Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.57 n.2 Pretoria 2020
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8548
BOOK REVIEWS
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8548
Pieter Fourier Teatermaker-'n huldiging Fanie Olivier (red.).
Pretoria: Protea Boekhuis, 2019. 291 pp. ISBN 9781485310815.
Die Akademieraad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het 'n Hertzogprys-publikasiereeks van stapel gestuur, met as koördineerder, prof. Jacques van der Elst. Die doel is om Hertzogpryswenners in hierdie reeks te huldig. Tot dusver het reeds ses publikasies in die reeks verskyn waarvan die eerste in 2017: Adam Small: Denker, digter, dramaturg (Jacques van der Elst); P. G. du Plessis: Hy was 'n rukkie pagter hier (Heilna du Plooy); Pieter Fourie: Teatermaker (Fanie Olivier); breyten breytenbach: woordenaar, woordnar (Francis Galloway); Johann de Lange 60: 'n Huldiging (Daniel Hugo) en Reza de Wet: Die dramaturg as dromer (Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris). Die volgende publikasies in die reeks is in produksie: huldigingsbundels oor Elsa Joubert, Antjie Krog, Bartho Smit, Anna M. Louw, Ina Rousseau en Wilma Stockenström.
In die 21ste eeu is daar 'n merkwaardige toename in die belangrikheid van pryse in die letterkunde en die kunste. Wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se literêre toekennings betref, het die dramatoekennings van meet af aan telkens swaar gedra aan omstredenheid.
Talle polemieke en debatte rondom prys-toekennings, asook die kom en gaan van pryse deur die jare, dui daarop dat literêre toekennings nooit outonoom kan funksioneer nie. Dit staan altyd in verhouding tot opvattings oor waardeoordeel, smaak en literatuuropvattings, asook magsverhoudings op 'n bepaalde tydstip.
Vele voorbeelde uit die verlede getuig hiervan. So is daar in 1966 uiteindelik geen Hertzogprys toegeken nie, weens die groot polemiek nadat Uys Krige daarvoor genomineer is. Hy ontvang wel in 1985 die Hertzogprys vir sy volledige drama-oeuvre. Name wat deurgaans in dieselfde asem as Krige genoem word, as skrywers wat nooit, of té laat bekroon is, is onder andere Jan Rabie en Abraham H. de Vries, wat nooit die prys ontvang het nie, en Adam Small wat eers in 2012 bekroon is vir sy volledige drama-oeuvre tot en met 1983. Telkens is daar met genoemde skrywers gereken dat politieke voorbehoude deurslaggewend was. Deur dekades word die dramatoekennings gekenmerk, nie net deur polemiek oor wie bekroningswaardig sou wees nie, maar ook in ekstreme gevalle oor of die toekenning enigsins oorweeg moes word, al dan nie. In sekere jare word daar ook weliswaar geen toekennings gemaak nie (Van Jaarsveld 390).
Die Hertzogprys is die oudste literêre prys in Afrikaans-106 jaar oud, in 2020. Hierdie prys, wat die eerste prys was wat deur die Akademie toegeken is, is reeds in 1914 ingestel en vanaf 1916 jaarliks vir toekennings oorweeg. Buiten in 1984, met die viering van die Akademie se 75ste bestaansjaar, roteer die drie genres, prosa, poësie en drama, en slegs publikasies van die vorige drie jaar kwalifiseer vir bekroning. Hierdie rotasie begin vanaf 1928 in werking tree (Smuts 12). Tot en met 2016 is die Hertzogprys 28 keer toegeken vir poësie, 33 keer vir prosa en net 20 keer vir drama. Werke wat vir die 1988-Dramaprys in aanmerking kon kom, en uiteindelik nooit die erkenning gekry het wat hulle waarskynlik reeds toe verdien het nie, is onder andere: Reza de Wet met Diepegrond (1986) wat moes wag tot 1994 vir die bekroning van Vrystaat Trilogie en Trits, Pieter Fourie met Ek, Anna van Wyk (1986) wat tot 2003 moes wag vir 'n bekroning, en Deon Opperman vir Môre is 'n lang dag en Die teken (1986) wat moes wag tot 2006 vir die bekroning van sy drama-oeuvre tot en met 2005. Geen toekenning is egter in 1988 gemaak nie (Carstens 686). Veral Pieter Fourie gaan gebuk onder polities-georiënteerde weerstand, terwyl hy seker die mees prominente dramaturg van die tagtigerjare is. Gegewe die voorafgaande, sou 'n mens dus sonder twyfel kon sê dat skrywers en die werk wat hulle lewer, die produk word van literêre oordeel en evaluasie op grond van onder meer pryse wat aan hulle toegeken word.
In 2003 verower Pieter Fourie die Hertzogprys vir al sy gepubliseerde dramatiese werk tot op daardie stadium, te wete Faan se trein, Faan se stasie, Die joiner, Die koggelaar, Ek, Anna van Wyk, Donderdagsemense, Diegroot wit roos, Naelstring, Die plaasvervangers, Die proponentjie, Tsjaka en Vat hom Flaffie. Fourie is een van die mees bekroonde en bekendste teatermakers in Afrikaans. Benewens dramaturg is hy ook 'n ervare akteur, regisseur en toneelbestuurder, vervaardiger en digter: Alles elemente wat aan bod kom in hierdie huldigingsbundel met 'n verskeidenheid bydraes saamgestel deur Fanie Olivier. Daar is in totaal 14 bydraes. Dit is egter jammer dat baie van die bydraes vassteek by 'n veilige bestekopname van Fourie se prestasies en deelname aan toneel in Suid-Afrika. Die insluiting van Daniel Hugo se Commendatio vir die Hertzogprys in 2003 en Nico Luwes se Commendatio vir 'n Eredoktorsgraad in Drama- en Teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), bly byvoorbeeld as gevolg van hul aard net huldeblyke wat nie in wese bydra tot die regmatige wetenskaplike debat rondom hierdie enigmatiese teatermaker nie. Die daaropvolgende vier bydraes verwoord 'n uitgebreide inleiding tot en beskouing van Fourie se lewe en werk, insluitend 'n outobiografiese bydrae "Die einste hy" deur Fourie self.
Die bydrae deur Temple Hauptfleisch, bied 'n veel meer indiepte kyk na die invloed wat Fourie op die Afrikaanse drama- en toneelsisteem gehad het, terwyl die bydrae van die historikus Fransjohan Pretorius indringend kyk na die geskiedkundige temas waarvan Fourie se werk vol is. Die ondersoek na byvoorbeeld sy volksdramas as "onvervreembare eiendom van die massas" (Blaise) en die terugkerende temas soos Afrikaner-politiek, die verhouding tot sy grond, sy kerk, die beheptheid met die nageslag, misbruik van mag en rassisme, kom aan bod onder die gemene deler-witheerskappy-en wys subtiel op Fourie se vernuftige spel met dialoog, sy suksesvolle karakterdramas en eksperimentering met opvoeringsaspekte. Die volgende ses akademiese bydraes oor verskeie aspekte van Fourie se oeuvre is ook meer substansieel en ontlok interessante argumente ten opsigte van Fourie se onortodokse en vindingryke aanslag, sy onkonvensionele teaterstyl en sy verbintenis tot die sosiopolitieke temas in Suid-Afrika. Maritha Snyman se bydrae oor Fourie se kinderdramas is van besondere belang, aangesien die klem in die stuk val op die kenmerkende volksaard daarvan, maar ook die soms onkonvensionele andersoortige aard daarvan. Sekerlik die belangrikste bydrae in die bundel is die deur Thys Human oor die metadramatiese elemente in Fourie se vierluik plaastragedies. Hier word gefokus op die dramatiese vernuf wat Fourie tentoonstel in sy belangrikste werke. Indringend word gekyk na die voorkoms van metadramatiese aspekte, die tegnies-strukturele surrealisme, asook die irreële elemente in sy dramas.
Eweneens is die bydrae deur Marisa Keuris van belang juis as gevolg van die wetenskaplike besinning oor die Faan-stukke en die filmverwerking daarvan, met spesifieke verwysing na Fourie se skep van ironiese ruimte. Sy eindig met 'n insiggewende gedeelte oor 'n derde teks, getiteld Die mankind: Faan, wat nooit opgevoer of gepubliseer is nie.
In die bydrae deur Joan Hambidge, wat fokus op die twee digbundels, Knapsekêrels en Bidsnoer, plaas sy Fourie se digkuns ook binne die konteks van sy kenmerkende volkstematiek. In die laaste bydrae deur Nico Luwes word daar bespiegel oor die betekenis van Post mortem binne die werk van Fourie, as sluitstuk tot sy omvattende drama-oeuvre. Die bundel word afgesluit met 'n poging tot 'n bibliografiese oorsig van Fourie se tekste (eerste opvoerdatums en publikasie), gepubliseerde werke, ongepubliseerde tekste, artikels en studies oor Fourie, asook berigte, resensies en onderhoude. Dit bly egter bloot 'n handige register aangesien die volledigheid daarvan reeds in die inleiding aangetas word.
Hierdie bundel word 'n inklusiewe studie van 'n verskeidenheid aspekte van Fourie se lewe en sy oeuvre. Dit toon 'n toeganklike en informatiewe gerigtheid; is wat enkele bydraes betref, akademies en analiserend; en uiteindelik is dit 'n dokument wat Fourie se literêre nalatenskap binne konteks plaas en só reg laat geskied aan hierdie buitengewone teatermeester.
Ná die Boetman is die bliksem in.'-debakel van 2000, skryf Francois Griebenow (8): "Die drama gee nie 'n boodskap nie, maar bied die geleentheid vir verskillende menings om gehoor te word". Hierdie bundel is die weerklank van so 'n geleentheid.
Anthea van Jaarsveld
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-2360-0239
Geraadpleegde bronne
Blaise, Anneke. "Onderhoud met Pieter Fourie". Beeld, 28 Aug. 1990. [ Links ]
Carstens, B. J. C. Hertzogprystoekennings vir drama: 1915-1971, D.Litt-proefskrif, U van Pretoria, 2009. https://repository.up.ac.za/handle/2263/24498. [ Links ]
Griebenow, Francois. "Boetman-volksdrama". Beeld, 30 Mei 2000, 8. [ Links ]
Smuts, J. P. "Die Akademie se letterkundepryse". Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 45, no. 1, 2005, 1-14. https://hdl.handle.net/10520/EJC19911. [ Links ]
Van Jaarsveld, Anthea. "Die Hertzogprys vir drama: Griekse tragedie, Middeleeuse moraliteitspel of Negentiende-eeuse realiteit-die problematiek en uitdagings binne die drama-'industrie' en die invloed daarop by die toekenningsproses". Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 57 no. 2-1, 2017, 387-411. DOI: https://doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a10. [ Links ]