Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.57 n.3 Pretoria Sep. 2017
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n3a10
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)
Carstens se raamwerk van Afrikaanse konjunksiemerkers: ʼn Akkurater en vollediger weergawe
Carstens's framework of Afrikaans conjunction markers: A more accurate and complete version
Nadine FouchéI; Ria Van Den BergII; Jako OlivierIII
IFakulteit Opvoedkunde, Potchefstroomkampus, NWU. E-pos: 21733104@nwu.ac.za
IIFakulteit Opvoedkunde, Potchefstroomkampus, NWU. E-pos: Ria.VanDenBerg@nwu.ac.za
IIIFakulteit Opvoedkunde, Potchefstroomkampus, NWU. E-pos: Jako.Olivier@nwu.ac.za
OPSOMMING
Gedurende die afgelope twee dekades het Carstens se raamwerk van Afrikaanse konjunksiemerkers die standaardindeling geword waaraan konjunksiemerkergebruik gemeet is. Sy kompromisindeling kan as baanbrekerswerk beskou word in dié sin dat Halliday en Hasan (1976) se vier hoofkategorieë konjunksiemerkers met subkategorieë van ander navorsers se indelings gekombineer is. In 2014 is die eerste kritiek teen Carstens se raamwerk uitgespreek op grond van die bevindings van ʼn korpuslinguistiese studie van Jordaan (2014). Fouché (2016) identifiseer twee jaar later verdere leemtes. Die feit dat daar kritiek teen Carstens se raamwerk uitgespreek is, dui ook daarop dat sy indeling gereeld as verwysingsraamwerk in die bestudering van konjunksiemerkergebruik in Afrikaans gebruik word. Juis daarom is die doel van hierdie artikel die saamstel van ʼn akkurater en vollediger raamwerk.
Vir die saamstel van so ʼn raamwerk van konjunksiemerkers in Afrikaans, is eerstens indelings van linguiste waarop hy sy raamwerk gebaseer het, en ander indelings wat ook vóór die verskyning van sy raamwerk gepubliseer is, geanaliseer. Tweedens is indelings wat ná sy raamwerk gepubliseer is, sowel as kritiek wat daarteen uitgespreek is, krities geanaliseer.
Op grond van die kritiese analise van hierdie bronne, is Carstens se raamwerk met verdere voorbeeldkonjunksiemerkers aangevul. Veranderings is ten opsigte van die plasing van spesifieke konjunksiemerkers in bepaalde kategorieë, en ten opsigte van die verskuiwing en integrasie van kategorieë wat binne Carstens se raamwerk gebruik word, voorgestel, en een hoofkategorie en een subkategorie is bygevoeg.
Trefwoorde: Carstens se raamwerk van konjunksiemerkers, konjunksiemerkers, verbandsmerkers, sinsverbinders, voegwoorde, diskoersmerkers, gambiete
ABSTRACT
For the past two decades, Carstens's framework of Afrikaans conjunction markers has been used as the standard classification for measuring the use of conjunction markers. His classification of compromise can be viewed as the work of a pioneer due to the combining of Halliday and Hasan's (1976) four main categories of conjunction markers with the sub-categories of classifications of other researchers. In this process, he linked the use of Afrikaans conjunction markers for the first time to a framework, which has already received international stature within the literature with regard to the use of conjunction markers. Halliday and Hasan (1976:235) highlights the fact that there exists a shortcoming concerning a uniform inventory for the use of conjunction markers in English, because the function(s) of a particular conjunction marker - recorded into this classification - is dependent on the contexts in which the conjunction marker is used. Moreover, these contexts are not always clearly indicated. The same principle holds true for Afrikaans and other languages.
Quite a useful number of classifications for conjunction markers are available in literature concerning Afrikaans and English.1 Carstens brought together information from all of these Afrikaans and English sources that appeared before the publication of his first framework for his classification of compromise concerning Afrikaans conjunction markers.
In 2014, Carstens's framework received its first criticism based on the findings of a corpus linguistic study completed by Jordaan (2014). Two years later, Fouché (2016) identified additional shortcomings. The fact that Carstens's framework received criticism, is a clear indication that his classification is being used as a frame of reference when the use of conjunction markers in Afrikaans is studied.
The aim of this article was, therefore, to compile a more accurate and complete framework.
For the compilation of such a framework for conjunction markers in Afrikaans, the first classifications of linguists on which Carstens based his framework were analysed (compare the above-mentioned sources published before 1996) together with other classifications that were published before his framework came into being (compare inter alia Ponelis 1979 and Van der Merwe 1996). Secondly, classifications that were published after his framework (compare inter alia Jordaan 2014:39-40; 2016:157-159, 164-167 and Fouché 2016:71-80, 109-111) as well as subsequent criticism were critically analysed.
In preference to a critical analysis of these sources, Carstens's framework was complemented with examples and changes were made. His framework was complemented with conjunction markers, such as in stede van, totdat, aangesien, buiten, anders, in die eerste/tweede/derde/ laaste plek, ten eerste/tweede/derde/slotte and samevattend (provided these markers have the function of combining sentences). Proposals were made with regard to changes in the placement of specific conjunction markers, in particular subcategories and the reallocation and integration of categories used in Carstens's framework. An example is the reallocation of nogtans from the main category redegewend to the main category teenstellend. In addition, the following conjunction markers - die voorwaarde dat, met dien verstande and dus − have all been moved to the main category redegewend due to the function of explanation these markers fulfil (these markers indicate cause-effect-relationship between two sentences) to initiate joining or to indicate comparisons. Carstens's framework was also changed by integrating two of the sub-categories, namely ordenend and rangskikkend, because the difference between these two sub-categories was not clearly indicated.
The largest proposed change with regard to Carstens's framework is the adding of a fifth main category (introductors to projected subordinate clauses) and one sub-category (i.e. the expansion of Carstens's main category aaneenskakelendwith a sub-category illustrerend and verduidelikend).
Key words: Carstens's framework of conjunction markers, conjunction markers, transition markers, connectors, conjunctions, discourse markers, gambits
1. INLEIDING EN KONTEKSTUALISERING
Halliday en Hasan (1976:235) wys daarop dat daar 'n gebrek aan 'n eenvormige inventaris van konjunksiemerkergebruik vir Engels bestaan, omdat die funksie(s) van 'n bepaalde konjunksiemerker, wat in so 'n indeling opgeneem word, afhanklik is van die konteks waarbinne dit gebruik word, én hierdie kontekste word nie altyd duidelik uitgespel nie. Sonder 'n illustrerende voorbeeldsin, kan die gebruiker van die betrokke indeling nie presies vasstel vanuit watter konteks(te) die linguis die spesifieke konjunksiemerker binne 'n bepaalde hoof- en/of subkategorie geplaas het nie. Gevolglik kan die sinvolheid van verskillende indelings nie wetenskaplik beoordeel word nie. Daar is ten opsigte van Engels én van Afrikaans 'n hele aantal bruikbare indelings van konjunksiemerkers in die literatuur te vinde.2
Carstens (1996:71-73; 1997:291-293) het in hierdie opsig baanbrekerswerk gedoen deur 'n soort kompromisindeling te maak van die "verbindingspotensiaal" van Afrikaanse konjunksiemerkers "as hulle gebruik word om sinne met mekaar te verbind". Hy het sy raamwerk gebaseer op Halliday en Hasan (1976:238 e.v.) se indeling wat hy as die bruikbaarste beskou, "aangesien dit so 'n wye veld dek". Halliday en Hasan se vier basiese tipes konjunksiemerkers is deur Carstens gekombineer met subtipes uit ander navorsers3 se indelings. In die proses het hy konjunksiemerkergebruik in Afrikaans vir die eerste keer gekoppel aan ʼn raamwerk wat al internasionale statuur binne die vakliteratuur oor konjunksiemerkergebruik verkry het.
Sedert die eerste publikasie van Carstens se kompromisraamwerk van konjunksiemerkergebruik in Afrikaans in 1996, is dit deur navorsers en studente as standaardindeling van konjunksiemerkergebruik beskou waaraan konjunksiemerkergebruik in Afrikaanse korpora gemeet is.4 Sedert 2014 is Carstens se raamwerk nie onveranderd as verwysingsraamwerk gebruik nie, maar ook gekritiseer5 (vgl. veral Jordaan 2014; 2016 en Fouché 2016). Die eerste kritiek teen Carstens (1996; 1997) se raamwerk word in 2014 deur Adéle Jordaan uitgespreek op grond van haar korpuslinguistiese ontleding van eerstejaar-universiteitstudente se gebruik van konjunksiemerkers in Afrikaanse argumentatiewe tekste. Sy stel op grond van bevindings uit haar korpora onder andere voor dat ses6 konjunksiemerkers in ander kategorieë geplaas moet word as dié waarin Carstens hulle geplaas het (vgl. Jordaan 2014:39-40). In 2016 brei Fouché (2016) as deel van 'n M-studie, die eerste korpuslinguistiese ontleding van die kohesiemerkergebruik in die skryfwerk van Afrikaanssprekende gr. 6- en gr. 9-leerders, op Jordaan se kritiek uit. Op grond van die leemtes wat as deel van hierdie M-studie ten opsigte van Carstens se raamwerk geïdentifiseer is, stel Fouché (2016:71-80, 109-111) buiten die herkategorisering van ʼn verdere ses konjunksiemerkers onder andere die aanvulling van sommige van sy hoof- en subkategorieë met addisionele konjunksiemerkers, die integrering van ʼn aantal van sy subkategorieë en die byvoeging van 'n nuwe hoofkategorie voor.
