SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 número2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.39 no.2 Bloemfontein  2019

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v39i2.4 

ARTICLES

 

O Kom, O Kom, Immanuel - Veni, Veni Emmanuel: 'n Adventlied Wat Mense Oor Die Grense Van Tyd, Kerke En Lande Verbind

 

O Come, O Come, Immanuel - Veni, Veni Emmanuel: An Advent Hymn Connecting People over Boundries of Time, Church and Country

 

 

E. Kloppers

Prof. E. Kloppers, Departement Filosofie, Praktiese en Sistematiese Teologie, Universiteit van Suid-Afrika. E-pos: kloppec@unisa.ac.za

 

 


ABSTRACT

O kom, o kom, Immanuel, one of the oldest hymns included in the Liedboek van die Kerk (2001), is based on a Latin Advent hymn, Veni, veni Emmanuel, which, in turn, is based on five of the seven O antiphons that form part of the Roman Catholic liturgy for Advent. In many of the Reformed churches in South Africa, the hymn is not sung, because the time of Advent is not sufficiently observed and Advent hymns are often ignored. This article discusses the origin and meaning of the text and provides the background for the tune. It also presents potential meaningful uses of the hymn, so that it can function effectively in the liturgy. The article aims to promote the active use of the hymn and to foster awareness for the time of Advent. It shows that the hymn connects the current singers with believers in the past and is directed towards the future. It connects people of different times, confessions and churches. It is argued that its popularity, even in circles outside the church, indicates that it could bring church people and people in the public domain together and be a medium through which believers and non-believers, or people who experience doubt, could communicate with each other. The pastoral function of the hymn is thus also emphasised.

Keywords: Hymnology, Hymn, Church year, Advent


Trefwoorde: Himnologie, Kerklied, Kerkjaar, Advent


 

 

1. INLEIDING

Veni, veni Immanuel (O kom, o kom, Immanuel) is 'n lied wat in baie tale vertaal is. In Advent,1 klink dit oor die wêreld heen. In 1996 is dele van die Latynse teks, in aansluiting by die Duitse en Engelse weergawes, in Afrikaans vertaal en ook in die Liedboek van die Kerk (2001) opgeneem. In sommige kerke en gemeentes word die lied wel gesing, maar baie lidmate het die lied nog nooit gesing nie, omdat die tyd van Advent nouliks gevier word en Adventliedere min gesing word. Baie predikante, orreliste en musiekleiers weet ook nie hoe om die lied in die liturgie te gebruik nie, is onseker oor hoe dit gesing kan word en weet dus ook nie hoe dit betekenisvol kan funksioneer nie.2 Die melodie met die vreemde melismes klink ook anders as die meeste melodieë wat in die tradisionele kerke met Afrikaans as voertaal gesing word. Hierdie artikel gee toeligting oor die agtergrond en betekenis van die teks, die aard en herkoms van die melodie, asook moontlikhede gebied om die lied liturgies te ontsluit, sodat dit effektief kan funksioneer. Hiermee word gepoog om die lied bekend te stel en die aktiewe gebruik te bevorder. Nie net is dit teologies en liturgies van waarde nie - dit is 'n treffende lied wat mense graag wil sing as hulle eers bekend is daarmee. Daarvan getuig selfs opnames deur "folk" sangers soos Enja, op haar CD And winter came ... (2008) en Loreena McKennit, op A midwinter night's dream (2008). Opnames in 'n meer moderne idioom is, onder meer, 'n heavy metal-weergawe deur Theocracy, 'n Christen "Power- and Progressive-Metal-Band" (Theocracy 2019). Die artikel is dus gerig op die bevordering van himnologiese kennis rakende hierdie kerklied, sowel as die uitbou van die praktyk en die gebruik van dié lied binne die gemeenskap van gelowiges. Dit is ook gerig op die potensiële werking binne die breër gemeenskap in die openbare sfeer, die "public domain".

 

2. DIE O-ANTIFONE

In die Rooms-Katolieke liturgie van die kloosters word die aandgebed ("vespers") oor eeue reeds elke aand afgesluit met die lofsang van Maria (Magnificat). Dit is ook die gebruik dat hierdie lofsang ingelei en omraam word met 'n antifoon,3 'n gebed wat pas by die spesifieke tyd in die kerkjaar. Deur die afwisseling in antifone kry die gesang wat elke aand van die jaar herhaal word, telkens weer 'n ander kleur. Die sewe antifone van die Magnificat wat in die week voor Kersfees (van 17 tot 23 Desember) feestelik onder die gelui van klokke opklink (ÖLK 2003), pas in die besonder by dié gesang, omdat dié antifone van afwagting spreek en dus nóú aansluit by die lied van die verwagtende Maria.4

Hierdie antifone is bekend as die sewe Groot O-Antifone, omdat elkeen met O as 'n uitroep begin. Dit word gevolg deur die aanroep en lofprysing van die verwagte Messias met gebruik van verskillende titels en beelde van verlossing, en dit mond uit in die bede om heil en redding van die volk van God.5 Dele van die tekste is waarskynlik terug te voer na 'n gemeenskap van Joodse Christene reeds uit die 5de eeu. Dit bevat verskeie elemente van die Hanukkah feesvieringe - herinneringe aan die tyd van swerwerskap in die woestyn, donkerheid, dood en die viering van die komende lig (Brink & Polman 1998). Hierdie antifone is reeds sover terug as die 9de eeu in die Adventliturgie van die kloosters gesing (Praßl 2005:3). Elkeen van hierdie antifone het 'n Ou Testamentiese naam vir die koms van die Messias. Daaruit spreek die beeldrykheid van die Messias-verwagting, naamlik O Sapientia (Spr. 3:18, 8:22-31, 9:1-6; Pr. 6-9), O Adonai (Eks. 3, 15, 24; De. 5), O radix Jesse (Jes. 11), O Clavis David (Jes. 22:20-22, 42:1-16; Op. 3:7-13), O Oriens (Sag. 3:8, 6:12; Jes. 9:1-16, 60:1-6; Pr. 7:24-30; Lu. 1:78; Heb. 1:1-9), O Rex gentium (Jer. 10:6-7; Hag. 2:4-9; Jes. 28:16; Ge. 1:26-27, 2:7; Ef. 2:13-22), O Emmanuel (Jes. 7:14, 33:22; Mt. 1:23). Die verskillende antifone dien as 'n soort brandglas van die Woord van God. Uit verskillende perspektiewe fokus dit op die koms van die gesalfde van God en die betekenis wat dit inhou vir die nood van mense wat die bevryding nodig het.

O Sapientiae, quae ex ore altissimi - O Wysheid uit die mond van die Hoogste (17 Desember).

O Adonai et dux domus Israel - O Heer en Leier van die Huis van Israel (18 Desember).

O Radix Jesse qui stas in signum - O Spruit uit die Wortel van Isai (Jesse) (19 Desember).

O Clavis David et sceptrum domus - O Sleutel van Dawid (20 Desember).

O Oriens, splendor lucis aeternae - O Môrester, Helder Lig (21 Desember).

