SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2"The pot boils all over": NP van Wyk Louw, Johannes Degenaar and Afrikaans decolonisationThe deed reveals (im)morality author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n2a7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die taallandskap van die vrou in Rooi Rose (19482020)

 

The linguistic landscape of women in Rooi Rose (1948-2020)

 

 

Hermie PelserI; Nerina BosmanII

IDepartement Afrikaans, nagraadse student, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: hermi.pelser@affies.co.za
IIDepartement Afrikaans, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: nerina.bosman@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel ondersoek die taallandskap1 van die Afrikaanse vrou soos wat dit te sien is in die rooi rose van 1948 - 2020 en vra of hierdie landskap, veral wat taalseksisme betref, soos te siene in rooi rose sedert 1948, verander het. Die rooi rose-korpus was die databron wat ontleed is met die moontlikhede wat korpuslinguistiek as metode bied.
Die studie val in die sosiolinguistieksubveld wat in die breë as die taal-en-gender-veld bekend staan. Taalseksisme val in hierdie deelgebied. Taalseksisme (en gepaardgaande stereotipering) kom voor wanneer daar deur en in taal teen 'n geslag of gender gediskrimineer word.
Kwantitatiewe navorsing is gebruik om frekwensies van leksikale items soos aan-spreekvorms en titels, die generiese hy en manlike en vroulike persoons- en beroepsname vas te stel. Soekwoorde binne konteks, soos wat verkry word in konkordansiereëls, asook kollokasies is kwalitatief ontleed.
Die gevolgtrekking waartoe die studie kom, is dat daar verandering op te merk is wat die gebruik van sommige leksikale items betref. Daar is 'n frekwensieafname te bespeur in sommige titels en aanspreekvorme, maar die neutrale me (wat nie onderskeid tref wat huwelikstatus betref nie) word nie in die korpus aangetref nie. Afrikaans volg die wêreldtendens deur sommige manlike en vroulike selfstandige naamwoorde te vervang met een naamwoord wat na beide mans en vrouens kan verwys. Daar is egter nog tekens van taalseksisme in die korpus. Die generiese hy word tot 2020 nog baie gebruik en onderskeid word ook nog getref wat betref die huwelikstatus van vroue.

Trefwoorde: taal en gender, taalseksisme, korpus, korpuslinguistiek, vrouetydskrif, rooi rose, aanspreekvorme, vroulike selfstandige naamwoorde, generiese hy


ABSTRACT

The objective of this study was to assess the prevalence of linguistic sexism in Afrikaans and its evolution over seven decades, reflecting possible societal changes. More specifically, the inquiry sought to investigate the presence of sexism in Afrikaans women's magazines from 1948 to 2020.
To achieve this, a corpus was constructed using 57 editions of the Afrikaans women's magazine, rooi rose. The data was then analysed by means of the #LancsBox corpus software tool.
Situated within the domain of language and gender, the study delved into the intricate interplay between linguistic and societal norms. We accept that there is a symbiotic and reciprocal relationship between language and the way humans experience the external world. This also applies to the relationship between a (specific) language and the way in which the concept of gender is embodied by speakers of the language. In particular, linguistic sexism, a subfield of the language and gender field, can be seen as the lens through which possible discrimination against women can be made visible.
Linguistic sexism manifests inter alia through lexical items of the following types: forms of address and titles; gendered nouns like skryfster ("female author") and sekretaresse ("female secretary"); the generic he and the frequency of co-occurrence of the pronouns hy ("he"), hom ("him") and sy ("his") with gender-neutral nouns like baba ("baby"), kind ("child") and mens ("humankind", "man").
The findings from the rooi rose corpus paint a nuanced picture. While the prevalence of mevrou outweighs that of mejuffrou, suggesting a lingering gender bias, the diminishing gap between their usage indicates a gradual shift. However, traditions like beauty competitions perpetuate linguistic sexism, with titles like Mejuffrou Persoonlikheid ("Miss Personality") and Mejuffrou Glimlag ("Miss Smile") reinforcing traditional gender norms. Me, the Afrikaans equivalent of "Ms", appears so infrequently in the corpus that its frequency is negligible.
The analysis of professional and personal names reveals a changing landscape, with certain terms evolving into gender-neutral descriptors, albeit with remnants of gender stereotypes persisting in certain contexts.
The generic use of masculine pronouns ("hy", "hom", "sy") when referring to gender-neutral nouns underscores linguistic bias. GraphColl (a function of #LancsBox) was used to ascertain how many times hy ("he"), hom ("him") and the possessive pronoun sy ("his") refer to mens ("person"), kind ("child" and baba ("baby") where the gender of these words is uncertain.
An example of such occurrences is the following:
Wie kan werklik begryp wat die kind dink en voel en glo daar waar hy in sy eie beto-werde wêreldjie verlöre raak? ("Who can really understand what the child thinks and feels and believes where he gets lost in his own enchanted little world?")
References to baba ("baby"), kind ("child") and mens ("person") in most cases show a clear preference for the male personal or possessive pronouns.
To conclude, while the linguistic landscape of Afrikaans women in rooi rose demonstrates strides towards inclusivity, traces of entrenched linguistic biases endure, illustrating the complex interplay between language and societal norms.

Keywords: language and gender, linguistic sexism, corpus, corpus linguistics, woman's magazine, rooi rose, address forms, gendered nouns, generic he


 

 

1. Inleiding

In Beeld van 7 Mei 2022 skryf Tanya van Wyk (professor in die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Pretoria):

( ... ) ek (het) al so baie keer gewonder oor hoekom die Afrikaanse taal, toe dit (nie hy nie!) vorm aangeneem het, by verstek die manlike persoonlike voornaamwoord as grammatikale verwysing na enige iets onder die son - eintlik die son ook - aangeneem het.

Van Wyk neem ook sterk standpunt in teenoor titels en aanspreekvorme wat vroue nog in 'n "Mevrou-boksie" indwing:

Vroue moet reeds verslag doen in soveel amptelike en nie-amptelike ruimtes oor hul keuses: Is jy getroud? Het jy kinders? Wat is jou nooiensvan? Ek word byvoorbeeld oral outomaties in die 'Mevrou-boksie' gedruk, al staan daar op al my dokumente professor of doktor of dominee. (Van Wyk, 2022)

Van Wyk raak in haar meningstuk 'n hele paar onderwerpe aan: algemene diskriminasie in 'n manlik-gedomineerde samelewing, die gebruik van die generiese hy en diskriminasie teen vroue wat titels en aanspreekvorme betref. Beide laasgenoemde aspekte kan beskou word as vorme van taalseksisme. Die vraag wat hierdie artikel onderlê, is: "Hoe lewendig is taaldiskriminasie nog in die Afrikaanse samelewing en in Afrikaans in die een-en-twintigste eeu?" Om 'n moontlike antwoord op hierdie vraag te kry, is 57 uitgawes van die tydskrif rooi rose as databron gebruik.

Ten aanvang word teoretiese aannames oor die verhouding tussen taal en denke en die breër vakgebied van taal en gender in 'n kort literatuuroorsig bespreek, waarna die werkswyse uiteengesit word. Die korpusdata word vervolgens aangebied en ontleed en ten slotte word antwoorde op die navorsingsvrae bespreek.

 

2. Oor taalseksisme, taal en samelewing

2.1 Taal en samelewing

Die moontlikheid bestaan dat taal enersyds die interaktiewe weerspieëling van 'n bepaalde kultuurgroep se norme kan wees, en andersyds 'n vormende invloed op die kultuur uitoefen juis omdat dit aan die werklikheid gestalte gee. (Beyleveld & Van Jaarsveld, 1991:3)

Beyleveld en Van Jaarsveld verwys hier na die bekende Sapir-Whorf-hipotese wat so opgesom kan word: "language shapes and reflects social reality" (Pauwels, 2003: 554). Na hierdie standpunt word ook verwys as linguistiese relatiwiteit. Die vraag onderliggend aan die hipotese is of 'n bepaalde taal wel 'n "beherende en beperkende effek op kognitiewe denke" het (Webb, 1989:133).

Beyleveld en Van Jaarsveld noem dat so 'n "ekstreem deterministiese weergawe van die Sapir-Whorf-hipotese grootliks in onguns verval het" (Beyleveld & Van Jaarsveld, 1991: 3). Daar word tans eerder gevra hoe taal ons denke (kan) beïnvloed.

Evans en Green (2006) ondersoek hierdie moontlikheid en bied stawende empiriese getuienis aan, wat aantoon dat taal wel konseptualisering vergemaklik (Evans & Green, 2006:98). Van Rooy (1995:34) se standpunt dat taal nie as 'n neutrale instrument vir die uitdruk van denke beskou word nie, maar as iets wat self deel het aan die totstandkoming van denkpatrone, sluit hierby aan.

