorm van inlegkunde - juis dit waarvan hy die skrywers beskuldig met hulle siening van Adam en Eva as voorbeeld (Spangenberg, 2023:962). Dit lyk eerder of hy sy paradigma op die skeppingsverhaal wil afforseer.

In die Bybel is daar geen vraagtekens oor die historisiteit van Adam en Eva nie. Ná 'n diepgaande studie hieroor, kom Collins (2011:133) tot die gevolgtrekking dat die tradisionele verstaan van Adam en Eva as ons eerste ouers wat sonde in die menslike ervaring inbring, betroubaar is. Dit pas by 'n Bybelse storielyn met sy idee van verteenwoordiging en verbondsinlywing. Dit bied ook 'n betekenisvolle verklaring vir alledaagse ervaring. Hierdie siening word nie net in Genesis uitgedruk of veronderstel nie, maar dwarsdeur die Bybel, insluitende in die Evangelie-aanbieding van Jesus en in die briewe van Paulus. Die alternatiewe is minder bevredigend en doen onreg aan die teks. Dit sluit Spangenberg (2023:963-966) se lees daarvan as 'n etiologiese verhaal wat in 'n bepaalde konteks ontstaan het, in.

2.2.4 Ander man se vrou begeer

Deurdat hy sy beskouing van die natuurgodsdienste in die Pentateug inlees, ignoreer Spangenberg (2023:957) die uniekheid van die Pentateug wat die veelgodedom van die natuurgodsdienste direk teengaan. Om sy siening dat dit tydgebonde geskrifte is verder te motiveer, stel hy op grond van Eksodus 20:17 "vroue was halfwasmense en mans kon met hulle handel dryf, soos met skape en bokke". Die tiende gebod waarna hy verwys, handel egter oor begeertes na dit wat nie aan jou behoort nie - insluitende 'n ander man se vrou - en stel nie dit wat hy wil voorgee nie. 'n Paar verse vroeër word kinders in Genesis 20:12 opdrag gegee om hulle vaders én hulle moeders te eer. Van die begin af (Genesis 1:27) word daar spesifiek beklemtoon dat God beide man en vrou na sy beeld gemaak het. Die wetgewing wat in die Pentateug gegee word, is juis om vrouens te beskerm - van huweliksluiting tot verkragting - en dit staan teenoor die gebruike van daardie tyd en teenoor dit wat Spangenberg in die teks wil inlees. Dit is onwetenskaplik om van 'n werkswyse gebruik te maak waar dinge wat nie daar staan nie en waarvan die teenoorgestelde juis op grond van Skrif-met-Skrif-vergelyking blyk waar te wees, in die Skrif in te lees. Die ironie is dat dit juis Spangenberg (2023:957) is wat hom sterk teen inlegkunde uitspreek en die skrywers van die vier artikels daardeur probeer diskrediteer.

 

3. Geesteswetenskappe en bron-diskreditering

Onder die opskrif "Voorbeeld 2: Geesteswetenskaplike navorsing" wys Spangenberg (2023:954-956) die moontlikheid dat Moses die outeur van die Pentateug kon wees af en verkondig hy die standpunt dat die eerste vyf boeke van die Bybel oor eeue ontstaan het en 'n samevoeging van 'n verskeidenheid bronne of dokumente is - die sogenaamde bronnehipo-tese (of dokumente-hipotese). Hy gebruik dit om sy standpunt te motiveer: "Grondige navorsing het bewys dat die Bybel en die Christelike geloof nie noodwendig in harmonie met die moderne natuurwetenskaplike teorieë is nie - daarmee moet teoloë en gelowiges vrede maak" (Spangenberg, 2023:967). Deur te stel dat dit nie noodwendig so is nie, sluit hy logies gesien nie die moontlikheid dat dit wel waar kan wees uit nie. Dit stry met sy laaste opmerking dat daar met sy standpunt vrede gemaak moet word.

3.1 Die boeke van Moses

Spangenberg (2023:955) noem die idee dat Moses die outeur van die Pentateug is 'n verouderde idee en meen dit is "verstommend dat die outeurs van die eerste artikel nog na Moses as die skrywer van die Pentateug verwys". Dit is vir hom 'n bewys dat die skrywers nie rekening hou met "resente navorsing in die geesteswetenskappe - meer spesifiek die Bybelwetenskappe" nie (Spangenberg, 2023:950).

Die woord "verstommend" is 'n baie sterk afkeurende woord vir die verwysing na Moses as outeur van die Pentateug. Sy argument teen Moses as die enigste skrywer van die "ganse Pentateug" (Spangenberg, 2023:955) trek nie 'n streep deur al die getuienis dat Moses wel die grootste deel van die Pentateug kon geskryf het en dat enkele byvoegings wat gemaak is (bv. oor Moses se afsterwe waarmee die Pentateug afsluit - Deut. 34) tipies is van wat 'n redakteur wat na Moses se dood verantwoordelik vir die afronding van Moses se geskrifte is, sou doen nie.

