Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
HTS Theological Studies
On-line version ISSN 2072-8050Print version ISSN 0259-9422
Herv. teol. stud. vol.73 n.1 Pretoria 2017
https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4561
ORIGINAL RESEARCH
Klinkende ruimte. Reformasie deur die kerklied
Elsabé Kloppers
Department of Philosophy, Practical and Systematic Theology, University of South Africa, South Africa
ABSTRACT
In the year 2017, the 500th anniversary of the Reformation is commemorated in countries all over the world. The Reformation was an ecclesiastical and theological renewal movement, but through congregational singing, the ideas of the Reformation spread rapidly through many countries. It was thus also a singing movement. The commemoration year offers an opportunity to explore the ecumenical possibilities of singing and to search for new perspectives. In this article, the exegesis of a hymn text provides the opportunity for a theological discussion on various dimensions of space opened up by worship. They are, among others, the space to meet God, to meet other people and to meet oneself; the space for God's work; the space to live the faith; the space for memory (anamneses) and a space to get new perspectives - thus presenting the opportunity to 'change space'. The space created by music is space for praising God, for proclaiming, hearing and believing God's Word, together with other possibilities. In the hymn that is analysed, the six main spaces or areas of the church's work within which music and singing could function, come into play. The Gattung, Liedpredigt, opens the possibility for sermons based on hymns - an important 'use' of hymns since the time of the Reformation. It is a possibility that should be emphasised anew in the commemoration year. The performative function of the hymn (the effect or functioning of a hymn) as it is experienced concretely in the performance (the singing of the hymn), is discussed briefly. A need for new sacred spaces and sacrality in spaces provides new space for traditional hymns and for the organ as an instrument traditionally associated with worship - provided they share the space with other instruments, fill the space with new colours of sound and allow for new forms of singing. The tradition should be re-interpreted constantly, to sound the faith anew in each space where it is voiced and heard.
Ruimte oor tyd - 500 jaar hervorming1
'Een woord, een wêreld, een werk'
Een en dertig Oktober 1517 word as simboliese datum vir die begin van die Kerkhervorming herdenk.2 Met die oog op die 500 jaar viering van die Hervorming in 2017, het die bewusmakingsprosesse in Duitsland reeds 'n dekade vroeër begin, met 'n bepaalde tema waaraan elke jaar aandag gegee is. Daar is byvoorbeeld in 2012 op kerkmusiek gefokus. Die tema vir die hoogtepuntjaar 2017 is Een Woord, een wêreld, een werk. Met 'een werk' word nie net die betrokkenheid en samewerking van Reformatoriese Kerke bedoel nie, maar die samewerking van gelowiges wêreldwyd - almal deel van die één wêreld en betrokke by die één Woord van God. In Duitsland vier die Rooms-Katolieke Kerk en die Evangelisch-Lutherische Kirche (EKD) vir die eerste keer in 500 jaar die Hervorming in 'ekumeniese gemeenskap' as Christusfees sáám.3 In die gesamentlike verklaring met die Voorsitter van die Raad van die EKD, Biskop Heinrich Bedford-Strom, het die voorsitter van die Duitse Biskopkonferensie, Kardinaal Reinhard Marx, die hoop uitgespreek dat die geestelike proses van 'heling deur herinnering' die ruimte vir die verskillende kerke sal open om in die toekoms meer bevry en in 'n gees van groter versoening op mekaar gerig te wees in die eerlike bereidheid om mekaar se sienings beter te begryp.4
Oikoumene - Die wêreldwye ruimte van geloof
Die ekumeniese organisasies wat wêreldwyd bestaan en wat oorkoepelend oor kerk- en landsgrense leiding in kerk- en geloofsake gee, speel ook 'n belangrike rol in die vierings.5 Die woord 'ekumene' is afgelei van die Griekse woord, oikoumene, wat gebruik is om die 'hele bewoonde aarde' aan te dui.6 Die stam van die woord is oikos, wat huis beteken. Dit dui op gelowiges en kerke oor die wêreld wat deur die Evangelie van Jesus Christus saamgebind word in die 'huis van God' - in die ruimte van geloof. Kerke wêreldwyd lyk of dink nie eenders nie. Tydens die byeenkoms van SAKOV is genoem dat net in daardie kerkgebou op daardie dag mense uit verskillende kerke teenwoordig was, wat oor geloofsake en die uitlewing van geloof verskillend dink. Die één saak wat hulle egter saamgebring het, wat hulle bind en wat ook mense oor die wêreld heen bind, is die kerklied. Dít kan 'n mens steeds sê, ondanks onenighede rondom die kerklied. Liedere soos Kom dank nou almal God,7Lofsing die Here, die ewige, sing tot sy ere;8Die dag wat U, o Heer, gegee het9 en Grote God, aan U die eer10 word in baie tale reg oor die wêreld gesing. Daardeur word mense in elke kerk afsonderlik aan mekaar gebind in die oikos, die huis van God - so groot soos die wye wêreld én die hemel. Die ekumene in die kerklied is trouens veel verder ontwikkel as die kerklik-amptelike ekumene van die wêreldwye organisasies, omdat dit oor 'n veel langer tyd natuurlik tot stand gekom het (Bönig 2007:358).11 Die Arbeitsgemeinschaft für ökumenisches Liedgut (AÖL) is die interkonfessionele werkgemeenskap vir die ekumeniese liedskat wat poog om binne die Duitse taalgebied ooreenstemming in die weergawes van liedere te verkry.
Verruiming deur die Hervorming - Verlies aan gewydheid?
Die Hervorming was 'n beweging wat in wese deur sang momentum verkry het. Met sang is die mense oortuig en met sang is die Hervorming deurgevoer, meer as met enige ander middel. Dit blyk onder meer uit die verhaal van 'n landheer in Duitsland wat by die burgemeester van 'n stad aankom. Die burgemeester kla dadelik: 'Die Protestante is nou ook hier - en hulle sing almal'. 'Ag', sê die landheer, 'dan is alles verlore!' (Möller 1995:15-30). Die huidige hoorders van die verhaal kan glimlag, want ná 500 jaar het mense 'n ander perspektief op die saak. Vir die burgemeester en die landheer was dit egter die verlies van heiligheid of gewydheid in die kerke - nog meer: die verlies van eerbied vir die geloof, die verlies van die tradisie (Latyn: tradere - om aan te gee; dit wat aangegee is oor geslagte en wat as heilig beskou is). Vir hulle was dit ook die verlaging van standaarde. In plaas van goed opgeleide kore, kon enigiemand nou sing - en dit het nie altyd so goed geklink nie. Jan Luth (1986) vertel die verhaal oor die situasie in Nederland, waaruit blyk dat die mense 'vreeslik geskree het' ('Daer wert om ‚t seerst uitgekreten …').
