SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue4-1What does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament posesTranslators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 Maccabees author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.61 n.4-1 Pretoria Dec. 2021

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-1a8 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

     

    "dit en dat" en "al daai goed": 'n Korpuslinguistiese ondersoek na pragmatiese merkers in gesproke Afrikaans

     

    "dit en dat" ("this and that") and "al daai goed" ("all that stuff'): A corpus-linguistic study of pragmatic markers in spoken Afrikaans

     

     

    Elvis SaalI; Annamarie FourieII

    IDepartement Afrikaans en Algemene, Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: saale@unisa.ac.za
    IIAkademie vir Reformatoriese Onderwys en Opleiding (AROS), Pretoria, Suid-Afrika

     

     


    OPSOMMING

    Pragmatiese merkers is 'n frekwente verskynsel van gesproke taal. Daar is egter nog baie min studies onderneem na pragmatiese merkers in Omgangsafrikaans. Pragmatiese merkers tree op as belangrike kontekstualiseringswenke deurdat dit gespreksgenote rig in terme van die relevansie van die uiting, en die spreker in staat stel om, op bondige wyse, 'n houding teenoor die proposisie van die uiting te openbaar. In hierdie studie word gefokus op 'n bepaalde tipe pragmatiese merker, naamlik vaekategoriemerkers (VKM's). Vaekategoriemerkers in Afrikaans is 'n meerwoordige leksikale eenheid, of woordkluster, wat as pragmatiese merker optree, byvoorbeeld "en goed" en "of iets". Hierdie ondersoek het ten doel om aan die hand van korpuslinguistiese metodes te bepaal watter vaekategoriemerkers in Omgangsafrikaans gebruik word en watter pragmatiese funksies dit verrig.

    Trefwoorde: pragmatiese merkers, vaekategoriemerkers, relevansieteorie, pragmatiek, korpuslinguistiek, skermers, vae taal, kwaliteitsbeginsel, kwantiteitsbeginsel, hoflikheidstrategieë


    ABSTRACT

    Pragmatic markers are a frequent phenomenon in spoken language. However, there have been very few studies on pragmatic markers in spoken Afrikaans. Pragmatic markers act as important contextualization cues in the sense that it directs interlocutors in terms of the relevance of an utterance and enables the speaker to succinctly reveal an attitude towards the proposition of the utterance. In this study the focus is on a specific type of pragmatic marker, namely vague category markers. Vague category markers (henceforth VCMs) are a subcategory of pragmatic markers which include a multiword lexical unit or word cluster such as "and things/stuff" ("en goed") and "or something" ("of iets"). VCMs are a specific realisation of vague language. Vague language refers to language use that is intentionally vague. Although VCMs are prevalent in many languages, it has not been studied by way of corpus-linguistic methods in Afrikaans.
    The present study uses corpus-linguistic methods to identify, categorise and analyse vague category markers in a self-compiled spoken corpus namely the Pretoriakorpus van Omgangsafrikaans (Pretoria corpus of Colloquial Afrikaans) (henceforth PO corpus). The PO corpus consists of transcribed conversations of native Afrikaans speakers recorded in Pretoria between 2015 and 2018.
    The data shows that VCMs do occur frequently in spoken Afrikaans. Table 1, attached as an addendum, gives a detailed account of the various VCMs as well as their normalised frequencies in the PO corpus. The two most frequent VCMs are "en goed" ("and things/stuff) and "of iets" ("or something") and variations thereof.
    In the literature, a distinction is made between adjunct and disjunct VCMs. The adjunct VCMs typically start with "and" and enable the speaker to comply with Grice's maxim of quantity indicating that more could be said. Disjunct VCMs typically start with "or" and enable the speaker to comply with Grice's maxim of quality, indicating that the given information might not be completely accurate. In Afrikaans, both adjunct and disjunct VCMs are found - the adjunct form starting with "en" ("and") and the disjunct form with "of ("or").
    VCMs function on textual, epistemic and sociopragmatic levels. On textual level, it acts as an anaphoric device indicating that the previous element(s) could be understood as an example of a more general set of elements thereby creating textual cohesion. On epistemic level, it can function as a hedge to soften expectations regarding the truth or accuracy of an utterance. On sociopragmatic level, it creates common ground between speaker and listener and confirms ingroup membership.
    In this article, the relevance theory is used as theoretical framework to describe and analyse VCMs. According to the relevance theory, communication is intentional. An utterance is relevant when it has a cognitive effect on the listener without requiring high processing. Pragmatic markers, including VCMs, are seen as ostensive stimuli that enable the listener to understand the speaker's communicative intent.
    Three basic forms of adjunct VCMs were identified in the corpus data: "en goed" ("and things/stuff), "en so (aan)" ("and so on") and "en alles" ("and everthything"). "En goed" has many variations (see table 1) and is the most frequentform. It has a clear textual function and refers back to vague referents - mostly physical objects, but also actions / events and abstract referents. "En so (aan)" is used specially to comply with Grice's maxim of quality by indicating that more could be said. It is often used in conjunction with more abstract categories. "En alles" is often used in situations where sensitive and emotional sentiments are shared.
    The most frequent disjunct VCMs in the corpus data were "of iets" ("or something"), "of wat ook al" ("or whatever") and "of so" ("or so"). "Of iets" and its variations are the most common form. It is a versatile VCM used for textual, epistemic and sociopragmatic functions. It seems to be the preferred form to use when indicating that a number should be taken as an indication rather than an accurate fact. "Of wat ook al" displays predominantly textual functions by acting as anaphoric reference to a vague referent but also indicating that the speaker has given enough information to enable the listener to fill in the missing information. "Of so" collocates rather often with vague categories of place and time but is also used for epistemic and sociopragmatic functions.
    The following general trends can be identified by studying the VCMs in the PO corpus.
    VCMs are used to refer to vague categories. The nature of these categories differs. Some VCMs like "en goed" are predominantly used with vague categories containing concrete examples while others are more often used with abstract categories.
    The reach of different VCMs differ. Some only refer to what immediately precedes them in an utterance while others refer to more general ideas or feelings emanating from the utterance.
    VCMs show differing degrees of flexibility concerning their form. Some like "en goed" and "of iets" leave room for the inclusion of other words. Others, like "en alles" are fixed and do not allow any insertion of additional words.
    Most of the VCMs appear at the end of an utterance or intonation segment, but some VCMs such as "of so" can also appear in the middle section.
    VCMs serve textual, epistemic and/or sociopragmatic functions, but the dominant function is context specific.
    Some VCMs (such as "of wat ook al") have become fillers for some speakers which might indicate an advanced state of semantic bleaching. In this case, it loses its anaphoric function and becomes a mechanism which aids with processing.