O Rex gentium et desideratus - O Koning van die volke (22 Desember).

O Emmanuel, rex et legifer - O "God met ons" (23 Dessember).

Die eerste letter van die name vorm die akrostigon6SARCORE (sien vetdruk bo). As dit van agter na voor gelees word, staan daar ERO CRAS. Dit beteken EK IS DIE TOEKOMS - letterlik: ek sal more daar wees (sien Op. 22:20). Volgens die bladbeeld voor oë, word dit as't ware van oos na wes gelees. Dit hou daarmee verband dat die Verlosser more (uit die ooste) na die mense toe kom: Ek is die toe-koms. Dit is dus duidelik dat die indeling, aanvangswoorde en orde nie toevallig is nie. Met die finale antifoon, wat op 23 Desember gesing word, word die volle boodskap van Christus se koms in die nag voor Oukersaand dus geopenbaar. Deur die klassieke getal sewe, as teken van die volheid en voleinding, word dít wat in beide Testamente oor die Messias gesê word, himnies saamgevat op die hoogtepunt van Advent (Praßl 2005:4).

Afgesien van die titel "Emmanuel", wat uit Jesaja 7:14 kom en in Matteus 1:23 op die geboorte van Jesus betrek word, bied die antifone in sigself egter geen verwysing wat die verwagting skep dat dit op die Kersgebeure gerig sou wees nie. Die titel "Christus" kom nie een keer voor nie (Heil 2002:88-89). In die antifone is die blik eerder gerig op die ewige Advent, die weerkoms van Christus. Albert-Zerlitz (Liedporträt, Bistum Mainz) meen die keuse vir oorwegend Ou Testamentiese tekste dui daarop dat die eskatologiese hoop van die Christen nie anders is as dié van Israel nie. Dit is die hoop dat God deur die Messias na die mense kom en hulle verlos.

 

 

3. DIE TEKS VAN DIE LIED IN LATYN VENI, VENI EMMANUEL

Veni, veni Emmanuel, die metriese weergawe in Latyn, is op vyf van die O-antifone gebaseer. Die antifone is egter nuut gerangskik. Die ontstaansdatum is onbekend - waarskynlik die 12de of 13de eeu (ÖLK 2003). Heringsdorf (1710) se Psalteriolum Cantionum Catholicarum, 'n Katolieke gesangboek, dien as oudste bron van die metriese teks met vyf strofes. Deur die gebruik in skole van die Jesuïete het die lied wyd inslag gevind en het tot diep in die 19de eeu in nuwe uitgawes verskyn. Die naam Immanuel kom in die sewende antifoon voor, maar is verskuif na die eerste strofe van die lied en dien as aanvangsroep. 'n Refrein is aan die antifoon toegevoeg: Gaude, gaude, Emmanuel est natus pro te Israel - Wees bly, wees bly! Immanuel is vir jou gebore, Israel. Die feit dat die naam Immanuel ook in die refrein voorkom, versterk die fokus op die naam. Die eerste strofe van die teks in Latyn lui só:

Veni, veni, Emmanuel, Kom, kom Immanuel,

captivum solve Israel, bevry die gevangene, Israel,

qui gemit in exilio, wat in ballingskap sug en

privatus Dei Filio verlang na die seun van God.

Gaude, gaude, Emmanuel Wees bly, wees bly, Immanuel,

est natus pro te Israel. is vir jou gebore, Israel.

[nascetur pro te Israel! 7 word vir jou gebore, Israel.]

Op 'n later stadium is die twee oorblywende O-antifone Veni, o sapientia en Veni, veni, Rex gentium ook in metriese vorm omgewerk en die vyfstrofige teks is uitgebrei tot 'n teks met sewe strofes. Presies wanneer dit gebeur het is nie bekend nie, maar die oudste bron vir Veni, o Sapientia is Mohr (1878) se Cantiones sacrae.

 

4. DIE LIED IN DUITSE WEERGAWES

Aan die einde van die 18de eeu en die begin van die 19de eeu, kom daar onder invloed van die Aufklärung 'n opbloei in die vertaling en nuutskepping van Katolieke kerkliedere in die Duitse taal. In hierdie tyd ontstaan verskeie vertalings in Duits. In die gees van die tyd is dikwels sterk van die teks afgewyk, met weglatings en vreemde byvoegsels - juis dít waaroor Kurzke (2010:216-217) sterk kritiek het op 'n teks soos dié van Nadermann (1810, in Kurzke 2010).

Bone (1847) verwerk 'n ouer Duitse weergawe, Ach komm, o komm, Emmanuel, wat nader aan die Latynse weergawe staan (Kurzke 2010:217) en neem dit in sy gesangboek Cantate! op. Onafhanklik daarvan skep hy 'n eie strofiese weergawe, waarin al sewe antifone in die oorspronklike volgorde voorkom - sonder die refrein. Dit begin met 'n aanvangstrofe wat lui: Herr sende, den du senden willst. Kurzke oordeel gunstig oor Bone se weergawe en meen hy eer die inhoud en simmetrie van die Latynse teks. Ontwikkelings in die Katolieke sfeer in Duitsland ná Bone kan, volgens Kurzke (2010:217-220), egter as dié van verwaarlosing en verval beskryf word. Bone se weergawe met sewe strofes, met die aanvangsreël, Herr, send herab uns deinen Sohn, is in die Switserse Katolieke Gesangboek (Katholisches Gesangbuch der Deutschsprachigen Schweiz 1998, nr 304) en dié van die Reformierte Kirche in Switserland (Reformiertes Gesangbuch 1998, nr 362) opgeneem as Gott, send herab uns deinen Sohn (Herr is verander na Gott weens aandrang op inklusiewe taal). In dié liedboeke is dit voorsien met 'n refrein "Freu dich, freu dich", sodat dit ook op die ou Franse melodie (kyk verdere bespreking) gesing kan word (ÖLK 2003). In die nuutste Duitse Gesangboek van die Katolieke Kerk (Gotteslob 2013, nr 222) is die oorspronklike aanvangsreël met Herr behou.

 

5. DIE LIED IN ENGELAND

Neale (Engeland, 1818-1866) neem die vyfstrofige Latynse weergawe oor (waarskynlik uit Daniel (1844) se Thesaurus Hymnologicus) en publiseer dit in sy versameling Hymni Ecclesiae (Neale 1851a). In dieselfde jaar vertaal Neale dit in Engels en publiseer dit in sy Mediaeval Hymns and Sequences (1851b, nr 119), met die aanvangsreël Draw nigh, draw nigh, Emmanuel. Hy verwerk dit vir The Hymnal Noted II (Neale 1856) (waar dit die eerste keer met die Veni Emmanuel-melodie verskyn). 'n Verdere verwerking verskyn in Hymns Ancient and Modern (Monk 1861, nr 36) met die aanvangsreël O come, o come Emmanuel. Volgens Watson en Hornby (s.a.) is die weergawe van Neale se vertaling in Hymns Ancient and Modern baie gewild, ondanks die vreemde temas en oorspronge. Dit het daartoe bygedra dat die lied in baie tale oor die wêreld vertaal is en in gesangboeke van elke denominasie aangetref word. Of dit die teks is wat die lied se resepsie bevorder, of dalk eerder die melodie, is egter 'n vraag.

