SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

    https://doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.19 

    BOOK REVIEWS

     

    Skadu oor die sonwyser

     

     

    Kobus Lombard. Pretoria: Protea Boe] huis, 2015. 84 pp. ISBN: 978-1-4853-0302-2.

    Skadu oor die sonwyser (2015) is Kobus Lombard se vierde bundel. Die titel skakel op metaforiese wyse met die ver-bygaan van alle bestaande (menslike en niemenslike) dinge en word geassosieer met 'n skemer- of oorgangstyd. Die metaforiese betekenis van "skadu oor die sonwyser" word tematies in die ge-digte van die ses afdelings uitgewerk met verwysing na verskillende onderwerpe soos kindwees en bejaardheid-vergelyk "Kind met 'n tuinslang" (29).

    Die leitmotief van die bundel is ontleen aan Totius se woorde, "Die wêreld is ons woning nie", wat deur die spreker nagepraat word in die gedig "Tentwoning" (15): "... wetend / dat dit slegs 'n aardse woning is". Onderliggend hieraan is 'n religieuse of godsdienstige tema waarop in die vyfde afdeling uitgebrei word. Die ses afdelings van die bundel word elk voorafgegaan deur 'n fragment uit 'n gedig in daardie afdeling, wat samehang skep tussen die gedigte en ruimte bied vir die vergelykende lees van die afdelings.

    Die motto van die eerste afdeling is geneem uit "Vervreemding" (16): "jy word geraam / tussen ander gesigte / iewers teen 'n off-white muur". Dié fragment aktiveer 'n elegiese toonaard en skakel met onderwerpe soos ouderdom en die verbygaan van tyd in gedigte soos "Whispering hope" (12) en "Tregtering" (19). Die sintuiglike waarneming in "Wolmerk" (18) openbaar 'n direkte en liggaamlike ervaring van die landskap: "jy ken die koue van die oop veld / die reuk van bossies en van kraal / jy ken die knars van die skêr / wat jou losknip van 'n warm lyf", wat die spreker se verbondenheid met die landskap waarin hy /sy woon, vooropstel.

    Afdeling twee kan gesien word as 'n verlengstuk van die eerste afdeling, alhoewel daar meer klem gelê word op die tegniese aspekte van die gedig. In "Ontnugtering" (23) word alledaagse dinge soos "bome", "stede" en "kerke" afgestroop tot 'n paar essensiële trekke: "bome is hout / wat lugwaarts punt", "stede is grys beton / wat smeulend lê en rook" en "kerke is torings / wat gate in die hemel steek". In "Onveranderlike" (31) word 'n verband tussen die mens en die groter geheel, waarvan hy/sy deel is, geïllustreer:

    ek verf my huis telkens nuut

    breek sy mure uit voer teëls

    in uit 'n vreemde land

    maar elke eerste dag van herfs

    kruip die son

    met dieselfde invalshoek

    oor die drumpel van my deur

    Die derde afdeling, die mees intieme van die afdelings, bestaan uit vier gedigte, waarin die spreker in gesprek is met sy moeder. In "Om die beurt" (39) vertroos die ouer spreker sy jonger moeder: "ek sal jou huil teen my ouer wange druk / jou jongvrouhande toevou / en jou nooit weer toelaat / om my weg te gee nie", wat die subteks van aanneming veronderstel.

    Afdeling vier handel oor die skryf van gedigte, byvoorbeeld in "Skryf-hemp" (43), "Tabula rasa" (46), "Verskind" (47) en "Digterspel" (48). Reeds uit die programgedig van die bundel, "Laaste saluut" (11), blyk dat gepoog word om "vervalle" wêrelde, soos dié van die standbeeld van 'n soldaat, deur taal te preserveer. Die gedig "waar vind jy taal" (45) bevraagteken egter taal as medium om wêrelde en aardes na be-hore te preserveer:

    waar vind jy taal

    vir 'n kreet

    wat oopmond

    sonder klinkers

    of medeklinkers

    in grys lug stol

    In afdeling vyf kom godsdienstige verse na vore en begin met 'n fragment uit "Gebed" (60): "raak ek nét met woorde / aan die soom van sy kleed", wat sinspeel op die verhaal van die vrou wat aan Jesus se kleed geraak het om gesond te word. In hierdie afdeling is daar egter ook 'n skeptisisme te bespeur oor georganiseerde godsdiens, soos blyk uit "Moederkerk" (55) en "Sondagdrag" (58).

    Die laaste afdeling word met die woorde "al wat ons aan jou moederskoot teruggee / is die fosfaat van ons been-dere" ingelui en behels omgewingsbe-wuste verse soos "Moeder Aarde" (67):

    noudat ek uit reste van fossiele

    benaderd weet hoe oud jy is

    huiwer ek

    om sommerso op jou lyf te trap buk ek om 'n klip te lig

    van jou verkreukelde gesig wonder ek meteens hoe ewigheid moet voel

    Die woord "sonwyser" word in die gedig "Gondwana" (74) gebruik met verwysing na "die kameelboom" wat "sy skadu / immer sonwysersekuur [skuif]". Hierdeur word die mens se beperkte belewing van tyd gekontrasteer met die gedagte dat "geen geslag [...] lank genoeg [leef] / om kontinente te sien skuif nie". Die afdeling is een van die sterker afdelings in die bundel, met "Ontwortel" (73) as 'n hoogtepunt.

    Heelwat gedigte word gekenmerk deur nostalgie en geykte taal. Ook is daar 'n oordrewe spel met tipografie in gedigte soos "His master's voice" (20) en "Ontnugtering" (23) te bemerk. Verse wat potensiaal toon, word soms onder-myn deur minder geslaagde versreëls en abstraksies.

    Opvallend is die manier waarop die digter te werk gaan om "natuurlike" dinge, soos die wind, te personifieer, wat 'n ekokritiese benadering tot die lees van die bundel aktiveer. Vergelyk in hierdie verband die slotkoeplet van "Windman" (28): "as sy lyf onsigbaar gaan lê / daal daar 'n doodse stilte neer". Oor die algemeen is Skadu oor die sonwyser 'n geslaagde bundel met pretensielose verse.

    Alwyn Roux
    Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria
    erouxap@unisa.ac.za