Met die Hervorming, oftewel Reformasie, is baie gewen, maar wesenlike sake is in die proses ook skade berokken. Luther wou nié 'n nuwe kerk stig nie - hy wou net die mense in die kerk bevry om op God en die wesenlike van die geloof te fokus.12 Die Reformasie, wat mense gehelp het om vryer te dink, het egter meegewerk aan sekularisasieprosesse.13 Met die oog op die vieringsjaar is dit goed om te kyk wat gewen is, maar om ook bestekopname te maak van wat oor die eeue miskien verlore gegaan het - om te kyk wat herwin kan word en wat dalk heel nuut ingeklee kan word.
Die ruimte van die erediens - Ruimte van geloof; ruimte vir geloof
Die begrippe solus Christus, sola gratia, solo verbo, sola scriptura, sola fide14 is die wesenlike wat met die Reformasie beklemtoon is: slegs Christus, slegs uit genade, slegs deur die Woord, slegs op grond van die Skrif en slegs deur die geloof. Alle ander dinge is bysaak. Dit het ook 'n invloed gehad op die wyse waarop Protestante oor die erediens en die ruimte vir die erediens dink. In sy preek in 1544 met die kerkinwyding in Torgau, beklemtoon Luther dat 'n kerkgebou nie belangrik is nie. God se Woord kan oral verkondig word - by fonteine, op 'n plek onder die hemel, ja, waar daar ook ruimte is, want God is teenwoordig in die gemeenskap van diegene wat die erediens vier, en in die gebeure van die Woordverkondiging (Luther WA 49, 588-592; ook Zimmerling 2007:27). Wanneer mense vandag van die kerkgebou as die 'huis van God' praat, word dit gedoen in die wete dat dit verwys na huis as metafoor - 'n huis so groot soos die wêreld (in die ekumene) of so klein soos 'n kamer. Dit gaan oor die erediens as ruimte van geloof, en die ruimte vir geloof - ruimte om geloof uit te leef. Die erediens bied die ruimte vir die kerk om sigbaar en hoorbaar kerk te word en kerk te wees.
Aan die hand van 'n lied - eerder as om 'n dogmatiese uiteensetting oor die erediens te gee - word vervolgens bepaalde teologiese beginsels vir die erediens en die ruimte van die erediens geïllustreer, en getoon hoe ruimte deur 'n lied en musiek geskep kan word. Dit sluit aan by die standpunte van die Duitse teoloog en himnoloog, Christa Reich, wat beklemtoon dat die lied die wesenlike ruimte is waarbinne teologie gevorm word, en konkreet tot uiting kom; dat die klinkende lied die ruimte is waarbinne die kerk hoorbaar word, 'teenwoordig' gestel word, as kerk verskyn, en waarbinne die kerk dus 'liggaamlik vatbare en verstaanbare realiteit' word ('leibhaft fassbare Realität' - Reich 1997:771). Uit die eksegese van die onderstaande lied blyk dat belangrike teologiese beginsels van die Reformasie daarin verwoord word. Tydens die voordrag by die SAKOV-Jaarbyeenkoms in Bloemfontein, is die lied gesing om die werking daarvan konkreet te ervaar. Daar is aangedui dat dit in die Toetrede-rubriek in die Liedboek van die Kerk (2001) (Nr 154) staan:15
Kom nou tesaam, laat ons vergader,
één as sy Kerk, één in sy Naam;
in Christus naam16 kom ons hier nader,
kom ons as sy gemeente saam.
Hy gee sy Gees,
só laat Hy dit wees:
Hy seën wat ons bou
en bind ons deur sy trou.Hier is die Heer by ons teenwoordig,
Hy skep die ruimte vir sy werk.
Is Hy dan self só hier teenwoordig,
word ons verenig as sy Kerk.
Hy staan ons by
en maak ons so vry
om ware mens te wees -
geheilig deur sy Gees.Sing vir die Heer helder gesange,
laat ons met blye stem hom loof.
Laat klink sy lof, sing onbevange
en laat geen muur die klanke doof.
Kom sing met vuur,
laat lofsange duur,
vul alles hier met klank:
laat ons die Here dank.
Verandering van plek, verandering van ruimte
Die lied begin met 'n oproep, wat sê: kom saam, word één, word gebind, word verenig as die kerk van Christus (Matt 18:20). Let op die rol van ruimte: die mense wat opgeroep word, is iewers - by hul huise of op straat - maar word nader geroep. Dit vra beweging van een ruimte na 'n ander. Dit vra moeite - bewuste oorbrugging van afstand. Die vraag is of die gemeente die gemeente sou wees as die gemeente nooit bymekaar sou kom nie? Kan 'n liggaam bestaan sonder om gevoed te word, of bestaan sonder asem? In die tweede deel van die strofe kom die antwoord: die gemeente wat in die Naam van Christus bymekaar kom, ontvang die Heilige Gees - kry dus asem, kry lewe (Ef 5:18). Die samekoms is essensieel.
Ruimte vir God en vir mekaar
Die tweede strofe begin met 'n belydenis: hier is die Heer by ons teenwoordig. Dit verklank geloof en vertroue (sola fide), maar word gesing met die bewussyn dat God nié vanselfsprekend teenwoordig is nie. God is outonoom om te besluit of God die afstand gaan oorbrug. Daarom ook die voorwaarde: as God self hier teenwoordig is, (eers) dan word mense in gemeenskap verenig as sy Kerk. Die beginsel van sola gratia, slegs genade, is dus hier ter sprake:
Das Wort „Gnade 'bedeutet ursprünglich „sich neigen'. Gott ist den Menschen gnädig, heißt: Er neigt sich dem Menschen zu. Aus Freiheit und Liebe wendet er sich dem Menschen zu. Diese Liebe ist ganz in Gott selbst begründet. Sie richtet sich auf uns als ganze Person, nicht nur auf das, was an uns der Liebe wert ist. Darin unterscheidet sich Gottes Liebe nach Einsicht der Reformatoren von menschlicher Liebe.17
(Kirchenamt - Rechtfertigung und Freiheit 2015:59-65)
Ruimte vir God se werk
Die tweede deel van strofe 2 toon dat die erediens en dit wat verder in die gemeente en die kerk gebeur nie net 'mensewerk' is nie. Deur sy Gees inspireer God mense, neem hulle 'in diens', werk deur hulle en seën dit wat hulle doen. 'Wat ons bou' verwys na die werk in die kerk, die opbou van die gemeente as liggaam van Christus (Rom 12; 1 Kor 12 en 14), die opbou van mekaar, maar ook van die mense buite die kerk. Met die metafoor van bouwerk ('n gebou, 'n tempel) word aangedui dat iets konkreets tot stand gebring word - 'n plek wat ruimte bied waarbinne God kan werk. Steeds word bely dat dit God is wat die ruimte skep (strofe 2, reël 2), en dat God dit moontlik maak vir mense om in dié ruimte te leef en te werk (kyk ook Woydack 2007 se bespreking oor die verhouding met God as ruimtelike gebeure).
Ruimte van herinnering (anamnese)
Vryheid in Christus is die kernbeginsel wat met die Reformasie na vore gebring is. Deur gebeure in die wêreld en die invloed op die lewens van mense, skuif dit egter na die agtergrond. Deur die samekoms in die erediens en deur die bystand van die Gees, hoor en beleef ons telkens opnuut dat ons vrygemaak is - dat ons mens kan wees soos God dit in Christus bedoel en bewerk het (strofe 2, reëls 5-8). Die erediens is dus 'n ruimte van herinnering. Mense word aan hulle vryheid herinner én verkry die vryheid opnuut, deur die 'performatiewe' krag van die erediens (Plüss 2007). En omdat die vryheid opnuut ervaar word, kan die hoorders sing - onbevange sing - en almal oproep om God se lof gesamentlik en in gemeenskap te verkondig (strofe 3, reël 1).
In die eerste twee strofes van die lied is die fokus op die aard van die erediens en die wyse waarop God teenwoordig is. Eers word beklemtoon dat God die erediens tot erediens konstitueer, dan word meer gesê oor dit wat God in die erediens (en wyer) doen. 'n Groot aantal werkwoorde dui op die werk van God: God gee, laat wees, maak teenwoordig, seën, bind, skep ruimte, staan by (help), maak vry, heilig mense - en by implikasie: maak die ruimte heilig. In die derde strofe is die fokus volledig op die gemeente en wat die gemeente as bevryde en geheiligde mense moet doen: die gemeente word herinner om met blydskap te sing en God sonder ophou te loof en te dank.
Die ruimte van die kerklied: 'n Teologiese perspektief
Musiek open ruimte vir die evangelie
'Singet dem Herrn ein neues Lied. Singet dem Herrn alle Welt!' … God het ons hart en gemoed vrolik gemaak deur sy liewe Seun, wat hy vir ons gegee het tot verlossing van sonde, dood en duiwel. Wie dit met erns glo, kan nie anders as om vrolik en met lus daarvan te sing en te praat nie, dat ander dit ook hoor en sal kom.
Luther, in Voorwoord Babstschen Gesangbuch (1545) uit Leipzig,
aangehaal in Herbst (2001:195) (Vertaling EK)
In sy rede in 1544 met die inwyding van die kerk in Torgau, sê Luther (WA 49:588) dat die lied gebed en lofsang kan wees, maar dat dit in die uitvoering ook God se heilige Woord kan word. In hierdie voorwoord, die laaste voor sy dood, vat hy sy teologiese waardebepaling van sang en musiek saam, en gee sang en spreke naas mekaar plek in die verkondiging van die Evangelie. Die regverdiging uit die genade bring die wil en die vryheid om te sing. Sola Scriptura of 'deur die Woord' beteken dus nie slegs die gesproke woord nie.18 Die goeie nuus bepaal ook die manier waarop die gelowiges moet sing - met die viva vox, die lewende stem van die Evangelie, wat ander wat dit hoor, bly maak en lewend maak deur die hoor van die Evangelie. Hierdie blye verkondiging van God se lof deur die lied word in die derde strofe van Lied 154 ook sterk beklemtoon. Die aanvangsreël is 'n opname van Psalm 98, Efesiërs 5:18 én die oproep van Luther, wat ook 'n slagspreuk van die Reformasie was: Sing vir die Heer 'n nuwe lied. Dit wat in die ruimte van die gebou verklank en gehoor word, mag nie deur die mure gedemp word nie - niks mag die lofsang ingrens nie. Ja, selfs déúr die mure van die kerk moet God verkondig word: Sing vir die Heer oor die hele wêreld!
Musiek transendeer ruimte; Musiek skep ruimte vir die geloof
Musiek transendeer die ruimte waarbinne dit uitgevoer word. Dit breek deur mure. Dit breek deur grense. Dit breek iets oop - in mense en deur mense. Musiek skep nuwe ruimte. 'Sing met vuur' verwys na die teenwoordigheid van die Heilige Gees in die sang, wat mense 'aanvuur'. Met die sing van die lied kan mens iets in mense se harte aansteek wat soos 'n vuur verder versprei.19 By die byeenkoms in Bloemfontein is gevra of daar 'n sterker boodskap van hoop kan uitgaan na mense wie se lewenstaak dit is om die lied vir mense oop te breek, om die lied van geloof te ontsluit? Met die lied en met musiek skep ons ruimte. Met die lied skep ons ruimte vir die geloof om gelééf te word. Ons skep daarmee die ruimte om deur die geloof die vryheid te ervaar wat uitstyg bo alle ruimtes - en wat tot in ewigheid strek. Kan daar 'n sterker boodskap van hoop wees?
Ruimtes waar die kerklied werk
In die voorafgaande uiteensetting is belangrike teologiese beginsels vir die erediens en die ruimte wat dit open aan die hand van 'n lied, uiteengesit. Uit die uiteensetting kan 'n mens ook sien dat ses van die hoofterreine20 van die kerk se werksaamhede, en dus ook die ruimtes waarbinne die kerklied funksioneer, in die lied ter sprake kom:
-
Die erediens, viering en lof, wat dui op die liturgiese en doksologiese werking van die lied.
-
Die koinoniale werking of gemeenteopboufunksie, wat blyk uit begrippe soos vergader, saamkoms, in eenheid gebind of verenig word en die verwysing na bouwerk (kyk Kloppers 2015b vir 'n meer omvattende bespreking).
-
Verkondiging deur die lied, wat dui op die kerugmatiese werking.
-
Die missionale werking: die geloof wat ook deur die mure na buite verkondig word.
-
In 'n mindere mate is ook sprake van 'n lerende of kategetiese werking (catecheia).
-
Die pastorale werking, wat aangedui word deur die teenwoordigheid van Christus deur die Heilige Gees of Trooster, en begrippe soos vryheid/vrymaking, onbevangenheid, seën en dankbaarheid.
Hier is sprake van 'n sirkelbeweging: van die individu wat saam met ander tot viering geroep word, na die gemeenskap wat saamkom - en wat, in die verkondiging aan mekaar, verenig word as die gemeente van Christus. Die lied is 'n vocativus-lied - die oproep tot die groep, wat staan teenoor die meer persoonlike en subjektiewe lied (kyk die bespreking in Kloppenburg 1996:18). Vocativus kan ook gelees word as die roeping (vocation) tot priesterskap van gelowiges (kyk Kirchenamt der EKD 2014/2015:89-90 oor wat 'priesterskap van die gelowiges beteken). Naas 'n 'gewone' erediens, is hierdie lied gepas by die opening van 'n sinode of ander kerklike vergadering (Hy skep die ruimte vir sy werk). Verder is die lied ook gepas by 'n kerk- of orrel-inwyding (Hy seën wat ons bou; vul alles hier met klank). Vanuit die gemeente word uitbeweeg met die verkondiging en troos na die buitewêreld, en vandaar werk dit ook weer terug in die individu wat die helende krag, die pastorale werking deur die erediens én die lied ervaar:
Geistliche Lieder sind … nicht nur Träger der Klage und des Lobs der Christenheit, sondern verkündigen Christus. Ja mehr noch: Christus selbst ist es, der sich durch sie der Gemeinde mitteilt. … Kirchenmusik bezeugt Christus, ja Christus bezeugt sich selbst durch sie. Die Kommunikation des Evangeliums im Raum der Kirche geschieht im lebendigen Wechselspiel von Anrede und Antwort, von Klage, Verkündigung und Lob. Sie braucht die Musik, um die heilsame Kraft des Evangeliums in den Tiefenschichten des Menschen zum Klingen zu bringen.
Jochen Arnold - Ton der Tiefe (2012)21
Ruimte vir verkondiging - Die lied as teks vir 'n preek
Uit die teologiese ontleding of eksegese van die teks van die lied, blyk dat sterk geloofsperspektiewe in verdigte vorm (in kleinvorm) in 'n lied of selfs net in 'n reël opgesluit kan lê. Daaruit blyk ook hoe die vernaamste beginsels van die Reformasie in één lied saamgevat is - sake wat met die eerste sing daarvan dalk net deels waargeneem word. Só 'n teologiese uiteensetting kan (in gesproke vorm) op die volgende wyses benut word: in die bekendstelling van 'n nuwe lied, in die bespreking oor 'n lied in 'n toerustingsprogram, of as onderbou van 'n preek oor die lied, waar die Bybelgedeelte(s) wat deur die lied ter sprake kom, ook tot spreke gebring kan word (kyk hier na verskillende dele uit die brief aan die Efesiërs, maar veral Ef 5:15-20).
Die Gattung van die liedpreek is al van die tyd van die Reformasie 'n gegewe in baie kerke (kyk Rössler 1986 vir 'n omvattende bespreking van die geskiedenis van die liedpreek). Koerrenz (1994:70) beklemtoon dat dit in die liedpreek in die eerste plek om die teks van die lied gaan wat as teks van die preek dien. Hierdie moontlikheid kan in die herdenkingsjaar nuut ontgin word om daarmee bekendheid met liedere te bevorder en die werking van liedere te versterk (kyk Kloppers 2015a vir 'n bespreking van 'n liedpreek van die Duitse teoloog en musikus, Jochen Arnold).
Performatiewe werking van die lied in (die ruimte van) die sanger-hoorder
In die voorafgaande bespreking is enkele voorbeelde gegee van wyses waarop 'n mens met die kerklied kan omgaan om die bewussyn vir die lied en die werking van 'n lied te versterk, veral in hierdie herdenkingsjaar. Die ware werking van 'n lied lê egter in die sing daarvan - in die uitvoering of performance. 'n Lied het performatiewe krag - dit bewerk iets in die hoorder. 'Performatiewe krag' is 'n term uit die spraakhandelingsteorie binne die semiotiek, waarmee aangetoon word dat daar deur die spraak/spreekhandeling 'n werking uitgaan wat nie slegs beweer of iets uitspreek nie, maar wat dit wat gesê word, konkreet bewerk. As iemand byvoorbeeld sê: 'Ek vergewe jou', ervaar die hoorder die werking van vergifnis. Die begrip 'performatiewe krag' is ook in die ritueelwetenskap oorgeneem en uitgebou (kyk onder meer Dücker 2007:114-122).
Bubmann (2013:186) verwys na die 'teofoon-transendent'-ontsluitende moontlikhede van die lied en vra of daar genoeg rekening gehou word met die performatiewe krag van die erediens en die kerklied - of musiek in die erediens só geïnterpreteer word dat dit die performatiewe ruimte van religieuse ervaring word? 'Animieren wir durch unsere Musik die Gottesdienstbesucherinnen zu inneren und äußeren Partizipation? Fördern wir also das existenzielle Singen und Hören?' (Bubmann 2013:188).
In hierdie lied word die sangers en die hoorders daaraan herinner dat God mense verenig, hulle seën, hulle vrymaak. Deur hierdie herinnering word iets soortgelyks in mense bewerk. Mense kan met die sing van hierdie lied konkreet en eksistensieël bevryding ervaar, of seën, of 'n gevoel van eenheid of vreugde, wat samewerkend bydra tot geloof en hoop. Die lied konkretiseer die geloof - dit verklank die geloof, ons stem daarop in, en sing onsself die geloof te binne. Deur die uit-voering, gaan ons onsself ook te buite. Met die sing van 'n kerklied word die ego deurbreek en die begrensinge van die eie ek oorskry. So bewerk 'n mens se stem ook iets in die mense wat dit hoor. So kan 'n mens ook die wêreld verander.
Ruimtes deur die melodie gevorm
Die melodie van hierdie lied is feestelik en jubelend. Die aanvangsnoot klink vier keer, om almal wat saamgeroep word eers sáám te kry voordat aanbeweeg word. Dit is dus 'n mooi uitbeelding van die teks. Westermeyer (2005:259) verwys na melodieë wat op herhaalde note begin 'in order to prepare for a passionate leap', wat ook met dié melodie die geval is. Interessant die emosie wat hy aan die progressie verbind! Die melodie het 'n wye omvang: dit reik na bo, draai diep onder en styg dan weer. Dit eindig op die tonika, dieselfde toon as waarop dit met die vier note begin het - dus op 'vaste grond'. In die opbou weerspieël dit die argitektuur van 'n kerkgebou; dus weer die metafoor van ruimte wat na vore kom. Dit beeld ook die omvang van die kerk se werk uit: om te reik na die hemel en mense van die transendente dimensie bewus te maak, maar om ook diep af te buig na mense wat dit op hierdie aarde nodig het.
Nuwe ruimte vir die sakrale - Nuwe sakraliteit in ruimtes
Kerkgangers word van kindsbeen af geleer dat die gebou, die ruimte, nie belangrik is nie. Tydens die byeenkoms van SAKOV in Bloemfontein, is egter die volgende gevra: het ons nie pas ervaar hoe hierdie kerkruimte en hierdie orrel deur die musiek ruimte om ons en in ons geskep het nie - en hoe ons deur die sing van die lied ruimte vir mekaar geskep het nie? Het ons nie ervaar hoe hierdie ruimtes God se bevrydingswoord laat klink het en hoe dit in ons kon weerklank vind nie? Het ons nie die bo-ruimtelike, die transendente, die teenwoordigheid van God juis in hierdie ruimte ervaar nie? Die geloof is deur die lied verklank, die musiek het inderdaad die ruimte geskep, maar die wydheid van die mure, die hoë dak, die weerklank, die lewende(!) akoestiek het óók daartoe bygedra.
Luther en Calvyn het op die oordaad van die Roomse kerke gereageer. Die ruimtes in die kerke vandag is veel meer gestroop. In die sewentigerjare van die vorige eeu het dit mode geword om gemeentesentrums te bou. Dit moes meerdoelig wees. Dit moes selfs soos winkelsentrums lyk, sodat dit kon aansluit by en deel wees van mense se alledaagse lewe. Met die beginsel van uitreik na die wêreld is nie fout te vind nie - maar die gebou en wat dit uitstraal, wat dit oor God en die geloof kommunikeer, is ook belangrik. Dit dra by tot die geheelervaring van die erediens. Ons leef trouens in 'n gemeenskap wat die 'ervarings-' of 'belewenisgemeenskap' genoem word (Hauschildt 2006). In die liturgiewetenskap is ook reeds belangrike empiriese ondersoeke gedoen oor die wyse waarop mense die erediens en die kerklied beleef (Knecht 2011; Kaiser 2012). In 2008 en 2009 is verder ook in Duitsland 'n groot empiriese studie oor die kerklied en hoe dit ervaar word, gedoen. Mense wil nie bloot 'verstandelik' aangespreek word nie, maar wil in hul wese geraak word. In die ruimte van die alledaagse het mense 'n behoefte aan dit wat heilig is, aan die 'sakrale'22 - aan ruimtes waar 'n mens iets van 'n heiligheid, iets van die transendente en iets van God se teenwoordigheid kan ervaar (De Wildt, Kranemann & Odenthal 2016; Erne 2007; Raschzok 2014). Daarom word simbole en beelde teruggebring in kerkruimtes en gemeentesentrums, en het meditatiewe dienste, waar kerse, stilte en ingetoë musiek 'n groot rol speel, oor die afgelope twintig jaar hier gewild geword (in Europa reeds vroeër, veral deur die invloed van Taizé). Religieuse of geloofsrituele speel 'n belangrike rol23 en staan ook in die middelpunt van ondersoeke in die teologie en religiewetenskap (kyk Brosius & Michaels 2013; Dücker 2007).
Reformasie en transformasie van die lied - Reformasie deur die lied
Speelruimtes van vryheid
Die 'nuwe' bewussyn vir rituele, vir gewyde ruimtes, open ook nuwe ruimte vir die kerklied, vir 'gewyde' musiek en vir die erediens wat ook op nuwe, kreatiewe wyses vergestalt word. Die orrel, eerstens as 'n instrument wat doelmatig funksioneer, maar ook as 'n simbool wat oor baie eeue met die kerkgebou (met 'heilige ruimtes') geassosieer word, kan steeds 'n plek behou - of juis nuwe ruimte kry. In 'n wêreld waar talryke klankmoontlikhede bestaan, is dit 'n gegewe dat die orrel nie sonder meer 'n 'bevoorregte' plek of ruimte kan hê nie. Hier is die geleentheid om positief op te tree en sáám met ander binne die ruimte van geloofuitlewing (waar elkeen afsonderlik werksaam is) 'n verskil te maak, na die aard van die mense en die geloof in daardie ruimte, daardie spesifieke konteks en die moontlikhede tot samewerking binne daardie konteks.
Die kerklied is die taal van geloof - dit het Luther geleer. Die vryheid van geloof bied die ruimte om in elke situasie nuwe keuses te maak wat gepas en relevant is, wat eg kommunikeer, wat pastoraal sensitief is, wat Christus en die geloof waardig verkondig. 'n Mens kan dus nie vanuit een konteks voorskrifte vir 'n ander konteks gee nie. Peter Bubmann (2013:176-189) toon aan dat in die soeke na kriteria vir passende musiek vir die erediens, die onderliggende verstaan van religie, erediens en die kerk medebepalend is. Ook die siening oor die verhouding tussen geloof en die omringende kultuur speel 'n rol. Sienings oor hierdie sake kan van mens tot mens en konteks tot konteks verskil - daarom kan die middele van 'n normatiewe estetika nie op sigself aangewend word nie. Vanuit 'n bepaalde kundigheid en ervaring, kan 'n mens wel riglyne en moontlikhede gee vir 'n nuwe, ander verklanking van die geloof - wat ook gerig is op verandering by mense. Die wese van die erediens self is dat dit op transformasie, op reformasie, gerig is. Die mens wat by die erediens uitstap, behoort 'n ander mens te wees as die een wat daar ingestap het. Dit moet 'n mens wees wat inderdaad geraak is, wat die erediens met alle sintuie en met die liggaam ervaar het, wat aangesteek is deur die vuur van God se Woord in die preek, in die sang, in die erediens as geheel.24
Spanning tussen ruimtes - Verskuiwing van perspektiewe
Sover dit die kerklied en reformasie betref, word altyd in teologiese, ekklesiologiese, liturgiese, himnologiese, antropologiese, kulturele, psigologiese, spirituele en ekumeniese spanningsvelde beweeg, wat konstant verskuiwing van perspektiewe teweeg bring en wat finale oordele uitsluit. Vir mense wat gestalte aan die erediens gee, gaan dit voortdurend oor balans tussen estetika en etiek; funksionaliteit en atmosfeerskepping; verstand en emosie; historiese getrouheid en eietydse gestaltegewing; kwaliteit en populariteit; tradisie en kreatiwiteit (let op, daar word juis nie 'n onderskeid tussen tradisie en vernuwing gemaak nie, omdat vernuwing in 'n bepaalde konteks ook deur herwinning van die tradisie bewerk kan word). Dit gaan ook oor Christelike identiteit en 'n algemene kultuur-religiositeit; ortodoks-konfessionele geloofsuitsprake en poëties-simboliese grensoorskryding; die eie verhaal en die groot verhaal; die individuele en kollektiewe; die individu en die gemeenskap; die plaaslike kerk en die wêreldwye kerk, die una sancta ecclesia.
Samevatting: Oorbrugging van ruimtes - Verlede en hede met die oog op die toekoms
Die vierings in 2017 bied die geleentheid om te vra watter perspektiewe vir vernuwing 'n blik op die geskiedenis kan bied, en in die besonder: watter vernuwende moontlikhede musiek kan bied. Luther het beklemtoon dat musiek 'n gawe is en dat dit die verkondiging van die evangelie moet dien. In die erediens moet dit uitdrukking wees van die regverdiging - dus van geloofsvryheid. Kerkmusiek en die kerklied is die taal van geloof - en die vryheid van die geloof het geen wette nodig wat oor eeue vasstaan nie. Die meerdimensionaliteit van die Christelike geloof kan nie anders as om in veelvoudige kulturele vorme uitdrukking te vind nie - ook in 'n verskeidenheid van musiek- en sangvorme, wat verskillende tipes van spiritualiteit en die verskil in uitlewing van mense se geloof akkommodeer. Om nuwe liedere te sing, is dus belangrik, maar waar ons 500 jaar van Reformasie herdenk, is dit die geleentheid om mense daaraan te herinner om ook die oorgelewerde lied, die lied van die tradisie, die lied van die ekumene, te sing. Die voorgangers in die geloof moet ook onthou word.
Hier lê die kern van die betoog: die tradisie moet altyd nuut geïnterpreteer word, anders stagneer of sterf dit. Die afstand tussen die hede en die verlede moet doelbewus oorbrug word. Dit is die uitdaging in die verruimde klankwêreld waarin ons leef: Die lied moet in elke ruimte nuut opklink. Dit moet die geloof nuut verklank. Dit is wat Martin Luther gedoen het: die liedere uit die Roomse tradisie wat hy behou het, het hy nuwe lewe in 'n nuwe ruimte gegee. Deur die lied in die mense se mond te plaas, het hy die kerklied gereformeer. Daarmee is die ruimtes in mense omskep, is hul getransformeer en is die kerk deur hulle ook gereformeer. So word mense deur die lied steeds nuut gevorm of herskep. Kerkmusici en liturge speel hierin 'n wesenlike rol. Uiteindelik is hervorming en nuutskepping egter net moontlik deur die werk van die Skepper-Gees. Daarom die ou lied uit die middeleeue, die gebed wat in die herdenkingsjaar 2017 met nuwe klank en nuwe vuur gebid word: Veni, Creator, Spiritus …25
Kom, Heilige Gees, laat klink die lied van die geloof,
laat dit klink oor die wye ruimte van die wêreld;
laat dit in die ruimtes van die hart resoneer en só mense en die kerk voortdurend reformeer.
Erkenning
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.
Literatuurverwysings
Arnold, J., 2012, 'Ton der Tiefe', in Reformation und Musik, besoek 10 September 2016, http://www.ekd.de/reformation-und-musik/hintergrund/18820.php [ Links ]
Arnold, J., Fendler, F., Grüter, V. & Kaiser J. (Hrsg.), 2013, Gottesklänge. Musik als Quelle und Ausdruck des christlichen Glaubens, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. [ Links ]
Bönig, W., 2007, Musik im Raum der Kirche: Fragen und Perspektiven. Ein ökumenisches Handbuch zur Kirchenmusik, Carus, Stuttgart. [ Links ]
Brosius, C. & Michaels, A. (Hrsg.), 2013, Ritual und Ritualdynamik: Schlüsselbegriffe, Theorien, Diskussionen, Vandenhoeck, Göttingen. [ Links ]
Bubmann, P., 2013, 'Zur Kriteriologie der Musik im Gottesdienst', in J. Arnold, F. Fendler, V. Grüter, J. Kaiser (Hrsg.), Gottesklänge. Musik als Quelle und Ausdruck des christlichen Glaubens, pp. 175-189, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. [ Links ]
De Wildt, K., Kranemann, B. & Odenthal, A. (Hrsg.), 2016, Zwischen-Raum Gottesdienst: Beiträge zu einer multiperspektivischen Liturgiewissenschaft, Kohlhammer, Stuttgart. [ Links ]
Dücker, B., 2007, Rituale. Formen - Funktionen - Geschichte. Eine Einführung in die Ritualwissenschaft, J.B. Metzler, Stuttgart. [ Links ]
Erne, T., 2007, 'Die Wiederentdeckung des Raumes in der Evangelischen Theologie', Zeitschrift der Gemeinsamen Arbeitsstelle für gottesdienstliche Fragen der Evangelischen Kirche in Deutschland 21(2), 5-13. [ Links ]
Gregory, B.S., 2012, The unintended Reformation: How a religious revolution secularized society, Harvard University Press, Cambridge, MA. [ Links ]
Hauschildt, E., 2006, 'Musik in der Erlebnisgesellschaft', in G. Fermor & H. Schroeter-Wittke (Hrsg.), Kirchenmusik als religiöse Praxis, pp. 86-89, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. [ Links ]
Herbst, W., 2001, Wer ist wer im Gesangbuch? 2. Auflage, Vandenhoeck & Rupecht, Göttingen. [ Links ]
Institut für Ökumenische Studien der Universität Freiburg, Schweiz, Friedrich Reinhardt Verlag, Basel, viewed 18 September 2016, from https://www.unifr.ch/iso/assets/files/Publikationen/Iserloh_Inhalt.pdf [ Links ]
Iserloh, E., 1962, Luthers Thesenanschlag, Tatsache oder Legende? Steiner, Wiesbaden. [ Links ]
Kaiser, J., 2012, Religiöses Erleben durch gottesdienstliche Musik. Eine empirisch-rekonstruktive Studie, Vandenhoeck & Rupecht, Göttingen. [ Links ]
Kennel, G., 2004, 'Die Rolle der Musik in der gottesdienstlichen Inszenierung', in I. Mildenberger & W. Ratzmann (Hrsg.), Klage - Lob - Verkündigung, pp. 91-112, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. [ Links ]
Kirchenamt der Evangelischen Kirche in Deutschland (EKD), 2014/2015, Rechtfertigung und Freiheit. 500 Jahre Reformation 2017, 4. Auflage, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh. [ Links ]
Kloppenburg, W., 1996, De mond geopend voor een lied. Over het kerklied, Boekencentrum, Zoetermeer. [ Links ]
Kloppers, E., 2003, 'Die erediens as Gesamtkunstwerk', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 44(1&2), 80-88. [ Links ]
Kloppers, E., 2015a, 'Bewegung und Wiederhall. Zu Jochen Arnolds Liedpredigt', in H. Schwier (Hrsg.), Ostern Predigen, pp. 115-118, LIT Verlag, Berlin. [ Links ]
Kloppers, E., 2015b, 'Elkaar zijn wij gegeven… Die rol van sang in die vorming en opbou van die geloofsgemeenskap', HTS Theological Studies 71(3), 1-7. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.3036 [ Links ]
Knecht, A., 2011, Erlebnis Gottesdienst. Zur Rehabilitierung der Kategorie "Erlebnis" für Theorie und Praxis des Gottesdienstes, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. [ Links ]
Koerrenz, R., 1994, 'Bausteine zu einer Theorie der Liedpredigt. Ein biblisch-ökumenischer Entwurf', in R. Koerrenz & J. Remy (Hrsg.), Mit Liedern predigen. Theorie und Praxis der Liedpredigt, pp. 69-96, CMZ-Verlag, Rheinbach-Merzbach. [ Links ]
Kurzke, H., 2004, 'Frömmigkeit ohne Glauben - Aphorismen über Christentum als Kultur', in M. Fischer & C. Senkel (Hrsg.), Säkularisierung und Sakralisierung. Literatur ̵̶ Musik - Religion, pp. 205-213, Francke, Tübingen. [ Links ]
Kurzke, H., 2010, Kirchenlied und Kultur, Francke, Tübingen. [ Links ]
Luth, J., 1986, Daer wert om 't seerst uitgekreten…, Van den Berg, Kampen. [ Links ]
Luther, M., 1883-2009, 'Werke. Kritische Gesamtausgabe', WA 49, Predigten 1540/1545, Weimar. [ Links ]
Möller, C., 1995, '"Ein neues Lied wir heben an." Der Beginn des reformatorischen Singens im 16. Jh. und die Einführung eines Evangelischen Gesangbuches am Ende des 20. Jahrhundert', Zeitschrift der Gemeinsamen Arbeitsstelle für gottesdienstliche Fragen der Evangelischen Kirche in Deutschland 24, 15-30. [ Links ]
Plüss, D., 2007, Gottesdienst als Textinszenierung. Perspektiven einer performativen Ästhetik des Gottesdienstes, Theologische Verlag Zürich, Zürich. [ Links ]
Raschzok, K., 2014, Traditionskontinuität und Erneuerung. Praktisch-theologische Einsichten zu Kirchenraum und Gottesdienst, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. [ Links ]
Reich, C., 1997, Evangelium: klingendes Wort. Zur theologischen Bedeutung des Singens, Calwer, Stuttgart. [ Links ]
Rössler, M., 1986, Die Liedpredigt, Vandenhoeck, Göttingen. [ Links ]
Schwier, H., 2009, 'Rituale und Liturgien in der "Kirche des Wortes". Theologische Überlegungen zur religiösen Kommunikation', in T. Pfeiffer (Hrsg.), Sprachen ohne Worte, pp. 111-126, Winter, Heidelberg. [ Links ]
Westermeyer, P., 2005, Let the people sing. Hymn tunes in perspective, GIA Publications, Chicago, IL. [ Links ]
Wolff, U., 2013, Iserloh. Der Thesenanschlag fand nicht statt [Studia Oecumenica Friburgensia 61]. [ Links ]
Woydack, T., 2007, 'Raum, Glaube, Mensch und Kirche. Die Gottesbeziehung als räumliches Geschehen', Zeitschrift der GAFG der Evangelischen Kirche in Deutschland 21(2), 14-22. [ Links ]
Zimmerling, P., 2007, 'Heilige Räume im Protestantismus - gibt es das?', Zeitschrift der Gemeinsamen Arbeitsstelle für gottesdienstliche Fragen der Evangelischen Kirche in Deutschland 21(2), 23-32. [ Links ]
Correspondence:
Elsabé Kloppers
kloppec@unisa.ac.za
Received: 23 Mar. 2017
Accepted: 10 June 2017
Published: 29 Sept. 2017
1. Hierdie artikel is gebaseer op 'n voordrag, die GG Cillié Gedenklesing, gehou tydens die Jaarvergadering van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) gedurende September 2016.
2. Die oorgelewerde verhaal waarvolgens Luther op 31 Oktober 1517 die stellings teen die deur van die Slotkerk in Wittenberg, Duitsland, sou gespyker het, kan nie met sekerheid bewys word nie. Die 95 stellings, wat as grondslag vir 'n akademiese dispuut oor die temas moes dien, was wel aangeheg aan die briewe wat Martin Luther aan biskoppe en ander geestelikes geskryf het (Iserloh 1962; Wolff 2013), https://www.unifr.ch/iso/assets/files/Publikationen/Iserloh_Inhalt.pdf, Web besoek: 18 September 2016.
3. Luther 2017 Die Eine Welt http://www.ekd.de/themen/luther2017/eine_welt/index.html, en 500 Jahre Reformation. http://www.ekd.de/reformationstag/index.html, Web besoek: 18 September 2016.
4. 'Erinnerung heilen - Jesus Christus bezeugen'. Gemeinsames Wort zum Jahr 2017. http://www.ekd.de/presse/pm119_2016_gt24_heilung_erinnerung.html, Web besoek: 18 September 2016.
5. Die Wêreldraad van Kerke, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGRK) en die Lutherse Wêreldfederasie dien as voorbeelde.
6. Stiftung Oekumene http://www.oikoumene.net/home/global/harare98/harare.kap2/index.html, Web besoek: 20 September 2016.
7. Nun danket alle Gott. Teks: Martin Rinckart (1586-1649). Musiek: Johann Crüger (1598-1662).
8. Lobe den Herren, den mächtigen König. Teks: Joachim Neander (1650-1680). Gebaseer op Psalm 103. Komponis onbekend.
9. The Day Thou gavest, Lord, is ended. Teks: John Ellerton (1826-1893). Musiek: Clement C. Scholefield (1839-1904). ST CLEMENT. In die Liedboek (LvdK 567) staan die Afrikaanse weergawe in die rubriek aandliedere. Die Duitse weergawe in die Evangelisches Gesangbuch staan egter in die rubriek 'Ekumene'.
10. Die lied is afkomstig van die Latynse Te Deum uit die vierde eeu, in Duits berym deur die katolieke Priester, Ignaz Franz, in 1768. Dit verskyn die eerste keer in Allgemeines Katholisches Gesangbuch in ongeveer 1774 in Wenen. Die lied is dus van Rooms-Katolieke oorsprong. Kyk die interessante bespreking in Kurzke (2010:197-198).
11. In Deel III van Gottesklänge (Arnold et al. 2013) word 'n verskeidenheid nuwe perspektiewe op die ekumeniese werking van die kerklied gegee.
12. Erinnerung Heilen - Jesus Christus bezeugen. Gemeinsames Wort zum Jahr 2017. http://www.ekd.de/presse/pm119_2016_gt24_heilung_erinnerung.html, Web besoek: 20 September 2016.
13. Die teorieë van die Duitse sosioloog, Max Weber (1864-1920), wat 'n verband gelê het tussen die Protestantse etiek en kapitalisme, het steeds 'n invloed op filosowe, teoloë en ander navorsers wat die invloed en die nagevolge van die Reformasie op godsdiens, kultuur en die samelewing ondersoek. 'n Uitgebreide werk oor die (moontlike) nagevolge van die Reformasie is dié van Gregory (2012). Navorsers beklemtoon verskillende aspekte - kyk die berig oor 'n konferensie (November 2015) in dié verband: https://www.luther2017.de/kr/neuigkeiten/reformation-und-saekularisierung/, Web besoek: 18 Desember 2016.
14. Hierdie kernpunte wat met die partikel 'slegs' of 'alleen' ingelei word, dateer, in die uitgebreide vier- of vyfdelige vorm, eers uit die negentiende eeu. Al die kernpunte is egter op tekste uit die sestiende eeu gebaseer. Voetnota 7 in Kirchenamt der EKD (2014/2015:47).
15. Teks: Elsabé Kloppers (Eerste weergawe 1997, finale weergawe 2000). Musiek: A Valerius in Neder-landtsche gedenk-clanck 1626. Komt nu met zang van zoete tonen.
16. Die Reformatoriese beginsel van solus Christus word hier singend verkondig.
17. Die woord 'genade' beteken oorspronklik 'om jou te neig', om nader te kom, om oor te buig. 'God is die mense genadig' beteken dus: God buig oor na mense of 'kom nader'. Uit vryheid en liefde kom God na mense. Hierdie liefde is heeltemal in God self gegrond. Dit is ook op ons as geheel-mens gerig - nie net op dit wat liefde waardig sou wees nie. Dit is volgens die Reformatore die onderskeid tussen menslike liefde en God se liefde (vertaling EK).
18. Die saak oor verkondiging deur musiek en ander kunsvorme, het ek vroeër beredeneer (Kloppers 2003). Vir 'n meer resente bespreking van verkondiging in die 'Kerk van die Woord', is dié van die Heidelbergse Nuwe Testamentikus en liturgiewetenskaplike, Helmut Schwier (2009), relevant.
19. As die vuur aangeblaas word deur die Gees, wat terselfdertyd óók asem is (Hebreeus: ruach is asem, wind), is die krag soveel sterker.
20. Diakonia of diens is 'n verdere terrein, wat in dié lied egter nie sterk na vore kom nie.
21. Geestelike liedere is nie slegs draers van die klag en lof van die Christendom nie - dit verkondig ook Christus. Ja, nog meer: dit is Christus self wat hom deur die gemeente meedeel. Kerkmusiek betuig Christus / getuig van Christus; ja, Christus betuig homself deur die liedere. Die kommunikasie van die Evangelie in die ruimte van die kerk gebeur in die lewende wisselspel van (aan)spreek en antwoord, van klag, verkondiging en lof. Die Evangelie het die musiek nodig om die heilsame krag van die Evangelie in die diepste lae van die mens te laat klink/tot klank te bring (vertaling Kloppers).
22. Die literatuurwetenskaplike en himnoloog, Hermann Kurzke (2004:205-213), gee insiggewende 'aforismes' oor die Christendom as kultuur en die nuwe betekenis van sakraliteit in die huidige kultuur.
23. Die vergestalting van die kerkgebou en simboolhandelinge het ook 'n besondere rol gespeel tydens die gesamentlike erediens van die EKD en die Rooms-Katolieke Kerk in St. Michaelis in Hildesheim, Duitsland, op 11 Maart 2017.
24. Kyk Kloppers (2003) oor die begrip Gesamtkunstwerk of eenheidkunswerk wat bydra tot die geheelervaring, asook Kennel (2004:94-102).
25. Die Gedenklesing tydens die SAKOV byeenkoms in September 2016 is met hierdie gebed afgesluit, in aansluiting by die lied, Veni Creator Spiritus. Die gesamentlike erediens, die Christusfees in St. Michael's in Hildesheim, Duitsland, op 11 Maart 2017, is singend met dié lied geopen, en afgesluit met 'n verwerking van die lied as grootse naspel op die orrel. 'n Besondere inclusio is só verkry: die boodskap is uitgedra dat alles wat in die kerk gebeur, ook vóór en ná die erediens, van die werk van die Skepper Gees afhang.