 

6. 'N EKUMENIESE LIED

Naas die weergawes in Engelse liedboeke oor die wêreld, verskyn die lied onder meer in Nederlands deur Willem Barnard (1963) in Liedboek voor de Kerken (1973, nr 125) - en in 'n verwerkte vorm in Liedboek. Zingen en bidden in huis en kerk (2013).8 Otmar Schulz skep 'n weergawe met die aanvangsreël O komm, o komm, du Morgenstern in Advent 1975 om, soos hy self sê "uiteindelik die vrolik-uitnodigende melodie te kan sing" (Praßl 2005:3). Die weergawe van Neale dien as basis vir hierdie vertaling. Schulz sluit veral by twee van Neale se strofes aan en ook by een strofe uit die weergawe van Coffin (Coffin & Vernon 1909, nr 63).9 Die teks van Schulz is in die amptelike gesangboek van die Evangelisch Lutherische Kirche Deutschlands (1993, nr 19) opgeneem.

Die lied verskyn onder meer ook in Toivon Lauluja/Hoppets Ton (1999)

- in Fins deur Niilo Rauhala en in Sweeds deur Catharina Broomé en Per Beskow; in Sweeds deur Anders Frostenson in Svenska Psalmboken (1984, nr 423); in Spaans deur Federico J Pagura in Mil Voces 80, en in vele ander liedboeke. Die Latynse teks het ook deur die ekumeniese bundel van die Wêreldraad van Kerke (1974, nr 53) wyd bekend geword. Die lied verskyn in dié bundel in agt tale: Latyn, Engels, Frans, Spaans, Portugees, Swahili, Arabies en Japannees. In die nuutste ekumeniese bundel Gesangbuch der Geke (2007, nr 88), verskyn weergawes in Latyn, Duits, Engels, Nederlands, Sweeds en Spaans. Dit is dus 'n ekumeniese lied by uitstek. Die teks vertoon veel variasie in liedboeke wat betref die keuse van antifone, temas, bewoording, die aantal strofes en die orde van strofes.

 

7. DIE LIED IN AFRIKAANS

Die Afrikaanse teks (Kloppers 1996) bestaan uit vyf strofes, met 'n beperkte keuse van motiewe uit die Latynse teks, in aansluiting by Neale en veral die teks van Schulz. Met die verskyning van die Liedboek van die Kerk was 'n bewussyn vir die Kerkjaar baie skraal in kerke van Gereformeerde/ Hervormde inslag - veral vir die tyd van Advent. Met die oog op die resepsiekonteks in Suid-Afrika is die teks doelbewus eenvoudig gehou wat betref tematiek en variasie. Die volle spektrum van Ou Testamentiese tematiek is nie gedek nie, omdat die vele vreemde motiewe (sien Watson & Hornby sa) ook vervreemdend kon werk. Die melodie, met die ryke gebruik aan melismes, sou ook eers vreemd val op die oor van lidmate in dié kerke - dit is steeds die geval by mense wat die eerste keer daaraan blootgestel word. Met hierdie vertaling sou gepoog word om 'n belangrike ekumeniese lied met 'n lang geskiedenis op 'n bevatlike wyse te ontsluit én om Advent só ook beter bekend te stel.

O KOM, O KOM, IMMANUEL - VENI, VENI EMMANUEL

(Liedboek van die Kerk 320)

O kom, o kom, Immanuel,

verlos u volk, u Israel.

Verlos hul wat in nood en pyn

die ure tel tot U verskyn. (Ps. 130)

Wees bly, wees bly, o Israel!

Hy kom na ons, Immanuel. (Mt. 1:23; Jes. 7:14)

O kom, o kom, o Môrester,

ons sien alreeds u lig van ver.

Verdryf die newels van die nag,

laat skyn u helder lig met prag. (Op. 22:16; Nu. 24:17)

Wees bly, wees bly, o Israel!

Hy is naby, Immanuel.

O kom, o kom, o Dag wat breek,

om u lig in ons aan te steek.

Verby is nagte sonder moed,

want in die ooste skyn u gloed.

Wees bly, wees bly, o Israel!

Hy is naby, Immanuel.

O kom, o Seun uit Dawidstam,

U, Vredebringer - U, die Lam (Op. 3:7)

Van sonde kom U ons bevry,

dat ons nou ewig in U bly.

Wees bly, wees bly, o Israel!

Hy is met ons, Immanuel.

O kom, o kom - kom by ons bly

dat niks ons ooit van U kan skei, (Ro. 8:31)

sodat ons, soos u Woord beloof,

U altyddeur kan prys en loof.

Wees bly, wees bly, o Israel! (Flm. 4:4)

God is met ons - Immanuel.

Elke strofe begin met 'n dringende gebed: O kom, o kom, Emmanuel. Dit verwys na die teks uit Jesaja 7:14 en Matteus 1:18-23:

Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immanuel noem, wat beteken God met ons.

In vier van die strofes word "O kom!" herhaal. Oor die vyf strofes word "O kom!" dus nege keer gesing. Dit versterk die dringendheid van die roep.

7.1 Strofe 1: Ons tel die ure

Die eerste strofe sluit aan by die eerste strofe van die Latynse teks, Veni, veni Immanuel en dra dieselfde tematiek. "God se volk, Israel" verkeer in nood en pyn, en bid om verlossing. Die Christen-sangers van die lied identifiseer hulleself met die mense van die tyd van die Ou Testament wat nog wag op die koms van die Messias - en bid sáám met hulle asof Christus nog nié gekom het nie. Hulle stel hulle voor hoe dit sou wees as die Verlosser nié gekom het nie. Die wêreld sou baie ellendig en baie donker wees. Hulle "tel die ure" totdat die Messias verskyn. Dit is 'n verwysing na Psalm 130, "soos wagters wat wag op die môre, so wag ek op U". Dit klink treffend in die argaïeserende omdigting van die digter Totius:

Soos een wat op die mure as wagter uitgestel,

gedurigdeur die ure met sy gedagtes tel,

so wag my siel en sterker gedurig op die Heer,

tot Hy die ligbewerker, die nag in daagraad keer.

Die tweede deel van die vergelyking in die aanhaling sluit nóú aan by wat volg in strofes 2 en 3 van die lied.

7.2 Strofe 2: Ons oriënteringspunt in die Ooste

Strofe 2 sluit by die Latynse antifoon O Oriens - "o Môrester" aan. Die sangers wat in afwagting sing is gerig op die ooste, die "orient", die Oriënteringspunt, die Môrester. Alle menslike handelinge is sinloos en rigtingloos sonder dié Oriënteringspunt (Kloppers 2003:127). Die ou kerke en katedrale in Europa is só gebou dat die mense in die erediens na die ooste kyk - dit is dus die "gerigtheid" van die mense wat teenwoordig is. "Ons", die sangers van die lied, kyk met die geestesoog en "sien" alreeds iets van die lig. Met intensiteit word gebid dat die newels van die nag verdryf moet word en dat die helder lig moet skyn, met prag moet skyn -die wêreld moet verlig én dit mooi moet maak.

7.3 Strofe 3: Die lig in ons - die dagbreek

Strofe 3 sluit ook by O Oriens aan: "O Kom, o kom, o Dag wat breek - om u lig in ons aan te steek". Die verwagting is dat die lig nie net die wêreld "daar buite" verlig nie, maar dat dit ook die donker ín ons sal verdryf -die innerlike vrees, die lyding, die moedeloosheid. Met vertroue word gesing dat die negatiewe oorwin sal word en dat die nagte sonder moed sal verbygaan. Dat die Lig steeds naderkom, blyk uit die gloed wat in die ooste skyn. Dit dien ook as simbool van die wederkoms van Christus, soos die Christene in die oudkerklike tyd die weerkoms van Christus op Paasmore (Duits: Ostermorgen) verwag het, soos wat die son wat uit die Ooste (Osten) kom (Albert-Zerlitz, Bistum Mainz).10

7.4 Strofe 4: Ons in Hom en Hy in ons

Strofe 4 sluit aan by O Clavis Isai [Jesse] en o Radix David. Die Messias wat kom, kom uit die stam van Dawid, seun van Isaï - só word oor eeue reeds vertrou en daarvan getuig die Nuwe Testament ook. Die perspektief word oor Israel uitgebrei op alle volke - die Messias is 'n teken van hoop. Die Seun wat gebore word, bring vrede. Hy staan as "Vredebringer" bekend. "Die Lam" dui op die Lam wat geslag sou word (Op. 5:6) en wat daardeur juis bevryding bring. In die vierde reël is sprake van 'n bepaalde wederkerigheid: ons bly in Hom en Hy in ons - Hy is met ons. "Dat ons nou ewig in U bly" is 'n uitbreiding van die "lig in ons" van strofe 3: God (die lig) is in ons teenwoordig - en ons is ewig in God se teenwoordigheid.

7.5 Strofe 5: God is met ons - Immanuel

Strofe vyf bestaan uit die bede dat God by ons moet bly en dat ons hom altyddeur kan prys en loof. Dit fokus op die ewigheid waar niks ons ooit van Hom kan skei nie. Die strofe sluit af met die gerealiseerde teenwoordigheid: God is met ons - Immanuel.

7.6 Die refrein: Wees bly! Wees bly!

Die eerste reël van die refrein is 'n opname van die teks van Filippense 4:4: "Verbly julle in die Here! Ek herhaal: Verbly julle!". Die refrein bevat die bemoediging: "Wees bly!". En soos die skrywer van die Filippense teks beveel, word dit ook herhaal: "Wees bly!". Dit loop dus parallel aan die herhaling: "O Kom, o kom"! as antwoord op die bede aan die begin.

Om die dubbele tema van Advent, naamlik die afwagting op Christus se koms én sy weerkoms, te versterk, is daar doelbewus progressie in die refrein. In die eerste strofe se refrein is daar 'n belofte: Hy kom na ons ... In die tweede en derde strofe: Hy is (reeds) naby ... In die teksdeel (bede) van dié twee strofes is egter progressie. In strofe twee en die begin van strofe drie is nog die bede dat Hy die newels van die nag moet verdryf; strofe drie sluit egter af met die sekerheid van verwagting: Verby is nagte sonder moed, want in die Ooste skyn u gloed! Tot in strofe vier word Hy as Immanuel aangeroep met die bedoeling Wees met ons ... In strofe vyf is daar egter toekomssekerheid: God is (reeds) met ons.

 

8. DIE MELODIE VAN VENI, EMMANUEL

8.1 Oorsprong van die melodie: 15de-eeuse Prosessionaal

In die Engelse wêreld van himnodie, is Veni, Emmanuel die naam van die melodie ("tune") wat met hierdie teks geassosieer word. Thomas Helmore (1811-1890), 'n priester in die Church of England en 'n lid van die Oxford-beweging, wat 'n belangrike rol gespeel het in die herlewing van gelyksang (plainchant) in die Anglikaanse Kerk, het die melodie omgewerk na die huidige vorm en dit in The Hymnal Noted II (1856) gepubliseer.11Hy gee die verwysing na die melodie as afkomstig van 'n Franse Missaal in die Nasionale Biblioteek in Lissabon (Helmore 1856:131). Die oudste aanwysbare bron vir dié melodie is nagespoor in Parys. Dit is 'n 15de-eeuse Prosessionaal wat deur Fransiskaanse nonne saamgestel is, met gesange vir begrafnisse en voorbedes vir die gestorwenes (Paris, BNF, Latyn 10581). Die melodie wat Helmore gebruik, word daarin nié vir Veni, veni Immanuel gebruik nie, maar vir 'n reeks van tweestemmige Trope vir die Responsorium Libera me Domine uit die Requiem (Jüngst 1988:250).12

8.2 Aard van die melodie: Trekke van Gregorianiek/ Kantillering (Chant)

Met die modale en metriese oopheid, vertoon die melodie trekke van 'n Gregoriaanse gesang en is in klankgestalte 'n herinnering aan die vroeë oorspronge van die kerklied. Praßl (2005:5) beskryf dit raak as hy sê dat die "argaïeserende natuurlike mineur" van die melodie die vreugdevol-afwagtende karakter van die teks ondersteun. Dit beweeg in spronge van derdes opwaarts - die sangers van die lied sing dus uit die diepte, ópwaarts.

Op die vyfde toon word die noot drie keer herhaal - dit beeld huiwering uit. In watter rigting sal dit verder beweeg? Dit beweeg dan ook eers één toon afwaarts, voordat nog 'n sprong van 'n derde opwaarts plaasvind, tot op die hoogste noot van die strofe met vier versreëls. Die refrein "Wees bly! Wees bly!" begin op die hoogste noot van die melodie en spring met 'n derde áfwaarts. Die troos en aanmoediging kom dus van bó-af - van God. By die refrein gaan die mineur oor in die verwante majeur, waar die hoogtepunt "Wees bly!" met die hoogtepunt in die melodie saamval, om direk daarna, in reël 6, weer na die mineur terug te keer (met 'n herhaling van reël 2), om in die mineur te eindig. Opvallend is die mineur en majeur drieklanke wat in 'n fyn wisselspel met mekaar optree.

Dit is 'n tipiese refreinlied, waar elke strofe met die bemoedigende "Wees bly" en die belofte afsluit. Dit werk versterkend en beklemtoon die boodskap wat die lied wil oordra. Die refrein bied ook die geleentheid vir beurtsang deur 'n verskeidenheid van moontlike voorsangers vir die strofes, met die volle gemeente wat telkens instem op die refrein en dit sing as antwoord en bemoediging.

8.3 Deursigtige begeleiding

In 'n Duitse liedboekie uit 1986, waarin hierdie lied as "nuwe lied" bekend gestel word, word duidelik gesê dat eenstemmige, onbegeleide sang, hier voorkeur geniet (Verband Evangelischer Kirchenchöre Deutschland 1986:3). Dit moet in 'n soort spraakritme gesing word. Indien daar begeleiding is, behoort die begeleiding van die vier reëls van die strofes ook lig en deursigtig te wees om by die lied se oorspronklike aard te pas. Die begeleiding van Helmore wat in die Begeleiersboek opgeneem is, is dig en swaar en daarom teleurstellend. Cantate Domino (1974) se harmonisasie laat reg geskied aan die herkoms van die musiek. 'n Voorkeur vir ligter begeleiding en meer deursigtige harmonisasie in die vier reëls van die strofes (teenoor die juigende refrein) word bevestig deur die aanwysing by dié lied in die Psalter Hymnal Handbook (Brink & Polman 1998:477):

Chant tunes are intended to be sung in speech-rhythm, so sing this hymn freely and do not hesitate to let the 'Rejoice' phrases ring through the church! Use light accompaniment in the stanzas and full, bright accompaniment on the refrain. ... Organists may want to use an accompaniment in more of a chant style; for example, The Hymnal 1982 (56)13 contains an accompaniment suited to unison singing of the stanzas.

 

9. LITURGIESE FUNKSIONERING: UIT DIE HEDE, TERUG NA DIE VERLEDE, MET DIE OOG OP DIE TOE-KOMS

9.1 Die betekenis van Advent

Aan die einde van die Kerkjaar is die kerk gerig op Eskatologie, waartydens die weerkoms van Christus afgewag word. As die eindtyd nié finaal gerealiseer het nie, begin die geloofsritme van die Kerkjaar weer - met Advent, die tyd vóór die eerste koms van Christus. Die vier weke van Advent is dus 'n tyd van onmiddellike voorbereiding op die fees van die geboorte van die Here - die koms - maar terselfdertyd is dit ook gerig op die weerkoms van Christus aan die einde van tye.14 Vir Kranemann (1996) is die funksie van die Kerkjaar om "das Vergessene", "dit wat vergete is" en wat weer kom, na vore te roep.

Die tyd van Advent word in vele gemeentes in die Hervormde en Gereformeerde kerke in Suid-Afrika afgeskeep of volledig geïgnoreer. Sogenaamde "Kerssangdienste" as 'n soort konsert met solosangers en uitvoerings vind dikwels in die tyd van Eskatologie plaas - dus selfs vóór Advent. Vir baie gemeentes is Advent dan ook afgehandel. Reg in die tyd van die helder en sonnige somervakansie is dit moeilik om mense te herinner aan 'n donker tyd vóór die koms van Christus. Nog moeiliker is dit om van mense te verwag om sáám met die mense van die Ou Testament te leef asof Christus nog nie gekom het nie en om in die duister te wag op die koms van die Messias, die Verlosser. Die gebruik van Adventkerse is 'n meer onlangse gebruik in sommige gemeentes as 'n poging om 'n bewussyn vir die vier weke van Advent te skep, as 'n tyd waarin dit al ligter word en waarin die Lig "in aankoms" is. Gemeentes wat dié gebruik ingestel het, doen dit met keurigheid - maar in dieselfde gemeentes word dikwels géén aandag aan Adventliedere gegee nie.15

9.2 Praktiese riglyne

Hierdie lied bied die geleentheid by uitstek om mense die betekenis van Advent te laat ervaar. Dit is 'n lied wat Eskatologie en Advent aan mekaar bind - verlede, hede en toe-koms. Met afwagting word uitgesien na die koms en die weerkoms van Christus. Die sangers wat die lied in die mond neem, vra om met die Lig deurstraal te word - en rig hulle biddend daarop. Die ou kerke en katedrale in Europa is só gebou dat die gemeente na die ooste kyk - die "Orient" is hul oriënteringspunt. Dit kan aan die gemeente verduidelik word en die gemeente kan dan na die ooste draai en met dié gerigtheid, die lied "na vore" sing - na die toe-koms wat "uit die Ooste", vanuit ons oriënteringspunt, in aankoms is. In gedagte sing die huidige sangers dit egter óók terug oor die eeue - ook sáám met die mense van die Ou Testament én die voorgangers in die geloof. Selfs al het die verlossingsdaad rééds geskied, het gelowiges steeds weer die bevryding uit die kwelling van sorge en vrees nodig en is dit ook nodig om dit in die gesonge gebed uit te spreek en steeds weer te vra vir die lig wat die lewe glans gee.

Die lied behoort met 'n ligtheid en deursigtigheid gesing te word - so word die aard van die lied bewaar en klank gegee aan hoop en afwagting. Dit is nie sonder rede dat Schulz, die samesteller van die huidige Duitse teks van 'n "vrolik-uitnodigende melodie" praat nie (sien Praßl 2005). Verskillende strofes kan op die verskillende Sondae in Advent gesing word - óf strofes kan op verskillende Sondae in afwisseling met mekaar gekombineer word, sodat die lied as Leitmotiv regdeur Advent bly klink. Om dit te verbind met die vroegste gebruik van hierdie lied in die Vespers (aandgebede), kan die lied ook saam met die Magnificat, die Lofsang van Maria, gesing word, soos die Taizé-weergawe wat opgeneem is in die Liedboek van die Kerk (2001, nr 333).

Die lied kan antifonaal of in beurtsang funksioneer. Die verskillende strofes word deur die kantor of kantory gesing en die refrein word gesamentlik deur die gemeente jubelend as antwoord gesing. Daarmee neem die singende gemeentelede ook God se belofte in die mond en bemoedig mekaar. Die verskillende strofes van die lied kan ook in afwisseling met bepaalde Psalmlesings of lesings wat by 'n bepaalde strofe pas, gesing word. Zoltán Kodály se verwerking vir koor (1943), of meer resente verwerkings, kan tydens 'n konsert uitgevoer word en só as voorbereiding of raam vir 'n erediens dien, of kan deur 'n koor in afwisseling met die gemeente gesing word. 'n Treffende "Advent Lament" wat saam met dié lied gebruik kan word, is opgeneem in Lift up your hearts (Christian Reformed Church 2013:62). 'n Reeks gebede van De Vries (2005), oorspronklik geskryf vir Vespers in die vierde Adventsweek in die Oude Kerk in Amsterdam, kan ook met vrug gebruik word.

Die liedteks kan benut word vir 'n preek - die sogenaamde Liedpreek, wat al sedert die tyd van die Hervorming bekend is. Dit bied die ideale geleentheid om die gemeente daaraan te herinner dat die lied ook gesing word saam met dié mense wat twyfel aan die geloof en wat deur bepaalde omstandighede hulleself in diepe duister bevind. Só kan die lied as gebed om redding én as trooslied funksioneer.

