Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.62 n.2 Pretoria Jun. 2022
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a1
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue
The discourse on poverty in the central and later Middle Ages
Johann Beukes
Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, CHPS, Faculteit Filosofie, Theologie en Religiewetenschappen, Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland. E-pos: johann.beukes@ru.nl
OPSOMMING
Die oogmerk van hierdie artikel is om 'n diskursiewe ontleding van armoede in die sentrale en laat Middeleeue (laat 11de eeu tot middel 15de eeu) aan te bied. Armoede word hier dus nie bloot as 'n histories-ekonomiese kategorie ondersoek nie maar ontleed aan die hand van die konseptualisering van armoede, oftewel die wyses waarop daar in hierdie laaste twee periodes van die Middeleeue oor armoede nagedink is. Die diskoers oor armoede in hierdie twee periodes het in vyf aanduibare fases verloop.
Teen die agtergrond van die ideëhistoriese kenmerking van armoede in die vroeë Middeleeue as 'n toevallige verskynsel of 'n aantal toevallige omstandighede, vind daar eerstens vanaf die middel van die 10de eeu 'n diskursiewe verskuiwing plaas op grond van drastiese omwentelinge in die landbou en handel. Die "nuwe armes" ontstaan gevolglik uit 'n "klas" grondbewerkers en handearbeiders wie se sosioëkonomiese posisie in die 12de eeu druk hersien is. 'n Begripsontwikkeling, grootliks teologies en juridies van aard, wat berus het op 'n betreklik eenvoudige onderskeid tussen heer en dienaar, of dominus en servus, het in die sentrale Middeleeue die genuanseerde diskursiewe register van die vroeë Middeleeue vervang. Terwyl armoede in die vroeë Middeleeue verstaan is as die gevolg van een of meer toevallige faktore, is dit in die 12de eeu vereenvoudig tot 'n verhouding, naamlik tussen heer en dienaar. Armoede was nou 'n "nuwe" ekonomiese probleem wat so doeltreffend moontlik met hierdie elementêre onderskeid tussen dominus en servus aangepak moes word.
Tweedens is armoede in die 12de eeu uitdruklik in verband gebring met 'n "minimummatriks", wat die minimumhoeveelheid beboubare grond moes aandui wat 'n individu of 'n groep aanverwante individue vir basiese lewensonderhoud nodig gehad het. Armoede is gevolglik, vir die eerste keer in die Middeleeue, gedefinieer aan die hand van die "vermoë tot selfonderhoud". Hiermee is die definiëring van armoede in ekonomiese terme onherroeplik in die sentrale en latere Middeleeuse diskoers gevestig.
Derdens is verset teen sowel hierdie ekonomisering as die kerk en kloosterwese se versuim om die "nuwe armoede" krities aan te pak van stapel gestuur deur aweregse godsdienstige bewegings wat juis in reaksie teen die "nuwe armoede" in die laat 12de en 13de eeu tot stand gekom het. Die ideaal van "vrywillige armoede" is deur onder meer die begyne, Waldense en skoolordes voorgehou ten einde enige assosiasie met welvaart op te skort, juis deur van alle vorme van eiendomsreg afstand te doen en 'n lewe van beslissende solidariteit met die armes te lei. Hierdie verset is, vierdens, spontaan verhewig deur die Franciskaanse orde se konfrontasie in die 14de eeu met pous Johannes XXII oor die orde se verstaan van die verhouding tussen eiendomsreg en gebruik van goedere in besit (usus facti en ordo habeat usum), wat as die spitspunt van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue voorgehou sou kon word.
Laastens is die 14de-eeuse ontwerp van 'n minderwaardige minderheidsgroep - "die armlastiges", naas die algemene neiging om "mindere minderhede" op grond van etniese, godsdienstige en geslagsidentiteit in die betrokke eeu te skep - 'n aanduiding van die afloop van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue. Wat eens geag is die gevolg van onwillekeurige en toevallige faktore te wees, is dus aanvanklik tot 'n "verhouding" gereduseer, daarna tot 'n "klas" geëkonomiseer, en uiteindelik neerhalend as 'n "minderheid" bestempel.
Trefwoorde: armoede in die Middeleeue; Franciskane; heilige vrywillige armoede; ideëgeskiedenis; ius commune; latere Middeleeue; Middeleeuse landbou- en handelsrevolusie; natuurlike regte; ordo habeat usum; Pous Johannes XXII; sentrale Middeleeue; usus facti
ABSTRACT
This article aims to analyse the discourse on poverty in the central and later Middle Ages. Poverty is therefore not surveyed merely as a historical-economic category but is analysed by considering idea-historical medieval views on "extreme scarcity", or the way poverty was conceptualised in these last two stages of the Middle Ages.
According to this analysis, this discourse on poverty manifests itself in five distinct phases. Against the backdrop of the early medieval understanding of poverty as "contingent" - the result of one or more "accidental" factors - a first discursive development took place in the second half of the 10th century. As a result of revolutionary developments in agriculture and commerce, the "new poor" slowly developed into a "class" of agricultural and manual labourers whose socio-historical position eventually had to be drastically revised from the late 11th century. A subsequent conceptual development, predominantly theological and juridical by nature and relying on a relatively unassuming yet crucial distinction between "owner" and "servant" ('dominus and servus), replaced the articulated conceptual register of the poverty discourse of the early Middle Ages. From the 5th to the 10th centuries poverty was understood to be the result of accidens or accidental factors, but now it was reduced to a mere relation. Poverty now became a "problem" that had to be addressed as effectively as possible, employing this basic and reductionist distinction.
Secondly, in the 12th century poverty was explicitly related to a "minimum matrix", which was supposed to indicate the minimum amount of arable land an individual or a group of related individuals needed for basic self-sufficiency. With this matrix, for the first time in the Middle Ages, poverty was defined in terms of the "ability to self-sustain". As a result, poverty was economised (placed in the economic sphere) in the central medieval discourse.
Thirdly, in reaction to the "new poverty" of the late 12th and 13th centuries, several unconventional religious movements, such as the beguines and Waldensians, resisted this economisation. The ideal of "voluntary poverty" was posed by these groups in order to dissociate themselves from any form of material prosperity by rejecting any form of ownership and living modest lives in critical solidarity with the poor.
Fourthly, this resistance was intensified by the establishment of the mendicant orders, and in particular by the Franciscan order's confrontation with the papal office regarding the order's interpretation of the relationship between ownership (dominium) and the order's factual use of goods in possession (usus facti and ordo habeat usum). In the 14th century, the Franciscan ideal of "holy voluntary poverty" came under severe criticism from the church (not least by the pope, John XXII [1244-1334, pope 1316 to 1334], himself) but later also from academic circles (notably by the Oxonian Richard FitzRalph [ca.1300-1360], in his eight-volume De pauperie salvatoris [ca. 1350-1356]). A dramatic confrontation between this oldest of the mendicant orders and the highest ecclesiastical authority ensued when, from the early 1320s, two high-profile Franciscans, William of Ockham (ca.1285-1349) and Francis of Marchia (ca.1290-ca.1344), a master of theology at the University of Paris and an outspoken opponent of John XXII, repeatedly clashed with the pope about the Franciscans' understanding of corporate scarcity or "holy voluntary poverty". Some years later FitzRalph presented his substantial philosophical and theological critique of what he called the "radicalised mendicant ideal". This work contributed significantly to the development of theories of natural rights in the later Middle Ages and in early modernity.
Lastly, the creation of a 14th-century minority - "the poor" - in conjunction with the 14th-century design of several other "minorities" based on ethnic, religious and gender-sexual considerations, was the eventual result of the historical development of ideas about poverty in the central and later Middle Ages. What once was considered to be the result of involuntary and contingentfactors, then reduced to a (simplistic) relation, andfinally defined in economic terms as a "class", was thus ultimately brought under discursive control as a "minority".
Keywords: central Middle Ages; Franciscans; history of ideas; holy voluntary poverty; ius commune; later Middle Ages; medieval agrarian and commercial revolution; natural rights; ordo habeat usum; Pope John XXII; poverty in the Middle Ages; usus facti
1. Inleiding: Armoede in die vroeë Middeleeue
Armoede is 'n pynlike en raaiselagtige faset van die kulturele werklikheid: "pynlik" as gevolg van die werklikheid van ontbering en skaarste, en "raaiselagtig" aangesien dit in die Westerse wêreld oorwegend met soveel kulturele gelatenheid gadegeslaan is (en word). Waarom is (en word) "armlastiges" in die Westerse ideëhistoriese diskoers met soveel gedrewenheid as "anders", "agtergeblewe" en veral "minder" voorgestel? In minstens gedeeltelike antwoord op hierdie inleidingsvraag ondersoek hierdie artikel die wyses waarop daar spesifiek in die sentrale en latere Middeleeue (laat 11de eeu tot middel 15de eeu) oor armoede (paupertas) nagedink is, met inagname van die institusionele oorsake en ideëhistoriese1 gevolge van die diskoers oor armoede in die betrokke periode. Armoede word hier dus nie bloot as 'n histories-ekonomiese kategorie ondersoek nie maar ontleed aan die hand van beskouinge daaroor -oftewel volgens die historiese konseptualisering van "uiterste skaarste". Unieke ideëhistoriese verskyningsvorme van armoede in die sentrale en latere Middeleeue sluit in opsetlike selfverarming binne skoolordes2 op grond van 'n genuanseerde armoede-ideaal, asook idees oor die onafwendbaarheid van openbare bedelary op grond van maatskaplike onreg, wat teen die agtergrond van dramatiese ontwikkelinge in die landbou en handel vanaf die middel van die 10de eeu verstaan moet word. Daarop het 'n godsdiensgeïnspireerde ingreep - juis van buite die geïnstitusionaliseerde kerk - op die "nuwe armoedekwessie" van die 12de en 13de eeu gevolg. Die vraagstuk van "heilige vrywillige armoede", onder aanvoering van die Franciskaanse orde vanaf die derde dekade van die 13 de eeu, verteenwoordig die spitspunt van diskursiewe ontwikkelinge met betrekking tot armoede in die sentrale en latere Middeleeue.
