SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue1The Pandour Corps, 1793-1795 : Soldiers in defence of the Cape Colony towards the end of Dutch ruleBrexit: Volgende uitdagings vir 'n nuwe era author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.62 n.1 Pretoria Mar. 2022

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a14 

    AKTUEEL

     

    Só boer die US Museum vooruit

    This how the US Museum is getting ahead

     

    - Respons deur die US Museum

    Die Universiteit Stellenbosch Museum (US Museum) verwelkom die geleentheid om te reageer op 'n meningsartikel deur prof. Jan Giliomee getiteld "Die ontstaan, opbou en aftakeling van die Sasol Kunsmuseum van die Universiteit van Stellenbosch", wat in hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 62(1): Maart 2022) verskyn.

    Die artikel spoor sekere elemente van die geskiedenis van die US Museum na. Nietemin blyk die outeur se kernargument te wees dat die US Museum op 'n pad van verval en ondergang is, terwyl die teendeel inderwaarheid die geval is.

    Daarbenewens bevat die artikel 'n aantal feitedwalings, waarvan ek enkeles hier onder hanteer.

    Die eerste vergissing hou verband met die eertydse naam "Sasol Kunsmuseum". Dié "roemryke kunsmuseum", word daar in die artikel gesê, "moes as die vernaamste onderdeel funksioneer van 'n nuwe afdeling, die US Museum, wat die hele kultuurbesit van die US administreer en bevorder".

    Hierdie stelling opper die vraag oor wat 'n museum nou juis 'n kunsmuseum maak. Die aanname dat 'n museum op grond van sy naam 'n kunsmuseum word, is besonder beperkend. Dit is tog die aard van die fasiliteit se versamelings en openbare programme eerder as sy naam wat sy klassifikasie bepaal. Die pas geopende kunsmuseum in Berlyn, die Humboldt Forum, word byvoorbeeld nie eens 'n museum genoem nie. Die Brooklyn Museum in New York is 'n kunsmuseum al verskyn die woord "kuns" nie in sy naam nie.

    Wat is die US Museum dus? Die US Museum is die tuiste van 'n permanente kunsver-sameling van sowat 3 000 werke. Hierdie werke word professioneel bewaar en op 'n rotasie-grondslag in die museum uitgestal - in skrille teenstelling met die wanopvatting dat die museum se kunswerke alles permanent weggebêre is. Die US Museum spog ook met 'n voortreflike openbare opvoedkundige program oor visuele kuns, wat deesdae danksy die gebruik van nuwe tegnologieë gehore wêreldwyd bereik.

    Interessant genoeg was die US Museum nooit bedoel om uitsluitlik vir visuele kuns voorsiening te maak nie. Versamelings van die destydse Departement Volkekunde en Afrikaanse Kultuurgeskiedenis is byvoorbeeld in die 1990's na die US Museum verskuif. Die museum het ook in 'n stadium 'n argeologietentoonstelling gehad. Die versamelings in die fasiliteit het derhalwe nog altyd meer as net die dissipline van die visuele kunste weerspieël. Hierdie versamelings is egter op 'n gefragmenteerde wyse bestuur, en die museum is tans besig om dit te integreer en sodoende uitvoering te gee aan sy mandaat om, soos Giliomee se artikel dit stel, "die hele kultuurbesit van die US [te] administreer en bevorder".

    Dit is ook belangrik om daarop te let dat die US Museum by drie verskillende geleenthede met die outeur van die artikel in gesprek getree het om hierdie breër mandaat van die museum te verduidelik en op te klaar.

    Maar terug by die museumnaam. Drie verskillende name is oor die jare vir die fasiliteit gebruik. Dít het heelwat verwarring veroorsaak, veral onder moontlike nuwe besoekers, soos studente en toeriste.

    Boonop het die gebruik van die maatskappyhandelsnaam sy eie uitdagings ingehou. Baie mense was vas oortuig dat die museum besit en bedryf word deur die maatskappy waarna dit heet. Dit het ook probleme geskep in gesprekke met moontlike finansiers, wat gedink het die museum is 'n korporatiewe versameling in plaas van 'n universiteitsmuseum.

    Die Universiteit het dus besluit dat sy museum om praktiese redes slegs as die Universiteit Stellenbosch Museum bekend sal wees. Daar was geen naamsverandering nie, omdat die naam reeds van die begin af daar was. Daarbenewens verbind die naam die museum direk aan die Universiteit, wat sowel nasionaal as internasionaal bekend is.

     

    Uitstallings en tentoonstellings

    Daar word wêreldwyd aanvaar dat die samestelling van museumuitstallings 'n kuratorspre-rogatief is, en dat uitstallings van tyd tot tyd verander. Die kunswerke waarvan Giliomee in sy artikel praat, word inderdaad van tyd tot tyd op 'n rotasiegrondslag ten toon gestel.

    Geen museum ter wêreld kan ál sy versamelings op een slag uitstal nie; eweneens kan museums nie altyd dieselfde werke uitstal nie. Tentoonstellings word van tyd tot tyd afgewissel en aangepas. Baie mense besef nie dat tweederdes van museumversamelings in enige bepaalde stadium weggebêre is nie. Dít is standaardmuseumpraktyk.

    Die belangrike punt wat eerder beklemtoon moet word, is dat die US Museum en sy versamelings nou veel toegankliker is as ooit vantevore. Die museum het sy ganse kunsversameling gedigitaliseer. Maggie Laubser en Solomon Caesar Malan se werke kan op die Universiteit se aanlyn digitale platform besigtig word, en is toeganklik vir navorsers op enige plek ter wêreld. Namate kopiereggoedkeuring verkry word, sal al hoe meer werke uit die versameling op die digitale platform geplaas word sodat meer mense daarna kan kyk. 'n Mens kan dus beswaarlik sê dat die museum van bestaande versamelings ontslae raak. Inteendeel, bestaande versamelings is nou toeganklik vir 'n wêreldgehoor!

    Die permanente versameling van die museum bly die fasiliteit se hoofversameling. Dit maak wél van tyd tot tyd plek vir tydelike, reisende tentoonstellings wat bedoel is om nuwe gehore te lok en vars inhoud na die museum te bring. Hierdie tydelike uitstallings sal egter nooit die permanente versameling van die museum vervang nie. Om uitstallings van tyd tot tyd af te wissel en te roteer kan kwalik as "aftakeling" bestempel word.

    Daar is ook 'n ander, museumkundige rede waarom uitgestalde werke nou en dan afgewissel word. Om dieselfde werke vir lank aaneen uit te stal hou 'n bewaringsuitdaging in, so rotasie is ook 'n voorsorgmaatreël teen skade.

     

    US Kunsgalery

    Die besluit om die bestuur van die US Kunsgalery in Dorpstraat na die Departement Visuele Kunste te verskuif is geneem voordat die huidige direkteur aangestel is. Dit was in ieder geval 'n goeie besluit omdat studente en akademici 'n kunslaboratorium nodig het waar hulle met nuwe kunsvorme kan eksperimenteer. Dit is inderwaarheid wêreldwyd die norm vir univer-siteitskunsdepartemente om hulle eie kunsgalery te hê. Met die Departement Visuele Kunste aan die stuur, is die galery kreatief herdoop tot Galery Universiteit Stellenbosch, oftewel GUS, en dit word nou veel skeppender en dinamieser as voorheen benut. Dít wil gedoen wees as 'n mens die impak van Covid-19 in gedagte hou.

     

    Transformerende museumkunde

    Vir die US Museum is kuns en sosiale geregtigheid nie onderling uitsluitend nie. In elk geval, wat kan moontlik verkeerd wees daarmee as universiteitsmuseums kuns en verbeeldingskrag gebruik om tot die skep van 'n regverdige en billike universiteitsgemeenskap by te dra? Die US Museum het trouens nog nooit transformasie as iets apart van sy museumkundige missie beskou nie. Die hedendaagse universiteitskampus is 'n gans ander plek as die kampus van selfs net tien jaar gelede. Daarom moet die museum innoverend en kreatief wees om sy werk so te benader dat hy op die veranderende omgewing reageer.

    Die praatjies wat die museum aanbied, bied studente, personeellede en gemeenskapslede die geleentheid om aktuele kwessies te bespreek. 'n Universiteit is immers 'n plek van idees. Om die waarheid te sê, die aanbieding van uiteenlopende gesprekke en debatte in die US Museum die afgelope paar jaar het die fasiliteit oopgestel vir talle studente, personeellede en lede van die publiek wat die museum nooit andersins sou besoek het nie.

    Daarbenewens het die museum verskeie nasionale en internasionale vennootskappe met instellings soos die Universiteit van Fort Hare, Walter Sisulu Universiteit en Michigan-staatsuniversiteit aangegaan. Die US Museum is ook tans in gesprek met instellings soos die Universiteit van Tuskegee (Alabama), Howard Universiteit (Washington DC), die Universiteit van Yunnan (China) en baie ander om deur kuns en kultuur verdere vriendskappe te smee. Die gebruik van virtuele platforms stel die museum boonop in staat om gehore van so ver as Australië, Noord-Afrika, die Amerikas en Europa te bereik. Sodoende word kunsbevordering by die US Museum uitgebrei, en strek dit nou ver buite die geografiese grense van Stellenbosch.

     

    Navorsingskurator

    Die pos van navorsingskurator is nie uniek aan die US Museum nie, want navorsing is onder andere waarom die vertolking van museumversamelings draai. Die Milwaukee-kunsmuseum het ook byvoorbeeld 'n pos vir 'n kurator van gemeenskapsdialoog geskep, terwyl die Bronx-museum onlangs 'n kurator van sosiale geregtigheid aangestel het.

    Die US Museum het die bykomende verantwoordelikhede van dialoog en sosiale geregtigheid by die posbenaming ingesluit omdat museums wêreldwyd toenemend as ruimtes vir gesprekvoering en inklusiewe kritiese burgerskap dien. Die onlangs aangestelde kurator van navorsing, dialoog en sosiale geregtigheid beskik oor 'n PhD-graad op die gebied van museums en erfenisstudie.

    Museums is nie staties nie, maar ontwikkel en groei oor tyd en moet op samelewingskwes-sies en -veranderinge reageer. Museums wat nié groei en aanpas nie loop gevaar om in die dodo se spore te volg.

    Museums was nog altyd polities in die ruim sin van die woord, en sal dit altyd bly. Daar is niks verkeerd daarmee om die progressiewe politiek van insluiting en maatskaplike samehang na te jaag nie.

    In teenstelling met Giliomee se bewering dat die aanbieding van kunsuitstallings afgeskaal word, het die museum inderwaarheid verskeie openbare opvoedkundige programme bekend gestel wat juis die museumversamelings gebruik om die publiek te betrek.

    'n Voorbeeld is die program Toegang tot die Visuele Kunste, wat reeds die afgelope vyf jaar bestaan. Hierdie program betaal die vervoerkoste van leerders uit benadeelde gemeenskap-pe, wat dit nie kan bekostig om die museum te besoek nie. By die museum kom hulle in aanraking met kuns - vir sommige 'n eerste kennismaking - en hulle besoek ook die Departement Visuele Kunste, waar hulle van kunstegnieke leer.

    As gevolg van hulle deelname aan hierdie program het van die leerders aangedui dat hulle eendag graag aan die Universiteit sou wou studeer. Toegang tot Visuele Künste help ontwikkel ook nuwe gehore en verbreed sodoende toegang tot die museum en die Universiteit.

    Die US Museum is voorts die enigste museum in die land wat 'n universiteitsgeakkredi-teerde kursus in museumkunde en erfenisstudie vir die publiek aanbied. Dít is maar één van die maniere waarop die museum sy kundigheid bevorder en deel.

     

    Huidige uitstallings

    Die US Museum het die afgelope agt jaar 'n aantal trefferuitstallings aangebied. 'n Tentoonstelling oor die geskiedenis van die Universiteit van 1918 tot 2018 is tans te sien. Die teks en etikette verskyn in sowel Engels as Afrikaans omdat die museum al hoe meer 'n meertalige ruimte word. Die museum was ook een van die eerste entiteite by die Universiteit wat Afrikaans, Engels én Xhosa begin gebruik het om sy programme te bemark.

    Museumbesoekers kan ook tans na 'n uitstalling kyk wat van mondelinge geskiedenis gebruik maak om die lewensverhale te vertel van die destydse studente van die ou Bloemhofskool, waar die US Museum deesdae geleë is. Om die Universiteit se honderdjarige bestaan te gedenk, het die museum boonop op die Rektor se versoek 'n tentoonstelling van 100 historiese artefakte uit die departemente en koshuise van die US aangebied.

    Van al die baie kunstentoonstellings die afgelope agt jaar staan veral twee uit, naamlik Forward en die uitstalling van die Universiteit van Fort Hare se kunsversameling.

    Forward het resensente gaande gehad, en was deel van die Universiteit se eeufeesprogram. Dit is vergesel van 'n sorgvuldig saamgestelde uitstallingskatalogus met uitgesoekte kunswerke en vooraanstaande toekomskundiges se mening oor die toekoms van die hoër onderwys.

    Die tentoonstelling van die Fort Hare-versameling het op sy beurt ons gehore 'n sonderlinge geleentheid gebied om werke uit hierdie ryke versameling te geniet. Dié uitstalling het deel uitgemaak van die Stellenbosch Triënnale, 'n groot kunsgeleentheid op Stellenbosch wat kort voor die aanvang van die Covid-19-pandemie aangebied is.

    Die Fort Hare-tentoonstelling is deur twee studente-uitstallings aangevul. Die een was deur 'n magisterstudent in die Visuele Kunste wie se werk gegrond was op navorsing oor die museum se kunsversameling. Vir die ander is Visuele Kunste-studente uitgedaag om werk te skep wat op Samuel Mokonyane s'n reageer, wat op 'n briljante uitstalling uitgeloop het. Vooraanstaande gaste wat die tentoonstellings besoek het, onder andere 'n voormalige direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, kunstenaars, vakkundiges en ander, het opgemerk hoe beïndruk hulle was. Dít is maar net enkele voorbeelde van hoe die museum en sy versamelings vir sowel openbare opvoedkundige doeleindes as genot benut word.

    Die museum het die afgelope agtjaar 'n aantal lewendige en boeiende openbare programme van stapel gestuur om vir verskillende gehore voorsiening te maak. Suid-Afrika is immers 'n besonder diverse land met uiteenlopende smake en voorkeure.

     

    Rondleidings

    Die Woensdag-kunsrondleidingsprogram is bedoel om die publiek oor die US Museum se permanente kunsversameling op te voed. 'n Nuwe uitstalling wat op 'n kunstema gegrond is, word op die eerste Woensdag van elke maand bekend gestel, gevolg deur 'n rondleiding. In 2022 alleen beplan die museum agt visuelekunsuitstallings wat uit die permanente kunsver-sameling sal kom en oor kunsdissiplinêre temas soos visuele geletterdheid, die elemente van sien, ateljeepraktyk, ensovoorts sal handel.

    Boonop sal die program Oop Gesprekke ("Just Conversations") vanjaar 11 aanlyn praatjies oor erfenis- en museumverwante temas aanbied. 'n Verdere inisiatief is die Ubuntu Dialoë, 'n samewerkingsprojek tussen die US Museum en Michigan-staatsuniversiteit, wat op nuwe-lingakademici en studente van Suid-Afrika en die Verenigde State afgestem is. Die Andrew W Mellon-stigting het 'n vier jaar lange borgskap van sowat R12 miljoen aan dié program toegestaan - die grootste toekenning wat die museum tot nog toe sedert sy totstandkoming ontvang het.

     

    Pryse

    Die museum het die afgelope vier jaar twee pryse vir sy werk gewen, wat bewys dat trans-formasie en uitnemendheid wél hand aan hand kan gaan.

    Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport het die US Museum vereer met 'n provinsiale toekenning vir sy werk om sosiale insluiting te bevorder. Spesiale vermelding is gemaak van hoe die museum sy antropologiese, kultuurhistoriese en visuelekunsversamelings gebruik om 'n inklusiewe ruimte vir demokratiese en kritiese burgerskap te skep.

    Daarna het die museum ook 'n toekenning vir volhoubare toerisme van die burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit, waar die museum geleë is, ontvang. Daar-benewens het die US Museum die kortlys vir 'n internasionale toekenning gehaal, en kan verdere eerbewyse in die nabye toekoms verwag word.

    Hierdie erkenning van twee verskillende regeringsfere bewys dat die US Museum opgang maak. Die museum is ook een van net 'n handvol afdelings van die Universiteit wat 'n bloudruk opgestel het van waarheen hy oor die volgende 20 jaar wil beweeg. Towards 2040 is 'n vooruitstrewende strategiese langtermynplan met sewe punte wat op die Universiteit se Visie 2040 berus. Hierdie bloudruk sal sorg dat die museum aanhou groei, die toekoms in.

    Bongani Mgijima

    Direkteur: Universiteit Stellenbosch Museum

    E-posadres: bmgijima@sun.ac.za