Daarby was die debat oor die outeur van die Pentateug duidelik nie in die visier van die skrywers van die eerste artikel nie. Hulle kon op ander wyses ook na die Pentateug verwys het. 'n Manier van verwysing - wat veral ook in die res van die Skrif gebruik word - maak nie die artikel of die argumente daarin ongeldig nie.

In sy video oor "Who wrote the Book of Genesis" wat deur Zondervan se akademiese uitgewery uitgegee is, fokus Tremper Longman (2018) as Ou Testamentikus op die vraag wie die outeur van Genesis was. Hy wys dan daarop dat alhoewel Moses nêrens in Genesis, of selfs in die hele Pentateug, die skrywer daarvan genoem word nie,16 die res van die Bybel wel daarna verwys as van Moses. Dit begin reeds net ná Moses se dood in die volgende hoofstuk in die Bybel - Josua 1. Hierdie siening stem ooreen met die gevolgtrekking van Katz (2012:129) oor die Pentateug, naamlik dat geredelik aanvaar kan word dat Moses die voorgeskiedenis van die Israeliete geskryf het, gebaseer op ouer materiaal wat voor Sinai versamel is.

In die Pentateug kom daar ook 'n aantal verwysings na Moses wat dinge neergeskryf het voor. In Exodus 17:14 staan daar byvoorbeeld dat die Here vir Moses gesê het "Skryf hierdie woorde op in 'n boek as 'n blywende herinnering". In Exodus 24:3-4 lees ons dat Moses "aan die volk al die woorde van die Here, en al die verordeninge vertel" het. Nadat die volk gereageer het dat hulle sal doen wat die Here sê, het Moses "al die woorde van die Here opgeskrywe." Exodus 34:28 vertel dat Moses 40 dae op die berg by die Here was, waar hy "die woorde van die verbond" neergeskryf het. Volgens Grisanti (2011:172) kan nie ontken word dat Moses 'n beduidende skrywer van Genesis sowel as die Pentateug was nie. Dit sluit nie uit dat Moses mondelinge tradisies of bestaande geskrewe rekords kon gebruik het nie, benewens direkte openbaring vir sy samestelling van Genesis. Wat hy insluit, is deel van die geïnspireerde teks van Skrif en word as sodanig as onfeilbaar en foutloos gesien.

Moses het ook, volgens Numeri 33:2 en verder, in opdrag van die Here neergeskryf hoe die Israeliete getrek het. Deuteronomium 31:24 vertel dat Moses die wetboek wat hy "tot die laaste woord toe, in 'n boek opgeteken het" aan die Leviete toevertrou het om dit saam met die verbondsark te bewaar. Moses het ook die lied wat hy geskryf het, laat opteken (Deut. 31:19).

Dit is duidelik dat Moses heelwat materiaal wat deel van die Pentateug vorm, geskryf het. Daarom maak dit sin om daarna te verwys as "van Moses". Selfs met die enkele redaksionele byvoegings wat ná die dood van Moses aan die Pentateug gemaak moes word, stel Longman (2018) dat Moses as die primêre skrywer van die Pentateug aangedui word. Hoewel Moses ook, soos skrywers maak, moontlike bronne gebruik het om Genesis te skryf (die elleh toledot17), vind hy geen goeie rede om die outeurskap van Moses te ontken nie. Ook in die Nuwe Testament word die Pentateug met Moses geassosieer (bv. Mat. 19:7; 22:24; Mk. 7:10; 12:18-27; Joh. 1:17; 5:46; 7:23).

3.2 Die bronnehipotese

Die bronnehipotese kan beskryf word as 'n teorie dat die Bybel, en spesifiek die Pentateug, uit verskillende en selfs teenstrydige bronne saamgestel is. Dit dien as motivering vir Spangenberg as voorstander van die hipotese dat die Bybel daarom nie as gesaghebbend gesien kan word nie.

3.2.1 Hipotese as feit voorgehou

Spangenberg (2023:955-956) bespreek die bronnehipotese as 'n feit en verwys op 'n onkritiese manier na Wellhausen (1844-1918)18 en andere wat hierdie teorie destyds onder 'n groepering van teoloë gewild gemaak het. Hoewel hy self die teorie ten opsigte van die Bybel voorstaan, erken hy dat min Christene die teorie aanvaar. Tog is dit vir hom so wesentlik belangrik en feitelik dat hy skryf dat navorsing in Bybelwetenskap wat dit nie verdiskonteer nie "gediskwalifiseer behoort te word" (Spangenberg, 2024:12).