Hierdie ideëhistoriese bestekopname vooronderstel 'n deeglike kennisname en verwerking van gespesialiseerde ontledings van historiese ontwikkelinge in die sentrale en latere Middeleeue. Oor die afgelope twee dekades was daar juis 'n vaartversnelling in die navorsing wat ekonomiese, juridiese en maatskaplike ontledings van die verdeling van goedere en die verspreiding van geregtigheid in die sentrale en latere Middeleeue aangebied het. 'n Register van uitstaande bydraes oor die afgelope twee dekades sou die volgende werke kon insluit: Bailey (2003:457-483) se ontleding van selfopgelegde armoede en vroomheidsopvattinge in godsdienstige gemeenskappe en ordes vanaf die 13de eeu; Burr (2001) se magistrale werk, The Spiritual Franciscans, oor interne ontwikkelinge en faksievorming binne die Franciskaanse orde vanaf ongeveer 1220 tot 1330; Cohn (2016:145-174) se ontleding van politieke teen-strydighede in die vertolking van "materiële welsyn" in die latere Middeleeue (in Farmer [ed. 2016] se belangrike redaksiewerk, Approaches to poverty in medieval Europe (sien ook Farmer, 2016:1-22 se insiggewende inleiding tot dié werk en haar [Farmer, 2001] se omvangryke ontleding van armoede in Middeleeuse Parys); Coleman (2006:3-36; 2008:607-648) se ondersoek na die verhouding tussen individuele regte en verpligtinge in die latere Middeleeue en haar ontleding van die verhouding tussen eiendomsbesit en armoede in die sentrale Middeleeue; Cusato (2009:577-592) se deeglike oorsig in die tweede band van Pasnau en Van Dyke (ed. 2009) se redaksiewerk The Cambridge history of medieval philosophy; Dyer (2012:19-39; 2015:41-78) se voorstellings van die konkrete en alledaagse ervaring van skaarste en gebrek in Laat-Middeleeuse Engeland; Evans (2010:565-576) se uiteensetting van die verhouding tussen individuele regte en natuurlike regte in die latere Middeleeue; Forster (2003:189-217) se ondersoek na die hervertolking van die Laat-Middeleeuse verstaan van armoede in die vroeë moderne periode, veral by Hobbes; Helmholz (2003:301-325) se ondersoek na die verhouding tussen natuurlike regte, gemeenskaplike eiendomsbesit en kommunale vruggebruik (ius commune) in die latere Middeleeue; Lambertini (2015:111-126) se ontleding van natuurlike regte in die sentrale en latere Middeleeue (met die Franciskaanse eiendomsgeskil as gevallestudie); Mäkinen (2001:55-102; 2006:37-62) se ontledings van saaklike regte in die sentrale en latere Middeleeue en die debat oor "uiterste skaarste" vanaf die 12de eeu (sien daarby Mäkinen [2011:1066-1073] se toeganklike inskrywing in Lagerlund [ed. 2011] se Encyclopedia of medieval philosophy); Robinson (2012:197-224; 2009:347-374) se ontledings van die kerkregtelike grondslae van die teologiese en juridiese konflik tussen pous Johannes XXII en die Franciskane oor dié orde se verstaan van armoede in Kosso en Scott (eds 2012) se belangrike redaksiewerk Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance; Schofield (2012:95-112) se ontleding van armoede in Laat-Middeleeuse plattelandse gemeenskappe in dieselfde werk (sien ook Schofield, 2008:38-63); Schüßler (2002:321-336; 2006:149-172) se deurtastende navorsing oor kollektiewe en individuele eiendomsreg (ius possessionis) in skolastiekkommentare in die sentrale en latere Middeleeue en in vroeë moderne tekste; Swanson (2007:399-456) se omvangryke bydrae oor die Laat-Middeleeuse grondslae van Locke se teorie van natuurlike regte; en Wolf (2003) se bondige maar manjifieke monografie waarin die moderne Franciskus-navorsing naatloos byeengebring word. Hierdie artikel ontgin die ekonomiese, juridiese en maatskaplike elemente in veral hierdie onlangse historiese ontledings3 met die oog op 'n kartering van die diskoers oor armoede vanaf die laat 11de eeu tot die 15de eeu.
Ekonomiese armoede was feitlik ongekend in die vroeë Middeleeue (die vyfde tot die laat 11de eeu; vgl. Wickham, 2005:1-16). Volgens die vroeë Middeleeuse register is 'n "armlastige" (pauper) bloot beskou as 'n persoon wat hom of haar tydelik of permanent in 'n posisie van geleidelike verswakking, afhanklikheid en uitsluiting bevind het op grond van die kontingente (dit wil sê 'n nienoodsaaklike of toevallige) onvermoë tot selfhandhawing binne 'n bepaalde konteks. Hierdie kontingente onvermoë sou kon berus op 'n skaarste aan geld, verhoudings, invloed, mag, kennis, vaardigheid, herkoms (adellik al dan nie), liggaamlike krag, intellektuele vermoë en 'n aanspraak (al dan nie) op persoonlike vryheid, regte en waardigheid. Die begrip pauper gaan etimologies terug op die Proto-Indo-Europese pau-("klein" of "min") en die koppeling daarvan met die Latynse pario ('n argaïese landboubegrip wat op "om min voort te bring" dui) en is gedurende die vroeë Middeleeue in 'n meer omvangryke begripperegister ontwikkel (Cusato, 2010:577-578; vgl. Mäkinen, 2006:38; 2011:1067), wat ingesluit het "toenemende verarming" (egens, egenus, indigens, inops, insufficiens, miser), "verhongering" (esuriens, famelicus), "naaktheid" (nudus), "liggaams-gebrek" (caecus, claudus, contractus), "verstandelike gebrek" (isiotus, imbellicis, simplex), "vereensaming" en selfs "ballingskap" of "verdiende uitsluiting" (orphanus, vidua, bannus, exiliatus). Die diep melancholiese begrip miserabilespersonae (vgl. Mäkinen, 2006:37-38) sou, soos hier onder aangedui, later in die Sentraal-Middeleeuse kanonieke reg ontwikkel word om armlastiges as die draers van 'n verminderde soort regsubjektiwiteit aan te dui, wat ingesluit het weduwees, weeskinders, sieklikes en bejaardes.
Ten spyte van hierdie langblywende Vroeë-Middeleeuse begripperegister is armoede met terminologiese wisselvalligheid in die aanloop tot die sentrale Middeleeue hanteer, juis omdat armoede as 'n "toevallige toestand" verstaan is en nog nie as 'n gevestigde ekonomiese kategorie gegeld het nie. Skrywers tot in die vroeg 12de eeu het bogenoemde begrippe dus nog oorwegend met verskillende semantiese ladings hanteer en geherinterpreteer. Die Cisterciënsermonnik Bernardus van Clairvaux (1090-1153) het byvoorbeeld slegs drie van hierdie begrippe (betreklik uitruilbaar) gebruik: pauperes, met betrekking tot mense wat dringende materiële ondersteuning "in die belang van geregtigheid" (na Bernardus se uitleg daarvan) sou benodig; egenus, wat na 'n enkele kategorie sorgbehoewende enkelinge verwys (naamlik weeskinders, weduwees en pelgrims); en indigentes, wat op 'n toevallige gebrek dui (hetsy op 'n liggaamlike of 'n verstandelike beperking). Vanaf die laat 10de eeu is die ou begrip pauper egter met kulturele ontwikkelinge in Wes-Europa in verband gebring, onder andere met betrekking tot omwentelinge in die landbou en die protoïndustrialisering van handearbeid in die georganiseerde handel (agricola, laborator) - hoewel ook met verwysing na die gebrek aan psigologiese en emosionele stabiliteit onder armes en armlastige gemeenskappe, gegewe die angs (anxietas, angustia) wat hulle daaglikse oorlewingstryd (carentia, penuria) in hierdie tweekantige revolusie meegebring het. Die konseptualisering van armoede vanaf die laat 11de eeu is veral bepaal deur die hoë en toenemende voorkoms van openbare en soms opportunistiese bedelary (mendicare), op grond waarvan 'n algemene gebrek aan empatie met armes eerder die reël as die uitsondering geword het. Hierdie toename in bedelary en algemene armlastigheid is juis veroorsaak deur die gevolge van dramatiese ontwikkelinge in die landbou en handel vanaf die middel van die 10de eeu. 'n Nuwe kerklike en juridiese diskoers oor armoede moes gevolglik ontwikkel word om vir die "nuwe armes" van die sentrale en latere Middeleeue voorsiening te maak.
2. Die "nuwe armes": Armoede as gevolg van ontwikkelinge in die landbou en handel vanaf die middel van die 10de eeu
Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue kan nie afsonderlik van institusionele en sosioëkonomiese ontwikkelinge in hierdie periode verstaan word nie (sien voetnoot 1). Die ingrypende veranderinge in die landbou- en die handelsektor in Wes-Europa vanaf ongeveer 950 kan trouens as een van die wesenlike institusionele kenmerke van die verskuiwing van die vroeë na die sentrale Middeleeue bestempel word (sien Beukes, 2020a:I:201-208; 393-398). Ná die Wes-Europese onderdrukking van die laaste "groot inval" (dié van die Hongare uit Oos-Europa [magyar törzsek] in 951 in Duitsland) - naas, uit die noorde, die Vikings, en, uit die suide (vernaamlik Spanje), Islam - was Wes-Europa in die laat 10de eeu vir die eerste keer sedert die val van Rome in 530 sosioëkonomies stabiel. Nou kon die fokus verskuif word na (i) landbou-ontwikkeling, (ii) die hernude beweging van handelsurplusse oor nasionale en selfs kontinentale grense heen, (iii) die herbouing van die ou Romeinse hoofwegstelsel, (iv) die herorganisering van die kleiner en meer geïsoleerde dorpslewe, (v) die heropbou van georganiseerde handel binne groter stedelike kontekste, en (vi) ná eeue se rudimentêre ruilhandel die heringebruikname van die Romeinse munteenheid as 'n neutrale vorm van geldwisseling tussen uiteenlopende gemeenskappe, met die gevolglike ontwikkeling van leningsinstellings, waaronder die vroeë bankwese (vgl. Cusato, 2010:578).
Met die gesamentlike verskyning van hierdie ses interafhanklike fokuspunte is die ekonomiese struktuur in Wes-Europa onherroeplik op minstens drie wyses verander (vgl. Coleman, 2008:607-608): (i) Daar was 'n merkwaardige toename in landbou- en handelspro-duktiwiteit, wat tot 'n breë maar ongelyke verspreiding van goedere en wisselende grade van ekonomiese vooruitgang vir makro- en mikrogemeenskappe oor Wes-Europa heen gelei het. (ii) Ekonomiese produktiwiteit het betreklik vinnig ontwikkel van plattelandse handearbeid na voorindustriële stadsarbeid. (iii) Die migrasie van die platteland af na stede het die tradisionele Middeleeuse feodale interpretasie van eiendomsbesit verander - trouens, die Vroeë-Middeleeuse vasalbegrip4 en rigiede onderskeid tussen eiendomsbesit en eiendoms-gebruik het stelselmatig plek gemaak vir allodium, vrye grond- of eiendomsbesit sónder verantwoording aan 'n meerdere eienaar of toesighouer.
