SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1Introduction: Reinscribing Nuruddin Farah in African literatureNuruddin Farah and Somali culture índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.61 no.1 Pretoria  2024

http://dx.doi.org/10.17159/tl.v61i1.16087 

RESEARCH ARTICLES

 

Radikaal versus beskeie: Die vroegste vrouestemme teen patriargie in die Suid-Afrikaanse literatuursisteem

 

Radical versus modest: The earliest voices against patriarchy in the South African literary system

 

 

Marian Human-Nel

Lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Frans en Duits, Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat, Qwaqwa-kampus, Phuthaditjhaba, Suid-Afrika. E-pos: humannelmj@ufs.ac.za https://orcid.org/0009-0007-8373-7903

 

 


ABSTRACT

This article explores similar social experiences of South Africa in the English and Afrikaans literary systems respectively. It investigates the reflection of patriarchy as an ideological presupposition of South African society in the earliest writings of two South African writers, Olive Schreiner (1855-1920) and Maria Elizabeth Rothmann (1875-1975) (known as M. E. R.). In doing this, it offers a discussion of how these women's involvement in South African politics sought to address the situation that political rule during the late 1800s and early 1900s created for South African women in the broader context of the South African War. The practice of gender politics as a response to these social experiences is discussed, while the contribution of Schreiner's radical voice to the stereotyping of the Afrikaner woman is compared to the modest voice with which M. E. R. fought for the rights of these stereotyped women. The article concludes that the nature of, and similarities and differences between their feminist voices determined Schreiner's and M. E. R.'s contribution to their respective literary systems, as well as their contribution to English and Afrikaans prose.

Keywords: South African literature in English, Afrikaans literature, patriarchy, stereotyping, gender politics.


 

 

Inleidend

Hermann Giliomee (631) beweer in Die Afrikaner: 'n biografie: "Soos Olive Schreiner geskryf het, was die Boervroue feministe lank voordat dit in Europa mode geword het". Bonthuys verklaar egter in die uitnodiging tot hierdie spesiale uitgawe oor "Feminism and South African literature" van Tydskrif vir Letterkunde dat letterkunde in Afrikaans histories nie gekenmerk word deur 'n prominente fokus op feminisme nie. In die 1992-bydrae oor feminisme in Literêre terme en teorieë word aangedui dat daar "geen Afrikaanse feministiese literêre tradisie" bestaan nie. In die opgedateerde 2017-aanlynbydrae word ook genoem dat daar nie 'n "sterk aktivistiese en selfbewuste feministiese beweging" in die Afrikaanse kultuur en literatuur voor die tagtigerjare "ontwikkel" het nie (De Jong en Murray).

Na aanleiding hiervan wil dit dan voorkom of die 'stemme' van Afrikaanse vroueskrywers wat gedurende die eerste- en tweedegolffeminisme in die Afrikaanse literatuursisteem téén patriargie geskryf het, nie as literêr geag is nie, óf, dat dié feministiese stemme nie aktivisties of as aggresief genoeg beskou word nie. Dit is inderdaad so dat daar eers gedurende die einde van die twintigste eeu in 'n terugblik op die Afrikaanse literatuurgeskiedenis na die Afrikaanse vrouestemme (in prosatekste) verwys word as stemme wat "geslagspolitiek" ondervang. Annemarie van Niekerk (308) wys daarop dat daar toe "tesame met 'n groter politieke bewussyn [...] ook 'n geslagspolitiek in meer skryfsters se werk" ontwikkel het. Hierna, gedurende die negentigerjare, sluit Afrikaanse vroueskrywers aan by dit wat globaal as derdegolffeminisme beskou word: "the third stage in Afrikaans woman writing is truly entered: the rejection of patriarchy and the search for radically new female identity" (74).

In 'n tydvak van Suid-Afrikaanse politieke bevryding waar "patriargale magstrukture" van die Afrikaner "tuimel", lewer (onder andere) Marita van der Vyver met Griet skryf 'n sprokie (1992) 'n "totale aanslag" teen die patriargale bestel (Gilfillian 79; Human-Nel 250-3). Gedurende 'n 1993-onderhoud vra Rachelle Greeff vir Marita van der Vyver: "What does feminism mean to the average Afrikaner?". Hierop antwoord Van der Vyver: "'For me personally I suspect it implies trying to improve the destiny of women'." Diéselfde "destiny"-die vrou se noodlot, maar ook haar toekomsbestemming-was dit wat Olive Schreiner (1855-1920) en Maria Elizabeth Rothmann (1875-1975) oorgehaal het om aan die einde van die neëntiende en aan die begin van die twintigste eeu teen die patriargie uit te spreek. Hierdie artikel ondersoek die weerspieëling van patriargie as ideologiese voorveronderstelling van die sosiopolitieke werklikheid van die Suid-Afrikaanse samelewing in Schreiner en M. E. R. se werk.

Hein Viljoen voorsien dat "een van die interessante ondersoekterreine [...] die neerslag van eenderse sosiale ervarings in Suid-Afrika in die verskillende letterkundes" is. My navorsing word dan ook geloods na aanleiding van Schreiner en M. E. R., pioniers van die feministiese stemme in onderskeidelik die Engelse literatuursisteem en die Afrikaanse literatuursisteem se "eenderse sosiale ervarings in Suid-Afrika". Beide vroue fokus op die vrou se stryd om bevryding van die patriargale bestel en die erkenning van haar vroulikheid as deel van haar menswees. Beide vroue raak by landspolitiek betrokke weens hul toegeneentheid tot die oorsake en nagevolge van die Suid-Afrikaanse oorlog, tóé genoem die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Beide skaar hul aan die kant van die Afrikaner, meer spesifiek aan die kant van die Afrikanervrou, wie se lewe, noodlot en toekomsbestemming op daardie stadium van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onderhewig was aan manlike gedomineerde landspolitiek. Vanuit 'n literatuursosiologiese benadering sal daar gepoog word om aan te dui hoe hierdie eenderse of dan soortgelyke sosiokulturele en sosiopolitieke ervarings in die onderskeie Suid-Afrikaanse literatuursisteme "neerslag vind". Die aard, ooreenkomste en verskille tussen Schreiner en M. E. R. se feministiese stemme sal onderskeidelik, maar ook op 'n vergelykende wyse ondersoek word.

 

"Victorian feminist" stereotipeer die tradisionele geslagsrolle van die Afrikanervrou

Olive Schreiner (1855-1920) "had a passion for the cause of women, which gives immortal value to her The Story of an African Farm"-so het bekende Suid-Afrikaanse staatsman, Generaal Smuts (1870-1950), Schreiner onthou (in Friedlander 19).