Soos ander voorstanders van die bronnehipotese, beskou Spangenberg (2023:954-956) die Pentateug as 'n samevoeging van verskillende dokumente. Die dokumente sou oor etlike jare deur verskillende skrywers geskryf gewees het - mense wat verskillende sieninge oor God en godsdiens gehad het. As bewys van sy hipotese voer hy aan dat daar verskillende en teenstrydige perspektiewe op Jahweh in die Ou Testament sou wees. Voorstanders van die bronnehipotese snipper die Ou Testament in verskillende deeltjies op, onder andere op grond van die name wat vir God gebruik word.19 Dit word selfs nog verder verdeel met die veronderstelling dat verskillende skrywers na God as Jahweh sou verwys. Die bronne word dan byvoorbeeld genommer as J1, J2, J3, ensovoorts. Hierdie indelings word gedoen sonder argeologiese of ander bewyse dat hierdie bronne wat hulle in die Ou Testamentiese teks veronderstel, werklik bestaan.

Omdat daar nie ander ondersteunende bewyse vir die bronnehipotese gevind kon word nie, het diegene wat die bronnehipotese aanhang die afgelope tyd hoofsaaklik op literêre aspekte gefokus (Boyd, 2021:120). Die bronnehipotese het egter ook op literêre vlak baie mankemente - iets wat maak dat heelwat Bybelwetenskaplikes dit nie as 'n (belangrike) deel van hulle navorsing beskou nie. 'n Voorbeeld hiervan word in Katz (2021:40) se kritiek op die bronnehipotese gevind, wanneer hy die woord "na'arah" wat sonder die laaste letter "hé" in die Bybel voorkom, bespreek. Anders as wat sekere voorstanders van die bronnekritiek dit wil hê, is dit die meer antieke vorm van die woord en dui dit op 'n vroeë neerskryf van die Pentateug.

Eerder as om die Pentateug te probeer versnipper behoort die narratiewe eenheid die klem te ontvang, soos selfs literêre kritici met behulp van standaard literêre konvensies op grond van resente navorsing hieroor uitwys (Klingbeil, 2019:21). Terwyl die bronnehipotese se rakleeftyd volgens voor- en teenstanders besig is om verby te gaan,20 maak Spangenberg (2023:956) 'n groot saak daarvan dat die skrywers van die vier artikels nie van die bronnehipotese wat hy, vreemd genoeg, die nuwe navorsing in die geesteswetenskappe noem, gebruik maak nie.

Resente navorsing oor die samestelling van die Ou Testament en spesifiek die Pentateug, dwing selfs voorstanders van 'n bronnehipotese om te erken dat daar duidelike probleme met die hipotese bestaan. So stel John Savoie (2020:211) in sy artikel waar hy P- en J-bronne in die Nuwe Testament probeer vind, dat die bronnehipotese as 'n teorie van analise en verdeling in saamgestelde stukke, die naatlose samesmelting van 'n gedeelte soos Genesis 1 en 2 (waaroor Spangenberg dit spesifiek het) eerder kompliseer en verdoesel, as wat dit dit ophelder en belig. Oor die onderskeiding binne die sogenaamde J-materiaal wat Spangenberg as bewys aanvoer, stel Savoie (2020:200) dat dit lei tot "devolving into speculation, quibbles, circular reasoning, and a text as tortured as the most egregious political gerrymander".

Dit is daarom verstaanbaar dat Baden (2012: 246-249) hom teen die klassieke weergawe van die bronnehipotese uitspreek. Volgens hom is daar min voorstanders van 'n vorm van bronnehipotese, wat nie die weergawe van Wellhausen ter syde gestel het nie.

Nadat 'n ander aanhanger van die bronnehipotese, Ariel Seri-Levi, tot die gevolgtrekking gekom het dat Numeri 25 uit drie verskillende bronne saamgestel is, erken Seri-Levi (2023:566) dat die soeke na literêre, teologiese en historiese oorspronge van verskillende stukke in die teks al te dikwels spekulatief van aard is. Dit is daarom verstaanbaar dat voorstanders van die bronnehipotese soos Najman en Schmid (2022:23) beklemtoon dat voorveronderstellings oor die samestelling en komposisie-praktyke van die Pentateug heroorweeg moet word.

In sy artikel wat oor "Die Pentateuchkrise als krise der literarkritik" handel, behandel Siegbert Riecker (2020:123) die huidige krisis in navorsing oor die Pentateug en verwys hy na die ondergang van die Wellhausen-paradigma - die paradigma wat Spangenberg (2023:955) as feit en moderne wetenskap konstateer. Klingbeil (2019:1) stel ook dat die Graf-Wellhausen bronnehipotese, soos oorspronklik aangebied, onhoudbaar is. Daarby verwys Riecker (2020:123) na 'n fundamentele krisis in die bronkritiese paradigma as sodanig. Hy stel op grond van resente navorsing dat die alternatief vir die klassieke paradigma van bronnekritiek 'n literêre paradigma is wat terugkeer na die beginpunt van die getuienis van die Bybelse tekste self. Dit is in dié sin dat die skrywers van die vier artikels ook hulle argumentasie voer. Terwyl literêre spanning nie geïgnoreer word nie, wys Riecker daarop dat sisteme van interpretasie om teenstrydighede te verklaar nie meer op metodes wat in die agtiende en negentiende eeu ontwikkel is, gebaseer kan word nie. Die antieke literêre konvensies van die Bybel en sy milieu moet eerder nagevors word. Duidelik weerspreek dit Spangenberg se aanspraak dat sy siening die resente geesteswetenskaplike siening is.