Aangesien Carstens se indeling deur studente en navorsers as standaardindeling beskou en gebruik word, is dit na die oordeel van die outeurs van hierdie artikel belangrik dat hierdie raamwerk so akkuraat en volledig as moontlik moet wees. Om hierdie rede word daar in hierdie artikel gepoog om Carstens se raamwerk krities te analiseer en om ʼn akkurater en meer volledige weergawe daarvan saam te stel. Die blote feit dat daar sedert 2014 kritiek teen Carstens se raamwerk van Afrikaanse konjunksiemerkers uitgespreek is, beklemtoon die relevansie van die samestelling van ʼn nuwer en omvattender raamwerk.
Met die oog op 'n moontlike aanvulling, wysiging en uitbreiding van Carstens se raamwerk is dit krities ondersoek deur dit te vergelyk met die indelings van linguiste wat Carstens sáám met die vier hoofafdelings van Halliday en Hasan (1976), as basis vir sy raamwerk gebruik het, en deur resente kritiek teen sy raamwerk krities te beoordeel. Op grond van hierdie analise en evaluering van die betrokke indelings van konjunksiemerkers, en gestaaf deur illustrerende voorbeeldsinne uit die HAT (2015), word Carstens se raamwerk dan aangevul, gewysig en uitgebrei ten einde dit so akkuraat en volledig as moontlik te maak.
2. AANVULLING, WYSIGING EN UITBREIDING VAN CARSTENS SE RAAMWERK
Met die oog op die samestelling van ʼn akkurater en meer volledige raamwerk is Carstens se raamwerk eerstens vergelyk met die indelings van dié linguiste waarop hy sy raamwerk, volgens sy eie getuienis (vgl. Carstens 1996:66-71), gebaseer het. In die proses het dit duidelik geword dat nie alle navorsers wat hierdie selfde bronne sou gebruik, dieselfde raamwerk as Carstens sou voorstel nie. Die feit dat nie al die konjunksiemerkers in sy indeling met behulp van voorbeeldsinne gekontekstualiseer word nie, maak dit des te meer moeilik om sy plasing van voorbeeldkonjunksiemerkers binne subkategorieë in konteks te stel en wetenskaplik te beoordeel.
Soms word 'n subkategorie én die voorbeelde van konjunksiemerkers uit 'n bepaalde indeling daarby net so oorgeneem en binne een van Halliday en Hasan se hoofkategorieë, wat ook Carstens se hoofkategorieë vorm, geplaas (vgl. Combrink 1995:36 se kategorie analiserend met "naamlik" as voorbeeldkonjunksiemerker).
Soms word 'n hoofkategorie van Halliday en Hasan wel gebruik, maar afgewyk van hulle subkategorie-indeling. Carstens plaas byvoorbeeld die subkategorie oorsaak en gevolg (met "gevolglik" as een van sy voorbeeldkonjunksiemerkers) binne die hoofkategorie aaneenskakelend, terwyl Halliday en Hasan (1976:243), soos wat 'n mens dit logieserwys sou verwag, dit binne die hoofkategorie redegewend laat ressorteer.
Anders as Halliday en Hasan (1976:242) en Wybenga (1989:203-204) wat en logieserwys net aan een subkategorie koppel, koppel Carstens dit aan twee subkategorieë. Halliday en Hasan koppel en slegs aan die byvoegende funksie daarvan en Wybenga (1989:203-204) aan die voortgangaanduidende funksie, maar Carstens koppel en aan die subkategorieë voortgang én oorsaak en gevolg.
Slegs Carstens laat egter ook onder twee hoofkategorieë (teenstellend en aaneenskakelend) ressorteer. Hy gee wel 'n verduidelikende voorbeeldsin van egter as teenstellende konjunksiemerker, maar illustreer nie die gebruik van egter as aaneenskakelende konjunksiemerker nie. By geen ander van die geraadpleegde indelings word egter binne twee kategorieë geplaas nie; veral nie binne 'n subkategorie beoordelend nie. Egter word deur Combrink (1995:36) en Wybenga (1989:205) slegs as 'n konjunksiemerker met 'n kontrasterende funksie beskou. Ook die Engelse ekwivalent van egter ("however") word slegs as 'n teenstelling-uitdrukkende-konjunksiemerker geklassifiseer (vgl. Gleason 1965:342; Halliday & Hasan 1976:242).
In die bespreking van die voorgestelde aanvullings, wysigings en uitbreidings van Carstens se raamwerk, wat hierna volg, word gepoog om so objektief as moontlik te werk te gaan. Anders as by Carstens, word die opname of weglating van die konjunksiemerkers, wat in die indelings voorkom wat Carstens vir die samestelling van sy raamwerk gebruik het, deurgaans deur die outeurs van hierdie artikel gemotiveer. Ten opsigte van die opname, al dan nie, van voorbeelde uit Jordaan (2014; 2016) se lys van Afrikaanse verbandsmerkers7 wat in haar korpora voorgekom het, is dit gemeet aan die definisie van ʼn konjunksiemerker en in alle gevalle is konjunksiemerkers wat in die HAT met die etiket "verouderd" of "weinig gebruik" gemerk is, nie in ons voorgestelde raamwerk ingesluit nie.
2.1 Aanvulling van Carstens se raamwerk
Die term "aanvulling" verwys, vir die doeleindes van hierdie artikel, na addisionele konjunksiemerkers wat onder Carstens se bestaande kategorieë ingevoeg is, of na die plasing van 'n bepaalde konjunksiemerker, wat reeds binne Carstens se raamwerk ingedeel is, onder 'n bykomende Carstens-kategorie. Hierdie aanvullings (wat binne die voorgestelde raamwerk in tabel 1 in groen aangedui is) is gebaseer op inligting uit bronne wat vóór die publikasie van Carstens se raamwerk verskyn het, en uit bronne wat ná die publikasie van Carstens se indeling verskyn het.
Elke woord of frase wat uit ouer en nuwer indelings van Afrikaanse konjunksiemerkers in die voorgestelde raamwerk opgeneem is, is eers gemeet aan die volgende definisie van 'n konjunksiemerker alvorens dit in die voorgestelde raamwerk ingesluit is: Konjunksiemerkers is die talige elemente wat gebruik word om verbande tussen opeenvolgende sinne eksplisiet aan te toon (Carstens 1997:309). Woorde of frases soos eerstens of in die eerste plek word volgens hierdie definisie wel as konjunksiemerkers beskou as hulle 'n semantiese verband tussen opeenvolgende sinne uitdruk. Hierdie selfde woorde of frases kan egter ook gebruik word om 'n langer teks te struktureer, sonder om opeenvolgende sinne met mekaar te verbind. In sulke gevalle word hulle as diskoersmerkers (vgl. Carstens 1997:304-307), wendingskakels (vgl. Ponelis 1979:316) of gambiete (vgl. Van der Merwe 1993:93-99) beskou omdat hulle gebruik word om een of ander wending in die diskoers aan te dui, byvoorbeeld 'n wending in die onderwerp, terugverwysing na 'n onderwerp wat vroeër in die teks bespreek is, die vestiging van die aandag op 'n belangrike saak wat gaan volg, ens. (Van der Merwe 1993:92-99). Diskoersmerkers het dus binne 'n teks 'n duidelike strukturerende funksie en word aangewend om die leser (of die hoorder) voor te berei op die aard van die teks wat gaan volg. Diskoersmerkers is slegs in die raamwerk opgeneem as hulle ook 'n konjunktiewe funksie vervul (d.i. eksplisiet 'n semantiese verband tussen opeenvolgende sinne aandui).
Eerstens, tweedens en derdens word hiervolgens in die onderstaande (deur die outeurs gegenereerde) kort teks as konjunksiemerkers beskou omdat hulle 'n bepaalde semantiese verband (in hierdie geval aaneenskakeling) tussen opeenvolgende sinne uitdruk:
[1] Pietie het eerstens in die gang afgestap, tweedens die badkamer vinnig oopgestoot en derdens met geesdrif onder 'n warm stort ingespring, want die rugbyoefening was maar taai.
In die onderstaande (deur die outeurs gegenereerde) teks tree hierdie selfde woorde egter nie as konjunksiemerkers op nie, maar as diskoersmerkers omdat hulle gebruik word om die ontwikkeling van die diskoers vir die leser te ekspliseer:
[2] Die hoof het baie ernstig met die lede van die bestuursraad gepraat oor verskeie knelpunte. "Dames en here, ons sal dringend aandag moet gee aan die skoolterrein in sy geheel. Eerstens sal ons die leerders, besoekers en hulle eiendom moet beveilig deur die oprig van 'n hoër palissade. Ons kan selfs voorsiening maak vir die installering van 'n geëlektrifiseerde heining. In die tweede plek sal ons aandag moet gee aan die verskaffing van parkeerplek onder bome. Die oprigting van vaste strukture met skadunette sal veels te duur wees. Derdens sal ons oorweging moet skenk aan die instandhouding van die grondoppervlak self.
Woorde of frases, soos eerstens en tweedens, wat as diskoersmerkers én konjunksiemerkers gebruik kan word, is wel in die nuwe raamwerk opgeneem, maar frases (soos voorheen genoem) en selfs hoofsinne (soos dit wil voorkom), wat in ander indelings wel as konjunksiemerkers gelys is, is nie in die voorgestelde raamwerk opgeneem nie, omdat die konjunksiemerkerstatus daarvan in Afrikaans twyfelagtig is.
Wanneer Carstens se raamwerk aangevul is, is die betrokke konjunksiemerker telkens binne een van die vier hoofkategorieë van Carstens (wat op Halliday en Hasan s'n gebaseer is) én binne 'n gepaste Carstens-subkategorie geplaas, behalwe in dié gevalle waar die outeurs veranderinge ten opsigte van Carstens se subkategorieë aangebring het.