9.3 Liturgiese gebruik van 'n teks op dieselfde melodie

'n Teks met drie strofes van Izak de Villiers, gepaard met dieselfde melodie as hier bespreek, is in die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek (1978) opgeneem en is nou ook in Liedboek (2001, nr 321). Dit is 'n teks wat min verband met die oorspronklike Latynse teks het. Die probleem met dié teks is veral die aanvangsreël wat in die verlede tyd is en wat dit sodoende onbruikbaar maak vir Advent: "U hetgekom, Immanuel In 'n tyd waar daar nog nouliks 'n bewussyn vir Advent was, sou die redenasie dalk kon wees dat Christus tog reeds gekom het - daarom dat die teks só daar uitsien. Juis oor hierdie probleme het die kommissie vir die Liedboek (2001) besluit dat dié weergawe nié weer opgeneem word nie en ook omdat die nuwe vertaling veel sterker by die oorspronklike Latynse teks en die aard van Advent aansluit. Op 'n vreemde wyse is dit tog ingesluit. 'n Verleentheidsoplossing sou wees om hierdie lied in die tyd van Epifanie te gebruik - die tyd waar die fokus op die uitwerking van die Kersboodskap op die wêreld val. Dit kan geskied in terugkyk op die Kersgebeure. Wanneer dié twee tekste in die twee verskillende tye in die Kerkjaar in aansluiting by mekaar funksioneer, kan 'n sterk eenheid in die Kerssiklus bewerk word.

 

10. DIE WERKING VAN DIE LIED: BINDING MET GELIEFDES, GELOWIGES, HALF-GELOWIGES EN NIE-GELOWIGES

Die lied bind mense in geloof aan voorgeslagte en aan die vroegste oorspronge van die geloof:

The hymn ... is a rare opportunity for modern congregations to be in touch with an ancient form of worship, rich in symbolic and imaginative reading, and dense with biblical references (Watson 2002:35).

Die lied bind mense uit verskillende belydenisagtergronde - Joods, Oud-Kerklik, Katoliek, Reformatories en dies meer - saam. Dit is dus 'n konfessionsverbindendes Adventlied (Stefan 1988). Dit is 'n lied wat ook die buitewêreld aanspreek, soos blyk uit die opnames van popsangers en ander groepe. Die Ierse rockgroep U2 gebruik die lied, verwerk as "White as snow" op hul album No line on the horizon. Geskryf vanuit die perspektief van 'n sterwende soldaat in Afghanistan, dien dit as politieke kommentaar (O'Hagan 2009). 'n Ander treffende voorbeeld van die opname van dié lied is Veni, veni Emanuel, 'n konsert vir slaginstrumente en orkes van die Skotse (Rooms Katolieke) komponis, James MacMillan (1992). Dit word dikwels ook in die "public domain" van die konsertsaal gehoor.16 Wedersydse uitruiling tussen die "sacred" en "sekulêre" sfeer, die publieke domein, vind só plaas. Die lied het dus ook potensiaal na die wêreld buite die kerk en om ook die "buitewêreld" aan die oorspronge van die Christelike geloof te herinner.

Geen ander lied kan gelowiges so intens daaraan herinner dat Kersfees en die geboorte van Christus afgewag word, as hierdie lied nie. Die kerk vier nié in Oktober, November of die grootste deel van Desember al Kersfees nie. Advent, die tyd van afwagting, kom éérs - en dit duur tot Oukersaand. Hermann Kurzke (2010:215), Duitse literatuurwetenskaplike en himnoloog, skryf met nostalgie oor sy ervarings met hierdie lied en dat dit behoort tot die vele sterk religieuse belewenisse van sy jeugtyd wat hy in die Beierse Schwabenland deurgebring het:

Met sy weemoedige melodie, met sy klaagklanke en met sy verlangende uitroepe, het dit die essensie van my Adventstemming, wat uit onbepaalbare elemente saamgestel was, uitgedruk: 'n gevoel van afhanklikheid, behoeftigheid, Unverstandenheid, donkerheid, eensaamheid, jeugdige dors van die siel en algemene klag oor die conditio humana, wat verbind was met 'n vae hoop op volheid en vryheid, lig en verstaan, versorging en troos.

Van sy kindertyd was dié lied vir hom die één lied waardeur hy moeiteloos met Israel kon identifiseer. Sáám in die gemeenskap van die gelowiges in die kerk en saam met honderde ander eensames en dorstiges, het hy deel gevorm van 'n anonieme deel van Israel wat na verlossing verlang. Geborge in die midde van die mengelmoes van smekendes het dit singend vir hom duidelik geword dat "ons" Christene nie reeds verlostes is nie, maar (in 'n gebroke wêreld) altyd nog mét Israel op die Messias wag (Kurzke 2010:215).

'n Treffende illustrasie van die diep werking van die lied óór die tyd heen, kom ook van Mudde (2019), emeritus predikant in Nederland. Hy reageer dadelik op 'n eerste weergawe van hierdie artikel wat ek aanstuur. Hy vertel dat by hom 'n onvergeetlike herinnering na vore gekom het: Die Kersnagdiens, 24 Desember 1991, in die Lutherse Kerk, Den Haag. Die gemeente in stille afwagting. Dan die eerste musiek wat opklink in die diens. Nee, nie dié van die orrel nie: Die eerste vier reëls van 'O kom, o kom, Immanuel' - klokhelder en suiwer deur net één stem, 'n sopraan gesing. Sonder begeleiding. Dan val die koor en die gemeente saam met die orrel in ... Die verhaal gaan verder. Hy vertel van die video-opname van daardie diens, met een van die soprane in die koor vooraan: Marianne, sy vrou wat net enkele jare ná hierdie Oukersaanddiens aan kanker oorlede is. Hy vertel ook hoe sy kleinseun die opname 'n paar maande gelede ademloos bekyk - en luister. Die gebeure in sy verhaal neem hom ver terug, bring herinnering van verlies en van rou, en hy onthou óór die tyd heen, terug: "O, die begin van daardie diens. Vanuit die stilte die één stem: "O kom, o kom, Immanuel" - die één wat as't ware skoorvoetend die voortou neem, vanuit die nag roepend as eerste wat begin, op weg na die deurbreking van die nag ... As íemand maar net begin ... "

 

11. SAMEVATTING

In hierdie artikel word aangesluit by vakgenote binne die Duitse gebied van himnologie, maar ook breër. Die ingewikkelde agtergrond, ontstaansprosesse en werking van die lied word vir die Afrikaanse taalwêreld hermeneuties geopen en geïntegreerd binne 'n nuwe konteks aangebied. Gepaard met moontlikhede om die lied in die erediens te ontsluit en sinvol te laat funksioneer, word getoon dat dié lied uitstekende moontlikhede bied om 'n leemte in die gebruik van Adventliedere te vul en só die bewussyn vir die tyd van Advent op te skerp. Die sterk ekumeniese werking wat deur die sing van die lied uitgaan, word beklemtoon. Dit bind gelowiges met ander gelowiges oor die wêreld, maar ook met half-gelowiges en nie-gelowiges wat in dié lied - met die argaïese beelde - tog iets hoor van 'n "ou" tyd, 'n "ou geloof", die geloof van voorgeslagte wat oor die eeue bestaan het, lank voor die huidige geslag van erediensgangers, gelowiges en sangers van die lied, op aarde was. In die samesang, in die sing van die lied op 'n melodie wat herinner aan die vroegste oorspronge van die lied in die Christelike kerk, hoor 'n mens iets van 'n geloof wat mense dra, oor die tyd heen - ook daar waar die eie geloof te kort skiet.

Die teks spreek van hoop, die melodie verklank geloof - dit werk déúr die eie twyfel heen én dit bring troos

... vanuit die stilte die één stem - die één wat as't ware skoorvoetend die voortou neem, vanuit die nag roepend as eerste wat begin ... As één maar net begin ...

 

BIBLIOGRAFIE

Albert-Zerlik, A. O komm, o komm, Emmanuel (GL Mainz 768). Liedportrait, in Gotteslob 2013/2014 Arbeitshilfen. Bistum Mainz. [Aanlyn.] Verkry van: https://dcms.bistummainz.de/bm/dcms/sites/dioezesan/gotteslob/Arbeitshilfen/monatslied/OKomm.html [28 Januarie 2019].         [ Links ]

Antifoon: O Clavis David 1300. Antienne O Clavis; Antiennes de l'Avent, MaTtre du Méliacin Antiphonaire dominicain. Ordre des Prêcheurs. Source Gallica Bnf. [Aanlyn.] Verkry van: http://gallica.bnf.fr/ark:/12148/btv1b530097575/f104.item.r=grandes%20antiennes.zoom [5 Oktober 2019].         [ Links ]

Bone, H. 1847. Cantate! Mainz: Kirchheim, Schott und Thielmann.         [ Links ]

Brink, E. & Polman, B. 1998. Psalter hymnal handbook. Grand Rapids, MI: Wm B. Eerdmans.         [ Links ]

Christian Reformed Church 2013. Lift up your hearts. Psalms, hymns and spiritual songs. Grand Rapids, MI: Faith Alive Christian Resources.         [ Links ]

Coffin, H.S. & Vernon, A.W. (Eds) 1909. Hymns of the Kingdom of God. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Daniel, H.A. 1844. Thesaurus Hymnologicus. Halle, Band 2, 336.         [ Links ]

De Vries, S.A. 2005. Gebeden voor vespers in de vierde adventsweek. In: S.A. de Vries, Bij gelegenheid. Deel I, Gebedsteksten van week tot week en van feest tot feest (Zoetermeer: Meinema), pp. 21-23        [ Links ]

Evangelisch Lutherische Kirche Deutschlands (EKD) 1993. Evangelisches Gesangbuch (EG). Göttingen: Vandenhoeck.         [ Links ]

Gesangbuch der Geke 2007. Colours of grace. München: Strube.         [ Links ]

GoTTESLOB 2013. Gotteslob. Katholisches Gebet- und Gesangbuch. Würzburg: Echter.         [ Links ]

Heil, U.G. 2002. Gott, send herab uns deinen Sohn. In: A. Franz, D. Fugger & M. Haag (Hrsg.), Kirchenlied im Kirchenjahr: Fünfzig neue und alte Lieder zu den christlichen Festen (Tübingen: Francke, Mainzer Hymnologische Studien, Bd. 8), pp. 87-96.         [ Links ]

Helmore, T. 1856. Hymnal noted. Melody edition. London: Novello, Ewer and Co. 131. Combined PDF of Part I (1851) & Part II (1856), Nr 65. [Online.] Retrieved from: https://www.hymnologyarchive.com/thomas-helmore [10 February 2019].         [ Links ]

Heringsdorf, J. 1710. Psalteriolum Cantionum Catholicarum. Keulen: RKK.         [ Links ]

Hyperion 1997. Seven Magnificat antiphons. [Online.] Retrieved from: https://www.hyperion-records.co.uk/dw.asp?dc=W1689_66960 [19 January 2019].         [ Links ]

Jüngst, G. 1988. Der lange Weg einer O-Antiphon in ein evangelisches Gesangbuch. In: H. Riehm (Hrsg), Freude am Gottesdienst (Festschrift für Frieder Schulz) (Heidelberg: Selbstverlag), pp. 249-254.         [ Links ]

Katholisches Gesangbuch der Deutschsprachigen Schweiz 1998. Katholisches Gesangbuch der deutschsprachigen Schweiz. Zug:Verein für die Herausgabe des katholischen Kirchengesangbuches der Schweiz.         [ Links ]

Keyte, H. & Parrott, A. (Eds) 1998. The new Oxford book of carols. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Kloppers, E. 2003. Veni, veni, o oriens ... Die erediens as kommunikatiewe handeling gerig op oriëntering, uitdrukking, verandering en verbintenis. In die Skriflig 37(1):115-127.         [ Links ]

Kloppers, E. 2010. Tyd as gawe - God se tyd: Die polsslag van die kerkjaar. Acta Theologica 30(2):50-66.         [ Links ]

Kranemann, B. 1996. "Feiertags kommt das Vergessene Zu Deutung und Bedeutung des christlichen Festes in moderner Gesellschafft. Liturgisches Jahrbuch 46:3-22.         [ Links ]

Kurzke, H. 2010. Geschichte einer Verwilderung: "O komm, o komm, Emanuel". In: H. Kurzke, Kirchenlied und Kultur (Tübingen: Francke), pp. 214-221.         [ Links ]

Liedboek van die Kerk 2001. Liedboek van die kerk. Nederduitse Gereformeerde Kerke en Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Liedboek voor de Kerken 1973. Liedboek voor de kerken. Interkerkelijke Stichting voor het Kerklied. Zoetermeer: Boekencentrum.         [ Links ]

LiEDBOEK. ZiNGEN EN BlDDEN IN HulS EN KERK 2013. Liedboek. Zingen en bidden in huis en kerk. Zoetermeer: BV Liedboek.         [ Links ]

Liturgische Konferenz 2005. Kirchenjahr erneuern Gottesdienstliche Praxis im Rhythmus des Jahreskreises. Hannover: Liturgische Konferenz.         [ Links ]

MacMillan, J. 1992. Veni, veni Emanuel. Percussion Concerto No. 2. [Aanlyn.] Verkry van: https://en.wikipedia.org/wiki/Percussion_Concerto_No._2_(MacMillan) [30 Januarie 2019].         [ Links ]

Mohr, S.J. 1878. Cantiones sacrae: A collection of hymns and devotional chant. Regensburg: Frederick Pustet, 36, 82-83.         [ Links ]

Monk, W.H. (Ed.) 1861. Hymns ancient and modern with accompanying tunes. London: Novello and Co.         [ Links ]

Mudde, H. 2019. E-pos, 14 Februarie 2019.         [ Links ]

Neale, J.M. 1851 Hymni ecclesiae: E breviariis quibusdam et missalibus gallicanis, germanis, hispanis, lusitanis desumpti. Oxford: J.H. Parker, 57.         [ Links ]

Neale, J.M. 1851. Mediaeval hymns and sequences. London: Masters.         [ Links ]

Neale, J.M. 1856. Hymnal noted II. London: Novello, Ewer & Co.         [ Links ]

