Servicios Personalizados
Articulo
Indicadores
Links relacionados
- Citado por Google
- Similares en Google
Compartir
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.60 no.1 Pretoria mar. 2020
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n1a10
REDAKTEURSNOTA
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Reeds in die Desember 2019-uitgawe van die Tydskrifvir Geesteswetenskappe (Vol 59(4):611-700) is 'n onderafdeling gewy aan die verskillende manifestasies van die verskynsel kwesbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing. In hulle inleidende opmerkings het die gasredakteurs, Derick Blaauw en Rinie Schenck, aangedui dat daar deur die navorsing getrag is om "aan die stemme van kwesbare groepe gehoor te gee" (p. 611) deur hulle verskillende ervarings en verhale oor hulle omstandighede op te teken.
In die artikels wat in die Desembernommer ingesluit is, is onder meer die volgende aspekte van kwesbaarheid bespreek: die noodsaaklikheid van ekonomiese geregtigheid (Chris Jones); die uitdagings wat onderwysvoorsiening aan kwesbare groepe in die samelewing behels (Charl Wolhuter); die stryd van motorwagte (Marinda Pretorius en Derick Blaauw) om te probeer oorleef in die informele ekonomie; die kwesbaarheid van vroue in myngemeenskappe (Anmar Pretorius); voorts ook die kwesbaarheid van vroue wat aan alkohol of dwelms verslaaf is (Ilze Slabbert) en die kwesbaarheid van kinders in vaderlose gesinne (Fazel Freeks).
In hierdie uitgawe word verdere aandag gegee aan kwesbare groepe in die informele ekonomie. In 'n interdissiplinêre studie, waarin die universiteite van Wes-Kaapland, Noord-Wes en Pretoria verteenwoordig word deur onderskeidelik Rinie Schenck, Derick Blaauw en Marianne Matthee word die bestaanstryd van dagloners in twee verskillende stede indringend geanaliseer deur gebruik te maak van Max-Neef, die sogenaamde "kaalvoet-ekonoom", se "menslike behoeftes-matriks".
Ina Conradie, Anja Human-Hendricks en Nicolette Roman, almal verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland ondersoek die sosiale weerbaarheid en strukturele kwesbaarheid van die inwoners van Genadendal in die Wes-Kaap gedurende die periodes vóór en ná apartheid deur gebruik te maak van die benadering van "instaatstellende geleenthede" ("capability approach") in hulle evaluering van die onderhoude wat met 'n aantal ouer inwoners van Genadendal gevoer is.
In die laaste artikel in hierdie afdeling ondersoek Lizette Grobler en Rinie Schenck, albei verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die diepgaande impak van afval, as 'n skadelike manifestasie van menslike aktiwiteit, op menslike en aardsistemiese kwesbaarheid. Deur middel van die fokus op "persoonlike, relasionele en institusionele kwesbaarhede van beide menslike en niemenslike entiteite by die lokus van die afvalstortingsterrein" lewer die outeurs 'n bydrae tot "progressiewe regsteorie" oor afvalbestuur.
Die bydraes in die twee afsonderlike afdelings wat gewy is aan kwesbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing sluit goed aan by die oorkoepelende tema van armoede vir die simposium van die SA Akademie in Stellenbosch later vanjaar in September. Die redaksie voorsien dus 'n voortsetting van navorsing oor die verskillende manifestasies van kwesbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing.
Ina Wölfaardt-Gräbe
Februarie 2020