2.1.1 Aanvullings uit bronne gepubliseer voor die verskyning van Carstens se raamwerk
Volledigheidshalwe is Carstens se indeling in die eerste plek aangevul uit bronne wat hy self ook gebruik het. Uit Combrink (1995:36-38) is die volgende konjunksiemerkers in die nuwe raamwerk opgeneem: dit wil sê/anders verwoord/gestel, met ander woorde gesê, in vakterme gesê/gestel (onder aaneenskakelend: herbewoordend), in die eerste/tweede/derde/laaste plek, ten eerste/tweede/derde/slotte, samevattend (onder aaneenskakelend: chronologiese ordening),8benewens, daarbenewens, nog, uitgesonderd, buiten, daarnaas, naas (onder aaneenskakelend: toevoegend), bowendien (onder aaneenskakelend: versterkend), net so (onder aaneenskakelend: ooreenstemmend), aan die een kant, aan die ander kant, anders, daarteenoor, daarenteen, teenoor, teen, al, nietemin, benewens, uitgesonderd, buiten (onder teenstellend: kontrasterend), in stede van (onder teenstellend: korrektief), daarom, dat, derhalwe, met die gevolg, hierdeur, oor, oordat, sodat, weens (onder redegewend: oorsaak, gevolg en rede),9namate (onder redegewend: voorwaardelik), totdat (onder tydsaanduidend: voortgang), aan die einde, op die ou end (onder tydsaanduidend: opsommend) en sedert (tydsaanduidend: opeenvolgend).
Boonop (onder aaneenskakelend: versterkend), alhoewel, hoewel, ofskoon (onder teenstellend: toegewend), aangesien en deurdat (onder redegewend: oorsaak, gevolg en rede), terselfdertyd (onder tydsaanduidend: gelyktydigheid), daarna en nadat (onder tydsaanduidend: opeenvolgend) en voorheen (onder tydsaanduidend: voorafgaande) is op grond van inligting uit Wybenga (1989:203-211) by Carstens se hoofkategorieë ingepas.
Vyf minute later en 'n uur later (onder tydsaanduidend: spesifiserend) is in vertaalde vorm op grond van Halliday en Hasan (1976:266) bygevoeg.
Carstens se indeling is ook aangevul met net soos, net toe en noudat (onder tydsaanduidend: stiptelik) uit Ponelis (1979:340), maar Carstens het Ponelis nie in dieselfde mate as die reeds genoemde bronne gebruik nie. Hy verwys net na Ponelis wanneer hy verskillende benamings vir die term konjunksiemerker noem (vgl. Carstens 1996:63). Ponelis (1979:314-316) bied egter ook 'n indeling van konjunksiemerkers ("verbinders") op grond van die semantiese verband wat 'n bepaalde konjunksiemerker tussen sinne kan uitdruk, naamlik aaneenskakeling, teenstelling of redegewing/gevolgtrekking. Ook Ponelis (1979:315) klassifiseer egter, anders as Carstens, tereg as 'n konjunksiemerker wat 'n teenstelling uitdruk.
Op grond van inligting verkry uit verskillende bronne, wat voor die verskyning van Carstens se raamwerk gepubliseer is, is die subkategorie stiptelik en voorwaardelik onder Carstens se hoofkategorie tydsaanduidend sodanig aangevul dat die konjunksiemerkers as, wanneer en sodra in beide hierdie subkategorieë voorkom. Hoewel Carstens wanneer wel onder die subkategorie voorwaardelik laat ressorteer, plaas hy die konjunksiemerker as binne sy hoofkategorie redegewend.
Bosch (1984:276) wys egter daarop dat as net soos wanneer binne ʼn tydsraamwerk10 voorwaardelikheid kan uitdruk en illustreer dit met die volgende voorbeeld:
[3] Die kinders kan gaan swem wanneer dit warmer word.
Hoewel Ponelis nie sy tydsaanduidende verbinders in subkategorieë verdeel nie, kan daar uit ʼn voorbeeld soos "Vliegtuie sal toegelaat word om te land sodra die mis opklaar" afgelei word dat die konjunksiemerker sodra, net soos wanneer en as, gebruik kan word om tydsgebonde voorwaardelikheid uit te druk.
Bosch (1984:276) verskil van Ponelis (1979:336) wat as (in die omgangstaal) en wanneer (in meer formele styl) aan "neutrale of ongemarkeerde" tydsuitdrukking koppel. Sy stel dat die konjunksiemerker wanneer ook gebruik kan word om die semantiese waarde "op die tyd dat" uit te druk en koppel as in die volgende sin (vgl. Bosch, 1984:278) ook aan dieselfde semantiese waarde:
[4] Ons staan op wanneer/as die wekker lui.
Ponelis (1979:340) koppel die konjunksiemerker sodra in die onderstaande voorbeeld aan die semantiese waarde van "dieselfde oomblik". Op grond hiervan word sodra in die voorgestelde raamwerk ook onder binne die subkategorie stiptelik binne die hoofkategorie tydsaanduidend geplaas.
[5] Sodra jy op die mat trap, swaai die deur voor jou oop.
Op grond van die bogenoemde bespreking word al drie hierdie konjunksiemerkers dus binne twee subkategorieë van die hoofkategorie tydsaanduidend ingedeel.
Carstens motiveer nie die in- of uitsluiting van bepaalde konjunksiemerkers in sy raamwerk nie. Die outeurs van hierdie artikel kan daarom nie Carstens se seleksie van konjunksiemerkers verklaar nie. Vermoedelik wou Carstens sy raamwerk so kompak as moontlik hou.
2.1.2 Aanvullings uit bronne wat later as Carstens se raamwerk gepubliseer is
Carstens se raamwerk is deur die outeurs van hierdie artikel met aansienlik minder voorbeeldkonjunksiemerkers uit bronne wat ná die verskyning van sy raamwerk gepubliseer is, aangevul, omdat die ouer Afrikaanse bronne (vgl. Combrink 1995; Ponelis 1979; Wybenga 1989) werklik 'n breë spektrum van woorde en frases met 'n konjunktiewe funksie dek. Hoewel Jordaan se raamwerk van Afrikaanse verbandsmerkers besonder omvattend is (vier bladsye beslaan), is die werklike byvoegings tot die reeds deur onderskeidelik Carstens, Combrink, Ponelis en Wybenga geïdentifiseerde Afrikaanse konjunksiemerkervoorbeelde eintlik relatief beperk. Slegs daarby11 (binne die hoofkategorie aaneenskakelend), liewer, sonder dat, in vergelyking met, in teenstelling met, andersins (binne die hoofkategorie teenstellend) en vantevore, vroeër, sedertdien, die volgende oomblik, hieropvolgend, uiteindelik, eindelik (binne die hoofkategorie tydsaanduidend) is uit Jordaan (2014:48; 2016:164-167) se korpora as aanvullende konjunksiemerkers in ons voorgestelde raamwerk opgeneem. In die proses van seleksie van konjunksiemerkers uit Jordaan se werk is die konjunksiemerkers wat reeds in ouer indelings opgeneem is, uitgeskakel, sowel as enkele konjunksiemerkers met 'n lae gebruiksfrekwensie (vgl. daarenbowe wat in die 2005-HAT met die etiket "ietwat deftig" gemerk is, en glad nie in die 2015-HAT opgeneem is nie), en 'n aantal van die gelyste voorbeelde wat na die mening van die outeurs nie werklik 'n verband tussen twee sinne bewerkstellig nie. Die konjunksiemerker andersins (wat Jordaan 2014 slegs in haar MA-verhandeling by haar lyste insluit), word deur Carstens as 'n teenstellende verbandsmerker geklassifiseer, maar Jordaan (2014:48) plaas dit binne haar lys van redegewende verbandsmerkers. As 'n mens na die twee illustrerende sinne hier onder uit die HAT (2015:55) kyk, is dit duidelik dat andersins inderdaad as hoofsaaklik redegewend van aard of as hoofsaaklik teenstellend van aard beskou kan word:
[6] Annie, andersins 'n doodgewone meisie, het 'n uitsonderlike talent vir mondfluitjie speel. (teenstellend)
[7] Ek kon nie oor die vol rivier kom nie, andersins sou ek daar gewees het. (redegewend)
Om hierdie rede is andersins onder beide hierdie hoofkategorieë in ons voorgestelde konjunksiemerker-raamwerk ingedeel.
Voorbeelde van inskrywings, waarvan ons die konjunksiemerkerstatus betwyfel, is stem ooreen, dit wil voorkom, vorige en om te vervat/soos voorheen genoem/soos gesê.
'n Frase soos stem ooreen, wat deur Jordaan (2016:164) as 'n aaneenskakelende verbandsmerker gelys is, is nie opgeneem nie, omdat hier van verwysing sprake is. Soos blyk uit die voorbeeldsin hier onder, is die frase stem ooreen eintlik deel van die hoofsin "dit stem ooreen met manifestasies van hierdie ander vlakke van die teks", waarin die woord dit 'n realiseringsmiddel is deur middel waarvan verwysing uitgedruk word, en die eintlike sinsverbinder in hierdie veelvoudige sin die hoëfrekwensie-konjunksiemerker en is.
[8] Tekstuele grense word somtyds gejukstaponeer met topografiese, simboliese, temporele en epistemologiese grense in die wêreld van die teks, en dit stem ooreen met manifestasies van hierdie ander vlakke van die teks.
