Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Koers
On-line version ISSN 2304-8557
Print version ISSN 0023-270X
Koers (Online) vol.89 n.1 Pretoria 2024
http://dx.doi.org/10.19108/KOERS.89.1.2574
ORIGINAL RESEARCH
Die histories-teoretiese verband tussen postmodernisme en Marxistiese epistemologie: 'n Christelike perspektief / The historical-theoretical relationship between postmodernism and Marxist epistemology: a Christian perspective
Dr M. Diedericks
Departement Bybelkunde, Filosofie en Lewensvaardighede Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), Pretoria, South Africa. https://orcid.org/0000-0003-1265-4725
OPSOMMING
Postmodernisme se epistemologie, wat vir die bevordering van antimetanarratiewe, se kernintelligentsia bekend is, toon duidelike marxistiese vooronderstellings. Akademici het a verskeie pogings aangewend om 'n verband tussen postmodernisme en marxisme aan te toon. Postmodernisme se bevordering van antimetanarratiewe en die positiewe gesindheid wat teenoor die marxistiese metanarratief in sommige van hierdie denkrigtings sigbaar is, skep 'n anomalie. Binne die historiese ontwikkeling van marxisme kan elemente van hierdie anomalie beter verstaan word. Die artikel toon aan hoe die mislukkings van kommunisme histories bygedra het tot sommige aspekte wat binne postmodernistiese epistemologie ontwikkel het. Hieruit blyk dit dat hoewel die postmodernistiese epistemologie antimetanarratief ingeste s sommige postmodernistiesgesinde akademici dit as 'n tegniek gebruik om absolutisties-marxistiese idees te bevorder. Hierby is sosialegeregtigheidsbewegings waaraan sommige Christelike groeperinge deelneem, ingesluit.
Kernwoorde: dekonstruksionisme; epistemologie; Karl Marx; marxisme; metanarratiewe; postmodernisme; sosialegeregtigheidsbewegings
ABSTRACT
Postmodernism, known for its epistemology that promotes anti-metanarratives, has a core intelligentsia that shows explicit marxist assumptions. Academies have made various attempts to demonstrate a connection between postmodernism and marxism. The promotion of anti-metanarratives within postmodernism and the positive attitude towards the marxist metanarrative visible in some of these schools of thought create an anomaly. Within the historical development of marxism, elements of this anomaly can be better understood. The article illustrates how the historical failures of communism contributed to certain aspects that developed within postmodernist epistemology. It becomes evident that although postmodernist epistemology is anti-metanarrative in nature, it is used by some postmodernist-inclined academics as a technique to promote absolutist marxist ideas. This includes the social justice movements that some Christian groups participate in.
Keywords: deconstructionism; epistemology; Karl Marx; marxism; metanarratives; postmodernism; social justice movements
1. Inleiding
Verskeie kerklike denominasies het blindelings begin beweeg in die rigting van die sosialegeregtigheidsbeweging, wat marxistiese wortels het (Baucham, 2021:xii). Binne hierdie beweging is sosiale geregtigheid die agenda van talle kerklike denominasies. Hier is die kerk daarop toegespits om voorheen benadeeldes en onderdruktes op te hef, en sodoende word gelykheid die norm vir alle sosiale ordes. 'n Meer onlangse voorbeeld is dié van die Southern Baptist Convention wat in 2019 'n resolusie opgestel het waarin die critical race theory as "analytical tools that can aid in evaluating a variety of human experiences" beskryf word. Die gevolg is dat die kerk feminisme, antirassisme, dekolonialisering, natuurbewaringsbewegings en antikapitalismebewegings as agendas dryf, wat nie op 'n Reformatoriese grondslag staan nie. Dit het eerder vanuit marxisties-epistemologiese beginsels ontwikkel (Southern Baptist Convention, 2019).
2. PROBLEEMSTELLING
Olena Fimyar, wat in Oekraïne grootgeword het, het die geleentheid ontvang om in 2004 met haar meestersgraad by 'n Westerse universiteit in Engeland, Cambridge Universiteit, te begin. Sy beskou haar studie as "studying the rest through the prism of the West" (Fimyar, 2011:77). Hier verteenwoordig die "West" die "normale stand van sake", en die "rest" verwys op sy beurt na voormalige marxistiese ideale as die "abnormale". Vir Fimyar was hierdie "vilifying" van die "rest" teenoor die "West" baie onbevredigend. Hoewel Fimyar se studie dus nie aanvanklik vir haar bevredigend was nie, het dit begin verander nadat sy die werke van die bekende postmoderne denker Michel Foucault gelees het.
Nadat Fimyar (2011:77) die werke van Foucault, gelees het, maak sy die volgende opmerking: "Instead of asking 'what is true?' one now asks 'how did we come to believe that this position is true, given all the alternatives?'" Postmoderne denkers (soos Foucault) het vir Fimyar en ander postkommunisties-gesindes iets gebied wat as teenvoeter vir kapitalisme of die Westerse "normale stand van sake" gedien het.
Die wyse waarop daar vanuit postmodernisme met marxisme in gesprek getree is, is uiteenlopend. Sommige marxiste het 'n poging aangewend om 'n sintese tussen marxisme en postmodernisme te bewerkstellig (Gomel, 2013:310, Ford, 2019:1544). Vir ander is marxisme bloot net nog 'n metanarratief wat verwerp kan word (Negri & Hardt, 2000:25). In die bespreking van Negri en Hardt se boek Empire maak Varsava (2001:498) die volgende opmerking: "They have not sold out Marxism simply to repackage Foucauldian notions." Wat Varsava hiermee bedoel, is dat Negri en Hardt die essensie van marxistiese idees binne postmodernistiese (Foucauldiaanse) terminologie behou het.
Indien 'n persoon verder in postmodernisme delf, neem dit nie lank voordat die persoon hom/haar in gesprek met marxistiese idees bevind nie (Oosterhoff, 2004:25). Om elke hoek en draai van postmodernisme staan marxiste en antimarxiste wat in gesprek met mekaar oor Marx en verbandhoudende marxistiese idees tree. Volgens Braidotti (2017:19) verwerp geswore postmoderniste wel marxisme as 'n metanarratief, maar hulle behou steeds die fundamentele beginsels van marxistiese epistemologie. Dit is opmerklik dat talle postmoderne skrywers, wat antimetanarratief ingestel is, besonder positief teenoor een van die groot metanarratiewe van die 20ste eeu naamlik marxisme ingestel is (Hicks, 2011:108). Soos Bailey (2005:144) dit stel: "In general terms, there remains a strong tendency among former and current Marxists to surrender entirely to the postmodern as in the work of ex-Marxist Jean Baudrillard."
Die gevaarlike invloede wat postmodernisme vir die Christendom inhou, is al deeglik deurtrap (Carson, 1996:15). Van hierdie gevare sluit die nihilistiese irrasionalisme van postmodernisme in, wat die realiteit bloot 'n wasigheid maak. Hier geld geen waarheid nie, veral nie die waarheidsaansprake van die Christelike geloof nie (Knight, 2006:46). Die dekonstruksionisme van postmodernisme bevorder verder 'n oneindige verskeidenheid moontlike verhoudings wat die begrip van doel en kennis bemoeilik. Dit lei daartoe dat daar soveel waarhede bestaan as wat daar mense is (Strimple, 1995:153). Laastens lewer postmodernisme 'n pleidooi vir antimetanarratiewe, waarvan die Christelike geloof een van die mees prominente metanarratiewe is. Die aanval op metanarratiewe is volgens Oosterhoff (2004:69) slegs 'n verskuilde poging wat vir 'n nuwe of ander metanarratiewe plek maak. Oosterhoff (2004:69) wys daarop dat die wegdoen met metanarratiewe "onmogelijk" is "omdat mensen niet zonder een metanarratief kunnen leven".
Waarvan sommige Christene minder bewus is, is die verband tussen postmodernisme en marxisme. Die bedoeling van hierdie artikel is nie om die gevare van postmodernisme opnuut te bespreek nie, maar eerder om die gevaarlike (en dikwels verskuilde) historiese verband tussen postmodernisme en marxisme aan te toon. Teen die voorgaande agtergrond word die navorsingsvraag gestel: Wat is die historiese teoretiese verband tussen postmodernisme en marxisme?
In die res van hierdie artikel word daar ondersoek ingestel na die historiese verband tussen postmodernisme en marxisme. Dit word gedoen deur op die mislukkings van marxisme te let, asook op die gevolge wat dit vir sommige postmoderne denkers ingehou het. Daarna word die teoretiese verband tussen postmodernisme en marxisme bespreek deur 'n ontleding van die ontwikkeling van postmodernistiese epistemologie te bied. Voorts word daar ook gefokus op die implementering van postmodernistiese epistemologie as 'n retoriese strategie ter bevordering van marxistiese ideale.
3. Historiese verband tussen postmodernisme en marxisme
3.1 Die wyse waarop kommunisme misluk het
Karl Marx (1818-1883) het gepoog om 'n wetenskaplike antwoord op die gevoel van sy tyd te bied. Marx, wat as 'n antiliberalis beskou kan word, het saam met Friedrich Engels (18201895) die kragtige ideologie van marxisme verder ontwikkel. Dennison (2017:77) toon aan dat Marx se verpakking van sy marxistiese ideologie so kragtig was omdat dit in die vorm van 'n evangelie aangebied is. Marx se ideale sou lei tot 'n hemel op aarde, as 't ware 'n utopie. Marx se ideologie was dus nie bedoel om net nog 'n teorie te wees nie - dit was eerder bestem om 'n geloofsuitkyk of geloofsverklaring te wees. Soos wat Christene hulle tot die "Apostoliese geloofsbelydenis" verbind het, het marxiste hulle tot die Kommunistiese manifes verbind (Glanzer, 2002:15).
Marx het die struktuur van die mensdom se geskiedenis ondersoek uit die gesagsverhouding van die ekonomiese handeling, naamlik die handeling tussen verskillende klasse (Marx & Engels, 1975, voorwoord tot "A contribution to the critique of political economy" in Marx en Engels se Collected works, 29:262)1. Die kernbegrip van Marx se opvattinge kan in twee stellings saamgevat word:
1. Ekonomies: Kapitalisme sal minder produktief wees as kommunisme en gaan homself doodmaak omdat die rykes (bourgeoisie) ryker sal word en die armes (proletariaat) armer. 'n Rewolusionêre klas sal gekweek word wat die bourgeoisie sal uitwis. Ekonomies sal kommunistiese ekonomieë meer produktief wees weens die gedeelde belang (Marx & Engels, 1975: "The German ideology" in MECW, 5:47).
2. Moreel: Kapitalisme is onderdrukkend. In die kompetisiegedrewe kultuur maak die rykes die armes slawe. Op hierdie wyse word die selfsugtige imperialisme bevorder. Op 'n morele vlak is kommunisme meer menswaardig as kapitalisme omdat dit almal gelyk behandel (Marx & Engels, 1975: "The German ideology" in MECW, 5:73).
Die eerste stelling wat oor die ekonomiese uitkyk op kapitalisme en kommunisme handel, het histories anders verloop as wat Marx voorspel het. Een van die kragtige en bekende stellings van kapitalisme is dat die rykes net ryker word en die armes al hoe armer. Hieruit het Marx afgelei dat die kommuniste net moet wag vir die proletariaatmassas om in opstand teen die bourgeoisie te kom. As die gaping tussen die armes en die rykes so groot word, sal die armes in opstand kom, en so sal die rewolusie vanself ontstaan.
Marx was ook van mening dat daar in sy tyd 'n rewolusie op hande was, en hy was dan ook uitgesproke hieroor (MEOV, 6:490). Kapitalisme sou dus doodbloei, en sodoende sou dit uitsterf. Hoewel daar in teorie so hieroor geredeneer is, was dit egter nie wat in talle gevalle gebeur het nie. Deaton (2013:201) en Snowdon (2015) toon statisties aan dat die rykes in kapitalistiese lande, soos die Verenigde State van Amerika en die Verenigde Koninkryk, wel ryker geword het. Tog het die armes ook ryker geword namate die ekonomie van die lande ontwikkel het.
Die interaksie tussen werkgewer en werknemer is immers nie slegs 'n teoretiese abstraksie nie. Dit is veel meer kompleks. Die ekonome wat kommunistiesgesind was, soos Robert Heilbroner (1990:15), het toegegee dat kapitalisme gewen het. Die gevolg hiervan was dat die massas toe nie in opstand wou kom nie. Statistiek, soos in Deaton (2013) en Snowdon (2015) vervat, het nie ten doel om te wys dat kapitalisme "gewen" het nie. In hierdie verband toon dit wel aan dat Marx se teoretiese stelling oor kapitalisme nie noodwendig in die praktyk so uitgewerk het nie.
Uit die geskrifte van Vladimir Lenin (1918:74-75) kan sy frustrasie met die gedagte dat die massas uit hul eie in opstand gaan kom duidelik gesien word. Lenin-kommunisme ontwikkel 'n nuwe aspek by Marx se ideale, en dit is dat die proletariaat gehelp moet word om in opstand te kom. In hierdie verband kan daar op die volgende stellings van Brooks en Chernyavskiy (2007:23) gelet word:
Eventually, Lenin diverged from Marx and Engels with respect to the stages of history. Marx and Engels argued that every society had to go through a feudal and then a bourgeois (capitalist) stage to reach proletarian rule: Lenin wanted Russia to advance more rapidly.
Die proletariaat moet deur middel van propaganda, aanhitsing en beter administratiewe strukturering van die kommunistiese intelligentsia tot 'n rewolusie teen die bourgeoisie opgesweep word. Ná 'n lang stryd en baie harde werk het hierdie pogings van Lenin op die Russiese Rewolusie van 1917 uitgeloop. Lenin se geforseerde implementering van sy aangepaste kommunistiese ideale het dadelik 'n negatiewe uitwerking op Rusland se ekonomie gehad. Hierdie uitwerking was in so 'n mate sigbaar dat Lenin gedwing was om tydens die Tiende Partykongres in Maart 1921 'n besluit te aanvaar om sommige van die streng kommunistiese beleide vir eers op ys te plaas (Brooks & Chernyavskiy, 2007:40).
Josef Stalin, Lenin se opvolger, het ná Lenin se dood die kommunistiese beleid tot die uiterste gedruk en 'n streng kommunisme (die afdwinging van talle van Marx se ideale) in Rusland in werking gestel. Aanvanklik is ekonomiese sukses in die nuwe kommunistiese Rusland behaal. Tog vertel die ekonomiese statistiese vergelyking tussen kommunistiese en kapitalistiese lande 'n duidelike verhaal van ekonomiese mislukking aan die kant van die kommunistiese lande. "What we saw in Russia of the thirties was a land where industrialization was underwritten by mass starvation." (Schlesinger, 1949:viii)
Daar is toegewyde marxiste wat Lenin-Stalin-kommunisme as 'n swak voorbeeld van marxisme beskou, en hulle beweer ook dat die "werklike" implementering van Marx se ideale baie gunstiger gevolge sou gehad het. Dit het egter duidelik geraak dat die kommunistiese ekonomiese beleid, wat akademici betref, misluk het. Wat van Marx egter oorgebly het, was die vraag oor die morele aspek: Is kapitalisme of kommunisme die moreelste maatskaplik-ekonomiese stelsel?
Vanuit Christelike akademicikringe word kapitalisme, veral op morele grond, hewig gekritiseer (Hay, 2004:5). Die verheffing van kapitaal en geld bo mense en die mens wat vanaf 'n arbeider tot 'n werkende slaaf verminder word, is heeltemal immoreel. Voorbeelde vanuit die geskiedenis oor die boosheid van die imperialisme en die slawerny wat daarmee saamgaan, is gebruik om aan te toon waarom kapitalisme 'n bose immorele stelsel is (Sweezy, 1990:278). Die kommunisme binne Marx se ideale was voor die einde van die Tweede Wereldoorlog dikwels as 'n meer morele stelsel voorgehou.
Volgens Hayek (1944:196) het kapitalisme egter met verloop van tyd, veral gedurende die 1950's, ekonomies maar ook moreel as die wenner uit die stryd gestap. Ná die Tweede Wereldoorlog het die morele boosheid van die nasionalistiese sosialisme van die naziïsme aan die lig gekom toe die wêreld van die massamoord van 6 miljoen Jode bewus geraak het. Die kommunisme van die Unie van Sowjet-Sosialistiese Republieke (USSR) het egter nie so sleg daarvan afgekom nie. Ná die dood van Stalin het die hoop van kommunisme as 'n ideologie wat moreel meer aanvaarbaar was egter heeltemal misluk. "Joseph Stalin's regime had slaughtered tens of millions of human beings, staggering numbers that made the National Socialists' efforts seem amateurish in comparison." (Hicks, 2004:83) Hoewel dit moeilik is om die aantal moorde te bepaal wat onder die USSR gepleeg is, was die boodskap baie duidelik: Kommunisme het ekonomies en moreel misluk. Wanneer die booshede van die USSR en die moorde van Moa Zedong onder kommunistiese China ook in ag geneem word, word 'n totaal onverantwoordbare uitkoms vir die kommuniste duidelik (Rummel, 1994:18; Courtois, Werth, Panné, Paczkowski & Margolin, 1999:7).
Die gevolg was egter nie 'n radikale bekering van die marxiste tot kapitalisme nie. Marxisme in sy verskillende vorme is immers 'n vorm van geloof, en gedrewe marxiste verander nie net sommer hul "geloof" nie. Marxistiese groeperings in verskillende vorme het toenemend as ondergrondse organisasies begin funksioneer. Gedurende die 1960's en 1970's het daar verskeie marxistiese terroristeorganisasies wêreldwyd tot stand gekom (Guelke, 1995:32).
Palmer bied 'n dieper begrip van die wyse waarop hierdie ondergrondse marxistiese organisasies gewerk het. Hierdie begrip bied hy vanuit sy persoonlike betrokkenheid binne die organisasies as jongman tydens die 1960's en 1970's. Palmer (2005:61) sê byvoorbeeld:
I joined droves of New Leftists descending on Dupont Circle and other major Washington arteries. It was a massive May Day attempt to grind the machinery of the state to a halt. We didn't do badly. Traffic snarled, blocked by bodies. When cops and members of the armed forces moved to disperse crowds with nightsticks and worse, we fought back. The nation's capital became a war zone. It took 13,000 brutal arrests and illegal detentions, as well as a warehouse of tear-gas canisters, to quiet the scene.
3.2 n Agtergrond tot die denke van die postmodernisme
Ná afloop van die Tweede Wereldoorlog was Frankryk 'n vernederde volk. Hulle was verneder deur die mag van die Duitsers tydens die oorlog en is aan die genade van die twee magtige kapitalistiese oorwinnaars oorgelaat, naamlik die Verenigde State van Amerika en Engeland. Gedurende hierdie tyd het die Franse filosowe die stem van die wêreld geraak. Judt (2005:210) som die situasie van die Franse ná die Tweede Wereldoorlog soos volg op:
Despite France's shattering defeat in 1940, its humiliating subjugation under four years of German occupation, the moral ambiguity (and worse) of Marshall Petain's Vichy regime, and the country's' embarrassing subordination to the US and Britain in the international diplomacy of the post-war year, French culture became once again the centre of international attention: French intellectuals acquired a special international significance as spokesmen of the age, and the tenor of French political arguments epitomised the ideological rent in the world at large. Once more - and for the last time - Paris was the capital of Europe.
Dit is opmerklik dat die grootste postmoderne denkers (Michel Foucault, Jean-Francois Lyotard en Jacques Derrida) almal Franse filosowe was (Richard Rorty uitgesluit). Hierdie postmoderne denkers was in die bloei van hul akademiese loopbaan tussen die 1950-1970's. Hicks beklemtoon die opmerklike ooreenstemming tussen postmodernistiese intelligentsia, naamlik Foucault, Lyotard, Derrida en Rorty. Hicks (2011:152) sê die volgende:
All four of these postmodernists were born within a seven-year span. All were well trained in philosophy at the best schools. All entered their academic careers in the 1950s. All were strongly committed to Left politics. All were well aware of the history of socialist theory and practice. All lived through the crises of socialism of the 1950s and 1960s. And come the end of the 1960s and early 1970s, all four had high standing in their professional academic disciplines and high standing among the intellectual Left.
Die historiese plasing van hierdie skrywers binne die ontwikkeling van marxistiese denke bied 'n belangrike perspektief op postmodernisme. Die kernintelligentsia wat postmodernisme as filosofie uitgebou het, hoewel hulle onderling talle klein verskille en nuanses het, se positiewe geneigdheid tot marxistiese idees behoort van kennis geneem te word.
Ná die Tweede Wereldoorlog het die ekonomiese en morele mislukking van kommunisme duidelik geword. Dit is gedurende hierdie tyd dat die voormalige marxistiesgesinde Franse filosowe, wat vandag ook as postmoderne filosowe gekenmerk word, in die fleur van hul akademiese loopbaan was. Hulle is akademies bemagtig deur hul opleiding by die beste universiteite, waar hulle die werke van Georg Friedrich Hegel, Karl Marx en Friedrich Nietzsche bestudeer het. Hulle is wel aan bande gelê deur die verlies aan 'n verwysingsraamwerk van die ekonomiese en morele verval van kommunisme. Tog was hulle steeds toegewy aan die marxistiese ideale (Hicks, 2011:150). Die Franse filosowe het teen hierdie agtergrond aan 'n nuwe vorm van epistemologie begin arbei.
4. Teoretiese verband tussen postmodernisme en marxisme
4.1 Die ontwikkeling van postmodernistiese epistemologie
Postmodernistiese intelligentsia soos Foucault, Derrida, Lyotard en Rorty het 'n uitkoms gebied vir die postkommunisties-gesindes wie se utopie in duie gestort het. Hierdie uitkoms het die postkommunisties-gesindes gehelp om verby feitlikhede rakende kommunistiese mislukking te kyk en eerder op die "nuwe horisonne" te fokus wat postmodernisme gebied het. Ford (2019:1543) stel dit soos volg:
Postmodernism has, however, done away with the modern. Instead of modernity, we today find ourselves unmistakably within what Jodi Dean, following Garcia Linera, calls 'the communist horizon.' Although the Soviet Union hasn't existed for over 25 years, communism nonetheless determines our political juncture, framing our contemporary moment through embrace as well as disavowal.
Postmodernisme sluit talle komplekse filosofiese verwikkelinge in. Daar is egter volgens Hicks (2011:30) veral drie aspekte in die veld van epistemologie wat die post-kommunistiesgesindes gehelp het om hulself binne die postkommunistiese era te posisioneer. Hierdie drie aspekte kan vervolgens uitgelig word: die ontwikkeling van die nihilistiese irrasionalisme, dekonstruksionisme en antimetanarratiewe.
Postmodernisme word gekenmerk deur sy sterk nihilistiese grondslag (Lyon, 2008:9). Dit beteken dat dit wat werklik is wasig is en dat die vasstelling van die waarheid nie meer so eenvoudig is as wat dit in die verlede was nie. Die verlies aan die werklikheid is 'n basiese tema wat in die werk van postmoderne skrywers gesien kan word. Binne die nietzscheaanse nihilisme is die realiteit vloeibaar en onstabiel. Die gevolg is dat die rede teen homself draai en die sogenaamde stelsel van rede eintlik net stelsels van oortuiging is. Mense, groepe of metanarratiewe wat dus beweer dat hulle die waarheid gevind het, plaas eintlik net hulself bo ander. Die doel is om ander groeperinge te onderdruk (Lyotard, 1994:77). Binne hierdie raamwerk kan die onderdrukker-onderdrukte-verhouding, wat binne marxisme soveel klem ontvang, uitgeskakel word.
Sedert die begin van die Verligtingstydperk, waar daar in die besonder op die belangrikheid van menslike rede klem gelê is, het daar ook 'n sterk irrasionalisme begin onwikkel. Jean-Jacques Rousseau het die grondslag vir die irrasionalisme en prototale rewolusiegesindheid gelê, waarna postkantiane, neohegeliane, asook die romantiek en nieumarxisme verder op sy werk gebou het (Hicks, 2011:34). Die irrasionalisme- en prorewolusiebeweging het uitgeloop op die konsep dat menslike denke 'n illusie is en dat die passie van 'n mens bo die rede gestel word (Woolfolk, 2004:42).
Enige feite of logiese strukturering van gedagtes wat deur die modernistiese idees gestel word, word binne die nihilistiese irrasionalisme as Aristoteliaanse logika afgemaak (Hegel, 1989:73). Die mens se gevoel en passie is belangriker as rede, en menswees word gevolglik gevind in die nastrewing en uitlewing van die mens se gevoelens en passie en nie in die rede nie. Irrasionele optrede het dus nie 'n verklaring nodig nie en hoef veral nie volgens die modernistiese strukture verklaar te word nie (Foucault, 1980:49). Hierdie onverklaarbare nihilistiese irrasionalisme is veral sigbaar in die nihilistiese kuns. Ter illustrasie kan daar hier verwys word na Robert Rauschenberg wat as kunstenaar in die skadu van Willem de Kooning gestaan het. Rauschenberg het De Kooning se kunswerk gekoop en dit as 'n vorm van kuns vernietig, net omdat hy nie self sulke kuns kon maak nie. Van hierdie tipe irrasionele kunsvorme is daar talle voorbeelde (Hicks, 2004:1).
'n Verdere belangrike bydrae tot postmodernistiese epistemologie is die ontwikkeling van dekonstruksionisme. Derrida (1978:37) het gewerk op die gebied van die dekonstruksie van taal en tekste. Een van sy doele was om aan te toon dat alle taal en tekste lewendig is en dat dit verandering ondergaan. Dekonstruksionisme is die ontmaskering van taal deur slegs verdere verbinding met taal raak te sien. Taal bind nooit met nielinguistiese realiteit nie, en so kan daar nooit binne die dekonstruksionisme buite taal beweeg word nie; dus is daar "agter" taal net nog taal. Die gevolg hiervan is dat dekonstruksionisme in beginsel 'n oneindige proses is. Taal is tekens of simbole wat slegs in relasie tot mekaar in verskillende diskoerse, debatte of gesprekke verstaan kan word. Uit die groot verskeidenheid van relasiemoontlikhede is bedoeling of kennis onmoontlik, en al wat nou moontlik is, is sikliese en onduidelike diskoers (Lyotard, 1984:17).
Verder is dekonstruksionisme die bevordering van 'n buigbare netwerk van taalspeletjies. Rorty (1989:4-5) verwys spesifiek na "taalspeletjies" om aan te toon dat taal nie voorgeskryf word nie. Dit word eerder op verskillende maniere vanuit verskillende historiese, sosiale en kulturele agtergronde saamgestel: "The world does not tell us what language games to play and human languages are human creations." (Rorty, 1989:4-5) Die doel van taal is dus nie om te argumenteer met die bedoeling om iets as waar of vals te bewys nie. Soos Bauman (1987:25) dit stel: "Intellectuals no longer legislate, they interpret." Wetenskaplikes behoort volgens postmodernistiese epistemologie nederiger in hul bevindinge te wees; dus moet hulle nie voorgee dat hulle stellings maak nie. Hulle moet dit eerder as opinies voorhou in die lig van hoe hulle dinge sien.
Stabile (1997:29) wys op die ironie dat daar veral twee "absolute" stellings is wat postmodernisme kenmerk, naamlik die dekonstruksie van die werklikheid en die oorbeklemtoning van diversiteit. Die oorbeklemtoning van diversiteit geskied deur die implementering van die gedagte aangaande antimetanarratiewe. Metanarratiewe verwys na die groot lewensverhale wat vir die mensdom verduidelik hoe die wêreld werk, hoe die kosmos ontstaan het, wie die mens is, wat die taak van die mens is en waarheen die wêreld op pad is. Die groot metanarratiewe oor die loop van die geskiedenis is byvoorbeeld gelowe soos Judaïsme, Christendom, Islam, ens. Dit sluit egter ook ideologieë soos die modernisme in sy verskillende vorme in, byvoorbeeld kapitalisme. Die implikasie is dat marxisme ook deel van die groot narratiewe sal vorm, met die logiese gevolg dat marxisme ook as metanarratief verwerp moet word.
Vanuit die postmodernistiese taalteorie is daar nie plek vir metanarratiewe nie (Lyotard, 1984:xxvi). Lyotard (1984:37) verduidelik dat groot narratiewe hul kredietwaardigheid verloor het en dat die groot narratiewe bloot taal gebruik het om hul politieke posisie te verbeter. Geen narratief kan dus die koninklike posisie inneem en beweer dat dit die reg tot die waarheid het nie. Postmodernisme is dus nie 'n soeke na nuwe waarhede of metanarratiewe nie - dit is eerder 'n poging om nuwe horisonne deur die bevraagtekening van ou horisonne te ontdek (Foucault, 1988:154-155).
5. Die implementering van postmodernistiese epistemologie as 'n retoriese strategie ter bevordering van marxistiese ideale
Bailey (2005:147) beskryf Foucault, Derrida, Lyotard en Rorty as denkers wat glad nie as marxiste bestempel kan word nie. Vanuit die postmoderne epistemologie is hierdie gevolgtrekking van Bailey logies. Aangesien postmodernistiese epistemologie as 'n antimetanarratief beskou kan word en marxisme op sy beurt 'n metanarratief is, word kritiek teen marxisme gereeld onder postmoderne skrywers gevind. Braidotti (2017:19) meld byvoorbeeld dat Marx 'n humanis was en dat hy deel van die modernisme se strukturele raamwerk vorm. "Opregte" postmoderniste wat die gevolge van die postmoderne epistemologie tot sy uiterste uitvoer, verwerp wel alle metanarratiewe en daarmee saam ook marxisme. Daar is egter ook pogings deur marxiste aangewend om 'n helder samesmelting tussen postmodernisme en marxisme te weeg te bring (Carver, 1998:1; Negri & Hardt, 2000:2; Homer, 2018:5; Ryan, 2019:16).
Ná die val van kommunisme vind talle marxistiese denkers wel rustigheid in postmodernisme. Die gevolgtrekking waartoe Hicks (2011:108) in sy analise van postmodernisme kom, is die volgende: "Postmodernism is a result of using sceptical epistemology to justify the personal leap of faith necessary to continue believing in socialism/communism." Die rede hiervoor word duidelik gestel deur Derrida (1999:213) wanneer hy sê dat postmodernisme nog altyd in gesprek met marxisme was. Magnus en Cullenberg (1994:x) sê oor Specters of Marx, Derrida die se boek, die volgende:
This text Derrida takes his position for a certain spirit of Marxism, that 'deconstruction,' if there is such a thing, always already moves within a certain spirit of Marx. It should also be noted that, for Derrida, in speaking of a certain spirit of Marx.
So wys Gupta (2000:157) ook op die volgende: "Derrida took the spirit of Marxism seriously: a revitalised spirit of Marxism." Volgens Derrida (1994:14) is die hipotese van sy boek, Specters of Marx, dat daar nie 'n toekoms sonder een van die geeste van Marx is nie. Vir sy navolgers sê Derrida (1994:59) dat hy die goeie herder sal word wat marxiste in die nuwe toekoms sal inlei. Sy navolgers gaan egter eers moet transformeer voordat dit kan gebeur. Derrida se navolgers moet dus eers self posisies as benadeeldes of onderdruktes inneem en dan saam teen die onderdrukker verenig.
Uit hierdie skrywe van Derrida blyk dit duidelik dat die onderliggende marxistiese invloede in die lewe van die vroeë postmoderne denkers wel 'n invloed op die ontwikkeling van postmodernistiese epistemologie gehad het. Soos Wise (2004:73) dit stel: "Derrida subordinates deconstruction to serve the interests of specific politics that are far from neutral." Om op 'n rasionele wyse feitlike mislukkings op ekonomiese en morele gebied van kommunisme uit te wys, word deur die postmoderne epistemologie stilgemaak (Stabile, 1997:27). Die rasionele manier om na feite te kyk, is bloot as aristoteliaanse logika beskou wat die gevoelens en passie van die mens onderdruk. Verder het geen metanarratief die reg om hul idee van die werklikheid of hul feite oor die werklikheid as die waarheid voor te hou nie.
Deur die verandering van die epistemologiese inslag kon postmoderne denkers ook die instrumente vir die bepaling van eties-morele optrede verander. Postmodernisme se ekstreme vorm van pluralisme het tot relativisme gelei, wat beteken dat daar geen absolute uitsprake oor die werklikheid gemaak kan word nie. Op ekonomiese gebied beteken dit byvoorbeeld dat die modernistiese meting van 'n suksesvolle ekonomie nie deur behoeftebepaling as absolute meetinstrument bepaal kan word nie. Vanuit die modernisme is feite en statistieke as meetinstrumente gebruik om sodoende te bepaal watter gemeenskap se ekonomie sy mense se behoeftes die beste bevredig. Binne postmodernisme is die meetinstrument verander na die relativistiese meetinstrument van gelykheid (Harrington, 1970:355). Sou een gemeenskap byvoorbeeld minder kapitaal as 'n ander gemeenskap besit, sou daar ongelykheid wees. Hierdie ongelykheid kan verder ook in die vorm van sielkundige ongelykheid manifesteer (Hicks, 2011:91).
By postmodernistiese skrywers blyk dit onderliggend dat rykdom boos is en dat dit ook 'n verwoesting van die natuur verteenwoordig. Hierdeur het die klem van kapitalisme as bloot net nog 'n narratief na kapitalisme as 'n bose narratief geskuif. Waar Marx op 'n wetenskaplike wyse die boosheid van kapitalisme as teorie uitgewys het, het postmodernisme deur middel van irrasionele relativisme die boosheid van kapitalisme aangetoon (Rand, 1971:168-169).
'n Belangrike kenmerk van die marxistiese epistemologie wat ook in postmodernisme ingeweef is, is die klassestryd. Marx se klassestryd tussen die bourgeoisie en die proletariaat het binne postmodernisme na 'n identiteitstryd geskuif (Hicks, 2011:91). Lyon (2008:10) stel dat gedagtes rakende sosiale verandering of transformasie nou verweef is met postmodernisme in sy stryd teen die modernisme. Volgens Braidotti (2017:37) is postmodernisme nog altyd deur identiteitsgroeperinge soos die feminisme, rassisme, dekolonialisering en omgewingsbeskermingsgroepe aangevuur. Hierdie groepe word as die "resurgent other" beskou wat teen die vyand (die bourgeoisie) opgestel word - al hierdie groepe het immers hierdie een vyand in gemeen. Die gesamentlike vyand van die "resurgent other" is Euro-Amerikaanse wit mans (Mohanty, 1990:185; Oosterhoff, 2004:49; Braidotti, 2017:47).
Euro-Amerikaanse wit mans is ook die drywer van die bose kapitalistiese ideale. Juis daarom is hierdie groep - die Euro-Amerikaanse wit mans - die onderdrukker, en daarom moet daar deur middel van rewolusie in opstand gekom word teen hierdie groep. Berman (1988:35) se irritasie met postmoderne skrywers soos Foucault, wat die marxistiese klassestryd as ondertoon binne hul postmodernistiese epistemologie het, loop uit op die woorde: "The view that unless class struggle is prioritized you must be resigned to injustice."
Deur die bevordering van die marxistiese ideale wat in postmodernisme opgesluit is, word postmodernistiese epistemologie volgens Oosterhoff (2004:49) as 'n retoriese strategie gebruik. Die retoriese strategie se doel is om irrasionele magspolitiek te bevorder. Wette, byvoorbeeld die Grondwet, word deur postmodernistiese epistemologie "lewende dokumente". Wat postmodernisme onderskei, is nie die feit dat hulle toegee dat dokumente soos die Grondwet geredigeer of verander kan word nie. Dit is eerder die feit dat die bestaande teks vanuit die veranderende konteks van die leser herinterpreteer kan word. Hiermee word bedoel dat hierdie tekste aan eie interpretasie oopgestel word. Hier is die party wat die sterkste is dan in die bevoorregte posisie om die tekste te kan verklaar.
Taal word binne postmodernistiese epistemologie 'n speletjie wat ten doel het om 'n atmosfeer van teenstrydighede en konflik te skep (Stabile, 1997:29). Dit blyk dus dat postmodernistiese denkers geen spanning vind in die anomalie wat tussen hul bevordering van antimetanarratiewe aan die een kant en die bevordering van marxistiese ideale aan die ander kant bestaan nie. Die groep wat die meeste mag het, of selfs die meeste dryf tot mag het, bepaal politieke korrektheid deur middel van hul eie implementering van identiteitsklasse. Die groep met die meeste mag bepaal wie die onderdrukker en wie die onderdrukte is.
Onder die vaandel van byvoorbeeld multikulturalisme en verdraagsaamheidsteorieë word onderdrukte identiteitsgroepe se belange bevorder (Fessler, 2008:2). Die bevordering van onderdrukte identiteitsgroepe se belange geskied op twee wyses, afhangende van die magsparty se politieke gesigspunt. Indien die magsparty polities die sterkste is, geskied die bevordering van onderdrukte identiteitsgroepe se belange deur transformasie. Transformasie-ideale word gebruik om die onderdrukker uit te werk en die benadeelde party se belange te bevorder, met die doel om relativistiese gelykheid te bewerkstellig (Boshoff, 2015:66). Indien die magsparty nie polities die sterkste is nie, maar wel 'n sterk magsdrang het, geskied die bevordering van onderdrukte identiteitsgroepe se belange deur rewolusie, soos in die geval van die Russiese Rewolusie van 1917.
Die Christendom is deur die eeue gemoeid met die hernuwing van samelewings omdat die Woord van God deur die werking van die Heilige Gees mense en sodoende gemeenskappe verander en vernuwe. Die Christendom se oë is dus nie gesluit vir mense en groepe wat onderdruk word nie. So het die Reformasie van die 16de eeu ingrypende sosiale verandering te weeg gebring. Vanden Bout (2020:34) doen byvoorbeeld 'n oproep op die Reformatoriese gemeenskappe om aktief aan die sosialegeregtigheidsbewegings deel te neem. Vanden Bout (2020:34) verwys dan ook terug na die Reformasie van die 16de eeu as voorbeeld van die kerk se betrokkenheid by sosiale verandering. Van der Walt (2008:418-419) waarsku egter dat alle soorte sosiale verandering nie noodwendig logies Christelik is nie. Daar moet egter nie verwarring intree tussen die sosialegeregtigheidsbeweging en sosiale verandering nie. Die sosialegeregtigheidsbeweging se wortels word gevind in die marxistiese epistemologie, terwyl sosiale verandering voortspruit vanuit die Reformasie waarin gemeenskappe bekeer het en na God se Woord teruggekeer het.
6. Gevolgtrekking
In hierdie artikel is die probleemstelling ondersoek aangaande wat die histories- teoretiese verband tussen postmodernisme en marxisme is. Daar is gekyk na die historiese verband tussen postmodernisme en marxisme deur die mislukkings van kommunisme te ondersoek. Voorts is die wyse waarop kommunisme misluk het en die gevolge wat dit vir postmoderne denkers ingehou het ook bespreek. Daarna is die teoretiese verband tussen postmodernisme en marxisme uitgelig. Hier is daar gekyk na die ontwikkeling van postmodernistiese epistemologie en die implementering van postmodernistiese epistemologie as 'n retoriese strategie ter bevordering van marxistiese ideale.
Ten spyte van die feit dat postmodernistiese epistemologie die uitskakeling van metanarratiewe voorstaan, is daar 'n duidelik doelbewuste histories-teoretiese verband tussen postmodernisme en marxistiese epistemologie. Postmodernisme se bevordering van antimetanarratiewe en die positiewe gesindheid wat teenoor die marxistiese metanarratief in hierdie denkrigting sigbaar is, bied 'n anomalie. Die volgende blyk egter duidelik: Postmodernistiese denkers vind geen spanning in die anomalie betreffende hul bevordering van antimetanarratiewe aan die een kant en hul bevordering van marxistiese ideale aan die ander kant nie.
Daar is verskeie nuanses in hoe postmodernisme se verhouding tot marxistiese epistemologie begryp word. In hierdie artikel is daar egter aangetoon dat daar 'n doelbewuste histories-teoretiese verband tussen postmodernisme en marxistiese epistemologie is.
Postmoderne denkers het deur postmodernistiese epistemologie vir kommunistiesgesindes 'n middel gebied om, ten spyte van die mislukkings van kommunisme, hulself deur die bevordering van marxistiese ideale te regverdig. By hierdie ideale is die sosialegeregtigheidsbewegings ingesluit, waaraan sommige kerklike groeperinge binne die Christendom deelneem. Die Christendom het die afgelope dekades hewige kritiek gelewer teen die gevare wat postmodernisme vir die Christendom inh aktief aan die sosialegeregtigheidsbewegings deel te neem. By hierdie bewegings kan sommige se wortels in die marxistiese epistemologie gevind word.
BIBLIOGRAFIE
Bailey, S. 2005. "Class struggle": Marxism against postmodernism in educational theory. JCT, 21(4):143-148. [ Links ]
Baucham, V. 2021. Fault lines: The social justice movement and evangelicalism's looming catastrophe. Washington: Salem Books. [ Links ]
Berman, M. 1988. All that is solid melts into air. New York: Penguin. [ Links ]
Boshoff, C. 2015. Verder as vryheid: Die Orania Beweging en die toekoms van ons mense. Orania: Orania Beweging. [ Links ]
Bauman, Z. 1987. Legislators and interpreters. Cambridge: Polity Press. [ Links ]
Braidotti, R. 2017. The posthuman. Cambridge: Polity Press. [ Links ]
Brooks, J. & CHERNYAVSKIY, G. 2007. Lenin and the making of the Soviet state: The Bedford Series in History and Culture. London: Palgrave Macmillan. Kindle Edition. [ Links ]
Carson, D.A. 1996. The gagging of God: Christianity confronts pluralism. Grand Rapids: Zondervan Publishing House. [ Links ]
Carver, T. 1998. The postmodern Marx. Manchester: Manchester University Press. [ Links ]
Courtois, S., Werth, N., Panné, J., Paczkowski, K.B. & Margolin, J. 1999. The black book of communism: Crimes, terror, repression. Translated by Jonathan Murphy and Mark Kramer from the Russian. Cambridge: Harvard University Press. [ Links ]
Deaton, A. 2013. The great escape: Health, wealth, and the origins of inequality. New Jersey: Princeton University Press. [ Links ]
Dennison, W. 2017. Karl Marx: Great thinkers. Phillipsburg: P&R Publishing. [ Links ]
Derrida, J. 1978. Writing and difference. Translated by Alan Bass from the French. Chicago: University of Chicago Press. [ Links ]
Derrida, J. 1999. Marx & sons: Ghostly demarcations; A symposium on Jacques Derrida's Specters of Marx, Vol. 33. New York: Verso. [ Links ]
Derrida, J. 2012. Specters of Marx: The state of the debt, the work of mourning and the new international. New York: Routledge. https://doi.org/10.4324/9780203821619. [ Links ]
Estep, W.R. 1986. Renaissance and reformation. Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Company. [ Links ]
Fessler, P. 2008. What's wrong with multiculturalism: Christian scholars and cultural diversity. Pro rege, 36(3):1-10. [ Links ]
Fimyar, O. 2011. A manifesto of a postcommunist, poststructuralist researcher: Post-viva voce reflections. European education, 43(2):74-97. https://doi.org/10.2753/eue1056-4934430204. [ Links ]
Ford, D.R. 2019. Postmodern communism: An educational constellation. What comes after postmodernism in educational theory? Educational philosophy and theory, 50(14):1543-1544. https://doi.org/10.1080/00131857.2018.1461360. [ Links ]
Foucault, M. 1980. Power/knowledge: Selected interviews and other writings, 1972-1977. New York: Pantheon Books. [ Links ]
Foucault, M. 1988. Politics, philosophy, culture: Interviews and other writings, 1977-1984. New York: Routledge. [ Links ]
Glanzer, P.L. 2002. The quest for Russia's soul: Evangelicals and moral education in post-communist Russia. Waco: Baylor University Press. [ Links ]
Glanzer, P.L. 2021. A national experiment in ignoring fathers. https://christianscholars.com/a-moral-experiment-in-ignoring-parents Date of access: 21June 2021. [ Links ]
Gomel, E. 2013. Viktor Pelevin and literary postmodernism in post-soviet Russia. Narrative, 21(3):309-321. https://doi.org/10.1353/nar.2013.0014. [ Links ]
Goosen, D.P. 2007. Die nihilisme: Notas oor ons tyd. Pretoria: Praag. [ Links ]
Goosen, D.P. 2015. Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae. Pretoria: FAK. [ Links ]
Guelke, A. 1995. The age of terrorism and the international political system. London: I.B. Tauris. [ Links ]
Gupta, S. 2002. Ghostly demarcations: A symposium on Jacques Derrida's Specters of Marx. Capital & class, 26(2):156-159. https://doi.org/10.1177/030981680207700111. [ Links ]
Hammerstein, N. 2004. Epilogue: The enlightenment. (In De Ridder-Symoens, H., ed. A history of the university: Universities in early modern Europe (1500-1800). Cambridge: Cambridge University Press. pp. 619-640. [ Links ])
Harrington, M. 1970. Socialism. New York: Saturday Review Press. [ Links ]
Hay, D.A. 2004. Economics today: A Christian critique. Vancouver: Regent College Publishing. [ Links ]
Hayek, F.A. 1944. The road to serfdom. Chicago: University of Chicago Press. [ Links ]
Hegel, G.W.F. 1989. Hegel's science of logic [1812-1816]. Translated by A.V. Miller from the German. London: Humanities Press International. [ Links ]
Heilbroner, R. 1990. Reflections- after communism. The New Yorker: 15, 10 Sept. [ Links ]
Hicks, S.R.C. 2004. Why art became ugly. Navigator, 6(10):1-10. [ Links ]
Hicks, S.R.C. 2011. Explaining postmodernism: Scepticism and socialism from Rousseau to Foucault. St. Louis: Ockham's Razor. [ Links ]
Homer, S. 2018. Fredric Jameson: Marxism, hermeneutics, postmodernism. New York: Routledge. [ Links ]
Lorono, M.A.S 2011. Postmodernism, marxism and versions of the future: An interview with Professor Martin Jay. Historiografías 2 (Julio- Diciembre, 2011):98-109. [ Links ]
Judt, T. 2005. Postwar: A history of Europe since 1945. New York: Penguin Press. [ Links ]
Kachur, J.L. 2012. The liberal virus in critical pedagogy: Beyond "anti-this-and-that": Postmodernism and three problems in the idea of communism. Journal for critical education policy studies (JCEPS), 10(1):1-21. [ Links ]
Knight, G.R. 2006. Philosophy & education. An introduction in Christian perspective. Michigan: Andrews University Press. [ Links ]
Lenin, V. 1918. Letter to American workers. (In Aspresyan, S., ed. 1965. Collected works, Vol. 28. Moscow: Progress Publishers. pp. 2-24. [ Links ])
Lyon, D. 2008. Postmodernity. 2nd ed. Minneapolis: University of Minnesota Press. [ Links ]
Lyotard, J.F. 1984. The postmodern condition: A report on knowledge, Vol. 10. Translation from the French by Geoff Bennington and Brian Massumi, and foreword by Fredric Jameson. Minneapolis: University of Minnesota Press. [ Links ]
Magnus, B. & Cullenberg, S. 2012. Editor's introduction. (In Derrida, J., ed. Specters of Marx: The state of the debt, the work of mourning and the new international. New York: Routledge. pp. xvii-xx.) https://doi.org/10.4324/9780203821619. [ Links ]
Marx, K. & Engels, F. 1975-2004. Marx and Engels: Collected works; 50 volumes (MECW). New York: International Publishers. [ Links ]
Mohanty, C.T. 1990. On race and voice: Challenges for liberal education in the 1990s. Cultural critique, (14):179-208. https://doi.org/10.2307/1354297. [ Links ]
Negri, A. & Hardt, M. 2000. Empire. Cambridge: Harvard University Press. [ Links ]
Oosterhoff, F. 2004. Het postmodernisme in Bijbels licht. Den Haag: Woord en Wereld. [ Links ]
Palmer, B. 2005. Becoming a left oppositionist. Canadian dimension, 39(5):56-63. [ Links ]
Rorty, R. 1989. Contingency, irony, and solidarity. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Rummel, R.J. 1994. Death by government. New York: Transaction Publishers. [ Links ]
Ryan, M. 2019. Marxism and deconstruction: A critical articulation. Baltimore: JHU Press. [ Links ]
Schlesinger, A. 1949. The vital center. Boston: Houghton Mifflin. [ Links ]
Shapiro, B. 2019. Facts don't care about your feelings. Hermosa Beach: Creators Publishing. [ Links ]
Snowdon, C. 2015. The rich get richer and the poor get ... richer. Economic Theory, 11 Sept. [blog] https://iea.org.uk/blog/the-rich-get-richer-and-the-poor-get-richer Date of access: 2 June 2024. [ Links ]
Southern Baptist Convention. 2019. On critical race theory and intersectionality: 2019 annual meeting (June). https://www.sbc.net/resource-library/resolutions/on-critical-race-theory-and-intersectionality/ Date of access: 21 December 2022. [ Links ]
Stabile, C. 1997. Postmodernism, feminism, and Marx: Notes from the abyss. (In Wood, E.M. & Foster, J,B., eds. Defense of history: Marxism and the postmodern agenda. New Delhi: Aakar Books. pp. 170-183. [ Links ])
Strimple, R.B. 1995. The modern search for the real Jesus: An introductory survey of the historical roots of gospels criticism. Grand Rapids: P&R Publishing. [ Links ]
Sweezy, B. 1990. Is this then the end of socialism? The nation: 278, 26 Feb. [ Links ]
Vanden Bout, M. 2020. American prodigal: White church, black church, and the feast of social justice. Pro rege, XLVIII(3):29-36. [ Links ]
Varsava, J. 2001. American studies in review: Empire by Michael Hardt and Antonio Negri. Canadian review of American studies, 31:495-508. [ Links ]
Wise, C. 2004. The figure of Jerusalem: Jacques Derrida's Specters of Marx. Christianity & literature, 54(1):73-91. https://doi.org/10.1177/014833310405400109. [ Links ]
Woolfolk, A. 2004. Impossible counter cultures. Society, 41(4):42-44. https://doi.org/10.1007/bf02690202. [ Links ]
Correspondence:
Dr M. Diedericks
morne.diedericks@aros.ac.za
1 Voortaan word verwys na MECW met die volume en bladsynommer.