The Story of an African Farm (1883) word deur Karel Schoeman (422) as 'n outobiografiese werk uitgesonder. Karakters word gebruik "in dié sin dat Olive haar diepste oortuigings in hulle beliggaam het". Dat haar skryfwerk veel meer as net die ontbloting van haar eie identiteit was, 'n mobilisering of verlenging van haar self, kom alreeds in African Farm na vore. Cherry Clayton (7) toon aan dat Schreiner "and Lyndall's [die vroulike hoofkarakter, vernoem na Schreiner se ma] story are the same story, linked by the awareness that any preordained fate removes an element of free will, individual choice, and liberty of movement".

Gedurende 1881 skryf Schreiner aan haar suster: "I made up my mind when I was quite a little child that as soon as I was able I would support myself for I see no reason why a woman should be depend on her friends any more than a man should". In haar soeke na onafhanklikheid besluit sy op 'n jong ouderdom om eerder medies te gaan studeer as om teen 'n lae besoldiging goewernante op 'n plaas in die Karoo te wees: "Schreiner was already engaging with one of the prominent feminist battles of the time: the provision of higher education to women. However, her health would restrict her from her chosen career and instead she chose writing as the means by which she would seek to critque the position of women in the world" (Gregory). Wanneer African Farm gedurende 1883 (onder 'n manlike skuilnaam: Ralph Iron) verskyn, word hierdie strewe na onafhanklikheid vanuit die staanspoor in haar skryfwerk weerspieël: "Suppose a woman [...] must make her way through life. What she would be she cannot be because she is a woman; so she looks carefully at herself and the world about her, to see where her path must be. There is no one to help her; she must help herself" (202).

Die karakter Lyndall word 'n spreekbuis vir haar, Schreiner, die skrywer. Daarmee word Schreiner 'n eerste om hier op Afrikabodem feministiese oortuigings in 'n prosateks, met Lyndall as haar "stem", te uiter:

"If I might but be one of those born in the future; then, perhaps, to be born a woman will not be born branded [...] But we are cursed [...] born cursed from the the time our mothers bring us in the world till the shrouds are put on us. [...] It is delightful to be a woman; but every man thanks the Lord devoutly that he isn't one" (167, 175).

Lyndall word gesien as die verpersoonliking van "the archetypal 'new woman'" wat as vrydenkende, onafhanklike vrou die tradisionele geslagsrol van die vrou in die huwelik en die samelewing uitdaag (Gregory): "When that day comes, and I am strong, I will hate everything that has power, and help everything that is weak" (85). Wanneer Lyndall sê: "We are the wood, the knive that carves on us is the circumstances" (240) word aangesluit by'n feministiese siening wat aandui "hoe die vrou in 'n burgerlike samelewing geïdeologiseer word om haarself die reg op individualiteit en selfverantwoordelikheid te ontsê en die patriargalistiese dominering van alle aspekte van 'n sosiokulturele en sosiopolitiese bestaan te aanvaar" (De Jong 125). Dat Schreiner vanuit 'n feministiese perspektief African Farm geskryf het, word sowat 'n eeu later deur die Franse aktivis en tweedegolffeminis De Beauvoir se bekende uitgangspunt: "one is not born a woman, one becomes one" bevestig. As pionier van Suid-Afrikaanse feminisme slaag Schreiner daarin om 'n "onkonvensionele lewensfilosofie [te] ontwikkel en dit [te] verkondig met 'n vrymoedigheid wat vir daardie era ongebruiklik was" (Schoeman 431). Aan die eenkant was dit "ongebruiklik" dat 'n vróú sodanige teks kon skep: "A certain glamour was added to judicious morality an literary talent. As soon as there was glamour and femininity there was also patronage: the novel became 'more remarkable' for being the work of a young woman" (Clayton 8). Aan die ander kant is dit "ongebruiklik", nie net omdat African Farm 'n eerste was om die sosiale werklikheid van vooroordeel en voorveronderstellings soos aangetref in die patriargale verhouding tussen mans en vroue as deel van 'n Suid-Afrikaanse geskrewe teks uit te beeld nie, maar ook as gevolg van die áárd van die feministiese stem daarin.

Giliomee (190) sien Schreiner as "die skerpste waarnemer van die boervrou". Deur die karakter Tannie Sannie word die Afrikanervrou se aanvaarding van haar onderdanige posisie in die huwelik en haar verantwoordelikheid om kinders te baar as haar Christelike plig uiteengesit. Tannie Sannie verklaar:

"Marriage is the finest thing in the world [...] There's nothing like it, my child; nothing. If the beloved Redeemer didn't mean men to have wives, what did He make women for? [...] If a woman's old enough to marry, and doesn't, she's sinning against the Lord-it's a wanting to know better than Him. What does she think the Lord took all that trouble in making her for nothing?" (274)

Die magsposisie van die man teenoor die vrou word neergepen wanneer die karakter Gregory sê: "If I have a wife with pride, I'll make her give it up, sharp. I don't believe in a man who can't make a woman obey him" (193). Verder word die vrou se onderdanigheid gesien as 'n verantwoordelikheid om diensbaar te wees. Dit word onder andere deur die karakter Em uitgespreek: "'I will do everything you tell me', she said", waarop Lyndall antwoord: "What else could she say? Her idea of love was only service"(168).

Ek wys in my proefskrif (105) wys daarop dat die tradisionele geslagsrolle soos alreeds aan die einde van die neëntiende eeu deur Schreiner in African Farm verbeeld, binne die Afrikaanse literatuursisteem gestereotipeer word as kultuurproduk van die Afrikaner. Die Afrikaanse prosateks word veral gedurende die eerste vyftig jaar van die twintigste eeu gekenmerk aan gestereotipeerde geslagsrolle, onder andere as deel van die plaasroman: 'n "patriargale ruimte" waar "patriargale waardes domineer en die vaderfigure dikwels dominerend is". Waar mans, die Afrikanerboer, as die meerderwaardige gesien word, staan vroue, die sogenaamde volksmoeders, "in die teken van voortplanting en word hulle gereduseer tot enersyds die dienende Martas en andersyds die sterk pioniersvroue" (Van Coller 23). Hierdie gestereotipeerde geslagsrolle kom onder meer sterk na vore in die werk van D. F. Malherbe (1881-1969), 'n Afrikaner wat, aldus Heidi de Villiers "in diens van sy volk, sy taal, sy land en sy God" gestaan het. Hy vestig dit in sy "verhaalkuns" deur die manlike karakters telkens as "vurige Afrikaner-nasionalis(te) met 'n sterk patriargale ingesteldheid" en vroulike karakters "nie slegs as 'anders as' nie, maar ook as 'minder as'" uit te beeld (De Villiers 652).

Verder word African Farm ook 'n ideologiese weerspieëling van die Afrikaanse samelewing waar die gestereotipeerde beeld van die man teenoor 'n gestereotipeerde beeld van die vrou binne 'n patriargale verhouding, die huwelik, geplaas word. Schreiner het die huwelik as "an entrapment worse than death" beskou; 'n ewige noodlot wat die vrou van haar vryheid ontneem (Clayton 15). Wanneer Doss vir Lyndall vra waarom sy nie met hom wil trou nie, is haar antwoord: "Because if once you have me, you would hold me fast. I shall never be free again" (221). Schreiner se strewe na onafhanklikheid en bevryding ook binne die huwelik, kenmerk haar eie lewensverhaal. Op 'n jong ouderdom verbreek sy haar verlowing met Julius Gau, na nog 'n kortstondige verhouding met Pearson, trou sy Februarie 1894 met Samuel Cronwright-Schreiner. Sy weier om haar van te verander en verplig hóm om haar van aan te neem.

Tóg, binne die grense van die Afrikanerkultuur moes Schreiner se idees rondom die huwelik as radikaal beskou word. Wanneer Van der Merwe (52) daarop wys dat "traditional gender roles are connected to Afrikaner nationalism and Afrikaner religion, the two other foundations of Afrikaner ideology" en verder verduidelik dat Afrikanerideologie 'n kombinasie van "nationalistic, patriarchal and Christianity" is, word dit duidelik waarom die lewensfilosofie wat in African Farm geskep is, binne die Afrikaanse literatuursisteem as "ongebruiklik" beskou was. As vrye denker verwerp Schreiner alle vorme van godsdiensgesag. Schreiner self (Cronwright-Schreiner) wys daarop dat haar ma se optrede teenoor haar as agtjarige dogtertjie 'n groot aandeel gehad het in haar "unutterable bitter rebellion against God and men" én dat "[t]he unfathomable injustice of thrashings [...] the major reason [was] she became a freethinker". Die ontkenning van God as skepper van die huwelik was teenstrydig met die Afrikaner se idee van patriargie waar die "manlike meerderwaardigheid as die gelykstelling van die man met God" gesien word (McClintock; De Jong 124).

Selfs as 'n eerstegolffeminis is nie net Schreiner se uitbeelding van patriargie in African Farm, die tradisionele geslagsrolle én die huwelik, radikaal nie. African Farm word as't ware 'n vooruitwysing van haar daarna ontwikkelende betrokkenheid by die manlike gedomineerde landspolitiek. Die aard dáárvan gee daartoe aanleiding dat sy as "a political radical" beskryf word. McClintock beklemtoon dat Schreiner se politieke betrokkenheid gerig was op teenstrydighede rondom kolonialisme en vroue se situasie as gevolg van kolonialisme, maar ook dat haar toegeneentheid tot die Afrikaner voortgespruit het uit die tydperk wat sy op 'n plaas in die Karoo werksaam was: "Having lived among the Afrikaners as governess, she had 'learnt to love' them, particularly the Boer woman, who was 'the true citadel of her people'". Aanvanklik kom Schreiner se politieke aktivisme na vore "in writing about her homeland, she steps in as an English South African to mediate between Boer an Brit on the eve of the Anglo Boer War" (Krebs 428). Na die Jameson-inval (1895-1896), wat die Anglo-Boereoorlog voorafgegaan het, "she supported the Boers in their armed struggle against the British". Sy word 'n kritikus van Britse imperialisme, draai teen Rhodes en word 'n Smuts-ondersteuner: "In her paeans to Boers, Schreiner refused the dominant British stereotype of Afrikaners as a racially fallen, idle, and degenerate race [...] Schreiner was uncritical of the Boers republics until after the war, when she saw them coming to power and no longer felt they needed her protection". Rondom 1910 begin haar ondersteuning vir die Afrikaner egter taan: "She stressed the political invisibility of all South African peoples" en sy "recognized the Africans as 'the makers of our wealth'". Haar toegeneentheid tot dié Suid-Afrikaners het haar aktivistiese optrede in 'n tydperk van groeiende nasionalisme moeilik gemaak: "In the last years of her life, she struggled to implement her vision of racial and gender equality". Alhoewel sy deur "The Cape Women's Enfranchisement League" beskou is as "the genius of the suffrage movement of South Africa", het sy teen hul beleid in háár standpunt duidelik gestel: "the franchise could not be seen as a gender issue alone": "When the Women's Enfranchisement League, a white, middle-class group, refused to demand a nonracial franchise, she resigned in protest in 1913". Hierna verlaat Schreiner Suid-Afrika, maar keer na sewe jaar weer terug. Sy sterf kort na haar terugkeer, 11 Desember 1920 (McClintock).

Ondanks Schreiner se radikale politieke optrede in 'n manlike gedomineerde speelveld, staan haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse literatuursisteem egter voorop. Hierdie radikale aanslag wat ook in haar skryfwerk neerslag gevind het, verklaar waarom sy as die rolmodel van feminisme in die Suid-Afrikaanse literatuursisteem geag word (sien De Jong en Murray). Vandag is dit egter steeds African Farm waarvoor Schreiner die bekendste is. Wanneer Schreiner deur Schoeman (434) bestempel word as "grondlegger" of "inisieerder van 'n letterkunde wat nie net in Suid-Afrika of deur Suid-Afrikaners geskryf is of Suid-Afrikaanse karakters, tonele of temas bevat nie, maar waarin Suid-Afrika self tot wesenlike element verwerk is", moet aanvaar word dat Schreiner nie net in die Engelse literatuursisteem nie, maar ook in die Afrikaanse literatuursisteem 'n nalatenskap gelaat het. Dit is veral haar stereotipering van die Afrikanervróú (in African Farm) wat as "onvergeetlik" beskou word. Steyn (497) verduidelik:

Die boek gaan oor die Karooplaas van 'n 'Boer woman', tannie Sannie, 'n growwe, walglike karikatuur van 'n mens. Die paar Afrikaners in die boek is ook grof, dom, onbeskaafd. Die boek het baie aandag getrek in Engeland en die VSA, en so het 'n nare beeld van wat aangeneem word as die tipiese Afrikaner die Engelssprekende wêreld ingegaan. Ek dink sy uitwerking is steeds nog van krag. 'n Skrywer weet nooit wie en hoe hy gaan tref nie. Wat vir ons in hierdie boek so onvergeetlik was en so pynlik getref het, was dat die Afrikaner, wat as individu beskryf is, hier en oorsee aangeneem is as 'n tipe. Die afstootlike 'tant Sannie' word herhaaldelik beskryf as 'the Boer woman'. 'n Kwaai fout: 'n misdaad eintlik.

Dit is ook J. C. Steyn (498) wat daarop wys dat Schreiner se stereotipering van die Afrikanervrou-die boervrou- nie ongesiens in die Afrikaanse literatuursisteem verby gegaan het nie. In die biografIe, Die 100 jaar van M. E. R. stel Steyn (497) dit dat dit M. E. R. was wat alreeds "in die twintiger jare" vir "Olive Schreiner in die bresse getree" het. Steyn wys egter ook daarop dat dit M. E. R. was wat later, gedurende 1958, verklaar dat daar miskien nog "óú mense"-met verwysing na die Afrikaner-was wat Olive Schreiner nie vir haar The Story of an African Farm kan vergewe nie. Die vraag wat ontstaan is: Hoekom sou dit wees?

 

"Vintage feminist" lewer beskeie aandeel vir die Afrikanervrou

Maria Elizabeth Rothman (1875-1975), alombekend as M. E. R., word deur Steyn (523) onthou as "'n stryder vir die bemagtiging van die vrou"; dat sy "miskien [...] selfs die moeder van Afrikaanse feminisme" was. Bowenal word sy ook "as een van die vyf grootste Afrikaners van die twintigste eeue" beskou (Nieuwoudt).

Marijke du Toit (176) toon aan dat M. E. R. se feminisme onlosmaaklik verweef was met haar nasionalisme en gaan van die standpunt uit dat "Rothmann was certainly an exceptional individual who voiced analyses of gender politics within the Afrikaner nationalist movement with particular irony and insight". Volgens M. E. R. self, as Afrikaanse vrou, was háár Afrikanerfeminisme: "being partial to women"-vrouepartydigheid (aangehaal in The Journalist). Dit, sodanige betrokkenheid by vrouesake, begin sy uitleef (én uitskryf) as joernalis; aanvanklik by Die Boerevrou (1920-1922) en daarna by Die Burger (1922-1928) waar die redakteur dit duidelik gestel het dat sy as die eerste vroueredakteur nie politieke sake in die nuwe vroueblad mag aanraak nie: "Initially she agreed, because 'nobody would regret (staying away from political issues), as one becomes so tired of the bickering', but subsequently she happily did the opposite!" Vanuit die staanspoor verkondig M. E. R. haar vrouepartydigheid deur middel van dié nasionale nuusblad, want sy was vasberade: "politics was not out of place in a women's column". Vir M. E. R. was politiek "a very wide theme that included women's suffrage and understanding the different worlds of urban an rural women". Begrip vir vroue en hul lewensomstandighede spruit uit haar ervaring van "the South African war [that] had profoundly shaped her political consciousness" (Du Toit 168).

Verdere ondersoek dui daarop dat M. E. R. se patriotiese toewyding tot háár Afrikanerskap inderdaad momentum kry met die Jameson-inval (1895-1896)-net soos in Schreiner se geval, toe Brittanje die Zuid-Afrikaansche republieke wou annekseer. Volgens Nieuwoudt het "die inval [.] misluk, maar dié pogings om die Boererepubliek te vernietig, het M. E. R. ontnugter en 'n blywende indruk op haar gemaak". Hieruit ontwikkel sy 'n bewondering vir Paul Kruger; 'n bewondering wat 'n groot invloed op haar lewenslange aandeel in die ontwikkeling van die Afrikanerkultuur gehad het. Deur kultuurbewegings soos die Afrikaanse jeugbeweging, die Voortrekkers en die Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging (ACVV), 'n vrouevereniging eksklusief vir wit Afrikaanse vroue, was sy maatskaplik-sosiaal, maar tog ook polities, by die Suid-Afrikaanse samelewing betrokke. Haar grootste maatskaplike bydrae was as lid van die Carnegie-ondersoek (1929) wat op armblankes gerig was; 'n armoede wat "een van die redes" en 'n nagevolg was van "die verwoesting wat die Anglo-Boereoorlog oor die land gebring het" (Snyman). Haar meegevoel met vroue as slagoffers van die Suid-Afrikaanse oorlog en die daaruit voortspruitende armoede kom in die 1932-verslag, Die moeder en dogter van die arm gesin: Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika, sterk na vore. Volgens die webblad The Journalist was dit juis M. E. R. se omgee vir die wit Afrikaanse vroue, dié "moeders en die dogters van die arm gesin" waarna in die titel van haar 1932-verslag verwys word, wat daartoe aanleiding gegee het dat sy tussen Engelse feminisme en Afrikanerfeminisme onderskei het: "M. E. R. saw English feminism as something different from Afrikaner feminism. Her legacy was a feminism deeply embedded in the struggle of the masses of post war impoverished white families". Daar word genoem dat Afrikanervroue feminisme as 'n "vreesbevangendheid" ervaar het; dat M. E. R. aangedui het "the whole movement was 'English in origin and sentiment', while 'we were busy with our struggle against impoverishment and degeneration, with our whole struggle for rehablitation'". Verder word dit duidelik dat M. E. R. gevoel het dat Afrikanerfeminisme wel 'n rol te speel gehad het, maar "in a different way from the movement be propagated by English-speaking women who"-volgens M. E. R.-"cared little about the issues of vital concern to Afrikaners" (The Journalist).

Gedurende haar tyd by Die Burger verkry M. E. R. as joernalis 'n "distinctive voice" wat aan haar die geleentheid gee "not only to promote female Afrikaner nationalists party-political and welfare projects, but also reflected upon gender roles in the society". Haar vrouesake kolom in Die Burger "provided extensive coverage of the ACVV"-waarvan "Rothmann rapidly [...] a key member" (Du Toit 169) word. Deur dié wit vrouebeweging speel M. E. R. 'n aktiewe rol in die verkryging van stemreg vir vroue in 1930. As deel van hierdie veldtog kom haar feministies-geïnspireerde sienings duidelik na vore: "Rothmann's own pro-suffrage views were openly advocated and explained" (Du Toit 171). Sy wys onder andere op die onbegrip van mans teenoor vroue; dat die Nasionale Party 'n party vir mans was en dat hulle oor vroue besluite wou neem. Sy het aangedring op 'n "good relations between Afrikaner men and women. But as she explained in 1924, in spite of their good intentions, men failed to understand the 'plan' of cooperation and to accept women who acted as their equal". Sy meen naamlik dat mans vroue steeds "as 'n ander mens" beskou (Die Burger, 15 April 1924 soos aangehaal in Du Toit). Du Toit (171) wys verder daarop dat M. E. R. gedurende hierdie tyd as feminis aanklank vind by Olive Schreiner wanneer M. E. R. verklaar: "Afrikaans women-with their growing political consciousness and keen eye for injustice-could identify strongly [...] with this champion of victimised women".

Tog het M. E. R. as nasionalis krities teenoor Schreiner gestaan. Die gronde daarvoor kan teruggewys word na die botsende belange tussen die "Woman's Enfranchisement League" waarvan Schreiner aanvanklik deel was (soos aangedui) en die ACVV waarin en waardeur M. E. R. met die aanloop tot die verkryging van stemreg vir vroue deel was. Tydens die vergadering van die Vroue Nasionale Party (1930) het 'n paar Afrikanervroue by die vergadering uitgeloop, nie net "omdat die beweging so Engels van oorsprong was" nie, maar ook omdat die Afrikanervroue bekommerd was dat stemreg na swart en bruin vroue uitgebrei sou word: "Afrikaner nationalist women [...] agreed that women's enfranchisement had to be delayed, not on the grounds of the unfitness of women, but the grounds of the 'difficulty of the coloured and native vote'" (Vincent 3; sien ook McClintock). Wanneer Schreiner dan as lid van die "Woman's Enfranchisement League" in 1913 weens die negering van swart vroue bedank, word dit duidelik dat M. E. R. en Schreiner uiteenlopende sienings van die nasionale landspolitiek gehad het.

Desondanks verklaar Steyn (523) dat "M. E. R. daarop gestel was "om 'n saak in sy volle waarheid te stel"; en voeg daarby: "eintlik net soos Schreiner": "In die jare twintig het M. E. R. vir Olive Schreiner in die bresse getree. M. E. R. wys daarop dat Schreiner ná tant Sannie, in haar latere werke, anders oor die Afrikaner geskryf het. In 1899 het Schreiner 'weer die Boervrou geneem as tipe van wat die hoogste en edelste in die vrou is en het dit voorgestel op 'n manier wat' volgens M. E. R. 'enige beskrywing in The Story of an African Farm oortref' het" (M. E. R. soos aangehaal deur Steyn 523). Dat M. E. R. vir Schreiner kwalik geneem het oor die beeld wat van die Afrikanervrou in African Farm geskep is, word dus bevestig.

Inderdaad was M. E. R.-net soos Schreiner, "nie 'n swygsame toeskouer van die Afrikaanse geskiedenis" nie (Steyn 186). Sy was ook skrywer en het haar stempel nie net op die Suid-Afrikaanse samelewing nie, maar ook in die Afrikaanse literatuursisteem afgedruk (sien ook Human-Nel 155). Wanneer Louise Viljoen (17) in Rapport dan ook na M. E. R. as "vroeë Afrikaanse feminis" verwys, ontstaan die vraag: Waarom sou M. E. R. se feministiese stem nie tot 'n "Afrikaanse feministiese literêre tradisie" bygedra het nie?

M. E. R. se skrywersloopbaan begin kort voor haar joernalisdae. Haar eerste vertelling(s), soos wat sy na haar boek(e) verwys, verskyn in 1920 en sluit haar oeuvre in 1972 af met haar outobiografie, My beskeie deel. In 1953 ontvang M. E. R. die Hertzogprys vir Letterkunde vir haar prosawerk, maar ten opsigte van die ontvangs daarvan in die Afrikaanse literatuursisteem, moes sy dikwels "beskeie" staan. Sy debuteer midde die ontwikkelingsperiode van Afrikaanse literatuur. Nienaber (243) beskryf dié periode as die tyd toe "ons skrywers almal Boereseuns" was wat "'n tipiese Boerebeskawing uitbeeld". Dié "koloniale literatuur" was "by uitstek patriargale wêrelde waarin rasse, generasies en geslagte volgens traditionele hierargieë optree" (Roos 25). Gedurende dié beginjare van M. E. R. se skrywersloopbaan word haar sketse en stories ontvang deur 'n sisteem wat deurspek was met 'n "chauvinistiese ideologiese perspektief" en waarin "nasionale sentimente allesomvattend" was (sien Human-Nel 146). Roos (102) dui aan dat die skryfwerk van vroue wat in hierdie tyd gepubliseer het en wat nié die tipiese gestereotipeerde beeld van die "volksmoeders" uitgedra het nie, gesien is as swak of onaanvaarbaar. Wanneer vroueskrywers wel vrouekarakters geskep het wat "die vrou as ondergeskikte, 'n dienende Martha of as emosionele slagoffer" uitbeeld, was dié skryfwerk aanvaarbaar vir die manlike gedomineerde Afrikaanse literêre kanon. Óók was dit aanvaarbaar wanneer hierdie vroueskrywers se vroulike karakters die basiese "konvensies van die Afrikaner-establishment van die tyd onderskryf" het (Roos 102; Van Coller 25; Human-Nel 174).

Die ontvangs van M. E. R. se vroeë skryfwerk het by uitstek in die hande van kritici en literatore binne die jong Afrikaanse literatuursisteem gelê. Deurentyd word sy sterk gekritiseer vir haar realistiese beskrywings en wel omdat haar sosiologiese betrokkenheid by maatskaplike sake haar, "M. E. R. die kunstenaar, verdring" het (Kannemeyer 173). Coetzee (23) heg tog literêre waarde aan haar skryfwerk: hy beskryf haar "prosa" beskryf as "gesofistikeerd, op 'n 'literêre' wyse" en toon aan dat haar tekste "'n literêre kultuur vanuit die sosio-ekonomiese kondisies ontwikkel" het. Nienaber-Luitingh (685) wys daarop dat dit "veral sedert die verskyning van haar bundel Drie vertellings (1947) is dat haar werk die belangstelling getrek het van die literêr bewuste jonger geslag in Suid-Afrika". Steyn (499) toon egter aan dat "die beste aanduiding van haar erkenning" en "die waardering oor haar werk" waarskynlik eers in die 1960's gebeur wanneer daar "in toenemende mate besef word dat haar beskeie kuns 'n blywende bydrae tot ons prosakuns is, dat sy 'n vormende krag in ons letterkunde en in ons geesteslewe is" (Steyn 499). Die "ons" hier ter sprake, blyk na Afrikaners te verwys. Verdere vrae wat oor M. E. R. se bydrae ontstaan, is: Was haar feministiese stem versteek agter haar "beskeie kuns"? Asook, hoe het haar Afrikanerskap haar skrywe en die ontvangs daarvan in die Afrikaanse literatuursisteem beïnvloed?

Nienaber-Luitingh (690) toon met die profiel van M. E. R. in Perspektiefen Profiel aan dat haar "karakterbeelding deur haar didaktiese strewe beïnvloed is". Dit word duidelik dat sy haar vrouekarakters gebruik as didaktiese instrumente om haar lesers wat die Afrikanervroue in die Afrikaanse gemeenskap was, die 'volksmoeders', op te voed. Die diskoers wat sy gebruik as deel van haar opvoedingstaak vertoon deurgaans 'n dualiteit of teenstrydigheid. Aan die een kant word vroulike karakters met al die karaktereienskappe van vrouwees wat as goed en mooi beskou word, geskets; daardie tipiese eienskappe van die gestereotipeerde Afrikanervrou: diensbaar, pligsgetrou én onderdanig; vroue wat volgens M. E. R., "wel in staat is om 'n man lief te hê en ter wille van hom te ly". Aan die ander kant word vroulike karakters deurgaans as sterk persoonlikhede geskets: "verstandige en geestelik onafhanklike vroue" wat "in die diepste van haar wese", 'n man "nie werklik nodig het nie". Selfs waar vrouekarakters in die huwelik verbind is, "is dit altyd die vrou wat die sterkste persoonlikheid is, die meeste moed in moeilike omstandighede openbaar, en wat beter as die man in staat is om dinge in hulle juiste verhoudings te sien". Dit word duidelik dat dié soort sterk vrouekarakters voorrang geniet in haar werk wanneer aangedui word dat M. E. R. in haar tekste "partydigheid vir die vrou" toon wat "ongetwyfeld" dui op 'n "feministiese strewe" (sien Nienaber-Luitingh 684-93). Daarmee word bevestig dat M. E. R. se sosiopolitieke optrede in die Suid-Afrikaanse samelewing; haar vrouepartydigheid en haar stryd om vroue te bemagtig ook deur haar skryfwerk weerspieël word. Sodoende sluit M. E. R. aan by eerstegolffeministe en kan daar inderdaad aanvaar word dat sy die "moeder van Afrikaanse feminisme" (Steyn 523) is.