Na die oordeel van die outeurs, het 'n hoofsin soos dit wil voorkom, wat Jordaan (2016:164) as 'n verbandsmerker lys, en met die onderstaande voorbeeldsin uit haar korpora illustreer, ook nie die funksie van 'n konjunksiemerker nie.
[9] Dit wil voorkom asof die Wêreldbekersokker grootliks nadele sal inhou vir Suid-Afrika se leerlinge.
Dit is asof wat die eintlike konjunksiemerker is en wat op sy eie 'n hoofsin en 'n bysin met mekaar verbind. Die multileksikale verbinding12"Dit wil voorkom asof" word tereg deur Van der Merwe (1993:98) as ʼn diskoersmerker ("gambiet") wat ʼn gissing of veronderstelling aandui, geklassifiseer.
Hoewel sommige diskoersmerkers, wendingskakels of gambiete ook gebruik kan word om 'n verband tussen twee sinne uit te druk (d.i. om as konjunksiemerkers op te tree), kan om te vervat/soos voorheen genoem/soos gesê, na die oordeel van die outeurs, nie in Afrikaans gebruik word om twee opeenvolgende sinne met mekaar te verbind nie, maar slegs om 'n wending in die diskoers aan te dui.
Jordaan (2016:167) se gebruik van die onderstaande sin om vorige se funksie as tydsaanduidende verbandsmerker te illustreer, doen werklik vreemd aan aangesien vorige in hierdie sin bloot 'n adjektief is.
[10] Om ouers en onderwysers gerus te stel sal winterskool steeds aangebied word soos vorige jare vir leerders wat bekommerd is oor hulle punte en vordering.
Benewens die aanvullings (daarby, liewer, sonder dat, in vergelyking met, in teenstelling met, andersins, vantevore, vroeër, sedertdien, die volgende oomblik, hieropvolgend, uiteindelik, eindelik) uit Jordaan se omvattende raamwerk van Afrikaanse verbandsmerkers, is Carstens se raamwerk met enkele voorbeeldkonjunksiemerkers uit Van der Merwe en in vertaalde vorm uit Halliday en Matthiessen aangevul. So is nou (onder tydsaanduidend: oorsaaklik),13toe (onder tydsaanduidend: opeenvolgend) uit Van der Merwe (1996:100-101), en 'n uur later (onder tydsaanduidend:spesifiserend) uit Halliday en Matthiessen (2004:542) by die bestaande voorbeelde in Carstens se raamwerk gevoeg.
Ten opsigte van twee konjunksiemerkers (dan en terwyl) is Carstens se raamwerk aangevul deur die plasing van hierdie voorbeeldkonjunksiemerkers onder bykomende Carstens-kategorieë. Carstens se bestaande indeling is dus nie gewysig nie, maar bloot aangevul met die aanduiding van verdere gebruiksmoontlikhede van die reeds geïdentifiseerde konjunksiemerkers dan en terwyl. Die konjunksiemerker dan word deur Carstens slegs as 'n tydsaanduidende konjunksiemerker geklassifiseer, terwyl dit ook 'n aaneenskakelende verband tussen sinne kan uitdruk soos geïllustreer deur die onderstaande voorbeeld uit Meintjes (2015:157) se korpus van argumentatiewe studentetekste:
[11] Dit is glad nie goedkoop om sommer net so vinnig 'n huis te gaan koop nie. Dan is dit nogals ʼn ingewikkeld en langdurige proses ook.14
Carstens (1997:292) koppel terwyl slegs aan die tydsaanduidende funksie daarvan, maar Bosch (1984:260-264) dui tereg op drie verdere funksies daarvan. Soos geïllustreer in die onderstaande sinne, kan terwyl 'n bepaalde "teenstellingsfaset" aandui deur óf 'n kontrasterende verband, óf 'n toegewende verband tussen die betrokke sinne uit te druk. Terwyl kan selfs as 'n redegewende konjunksiemerker gebruik word.
[12] Hy flenter rustig in Europa rond terwyl sy vrou sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou. (kontrasterend)
[13] Terwyl die Dekaan as hoof van die Fakulteit beskou word, doen die verskillende professore die meeste van die werk. (toegewend)
[14] Terwyl die vooruitskatting hopeloos foutief was, moet nuwe projeksies opgestel word. (redegewend)
In die voorgestelde nuwe raamwerk is voorsiening gemaak vir al vier hierdie gebruiksfunksies van die konjunksiemerker terwyl.
2.2 Wysigings aan Carstens se raamwerk
Die eerste kritiek op Carstens se raamwerk is, soos reeds gesê, eers ongeveer twintig jaar na die verskyning van sy raamwerk gelewer. Jordaan (2014; 2016) het uit haar korpora ander gebruiksfunksies van spesifieke konjunksiemerkers geïdentifiseer en stel op grond daarvan 'n aantal wysigings ten opsigte van Carstens se plasing van bepaalde konjunksiemerkers binne ander Carstens-kategorieë voor. (Hierdie en alle ander voorgestelde wysigings word in tabel 1 in rooi aangedui.)
So word eerder en tensy deur Jordaan (2014:39; 2016:154-167) as teenstellende konjunksiemerkers geklassifiseer, eerder as aaneenskakelende (eerder) en redegewende (tensy) konjunksiemerkers onderskeidelik. Jordaan motiveer haar herklassifisering meestal slegs deur die funksie wat die bepaalde konjunksiemerker in haar korpora vervul, te verduidelik, maar haar herkategorisering kan ook uit die vakliteratuur verklaar word - veral uit bronne wat al voor, of ten tyde van, die eerste publikasie van Carstens se raamwerk bestaan het.
Jordaan (2016:157) wys tereg daarop dat Carstens egter verkeerdelik as 'n konjunksiemerker met 'n aaneenskakelende funksie klassifiseer, en verduidelik dat egter eerder 'n teenstelling-aanduidende funksie het. Combrink (1995:36), Ponelis (1979:315) en Wybenga (1989:205), ten opsigte van Afrikaans, en Halliday en Hasan (1976:242), ten opsigte van Engels, klassifiseer egter (of "however") byvoorbeeld onderskeidelik as 'n "kontrasterende bindwoord", "teenstellende verbinder", "kontrasmerker" en "adversative". Jordaan plaas egter (net soos eerder en gevolglik) binne haar tabel van "herkategoriserings van Carstens se indelings", maar in werklikheid het Carstens egter reeds binne sy teenstellende hoofkategorie geplaas. Sy verander dus eintlik net sy dubbelplasing (teenstellend én aaneenskakelend) na 'n enkelplasing.
Carstens se klassifikasie van tensy as 'n konjunksiemerker wat 'n redegewende verband uitdruk, word deur Jordaan (2016:158) gekritiseer. Sy redeneer dat die plasing daarvan deur Carstens én Combrink (1995) onder die kategorie "voorwaardelik"15 daarop dui dat twee sake teenoor mekaar gestel word, en dat tensy juis daarom eerder onder die hoofkategorie "teenstellende verbandsmerkers" geplaas behoort te word.
Na die mening van die outeurs dui die begrip "voorwaardelikheid" egter nie outomaties op 'n teenoorgesteldheid nie. Voorwaardelikheid impliseer wel die teenwoordigheid van twee aspekte, maar die verband tussen hierdie twee aspekte is nie outomaties teenstellend nie; dit kan ook verbandhoudend (positief) wees. In voorbeeldsin [15] hier onder word die voorwaardelikheid, wat deur mits (die positiewe teenhanger van tensy) uitgedruk word, byvoorbeeld aan redegewendheid gekoppel; nie aan teenstellendheid nie.
[15] Jy sal slaag, mits jy hard leer. (outeurs se eie voorbeeldsin)
Jordaan se beskouing van tensy slegs as 'n teenstellende konjunksiemerker maak sin, maar haar motivering vir die verskuiwing van tensy na die hoofkategorie teenstellend doen vreemd aan, omdat sy voorwaardelikheid slegs aan teenstellendheid koppel.
Jordaan (2016:155) wys tereg daarop dat eerder gebruik word om twee of meer aspekte teenoor mekaar te plaas en dat dit gevolglik eerder as 'n teenstellende konjunksiemerker ("teenstellende verbandsmerker") geklassifiseer moet word as 'n konjunksiemerker wat 'n aaneenskakelende verband uitdruk. Ook Halliday en Hasan (1976:242) kategoriseer "rather" (eerder) as 'n konjunksiemerker wat 'n teenstellende verband eksplisiet merk.
Gevolglik en indien, wat onderskeidelik binne Carstens se hoofkategorieë aaneenskakelend en tydsaanduidend ressorteer, word deur Jordaan (2016:155, 157-159, 166) as verbandsmerkers wat 'n redegewende funksie het, geklassifiseer. Dit is geldige kritiek op Carstens se indeling. Sy gee wel aandag aan Carstens se hoofkategorieë, maar gee nie aandag aan die subkategorieë binne die hoofkategorieë nie. Carstens koppel indien, soos Combrink (1995:38) en Wybenga (1989:207), tereg aan die subkategorie voorwaardelik, maar sy plasing van indien (saam met behalwe en wanneer) onder die sy hoofkategorie tydsaanduidend maak nie sin nie. Indien hoort saam met mits en as onder sy hoofkategorie redegewend. Jordaan se plasing van gevolglik binne die hoofkategorie redegewend (in plaas van binne Carstens se hoofkategorie aaneenskakelend), klop nie net met data uit haar korpora nie, maar ook met Halliday en Hasan (1976:243) se plasing van "consequently" (gevolglik) binne hul hoofkategorie "causal" (redegewend).
Oor Jordaan (2016:157-158) se verskuiwing van die konjunksiemerker dieselfde uit Carstens se hoofkategorie teenstellend na Carstens se hoofkategorie aaneenskakelend hoef 'n mens nie eers te redeneer nie, want Carstens se koppeling van 'n subkategorie ooreenstemmend aan 'n hoofkategorie teenstellend, is duidelik teenstrydig.
Oor Jordaan (2016:157-158) se redenasie dat tussenin weggelaat moet word omdat dit nie 'n verband tussen sinne uitdruk nie en bloot die ruimte aandui waarbinne iets of iemand hulle bevind, stem die outeurs saam, maar haar plasing van die konjunksiemerker ten laaste (waarvan die sinoniem laastens is) slegs binne Carstens se hoofkategorie tydsaanduidend, oortuig nie omdat ten laaste, net soos eerste, ten eerste, en ten tweede, duidelik 'n aaneenskakelende funksie ook het (vgl. Ponelis 1979:315; Wybenga 1989:203-204). Haar redenasie dat ten laaste 'n tydsaanduidende verband tussen sinne uitdruk, is egter nie verkeerd nie. Ook Halliday en Hasan (1976:243) plaas konjunksiemerkers soos "first" en "at first" onder hulle hoofkategorie "temporal" (tydsaanduidend). Carstens koppel ten laaste dus met goeie rede aan twee hoofkategorieë.
Bo en behalwe die hierbo bespreekte wysigings wat deur Jordaan (2014;2016) voorgestel is (op grond van haar korpora), beveel die outeurs 'n verdere aantal wysigings aan. Hierdie wysigings (wat grotendeels ooreenstem met dié16 wat Fouché 2016:72-74 aanbeveel het) is gebaseer op 'n kritiese analise en integrasie van 'n aantal normgewende werke17 oor konjunksiemerkergebruik in Afrikaans en dit behels vyf tipes wysigings: die verskuiwing van konjunksiemerkers na ander hoofkategorieë, die verskuiwing van 'n subkategorie in sy geheel na 'n ander hoofkategorie, die wysiging van die naam van 'n bestaande subkategorie, die integrasie van bepaalde subkategorieë en die skrapping van 'n konjunksiemerker of 'n hele subkategorie in sy geheel.
2.2.1 Verskuiwing van konjunksiemerkers na ander hoofkategorieë
Die eerste tipe wysiging wat in die voorgestelde raamwerk aangebring is, is redelik drasties van aard, aangesien dit die verskuiwing van konjunksiemerkers na ander hoofkategorieë behels. Vier konjunksiemerkers is na die hoofkategorie teenstellend verskuif en drie na die hoofkategorie redegewend. Hierdie konjunksiemerkers kom uit verskillende Carstens-kategorieë.
Die konjunksiemerker nogtans is byvoorbeeld, in ooreenstemming met Combrink (1995:36), Ponelis (1979:315) en Wybenga (1989:205) wat dit onderskeidelik as "kontrasterende bindwoord", "teenstellende verbinder" en "kontrasmerker" klassifiseer, van die hoofkategorie redegewend na die hoofkategorie teenstellend verskuif. Die teenstellende funksie van nogtans blyk duidelik uit die illustrerende sin van Wybenga (1989:203):
[16] Hy is siek. Hy kom nogtans werk toe.
Net soos in die geval van nogtans, het tog en in elk geval eerder 'n teenstellende verbandleggingsfunksie. Dit blyk uit die feit dat nogtans in voorbeeldsin [16] met tog of in elk geval vervang kan word. Aangesien Carstens nie sy indeling van nogtans en in elk geval as redegewende konjunksiemerkers en tog as 'n aaneenskakelende konjunksiemerker verduidelik nie, en ook nie die gebruik daarvan met voorbeeldsinne toelig nie, is die koppeling van die genoemde gebruiksfunksies aan hierdie drie konjunksiemerkers nie vir die outeurs duidelik nie. Jordaan (2016:164) dui tereg aan dat in elk geval ook 'n aaneenskakelende verbandsmerker kan wees, en gebruik die volgende voorbeeldsin uit haar korpora om hierdie gebruiksfunksie van in elk geval te illustreer:
[17] Hy kan nie aan die kompetisie deelneem nie. Hy is selfbewus en in elk geval nie beskikbaar nie.
Die konjunksiemerker behalwe, wat deur Carstens slegs as tydsaanduidend geklassifiseer word, kan soos Combrink (1995:36) tereg aandui, eerder twee ander funksies vervul, naamlik dié van aaneenskakeling en dié van teenstelling. Die teenstellende verbandleggingsfunksie van behalwe blyk duidelik uit voorbeeldsin [18] hier onder, en die gebruik van behalwe as aaneenskakelende18 konjunksiemerker word geïllustreer deur voorbeeldsin [19] uit Jordaan (2016:165) se korpora:
[18] Van Willem weet ek niks nie, behalwe dat hy saam met Mynie gekom het (HAT, 2015:90).
[19] Behalwe vir die arbeid wat beïnvloed word, beïnvloed MIG/VIGS ook die onderneming se wins.
Dit gaan in voorbeeldsin [19] oor twee fasette ("arbeid" en "wins") van die onderneming wat beide deur "MIV/VIGS" beïnvloed word; nie oor 'n teenoormekaarstelling van twee opponerende fasette nie.
Die konjunksiemerkers op die voorwaarde dat, met dien verstande dat en dus is almal na die hoofkategorie redegewend verskuif omdat hierdie konjunksiemerkers eerder 'n redegewende funksie vervul (d.i. dui op 'n oorsaak-gevolg-verhouding tussen twee sinne) as om aaneenskakeling te bewerkstellig of om teenstelling uit te druk.
Beide die konjunksiemerkers op die voorwaarde dat en met dien verstande dat word gebruik om 'n positiewe voorwaardelike verband tussen twee sinne uit te druk, soos blyk uit die voorbeeldsin [20] uit die korpora van Jordaan (2016:168):
[20] Die student mag 'n raad stig op die voorwaarde dat/met dien verstande dat dit aan die universiteit se beginsels voldoen.
In hierdie sin kan die konjunksiemerkers op die voorwaarde dat/met dien verstande dat vervang word met die konjunksiemerker mits, die positiewe teenhanger van tensy (wat 'n negatiewe19 voorwaardelike verband tussen sinne bewerkstellig). Tensy het op sigself per implikasie 'n ontkennende waarde (Carstens 2011:57), terwyl met dien verstande dat en op voorwaarde dat, net soos mits, 'n positiewe waarde het. Om hierdie rede word op die voorwaarde dat en met dien verstande dat nie aan teenstellendheid gekoppel nie, maar in die hoofkategorie redegewend geplaas.
Na die mening van die outeurs vervul dus, anders as wat Carstens in sy indeling aandui, nie 'n teenstellende verbandleggingsfunksie nie, maar wel 'n verbandleggingsfunksie wat met oorsaak, gevolg en rede" (vgl. Combrink 1995:37), "rede/gevolgtrekking" (vgl. Ponelis 1979:315-316), of "oorsaak en gevolg" (vgl. Wybenga 1989:206) verband hou. Om hierdie rede word dus, net soos op die voorwaarde dat en met dien verstande, eerder as 'n redegewende konjunksiemerker in die voorgestelde raamwerk geklassifiseer. Die koppeling van dus aan redegewendheid blyk duidelik uit Ponelis (1979:316) se voorbeeldsin:
[21] 'n Paar kettingwinkels voer nou 'n prysoorlog in motorolie. Ons kan dus vir 'n rukkie verwag om minder vir die artikel te betaal.
Ook Jordaan (2014:58; 2016:166) lys dus as 'n redegewende verbandsmerker en gee 'n voorbeeldsin uit haar korpora om die redegewende gebruik daarvan te illustreer, hoewel sy glad nie na die feit dat sy dus binne 'n ander hoofkategorie as Carstens plaas, verwys nie.
2.2.2 Verskuiwing van 'n subkategorie in sy geheel na 'n ander hoofkategorie
Aangesien Carstens se subkategorie ooreenstemmend logieserwys nie korreleer met hoofkategorie teenstellend, waarbinne Carstens dit plaas nie, word hierdie subkategorie in sy geheel binne die voorgestelde raamwerk van Afrikaanse konjunksiemerkers na die hoofkategorie aaneenskakelend geskuif. Hierdie verskuiwing word gemotiveer deur die feit dat die begrippe ooreenstemmendheid en teenstrydigheid nie versoenbaar is nie. Die begrip ooreenstemmendheid en konjunksiemerkers (soos dieselfde en dienooreenkomstig), wat 'n ooreenstemmende verband tussen sinne uitdruk, word aan 'n positiewe waarde gekoppel. Net so word daar aan die begrip teenstellendheid, én konjunksiemerkers (soos inteendeel, eerder, daarteenoor, egter) deur middel waarvan 'n teenstellende verband tussen twee sinne uitgedruk word, 'n ontkennende waarde gekoppel. Dit is opvallend dat die kombinasie20 van teenstellendheid as hoofkategorie en ooreenstemmendheid as subkategorie ook nie in Halliday en Hasan se raamwerk, waarop Carstens se indeling gebaseer is, voorkom nie.
2.2.3 Wysiging van die naam van 'n subkategorie
Carstens plaas die subkategorie kontrasterend met terwyl as enigste voorbeeldkonjunksiemerker daarbinne onder die hoofkategorie tydsaanduidend. Hoewel die konjunksiemerker terwyl dikwels gebruik word om 'n tydsaanduidende verband tussen twee sinne aan te dui, wat terselfdertyd kontrasterend van aard is, word dit net so dikwels gebruik om die gelyktydigheid van gebeure, wat nié kontrasterend teenoor mekaar staan nie, uit te druk. Die feit dat die betekenis van die konjunksiemerker terwyl in die HAT (2015:1338) verklaar word as "gedurende die tyd waaroor gepraat word of waarna verwys word", en dat hierdie gebruik van terwyl om 'n gelyktydige verband tussen sinne uit te druk dan met én sonder 'n kontrasterende betekenis deur middel van voorbeeldsinne geïllustreer word, is 'n duidelike bewys daarvan dat gelyktydigheid, eerder as kontraswerking, aan die tydsaanduidende konjunksiemerker terwyl gekoppel word.
Die onderstaande sinne verskyn in die HAT (2015:1338):
[22] Hy kreun terwyl hy buk om sy skoene vas te maak.
[23] Terwyl jy sit en ginnegaap, doen ons al die werk.
Wanneer die konjunksiemerker terwyl in 'n tydsaanduidende hoedanigheid gebruik word, is dit dus die gelyktydigheid van gebeure wat voorop staan; nie noodwendig die teenoorstellendheid daarvan nie. Om hierdie rede maak dit meer sin om binne die hoofkategorie tydsaanduidend die naam van die subkategorie van kontrasterend na gelyktydigheid21 te verander.
2.2.4 Integrasie van subkategorieë
In die eerste plek is twee subkategorieë saamgevoeg, enersyds omdat die onderskeid wat Carstens tussen ordenend en rangskikkend tref, nie duidelik na vore kom nie, en andersyds omdat Combrink (1995:36) ook nie so 'n onderskeid tref nie. Die meeste van die konjunksiemerkers binne Carstens se twee subkategorieë én binne Combrink se lystend/ordenend-kategorie is opgeneem binne 'n subkategorie met die benaming chronologiese ordening (vgl. die voorgestelde raamwerk in par. 3). Die konjunksiemerkers uit beide hierdie indelings, wat nie in die nuwe subkategorie ingesluit is nie, omdat dit nie oor chronologiese verbande handel nie, is Carstens en Combrink se ook en Combrink se behalwe, benewens, daarbenewens, uitgesonderd, nog, daarnaas, en naas, wat logieserwys beter pas binne die subkategorie toevoegend van die voorgestelde raamwerk. Combrink koppel 'n wye verskeidenheid "bindende bywoorde en bywoordelike bepalings" aan sy kategorie lystend/ordenend. Dit sluit ook bindwoorde in soos bowendien en buitendien wat binne die voorgestelde raamwerk as aaneenskakelende konjunksiemerkers met 'n versterkende funksie, gelys word. Ook net so, wat ooreenstemmendheid uitdruk, word binne die voorgestelde raamwerk binne die nuwe subkategorie ooreenstemmend geklassifiseer.
Twee van die "aktief gebruikte bindwoorde" wat Combrink as lystend/ordenend beskou, is 'n bysaak is en 'n hoofsaak is wat die outeurs van hierdie artikel nie as konjunksiemerkers beskou nie, maar as diskoersmerkers (vgl. Carstens 1997:304-307), aangesien hierdie frases eerder gebruik word om 'n diskoers te struktureer as om 'n verband tussen twee opeenvolgende sinne uit te druk.
In die tweede plek is twee subkategorieë (oorsaaklik en resulterend), wat Carstens onder die hoofkategorie redegewend indeel (met ál die voorbeelde daarbinne) geïntegreer binne een subkategorie. In ooreenstemming met Combrink (1995:37) se indeling, is die benaming oorsaak, gevolg en rede aan hierdie nuwe subkategorie toegeken. Carstens se voorbeelde is aangevul met 'n aantal konjunksiemerkers wat Combrink (1995:37) onder oorsaak, gevolg en rede indeel, asook met voorbeeldkonjunksiemerkers uit Wybenga (1989:206) se indeling (vergelyk par. 3.1.1).
2.2.5 Skrapping van 'n konjunksiemerker of 'n subkategorie in sy geheel
Die konjunksiemerker mits is tereg deur Carstens onder die hoofkategorie redegewend en die subkategorie voorwaardelik ingedeel, maar die plasing daarvan onder die hoofkategorie teenstellend en die subkategorie alternerend (saam met of en óf…óf) dui op 'n teenstrydigheid, aangesien mits juis die positiewe teenhanger van tensy is. Logieserwys behoort tensy wel binne die hoofkategorie teenstellend geplaas te word, maar nie mits nie.
Na die mening van die outeurs behoort die subkategorie ruimtelik, met daar as enigste voorbeeld daarbinne, in sy geheel geskrap te word omdat die woord daar normaalweg in Afrikaans as realiseringsmiddel van verwysing optree en nie as konjunksiemerker wat twee opeenvolgende sinne in 'n ruimtelike verband met mekaar verbind nie. Beide Ponelis (1979:583) en Halliday en Hasan (1976:38) beskryf woorde soos hier en daar as bywoorde wat algemeen anafories aangewend word; dit wil sê as bywoorde wat gebruik word om terug te verwys na lokaliteit wat vroeër in die teks figureer. Ook Carstens self klassifiseer daar as ʼn realiseringsmiddel van verwysing (vgl. Carstens & Van de Poel 2012:108). Volgens die HAT (2015:173) is daar slegs 'n konjunksiemerker wanneer dit met die semantiese waarde van aangesien of omdat aangewend word. Hierdie gebruik van daar as konjunksiemerker word boonop in die HAT (2015:173) as "weinig gebruik" en "verouderd" gemerk.
2.3 Uitbreiding van Carstens se raamwerk
Bo en behalwe die feit dat die aantal konjunksiemerkers in Carstens se raamwerk bykans deur middel van aanvullings verdubbel is, is daar ook twee belangrike uitbreidings wat ten opsigte van sy raamwerk aanbeveel word.
Byvoorbeeld ontbreek as aaneenskakelende konjunksiemerker binne Carstens se raamwerk. Hy gee wel losstaande van sy raamwerk die volgende voorbeeldsin:
[24] Spoornet het sekere dienste ingekort; hulle het BYVOORBEELD die laataandtrein na Simonstad gekanselleer.
Die konjunksiemerker byvoorbeeld pas ook nie goed binne enige een van sy bestaande subkategorieë binne die hoofkategorie aaneenskakelend nie. Dit pas egter goed binne Combrink (1995:36) se kategorie illustrerend en verduidelikend. Carstens se hoofkategorie aaneenskakelend is gevolglik met 'n subkategorie illustrerend en verduidelikend uitgebrei en gevul met die volgende voorbeelde uit Combrink (1995:36) se kategorie: byvoorbeeld, illustratief hiervan is, ter illustrasie, (as) 'n voorbeeld/illustrasie hiervan en ter verduideliking.
Twee konjunksiemerkers, wat "neutrale verbande" uitdruk (vgl. Wybenga 1989:210), en wat "'n baie vae semantiese waarde" het (vgl. Bosch 1984:219), vorm glad nie deel van Carstens se indeling nie en die outeurs van hierdie artikel kon hulle aan geeneen van Carstens se hoofkategorieë, wat juis op semantiese oorwegings berus, toeken nie. Die leser móét dat en of saam met ander woorde lees; anders sal die leser nie 'n idee hê wat daarna gaan volg nie. Die leser weet hoogstens dat 'n stelling of 'n vraag gaan volg. Om hierdie rede beskryf Ponelis (1979:439) dat en of ook as "blote onderskikkers". Gevolglik is 'n nuwe hoofkategorie, naamlik inleiers van geprojekteerde bysinne, geskep.
Voorbeeldsin [25] en voorbeeldsin [26] hier onder leen hulle daartoe om die aard van hierdie nuutgeskepte kategorie te verduidelik:
[25] Brutus het gesê dat Caesar ambisieus is (vertaal uit Halliday & Matthiessen 2004:444).
[26] Hulle wil weet of julle gewen het (uit Wybenga 1989:211).
In sinne soos die bostaandes word dat en of onder andere as "onderskikkende voegwoorde" (aldus Carstens 2011:48-49), "blote onderskikkers" (Ponelis 1979:439), "struktuurwoorde" (Combrink 1995:40) of "complementizers" (Biber et al. 1999:85) beskryf. Biber et al. (1999:85) beskryf die funksie van dat en of egter akkurater wanneer hulle daarop wys dat hierdie twee konjunksiemerkers gebruik word om bysinne22 in te lei en strukturele afhanklikheid tussen die hoofsinne en die bysinne te merk; dit wil sê die hoofsin en die bysin verbind. In voorbeeldsin [25] word die bysin "Caesar ambisieus is" deur die konjunksiemerker dat ingelei, en in voorbeeldsin [26] die bysin "julle gewen het" deur die konjunksiemerker of. Beide of en dat druk terselfdertyd die strukturele afhanklikheid tussen die betrokke hoofsinne en bysinne uit.
Buiten dat dat en of bysinne inlei en strukturele afhanklikheid merk, is hulle ook by projeksie betrokke (vgl. Halliday & Matthiessen 2004:454). Hierdie proses word aan die hand van voorbeeldsin [25] verduidelik. Die hoofsin "Brutus het gesê" beteken vir die leser op sigself niks nie, omdat dit nie soos "Ek is bang" onmiddellik verstaan word nie. Hier is 'n onvoltooidheid en slegs 'n aanduiding dat 'n stelling gaan volg, maar die leser weet nie wat hierdie stelling is nie. Deurdat die hoofsin die bysin "Caesar ambisieus is" projekteer, kry die hoofsin inhoud. Die hoofsin is dus vir sy interpretasie aan die bysin gebonde. Hierdie proses staan as projeksie bekend en word soos volg deur Halliday en Matthiessen (2004:509) gedefinieer: "Through projection, one clause is set up as the representation of the linguistic 'content' of another" (vgl. figuur 1 vir 'n illustrasie van hierdie proses).
Met inagneming van die funksie van dat en of en die verhouding van die hoof- en bysin, kan nuwe terminologie gebruik word: die hoofsin kan die "projekterende sin" genoem word, die bysin die "geprojekteerde bysin" en dat en of "inleiers van geprojekteerde bysinne".
Dat en of kan by drie verskillende tipes projeksies deur hoofsinne, betrokke wees. Twee van hierdie tipes projeksie hou verband met iets wat iemand anders gesê of gedink het, naamlik projeksie van bewoordings soos in die voorbeeld van Brutus, sowel as projeksie van gedagtes (vgl. Halliday & Matthiessen 2004:443). Halliday en Matthiessen (2004:444) gee die volgende voorbeeld (wat hier onder in vertaalde vorm weergegee word) om die projeksie van gedagtes te illustreer: "Brutus het gedink dat Caesar ambisieus is". Hierdie twee tipes van projeksie word meestal aan die indirekte rede gekoppel (vgl. Thompson 2014:201-202).
Die derde tipe projeksie deur hoofsinne waarby geprojekteerde bysin-inleiers betrokke is, word die projeksie van feite genoem (Halliday & Matthiessen 2004:470). Hierdie tipe projeksie hou nie verband met iets wat iemand anders gesê of gedink het nie, byvoorbeeld "Dit is vreemd dat hy niks gesê het nie" (vertaal uit Thompson 2014:206). Dit is 'n projeksie sonder 'n denker of 'n spreker (vgl. Thompson 2014:206).
Illustrerende voorbeeldsinne van hierdie tipes projeksie en tipiese woorde,23 frases of hoofsinne wat daarby betrokke is, word in figuur 2 saamgevat.
Die aanvullings, wysigings en uitbreidings wat na die oordeel van die outeurs ten opsigte van Carstens se raamwerk aangebring behoort te word om dit akkurater en vollediger te maak, word in par. 3 in tabelvorm saamgevat.
3. VOORGESTELDE GEWYSIGDE RAAMWERK
In die onderstaande raamwerk is al die aanvullings (in groen), al die wysigings (in rooi) en die uitbreidings (in pers) wat hier bo bespreek is, opgeneem. Die konjunksiemerkers wat met asteriske gemerk is, is in meer as een van die vyf hoofkategorieë ingedeel omdat hulle as konjunksiemerkers op meer as een manier verbande tussen opeenvolgende sinne kan bewerkstellig.
4. SAMEVATTING EN KONKLUSIE
In hierdie poging tot ʼn akkurater en vollediger weergawe van Carstens se bekende raamwerk, is sy raamwerk vergelyk met ander indelings van Afrikaanse konjunksiemerkers wat vóór en ná die publikasie van sy indeling verskyn het, en kritiek wat teen Carstens se raamwerk uitgespreek is, is in berekening gebring nadat dit krities beoordeel is. Die HAT (2015) is as maatstaf gebruik om die gebruiksfunksies van spesifieke konjunksiemerkers vas te stel sodat dit binne bepaalde subkategorieë geplaas kon word, en om konjunksiemerkers wat laegebruiksfrekwensies het, uit te skakel. Die leemtes wat geïdentifiseer is, is reggestel in die vorm van aanvullings, wysigings en uitbreidings ten opsigte van Carstens se raamwerk.
Anders as Jordaan (2014; 2016) se lys van verbandsmerkers wat op korpora van argumentatiewe skryfwerk van eerstejaarstudente gebaseer is, en Fouché (2016) sʼn wat as metingsinstrument vir die analise van graad 6- en graad 9-leerders se skryfwerk saamgestel is, is die raamwerk wat in hierdie artikel voorgestel word op ʼn meer gevarieerde groep gebruikers gemik. Dit kan deur akademici, studente en selfs onderwysers as verwysingsraamwerk gebruik word.
ʼn Leemte wat nog steeds ten opsigte van die raamwerk wat ons in hierdie artikel as ʼn verbetering van Carstens se raamwerk voorstel, bestaan, is die feit dat so ʼn raamwerk eintlik eers behoorlik as raamwerk kan fungeer as onmiddellike begrip deur illustrerende voorbeeldsinne moontlik gemaak word, aangesien konjunksiemerkers in verskillende kontekste verskillende gebruiksfunksies het. Die ideaal sou wees om die gebruiksfunksie(s) van elke konjunksiemerker in elke subkategorie met ʼn voorbeeldsin of -sinne te illustreer (soos wat dit in goeie woordeboeke gedoen word en soos wat Jordaan 2014; 2016 wel gedoen het), maar vanweë die beperkte omvang van hierdie artikel, kon voorbeeldsinne nie aan die raamwerk gekoppel word nie. Die outeurs het probeer om die verskillende konjunksiemerkers so sprekend as moontlik binne hoofkategorieë en spesifiserende subkategorieë in te deel sodat die gebruiksfunksies en -kontekste van die konjunksiemerkers so duidelik as moontlik uit die raamwerk kan blyk.
BIBLIOGRAFIE
Biber, D., Johansson, S., Leech, G., Conrad, S. & Finegan, E. 1999. Longman grammar of spoken and written English. Harlow, UK: Longman. [ Links ]
Bosch, B. 1984. 'n Sintaktiese ondersoek na die gebruik van onderskikkende voegwoorde en sinsverbindende woorde in Afrikaans. Gramhamstad: Rhodes-Universiteit. (Proefskrif - PhD. [ Links ])
Carstens, W.A.M. 1996. Konjunksieverhoudings in Afrikaans: ʼn verkenning. Suid-Afrikaanse tydskrif vir taalkunde, 14(Suppl. 33):61-76. [ Links ]
Carstens, W.A.M. 1997. Afrikaanse tekslinguistiek: ʼn inleiding. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Carstens, W.A.M. 2011. Norme vir Afrikaans: enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Combrink, J.G.H. 1995. Hoe om paragrawe te skryf. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
De Beaugrande, R.A. 1980. Text, discourse and process: toward a multidisciplinary science of texts. Norwood: Ablex. [ Links ]
De Beaugrande, R.A. & Dressler, W.U. 1981. Introduction to text linguistics. London: Longman. [ Links ]
Fouché, N. 2016. Kohesiemerkergebruik in die skryfwerk van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MEd. [ Links ])
Gleason, H.A. 1965. Linguistics and English grammar. New York: Holt, Rinehart & Winston. [ Links ]
Halliday, M.A.K. 1985. An introduction to functional grammar. London: Edward Arnold. [ Links ]
Halliday, M.A.K. & Hasan, R. 1976. Cohesion in English. New York: Longman. [ Links ]
Halliday, M.A.K. & Matthiessen, C.M.I.M. 2004. An introduction to functional grammar. 3rd rev ed. London: Edward Arnold. [ Links ]
Hasan, R. 1984. Coherence and cohesive harmony. In Flood, J. (ed). Understanding reading comprehension: cognition, language, and the structure of prose. Newark, Del.: International Reading Association, pp. 181-219. [ Links ]
HAT: handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 2005. 5de uitg. Kaapstad: Pearson. [ Links ]
HAT: handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 2015. 6de uitg. Kaapstad: Pearson. [ Links ]
Hyland, K. 2004. Disciplinary interactions: metadiscourse in L2 postgraduate writing. Journal of second language writing, 13:133-151. [ Links ]
Jordaan, A. 2014. Die gebruik van metadiskoers in Afrikaans T1-skryfwerk van eerstejaar-universiteitstudente. Vanderbijlpark: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MA. [ Links ])
Jordaan, A. 2016. Afrikaanse verbandsmerkers: uitbreiding en herkategorisering van voorbeeldwoorde. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 34(2):147-167. [ Links ]
Leech, J. & Svartvik, J. 1975. A communicative grammar of English. London: Longman. [ Links ]
Meintjes, Z. 2015. Koherensie in die argumentatiewe skryfwerk van eerstejaarstudente: 'n teksgebaseerde ondersoek. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif - PhD. [ Links ])
Naicker, G.G. 1996. Konjunktiewe kohesie in die opstelle van Afrikaans tweedetaal- matrikulante. Durban: Universiteit van Natal. (Verhandeling - MA. [ Links ])
Pienaar, M. 2009. Die leesbaarheid van akademiese tekste: ʼn tekslinguistiese ondersoek. Vanderbijlpark: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MA. [ Links ])
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Prinsloo, S. 2002. Tekslinguistiek: van teorie tot praktyk. Literator, 23(2):105-127. [ Links ]
Quirk, R., Greenbaum, S., Leech, G. & Svartvik, J. 1985. A comprehensive grammar of the English language. Harlow: Pearson. [ Links ]
Rudolph, E. 1988. Connective relations - connective expressions - connective structures. In Petöfi, J.S. (ed). Text and discourse constitution: empirical aspects, theoretical approaches. Berlin: Walter de Gruyter, pp. 97-133. [ Links ]
Thompson, G. 2014. Introducing functional grammar. 3rd ed. London: Hodder Education. [ Links ]
Van der Merwe, T. 1993. Nou, toe en dan as temporele leksikale elemente in Afrikaans. Literator, 17(2):91-104. [ Links ]
Van Rooy, B. & Esterhuizen, I. 2011. Die gebruik van konjunksiemerkers by nagraadse studente en gepubliseerde navorsing oor Afrikaanse taal- en letterkunde. Tydskrif vir taalonderrig, 45(1):67-86. [ Links ]
Van Rooy, B. & Kruger, H. 2016. Faktore wat die weglating van die Afrikaanse onderskikker dat bepaal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):102-116. [ Links ]
Venter, E. 2014. Leesbegrip en konjunksie as elemente van akademiese geletterdheid: intervensie deur middel van die sluitingsprosedure. Vanderbijlpark: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MA. [ Links ])
Wybenga, D.M. 1989. Taalkompas: elke student se gids. Pretoria: Serva. [ Links ]
NADINE FOUCHÉ is ʼn junior lektor binne die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy onderrig voorgraadse en nagraadse studente in aspekte van die Afrikaanse taalkunde en taalonderrig. In 2016 verwerf sy 'n MEd-graad (cum laude) met ʼn verhandeling, getiteld Kohesiemerkergebruik in die skryfwerk van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders.
NADINE FOUCHÉ is a junior lecturer of the Faculty of Education. She lectures undergraduate and postgraduate students in aspects of Afrikaans linguistics and language education. During 2016 she obtained a MEd degree (cum laude) with a dissertation, titled Kohesiemerkergebruik in die skryfwerk van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders.
RIA VAN DEN BERG tree op as 'n navorsingsgenoot van die Fakulteit Opvoedkunde van die Noordwes-Universiteit. Haar navorsing fokus op aspekte van die beskrywende taalkunde, sosiolinguistiek en taalonderrig.
RIA VAN DEN BERG is a research associate of the Faculty of Education. Her research focuses on aspects of descriptive linguistics, sosiolinguistics and language education.
JAKO OLIVIER is 'n medeprofessor in die vakgroep Afrikaans vir Onderwys, Skool vir Tale in Onderwys, Fakulteit Opvoedkunde by die Noordwes-Universiteit. Hy het sy PhD in 2011 aan die NWU verwerf, waar hy die akkommodering en bevordering van meertaligheid in skole deur middel van vervlegte en e-leer nagevors het. Hy het ook aan die voormalige PU vir CHO ʼn BA, BA honneurs (cum laude), Nagraadse Onderwyssertifikaat en MA (cum laude) voltooi. Voor hy in 2010 by die NWU as dosent aangesluit het, was hy betrokke by die onderrig van inligtingstegnologie en tale by skole in die Verenigde Koninkryk en in Suid-Afrika. Hy was van 2010 tot 2015 aan die Skool vir Tale, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die NWU verbonde as dosent in Afrikaans taalkunde, waarna hy na die Fakulteit Opvoedingswetenskappe geskuif het. Sy navorsingsbelangstellings sluit e-leer in die taalklaskamer, vervlegte leer, taalbeplanning en -beleid, meertaligheid in die onderwys, Afrikaanse taalvariasie en skermvertaling in.
JAKO OLIVIER is an associate professor in the subject group Afrikaans for Education, School of Languages in Education, Faculty of Education of the North-West University. He obtained his PhD in 2011 at the NWU in which he researched the accommodation and promotion of multilingualism in schools by means of blended and e-learning. He also completed a BA, BA Honours (cum laude), Postgraduate Certificate in Education and MA (cum laude) from the former PU for CHE. Before he joined the NWU as lecturer in 2010, he was involved in teaching information technology and languages in schools in the United Kingdom and in South Africa. From 2010 to 2015 he was a lecturer in Afrikaans linguistics at the School of Languages, Faculty of Arts of the NWU before moving to his current position in the Faculty of Education Sciences. His research interests include e-learning in the language classroom, blended learning, language planning and policy, multilingualism in education, Afrikaans language variation and screen translation.
1 Compare inter alia Halliday & Hasan (1976:238-267); De Beaugrande (1980:159); De Beaugrande & Dressler (1981:71); Halliday (1985); Rudolph (1988:110-111); Quirk et al. (1985:634-636) with regard to English; and Wybenga (1989:203-211); Combrink (1995:35-38); Naicker (1996:27-42); Carstens (1996:71-73); Carstens (1997:291-293); Meintjes (2015:117-130); Jordaan (2014:39-40); (2016:157-159), (164-167); Fouché (2016:71-80), (109-111) with regard to Afrikaans.
2 Kyk die bronne gelys in Voetnoot 1.
3 Hierdie navorsers is dié wat in die eerste paragraaf van hierdie artikel genoem word en wie se indelings voor 1996 gepubliseer is.
4 Vergelyk onder andere Pienaar (2009); Van Rooy & Esterhuizen (2011); Jordaan (2014); (2016); Venter (2014) en Fouché (2016).
5 Meintjes (2015:107) lewer nie spesifieke kritiek ten opsigte van Carstens se raamwerk nie, maar lewer slegs indirek kritiek deur Quirk et al. (1985:634) se raamwerk as "die mees gedetailleerde indeling" te beskou, en as vergelykingsraamwerk vir haar korpuslinguistiese studie te gebruik.
6 In Jordaan (2016:21, 25) se artikel word die herkategorisering van tensy as 'n sewende wysiging voorgestel.
7 Na aanleiding van Hyland (2004:139) se metadiskoerskategorieë, waarvan konjunksiemerkers een is, maar as verbandsmerkers omskryf word, gebruik Jordaan (2014:32) die term verbandsmerker sinoniem met konjunksiemerker.
8 Hierdie subkategorie is ʼn samevoeging van Carstens se subkategorieë ordenend en rangskikkend (vergelyk par. 3.2.3 van hierdie artikel).
9 Carstens se subkategorieë oorsaaklik en resulterend is in een subkategorie (oorsaak, gevolg en rede) geïntegreer (vergelyk par. 3.2.3).
10 Ponelis (1979:340) wys daarop dat dit baie moeilik is om te onderskei tussen tyd- en voorwaardesinne en dat as as gevolg hiervan so maklik uit die voorwaardeklas (as onderdeel van die hoofkategorie redegewend) na die tydklas toe oorgeloop het.
11 Daarby kan as konjunksiemerker sowel as ʼn realiseringsmiddel van verwysing optree. Ponelis (1979:63, 180) klassifiseer daarby tereg as die saamgetrekte vorm van dit plus 'n voorsetsel. HAT (2015:174) gebruik die sin "Die lamp is te swak; ʼn mens kan nie daarby lees nie" om die verwysende funksie van die woord daarby te illustreer. Bosch (1984:340) klassifiseer sulke saamgetrekte vorme as bywoordelike voornaamwoorde en wys daarop dat hierdie saamgetrekte vorme "ʼn verbindingsfunksie verrig". Jordaan (2016:164) het in haar korpora onder andere die volgende van daarby as aaneenskakelende konjunksiemerker geïdentifiseer: "Die bos as ruimte word simbolies van hierdie gevaarsone waarin die karakters beweeg. Daarby is dit donker en somber wat dit in kontras plaas met die ruimte".
12 Die term is ontleen aan Carstens (1997:306).
13 'n Voorbeeld van nou as 'n tydsaanduidende konjunksiemerker wat 'n oorsaaklike verband uitdruk, is "Hulle sê ons het nie klas nie. Nou kan ek gaan fliek" (Van der Merwe 1996:100).
14 Voorbeelde uit korpora word verbatim weergegee.
15 Sowel Leech en Svartvik (1975:97) en Halliday en Matthiessen (2004:272) koppel tensy se Engelse ekwivalent "unless" aan voorwaardelikheid.
16 Een tipe wysiging is deur die outeurs bygevoeg, naamlik die verskuiwing van ʼn subkategorie in sy geheel na ʼn ander hoofkategorie, en enkele voorbeeldkonjunksiemerkers bygevoeg.
17 Bosch (1984), Combrink (1995), Jordaan (2014; 2016), Ponelis (1979), Wybenga (1989).
18 Vreemd genoeg gebruik Jordaan hierdie sin om die gebruik van behalwe as teenstellende verbandsmerker te illustreer.
19 Vergelyk Halliday en Matthiessen (2004:419) wat "unless", die Engelse ekwivalent van tensy, as "negative condition" beskou.
20 Halliday en Hasan (1976:242) koppel wel "dissimilarity" (as subkategorie) aan "additive" (as hoofkategorie). Vanweë die onversoenbaarheid van die begrippe ooreenstemmendheid en teenstellendheid behoort die subkategorie verskillendheid ("dissimilarity") nie aan die hoofkategorie aaneenskakelend gekoppel te word nie, maar eerder aan die hoofkategorie teenstellend, omdat daar outomaties aan konjunksiemerkers soos "on the other hand" en "by contrast" ʼn ontkennende waarde gekoppel is. Halliday en Hasan (1976:242) se koppeling van die subkategorie "similarity" (ooreenkomstigheid) aan die hoofkategorie "additive" (aaneenskakelend) is wel logies omdat beide hierdie begrippe by implikasie ʼn positiewe waarde het. Die feit dat twee sinne deur ʼn konjunksiemerker soos daarenteen (of in Engels "by contrast") weliswaar aaneengeskakel word, word oorskadu deur die ontkennende waarde van die konjunksiemerkers deur middel waarvan die skakeling bewerkstellig word.
21 Vergelyk ook Wybenga (1989:208) wat na "gelyktydige verbande" verwys.
22 In Afrikaans bring dat en of, soos enige ander onderskikker, woordordeveranderinge mee: die werkwoord verskuif gedeeltelik of algeheel nader aan die einde van die sin (vgl. Carstens 2011:48-49). In Van Rooy en Kruger (2016:104) word hierdie woordordeverandering in verkorte vorm weergegee as "dat + SXV".
23 Die woorde, frases en hoofsinne, wat op 'n spesifieke tipe projeksie dui, en in figuur 2 aangedui word, is uit Halliday en Matthiessen (2004:545) geneem.