Riecker (2020:144) ontken nie dat die outeur van die Pentateug (of te wel die Torah soos hy daarna verwys) van bronne gebruik gemaak het nie. Hy stel egter dat die outeur as "komponis" sy materiaal geheel en al in sy "homogene kunswerk" geïntegreer het. Hy beskou die siening (wat Spangenberg volgens sy artikel ook huldig) dat bronne of redaksionele stadiums selfs by benadering betroubaar deur spekulatiewe hipoteses gerekonstrueer kan word, as heeltemal naïef volgens vandag se kennis. Dit kom van die oordrewe optimisme van die Duitse historisme in die 19de eeu.

In sy navorsing oor die Pentateug en sy samestelling, daag Klingbeil (2019:1) die bronnehipotese se vooronderstelling uit dat daar uiteenlopende bronne bestaan en vra vir 'n vars benadering tot die hermeneutiek van die Pentateug wat dit wat deur die teks self gestel word, ernstig opneem. Dit geld ook vir die waarheidsaansprake van die Pentateug en vir 'n wegbeweeg van 'n hipotetiese lappieskombers van brondokumente (Klingbeil, 2019:9,20). Hierdie teorie is hoogstens 'n hipotese, maar 'n feit of 'n voorwaarde vir Bybelwetenskap is dit beslis nie.

Tog skryf Spangenberg (2024:12) in die briewekolom van die Sondagkoerant, Rapport, dat die outeurs van die vier artikels se "navorsing gediskwalifiseer behoort te word" en gee as motivering dat hulle nie aandag gegee het aan sy bronkritiese idees - idees wat vandag onder felle kritiek deurloop - nie.

3.2.2 Eerder eenheid as verdeeldheid

Op die agterblad van sy boek oor die bronnehipotese, stel Ford (2021),21 dat Moses volgens die bronnehipotese nie die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf het nie, want as dit deur een outeur geskryf sou gewees het, sou dit volgens 'n duidelike plan geskryf gewees het. Die veronderstelde talryke teenstrydighede, verskille in styl en herhalings in die vyf boeke is volgens voorstanders van die bronnehipotese 'n bewys dat die boeke nie volgens 'n plan geskryf is nie en nie 'n enkele outeur gehad het nie, veral nie Moses nie. Ford gee dan in sy boek voorbeelde van hoe hy met hierdie kriteria wat die bronnehipotese toepas, kan "bewys" dat die boeke van voorstanders van die bronnekritiek deur verskillende skrywers en op teenstrydige en herhalende wyse geskryf is, met terme wat uit verskillende tye kom. Daarna gaan hy voort om uit te wys dat die eerste vyf boeke van die Bybel wel 'n duidelike plan het en dat dit moontlik is om te toon dat dit deur een enkele outeur geskryf is.

Ford (2021:137-172) toon verskeie probleme met die bronnehipotese aan, waaronder dat daar nie 'n oortuigende rede gegee kan word waarom die "verkeerde" naam van God in die sogenaamde brondokumente verskyn nie. Daarby beredeneer hy dat die profete Jeremia, Esegiël en Hosea reeds die hele Pentateug tot hulle beskikking gehad het en dat dit duidelik is dat die Pentateug bestaan het voor die ballingskap en nie eers teen die latere tydperk wat deur voorstanders van die bronnehipotese gestel word nie.

Hierby kan bygevoeg word dat die indeling van die Pentateug, en spesifiek Genesis, volgens die bronnehipotese in verskeie bronne, nie genoegsame aandag aan die outeur se bedoeling gee nie. Indien dit so saamgestel sou gewees het, moes die outeur en finale redakteur tog besef het dat twee skeppingsverhale, asook verskillende Godsname, gebruik word. As ons die eenheid en inspirasie van die Skrif aanvaar, soos miljoene Christene wel doen, kan ons eksegeties te werk gaan en oorweeg waarom spesifieke Godsname by spesifieke geleenthede gebruik word en so tot waardevolle insigte en uitlegkunde kom. Daarenteen, as ons dit slegs as verskillende bronne beskou, eindig dit daar en lewer dit nie vrugbare navorsing op nie. Genesis en die hele Pentateug vorm 'n waardevolle eenheid wat oor eeue en steeds as sodanig bestudeer word.