Vroeg in haar skrywersloopbaan, in 1927, word die kortverhaal "Die boodskap" gepubliseer. Dit verkry heelwat later kanonieke status en word eers in 1978 in Abraham H. de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem en daarna herhaaldelik tot in die laaste 2012-uitgawe. M. E. R. verklaar haar Afrikanerskap deur die verhaal te begin met die woorde: "Ons Afrikaners [.]". Daarop volg die verhaal van 'n sterk vrou vasgevang in 'n huwelik met 'n man veel ouer as sy. Vanuit die staanspoor word die leser daarop gewys dat hiérdie vrou "anders as die meisies van haar omgewing" was, "klein, stil, sag van sprake en van optree, hoewel geensins onbeslis nie" (24); dus met die karaktereienskappe wat myns insiens dikwels M. E. R. se sterk vrouekarakters verteenwoordig. Hierna word dié vrou se smagting na bevryding uit dié huwelik openbaar, want sy "verlang na die leefwyse waarin sy los sou wees ... en vry sou wees om oor haar doen en laat te beskik-bo alles, om oor haarself te beskik ... Sy was vas aan haar pligte as boervrou, en dit was dagvullend; vas aan die plaas, vas aan 'n man, vas aan sy leefwyse, en sy wou tog so graag los gewees het!" (25). Bevryding van die huwelik en die pligte wat daarmee gepaard gaan, word dus eksplisiet uitgedruk. M. E. R. gee ook nie vir hierdie vrouekarakter 'n naam nie en verwys net na haar as "die vrou". Sodoende verkry die vrou en haar lewe universele waarde en word dit duidelik dat dié vrou verteenwoordigend word van vele vroue wat vasgevang voel omdat die huwelik sekere verwagtinge aan hul stel. Ook die naamlose manlike karakter, "die man", word verteenwoordigend van die gestereotipeerde man, die patriarg:

Soos soms met 'n goeie sakeman die geval is, kon hy hom nie maklik in ander aktiwiteite as dié van sy eie lewe indink nie- had ook geen begeerte daartoe nie. Dit kan dan gebeur dat so 'n man dié wat naaste aan hom is-sy kind of sy vrou-nie altyd goed begryp nie-soos gesê, vind hy dit nie nodig nie, veral waar die die kind of die vrou genoeg verbeeldingskrag het om hom te begryp, en hulle so ver moontlik na hom te skik: so ver moontlik. Maar nie in alles nie. (24)

Alhoewel Nienaber-Luitingh (691) na dié vrouekarakter in "Die boodskap" verwys as die enigste vrou in M. E. R. se verhale wat "begeertes" na 'n ander man toon, word dit tog duidelik dat hierdie begeertes nie net na die "kneg" op die plaas was nie, maar eintlik na bevryding van 'n patriargale man: sy "gaan haar stille gang" terwyl sy "haarself en haar begeertes so van almal kon verberg", maar dit "het in die vrou 'n magsgevoel gekweek, en dit is 'n gevaarlike stuk sielsgereedskap" (25). Die vrou se opgehoopte haat en begeerte tot bevryding van dié man en dié soort huwelik dryf haar tot die uiterste en dit word aan die einde van die verhaal duidelik dat die vrou haar man vermoor het. Hierdie moord blyk vir die vrou die enigste uitkoms uit dié patriargale verhouding te wees. Sodanige feministiese stem wat hier duidelik teen patriargie opgaan, dui op veel meer as net vrouepartydigheid, of dan "being partial to women" waarna die webblad The Journalist verwys. Dit is "geslagspolitiek" (Van Niekerk 308), die magstryd tussen man en vrou in die huwelik wat in "Die boodskap" deur M. E. R. se skryfwerk weerspieël word. Duidelik word dié kortverhaal ook 'n weerspieëling van haar siening van mans se onbegrip teenoor vroue wat sy tydens die aanloop tot stemreg vir vroue ervaar het en as deel van haar "vrouesake" (Du Toit 155), haar betrokkenheid by landspolitiek, uitgeleef het.

M. E. R. bewoord met "Die boodskap" duidelik die gestereotipeerde geslagsrolle van die vrou as die onderdanige en die man as meerderwaardige in die huwelik, maar skets ook die vrou as 'n sterk persoonlikheid wat streef na bevryding. Die teks word 'n weerspieëling van M. E. R. se privaatlewe wat volgens Steyn (186) gewys het dat "sy nie altyd binne die grense van die tradisionele verwagtinge van die patriargale bestel gebly het nie", want na drie jaar in die huwelik met 'n Engelsman, Oakshott, verlaat sy hom en skei eers "informeel" en later "formeel", in 1911, van hom (Nieuwoudt). 'n Vrou wat van haar man skei was heeltemal ongebruiklik binne die samelewing van daardie tyd. M. E. R. vertel dat sy haar ma beskou as die eerste feminis wat sy geken het. Toe haar ma haar dogters universiteit toe gestuur het, is haar ma gevra of sy haar dogters universiteit toe stuur om 'n goeie man te kry. Hierop het haar ma geantwoord: "No, I sent them so that they can live without husbands, if they prefer so" (The Journalist). Enersyds word haar ma se aandeel in haar onafhanklike leefwyse getoon, maar andersyds word, net soos by Schreiner, aangedui dat haar ma bepalend ten opsigte van die toekomstige diskoers in haar skryfwerk was; die moeder word intertekstueel deel daarvan: "she is the pre-text for the daughter's autobiographical project" (Brodzki; L. Viljoen, Ons ongehoorde soort 175).

In die eerste fase van haar skrywerskap, die periode voor 1947, skryf sy gedurende 1939 Vroue wat Jesus geken het. Die roman word egter eers 1965 gepubliseer, dus nadat sy die Hertzogprys ontvang het. In die verhaal gebruik M. E. R. twee Bybelfigure, Martha en Maria, om háár onbegrip van die vrou se ondergeskiktheid aan die man uit te druk. Sy skryf dat sy die vier Evangelieboeke bestudeer het "om te weet wat die Heer waarlik van die vrou gedink het. Het Hy haar beskou as min of meer 'n ander wese as die man? Want so beskou die meeste mans haar vandag. Of hulle haar hoogag of minag, sy is vir hulle nie heeltemal 'n mens nie. Grotendeels word sy nog beskou as iets ondergeskiks in die skeppingsplan" (M. E. R. aangehaal in Nienaber-Luitingh 684). Hier spreek sy die patriargie direk aan; duidelik is ook hierdie stelling tekenend van geslagspolitiek. M. E. R. stel hiermee, volgens Van der Merwe (71), dit duidelik dat: "Christ regarded women as the equal of men and expected just as much of them as their male counterparts-to Him there was no such thing as 'the weaker' sex'" (sien ook Coetzee 24). Wanneer die verhaal in 1965 gepubliseer word, sluit M. E. R. aan by tweedegolffeminisme waar geslagsrolle bevraagteken was. Dit, met 'n diskoers wat sy alreeds in die eerste fase van haar skrywersloopbaan en as eerstegolffeminis geskep het. Steyn (354) bevestig dat haar "sosiale navorsing en haar geslagspartydigheid" tóg daartoe aanleiding gegee het dat sy as "persoon of maatskaplike werker", net soos van haar geskrewe werke, binne die Afrikaanse literatuursisteem "ideologies onverteerbaar" was. Miskenning van haar én haar skryfwerk deur die manlike gedomineerde kanon word dus erken.

Haar vrouepartydigheid word op 'n beskeie, maar besliste manier deel van haar skryfwerk. Dit is asof sy met "Die boodskap" haar feministiese stem verskuil agter haar Afrikanerskap deur die verhaal met die woorde: "Ons, Afrikaners, is so besig om die nasie te bou [...]" te begin. Daarteenoor, in Vroue wat Jesus geken het verskuil sy haar feministiese stem agter die Afrikaner se geloofsoortuiging, Christenskap. Sodanige diskoers toon nie "vreesbevangenheid" (soos na verwys in The Journalist) óf aggressiwiteit nie, maar eerder 'beskeidenheid', daardie "beskeie" deel waarna M. E. R. self in haar outobiografie, My beskeie deel (1972) verwys. Wanneer Van der Merwe (70) aandui dat die Afrikaanse literatuursisteem daaraan gekenmerk word dat "[t]he female author was not silent, but rather unheard and ignored" veronderstel dit dat ook M. E. R. se feministiese stem vir die grootse deel van haar skrywersloopbaan, nie 'gehoor' is nie. Deur haar feministiese stem teen patriargie sélf as vrouepartydighed te verklaar, gebeur dit dat die geslagspolitiek soos wel beoefen in haar tekste, nie raakgesien was nie. So gebeur dit dat M. E. R. se feministiese inslag indirek bydra tot die beskouing of selfs aanvaarding (sien ook De Jong en Murray 2017), vandag, dat daar nie 'n prominente fokus op feminisme in die Afrikaans literatuursisteem was nie (sien ook my Inleiding). Die vraag kan gestel word of M. E. R. werklik beskeie was? Was sodanige bekeidenheid nie bloot eie aan die Afrikanerkultuur van die tyd nie?

Dit wil egter voorkom of beskeidenheid gedurende die negentigerjare nog by Afrikaanse derdegolffeministe waargeneem word. Wanneer Van der Vyver die vraag waarna reeds verwys is ("What does feminism mean to the average Afrikaner?") beantwoord, spot sy eers: "Om lesbies te wees en nie jou beenhare te skeer nie". Onmiddellik daarna, raak ook sý 'beskeie' en sê "For me personally I suspect it implies trying to improve the destiny of woman". Hierna merk Greeff (42) ook op hóé Van der Vyver op die vraag reageer: "(She chooses every word very carefully, but immediately fears sounding self-important-something we boervroue seem to have in common)".

 

Slot

Met hierdie artikel word bevestig dat Olive Schreiner en Maria Elizabeth Rothmann (M. E. R.) sedert die vroegste tye hul feministiese stemme teen patriargie laat 'hoor' het. Eenderse sosiopolitieke ervarings, enersyds ten opsigte van die vrou se posisie in die patriargale verhouding en andersyds van ten opsigte van gebeure rondom die Suid-Afrikaanse Oorlog, het hul oorgehaal om magstrukture uit te daag. Sodoende het hulle alreeds as eerstegolffeministe inderdaad tweedegolffeminisme beoefen, want hierdie tendens-om by landspolitiek betrokke te raak en so dié eksklusiewe manlike speelveld van die tyd te betree, het eers gedurende die tweedegolffeminisme na vore gekom. Nie net het hulle deur hul optrede in die samelewing by landspolitiek betrokke geraak nie, maar ook deur middel van die feministiese diskoers in hul geskrewe tekste, geslagspolitiek beoefen.

Dat beide skrywers se bydrae tot 'n feministiese literêre tradisie in die Suid-Afrikaanse literatuursisteem in onderskeidelik die Afrikaanse literatuursisteem en Engelse literatuursisteem bepaal is deur die aard van hul feministiese stemme, sowel as die ontvangs daarvan in die onderskeie literatuursisteme, is in hierdie artikel ontgin.

In die voorwoord tot die 2004-uitgawe van African Farm word die waarde van Schreiner se radikale optrede in die Suid-Afrikaanse samelewing en haar aggressiewe feministiese stem (asook die impak daarvan ten opsigte van haar nageslagte) beklemtoon: "The freedom which gives a modern woman writer the right to education and self-expression had to be earned in it's time, and [.] people like Schreiner helped to earn it for others" (Clayton 13). Olive Schreiner slaag daarin om met The Story of an African Farm (1883) 'n feministiese stem vir vroueskrywers van Suid-Afrika te skep en hier op Afrikabodem "a unifying voice in women's literature" (Showalter 89) te begin. Hierteenoor staan Maria Elizabeth Rothmann, wat soos Nienaber-Luitingh (693) in die jongste profiel van M. E. R. aandui, 'n "unieke Afrikaanse skryfster" was, maar "vir goed tot die verlede behoort". Met hierdie artikel word dit wel duidelik dat M. E. R. steeds as 'n relevante gevallestudie gebruik kan word om die neerslag van eenderse sosiale ervarings in twee van die Suid-Afrikaanse literatuursisteme aan te dui en dat sy as Afrikaanse skrywer met die sterkste feministies geïnspireerde vroue in die breë Suid-Afrikaanse literatuursisteem vergelyk kan word.

Daar kan tot die slotsom gekom word dat beide vroue, Schreiner en M. E. R., se stemme téén patriargie, gesetel was in hul "vroulike subjektiwiteit" en dat dit inderdaad 'n konstruksie was wat deur "historiese, sosiale en kulturele kontekste" bepaal is (L. Viljoen, Ongehoorde soort 174).

 

Erkennung

Hierdie artikel spruit voort uit my PhD-proefskrif, "Die impak van sosiopolitike verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon", voltooi onder leiding van prof. Hennie van Coller, aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. Die graad is op 17 September 2009 toegeken.

