Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.61 n.3 Pretoria Sep. 2021
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n3a6
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)
Die siel van protes: Die beweegredes vir, en belang en onderafdelings van protesaksie herbeskou
The soul of protest: Reconsidering the causes, significance and subcomponents of public protest
Martin Bekker
Sentrum vir Maatskaplike Verandering, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: martinjbekker@gmail.com
OPSOMMING
In 'n wêreld deurdrenk met geweld - beide subjektief en objektief beskou - tref mens protes as 'n teken van gemeenskaplike ontevredenheid aan. Die beweegrede onderliggend aan protesaksie word egter gereeld misken vir wat dit in werklikheid is, naamlik solidariteit met diegene wat onreg ly. Daar was die afgelope twee dekades plaaslik en internasionaal 'n skerp toename in openbare protes, met 'n gepaardgaande toename in teorieë wat oor die oorsake hiervan bespiegel. Ondanks 'n verskeidenheid voorstellings is dit nietemin steeds onduidelik "waaroor ons praat wanneer ons van protes praat", in die mate waarin die grondbeginsels van protes slegs binne beperkte epistemologiese gemeenskappe (en nie in die algemeen nie) oorweeg word.
Hierdie artikel besin oor die aard van protes as 'n politieke handeling wat op 'n kontinuum wat wissel van opposisiepolitiek tot burgeroorlog lê. Hierdie kontinuum verskaf 'n gegradeerde beskouing wat uitdrukkings van ontevredenheid orden volgens die erns van die uitkoms.
Voorts bied die artikel 'n abstrakte voorstelling van die onderskeie afdelings van protesvorming as sodanig, waaronder griewe, gebare en taktiese maatreëls. Van nader beskou, blyk hieruit dat protes getipeer kan word as 'n openbare uitdrukking van 'n niehegemoniese, etiese verbintenis tot geregtigheid, 'n optrede wat moed en koördinasie verg, en waarvan die uitkoms altyd onvoorspelbaar is; dit wil sê, 'n daad van liefde. Ten slotte word die episode van openbare geweld en plunder in Julie 2021 in Suid-Afrika aan die hand van die voorgestelde raamwerk ondersoek en bespreek.
Trefwoorde: sosiale bewegings, protes en onrus, niehegemoniese openbare groepsgedrag, maatskaplike groepsvorming, direkte politieke handelinge, openbare geweld, psigoanalise
ABSTRACT
The protest event. In a world steeped in ambient violence, public protest is a vital signal of shared discontent. The essential compulsion at the heart of protest, however, is conventionally not recognised for what it is i continue: solidarity with those suffering injustices.
A sharp rise in public protests has been perceived since the early 2000s. Thousands of column inches dedicated to reporting on protests are rivalled in volume only by the reams of academic theories produced around causes. Despite this overabundance of discourses, it often remains unclear what protest, at heart, constitutes. That is, what are we talking about when we talk about protest, and why does this question matter?
While stewards of the state often portray protests (and protesters) as "the problem", we have long understood protests as weapons of the weak, at once signalling desperation and civil discontent. In this paper I reflect on the nature of protest as a direct political action that is situated on a continuum that ranges from opposition politics to civil war. By visualising this continuum, I recapitulate how political actions can be represented within three schemas of recognition (by official political parties and agents); reintegration (into official politics); or revolution (i.e., the obliteration of certain political institutions with the aim of establishing an alternative utopia). While there is overlap between the three, we see that actions that are not revolutionary are not necessarily opposed to maintaining the present social order, while those not interested in recognition may be considered as political projects.
Based upon these principles, I develop the argument that protest is, in a certain sense, a "continuation of politics by other means", evoking Von Clausewitz in this regard. : protest is, however, not merely politics by other means, but nobler. While protest, a form of direct political action, is an indication of events, policies, or conditions that are experienced as repression, neglect, or injustice, it is simultaneously both a contextually rational response, and a reactive counterweight, a necessary checking of social communication channels, or part of an emancipatory project, enacted to change a prevailing violation and establish what is anticipated to be a more humane or just social order. In this mode, courage and coordination are exerted to better the beneficiaries' quality of life, not to lower the quality of life of another. Thus understood, protest is not merely altruism, but an outflow of care and compassion towards another. Put differently, protest is vitally animated by, and thus an act of, love
Next, I justify approaching protest as an ethical commitment by considering the constituent parts of protest formation in the abstract. These parts, which also represent a nonlinear sequence of sorts, include grievances, gestures, and tactics, and may give rise to protest "arcs" (or episodes). I develop an argument to show how individual concerns, invoked amid background violence, snowball into shared grievances, which may be catalysed by a trigger event into the idea of a response, which in turn may precipitate a set of tactics. Referring to Jacques Lacan's "three orders" typology, the idea of the response (or gesture) and the planned action, map onto the Imaginary and Symbolic orders, respectively. The resultant event, contingent and unpredictable (especially with regard to the emergent tumult), is best understood in terms of the Real. Once more, but now approached "from the bottom-up" (as opposed to my former top-down classification-driven argument), my treatment of these constituent parts reveals protest to be, first and foremost, a manifestation of a nonhegemonic ethical commitment to justice, requiring courage and coordination, and whose outcome is always contingent; underscoring the essential quality of love.
Keywords: social movements, protest and unrest, non-hegemonical public collective behaviour, social group forming, direct political acts, public violence, psychoanalysis
1. INLEIDING
Die wêreld word verswelg deur protes. Byeenkomste, betogings, onluste, optogte en ander vorme van openbare verset strek in die afgelope dekade regoor die wêreld - protes as een van dié bepalende maatskaplike fenomene van ons tyd, wat blyk uit gebeure soos die Arabiese Lente, die Occupy-beweging, die "Extinction Rebellion", teenregeringsprotes in Libanon, Chili, Hongkong en elders, en die Black Lives Matter-beweging. Ook Suid-Afrika, met ons sogenaamde "diensleweringsprotes", studentebewegings, die mobilisering van georganiseerde arbeid, en die onlangse episode van onluste en plundering ná President Zuma se gevangenisneming, is berug vir ons hoë protesvlak. Nieteenstaande vele diskoerse oor protes bly dit steeds onduidelik wat protes in wese behels, en waarom dit saak maak om die fenomeen te betrag.
Ondanks owerhede se verstekreaksie om protes (en betogers) as "die probleem" uit te beeld, bestaan daar 'n algemene verstandhouding dat protes 'n teken van gemeenskaplike ontevredenheid, verdrukking of selfs desperaatheid is. Hierdie sein dra egter die hoop tot 'n beter bestel - 'n bevrydingskiem as't ware - en die ontevredenheid wat dit meedeel, beklemtoon dikwels die mislukkings van die staat om die welsyn, ontwikkeling of selfs "geluk" wat so gereeld 'n rol speel in 'n staat se retoriek (sowel as politieke partye se verkiesingsbeloftes) te bewerkstellig. Dus het protes - en die diskoers daaroor - die potensiaal om die sosiale orde (en diegene wat daaruit voordeel trek) te bedreig. Voorts verteenwoordig protes 'n sensuur van die staat en die toestand van die samelewing, en, voer ek aan, verteenwoordig dit ook 'n daad van liefde, in die mate waartoe die protesgebaar maatskaplike geregtigheid aanroer as 'n niehegemoniese impuls binne die Denkbeeldige orde ('n konsep wat ek later verduidelik).
Om terug te keer tot die gebrek aan eenstemmigheid oor wat protes eintlik is. Gegewe die algemene voorkoms van protes en die meegaande maatskaplike belang daarvan vra Havercroft (2020) tereg: "Waarom is daar geen 'just riot'-teorie nie?" Hy kon die vraag inderwaarheid breër gestel het: "Hoekom is daar geen algemene begrip van protes nie?" Die antwoord mag verband hou met die feit dat daar ten spyte van 'n verskeidenheid protesdiskoerse geen vakgebied is wat voldoende besin oor die grondbeginsels van die fenomeen nie. Daar is inderdaad 'n menigte diskoersgemeenskappe wat sedert die tweede helfte van die twintigste eeu hieroor besin. Dit sluit onder meer die kontinentale filosofiese tradisie se belangstelling in "biopolitiek" en "verset as dialekties" in; die sielkunde se vrae oor "motivering", "drempelverskynsels" en "groepsdinamika"; sosiologiese teorieë oor "sosiale bewegings" en "afwyking"; ekonome se belangstelling in "insentiewe"; demograwe se kwellings rakende bestuur van die "demografiese oorgang"; politieke wetenskaplikes se aandag aan "interne konflik" en "burgerlike verset"; en militêre wetenskaplikes se studies oor "grys oorloë". Protes speel 'n beskeie rol in hierdie diskoerse.
In hierdie artikel word 'n verhelderende (en simpatieke) teorie van protes aan die hand gedoen. My vertrekpunt is om protes binne die groter konteks van wat ek "direkte politieke optrede" noem, te plaas. Daarna, met behulp van sydelingse verwysing na Lacan, wys ek daarop hoe beheer oor die betekenis van 'n protesgebeurtenis altyd verlore gaan (dit wil sê, die blik van die ander kan natuurlik nie aanvaar word as die blik van die self nie). Vervolgens neem ek die belangrikste konsepte een-een in oënskou: griewe; drempelverskynsels; protesgebare; taktiese maatreëls; sowel as die mate van geweld - dít alles met die hoop om 'n nuwe blik op teoretiese koördinate van protes te motiveer.
2. PROTES AS DIREKTE POLITIEKE OPTREDE
Eerstens: die onderskeid tussen direkte en indirekte politieke optrede. Indirekte politieke optrede slaan op "polities gemedieerde" optrede, met inbegrip van optredes wat oor die breedte van die verkiesingspolitiek strek, maar ook regsgedinge, diplomasie, staatsgereelde onderhandeling en arbitrasie insluit. Direkte politieke optrede - waarvan protes 'n subkomponent is - het betrekking op aksies wat deur 'n groep of individue onderneem word, wat 'n sosiale of politieke probleem self uitlig of die hoof bied weens gebrek aan vertroue in geïnstitusionaliseerde ingryping deur owerhede (Woolley & Moore 2007). Direkte politieke optrede sluit dus ook Tilly se formulering van "omstrede politiek" in; dit wil sê, "die gebruik van ontwrigtende tegnieke om 'n politieke punt te maak" (Tilly 2017:92), of Klandermans se "onkonvensionele politieke deelname" (Klandermans 2003).
Daar kan aangevoer word dat protes die mees basiese vorm van direkte politieke optrede is. Protes is noodwendig teen iets (dit wil sê, dit verteenwoordig 'n reaksie op openlike of omgewingsgeweld) - hetsy rassisme, uitbuiting, die gebrek aan waardigheid as gevolg van swak dienste, of 'n ander onreg; hier sluit ek sake so abstrak soos die "negatiewe vrede" van ongelykheid (Galtung 1990), of die sistemiese geweld van wêreldwye kapitalisme (Žižek 2009) in.
'n Bekende formulering van protes is "'n ontwrigtende direkte optrede van kollektiewe belang, waarin eise teen ander groepe, elite of owerhede aangevoer word" (Tarrow 1989:359), onlangs hersien as "'n populêre mobilisering ter ondersteuning van 'n gemeenskaplike grief" (Runciman et al. 2016:19). Net soos ander vorme van direkte politieke optrede word protes aangetref op 'n "kontinuum van verset" (Della Porta & Diani 2006), wat strek vanaf die minder drastiese vorme van opposisiepolitiek tot die uiterste punt van rebellie en burgeroorlog. Hierdie kontinuum is weliswaar nie 'n eendimensionele verhouding tussen vreedsame en gewelddadige optrede nie, maar veel eerder 'n komplekse, multidimensionele veld. Vervolgens word hierdie kontinuum van nader bekyk.
Een beginpunt van die kontinuum verteenwoordig die opposisiepolitiek; dit wil sê, georganiseerde politieke partye wat die toewysing van hulpbronne en erkenning op staatsvlak wil verander, maar oor die algemeen die heersende sosiale orde ondersteun. Anders gestel: progressiewe of konserwatiewe stappe, nie revolusionêre verandering nie, sowel as die handhawing van die norm van niegeweld word beoog. Nader aan die middel van die kontinuum is daar rebellies en opstande, wat direkte politieke optrede deur subnasionale groepe wat die sosiale orde openlik teenstaan, behels, en waar die owerheid as aandadig aan die heersende omstandighede gesien word. Die leiers van sowel rebellies as opstande beskou die heersende owerhede as onwettig; maar rebellie poog om owerhede te ondermyn (hetsy deur vreedsame optrede soos burgerlike ongehoorsaamheid, of niegewelddadige verset, of deur gewelddadige aksies soos sabotasie of terrorisme), terwyl 'n revolusionêre opstand poog om owerhede en ook die sosiale orde omvêr te werp (en wat dus tipies deur owerhede as terrorisme bestempel word) (Heywood 2014:412). As sodanig word opstand en die gewelddadige spanning van rebellie soms as "onreëlmatige oorloë" beskrywe (Hoffman 2009; sien ook Cunningham & Lemke 2014:334). 'n Ander uiterste van die kontinuum is burgeroorlog: per definisie 'n oorlog tussen burgers van dieselfde land en waar geweld gebruik word met die doel om beheer oor 'n land of streek te neem, om onafhanklikheid te bewerkstellig of regeringsbeleid te verander. Wat terrorisme van burgeroorlog skei, kom dikwels op skaal neer: 'n Enkele gewapende man kan nie burgeroorlog voer nie, en op 'n sekere skaal kan 'n staat 'n streek as "terroris" afmaak, terwyl onafhanklike partye sulke groepe liewer "rebelle" noem. Die rol van protes in hierdie skema is ingewikkeld, en vereis dat ons dieper delf.
Figuur 1 stel 'n vereenvoudigde beeld van tipes protes (volgens doel) voor. Hier sien ons hoe politieke aksies in die drie skemas uiteenval: (1) erkenning (deur amptelike politieke partye en agente); (2) integrasie (in die bestel); of (3) revolusie (dit wil sê, die uitwissing van sekere politieke instellings met die doel om 'n alternatiewe utopie daar te stel). Alhoewel daar 'n oorvleueling tussen die drie is, sien ons dat aksies wat nie revolusionêr is nie nog betreklik gemaklik die heersende sosiale orde kan handhaaf, terwyl diegene wat nie belangstel in erkenning nie as "politieke projekte" beskou kan word. Intussen is aksies wat nie die huidige orde wil handhaaf nie vry van die beperkings van die norm van geweldloosheid.
Hierdie uitleg van die kontinuum, in terme van erkenning, integrasie en revolusie, het noodwendige implikasies. Eerstens moet terme soos "rebellie" liefs nie so losweg soos in die media (en deur sekere denkers, byvoorbeeld Alexander en Pfaffe 2014) gebruik word nie. Ook vertroebel die assosiasies - rebelle, rebellemagte, en so meer - die saak as ons "rebellie" gebruik om na 'n vreedsame fenomeen te verwys (weereens, soos Alexander en Pfaffe). Protes handhaaf 'n komplekse, nielineêre verhouding met ander vorme van verset (Shaheen 2015; Bodea & Elbadawi 2007:2), en alhoewel vele aksies wat as rebellie, opstand of selfs burgeroorlog beskryf kan word nie noodwendig protes betrek nie, is dit net so ooglopend dat hierdie kategorieë ook nie protes kan uitsluit nie.
Ongelukkig word protes amper by verstek uitgesluit van sekere diskoerse oor politieke konflik, soos ten opsigte van militêre studies en internasionale betrekkinge. Hier moet gewelddadige politieke konflikte 'n sogenaamde geweldsdrempel oorsteek (tipies van 'n vasgestelde aantal konflikverwante sterftes per jaar) om in aanmerking te kom, soos blyk uit definisies in die werk van onder andere Collier et al. (2009), Østby et al. (2009) en Porto (2008) sowel as die mees gesogte datastelle. Dit is daarom ironies dat met die weglating van protes verset ontleed word sonder om die grootste deel van verset in ag te neem. Sodoende word daar byvoorbeeld gereeld misgetas oor die konteks en oorsaak, die oploop en die uitspeel van burgeroorlog (Kaldor 2013). Hierdie ontologiese krisis word skynbaar bevestig deur epistemologiese onpresiesheid soos blyk uit die rits terminologiese omskrywings wat sedert 2000 ingestel is, in pogings om oor die komplekse aard van burgerkonflik te kommunikeer (byvoorbeeld "New Wars", "New New Wars", "Grey Warfare", "High-Intensity Participation"), deels om te kompenseer vir die teoretiese gapings in die diskoerse.
3. 'N DAAD VAN LIEFDE
Ondanks die waarde van die idee van direkte politieke aksies en die kontinuum van verset verskaf dit nie 'n volledige teorie van die verskynsel van die protesgebeurtenis nie. Om by die kern van protes uit te kom, moet ons eers die eenvoudige vraag vra: Waarom protesteer mense?
Ek begin hierdie tweede gedagtegang deur vlugtig bekende bydraes van Hirschman, Von Clausewitz en West in te span. In die 1970's het Hirschman verduidelik dat sosiale rolspelers wesenlik drie tipes reaksies op sosiopolitiese onregverdigheid of ontevredenheid het: "exit", "voice" of "loyalty". In die politieke konteks kan 'n mens praat van "exit" (deur byvoorbeeld polities te onttrek of te emigreer), of "voice" (deur byvoorbeeld van die stembus of protes gebruik te maak), of, laastens, deur "loyalty" te betoon (met ander woorde, om maniere te vind om die bestel te regverdig) (Hirschman 1970). Alhoewel toegang tot "voice" geredeliker beskikbaar mag wees, is dit makliker om private aksies te onderneem as om openbare aksies van stapel te stuur. Dus is protes tipies 'n handelingsopsie wanneer ander maniere van politieke deelname teengestaan, beperk of as ondoeltreffend beskou word (dit wil sê, protes is 'n "laaste uitweg", nie 'n verstekopsie nie) (Tilly 1977). Vorme van protes word dus ook beskryf as die "wapens van die swakkes" (Scott 2008), of "hulpbronne van die magteloses" (Lipsky 1968).
Die idee van protes as eintlik maar politiek "langs 'n ander weg" herinner mens aan Von Clausewitz se kanonieke definisie van oorlog, wat opvallend naby aan die beskrywing van die meeste direkte politieke optredes kom. Oorlog is volgens Von Clausewitz (1982:71) die volgende:
[1] 'n Voortsetting van politieke handel, [2] en deel van 'n reeks politieke dade wat nie in isolasie gesien moet word nie, [3] wat ten doel het om die (politieke) lewenswêreld te verander. Oorlog betrek [4] die ontwapening van die vyand, en is [5] 'n ernstige en riskante aangeleentheid, wat [6] moed en organisasie vereis, [7] die gebruik van uiterste geweld noodsaak, en [8] lei tot 'n resultaat wat nooit absoluut is nie.
Deur bloot punte 4 en 7 te verwyder, sien ons dat protes volgens dieselfde logika 'n voortsetting is van politieke handel, en deel is van politieke handelinge (wat nie in isolasie gesien moet word nie), wat die verandering van die politieke lewenswêreld nastreef. Ook is protes 'n ernstige en riskante aangeleentheid, wat moed en koördinasie verg, en een waarvan die uitslag nooit absoluut is nie.
Ek voer hierdie redenasie verder. Protes is nie net 'n voortsetting van politiek nie, maar edeler. Dit is waar dat protes, as synde paradigmaties van ander direkte politieke optrede, getuig van gebeure of toestande wat ervaar word as onderdrukking, verwaarlosing of onreg. Maar dit is as sodanig ook 'n reaksie, 'n teenwig, 'n deel van 'n bevrydende projek, 'n uiting om 'n heersende ongeregtigheid bloot te lê of om 'n mensliker sosiale orde daar te stel. Só belig, word die "moed en koördinasie" gebruik om die lewensgehalte van die begunstigdes te verbeter, nie om die lewensgehalte van 'n ander te verlaag nie. Hiervolgens is protes met ander woorde nie bloot altruïsme nie, maar 'n uitvloeiing van sorg en medelye teenoor 'n ander. Anders gestel: Protes is 'n daad van liefde.
Apropos die liefde: Te midde van denkers se versigtigheid jeens die term herinner West (2011:96) ons daaraan dat "... geregtigheid is hoe liefde in die openbaar lyk". Met hierdie opvatting van protes as prototipies 'n daad van liefde, voer ek nie aan dat protes geweld noodwendig hoef uit te sluit nie: Protesoptrede reageer teen onmenslikheid, en dikwels dan ook gewelddadig. Dit is natuurlik nie ongewoon dat liefde gewelddadige dade motiveer nie. Nietemin is die geweld wat by protes voorkom - hetsy met opset of as reaksie op provokasies (soos polisiewreedheid) - nie analoog aan ander elemente van die kontinuum nie, soos byvoorbeeld geweld in die konteks van burgeroorlog nie. Hou in gedagte dat protes onderdrukking wil verwyder, terwyl burgeroorlog 'n nuwe bestel (dus 'n alternatiewe vorm van onderwerping) as deel van die ideale uitkoms beskou.
Met inagneming van die voorafgaande kan ons protes verstaan as 'n "mobilisering deur lede van een groep teenoor 'n ander groep - waar die mobiliserende groep die ander as magtiger as hulself ag, en waar eersgenoemde (die mobiliserende groep) reken dat hul lewensomstandighede, hetsy in die hede of die toekoms, deur die ander groep verswak word". Die (ervaring van 'n) verandering in lewensomstandighede, ongeag die geldigheid daarvan, lei dus tot kollektiewe griewe onder lede van die mobiliserende groep.
Mobiliserende groepe kan manifesteer as verskillende formele of informele organisasies - 'n vereniging wat 'n geografiese gemeenskap verteenwoordig, 'n groep mense wat verenig word deur kwessies op nasionale vlak of dit kan ook 'n gemeenskap van werkers wees, of 'n vakbond wat werkers in 'n bedryf verteenwoordig. Al die gevalle in Figuur 1 word hierdeur by protes ingesluit.
4. WAARUIT BESTAAN PROTES?
Ontleders is dit oor die algemeen eens dat protesoptrede die gevolg van vermeende onreg is, maar tog word die verband tussen griewe en protes in die reël swak geformuleer. 'n Soortgelyke stelling word deur politieke wetenskaplikes Blattman en Miguel (2010:18) gemaak wanneer hulle aanvoer dat die ekonomiese motiverings vir konflik beter geteoretiseer is as die sielkundige of sosiologiese faktore daarvan. Hierdie stelling is insiggewend omdat, wat protes betref, die probleem ook waarskynlik verband hou met die tendens om persoonlike sorge sowel as griewe ekonomies te benader, of ten minste om daaroor te dink as "etiketteerbaar" en telbaar.
Vervolgens word die onderafdelings van protes, of "protesvorming" van nader beskou, waardeur gepoog word om die aard van die verskynsel te openbaar, en om konvensionele teorieë oor protes te bevraagteken. Figuur 2 bevat 'n vereenvoudigde skets van die onderafdelings wat hier ter sprake is - onder meer griewe, drempelverskynsels, gebare, taktiek en protesgebeurtenisse - wat uiteindelik kan ontwikkel tot "protesboë".
4.1 Griewe
Terwyl "persoonlike bekommernisse" spruit uit die kontras tussen hoe 'n individu sake sien enersyds en hoe sulke sake "behoort te wees" andersyds, kan ons 'n grief voorstel as gedeelde/kollektiewe ontevredenheid oor waargenome en verwoorde ongeregtighede. Let op die tweeledige onderskeiding: Daar is uitdrukking en groepsverband in die geval van 'n grief. Waar bekommernisse dus as emosies manifesteer, wat dit moeilik maak om vas te lê (Gratz & Roemer 2004), is daar, volgens die bogenoemde definisie, 'n poging om 'n grief te omskryf.
Ons moet erken dat die menslike bestaan altyd reeds binne 'n konteks van "omgewingsgeweld" staan - soos onder meer beskryf word in Perikles se uitspraak dat alle mense onderhewig is aan politieke stelsels, hetsy hulle daarin geïnteresseerd is of nie; of aan die hand van die Heideggeriaanse konsep van "Geworfenheit". Marx (1978:1) bied 'n soortgelyke waarneming oor die onontkombare werklikheid van kontekstuele ongelykheid deur aan te voer dat mense hul eie geskiedenis maak, maar nie soos hulle wil nie; hulle maak dit nie onder selfgekose omstandighede nie, maar onder reeds bestaande omstandighede, so gegee en oorgedra uit die verlede.
"Omgewingsgeweld" impliseer dus 'n a priori-skending van sommiges se verwagtings oor algemene regverdigheid; dit is dan ook die konteks vir die ontstaan van griewe ('n beginsel ook ontwikkel in die literatuur oor sogenaamde "morele ekonomieë"; sien ook Thompson 1971). Anders gestel: Die bekommernisse en sorge van individue, indien saamgevoeg en verwoord, word 'n grief. Griewe kan deur voorafbestaande groepe ervaar word, of selfs 'n griefsgemeenskap "skep" (Tajfel et al. 1979). Voorts, wanneer ondraaglikhede voldoende "gedeel" en verwoord word, kan daar gesê word dat die omstandighede vir protes "ryp" is. Overgesetsynde, betogings vind nie plaas sonder relatiewe frustrasie nie (Allal & El Chazli 2012).
Indien die bogenoemde stawing van griewe meriete het, baan dit die weg vir drie bykomende gedagtes. Die eerste is dat alhoewel ekonomiese sorge betreklik maklik is om te meet, dit geensins die enigste kategorie van bekommernisse is wat tot griewe ontwikkel nie. Eweneens is daar ook kritiek teen pogings om meetbare plaasvervangers vir griewe daar te stel - dink maar aan die besware teen Collier Hoeffler en Rohner se bydrae tot die "greed-grievance"-debat in die vroeë 2000's (deur onder andere Bensted (2011) en Keen (2012)). Uit die literatuur oor "morele ekonomie" blyk dat enige norm, as dit oortree word, tot onaanvaarbare toestande kan lei: Meetbaarheid is nie 'n kriterium nie. Die tweede gedagte is dat griewe ingewikkeld is - dit kan in oorvleuelende kombinasies voorkom, en word nooit eenvormig ervaar nie. Anders gestel: Griewe is kompleks, en noodsaak die taal van kompleksiteit (terugvoerlusse, nielineariteit, ensovoorts) vir 'n goeie beskrywing. Die derde is dat protes die sogenaamde samewerkingsprobleem ("collective action problem") moet oorkom: Omdat protes per definisie 'n mate van moed en koördinasie verg, behels dit geleentheidskoste en risiko's.
Samewerkingsprobleme - aangeleenthede waaraan daar 'n "koste" verbonde is, wat die kans verminder dat enige individu self 'n sekere aksie sal onderneem, ondanks die feit dat die aksie in belang van die gemenebes is - word soms as verklaring voorgehou waarom mense, ondanks erge onderdrukking, hul nie verset nie. Indien dit waar is, beteken dit dat die "probleem" oorkom kan word, slegs wanneer die omvang van die grief ondraaglik word, of as 'n "griefversadigingspunt" bereik word. Hier is dit nuttig om te dink aan die idee van "kruipende normaliteit" (Diamond 2011) - wat bespiegel dat omstandighede wat stadig en geleidelik verander, aanvaar of geduld word, al is dit ook hoe haglik; maar as dieselfde veranderinge in 'n enkele stap plaasvind, dit as 'n skok ervaar word, en groepe aanhits om saam te trek en weerstand te mobiliseer. Die punt: Dalk is klein veranderinge, of bloot ontstellende verskynsels wat "nog altyd so was", nie genoeg om direkte optrede te bewerkstellig nie.
4.2 Drempelverskynsels
'n Nuttige konsep is dié van 'n "drempelverskynsel": 'n gebeurtenis wat, sodra dit plaasvind, die kans op 'n protesgebeurtenis kan kataliseer (Klandermans & Staggenborg 2002:80). Soos geïllustreer in Figuur 2, kan drempelverskynsels tot rypheid vir protesoptrede bydra (as koppelvlak tussen bekommernisse en griewe), of 'n gebeurtenis wees wat as katalisator dien vir mobilisasie (as koppelvlak tussen griewe en aksie). My argument kom nietemin daarop neer dat sulke gebeurtenisse nie, stricto sensu, te wyte is aan 'n skielike verslegtende toestand nie, maar eerder voorvalle verteenwoordig wat die ware aard van die sosiale stelsel openbaar. Hierdie skielike "blik op die werklikheid van omstandighede" is deel van die proses van subjektivering (soos deur Lacan beskryf): Die drempelverskynsel bied die voleinding van die gedagteverloop ten opsigte van grief-reaksie-neksus, en roep die noodsaaklikheid van 'n gebaar op. Voorbeelde van drempelverskynsels sluit in moord deur die polisie op 'n ongewapende burger; summiere afdanking van 'n kollega; of onderbreekte watertoevoer na 'n gemeenskap - sake wat onderskeidelik straffelose optrede deur die polisie demonstreer, die inherente rassisme van 'n maatskappy se bestuur openbaar, of die publiek se indrukke van die onbevoegdheid van 'n munisipale bestuurder bevestig.
Gesien vanuit die gesigshoek van die publiek verskaf die drempelverskynsel dus 'n oortreder - 'n "andere" wat die werklike bron van ontevredenheid kan wees, of 'n blote strooipop of sondebok, waarsonder mobilisering moeilik, indien nie onwaarskynlik is nie. Sonder die nodige rypheid daarvoor (dit wil sê, "gunstige" omstandighede vir protes) sal drempelverskynsels waarskynlik persoonlike tragedies bly; net so is slegs gemeenskaplike griewe nie voldoende om direkte politieke aksies te ontlok nie, want drempelverskynsels speel 'n deurslaggewende rol. Laastens is die gevolge van drempelverskynsels onvoorspelbaar: 'n Mens kan dalk met terugskouing die vonkies benoem wat die buskruit bereik het - dink aan die moord op Khaled Saeed (in Egipte, in 2010) of die selfdood van Mohamed Bouazizi (in Tunisië, ook in 2010) - maar om die spesifieke drempelverskynsel wat die katalisator tot protesoptrede is vooraf te voorspel, is 'n onbegonne taak.
4.3 Gebare
Wanneer omstandighede daarvoor ryp is, en wanneer 'n drempelverskynsel ingryping noop, ontstaan die geleentheid tot protesaksie. Gebare verteenwoordig die idee van die "aksies" wat protesaksie uitmaak. Daar is egter 'n verskil tussen die beoogde "protes"-sein, en hoe protes in die werklikheid verloop. Om hierdie gaping te belig, beskou ek kortliks 'n aspek van die psigoanalise.
Drie ordes
Volgens Lacan se teorie van subjektiwiteit is daar drie ordes - die Denkbeeldige, die Simboliese en die Reële - wat die menslike bestaan struktureer (Wegner 2009). Die Denkbeeldige funksioneer as die register van definisie, van die "simulacrum", van dít wat 'n mens as die betekenis vir ander/objekte voorstel. Ons intersubjektiewe verhoudings, ideologiese konvensies, en taalkundige kommunikasie vorm die Simboliese orde. So word die mens dan, na gelang van die mate waarin ons ons bestaan deur gebruike, wette, norme en rituele, en bowenal deur taal beleef, as 'n subjek binne die Simboliese orde "vasgevang". Die terloopse gebeurlikhede wat weggelaat word as gevolg van die wisselwerking tussen die Simboliese en die Denkbeeldige is 'n aanduiding van die Reële.
Die verhouding tussen die drie ordes kan met behulp van die analogie van 'n skaakspel geïllustreer word (Feldstein et al. 1995:70). Die Denkbeeldige orde laat ons toe om aan die spel as 'n stryd te dink, of aan 'n pion as verteenwoordigend van 'n voetsoldaat, en so meer. Die Simboliese orde betrek die spelreëls en die struktuur en opstel van die skaakbord. 'n Enkele pot tussen twee persone - met hul imperfekte strategieë sowel as die foonoproep wat die spel onderbreek en die hond wat die stukke omstamp inbegrepe - vorm die Reële. Dus impliseer die Reële 'n mate van wanfunksionering van die ander ordes (Lacan 2001:xi). Protes kan vervolgens met behulp van hierdie insig benader word.
Iewers tydens die oorgang van individuele bekommernisse na kollektiewe griewe - hetsy deur geleidelik toenemende, gemeenskaplike onrus, of deur 'n skielike traumatiese drempelverskynsel - word die saadjie vir direkte politieke aksie geplant. Die aard van die saadjie kan volgens die Denkbeeldige orde beskou word. Anders gestel: Wanneer 'n sameloop van omstandighede 'n mens tot aksie noop, 'n aksie wat 'n verwerping van daardie omstandighede verbeeld, funksioneer die "idee van verwerping" binne die Denkbeeldige orde. Sodra hierdie saadjie wortelskiet, en aksies oorweeg word, kom ons by die Simboliese orde.
Om die katalogus van protesgebare te benader, keer ek terug na die protesformulering van Von Clausewitz, spesifiek die frase "wat moed en organisasie vereis". Die gewaarwording dat protestipes 'n funksie van sosiale kapitaal is, ondersteun 'n interessante visuele voorstelling. In Figuur 3 kan die wisselwerking tussen "moed" (die persoonlike gevaar) en "koördinasie" (die ingewikkeldheid van die veldtog) gesien word.
4.4 Taktiese prosedures
In die uitvoering daarvan verander die abstrakte idee van 'n gebaar na 'n taktiek. Dit is dus die taktiek wat uiting gee aan die erns van die griewe van diegene wat betoog. Sekere vorme van taktiek is, per definisie, gewelddadig; maar niegewelddadige vorme van taktiek is nietemin geen waarborg dat die gebeurtenis, wanneer dit plaasvind, niegewelddadig sal wees nie (veral in Suid-Afrika kom gewelddadige teenaksies deur die polisie algemeen voor; maar sien ook Ives en Lewis (2020) vir 'n internasionale blik op die toenemende fenomeen van polisiegeweld). Anders gestel: Die taktiek is die simboliese bedoeling wat tot uitvoering kom, waar dit in kontak kom met onvoorspelbare omstandighede - die opkoms, die weer, opportunistiese faksies, die reaksies deur die owerhede, en so meer - met ander woorde, die Reële. Die taktiek is natuurlik ook dít wat deur omstanders en die media waargeneem word, en as sodanig berus formele studies van protes, veral die tradisie van protesgebeurtenisanalise, grootliks op hierdie konsep.
4.5 Die gebeurtenis
Uiteindelik kom die "gebeurtenis" ter sprake. Hier verstaan ek 'n gebeurtenis as die versameling van verskillende taktiese prosedures, sowel as "dit wat by die protes gebeur", soortgelyk aan wat Favre (1990) die "protesmoment" noem. 'n Enkele gebeurtenis kan die vertoon van baniere, 'n byeenkoms, 'n optog en die oorhandiging van 'n griefskrif insluit. Soos met alles wat die Reële betrek, is die gebeurtenis 'n optrede wat bepaal word deur die blik van die Ander. As sodanig is daar dan 'n onmiddellike verlies aan "beheer" in soverre die gebeurtenis (ongeag hoe dit beplan was) nooit hermeties verseël of hermeneuties geslote is nie; dit word (primêr van buite die griefgemeenskap) gerapporteer en geïnterpreteer - wat die ideale omstandighede vir misverstand skep.
Die gebeurtenis, wat 'n breuk met sosiale normaliteit verteenwoordig, word dan ook 'n sosiale feit waarop owerhede moet reageer - wetende dat 'n niereaksie op sigself genome 'n reaksie is. Terwyl sommige teoretici voorstel dat 'n "ware gebeurtenis" onvermydelik 'n poging tot onderdrukking tot gevolg sal hê (Badiou 2007), is 'n volledige verkenning van die gebeurtenis buite die bestek van hierdie artikel.
4.6 Protesboë
'n Protesboog (of golf) is 'n reeks protesgebeurtenisse wat 'n verwante stel griewe betrek. In die praktyk bestaan protes gewoonlik nie uit eenmalige gebeurtenisse nie, maar kom tot stand as reekse gebeurtenisse met tydruimtelike patrone. Die beeld van die boog - met 'n begin, middel en einde - dui ook op 'n tipiese patroon van styg en daal, met protesveldtogte wat uitloop op ontknoping, tydelike stiltes, of 'n nuwe protesvlaag (Castells 1983:215-288).
4.7 Protes betrek die staat
Die laaste oorweging is dat protes nie in isolasie van die staat of owerheid waarin dit voorkom, bestudeer kan word nie. Maatskaplike en magsverhoudings is nie slegs tussen mense gestruktureer nie, want op die vlak van die samelewing reguleer sosiale strukture hoe rolle en status manifesteer (Althusser 2006). Die staat speel grootliks die rol van "spelreël-maker" - die wette, erkende regte sowel as produksiefaktore word deur die staat toegeken of gereguleer (Samuelson 1954:19). Dus is enige protes onmiskenbaar gekoppel aan die staat.
Voorts, alhoewel protes dikwels op 'n ander party as die staat gerig word, word die konteks van die protes sekerlik ook gevorm deur die plaaslike geskiedenis, kultuur en regsraamwerk. Vanselfsprekend sal ons in 'n land waar protes onwettig is (of waar dit gewelddadig vervolg word) min protesgebeurtenisse aantref; dit beteken egter nie dat daar nie griewe bestaan nie.
Die noodsaak van 'n moderne regstaat vir protes "om werklik protes te wees", verg 'n indringender ondersoek wat buite die bestek van hierdie artikel val. Nietemin voer ek aan dat protes as 'n moderne verskynsel beskou behoort te word, waar die moderne staat in een entiteit die sosiale, politieke en ekonomiese funksies gekonsolideer het. Hierdie Hegeliaanse "sekulêre godheid", gerig op die verdediging en uitbreiding van openbare welsyn, wat berus op 'n sosiale kontrak, skep die moontlikheid vir legitieme, liefdevolle protes - protes wat direk of indirek handel oor die regte wat die staat (moet) verleen, of (moet) beskerm.
4.8 Notas oor die geweld en plundery in Suid-Afrika tydens Julie 2021
Ondanks die argument hier bo uiteengesit, verskaf dit aan die middelklas burgery (en akademici) 'n mate van oppervlakkige katarsis om te bespiegel oor wie "verantwoordelik" sou kon wees vir die uitbraak van gewelddadige protes (of onluste en plundery) wanneer dit plaasvind, sovêr daar individuele skuldiges geïdentifiseer kan word. Sodanige insidente, soos dié in Engeland in 2011, staan uit in die geheue. In Suid-Afrika het ons pas te staan gekom voor 'n vergelykbare episode - een waar die gevangenisneming van oudpresident Jacob Zuma in Julie 2021 oënskynlik aanleiding gegee het tot die gevolglike openbare geweld.
Uit die aard van menslike handelinge, indien mens soek na persoonlike aanspreeklikheid, sal dit gevind word - aanhitsing, magsug en hebsug, swak beplanning deur die staat, swak besluite deur gesagsbekleërs, verkeerde instruksies deur die owerhede, en dies meer - is altyd teenwoordig. Sodanige bespiegelings resoneer noodwendig ná tragedies: weergawes van "wie is aanspreeklik" is dringend en met erns gevra ná die Marikana-menseslagting op 16 Augustus 2012, of ook ná die Soweto-opstande wat in Junie 1976 begin het, om maar twee te noem. Die huidige spreekwoordelike skrif aan die muur suggereer dat die indringender vraag nie is "wie is verantwoordelik" nie, maar wel "wat het dit veroorsaak". Anders gestel, daar is waarde in die transendentale ondersoek: wat is die omstandighede wat sulke insidente hoegenaamd moontlik maak?
Ons het enorme uitdagings in Suid Afrika. Dit behels kwessies soos skreiende ongelykheid, hongersnood, swak of afwesige water- en kragtoevoer, en werkloosheid; en dan is daar boonop die hardhandigheid van die staat van inperking, wat die reeds bestaande probleme vererger het, te midde van swak partypolitieke besluitneming. Hierdie griewe is welbekend, en, indien die grondbeginsels van hierdie artikel steek hou, moet sulke griewe beskou word as sistemiese of omgewingsgeweld - met ander woorde, hierdie geweld is die aangewese konteks vir die meerderheid Suid-Afrikaners.
Derhalwe is die begin van 'n ontleding die insig dat protes op sigself genome nie die probleem is nie, maar dat dit veel eerder die vrugte van 'n dieper pyn is - 'n pyn onder 'n groot groep mense, 'n pyn wat nie 'n intellektuele abstraksie is nie; ons kan dit sien, meet, en voel. Voorts, om dan die drierigting-kontinuum in te span, is die noodwendige gevolgtrekking dat die genoemde episode van plundery min te make het met rewolusie, en slegs in geringe mate met erkenning verband hou, en alhoewel plunder nie gelykgestel kan word aan protes nie (en ook nie volkome as 'n politieke sein gelees kan word nie) is daar spore van 'n hunkering na integrasie te bespeur - die behoefte om deel te wees van "die stelsel", wat dit ook al beteken. Dit is nie om te veronderstel dat daar geen, van "bo-af" beskou, gevalle van opportunisme, kriminaliteit of selfs rebellie daarby betrokke is nie, daar ís weldeeglik (en selfs 'n mate van 'n karnavalagtige poging tot omwenteling van "die orde"); maar, vanuit die oogpunt van deelnemers, was hul in baie gevalle geregtig op "ietsie goeds", 'n meevallertjie te midde van 'n lewe gekenmerk deur nimereindigende vernedering en nood. Hierdie fenomeen verdien 'n dieper ontleding, en dit sal verblydend wees indien die teoretiese raamwerk van hierdie artikel 'n rol in so 'n eksegese kan speel.
5. GEVOLGTREKKING
Martin Luther King het gesê "rioting is the language of the unheard". Protes bly 'n wapen van die swakkes - swakkes in die aangesig van vermeende onreg - en 'n politieke aksie wanneer ander deure toe is. Gegewe die uitgangspunt van hierdie artikel benader Havercroft, wanneer hy vra vir 'n "middel om die geldigheid van protes te beoordeel sodat ons kan bepaal wat die regte manier is om te reageer", moontlik die probleem van die verkeerde kant af.
Ek betoog dat ons die gebeurtenis as 'n uitkoms van 'n proses moet sien: Te midde van 'n wêreld gekenmerk deur omgewingsgeweld, kan persoonlike bekommernisse oorgaan tot gedeelde griewe, met behulp van drempelverskynsels, waardeur die behoefte aan 'n protesgebaar ontstaan. 'n Gebaar kom tot uitvoering in 'n aantal taktiese prosedures wat gesamentlik die protesgebeurtenis verteenwoordig. As fenomeen in die Reële is die verloop van die gebeurtenis te voorsien, en is daar 'n onseker verband tussen die vlak van geweld en die geldigheid van mense se griewe. Die voorstel dat ons die geldigheid van 'n protesgebeurtenis kan bepaal deur uitsluitlik te kyk na wat tydens die gebeurtenis plaasgevind het, misken die inherente kompleksiteit van sosiale interaksies, en is haas onbewus van die dimensies van griewe, onreg, en liefde.
Hierdie artikel het protes binne 'n skema van verskillende direkte politieke aksies geplaas, en daarop gewys dat daar drie doelstellings vir enige protesaksie kan wees: erkenning, integrasie of revolusie. Ondanks die kategorie van die doelstelling, is protes 'n voortsetting van politiek sowel as die uitvoering van 'n niehegemoniese, etiese verbintenis teen maatskaplike onreg; dit wil sê, liefde.
Hierdie insig het myns insiens die groot blinde kol by diskoerse wat konflik bestudeer, maar die rol van protes miskyk, blootgelê. In teenstelling hiermee verreken die insluiting van protes by diskoerse die deurslaggewende rol van griewe, drempelverskynsels, gebare, taktiek, en natuurlik protesgebeurtenisse.
Terugskouend is hierdie bydrae ten minstens op kort termyn pessimisties, oftewel sonder vooruitsig op positiewe verandering. Ondanks inperkings en onderdrukking vermoed ek dat die wêreldwye protesgety eers sal begin afneem wanneer óf protes belet word, óf die onderliggende griewe hanteer word. Hierdie tweede opsie sal 'n grootskaalse herstrukturering van sosiale verhoudings moet behels; iets waarvoor die rentmeesters van die staatsmag nie sonder meer te vinde sal wees nie - sowel hier in Suid-Afrika as elders. Deur met moed en organisasie, sonder enige waarborg op sukses, liefde en vooruitgang te probeer bewerkstellig, manifesteer in die protes deur die mossies van Venus. Mog die uile van Minerva ook hul hul rol gun.
BIBLIOGRAFIE
Alexander, P & Pfaffe, P. 2014. Social relationships to the means and ends of protest in South Africa's ongoing rebellion of the poor: The Balfour insurrections. Social Movement Studies, 13(2):204-221. [ Links ]
Allal, A & El Chazli, Y. 2012. Figures du déclassement et passage au politique dans les situations révolutionnaires égyptienne et tunisienne. In Sens politiques du travail. Paris: Armand Colin. [ Links ]
Althusser, L. 2006. Ideology and ideological state apparatuses (notes towards an investigation). The Anthropology of the State: A Reader, 9(1):86-98. [ Links ]
Badiou, A. 2007. Being and Event. Paris: A&C Black. [ Links ]
Bensted, R. 2011. A critique of Paul Collier's 'greed and grievance' thesis of civil war. African Security Review, 20(3): 84-90. [ Links ]
Blattman, C & Miguel, E. 2010. Civil war. Journal of Economic Literature, 48(1):3-57. [ Links ]
Bodea, C & Elbadawi, IA. 2007. Riots, Coups and Civil War: Revisiting the greed and grievance debate. Washington DC: The World Bank. [ Links ]
Castells, M. 1983. The City And The Grassroots: A Cross-Cultural Theory Of Urban Social Movements. Berkeley: University of California Press. [ Links ]
Collier, P, Hoeffler, A & Rohner, D. 2009. Beyond greed and grievance: feasibility and civil war. Oxford Economic Papers, 61(1):1-27. [ Links ]
Cunningham, DE & Lemke, D. 2014. Beyond civil war: A quantitative examination of causes of violence within countries. Civil Wars, 16(3):328-345. [ Links ]
Della Porta, D & Diani, M. 2006. The study of social movements: recurring questions, (partially) changing answers. Social Movements: An Introduction. Cambridge: Blackwell Publishing. [ Links ]
Diamond, J. 2011. Collapse: How societies choose to fail or succeed. New York: Penguin. [ Links ]
Favre, P. 1990. La Manifestation. Paris: Les Presses de Sciences Po. [ Links ]
Feldstein, R, Fink, B & Jaanus, M eds. 1995. Reading Seminar XI: Lacan's Four Fundamental Concepts of Psychoanalysis: The Paris Seminars in English. New York: SUNY Press. [ Links ]
Galtung, Johan. 1990. Cultural violence. Journal of Peace Research, 27(3):291-305. [ Links ]
Gratz, KL & Roemer, L. 2004. Multidimensional assessment of emotion regulation and dysregulation: Development, factor structure, and initial validation of the difficulties in emotion regulation scale. Journal of Psychopathology and Behavioral Assessment, 26(1):41-54. [ Links ]
Havercroft, J. 2020. "Why Is There No Just Riot Theory?". APSA Preprints. [ Links ]
Heywood, A. 2014. Global politics. Oxford: Macmillan International Higher Education. [ Links ]
Hirschman, AO. 1970. Exit, Voice, and Loyalty: Responses to decline in firms, organizations, and States. Vol. 25. Cambridge: Harvard University Press. [ Links ]
Hoffman, FG. 2009. Hybrid Warfare and Challenges. Joint Force Quarterly, 52:39. [ Links ]
Ives, B & Lewis, JS. 2020. From rallies to riots: Why some protests become violent. Journal of Conflict Resolution, 64(5): 958-986. [ Links ]
Kaldor, M. 2013. In defence of new wars. Stability: International Journal of Security and Development, 2(1). [ Links ]
Keen, D. 2012. Greed and grievance in civil war. International Affairs 88(4):757-777. [ Links ]
Klandermans, PG. 2003. Collective political action. In Oxford Handbook of Political Psychology, ed: L Huddy, DO Sears & JS Levy. Oxford: Oxford University press. [ Links ]
Klandermans, PG & Staggenborg, S eds. 2002. Methods of Social Movement Research. Vol. 16. Minnesota: University of Minnesota Press. [ Links ]
Lacan, J. 2001. Écrits: A Selection. Paris: Routledge. [ Links ]
Lipsky, M. 1968. Protest as a political resource. The American Political Science Review, 62(4):1144-1158. [ Links ]
Marx, K. 1978 [1852]. The Eighteenth Brumaire of Louis Bonaparte. The Marx-Engels Reader. London: Norton. [ Links ]
Østby, G, Nordås, R & Rød, JK. 2009. Regional inequalities and civil conflict in Sub-Saharan Africa. International Studies Quarterly, 53(2):301-324. [ Links ]
Porto, JG. 2008. The mainstreaming of conflict analysis in Africa: contributions from theory. Peace and Conflict in Africa. London: Zed Books. [ Links ]
Runciman, C, Alexander, P, Rampedi, M, Moloto, B, Maruping, B, Khumalo, E & Sibanda, S. 2016. Counting police-recorded protests: based on South African Police Service data. Social Change Research Unit, University of Johannesburg. [ Links ]
Samuelson, PA. 1954. The pure theory of public expenditure. The Review of Economics and Statistics, 36(4):387-389. [ Links ]
Scott, JC. 2008. Weapons of the Weak: Everyday forms of peasant resistance. New Haven: Yale University Press. [ Links ]
Shaheen, S. 2015. Social Uprisings: Conceptualization, Measurement, Causes and Implications. Doktorale verhandeling: Universität Marburg. [ Links ]
Tajfel, H, Turner, JC, Austin, WG & Worchel, S. 1979. An integrative theory of intergroup conflict. Organizational Identity: A Reader. Washington, DC: Academic Press. [ Links ]
Tarrow, SG. 1989. Democracy and disorder: protest and politics in Italy, 1965-1975. New York: Oxford University Press, USA. [ Links ]
Thompson, EP. 1971. The moral economy of the English crowd in the eighteenth century. Past & Present, 50(1):76-136. [ Links ]
Tilly, C. 1977. From mobilization to revolution. Boston: Addison-Wesley. [ Links ]
Tilly, C. 2017. Contentious performances. In Collective Violence, Contentious Politics, and Social Change. Routledge, pp. 92-99. [ Links ]
Von Clausewitz, C. 1982[1832]. On War. Vol. 20. New York: Penguin. [ Links ]
Wegner, PE. 2009. Greimas avec Lacan; or, from the symbolic to the real in dialectical criticism. Criticism, 51(2):211-245. [ Links ]
West, C. 2011. Prophetic religion and the future of capitalist civilization. The power of religion in the public sphere. New York: Columbia University Press, pp. 92-100. [ Links ]
Woolley, K & Moore, K. 2007. Direct Action. The Blackwell Encyclopedia of Sociology Vol. 1479. ed. G. Ritzer. New York: Blackwell Publishing. [ Links ]
Žižek, S. 2009. Violence: Six Sideways Reflections. New York: Profile. [ Links ]
Ontvang: 2021-04-09
Goedgekeur: 2021-08-01
Gepubliseer: September 2021
MARTIN BEKKER is 'n sosiale wetenskaplike en ontwikkelingsbeplanner, en tans 'n "Global Excellence Stature" postdoktorale navorser aan die Universiteit van Johannesburg. Bekker het baccalaureusgrade in waarde- en beleidstudies en filosofie aan die Universiteit Stellenbosch behaal, en meestersgrade aan die Bradford Universiteit (in Vredestudies) en die London School of Economics (in Ontwikkelingsbestuur). Sy doktorale proefskrif was 'n baanbrekende kwantitatiewe analise van protes in Suid-Afrika, waarin hy Kunsmatige Intelligensie-tegnieke op polisiedata toegepas het.
Hy is 'n voormalige hoof van strategie asook van navorsing by die Royal Bafokeng-administrasie, en het op die Wêreld Ekonomiese Forum se adviespaneel vir volhoubare mynbou en mineraalontginning gedien. Onlangse werk sluit bewusmaking, gekoppel aan die UJ/RGN se Covid-19-Demokrasie-opname, in. Bekker het die nasionale "3-minuut tesis"-kompetisie gewen.
MARTIN BEKKER is a computational social scientist and development planner, currently a Global Excellence Stature post-doctoral researcher at the University of Johannesburg. Bekker holds bachelor's degrees in policy studies and philosophy from Stellenbosch University, and master's degrees from Bradford University (in Peace Studies) and the London School of Economics (in Development Management). His doctoral thesis presented a pioneering quantitative analysis of popular protest in South Africa.
He was head of strategy and later of research at the Royal Bafokeng Administration, and served on the World Economic Forum's advisory panel for sustainable mining and minerals. Recent work includes public advocacy work linked to UJ/HSRC Covid-19 Democracy Survey. Bekker came top in South Africa's "3-minute thesis" competition.
Martin Bekker