 

4. Wetenskaplik of juis nie?

4.1 Natuurwetenskap en geloof

Spangenberg (2023:953-954) is reg dat dit etlike jare geduur het voordat die heliosentriese hipotese van Kopernikus aanvaar is. Wetenskaplike prosesse neem tyd om inslag te vind. Hy is egter nie reg as hy die geskiedenis van Galileo Galilei gebruik om die geloof-wetenskap-gesprek waaroor die skrywers van die artikels navorsing gedoen het, verdag te maak nie. Anders as wat hy beweer, was die Galileo-sage nie 'n stryd tussen wetenskap en kerk nie. Die kerk van destyds (insluitende die pous) het juis vir Galileo aangemoedig om met hierdie werk voort te gaan. Dit was die natuurwetenskaplikes van daardie tyd wat met reg en ten onregte 'n probleem met die resultate van sy navorsing gehad het.

D'Souza (2007:68-74) wy 'n hele hoofstuk aan die geskiedenis van Galileo onder die opskrif "An atheist fable: Reopening the Galileo case". Hy wys daarop dat die geosentriese heelal voor die sestiende eeu 'n algemeen aanvaarde konsep, geskoei op die denke van die Griekse sterrekundige, Ptolemaios, was. Galileo, 'n Florentynse sterrekundige, wat ook eers 'n ondersteuner van Ptolemaios se geosentriese teorie was, het later oortuig geraak dat Kopernikus reg was dat die aarde om die son draai. Kopernikus het sy teorie reeds in 1543 in 'n boek wat aan die Pous opgedra is, gepubliseer. Hy kon geen bewyse daarvoor gee nie, behalwe dat die heliosentriese hipotese beter voorspellings van planeetbane lewer. Kopernikus se idees het 'n groot debat binne die godsdiens- en wetenskap-gemeenskap wat destyds grootliks oorvleuel het, ontlok.

Nadat hy 'n kragtiger teleskoop as ander van sy tyd ontwikkel het, het Galileo belangrike nuwe waarnemings oor planete en vlekke op die son gemaak wat ooreengestem het met die Kopernikaanse teorie. Terwyl van die voorste sterrekundiges van destyds nie met Galileo saamgestem het nie, was dit die Pous wat Galileo se wetenskaplike navorsing ondersteun het. Hierdie verhouding het ná jare onder druk gekom toe Galileo in 1632 'n boek, waarin hy die pous beledig het, gepubliseer het. Ten spyte hiervan en ten spyte van heelwat foute in die boek, is Galileo nie van kettery aangekla of gemartel nie. Nadat hy vyf maande saam met een van die aartsbiskoppe in sy paleis gebly het, is hy toegelaat om na sy huis in Florence terug te keer. Hy kon sy wetenskaplike werk voortsit tot en met sy dood in 1642.

Terwyl die wetenskaplikes en die kerk destyds baie strenger met Galileo kon gehandel het, het dit nie gebeur nie. Dit is juis in die kader van die Christendom dat natuurwetenskaplike navorsing oor eeue aangemoedig en selfs befonds is en universiteite daargestel is. Dit is ironies dat dit vandag ateïstiese denkers is wat op grond van hulle paradigma deeglike navorsing van Christen-wetenskaplikes wil onderdruk.22

4.2 Navorsingsensuur is nie wetenskaplik nie

Terwyl Claassen (2024:10) in sy aanval op die vier artikels beweer dat die Christelike godsdiens "kritiese denke verlam", bewys die geskiedenis juis die teendeel. Terwyl Christen-denkers oor eeue wetenskap uitgebou het, soos die skrywers van die vier artikels by name uitwys, is dit telkens ateïste wat beperkinge op wetenskaplike denke plaas en selfs sensuur wil toepas. Claassen spreek hom sterk teen die intelligente ontwerp wat natuurwetenskaplikes in hulle navorsing vind uit, en wil so die navorsing inbind en keer om sy logiese gang te gaan. Wanneer erken word dat alles wat tot stand gekom het (insluitende die kosmos) 'n oorsaak moet hê, bring dit logies die vraag na vore wie of wat die oorsaak is dat dit tot stand gekom het. Om dan te beweer dat dit vanself uit niks tot stand gekom het is nie logies nie. Dit is so goed as om te sien dat 'n bal deur die lug trek en in jou tuin val, maar omdat jy glo dat jy net na die werklikheid binne die geslote sisteem van jou eie erf mag kyk, besluit jy dat die bal vanself ontstaan het en op een of ander wyse eie energie opgewek het om deur die lug in jou tuin in te beweeg. Hierdie soort beperking en sensuur op navorsing verskraal vrugbare wetenskap (Stoker & Stoker, 2013:65).