In ons ondersoek aanvaar ons dat daar 'n simbiotiese en wederkerige verhouding is tussen taal en die manier waarop die mens sy of haar omwêreld ervaar. Taal en die samelewing waarin dit gebruik word, sluit ten nouste by mekaar aan. Dit geld ook die verhouding tussen 'n (spesifieke) taal en die manier waarop die konsep gender deur sprekers van die betrokke taal gestalte kry.

2.2 Taal en gender

Die ondersoek in hierdie artikel val in die vakgebied wat as taal en gender bekend staan. Soos wat die naam aandui, is die fokus op die verhouding tussen taal en gender, maar dit geskied teen die agtergrond van houdings, persepsies en gevoelens jeens taalnorme in 'n (taal) gemeenskap. Die verhouding tussen taal, gender en samelewing is nie altyd sonder spanning nie, soos wat hierdie kort oorsig aantoon. Vanweë omvangbeperkings gaan die konsep gender nie volledig bespreek word nie. 'n Paar verwysings moet volstaan.

Romaine (2001:4-5) maak die onderskeid tussen geslag en gender duidelik en sê sy is geïnteresseerd in die "socio-cultural dimension of the division of humans into male and female persons (i.e. gender)". Die onderskeid tussen gender en biologiese geslag word deur navorsers erken (vergelyk onder andere Eckert & McConnell-Ginet (2013:1), Lakoff (1973) en Tannen (1994)). Holmes en Meyerhoff (2003:11) wys daarop dat die meeste mense intuïtief saamstem oor wat genderkategorieë inhou, en dat hulle ook 'n algemene opvatting deel oor wat gender beteken.

Die WAT beskou gender, in die tweede betekenisonderskeiding by die lemma, as 'n identititeit wat deur die seksuele selfbeeld van mense bepaal word. Merriam-Webster gee 'n kort maar duidelike oorsig oor die ontwikkeling van die betekenis van gender (teenoor sex) en eindig die inskrywing met die volgende slotsin: "By the end of the century gender by itself was being used as a synonym of gender identity". Die definisies van gender wat as riglyne aanvaar word, erken dat genderrolle en -verwagtinge sosiale konstruksies is.

Robin Lakoff, in haar baanbrekerswerk Language and Woman's Place (1973), stel die konsep vrouetaal bekend en toon aan dat taalpatrone geslagsongelykheid in stand kan hou. Lakoff lig sekere kenmerke uit wat met vroue se spraak geassosieer word, soos verskansing (hedging) en einddeelvrae (tag questions).

Die konsep vrouetaal is al krities bekyk, veral deur Deborah Tannen. You Just Don t Understand: Women and Men in Conversation (1990), 'n blitsverkoper, vestig die aandag op genderverskille in gesprekke. In Gender and Discourse (1994) bekyk Tannen weer eens die manier waarop mans en vrouens kommunikeer. Sy ontleed gesprekke, tekste en diskoersprak-tyke en beklemtoon die komplekse verhouding tussen taal, gender en die samelewing. In die eerste hoofstuk, "The Relativity of Linguistic Strategies: Rethinking Power and Solidarity in Gender and Dominance", staan sy krities teenoor vorige navorsing. Haar betoog is dat elk van die linguistiese strategieë, soos onderbreking, of die stilmaak van vrouens in 'n gesprek, wat voorgehou word as die gevolg van manlike dominansie, ook solidariteit kan aantoon, byvoorbeeld.

In die een-en-twintigste eeu gebruik Hellinger en Bußmann (2003) nuwe maniere van kyk na die verhouding tussen taal en gender. Hulle ondersoek meer as dertig tale en merk op: "The general tendencies we have identified all center around one fundamental principle: masculine / male expressions (and practices) are the default choice for human reference in almost any context" (Hellinger & Bußmann, 2003:19). Met hierdie opmerking word die moontlikheid van taalseksisme voorsien.

In 'n poging om verskillende aspekte van die raakvlak tussen taal en gender te belig, onderskei Hellinger en Bußmann vier "taalgenders". Die kwessie van grammatikale gender (dit dui op die verskillende klasse waarin selfstandige naamwoorde, in tale soos Duits, Nederlands en Frans byvoorbeeld, ingedeel word as "manlik", "vroulik" of onsydig") kom eerste ter sprake. Afrikaans en Engels het nie meer so 'n klassisteem nie.

Oor leksikale gender sê hulle die volgende: "In any language, lexical gender is an important parameter in the structure of kinship terminologies, address terms, and a number of basic, i.e. frequently used personal nouns (Hellinger & Bußmann, 2003:8). Leksikale gender is die verskynsel dat woorde soos mother, sister en seun 'n spesifieke gender aandui en 'n gepaste voornaamwoord (she of he) word gebruik om na dié woorde te verwys. Hellinger en Bußmann wys verder op die kwessie van morfologiese gemerktheid by hierdie tipe items waardeur daar morfologies onderskeid getref word tussen manlike en vroulike referente met behulp van suffikse, soos in die Engelse widow (m) x teenoor widower (v) en steward (m) x stewardess (v). Hierdie soort suffikse kom ook algemeen in Afrikaans voor, soos in wewenaar en weduwee; lugwaard (nou verouderd) en lugwaardin. Daar is ook genderneutrale woorde soos citizen (burger) of patient (pasiënt).

Referensiële gender word aangetref in vaste uitdrukkings soos Mädchen für alles in Duits ('n handlanger, dienskneg) wat besliste neerhalende konnotasies het (Hellinger & Bußmann, 2003:8). In Afrikaans kry ons byvoorbeeld uitdrukkings soos dienende Martha en Hansie-my-kneg.

Sosiale gender is 'n kategorie wat verwys na die digotomie van manlike en vroulike rolle en eienskappe wat deur die samelewing opgelê word (Hellinger & Bußmann, 2003:10). Wat Engels betref, is Hellinger en Bußmann van mening dat 'n beroep met 'n hoë aansien (soos lawyer, surgeon, scientist) gepaardgaan met die voornaamwoord he en beroepe wat 'n laer status het, soos secretary, nurse, of schoolteacher, deur die anaforiese she gevolg word. Die tradisie skryf voor dat he ook gebruik word saam met neutrale benamings soos pedestrian, consumer en patient (Hellinger & Bußman, 2003:11).

Wanneer die verhouding tussen taal en gender dui op 'n ongelyke samelewing waar vroue as minderwaardig, onkundig, hulpeloos, afhanklik van mans vir hulle identiteit, ensovoorts, beskou word, kan 'n mens praat van taalseksisme.

2.3 Taalseksisme

'n Onderdeel van die linguistiese deelgebied taal en gender wat reeds goed nagevors is, is taalseksisme. Taal wat teen vroue diskrimineer en wat aktiwiteite wat met vroue verband hou, verkleineer en trivialiseer, word beskou as taalseksisme (Mills, 2008:1). Baie alledaagse taalverskynsels en -praktyke kan as seksisties beskou word. 'n Goeie voorbeeld in Afrikaans is titels en aanspreekvorme wat dui op die huwelikstatus van vroue (mejuffrou teenoor mevrou). Hierteenoor is die titel en aanspreekvorm vir mans (getroud of nie) slegs meneer. Diskriminasie (oftewel die tref van onderskeid) is duidelik hier.

In 1988 onderneem Julia Penelope 'n omvangryke studie waarin sy taalseksisme onder die loep neem. Penelope se navorsing fokus op hoe taal die geslagsongelykhede en stereotipes in die samelewing weerspieël en versterk. Sy ondersoek linguistiese kenmerke en kommuni-kasiepatrone wat met vroue se spraak geassosieer word, en daag die idee van "vrouetaal" as minderwaardig of gebrekkig uit. Haar werk ondersoek hoe taalkeuses deur samelewings-verwagtinge en magsdinamika beïnvloed word, en werp lig op die maniere waarop taal 'n instrument kan wees om geslagsnorme te versterk en uit te daag. Sy merk die volgende op:

The place of women in our society is reflected in the semantic space that we occupy, a small space that contains such labels as prostitute, housewife, mother, nurse and secretary. The remainder of the English semantic space, including those terms called "generics", belongs to the male sex. (Penelope, 1988:121)

As deel van haar motivering dat Engels inherent seksisties is, verwys Penelope na beroepsname. Sy argumenteer dat beroepe wat prestasie en aansien aandui, meestal na mans verwys omdat mans in die geskiedenis die sentrale figure was en tradisioneel die sogenaamde "hoëprofiel-poste" beklee het. Woorde soos: doctor, laywer, judge, chairman (wat volgens haar 'n "positiewe semantiese betekenis" dra) verwys gewoonlik na die manlike geslag en beroepe soos nurse, prostitute en housewife het 'n negatiewe semantiese beeld wat uitgedra word (Penelope, 1988: 120). Wanneer 'n vrou wel 'n pos met hoë aansien beklee, word daar 'n vroulike merker soos lady, female of woman by die woord gevoeg: lady doctor, female surgeon, woman laywer. Sy is van mening dat die sprekers van Engels verstaan dat enige term in sy "standaardvorm", sonder enige toevoegings, by verstek na mans verwys (Penelope, 1988:120).

Penelope spreek haar ook fel uit teen die generiese hy en ook die generiese man wat in Engels na mankind verwys. Sy reken dat die groot probleem met die generiese he en man te make het met die feit dat mense aan 'n man dink wanneer hulle die woord man hoor of skryf (Penelope, 1988:124). Sy argumenteer dat daadwerklike pogings aangewend moet word om vrouens ook "sigbaar" te maak deur ander woorde te kies, en deur byvoorbeeld pertinent terme en persoonsname aan hulle toe te ken:

Use of terms like chairwoman and spokeswoman are conscious choices and give us a social visibility in roles outside the home that we have never had, correctly asserting that women are not included in terms with masculine markers. (Penelope, 1988:124)

Van Rooy (1995:34) verwys na Valian (1981) wat stel dat die vermyding van seksistiese taalgedrag nie noodwendig die sosiale verskynsel van seksisme uit die weg sal ruim nie. Van Rooy bespreek spesifiek die generiese hy - 'n gewilde onderwerp wanneer taalseksime ondersoek word.

Beyleveld en Van Jaarsveld (1989:2) haal Adey, Orr en Swemmer (1989:226) se definisie aan:

Sexist language is language that conveys, through linguistic means such as use of the word 'mankind', 'he' as the generic pronoun, and condescending nomenclature to refer to women, stereotyped and biased views of the human race, and of the role of women in society.

Ook Hellinger en Bußman (2003) kyk na die generiese hy, beroepsname en aanspreekvorme as moontlike tekens van taalseksisme.

Uit bogenoemde en ander ondersoeke is dit duidelik dat taalseksisme die maklikste raakgesien word op leksikale vlak. Woorde wat onder die vergrootglas kom, is voornaamwoorde soos die generiese hy, aanspreekvorme en titels soos mejuffrou en mevrou, naamwoorde (die sogenaamde gendered nouns) wat 'n onderskeid tref tussen mans en vroue soos skrywer [+manlik?] x skryfster [+vroulik], akteur [+manlik?] x aktrise [+vroulik], onderwyseres [+vroulik] x onderwyser [+manlik?], ensovoorts; adjektiewe wat vroue beskryf, die moontlike oormatige of neerbuigende gebruik en voorkoms van verkleinwoorde in bepaalde kontekste waar dit oor vroue gaan en ook idiome, spreekwoorde, metafore en uitdrukkings wat gebruik word teenoor en oor vroue.

Ook in Afrikaans is hierdie verskynsel al ondersoek - dit vorm die onderwerp van die volgende afdeling.

2.4 Taaiseksisme in Afrikaans

In die negentigerjare van die vorige eeu is 'n hele paar studies oor taalseksisme in Afrikaans onderneem.

Snyman (1990:6) toon aan dat seksisme en stereotipering ten nouste verweefd is en haal Grobler (1983:35) aan: "(..) sexist language is language expressing stereotyped attitudes and expectations regarding both sexes". Snyman merk t.a.p. op dat mense op grond van linguistiese eienskappe gestereotipeer (kan) word. In haar verhandeling fokus sy op die uitbeelding van die vrou en veral op die rolle wat aan vroue toegeken word. Sy trag om aan te toon in watter mate die verskynsels van taalseksisme en seksistiese stereotipering in Afrikaanse taalonderrigmateriaal vir sprekers van ander tale voorkom, waardeur die skrywers van sulke kursusse hulle moontlik skuldig maak aan 'n "onbewuste seksistiese werkwyse" (Snyman, 1990:33). Voorbeelde soos vroumens en Evasgeslag word byvoorbeeld deur Snyman (1990:46) as disfemismes wat die vroulike geslag in 'n ongunstige lig voorstel, beskryf.

Beyleveld en van Jaarsveld (1991) bekyk die moontlikheid dat woordeboeke deur middel van eensydige leksikografie kan bydra tot stereotipiese roltoewysings. Ook seksistiese aannames word bespreek deur die lemmas onder M in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (Kritzinger & Labuschagne, 1982) en die Tweetalige Woordeboek / Bilingual Dictionary (Bosman, Van der Merwe & Hiemstra, 1984) te ondersoek. Hulle bevind dat "tradisioneel gevestigde vorme, gebruike en betekenisinhoude hardnekkig in woordeboeke (bly) voortleef' (Beyleveld & Van Jaarsveld, 1991: 4). Wanneer 'n woordeboek vrouens of mans op 'n bepaalde manier uitbeeld, kan dit as die norm van die taalgebruik van die dag gesien word wat ook die alledaagse taal van die sprekers en hulle houdings weerspieël.

Een van Beyleveld en Van Jaarsveld se gevolgtrekkings is dan ook dat daar - wat die beroepswereld spesifiek betref - "'n definitiewe neiging is om (+MANLiK)-vorme te gebruik om sowel die man as die vrou te benoem" (Beyleveld & Van Jaarsveld, 1991: 12). Hulle bevind voorts dat daar oorweldigend meer van manlike as van vroulike woorde in bogenoemde woordeboeke se voorbeeldsinne gebruik gemaak word.

Die studie van Beyleveld en Van Jaarsveld uit 1991 kan vandag gerepliseer word met nuwe uitgawes van die genoemde woordeboeke, want geen soortgelyke studie is weer gedoen nie.

In nog 'n gedateerde studie ondersoek Vorster (1992) taalseksisme en die vertaalpraktyk. Sy onderneem 'n empiriese studie na die siening en werkswyse van vertalers rakende taalseksisme. Haar studie, wat van 'n vraelys gebruik gemaak het, bring aan die lig dat die vertalers wel bewus is van taalseksisme en dat hulle die generiese hy-vorme problematies vind. Vorster is van mening dat vertalers (as deel van die akademici) net soos gewone taalgebruikers is - "(...) die produk van die tyd waarin hulle leef. Hulle eie taalgebruik is dus onderworpe aan die voorbeelde van die gemeenskap" (Vorster, 1992:2). Sy kom tot die gevolgtrekking dat die vertalers deeglik bewus is van die omstredenheid ten opsigte van taalseksisme, maar haar respondente verkies tog die generiese hy met as tweede opsie hy/sy. Vorster is van mening dat hierdie generiese terme hoofsaaklik vir stilistiese redes gebruik word, en selde werklik generies gebruik en geïnterpreteer word (Vorster, 1992:85).

Slabbert (1993) beskryf die diskoers van drie vrouetydskrifte, naamlik Die boerevrou (1919-1931), Die Huisgenoot (1932-1948) en Sarie (Marais) (1949-1989) met aandag aan ondere andere vrouetaalstereotipes, maar anders as in hierdie verhandeling is taalseksisme nie haar fokus nie. Sy kyk wel na "veranderlikes in wat 'n mens sou verwag om gevoelig vir die verloop van tyd te wees" (Slabbert, 1993: 257). In hierdie afdeling bespreek sy kortiks suffikse wat aandui dat die verwysing na 'n vrou is omdat sy gedink het hierdie suffikse sou afhanklik van tyd gewees het (Slabbert, 1993:310). Haar resultate toon egter aan dat dit nie die geval was nie. Wel interessant is 'n paar opmerkings oor suffikse, soos dat die suffiks -ster veral in die jare veertig gewild is (Slabbert, 1993:310). Sy tref die vorme draagster en kerkgangster net in hierdie tydperk aan en "kan nie nalaat" om ook die voorbeeld hoenderboerinne te gee nie (Slabbert, 1993:311).

Van Huyssteen (1996) ondersoek die (vulgêre) manier waarop daar na vrouens as seksuele objekte verwys word en waar die mans openlik as die sterker, meer dominante geslag voorgestel word deur die woorde wat gebruik word om seks en geslagsorgane (van beide geslagte) te beskryf. Sy artikel fokus egter nie op taalseksisme as sodanig nie.

Rachelle Vermaak (1997) wil bepaal in hoe 'n mate taalseksisme in die Afrikaanse leksikon voorkom. Sy kon geen literatuur oor seksisme teenoor mans vind nie (Vermaak, 1997:18). Sy is van mening dat seksisme slegs ter sprake is wanneer daar teen vroue gediskrimineer word. Sy verwys onder andere na sogenaamde "neerhalende" woorde wat onderskeidelik aan mans en vrouens toegeken word, maar volgens Vermaak kan dié neerhalende woorde vir mans soos "wolf', "rokjagter" en "suiplap" nie regtig as beledigend of negatief beskou word nie en dus kan sulke woorde nie werklik as taalseksisties2 gesien word nie.

Interessant genoeg kom Vermaak in haar samevatting tot die gevolgtrekking dat: "(A)fri-kaanse vroue nie so bewustelik ingestel is teenoor taalseksisme as die Amerikaanse 'women's libbers' nie" (Vermaak, 1997:16). Sy sê nog studies oor taalseksisme - veral in Afrikaans en die breër Afrikaanse gemeenskap - is nodig om die sprekers bewus te maak van diskriminerende of neerhalende taalgebruik wat wel in Afrikaans voorkom.

Ná die kortstondige hoogbloei van studies betreffende taalseksisme in die negentigerjare van die vorige eeu, is daar 'n lang stilte, wat eerstens deur Johanita Kirsten (2019) en later Natalie Thompson (2021) gebreek word.

Kirsten (2019) stel 'n Historiese Korpus van Afrikaans (HKA) saam wat die tydperk 1911 tot 2010 dek. In 'n afdeling in haar boek Written Afrikaans since Standardization: A Century of Change met die opskrif Decline in Sexism: Pronouns verwys Kirsten (2019:183) na Van Rooy (1996) asook na Carstens se Norme vir Afrikaans (1989), waar hy beweer dat hy (Carstens) gerieflikheidshalwe hy (as 'n genderneutrale woord) gebruik. Kirsten verwys ook (2019:184) na die afwesigheid van 'n genderneutrale voornaamwoord in Afrikaans, maar toon dan aan dat daar 'n betekenisvolle daling is in die gebruik van hy/hom gepaardgaande met die opkomende gebruik van sy/haar in sekere tekste in haar subkorpus, korpus #4, wat strek vanaf 1911-2010.

Thompson lewer 'n belangrike nuwe bydrae tot die studieveld van taalseksisme in Afrikaans in die derde dekade van die een-en-twintigste eeu. Sy gebruik ook die Historiese Korpus van Afrikaans, aan haar beskikbaar gestel deur Kirsten. In haar ondersoek kyk sy onder andere na hoe die frekwensie van vroulike selfstandige naamwoorde vergelyk met manlike selfstandige naamwoorde in die korpus. Sy kyk ook na kollokasies van vroulike selfstandige patrone wat algemeen in die korpus voorkom.

Die woordelys wat sy gebruik, is die manlike en vroulike eweknieë van die selfstandige naamwoorde wat sy uit 'n frekwensielys uit die HKA onttrek het. Sy kyk ook na woorde waarvan die geslag nie bekend is nie, soos byvoorbeeld persoon en baba. Ook woorde wat baie beroepspesifiek is en persoonsname wat 'n besliste onderskeid tussen die manlike en vroulike geslag tref, soos direktrise en direkteur; eienares en eienaar; heldin en held; kunstenares en kunstenaar word ondersoek (Thompson, 2021:73 en 74). Thompson wou vasstel of die frekwensie van die woorde deur die loop van tyd verander het en ook in hoe 'n mate dit verander het.

Haar gevolgtrekkings is dat daar 'n duidelike beweging na geslagsgelykheid in die HKA te bespeur is. Die frekwensie van vroulike naamwoorde neem duidelik af vanaf 1911 tot 2021, terwyl (voorheen) manlike selfstandige naamwoorde toenemend gebruik word om na vroue te verwys. Die statisties beduidendste kollokasies waar die vroulike woorde gemerk is vir gender, toon aan dat manlike selfstandige naamwoorde voorrang geniet bo vroulike selfstandige naamwoorde. Konkordansiereëls dui ongelyke linguistiese gebruikspatrone betreffende vroue aan omdat vroue dikwels pejoratief beskryf word met ongunstige adjektiwiese kollokasies. Thompson (2021: 125) bevind dat adjektiewe die leksikale items is wat betekenisvol saam met vroulike selfstandige naamwoorde voorkom, soos byvoorbeeld oud, wat vroue se ouderdom of jeugdigheid beklemtoon. Die adjektiewe het dikwels negatiewe konnotasies en verwys na vroue se liggame, voorkoms, seksualiteit en manlike beheer oor vroue.

Die data-ontleding wat volg, kon wat kontekstualisering betref, staatmaak op voorafgaande werk betreffende vroue en gender.

 

3. Probleem- en doelstelling

Voortspruitend uit die literatuuroorsig wat onderneem is, word die navorsingsprobleem as volg geformuleer: die meeste studies oor taalseksisme in Afrikaans is gedateerd en geen studie oor taalseksisme in tydskrifte is al onderneem nie. Hierdie stand van sake het verander met die onderhawige ondersoek.

Die doel van die navorsing was om te bepaal óf, en indien wel hóé, taalseksisme oor die loop van sewentig jaar in rooi rose voorkom en of die voorkoms verander het saam met 'n veranderende en veranderde samelewing.

 

4. Navorsingsvrae

Die navorsing waarvan hier verslag gedoen word, het gepoog om twee hoofvrae te beantwoord:

(1) Is daar tekens van taalseksisme in rooi rose soos waargeneem kan word oor die loop van 70 jaar?

Hierdie vraag kan verdeel word in twee subvrae, naamlik:

(1.1) Wat is taalseksisme?

(1.2) Hoe lyk taalseksisme (indien dit wel voorkom) in rooi rose 1948-2020?

Gebaseer op die antwoorde op die eerste vraag lui die tweede navorsingsvraag so:

(2) Het die linguistiese landskap van die Afrikaanse vrou soos te siene in rooi rose van 1948-2020 verander?

Die subvraag wat uit die tweede vraag spruit, is die volgende:

(2.1) Indien die taallandskap verander het, hoe het dit verander?

 

5. Werkwyse

Die studie is 'n korpuslinguistiese ondersoek, waar korpus verstaan moet word as 'n versameling tekste wat elektronies gelees, gestoor en ondersoek kan word.

5.1 Die korpus: rooi rose

'n Doelgemaakte korpus is gebou uit 57 uitgawes van die Afrikaanse vrouetydskrif, rooi rose, vanaf 1948 tot 2020. Die rooi rose het die eerste keer in April 1948 verskyn as 'n tydskrif vir die Afrikaanse vrou. Volgens die webblad van die uitgewershuis, Caxton, is rooi rose the classic all-in-one glossy magazine for aspirational, stylish Afrikaans women who celebrate their uniqueness. These women know what they want, including the best in fashion and beauty, health, entertaining and décor, all from their favourite [magazine]. https://www.caxtonmags.co.za/rooi-rose)3

Caxton beskryf die tipiese rooi rose-lesers (in 2020) soos volg:

They are internet savvy with a keen interest in social media and their main interests include cooking and baking, home and décor and fashion and beauty.

More than half of the rooi rose audience are bond-free homeowners who enjoy buying items for the home and renovating their home. Most of the audience have gardens and patios, with 30% having a swimming pool as well. They enjoy working in their gardens and 68% of the audience owns a pet.

Of the rooi rose audience, 56% entertain at home at least once a month, while 66% eat out monthly.

Volgens hierdie beskrywing kan rooi rose, anders as byvoorbeeld Huisgenoot, as nie-genderneutraal (oftewel as "gendered") beskou word; dit is immers 'n tydskrif vir vroue en die teikenlesers is vroue, met spesifieke belangstellings.

5.1.1 Die skep van 'n doelgemaakte korpus

Soos hier bo genoem, is 'n doelgemaakte korpus (dit wil sê 'n korpus wat met 'n sekere doel voor oë gemaak of gebruik word) met behulp van die digitiseringseenheid van UP4 saamgestel. Die papieruitgawes is geskandeer en toe met optiese karakterherkenningsagteware (Optical Character Recognition) verder verwerk. Elke uitgawe wat in die korpus opgeneem is, is daarna in 'n aparte .txt-lêer gestoor en al die lêers is later tot een groot korpus saamgevoeg. Van die latere rooi rose-uitgawes wat reeds in elektroniese formaat beskikbaar was, is slegs deur die optiese karakterherkenningsproses verwerk. Die korpus is nie verder skoongemaak nie, wat beteken het dat daar noodwendig digitale geraas in die korpus was. Dit het egter nie tot wesenlike probleme by die ontleding van die data aanleiding gegee nie.

Prinsloo, Taljard en Goosen (2022) gee 'n uitstekende uitleg van die skoonmaakproses by korpora en daar word spesiale aandag gewy aan die verskillende vlakke van foutloosheid ("cleanness") wat vir korpusanalise nodig is.

Die aanvanklike plan was om 70 eksemplare - een uitgawe per jaar vanaf 1948 - 2018 - uit die totale aantal rooi rose-uitgawes wat deur Caxton-uitgewers geskenk is nadat die publikasie van die rooi rose in 2020 gestaak is, te digitiseer. As gevolg van allerlei probleme tydens die COVID-19-inperking (die kampus van die Universiteit van Pretoria is byvoorbeeld gesluit), kon daar nie betyds vir die afhandeling van die navorsing eksemplare vir elk van die 70 jaar gevind en gedigitiseer word nie.