Hierdie drie ingrypende ekonomiese veranderinge het drastiese gevolge gehad vir die verstaan van die belangestruktuur van die grondeienaar (dikwels die monarg self) vis-á-vis die leenheer of vasal en die lyfeiene of (Engels) serf. Veral laasgenoemde groep - oorwegend grondbewerkers en handearbeiders - se posisie in die Vroeë-Middeleeuse hiërargie was reeds in die loop van die 12de eeu sterk aan die verander. Alhoewel die oorgrote deel van Wes-Europese bevolkings teen die middel van die 13de eeu steeds op die platteland gewoon en gewerk het, het verstedeliking onder druk van handelsontwikkeling toenemend plaasgevind. Dit het tot gevolg gehad dat die Vroeë-Middeleeuse verhouding tussen plek (van herkoms) en identiteit ernstig versteur is (vgl. Schofield, 2012:95-112). Die vroeëre lyfeienes in die feodale stelsel was immers "arm maar versorg" - maar eenmaal onder allodium verstedelik, was hulle bloot arm en is hulle die gepeupel genoem, 'n grys identiteitlose massa, met geen beskerming van 'n leenheer of grondeienaar nie. Ekonomiese uitbuiting het spontaan gevolg: Uit desperaatheid sou die gepeupel op 'n daaglikse basis moes skik vir minder as die minimum of andersins ooreengekome loon. Gedurende die 13de eeu het 'n nuwe ekonomiese "klas" gevolglik ontstaan - die "nuwe armes" (of dan gepeupel) - en was ekonomiese armoede nie meer 'n toevallige toestand soos verwoord in die register van die vroeë Middeleeue nie - egens, egenus, indigens, inops, insufficiens, miser, caecus, claudus, contractus, isiotus, imbellicis, simplex en so meer - maar nou 'n wesenlik sosioëkonomiese verskynsel (vgl. Evans, 2010:565566).
'n Begripsontwikkeling om die posisie van hierdie "nuwe armes" van die 12de eeu met presisie te omlyn, het onafwendbaar geword. Hierdie ontwikkeling, grootliks teologies en juridies van aard, het neergekom op die betreklik eenvoudige onderskeid tussen heer en dienaar, of dominus en servus, en het die volle diskursiewe register van weleer vervang. Die servus was eenvoudig 'n persoon met 'n verskeidenheid van verpligtinge teenoor 'n dominus, wat ook die servus se privaatregtelike (teenoor ander regsubjekte) en publiekregtelike (teenoor die staat, byvoorbeeld ten opsigte van belastingpligtigheid) posisie bepaal het. Hierdie eenvoudige skema verraai 'n diskursiewe dwarssnit in die komplekse probleem van die "nuwe armoede" van die 12de eeu: Terwyl armoede in die vroeë Middeleeue as die gevolg van een of meer toevallige faktore verstaan is, is dit nou vereenvoudig tot 'n verhouding, naamlik tussen dominus en servus. Die dominus was die "besitter", op die platteland sowel van grond as van diegene wat dit bewerk het, of, in stedelike kontekste, sowel van 'n industrie (in die beperkte Middeleeuse sin) as van diegene wat daarin werksaam was. Die dominus se "besit" van beide is nou as "eienaarskap" (dominium) aangedui. Dominium het ineens ookjurisdiksie beteken - die gesag om te reël en te reguleer, ongeëvalueerde regspraak uit te oefen, eensydig militêre konflik te inisieer en arbitrêre belastings te hef, in ruil vir die beskerming van sy servi (vgl. Coleman, 2008:623-625). Anders as in die vroeë Middeleeue, toe armoede die produk van een of meer toevallige faktore geag is, was armoede nou 'n nuwe ekonomiese probleem (juis as gevolg van die "nuwe armoede") wat so doeltreffend moontlik met hierdie eenvoudige onderskeid tussen dominus en servus opgelos moes word. Eers nou - dit wil sê in die laaste dekades van die 12de eeu - het armoede diskursief ontwikkel tot 'n verskynsel wat beheer en gereguleer moes word. Armoede is nou ook, indien die verhouding tussen die dominus en servus om watter rede ook al versteur is op grond van die doen (intentio) of late (omissio) van 'n servus, met strafwaardigheid geassosieer. Die skeidslyn tussen armoede en misdadigheid het nou 'n stippellyn geword en armoede is in toenemende mate met 'n pejoratiewe inhoud gevul wat gegrens het aan die sosiopatiese: Arm mense is "gevaarlik" vir die samelewing en die ekonomie, en "gevaarlike" mense, op hoë uitsondering na, is geag altyd éérs arm te wees voordat hulle geblyk het "gevaarlik" te wees.
Omdat landbou in die 12de eeu egter steeds die belangrikste vorm van onderhoud en veral selfonderhoud was, is armoede uitdruklik met 'n "minimummatriks" in verband gebring (Cusato, 2010:579). Dié unieke matriks moes aandui wat die minimumhoeveelheid beboubare grond is waartoe 'n individu of 'n groep aanverwante individue vir basiese lewensonderhoud toegang moes hê. Teen die einde van die 12de eeu het dit op een hektaar grond per individu gestaan (en byvoorbeeld agt hektaar vir 'n uitgebreide familie van agt mense; vgl. Coleman, 2008:624-625). Armoede is gevolglik gedefinieer aan die hand van die vermoë tot selfonderhoud - die vermoë van die enkeling om sigself en sy of haar sorgafhanklikes kwantitatie fte onderhou. Daardie vermoë kon vanselfsprekend slegs wisselvallig gehandhaaf word - en vir die eerste keer sedert die val van Rome is die gaping tussen "rykdom" en "armoede" met hierdie matriks eksponensieel vergroot.
Die befaamde 12de-eeuse juris en Kamaldulensermonnik Gratianus se Decretum (ca.1140; vgl. Mäkinen, 2006:38-39) - 'n byeenbring van die bestaande kanonieke reg met kommentaar - maak deur middel van die begrip miserabilespersonae uitdruklik voorsiening vir 'n kategorie persone wat nié daardie minimummatriks sou kon handhaaf nie. Dít was mense wat (op Gratianus se aandrang) aangewese was op wetlik gesanksioneerde staatsondersteuning, insluitende weduwees, weeskinders en - opvallend - mense wat nie regsverteenwoordiging of toegang tot die howe kon bekostig nie. Die miserabiles personae was dus mense wat geen beskerming van 'n dominus geniet het nie en gevolglik beswaarlik oorleef het. Teenoor die miserabiles personae word, as 'n uitbreiding van die begrip dominus, diegene gestel wat wél tot selfonderhoud in staat was - die divites, met twee teenoorstellings wat spontaan hierop gevolg het en met presisie die maatskaplike status van die betrokke individu aangedui het: "welgesteld" teenoor "sorgbehoewend" (nobiles teenoor ignobiles) en "burgerlik" teenoor "belastend" (civis teenoor pauper, in 'n duidelike verwerking van die oorspronklike pauperbegrip wat in die vroeë Middeleeue slegs op 'n "nienoodsaaklike toevalligheid" gedui het). Nou is armoede 'n "skande" geag omdat dit 'n "las" vir die bategedrewe 12de-eeuse samelewing as geheel was - en die ekonomisering van armoede is daarmee onherroeplik in die Middeleeuse diskoers oor armoede gevestig.
3. Godsdienstige verset teen die ekonomisering van armoede vanaf die 12de eeu
Die enigste (betreklik) onverbonde instellings wat aanvanklik bereid was om hierdie "las" met betrekking tot die ekonomisering van armoede daadwerklik aan te pak, was aweregse godsdienstige bewegings wat juis in reaksie op die "nuwe armoede" in die 12de en 13de eeue tot stand gekom het. Die ekonomies vooruitstrewende monnikewese van die sentrale Middeleeue (anders as die monnikewese in die vroeë Middeleeue; vgl. Mollat, 1986:38-53) was hierin grootliks afwesig. Ou en gevestigde kloosterordes soos dié van die Cluniacensers (gestig in 910 deur Willem I [875-918], hertog van Aquitanië), die Kamaldulensers (Ordo Camaldulensium, O.Cam.), gestig rondom 1012 deur die Italiaanse Benediktyn Romualdus (ca.951-ca. 1027),5 die Vallumbrosiane (Ordo Vallisumbrosa, O.S.B.Vall.), gestig in 1038 deur die Benediktynse ab Johannes Gualbertus (Giovanni Gualberto, ca.985-1073), die Kartuisers (Ordo Cartusiensis, O.Cart.), gestig in 1084 deur Bruno van Keulen (1030-1101), en die Cisterciënsers (Sacer Ordo Cisterciensis, S.O.Cist.), gestig rondom 1110, het laer getrek, na binne gekeer en hulle van die nou onherroeplik ekonomiese werklikheid van armoede probeer distansieer. Trouens, omdat hierdie kloosterordes getel het onder die welvarendste grondbe-sitters in Wes-Europa, het hulle gebaat by die "nuwe armoede" deur grond teen verhoogde tariewe aan domini beskikbaar te stel vir bewerking deur hulle servi. Van enige sin van barmhartigheid (caritas) by hierdie ordes was daar in die 12de en 13de eeue kwalik sprake. Die kloosterordes is trouens uitdruklik met die divites - die welgestelde burgery - geassosieer. Die kerk was daarby die mees welvarende instelling in die sentrale Middeleeue en was opvallend afwesig in pogings om die probleem van "nuwe armoede" te probeer oplos, veral op die lang termyn (soos blyk uit die latere Sweedse politieke aktivis Birgitta Birgersdottir [1302/3-1373] se kritiek teen die selfkoesterende luukshede van die pousdom te Avignon; vgl. Beukes, 2020b:2-9).
In verset teen sowel die terugtrekkende kloosterwese as die afwesige kerk self, het juis leke (ongeordende kerklike belanghebbendes) die belangrikheid en tersaaklikheid van die heroorweging van die apostoliese gemeenskap, soos verwoord in Handelinge 4:32-36,6benadruk. Lekegroeperinge soos die Waldense in Suid-Frankryk en die Humiliate in Noord-Italië het die kerk direk uitgedaag deur hulle openbare prediking en indirek deur hulle lewe van "vrywillige armoede" - wat, soos hier onder aangedui, in die 14de eeu 'n wesenlike konsep in die diskoers oor armoede sou word. Volgens dié ideaal van "vrywillige armoede" moes enige assosiasie met die divites opgeskort word deur van alle vorme van eiendomsreg afstand te doen en 'n lewe van beslissende solidariteit met die armes te lei - wat nou sonder verdere versuim as die tydgenootlike weerspieëling van Christus en die apostels se maatskaplike oriëntasie geïnterpreteer is. Dit was ná hierdie aandrang vir die welvarende kerk en die ewe vermoënde kloosterwese tyd om die groterwordende gaping tussen ryk en arm in juis dieselfde gemeenskappe in dorpe en stede in Wes-Europa te erken.