Wanneer die vier artikels waarteen Spangenberg en Claassen dit het gelees word, en ook wanneer die samevatting daarvan in Rapport Weekliks gelees word (Van der Walt & Dreyer, 2024:4-5), besef 'n mens hoe belangrik dit is dat die wetenskap nie van hierdie voor-vrae mag wegskram nie. Die artikels beskryf navorsing wat natuurwetenskaplik en kosmologies op die oorsaak en die fyn-ingesteldheid van die heelal ingaan, asook op die presisie van kosmiese konstante wat alles, ook lewe, moontlik maak, sowel as op die oorsprong van die gekodeerde inligting in die DNS van lewende selle. Met reg stel Van der Walt en Dreyer (2024:5) die volgende oor die teenstand wat hulle as navorsers ondervind:

Wat onaanvaarbaar is, is om eksperimentele waarnemings en die teorieë wat daaruit afgelei word by voorbaat te verwerp slegs op grond van persoonlike geloofsoortuigings. ... Wetenskaplike navorsing vereis 'n oop, onbevange en onbekrompe benadering wat die moed het om data eerlik te interpreteer tot by die mees waarskynlike gevolgtrekking.

 

BIBLIOGRAFIE

Baden, JS. 2012. The composition of the Pentateuch: Renewing the documentary hypothesis. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

Barrick, WD. 2008. Exegetical Fallacies: Common interpretive mistakes every student must avoid. TMSJ, 19(1):15-27.         [ Links ]

Boyd, SL. 2021. Applied Ritual: The application of blood and oil on bodies in the Pentateuchal sources. Biblical Interpretation, 29(1):120-147.         [ Links ]

Claassen, G. 2024. Die oerknal het nie sommer 'toevallig' gebeur nie. Rapport Weekliks, (21 Jan.):10-11.         [ Links ]

Collins, CJ. 2011. Did Adam and Eve really exist? Who they were and why you should care. Wheaton: Crossway.         [ Links ]

Crook, LS & Dean, MC. 1999. Logical fallacies and ethical breaches. Ethics & Behavior, 9(1):61-68.         [ Links ]

D'Souza, D. 2007. What's so great about Christianity. Washington: Regenery Publishing.         [ Links ]

Dreyer, J, Van der Walt, K & Denton, R. 2023. Die oorsprong van alles: "Dit was aand en dit was oggend". Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):192-210.         [ Links ]

Dreyer, J & Van der Walt, K. 2023a. Die ontstaan van lewe: "In die begin was die Woord daar". Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):211-228.         [ Links ]

Dreyer, J & Van der Walt, K. 2023b. Die oorsprong van die mens: "Laat Ons mense maak". Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):229-245.         [ Links ]

Dreyer, J & Van der Walt, K. 2023c. Boosheid in die mens: "Tot stof sal jy terugkeer". Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):246-261.         [ Links ]

Deyvik, EH. 2023. Share of global population affiliated with major religious groups in 2022, by religion. https://www.statista.com/statistics/374704/share-of-global-population-by-religion/#:~:text=Share%20of%20global%20population%20affiliated%20with%20major%20religious%20groups%202022&text=In%202022%2C%20around%2031.6%20percent,of%20global%20populations%20as%20Hindu. [18 April 2024].         [ Links ]

Fantino E, Stolarz-Fatino, S & Navarro, A. 2003. Logical fallacies: A behavioral approach to reasoning. The Behavior Analyst Today, 4(1):109-117.         [ Links ]

Ferrer, D. 2019. 15 logical fallacies you should know before getting into a debate. https://www.aresearchguide.com/15-logical-fallacies-you-should-know-before-getting-into-a-debate.html [10 April 2024].         [ Links ]

Ford, CH. 2021. Who really wrote the Bible? A response to the documentary hypothesis. Mustang: Tate Publishing & Enterprises.         [ Links ]

Friedman, RE. 2003. The Bible with sources revealed. New York: HarperCollins Publishers.         [ Links ]

Grisanti, MA. 2011. The Book of Genesis, in The world and the word: an introduction to the Old Testament. Nashville, TN: B & H Academic        [ Links ]

Katz, BZ. 2012. A journey through Torah: A critique of the Documentary Hypothesis. Jerusalem: Urim Publications.         [ Links ]

Klingbeil, GA. 2019. Of Pillars and Foundations: Seven Thesis Statements Concerning the Hermeneutics of the Pentateuch. DavarLogos, Julio-Diciembre, 18(2):1-30.         [ Links ]

Lemmer, TN & Lemmer, M. 2024. Wetenskap en geloof is te versoen. Rapport Weekliks, (28 Jan.):5.         [ Links ]

Longman, T. 2018. Who Wrote the Book of Genesis? https://zondervanacademic.com/blog/who-wrote-genesis. [4 April 2024].         [ Links ]

Merrill, EH. 2011. The Canonicity of the Old Testament, in The world and the word: an introduction to the Old Testament. Nashville: B & H Academic.         [ Links ]

Moreland, JP & Matlock, M. 2005. Smart faith. Loving your God with all your mind. Colorado Springs: Think.         [ Links ]

Najman, H & Schmid, K. 2022. Reading the Blood Plague (Exodus 7:14-25): The Hermeneutics of a Composite Text. JBL, 141(1):23-42.         [ Links ]

