SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1From the Spice Islands to Cape Town: The Life and Times of Tuan Guru (Shafiq Morton)Death and Compassion: The Elephant in Southern African Literatures (Dan Wylie) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070
    Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria  2023

    http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.16414 

    BOOK REVIEWS

     

     

    Plunder.
    Antjie Krog.
    Kaapstad: Human & Rousseau, 2022. 126 pp. ISBN 9780798183178.

    Antjie Krog wen in 2023 vir die derde maal die Hertzogprys vir haar mees onlangse bundel, Plunder. Dié bundel is reeds in vele resensies beskryf as 'n kragtoer en as meesterlik, uitsprake wat 'n mens teen hierdie tyd van 'n Krog-bundel verwag. Inderdaad is dit 'n troos en 'n toevlug om in 'n wêreld waar ontnugtering en teleurstelling aan die orde van die dag is, te kan weet dat 'n nuwe Krog-bundel keer op keer alle verwagtinge oortref.

    Om te skryf oor 'n bundel soos Plunder is 'n intimiderende onderneming. Hierdie bundel is só dig verweef, boordensvol betekenis en intrinsieke nuanses, dat die leser met elke terugkeer na die gedigte, om weer én weer te lees, iets nuut ontdek. Die titel bied reeds 'n belangrike sleutel tot die bundel, want dit is 'n plundering in verskillende gedaantes wat in hierdie bundel ontmasker, maar ook ontgin word. Daar is die plundering van die self en die ondersoek na hoe taal geplunder word; die plundering van liefde, die liggaam en geweld; die plundering van armoede; en hoe die aarde geplunder word.

    Die bundel open met 'n programmatoriese en poëtikale gedig, "dit kom nie meer op my af nie" (11-3). Reeds die openingsreëls "dit kom nie meer op my af nie / die geluid / die geluid van 'n gedig / kom nie meer op my af nie" lei Plunder se gesprek met Krog se vorige bundels in. 'n Mens kan nie help om hierdie versreëls te lees en dadelik te dink aan "digter wordende" uit Kleur kom nooit alleen nie (2000). Laasgenoemde gedig verheerlik "die geluid van 'n gedig", maar in Plunder word dit gestel dat dié geluid die digterspreker nou ontduik. Die res van die bundel bewys egter hierdie siening verkeerd, want dit is duidelik dat die geluid van 'n gedig nog immer teenwoordig is in die skrywer se oor en pen.

    Die problematisering van taal word bekendgestel deur "dit kom nie meer op my af nie" met verwysing na "opgesaalde woorde", "verspilde taal" en "afgrondvers". Tematies verwys dié gedig ook vooruit na die ouerwordende liggaam, selfbesinning oor die aard en skryf van poësie, die bevraagtekening van die self, die Covid-virus, asook die klem op die aardse en die funksionele gebruik van natuurbeelde. Die gedig sluit af met "eenmalig het ek behoort tot die brandendes / nou wil my stem iets dryf / sidder dit walglik klammerig van omgee en vergifnis". Hiermee word 'n totale digterskap opgeroep en word die leser herinner aan die brandende Krog wat sê "ek skryf omdat ek woedend is" (Otters in bronslaai, 1981) én die Krog wat 'n taal van medemenslikheid en versoening-"'n taal van onsheid" (68)-wil konstrueer in onder meer Kleur kom nooit alleen nie (2000) en Mede-wete (2014).

    Plunder is deurgaans bestrooi met poëtikale besinnings en uitsprake, maar "die vulgariteit van verse" (102-3) is besonder noemenswaardig vir die veelvuldige perspektiewe wat dit op die poësie lewer. Hierin word gestel "mens skryf om jouself te herinner / hoe onmoontlik dit is om een persoon te wees". Die kwessie rondom die (outobiografiese) "ek" in die poësie word aangespreek deur onder meer "tog is die 'ek' juis nooit ek wanneer 'ek' gebruik word nie". Dan is daar besinnings soos "'n gedig boor aan die omhulsel van die woord / priem, porieer, omvorm, prut tot multiversums / en verbreed die marge". Die gedig sluit af met 'n uitspraak wat herinner aan Krog, die "eens" "brandende": "ek vysel taal soos ek wil / en fok julle".

    Die plundering van die liefde word veral geïllustreer in die bundel se eerste afdeling. Die bundel se opdrag lees "vir John-soos altyd" en stel dus vanuit die staanspoor die outobiografiese lees van in die besonder die liefdesgedigte op. Ses liefdesgedigte wat elkeen begin met die woorde "dis wanneer" kan as gedigsiklus opsigself bestudeer word, een waarin die volle spektrum van liefde en intimiteit verken word. Seksualiteit en liggaamlikheid speel ook 'n belangrike rol, en veral laasgenoemde word voorgehou as verweer teen die dood: "kom ons lê bymekaar, ons lywe nog verhewe bo die dood" ("die wanneer ek weg van jou is", 16-7).

    Die dood staan ook telkens teenoor die beswerende krag (en onmag) van die skeppende woord, soos in "dis wanneer alles lyk of dit ineenstort" (19-24): "om ons duikel die swier van swaels / alles wat leef is sterflik en verplig / my lessenaar is die veiligste plek wat ek ken". Die liggaam se fisiese teenwoordigheid blyk dikwels selfs groter beswering te bied as die poësie self, "ek omhels jou deur al die versperrings van die gedig" (16). Dit is egter ironies genoeg juis die liggaam wat feilbaar is en die mens blootstel aan siekte, verwering en die dood.

    Tematies word liggaamlikheid ook uitgebrei tot die plundering van geweld teenoor die liggaam en in die besonder die vroulike liggaam. Hier is twee gedigte, naamlik "dit spuls die aarde vol" (46-9) en "ukuhamba ze / anasyrma (omhoog-rok)" (50-2) noemenswaardig. In hierdie gedigte is die liggaam weer die broosheid en die verweer van die mens, dit is wat vroue blootstel aan seksuele geweld, maar vanuit die vrou se liggaam bring sy ook nuwe lewe voort, vanuit haar liggaam klink haar stem. "ukuhamba ze / anasyrma (omhoog-rok)" sluit af met die kragtige beeld: "maar hoor, my hart, die verbete lied wat vroue sing / o dit gaan mooi wees as die amandels bloei!" (52).

    In hierdie bundel loop die plundering van die liggaam hand aan hand met die plundering van die aarde: "hoe kan ons die planeet versorg as ons nie mekaar versorg nie / hoe kan ons mekaar versorg as ons nie die planeet versorg nie?" (106). In afdeling ses word die kerklike mis met digterlike vernuf omvorm om ekopoëtiese besinning aan te bied. Weereens is dit 'n afdeling wat opsigself 'n onafhanklike studie waardig is.

    Buiten die samebindende implementering van die plundertema, is 'n ander belangrike organisatoriese beginsel wat bydra tot die bundelstruktuur die gelykstel of saamdink van aspekte wat op die oog af opposisioneel is. Hierdie tegniek word so vaardig uitgevoer dat die leser deurgaans besef daar is verskillende perspektiewe op elke kwessie. Opposisies word tegelyk met mekaar gelees en word selfs soms vervangbaar met mekaar in die spel met perspektief en betekenisontginning.

    Bogenoemde tegniek word dikwels ingespan om uiters sensitiewe kwessies tot die been toe oop te vlek. So word Wit/Swart, die Wit Staar/die Swart Staar, verken in "work in progress" (96-101) en word historiese lyding van verkillende bevolkingsgroepe ook naasmekaar geplaas ("7. Dies Irae", 120-1). In afdeling ses word hierdie tegniek van gelykstelling toegepas op God/die goddelike en die Natuur/aardse. In tipiese Krog-styl word die liefde vir en weersin in Suid-Afrika ook meesterlik saamgedink ("jou eerste nag in die tronk", 80-81 en "familiekersfees op 'n vakansieplaas", 82-3).

    Daar is nog soveel wat oor Plunder gesê kan word, soos byvoorbeeld die tematiese rykheid van "die durf van 8 liedere" (57-69)-elkeen opgedra aan of handelend oor 'n bepaalde persoon (publieke en anonieme figure, persoonlike kennisse)-soos Mantombi Matotiyana, John Coetzee, Remco Campert, Dot Serfontein, Lady Anne Barnard, en Desmond Tutu. Wanneer daar in "#FeesMustFall-Oktober 2015" (37) gestel word "gotweet ons het hierdie land tot verwarde stuk geleef / nie eens gedigte kry meer iets saamgeweef nie", moet ek tóg verskil. Miskien is gedigte nog al wat ons saam kan weef. Veral die gedigte waarmee 'n mens hier te doen het.

    Ihette Senekal

    jacobii@unisa.ac.za
    Unisa
    Pretoria, Suid-Afrika
    ORCID: https://orcid.org/0000-0001-9258-8689