Die totstandkoming van die begyneordes en begardeordes was in hierdie opsig 'n eerste waterskeiding in die diskoers oor armoede in die sentrale Middeleeue. Die begarde en begyne (in Engels normaalweg onderskeidelik beghards en beguines genoem) was institusie-onafhanklike godsdienstige groeperinge in die sentrale en latere Middeleeue wat hulself geslagtelik en grotendeels in ooreenstemming met die lyngesag in gevestigde kloosterstrukture georganiseer het. Geen lid van hierdie ordes is verplig om bindende geloftes af te lê ten opsigte van 'n lewe in selibaat of om gestroop te word van bestaande of toekomstige individuele eiendom nie - wat juis die bron van inkomste van die meeste van die vermoënde kerklik gesanksioneerde kloosterordes was. Begyne en begarde het bewegingsvryheid geniet maar moes lojaal teenoor die plaaslike orde bly. Hulle was wel vry om die plaaslike orde permanent te verlaat, sonder enige strafsanksie, maar kon normaalweg nie na die plaaslike orde terugkeer as hulle dit eenmaal verlaat het nie. Die begarde en begyne het, streng gesproke, nie gebedel nie maar was wel vir hulle lewensonderhoud afhanklik van die betrokke gemeenskap. In ruil het hulle in die gemeenskap versorgingswerk gedoen, wat ingesluit het die versorging van siekes, gebreklikes, bejaardes en weeskinders. Trouens, teen die middel van die 13de eeu was die meeste verpleegsters in Duitsland en Frankryk begyne (vgl. Bailey, 2003:457-459). In dieselfde tyd waarin die begarde en begyne na vore getree en Gratianus se Decretum wyd ingang begin vind het, het die kerk wel langsaam (onder die oortuiging dat die gee van aalmoese 'n Christelike deug is) prosedures vir geadministreerde armsorg begin ontwikkel. Twee beginsels in die ontwikkelende natuurlike reg vanuit die Decretum - necessitas non habet legem en communis omnium possessio - is aangewend om hierdie skenking van aalmoese teologies en filosofies te reguleer (vgl. Mäkinen, 2006:38-39).
Vanaf die 13de eeu is verskeie skolastiese argumente gevolglik aangebied om die noodsaaklikheid van eiendomsreg in die openbare sfeer vir die kerk, die staat en individue te begrond (vgl. Schüßler, 2002:321-336; 2006:149-172). Die grondliggende diskursiewe opvatting was dat beperkte rykdom vir lewensonderhoud noodsaaklik geag behoort te word en dat eiendomsbesit trouens 'n morele verantwoordelikheid moes wees. Die kerk se toetrede tot hierdie diskoers was egter ex post facto - die verset teen die kerk en kloosterwese se afwesigheid uit die voortgaande diskoers oor armoede was nou in volle gang.
Die tweede waterskeiding in die diskoers oor armoede was, teen bogenoemde agtergrond, die stigting van vier nuwe en juis kloosteróngebonde ordes wat in sowel die intellektuele as in die openbare lewe prominent na vore getree het. Die Dominikaanse orde (Ordo Praedica-torum, orde van predikers, O.P.) is in 1220 gestig deur die Spaanse priester Dominicus van Caleruega (ca.1172-1221) terwyl die Franciskaanse orde (Ordo Fratrum Minorum, orde van die beskeie broedergemeenskap, O.F.M.) in 1209 gestig is deur die Italiaanse mistikus Franciskus van Assisi (1181-1226). Later is ook die Augustynse orde (gestig in 1244, Ordo Sancti Augustini, O.E.S.A.) en die tydgenootlike Karmeliete (Ordo Carmelitorum, O.Carm.) in die lewe geroep. Hierdie vier ordes het elkeen 'n eie oorsprong, identiteit en stilistiese aanbod en sy eie oogmerke gehad. Nietemin was daar gemene delers: In kritiese verset teen die welvaart binne die kerk en kloosterwese en beide se verontagsaming van die probleem van "nuwe armoede", wou die nuwe ordes buite en onafhanklik van die ekonomies voor-uitstrewende kloosterstrukture funksioneer, het hulle gevolglik van die beginsel van persoonlike eiendomsreg afstand gedoen, alle persoonlike eiendom by toetrede tot die betrokke orde aan die pouslike patrimonium (in ruil vir pouslike sanksie en beskerming deur middel van gesaghebbende pouslike bulle) toevertrou en was hulle vir finansiële ondersteuning en materiële onderhoud afhanklik van die gemeenskappe waarin hulle gedien het (vgl. Mollat, 1986:121127; Schüßler, 2002:321-330). In ruil daarvoor het die skoolmonnike, soos die tydgenootlike begyne en begarde, barmhartigheidswerk in daardie gemeenskappe onderneem, veral ten opsigte van siekesorg, armsorg en bejaardesorg. Die eeueoue sekuriteit van die klooster is derhalwe verlaat ter wille van 'n lewe van diens in die wêreld self (vgl. Grieco, 2011:117-156). 'n Onverkwiklike geskil tussen die oudste van hierdie ordes - die Franciskane - en die hoogste kerklike gesag vorm egter die diskursiewe spitspunt van die armoedevraagstuk in die latere Middeleeue, en verteenwoordig ook die hoogtepunt van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue as sodanig.
4. Die Franciskaanse eiendomsgeskil as spitspunt van die diskoers oor armoede in die latere Middeleeue
Die wesenlike7 van die Franciskane se ideaal van korporatiewe armoede kan gevind word in twee passasies in Franciskus se Regula bullata (6.1-2) en Testamentum (24): "Die broeders mag niks besit nie: nie 'n huis of 'n plek nie, kortom, niks nie - eerder behoort hulle uit te gaan en vir aalmoese te vra as vreemdelinge en gaste in die wêreld, in armoede en nederigheid op die spoor van die Heer"; "[Die broeders] mag geen eiendom ontvang met die oogmerk om dit te besit nie, nie van die kerk of van elders nie, tensy die eiendom in diens van heilige armoede staan, en ook dan bly die broeders daar as pelgrims en gaste" (Franciskus in en vertaal uit Esser [ed. 1978:231;312]). Die uitgelese Franciskane Willem van Ockham (ca.1285-1349) en Franciskus van Marchia (ca.1290-ca.1344), 'n magister in teologie aan die Universiteit van Parys en uitgesproke teenstander van pous Johannes XXII (Jacques Duèze, 1244-1334, pous van 1316 tot 1334), konfronteer vanaf die vroeë 1320's, saam met ander prominente Franciskane, die pous oor die orde se verstaan van hierdie vorm van korporatiewe of "heilige vrywillige" armoede, juis as 'n verset teen die kerk en die georganiseerde kloosterwese se huiwering om betrokke te raak by die probleem van die "nuwe armoede" wat in die 12de eeu ontstaan het.8 Hierdie konfrontasie het vir die Franciskane, nougeset op Franciskus se spoor, ontstaan uit 'n teologies eenvoudige maar, vir die pous, kerkregtelik komplekse aangeleentheid. Wanneer 'n leerling (novise) tot die Franciskaanse orde toegetree het, het hy afstand gedoen van sy private boedel en dit in geheel aan die orde toevertrou. Die Franciskane het 'n novise wat nie gedurende die eerste twee jaar kon volhou met die rigiede studieprogram, die minimalistiese lewenswyse en die benadering van korporatiewe armoede van die orde nie, uitdruklik nié gepenaliseer nie (sien Beukes, 2020b:5, voetnoot 6). Trouens, huiwerige leerlinge is formeel geadviseer om nié die gestroopte en eenvoudige "Franciskaanse weg" te volg nie, en het gevolglik hulle boedels terug ontvang en teruggekeer na die sekulêre lewe. Talle Franciskaanse monnike was uit die Europese adelstande afkomstig en daardie boedels was soms indrukwekkend. Die toetredende leerling se boedel is voorlopig geoormerk vir usus facti, oftewel daadwerklike gebruik deur die orde, en het die orde ná twee jaar permanent toegeval (vgl. Mäkinen, 2006:46). Die Franciskane het met hierdie werkswyse privaatregtelike eiendomsreg afgewys - maar wou daarmee juis die "gebruik van middele" ter wille van die onderhoud en instandhouding van die orde handhaaf, sonder om hierdie "gebruik van middele" formeel aan 'n saaklike reg soos vruggebruik (fructus) te verbind (vgl. Schüßler, 2006:149172). Die orde het privaatregtelik dus oor geen eiendom beskik nie maar moes wel per stad per maand eiendom vir verblyf en vir die fasilitering van onderrig aan 'n studium huur, of andersins van 'n gratis ("aalmoes") aanbod vir behuising en die fasilitering van onderrig uit die betrokke gemeenskap gebruik maak.
Johannes XXII het egter in sy bul Ad conditorem canonum (Desember 1322) geoordeel dat die individuele boedels van toetredende novises die pouslike begroting onmiddellik moes toeval. Sy standpunt, met inbegrip van die talle tegniese kerkregtelike oorwegings daarin, kan met die beeld van 'n emmer geïllustreer word (vgl. Robinson, 2012:201). Ook al gebruik 'n Franciskaan 'n emmer slegs vir die doel waarvoor dit bestem is (usus facti), sonder om dit te besit en sonder die opset om dit in die toekoms te besit, behoort daardie emmer, terwyl dit deur die Franciskaan gebruik word, steeds aan "iemand". Daardie "iemand" sou die oorspronklike skenker of aalmoesgewer van die emmer moes wees. Indien daardie skenker nog leef, berus die ius of reg van die skenker, insluitende die eiendomsreg (dominium) op die emmer, steeds by daardie skenker. Indien hy of sy nie meer leef nie en geen testamentêre bepaling in dié verband gelaat het nie, kan daardie "iemand" slegs die pous as kurator van die eiendom wees en gaan die eiendomsreg van die emmer oor op die pous - aangesien die Franciskane sélf die emmer op grond van hulle eie ordereëls, soos bo aangetoon, nie met enige ander oogmerk as om dit slegs voorlopig te gebruik "as eiendom in besit" mag neem nie. Mutatis mutandis geld dit ook die boedels van novises wat tot die orde toetree. Ook al gebruik die Franciskane 'n novise se geskenkte persoonlike boedel (gedurende die twee jaar voor die suksesvolle inlywing tot die orde) slegs daadwerklik en voorlopig (ordo habeat usum; sien infra), behoort daardie boedel aan "iemand". Daardie "iemand" kan nie die aanvanklike skenker wees nie, aangesien die aanvanklike skenker nou 'n (potensiële) Franciskaan is, wat eiendomsregtelik (en wyer privaatregtelik) op grond van sy vrywillige toetrede tot die orde nie langer "iemand" is nie. Indien die skenker voor die verstryking van sy twee jaar leerlingskap uit die orde sou tree, word die skenking (dus die oorspronklike boedel) uit die pouslike kuratorskap aan hom teruggegee. Indien die skenker ná die twee jaar internskap permanent tot die orde toetree, is daar geen ander "iemand" om daardie boedel regtens "in besit te neem" as die pous as kurator nie. Die Franciskane se ewe genuanseerde regsposisie was daarenteen dat die saak wat in gebruik gehou word, slegs op opvolgende gebruikers kan oorgaan en per definisie niemand se eiendom kán word nie - in hierdie geval dus nie die orde óf die pous self nie. Daarom moes die boedels van toetredende novises, hetsy tydelik of uiteindelik permanent, binne die orde bly. Die emmer word dus van Franciskaan na Franciskaan aangegee en word in geen stadium enige Franciskaan se eiendom nie, totdat daar geen emmer - hetsy vanweë slytasie, skade of gebruik - meer oor is nie.
Ockham en Marchia bots van 1323 tot 1328 gereeld oor hierdie aangeleentheid met die pous (vgl. Mäkinen, 2006:46-48; Wittneben, 2003:353-359). Die eerste deel van die vraagstuk het gehandel oor Christus en die apostels se posisie ten opsigte van privaat eiendom en die tweede deel oor bogenoemde opvatting van "heilige vrywillige armoede". Franciskus self het, soos hier bo getoon, 'n ekstreme armoede-ideaal nagestreef. Die eerste Franciskaanse monnike van die vroeë 13 de eeu mog niks persoonlik in eiendom gehad het nie, mog letterlik nie aan geld geraak het nie en moes volledig van aalmoese (dit wil sê niegeldelike ondersteuning) uit die plaaslike gemeenskap afhanklik wees vir die voorsiening van voedsel, kleding en basiese huisvesting. Bonaventura, die befaamde meester-generaal van die Franciskaanse orde in Frankryk vanaf 1257, het voor sy dood in 1274 egter 'n uitdruklike onderskeid tussen dominium en usus getref: Franciskane kon wel (iemand se) eiendom daadwerklik gebruik (usus facti) maar dit nie individueel of kollektief as 'n orde in eiendom hê (dominium) óf as 'n reg tot gebruik (ius utendi) uitoefen nie (vgl. Mäkinen, 2001:185-186). Die orde kon (iemand se) eiendom wel "in besit hou" ter wille van "verantwoorde en nie-uitbuitende gebruik" (ordo habeat usum, dinamies vertaal, "die orde het toestemming om te gebruik" [nié gebruiksreg oftewel ius utendi óf vruggebruik oftewel fructus nie], na Bonaventura se interpretasie van usus facti). Reeds in 1230, kort ná Franciskus se dood, het pous Gregorius IX (Ugolino di Conti, ca.1170-1241, pous van 1227 tot 1241) Franciskus se bedoeling in Testamentum (24) bevestig deur in sy bul Quo elongati (vgl. Lambert, 1998:106-107) te verklaar dat hoewel die Testamentum geen regsgeldige aanspraak kon of wou rig ten opsigte van die orde se posisie met betrekking tot individuele óf kollektiewe eiendomsreg nie, die orde niks in eiendom mog hê buiten boeke, skryfbehoeftes en ander roerende bates wat vir akademiese werk gebruik kon word nie. Gregorius IX se bul is 15 jaar later deur Innocentius IV (ca.1195-1254, Sinibaldo Fleschi, pous van 1243 tot 1254) in sy bul Ordinem vestrum bevestig (vgl. Lambertini, 2015:111-113). Bonaventura se onderskeid tussen usus facti (en gevolglik ordo habeatusum) en dominium het dus dubbele pouslike sanksie geniet. Gregorius IX en Innocentius IV het albei uitdruklik ruimte vir usus facti, minstens met die oog op die voortsetting van akademiese werksaamhede, geskep. Innocentius IV het wel Gregorius IX se Quo elongati met sy Ordinem vestrum verfyn deur by te voeg dat dít wat die orde daadwerklik gebruik deur dit in besit te hou (sonder om dit dus in eiendom te hê), op geen wyse vervreem mag word nie. Die ius, proprietas et dominium (die "reg, aanspraak en eiendom") behoort aan die oorspronklike skenker en indien die skenker geen testamentêre bepaling in dié verband nagelaat het nie, val die ius, proprietas et dominium die kerk (onder pouslike kuratorskap) toe (vgl. Coleman, 2008:607-648; Robinson, 2012:199).
Reeds in 1279 het pous Nikolaas III (Giovanni Gaetano Orsini, 1225-1280, pous van 1277 tot 1280), in stryd met Bonaventura se oogmerk om die orde finansieel onafhanklik te hou sonder om die ideaal van vrywillige korporatiewe armoede te ondergrawe, in sy bul Exiit qui seminat die orde van enige vorm van saaklike regte, insluitende enige interpretasie van usus facti as sou dit kon dui op 'n vorm van regsgeldige vruggebruik (fructus) óf, soos Bonaventura dit wou, vir verantwoorde, daadwerklike en nie-uitbuitende gebruik deur die orde (dus ordo habeat usum) onthef en die orde se volledige boedel aan die pouslike kuratorskap toevertrou. Aan die einde van 1322 het Johannes XXII in sy bul Ad conditorem canonum Nikolaus III se besluit van meer as vier dekades vantevore bevestig, Bonaventura se posisie nogeens as "onwerkbaar" en 'n "skynheilige dwaling" afgemaak, en die Franciskaanse interpretasie van Jesus en die apostels se posisie ten opsigte van eiendomsreg, waarmee die orde se interpretasie van usus facti juis wou ooreenstem, tot 'n "dwaling" verklaar (vgl. Mäkinen, 2006:49-50; Robinson, 2012:201). In 1324 publiseer Johannes XXII die bul Quia quorandum mentes, waarin hy aanvoer dat die Franciskane se onderskeid tussen usus facti en dominium nie regsgeldig of prakties uitvoerbaar is nie. Aangesien die Franciskane dit duidelik gemaak het dat die orde geen individuele of kollektiewe eiendomsreg toelaat nie, val enige saaklike reg waarop die orde wel aanspraak maak (insluitende eiendom wat vir daadwerklike gebruik geoormerk is en dus slegs "in besit gehou word ter wille van verantwoorde gebruik"), die pouslike kuratorskap toe. Die meester-generaal van die Franciskaanse orde in 1323, Michael van Cesena (ca.1270-1342), het Ockham versoek om hierdie twee dwalingsdekrete te ondersoek. Ockham het bevind dat die dekrete van Johannes XXII immoreel, na sy mening absurd en inderdaad sélf ketters was. Ockham se argument was eenvoudig dat beide Nikolaus III en Johannes XXII die pouslike bulle Quo elongati van 1230 en Ordinem vestrum van 1245 verontagsaam het en hulle daarmee in die ongelyk met die kerkregtelike beginsel van die gesag van pouslike presedensie gebring het (stare decisis - dit wil sê dat die gesag van vorige uitsprake oor 'n bepaalde aangeleentheid in pouslike bulle gehandhaaf moes word). Die resultaat van Ockham se ondersoek is wyd openbaar gemaak. 'n Pouslike bul vir sy en Cesena se arrestasie is gevolglik uitgereik en saam moes die twee dissidente - in die geselskap van tientalle ander Franciskane - vir hulle lewens uit Avignon vlug. Die voortvlugtende Franciskane het uiteindelik in Duitsland asiel verkry onder toesig van keiser Lodewyk van Beiere.9
In hierdie konflik tussen Johannes XXII en die Franciskane was daar geen wenners nie (vgl. Burr, 2001:179-190). Aan die een kant het die Franciskane hulle diepe verbondenheid aan Franciskus se ideaal van "heilige vrywillige armoede" met hierdie konfrontasie bevestig. Aan die ander kant het die orde die indruk van verset en opstandigheid teen die kerklike gesag gelaat. Die gerekende dubbele magister in lettere en teologie aan Oxford in die 1330's, Richard FitzRalph (ca.1300-1360), se omvangryke polemiek met die Franciskane en Dominikane in die besonder (in sy De pauperie salvatoris [ca.1350-1356] van agt volumes, met 'n supplementum, De mendicitate), waarin hy die Franciskaanse orde se hantering van die vraag na dominium teenoor usus facti heftig kritiseer, is hiervan sprekend en ook tekenend van die skolastiese hantering van die diskoers oor armoede in die latere Middeleeue (vgl. Schüßler, 2002:321-336). FitzRalph was die skoolordes aanvanklik betreklik goedgesind en het hulle onder meer daarin ondersteun dat spesifiek die Franciskaanse gemeenskapsboedel nie sonder meer aan die pouslike kuratorskap toevertrou hoef te word nie - dat die Franciskane die boedel dus intern kon bestuur en wat daadwerklike gebruik (usus facti) betref, na goeddunke kon aanwend. Nadat hy as aartsbiskop van Armagh aangewys is, het FitzRalph egter self toenemend in konfrontasie met die Franciskane gekom, juis omdat die orde die kloosterongebonde ideaal om buite die sfeer van formele kerklike toesig te beweeg (en daarom by verstek onafhanklik van die Benediktynse ordereëls soos in die kerklik gesanksioneerde kloosterordes), na sy mening te ver gevoer het (vgl. Dunne, 2004:243-258; Walsh, 1981:349-451).
FitzRalph berei daarom 'n uitgebreide filosofiese en teologiese kritiek voor van wat hy in De pauperie salvatoris 'n "geradikaliseerde ideaal" noem: In die loop van die agt volumes betoog FitzRalph dat, hoewel hy juis binne die konteks van die "nuwe armoede" agting het vir die skoolordes se ideaal van korporatiewe en vrywillige armoede en hulle toewyding aan barmhartigheidsorg, asook hulle pastorale en kategetiese werk in die samelewing in die algemeen, hy hulle verset teen die kerklike gesag onverskoonbaar vind - gegewe die feit dat hulle dikwels van kerklike eiendom gebruik gemaak het in die uitvoering van hierdie selfopgelegde verantwoordelikhede. In sy ontleding van hierdie ordes se juridiese posisie en maatskaplike status lewer FitzRalph uitgebreide kommentaar op die sakeregtelike kwessies van private en korporatiewe eiendomsreg met behulp van gesaghebbende 14de-eeuse regsadvies (vgl. Wittneben, 2003:1-25). Die Franciskane se herhaalde uitdaging van die pousdom het hulle deur FitzRalph se beslissende teenkanting uiteindelik ingehaal en ten slotte het die orde weinig vermag om die probleem van die "nuwe armoede" op die lang duur effektief die hoof te bied. Nietemin was die Franciskane se botsing met Johannes XXII algemeen bekend en het dit die probleem van armoede in die konteks van 'n onvoorspelbare 14de eeu helder omlyn. Hiermee is ook die grondslag gelê vir die ontwikkeling van teorieë van natuurlike regte oor die volgende drie eeue heen (sien Burr, 2001:279-304; Robinson, 2009:347-374; Swanson, 2007:399-456; vir die nawerking by veral Hobbes, sien Forster, 2003:189-217).
5. Armlastiges as 'n minderheidsgroep in die stormagtige 14de eeu
Wes-Europa is in die tweede helfte van die 14de eeu in anargisme gedompel, omdat die (deur die Italiaanse Renaissance só benoemde) "Middeleeue" nou duidelik 'n afloop begin toon het en 'n "nuwe era van hergeboorte" - juis dié Renaissance - reikhalsend ingewag is. Die laaste dekades van die 14de eeu sou selfs as revolusionêr bestempel kon word: Politieke opstande was algemeen (ingelui deur die kleinboeropstand in Vlaandere in die vroeë 1330's) en die jong nasiestate, wat van die knellende historiese en outoritêre greep van die pousdom begin wegbeweeg het, was uiteindelik vry om 'n onafhanklike identiteit te begin skep. Saam met hierdie moontlikheid van vryheid het egter ook die versoeking gekom om die grense van daardie vryheid te toets: Oorloë tussen sulke jong 14de-eeuse state was dus algemeen en langdurig, selfs tot so lank as 'n eeu. Gildes en stadsrade het hulle teen die gesag van hertogdomme georganiseer en opgestel. Die Swart Dood (builepes, ook bekend as die Swart Pes) het daarby in verskeie sarsies, met die hoogtepunt van 1346 tot 1353, vinnig oor die kontinent getrek en die lewens van tot 50 miljoen mense geëis. Die eens magtige heilige, algemene Christelike kerk is tot in sy fondamente geskud deur die Westerse Verdeling (ook bekend as die Groot Skisma) van 1378 tot 1417, wat die pousdom en die kerk self effektief geskeur het; daar was tot in 1410 tot drie pouse gelyktydig wat mekaar oor en weer geëks-kommunikeer het (vgl. Beukes, 2020b:4-5).
In hierdie anargistiese konteks tree die opvatting van "absolute regering" en burgerlike pogings om 'n gefragmenteerde gemeenskap te konsolideer na vore, onder meer in die soeke na "uniformiteit" en in die afwysing van enige oorweging wat die opvatting van 'n gelyk-blywende identiteit geproblematiseer het. So verdraagsaam as wat die laat 11de eeu, die 12de eeu en minstens die eerste helfte van die 13de eeu oor 'n wye aantal kulturele aangeleenthede was, so onverdraagsaam en geslote was die 14de en vroeë 15de eeu teenoor dieselfde aan-geleenthede. Die impetus vir hierdie onverdraagsaamheid kan gevind word in die verbete soeke na juis daardie "absolute regering", met 'n kenmerkende strewe na intellektuele en institusionele uniformiteit, die korporatisering van die sosiale leefwereld en die konsolidering van burgerlike, kerklike en administratiewe burokrasieë, soos vergestalt in die dramatiese toename in wetgewing van allerlei aard in die 14de eeu (met inbegrip van die herstel van die sesde-eeuse Justiniaanse Romeinse reg vanaf die 13de eeu): Waar die omvang van koninklike en ander edikte in die 12de en 13de eeu nie meer as 100 volumes beslaan het nie, het die gemiddelde wetgewing deur 'n monarg van selfs 'n beskeie streek in die 14de eeu etlike duisende registers beslaan, terwyl Johannes XXII, berug vir sy wydstrekkende polemieke, letterlik honderde pouslike bulle nagelaat het (vgl. Coleman, 2006:30-32).
Binne die korporatiewe en juridies gedrewe konteks van die 14de eeu ontstaan nou ook vir die eerste keer die opvatting van "mindere minderhede". Afgesien van ekonomiese opstande, groeiende klasseverskille en voortgaande maatskaplike differensiasie op grond van ekonomiese verskille (vgl. Bräuer, 2015:1), neem onder andere antisemitisme en algemene godsdienstige onverdraagsaamheid (byvoorbeeld teenoor Islam in Andalusiese Spanje) beduidend toe (vgl. Baer, 2001:95-169). Alle dinge moes nou voldoen aan die ideaal van "suiwere uniformiteit", wat beteken het dat alles trefseker gereduseer moes kon word tot 'n enkele beginsel van identiteit. Byvoorbeeld: Teologiese uitsette is toenemend in die korset van korter summae met enkele sistematiese formules gedwing, die draagwydte van die Inkwisisie se jurisdiksie om "afwykende" teologiese en lewensbeskoulike posisies te dissiplineer is aansienlik uitgebrei, sekulêre kennis is in enkelformate gedwing, waarvan die 14de-eeuse "ensiklopedie" (synde die byeenbring van alle beskikbare kennis oor 'n bepaalde kennisrubriek in 'n enkele boek, 'n reeks volumes of een kennisstelsel) sprekend was, terwyl die kerklike hiërargie se opsigvermoë oor etiese, morele en selfs juridiese aangeleenthede intensief uitgebrei is. Die 14de eeu was inderdaad die tyd van die "groot suiwering": Jode is reeds in die eerste dekade van die 14de eeu uit Engeland en Frankryk verban en melaatses in Frankryk is vanaf 1322 op bevel van Karel IV vir lang tydperke in die tronk opgesluit (met die gevolglike sluiting van die betroubare ou Middeleeuse leprosaria, wat eeue lank 'n tuiste gebied het nie net aan melaatses nie, maar juis ook aan ander sosiaal-uitgeslotenes; vgl. Foucault, 1961:3-42).
Afgesien van die skep van minderhede op grond van etniese, godsdienstige en geslagsidentiteit, asook seksuele voorkeure, word 'n verskeidenheid ander minderheidsmerkers in die 14de eeu opgestel (vgl. Mollat, 1986:268-269). Belangrik is dat nie "getalle" of kwantifiseerbare oorwegings nie maar wisselvallige etikette soos "tipe", "soort" en talle ander arbitrêre, pseudokwalifiseerbare oorwegings gebruik is om sodanige minoritatem aan te dui. Selfs armoede word nou aangedui as 'n "minderheidsbelang" (vgl. Schofield, 2008:38-63; Campbell, 2005:3-70): Hoewel verreweg die grootste deel van elke Wes-Europese bevolking in die latere Middeleeue uit die "nuwe armes" bestaan het, word daardie meerderheid nou as 'n "minderheid" getipeer. Die aanmerk van arm mense as 'n "mindere minderheid" dui op die vermoë van die nuut ontwerpte uitsluitingsmeganismes van die 14de eeu om selfs selfteenstellende oorwegings te gebruik om die samelewing effektief te homogeniseer. Die druk om aan die ideaal van homogeniteit te voldoen was oral aanwesig: Soos aangedui supra, is selfs die Franciskaanse armoede-ideaal in die eerste dekades van die 14de eeu tot op die punt van kettery geproblematiseer. Daarby is geldskieters (Middeleeuse "bankiers"; sien Cusato, 2010:578) en politieke afvalliges (sien Boswell, 1980:276) by die wyer wordende register van sensureerbare minderhede ingesluit. Soveel armes as wat daar in die 14de eeu was, so gering is hulle geskat - inderdaad was die armes nou 'n pejoratiewe "minderheid". Die diskoers oor armoede het inderdaad ver beweeg van 'n reeks "toevallige faktore" in die vroeë Middeleeue, na 'n "klas" in die 12de en die 13de eeue, en uiteindelik na 'n "minderheidsgroep" in die 14de eeu.
6. Samevatting en gevolgtrekking
Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue verloop volgens bogenoemde ontleding in vyf aanduibare fases. Teen die agtergrond van die kenmerking van armoede in die vroeë Middeleeue as 'n "toevallige verskynsel" of "aantal toevallige faktore", vind daar eerstens vanaf die middel van die 10de eeu 'n diskursiewe verskuiwing plaas op grond van drastiese omwentelinge in die landbou en handel. Die "nuwe armes" het ontstaan uit 'n "klas" grondbewerkers en handearbeiders wie se sosioëkonomiese posisie in die 12de eeu intensief hersien is. 'n Begripsontwikkeling, wat grootliks teologies en juridies van aard was en berus het op 'n betreklik eenvoudige onderskeid tussen heer en dienaar, of dominus en servus, het daarna die volle diskursiewe register van die vroeë Middeleeue vervang. Waar armoede in die vroeë Middeleeue as die gevolg van een of meer toevallige faktore verstaan is, is dit in die 12de eeu vereenvoudig tot die verhouding tussen heer en dienaar. Armoede was nou 'n nuwe "ekonomiese probleem" wat so doeltreffend moontlik met hierdie elementêre onderskeid tussen dominus en servus die hoof gebied moes word. Tweedens is armoede in die 12de eeu uitdruklik in verband gebring met 'n "minimummatriks", wat moes aandui wat die minimumhoeveelheid beboubare grond was waartoe 'n individu of groep verwante individue vir basiese lewensonderhoud toegang moes hê. Armoede is gevolglik, vir die eerste keer in die Middeleeue, gedefinieer volgens 'n "vermoë tot selfonderhoud". Hiermee is die ekono-misering van armoede onherroeplik in die latere Middeleeuse diskoers gevestig. Derdens is 'n verset teen sowel hierdie ekonomisering as die kerk en kloosterwese se versuim om die "nuwe armoede" krities aan te pak, van stapel gestuur deur godsdienstige versetsbewegings wat juis in reaksie teen die "nuwe armoede" in die laat 12de en 13de eeu tot stand gekom het. Die ideaal van "vrywillige armoede" is deur groepe soos die begyne en Waldense voorgehou ten einde enige assosiasie met welvaart op te skort deur van alle vorme van eiendomsreg afstand te doen en 'n lewe van volledige eensgesindheid met die armes te lei. Hierdie verset is, vierdens, verhewig deur die Franciskaanse orde se 14de-eeuse konfrontasie met die pousdom oor die orde se verstaan van die verhouding tussen eiendomsreg en die daadwerklike gebruik van middele, wat as die spitspunt van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue voorgehou is. Laastens is die uiteindelike skep van 'n minderheidsgroep - "die armlastiges" - 'n aanduiding van die afloop van die ontwikkeling van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue. Wat eens geag is die gevolg van onwillekeurige en toevallige omstandighede te wees, is eers gereduseer tot 'n "verhouding", daarna geëkonomiseer tot 'n "klas", en uiteindelik onder pejoratiewe beheer gebring in 'n "minderheid". Hierdie ontwikkelinge in die 14de eeu het die weg gebaan vir die ontwikkeling van teorieë van natuurlike regte in die 15de eeu en later.
Dit is waarskynlik waar dat die "armes" altyd by ons sal wees. Onteenseglik méér waar is dat die pynlikheid van ontbering en skaarste vanaf die sentrale Middeleeue steeds met 'n raaiselagtige kulturele gelatenheid gadegeslaan word. Dit was en is nie 'n skande om arm te wees nie: Wél skandelik is dat armoede so diskursief onverbloemd met "andersheid", "agtergeblewenheid" en veral 'n "minderheidsbelang" in verband gebring is (en steeds word). Soos in vele ander opsigte is hier ook weer uit die vroeë Middeleeue te leer. Armoede is werklik niks méér as die resultaat van 'n toevallige faktor of aantal toevallige faktore nie. Wie ook al 'n oog het vir die radikaal kontingente aard van die werklikheid, behoort dit in te sien en veral raak te sien.
BIBLIOGRAFIE
Baer, Y. 2001. A history of the Jews in Christian Spain, Volume II. Skokie: Varda & Philadelphia: Jewish Publication Society of America. [ Links ]
Bailey, M. 2003. Religious poverty, mendicancy and reform in the Middle Ages. Church History, 72(1):457-483. [ Links ]
Bethell, T. 1998. The noblest triumph: Property and prosperity through the ages. New York: St. Martin's Press. [ Links ]
Beukes, J. 2020a. Middeleeusefilosofie. Volumes I en II. Pretoria: Akademia. [ Links ]
Beukes, J. 2020b. Die politieke aktivisme van Birgitta Birgersdotter (1302/3-1373). Verbum et Ecclesia, 41(1), Art. #2134:1-12. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2134 [15 October 2021]. [ Links ]
Beukes, J. 2021. "Skoolordes" in stede van "bedelordes": 'n Heroorweging van die toepaslikheid van die begrip mendïcans in die (Afrikaanse) Middeleeuse vakregister. HTS Theological Studies 77(4), Art. #6837:1-11. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6837 [15 October 2021]. [ Links ]
Bosl, K. 1963. Potens und Pauper. In Bergengruen, A & Deike, L (eds). Alteuropa und die Moderne Gesellschaft. Göttingen: Vandenhoeck und Ruprecht, pp. 60-87. [ Links ]
Boswell, J. 1980. Christianity, social tolerance and homosexuality: Gay people in Western Europe from the beginning of the Christian era to the fourteenth century. Chicago: Chicago University Press. [ Links ]
Bräuer, H. 2015. Poverty, urban. In Dunphy, G & Gow, A (eds). Enyclopedia of early modern history online. Leiden: Brill. https://dx.doi.org/10.1163/2352-0272_emho_COM_028030 [24 March 2022]. [ Links ]
Brett, AS. 1997. Liberty, right and nature: Individual rights in later scholastic thought. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Brooke, RB. 1959. Early Franciscan government: Elias to Bonaventure. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Brunner, M. 2006. Pope John XXII and the Franciscan ideal of absolute poverty. PhD thesis. Leeds: University of Leeds. https://etheses.whiterose.ac.uk/1095/ [12 March 2022]. [ Links ]
Burr, D. 2001. The Spiritual Franciscans: From protest to persecution in the century after Saint Francis. University Park, PA: The Pennsylvania State University Press. [ Links ]
Campbell, BMS. 2005. The agrarian problem in the early fourteenth century. Past and Present,188(1):3-70. [ Links ]
Cipolla, CM. 1993. Before the Industrial Revolution. European society and economy, 1000-1700. Woodall, C (transl.). London: Routledge. [ Links ]
Cohn, SK, Jr. 2016. Rich and poor in Western Europe, c.1375-1475: The political paradox of material well-being. In Farmer, S (ed.). Approaches to poverty in medieval Europe: Complexities, contradictions, transformations, c.1100-1500. Turnhout: Brepols, pp. 145-174. [ Links ]
Coleman, J. 1987. The two jurisdictions: Theological and legal justifications of church property in the thirteenth century. In Shiels, W & Wood, D (eds). Studies in Church History, Subsidia: The church and wealth. Oxford: Blackwell, pp. 57-100. [ Links ]
Coleman, J. 1988. Property and poverty. In Burns, J (ed.). The Cambridge history of medieval political thought. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 607-648. [ Links ]
Coleman, J. 1996. The individual and the medieval state. In Coleman, J (ed.). The individual in political theory and practice. Oxford: European Science Foundation & Clarendon Press, pp. 1-34. [ Links ]
Coleman, J. 2006. Are there any individual rights or only duties? On the limits of obedience in the avoidance of sin according to late medieval and early modern scholars. In Mäkinen, V & Korkman, P (eds). Transformations in medieval and early-modern rights discourse. Dordrecht: Springer, pp.3-36. [ Links ]
Coleman, J. 2008. Property and poverty. In Burns, JH (ed.). The Cambridge history of medieval political thought, c.350 - c.1450. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 607-648. [ Links ]
Cusato, MF. 2010. Poverty. In Pasnau, R & Van Dyke, C (eds). The Cambridge history of medieval philosophy Volume II. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 577-592. [ Links ]
Dipple, G. 1994. Uthred and the friars: Apostolic poverty and clerical dominion between FitzRalph and Wyclif. Traditio, 49(1):235-258. [ Links ]
Dunne, M. 2004. Richard FitzRalph of Dundalk (c.1300-1360) and the New World. Archivium Hibernicum, 58(1):243-258. [ Links ]
Dyer, C. 2012. The experience of being poor in late medieval England. In Scott, AM (ed.). Experiences of poverty in late medieval and early modern England and France. Surrey: Ashgate, pp. 19-39. [ Links ]
Dyer, C. 2015. Poverty and its relief in late medieval England. Past and Present, 216(1):41-78. [ Links ]
Esser, K (ed.). 1978. Opuscula sancti patris Francisci Assisiensis. Grottaferrata: College of St. Bonaventura. [ Links ]
Evans, GR. 2010. Law and nature. In Pasnau, R & Van Dyke, C (eds). The Cambridge history of medieval philosophy, Volume II. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 565-576. [ Links ]
Farmer, S. 2001. Surviving poverty in medieval Paris: Gender, ideology and the daily lives of the poor. Ithaca, NY: Cornell University Press. [ Links ]
Farmer, S. 2016. Introduction. In Farmer, S (ed.). Approaches to poverty in medieval Europe: Complexities, contradictions, transformations, c.1100-1500. Turnhout: Brepols, pp. 1-22. [ Links ]
Farmer, S (ed.). 2016. Approaches to poverty in medieval Europe: Complexities, contradictions, transformations, c.1100-1500. Turnhout: Brepols. [ Links ]
Folger-Fonfara, S. 2008. Das Super-Transzendentale und die Spaltung der Metaphysik: Der Entwurf des Franziskus von Marchia. Leiden: Brill. [ Links ]
Forster, G. 2003. Divine law and human law in Hobbes' Leviathan. History of Political Thought, 24(2):189-217. [ Links ]
Foucault, M. 1961 (2006 edition). History of madness. Khalfa, J (ed.). Murphy, J & Khalfa, J (transl.). London: Routledge. [ Links ]
Foucault, M. 1973 (2003 edition). The birth of the clinic. An archaeology of medical perception. Sheridan, AM (transl.). London: Routledge. [ Links ]
Foucault, M. 1975 (1995 edition). Discipline and punish: The birth of the prison. Sheridan, AM (transl.). New York: Vintage. [ Links ]
Friedman, RL & Schabel, C. 2001. Francis of Marchia's commentary on the Sentences: Question list and state of research. Mediaeval Studies, 63(1):31-106. [ Links ]
Friedman, RL & Schabel, C (eds). 2006. Francis of Marchia - theologian and philosopher. A Franciscan at the University of Paris in the early fourteenth century. Leiden: Brill. [ Links ]
Geremek, B. 1994. Poverty: A history. Kolakowska, A (transl.). Oxford: Blackwell. [ Links ]
Grieco, H. 2011. Pastoral care, inquisition and mendicancy in the medieval Franciscan order. In Prudlo, D (ed.). The origin, development and refinement of medieval religious mendicancies. Leiden: Brill, pp. 117-156. [ Links ]
Heer, F. 1962. The medieval world: Europe, 1100-1350. Sondheimer, J (transl.). New York: The World Publishing Company. [ Links ]
Helmholz, RH. 2003. Natural human rights: The perspective of the ius commune. Catholic University Law Review, 52(2):301-325. [ Links ]
Kempshall, MS. 1999. The common good in late medieval political thought. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Kosso, C & Scott, A (eds). 2012. Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance. Turnhout: Brepols. [ Links ]
Kriechbaum, M. 1996. Actio, Ius und Dominium in den Rechtslehren des 13. und 14. Jahrhunderts. Ebelsbach: Aktiv Druck und Verlag. [ Links ]
Lagerlund, H (ed.). 2011. Encyclopedia of medieval philosophy. Philosophy between 500 and 1500. London: Springer. [ Links ]
Lambert, MD. 1998. The doctrine of the absolute poverty of Christ and the apostles in the Franciscan order, 1210-1232. St Bonaventura, New York: The Franciscan Institute. [ Links ]
Lambertini, R. 2015. The debate about natural rights in the Middle Ages: The issue of Franciscan poverty. In Tuominen, M, Heinämaa, S & Mäkinen, V (eds.). New perspectives on Aristotelianism and its critics. Leiden, Brill, pp. 111-126. [ Links ]
Lopez, RS. 1976. The commercial revolution of the Middle Ages, 950-1350. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Mäkinen, V. 2001. Property rights in the late medieval discussion on Franciscan poverty. Leuven: Peeters. [ Links ]
Mäkinen, V. 2006. Rights and duties in late scholastic discussion on extreme necessity. In Mäkinen, V & Korkman, P (eds). Transformations in medieval and early-modern rights discourse. Dordrecht: Springer, pp. 37-62. [ Links ]
Mäkinen, V. 2011. Poverty. In Lagerlund, H (ed.). Encyclopedia of medieval philosophy. Philosophy between 500 and 1500. London: Springer, pp. 1066-1073. [ Links ]
McGovern, JF. 1970. The rise of new economic attitudes - economic humanism, economic nationalism - during the later Middle Ages and the Renaissance, AD 1200-1500. Traditio, 26(1):217-253. [ Links ]
McGrade, AS. 1980. Ockham and the birth of individual rights. In Tierney, B & Linehan, P (eds). Authority and power: Studies on medieval law and government presented to Walter Ullmann on his seventieth birthday. Cambridge: Cambridge University Press., pp. 149-165. [ Links ]
McKeon, PR. 1964. The development of the concept of property in political philosophy: A study in the background of the constitution. Ethics, XLVIII:304-312. [ Links ]
Miethke, J. 1969. Ockhams Weg zur Sozialphilosophie. Berlin: Walter de Gruyter. [ Links ]
Mollat, M. 1986. The poor in the Middle Ages: An essay in social history (French edition 1978. Les pauvres au Moyen Age. Paris: Hachette). Goldhammer, A (transl.). New Haven: Yale University Press. [ Links ]
Moorman, J. 1968. A history of the Franciscan Orderfrom its origins to 1517. Oxford: Sandpiper Books Ltd. [ Links ]
Mundy, J. 1973. Europe in the high Middle Ages, 1150-1309. New York: Basic Books. [ Links ]
Pasnau, R & Van Dyke, C (eds). 2009. The Cambridge history of medieval philosophy Volume II. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Pounds, NJG. 1979. An historical geography of Europe. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Pounds, NJG. 1994. An economic history of medieval Europe. London: Longman. [ Links ]
Robinson, J. 2009. William of Ockham on the right to (ab-)use goods. Franciscan Studies, 67(1):347-374. [ Links ]
Robinson, J. 2012. Innocent IV, John XXII, and the Michaelists on corporate poverty. In Kosso, C & Scott, A (eds). Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance. Turnhout: Brepols, pp. 197-224. [ Links ]
Schofield, PR. 2008. The social economy of the medieval village in the early fourteenth century. Economic History Review, 61(Supplement 1):38-63. [ Links ]
Schofield, PR. 2012. Approaching poverty in the medieval countryside. In Kosso, C & Scott, A (eds). Poverty and prosperity in the Middle Ages and the Renaissance. Turnhout: Brepols, pp. 95-112. [ Links ]
Schüßler, R. 2002. Zur Geschichte des Besitzindividualismus. In Arnold, V (ed.). Wirtschaftethische Perspektiven VI. Berlin: Duncker & Humblot GmbH, pp. 321-336. [ Links ]
Schüßler, R. 2006. Moral self-ownership and ius possessionis in sholastics. In Mäkinen, V & Korkman, P (eds). Transformations in medieval and early-modern rights discourse. Dordrecht: Springer, pp.149-172. [ Links ]
Swanson, SG. 2007. The medieval foundations of John Locke's theory of natural rights: Rights of subsistence and the principle of extreme necessity. History of Political Thought, 18(3):399-456. [ Links ]
Tierney, B. 1959. The decretists and the "deserving poor". Comparative Studies in Society and History, 1(1):360-373. [ Links ]
Tierney, B. 1997. The idea of natural rights: Studies on natural rights, natural law and church law, 1150-1625. Atlanta: Scholars Press. [ Links ]
Walsh, K. 1981. A fourteenth-century scholar and primate: Richard Fitzralph in Oxford, Avignon and Armagh. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Wickham, C. 2005. Framing the early Middle Ages: Europe and the Mediterranean, 400-800. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Wittneben, EL. 2003. Bonagratia von Bergamo: Franziskanerjurist und Wortführer seines Ordens im Streit mit Papst Johannes XII. Leiden: Brill. [ Links ]
Wolf, KB. 2003. The poverty of riches: Saint Francis of Assisi reconsidered. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Ontvang: 2022-03-11
Goedgekeur: 2022-03-25
Gepubliseer: Junie 2022
Johann Beukes (1966-), DLitt et Phil (Filosofie, RAU, 1995), PhD (Teologie, UP, 2000), is ereprofessor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en verbonde aan die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS) van Radboud Universiteit Nijmegen, Nederland. Hy spesialiseer in Middeleeuse filosofie en Foucault-studies en is lid van GCMEMT (Groningen Centre for Medieval and Early Modern Thought), SIEPM (Société Internationale pour l 'Étude de la Philosophie Médiévale), OZSW (Nederlandse Onderzoeksschool Wijsbegeerte) en Foucault Cirkel Nederland/België. Hy woon in Amsterdam.
Hierdie artikel is befonds deur die Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geestes-wetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika.
Johann Beukes (1966-), DLitt et Phil (Philosophy, Rand Afrikaans University, 1995) and PhD (Theology, University of Pretoria, 2000), is an honorary professor in the Department of Philosophy & Classics at the University of the Free State, Bloemfontein, South Africa, and an associate of the Center for the History of Philosophy and Science (CHPS) at Radboud University Nijmegen in the Netherlands. He specialises in Medieval philosophy and Foucault-studies and is a member of GCMEMT (Groningen Centre for Medieval and Early Modern Thought), SIEPM (Société Internationale pour l'Étude de la Philosophie Médiévale), OZSW (Nederlandse Onderzoeksschool Wijsbegeerte) and Foucault Cirkel Nederland/België. He lives in Amsterdam.
This article was funded by the Department of Philosophy & Classics, Faculty of the Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa.
1 Die begrippe "ideëhistories" en "diskoers" dui op grond van Michel Foucault (1926-1984) se argeologiese lengtesnit sowel op 'n "geskiedenis van die filosofie" as 'n "filosofie van die geskiedenis". Idees is hiervolgens onlosmaaklik gebed binne die kultuurhistoriese en institusionele konteks waarin dit beslag gekry het - terwyl institusies en praktyke insgelyks nie onafhanklik verstaan kan word van die idees wat dit gevorm het nie. Trouens, wie 'n idee of 'n "filosofie" vanuit 'n bepaalde epog wil verstaan, is volgens Foucault in die eerste plek aangewese op 'n ontleding van die praktyke en institusionele vorme waarin die betrokke idee beslag gekry het (byvoorbeeld ten opsigte van praktykvorming en institusionele gestaltes in die geskiedenis van waansin, of in die geskiedenis van dissiplinering en strafregpleging, of in die geskiedenis van seksualiteit). Ook institusionele ontwikkelinge en praktykvorming in die geskiedenis van armoede (hier ten opsigte van die sentrale en latere Middeleeue) kan in ideëhistoriese sin dus nie onafhanklik begryp word van die idees wat dit gevorm het nie - net soos wat daardie idees geen selfstandige groothede was nie maar uitdruklik binne die kultuurhistoriese en maatskaplike konteks(te) van die Middeleeue gevorm is. Dit geld volgens Foucault se aanwysing vir elke ander idee, of stelsel van idees, binne enige ander epog in die geskiedenis; en andersom, vir die ideëgebondenheid van elke institusie in die kultuurgeskiedenis (vgl. Foucault, 1961:78-107, 1973:67-101;216-223; 1975:231-256). Die oogmerk van die artikel is dus nie om bloot 'n oorsig van die historiese (dus ekonomiese, juridiese en maatskaplike) ontwikkelinge ten aansien van armoede in die sentrale en latere Middeleeue aan te bied nie, maar om 'n ideëgeskiedenis van of diskoers oor armoede in die betrokke Middeleeuse periodes te verwoord.
2 Vir 'n uiteensetting waarom die geykte terme "bedelordes" en "bedelmonnike" nie hier gebruik word nie maar wel "skoolordes" en "skoolmonnike", sien my onlangse vertalingsvoorstel (Beukes, 2021:3-11) ten opsigte van die kritiese verruiming van die Middeleeuse vakregister in Afrikaans.
3 Sien ook die uitstekende proefskrif van Brunner (2006). Met inagname van die oplewing in die gespesialiseerde historiese navorsing oor die afgelope twee dekades kan die volgende ouer oorsigte steeds met vrug geraadpleeg word: Bethell (1998, in geheel), Bosl (1963:60-87), Brett (1997:148), Brooke (1959:250-251), Cipolla (1993:1-43), Coleman (1987:75-100; 1988:607-648; 1996:134), Dipple (1994:235-258), Geremek (1994:15-119), Heer (1962:1-68), Kempshall (1999, in geheel), Kriechbaum (1996, in geheel), Lopez (1976:27-84), McGovern (1970:217-253), McGrade (1980:149-165); McKeon (1964:304-312), Miethke (1969:502-516), Moorman (1968:117-125), Mollat (1986, in geheel), Mundy (1973:174-189), Pounds (1979, 1994, beide in geheel) en Tierney (1959:360-373; 1997:1-33). Michel Mollat (1911-1996; sien Mollat, 1986), Bronislaw Geremek (1932-2008; sien Geremek, 1994) en Brian Tierney (1922-2019; sien Tierney, 1959, 1997) staan uit as prominente 20ste-eeuse navorsers oor maatskaplike kwessies soos armoede in die sentrale en latere Middeleeue (vgl. Farmer, 2016:1-3).
4 Hier word bedoel die streng hiërargiese verpligtinge teenoor die eienaar van grond, of welke ander vorm van eiendom wat tydelik teen betaling of vir 'n ander vorm van vergoeding, onder meer in ruil vir strukturele en militêre beskerming, gebruik kon word.
5 Ideologies was die ontwikkeling van die kloosterordes egter veelkantig: Die Cluniacensers het byvoorbeeld tot so laat as in die 13de eeu nie as 'n koherente kloosterorde bestaan nie en die Kamaldulensers was aanvanklik glad nie 'n kloosterorde nie. Erkenning word verleen aan 'n anonieme portuurevalueerder se nadruk in dié verband.
6 "32 Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33 Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34 Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35 en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 36 Josef, 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is - dit beteken iemand wat mense moed inpraat - 37 het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee." (Die Bybel: Nuwe vertaling, 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika)
7 Die deeglikste ontleding van die Franciskaanse ideaal van korporatiewe armoede tot op datum is waarskynlik steeds Lambert (1998) se The doctrine of the absolute poverty of Christ and the apostles in the Franciscan order, 1210-1232; ten opsigte van die komplekse ontwikkelinge in aanloop tot hierdie eiendomsgeskil, sien Lambert (1998:101-107). Sien daarby die omvangryke oorsig van Annabel Brett (1997:10-48, "Right and liberty: the equivalence of dominium and usus"). Hierdie afdeling (4) verteenwoordig 'n bywerking en aanvulling van materiaal in Beukes (2021a:4-6).
8 Vir besonder deeglike uiteensettings, sien Burr (2001:43-66), Mäkinen (2001, in geheel; vir 'n bondiger bespreking, sien Mäkinen, 2006:46-50), Lambertini (2015:111-126) en Wolf (2003:3990). Sien ook Folger-Fonfara (2008:1-17), Friedman & Schabel (2001:31-106), asook hulle omvattende redaksiewerk (Friedman & Schabel [eds. 2006], in geheel). Vir 'n waardevolle ontleding van die tersaaklike kerkregtelike aspekte, sien Wittneben (2003, in geheel).
9 Sien Burr (2001:191-212). Lodewyk het Johannes XXII as 'n aartsvyand beskou omdat hy Lode-wyk se verkiesing tot keiser betwis en probeer ondermyn het deur die troon in 1317 by pouslike dekreet "vakant" te verklaar. Lodewyk, wat self in 1324 geëkskommunikeer is, het hom sonder sukses tot 'n algemene Roomse konsilie gewend om Johannes XXII sélf tot ketter verklaar te kry. Sonder sukses en enige uitkoms elders, het Lodewyk Rome in 1328 binnegevaar, homself opnuut as keiser aangestel en 'n keiserlike teenpous aangewys. Ockham is uiteindelik rondom 1349 in die omstreke van München aan die Swart Pes oorlede.