Riecker, S. 2020. Paradigmenwechsel - welches Paradigma? Die Pentateuchkrise als Krise der Literarkritik. European Journal of Theology, 29(2):123-151.         [ Links ]

Rollston, C. 2022. Ad Fontes: The Authorship of the Pentateuch according to the Pentateuch. HeBAI, 11:31-48.         [ Links ]

Savoie, J. 2020. "What Is Written? How Do You Read It?" Tracking P and J in the Gospels. Journal of Theological Interpretation, 14(2):199-212.         [ Links ]

Seri-Levi, A. 2023. Compilation or Redaction in the Pentateuch: Reassessing Numbers 25. JBL, 142(4):547-566.         [ Links ]

Spangenberg, I. 2023. Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(4):947-970.         [ Links ]

Spangenberg, I. 2024. Navorsers verswyg hoe naïef hulle in Bybel glo. Rapport Weekliks, (4 Feb.):12.         [ Links ]

Stoker, HG & Stoker, PH. 2013. Vrugbare wetenskappe. TydskrifvirChristelike Wetenskap,49(4):47-67.         [ Links ]

Van der Walt, K. & Dreyer, J. 2024. Die oerknal het nie sommer 'toevallig' gebeur nie. Rapport Weekliks, (28 Jan.):4-5.         [ Links ]

Westermann, C. 1994. Genesis 1-11: A continental commentary. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

 

 

 