 

Geraadpleegde bronne

Bonthuys, Marni. "CFP: Feminism and South Africa literatures." African Literature Association. 19 Okt. 2022. https://africanlit.org/cfp-feminisms-and-south-african-literatures/.         [ Links ]

Brodzki, Bella & Celeste Schenk, reds. Life/lines: theorizing women's autobiography. Cornell U P, 1988. https://doi.org/10.7591/9781501745560.         [ Links ]

Clayton, Cherry. "Introduction." The Story of an African Farm, by Olive Schreiner. AD Donker, 2004, pp. 7-20.         [ Links ]

Cloete, T. T., red. Literêre terme en teorieë. Haum-Literêr, 1992.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. Letterkunde &krisis: 'n honderdjaar Afrikaanse letterkunde en Afrikanernasionalisme. Taurus, 1990.         [ Links ]

De Beauvoir, Simone. The Second Sex. Translated by H. M. Parsley. Penguin, 1972.         [ Links ]

De Jong, Marianne. "Feminisme." Literêre terme en teorieë, geredigeer deur T.T. Cloete. HAUM-Literêr, 1992, pp. 123-8.         [ Links ]

De Jong, Marianne & Jessica Murray. "Feminisme." Literêre terme en teorieë. 2017. https://www.litterm.co.za/2017/09/19/feminisme-2/.         [ Links ]

De Villiers, Heidi. "D. F. Malherbe (1881-1969)." Perspektief en Profiel. Deel 1, geredigeer deur H. P. van Coller. J. L. van Schaik, 1998, pp. 649-56.         [ Links ]

De Vries, Abraham H. Die Afrikaanse kortverhaalboek. Human & Rousseau, 2012.         [ Links ]

Dekker, Gerrit. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Nasionale Pers, 1947.         [ Links ]

Du Toit, Marijke. "The Domesticity of Afrikaner Nationalism: Volksmoeders and the ACVV, 1904-1929." Journal of Southern African Studies vol. 29, no. 1, 2003, pp. 155-76.         [ Links ]

Friedlander, Zelda, red. Until the heart changes. A garland for Olive Schreiner. Tafelberg, 1967.         [ Links ]

Gilfillan, J. M. "Grietskryf 'nsprokie. Van stilswye tot kreet." Stilet vol. 6, no. 2, 1994, pp. 97-105.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. Die Afrikaners. 'n Biografie. Tafelberg, 2004.         [ Links ]

Greeff, Rachelle. "No angst whatsoener". Sash vol. 35, no. 3, 1993, p. 42.         [ Links ]

Gregory, Jessica. "Olive Schreiner: Feminism from the Cape Colony." British Library Engish and Drama Blog. 21 Jun. 2021. https://blogs.bl.uk/english-and-drama/2021/06/olive-schreiner-feminism-from-the-cape-colony.html.         [ Links ]

Human-Nel, M. "Die impak van sosiopolitieke verandering op die plek van vroueskrywers in die Afrikaanse literêre kanon." Diss. U Freestate, 2009. http://hdl.handle.net/11660/1076.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. Die Afrikaanse literatuur. 1652-1987. Human & Rousseau, 1988.         [ Links ]

Krebs, Paula. "Olive Schreiner's racialization of South Africa." Victorian Studies vol. 40, no. 3, 1997, pp. 427-44.         [ Links ]

Lippmann, Walter. Public opinion. Macmillan, 1922.         [ Links ]

McClintock, Anne. "Olive (Emilie Albertina) Schreiner." British Writers, geredigeer deur George Stade. Charles Scribner's Sons, 1992. https://dept.english.wisc.edu/amcclintock/schreiner.htm.         [ Links ]

Nienaber, P. J. Perspektiefen Profiel. 'n Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers, 195l.         [ Links ]

Nienaber-Luitingh, M. "M. E. R. (1875-1975)." Perspektief en Profiel. Deel 1, geredigeer deur H. P. van Coller. J. L. van Schaik, 1998, pp. 684-93.         [ Links ]

Nieuwoudt, Ilze. "Maria Elizabeth Charlotte Rothmann (M. E. R.)." Weet. Afrikaanse e-naslaangids vir leerders. 2022. https://weet.co.za/afrikaans/maria-eliZabeth-charlotte-rothmann-m-e-r/.         [ Links ]

Roos, Henriette. "Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu." Perspektief en Profiel. Deel 1, geredigeer deur H. P. van Coller. J. L. van Schaik, 1998, pp. 43-104.         [ Links ]

M. E. R. "Die boodskap". Die Afrikaanse kortverhaalboek, geredigeer deur Abraham. H. de Vries. Human & Rousseau, 2012, pp. 23-30.         [ Links ]

Schoeman, Karel. Olive Schreiner: 'n Lewe in Suid-Afrika (1855-1881). Juta, 1989.         [ Links ]

Schreiner, Olive. The Story of an African Farm. AD Donker, 2004.         [ Links ]

Showalter, Elaine. 1975. "Review essay. Literary criticism." Signs vol. 1, no. 2, 1975, pp. 435-60. The Journalist. "M. E. Rothmann." Vintage feminist. 2014. https://www.thejournalist.org.za/pioneers/m-e-rothmann-vintage-feminist/.         [ Links ]

Snyman, Dana. "Dana Snyman: Op Ta'Miem se spoor." Blik Dit. 16 Sep. 2012. https://blikdit.wordpress.com/2012/09/16/dana-snyman-op-ta-miem-se-spoor/.         [ Links ]

Steyn, J. C. Die 100 jaar van M. E. R Tafelberg, 2004.         [ Links ]

Van Coller, H. P. "Die Afrikaanse plaasroman as ideologiese refleksie van die politieke en sosiale werklikheid in Suid-Afrika." Stilet vol. 7, no. 2, 1995, pp. 22-31.         [ Links ]

Van der Merwe, Chris. Breaking Barriers: Stereotypes and the changing ofvalues in Afrikaans writing. 1875-1990. Rodopi, 1994. https://doi.org/10.1163/9789004650114.         [ Links ]

Van Niekerk, Annemarie. "Die Afrikaanse vroueskrywer-van egotekse tot postmodernisme (18de eeu-1996)." Perspektief en Profiel. Deel 1, geredigeer deur H. P. van Coller. J. L. van Schaik, 1999, pp. 305-443.         [ Links ]

Viljoen, Hein. "Literatuursosiologie." Literêre terme en teorieë. 2017. https://www.litterm.co.za/2010/09/28/literatuursosiologie/.         [ Links ]

Viljoen, Louise. "Die 100 jaar van M. E. R. Eerlike bibliografie is dié vrou gewis waardig." Rapport, 13 Jun. 2004, p. 17.         [ Links ]

__________. Ons ongehoorde soort. Sun, 2009.         [ Links ]

Vincent, Louise. "A cake of soap: The Volksmoeder Ideology and Afrikaner Women's Campaign for the vote." The International Journal of African Historical Studies vol 32, no. 1, 1999, pp. 1- 17.         [ Links ]

 

 

Submitted: 3 May 2023
Accepted: 15 January 2024
Published: 29 April 2024

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons