SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1Dante in Mogadishu: The Divine Comedy in Nuruddin Farah's LinksAnxiety and influence in Nuruddin Farah and younger Somali writers author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070
    Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

    http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.16413 

    BOOK REVIEWS

     

     

    Foundational African Writers: Peter Abrahams, Noni Jabavu, Sibusiso Nyembezi & Es'kia Mphahlele.
    Bhekizizwe Peterson, Khwezi Mkhize & Makhosazana Xaba (reds.).
    Johannesburg: Wits University Press, 2022. 472 pp. ISBN 9781776147519.

    Hierdie publikasie open met 'n huldeblyk aan Bhekizizwe Peterson, in lewe 'n professor in Afrika-letterkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, wat op 15 Junie 2021 aan Covid-verwante oorsake oorlede is. Peterson word gehuldig as een van die leidende figure wat die projek, Narrative Enquiry for Social Transformation (NEST), onderliggend aan die publikasie, gerig het. Dit is onder meer deur sy toedoen dat Peter Abrahams, Noni Jabavu, Sibusiso Nyembezi en Es'kia Mphahlele as die eerste skrywers van Afrika-letterkunde as 'n instelling ("the institution of African literature") aangebied word.

    Hoewel al vier hierdie Suid-Afrikaanse skrywers 'n mate van bekendheid geniet, is die skrywerskappe van Abrahams en Mphahlele wat uitsluitlik in Engels gepubliseer het, meer bekend en is heelwat sekondêre werk oor hulle gepubliseer. Die meeste van die hoofstukke in die boek handel dan inderdaad ook oor hierdie figure. Vir die gewone leser sal die skrywerskap van Jabavu, 'n tydskrifredakteur en die outobiograaf van Dawn in Colour (1960) en The Ochre People (1963), minder bekend wees. Juis hierdie feit word deurlopend in die teks aangespreek, veral in Athambile Masola se hoofstuk getiteld "A Footnote and a Pioneer: Noni Jabavu's Legacy". Die insluiting van die vierde skrywerskap, dié van Nyembezi, bring 'n belangrike kwessie, naamlik die omskrywing van "Afrika-letterkunde" ("African literature") te berde.

    In 'n tradisie wat "African writing in English" as "African literature" bestempel en tot die publikasie van Chinua Achebe se Things fall Apart in 1958 teruggevoer word, is die plek van Nyembezi wat in Zoeloe geskryf het, in dié opsig opvallend. (Kyk oor die debat oor "African Literature in English" ook Simon Gikandi se Voorwoord en Khwesi Mkhize se hoofstuk "Es'kia Mphahlele and the Question of the Aesthetic"). Dit, in die woorde van Sikhumbuzo Mngadi in sy hoofstuk "Situating Subusiso Nyembezi in African Literary History", "complicates the colonial and postcolonial historical and literary historical trajectories" (75) rondom letterkundige tradisies. Die debat oor wat African Literature is en of dit mondelinge oordraging en inheemse tale insluit, is een wat sedert die vroeë 1960s in Afrika-letterkundige kringe voortduur en nog nooit werklik bevredigend bygelê is nie.

    Die punt van Mngadi na aanleiding van 'n uitspraak van Mükoma wa Ngügl maak, is ter sake, naamlik dat die onderbestudering van inheemse tradisies daartoe lei dat "early African writing has not yet become part of the African literary and critical imagination" (76). Dat Nyembezi in hierdie konteks betrek en aan 'n breër (nie-Zoeloe-lesende) akademiese gehoor bekend gestel word, is dus 'n verruimende meevaller. Mngadi waarsku dat die skryfwerk van Nyembezi "outside the colonial, decolonial and neocolonial framework, may very easily drop off the African literary map and timelines, if such a map and timelines fail to account for this literature and various cultural forms to which it has been adapted" (79). Dié waarskuwing geld veral vir radioverwerkings gebaseer op Nyembezi se romans wat deel van die "oral and listening tradition" geword het.

    Soortgelyk, maar breër gesien, sou in hierdie konteks 'n debat oor die plek van inheemse tale en tale soos Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde tot uiteenlopende gesigspunte lei wat inderdaad die tradisie en grense van "African literature" sal toets.

    Hierdie omvangryke versameling akademiese artikels word in drie hoofafdelings vervat wat onderskeidelik soos volg ingedeel is: "Remapping en Rereading African Literature and Cultural Production" (deel 1), "South Africa and Fugitive Imaginaries" (deel 2) en "In the Eye of the Short Century: diaspora and Pan-Africanism Reconsidered" (deel 3). Elk van die vier skrywerskappe word telkens in die drie afdelings (gesamentlik 19 hoofstukke) behandel waarin die temas van ballingskap; tuiswees en uithuisigheid; kolonialisme, apartheid, antikolonialisme en verset; en Pan-Afrikanisme op verskillende wyses terugkeer. Raakpunte tussen hierdie skrywerskappe as "grondleggers van Afrika-letterkunde" word op hierdie wyse benadruk. In haar hoofstuk brei Mkhize op van die temas uit, dus nie net in fiksie of outobiografiese werk nie, maar "die tirannie van plek" en die bewustheid van ballingskap beïnvloed ook die skryf van literêre kritiek soos in Mphahlele se The African Image (1962).

    Hierdie is 'n teks oor Suid-Afrikaanse skrywers en hulle lewens geprojekteer op die breë doek van Afrika-letterkunde en 'n Pan-Afrikanistiese bewustheid. Peterson in sy hoofstuk "The 'Crossroads and Forkways' of Pan-Africanism between 1948 and 1968" toon aan hoe die verdingliking van ras en die etnisiteit in Suid-Afrika ook hierdie skrywers se perspektief op politieke vryheid, die breë kontinent en hul verhoudings met ander Afrikane beïnvloed het: "the crossroads and the forkways of blackness are numerous and complex" (341). Abrahams, Jabavu en Mphahlele se ideologiese keuse in hierdie opsig, karteer Peterson as "political (and nationalist)" met ondertone van individualistiese, pan-etniese en universalistiese beskouinge en formasies, terwyl Nyembezi Zoeloe-identiteit wou ontkoppel van "segregationist and apartheid inscriptions" en wou laat saamhang met nasionalistiese identiteit.

    'n Kort resensie kan nie reg laat geskied aan die diepgang van die perspektiewe wat in Foundational African Writers aan die orde gestel word nie. Ek het elkeen van die artikels, sonder uitsondering, besonder insiggewend gevind. Dit is die soort "grondleggende teks" wat studente in Afrika-letterkunde ryklik sal beloon omdat dit gesigspunte open wat 'n hele tradisie in perspektief stel.

    Hein Willemse

    hein.willemse@up.ac.za
    Emeritus-professor: Universiteit van Pretoria
    Pretoria, Suid-Afrika
    ORCID: https://orcid.org/0000-0002-9806-4410