Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.60 n.4-1 Pretoria Dec. 2020
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a9
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Vertalers kruis swaarde! Vertaalproblematiek betreffende die swaard as wapentuig in 1 en 2 Makkabeërs
Translators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 Maccabees
Gert J. Steyn
Universiteit van Pretoria, Theologische Hochschule Ewersbach, Duitsland. E-pos: gert.steyn@the.feg.de
OPSOMMING
Hierdie bydrae het ten doel om die vertaalproblematiek betreffende die term "swaard" as wapentuig in die Makkabeërboeke onder die loep te neem. Die vertaalprobleem bestaan daaruit dat die onderskeie betekenisse van ρομφαία, μάχαιρα en το ξίφος in die bronteks van Makkabeërs in die nuwe Afrikaanse vertaling (NAV) na vore moet kom en dat die woorde nie deurgaans met "swaard" vertaal moet word nie. Dit word ondersteun deur die frekwensie van die woorde in hierdie boeke. Swaarde is histories konteksgebonde, en onthul belangrike inligting oor die aard van die konfrontasie en aanvalstrategie, asook die onderlinge verhouding tussen die aanvaller en slagoffer, aangesien dit bepaal het of die soldaat die vyand daarmee sou steek, sny of kap. Dit is belangrike inligting vir die vertaling om die konteks te verstaan waarin 'n bepaalde tipe swaard gebruik is - veral in die militêre konteks van die Makkabeërboeke. Dis dus duidelik dat 'n besliste onderskeid getref behoort te word tussen die verskillende Griekse terme wat in 1 en 2 Makkabeërs vir "swaard" aangewend word.
Tydens die ondersoek het dit algaande duidelik geword dat die bestaande hoofstroom-Engelse, Duitse en Afrikaanse vertaaltradisies oorwegend al drie Griekse terme feitlik deurgaans generies met "swaard" vertaal. Tydens die onlangse vertaalproses van die NAV swig ook hierdie vertaling grotendeels onder die groepsdruk van bestaande vertaaltradisies, maar slaag nogtans daarin om die eerste offensiewe treë te gee op die terrein van die vertalingsproblematiek betreffende die swaard as antieke wapentuig. Dit is gedoen deur op enkele strategiese plekke by wyse van 'n voetnoot die tipe swaard waarvan in die bronteks sprake is, te spesifiseer.
Trefwoorde: 1-2 Makkabeërs, Apokriewe, Deuterokanonieke boeke, Septuagint, swaard, wapentuig, konteks, vertaling
ABSTRACT
The purpose of this contribution is to address the translation problems related to the term "sword" as a weapon in the Maccabean books. The translation problem becomes evident in the various occurrences of ρομφαία, μάχαιρα and τό ξίφος in the source text of 1-2 Maccabees, as well as the frequency of the words in these books. Swords are historically contextual, and reveal important information about the nature of confrontation and attack strategies, as well as the relationship between attackers and victims, as it would determine whether soldiers would use them to stab, slash or cut their enemies. This is important information for understanding the translation context in which a particular type of sword was used, especially in the military context of the Maccabees. It is therefore clear that a definite distinction should be made between the various Greek terms used in 1 and 2 Maccabees for "sword".
The ρομφαία was a longer type of sword, longer than one meter in length, with a broad blade that was only slightly curved, or even straight. The weapon was designed to serve as a stab and slashing weapon. The blade was fitted to a shaft or handle, which was only slightly shorter than the blade itself. The blade normally had only one cutting edge, although there were also some exceptions to this rule. It was a dreaded weapon because of its cutting or slashing power. The occurrences of the term ρομφαία in 1 and 2 Maccabees can be found in the context of the wars and battles in which the Jews were involved with the Seleucids and Ptolemies.
In ancient war contexts, the Greek sword, known as a μάχαιρα, refers to a weapon in the form of a short sword or dagger, of which the blade had a slightly curved cutting edge on the one side and was level on the opposite side. It was designed to serve as a cutting weapon rather than a stab weapon. More detailed research into the Maccabean war context indicates that during the first phase of the Maccabees, some Jewish units were equipped with shields and such swords, similar to the classic Tragians and Scythians. Various sizes and forms of μάχαιρα, which was regionally specific and not necessarily uniquely Greek in nature, were in circulation. In biblical literature, violent death during wars or persecution often occurs by μάχαιρα as a weapon. Although the contexts in which the term μάχαιρα is used in 1 and 2 Maccabees are also contexts of war, the impression here is more that of close combat. The fact that the term μάχαιρα is used only a third in contrast to the two-thirds of the occurrences of ρομφαία in 1-2 Maccabees, as well as the specific contexts of 1 Maccabees 3:12, 4:6 and 2 Mac 5:2-3, seems to create the impression that the μάχαιρα was probably a hand weapon that was not widely used by the Jews at the time of the books of Maccabees.
The ξίφος was a short stab sword or dagger with a narrow, double-edged blade and particularly sharp point. The term ξίφος is often generically applied in Aeolian or Attic Greek for a sword. It was especially used in hand-to-hand combat. The term ξίφος is not used in 1 Maccabees and occurs only twice in 2 Maccabees. It is clear from the context that ξίφος in these two instances refers to a short stab sword or dagger as a personal weapon.
During the investigation, it has become clear that the existing mainstream English, German and Afrikaans translation traditions have predominantly and consistently chosen to translate all three Greek terms almost without excepton generically as "sword". During the recent translation process of the new Afrikaans translation, this translation has largely succumbed to the peer pressure of existing translation traditions, but has still managed to take the first offensive steps in the area of the translation problem related to the sword as an ancient weapon. This was done by specifying the type of sword mentioned in the source text in a footnote in a few strategic places.
Keywords: 1-2 Maccabees, Apocrypha, Deuterocanonical books, Septuagint, sword, weaponry, context, translation
Opgedra aan Bernard Combrink
1. INLEIDING
Alle vorme van kommunikasie stel hoë eise aan sowel die sender van die boodskap as die ontvangers daarvan. Dat mense mekaar binne 'n gegewe tydruimtelike, sosiohistoriese en kultureel-linguistiese konteks probleemloos verstaan, is dikwels eerder die uitsondering as die reël. In alledaagse oudiovisuele kontak met mekaar dra verskeie faktore by tot die kompleksiteit van die kommunikasieproses - intonasie in stemtoon, spoed en pouserings, asook nieverbale lyftaal - en skep talle moontlikhede vir misverstand en wanbegrip tussen die deelnemende partye. Wanneer die kommunikasiekonteks verander word deur afstand in tyd en ruimte, sosiokulturele verskille en verskillende tale as kommunikasiemedia, wat boonop geskrewe tekste1 in gekodeerde vorm is,2 verdiep die kompleksiteit van die kommunikasie-proses sodanig dat die sender en ontvanger mekaar glad nie meer kan verstaan nie. Vertalers en tolke speel 'n mediale rol en poog om die kloof tussen die sender en ontvanger van die boodskap in die kommunikasieproses te oorbrug.3 Dit vereis dat 'n vertaler besondere vaardig-hede en kennis van die konteks van die bronteks én die doelteks moet hê. Hoe verder die bronteks van die vertaler verwyder is, hoe moeiliker sal dit wees om daardie konteks te beheers, en kan dit daartoe lei dat 'n groter misverstand juis vanweë die bykomende middelpersoon in die kommunikasieproses ontstaan.4
Bybelvertaling is geen uitsondering in soverre dit 'n kommunikasieproses is nie. Vertalers van Bybeltekste bevind hulle tussen twee wyd uiteenlopende tydruimtelike, sosiokulturele en linguistiese kontekste. Wat die Makkabeërboeke betref, verg dit grondige kennis van sowel die sosiolinguistiese konteks van die voor-Christelike Hellenistiese tydvak as die sosiokulturele, politieke en religieuse konteks waarin die Makkabeërboeke tot stand gekom het.5 Gedurende die onlangse vertaling van hierdie deuterokanonieke boeke uit hulle antieke Griekse uitgawes in hedendaagse, verstaanbare en sinvolle Afrikaans, het hierdie kommunikasiefenomeen weer eens 'n toonbeeld geword van die omvang van die kloof tussen die antieke en huidige konteks. Een van die grootste voordele van die vertaalproses wat in hierdie Bybelvertalingsprojek gevolg is, is dat verskeie spanne by die vertaalproses betrokke was. Die konsentrasie van kundiges wat as 'n span op verskeie terreine saamgewerk het, het vakwetenskaplike debatvoering en interaksie bevorder. Vanweë hul gespesialiseerde kennis kon die vertalers enersyds krities en konstruktief daartoe bydra om die teks as boodskap beter te verstaan en andersyds om die boodskap in hedendaagse, verstaanbare Afrikaans te formuleer. Dikwels het die kundiges hulle egter ook op relatief onbekende terreine bevind. So het die vertaler van die Makkabeërboeke te staan gekom voor die onbekende uitdaging van die antieke tegnologie, meer spesifiek, van die wapentuig wat in hierdie boeke ter sprake is.
2. DIE KWALIFISERING VAN "SWAARD" AS VERTAALPROBLEEM
Hierdie bydrae het ten doel om slegs een voorbeeld van die vertaalproblematiek betreffende die wapentuig in die Makkabeërboeke onder die loep te neem, naamlik dat die onderskeie betekenisse van ρομφαία, μάχαιρα en το ξίφος in die bronteks van Makkabeërs in die nuwe Afrikaanse vertaling na vore moet kom, en dat die woorde nie deurgaans met "swaard" vertaal moet word nie. Juis hierdie algemene term het telkens daartoe gelei dat lede van die vertaalspan spreekwoordelik swaarde gekruis het oor die voorstelling van wat 'n swaard is, of sou gewees het, asook die vertalingsekwivalent waarmee die onderskeie Griekse woorde vertaal behoort te word. Die verskeie vorme van hierdie militêre wapentuig is waarskynlik vir die gemiddelde Afrikaanssprekende persoon aan die suidpunt van Afrika in die 21e eeu redelik onbekend. Larson (1998:97) verwys na die "mismatching between the lexical items of two languages". Hy skryf:
It is this very mismatch which is the challenge for the translator who must find the best way to communicate the meaning of the source language in a receptor language which is often very different in its lexical inventory and different in how that inventory is grouped and divided.
In Afrikaans bestaan daar slegs een generiese woord vir die konsep swaard en verskeie soorte swaarde moet dikwels deur addisionele woorde beskryf word. Die vertaalprobleem word op die spits gedryf deur die verskillende woorde ρομφαία, μάχαιρα6 en ξίφος in Makkabeërs, sowel as die frekwensie van hierdie woorde in die boeke. Die belangrike vrae is: Onderskei die antieke outeur(s) doelbewus tussen hierdie terme en behoort die Bybelvertaler ook 'n onderskeid in Afrikaans te maak? Verwys die onderskeie terme dus na spesifieke soorte swaarde en is dit telkens belangrik vir die literêre konteks? Of word die terme in 'n algemene verband gebruik en is die afwisseling in wapentuigterme eerder die gevolg van 'n poging om stilistiese eentonigheid te vermy? Voorts, behoort daar in die vertaling van die terme telkens streng op die enkelvoud- en meervoudsvorme gelet te word, of dien die Griekse meervoudsvorm in die Makkabeërboeke ook soms as 'n idiomatiese versamelnaam wat deur die enkelvoudsvorm ("swaard") van die konsep in Afrikaans vertaal sou kon word? Deur die hele vertaalproses was daar geen eenstemmigheid onder die vertalers nie - vanaf die konsepdokument van die eksegeet as die eerste vertaler tot aan die einde van die proses, toe die meerderheid van die komiteelede 'n bepaalde vertaling goedgekeur het.
Wapentuig is konteksgebonde en is deur die geskiedenis ontwerp om te voldoen aan krygers se behoeftes onder spesifieke omstandighede. Op grond hiervan het Fretz (1992:893) reg as hy meen dat "weapons cannot be understood apart from the context of warfare within which they are employed". So is byvoorbeeld verskillende soorte swaarde vir 'n verskeidenheid gebruike in die Antieke Nabye Ooste ontwikkel. Fretz (1992:894) identifiseer onder andere die volgende:
(1) the sickle sword whose convex edge was sharp and intended for striking (Josh 10:2839); (2) the long, straight-blade two-edged sword which could stab as well as strike the enemy (Ps 149:6); and (3) the short two-edged sword or dagger. (Judg 3:16)
Die lengte van die wapen was belangrik, aangesien dit bepaal het of die soldaat die vyand daarmee sou steek, sny of kap. Die tipe wapentuig onthul ook belangrike kontekstuele inligting oor die aard van die konfrontasie en die aanvalstrategie, asook die onderlinge verhouding tussen die aanvaller en die slagoffer.7 Hierdie inligting is belangrik om die konteks te verstaan waarin 'n bepaalde tipe swaard gebruik is, veral in die militêre konteks van die Makkabeër-boeke. Dit is dus duidelik dat daar 'n besliste onderskeid getref behoort te word tussen die verskillende Griekse terme wat in 1 en 2 Makkabeërs moontlik met "swaard" vertaal kan word.
3. DIE ρομφαία AS SWAARD
3.1 'n Lang swaard met 'n breë lem as steek- of kapwapen
Die tipe swaard wat in die Griekssprekende wêreld as ρομφαία bekend was, is veral deur die Trasiërs8 en Dasiërs gedurende die vyfde tot die derde eeu v.C. gebruik. Dit was soortgelyk aan die Romeinse "valk", wat later deur die Romeine onder die invloed van die Grieks-Dasiese ρομφαία ontwikkel is. Dit was 'n groot tipe sekelswaard met 'n steel wat byna net so lank as die lem self was. Die ρομφαία was 'n lang swaard,9 langer as een meter, met 'n breë lem (Bar-Kochva 1989:16) wat effens geboë, of selfs reguit was. Die wapen is ontwerp om as 'n steeken kapwapen te dien.10 Die lem is geheg aan 'n steel of handvatsel wat ietwat korter as die lem self was. Die lem het normaalweg slegs een snykant gehad, alhoewel daar ook bewyse bestaan van enkele uitsonderings op hierdie reël.11 Dit was 'n gevreesde wapen vanweë sy sny- of kapkrag. Op 'n reliëf in die tempel van Athena by Pergamon kan duidelik gesien word hoedat die wapen aan die regterkant van 'n soldaat se sy, in die skede agter sy rug, maar met die handvatsel binne bereik, uitsteek (Bar-Kochva 1989:575). Ook op die grafsteen van 'n Trasiese ruiter-soldaat uit die tweede eeu v.C. is die skede vir die lang swaard aan sy regtersy duidelik sigbaar (Bar-Kochva 1989:576). Bar-Kochva (1989:120) beskryf die funksie van die ρομφαία soos volg:
the broad, long sword - was most suitable for countering the dangerous congregation of masses of people in urban areas, being 'demonstration dispersal' or 'crowd control' equipment of a sort. At various stages of the Revolt, especially at the beginning, these mobs constituted the greatest danger to the security of the representatives of the central authorities and their henchmen in Jerusalem and other places.
Die Griekse woordeboeke weerspieël diverse betekenismoontlikhede vir ρομφαία, wat uiteraard verskeie vertaalmoontlikhede ontsluit. Die etimologiese ontwikkeling van die term dui daarop dat die betekenis aanvanklik soortgelyk aan die betekenis "spies" was,12 maar dat dit later meer algemeen op "swaard" gedui het (Kassühlke & Newman 1997:168; Arndt 1979:737), of selfs in 'n simboliese sin op oorlog.13 Die woord is relatief skaars in buite-Bybelse literatuur, terwyl dit meer dikwels in die Septuagint opduik.
3.2 ρομφαία in 1-2 Makkabeërs en vertaaltendense
Die term ρομφαία word dertien keer in 1 en 2 Makkabeërs gebruik, maar kom slegs twee keer in 2 Makkabeërs voor. Dit word op die volgende plekke aangetref: 1 Makkabeërs 2:9, 3:3, 4:15, 4:33, 5:28, 5:51, 7:38, 7:46, 8:23, 9:73 en 12:48; asook 2 Makk 15:15, 16. Die term ρομφαία in 1 en 2 Makkabeërs kom voor in die konteks van die oorloë en veldslae tussen die Judeërs aan die een kant en die Seleukiede en Ptolemeërs aan die ander.
Die meeste bekende Engelse vertalings van die deuterokanonieke boeke verkies om die term ρομφαία oral waar dit in 1 en 2 Makkabeërs voorkom, generies met "sword" te vertaal. Dit sluit die Apocrypha: King James Version (KJV)14 en New Revised Standard Version (NRSV)15 in, asook Charles (1913) se ou bekende werk, Apocrypha of the Old Testament. Selfs die New English Translation of the Septuagint (NETS) (Pietersma & Wright 2007) volg dieselfde generiese patroon en vertaal die term ρομφαία oral as "sword". Die tendens blyk ook duidelik uit Doran (2012:287) se kommentaar op 2 Makkabeërs in die Hermeneia-reeks.
Onder die Duitse vertalings van die deuterokanonieke boeke leef die tendens voort om ρομφαία deurgaans in 1 en 2 Makkabeërs generies met "Schwert" te vertaal. Dit sluit die kommentaar van Tilly (2015) op 1 Makkabeërs in, asook die Septuaginta Deutsch (LXX.D) (Kraus & Karrer 2009), die Einheitsübersetzung 2016 (EÜ2016)16 en die Lutherbibel 2017 (LB2017).17 In twee gevalle het die LB2017 die term egter anders vertaal, te wete in 1 Makkabeërs 2:9 ("die jungen Männer sind von den Feinden erstochen") en in 1 Makkabeërs 5:51 ("Und er ließ alles, was männlich war, erstechen"), met die klem eerder op die handeling as op die instrument self. Die EÜ2016 het in 'n enkele geval gekies om ρομφαία in figuurlike sin met "wapens" - soos in "wapenstilstand" - te vertaal (sien 1 Makk. 9:73 - "Darauf ruhten in Israel die Waffen"). Dit is opvallend dat daar geen verklarende aantekeninge by enigeen van hierdie verwysings in die Septuaginta Deutsch - Erläuterungen und Kommentare (Karrer & Kraus 2011) aangebied word waar ρομφαία in Makkabeërs voorkom nie.
Die 1933/53-Bybelvertaling met die Deuterokanonieke boeke (AFR53DK)18 het dieselfde tendens gevolg as die Engelse en Duitse vertalings hierbo deur ρομφαία konsekwent generies as "swaard" te vertaal. Andersyds poog die populêre, vrye Afrikaanse vertaling van die Apokriewe (Van der Watt & Tolmie 2005) om telkens eerder die algemene strekking van die teks in parafrasevorm te kommunikeer as om brontaalgetrou 'n letterlike vertaling aan te bied. Dit lei dikwels tot die formulering van algemene stellings oor spesifieke gebeure, sonder om noodwendig die gedetailleerde, feitelike verloop daarvan te omskryf. Voorbeelde in 1 Makkabeërs is: "Die stadigstes is doodgemaak" (4:15); "hulle het al die mans doodgemaak" (5:51); en "hulle het al die soldate doodgemaak" (12:48). Daar is geen verwysing na ρομφαία in die bronteks as wapentuig of aanvalstrategie nie, terwyl daar wel in 2:9, 5:28 en 7:38, 46 ten regte gespesifiseer word dat die mans "met swaarde" doodgemaak word, ongeag watter tipe swaard of watter soort aanvalstrategie ter sprake was. In 1 Makkabeërs 8:23 (nou vers 24) word ρομφαία in figuurlike sin geïnterpreteer en generies as "oorlog" vertaal. Hierdie interpretasie loop uit op die volgende parafrase van 1 Makkabeërs 9:73: "Dit was die einde van hierdie periode van oorlog in Israel" vir die bronteks se ρομφαία wat in Israel "tot rus gekom het".
3.3 Die Afrikaanse Bybelvertaling (ABV) se vertaalbesluit oor ρομφαία
Tydens die vertaalproses van die ABV en die bewuswording van die verskeidenheid van Griekse terme wat met "swaard" vertaal kan word, asook die onderlinge verskille in die vorm van die wapentuig en aanvalstrategieë, moes die Redaksionele Komitee oor die Deutero-kanonieke Boeke besluit hoe om ρομφαία in Afrikaans weer te gee. Uiteindelik het hulle besluit om in die ABV slegs in voetnote by 1 Makkabeërs 2:9 en 4:15 aan te dui dat dit hier oor 'n "lang swaard" handel. Die meerderheid van die komiteelede het die soort spesifisering in die ander gevalle oorbodig geag.
4. DIE μάχαιρα AS SWAARD
4.1 'n Kort snyswaard as sny- of steekwapen
Die Griekse swaard wat as 'n μάχαιρα bekend was, is aanvanklik deur die Griekse digter Homeros as 'n groot huishoudelike tipe kerfmes beskou. Later in die antieke Griekse literatuur word dit dikwels met 'n groot vleismes geïdentifiseer (Liddell 1996:489). Tydens die term se etimologiese ontwikkeling verkry dit 'n redelik wye betekenis, sodat dit mettertyd as algemene term vir amper elke soort mes of swaard kon dien - selfs vir 'n chirurg se skalpel.19 In die antieke krygskonteks verwys dit egter na 'n wapen (Michaelis 1964a:524-527), dikwels in die vorm van 'n kort swaard of dolk (ongeveer 41 cm)20 waarvan die lem eensnykantig was, met die snykant effens krom en aan die rugkant gelyk.21 Dit was ontwerp om as 'n snywapen eerder as 'n steekwapen te dien. Meer gespesifiseerde navorsing oor die oorlogskonteks van die Makkabeërs dui daarop dat, tydens die eerste fase van die Makkabeëropstand, sommige Joodse eenhede toegerus is met skilde en swaarde soortgelyk aan dié van die Trasiërs en Skitiërs. Bar-Kochva (1989:68-69) skryf:
With that equipment it was possible to carry out bold attacks against semi-heavy forces, including cavalry. Nevertheless, it was not enough to make possible a frontal battle on level terrain against heavy troops who with their long pikes could easily prevent the Jews from engaging in hand-to-hand combat.
So brei ook die antieke Griekse geskiedskrywer Polibius (ca. 200-118 v.C.) byvoorbeeld uit oor die swaard (μάχαιρα) van die Galliërs (Γάλάται), 'n Keltiese (Κελτοί) groep, in gevegte teen die Romeine. Hy skryf:
αϊ τε μάχαιραι ταΐς κατασκευαΐς, καθάπερ εί'ρηται πρότερον, μίαν εχουσι την πρώτην καταφοράν καιρίαν, άπο δέ ταύτης ευθέως άποξυστροΰνται, καμπτόμεναι κατά μήκος και κατά πλάτος έπι τοσούτον ώστ' έάν μη δω τις άναστροφην τοΐς χρωμένοις έρείσαντας προς την γήν άπευθΰναι τω ποδί, τελέως άπρακτον είναι την δευτέραν πληγην αύτων (Historiae 2.33.3).22
Teen die agtergrond van hierdie kennis was die strategie van die Romeine om hulle spiesdraers vanaf die derde linie (Triarii - τριάριοι) na die voorste linie te verskuif. Wanneer die Kelte in 'n aanval teen die spiese weerstand moes bied, het hulle hul μάχαιραι onbruikbaar gebuig. Die opdrag aan die voorste linies (Hastati - πρώται) van die Romeine was om eers nadat hulle hul spiese ontplooi het, hul swaarde (τά ξίφη) in die agtervolging van die Kelte te gebruik (Historiae 2.33.4). Die onderskeid tussen die soorte swaarde as die wapentuig van verskillende groepe, asook die kwaliteit en funksie daarvan, kom hieruit duidelik na vore.
Uit Polibius se verdere beskrywing wil dit voorkom asof die Kelte se swaarde (μάχαιραι) en die Romeine se swaarde (μάχαιραι) in hierdie veldslag duidelik van mekaar verskil het. Polibius beskryf die onderskeid soos volg: Nadat die Galliërs (Kelte) hulle swaarde (αϊ μαχαίραι) onbruikbaar teen die spiesstele van die Romeine geslaan het, was hulle magteloos en nie meer in staat om met kaphoue aan te val nie. Kaphoue was volgens Polibius die enigste bekende aanvalshou onder die Galliërs. Die rede wat aangevoer word, is dat die swaard, of lem (το ξίφος), geen skerp punt gehad het nie. Die Romeine se swaarde (αϊ μαχαίραι), daarenteen, het skerp punte gehad en kon effektief gebruik word om die vyand herhaaldelik in die bors of gesig te steek (Historiae 2.33.5-6).
Een van die spesifieke verdere funksies van die μάχαιρα was om dit as offermes (Lust, Eynickel & Hauspie 2003)23 of slagswaard te gebruik. Verskeie groottes en vorme van μάχαιρα was in omloop. Dit was streeksbepaald en nie noodwendig suiwer Grieks van aard nie. Gewelddadige dood tydens oorloë of vervolging kom dikwels in die Bybelse literatuur voor deur die μάχαιρα as wapen te gebruik.24
4.2 μάχαιρα in 1-2 Makkabeërs en vertaaltendense
Die term μάχαιρα word vier keer in die Makkabeërboeke gebruik, drie keer in 1 Makkabeërs en slegs een keer in 2 Makkabeërs. Dit word in die volgende verse aangetref: 1 Makkabeërs 3:12, 4:6, 10:85 en 2 Makkabeërs 5:2-3. Alhoewel die konteks waarin die term μάχαιρα gebruik word in 1 en 2 Makkabeërs eweneens dié van oorlog is, word die indruk hier geskep dat die konfrontasie van aangesig tot aangesig plaasvind. In 1 Makkabeërs 3:12 neem Judas die persoonlike wapen (μάχαιρα) van Apollonius en gebruik dit as sy eie persoonlike wapen vir die res van sy lewe.25 In 1 Makkabeërs 4:6 gaan dit oor die persoonlike wapentoerusting van die individuele soldate van die vyand, naamlik oor harnasse en μάχαιραν, waaroor Judas se manskappe nie beskik het nie. In 2 Makkabeërs 5:2-3 handel dit oor 'n bonatuurlike verskynsel waarin perderuiters met goue klere deur die lug jaag terwyl hulle bewapen is met lanse en ontblote μαχαιρών. Die frekwensie van die term μάχαιρα is slegs eenderde van dié van die term ρομφαία in hierdie twee Makkabeërboeke. Die frekwensie én die spesifieke konteks van 1 Makkabeërs 3:12, 4:626 en 2 Makkabeërs 5:2-3 skep die indruk dat μάχαιρα waarskynlik 'n handwapen was wat in die Makkabeërtyd nie algemeen onder die Judeërs in gebruik was nie.
Soos in die geval van ρομφαία, kies die meeste bekende Engelse vertalings van die deuterokanonieke boeke om die term μάχαιρα deurgaans in al vier gevalle (1 Makk. 3:12; 4:6; 10:85; 2 Makk. 5:2-3) met die generiese term "sword" te vertaal. Dit sluit weer eens die KJV en NRSV in, asook Charles (1913) se Apocrypha of the Old Testament. Dieselfde geld vir Doran (2012:287) se Hermeneia-kommentaar op 2 Makkabeërs, waarin μάχαιρα ook generies met "sword" vertaal is. NETS is hier egter meer gediversifiseer en vertaal die term μάχαιρα in 1 Makkabeërs met "dagger", hoewel die woord deurgaans gebruik word, terwyl dit in die enkele voorkoms van 2 Makkabeërs onvertaald gelaat of omseil word.
Dieselfde tendens, soos in die geval van ρομφαία, is waarneembaar in die Duitse vertalings van μάχαιρα in 1 en 2 Makkabeërs. Ook hier word die term konsekwent en generies met "Schwert" vertaal in die kommentaar van Tilly (2015) op 1 Makkabeërs, asook in die LXX.D (Kraus & Karrer 2009). Geen verklarende aantekeninge word aangebied in die Erläuterungen und Kommentare (Karrer & Kraus 2011) van die Septuaginta Deutsch by enige van die tekste waar μάχαιρα in 1-2 Makkabeërs voorkom nie. Met die uitsondering van 1 Makkabeërs 4:6 (waar die term generies met gewapen ["bewaffnet"] vertaal word), volg die EÜ2016 en die LB2017 albei die gebruik om μάχαιρα met "Schwert" te vertaal. Hierbenewens toon die LB2017 verdere diversifisering deur ook in die geval van 1 Makkabeërs 10:85 eerder generies te verwys na "die Zahl der Erschlagenen" as letterlik na "die Anzahl der durch das Schwert Gefallenen", soos in die geval van die LXX.D.
Die 1933/53 Afrikaanse Bybelvertaling met die Deuterokanonieke boeke (AFR53DK) volg ook hier dieselfde tendens as die Engelse en Duitse vertalings, deur μάχαιρα konsekwent generies met "swaard" te vertaal en dit nie van die term ρομφαία te onderskei nie. Getrou aan die parafraserende karakter van die Afrikaanse Apokriewe, word μάχαιρα ook (soos in die geval van ρομφαία) in 1 Makkabeërs 10:85 figuurlik geïnterpreteer en generies vertaal met "wat in die oorlog dood is", sonder enige verwysing na μάχαιρα as 'n wapentuig of 'n spesifieke aanvalstrategie. Die vermelding in die bronteks van 1 Makkabeërs 4:6 dat "hulle nie beskik het oor die harnasse en swaarde (μαχαίραι) wat hulle nodig gehad het nie," word in die Apokriewe soos volg geparafraseer: "Hulle het egter nie al die wapens gehad wat hulle graag sou wou hê nie."
4.3 Die ABV se vertaalbesluit oor μάχαιρα
Ten spyte daarvan dat die ABV se Redaksionele Komitee oor die Deuterokanonieke Boeke kennis geneem het van verskeie Griekse terme vir "swaard", word daar onder die meerder-heidsdruk van bestaande vertalings besluit om μάχαιρα konsekwent steeds generies met "swaard" te vertaal, sonder om te spesifiseer van watter tipe wapentuig of aanvalstrategie hier telkens sprake sou wees.
5. DIE ξίφος AS SWAARD
5.1 'n Kort steekswaard of dolk
Die ξίφος was 'n kort steekswaard (Woodhouse 1910:849-850) of dolk, met 'n smal tweesnydende lem en besondere skerp punt. Die term ξίφος word dikwels generies in Aeoliese of Attiese Grieks vir 'n swaard gebruik (Liddell 1996:540). Dit is veral in man-teen-man-gevegte gebruik. Die term ξίφος word soms in die leksikale kategorieë van woordeboeke metafories verstaan (Woodhouse 1910:849-850). In LXX Josua duik dit veral in Josua 10 op (Jos. 10:28, 30, 32, 33, 35) (Lust, Eynikel & Hauspie 2003).
5.2 ξίφος in 1-2 Makkabeërs en vertaaltendense
Die term ξίφος word nie in 1 Makkabeërs gebruik nie en kom slegs twee keer voor in 2 Makkabeërs, naamlik 2 Makkabeërs 12:22 en 14:41. Dat dit in hierdie twee gevalle van ξίφος oor 'n kort steekswaard of dolk as persoonlike wapen handel, word algaande duidelik. In 2 Makkabeërs 12:22 handel dit oor die wapentuig van Judas Makkabeus se vyand. Wanneer die vyand by Karnion op die vlug slaan, word hierdie vyand dikwels deur hulle eie manne beseer en deur die punte van hulle eie ξιφών deurboor. In 2 Makkabeërs 14:41 word berig oor die selfdood van Razis, een van die oudstes van Jerusalem met die bynaam "Vader van die Judeërs". Nikanor het soldate gestuur om Razis te arresteer. Hy het in 'n toring geskuil, en terwyl hy van alle kante deur Nikanor se soldate omsingel was, het hy sy eie lewe geneem deur homself met sy eie ξίφος te deurboor.
'n Interessante geval van ξίφος kom voor in enkele variante lesings van 1 Makkabeërs 6:46. Hier gebruik Eleasar 'n ξίφος om onder die olifant die dier se maag te deurboor. Die teksgetuies wat hierdie lesing ondersteun, is onder andere die Lukiaanse LXX-weergawe, twee minuskelmanuskripte, asook sommige manuskripte van die Oud-Latynse vertaling en die Siriese vertaling. Die vermoede is dat dit hier moontlik oor 'n glos handel, met moontlike sinspeling op die Hebreeuse teks van Rigters 3:21 (Bar-Kochva 1989:336).
Onder die Engelse vertalings van die deuterokanonieke boeke kies Charles (1913) se Apocrypha of the Old Testament, asook Doran (2012:287) se Hermeneia-kommentaar op 2 Makkabeërs, deurgaans die generiese vertaling "sword" vir ξίφος, soos wat dikwels die geval is met ρομφαία en μάχαιρα. Geen onderskeid in die aard van wapentuig of aanvalstrategie word hier verreken nie. Dieselfde tendens geld ook vir die vertalings van die KJV en die NRSV. Soos reeds in die geval van 'n vorige voorbeeld, is NETS ook hier ietwat meer gediversifiseer en vertaal die term ξίφος in 2 Makkabeërs konsekwent met "rapier", wat as 'n tweesnydende swaard met 'n smal lem verstaan word.
Onder die Duitse vertalings kies sowel die LB2017, as die EÜ2016 en die LXX.D (Kraus & Karrer 2009), konsekwent die generiese vertaling van "Schwert" vir ξίφος in 2 Makkabeërs. Voorts word ook geen verklarende aantekeninge aangebied by enige van hierdie verwysings waar ξίφος in 2 Makkabeërs in die Septuaginta Deutsch - Erläuterungen und Kommentare (Karrer & Kraus 2011) voorkom nie.
Onder die Afrikaanse Bybelvertalings volg sowel die AFR53DK as die Afrikaanse Apokriewe (Van der Watt & Tolmie 2005) konsekwent die generiese vertaling "swaard" vir die term ξίφος in 2 Makkabeërs, sonder om aan te dui of dit 'n wapentuig of aanvalstrategie was.
5.3 Die ABV se vertaalbesluit oor ξίφος
Soos in die geval van die vorige twee terme (ρομφαία en μάχαιρα) vir die swaard as wapentuig, het die ABV se Redaksionele Komitee ook hier onder die meerderheidsdruk van bestaande vertalings besluit om ξίφος in albei gevalle in 2 Makkabeërs generies met "swaard" te vertaal, sonder om te spesifiseer van watter tipe wapentuig of aanvalstrategie daar telkens sprake was.
6. KONKLUSIE
Dit is duidelik uit die bostaande ondersoek dat die oorlog - metafories gesproke - oor die vertaling van die terme ρομφαία, μάχαιρα en ξίφος in die praktyk van Bybelvertaling nog lank nie verby is nie. Die NAV tel onder verskeie vertalings (minstens in Engelse en Duitse vertaaltradisies) waarin die weg van die minste weerstand gevolg is, deur alle soorte antieke swaarde uit die Hellenistiese tydvak saam te bondel en gewoon generies met "swaard" te vertaal. Die groepsdruk van ander bestaande Bybelvertalings, waaronder ook die NAV, uiteindelik grotendeels geswig het, laat duidelik blyk hoedat hedendaagse Bybelvertalings -hoe bronteksgetrou hulle ook al probeer wees - moeilik uit die greep van die vertaaltradisie as metakonteks kan ontsnap. Ten spyte van die tradisieoormag het die NAV nietemin daarin geslaag om die eerste offensiewe treë te gee op die terrein van die vertaalproblematiek betreffende die swaard as antieke wapentuig. Dit is gedoen deur op enkele strategiese plekke by wyse van 'n voetnoot die tipe swaard waarvan in die bronteks sprake is, te spesifiseer.
BIBLIOGRAFIE
Arndt, W. 1979. A Greek-English Lexicon of the New Testament and other early Christian literature. Chicago: University of Chicago Press. [ Links ]
Bar-Kochva, B. 1989. Judas Maccabeus: The Jewish struggle against the Seleucids. Cambridge: University Press. [ Links ]
Bibel. 2016. Einheitsübersetzung: Altes und Neues Testament. Stuttgart: Katholische Bibelanstalt. [ Links ]
Bibel. 2017. Die Bibel nach Martin Luthers Übersetzung (rev. mit Lemmatisierung). Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft. [ Links ]
Bible. 1995. Apocrypha: King James Version. Bellingham: Logos Research Systems. [ Links ]
Bible. 2001. New revised standard version: Catholic edition. Nashville, TN: Liturgical Press. [ Links ]
Brown, J.K. 2007. Scripture as communication. Grand Rapids, MI: Baker Academic. [ Links ]
Büttner-Wobst, T. & Dindorf, L. 1893. Polybius: Historiae. Medford: Teubner. [ Links ]
Bybel. 1998. Die Bybel met Deuterokanonieke boeke: Afrikaans 1933/1953-weergawe. Roggebaai: Bybelgenootskap van Suid Afrika. [ Links ]
Charles, R.H. (ed.). 1913. Apocrypha of the Old Testament. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Doran, R. 2012. 2 Maccabees: A critical commentary. Minneapolis, MN: Fortress Press. (Hermeneia). [ Links ]
Fretz, M.J. 1992. Weapons and implements of warfare. In Freedman, D.N. (ed.). The Anchor Yale Bible dictionary. New York, NY: Doubleday, p. 893. [ Links ]
Hatin, B. & Mason, I. 1997. The translator as communicator. London: Routledge. [ Links ]
House, J. 2015. Translation as communication across languages and cultures. New York, NY: Routledge. [ Links ]
Karrer, M. & Kraus, W. (eds). 2011. Septuaginta Deutsch: Erläuterungen und Kommentare, Bd. 1. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft. [ Links ]
Kassühlke, R. & Newman, B.M. 1997. Kleines Wörterbuch zum Neuen Testament: Griechisch-Deutsch. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft. [ Links ]
Katan, D. 1999. Translating cultures: An introduction for translators, interpreters and mediators. Manchester: St. Jerome. [ Links ]
Kraus, W. & Karrer, M. (Hgs.). 2009. Septuaginta Deutsch: Das griechische Alte Testament in Deutscher Übersetzung. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft. [ Links ]
Larson, M.L. 1998. Meaning-based translation: A guide to cross-language equivalence. New York, NY: University Press of America. [ Links ]
Liddell, H.G. 1996. A Lexicon: Abridged from Liddell and Scott's Greek-English Lexicon. Oak Harbor, WA: Logos Research Systems. [ Links ]
Louw, J.P. & Nida, E.A. 1996. Greek-English Lexicon of the New Testament based on semantic domains. New York, NY: United Bible Societies. [ Links ]
Lust, J., Eynikel, E. & Hauspie, K. 2003. A Greek-English lexicon of the Septuagint (rev. ed.). Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft. [ Links ]
Lust, J. 2008. Multiple translators in LXX-Ezekiel? In Karrer, M. & Kraus, W. (Hgs.). Die Septuaginta: Texte, Kontexte, Lebenswelten. Tübingen: Mohr-Siebeck, pp. 654-669. [ Links ]
Matson, D.L. 2018. Double-Edged: The Meaning of the two swords in Luke 22:35-38. Journal of Biblical Literature 137(2):463-480. [ Links ]
Maxwell-Hyslop, R. 1946. Daggers and swords in Western Asia: A study from prehistoric times to 600 B.c. Iraq 8:1-65. [ Links ]
Michaelis, W. 1964a. Μάχαιρα. In Kittel, G., Bromiley, G.W. & Friedrich, G. (eds). Theological dictionary of the New Testament. Grand Rapids, MI: Eerdmans, pp. 524-527. [ Links ]
Michaelis, W. 1964b. ρομφαία. In Kittel, G., Bromiley, G.W. & Friedrich, G. (eds). Theological dictionary of the New Testament. Grand Rapids, MI: Eerdmans, pp. 993-998. [ Links ]
Orr, J. 1915. Armor. In Orr, J. (ed.). International standard Bible encyclopedia, vol. 1. Chicago: Howard- Severance Company, pp. 251-254. [ Links ]
Paton, W.R. 2010. Polybius: The Histories, Books 1-2. Harvard: University Press. (Loeb classical library, 128). [ Links ]
Pietersma, A. & Wright, B.G. (eds). 2007. A New English translation of the Septuagint. New York, NY: Oxford University Press. [ Links ]
Snell-Hornby, M., Jettmarova, Z. & Kaindl, K. (eds). 1995. Translation as intercultural communication. Amsterdam: John Benjamins. [ Links ]
Snodgrass, A. 1964. Early Greek armour and weapons from the end of the Bronze Age to 600 B.C. Edinburgh: University Press. [ Links ]
Steyn, G.J. 2015. The Maccabean literature and Hebrews: Some intertextual observations. Journal for Semitics, 24(1):271-291. [ Links ]
Tilly, M. 2015. 1 Makkabäer. Freiburg: Herder. (Herders Theologischer Kommentar zum Neuen Testament). [ Links ]
Tonkin, H. & Frank, M.E. (eds). 2010. The translator as mediator of cultures. Amsterdam: John Benjamins. [ Links ]
Van der Watt, J.G. & Kruger, Y. 2002. Some considerations on Bible translation as complex process. In Naudé, J.A. & Van der Merwe, C.J.H. (eds). Contemporary translation studies and Bible translation: A South African perspective. Bloemfontein: University of the Free State, pp. 118-139. (Acta Theologica Supplementum, 2). [ Links ]
Van der Watt, J.G. & Tolmie, F. 2005. Apokriewe, Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd. Vereeniging: CUM. [ Links ]
Windisch, H. 1909. Der messianische Krieg und das Urchristentum. Tübingen: Mohr-Siebeck. [ Links ]
Woodhouse, S.C. 1910. English-Greek dictionary: A vocabulary ofthe Attic language. London: George Routledge. [ Links ]
Ontvang: 2020-02-05
Goedgekeur: 2020-05-12
Gepubliseer: Desember 2020
Gert Jacobus Steyn voltooi doktorsgrade in sowel Nuwe Testament (Pretoria) as in Bybeltale (Stellenbosch). Hy doseer aan die Universiteite van Suid-Afrika (1987-90), Johannesburg (1994-2003) en Pretoria (2003-207), asook die Federal Theological Seminary of Southern Africa (1992-1993), alvorens hy in 2017 as Professor vir Nuwe Testamentiese Eksegese en Teologie aan die Theologische Hochschule Ewersbach, Duitsland, aangestel word. Hy dien as Rektor van die Theological Education by Extension College (1993-2000) en as Hoof van die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap aan UP (201017).
Sy vakwetenskaplike navorsingsuitsette sluit 173 publikasies in, waaronder boeke en hoofstuk-ke in boeke, talle eweknie-geëvalueerde vakartikels, ensiklopediese inskrywings en boek-resensies, asook deelname aan vier Bybel-vertalings. Hierbenewens het 19 PhD- en 33 meestersgraadstudente uit verskeie lande hulle studie suksesvol onder sy leiding voltooi.
Steyn verwerf verskeie navorsingstoeken-nings en posisies, waaronder die Deutscher Akademischer Austauschdienst, Alexander von Humboldt Stiftung, Universiteit van Pretoria Buitengewone Akademiese Presteerderstoekenning, 'n B-gradering van die SA Nasionale Navorsingstigting (sedert 2011), navorsings-genoot van die Kirchliche Hochschule in Wuppertal, lid van die internasionale SNTS (sedert 1999), voormalige Voorsitter van die Nuwe Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en stigterslid van die Septuagint-Werkgemeenskap van Suid-Afrika.
Gert Jacobus Steyn completed doctorates in both New Testament (Pretoria) and Biblical Languages (Stellenbosch). He lectured at the Universities of South Africa (1987-90), Johannesburg (1994-2003) and Pretoria (2003-17), as well as the Federal Theological Seminary of Southern Africa (1992-93), after which he was appointed as Professor for New Testament Exegesis and Theology at the Theologische Hochschule Ewersbach, Germany, in 2017. He served as Rector ofthe Theological Education by Extension College (1993-2000) and as Head of the Department ofNew Testament Studies at UP (2010-17).
His scholarly research output consists of 173 publications, including books and chapters in books, numerous peer-reviewed articles, encyclopaedic entries and book reviews, as well as participation in four projects regarding translations of the Bible. In addition, 19 PhD and 33 master's students from several countries successfully completed their studies under his supervision.
Steyn holds several research awards and positions, among which the Deutscher Akademischer Austauschdienst, Alexander von Humboldt Stiftung, University of Pretoria Exceptional Academic Achiever's Award, South African NRF B-rated position (since 2011), research associate of the Kirchliche Hochschule in Wuppertal, member of the international SNTS (since 1999), former President of the New Testament Society of South Africa and founding member of the Septuagint Society of South Africa.
1 Sien Brown (2007:13-14): "The author is the one who communicates; the text is the vehicle or act of communication; and the reader is the one who is addressed and who responds."
2 Van der Watt & Kruger (2002:139) konkludeer byvoorbeeld hieroor: "The decoding of the source text should be approached with reference to all the relevant elements that contribute to the creation of meaning."
3 Sien byvoorbeeld House (2015); Tonkin & Frank (2010); Katan (1999); Snell-Hornby, Jettmarova & Kaindl (1995).
4 Hatin & Mason (1997:1) herinner vertalers aan die volgende: "The translator is, of course, both a receiver and a producer."
5 Dit sluit uiteraard ook die resepsiegeskiedenis van die Makkabeërboeke in, veral soos dit gemani-festeer word op linguistiese vlak in die vorm van intertekstualiteit. Sien onder andere Steyn (2015:271-291).
6 Lust (2008:661) identifiseer dieselfde vertaalprobleem in Engels en Duits as hy in 'n studie oor Esegiël opmerk: "In these matters, a comparison with LXX-Deutsch and EPL is not very useful, since ρομφαία and μάχαιρα are translated by one and the same word, both in German and in English, respectively Schwert and sword."
7 Fretz (1992:893) bied 'n kort oorsig van literatuur hieroor. Veral interessant is die werke van Maxwell-Hyslop (1946:1-65), Snodgrass (1964) en Bar-Kochva (1989).
8 Sien die besprekings in Bar-Kochva (1989:16), Liddell (1996:719), Arndt (1979:737), Michaelis (1964b:993-998) en Orr (1915:252).
9 Sien byvoorbeeld Michaelis (1964b:993): "ρομφαία is obviously a larger sword". Ook ander bevestig die beskrywing: Matson (2018:470), Liddell (1996:719), Arndt (1979:737) en Orr (1915:252).
10 Sien Matson (2018:470).
11 Sien byvoorbeeld LXX Ps 149:6, waar daar sprake is van ρομφαΐαι δίστομοι; Sir 21:3, wat verwys na ρομφαία δίστομος, asook Openbaring 2:12, waar daar verwys word na die ρομφαία as "'n skerp en tweesnydende swaard" (δίστομος και όξεΐα).
12 Michaelis (1964:994) is van mening dat "the way these Thracian ρομφαΐαι were carried it would seem that they were lances, spears, or javelins, not swords..." Orr (1915:252) maak 'n soortgelyke opmerking.
13 Soos byvoorbeeld Jeremia 51 (LXX 44):18 volgens Lust, Eynikel & Hauspie (2003). Sien ook Semantiese Domein 55.6 in Louw & Nida (1996:217-218).
14 Sien Bible (1995) in Bibliografie vir bibliografiese besonderhede.
15 Sien Bible (2001) in Bibliografie vir bibliografiese besonderhede.
16 Sien Bibel (2016) in Bibliografie vir bibliografiese besonderhede.
17 Sien Bibel (2017) in Bibliografie vir bibliografiese besonderhede.
18 Sien Bybel (1998) in Bibliografie vir bibliografiese besonderhede.
19 Dit is een van die interpretasiemoontlikhede van Hebreërs 4:12.
20 Vergelyk Rigters 3:16, asook die beskrywings van Matson (2018:470), Lust, Eynikel & Hauspie (2003), Liddell (1996:489), Michaelis (1964:524-527) en Windisch (1909).
21 Soos met die ρομφαία, is daar ook met die μάχαιρα uitsonderings op die reël met enkele verwysings na 'n tweesnydende swaard (μάχαιρα δίστομος) in die literatuur. Sien ook Rigters 3:16, Spreuke 5:4 en Hebreërs 4:12.
22 Teks en vertaling deur Paton (2010) en Büttner-Wobst & Dindorf (1893).
23 Sien byvoorbeeld Genesis 22:6, 10. Hierdie moontlikheid word ook in die interpretasie van Hebreërs 4:12 oorweeg.
24 Sien byvoorbeeld Genesis 31:26, 1 Konings 19:1 (Heb. 11:34), 1 Konings 19:10, Jeremia 26:23 (Heb. 11:37), Romeine 8:35, Matteus 10:34, Sib. Or. 8, 120, asook Kassühlke en Newman (1997:118), Arndt (1979:496) en Michaelis (1964:524-527).
25 Die ooreenkoms met 1 Samuel (1 Kon. LXX) 17:51 en 21:10 is algemeen bekend. In die bestaande LXX-weergawes neem David egter Goliat se ρομφαία.
26 Bar-Kochva (1989:68) konkludeer presies dieselfde aan die hand van 1 Makkabeërs 4:6.