Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.57 n.3 Pretoria Sep. 2017
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2017/V57N3A12
AKTUEEL: DEBAT
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (3)
Die Aristotelies-politieke hermeneutiek - die voortgaande grondslae-diskoers oor politokratiese kommunitarisme1
Form, matter and the Aristotelian-political hermeneutic. The continuing paradigm debate on politocratic communitarianism
Andries Raath
Navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: RaathA@ufs.ac.za
OPSOMMING
Die antieke Griekse kultuur was ooglopend religieus; dit was nie georiënteer volgens die belange van die individu nie, maar gerig op die Griekse polis. In 'n vorige artikel is daarop gewys dat politokratiese kommunitarisme se organismiese politieke filosofie tot ooglopende dilemmas lei: abstrakte universalisme en abstrakte partikulariteit; 'n "alternatief-moderne" dialektiese bemiddelingsteorie; 'n trans-individuele utopie van abstrakte gemeenskapslewe; 'n totalitêre (en absolutistiese) vorm van verstaatlikte politieke gemeenskap; voorkeur vir 'n staatstipe wat sonder erkenning van fundamentele regte funksioneer; asook politieke gemeenskap wat 'n beeld van innerlik-teenstrydige proporsies na vore bring en wat 'n ongedifferensieerde vorm van verstaatlikte assosiasie onderskryf. In antwoord daarop identifiseer Danie Goosen die leemte van "onhermeneutiese hermeneutiek" aan die kant van "Dooyeweerdse denkers" en bemerk pogings tot "sisteembou" by Aristoteliese kritici, terwyl Koos Malan die feit bekla dat sy werke en dié van sy mede-Aristoteliaan Goosen (binne die konteks van die staatsfilosofiese grondslae-debat) nie na behore gelees word nie. 'n Wesenlike leemte in die diskoers is dat Aristoteliese kommunitariërs nie voldoende aandag aan die grondmotiewe, grondidees en ideologiese ladings van wetenskaplike begrippe in die antieke Griekse politieke denke skenk nie. Bygevolg is tot dusver in die diskoers onvoldoende oor die Aristoteliese grondmotief, die grondidees wat daaruit voortspruit en die grondbegrippe wat die vorm van die Aristoteliese polis-staat bepaal, besin. Ter verrekening van die implikasies van politokratiese kommunitarisme word daarby stilgestaan. Die verwagting is dat, anders as wat die politokraat Alasdair MacIntyre tot dusver gepropageer het, politokrate die teoretiese erfenis van relativistiese politieke diskoers vir 'n diepgaande gesprek - met 'n nie-relativistiese inslag - oor grondslagkwessies sal verruil.
Trefwoorde: Aristoteles, syn, kommunitarisme, Heraclitus, hermeneutiek, polis, Parmenides
ABSTRACT
Greek culture was emphatically religious; its centre of orientation was not the individual and his fulfilment, but rather the city-state and its destiny. In a previous article it was pointed out that politocratic communitarianism's embrace of the organismic state culminates in state absolutism. According to Eric R. Dodds, classical Greece was closer to the Japan of the Samurais than to modern civilization. At the heart of Greek religious and philosophical thought was the form-matter motive. This religious force, which was fundamental to Greek thought, drew no line of demarcation between gods and men; the difference between gods and men was not a difference of being, but a difference of power and station. The concept of continuity of being manifested in distinct ground ideas of a dialectical nature: amongst others, chaos and order; the one and the many; and space and place. These dialectical tensions were hermeneutically interpreted in terms of the ground idea of the hierarchy of being. The chaos-order dialectic stands against the background of continuity, so that ultimately the hermeneutic vision is one of unity. Chaos and order represent aspects of being and stages of growth. Chaos is brought to order by the principle of the androgyn. The city-state is the androgyn manifestation of the mystical bond of heaven and earth, and the polis wholly comprehends man's life. Whereas Heraclitus viewed change as the key to understanding reality, Parmenides took Being to be the cosmic substance, which is the same as thought. Politocratic communitarianists ground their views on place on Parmenides' theory of static being. The upshot is that this manifestation of Aristotelian communitarianism remains encapsulated in insurmountable conflicts of and tensions between the political "place" of the Greek polis and the conceptual "space" of the "territorial" state.
Key words: Aristotle, being, communitarianism, Heraclit, hermeneutic, polis, Parmenides
1. INLEIDING
Op die artikel, "Politieke en regsfilosofiese perspektiewe op politokratiese kommunitarisme: 'n Diskoers met Danie Goosen en Koos Malan" (Raath 2016:573-591) reageer Goosen en Malan met twee afsonderlike response: "Hermeneutiek, sisteme en state" (Goosen 2016:1246-1251) en "Anderkant verstaatlikte konstitusionalisme" (Malan 2016:1252-1265). Goosen gee toe dat dit nie moontlik is "om sonder meer" na die antieke Griekse polis terug te keer nie (Goosen 2016:1247). Hy aanvaar egter wel die Aristoteliese gemeenskapsopvatting as synde grondliggend tot die polis, as normatief vir bekritisering van staatlikheid en "om die moderne staat aan sy grense te herinner" (Goosen 2016:1247). Op sy beurt heg Malan "besondere waarde aan aspekte van veral Aristoteles se denke", by name laasgenoemde se opvattinge oor burgerskap en sosiale geregtigheid (Malan 2016:1254). Voorts identifiseer Goosen die leemte van "onhermeneutiese hermeneutiek" van "Dooyeweerdse denkers" en pogings tot "sisteembou" aan die kant van Aristoteliese kritici (Goosen 2016:1246-1251). Op sy beurt bekla Koos Malan die feit dat sy werke en dié van sy mede-Aristoteliaan Danie Goosen (binne die konteks van die staatsfilosofiese grondslae-debat) nie na behore gelees word nie (Malan 2016:1252-1265). 'n Wesenlike probleem in die diskoers is dat Aristoteliese kommunitariërs nie voldoende bestek van die grondmotiewe, grondidees en ideologiese ladings van wetenskaplike begrippe in die antieke Griekse politieke denke neem nie. By geen van die twee gespreksgenote word helder aangedui welke aspekte van die Aristoteliese polis-denke as absolutistiese a-normatiewe reste agtergelaat word nie, asook nie waarom nie. In hierdie artikel word geargumenteer dat politokratiese kommunitarisme steeds aan die voorwetenskaplike grondslae van die Aristoteliese polis-ideologie verkneg bly; dat verswyging van totalitêre uitwasse van dié staatsfilosofie nie daarin slaag om hul Aristoteliese polis-ideologie wesenlik te rehabiliteer nie; en dat die dialektiese spanninge van die Aristoteliese staatsfilosofie transendering van die Aristoteliese grondslae-denke vereis. Anders gestel: in hierdie artikel word betoog dat politokratiese kommunitarisme eers wesenlik van Aristoteliese staatsabsolutisme gerehabiliteer kan word by verwerping van laasgenoemde se dialektiese (en relativistiese) synsfilosofie wat uit die grondmotief van vorm en materie opkom. Dít vereis 'n indringende gesprek oor staatsfilosofiese grondslagkwessies.
Die insig dat filosofiese denke (insluitende die filosofiese hermeneutiek) deur grondliggende voorteoretiese uitgangspunte beheers word, dat onderliggende ideologiese dryfkragte (motiewe) bepalend op filosofiese grondidees inwerk en dat die wetenskaplike grondbegrippe (Begriffe) daardeur beslag kry, is reeds deur die Romantieke filosoof Friedrich Ast (1778-1841) in sy Grundlinien der Grammatik, Hermeneutik und Kritik (1808) beskryf. Voorts het Ast die ideologiese inkleding van wetenskaplike grondbegrippe in sistematiese begrippe-komplekse - soos dit in 'n lewens- en wêreldbeskoulike oriëntasie uitmond - as uitvloeisels van die wysgerige grondidees op die terrein van die filosofiese hermeneutiek ingesien (Wach 1926:31-62). Tot die mate dat die filosofiese grondbegrippe wat 'n denker aanlê ten diepste deur sodanige Grundidee (wat uit meer fundamentele lewensoriëntasies voortvloei) beslag gegee word, vereis dit dat die wetenskaplike die metateoretiese aannames wat sy standpunte onderlê duidelik sal ekspliseer (Strauss 1988:13). Met die oog op Goosen en Malan se onderskrywing van die grondslae van die Aristoteliese politieke en staatsfilosofie, is dit belangrik dat die bo-teoretiese (metateoretiese) aannames wat politokratiese kommunitariërs oor die boeg van byvoorbeeld "syn", "gemeenskap" (Goosen 2015) en "geregtigheid" (Malan 2011) geïmplementeer het aan die orde gestel sal word.
2. VORM, MATERIE, SYN EN DIE CHAOS-ORDE-DIALEKTIEK IN DIE PRE-ARISTOTELIESE DENKE
2.1 Die polis as ontmoetingspunt van die transendente en die immanente
As vertrekpunt van politokratiese gemeenskaps- en staatsdenke aanvaar Goosen dat die platoniese en aristoteliese stroming in wese 'n onderlinge samehang vertoon (Goosen 2015:132). Goosen is korrek: Aristoteles kan nie los van die voorafgaande filosofiese tradisie geïnterpreteer word nie. In Aristoteles se Metafisika word die voorafgaande filosofiese epogge van die Griekse filosofie aan die hand van die dialektiese motiewe van vorm en materie beoordeel (Aristoteles 1948:A.3 [983b8-19]; A.4 [985b3-22]; A.6 [987a29 e.v.]).2 Die materie-motief was die religieuse vergestalting van die antieke primitiewe natuurreligieë. Dié religieë kom kulties tot openbaring in die ongedifferensieerde, patristiese geslagsverbande (gené) - die sentra van politieke mag in die Griekse polisse (Schoeman 1988:14). Die religieuse inslag van die materie-prinsipe neem die vorm van 'n duistere vitale stroom aan waaruit individuele dinge en mense (syndes) vorm en gestalte aanneem en waarheen dit weer terugkeer. In dié lewenstroom is ook die primitiewe geslagsverbande in 'n proses van wording en vergaan vasgevang (Hommes 1971:90; Perkson 1942). Die oorgang vanaf die materie-beheersde religieuse denke na dié van die vorm-motief word deur die jongere Olimpiese kultuurreligieë gedra: vorm, maat en harmonie kry beslag in die Griekse polis; die Olimpiese gode verteenwoordig die geïdealiseerde kultuurkragte van die polis en laasgenoemde ontluik as 'n heg-verbonde religieuse gemeenskap (Raath 1983:40). Dié ontplooiende religieuse dryfkragte van vorm en materie in die pre-Aristoteliese sosiale (en politieke) lewe weerspieël 'n komplekse dialektiese profiel van teenoorstaandes wat metafisies versoen (Goosen: "bemiddel") moet word: chaos en orde; Syn en syndes; die transendente en immanente (Van Riessen 1970).3
Die chaos-orde dialektiek in die Griekse denke tree na vore in die konteks van 'n eenheidspostulaat - as synsaspekte en organismiese elemente in 'n omvattende werklikheidsgeheel. Dié geheel is naturalisties van inslag (Farrington 1949:13), onderworpe aan 'n magsideaal wat deur Benjamin Farrington (1947:3) as die sentrale beheersingsmotief in die Griekse denke beskryf word:
The central illumination of the Milesians was the notion that the whole universe works in the same way as the little bits of it that are under man's control ... the processes men controlled on earth become the key to the whole activity of the universe.
Metafisies gesproke word alles in die kosmos beoordeel in terme van die absolute: by Parmenides die heelal as starre eenheid; vir Plato die opperste Idee. Eenheid is die mees fundamentele kosmiese prinsipe - filosofiese realisme. In terme van die antieke Griekse realisme is alle werklikheidsaspekte fasette van één Idee en het dit slegs sin vir sover dit as komponente van dié Idee bestaan. In die Griekse denke is die kulminasie van die transendente en die immanente binne die werklikheid die omvattende (plekgebonde) eenheidstruktuur van die polis. Laasgenoemde is die mistieke vergestalting van ideale eenheid; in dié eenheidstruktuur is geregtigheid idealitêr beliggaam. Die polis is die ontmoetingspunt van die transendente en die immanente; dit is die ideale synsorde in etiese, godsdienstige en juridiese sin: "The centre of gravity of Greek life lies in the polis ... Thus, to describe the Greek polis is to describe the whole of Greek life" (Jaeger 1945:78). Die gemeenskapseenheid van die polis is die hoogste normatiewe verwysingspunt in die sosiale lewe: "Whatever helps the community is good, whatever injures it is bad" (Jaeger 1945:92). Dié eenheid wat aanvanklik in die gesinslewe en stamverbande gesetel was, word algaande na die polis as die uitdrukking van die mistieke band tussen hemel en aarde verplaas - die polis is die organiese en godsdienstige eenheidstruktuur wat die onderdane in 'n hegte organismiese eenheid saambind. Die polis omvat die volle spektrum van transendente en immanente syn; dit omvat nie alleen mense nie, maar ook die gode, atlete, leiers en helde wat op een of ander wyse aan die goddelike deel het. Die strukturele eenheid van die polis is die tuiste van die politieke elite; dit is ekonomies selfversorgend - 'n selfgenoegsame kosmiese synsentiteit (Kitto 1964:61). Die polis is die immanente vergestalting van Anaximandros (611 v.C. -547 v.C.) se ideaal van die kosmos, synde 'n omvattende gemeenskap waartoe sowel die mens as die gode behoort; voorts beliggaam dit Heraclitus se filosofiese ideaal: die versugting na 'n metafisiese eenheid wat buite en bo die mens en die gode 'n ewigheidsbestaan voer (Kroner 1956:53).4
Die polis verteenwoordig die metafisiese ideaal van orde. Reeds in Aeschylus (525-56 v.C.) se Oresteia word geregtigheid as die oorgang van chaos na orde geteken: die setel van geregtigheid is nie meer by die familiegroepe te vinde nie, maar in die polis. Laasgenoemde is die toonbeeld van geregtigheid en orde. Die polis ontluik as die "pattern of Justice, of Order, of what the Greeks called Cosmos; the polis, they saw, was - or could be - the very crown and summit of things" (Kitto 1964:77). Die polis word bygevolg die plek waar orde en reg volkome manifesteer. Aristoteles en politokrate se lokalisering van dié "plek" is die produk van dialektiese "bemiddeling" van Heraclitus se materialisme en Parmenides se starre synsbegrip op grond van Plato se grondslagdenke oor die polis.
2.2. Ruimte, plek en die dialektiek van syn
2.2.1 Heraclitus se materialisme en Parmenides se starre synsbegrip
Die Aristoteliese synsbegrip kry beslag deur sowel Heraclitus as Parmenides se dialektiese benaderings tot die vaste en die beweeglike in 'n enkele synshiërargie te beliggaam en die platoniese polis-staatsdenke as vertrekpunt vir die mens se polities-deugdelike lewe te aanvaar. Die dialektiese spanning tussen Heraclitus se ontkenning van permanensie en Parmenides se loëning van verandering kry binne Aristoteles se absolutistiese bipolêre politieke filosofie - en dié van politokratiese kommunitarisme - 'n tuiste. In Gemeenskap en Plek stel Goosen hierdie bipolariteit soos volg: alhoewel die (Griekse filosofiese) tradisie nie die veranderlikheid van dinge ontken nie (en in hierdie sin vir Heraclitus gelyk gee), beskik hulle ook oor 'n eie wese (in hierdie sin word Parmenides gelyk gegee) (Goosen 2015:179). Die opgaaf vir politokratiese Aristoteliane is eerstens om Heraclitus en Parmenides se filosofiese uitgangspunte tot harmonie te bring. Vir Heraclitus (530-470 v.C.) is verandering die hoogste metafisiese prinsipe van die werklikheid, dit is die goddelike beginsel, synde die oorsprong van alle syn (Clark 1950:73). Vir Parmenides van Elea (515-440 v.C.) is die kosmiese substansie die Syn; die denke. Die Syn is om te dink; om te dink is om te wees; Syn is bewegingloos; dit is ruimtelik; dit is sowel denke as materie (Freeman 1957:41-46). Die karakterisering van die Syn by Parmenides is 'n tyd-ruimtelike oriëntasie: diegene wat glo dat Syn is, sal vele tekens daarvan vind - omdat dit ongebore is, is dit onverganklik en dit was nie en sal nie wees nie omdat dit tesame voorhande is as geheel, ene, samehangende. Dié Syn by Parmenides word beskryf in terme van 'n samehangende eenheid vir sover alle dele onderling verbind is en sodoende 'n geheel daarstel - 'n tipiese geheel-dele-verhouding. Daar is egter 'n bykomende implikasie: wanneer veelheid bestaan, moet daar noodwendig net soveel (dinge) bestaan as wat daar werklik is, nie meer nie en ook nie minder nie. Wanneer daar soveel is as wat daar is, dan moet dit (die getal daarvan) begrens wees. Wanneer veelheid bestaan, dan is die syndes (die getal daarvan) onbegrens - steeds bestaan daar tussen die syndes weer ander tussen daardie en derhalwe is die syndes (die getal daarvan) onbegrens. Die implikasies: wanneer veelheid bestaan, word onderskeidelik tot teëgestelde gevolgtrekkings gekom - eerstens impliseer dit dat die dinge begrens is; tweedens dat dit onbegrens is (Strauss 1978:39). Daar is verdere implikasies, soos blyk uit Zeno, die Eleatiese denker uit die skool van Parmenides se bekende argument oor die vlieënde pyl. Die vraag is: kan 'n vlieënde pyl tegelyk op twee plekke wees? Die antwoord is ontkennend. Dié antwoord is geldig ten opsigte van enige tydstip waarop die vlieënde pyl waargeneem sou kon word. Wat beteken dit dat die pyl op een spesifieke plek is? Die antwoord: op 'n gegewe oomblik is die pyl in rus. Dít geld vir elke oomblik van die pyl se beweging. Daarom is dit sinsbedrog om aan te neem dat die pyl beweeg. Logiese nadenke oor die bewegende pyl sal dus tot die besef voer dat beweging skyn is. Al wat bestaan is die statiese rus (syn) (Strauss 1978:40)!5 Politokratiese kommunitarisme pas dié implikasies van Parmenides se synsbeskouing toe op die polis as statiese synsvorm. Goosen beredeneer dit soos volg in 'n staatsfilosofiese konteks: sin vir plek sneuwel voor die moderne proses van verruimteliking (Goosen 2015:347); die "staatlike projek" is 'n standaardisering van ruimte en gevolglike verlies aan plek (Goosen 2015:299); "(e)gte plekke" word deur 'n persoonlike dimensie gekenmerk en plek skep die geleentheid waarbinne die polis as dramatologiese synsvorm gestalte kry (Goosen 2015:347); in die moderne politieke wêreld voer ruimte en plek onder Afrikaners dikwels 'n stryd om oppergesag (Goosen 2015:399); Afrikaners het vanweë globalisering hoë vorms van ruimtelike mobiliteit ten koste van 'n plekgerigte benadering verwerf (Goosen 2015:400, 402); plek moet weer 'n volwaardige rol langs die "verruimtelikende" kragte inneem (Goosen 2015:404); 'n grenslose wêreld sonder plek word regeer deur diktate van grenslose ruimtes - dit is 'n wêreld sonder betekenis (Goosen 2015:413); die transendente kan slegs in en deur begrensde plekke "tussen ons verskyn"; die geskiedenis van die transendente is altyd aan bepaalde "heilige plekke" gekoppel (Goosen 2015:425). Saamgevat: vir politokrate is die Aristoteliese polis die ideale beliggaming van die historiese vorm van plek; die territoriale staat is die valse neerslag van die historiese vorm van ruimte - ten spyte van die feit dat sowel die "territoriale staat" as die "polis-staat" staatsvorme is. Dít veronderstel dat die territoriale staat en polis-staat onderling verskil vir sover state oor "ruimte" beskik, en polis-state oor "plek" - let wel: beide is staatsvorme, maar slegs één beskik oor "plek".
Dié dialektiese spanning tussen plek en ruimte in die politokratiese synsbeskouing draai in onnoemlike antinomieë vas omdat hul synsbegrip onder andere op sowel fiktiewe as reël-ruimtelike beredenering berus en dit in onvermoë verkeer om sowel lokatiewe as ekstensiewe ruimte as ruimtelike verwysings en in ruimtelike terme te verstaan. Eerstens verwar dit reële en fiktiewe ruimte. Reële ruimte is 'n attributiewe bepaaldheid van die dinamiese werklikheid; fiktiewe ruimte is 'n teoretiese konstruk gevorm na aanleiding van reële ruimte, maar van die dinamiese werklikheid geabstraheer. Binne die konteks van politokrate se onderskrywing van Aristoteles se synsfilosofie beteken dit dat die goddelike (transendente) oor sowel fiktiewe as reële ruimte beskik; andersyds: die polis (die immanente) het deel aan sowel reële as fiktiewe ruimte. Tweedens, hoewel ruimte in primêre sin as ruimtelike lokatiwiteit te onderskei is van ruimte as ekstensiteit, negeer Aristoteliese politokrate die samehang van lokatiewe en ekstensiewe ruimte. Lokale ruimte kan aangedui word met "hier" en "daar" - die lokatiwiteit van 'n entiteit of gebeurtenis of van 'n bepaalde punt, sonder verdere bepaling van "hier by my" of "nie-by-my-nie". Aan hierdie ruimtelike bepaling het nie alleen die stoflike deel nie, maar ook die biotiese, psigiese, juridiese, ensovoorts. In die kosmiese werklikheid het elke entiteit of gebeurtenis kragtens sy dinamiese aard sowel as uit hoofde van sy partikulariteit 'n lokatiewe bepaaldheid - ook die polis. Indien dit nie die geval was nie, sou dit ook nie reëel onderskeibaar wees nie. Elk daarvan beskik oor 'n temporeel lokatiewe aard, en die identiteit van elk vereis 'n besondere temporele en lokatiewe bepaaldheid. Benewens lokatiewe ruimte word ekstensiewe ruimte onderskei - laasgenoemde gefundeer in eersgenoemde. Estetiese genot is wel lokatief bepaald, maar as ekstensiewe bepaaldheid het dit geen deel aan ruimtelike uitgebreidheid nie, al mag dit indirek (deur middel van die betrokke liggaam) met die ekstensiewe ruimte verbind wees. Soos die dinamiese werklikheid begrens is, is die reële ruimte ook begrens - soos blyk uit die gefundeerdheid daarvan in die lokatiewe ruimte wat die ruimtelike grense van 'n betrokke ding daarstel. Fiktiewe ruimte mag onbegrens wees, omdat dit van die dinamiese werklikheid losgemaak is, maar dit veronderstel 'n retrosipasie op fiktiewe lokatiewe ruimtelikheid. Reële ruimte vind die grond van sy uitgebreidheid in die geaardheid van byvoorbeeld fisiese stof (soos die ondeurdringbaarheid daarvan) en nie in die geaardheid van die psigiese en geestelike onderskeidelik nie, omdat ons andersins ook daar ekstensiewe ruimte sou moes aantref. Lokatiwiteit en ekstensiteit is nie tot mekaar herleibaar nie. As ek vra na waar Danie woon of waar Koos werk, het dit niks te doen met oppervlak wat beide inneem nie. Die een is nie in terme van die ander verstaanbaar nie. Dit geld ook vir die fiktiewe ruimte. Daarom is dit absurd om te beweer dat 'n lyn uit ontelbaar aanmekaargeskakelde punte bestaan. 'n Lyn bestaan nie uit punte nie, maar uit 'n eendimensionele ekstensiteit, die grense waarvan (as dit eindig is) lokatief bepaal word deur die retrosipasie op die lokatiewe ruimte dit wil sê op "punte". Toegepas op die synsonderbou van politokrasie: die polis beskik oor lokatiewe ruimte en kan in dié opsig nie "ruimteloos" bestaan nie; die "territoriale" staat se ekstensiewe ruimte is in die lokatiewe ruimte daarvan gefundeer. Eerstens, vir sover dié staatsvorm nie oor lokatiewe ruimte (plek) beskik nie, is dit 'n abstraksie en bestaan dit nie vir politokratiese doeleindes nie - tog gebruik Malan lokatief-ruimtelike terme om na die polis-orde as ruimtelikheid "anderkant" die territoriale staat te verwys (Malan 2016)! Indien die territoriale staat fiktief is, kan dit nie as verwysingspunt van die politêre entiteit dien nie. Hoe is dit moontlik om soewereine "territoriale" state as miswasse van valse gemeenskap te bekritiseer indien sodanige state nie aanwysbaar is in terme van lokatiewe ruimte nie?
Tweedens, indien die polis-staat oor lokatiewe ruimte (plek) beskik, maar nie ekstensiewe ruimte nie, is daar sprake van 'n politieke orde wat "hier" of "daar" bestaan maar nie in ekstensief-ruimtelike sin teregkom nie. Tog maak sowel Goosen as Malan byvoorbeeld van ekstensief-ruimtelike terme gebruik om die tussenliggende instellings van die polis te beskryf! Beteken dit dat die polis as plekgebonde entiteit vir die territoriaal-ruimtelike voorsiening moet maak ten einde waarlik polis te wees, ten spyte daarvan dat die reël-ruimtelike van meet af uitgeskakel word?
Derdens, as synsentiteit is die polis die "dramatologiese" ontmoetingspunt van reële en fiktiewe lokatiewe ruimte; dit partisipeer aan die fiktiewe ruimte van die ewige syn; dit moet sy vorm verwesenlik sonder om reël-ruimtelike gestalte aan te neem; dit beteken dus dat die polis lokatief geïdentifiseer word, maar niemand kan sê waar dit is nie - dit is 'n vryswewende etiese entiteit wat nie oor territorium beskik nie en nie ekstensief-ruimtelik beskryfbaar is nie.
Vierdens beskik die polis oor meerdere syn as die individue waaruit die polis bestaan; dié syn is 'n partisipasie aan die goddelike syn, tog beskik dit oor vorm, maar nie van 'n ekstensiewe aard nie, terwyl vormverwesenliking lokatiewe ruimte veronderstel! Bygevolg sou dit ook nie histories aangedui kon word nie omdat dit nie reëel aanwysbaar is nie en fiktiewe ruimte beslaan.
Vyfdens, indien die polis as manifestasie van syn histories met Aristoteles se politieke gemeenskap geïdentifiseer word, beteken dit dat die politokratiese polis in sy historistiese "starheid" die toppunt van ontwikkeling is! - dit dien ter verklaring van politokrate se erkenning van die onmoontlike terugkeer na die Aristoteliese polis én terselfdertyd onderskrywing daarvan as synde normatief vir die dramatologiese ontmoeting van Syn en syndes.
Laastens, betrek op die jurisdiksionele ruimte van die staat en die polis, die regsruimte waarbinne die staatlike (sowel territoriaal as politêr) publieke regsorde gestalte moet kry en waar die staat die burgerregte van staatsonderdane moet handhaaf, verval politokrate se hantering van ruimte en plek in 'n ondeurgrondelike filosofiese warboel van verstandsbenewelende afmetings. Van die implikasies is dat die reg slegs lokatief-ruimtelike gelding het en dat die toppunt van regsontwikkeling die historistiese onderskrywing van die polis-regsorde in 'n lokatief-ruimtelike sin is!
2.2.2 Die platoniese nalatenskap in die aristoteliese verheffing van die polis tot hoogste menslike ordening
Volgens Goosen word die "(r)itme tussen syn en syndes voortreflik deur Plato in sy Phaedrus verwoord (Goosen 2007:41).6 Tereg beskryf Goosen die verband tussen Plato en Aristoteles se gemeenskapsdenke as synde "een en dieselfde breë koherente of onderling aansluitende denkraamwerk" (Goosen 2015:132). Die Aristoteliese polis-orde is slegs binne die staatsfilosofiese konteks van die platoniese te begryp. Die platoniese ideëleer plaas die polis in die hart van filosofiese diskoers. In sy Gorgias figureer die polis-staat vir Plato as die sentrale beginsel van sy filosofiese sisteem: volgens die wyse mense is vriendskap en gemeenskap, asook ordelikheid (kosmiotes) en matigheid die saambindende beginsels van hemel en aarde, gode en mense in 'n eenheid genaamd orde (kosmos), die teenoorgestelde van wanorde (akosmia) (Plato 1997:852). Die regeerders van die polis beskik oor goddelike wysheid, verdien ongekwalifiseerde gehoorsaamheid en onderdane moet opgevoed word om die wil van die regeerders sonder enige teenspraak te gehoorsaam:
Then, in order that such a person may be governed by an authority similar to that by which the best man is governed, do we not maintain that he ought to be made the servant of the best man, in whom the divine element is supreme?
Dié goddelike synselement in die regeerder vereis 'n staatsopvoeding by polis-onderdane ter onderwerping aan die polis-gesag:
We do not indeed imagine that the servant ought to be governed to his own detriment, by which Thrasymachus held to be the lot of the subject: on the contrary, we believe it to be better for everyone to be governed by a wise and divine power, which ought, if possible, to be seated in man's own heart, the only alternative being to impose it from without; in order that we may be all alike, so far as nature permits, and mutual friends, from the act of being steered by the same pilot. (Plato 1935:332)
Saamgevat: die platoniese polis is gebou op die idees van die filosoof-regeerder, politieke voogde, of diktators waarin die goddelike element van syn die opperheerskappy het. Die kosmos is 'n gemeenskap van gode en mense; die polis is dié kosmos - dit omvat sowel die menslike as die goddelike, sowel vorm as materie, en beide beheer chaos en orde. Vorm (idee), orde, denke en die goddelike is basies één; geregtigheid is die onderwerping van alle dinge aan dié goddelik-menslike orde; die regeerders verteenwoordig goddelike wysheid en die onderdane is aan hulle gehoorsaamheid verskuldig. Bygevolg behels geregtigheid by die individu vir Plato dat die rede oor die wil en die begeertes seëvier; in die polis is dit die regering van die filosoof-koning oor alle lewensterreine (Plato 1945:143):
Justice is produced in the soul, like health in the body, by establishing the elements concerned in their natural relations of control and subordination, whereas injustice is like disease and means that this natural order is inverted.
Bygevolg is die polis-staat die hoogste orde; dit is bo die reg verhewe. Onderdane is verantwoordelik teenoor die polis-staat as dié hoogste orde; die polis-staat is nie verantwoording aan die onderdane verskuldig nie. Die regeerders is soos medici wat waarheid en valsheid as "geregtigheidskuur" ter behandeling van onversetlike onderdane kan aanwend: "It will be for the rulers of our city, then ... to use falsehood in dealing with citizen or enemy for the good of the State; no one else must do it." (Plato 1979:144) Die welsyn van die polis-staat soos deur die regeerders geïnterpreteer en verstaan, is die hoogste reg; die regeerders is die beliggaming van dié reg en die gesaghebbende interpreteerders daarvan. Heerskappy is die hoogste beginsel van orde en eenheid in die polis-verskeidenheid en die kosmos. Plato se Politeia het geen behoefte aan wette, regskodes of geregtigheid nie - die regeerders is die oppervoogde, die wandelende wette, die vleesgeworde ideë van die goeie: "Plato's republic, is therefore, to be a state without laws; one governed entirely by special ordinances issued by its rulers as occasion for them arises" (Willoughby 1903:103).
By Plato is die regeerders die toonbeeld van die eties-goeie. Hulle beliggaam eenheid en verskeidenheid en verteenwoordig sowel die eindige as die oneindige binne 'n absolutistiese politieke orde: "We say that the one and the many are identified by the reasoning power," en "whatever is said to consist of one and many, having in its nature limit and unlimitedness" (Plato 1979:404). Crossman (1937:183) vat die absolutistiese politieke en regsimplikasies hiervan soos volg saam:
The Platonic statesman therefore, like the modern Communist, cannot admit that private life and morality are the concern only of the individual. For him there is no distinction of self-regarding and other-regarding actions. The most intimate secrets of private life must be opened to him and he must analyse and direct them in the proper way.
2.2.3 Syn en die platoniese onderbou van burgeropvoeding in die Aristoteliese polis-staat
Dié eties-verhewe aard van die polis gee aan die polis-staat die opperreg met betrekking tot die opvoeding van kinders (Aristoteles 1925:X, 9 [1179b31-36]); dit verleen aan die wetgewer die reg om die gemoedere van kinders na sy wil te vorm; die polis-staat beskik oor die reg om die grootte van die bevolking te reguleer en gedwonge aborsies uit te voer (Aristoteles 1921:VII, 16 [1335a20 e.v.]). Gesinne, kinders en onderdane is die eiendom van die polis-staat en behoort omvorm te word tot dít wat die regering as ideaal stel. Die mikrokosmiese individu is die materiaal waaruit die polis-geheel opgebou word en staan onder die absolute gesag van laasgenoemde: die polis-staat is die hoogste gemeenskap en omsluit alle ander gemeenskapsvorme; dit is gerig op 'n meer verhewe vorm van die goeie - dit is sélf die hoogste goed (Aristoteles 1921:VII, 1 [1324a30 e.v.]). Die polis-staat as opperste godsdienstige gemeenskap is hierby inbegrepe - die polis is die suiwere vergestalting van die godheid.
In welke opsigte verskil die aristoteliese polis van die platoniese polis-orde soos beskryf in laasgenoemde se Politeia? Op grond van persoonlike voorkeure vermy Aristoteles die vorm van die platoniese polis-orde. Laasgenoemde ondermyn die "selfgenoegsaamheid" wat vir die polis noodsaaklik is (Aristoteles 1921:II, 2 [1261a22-25]). Hoewel 'n voorstander van die totalitêre polis-staat, val Aristoteles se keuse vanweë praktiese redes nie op die kommunistiese polis-staatsvorm nie. Die Aristoteliese polis-staatsosialisme is van 'n "opvoedkundige aard": die staat behoort 'n indoktrinêre polis-staat te wees (Barker 1959:428). Goosen maak foutiewelik die afleiding dat Aristoteles die platoniese staat afwys ten einde vir groter verskeidenheid voorsiening te maak (Goosen 2013:13). Dit is eerder 'n geval dat Aristoteles eweseer die platoniese staatsosialisme onderskryf - hy verskil slegs wat die vorm van sosialisme behoort te wees. Vir Aristoteles behoort die mens deur die polis-staat gesosialiseer te word (Aristoteles 1921:II, 5 [1263b35 e.v.]). Onderwys en opvoeding, synde deel van die verstaatlikte kultuur-domein behoort, volgens Aristoteles, by die regeringsvorm van die polis-staat aangepas te word (Aristoteles 1921:V, 9 [1309a33 e.v].). Metafories gesproke: die burgery is die materiële substraat wat by die regeringsvorm van die polis-staat aangepas moet word - dit is die materiaal waaruit die polis-staat gevorm word. Onderwys en opvoeding is 'n volledig verstaatlikte politieke aktiwiteit omdat alle burgers aan die staat behoort, boustene van die staat vorm en indoktrinasie van die enkeling geskied met die oog op die opvoeding van die polis-geheel (Aristoteles 1921:VIII, 1 [1337a12-16]). Dít behels ook die onderrig in die burgerlike godsdiens van die polis-staat. Vryheid behels vryheid vir en diens aan die polis-staat. Onderrig in die burgerlike godsdiens van die polis behels 'n fokus op die biopolitiese substrate van die publieke lewe en 'n terugkeer na die "biologies-primitivistiese" oorspronge daarvan:
We must go to school to the folk-soul, learn of criminals and defectives, animals, and in some way go back to Aristotle in rebasing psychology on biology, and realize that ... there are no finalities save formulae of development. (Hall 1904:vii)
Met verwysing na Plato en Aristoteles se beheptheid met omvorming van die individue in die polis, vat hy dit soos volg saam:
To live together with one's fellows in a community involves fitness so to live. This fitness, in turn, implies discipline, instruction, training; that is, education. The highest type of individual life is found in community life. Ethics passes into or includes politics and the education of the individual is education for the state. (Butler 1905:106)
Volgens W.H. Kilpatrick is die onderbou van die Aristoteliese biopolitiese onderwys-ideaal die individu as 'n organismiese deel van die evolusionêre polis-geheel (Kilpatrick 1936:116). Die omvorming van die mens geskied met die oogmerk dat elke burger hom-/haarself in terme van die gemeenskap en die polis-staat sal begryp. Tot die mate dat die evolusionêre gerigtheid van die polis in terme van die Aristoteliese synsbegrip geen materiële struktuur-grense ken nie, is die vormverwesenliking van die polis-staat 'n ongebreidelde polities-globalistiese eindpunt van onderwerping van die mensheid aan die politieke oogmerke van die regeerlui (Rushdoony 1995:220-221).
Aristoteles se begrip van politieke gemeenskap vereis kennis van burgerskap van die polis. Burgers is diegene wat deel aan die regsadministrasie en die politieke ampte het (Aristoteles 1921:III, 1 [1274b40]), met dien verstande dat nie almal wat vir die bestaan van die polis-staat vereis word oor burgerskap van die polis-staat beskik nie (Aristoteles 1921:III, 5 [1277b33 e.v.]). Aristoteles se beste polis-staatsvorm verteenwoordig die hoogste orde van syn; dit is die filosoof-regeerders wat aan die polis-staat beslag gegee het. Aristoteles maak vir geen hoëre beginsels voorsiening waaraan die beste polis-staat gemeet kan word nie. Binne die polis as hoogste beliggaming van sosiale eenheid vertrou Aristoteles dat eiebelang pragmaties ruimte vir die individuele sou laat (Aristoteles 1921:11 [1295b35]). Aristoteles se universalistiese polis-orde word nie deur die transendente eerste Oorsaak bepaal, gestuur of begrond nie. Die transendente is bloot die waarborg om die polis-orde as die ontmoetingspunt tussen die transendente en die immanente te postuleer, die geldigheid van die menslike optrede te verseker en die absolute mag van die politieke regeerders in die polis te legitimeer. Die polis is ontologies gesproke 'n deïstiese of panteïstiese uitvloeisel van die gewaande rasionaliteit van die filosoof-regeerder wat bo normatiewe bindinge verhewe is. Godsdienstig gesproke is die polis die menslik-goddelike orde waarin waarheid en die eenheid van syn die mees verhewe beliggaming vind. Derhalwe kon Salustius - die laaste apologetiese stem in die Griekse tradisie - verklaar dat die regeerders van die polis analoog is aan die Rede (Murray 1955:202).
3. DIALEKTIESE GRONDMOTIEWE EN DIE ACHILLIESHIEL VAN POLITOKRASIE
Politokratiese kommunitarisme is eerder 'n outobiografiese sug na die antieke Griekse hinterland van magspolitiek as wat dit 'n normatief-verantwoorde begronding van 'n ideale politieke gemeenskap, georiënteer aan a-dialektiese grondidees verteenwoordig. Die beroep op die Griekse politieke kultuur wentel om die religieuse oriëntasie van die polis as die sentrum van die individuele versmelting in die universum van meta-etiese polis-staatsdeug. Dodds tipeer die antieke klassieke Griekse kultuur as synde analoog aan die Japannese Samurai-kultuur eerder as wat dit parallelle in die latere Westerse sosiale lewe had (Dodds 1957:17). Die begrip van synskontinuïteit was grondliggend tot die Griekse denke en die onderskeid tussen die goddelike en die menslike was nie 'n synsverskil nie, maar 'n onderskeid in mag en status: gode en mense wreek hulself op skending van hul eer en posisie: hubris, hoogmoed, was minagting van die gesaghebbers se mag en eer en alle kultuuraktiwiteit (soos kinderopvoeding en -onderwys) staan in diens van die polis-staat.
Die synshiërargiese inslag van die Aristoteliese politieke denke is in wese naturalisties. Die chaos-orde-dialektiek staan teen die agtergrond van kontinuïteit, 'n visie van die oorspanning van die eenheid ten koste van die verskeidenheid. Chaos en orde verteenwoordig aspekte van syn en fases van organiese ontwikkeling. Die politieke gemeenskap as gemeenskap van gemeenskappe is 'n klub van manlikheid, 'n broederskap van ingelyfdes in die goddelike eenheid; 'n heiligdom, 'n heilige plek, sonder ruimte. Dit is die polis-altaar, "the religious abode of gods and citizens" (Coulanges 1956:141). Gilbert Murray beskryf die godsdienstige lewe in die Griekse polis van die vyfde eeu as "a devotion to the City itself" (Murray 1955:72). Die Griekse polis-staat was 'n esoteriese, mistieke en goddelike liggaam met 'n soort androgene meerderwaardigheid en 'n publieke godsdiens wat in 'n vrugbaarheidskultuur uitmond. Plutargus (c. 46-120 n.C.) rapporteer byvoorbeeld dat Lycurgus (9de eeu v.C.), wetgewer van Sparta, reeds die vrugbaarheidskultus as biopolitiese oogmerk van die reg beskou en wetgewing in dié verband aangeneem het (Plutargus s.j.:61).
Politokratiese kommunitarisme stoel op die dialektiese spanning tussen die atomistiese (met uiteindelike kulturele inploffing), en die universele as mistieke ontvlugtingsoord (wat nie ruimte vir die individuele laat nie). Die Aristoteliese keuse vir die absolute, die mag-staatlike polis word die middel tot sintetisering van die dialektiese anargie wat uit die konflik van vorm en materie voortspruit - sowel Aristoteles se polis as politokratiese kommunitariërs se politêre gemeenskap is daarop gebou. Tereg wys Fustel de Coulouges (1956) en Warner Fite (1934) op die onontwykbare statisme waarin die Griekse denke in dié verband uitmond ten einde die anargistiese pool van selfgepostuleerde en simplistiese valse dilemmas in hul grondslae-denke te ontkom.
Politokratiese utopisme ontwyk die realiteit van die Aristoteliese politieke en regsfilosofiese hermeneutiek. In 'n vorige artikel is opgemerk dat die politokratiese politieke gemeenskap (Goosen: "gemeenskap van gemeenskappe") "in wese ... nie te onderskei [is] van 'n 'gemeenskap' van koesister-bakkers, die sosiale struktuur van 'n dramaklub of die assosiasievorm van Hitler Jugend in Nazi-Duitsland nie" (Raath 2016:586). Die uitnodiging staan steeds: tot welke mate verskil die politieke gemeenskap van politokrasie van dié sosiale vorms in terme van struktuur, funksie en doel? By hierdie punt trek politokrate gewoonlik kleinkoppie en laat hulle hul nie in belynde ideologie-kritiese diskoerse betrek nie. Die politokratiese kommunitaris Alasdaire MacIntyre huldig byvoorbeeld die relativistiese standpunt dat verskillende diskoersgemeenskappe oor "alternative and incompatible sets of beliefs and ways of life ... each [having] internal to its own specific modes of rational justification in key areas and its own correspondingly specific warrants for claims to truth" beskik (MacIntyre 1985:8); dat politokrate misverstaan word en hulle hul nie aan gepresiseerde begripsomlynings verbind nie. Die hoop bestaan steeds dat politokratiese gespreksgenote die brug vanaf relativistiese diskoers oor staatsfilosofiese en politologiese kwessies na belynde ideologie-kritiese diskoerse sal oorsteek! Wat bedoel hulle met "territoriale staat"? In welke opsigte verskil dit struktureel van die Aristoteliese polis? Is dit moontlik om van staat en polis te praat sonder territoriale begrensdheid? Die antwoorde op dié vrae sal bepaal tot welke mate die Aristoteliese polis-staat oor normatiewe struktuurgrense beskik wat die politieke gemeenskap se kompetensieperke aandui en prinsipieel verhoed dat dit 'n "plek" is wat geen ruimte vir vryhede van nie-staatlike samelewingskringe laat nie. Kosmetiese opmerkings ter effek dat politokratiese kommunitarisme nie soortgelyke oogmerke het nie, ontlok die vraag: Op welke gronde sê politokrate dit, gegewe die struktuurlose aard en historiese en ideologiese konteks van die Aristoteliese polis-staat?
BIBLIOGRAFIE
Aristoteles, 1921. Works. "Politica". Vertaal deur W.D. Ross. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Aristoteles, 1925. Ethica Nicomacheia. Vertaal deur W.D. Ross. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Aristoteles, 1948. Works. "Metaphysica". Vertaal deur W.D. Ross. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Barker, E. 1959. The political thought of Plato and Aristotle. New York: Dover Publications. [ Links ]
Butler, N.M. 1905. The meaning of education. Essays. New York: Macmillan. [ Links ]
Clark, G.H. 1950. The beginnings of Greek philosophy. V. Ferm (ed.). A history of philosophical systems. New York: Philosophical Library, pp. 70-81. [ Links ]
Crossman, R.H.S. 1937. Plato today. London: George Allan & Unwin. [ Links ]
Coulanges, F. de. 1956 [1873]. The ancient city. Garden City, New York: Doubleday Anchor Books. [ Links ]
Dodds, E.R. 1957 [1951]. The Greeks and the irrational. Boston: Beacon Press. [ Links ]
Dooyeweerd, H. 1960. In the twilight of Western thought. Pennsylvania: Presbyterian and Reformed Publishing Co. [ Links ]
Farrington, B. 1947. Head and hand in Ancient Greece. London: Watts. [ Links ]
Farrington, B. 1949. Greek science, its meaning for us. Vol. 1. Thales to Aristotle. Harmondsworth, Middlesex: Penguin Books. [ Links ]
Fite, W. 1934. The Platonic legend. New York: Scribners. [ Links ]
Freeman, K. 1957. Ancilla to the Pre-Socratic philosophers. Cambridge, Mass.: Harvard University Press. [ Links ]
Goosen, D. 2007. Die nihilisme. Dainfern: Praag. [ Links ]
Goosen, D. 2013. Oor die Republikeinse gedagte. Pretoria: FAK. [ Links ]
Goosen, D. 2015. Oor gemeenskap en plek. Pretoria: FAK. [ Links ]
Goosen, D. 2016. Hermeneutiek, sisteme en state. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56/4-2 (Desember): 1246-1251. [ Links ]
Hall, G.S. 1904. Adolescence: Its psychology, and its relations to physiology, anthropology, sociology, sex, crime, religion and education. Vols. 1 & 2. New York: D. Appleton. [ Links ]
Hommes, H.J. van. 1971. Encyclopedie der Rechtswetenschap. College-diktaat. Amsterdam: Vrye Universiteit. [ Links ]
Hommes, H.J. van. 1979. Major trends in the history of legal philosophy. Amsterdam/New York/Oxford: North-Holland Publishing Co. [ Links ]
Jaeger, W. 1945. Paideia: the ideals of Greek culture. Vol. 1. Vertaal deur Gilbert Highet. New York: Oxford University Press. [ Links ]
Kilpatrick, W.H. 1936. Remaking the curriculum. New York: Newson. [ Links ]
Kitto, H.D.F. 1964 [1956]. The Greeks. Chicago: Aldine Publishing Co. [ Links ]
Kroner, R. 1956. Speculation in Pre-Christian philosophy. Philadelphia: The Westminster Press. [ Links ]
MacIntyre, A. 1985. Relativism, Power and Philosophy. Proceedings and addresses of the American Philosophical Association, 59/1 (September):5-22. [ Links ]
Malan, K. 2016. Anderkant verstaatlikte konstitusionalisme. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56/4-2 (Desember): 1252-1265. [ Links ]
Murray, G.T. 1955. Five stages of Greek religion. 3rd edition. Garden City, New York: Doubleday Anchor. [ Links ]
Perkson, A.W. 1942. The religion of Greece in prehistoric times. Berkeley: University of California Press. [ Links ]
Plato, 1935. The Republic. London: Macmillan. [ Links ]
Plato, 1945. The Republic. Vertaal deur F.M. Cornford. London: Oxford University Press. [ Links ]
Plato, 1966. Euthrypto, Apology, Crito, Phaedo, Phaedrus. Cambridge, Mass.: Harvard University Press. [ Links ]
Plato, 1997. The Republic. Vertaal deur D. Lee. Harmondsworth, Middlesex: Penguin Books. [ Links ]
Plato, 1997. The complete works. "Gorgias". Vertaal deur J.M. Cooper & D.S. Hutchinson. Indianapolis/Cambridge: Hackett Publishing Co. [ Links ]
Plato, 1997. The complete works. "Philebus". Vertaal deur J.M. Cooper & DS. Hutchinson. Indianapolis/Cambridge: Hackett Publishing Co. [ Links ]
Plutarchus. s.j. The lives of the noble Grecians and Romans. Vertaal deur John Dryden. A.H. Clough (ed.). New York: Modern Library. [ Links ]
Raath, A.W.G. 1983. Die juridies wysgerige grondslae van vryheid en gelykheid. MPhil-verhandeling. Bloemfontein: UOVS. [ Links ]
Raath, A.W.G. 2016. Politieke en regsfilosofiese perspektiewe op politokratiese kommunitarisme: 'n Diskoers met Danie Goosen en Koos Malan. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56/2-2 (Junie): 573-591. [ Links ]
Raath, A.W.G. 2016a. Regsfilosofiese implikasies van meta-etiese historisme. Kritiese opmerkings oor politokratiese kommunitarisme. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:622-639. [ Links ]
Rushdoony, R.J. 1995. The Messianic character of American education. Vallecito, Calefornia: Ross Book House. [ Links ]
Schoeman, P.G. 1988. Wysgerige pedagogiek. Pretoria: SACUM Beperk. [ Links ]
Strauss, D.F.M. 1978. Kosmologie. Bloemfontein: SACUM. [ Links ]
Strauss, D.F.M. 1988. Die grondbegrippe van die sosiologie as wetenskap. Pretoria: RGN. [ Links ]
Strauss, D.F.M. 2009 Philosophy. Discipline of the disciplines. Grand Rapids, MI.: Paideia Press. [ Links ]
Taylor, E.L.H. 1966. The Christian idea of law, politics and the state. Nutley, New Jersey: The Craig Press. [ Links ]
Van Riessen, H. 1970. Wijsbegeerte. Kampen: J.H. Kok. [ Links ]
Wach, J. 1926. Das Verstehen: Grundzüge einer Geschichte der hermeneutischen Theorie im 19. Jahrhundert. Vol. 1: Die grossen Systeme, Tübingen: J.C.B. Mohr. [ Links ]
Willoughby, W.W. 1903. The political theories of the Ancient World. New York: Longmans Green. [ Links ]
ANDRIES RAATH is 'n navorsingsgenoot in die Departemente Publiekreg en Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy begin sy akademiese loopbaan in 1980 as senior lektor in regsfilosofie aan die Universiteit van Bophuthatswana. Vanaf 1984 is hy verbonde aan die Departement Staatsreg en Regsfilosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Vanaf 2004 tot 2012 was hy senior professor in dié departement. Die fokusareas van sy navorsing sluit in kontemporêre politieke strominge met besondere verwysing na kommunitêre regs- en staatsteorieë sowel as Suid-Afrikaanse godsdiensgeskiedenis.
ANDRIES RAATH is a research fellow in the Departments of Public Law and History at the University of the Free State. He started his academic career in 1980 as senior lecturer in philosophy of law at the University of Bophuthatswana. Since 1984 he is attached to the Department of Constitutional Law and Philosophy of Law at the University of the Free State; and from 2004 to 2012 he was senior professor in the same department. The focal areas of his research include contemporary political approaches with particular reference to communitarian legal and state theories as well as South African religious history.
1 Hiermee word opregte waardering betuig vir die kritiese kommentaar van anonieme keurders van die manuskrip wat verreken kon word.
2 Vgl. Dooyeweerd (1960:40); Taylor (1966:90); Hommes (1971:90; 1979:3-4).
3 Hy wys op talle sulke wysgerige temas in die Griekse filosofiese denke: verganklikheid en onverganklikheid; verandering en duursaamheid; veelheid en eenheid; die individuele en universele; chaos en kosmos; onbeheersde lewenswyse en lewensbeheersing; liggaam en siel; kwaad en goed, ondeug en deug; noodlot en redelikheid ens.
4 Vir Heraclitus se uitdrukking hiervan kyk Freeman (1957:30).
5 Vir 'n meer uitgebreide bespreking van Parmenides se uitgangspunte kyk Strauss (2009:262, 408).
6 Dié platoniese werk is 'n toonbeeld van die toepassing van die vorm-materie-motief in die Griekse denke (kyk bv. Plato 1966:481 [248b-c]).