Vir die veertigerjare was Maart en Junie se uitgawes van 1949 beskikbaar; vir die vyftigerjare die uitgawes van Junie 1950, Januarie 1951, Januarie 1952, Februarie 1953, Julie 1958 Januarie 1959, Julie 1959 en November 1959; vir die sestigerjare was daar slegs een uitgawe beskikbaar: Oktober 1968. Hierdie drie tydperke is saamgevoeg in een korpus (1948 tot 1968) aangesien die twee beskikbare uitgawes van die veertigerjare en die een uitgawe van die sestigerjare se data net té min was vir 'n vergelyking tussen tydperke.

Vanaf die sewentigerjare is daar meer uitgawes gedigitiseer. Die uitgawes van Oktober 1970, April 1971, September 1973, Januarie 1974, April 1975, Desember1975, Januarie 1976, Augustus 1978, Oktober 1978 en Desember1978 was beskikbaar.

Vir die tagtigerjare was die volgende uitgawes beskikbaar: Junie 1981, 1 Junie 1983, 15 Junie 1983, 29 Junie 1983, Junie 1985, Junie 1987 en Junie 1989.

Vir die negentigerjare was die volgende uitgawes beskikbaar: Junie 1990, 2 Junie 1993, 30 Junie 1993, 1 Junie 1994, 29 Junie 1994, Junie 1995 12 Junie 1996, 26 Junie 1996, Junie1997, Junie1999.

Vir die 2000's was die volgende uitgawes beskikbaar: 2000, 2001, 2003, 2006, 2007, 2008, 2009. Dit was die Junieuitgawe van elke jaar.

Vir die 2010's was die volgende uitgawes beskikbaar: elke jaar se Junieuitgawe van 2010 tot 2020. Hierdie subkorpus is die mees volledige een.

Die doelgemaakte rooi rose-korpus is in kleiner korpusse, wat tydperke van min of meer tien jaar elk dek, verdeel. Die doel van die subkorpusse is om taalverandering (indien daar wel taalverandering is) maklik op te kan spoor. Sommige van die korpusse is kleiner as ander. Tabel 1 bied korpusinligting aan.

 

 

5.2 Dataonttrekking uit die korpus

Vir dataonttrekking is die sagtewareprogram #LancsBox (Lancaster University Corpus Toolbox) gebruik (Brezina et al. 2020). #LancsBox is ontwikkel deur die Universiteit van Lancaster. Dit is gebruikersvriendelik en gratis. As eerste stap is frekwensielyste opgestel vir die hele korpus asook vir elke subkorpus apart om 'n kwantitatiewe vergelyking tussen die subkorpusse te kan tref. 'n Lys soekwoorde is opgestel wat met behulp van die soekwoorde-in-konteks-(SWIK)-funksie kwalitatief ontleed is.

 

6. Data-aanbieding en -ontleding

Leksikale items wat taalseksisme kan aandui, is in die korpus gesoek en ontleed. Die keuse van bepaalde soekwoorde word in die volgende afdelings gemotiveer.

6.1 Aanspreekvorme en titels

Aanspreekvorme en titels7 is van die woorde wat taalseksisme sou kon aandui. Dit is al in verskillende tale ondersoek, relatief onlangs byvoorbeeld deur Hellinger en Bußmann (2003). Die rooi rose-deelkorpusse is apart ondersoek om vas te stel of daar verandering oor die loop van ongeveer 70 jaar ingetree het wat die gebruik van meneer /mnr., mevrou /mev. en mejuffrou/ mej.8 betref. Die vorm me, gemunt na aanleiding van die Engelse ms, bestaan nog nie lank in Afrikaans nie, maar ons wou ook vasstel of die gebruik van mej. en mev. afgeneem het het ten gunste van me wat na beide getroude en ongetroude vrouens verwys. Tabel 2 dui die gebruiksfrekwensie van meneer, mevrou, mejuffrou (en afkortings) en me in die hele korpus aan.

 

 

Die oënskynlike hoë voorkoms van me in die korpus is die gevolg van die feit dat die korpus nie handmatig skoongemaak is nie. Nadere ondersoek het aangetoon dat me 264 keer gebruik is as die Engelse voornaamwoord me (my in Afrikaans) en as Afrikaanse titel slegs drie keer - die eerste keer in Junie 2010. Die drie voorbeelde is:

1. Die volgende 3 lesers wen elk 'n kopie van Frans van Rensburg se Lammervanger 1 Me Elsa den Haan, Monte Vista 2 E. van Jaarsveld, Pofadder 3 Trynet Bezuidenhout, Johannesburg

2. Op 22 Maart, Wêreldwaterdag, het me. Edna Molewa, die minister van waterwese, nuwe maatreëls aangekondig om die groeiende probleem van suur mynwater te takel.

3. In dieselfde uitgawe skryf Nataniël (wat as "sanger en koskenner" beskryf word): "Me. De Villiers neem jou by die hand en lei jou van voedselgroepe na die liggaam se daaglikse behoeftes na die meganisme van 'n spyskaart na die beloftes van die seisoene."

Uit Tabel 2 is dit duidelik dat mevrou / mev. en mejuffrou / mej. amper dubbeld soveel keer as meneer / mnr. voorkom, iets wat te verwagte is in 'n vrouetydskrif. Die onderskeid tussen mevrou en mejuffrou word tot Junie 2020 (die datum van die laaste uitgawe wat gedigitiseer is) gehandhaaf. Dit blyk ook uit die data dat mevrou deur al die tydperke heen die frekwentste voorkom. Sedert die 2000's het die gaping tussen die gebruik van mevrou en mejuffou begin krimp en in die dekade van 2010 tot 2020, is die gebruik van die twee aanspreekvorme byna gelyk. Dit is wel opvallend dat mejuffrou nog voorkom.

Hier volg 'n uittreksel uit die korpus.

4. Ek het met die sentrale gepraat, met wie ek heelmiddag gesukkel het. Meneer, mevrou of mejuffrou sou nog vertragings veroorsaak het. Al wat ek wou hê, was Rautenbach, Brandfort, Oranje Vrystaat (sic), Suid-Afrika. Dit alleen was al ingewikkeld genoeg vir die skakelbord.

In Tabel 3 word die relatiewe frekwensies van mevrou, mejuffrou en me in die ses deelkorpusse aangetoon.

 

 

Die dalende neiging in die relatiewe frekwensies van mevrou en mejuffrou en die opkoms van me is 'n aanduiding van verandering in rooi rose. In SWIK-reëls is dit opvallend dat 68 van die gebruike van Mejuffrou te make het met skoonheidskompetisies. Voorbeelde hiervan is onder andere: Mejuffrou Heelal, Mejuffrou Suid-Afrika, Mejuffrou Persoonlikheid en Mejuffrou Glimlag. Die gebruik van mejuffrou in hierdie verband is bykans 16%. Dit blyk dat skoonheidskompetisies 'n belangrike onderwerp tot en met die 2010's in rooi rose is. Die manier waarop daar na wenners van die kompetisies as mejuffrou verwys word, val in 'n aparte kategorie wat nie as sodanig deur ons ondersoek is nie. Dit gee wel 'n aanduiding van die belangstellings van die lesers van die tydskrif en van kulturele tradisies.

Die volgende konkordansie toon die voorskrifte van 'n skrywer aan:

5. Van woordjie "meneer"" gepraat: Mens stel jouself ook nooit as mnr. voor nie: "Ek is mnr. Hannes Theron." Tensy 'n man ten minste twee keer so oud as die persoon is met wie hy praat, gebruik hy nie die term "meneer" nie. "Ek is De Klerk" of "Ek is Hannes Theron." Dit is vir mans toelaatbaar om mekaar op die van aan te spreek, maar dis 'n laakbare gewoonte onder dames. Noem haar op haar naam as daar 'n mate van familiariteit bestaan, anders moet sy aangespreek word as "mejuffrou." [Subkorpus 2010 - 2020]

Die rede vir die daling in die gebruik van mejuffrou in die laaste dekade (2010-2020) sal nader ondersoek kan word deur al die uitgawes van rooi rose in hierdie tydperk te deursoek. Dit sal ook interessant wees om hierdie tendens in ander tydskrifte, soos Huisgenoot, na te speur.

6.2 Persoonsname en beroepe

Twintig beroeps- en persoonsname waar daar 'n manlike en vroulike vorm voorkom, is uit die frekwensielys geïdentifiseer. In Tabel 4 word die relatiewe frekwensies van die voorkoms van hierdie woorde gegee.

 

 

Uit Tabel 4 is dit duidelik dat daar nie 'n patroon van opvallende verandering by die meeste van hierdie woorde van 1948 tot 2020 is nie. 'n Paar interessante gevalle word vervolgens kortliks bespreek.

Die opvallendste item in die lys is boerin, wat net een keer voorkom in die subkorpus van die jare negentig. Boer kom die meeste voor. Uit die onderstaande uittreksel wat handel oor die rolle en verhoudings tussen man en vrou blyk dit dat die bekende uitdrukking 'n boer maak 'n plan verander is om ook vrouens te betrek.

6. Kinders grootmaak en kos kook mag nie as verskoning vir goeie tydsbenutting en onafhanklike ontwikkeling as mens gebruik word nie. 'n Boer maak 'n plan. 'n Boerin kan ook, stel 'n vroulike huweliksraadgewer voor.

Die frekwensie van skryfster is nooit baie hoog nie en dit neem duidelik af. Skrywer word deurgaans baie gebruik, maar eers vanaf die jare 80 vir beide manlike en vroulike referente, soos wat Tabel 5 aantoon:

 

 

Sekretaresse en sekretaris geld as een van die uitsonderings in die lys. Dit is duidelik dat die manlike vorm teen die 2000's heeltemal verdwyn het terwyl die gebruik van sekretaresse toegeneem het. Dit is wel 'n ander tendens as wat waargeneem is by die ander vroulike vorme wat opgesoek is. Een moontlike, maar slegs gedeeltelike, verklaring is dat die sekretaresseberoep met take soos "algemene klerklike en administratiewe werk soos telefoonbeantwoording, woordverwerking, liassering en die reël van afsprake vir 'n individu" (WAT) tradisioneel deur vrouens beklee is, terwyl "Iem. wat agendas en notules v.d. vergaderings van 'n maatskappy, klub, vereniging, komitee, of dergelike opstel, verslae hou en wat korrespondensie en algemene reëlings m.b.t. die werksaamhede van so 'n liggaam hanteer" (WAT) dikwels, maar nie uitsluitlik nie, ook 'n manlike persoon is of kan wees. Die voorbeeldsinne in die WAT by sekretaris2illustreer dit so: Dit is seker nie oordrewe nie om te beweer dat die sekretaris die spil is waarom die hele verenigingslewe draai (P.J. v.Z. Hattingh: Prosedure,6 1969, 68). Op die foto is v.l.n.r. mej. J.E., sekretaris van die W.P.-Rugby-unie; mnr. J.F.M. ... en prof. P.J.C. (Burg., 12 Aug. 1983, 11 --- byskr.).

Tog blyk dit uit die SWIK-reëls dat die gebruik van sekretaris in die rooi rose-korpus slegs in verband met mans gebruik is, hetsy dit 'n amp is wat beklee word, of selfs 'n minder prominente rol wat vervul word. In 21/21 van die voorkomste van die woord sekretaris word na mans verwys. Twee voorbeelde word as illustrasie aangehaal.

7. Haar loopbaan in die regte is onregstreeks die gevolg van die feit dat haar pa, aan almal bekend as Toon van den Heever, 'n regsgeleerde was. In sy loopbaan was hy onder meer prokureur-generaal, Sekretaris van Justisie en appél-regter. Hy was natuurlik ook 'n digter van naam.

8. Bolger staan op en stap deur toe. Hy wend hom tot Hagmud se sekretaris. "Ek neem dié lys voorlopig saam met my." Die man se oë rek.

Verpleër kom nie in die korpus voor nie, moontlik omdat dit 'n beroep is wat tradisioneel deur vroue beklee is. Vergelyk die voorbeeld waar 'n aantal beroepe gelys word, met manlike vorme as voorkeur, maar waar die verpleegberoep duidelik apart 'n beroep vir vroue is (en rooi rose fokus op die vrou).

9. Hieruit vloei voort die behoefte waarin voorsien kan word wanneer julle 'n sekere beroepskeuse doen. Wat is daardie beroepskeuse? Dit kan een van die volgende wees: predikant, onderwyser, verpleegster, geneesheer ...

Die gebruik van leseres(se) is opvallend. Die gebruik van dié woord, waarmee die teikenmark van rooi rose aangedui word, het begin afneem in die jare 80 en 90 en teen die draai van die eeu kom dit nie meer voor nie. In die enkelvoud het leser verreweg die hoogste frekwensie met 144 trefslae, terwyl leseres slegs 47 keer in die hele korpus voorkom.

Die frekwensies van heldin en held bly meestal onveranderd. Held het tydens elke tydperk die hoogste frekwensie, behalwe in die 90's. 'n Tipiese voorbeeld uit die jare 70 is die volgende:

10. April is die tyd om aan verlowings en huwelike te dink en as jou held nog nie sy opwagting gemaak het nie, is die herfs die aangewese tyd om te flankeer.

In die 90's kom heldin 27 keer voor en held 24 keer - dit is die enigste tydperk waar heldin meer frekwent as held voorkom:

11. 'n Spanningsverhaal is maklik om te skryf. Begin op 'n dramatiese, spannende noot en handhaaf dit van bladsy tot bladsy. Jy sorg net dat opwindende dinge met die held en heldin gebeur.

In die 2000's kom heldin maar twee keer voor.

Die gebruik van die vroulike vorm blyk nodig te wees omdat die konteks (liefdes- of speurromans) dikwels sowel die held as die heldin as mekaar se teëhangers veronderstel:

12. Anders as in haar boeke, wat deurspek is van glans, sukses, liefdevolle gesinne, mans wat die grond aanbid waarop die heldinne loop, het hierdie heldin se lewe nie altyd soos 'n sprokie verloop nie.

Die gebruik van eggenote en eggenoot bly redelik konstant in elke tydperk, met eggenoot wat meer voorkom as eggenote, ten spyte van die feit dat eggenote óf die meervoud van eggenoot óf die vroulike vorm kan wees. Hier is die moontlike verklaring dat die huwelik dikwels 'n onderwerp in rooi rose is. Dat beide woorde soms ter wille van die konteks gebruik word, word in die volgende voorbeeld geïllustreer:

13. Enkele lede van die "Oklahoma!"-geselskap, wat reeds die huwelikstaat betree het, het besluit om hul eggenote en eggenotes dadelik hierheen te laat kom. Die eensaamheid word glo te erg (veral vir die pasgetroudes!)... en teen die tyd wat hierdie woorde verskyn, sal die gelukkige paartjies weer tesame wees.

Die ondersoek na die moontlike verandering en selfs totale verdwyning van vroulike vorme toon aan dat hier wel sprake is van 'n patroon van verandering in die rigting van een vorm vir beide geslagte of genders.

6.3 Die generiese hy

Die generiese hy is 'n voornaamwoord wat taalseksisme kan aandui, soos bespreek in afdeling 2.3. Die data wat verder aangebied word, toon dat die generiese hy (waarby ook hom en sy ingesluit word) voorkom wanneer daar na 'n persoon waarvan die geslag of gender nie bekend is nie, verwys word. Die volgende naamwoorde wat gender- of geslagsneutraal is, naamlik mens, kind en baba is in die volledige rooi rose-korpus gesoek en die GraphColl (Graphical Collocations tool)-funksie van #LancsBox is gebruik om te kyk hoeveel keer hy asook die besitlike voornaamwoord sy na mens, kind en baba verwys. Daar moes handmatig deur die voorkomste van hy en veral sy gewerk word om seker te maak dat dit wel voorbeelde is van die generiese hy. Eerstens is die absolute frekwensies van hulle voorkoms in die korpus vasgestel soos geïllustreer in Tabel 6. Tweedens is die GraphColl (graphical collocations tool)-funksie van #LancsBox gebruik om te kyk hoeveel keer hy en die besitlike voornaamwoord sy na mens, kind en baba verwys waar die gender van hierdie woorde onseker is. 'n Voorbeeld van sulke voorkomste is die volgende:

 

 

14. Wie kan werklik begryp wat die kind dink en voel en glo daar waar hy in sy eie betowerde wêreldjie verlore raak?

Tabel 6 gee 'n aanduiding van die frekwensies waarmee onderskeidelik hy/sy anafories na kind en baba verwys.

In Afrikaans word mens gebruik om na manlike of vroulike referente of beide te verwys. Die kollokasie tussen mens en sy is sterk, maar dit het daarmee te make dat sy ook die manlike besitlike voornaamwoord kan wees.

In die volgende voorbeeld, die enigste in die korpus, word sowel die manlike as die vroulike besitlike voornaamwoorde gebruik:

15. ETIKET VIR ELKE GELEENTHEID is die volledigste boek in Afrikaans oor die wellewendheidsreëls en voorsien in 'n dringende behoefte - nie net vir diegene wat op die hoogste sosiale vlak verkeer nie, maar vir elke mens, ongeag sy of haar plek in die samelewing.

Mens en hy

Die woord mens kom 3 678 keer in die korpus voor en 177 keer word hy gebruik as verwysing. In die korpus word die vroulike persoonlike voornaamwoord sy nooit saam met mens gebruik nie. Die onderstaande uittreksel illustreer die generiese hy goed:

16. Dit gaan meermale so druk met die mens dat hy fisies en psigies te moeg raak om te dink. Somtyds breek iets of gee in wat jou dan in 'n tyd van verpligte afsondering dompel, wegvoer. Gou-gou pas die wêreld hom aan en gaan sonder jou voort.

In die volgende voorbeeld is daar 'n inkonsekwente gebruik van die manlike persoonlike voornaamwoord saam met mens:

17. Maar Karolien Brink huil nie. Haar gesig is net strak en moeg as sy onder die wolke inry en die weerlig daar in die verte op die heuwels sien speel. Sy ry sonder haas, soos 'n mens wat nie weet waarheen hy eintlik op pad is nie.

Kind en sy

Kind kom 436 uit 2610 keer saam met sy (as die manlike besitlike voornaamwoord) voor. Waar die geslag van kind onbekend is, word sy 63 uit 67 keer gebruik. Slegs in 2 gevalle word sy/haar saam met kind gebruik. Voorbeelde uit die korpus:

18. Die lewe is altyd kosbaar, al weet 'n kind nie eens wie sy regte ouers is nie.

19. Volgens navorsers blyk dit dat die psigopaat as kind, se gedrag nooit deur sy ouers as belangrik beskou is nie.

Kind en hy

Kind en hy kom 221 uit 2610 trefslae as kollokasies voor. Die generiese hy is te sien in 50 voorbeelde en in 4 voorbeelde word sowel hy as sy gebruik om na 'n kind te verwys, soos in die volgende voorbeeld:

20. So 'n kind kan glo dat hy of sy onaanvaarbaar is en kan 'n lewenslange gevoel van leegheid ervaar.

Ook in die geval van kind is daar dus nog 'n duidelike vookeur vir hy as anaforiese verwysing.

Baba en sy

Graphcoll toon 'n sterk kollokasie tussen baba en sy aan (96 /1057 keer), maar in die meerderheid van die gevalle verwys sy na die ma van die baba. Uit die 11 gevalle waar die geslag onbekend is, word sy as manlike besitsvorm gebruik, soos in hierdie voorbeeld:

21. Onthou, vir die opgroeiende baba is sy moeder die spil waarom alles draai. By elke nuwe situasie wat opdoem, sal hy reageer soos hy sien sy moeder reageer.

Baba en hy

Baba en hy kom 57/1057 keer saam voor. Daar word min na babas van wie die geslag onbekend is, verwys, slegs 6 keer. In al 6 die gevalle het baba 'n sterk kollokasie met hy.

Die onderstaande figuur dui aan hoe kollokasies op #Lancsbox aangedui word deur middel van die GraphColl-funksie. Hoe donkerder die grys kol, en hoe nader die woord aan die soekwoord voorkom, hoe meer frekwent skakel dié woorde met mekaar. Volgens die figuur is dit duidelik dat hy een van die meer frekwente skakelings met baba is, aangesien die grys kol donkerder is as die ander en die woord staan ook nader aan die soekwoord as die ander woorde.

 

 

Wat afgelei kan word uit die kollokasies in die korpus, is dat verwysings na baba, kind en mens in die meeste gevalle 'n voorkeur vir die manlike persoonlike of besitlike voornaam-woorde aantoon. Dit mag wees dat hierdie gebruik op 'n behoefte aan 'n neutrale, ongemerkte vorm dui (miskien soortgelyk aan die voorstel dat hulle liefs gebruik moet word wanneer 'n bepaalde gender nie geïdentifiseer kan / wil word nie). Die frekwensie van hy in die korpus toon sekere tekens van taalseksisme in die korpus en dus ook in die samelewing aan.

 

7. Gevolgtrekking en samevatting

Die data in die rooi rose-korpus wat hier aangebied is, gee nie 'n eenvoudige antwoord op die vraag of daar taalseksisme voorkom en of die taallandskap van die vrou verander het vanaf 1948 tot 2020 nie. Daar is duidelike verandering waar te neem by sommige persoons- en beroepsname. Woorde soos skrywer en redakteur het in 2020 algemene, neutrale woorde geword wat vir beide mans en vrouens gebruik word. Daar is ook voorbeelde waar die manlike vorm uit die korpus verdwyn het, soos wat die geval is met sekretaresse en sekretaris - maar hierdie voorbeeld toon ook aan dat dié spesifieke rol nog met vroue verbind word. 'n Ander voorbeeld is die gebruik van skryfster en skrywer wat in só 'n mate verander het dat skryfster in die 2010's slegs vier keer voorkom in die deelkorpus. Dit blyk eerder die uitsondering as die reël te wees. Dit wil voorkom asof skrywer nou amptelik die gekose woord is en dat die onderskeid tussen die manlike en vroulike vorme nou oorbodig is.

Bogenoemde taning (en later verdwyning) van die vroulike vorm is ook te sien by redakteur en redaktrise. In die 2000's is redakteur die gekose woord vir beide mans en vrouens en in die 2010's, het redaktrise heeltemal in onbruik verval en word slegs redakteur gebruik. Heel moontlik is daar finaal besluit om die tendens van die wêreld aan te hang deur net een term vir die beroep te gebruik - ongeag die gender.

Aan die ander kant het sommige woorde - selfs ná die vrouebevrydingsbeweging en die daadwerklike pogings wat aangewend is om verandering teweeg te bring, nog nie verander nie en word daar steeds onderskeid getref tussen twee geslagte en / of tradisionele rolle vir vroue en mans. Op die vraag of die vergelykbare voorkoms van vriend en vriendin in die korpus op taalseksisme en 'n samelewing wat diskrimineer tussen mans en vrouens dui, is ons antwoord: nie noodwendig nie, omdat die onderskeie woorde verwarring kan voorkom in sekere kontekste.

22. Shaun se beste vriend en haar beste vriendin het hulle aan mekaar voorgestel. Toe hy haar 'n ruk later kontak, was sy gelukkig sonder enige verbintenis en weer in voeling met haarself.

'n Laaste opmerking betref die feit dat nie alle selfstandige naamwoorde wat mense as referente het, 'n manlike en vroulike vorm het nie, soos student, leerder en tiener.

Die Engelse aanspreekvorm en titel ms het ook in Afrikaans 'n ekwivalent naamlik me wat dien as die aanspreekvorm of titel van enige vrou - ongeag haar huwelikstatus. Maar dit blyk dat daar - ten minste in die rooi rose-korpus - nie dieselfde verandering in Afrikaans as in Engels was nie. Selfs in 2020 blyk dit dat daar steeds 'n duidelike onderskeid tussen mevrou en mejuffrou is en me kom só min in die korpus voor, dat die frekwensie negeerbaar is.

Uit die bostaande data is dit duidelik dat die linguistiese landskap van die Afrikaanse vrou in die 21ste eeu in sekere opsigte vernuwe het en saam met die tyd beweeg het en in ander opsigte is dit steeds behoudend - met spore van taalseksisme wat nog waarneembaar is.

 

8. Slotopmerking

Die linguistiese landskap van die Afrikaanse vrou, soos uitgebeeld in die rooi rose, is in die derde dekade van die een-en-twingste eeu interessant om waar te neem, want die soeke na taalseksisme het uiteenlopende data opgelewer.

Die antwoord op die vraag oor taalseksisme en hoe dit in Afrikaans daar uitsien, is nie so eenvoudig nie. Wat sekere aspekte betref, blyk dit dat Afrikaans en haar sprekers wel begin aanbeweeg na die meer moderne tendense van tale in die wêreld, maar wat ander betref, blyk dit dat taalseksisme net té diepgewortel is om binnekort, indien ooit, te verander. Dit wil dus voorkom of Afrikaans aan die een kant progressief is en saam met wêreldtendense beweeg, maar aan die ander kant is Afrikaans ook tradisioneel en behoudend. Wat sommige woorde en aanspreekvorme betref, lyk dit asof daar deur die loop van byna 80 jaar nie werklik enige verandering plaasgevind het nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Beyleveld, AA & van Jaarsveld GJ. 1991. Taalseksisme as 'n vorm van eensydige leksikografie. Departement Afrikaans en Nederlands. Universiteit van die Oranje-Vrystaat.         [ Links ]

Bosman, DB, Van der Merwe, IW & Hiemstra, LW. 1984. Tweetalige Woordeboek/Bilingual Dictionary. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Brezina,V Weill-Tessier, P & McEnery, A. 2020. #LancsBox v. 5.x. [software]. Beskikbaar by http://corpora.lancs.ac.uk/lancsbox        [ Links ]