Henk Stoker het twee baccalaureus-grade in geesteswetenskappe en teologie onderskeidelik, 'n honneursgraad in psigologie, 'n meestersgraad in filosofie en 'n doktorsgraad in teologie. Nadat hy sy studies voltooi en vir ses jaar filosofie, wetenskapsfilosofie en etiek doseer het, dien hy vir 25 jaar as predikant in die Gereformeerde kerke van Suid-Afrika. Aan die begin van 2012 word hy professor in apologetiek en etiek aan die teologiese fakulteit van die Noordwes-Universiteit.
Sedert 2012 het hy 18 doktorsgraad-studente suksesvol begelei, en amper net soveel meesters-graad-studente. Hy is bekroon met die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die fakulteit teologie. Hy tree internasionaal as gasdosent op en lewer verskeie wetenskaplike voordragte. Hy publiseer drie wetenskaplike boeke, is mederedakteur van twee en skryf meer as 20 artikels in wetenskaplike tydskrifte. Hy dien op die redaksies van plaaslike en internasionale wetenskaplike tydskrifte.
Op grond van sy vakgebied neem Stoker deel aan verskeie televisie-programme, waaronder 'n 13-episode televisiereeks oor kultes in 2018/19 op Via; asook 'n reeks van rondom 10 episodes op Showmax in 2024 oor nuwe godsdiensbe-wegings en alternatiewe vorme van genesing, bemarking, ens. Hy is rektor van die Teologiese skool Potchefstroom en dien as ondervoorsitter van die Teologiese Opvoedkunde Komitee van die World Reformed Fellowship.
Henk Stoker holds two bachelor's degrees in humanities and in theology, an honours degree in psychology, a master's degree in philosophy, and a doctorate in theology. After completing his studies and teaching philosophy, science of philosophy and ethics for six years, he served as a full-time minister in the Reformed Churches of South Africa for 25 years. In early 2012, he became professor of apologetics and ethics in the faculty of theology at the North-West University.
Since 2012, Professor Stoker has successfully supervised 18 doctoral students and almost as many master's students and was awarded the Rapport prize for most inspiring lecturer in the faculty. He served as guest lecturer internationally and delivered numerous scientific presentations. To date, he has published three scientific books, acted as co-editor of two more, and written more than 20 articles in scientific journals. He is an editorial board member of local and international journals.
Based on his area of expertise, Stoker has participated in various television programmes, including a 13-episode television series in 201819 on Via; as well as a series of around ten episodes on Showmax about new religious movements and alternative forms of healing, marketing and so forth in 2024. He is rector of the Theological School Potchefstroom and serves as the deputy chair of the Theological Education Committee of the World Reformed Fellowship.
1 In Engels "Irrelevant conclusion fallacy" (Moreland & Matlock, 2005:94).
2 In Engels "Begging the question fallacy" (Moreland & Matlock, 2005:93).
3 Dit is na my mening duidelik dat wetenskaplike navorsing bou op dit wat ons empiries waarneem en rasioneel logies deurdink. Die proses van die kenbare en menslike kenne is so besonders en presies, dat dit volgens my verstaan daarvan nie toevallig kan wees nie. Self vind ek wat die Bybelse kanon betref aansluiting by dit wat Merril (2011:106-107) stel onder die terme kanoniese kritiek en kanoniese teologie, waar hy die onmoontlikheid uitwys om vanuit 'n moderne oogpunt denkstrome in die antieke wêreld wat tot kanonieke konsensus gelei het, waar te neem, terwyl dit nie die moderne Christelike kerk daarvan weerhou om te erken dat hierdie konsensus God-gedrewe was en dat die Ou Testamentiese skrifte wat ons besit, werklik Woord van God is, volledig en in al sy dele.
4 Vergelyk artikels 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
5 Vgl. punt 3 hier onder waar Spangenberg nie die resente kritiek op sy bronnehipotese in ag neem nie, maar dit as feitelik voorhou.
6 In Engels "Red herring fallacy" (Moreland & Matlock, 2005:96).
7 Sien ook NGB, Art. 9.
8 In Engels "Attacking the person fallacy" (Moreland & Matlock, 2005:92).
9 'n Ad Hominem- (teen die persoon) denkfout is waar 'n persoonlike aanval gemaak word op die persoon met wie verskil word (Ferrer, 2019:1). Hoewel negatiewe of afbrekende woorde klink of dit verband hou met die saak, versterk dit nie die rasionele argument inhoudelik nie en hoort dit nie in 'n akademiese diskoers nie. Ad hominem is dus 'n drogredenasie waar daar deur iemand iets oor die ander persoon gesê word wat irrelevant is tot die argument. Dit is meer as net 'n belediging; dit is 'n belediging wat gebruik word as 'n argument om mense van iets anders te probeer oortuig.
10 In Engels "Appeal to authorities'" (Moreland & Matlock, 2005:99).
11 In Engels "Appeal to people" (Moreland & Matlock, 2005:99).
12 In Engels "False dilemma fallacy" (Moreland & Matlock, 2005:90).
13 In Engels "Genetic fallacy" (Moreland & Matlock, 2005:97).
14 Jesaja 43 tot 45 is byvoorbeeld baie duidelik daaroor dat daar net een God is. Die gode van die volke by en rondom Israel is nie waarlik God nie, maar mens-uitgedink. Daarom dat Elia op die berg Karmel (1 Kon. 18:21) vir die volk sê dat die Here en Baal nie beide God kan wees nie.
15 As God in die eerste gebod sê dat Israel nie ander gode voor sy aangesig mag hê nie, is twee verklarings moontlik. Die een is dat daar ander gode is en dat God die voorrang wil hê. Die ander is dat daar nie ander gode is nie en dat God daarom Israel wil verhoed om met die mensuitgedinkte gode iets te doen te hê. Skrif-met-Skrif-vergelyking dui duidelik daarop dat dit laasgenoemde is.
16 Vergelyk ook Rollston (2022:48) in hierdie verband.
17 "We encounter a formula that appears eleven times in the book (2:4; 5:1; 6:9; 10:1; 11:10, 27; 25:12, 19; 36:1, 9; 37:2). This formula is introduced by the words elleh toledot and a person's name, "This is the account of [name]." These sections indicate the use of oral and/or written sources for the writing of the book of Genesis" (Longman, 2018).
18 Voorstanders van die bronnehipotese gebruik verskillende kategorieë om by verskillende - ook teenstrydige - indelings van bronne waaruit die Pentateug sogenaamd saamgestel sou wees, uit te kom. Waar Westermann (1994) oorspronklik vyf kategorieë gebruik het en die verskillende name van God veral 'n belangrike rol gespeel het, gebruik Friedman (2003) sewe kategorieë en speel die naam van God en herhalings nie dieselfde prominente rol in sy indelings nie.
19 Dat hierdie artikel van my na die bronnehipotese verwys ook as bronneteorie, bronnekritiek en as bronkritiese benadering, hoef geensins daarop te dui dat dit deur verskillende skrywers geskryf is nie. Dit kan ook so verstaan word dat daar telkens 'n rede is waarom die skrywer 'n spesifieke verwysing gebruik.
20 Tensy iemand 'n nuwe denkbeeldige haas uit die hoed kan ruk - of natuurlik as van hierdie teenstrydige bronne waaroor bespiegel word, ontdek sou word.
21 In sy boek Who Really Wrote the Bible? (2021) bespreek Ford verskeie argumente wat deur voorstanders van die bronnehipotese aangevoer word teen Moses as die outeur van die Pentateug. Hy verwys na Friedman se analogieë en toon hoe dit met die bronnehipotese vergelyk kan word, sonder om alles te noem (59-116). Hy bespreek argeologiese bevindinge wat teen die bronnehipotese stry (117-134) en ondersoek teenstrydighede in die Pentateug (137-172). Verder bespreek hy die motivering agter die bronnehipotese, naamlik stylveranderinge in die skryfwerk (173-208). Laastens fokus hy op die struktuur van die Pentateug, waar Friedman en ander beweer daar is geen duidelike beplanning nie, maar toon eerder dat dit nie sommer saamgevoeg is nie (209252).
22 As sowel die skepping as die Bybel as openbaring van God gesien word - soos meeste Christene en ook die skrywers van die vier artikels doen - dan is die vraag na die harmonie van die openbarings 'n logiese vraag wat wetenskaplike besinning regverdig.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons