SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Oom Bun - dosent en historikus: in memorian"Fools rush in": writing a history of the concentration camps of the South African War author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Historia

    On-line version ISSN 2309-8392Print version ISSN 0018-229X

    Historia vol.55 n.2 Durban Nov. 2010

     

    IN MEMORIAM

     

    Prof. Bun Booyens - geliefde mens en allemansvriend

     

     

    Hans Heese

     

     

    Met die heengaan van prof. Bun Booyens op 25 Mei 2010 het die Universiteit van Stellenbosch die volgende verklaring uitgereik:

    Die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch het met leedwese verneem van die afsterwe van 'n oudstudent, -dosent en -president van die konvokasie. Prof. Bun Booyens is op 25 Mei 2010 oorlede in die ouderdom van 94 jaar. Hy het die skoolonderwys vir baie jare gedien in die vakgebied Geskiedenis, waarna hy agtereenvolgens die poste van assistent van die rektor van die Universiteit Stellenbosch (en terselfdertyd ook redakteur van die alumnitydskrif Matieland), senior lektor in Geskiedenis en later hoof van die nuutgestigte Departement Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde beklee het. Hy is 'n oud-inwoner van Dagbreek en was vir sewentien jaar inwonende hoof van Eendrag Manskoshuis. Prof. Booyens was 'n waardige akademikus wat talle publikasies die lig laat sien en verskeie eretoekennings ontvang het. Daarbenewens was hy 'n uiters gewilde spreker, geliefde mens en allemansvriend.

    Die skakelafdeling van die universiteit het my as argivaris gevra om die feite te kontroleer voordat dit na die koerant sou gaan. My skrale bydrae tot die redigering was die nagaan van datums en feite, maar die laaste drie woorde was my persoonlike bydrae: mens en allemansvriend.

    Toe ek in 1963 my eerste Europese Geskiedenislesing op Stellenbosch bygewoon het, was die aanbieder mnr. Bunyan Booyens. Ek gebruik die woord aanbieder, nie dosent nie, omdat hy totaal anders as die ander dosente was. Elke lesing was 'n feestelike opvoering van die geskiedenis; ons het in ons geestesoog gesien hoe Napoleon en sy verslane leër deur die diep sneeu teruggesukkel het Frankryk toe. En die onderlangse geknoeiery deur Amerikaners, op 'n amper Mafiaagtige wyse, om Louisiana van die Franse te verkry. Hierdeur het hy ons besef dat Geskiedenis as vak nie net 'n droë, saai besigheid is nie; dit kan ook hoogs vermaaklik wees as daar passie by is. Geen wonder dat Eendraginwoners tussen hulle regsklasse of ingenieursklasse tyd gemaak het om nie-amptelik hulle "Stellenbosse pa" se klasse te kom bywoon nie.

    Mnr. Booyens het later dr. Booyens geword en nog later professor. Vir 'n medestudent van my, Elmien Wood, en ook vir my persoonlik, het hy tot die einde "Professor Booyens" gebly, nie "Oom Bun" soos talle hom met groot deernis genoem het nie. En daarom, ondanks die amptelike Afrikaanse spelreëls, sal die woord "Professor" altyd met 'n hoofletter geskryf word as ek aan hom dink. Hy was ten einde laaste dié persoon wat professorskap 'n baie warm, 'n baie eenvoudige en baie menslike gedaante gegee het.