Carstens, Wannie. 1989. Norme vir Afrikaans: Moderne Standaardafrikaans 6de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Caxton Magazine. Rooi rose. https://www.caxtonmags.co.za/rooi-roseX 20 April 2021.         [ Links ]

Eckert, P & McConnell, S. 2013. Language and Gender. Cambridge : Cambridge University Press.         [ Links ]

Evans, V & Green, M. 2006. Cognitive linguistics: An introduction. Edinburgh: Edinburgh University Press.         [ Links ]

Hellinger, M & Bußmann, H. 2003. Gender across languages. Volume 3: The linguistic representation of women and men. Amsterdam: John Benjamins Publishing Company.         [ Links ]

Holmes, J & Meyerhoff, M. (eds). 2003. The Handbook of Language and Gender. Blackwell Publishing.         [ Links ]

Kirsten, J. 2019. Written Afrikaans since Standardization: A Century of Change. Lanham, MD: Lexington Books.         [ Links ]

Kritzinger, MSB & Labuschagne, FJ. 1982. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Lakoff, R. 1973. Language and Woman's Place. Language in Society, (2):45-80.         [ Links ]

Merriam Webster Online Dictionary and Thesaurus. https://www.merriam-webster.com/dictionary/gender.         [ Links ]

Mills, S. 2008. Language and sexism. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Pauwels, A. 2003. Linguistic Sexism and Feminist Linguistic Activism. In Holmes, J & Meyerhoff, M. (eds). 2003. The Handbook of Language and Gender. Blackwell Publishing, pp. 550-759.         [ Links ]

Penelope, J. 1988. Prescribed Passivity: The Language of Sexism. A Feminist Ethic for Social Science Research. The Nebraska Sociological Feminist Collective. Queenston: Edwin Mellen, pp. 119-138.         [ Links ]

Prinsloo, D, Taljard, E, & Goosen, M. 2022. Optical Character Recognition and text cleaning in the indigenous South African languages. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, (64):165-187.         [ Links ]

Romaine, S. 2001. Language in society: An introduction to sociolinguistics. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Slabbert, SJC. 1993. Vrouetaal in drie Afrikaanse tydskrifte: Die boerevrou (1919-1931), Die Huisgenoot (1932-1948) en Sarie (Marais) (1949-1989). Doktorale proefskrif. Universiteit van die Witwatersrand.         [ Links ]

Snyman, M. 1990. Taalseksisme en stereotipering in taalonderrigmateriaal vir nie-Afrikaanssprekende volwassenes. MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Tannen, D. 1990. You Just Don't Understand: Women and Men in Conversation. New York: Ballantine.         [ Links ]

Tannen, D. 1994. Gender and Discourse. Oxford University Press. ProQuest Ebook Central.         [ Links ]

Thompson, NL. 2021. The Linguistic Portrayal of Women in Written Afrikaans from 1911 to 2010. MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Van Huyssteen, GB. 1996. The sexist nature of sexual expressions in Afrikaans. Literator, 17(3) Nov: 119-135.         [ Links ]

Van Rooy, AJ. 1995. Is generiese manlike voornaamwoorde regtig generies? Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 14(1) Februarie, 1996.         [ Links ]

Van Wyk, T. 2022. "'n Woord vir wie ek is." Beeld. By-Bylaag. 7 Mei 2022. p. 1.         [ Links ]

Vermaak, R. 1997. Taalseksisme in die leksikon - met spesifieke verwysing na Afrikaans. M.A.- verhandeling. Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Die Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Vorster, A. 1992. Taalseksisme en die vertaalpraktyk. M.A.-verhandeling. Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Die Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Webb, VN. 1989. Enkele gepolitiseerde woorde in Afrikaans, HAT en die sosiolinguistiek. In Botha TJR (Hoofred.). Inleiding tot Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Akademika, pp. 129-142.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-10-23
Goedgekeur: 2024-02-20
Gepubliseer: Junie 2024

 

 

 

Hermi Pelser behaal haar BA-graad in tale aan die Universiteit van Pretoria in 2010 waarna sy ook die NGSO (2011), sowel as BAHonneurs (Afrikaans) (2015) en MA (Afrikaanse Taalkunde) (2022) voltooi. Haar Meestersverhandeling ondersoek die linguistiese studieveld van taalsek-sisme. Sy kyk spesifiek na Afrikaans en ondersoek die vrouetydskrif, rooi rose, deur korpus-linguistiek as metode te gebruik om te bepaal hoe die taallandskap van die Afrikaanse vrou deur die jare verander het. Sy is tans 'n Afrikaansonderwyser by Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria waar sy sedert 2017 Afrikaans Huistaal aanbied.
Hermi Pelser obtained the BA degree in languages at the University of Pretoria in 2010, after which she also completed the NGSO (2011), as well as BA Honours (Afrikaans) (2015) and MA (Afrikaans Linguistics) (2022). Her Master's thesis examines the linguistic field of study of linguistic sexism. She looks specifically at Afrikaans and examines the women's magazine, rooi rose, using corpus linguistics as a method, to determine how the language landscape of Afrikaans women has changed over the years. She is currently an Afrikaans teacher at Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria where she has been teaching Afrikaans Home Language since 2017.

 

 

Nerina Bosman het voor haar aftrede Afrikaanse taalkunde en toegepaste taalkunde aan die Universiteit van Pretoria doseer. Sy is tans navorsingsgenoot aan dié instelling. Haar spesialisterrein is Afrikaanse leksikale semantiek, maar sy is ook besig met 'n projek oor Afrikaanse aanspreekvorme. Haar navorsing steun veral op kognitiewe benaderings tot taal en sy maak gebruik van korpora en korpuslinguistiek om taaldata te vind en te analiseer. Saam met prof. Wannie Carstens is sy mederedakteur van Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives (2024), 'n boek oor die Afrikaanse taalkunde gemik op die internasionale mark. Sy is ook mederedakteur van die derde uitgawe van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, saam met prof. Wannie Carstens en prof. Adri Breed.
Nerina Bosman taught Afrikaans linguistics and applied linguistics at the University of Pretoria before her retirement. She is currently a research associate at this institution. Her specialist field is Afrikaans lexical semantics, but she is also working on a project on Afrikaans forms of address. She works mainly in the field of cognitive linguistics and she uses corpora and corpus linguistics to find and analyse language data. She is co-editor, together with prof. Wannie Carstens, of Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives (2024), a book on Afrikaans linguistics aimed at the international market. She is also co-editor, together with prof. Wannie Carstens and prof. Adri Breed of the third edition of Afrikaanse Kontemporêre Linguistiek ("Contemporary Afrikaans Linguistics"), an undergraduate textbook.
1 Ons is bewus daarvan dat die term taallandskap gewoonlik gebruik word om na die aanwesigheid van taal in publieke ruimtes, soos op reklame- en advertensieborde, padtekens en kennisgewings, byvoorbeeld, te verwys. Ons het hierdie betekenis uitgebrei om ook taaltekens in te sluit - tekens wat die gebruik van genderkeuses in 'n teks (kan) aantoon.
2 Volgens die taal-en-gender-diskoers is seksisme, as gevolg van sistemiese diskriminasie en behandeling van vroue as minderwaardig in verskeie sfere van die samelewing, in beginsel gemik op vroue. Dit beteken nie dat daar nie teen mans gediskrimineer kan word nie. Beledigende of negatiewe etikette word wel gebruik oor en teenoor mans. Omdat dit nie as sistemiese diskri-minasie op grond van mans se gender beskou word nie, is dit ook nie aanduidend van taalseksisme nie.
3 Hierdie webwerf is nie meer beskikbaar nadat publikasie van die rooi rose in 2020 deur Caxton gestop is nie.
4 Die digitiseringseenheid is deel van 'n groot SADiLaR (South African Centre for Digital Language Resources) korpora-projek aan die Universiteit van Pretoria.
5 Tekseenhede is die aantal individuele woorde (ook "lopende woorde" genoem) in 'n korpus. Die volledige rooi rose korpus bestaan uit 37 666 39 tekseenhede. Die aantal tekseenheidtipes in 'n woordfrekwensielys is die aantal unieke woordvorme, eerder as die totale aantal woorde, in 'n korpus. Die volledige rooi rose korpus bevat 1 779 69 tekseenheidtipes.
6 Lemmas is die vetgedrukte woorde in 'n woordeboek. 'n Lemma is 'n abstrakte vorm van 'n woord wat alle vorme van die woord betrek. Die lemma loop sluit byvoorbeeld ook die vorms geloop, lopende en loop in.
7 Titels wat huwelikstatus aandui, soos meneer en mevrou, kan as aanspreekvorme of bloot as verwysings na persone gebruik word.
8 Die afkortings is ook as soekwoorde gebruik.
9 #LancsBox werk die relatiewe frekwensie van die voorkoms van tekseenhede uit, genormaliseer op die basis van 10 000 tekseenhede.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License