Servicios Personalizados
Articulo
Indicadores
Links relacionados
- Citado por Google
- Similares en Google
Compartir
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.63 no.4 Pretoria dic. 2023
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a10
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
In hierdie afdeling word twee artikels opgeneem waarin daar gereageer word op resente temas en/of debatte. In die eerste artikel, Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskap, takseer Izak (Sakkie) Spangenberg die vier artikels oor Geloof en wetenskap wat in die Junie-nommer verskyn het (TGW 63(2):191-261). In die tweede artikel, Etiek van leeshandelinge: 'n Suid-Afrikaanse geval, ondersoek Kobus Wessels die aard van reaksies en teenreaksies op 'n meningstuk deur Hennie van Coller oor kinderliteratuur, soos gerapporteer in die hoofstroommedia, meer spesifiek Netwerk24 vanaf Mei tot Augustus 2022.
Spangenberg bevind onder meer dat, "Die navorsers ... se poging om te bewys dat Genesis 1-3 met die moderne natuurwetenskaplike resultate versoen kan word, ... onoortuigend [is], omdat hulle nie die historiese en kulturele kontekste van dáárdie verhale in ag neem nie." Trouens, alhoewel daar in die vier artikels rekenskap gegee word van die "jongste bevindinge op natuurwetenskaplike gebied", dieselfde ongelukkig nie gesê kan word van spesifiek navorsing in die Bybelwetenskappe nie. Om hierdie rede oordeel Spangenberg dat die (hipo) tese in die artikels oor geloof en wetenskap, naamlik dat "die jongste natuurwetenskaplike bevindings nie net versoenbaar nie, maar ook verklaarbaar sou wees met verwysing na Bybelgedeeltes" hoogs problematies is.
In sy hoedanigheid as nieletterkundige akademiese koerantleser meen Kobus Wessels dat die uiteenlopende menings op 'n rubriek oor kinderliteratuur deur Hennie van Coller vrae laat ontstaan "oor hoe geskryf en gelees word, maar ook hoe geskryf en gelees behoort te word". Aan die hand van 'n model van interafhanklike leesmodaliteite bevind Wessels dat die idioom en konteks waarin die diskoers ontvou het, oorwegend "vyandig, aggressief en etosvreemd was". Hy meen dat sodanige diskoers 'n mens opnuut bewus maak van "die noodsaaklikheid van 'n oop en omvattende gesprek oor sake van belang vir ons land, ons taal Afrikaans, en die toekoms van kinder- en jeugliteratuur".
Die redaksie nooi lesers hiermee uit om te reageer op die bogenoemde artikels en die tersaaklike kontensieuse kwessies wat daardeur aan bod gestel word. Reaksies kan wissel vanaf 'n (kort) meningstuk tot 'n volwaardige navorsingsartikel. Die redaksie beklemtoon weereens dat debat en diskoers oor enige en alle belangwekkende vraagstukke vanuit verskillende uitgangspunte verwelkom word.
Ina Wolfaardt-Gräbe
Hoofredakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe
E-posadres: publikasies@akademie.co.za