O'Hagan, S. 2009. White as snow: U2's most intimate song. The Guardian, 13 Februarie. [Aanlyn.] Verkry van: https://www.theguardian.com/music/musicblog/2009/feb/13/u2-white-as-snow [28 Januarie 2019].         [ Links ]

Ölk 2003. Ökumenischer Liederkommentar zum Katholische, Reformierten und Christkatholische Gesangbuch der Schweiz. Band 2. Zürich: Theologischer Verlag.         [ Links ]

Oxford English Dictionary, the 2019. Antiphon. [Online.] Retrieved from: https://en.oxforddictionaries.com/definition/antiphon [31 Januarie 2019].         [ Links ]

Prassl, F-K. 2005. 19 - O komm, o komm du Morgenstern. In: G. Hahn & J. Henkys (Hrsg.), Liederkunde zum Evangelischen Gesangbuch. Nr. 11 (Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht), pp. 3-7.         [ Links ]

Reformiertes Gesangbuch 1998. Reformiertes Gesangbuch. Evangelisch-reformierten Kirchen der Deutschsprachigen Schweiz. Zürich: Theologischer Verlag.         [ Links ]

Stefan, H.-J. 1988. Ein konfessionsverbindendes Adventslied. Neues Singen in der Kirche 1998(3):6-8.         [ Links ]

Theocracy 2019. Theocracy. [Aanlyn.] Verkry van https://de.wikipedia.org/wiki/Theocracy_ (Band) [28 Januarie 2019].         [ Links ]

Verband Evangelischer Kirchenchöre Deutschland 1986. 36 Neue Lieder. Kassel: Bärenreiter.         [ Links ]

Watson, J.R. 2002. Annotated anthology of hymns. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Watson, J.R. & Hornby, E. Sa. Veni, veni, Emmanuel/"O come, O come Emmanuel". The Canterbury Dictionary of Hymnology. Canterbury Press. [Aanlyn.] Verkry van: http://www.hymnology.co.uk/o/o-come,-o-come-emmanuel [20 Januarie 2019].         [ Links ]

Wêreldraad van Kerke 1974. Cantate Domino. Ein ökumenisches Gesangbuch. Kassel: Bärenreiter.         [ Links ]

Wursten, D. Veni Emmanuel, zingend op weg naar Kerst. Een lied ontvreemd. [Aanlyn.] Verkry van: https://dick.wursten.be/gez125.htm. [15 Februarie 2019].         [ Links ]

 

 

Date Published: 13 December 2019

 

 

1 Die woord Advent kom uit Latyn adventus, wat aankoms beteken.
2 Bekendheid met die praktyk en die stand van sake in die tradisionele kerke waar Afrikaans as voertaal gebruik word, spruit uit intensiewe betrokkenheid en werksaamheid van die outeur op gemeenskapsvlak, deur kursusse in die kerklied en die liturgiese funksionering van liedere, asook jarelange betrokkenheid by die praktiese opleiding van predikante en orreliste in dié kerke. Hierdie artikel vertoon dus 'n poreuse wisselwerking tussen kennis van die bestaande praxis en nuut-nagevorsde himnologiese en liturgiese kennis en vorm só ook deel van navorsingsgebaseerde gemeenskapdiens (community service and community-informed service) wat breër strek as die liturgiese praxis van één kerk, of die liturgiese praktyk as sodanig.
3 Antifoon dui op 'n liturgiese wisselgesang: anti = vooraf of daaropvolgend; phonos = klank of lied. Dus: 'n gesang wat 'n ander voorafgaan of as respons daarby aansluit. Die Oxford English Dictionary (2019) definieer dit só: "antiphon (in traditional Western Christian liturgy): a short sentence sung or recited before or after a psalm or canticle". Dit kan ook dui op 'n psalm, koorstuk (anthem) of vers wat in wisselsang gesing word.
4 Arvo Pärt (1935) uit Estland komponeer in 1988 (hersien 1991) musiek vir gemengde koor a capella op hierdie antifone: Seven Magnificat-Antiphons, onder meer 'n opname van Hyperion (1997).
5 Die oorspronklike teks in Latyn staan in die Breviarium Romanum (Kurzke 2010:15). Die volledige stel van "The Great Advent Antiphons" in Engels vind 'n mens in die English Hymnal 734 (NEH 503).
6 'n Akrostigon is 'n teks waar die aanvangsletter van elke versreël 'n woord vorm wat die betekenis van die teks saamvat of die onderliggende betekenis versterk.
7 In oudste behoue bron, Köln, 1791: Gaude, gaude, Emmanuel est natus pro te Israel - Wees bly, wees bly, Emmanuel is vir jou gebore, Israel. Later: nascetur pro te Israel! (1841/1844) Wees bly, wees bly, Emmanuel word vir jou gebore, Israel (in Daniel se Thesaurus Hymnologicus II 1844 - kyk Ökumenische Liederkommentar (ÖLK) Band 2 (2003).
8 Vir 'n kort, maar interessante bespreking van die agtergrond tot die twee tekste van Barnard, asook kritiek op die hantering van die tweede teks in die nuutste Liedboek in Nederland (2013), soos die ongemotiveerde verskuiwings van versreëls, sien Wursten.
9 Sloane het ook die twee ander antifone bygevoeg en die teks na sewe strofes uitgebrei, soos dié in die Cantiones Sacrae van Mohr (1878).
10 Daar sou selfs 'n verband gesien kon word tussen die verwagting van verlossing uit die Ooste en die verwagting van die ontsluiting van die Paradys wat aan die Oostekant deur cherubs bewaak word.
11 Verskeie bronne dui die publikasiedatum foutiewelik aan as 1854 (onder meer Brink & Polman [1998:477]) of meen dat dit reeds in die Hymnal Noted, Deel 1, gepubliseer is.
12 Vir meer besonderhede oor hierdie uitgawe, asook hul bespreking van die moontlikheid van 'n ouer weergawe van hierdie melodie in die Nasionale Biblioteek van Portugal in Lissabon, sien Keyte & Parrott (1998).
13 Die gesangboek van die Episkopaalse Kerk in die VSA.
14 Vir 'n gedetailleerde bespreking van die Kerkjaar, sien Kloppers (2010); Liturgische Konferenz (2005).
15 Bekendheid met liedpraktyke in dié kerke deur jarelange betrokkendheid by die opleiding van predikante, orreliste en lidmate is aan die begin van die artikel genoem. In die afgelope aantal jare blyk 'n graad van meer bekendheid met visuele simboliek soos Adventkerse by teologie-studente en mense wat inskryf vir die Diploma in Himnologie. Bekendheid met Adventliedere is egter uiters gebrekkig of afwesig, wat daarop dui dat in die eredienste in genoemde kerke daar min van adventliedere tereg kom.
16 Die eerste uitvoering was in 1992 tydens die Proms in London. Verskeie opnames van die werk kan op Youtube gehoor word, onder meer ook 'n uitvoering in 2000 deur die komponis gedirigeer. https://www.youtube.com/watch?v=xEN-QwnlY2M

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons