Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus)
On-line version ISSN 2224-3380
Print version ISSN 1726-541X
SPiL plus (Online) vol.68 Stellenbosch 2024
http://dx.doi.org/10.5842/68-1-939
ARTICLES
Oranjerivierafrikaans: 'n Argeologiese genealogie. Deel II: 1917 - 1979
Luan Staphorst
Leerstoel vir Kritiese Studies in Hoër Onderrig Transformasie, Nelson Mandela Universiteit, Suid-Afrika; Fakulteit Engelse Taal- en Letterkunde, Lincoln College, Universiteit van Oxford, Engeland. E-pos: luan.staphorst@mandela.ac.za; luan.staphorst@lincoln.ox.ac.uk
OPSOMMING
Dié tweede deel van 'n vierdelige artikelreeks ondersoek die geskiedenis van die sosiolinguistiek relatief tot Oranjerivierafrikaans, een van die drie hoofdialekkontinuums van Afrikaans, van die periode 1917 tot 1979. Begrond in die linguistiese geskiedskrywing in die breë, en Michel Foucault se argeologiese en genealogiese oriënterings in die besonder, skets die artikeldeel hoe die intellektuele geskiedenis van Oranjerivierafrikaans in die tydsgees van die diskoers van ras- en taalverbastering van 1917-1939, en die tydsgees van die taalatlas van 1940-1979, daar uitgesien het. Hierdie periode sien die vestiging van Afrikaanstalige taalkunde. Die optekenings van ondere andere Gideon von Wielligh, Stephanus Boshoff, John Rademeyer, Abel Coetzee, en Stephanus Louw word bespreek. Hierdeur daag die artikelreeks vier sentrale veronderstellings oor die taalvorm uit, naamlik dat daar 'n gebrek aan bronne oor die taalvorm is, dat dit redelik "onsigbaar" is, dat dit as 'n Swart Afrikaanse taalvorm getipeer kan word, en dat Kaapse Afrikaans, eerder as Oranjerivierafrikaans, as die "oudste" vorm van Afrikaans beskou moet word.
Sleutelwoorde: Oranjerivierafrikaans; etnolek; geolek; Afrikaanse sosiolinguistiek; linguistiese geskiedskrywing; intellektuele geskiedenis
ABSTRACT
This second part of a four-part article series investigates the history of sociolinguistics relative to Orange River Afrikaans, one of Afrikaans's three main dialect continuas, from the period 1917 to 1979. Grounded in linguistic historiography broadly construed, and Michel Foucault's archaeological and genealogical orientations specifically, this part of the article sketches how the intellectual history of Orange River Afrikaans in the period 1917-1979 can be divided into two Zeitgeists - the time of the discourse of racial and linguistic bastardization of 1917-1939, and the time of the linguistic atlas of 1940-1979. This constitutes the period of the establishment of Afrikaans-language scholarship. The writings of Gideon von Wielligh, Stephanus Boshoff, John Rademeyer, Abel Coetze, and Stephanus Louw are discussed. Through this, the article series challenges four central and dominant presuppositions on Orange River Afrikaans, namely that there are limited sources available relative to it, that it constitutes an "invisible" language form, that it can be typified as an expression of Black Afrikaans, and that Kaaps (Cape Afrikaans), rather than Orange River Afrikaans, should be regarded as the "oldest" form of Afrikaans.
Keywords: Orange River Afrikaans; ethnolect; geolect; Afrikaans sociolinguistics; linguistic historiography; intellectual history
1. Oriëntering
Waar die eerste artikeldeel van dié vierdelige artikel op die optekenings en studies van sosiolinguistiese aard relatief tot Afrikaans in die breë, en Oranjerivierafrikaans in die besonder, gedurende die tydperk 1595-1916, dit wil sê die aanvang van kontak tussen Nederlandse seevaarders met Kaapse Khoekhoen, gefokus het, ondersoek dié artikeldeel die eerste ses dekades van die Afrikaanstalige sosiolinguistiek. Die artikel as geheel is begrond in Michel Foucault se argeologiese en genealogiese oriëntasies ten opsigte van geskiedskrywing, met argeologiese geskiedskrywing wat verwys na die uitken en bestudering van intellektuele geskiedenis ten opsigte van argeologiese strata, of lae, waardeur diskoers figureer. Genealogiese geskiedskrywing, hierteenoor, vewys na die ondersoek van die verlede deur die lens van 'n uitgekende "probleem" in die hede. Die vier sentrale "probleme" wat die studie lei, sluit in die mistastings dat Oranjerivierafrikaans 'n "onsigbare" taalvorm is, dat daar min bronne bestaan wat dit reflekteer, dat dit as 'n vorm van Swart Afrikaans bestempel kan word, en dat Kaapse Afrikaans, eerder as Oranjerivierafrikaans, die "oudste" of "eerste" vorm van Afrikaans verteenwoordig. Die eerste artikeldeel het reeds vele van dié mistastings aangespreek deur op die lang tradisie optekenings van Oranjerivierafrikaans te let indien die taalvorm se ontwikkeling vanaf Khoe-Afrikaans sedert 1595 in ag geneem word. Hiernaas is uitgewys hoe die Khoekhoen, veral die Khoekhoen op die marges van die Kaap, telkens deur historiese beskrywings en ondersoeke deurskemer, terwyl die stem van wit trekboere wat hulself in nóú kontak met die Khoekhoen bevind het, "ongehoord" is. Verder is uitgewys hoe vroeë opvattings oor die taal wat Afrikaans sou word telkens aan idees oor 'gebrokenheid' en 'platheid' verbind is. Laastens is opgemerk dat die hegemoniese standaardiseringsproses van Afrikaans, wat deur die eerste en tweede taalbewegings gedryf is, telkens téén dié idees van 'gebrokenheid' en 'platheid' ingewerk het, maar belangrik ook aan 'n idee van 'witheid' verbind is.
2. Oranjerivierafrikaans en/as (ras/taal)verbastering, 1917-1939
Die eerste tydsgees waarin die sosiolinguistiek in Afrikaans as wetenskapstaal onderneem is, is moontlik die invloedrykste. In dié tydvak, wat die geboorte van die Afrikaanse sosiolinguistiek in die 1910's en 1920's tot net voor die hoogbloei van die taalgeografiese studies van die 1940's tot 1980's insluit, word Oranjerivierafrikaans as 'n mindere taalvorm beskryf, en een wat bepaald verbind is aan idees oor 'ras' en 'beskaafdheid'. Een van Afrikaans se eerste sosiolinguiste (hoe ongekunsteld sy studies ook al mag wees, vergelyk Du Plessis 2001; Swart 2010; Staphorst 2022b, 2023), Gideon von Wielligh, publiseer in 1918 'n artikel in Die Brandwag waarin hy oor die "dialektiese eienaardighede" van Afrikaans reflekteer. Hy onderskei nege "spraakgebiede", of "spraakafdelings", vir Afrikaans, onder andere die Boland, noordwestelike distrikte, westelike distrikte, Karoo en Koup, suidelike of kusdistrikte, oostelike distrikte, Vrystaat, Transvaal, en Natal. Die spraakgebiede van die noordwestelike distrikte, asook sekere dele van die westelike distrikte en Karoo en Koup, kan as deel van wat ons tans as Oranjerivierafrikaans bestempel, beskou word. Hier kan by Von Wielligh (1918b: 376-377) se kommentaar oor die noordwestelike distrikte in die besonder stilgestaan word:
Skole oprig, waar die bevolking rondtrek, is 'n moeilike taak. So het die mense daar die waarde van lees vergeet. Daarbij moet nog gereken word, dat die posvervoer daarheen nie al te goed was nie. Selfs dorpe en winkels was onbekende geriewe. Die smous was die handelaar. Die geleentheid vir verstandelike ontwikkeling was dus gering. Ook het die inboorlingstamme van daardie geweste op 'n lae trap van ontwikkeling gestaan. Die blanke het daar, om 'n sagte uitdrukking te gebruik, stil blij staan. Die spraak van die Hotnot het hier begin invloed uitoefen sodat woorde uit dié taal in die spreekwijse ingekruip het. In hierdie streke word die platste taal gepraat. Maar tog besit dit sulke pittige en raak-sê uitdrukkings, dat ons die spraak van daardie geweste nie van geringe waarde moet beskouw nie.
Hieroor kan verskeie opmerkings gemaak word. Eerstens, die rassistiese blik wat op "inboorlangstamme", by name die Khoekhoen, gewerp word, vernaamlik dat hulle "op 'n lae trap van ontwikkeling" staan. Dié "lae trap" blyk, aldus Von Wielligh, "blanke" Afrikaanssprekendes nadelig te beïnvloed het - nog 'n diskoers wat in rassekunde begrond is. Tweedens let Von Wielligh op die afwesigheid van 'n gemeenskaplike sosiale infrastruktuur, soos skole, winkels, en ander geriewe - veranderlikes wat moontlik bygedra het tot die afwesigheid van 'n leeskultuur (vergelyk Von Wielligh 1928 vir 'n verdere voorbeeld van sy sienings van die stand van die Afrikaner-leeskultuur van die vroeë 20ste eeu). Een van die gevolge hiervan, argumenteer Von Wielligh, is die verarming van taalgebruik. Derdens, die invloed van Khoetale op die spreektaal van die gebied; iets wat nogmaals verbind is aan 'n rassistiese denkraam waar die Khoekhoen en hul invloed as iets negatiefs uitgebeeld word. Vierdens, en grootliks n gevolgtrekking van die eerste drie punte, is dat die taalgebruik van die gebied "plat" is.
'n Paar maande voor die publikasie van sy bespreking van "dialektiese eienaardighede" in Mei 1918, verskyn 'n ander artikel, ook in Die Brandwag, waarin Von Wielligh oor die moontlikheid van 'n "taalkongres" bespiegel. In vele opsigte dien dit as 'n voorloper tot sy bespreking oor variasie in Afrikaans, siende dat die artikel die vraag oor variasie aanspreek in verhouding tot vrae oor eenheid en standaardisering van die taal. Von Wielligh maak enkele opmerkings oor die Afrikaanse "spraakdistrikte" wat hy in sy latere artikel meer breedvoerig bespreek. Alhoewel hy nie dieselfde name gebruik nie, en heelwat minder spraakdistrikte uitken, is dit weereens waardevol om op sy kommentaar op wat vandag as Oranjerivierafrikaans bekendstaan te let:
Die derde spraakdistrik is Namakwaland, Boesmanland en westelik Agter-Hantam. Dis jammer om te erken dat Namakwaland deur die verwaarlosing van kerk en staat agteruit gegaan is. En tog hulle verwaarloosde spraak is 'n vrugbaar veld vir taalstudie en menige diamantjie sal daar in die puinhope gevind word, n.l., wat pittigheid en raaksê betref.
Von Wielligh (1918a: 278)
Die toon van die paragraaf stem met dié oor die noordwestelike spraakdistrik ooreen, maar belangwekkend is dat hier nie bloot oor die unieke, "pittige" aard van die taalgebruik opgemerk word nie, maar dat daar onomwonde vir die taalkundige bestudering daarvan bepleit word.
Ná dié 1918-artikels publiseer Von Wielligh tussen Januarie 1921 en Julie 1922 'n string artikels in Die Huisgenoot. Dié artikels verskyn in 1925 in 'n enkele band wat as een van die eerste variasietaalkundige studies in Afrikaans bestempel kan word: "Ons geselstaal: 'n oorsig van gewestelike spraak, soos Afrikaans gepraat word". Alhoewel hy grootliks die indelings van spraakdistrikte volg wat hy in 1918 afgebaken het, het hy wel die grense daarvan aangepas, en in een geval 'n nuwe een geskep. Hier volg sy 1925-indeling:
No. 1. Die Boland, die Bakermat van Afrikaans.
No. 2. Noordwestelike Distrikte, Kaapprovinsie.
No. 3. Binnelande en Karo-streke.
No. 4. Suidelike Distrikte: Swellendam tot Port-Elizabeth.
No. 5. Oostelike Distrikte: Port-Elizabeth tot Basoetoeland.
No. 6. Vrystaat in sy geheel.
No. 7. Natal in sy geheel.
No. 8. Oostelike Transvaal.
No. 9. Westelike Transvaal.
No. 10. Griekwaland en Betsjoeanaland.
Von Wielligh (1925: 5-6)
Belangrik is dat die taalgebruik van Griekwaland (saam met die Afrikaans van Betsjoanaland, oftewel Botswana) as 'n eie spraakdistrik afgebaken is. Alhoewel Von Wielligh nie na Griekwaspraak spesifiek in sy 1918-artikel verwys nie, kan daar aangeneem word dat dit as deel van die noordwestelike distrik, waar die "platste taal gepraat" word, ingesluit word. Dié afleiding kan gemaak word deur op sy opmerking oor Griekwa-Afrikaans in sy 1925-studie te let, naamlik dat dit die "laagste vorm" (Von Wielligh 1925: 94) asook "swakste vorm van Afrikaans" (ibid. 206) is. Verder, soos sy bespreking van die taalkontakruimte van die noordwestelike distrikte, skilder hy die interkulturele, en spesifiek talige, kontak tussen Afrikaner en Griekwa as nadelig vir die "blanke" Afrikaanssprekende:
Die veeboer het in die dag veel tyd om te praat, en gevolglik het die welgestelde Griekwas geleentheid genoeg gehad om met die blankes te gesels. En hierdie geselsery het ongetwyfeld 'n baie nadelige invloed op die spraak van die blank [sic] trekboer uitgeoefen.
Von Wielligh (1925: 94)
Anders as by die korter artikels, sluit Von Wielligh verder 'n beskrywing van die Griekwas in: "Die Basters of Griekwas is 'n bloedvermenging tussen blanke vaders en Hottentotse moeders ... Daar hul moeders Hottentotse vrouens was, het die kinders 'n plat, onbeskaafde Afrikaans gepraat" (ibid. 157).
Hier verskaf Von Wielligh n goeie voorbeeld van die rassedenke van sy tyd. Die Griekwas word eerstens as n "baster"-groepering, die gevolg van "bloedvermenging", getipeer, en tweedens word die sogenaamde "swakheid", "platheid", of "onbeskaafdheid" van hul taalgebruik bepaald aan Khoe-invloed toegedig. Verder van belang is dat dit nie bloot Khoe-invloed is wat Griekwa-Afrikaans sogenaamd "nadelig" beïnvloed het nie, maar dat dit spesifiek die invloed van die Khoekhoen-moeders was. Alhoewel dit buite die perke van dié artikel val, kan die ondersoek na die intellektuele ontwikkeling van idees om vrouetaal in die Afrikaanse sosiolinguistiek 'n heel vrugbare studie wees ('n studie wat dus verder as die ondersoeke na vrouetaal deur Raidt 1984, 1986, en Slabbert 1993, strek, asook die studies oor taalseksisme in die Afrikaanse leksikon en grammatika deur Du Plessis 1984, 1985, Hauptfleisch 1989, Beyleveld & Van Jaarsveld 1991, 1994, Beyleveld 1992, Van der Merwe, Groenewald, Van Aardt, Tesner en Grimbeek 1993, Van Rooy 1996, Vermaak 1997, Bosch 1998, en Du Toit-Liberty 1998, en dus eerder by die ondersoek van taalseksisme in die Afrikaanse taalonderrigruimte deur Snyman 1990, Van der Spuy 1995, en Reddy 1999 aansluit). Só 'n studie kan veral 'n noemenswaardige bydrae tot die taalsosiologie lewer indien n interseksionele raam ingespan word waardeur die analise van die geskiedkundige besprekings oor vrouetaal met kwessies oor ras en klas versoen word.
Die insluit van Griekwaspraak, oftewel Griekwa-Afrikaans, is belangrik om twee redes: Eerstens, soos duidelik sal word deur die verdere bespreking van Oranjerivierafrikaans, word Griekwa-Afrikaans gereeld uitgesonder - as sowel n bepaalde Afrikaanse taalvorm as onderwerp vir dialektologiese ondersoek; tweedens, soos ook duideliker sal word, word die bespreking van Griekwa-Afrikaans as 'n sentrale verwysingspunt in diskoerse oor taalvariasie en ras, en spesifiek Oranjerivierafrikaans en die Khoekhoen, ingespan. Alhoewel die trajek van studie met betrekking tot Oranjerivierafrikaans verskeie wendings sedert die 1910's ervaar het, kan baie van die diskoerse wat die ondersoekveld bepaal reeds hier aanskou word.
Benewens die studies wat Von Wielligh "uitken" as van Afrikaanse aard, is die vraag oor taalvariëteit in die besonder, en taalsosiologie in die breë, ook by die res van sy oeuvre ter sake. Van belang vir dié artikel is sy vierdelige Boesman-Stories, tussen 1919 en 1921 uitgegee. Die versameling bestaan uit volkskundige verhale, antropologiese artikels, en opgetekende mondelinge getuienis van sowel Afrikaner as Boesman wat hulself op die Kaapse grensgebied van Boesmanland bevind het. Soos in die vorige artikeldeel beskryf, bestaan daar 'n groot korpus |xam-Boesmankultuurskat in die vorm van die Bleek en Lloyd-argief. In 'n sekere sin is die Von Wielligh-optekenings n noemenswaardige aanvulling daartoe. Alhoewel minder wetenskaplik as Bleek en Lloyd se optekenings wat in koloniale Kaapstad gedoen is, verteenwoordig die Von Wielligh-korpus 'n eerstehandse kennismaking met die Boesmans in Boesmanland (vergelyk Van Vuuren 1995, 2016). Verder, vanweë dié gesitueerde opnames, skemer die stemme van, en kennis oor, die Afrikaanssprekende boere van Boesmanland pertinent deur sy versameling deur. Só deel hy byvoorbeeld dat "die meeste van [hulle die Afrikaners] die Boesmantaal geken" (Von Wielligh 1921b: 49) het, dat "hulle dit [die Boesmantaal] van die lippe van die Boesmans geleer het" (Von Wielligh 1921a: 27), terwyl die Boesmans "in gebroke Afrikaans ook 'n gesprek kon voer" (Von Wielligh 1921b: 11). Soortgelyk aan die verhouding wat tussen Afrikaner en Griekwa gevind was, met die wit Afrikaanssprekendes wat die taalgebruik van hul swart streeksgenote geleer en aangeneem het, het n verhouding van talige interverbondenheid tussen Afrikaner en Boesman uitgespeel:
In die jagveld is 'n mens heeltemal afhanklik van die Boesmans. As jy hulle taal nie kan praat nie, is jy heeltemal verlore. Gelukkig ken almal van ons wat op jag was, die Boesmantaal; want ons het dit as kinders by die kindermeide geleer. Baiekeer was ons in die jagveld alleen, onderwyl ons Boesmans weg was om wild te gaan opspoor; dan kom die wilde Boesmans op ons af om water of iets anders te vra. Ons kan dan goed met mekaar gesels, en ons vind dan baie dinge by hulle uit. Von Wielligh (1921b: 27)
Daar is dus, soortgelyk aan die vroeër optekenings van reisigers relatief tot wit trekboere en Khoekhoen in die vorige artikeldeel bespreek, 'n hoë mate van interkulturele kontak wat tussen bewoners van die noordelike grensgebied te vinde was. Die verskil is egter dat, waar die meerderderheid Suid-Afrikaanse Khoetale teen die 1800's nie meer gehoor kon word nie, het Boesmantale, soos |xam, tot in ten minste die 1900's gedy. Waar wit Proto-Afrikaanssprekendes byvoorbeeld Khoe geleer en gepraat het tussen die 1650's en 1750's, het die wit Afrikaanssprekendes wat hulle in die Kaapse noordelike grensgebied bevind het tot die vroeë 1900's, nog |xam en ander Boesmantale gepraat; iets wat ongetwyfeld 'n uitwerking op die taalgebruik van die streek moes uitoefen (vergelyk Staphorst 2020, 2022a).
Alhoewel Von Wielligh as een van die eerste sosiolinguiste in Afrikaans beskryf kan word, is daar nietemin ander wat in dieselfde tydvak oor die onderwerp besin het. Hier kan Stephanus Boshoff uitgesonder word, wat met sy boek Volk en taal van Suid-Afrika (1921) 'n benadering tot variasie in Afrikaans gevolg het wat by menige ná hom sou aanklank vind. Teenoor Von Wielligh se oorwegend ruimtegebonde benadering, verkies Boshoff om Afrikaans volgens invloed of sogenaamde "aard" te beskryf (iets wat by die tipologie van Van Ginneken (1913) aansluit). Hy argumenteer gevolglik dat daar ses "tipes" Afrikaans buiten die geïmpliseerde standaard is: Engels-Afrikaans, Duits-Afrikaans, Hottentot-Afrikaans, Bantoe-Afrikaans, en Maleis-Afrikaans (Boshoff 1921: 68-75). Die belang hier is verbintenis tussen taal en, in die woorde van Boshoff (ibid. 1-67), "nasionaliteit", waarmee "etnisiteit" bedoel word. In plaas daarvan om die verskynsel van gedifferensieerde Afrikaans te ondersoek as verbind tot ruimte, soos Von Wielligh, beskou Boshoff Afrikaans as verbind aan die wit "Afrikanervolk", met sogenaamde "geadapteerde Afrikaans" verbind aan ander "nasies" of "volke" daarnaas. Dié blik op Afrikaans en variasie - as rasgebonde - skemer grootliks deur die navorsing van bykans alle ander navorsers tot en met die 1980's, en telkens ook daarna.
Ten opsigte van sogenaamde "Hottentot-Afrikaans", verskaf Boshoff wel n nuansering. Hy klassifiseer Griekwa-Afrikaans as n verwante taalvorm hiervan, maar hy noem dit "verskil wel in baie opsigte van wat gewoonlik Hottentot-Afrikaans genoem word" (ibid. 73). Hy argumenteer egter dat "dit alleen is nie n voldoende rede om hierdie twee vorme van geadapteerde Afrikaans heeltemal apart te klassifiseer nie" (ibid. 73). Alhoewl ek nie die artikel aan inlegkunde wil skuldig maak, en sekere idees oor 'ras' by Boshoff wil inlees nie, is dit noemenswaardig om te let op die wyse waarop Griekwa-Afrikaans van "Hottentot-Afrikaans" geskei word. Alhoewel Boshoff op talige verskille let, beskryf hy die Griekwas as "'n basterras [wat] ontstaan [het] uit 'n inenting van vreemde elemente op 'n Hottentotstam" (ibid.) - 'n blik wat nie té vêr van die bespreekte siening van Von Wielligh verskil nie. Die vraag is dus: Tot welke mate is Boshoff se beskouing beïnvloed deur taalkundig begronde studie, of deur idees oor 'ras' en 'etnisiteit'? Is Griekwa-Afrikaans anders as "Hottentot-Afrikaans" om talige redes, of omrede hulle 'n "basterras" verteenwoordig, en dus idees oor 'suiwerheid' oorskry? Alhoewel dit moeilik is om te bepaal wat Boshoff se redenasie is, is dit belangrik om te let op hóé variasie in Afrikaans aan bepaalde sosiokulturele identiteite in Boshoff se analise gekoppel word. Laastens kan daar op Boshoff se onderskeid tussen "Hottentot-Hollands" en "Hottentot-Afrikaans" gelet word. Hy verwys na Kolbe (1719) se reeds genoemde optekenings van taalgebruik onder Kaapse Khoekhoen, en ken dié uit as "Hottentot-Hollands" (Boshoff 1921: 72). Die implikasie is dus dat "Hottentot-Afrikaans" 'n jonger vorm van die taal is. Hy beklemtoon egter dat die invloed van Khoekhoengroeperings in die noordelike grensgebied nié op dié "nuwer" "Hottentotse" taalvorm ingewerk het nie:
Langsamerhand sou dit [Hottentot-Hollands] natuurlik vervang word deur Hottentot-Afrikaans, terwyl verafgeleë Hottentotstamme natuurlik die Hottentot-Hollandse stadium oorgeslaan en dadelik met 'n geadapteerde Afrikaans begin het. Ten slotte het feitelik al die Hottentotte in die Kaap Kolonie hulle eie taal verloor en n geadapteerde Afrikaans gepraat, wat in ooreenkoms met hulle peil van kulturele ontwikkeling 'n plat Afrikaans of kombuistaal genoem kan word. Vandag praat hulle dus 'n oorgeërfde Hottentot-Afrikaans.
Boshoff (1921: 72)
Wat presies aanleiding tot die ontwikkeling van "Hottentot-Afrikaans" gegee het, is dus nie duidelik nie, maar sy argument elders (Boshoff 1917) dat Afrikaans se oorsprong aan spontane ontwikkeling van Nederlandse taalvorme, en nié aan taalbeïnvloeding te danke is nie, kan 'n moontlike blik op sy siening verskaf, naamlik dat daar 'n spontane ontwikkeling was, met dié vorm van Afrikaans wat in geheel die Khoe-tale van die grensgebied vervang het.
In 1938 verskyn 'n monograaf deur John Rademeyer (gebaseer op sy 1931- doktorale proefskrif) waarin "Kleurling-Afrikaans" onder die loep geneem word. Onder "Kleurling" sluit Rademeyer die Griekwas en die Rehoboth-Basters in, en die studie is gevolglik op "transnasionale" Oranjerivierafrikaans toegespits, met "transnasionaal" wat hier ingespan word indien die onderskeid tussen die toenmalige Suidwes-Afrika, waar Rehoboth geleë is, en Suid-Afrika, waar Griekwaland geleë is, erken word. Van belang is Rademeyer se bespreking van dié Afrikaans in verhouding tot die begrip kreools, en sy beskrywing van "Kleurling-Afrikaans" as n "vervormde" Afrikaans, wat sy studie gevolglik meer genuanseerd maak as byvoorbeeld Von Wielligh en Boshoff se beskrywings daarvan as "plat" en "geadapteerd" onderskeidelik. Dié nuansering red egter nie die studie van kritiek nie, veral omrede Rademeyer die variëteit teenoor "Algemeen Beskaafde Afrikaans" opweeg, en as minderwaardig tipeer. Meer nog: Die fokus op "Kleurling-Afrikaans" dui op die mate waartoe die studie in Boshoff se spore volg wat 'n etniese en rasgebaseerde beskrywing van Afrikaans betref. Alhoewel hy nie krities hierteenoor was nie, let Abel Coetzee (1951) op dat Rademeyer nié die taalgebruik van wit Afrikaanssprekendes wat in noue kontak met "Kleurling-Afrikaans" was, bestudeer het nie. Coetzee dui dus, dalk onwetend, op die problematiese gevolgtrekkings wat in die studie voorgehou word. Dat Rademeyer wel bewus was dat "Kleurling-Afrikaans" n invloed op die taalgebruik van wit Afrikaanssprekendes gehad het, blyk uit die inleiding tot die studie waarin hy sy motivering uiteensit:
In 'n jong land soos Suid-Afrika moet ons rekening hou met die kleurlinge, nie alleen omdat hulle n dialektiese Afrikaans praat en om die rede die voorstander van Afrikaans se aandag behoort te geniet nie, maar ook omdat hulle deur hulle posisie en werkkring faktore is wat n gewigtige rol speel in die vervorming van ons taal, sy dit ook slegs in sekere dele van ons land. Ons hoef slegs n reis te maak deur Boesmanland of Namakwaland om van die waarheid hiervan oortuig te word.
Rademeyer (1938: 6-7; klem in die oorspronklike)
Die mate waartoe "Kleurling-Afrikaans", in navolging van Boshoff se "Hottentot-Afrikaans", 'n juiste beskrywing is - teenoor Noordwesterse Afrikaans, byvoorbeeld - is onduidelik vanweë die gefundeerdheid in rassekunde wat die inwin van data vir die studie gelei het. Alhoewel Von Wielligh oorwegend dieselfde rasdeurspekte sienings as Boshoff en Rademeyer gehad het, het sy fokus op "spraakdistrikte" die geleentheid gebied vir meer omvattende besprekings van taalgebruik binne ruimteverband, en nie slegs binne 'n raskundige raamwerk nie. Verder, alhoewel Von Wielligh dit nie pertinent stel en bespreek nie, impliseer hy dat daar 'n groot mate van eenvormigheid van taalgebruik onder wit Afrikaanssprekendes en swart Afrikaanssprekendes in die noorde van die Kaapkolonie, later die Kaaplandprovinsie, gebesig is, en dat dié verskynsel aan die noue kontak en minder verstedelikte lewenswyses toegedig kan word (Staphorst 2023: 18). Von Wielligh, alhoewel taalkundig naïef, verskaf dus nietemin 'n belangrike perspektief op die gedeelde aard van die taalgebruik onder die bewoners - alle bewoners - van die noordweste, en dus van Oranjerivierafrikaans van die laat 1800's en vroeë 1900's.
'n Jaar ná die publikasie van Rademeyer se monograaf word 'n MA-verhandeling oor die dagboek van Hendrik Witbooi deur N. J. Rossouw voltooi. Die dagboek, wat uit die 19de eeu dateer, is deur Rossouw as n vorm van "Hottentot-Hollands" bestudeer. Rademeyer het ook na Witbooi se taalgebruik verwys, maar slegs vlugtig, en ter ondersteuning van sy bespreking van "Kleurling-Afrikaans" van die vroeë 20ste eeu. Met Witbooi wat in Pella in die hedendaagse Noord-Kaap gebore is en later in Duits-Suidwes-Afrika sou woon, kan die taalgebruik gemaklik as 'n vroeë vorm van Oranjerivierafrikaans getipeer word. Binne twee jaar verskyn daar dus studies waar Oranjerivierafrikaans, en spesifiek swart Afrikaanssprekendes, ondersoek word -vanuit sowel 'n historiese perspektief as 'n kontemporêre een.
Ná die verskyning van Rademeyer en Rossouw se studies word verdere artikels (Van Zyl 1942) en boeke (Jacobs 1942; Van Zyl 1947) oor die Griekwas gepubliseer, en hulle taalgebruik word telkens uitgesonder as "dialek" van Afrikaans in meer populêre ruimtes, soos in radiopraatjies (vergelyk Le Roux 1939). Die publikasies oor die Griekwas verteenwoordig egter nie taalwetenskaplike studies nie, maar is eerder etnografies van aard, en is op 'n populêre mark gemik. Taal kom wel ter sprake, maar vorm nie die sentrale fokus nie. Die belang hiervan is die beeld wat dit van die Griekwas as verteenwoordigende swart Afrikaanssprekendes van noordelike Kaapland gevestig het. Die invloed van tekste soos dié blyk duidelik uit 'n resensie deur Hennie Aucamp (2009) van Annerlike Afrikaans (Prinsloo 2009), 'n opname van streeks-en kontreitaal, insluitend Oranjerivierafrikaans:
Hierdie leser se eerste werklike ervaring van "annerlike Afrikaans" was Die Grikwas (sic) en hul bure (1943) [sic] van JF Jacobs in die Nasionale Pers se nooit volprese reeks Kennis vir almal. Het dit nie tyd geword om van hierdie titels vir herpublikasie te oorweeg nie? Aucamp (2009)
Dat n progressiewe skrywer soos Aucamp die herpublikasie van n 1942-teks bepleit, spreek van die moontlike waarde daarvan vir die skep van n "annerlike" bewussyn in Afrikaans (hoe gebrekkig daardie tekste ook al mag wees).
Hier kan genoem word dat Jakes Gerwel (1983) die eerste indringende bespreking van die uitbeelding van die "gekleurde" in die Afrikaanse letterkunde ondersoek het. Hy het die argetipe van die "Jollie Hotnot" uitgeken en beskryf - n tendens in die Afrikaanse letterkunde waar swart Afrikaanssprekendes stereotipies as jolig, uitbundig, en telkens drankverslaaf uitgebeeld is. (Alhoewel Gerwel die "Jollie Hotnot" uitgeken en beskryf het, kan Vernon February (1981) se ondersoek na "gekleurdes" in Suid-Afrikaanse letterkunde in die algemeen ook genoem word - met die twee studies wat soortgelyke gevolgtrekkings bereik.) Dat sekere Afrikaanse skrywers hiervan bewus was voor Gerwel se studie, skemer deur in die resensie wat Abel Coetzee (1947: 61) van David van Zyl se 'n Griekwa Ietsigeit (1947) geskryf het, waarin hy opmerk dat dié publikasie nie "'n beskrywing van die opvallende, lagwekkende" bevat nie. Die klem is eerder, aldus Coetzee (ibid.), op die "ideale, strewe, verlede en menslike swakhede" van die Griekwas - nié die tipies rassistiese beeld nie. Dié artikel probeer nie n argument voorhou vir die herdruk van hierdie tekste nie, maar eerder om te wys hoe die Griekwas lank reeds 'n prominente teenwoordigheid in die hegemoniese Afrikaanse kultuurwêreld het, en dat hulle, soos ander swart Afrikaanssprekendes, vir amper 30 jaar buite die akademiese diskoers gelaat is tussen 1950 en 1980 - iets wat in die volgende afdeling duideliker sal word. Waarop verder gelet moet word, is hóé dié beeld van die Griekwas 'n uitsonderlikheid verteenwoordig teen die agtergrond van Gerwel se "Jollie Hotnot" argetipe, én hoe dié meer genuanseerde uitbeelding nie die taalkunde binnegedring het nie. Die populêre tekste van die 1940's was dus moontlik meer verantwoordbaar en sober wat 'n etnografiese beeld betref as die formele akademiese diskoers.
'n Laaste studie van belang, asook 'n studie wat 'n temporale uitskieter ten opsigte van die afgebakende tydsraam is, is J. E. Loubser se 1954-magisterverhandeling. Hierin is wit Afrikaanssprekendes se taalgebruik ondersoek en voorgestel as n "steekproef" van taalgebruik van die Noordweste. Hier vind ons dus die enigste verwysing na "Noordwesterse Afrikaans" in n noemenswaardige akademiese studie sedert Von Wielligh. Die rassedenke van die tyd het egter ongetwyfeld n invloed hierop uitgeoefen. Vergelyk die volgende: Die wit Afrikaanssprekendes van Loeriesfontein se taalgebruik is as voorbeeld van "Noordwesterse Afrikaans" bestudeer, terwyl die studie van Rademeyer, wat weliswaar nie in dieselfde gebied nie, maar tog in noordelike Kaapland en in die suide van Suidwes-Afrika onderneem is, en op swart Afrikaanssprekendes toegespits is, die taalgebruik van "Kleurling-Afrikaans" ondersoek. Soos duidelik sal word in die volgende artikeldeel, is dié verskynsel later omgekeer - die beskrywing Oranjerivierafrikaans word sedert die 1980's bykans uitsluitlik met verwysing na swart Afrikaanssprekendes gebruik, n beskrywing wat ongelukkig steeds gevolg word (vergelyk Van Rensburg 1991 en Hendricks 2018 se beskrywings van Oranjerivierafrikaans as n "Afrika-" en "gekleurde" variëteit van Afrikaans onderskeidelik).
3. Tussentyd: die tyd van die taalatlas, 1940-1979
In 1922, 'n jaar ná die verskyning van Volk en taal van Suid-Afrika, skryf Stephanus Boshoff 'n artikel vir Banier waarin hy n Afrikaanse "taalkaart" bepleit. Die oorsprong van die fenomeen van die skep van 'n "taalkaart", of "taalatlas", in verhouding tot 'n bepaalde taalgemeenskap kan in die 1800's gevind word. Hiervolgens word taalkundige data gebruik om 'n visuele voorstelling van 'n taalgemeenskap uit te druk. Alhoewel Boshoff reeds in 1922 'n argument vir so n studie in verhouding tot Afrikaans gemaak het, is daar eers in die 1940's met "taalgeografiese studies", die subdissipline van die variasietaalkunde wat met taalkaarte gemoeid is, begin. Die studies van Stephanus Louw (1941, 1948, 1959-1978), Abel Coetzee (1951), en later van Louis Eksteen (saam met Louw 1975-1978), verteenwoordig dus 'n bepaalde tradisie in die Afrikaanse sosiolinguistiek wat met n veronderstelling van wetenskaplikheid n geheelbeeld van die Afrikaanse taalgemeenskap wou aanbied.
Die belangrikheid van dié studies binne die gedeelde bewussyn van die Afrikaanse sosiolinguistiek kan nie oorskat word nie - dit word, byvoorbeeld, deur Hans du Plessis (2001: 75-76) beskryf as die oorsprong van wetenskaplik gefundeerde Afrikaanse sosiolinguistiek. Dit mag dalk die geval wees, veral wanneer dit eerstens teenoor die meer impressionistiese studies, soos dié van veral Von Wielligh, opgeweeg word, en tweedens wanneer in ag geneem word dat Louw deur 'n perspektief van gelykheid ten opsigte van taalvariasie gelei is. Louw beskryf byvoorbeeld in 1946 dat die idee dat dialekte mindere taalvorme verteenwoordig gedateerd en wetenskaplik onregverdigbaar is (Louw 1946: 6-7). In dié opsig is Louw progressief. Maar, anders as Von Wielligh, is swart Afrikaanssprekendes buite berekening gelaat by die taalgeografiese tradisie. Daar is n sekere ironie hieraan verbonde, siende dat Coetzee, een van die voorstanders en prominentste stemme van die Afrikaanse taalgeografie, n argument daarvoor gemaak het in 'n 1938-resensie van Rademeyer se monograaf oor "Kleurling-Afrikaans". Swart Afrikaans in die breë was dus, ten minste by Coetzee, deel van die bewussynsdraad wat die taalgeografiese tradisie help inlei het, maar is paradoksaal vir bykans 40 jaar juis daardeur uit die akademie uitgesluit.
Terwyl dit dus moontlik die oomblik van wasdom vir 'n wetenskaplik verantwoordbare benadering in die Afrikaanse sosiolinguistieke navorsing ingelei het, hoe naïef dit ook al in die 21ste eeu mag voorkom, is dit dieselfde oomblik wat ideologie die oorhand gekry het, en daardie navorsing dus grootliks eties onverantwoordbaar gelaat is. Daardeur is n onklare beeld van Afrikaans in die middel- 20ste eeu verskaf. Om hierdie rede beskou ek die tradisie van taalgeografiese studies in Afrikaans nie soos Du Plessis as n vooruitgang nie, maar eerder as n verstarring - veral wat ons kennis van Oranjerivierafrikaans betref. Ten spyte van die rassekunde wat die werk van veral Von Wielligh, Boshoff, en Rademeyer kleur, bied dit 'n blik op swart Afrikaanssprekendes se taalgebruik wat in die studies van veral Louw en Eksteen in die vorm van die Afrikaanse taalatlas (wat in verskeie volumes tussen 1959 en 1978 gepubliseer is) heeltemal ontbreek. Dié benadering is deur ander navorsers in dieselfde tydvak gedeel, byvoorbeeld die fonetiese navorsing van Pierre de Villiers Pienaar (1947: 55) wat "die Afrikaans van die Griekwas, die Rehoboth-basters, Kaapse kleurlinge en die naturelle buite beskouing" gelaat het. 'n Aanhaling van E. C. Pienaar (1943: 17) som die tydsgees moontlik die treffendste op:
Ons ken hier geen dialekte nie. Hoogstens sou ons van die kleurlingtaal van Kaapland, en miskien ook die taal van die Griekwas en Basters, kon praat as dialekte van Afrikaans. Maar wat die Afrikaans-sprekende blanke bevolking betref, bestaan daar, ten spyte van die groot uitgestrektheid van ons taalgebied, in ons mondelinge sowel as skriftelike taalgebruik n opvallende taaleenheid.
Hier moet genoem word dat taalatlasse histories bekend is as 'n navorsingsverskynsel wat veral deur die volkstaatideaal beïnvloed is (Gal 2010), en die Afrikaanse uitdrukking daarvan is dus nie uitsonderlik nie. Die politieke en die talige word deur die ruimtelike uitbeelding van die atlas verenig - die Afrikanernasionalistiese beeld van Afrikaans met Suid-Afrika, in dié geval (vergelyk Ribbens-Klein 2016).
Hiermee word nie bedoel dat taalgeografiese studies verdoem is as n ondersoekterrein nie. Inteendeel, indien die ideologiese bril waardeur dit histories onderneem is, vermy word, kan dit nuttige data verskaf vir variasietaalkundige ondersoek. Heinrich Grebe (2001) se kritiek op Christo van Rensburg se Oosgrenshipotese met betrekking tot die ontwikkeling van Standaardafrikaans is byvoorbeeld begrond in taaldata wat Grebe van 'n Swellendamse spreker van Afrikaans ingewin het. Grebe se ontleding van die spreker, 'n boorling van Swellendam, se taalgebruik dui op ooreenkomste met Van Rensburg (1981) se tipering van Transvaalse Afrikaans, ten spyte daarvan dat Swellendam in die suidwestelike spraakgebied van Afrikaans (volgens Ponelis 1987, 1998 se afbakening) val, en dus teorieties ver verwyderd van noordoostelike Afrikaans behoort te wees. Die doel hier is nie om Grebe se kritiek te ondersoek nie, maar om die moontlike waarde van n "neutrale" taalatlas - waardeur taaldata, vry van enige veronderstelling van variasie, opgeneem word en dan ondersoek word. Om studies te onderneem wat begrond is in idees oor bepaalde variasiepatrone kan foutiewe hipoteses bevestig, eerder as om wetenskaplik verantwoordbare gevolgtrekkings te bemoontlik.
Daar kan verder genoem word dat daar in die laat 2000's 'n ondersoek geloods is om 'n taalatlas - wat alle stemme van Afrikaans insluit en verteenwoordig - te skep (Dippenaar 2008). Dit is egter vreemd dat dié projek as n "eerste" vir Afrikaans beskryf is:
Die eerste Afrikaanse taalatlas, 'n wêreldeerste vir die Afrikaanse taal, word tans saamgestel. Die atlas, wat hoop om binne die volgende drie jaar op die Internet en in boekvorm beskikbaar gestel te word, behels pioniersnavorsing oor die verskillende dialekte van Afrikaans soos hulle in verskeie dele van die land elk sy eie unieke karakter aangeneem het. Soortgelyke studies is al in verskeie tale in groot dele van Europa gedoen. Dippenaar (2008)
Die projek, wat in 2008 deur Mark de Vos geloods is, blyk geen vordering te gemaak het benewens die aanvanklike bekendstelling en twee enkele studies (De Vos 2009; Jantjies & Van Dulm 2012 - Dié studies is egter nie taalgeografies van aard nie) nie. Dat so n atlas van nut kan wees, is nie te betwyfel nie. Dit moet egter met die nodige nuanse, asook soberheid, aangepak word.
In dié verband is dit nuttig om na Van Rensburg te luister. Alhoewel hy aanvanklik deel van die oorspronklike taalatlasprojekspan was (Du Plessis 2018), het hy reeds in sy eerste navorsingsartikels kritiek op die idee van volledigheid en klaarheid in verband daarmee uitgespreek. 'n Taalatlas, aldus Van Rensburg (1967; vergelyk ook De Klerk & Van Rensburg 1966, 1967; Van Rensburg & Hay 1968), moet slegs as voorslagwerk gereken word, met die data daarin vervat wat eers bewerk en ontleed moet word voordat dit hoegenaamd betekenisvol vir die dialektologie of historiese taalkunde kan wees. Sy kritiek het later egter veel feller geraak, met die gevolg dat hy teen 1976 n taalatlasprojek as benede die meer gefokusde dialektologie, soos hy en ander in die 1980's onderneem het, beskou het. Siende dat dié artikel nie die waarde al dan nie van n taalatlas as onderwerp het nie, word dit nie verder ondersoek of bespreek nie. Wat ek wil uitlig, is dat die historiese taalatlasprojek in Afrikaans kritiek verdien hoofsaaklik vanweë die ideologiese raam waardeur dit onderneem is - 'n raam wat swart Afrikaanssprekendes gemarginaliseer het in die Afrikaanse taalkunde. Gevolglik is ons kennis van variëteite as sodanig ook versteur, aangesien swart Afrikaanssprekendes n beduidende posisie in die dialeklandskap van Afrikaans inneem. Die gevolg is dat, ahoewel die taalatlasse pittige taaldata bevat, dit moeilik bruikbaar is vir meer noukeurige studie.
Myns insiens is die enigste waarde daarvan vir ons begrip van Oranjerivierafrikaans, die moontlikheid om data uit die atlas te ekstraheer (soos deur De Klerk 1968 onderneem). Soos genoem, en soos duideliker sal word in die volgende artikeldeel, word wit sprekers van Oranjerivierafrikaans telkens buite die diskoers van die Oranjerivierafrikaanse spraakgemeenskap geplaas. Dat die atlas wel gepoog het om taaldata vanaf wit sprekers oor die hele Suid-Afrika in te win, beteken daar is n moontlikheid om daardie data wat tot die Oranjerivierafrikaanse spraakgebied beperk is te ekstraheer, en te ondersoek. n Moontlike voorbeeld hiervan is in die taalkaart vir "nôi". By die bespreking van die taalkaart, bespreek Louw (1948: 80) hoe die verskil tussen "nôi" en "nooi" tot hoofsaaklik twee gebiede in die (wit) Afrikaanse spraaklandskap lei:
... 'n [D]uidelike verdeling van Kaapland in 'n westelike nöi-gebied en 'n oostelike gebied waar hoofsaaklik die vorm nooi voorkom, maar daarnaas ook nooie. Tot by Beaufort-Wes kan 'n mens die lyn goed volg; daarvandaan laat die gegewens weer te wense oor tot by De Aar, vanwaar dit, net soos die meul-kaart, deur n gedeelte van die westelike Vrystaat loop en dan terug swaai tot in die buurt van Prieska. Daar loop die grens in n menggebied dood. Met n digter net sou dit miskien moontlik wees om die lyn verder te volg, maar waarskynlik sal Kaapland van die buurt van die Grootrivier af noordwaarts, nog meer as die Transvaal met sy digte net, tog maar die indruk van 'n menggebied bly gee. Die Transvaal en Vrystaat moet miskien as nooi-gebied beskou word en nie juis as menggebied nie.
Hierin, in die "menggebied" ('n begrip wat ook deur Coetzee 1951 gebruik is) tussen Beaufort-Wes, De Aar, en Prieska, kan Oranjerivierafrikaans ten dele ingevul word. Die taalkaart wys op min data wat in die res van die noordweste van Kaapland opgeteken is, maar tog kan Louw se intuïtiewe voorstelling dat die res van die spraakgebied onder die Oranjerivier ook as "menggebied" daar sal uitsien, beaam word. Die beskrywing "menggebied" is op sigself noemenswaardig. Die bespreking tot op hede - veral wat die bespreking van die opmerkings van T. H. le Roux (1910) in die vorige artikeldeel en Von Wielligh in dié deel betref - kan dui op die "gemengde" aard van die streek op n sosiale vlak wat "ras" betref. Die data deur die taalkaart ingewin, dui daarop dat die taalgebruik - onder wit Afrikaanssprekendes - in die geografiese ruimte wat as behorend tot Oranjerivierafrikaans getipeer word ook n "mengel" is. Om die data - asook die kommentaar daaroor - op só 'n wyse te ekstraheer, kan dus lei tot moontlik nuttige insigte ten opsigte van Oranjerivierafrikaans (en ander Afrikaanse variëteite).
Laastens moet daarop gelet word dat die begrip "taalkaart" of "taalatlas" sedert die laat 1980's n betekenisverandering ondergaan het - ten minste in die (Suid-)Afrikaanse konteks. In die verband staan die studies van Izak van der Merwe (1989, 1995, 1996; Van der Merwe & Le Roux 1989; Grobler, Prinsloo en Van der Merwe 1990; Williams & Van der Merwe 1996; Van der Merwe & Van der Merwe 2006, 2008) sentraal, en die begrip taalkaart/taalatlas verwys nie na die kartering van taalinterne variasie nie, maar eerder na die kartering van "afsonderlike" taalgemeenskappe in bepaalde ruimtes, soos in stede, streke, of lande. Die vermelde kritiek is dus nie toepaslik op dié vorm van geolinguistiek/taalgeografiese studie nie.
4. Terugskouend
Waar vele navorsers in die 19de eeu oorwegend Afrikaans as dialekloos beskryf het, het daar tydens die eerste helfte van die 20ste eeu 'n rasdialektiese perspektief onder Afrikaanssprekende taalkundiges ontwikkel. n Voorbeeld hiervan is die betekenis wat die begrip "Noordweste" deur die loop van dié periode in die taalkunde gehad het, naamlik as "wit", alhoewel agtergeblewe. Hierteenoor is "dialek" verbind aan "ras", veral Swart Afrikaans. Dié perspektief het egter spore in veral die beskrywing van Afrikaanse variasie deur Van Ginneken, en moet dus nie as totaal nuut beskou word nie. Die verskil is egter die verskuiwing van die klem van "platheid", "gebrokenheid", en "kreoolsheid". Waar Changuion die "Kaapsche spraak" as plat en Kolbe die taal van die Khoekhoen as "gebroke" beskryf, is die taal van die Noordweste en die Griekwas "plat", en die taal van die Boesmans "gebroke", aldus Von Wielligh; waar die ganse Afrikaans as "kombuistaal" bestempel is, beskryf Boshoff slegs "Hottentots-Afrikaans" as sodanig; en waar Van Ginneken en Hesseling Afrikaans as n kreool beskryf, behou Rademeyer dié begrip uitsluitlik vir "Kleurling-Afrikaans". Teen die agtergrond van dié gegewe is Neville Alexander (2009) se kritiek op die kreoolse diskoers oor Afrikaans veral belangrik. Alhoewel "kreools", veral in die huidige tydvak, dikwels in populêre diskoers ingespan word om Afrikaans se multikulturele spraakgemeenskap en historiese ontwikkeling te beklemtoon, is dit op sigself begrond in 'n bepaalde raslogika, soos Alexander (2009) vir ons uitwys. Soos in die vorige artikeldeel, asook in die oriëntering tot dié artikeldeel, genoem, het die standaardaardiseringsproses van sowel die eerste as die tweede taalbeweging sigself grootliks téén die idee van Afrikaans as minderwaardig, "onbeskaafd", en verbind aan "kreoolsheid" verset, en dit is dus nie vreemd dat, toe daar wel n standaardtaal gevestig is, daar gepoog is om dié standaardtaal te onderskei van wat ín die taal steeds as "minderwaardig", "onbeskaafd", en "kreools" beskou is nie. In wese het wit Afrikaanse taalkundiges Swart Afrikaans in die breë en Oranjerivierafrikaans in die besonder nodig gehad om 'n diskoers van "suiwerheid" te kon vestig, siende dat só n diskoers afhanklik is van teenstelling en vergelyking.
Erkenning
Hierdie artikelreeks is gebaseer op gedeeltes uit my MA-verhandeling, "Ongehoord: Voices Unaccented; Voices Unharmonised. Afrikaans and South Africa's First Peoples in Discourses of Higher Education Transformation." Dit is onder leiding van Mariana Kriel en Marisa Botha by Nelson Mandela Universiteit voltooi, met finansiële ondersteuning van die Mandela-Rhodes-stigting en die nasionale Departement van Kuns en Kultuur. Sienings hierin vervat is egter my eie, en verteenwoordig nie noodwendig dié van genoemde liggame nie.
Verwysings
Alexander, Neville. 2009 (6 Oktober). Afrikaans as a language of reconciliation, restitution and nation-building. LitNet. Aanlyn: https://www.litnet.co.za/afrikaans-as-a-language-of-reconciliation-restitution-and-nation/ (Geraadpleeg 16 Oktober 2023)
Aucamp, Hennie. 2009 (30 April). Anton F Prinsloo se Annerlike Afrikaans stig dink- en gevoelsreaksies aan. LitNet. Aanlyn: https://www.litnet.co.za/anton-f-prinsloo-se-i-annerlike-afrikaans-i-stig-dink-en-gevoelsre/ (Geraadpleeg 22 Desember 2021)
Beyleveld, Adriana Albertus. 1992. Taalseksisme as 'n vorm van eensydige leksikografie in enkele Afrikaanse woordeboeke. MA-tesis. Universiteit van die Oranje-Vrystaat. [ Links ]
Beyleveld, Adriana Albertus & Gert J. van Jaarsveld. 1991. Taalseksisme as 'n vorm van eensydige leksikografie. Lexikos 1: 1-19. Aanlyn: https://www.ajol.info/index.php/lex/article/view/146803 (Geraadpleeg 15 Februarie 2024) [ Links ]
Beyleveld, Adriana Albertus & Gert J. van Jaarsveld. 1994. Is die wêreld manlik, tensy anders vermeld? Suid-Afrikaanse Tydskif vir Taalkunde 12(2): 43-49. https://doi.org/10.1080/10118063.1994.9724347 [ Links ]
Bosch, Barbara. 1998. Genderstereotipes in die voorbeeldmateriaal in Ponelis se "Afrikaanse Sintaksis" (1979). Tydskrif vir Taalonderrig 32(3): 151-172. [ Links ]
Boshoff, Stephanus Petrus Erasmus. 1917. "Die metode van ondersoek na die ontstaan van Afrikaans". Rede gehou bij die heropening van die kollege-departement van die theolog. skool te Potchefstroom, op Woensdag, 7 Februarie, 1917. Kaapstad: Nationale Pers. [ Links ]
Boshoff, Stephanus Petrus Erasmus. 1921. Volk en taal van Suid-Afrika. Pretoria: De Bussy. [ Links ]
Boshoff, Stephanus Petrus Erasmus. 1922. 'n Afrikaanse taalkaart. Banier 2(12): 189-190. [ Links ]
Coetzee, Abel. 1938. 'n Proefskrif met nuwe vergesigte. Die Brandwag 1(38): 18, 24. [ Links ]
Coetzee, Abel. 1947. "An ietsigeit aur oens Grikwas". Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 4(2): 61. [ Links ]
Coetzee, Abel. 1951. Taalgeografiese studies 1: Die ontwikkeling van vormvastheid in enkele Afrikaanse woorde met 'n a/e-wisseling. Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand. [ Links ]
Deacon, Thomas. 2003. Maagmeisie: Griekwa-stemme. Pretoria: Protea. [ Links ]
De Klerk, Willem Johannes. 1968. Die aard van dialektiese verskeidenheid in Afrikaans. DLitt-proefskrif. Universiteit van Pretoria. [ Links ]
De Klerk, Willem Johannes. & Christo van Rensburg. 1966. Taalgeografie en taallandskappe. Standpunte 20(2): 11-15. [ Links ]
De Vos, Mark. 2009. Comparing Afrikaans morpho-syntactic variation in a South African underdeveloped context. Journal of Macrolinguistics 3: 25-45. https://doi.org/10.26478/ja2009.3.3.5 [ Links ]
Dippenaar, Thinus. 2008. Rhodes Linguistiek-dosent doen pioniersnavorsing. Grahamstad Nuus. Aanlyn: https://grahamstadnuus.wordpress.com/taalatlas/ (Geraadpleeg 9 Desember 2021)
Du Plessis, C. 1984. Die mededinging tussen die manlike en vroulike voornaamwoord in Afrikaans. MA-tesis. Universiteit van die Oranje-Vrystaat. [ Links ]
Du Plessis, C. 1985. Is dit nou 'hy' of is dit nou 'sy'? Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 3(3): 1-20. https://doi.org/10.1080/10118063.1985.9724204 [ Links ]
Du Plessis, Hans. 2001. Die ontwikkeling van die Afrikaanse variasietaalkunde. In Adelia Carstens & Heinrich Grebe (reds.). Taallandskap: Huldigingsbundel vir Christo van Rensburg, 69-80. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Du Plessis, Hans. 2018 (15 Augustus). Huldeblyk aan Christo van Rensburg: 'n Afrikaanse woord is weg. LitNet. Aanlyn: https://www.litnet.co.za/huldeblyk-aan-christo-van-rensburg-n-afrikaanse-woord-is-weg/ (Geraadpleeg 9 Desember 2021)
Du Toit-Liberty, J. 1998. Anaforiese alternatiewe vir die menslike generiese betreklike konstruksie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 16(2): 52-62. https://doi.org/10.1080/10118063.1998.9724135 [ Links ]
Dyers, Charlyn. 2010 (22 April). 'n Nuwe status vir Swartafrikaans? LitNet. Aanlyn: https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=85861 (Geraadpleeg 26 Desember 2021)
February, Vernon Alexander. 1981. Mind your colour: The 'coloured' stereotype in South African literature. Leiden: African Studies Centre. [ Links ]
Gal, Susan. 2010. Language and political spaces. In Peter Auer & Jürgen Schmidt (reds.). Language and space: An international handbook of linguistic variation, 33-49., Berlin: Mouton De Gruyter. [ Links ]
Gerwel, Jakes. 1983. Literatuur en apartheid: Konsepsies van gekleurdes in die Afrikaanse roman tot 1948. Kasselsvlei: Kampen. [ Links ]
Grebe, Heinrich P. 2001. Overbergs of Transvaals? In Adelia Carstens & Heinrich P. Grebe (reds.). Taallandskap: Huldigingsbundel vir Christo van Rensburg, 92-102. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Grobler, E., Karel P. Prinsloo en Izak J. van der Merwe. 1990. Language atlas of South Africa. Pretoria: Human Sciences Research Council. [ Links ]
Hauptfleisch, Daniël Carinus. 1989. Taalseksisme en die woordeboek. In J. R. Botha, M. C. J. van Rensburg, G. J. van Jaarsveld en H. du Plessis (reds.). Leksikografie en leksikologie: Opgedra aan prof. Francois Odendal, 121-128. Menlopark: SERVA. [ Links ]
Hendricks, Frank. 2018. Oranjerivierafrikaans: Van gemarginaliseerde en aanspraakmaker tot deelgenoot. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 25(1): 3-36. [ Links ]
Jacobs, Johannes Frederik. 1942. Die Grikwas en hul bure. Bloemfontein: Nasionale Pers. [ Links ]
Jantjies, Welsey & Ondene van Dulm. 2012. Mos as a discourse marker in rural Cape Afrikaans. Language Matters 43(1): 3-20. https://doi.org/10.1080/10228195.2010.516008 [ Links ]
Kolbe, Peter. 1719. Caput Bonae Spei Hordiernum. Das ist die vollstandige Beschreibung des Africanischen Vorgebürges zur Guten Hoffnung [Hoofstuk uit die onlangse verlede van die [Kaap de] Goede Hoop: 'n volledige beskrywing van die Afrikaanse heuwels van [die Kaap de] Goede Hoop]. Nürnberg: Monath. [ Links ]
Le Roux, Jacobus Johannes. 1939. Praatjies oor ons taal. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth: Nasionale Pers. [ Links ]
Le Roux, Thomas Hugo. 1910. Beschrijvende klankleer van het Afrikaans. Leiden: A. W. Sijthoff. [ Links ]
Loubser, J. E. 1954. Aspekte van die Afrikaanse spreektaalgebruik in en om Loeriesfontein: 'n Steekproef in die taal van die Noordweste. MA-tesis. Universiteit van Stellenbosch. [ Links ]
Louw, Stephanus Andreas. 1941. Taalgeografie: Inleidende gedagtes oor dialekstudie. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Louw, Stephanus Andreas. 1946. Die plek wat die dialek toekom as deel van die landstaal. Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 3(1): 6-16. [ Links ]
Louw, Stephanus Andreas. 1948. Dialekvermenging en taalontwikkeling: Proewe van Afrikaanse taalgeografie. Kaapstad: Balkema. [ Links ]
Louw, Stephanus Andreas. 1959. Afrikaanse taalatlas. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Pienaar, Eduard Christiaan. 1943. Die triomf van Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Pers. [ Links ]
Pienaar, Pierre de Villiers. 1947. Die Afrikaanse spreektaal. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Ponelis, Friedrich Albert. 1987. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Hans du Plessis & Theodorus du Plessis (reds.). Afrikaans en taalpolitiek: 15 opstelle, 3-15. Pretoria: HAUM. [ Links ]
Ponelis, Friedrich Albert. 1998. Standaardafrikaans en die Afrikaanse taalfamilie. Universiteit van Stellenbosch Annale 1998(1): 1-80. [ Links ]
Prinsloo, Antonie Frederik. 2009. Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea. [ Links ]
Rademeyer, John Hubert. 1931. Die taal van die Griekwas en Rehoboth-Basters. DLitt-proefskrif. Universiteit van Pretoria. [ Links ]
Rademeyer, John Hubert. 1938. Kleurling-Afrikaans: Die taal van die Griekwas en die Rehoboth-Basters. Amsterdam: N. V. Swets & Zeitlinger. [ Links ]
Raidt, Edith Hildegard. 1984. Vrouetaal en taalverandering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 24(4): 256-286. [ Links ]
Raidt, Edith Hildegard. 1986. Taalvariasie in agtiende-eeuse vrouetaal. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 4(4): 101-145. https://doi.org/10.1080/10118063.1986.9724234 [ Links ]
Reddy, K. 1999. Gender in die Afrikaans T2-klaskamer: "Feesmaal" (1994) as voorgeskrewe teks. MA-tesis. Universiteit van Natal. [ Links ]
Ribbens-Klein, Yolandi. 2016. To Bry or not to Bry: The social meanings of Afrikaans rhotic variation in the South Cape. PhD-proefskrif. Universiteit van Kaapstad. [ Links ]
Rossouw, N. J. 1939. Die taal van Hendrik Witbooi as proewe van Hottentot-Hollands. MA-tesis. Universiteit van Stellenbosch. [ Links ]
Slabbert, Sarah Johanna Catharine. 1993. Vrouetaal in drie Afrikaanse tydskrifte: Die Boervrou (1919-1931), Die Huisgenoot (1940), Sarie (Marais) (1949-1989). PhD-proefskrif. Universiteit van die Witwatersrand. [ Links ]
Snyman, Maria. 1990. Taalseksisme en stereotipering in taalonderrigmateriaal vir nie-Afrikaanssprekende volwassenes. MEd-tesis. Randse Afrikaanse Universiteit. [ Links ]
Staphorst, Luan. 2020. "... the broken Dutch they understood and spoke Die Ixam-Boesmans, die Bleek en Lloyd-argief, en die Afrikaanse taalgeskiedenis. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 27(2): 3-30. Aanlyn: https://hdl.handle.net/10520/ejc-tna-v27-n2-a2 (Geraadpleeg 16 Oktober 2023) [ Links ]
Staphorst, Luan. 2022a. Decolonising the death of |xam: Tracking the origins of the language of folklore in the Karoo. MSc-tesis. Universiteit van Oxford. [ Links ]
Staphorst, Luan. 2022b. 'van die oorspronklike lippe' ('from the original lips'): The 19th-century Cape Colony, holographic archaeology and the historicity of Gideon von Wielligh's |xam-Afrikaans collection. Journal of Southern African Studies 48(6): 993-1011. https://doi.org/10.1080/03057070.2022.2165772 [ Links ]
Staphorst, Luan. 2023. "Die versluierde diepte": GR von Wielligh se verwikkelde Afrikaanse optekeninge van laat 19de-eeuse |xam-kultuur. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 37(1): 1-22. https://doi.org/10.54272/sach.2023.v37n1a1 [ Links ]
Swart, Cornelia. 2009. Landmeter Von Wielligh op ongekarteerde taallandskap. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 16(2): 92-104. [ Links ]
Van der Merwe, A., E. Groenewald, D. van Aardt, H. E. C. Tesner en R. J. Grimbeek. 1993. Die formantpatrone van Afrikaanse vokale soos geproduseer deur manlike sprekers. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 11(2): 71-79. https://doi.org/10.1080/10118063.1993.9723910 [ Links ]
Van der Merwe, Izak J. 1989. The geography of the Afrikaans language in South Africa. South African Geographical Journal 71(2): 89-93. https://doi.org/10.1080/03736245.1989.9713515 [ Links ]
Van der Merwe, Izak J. 1995. Language change in South Africa: A geographical perspective. GeoJournal 37(4): 513-523. https://doi.org/10.1007/BF00806940 [ Links ]
Van der Merwe, Izak J. 1996. Geolinguistics of European minority groups in Cape Town. Tijdschrift voor Economische en Sociale Geografie 87(2): 146-160. https://doi.org/10.1111/j.1467-9663.1998.tb01545.x [ Links ]
Van der Merwe, Izak J. & P. J. Le Roux. 1989. Geolinguistiek van Afrikaans in die metropolitaanse gebied van Kaapstad. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 7(2): 92-96. https://doi.org/10.1080/10118063.1989.9723796 [ Links ]
Van der Merwe, Izak J. & Johannes H. van der Merwe (reds.). 2006. Linguistic atlas of South Africa: Language in space and time. Stellenbosch: SUN Press. [ Links ]
Van der Merwe, Izak J. & Johannes H. van der Merwe. 2008. The linguistic atlas of South Africa: Mapping diversity in space and time. In Monica Barni & Guus Extra (reds.). Mapping linguistic diversity in multicultural contexts, 265-292. Berlin: De Gruyter. [ Links ]
Van der Spuy, E. F. 1995. Seksisme in die Afrikaans T2-klaskamer: 'n Studie in kritiese taalbewustheid. MA-tesis. Universiteit van Natal. [ Links ]
Van Ginneken, Jacobus. 1913. Handboek der Nederlandsche Taal. Deel I. De sociologische structuur der Nederlandsche taal I. Nijmegen: Malmberg. [ Links ]
Van Rensburg, Christo. 1967. Taalgeografie: Twee rekonstruksies. Taalfasette 4: 39-42. https://doi.org/10.1080/04966740.1967.10587883 [ Links ]
Van Rensburg, Christo. 1976. Die bestudering van taalvariante in Afrikaans. Taalfasette 20(3): 1-15. https://doi.org/10.1080/04966740.1976.10587978 [ Links ]
Van Rensburg, Christo. 1981. Transvaalse Afrikaans aan die einde van die vorige eeu. Bloemfontein: NALN/UOVS. [ Links ]
Van Rensburg, Christo & Willem Johannes de Klerk. 1967. Taalvariante: 'n Taalatlashantering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 7(2): 455-459. [ Links ]
Van Rensburg, Christo & I. S. Hay. 1968. Oor die identifikasie van Afrikaanse verhoogde vokale. Klasgids 4(2): 35-41. [ Links ]
Van Rooy, A. J. 1996. Is generiese manlike voornaamwoorde regtig generies? Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde 14(1): 33-41. https://doi.org/10.1080/10118063.1996.9724041 [ Links ]
Van Vuuren, Helize. 1995. Die mondelinge tradisie van die /Xam en 'n herlees van Von Wielligh se Boesman-Stories (vier dele, 1919-1921). Tydskrif vir Letterkunde 33(1): 25-35. [ Links ]
Van Vuuren, Helize. 2016. A necklace of Springbok ears: /Xam orality and South African literature. Stellenbosch: SUN Press. [ Links ]
Van Zyl, D. H. 1942. Die Griekwa-Hotnot-taal. Die Huisgenoot 26(1055): 27. [ Links ]
Van Zyl, D. H. 1947. 'n Griekwa ietsigeit. Bloemfontein: Nasionale Pers. [ Links ]
Vermaak, Rachelle. 1997. Taalseksisme in die leksikon: Met spesifieke verwysing na Afrikaans. MA-tesis. Randse Afrikaanse Universiteit. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1918a. n Afrikaanse taalkongres. Die Brandwag 8(9): 276-279. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1918b. Dialektiese eienaardighede in Afrikaans. Die Brandwag 8(12): 375-377. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1919. Boesman-Stories. Deel I. Mitologie en legendes. Kaapstad: Nationale Pers. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1920. Boesman-Stories: Deel II. Dierstories en ander verhale. Kaapstad: Nationale Pers. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921a. Boesman-Stories: Deel III. Die boesman self, sy sedes, gewoontes en bekwaamhede. Kaapstad: Nationale Pers. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921b. Boesman-Stories. Deel IV. Gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike aard. Kaapstad: Nationale Pers. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921c. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 5(57): 389-393. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921d. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 5(58): 417-421. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921e. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 5(59): 455-459. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921f. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 5(60): 495-497. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921g. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(61): 23-25. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921h. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(62): 61-63. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921i. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(63): 97-99. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921j. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(64): 143-148. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921k. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(65): 197-201. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921l. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(66): 247-250. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1921m. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(67): 291-294. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922a. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(69): 379-382. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922b. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(70): 421-423. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922c. Ons geselstaal: n oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(71): 451-455. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922d. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 6(72): 507-509. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922e. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 7(73): 20-24. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922f. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 7(74): 67-68. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1922g. Ons geselstaal: n Oorsig van Afrikaans soos dit oor ons hele land gepraat word. Die Huisgenoot 7(75): 113-117. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1925. Ons geselstaal: 'n Oorsig van gewestelike spraak soos Afrikaans gepraat word. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Von Wielligh, Gideon Retief. 1928. Die Afrikaner en lees. Die Huisgenoot 13(345): 47. [ Links ]
Williams, Colin H. & Izak van der Merwe. 1996. Mapping the multilingual city: A research agenda for urban geolinguistics. Journal of Multilingual and Multicultural Development 17(1): 49-66. https://doi.org/10.1080/01434639608666259 [ Links ]
Witbooi, Hendrik. 1929. Die dagboek van Hendrik Witbooi: Kaptein van die Witbooi-Hottentotte, 1884-1905. Kaapstad: Van Riebeeck Society. [ Links ]