Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.57 n.2 Pretoria 2020
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8413
BOOK REVIEWS
https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i2.8413
Malan Steyn. Pretoria: Protea Boekhuis, 2019. 80 pp. ISBN 978-1-4853-0922-2.
Malan Steyn se drama, Bos, is verlede jaar (2019) deur Protea Boekhuis gepubliseer en is 'n waardevolle toevoeging tot die dramagenre in Afrikaans. Die teks verleen sig nie net tot 'n hoogs uitvoerbare drama nie, maar bied ook aan die leser vinnige intrige, skerp dialoog en karakterisering van formaat. Bos is die eerste keer onder leiding van Marthinus Basson tydens die KKNK van 2012 opgevoer. Die produksie het ook tydens die US Woordfees van 2013 gespeel. Steyn se vorige dramas sluit in Bok-bok staan styf (2002), Jan en Jorie (2003) en die bekroonde Eet alles (2004) wat as Johnny is nie dood nie (2011) uitgegee is en wat later deur Christiaan Olwagen tot die bekroonde gelyknamige film van 2016 verwerk is.
In Bos word 'n groep tieners tydens Kamp Koershou, 'n oorlewingskamp in hul Graad 11-jaar, nie net gekonfronteer met die tipiese uitdagings van grootword in die moderne wêreld nie, maar word hulle ook in 'n ruimte geplaas waar die vervulling van hulle basiese fisiese behoeftes hulle dompel in 'n oorlewingstryd. Die onvoorspelbare argetipiese ruimte van die bos dra by tot die spanning, aangesien dit die speelveld is waar al die karakters (die tieners én hul paramilitêre instrukteur, die Meneer) hulself moet konfronteer, hul grootste swakhede in die gesig staar en hul sienings oor die wêreld en wie hul eintlik is, bevraagteken. Dit is 'n ongenaakbare plek waar die onderwyser die tieners probeer lei om hulle "weerbaar-paraat!-die grens na volwassenheid [te help] oorsteek". Van die Middeleeue af word die bos of woud geassosieer met 'n veranderende, onheilspellende en transformatiewe plek waar karakters in feëverhale en sprokies hulself en hul eie noodlot beproef. Tydens Kamp Koershou moet die tieners in die bos, weg van hul bekende, gemaklike omgewing die verskeie rituele navigeer.
Die oorgangsfase waarin die groep jongmense hulself bevind, betrek die belangrikste tema, naamlik deurgangsrites of 'Rites of passage'. Steyn sê in die skrywersnota die volgende oor deurgangsrites: "[dit is] kulturele praktyke wat die oorgang tussen jou kinderjare en jou inlywing as 'n volwaardige, volwasse lid van 'n stam of sosiale groepering bewerkstellig. Binne die populêre sielkunde word die deurgangsrites van sogenaamde tradisionele kulture dikwels as model gebruik vir moderne rites wat kwansuis die oorgang tussen puberteit en volwassenheid moet vergemaklik".
In die teks word daar verskeie inisiasierituele betrek. Die Meneer word beskryf as "steeds verlore in 'n oorlog wat hy vrees hy dalk verloor het" (8). Hy is 'n oud-soldaat met 'n hartseer verlede en onopgeloste probleme wat sy eie deurgangsrites in die weermag ondergaan het. Die Meneer se diensplig-opleiding word as basis gebruik vir sy eie benadering tot die oorlewingskamp en die eise wat hy aan die jongmense stel.
Aan die begin van sommige tonele word die vierde muur deur die Meneer gebreek en hy verduidelik in die proloog dat die bedoeling van inisiasiepraktyke tog goed is: "Om die kind te help om die grens tussen sy sorgelose jeug en die pyn van volwassenheid oor te steek" (9). Die kamp se oorlewingstrategieë word dan 'n 'kompas' vir die res van die tieners se lewens. Die vaardighede wat die tieners by Kamp Koershou moet baasraak, is onder andere kaartwerk, spoorsny, wippe stel, vuurmaak en jag. Hierdie vaardighede dien ook as titels van sommige van die tonele.
Die groep by Kamp Koershou is egter nie die enigste mense in die bos nie. Daar is ook 'n jong seun, Umkwhetha, wat die inisiasiepraktyke van die Xhosa-kultuur betrek. Dit is interessant om te merk dat "Umkhwetha" 'die geïnisieerde' beteken en nie 'n eienaam is nie. Die karakter word dus verteenwoordigend van 'n kollektiewe ervaring. Die geheimsinnige praktyke rondom die Xhosa-kultuur se inisiasierituele word telkens (in Engels) aan die gehoor bekendgestel. Volgens Steyn (7) is die monoloë van Umkhwetha meestal ontleen aan 'n artikel getiteld: "The making of a man" deur 'n anonieme skrywer in die Mail & Guardian (19 Julie 2002). Die fisiese verandering (besnyding), verpligte isolasie en die groot eise wat dit fisies en emosioneel aan die jong seuns stel, word gekontrasteer met die Afrikaanse tieners en hul ervarings. Hierdie jukstaponering van die verskillende kulturele praktyke word slim uitgespeel en die belangrike plek wat dit in elke kultuur beklee, word vooropgestel, bevraagteken en uitgedaag. Die geweld onderliggend aan hierdie praktyke word dikwels verromantiseer, maar in Bos word moeilike vrae aan die gehoor en/of lesers gestel: "[...] hoe help die rituele jou om jou pad as volwassene te vind: Is daar plek vir individualiteit en verskille binne die groep? Wie word uiteindelik uitgesluit om die samehorigheid van die groep te verseker? Hoekom speel geweld en (seksuele) vernedering dikwels so 'n belangrike rol in inisiasiepraktyke? En wat is die prys wat 'n mens betaal as jy nie aan die groep kan (of wil) behoort nie?" (6)
Wat intertekstuele verwysings betref, kan daar parallelle getrek word met die boek Lord of the Flies (1954) deur die Nobelpryswenner William Golding waar 'n groep seuns op 'n eiland gestrand word en op hulself aangewese is vir oorlewing. In Bos herinner die karakter Org aan die karakter van Piggy in Lord of the Flies, aangesien beide seuns geboelie en verneder word omdat hulle as swakkelinge gesien word deur sommiges in die groep.
Dit is opmerklik dat die karakterlys aan die begin van die drama net die Meneer en "tien graad 11-leerders" noem. Dit veroorsaak dat die eerste tonele waar die karakters verskyn, as eksposisie dien. Die skerpsinnige leser sal dalk besef dat daar eintlik net nege graad 11-leerders op die kamp gaan en dat die karakter van Umkhwetha die tiende leerder is. Hy tree egter op as tipe verteller en aan die einde van die drama word dit duidelik dat hy eintlik 'n spookagtige figuur is wat tydens sy inisiasie in 2010 oorlede is: "Sixty-two abakwhetha died during the initiations of 2010. I was one of them" (78).
Die taalgebruik en dialoog in die teks is natuurlik en eg. Daar is goeie voorbeelde van aktuele slengtaal deur die tieners, kreatiewe vloeke van die Meneer, sowel as die gebruik van Engels en isiXhosa deur Umkhwetha.
Bos is 'n teks wat die leser nog lank sal bybly. Dit is relevant, spannend en universeel. Alles wat 'n dramateks behoort te wees.
Mathilda Smit
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein, Suid-Afrika