    Keywords: pragmatic markers, vague category markers, relevance theory, pragmatics, corpus-linguistics, hedges, vague language, quality principle, quantity principle, politeness strategies


     

     

    1. Inleiding

    Dit is nie ongewoon om uitdrukkings soos "en sulke goed", "of wat ook al" en "of iets" in Afrikaans te hoor of te gebruik nie. Hierdie woordgroepe kan as 'n tipe pragmatiese merker geklassifiseer word. In die literatuur word na soortgelyke merkers verwys as vaekategoriemerkers1 (voortaan VKM's) (vgl. Fourie, 2020:29; Marais, 2005:72; Murphy, 2010:85). Pragmatiese merkers, en by implikasie VKM's, kan kortliks beskryf word as talige elemente wat losstaande van die proposisionele inhoud van 'n uiting optree en bykomende, hoofsaaklik pragmatiese, inligting oordra wat die interpretasie van 'n uiting beïnvloed. VKM's as tipe pragmatiese merkers toon bepaalde raakvlakke met die leksikale semantiek deurdat VKM's veral op tekstuele vlak as verwysingsmiddel (anaforiese middel) ingespan kan word (vgl. Bosman & Pienaar, 2017:306-307, 310). As sodanig wil hierdie studie aansluiting vind by en erkenning bied aan die navorsing van Nerina Bosman oor die leksikale semantiek (vgl. Bosman, 2015).

    In aansluiting by Bosman en Pienaar (2017:304) wat argumenteer dat 'n korpus 'n belangrike element vorm by navorsing oor woorde en hul betekenisse, word in hierdie studie korpuslinguistiese metodes ingespan om VKM's te bestudeer. Vir hierdie studie is voorbeelde van VKM's onttrek vanuit die Pretoriakorpus van Omgangsafrikaans (voortaan PO-korpus genoem) wat in die tydperk tussen 2015 en 2018 in Pretoria opgeneem is (Fourie, 2020:61-63). Die PO-korpus bestaan uit transkripsies van informele Afrikaanse gesprekke wat onder moedertaalsprekers van Afrikaans in Pretoria opgeneem is.

    Die PO-korpus toon duidelik dat VKM's frekwent in Afrikaanse gesprekke voorkom en dus 'n integrale deel uitmaak van alledaagse kommunikasiestrukture (sien Tabel 1 in Bylae A). Desondanks is dit 'n verskynsel wat sover vasgestel kon word, nog nie sistematies in Afrikaans ondersoek is nie.

    Hierdie ondersoek het gevolglik ten doel om aan die hand van korpuslinguistiese metodes te bepaal watter VKM's in Omgangsafrikaans gebruik word en watter funksies dit verrig. Van die frekwentste VKM's in die PO-korpus is "en goed", "of iets" en "en alles" - sien Tabel 1 in Bylae A vir 'n volledige uiteensetting van die frekwensies van die VKM's wat in die PO-korpus voorkom.

    Die artikel is soos volg gestruktureer: Eerstens word die algemene aard en rol van VKM's bespreek soos dit blyk uit navorsing oor Engelse en Duitse realiserings daarvan. Tweedens word die voorbeelde van VKM's wat in die PO-korpus voorkom, bespreek en sekere gevolgtrekkings gemaak op grond van die korpusdata.

     

    2. Struktuur en funksie van vaekategoriemerkers (VKM's)

    Vaekategoriemerkers (VKM's) word gesien as 'n tipe pragmatiese merker. Pragmatiese merkers word in die konteks van hierdie studie gedefinieer as verbale kontekstuele leidrade (woorde of kort frases) wat losweg verbind is aan die sintaktiese en semantiese raamwerk van 'n uiting waardeur pragmatiese inligting oorgedra word, en wat gevolglik die wyse waarop 'n uiting verstaan word, kan beïnvloed (vgl. Aijmer, 2002:2; Andersen, 2014:17; Torgersen, Gabrielatos, Hoffmann & Fox, 2011:95). Tydens gesproke kommunikasie dra hierdie woorde of woordklusters by tot gespreksamehang en die sosiale interaksie tussen gespreksgenote deur op 'n bondige wyse metalinguistiese inligting rakende 'n uiting te impliseer (vgl. Foolen, 2012:217; Erman, 2001:1339; Schiffrin, 1987:22).

    VKM's tree dienooreenkomstig op en bevat bykomende, hoofsaaklik pragmatiese, inligting wat die interpretasie van 'n uiting beïnvloed. Verder vervul VKM's ook 'n tekstuele en sosiopragmatiese funksie - sien die bespreking oor die funksie van VKM's in afdeling 2.2.

    2.1 VKM's as vae taal

    VKM's kan gesien word as 'n onderafdeling van vae taal. Vae taal verwys na taal wat inherent en doelbewus onnoukeurig is; dit is oppervlakstrukture wat kan verwys na óf spesifieke entiteite óf na niks in besonders nie (Cutting, 2007:4). Channel (1994:196-198) stel die volgende drie kriteria waaraan vae taal gemeet kan word: 1) dit kan gekontrasteer word met 'n ander woord of uitdrukking wat dieselfde proposisie kan oplewer; 2) dit is doelbewus en onbeskaamd vaag, of 3) die betekenis spruit juis uit die intrinsieke onduidelikheid daarvan.

    Vaekategoriemerkers (VKM's) is spesifieke realiserings van vae taal en sluit uitdrukkings in soos "en goed / goeters(e)", "en alles", "of iets" en "of wat ook al" wat gewoonlik 'n vae kategorie oproep en tipies aan die einde van die uiting en/of tooneenheid voorkom. In haar ondersoek na Tienerafrikaans identifiseer Marais (2004:72) voorbeelde soos "en sulke stuff", "en als", en "en goed" in haar data as vae verwysings.

    2.2 Die funksies van VKM's

    VKM's funksioneer tekstueel, epistemies en sosiopragmaties. Op tekstuele vlak kan dit as anaforiese middel samehang bewerk wanneer dit aandui dat die voorafgaande element verstaan kan word as 'n voorbeeld van 'n meer algemene versameling (Cutting, 2015:110; Stenström, Andersen & Hasund, 2002:98-99). Voorbeeld 1 illustreer hierdie samehang.

    1) ... sodat hy goeters kan gaan haal vir sy ma vir die ... vir die kamp waar, jy weet, en dit was soos, jy weet, twintig komberse en soveel kussingslope en al daai goeters ... (Spreker 76, vroulik, 18-29 jaar)

    Op epistemiese vlak kan VKM's optree as skermers wat aandui dat die spreker hom/haar nie te sterk wil verbind tot die waarheid of akkuraatheid van die uiting nie (vgl. Cutting, 2015:110). Voorbeeld 2 uit die PO-korpus toon aan dat die spreker nie heeltemal seker is oor die persentasie nie.

    2) Mens dink . jy dink dalk dis baie en dan is dit maar twee persent of iets as jy dit nou uitwerk ... (Spreker 110, vroulik, 30-59 jaar)

    Op sosiopragmatiese vlak verrig VKM's belangrike sosiale funksies soos om 'n ontspanne atmosfeer en interpersoonlike aanklank te skep en te behou. Dit kan ook gebruik word as hoflikheidstrategie om byvoorbeeld die aansien van gespreksgenote te beskerm of om minder outoritêr of direk en dus meer tegemoetkomend oor te kom. Die gebruik van VKM's maak staat op gedeelde kennis en beklemtoon nabyheid, intimiteit of groeplidmaatskap. 'n Voorbeeld hiervan uit die PO-korpus is die onderstaande uiting wat verwys na 'n beroemde gholfspeler. Die spreker neem aan dat die gespreksgenote kennis dra van die gebeure waarna hy verwys.

    3) Ja, toe hy met daai slag daai . wat noem mens dit . skandaal wat hy gehad het met die vrou en goeterse. Toe dit gebeur het, toe't dit maar net ... als het gegaan. (Spreker 114, manlik, 30-59 jaar)

    Dieselfde VKM's wat gebruik word om mense in te sluit, kan egter ander mense uitsluit wat nie hierdie kennis met die spreker deel nie.

    2.3 Sintaktiese struktuur van VKM's

    Prototipiese VKM's bestaan uit ten minste twee woorde, maar word soms uitgebrei tot vier of vyf woorde (vgl. Tabel 1 in Bylae A). Hierdie woordklusters begin met die voegwoorde "en" of "of" en kom tipies aan die einde van 'n uiting of uitingsegment voor vanwaar dit terugwerkend anafories optree. VKM's kan moontlik beskou word as "leksikale uitdrukkings" (Ponelis, 1989:49) of "meerwoordige leksikale items" (Bosman, 2000:27) gebaseer op die betreklike vastheid van hul vorm en geleksikaliseerde gebruik.

    Daar word in die literatuur 'n onderskeid getref tussen adjunkte en disjunkte VKM's (Romero-Trillo, 2015:55). Adjunkte VKM's bestaan uit "en" ("and") plus 'n algemene vae naamwoordklous, byvoorbeeld "and all that", en disjunkte VKM's bestaan uit "of" ("or") plus 'n algemene vae naamwoordklous, byvoorbeeld "or something". Volgens Cutting (2015:109) voldoen adjunkte VKM's oor die algemeen aan Grice se kwantiteitsbeginsel wat impliseer dat meer gesê sou kon word (vgl. voorbeeld 1 en 3 hier bo). Die disjunkte VKM's word oor die algemeen gebruik om te voldoen aan die kwaliteitsbeginsel om aan te dui dat wat gesê word, moontlik nie akkuraat is nie (vgl. voorbeeld 2 hier bo).

    Die algemene naamwoordklous by die adjunkte VKM's bestaan soms uit slegs een woord. Die tweewoord-VKM's is van die algemeenste vorme en kan beskou word as die standaardvorme: "en goed/goeters(e)/goedjies/dinge", "en alles/als" en "en so". "En so aan" is die enigste driewoordkluster wat in die PO-korpus 'n frekwensie bo 0.1 per 1 000 woorde bereik. Sommige van hierdie standaardklusters kan dan oënskynlik na willekeur aangevul word met aanwysende woorde soos "sulke", "daai", "hierdie" en "dié"; kwantors soos "al"; adjektiewe soos "allerhande" en "ander"; en naamwoorde soos "tipe". In die PO-korpus is die enigste Engelse woord wat met "en" verbind om 'n VKM te vorm, "stuff' wat drie keer deur dieselfde spreker gebruik word.

    Die algemeenste disjunkte VKM's in die PO-korpus is "of iets", "of so" en "of wat ook al". Die onbepaalde voornaamwoord "iets" varieer soms met "iemand" om menslike referente te benoem en die vraende voornaamwoord "wat" varieer soms met "wie". Reduksie en uitbreiding van die basiese disjunkte vorme kom voor, maar hierdie variasie kom beperkend voor in vergelyking met die adjunkte vorme. "Of iets" word uitgebrei na byvoorbeeld "of iets soos dit". Alhoewel "of 'n ding" twee keer as VKM gebruik word, is daar geen voorbeelde waar "of goed" in hierdie korpus as VKM gebruik word nie. Vae Engelse woorde word ook in enkele gevalle gebruik in die PO-korpus om disjunkte VKM's te vorm, maar in elke geval saam met die Afrikaanse "of: "anything" (1 voorkoms), "whatever" (2 voorkomste) en "something / something like that" (3 voorkomste).

    Die woorde wat gebruik word om VKM's te vorm, is - soos verwag kan word - oorwegend vaag en onspesifiek. Die enigste uitsondering is die aanwysende "hierdie" en "dié" wat 'n skyn van spesifiekheid het.

     

    3. Die relevansieteorie as teoretiese vertrekpunt

    Die fundamentele aannames van die relevansieteorie (Sperber & Wilson, 2006) word as teoretiese vertrekpunt gebruik om die verskynsel van VKM's te probeer verklaar.

    Volgens die relevansieteorie is kommunikasie intensioneel. Die spreker moet die doel (of intensie) van die kommunikasie uitdruk en die gespreksgenoot moet dit kan herken. Die uiting is relevant wanneer dit 'n kognitiewe effek op die hoorder het. Kommunikasie is vervolgens ook ostensief, met ander woorde dit dien 'n dubbele doel, naamlik om inligting oor te dra, maar ook om die hoorder bewus te maak van die spreker se kommunikatiewe bedoeling. Om dít te bereik, bevat spraak dikwels ostensiewe stimuli wat die hoorder se aandag trek en dit op die spreker se bedoeling vestig sonder om die verwerkingsinspanning te verhoog (Fourie, 2020:35). Dit impliseer dat kommunikasie afhanklik is van die maak van afleidings en dat alle inligting nie woordeliks of letterlik gekommunikeer sal word nie.

    Relevante kommunikasie behels dat kommunikasie die optimale balans tussen kontekstuele effek en verwerkingsinspanning bereik (vgl. Retief, 1988:71). VKM's, en ander pragmatiese merkers, tree op as ostensiewe stimuli wat maklik deur die hoorder herken word en hom/haar in staat stel om afleidings te maak wat uiteindelik die spreker se bedoelde kognitiewe effek by die hoorder sal bewerkstellig.

     

    4. Metode van ondersoek

    In die tydperk 2015-2018 is klankopnames gemaak van Afrikaanse informele gesprekke. Die deelnemers is by wyse van 'n gerieflikheidsteekproef versamel en het bestaan uit deelnemers tussen die ouderdomme van 18 en 94, wat ten tyde van die opnames in Pretoria en onmiddellike omstreke gewoon het. Al die deelnemers is moedertaalsprekers van Afrikaans. Daar is deurgaans gepoog om die gesprekke baie informeel en gemaklik te hou. Die waarnemersparadoks is tot die minimum beperk deur sprekers die vryheid te gee om oor enige onderwerp te praat in groepe waarin sprekers gemaklik was. Die meeste opnames is met 'n selfoon gemaak, omdat dit geblyk het dat sprekers gewoond was daaraan en dit dus die gesprek minimaal beïnvloed het.

    Die opnames is voorts ortografíes getranskribeer en geannoteer. Die transkripsies is geformateer tot 'n formaat wat gelees kan word deur die korpussagtewareprogram AntConc 3.5.8 (Anthony, 2012). Dié korpus staan bekend as die Pretoriakorpus van Omgangsafrikaans (PO-korpus) en bestaan uit 99 933 woorde en sluit 162 sprekers in.

    Korpuslinguistiese metodes is gebruik om na outentieke taalvoorbeelde te kyk in die PO-korpus. Die sagtewareprogram ANTConc (Anthony, 2012) is gebruik om VKM's in die PO-korpus te identifiseer en te tel deur van die Clusters/N-gram-funksie gebruik te maak.2

    Die Concordance-funksie is gebruik om die voorkomste in konteks te beskou en voorkomste wat nie VKM's was nie, is met die hand uitgeskakel. Daarna is die VKM's ontleed binne die konteks van die uiting en die gesprekke waarin hulle verskyn.

     

    5. Bevindinge van die studie

    Die resultate van die adjunkte VKM's word eerstens bespreek, gevolg deur die disjunkte

    VKM's.

    5.1 Adjunkte VKM's

    Die algemeenste adjunkte VKM's wat in die PO-korpus voorkom, is "en goed", "en alles" en "en so". Die drie basiese vorme van adjunkte VKM's in die PO-korpus is:

    "en" + "goed/goeters(e)/dinge/goedjies/stuff" met opsionele aanwysende woorde, kwantors en adjektiewe.

    "en" + "so (aan)"

    "en" + "alles/als"

    Twee ander onverwante voorbeelde is opgespoor, naamlik "en dit en dat" en "ensovoorts, ensovoorts".

    5.1.1 "en" + "goed/goeters(e)/dinge/goedjies/stuff"

    Indien die basisvorm "en goed/goeters/goedjies/dinge" en variasies daarvan as één VKM beskou word, is dit verreweg die algemeenste vorm met 82 voorkomste in die PO-korpus ('n genormaliseerde frekwensie van 0.82 voorkomste per 1 000 woorde - sien Tabel 1 in Bylae A).

    Hierdie VKM laat ruimte vir die invoeging van die volgende woorde asook kombinasies daarvan: "sulke" (16 voorkomste), "daai" (9 voorkomste), "al" (8 voorkomste), "tipe" (3 voorkomste), "allerhande" (2 voorkomste), "ander", "hierdie", "soos" en "dié" (1 voorkoms elk). Voorbeeld 4 illustreer een so 'n invoeging:

    4) Ja, dit is nie op freakin <naam van universiteit se aanlyn platform> nie. So, hulle is letterlik ... hulle sit nou daar al jou semester tussen al jou goed en al jou notas en al daai goed daarop ... (Spreker 25, manlik, 18-29 jaar)

    Die verskeidenheid vorme wat hierdie VKM kan aanneem, kan die rede wees waarom dit so frekwent voorkom - dit is buigsaam en elke spreker kan die vorm manipuleer soos dit by sy/ haar gesprekstyl pas. Dit is ook buigsaam wat plasing betref. Dit word algemeen in die middelposisie gebruik - vergelyk voorbeeld 5, 6 en 7 hier onder.

    "En goed" verwys terugwerkend anafories na verskeie (meestal konkrete) referente. In die volgende voorbeelde verwys die VKM na fisiese objekte:

    5) Maar hulle het sulke uhm salmon tacos en goed wat moer lekker is. (Spreker 68, vroulik, 18-29 jaar)

    6) Ja, nou weet ek . my my e seun het my altyd . as dit nou . hulle weet wanneer gaan hy . gaan daar soort van meer ligte wees en dan gooi hy vir my . dis nou diep goed, diep lê die sneeu ... Dan gooi hy vir my oor die sneeu eers 'n seil en dan e donskomberse en goed. Dan maak hulle my toe en dan kan ek lê en noord-noorderligte kyk <lag> (Spreker 141, vroulik, 60-100 jaar)

    Dit kan ook anafories na aksies of gebeure verwys:

    7) Ja, hier is darem nie soos oukei wel nog nie rêrig iets soos toi-tois en goed hier gewees dat ons hier is nie. (Spreker 4, manlik, 18-29 jaar)

    Daar is ook ander gevalle waar dit minder duidelik is waarna die VKM presies verwys. In hierdie gevalle is die referent waarna verwys word minder konkreet en meer abstrak soos in voorbeeld 8 hier onder:

    8) Maar ek dink dit is 'n ding maar vir volgende jaar. Hulle begin volgende jaar ... ek dink dit is maar omdat die World Cup ook in Japan is en goed lat hulle die ding . maar ek sal daai fliek nogal wil kyk. (Spreker 42, manlik, 18-29 jaar)

    Hier kan "en goed" moontlik aandui dat daar meer redes kan wees vir die maak van 'n film oor Japan se rugby-oorwinning oor die Springbokke. Maar dit wil voorkom asof die VKM eintlik gebruik word om aan te dui dat die spreker nie te seker is van sy saak nie of dat hy nie te outoritêr wil oorkom nie. Dit is ook waarskynlik dat "en goed" hier as stopwoord3 gebruik word.

    Dit blyk uit die gebruiksvoorbeelde in die PO-korpus dat "en goed" en die variasies daarvan die gewildste VKM onder die respondente is. Dit vervul 'n duidelike tekstuele funksie deur anafories terugwerkend te verwys na vae referente wat merendeels uit fisiese objekte bestaan (38 voorkomste), gevolg deur aksies en gebeure (28 voorkomste) en abstrakte referente (17 voorkomste). Dit word ook epistemies aangewend om sprekers se erkenning van onsekerheid of onakkuraatheid aan te dui.

    5.1.2 "en" + "so (aan)"

    Die VKM "en so (aan)" is 'n meer stabiele vorm as "en goed" en toon nie soveel variasie en moontlikhede vir invoegings nie. Die enigste variasies is "en so" en "en so aan" met slegs een spreker wat die vorm "en so-so-so" gebruik. Wat plasing betref, het hierdie VKM 'n definitiewe voorkeurposisie: in die PO-korpus kom "en so aan" altyd aan die einde van 'n uiting of uitingsegment voor. Die vorm "en so" kom in die PO-korpus slegs twee uit 19 keer in die middelposisie voor.

    Dié VKM word gebruik om aan te dui dat die referent waarna daar in die voorafgaande verwys word, steeds verder uitgebrei kan word, soos in voorbeeld 9 hier onder waar "en so aan" duidelik aandui dat die slange aan enige instansies wat in dieselfde kategorie as "dieretuine" en "slangparke" val, verkoop kan word.

    9) Nee, hulle gee dit eintlik ... Dis 'n baie skaars inheemse Suid-Afrikaanse uh luislang. Hulle verkoop dit aan die dieretuine en die slangparke en so aan ... (Spreker 127, manlik, 30-59 jaar)

    Die VKM "en so aan" word in ander gevalle gebruik om 'n meer abstrakte betekenis van "en alles wat daarmee saamgaan" oor te dra. In voorbeeld 10 hier onder dui die spreker aan dat "gesels" en "kuier" en alles wat daarmee saamgaan, nodig is vir die mens as sosiale wese. "En so aan" verwys hier moontlik nie net na die uiterlike aksies nie, maar ook na wat innerlik met 'n mens gebeur wanneer daar gesosialiseer word.

    10) Ja, want mens het tog nodig om bietjie met ander mense te gesels en te kuier en so aan (Spreker 126, vroulik, 30-59)

    Ook in voorbeeld 11 hier onder gee die spreker "die vriende het begin kinders kry en so" as rede waarom hy so lanklaas geduik het. Dit is duidelik dat hy na 'n hele proses van verandering verwys wat begin het met die koms van die kinders.

    11) Kyk ek was nou baie lanklaas bietjie . Ek het letterlik, ek dink, 2009 laas geduik, so dis 'n klomp jaar terug. Is maar net - al die vriende het begin kinders kry en so en en ... Soos ek sê, ek het vir 'n klomp jare geduik, so ek is orraait daarmee. Ek het dit geniet vir dit. (Spreker 122, manlik, 30-59 jaar)

    Dit kan egter ook aandui dat die hoorder nou self afleidings moet maak, aangesien die spreker dit nie nodig ag om in verdere besonderhede in te gaan of verder wil vertel nie. Die spreker neem dus aan dat hy reeds aan die kwantiteitsbeginsel voldoen het en dat die gespreksgenoot oor die nodige inligting beskik om self die res in te vul - soos voorbeeld 12 ook illustreer.

    12) Uhm van die see af dan het die visverkopers dit dadelik opgelaai en deur die strate gery van Kaapstad tot in Wellington en Paarl, Stellenbosch en so en dan het hulle daarso 'n 'n beuel geblaas en as dié beuel blaas dan weet ons hierdie vis is nou hierso. (Spreker 146, manlik, 60-100 jaar)

    Dit blyk dus uit die PO-korpus dat die VKM "en so (aan)" veral aan Grice (1989) se kwantiteitsbeginsel voldoen deur aan te dui dat daar nog meer gesê kan word. Dit speel 'n sosiopragmatiese rol om gespreksgenote by betekenisskepping te betrek deur die ontbrekende inligting self af te lei. Sodoende verhoog dit die relevansie van die uiting deur die kommuni-katiewe bedoeling duidelik te stel, sonder om die verwerkingskoste te verhoog.

    5.1.3 "en" + "alles/als"

    Die VKM "en alles/als" toon, behalwe vir die gebruik van die wisselvorme "alles" en "als", geen ander variasie nie. Dit is dus 'n meer vaste vorm as "en goed". Die voorkeurplasing vir dié VKM is aan die einde van die uiting of tooneenheid. Slegs 7 uit die 31 plasings het nie aan die heel einde van die uiting of tooneenheid voorgekom nie, met 4 van hierdie 7 plasings wat opgevolg is deur 'n ander pragmatiese merker soos "jy weet" en "nè". Van die oorblywende drie plasings is slegs 1 plasing in die middelposisie, terwyl die ander 2 steeds naby aan die einde - op die rand - van die uiting voorkom.

    Uit die voorbeelde in die PO-korpus lyk dit asof "en alles" gebruik word op grond van die kernbetekenis van omvattendheid. Die referent waarna hierdie VKM verwys, is dikwels meer abstrak as by "en goed" en dra by tot die beklemtoning van die omvang van die voorafgaande. In die volgende uiting verwys "en alles" nie net na "goed soos 'n studielening" nie, maar ook én veral na die omvang van die struikelblokke wat die betrokke persoon ervaar.

    13) ... soos kyk na <naam>. Sy kom van niks af nie. Sy het haarself hier uitgekry. Sy is op 'n studielening en alles en sy probeer dit doen, maar dan is mense soos van: "Wel, jy gaan druip, jy gaan pluk ..." (Spreker 16, vroulik, 18-29 jaar)

    Ook in die volgende voorbeeld dui die VKM meer op die gewigtigheid en sensitiwiteit van die aangeleentheid as wat dit na die uitbreiding van 'n konsep verwys.

    14) . ek weet nie. Het ek jou al vertel van my tannie wat op die plaas bly wat kanker het wat eintlik soos my pa se pa... ma is en alles? So my pa het gister plaas toe ... nie vir my of my ma gesê nie . toe vind ek later deur die dag uit. (Spreker 44, vroulik, 19-29 jaar)

    Dit blyk dus uit gebruiksvoorbeelde in die PO-korpus dat "en alles/als" 'n belangrike sosiopragmatiese rol speel in gesprekke. Dit is taamlik opvallend dat dit in die PO-korpus die voorkeur-VKM is in ernstige gesprekke met vertrouelinge waar sprekers oor sensitiewe of emosionele onderwerpe praat (net meer as 45% van die voorkomste) en wanneer sprekers heimwee het na die verlede (bykans 23% van die voorkomste). Dié merker dra moontlik daartoe by dat gespreksgenote onder die indruk kom van die omvang van die bespreekte gebeure en die invloed daarvan op die emosionele toestand van die spreker.

    5.2 Disjunkte VKM's

    Die algemeenste disjunkte VKM's wat in die PO-korpus voorkom, is "of iets", "of wat ook al" en "of so". By eerste oorweging lyk dit of "of iets" en "of so" kombineer in die variasie "of so iets(ie)", maar die manier waarop dit in die korpus gebruik word, weerlê hierdie aanname (sien bespreking van "of so") en daarom word dit hier as afsonderlike kategorieë hanteer.

    5.2.1 "of iets"

    Die VKM "of iets" is meer stabiel wat vorm betref as "en goed", maar toon wel 'n paar variasies. Die "iets" word byvoorbeeld aangepas na "iemand" wanneer daar na mense verwys word. Die woord "so" word ook soms ingevoeg om "of so iets" te vorm en die woord "iets" word ook in een geval verklein na "ietsie". Die kombinasie van "of" met die Engelse woord "something" en "something like that" word by hierdie kategorie ingesluit op grond van die semantiese ooreenkoms - hierdie kombinasie word egter slegs in een gesprek tussen twee jong, vroulike sprekers in die PO-korpus gevind. Die kombinasie van "of iets" met "soos dit" word twee keer in die PO-korpus gevind. Indien al hierdie variasies saamgetel word, kom hierdie VKM 55 keer in die korpus voor ('n genormaliseerde waarde van 0.55 per 1 000 woorde).

    Die VKM "of iets" tree terugwerkend anafories op om na 'n referent te verwys. In die volgende voorbeeld verwys dit na enige van die kos wat op die tafel voor die gespreksgenote staan.

    15) Hier's nog braaivleis. Wil jy braai= wil jy wors of iets hê? Vat <naam>, gaan mal. 'Seblief vat. (Spreker 111, manlik, 30-59)

    "Of iets" word in die PO-korpus gereeld saam met getalle of hoeveelhede gebruik (5 voorkomste) en dui in hierdie gevalle aan dat die spreker toegee dat die uiting waarskynlik nie heeltemal akkuraat is nie, soos in voorbeeld 16.

    16) As jy vat, wat dit is ... soos honderd-en-vyf, honderd-en-agt rand of iets vir 'n 3D-ticket. (Spreker 151, manlik, 30-59)

    "Of iets" dui egter nie slegs onsekerheid of onakkuraatheid aan wanneer dit saam met getalle gebruik word nie. Dit is in ander gevalle ook 'n sterk aanduider dat die spreker spekuleer oor die saak waarna die VKM verwys, soos in voorbeeld 17.

    17) Ja, ek dink hulle is almal mense wat gym. So hulle voel dalk dat dit soos 'n meisie gaan beïndruk of iets. (Spreker 10, vroulik, 18-29)

    "Of iets" word voorts onderhandelend gebruik om aan te dui dat die spreker oop is vir voorstelle van die gespreksgenote af. In voorbeeld 18 onderhandel 'n meisie en haar kêrel oor plekke waarheen hulle kan gaan om werksondervinding op te doen. Die kêrel is nie vreeslik lus om êrens heen te gaan nie, daarom moet die meisie haar voorstelle baie taktvol stel.

    18) Dit voel vir my asof ons eerder Kaap toe moet gaan of iets (Spreker 80, vroulik, 1829 jaar)

    Dit blyk dus uit die PO-korpus dat die disjunkte VKM "of iets" 'n veelsydige disjunkte VKM is wat duidelike tekstuele, epistemiese en sosiopragmatiese funksies in gesprekke verrig.

    5.2.2 "of wat ook al"

    Die VKM "of wat ook al" is 'n vaste uitdrukking en geen voorbeelde word in die PO-korpus gevind waar veranderinge aan die basiese struktuur gemaak word nie. Die "wat" kan egter vervang word met "wie" wanneer daar na mense verwys word. Twee voorkomste van "of wie ook al" en een voorkoms van "of wie" word in die PO-korpus aangetref. Daar is een gebruiksvoorbeeld in die korpus waar 'n klous aan die einde bygevoeg word om "of wat ook al jy dit nou wil noem" te vorm. Hierby is daar twee voorkomste van "of whatever" wat in dieselfde semantiese kategorie as hierdie VKM kan val. Die "of wat ook al"-vorm kom heelwat minder voor as die meer algemene "of iets" met slegs 24 voorkomste.

    "Of wat ook al" word in die korpus dikwels aan die einde van 'n uitingsegment geplaas voor voegwoorde soos "dan" (6 voorkomste), "en" (16 voorkomste) en "maar" (2 voorkomste elk). Dit kom nooit in die middelposisie voor nie.

    "Of wat ook al" kan, soos ander VKM's, bloot verwys na 'n vae kategorie, soos in die volgende voorbeeld.

    19) Want ek bedoel as die ding my nou pik of hy my nou wurg of wat ook al dan hulle ten minste my laaste woorde inkry. (Spreker 127, manlik, 30-59)

    Dit kan egter ook aandui dat die spreker nie seker is oor die benaming of rede nie (soos in voorbeeld 20), maar dat dit nie werklik ter sake is vir die vertelling nie, of dat die spreker vertrou die gespreksgenote beskik oor genoeg inligting om te weet waarna hy verwys.

    20) Dan't ons met hulle daar in die kerksaal gejaag, want dis mos nou gladde vloere en dis lekker lekker groot. Dis soos een twee drie vier sê ... wat's daai bane? Daai volleyball-bane of wat ook al. Dan jaag ons so om en om en om en om. (Spreker 108, manlik, 30-59)

    Voorbeeld 21 is egter interessant, aangesien die spreker duidelik weet wat die toep se naam is deur dit te meld. Waarom sou sy dan die naam "Findmyphone" opvolg met "of wat ook al"? Moontlik kon die naam, nadat sy dit uitgespreek het, nie meer reg geklink het nie, of anders gebruik sy die VKM om die uiting minder outoritêr te laat klink, met ander woorde vir sosiopragmatiese redes. 'n Ander moontlikheid is dat "of wat ook al" semanties soveel verbleek het dat die persoon dit bloot as stopwoord gebruik.

    21) Hulle het dadelik gaan kyk en toe trace ons hom met Findmyphone of wat ook al en toe's hy toe sien jy hoe gaan hy daar op die uhm op die pad tussen Villiers en Vryheid.

    "Of wat ook al" kan ook epistemies optree deur die spreker se onsekerheid oor feite weer te gee, soos in voorbeeld 22.

    22) Hy't so honderdduisendrand se lens gekoop, of wat ook al. (Spreker 102, manlik, 30-59 jaar)

    Die gebruiksvoorbeelde uit die PO-korpus dui aan dat "of wat ook al" tekstueel funksioneer, nie net deur terugwerkend te verwys na 'n vae kategorie nie, maar ook om aan te dui dat die presiese benaming nie so belangrik is nie en dat die spreker dus nou sal voortgaan met die vertelling. Hierdie VKM speel in sommige gevalle 'n epistemiese rol wat aandui dat die spreker onsekerheid ervaar oor byvoorbeeld feite of woordkeuse. "Of wat ook al" word voorts ook sosiopragmaties ingespan om die spreker minder outoritêr te laat oorkom en gespreksgenote te laat voel dat hulle gemeenskaplike kennis deel. Die moontlikheid bestaan dat "of wat ook al" vir sommige sprekers semanties so verbleek het dat dit as blote stopwoord aangewend word.

    5.2.3 "of so"

    Alhoewel "of so", wat struktuur en woordgebruik betref, grootliks ooreenstem met "of so iets", word dit anders aangewend, en dit kan in baie gevalle nie met "of so iets" vervang word nie. "Of so" is 'n vaste vorm - geen voorbeelde kon in die PO-korpus gevind word waar dié VKM uitgebrei is nie. Daarteenoor blyk die plasing van "of so" redelik buigsaam te wees. Alhoewel 6 van die 11 voorkomste in die korpus in die tradisionele eindposisie voorkom, is daar 5 gevalle waar "of so" in die middel van die uiting geplaas is.

    In die volgende voorbeeld verwys die VKM "of so" na die kategorie van vakansieverblyf. "Of iets" is egter nie geskik om hier te gebruik nie, miskien aangesien die kategorie nie werklik goed/dinge bevat nie, maar plekke - die aard van die vae kategorie is dus anders. In die korpus is 3 van die 11 voorkomste van "of so" saam met verwysings na plekke gebruik.

    23) Toe die kinders beginne grootword het en ons nie geld het om in hotelle en vakansieplekke of so te gaan nie, jy weet. Die karavaan het vir ons baie baie gehelp, baie gehelp. (Spreker 144, vroulik, 60-100)

    Dit lyk ook of "of so" maklik saam met 'n vae tydsaanduiding gebruik word. Daar is 3 voorkomste hiervan, waarvan voorbeeld 24 een is. Sover vasgestel kon word, word nie een van die ander disjunkte VKM's wat hier bespreek word in die korpus verbind met vae tyds- en plekaanwysings nie.

    24) Tien minute of so. <ander spreker praat> Maar toe word dit 'n uur en toe is die begeleiding eers 'n uur laat. (Spreker 115, manlik, 30-59)

    Die aanwending van "of so" in voorbeeld 25 is minder duidelik. Die gesprek waaruit dié voorbeeld verkry is, handel oor waar 'n universiteit geld kry om studente te help met hul studies ná betogings op kampusse. In hierdie geval verwys "of so" dus nie werklik na 'n vae referent waarvan geld een voorbeeld is nie. In hierdie geval het dit moontlik semanties verbleek en kan dit beskou word as 'n stopwoord. 'n Ander verklaring sou kon wees dat dit aansluit by die algemene onsekerheid van die spreker oor die aangeleentheid in welke geval die reikwydte van die VKM in hierdie geval groter is as net die paar woorde wat dit voorafgaan. Sodoende funksioneer dit dan as bykomende ostensiewe stimuli (saam met die ontkenningsuiting "Ek weet nie ...") om die onsekerheid van die spreker te beklemtoon.

    25) Ek weet nie ... ek weet nie waar kry hulle nou die geld of so nie, ja. (Spreker 4, manlik, 18-29 jaar)

    Net soos die VKM "of so iets" word "of so" ook onderhandelend gebruik, soos in voorbeeld 26 waar die spreker 'n voorstel maak vir iemand wat soos Peter Pan wil aantrek vir 'n partytjie.

    26) Dan sit jy net 'n veer in jou hare, of so. (Spreker 156, vroulik, 18-29 jaar)

    Die gebruiksvoorbeelde van "of so" in die PO-korpus toon dat hierdie VKM in die meeste gevalle nie afwisselend met "of so iets" gebruik kan word nie. Die VKM kollokeer betreklik gereeld met vae plek- en tydsaanwysings wat dit onderskei van ander disjunkte VKM's. Dié VKM word egter ook soos die ander VKM's gebruik om epistemiese en sosiopragmatiese funksies te vervul.

     

    6. Samevatting

    Afrikaanse vaekategoriemerkers (VKM's) kan, soos VKM's in ander tale, gekategoriseer word in terme van adjunkte of disjunkte vorme. Die adjunkte word hoofsaaklik gebruik om aan die kwantiteitsbeginsel te voldoen. Die Afrikaanse disjunkte vorme ondervang egter nie net die kwaliteitsbeginsel van Grice (1989) se gespreksreëls nie, maar word ook gebruik om die kwantiteitsbeginsel te ondervang.

    Die volgende algemene tendense wat VKM's in gesproke Afrikaans betref, kan waargeneem word uit die gesproke korpus:

    Afrikaanse VKM's tree tekstueel, epistemies en sosiopragmaties op, maar die dominante funksie is konteksspesifiek. Gebruiksvoorbeelde uit 'n korpus is dus besonder gepas vir die bestudering van VKM's.

    VKM's word veral gebruik om terugwerkend anafories na 'n vae kategorie te verwys. Sommige VKM's (soos die "en goed"-variasies) assosieer sterker met meer konkrete kategorieë, terwyl ander (soos "en so aan" en "of so") meer dikwels verwys na aksies en abstrakte kategorieë.

    Die reikwydte van die VKM's verskil - sommige (soos "en goed" en "of iets") verwys slegs na die woorde wat dit direk voorafgaan terwyl ander (soos "en alles") verwys na algemene idees en gevoelens wat in die uiting na vore kom.

    Enkele VKM's (soos "en goed" en "of iets") is buigsamer wat vorm betref en laat ruimte vir die insluiting van ander woorde in die struktuur toe. Die buigsamer vorme is ook die meer frekwente vorme, waarskynlik omdat sprekers dit kan aanpas om by hul konteks en persoonlike praatstyl te laat pas. Ander VKM's (soos "of wat ook al") het 'n vaster struktuur en laat nie ruimte vir invoegings toe nie.

    Sommige VKM's (soos "en so aan") se plasing toon taamlik vaste posisionering binne die sinstruktuur en word slegs aan die einde van die uiting of uitingsegment gevind, terwyl ander (soos "of iets") groter variasie toon wat plasing betref en soms ook in die middelposisie aangetref word.

    VKM's toon potensiaal om as stopwoorde gebruik te word wanneer dit semanties sodanig verbleek dat die anaforiese funksie verlore gaan. Hier word die woordkluster eerder gebruik as prosesseringsmeganisme wat die spreker tyd gee om sy gedagtes agtermekaar te kry. Dit lyk of die gebruik van VKM's as stopwoorde veral by sekere sprekers in die PO-korpus voorkom. Dit sal egter verder ondersoek moet word om konkreter afleidings te maak.

    Die Afrikaanse vorme van VKM's word verkies bo dié wat met die Engelse woorde kombineer. Slegs enkele sprekers gebruik Engelse woorde soos "stuff, "something (like that)" en "whatever" saam met die Afrikaanse "en" en "of".

    Dit is dus duidelik dat vaekategoriemerkers as belangrike pragmatiese merkers en kommu-nikatiewe meganismes in gesproke Afrikaans funksioneer. Buiten die enkele gevalle waar VKM's as stopwoorde gebruik word, dra dit by om die relevansie van die uiting te verhoog deur onontbeerlike pragmatiese inligting bondig oor te dra.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Aijmer, K. 2002. English discourse particles. Evidence from a corpus. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

    Andersen, G. 2014. Pragmatic Borrowing. Journal of Pragmatics, 67:17-33.         [ Links ]

    Anthony, L. 2012. AntConc (Version 3.3.5) [Rekenaarsagteware]. Tokio: Waseda University. Beskikbaar: http://www.antlab.sci.waseda.ac.jp/. (13 Februarie 2019).         [ Links ]

    Bosman, N. 2000. Die meerwoordige leksikale item in Afrikaans. Deel 1: Kenmerke en definiëring. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 40(1):27-38.         [ Links ]

    Bosman, N. 2015. EET en DRINK in Afrikaans - 'n leksikaal-semantiese ondersoek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(1):123:145.         [ Links ]

    Bosman, N & Pienaar, M. 2017. Afrikaanse semantiek. In WAM Carstens & N Bosman (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Channel, J. 1994. Vague language. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

    Cutting, J (red.). 2007. Vague language explored. Basingstoke: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

    Cutting, J. 2015. Dingsbums und so: Beliefs about German vague language. Journal of Pragmatics, 85:108121.         [ Links ]

    Erman, B. 2001. Pragmatic markers revisited with a focus on you know in adult and adolescent talk. Journal of Pragmatics, 33(9):1337-1359.         [ Links ]

    Foolen, AP. 2012. "Pragmatic markers in a sociopragmatic perspective." In G Andersen & K Aijmer (eds). Pragmatics of society. Berlyn: De Gruyter Mouton.         [ Links ]

    Fourie, A. 2020. 'n Korpuslinguistiese ondersoek na pragmatiese merkers in Omgangsafrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

    Grice, HP. 1989. Studies in the way of words. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

    Marais, S. 2004. Afrikaanse tienertaal. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.         [ Links ]

    Murphy, B. 2010. Corpus and sociolinguistics: investigating age and gender in female talk. Philadelphia: John Benjamins.         [ Links ]

    Ponelis, F. 1989. Leksikale elemente. In TJR Botha (red.). Leksikografie en leksikologie. Pretoria: Serva.         [ Links ]

    Retief, R. 1988. Verskoon my, maar bedoel u nou...? (Kommunikasie, interpretasie, relevansie). South African Journal of Linguistics, 6(2):59-74.         [ Links ]

    Romero-Trillo, J. 2015. Understanding vagueness: A prosodic analysis of endocentric and exocentric general extenders in English conversation. Journal of Pragmatics, 86:54-62.         [ Links ]

    Schiffrin, D. 1987. Discourse markers. New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Sperber, D & Wilson, D. 2006. Relevance Theory. In LR Horn & G Ward (eds). The Handbook of pragmatics. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

    Stenström, A, Andersen, G & Hasund, IK. 2002. Trends in teenage talk: corpus compilation, analysis and findings. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

    Torgersen, EN, Gabrielatos, C, Hoffmann, S & Fox, S. 2011. A corpus-based study of pragmatic markers in London English. Corpus Linguistics and Linguistic Theory, 7(1):93-118.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2021-01-11
    Goedgekeur: 2021-08-30
    Gepubliseer: Desember 2021

     

     

     

    Elvis Saal is 'n medeprofessor in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy doseer Afrikaanse taalkunde op voorgraadse en nagraadse vlak, in die besonder sosiolinguistiek en dokumentontwerp. Hy studeer aan die Univer-siteit van Wes-Kaapland (BA, BA Hons en MA) en Radboud Universiteit Nijmegen (PhD). Sy navorsingsgebiede sluit sosiolinguistiek en doku-mentontwerp in. Hy publiseer verskeie artikels hieroor in akademiese tydskrifte en woon gereeld plaaslike en internasionale kongresse by. Hy is 'n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Taal-museum en -Monument.
    Elvis Saal is an associate professor in the Department of Afrikaans and Theory of Literature at the University of South Africa. He teaches Afrikaans linguistics at undergraduate and post-graduate level, in particular sociolinguistics and document design. He studied at the University of the Western Cape (BA, BA Hons and MA) and Radboud University Nijmegen (PhD). His areas of research include sociolinguistics and document design. He published several articles in academic journals and regularly attends local and international conferences. He is a previous chairperson of the Afrikaans Language Museum and Monument.

     

     

    Annamarie Fourie is tans 'n lektor by die Akademie vir Reformatoriese Onderwys en Opleiding (AROS) en is betrokke by die modules Afrikaans Huistaalonderrig in die Intermediêre fase. Sy behaal 'n BIS-graad in Uitgewerswese en 'n HonsBA in Afrikaans met lof aan die Universiteit van Pretoria. Sy voltooi 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat aan Unisa en in 2020 'n MA-graad in Afrikaanse taalkunde ('n Korpus-linguistiese ondersoek na Omgangsafrikaans) met lof aan UNISA.
    Annamarie was vroeër werksaam as onder-wyseres, junior lektor in Afrikaanse taalkunde by UNISA en redakteur van Afrikaanse publikasies by Protea Boekhuis.
    Annamarie Fourie is currently employed as a lecturer at the Akademie vir Reformatoriese Onderwys en Opleiding (AROS) and she teaches Afrikaans Home Language Teaching modules to BEd (Intersen)-students. She obtains a BIS (Publishing) degree and a HonsBA (cum laude) in Afrikaans at the University of Pretoria. She also holds a Postgraduate certificate in Education and a Master's degree (cum laude) in Afrikaans linguistics from Unisa.
    Annamarie previously worked as teacher, junior lecturer for Afrikaans at Unisa and editor of Afrikaans publications at Protea Bookhouse.
    1 In die Engelse literatuur staan dit bekend as general extenders (Martínez, 2011), tags (Channel, 1994) en vague category markers (Murphy, 2010).
    2 Die n-gram-funksie stel die gebruiker in staat om vaste woordkombinasies wat frekwent voorkom, op te spoor. Die "n" in n-gram verwys na die veranderlike hoeveelheid woorde wat ingesluit kan word in hierdie soektog. Die gebruiker besluit dus of 'n twee-, drie-, vier- of vyfwoordkluster gesoek moet word. Die gebruiker bepaal ook wat die minimum frekwensie van die woordkluster in die korpus moet wees. Die n-gram-funksie lewer 'n resultaat soortgelyk aan die woordelys-funksie, maar toon die frekwensie van sekere woordkombinasies aan. Aangesien VKM's 'n kombinasie is van woorde wat met spesifieke kernwoorde kollokeer, duik dit op in 'n n-gramsoektog.
    3 Die term "stopwoord" verwys in hierdie konteks na woorde wat semanties byna geheel en al verbleek het en deur sprekers gebruik word om hulself tyd te gee om hul woorde agtermekaar te kry.
    4 Ter vergelyking: Die algemeenste woord in die korpus is "ek" met 'n genormaliseerde frekwensie van 35,9 keer per 1 000 woorde.

     

     

    BYLAE A